S Ing Mocke
Die Vrystaat
En wasig beef die hitte oor die veld,
Waar steekgrassaad witgolwend heen gallop,
Vér teen die Suide, waar die songloed smelt,
Steek yl vlieswolkies teen die stoflig op,
En soos ‘n luislang, onbeweeglik stil,
Streep oor die veld ‘n bruinrug heuwelry,
Waar sonlig op die skurwe rotste tril,
Een enkel skaap in blou karreebos wei,
Vlak bo die hooggebulte westerly
Wieg boomplantasies in die songloed rond.
Ver agter skemer dof ‘n berg se kruin,
Hier voor my strek die swartgebarste grond
En eindloos wyd strek doods en kaal
Verskroeide vlaktes waar die stofson straal.
Liefde en Dood
Jy het jou hande op my hoof gelê,
En weining deur die lange nag gesê
Die sterling het gekom en sag getaan
In die blou skemer van die wintermaan.
Waarom, my life, was jy dié nag so stil,
Jou oë van ‘n verre droom vervul?
Of het jou siel, langs weë onverklaar,
Die donker weemoed van my siel ontwaar?
Jy het jou hande om my hoof gelê,
Asof jy, swygend, so aan my wou sê:
Hoe skoon ons droom, ons liefde ook hoe groot,
Beide is swakker as die donker dood.
Gebede van die Sterwende Soldaat
Die Skuldiges?
Of sal ek in my torn skreeu
dat God Sy oordeel nou moet vel
oor hulle, wie se haat en nyd
my ingelok het in die hél
waar al hul skoon beloftes nou
onthul staan as bedrog en lis,
en selfs die woorde wat hulle bid
brak-bitter op my lippe is?
Vergifnis
Gee aan hulle helderheid, Heer,
want ek, wat moet sterwe, alleen,
ek is al, ek is al wat nog ween.
Want hul oë is droog van haat
en hul harte hard soos steen,
ek wat moet sterwe alleen,
ek is al, ek is al wat nog ween.
Niemand van hulle weet
wat ek, in my uur van nood,
hier, aan die poort van die dood,
met die laaste, bitter sweet
op my voorhoof, eindelik weet:
dat liefde beter as haat is
en vergifnis beter as wraak,
dat berou en hoop te laat is
wat in die laaste oomblik ontwaak.
Gee aan hulle helderheid, Heer,
dat ek, wat moet sterwe alleen
kan weet: Ook hulle ween.