Jongste aktiwiteit:

SHEILA CUSSONS
vir

SHEILA CUSSONS

Luike

In elke verstand sy eie blik op God
en elke uitsig so toe soos ‘n luik.
Wanneer laas
het ons deur oop rame gesien
toe die mens, sy wêreld, sy God, één
deursigtigheid was?
Sal ons nog lank moet wag, nog baie lank
voor hierdie aarde nuut oor hierdie aarde bloei
en die toe luike oopspring
soos in ‘n vinnige pinksterwind
en ons sien wat hulle nog net kan onthou –
die middeleeuse skildermeesters –
in bladgoud en lasuurblou?

‘n Middag

Die wind doen lieflike dinge
met wolke en ligte gordyne:
kindergelag in die verte
bou ragfyn klank-katedrale.
‘n Sagte somermiddag
wat die ligte gordyne laat wimpel,
laat dans in hulle son-kosyne.
o laat dit nie vervlieg nie,
vermenigvuldig geheue:
te goed is hierdie middag
om net aan my te gee.

Psalm vir ‘n trompie

“…soos in die hemel net so ook op die aarde”

Maar hemelgetrou dan, Heer,
soos ons “hemel” verstaan –
die engele luister met kommer
na ons vertraagde pleite:
wil verduidelik maar kan nie
wat bo ons verstande gaan;
wil ons red maar kan nie
van die lelike bedmaat Vrees –
Dit bly maar haglik, Here,
om sterflik én dom te wees.

Met u verlof

Daar is ‘n gladwatertyd,
‘n tyd van somerse lig,
wanneer alles gesond en maklik is
en die siel met geesdrif glo

en wellende spoortjies ren
oor die wye, vaste, spoelblink strand
van u goedertierenheid.

Verheug U dan in my geesdrif
en spaar my verdere kennis, Heer,
van die swalpseë en donkertes
van u afwesigheid –

al my gees en al my drif is in elk
geval Uwe,
het ontspring in U, wil aan U
behoort.

Gun my dus die vastigheid
van daardie prettige strand:
‘n mens kan immers ook met blydskap
heilig word.

Balling II

Die bure warreltaal luid daar buite.
Ek voel so uit my uit soos ‘n seer vis
op ‘n blakerende dek, of verskuil in modder,
wat dieselfde is.
Ek toonloop deur myself; niks is myne hier nie.
Bo met die trappe op mok dit drukkend,
en hier onder kan die lug van die somerdeure
my nie help nie.
My boek het gekom. Ek kyk teen die letters vas,
só vervreem van myself dat ek my aan my naam
op die band nie herken nie,
sewe snaakse letters wat Cussons spel –
tussen die kilte binne en die hitte buite, sit
en blaai ek gevoelloos, ek soek na my eie sin,
maar vind net klinkers en medeklinkers.
Ek wou my mos kloon, nie waar nie?
Nou poog ek om van die dek, die modder,
die golf weer in te gly. Blaai…môre sal kom.
Ek moet net verduur tot dan, ek moet net verduur.

Rit in akwarel

‘n Dag van wind en waaiende blare
en reën:
Boland, Boland, hoe herfs is jy mooi.
En ons haal sommer ses silinders
deur die jaende, jaende reën,
beskut in ‘n huisie op wiele
in die wye wiel van die reën.
Simonsberg en die Pieke en anderkant
berge verder
met tussenin sulke pienke
soos vonkeldons op Protea,
en die rysige bergkantele al die verruklike
gryse…
En ek word ‘n kwas en ek plas
‘n joelende spoel van kleure
deur al my sinskanale in my ingehoue stilsit,
gretig na vogtige papier.
My oë weet nie waarnatoe nie
en net die stuurwiel tussen jou hande
keer dat ek jou nie frommelmeng nie
in een ekstase van verf –
Hoe beter as goed is dit: dié spoel
uit al die sukkel en vassit – rý! –
net kleur, meer kleur, meer kleur tegemoet
deur babbel en blare en wind en reën.

Vuurloop deur ‘n flessie

Ek ruik lekker.
Indiese klingelwinkel-soetgoed-wierook-
lekker
uit vingerhoedflessies olietjies.
Skelpienk, saffraan se geel, oranje
is hoe ek ruik, lyk.
En ek is sewentien weer in Natal
en by die rivier van die reiniging
val ek flou: te veel vir my ingewande
die slagtershake
deur hulle waternat vlees, behang
met mango’s en trosse frangipani’s –
“Givver air!” beveel iemand, en later,
herstel, sit ek saam met familie en nuuskieriges
en kyk hoe geelgekledes, wangbene skerp
in trans, op pienk voetsole dans na Brahma
oor ‘n vlakte oranje kole…
Die lug was so blóú asof dit aan die brand
was en ek was sewentien.
Steeds moet ek nou af en toe na patchouli ruik,
want daardie dag het ek besef – skoon
swartflou eers – hoe God wil hê dat ons leef:
agteloos, voluit, eenvoudig, absoluut, soos vuur.

Die blaar

Kuns en beskouing is êrens één aktiwiteit.
Kirilof het hom aan sy blaar:
“ek praat van ‘n blaar, ‘n groen blaar, effens bruin
aan die randjies”, skoon uit die tyd uit verkyk;
Stawrogin het gedink hy is gek –
Monet het dieselfde mure, dieselfde hooimied,
altyd die sogenaamde dieselfde, deur
duisende verskuiwings met lig en seisoene met alles
in sy vorsende vermoë deursoek op soek na die kern,
die virginale essens wat lob binne lob binne lob
die verkenning bly ontwyk –
Vlugtige aandag glíp, verwylende aandag wórd;
die een bly kliphuids heel, die ander brokkel, week,
syg weg, en stoot ‘n oerwoud oë uit eie kompos op.
Niks is geskep en klaar, maar verbrei oneindig
genuanseerd die eie aard om eie aard; daar is geen
grens aan ‘n blaar effens bruin om die randjies;
nòg blaar, nòg bruin is ooit finaal –
Lob binne lob binne lob: die verste ruim is die ui nog nie:
die woord, die sin begin in die wegsterf van die vokaal.

Teesuiker

‘n Gedig kom nie altyd soos die wind op nie.
Soms moet dit gehaal, gesoek word,
oopgedink word uit ‘n enkele suinige gegewe,
soos die uitpluis, fyn en geduldig,
van ‘n digte sykokon of sommer ‘n bolletjie wol.
Óf daar is die aangroei-metode: as kinders,
toe Ouma vertel het van hoe hulle teesuiker maak,
het ons in flessies versuikerde water, pragtig pienk
gekleur met cochenille, garingdrade laat hang
en dan gewag – en o hoe moeilik wag ‘n kind: dit
sou glo dae duur! – tot eindelik die bly resultaat:
elke draad van bo tot onder en dikker as jou vinger
‘n pienk kolommetjie hoekige blink kristalle!
Dis nou die “haal”-gedig, die soort wat bereik word
soos Eliot sê, deur “expansion and accretion”.
Heelpad-maak is dit nooit: êrens tydens die prosedure
neem misterie oor, kry die ding asof hy beginne
lewe onder jou hand, sy eie loop en arriveer hy
dikwels glad nie waar jy gewil of verwag het nie –
Uitpluis of wag op kristalle, die digter is
die dader nie, hoogstens ‘n gunstige omstandigheid,
‘n óm-stáán letterlik, ‘n soort gerigte wag, ‘n gunstige
tót begunstigde aandag, of in die geval
van die ander, die wind-plotselinge eersgenoemde,
weinig meer as ‘n anus verbaas deur ‘n goddelike poep.

Eva

Somer is
ruising van lower, somer
is wind
somer is ruising van lower in die wind
en die wind is
mooi en groot en grasieus
en die wind beweeg soos ‘n vrou.
En somer en wind saam is
‘n fluisterende-as-ek-luister-terugstreel, straal,
ver na waar ek kaal en heel en sonder naam
uit my begin geloop het verend die wêreld in,
so goedgeefs soos die somer, so aarselloos soos wind.

Sonkol op ‘n wingerdstam

‘n Handvormige kol sonlig, ‘n ingedagte hand,
streel oor die wingerdstam; bloudonker
kronkelstam, net waar die kol is ‘n malvakleur.
Sag en lewend roer dit –
Hoe oud was ek toe ek ophou gryp het
na sonkolle, wat uit hul eie gewillig op jou oop
handpalm, mak en warm sal sit, totdat jy vinnig
vuismaak om ‘n koggel-sensasie van niks.
Dinge is daar wat jy net besit solank jy hulle nie
probeer hou nie. Hoe dikwels het ek
die wrede willekeur wat terg met gee en wegklap,
met alles in my woordeskat en kindertrane verwens!
Ek het meer woorde nou, en dinge is daar wat kom
vanself, onbegeer, en hulle bly: spyt, berou, selfverwyt
sinisme en nugterheid –
My blik verswerm tot ‘n binnesien, wat nadat alles in
donker ontbind het, met anders as aardse lig
nog lank, bestendig en eensaam, op die wingerdstam sal kol.

Roosmaryn
Vir Pablo Neruda

Jy woon net ‘n tree van my deur af met voor jou
‘n straat wat ek graag sou verwyder as ek kon –
Jy bloei dikwels, of dink baie, duisende klein
introspektiewe pers gedagtetjies –
Dink jy aan die berge wat jy onthou en hoe meer jy
onthou hoe perser? Bergbewoners wat sku en inkennige
wesens is behoort altyd pers oë te hê –
Jy’s te beskeie, roosmaryn. Ek in jou plek sou
so ‘n dunk van my eie nut hê dat ek sou opskiet tot
‘n boom nog hoër as daardie sipres wat teer, so lyk dit my,
op ‘n nogal melancholiese reputasie. Jý verbly die léwende
sinne: die neusvleuels tril, die smaakpapil word
ongeduldig spuls as glinsterbruin die skaapboud op tafel
kom, versier en verryk met twygies gepluk van jou –
En dit is góéd, roosmaryn, want smake en reuke wat so
behaag, behaag die Goeie God, en wie of wat, mens of kruid,
kán op hierdie aarde hoër of beter as dit?
Voorbeeld is jy, sinnebeeld van ‘n stil volkomenheid –
Ek kneus jou skurwe naaldblaartjies tussen my vingers
en adem die fyn geur wat jy geheel en al is. Wou dat ek
kon sê dat ek so dwarsdeur rein is – Dankie dat jy aard in
my tuin, die straat ten spyt, en so baie en so vrugbaar
pers kan dink. Net, ek wens ek kon vir jou ‘n hele berg gaan haal.

OP LIGTE FANTASTIESE TOON

Soms is verbeelding ‘n Dionysus
en soms ‘n Sisyphus.
Die wêreld kan ‘n kermis wees
of eindeloos opdraand asfalt.
Soms is alles oorstelpend gekleur
en soms het dit die waterkleur van niks.
Of als in die oog is of buite die oog
laat ek aan Husserl en Berkeley:
die dag wanneer woorde soos wyn in my werk
maak dit hoegenaamd nie saak nie.

MADAME

Regop en besadig kom
Madame binne. Toe sy klein was
het sy in haar linon-rokkies
en kouse tot by die knie
effentjies boom geklim.
Watter beelde bewaar die geheue
van Madame? Gedekte tafels,
mooi mense, grasperke, tapyte,
glansende hout en wit badkuipe
en dinge wat geur en dinge wat sag is.

Madame was nooit ‘n vlugteling,
het nooit gestink nie,
haar oë het nooit styf gestaan
in haar kop van vrees en afgryse nie,
haar neus weet niks van kruitdamp
of haar tong van bloed
wat warm wel in die mond nie.

Madame gaan sit by haar buro,
skryf syfers in haar tjekboek neer
en dan op ‘n koevert wat ruik soos Madame
die adres van ellende, met ‘n swier.

WIND

Daar is geen geluid hier binne nie,
die geluid is alles buite.
Hier binne is net
die ontstuimige stomspel
van wintersonlig en skaduwees
wat wind mimeer teen ‘n muur.

ENKELE OBSERVASIES

Eers die bottel, toe die kers.
Die wyn loop dun uit oor die marmerblad
soos water uit ‘n sy, lig bloed-betint.
Geen gil, net ‘n fyn en rinkelende klag
van skerwe gevee in ‘n skop in.
Peinsend gaan sit ek elders, en foeter
met my voete op die tafel ‘n brandende kers
in ‘n blaker om. Smak van koper op hout,
maar ‘n koeël nie vinniger as die hande
van my skrik nie. Wyn ontfles gaan lê net
breed, dun uit en drup oor tafelrand,
hoogstens met ‘n nat verwyt. Maar vuur
vee jy nie in ‘n skop, week jy nie met
‘n dweil op nie. En tog is jy ook gedoem,
langsaam sinkende vlam: elke ding
waardeur die dood kom, dra sy eie dood
in hom. Het ek moord gepleeg?
Dikwels seker, op hoeveel vreugde,
hoop en verwagting in die hart van ‘n ander?
Die aard van alles is ‘n verwronge aard –
Ek sal in my dagboek later noteer:
“’n Bottel goeie klaret gebreek,
en amper skade van vuur gehad.”
Dan bid en beloof, soos stof onder die bed,
om die Duiwel voortaan effektiewer te haat.

15 AUGUSTUS: MARIA-HEMELVAART

Ek praat gedurig met jou oor al die klein, baie,
angstige dinge waaruit ek bestaan, wat my
onderskei van, sê, ‘n engel of ‘n orkaan.
Want jy het ook in jou hart bewaar en oorpeins,
die hart wat fladder en wonder en onseker is:
Dogter van aarde, onwete, pyn en geloof.
En die woorde stort want jy is my soort.
Só, weet ek, wil jy my hê, déshabillé
in my menslikheid, sonder sy kerkhoed op.
En as ek kan, met iets van die eerbied wat jý het
vir al daardie goud en stywe sy-brokaat
aan poppe wat hoog bo altare staan en wat hande
gemaak het om ontoereikkende dankies aan te vul.
En die popgesigte wat heilig wou gelyk het
het byna almal dieselfde sweem van ‘n glimlag
om die mond, en miskien is dit al wat raak is:
jy wat niks verlang, behalwe dat ons besin op
die woorde: “Vrou, dáár is u seun” – En geen
mag sal ons afdryf nie, solank ons ryp in jou Hart.

ORREL

My sintuie is verwisselbaar,
hoor kleure, beluister geure:
skarlaken trompetter, peper is
‘n pizzicato en bruin roffel –
En somer, somer veral, trek
deur die neus: son is seepkook.
Wololie van warm lug verras my,
soos die sweet van krygers wanneer
uie stoom in ‘n pot – En iemand
is daar, so fyn-sensueel-gesond
dat hy in slaap neute en lou melk is,
en wakker, gloeiende Augustus
in ‘n sonbesie-dennebos. En elke
jaargety kies sy sintuie uit –
winter is pure oor – en meng hulle
weer tot elk die ander herken,
en popelend van kreature,
verwikkeld kontrapuntaal, om
die ronde jaar die groot Te Deum
galm, met al die registers oop.

APE SUG NIE
vir Jorge Luis Borges

‘n Sug is meer as hoorbare asem, is die hele
lang geheue van die mens: ou gevegte, antieke
kennis, vergete nooit-vergete volvoerings
van lê in arms, sterf, werk. Die krygerdigter
ná die oorwinning, deklameer resonant
sy lofrede aan sy koning, en die hele hof,
ook dié wat agter in die deure nie ‘n woord
kan hoor nie, sug ontroer. In somergras
of bed van strooi sug minnaars middeleeus,
en op die plaas ná sy vir Krismis klaar
gebak het, Calvinisties diep voldaan, sug-vind
mev. Van As dit goed, soos God in Genesis.
Wat weet die tempelape van Nepal, met hulle
aapoë blinker as oë van mens want sonder waas
van gedagte; die ronde uil, die otter, van dié so
ingewikkelde fenomeen?
Én die digter wat speel met vuur, want dig
is speel met vuur – soos daardie vervloeë poëet
wat nie kon ophou nie, uitgevind het toe
die Skoonheid self hom bebliksem het, en hy
daarna, kranksinnig, nooit weer ‘n reël kon
dink nie – dié digter wat sy sit nóg rus
kan kry, wrewelig van worstel, sug. Tot oplaas
die rustelose ongeneeslike sug na meer en
altyd beter as taal, die slang, die pragtige slang
wat die verbode, onsegbare Geheim omkring,
ópjaag uit haar kronkels, sissend na die brein –

Minder vermetel lyk dit my om liewer tussen
die dooie stene van tempels wat te laat te veel
geweet het, met blink, veilige ogies aap-ongeërg te speel.

CUADRO NEGRO

Hy het sy hart met ‘n vysel fyngestamp
en met die verf gemeng
maar toe hy kom by die plek op die doek
waar hy die meisietjie wou hê
soek hy tussen besmeerde lappe
na sy geheue
en skroef dit strammerig oop
en druk daaruit ‘n bietjie
wonderlike wit, en toe, moedswillig,
self-pynigend, versigtig, skilder hy
die siek vrees van daardie gesiggie
tussen die hekse vasgekeer,
en kyk haar uit sy swartheid aan,
‘n grondelose kleur.

DIE WIT HUIS

‘n Vloot wit wolke en
‘n wit huis met ‘n toring
tussen sy denne en ‘n hek
in skaduwee, ‘n hoë hek
in skaduwee, en die toring
en die wolke wit in die son,
en my oog oorhandig
aan my oor ‘n adagio
van Albinoni –
Middag, nêrens roering nie,
‘n vloot wit wolke seil –
‘n middag reeds herinnering
en grensloos soos verbeel.

DIE DOOIE BOME

Ek het hulle saam sien sterf
langsaam, langs mekaar,
byna hand aan hand, twee
wat anders as die ander
‘n ander seisoen beleef
buite lig en kalender, buite
bereik van wind en son en
voëlsang. Alles is, is besig
met die besigheid van wees
en hierheid en nou, sonder
steur aan hulle verbysterende
eldersheid. Ek wil hulle sien,
ek wil hulle skerp sien, ‘n wete
aan hulle ontruk, maar ek
frons en ek kan nie: hulle is té
nêrens meer hier nie.

 

STERWENDE ROOS

Die roos te ver heen om
nog om te gee of sy obseen is
hoor die wêreld om haar enorm
dreun van doelgerigtheid
wil, wil net uit die gelade
verband van spier en spanning
terugval, wegval en geheim wees.

BROERS

Jordi storm oor die klawers
pouseer – en tinkel fyn
elke vingertop ‘n kristaldruif
soos wat wingerde sidder
onder die wind onder laaiende lug –
Jaume draal verby asof hy
vloeiend is, boek in die hand, en
sak in die sofa neer en poel
om sy eie gedagtes – Een ry sy boeg
met snel atlantiese sekerheid
die ander dryfdroom in ‘n kreek
loom middaglik mediterreens.

PANDORA

Jy verwyder die donker
as kinders bang is
bondel dit in die hangkas
en sluit die deur toe
sit by die bed tot
angste wegswymel in slaap
en jy nie meer langer
die beswerende priesteres
hoef te speel nie
maar eerlik en magteloos
die donker in die oog kan kyk.

DILEMMA

Die verskil tussen ons
en die heiliges
is dat hulle uit die skuit
geklim het
om op die water te loop –
en ons wat elk
sy eie vastigheid wil
kyk hulle
soos drenkelinge agterna.

BEVLIEGING

U het die aasvoël vaal bedink
geel die kanarie en grys die vink
en toe van gerymdheid meer as vol
maak U ‘n roomys van die flamink.

DIE BEURSIE

Op die tafel lê die skamel beursie
van ‘n hardwerkende vrou
en op hom sit ‘n mot.
Ek weet nie wat hy van ekonomie
af weet nie maar ek dink
die wete wat hom gestuur het
om verskoning daarvoor te vra is God.

DIE SAGTE SPRONG

Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: ‘n aanraking van die verstand
lig soos ‘n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
: dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ‘n sagte sprong –
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?

PARADYS-STASIE

En toe die magtige ritme met
‘n sterk gesis van stoom tot stilstand kom
het ons uitgeklim in winterrook
en moremis en deur
die vonkelende koue gehaas na waar
-ek kon skaars wag –
wasige bloekoms van ‘n park verrys
skoorstene, skynende dakke, dorp:
O wintervakansierook en moremis:
hoe kon ek weet nooit weer
sou die aarde onder my voete
so weldadig wees, so jonk,
en die opale ruimtes tussen die bome
so vol wye belofte, en dat ek nooit weer
so sou sien soos net die oë van sesjaar sien
hoe sterk die wêreld aard na die paradys.

BRUILOF

Oupa Jacobson – Ouma se tweede man –
se jong broer Max was ‘n mooi oujongkêrel
wat vir hom eendag ‘n troukoek alleen gaan koop het
om, mooi aangetrek, dit alles op te eet
voor hy hom met een koeël deur die kop
deursuikerd dood geskiet het.

DIE BOODSKAPPER

Die seun, blink-gebad en sy oë blink
het een hele oggend in die stad
rondgesoek in en by winkels uit:
(haar boeke, tekenkryt, kombuisgoed)
en op sy ligte vaste voete ingekom
en oor haar skouers die pakkies
oopgevou met geselsende hande
en ‘n moeggeloopte walmpie jongelingsweet.

En as ek jou sien slaap wil ek jou nie
sien slaap nie, jou gesig nie stil
jou ooglede nie sien slaap nie want ek is bang
iets snoei jou hande se groei
na die lewe en die lig en dat ‘n trae koue
soos ‘n winterhuis die goue haas
van jou jongsweet nog sal vervang.

Hierdie gedig het my ook laat dink aan een van Elisabeth Eybers se gedigte in Neerslag (1958):

JONG SEUN

Why were we crucified into sex?
Why were we not left rounded off,
and finished in ourselves? –
D.H. Lawrence

Die seun klim druipend uit die bad,
sy hele lyf is gaaf en glad

en heel tot in die holte van
sy nael waaroor ‘n seepbel span.

Strak ledemate, ribbekas
hoekig en hard soos ‘n kuras,

handdoek in hand staan hy bereid,
gerig en toegerus tot die stryd.

Tog, onvolkome afgerond,
hoe sal die lewe hom nog wond:

in sy Achilleskern vind
hy geen beskutting – man of kind:

geheg aan die benedebuik
waar blink haarrankies reeds ontluik,

deuraar, teer soos ‘n ooglid, sag
soos murg, hang weerloos die geslag.

DIOGENES DOEN SY DING

En toe hy op ‘n dag besluit
dat die mens ‘n kougom
tussen die kieste
van die jongste snotneusgode is
het hy by die werk bedank
pragtige dinge op ‘n muur geskryf
dit toe alles pragtig afgepis
en poedelnaak in ‘n vat gekruip
bevryd en vrolik soos ‘n luis.

DIE WOND WAT DINK

As ek nie onkundig was nie
sou ek nie kon dink nie, en dit
is ‘n avontuur wat ek nie sou wou ruil
vir die alwetendheid nie
gestel dat ek kon kies: en kiés:
dié wik en weeg en waag is nóg
‘n opwinding wat die alweter
nie kan ken nie.

Hoe om ‘n mens ‘n bewussyn voor te stel
onvermink deur ‘n sondeval:

Adam het God gesien maar Aquinas
het Hom bepeins:
hoe rýk die vrugbare duisternis
van die erfsonde:
o gelukkige skuld wat alles weer
ongeken gemaak het om te kán verken:

want daaardie Liefde is só
dat dit hierdie tastende blindheid
soms begenadig met weerligtend
in ‘n oomblik, één oomblik, só sien
dat ons oorspronklike verlies daarmee vergelyk
ja, soms gering lyk:

want Adam was ongerep maar Aquinas
van die skitterende wond, ‘n heilige.

HEK-ODE

Wat kon gewees het, wat ek kon
gedoen het, die weg wat ek kon
geneem het in plaas van die weg
wat ek geneem het: ydel
die spekulasie. En nou is dit te laat –
daar is geen hekke meer wat oopswaai
en lok na groen lanings nie
waar elkeen beloof het om te lei
na ‘n landgoed.

Eenmaal, deur ‘n hek van ‘n park
in Parys het ek geloop en drentel
in bont van lig en skaduwee
-die platane- en gedink aan
Anna Karenina.

Die drif van ‘n passiewe vrou
dryf haar soos ‘n projektiel en om
te strand is sterf.
Die aggressiewe vrou staan, staan stewig,
bly vasstaan; soos hulle sê: staan
haar man: kén daardie gedoemde
glorie nooit, nòg glorie nòg doem,
staan agter haar spere, is nooit
hulle vlug nie.

Maar dié tipes, argetipes dalk,
is eintlik net abstraksies:
elke mens is vir elke mens elke keer
‘n nuwe en onthutsende ervaring,
nie te klassifiseer nie, eintlik nooit
te kenne nie of net ten dele:
ken sy eie nuwigheid en aard nooit
in die oomblik nie: die oomblik
voor die hek, maar in nabetragtinge
verwar deur woorde nie sy eie nie,

en alles wat hy van homself
en ander kan meen is verwring soos
in ‘n kermisspieël –

én die hekke vir al wat hy weet
het nooit ‘n landgoed beloof nie, maar
slegs konfrontasies met werklikhede
wat nie met die hart wil rym nie,
óf met opgeefsels aan elke laning
se einde en die laning opgeefsel
wat nooit met die verskriklike
hawelose werklikheid van ‘n hart
te rym is nie –

en miskien is die mees hawelose Hart
in hierdie wêreld alleen hawe
en daardie Weg alleen vas onder die voet
wat, as jy wil, ‘n smal kiesel-gestrate
pad na ‘n eindelike klein en dankbare
uitsig is, óf, in besondere gevalle
roekeloos die baan van ‘n projektiel.

STUDIE VAN MAN MET ENSIKLOPEDIE

Hy sit met die groot swaar boekdeel
oop op sy skoot, ‘n kneukel
teen die lip, die lamplig oor sy ronde kop
en brilletjie, die sagte fyn hare wat
dunner word, onbewus van oë op hom, sit,
en vul sy bietjie ruimte
so ernstig, so afgetrokke, so weg uit homself,
so menslik gering, so menslik gedug, dat
sy onskuld God in die hart moet tref.

 

Meer oor hierdie advertensies

Kombuis van Hera – Die Swart Kombuis (uit: Groot Verseboek, 1986)

I
Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek ‘n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

II
Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in ‘n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
-en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker –
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek.

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en melk – vergeet nie die sout! –
as net jouself en jou menslikheid
en is jy met vuur vertroud?

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het my ingevlug:
ouvrou, kind en gans, koekoek, net effens aangebrand…

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep.

Dat daar soveel van vuur en vlam en rook

Dat daar soveel van vuur en vlam en rook
in dié landskap nou is! Die sipresse klim
in die gloeiende wind swart vlammend, soos hy,
Van Gogh, gesien het, noordelik dol
die latynse lig en die gryswit katwilge walm
soos warm rook en agter die pluimende as
van die tamariske brand knetterend blou
die bewandelde see onder vurige voete van serafyne:
iets word berei: vannag gaan knal die doringbos weer op Sinai.

En so sal die najaar kom

En so sal die najaar kom: bloesender
skoner en leniger as wat die somer was
met ‘n pienkigheid in die wit van die wolk
met saffier in die blou van die berg
en spiere in die rennende gras onder die wind
en die kaalvoet vel
en ek sal gaan swem en uitkom waterstralend
en vas en koud en glad so iets soos ‘n Aphrodite
wat skuimend vermarmer
en deur die helder huis nat loop en sing.

Uit: Toskane

3 Verf en Vlam
Die denne brand glasgroen
die domme bom in die son
en bo-op sy steiers in ‘n skimmelsweet
van verf en lyfellende
leer hy al skilderende die vervloekte fresko-tegniek
wat hy soos vir Julius haat –
dan vang hy die oog van sy Delphiese sibille
en skater sy vlammende brein ‘n blakerende sonnet.

Verplasing

Mammie staan beteuterd tussen haar kratte
in die – nie haar nie – nuwe huis
nooit, sy weet al klaar, ‘n huis vir haar nie
en kyk in die verwaarloosde bietjie tuin uit
tot in haar Middelburg-lug-se-oë
al die grys verlatenheid kom
van die leeggelate vorige huis
van die treinreis tussen vaal veld en son
van die wagtende kaal vertrekke vol skimme
waar haar breekgoed in kratte soos honde sit
en sê met haar stem soos fluisterige papier:
“nou toe, lyk ek goed so om in die hotel te gaan eet?”

Verlief in Venesië

Eenmaal in ‘n hooglied-eenmaal
het ek in ‘n flikkerende stad gekom
toe net nog ‘n laaste swaard van lig
in ‘n laataand water vlam
en swymelend van son en jeug en vaak
gaan slaap op ‘n ou matras gestop met drome:
en kuis maar rusteloos soos Sint Ursula
van al sy vergeefse minnaars gedroom:
en wakker geword in die baldakyn-bed van ‘n vreugde
en ‘n roosrooi marmer môre
gebeeldhou deur Bernini tot son en gewreekte vlees:
en doof vir die engele wat Ursulas roep
my spykerbroek haastig oor die warm marmer
van my dye getrek en uitgehardloop
in die hooglied-stad
met my vingers in my ore, want:
die hooglied van Sint Ursula sing nie in marmer nie.

Aandenking

‘n Sneeunag op ‘n bank langs ‘n blink kanaal
-‘n eensame sneeu-
klein liggies bo wat stadig laer na Schipol sweef
-die gordels is al vas-
ons voetvalle nánag oor die leë plein
-die leë wind onthou-
‘n laaste tram wat na sy skuur toe skreeu –
na al die jare waarom
dié soet pyn?

1945

Europa lê in puin: ‘n swart koerantberig,
staccato, stomp; ‘n oggendgerug,
Europa is ‘n krater in die firmament, niks meer.

Maar deur die blokkiesraaisel van verstarde staal
tuimel die reëngrou duiwe heen en weer,
hunkerend na broeityd, neste op die plein
en paring bo die swart verminkte katedraal.

‘n Aartsengel lê in die reën se glans en stil verteer
die roes sy silwer vlerk, die kosmos van sy silwer brein.

Pêrel

Die stil swart oester het my wit gevorm.
Ek is die bitter blink korrel,
die harde angs in haar verstomde vlees,
maar steeds vou vrees haar spiere vas
en dieper vas om my, want sy
verkies bo daardie ander smart
my vreemde knaging aan haar sy.

Uit: Twee Winter-akwarelle van Amsterdam

I
Hoe yl is alle vensters, alles van die dag,
hier, en ver van hier –
asof deur water kom die nag;
asof alleen met God, en ek nie hier
en niemand hier, vloei straat en grag
en naakte park ineen. Onsigbaar
dryf die winterson nog hier,
bewusteloos, met blinde-pêrel staar,
‘n drenkeling, ‘n ongebore of vergete vuur.

Antieke Landskap

Rondom gehugte
broeis in ‘n middagslaap se sweet
hobbel die onweer,
brom in Hebreeus ‘n ou profeet –
en voor sy staf uit
kletter die bok met die heuningoog
en die skandelike uier
knikkend oor klippe wat adders spoeg:
haar vinnige kuttels
‘n stotterende bidstreep agter haar aan,
totdat sy eindelik op ‘n rots se vinger
ouer as Istar, uitdagend staan.

Vraag

My pyn is nie U pyn nie,
myne is arm-mens pyn, God.
U breek, en vermenigvuldig,
maar hoe maak ‘n honger brood?

jackson pollock

vinnig
van humeur
met vrouens
met verf
met motors
vinnig met sterf
op veertig

elke trek van daardie gesig
‘n geveg met elke trek
elke gevoelige grimas
‘n aandagtige wrewel

vinnig met die werwels op
uit ‘n senuwee-plexus van kleure
skiet skielike kneukels en foeter
‘n skewebek skewer

gemartelde mens van dis more is
klankspanning plektrum snaar

seer is seerder dunner die nerf
en oë infrasien
wit het veertig skakerings swart het
en wit het meer

elke trek van daardie gesig
mismoedig gee elke gesig ‘n klap

en die lap van ‘n lewe vrewe
sy twee hande aan verf
af haastig
en frommel op
veertig jaar




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Karina Nel het n geregistreerde lid geword

  • Karina Nel het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak