SJ Pretorius
Die Kranksinnige
In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:
die een is gek,
die ander, ek.
Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.
In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy uit
sy wrok teen God en wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.
Leeu in die dieretuin
Sy sien die maanhaar op die grou beton,
sy ore stomp, sy lang stert spitsgekwas,
geel flikkerende oë in die son,
en wonder of hy soms nie in die gras
waar Pappie Sondag ry graag sou wou speel:
ho wreed om tussen mure ingeperk
te ly…mens voel asof jy hom moet streel
en argloos vat sy aan die traliewerk.
Toe storm hy met donderende gebrul
en gryp die vinger styf van vrees gekrul
en byt deur senings sonder mededoë
en skeur die vleis en been totdat die bloed
‘n kabbelende stroom word en ver, soet
groen vlaktes opdans voor sy droewe oë.
Die Hanswors
Oor sy afsigtelike boggel,
en kromheid, het hul hom gekoggel,
en bitterder was hul venyn
as sy vergroeide ruggraatpyn.
Tussen die diere in ‘n hoek
het hy die eensaamheid gesoek:
“Met klere wat gedurig gaar is,
wat doen die vent met sy salaris?”
Hy’t maandeliks by die poskantoor
‘n brief gepos of een gelees
by die dierkratte, oor en oor:
“Sou daar tog erens iemand wees?”
En daardie ewige reuk van drank:
nie een sou huil as hy bedank,
maar waar hy in die sirkustent
aapagtig teen die firmament,
hoog teen die takelwerk, kon klouter,
die dood uittart, en klein kabouter,
sy duiwelstreke uithaal onder
dat almal skater vir die wonder,
is hy, hoe seer verag, verlate,
nog deur die baas beskou as bate.
Toe het ‘n brief gekom eendag . . .
Hy’t oor die bed gebuk, verblind,
terwyl ‘n boggelvroutjie, sag,
sterwend fluister:”Dankie my kind . . .”
GEBREKLIKE
Verniet
dat jul probeer
soos gode gaan en luid
gesels en lag solank jul stuit
teen my wat met die meganiek
van lang dun knieë soos ‘n kriek
omhooggesteek, laag teen die teer
deur julle strate kruip
deur julle vreugde sluip
Kirke se varke deur
As ons moet varke wees, laat ons dan deur
En deur vark wees: gee ons alleen vol trôe
Met hope doppe en op-hitte-sôe
En modder om ons snoete deur te sleur
En slym en slyk genoeg om met plesier
Te rol in elke wellus van die dier
En laat ons als vergeet van die verlede,
Ons huise in die groot wit marmerstede,
Tempels en gode wat ons uit die tyd
Wegroep ver na ʼn grootste ewigheid,
Wis alles uit, die laaste heimweedrange
Wat al ons lus verlam met siek verlange,
Gee ons alleen die liggaam: spier en klier,
Niks as net die genot van nou en hier.
Kaartverkoper, Florence
Cartolini . . . cartolini . . .
Waar haar byna niemand sien nie
langs die bronsdeur van Ghiberti,
met haar swart rok sonder kraag
en haar stem wat krakend klaag
in die aandgrou reënvlaag . . .
Cartolini . . . cartolini . . .
waar hul almal huis toe jaag,
bande klewend aan die teer,
almal na ‘n helder plek;
huise, tafels, blink gedek,
Cartolini . . . cartolini . . .
Sê my tog, o God en Heer,
waarom moet party, verlate
staan langs leë, reënnat strate
hopend steeds, maar onverhoord
met hul magtelose woord
voor die ‘Paradys se Poort’?
Sonnet – uit Malvern
Hul stap hier deur die skemer strate saans
die groot figure, baarde dae-oud,
met krae opgeslaan, die wind is koud,
en mompel oor die weer in Afrikaans;
die koppe stug asof haas suf gedink,
kosblikke in die growwe werkershande;
onder ou gryspet en slap hoederande
oë wat vinnig uitloer, bang en blink.
Eens voor die eeu was hul grootlandbesitters,
met sluheid nou onterf uit vadersgrond,
is hul van rooidag tot die straatlig-stond
asryers, pikslaners en vuilvoor-spitters.
Die mpoulas dans en laat die skadu’s spook –
hul raak verlore tussen huise en rook …
Die arbeider
(Deur die depressie na die stad gedryf)
Hy het ‘n glimblink band
gevoer en met ‘n oliekan (na tal
van koperkleppies op te lig),
die swart masjien geolie: al
die dae het soos skadu’s teen
die hoë ruit, gedaantes, heen-
gegaan, wat hy nie ken nie… bleek gesigte
in grou aandstrate onder ligte.
Vroeg soggens voor die dagbreek wit
bo die stad se swart was, sit
hy gryspet op sy fiets se saal
en keer eers as die donker daal.
Soms Sondags, uit die stad ontsnap
en met ‘n voetpad langs gestap
tot bo die rotspunt van ‘n kop,
hoe fel het sy verset nie op-
gelaai: “Wat baat dit dat die gras
en wolke na ‘n wêreld tas
van ‘n verrukking wat hoog gaan
oor my ontluisterde bestaan,
waar ek moet buig voor die masjien
en niks as geld, as géld moet dien!”
Hy volg die foonpale in hul vlug
soos bosluisvoëls teen die lug:
hul wit formasie daal en klim
tot waar hul stippel oor die kim:
Kon hy? Kon hy? Nee daar’s geen keuse,
hy staan gevange tussen reuse,
gans magteloos, verloreklein
tussen die rotse en die myn
se sianiedgeelhope waar
die donker rookformasies swaar
oor skemerende bulte troep,
oor kaiastede, groep aan groep:
hy sien ‘n draak rys uit ‘n plas,
sy draadvoelhorings, vlerke-roet,
ver oor die veld, en aan sy voet
stroom donker selle monsterbloed.
Stil staan hy langs die kaggelrak
en staar, sy oë al meer strak:
dit was ‘n landskap met ‘n boom,
rustig, met helder son oorstroom,
‘n kunswerk wat hy eens as knaap
gemaak het agter sy trop skaap,
toe hy gedroom het: … wat hy eens,
ééns nog sou doen … Hy gryp meteens
die mooi ding van die muur en sleur
dit oor die grond … en skop en skeur …
Dan keer hy na sy werk terug,
verneem sy kringloop heen en trug
soos Simson wat in Gaza maal
sy oë uitgesteek met staal.
Slegs veertien uit driehonderd dae
haal hul die boeie van sy hande,
dan staan hy op die stoep verslae
en staar uit oor die as en brande,
hoor honde blaf en vroue praat,
die kramerklokke in die straat,
drink koffie, drentel om die huis
en voel hom op die werf ontuis
en merk aan stamme onder blare
hoe vinnig vorder nou die jare …
So het die tyd gekom … gegaan,
die son, die wolke en die maan,
die blomme, bome langs die pad
na huis was beurtlings groen en glad
en bruin in winterreën en teer
in lentelig, dou het geblink,
verdof en weer geblink, ‘n vrind,
‘n paar was steeds getrou, bemind,
die grootste en die kleinste rat
het hy geolie, deur die stad
sy fiets getrap, sy maal geëet
en in sy slaap nogmaals vergeet …
Die groot lied van die blou het voor
die plat gebabbel van ‘n koor
van huisedakke en die rou
geroep van torings uit die grou
verdriet van rook en roet om lig
in hom geswig en steenkoolas
was brandende verlange en gekras,
geluk … Hoog teen die gloed was saans
bokant die huise en die laan
van bloekombome of dit spook
die reuse-adder van die rook
met dikswart stert vas in die boom
gedraai soos in ‘n koorssiek droom
met kloue en gesperde bek
wat aan die eerste sterre lek,
al donkerdreigender, al hoër
oor hom: al dieper neergeboë …
Sy hande het dun geword, deuraar
en bewendfyn, die koperkan al swaar-
der, diep die hoeke van sy mond,
sy vel al dowwer vaal soos grond.
Toe lê hy eendag langs ‘n rat
wat langsaam maal, stil, en hul vat
hom na ‘n klein en donker kluis
waar slank sipresse saggies suis
en ver oor die velde hul ontvou
en wegraak in die ewige blou.
Stakers
Hul sit in groepies, peinsend-stil.
Daar is die reuk wat eie is
aan die fabriek. Die lig val kil
bo by die hoë vensters in.
Party rook, ander sit so suf:
hier’s ‘n gesig, glimmend en wit,
nerveus-gespanne, oë fel;
intelligent en fyn van snit.
Daar is een rooi en grof, omhul
in dampe pyp-tabak. Een groot,
blas, rond en met die tande geel,
tuur, met die pet ver t’ruggestoot.
Daar’s baadjies bruin en blou en groen
en grys geruite hemde, ook
groen jersies met die polo-hals
en grys pull-overs liggestrook.
Bruin skoen … met die veters mooi
gestrik en bo-op vasgestrop
met gespes aan ‘n dik leerband.
Daar, met die hare op die kop
afhangend na sy oë, stut
‘n seun homself sit-lêend op:
hy rook, die oë halfpad toe
en hou traag die gekringel dop
wat van die sigaret af styg;
dood-onverskillig, half aan droom,
sy sye hemp lig-koel en oop,
sy bene en bruin sandale loom
oorkruis … En die masjinerie
staan rondom, glimmend-swart en groot
soos donker diere stug en stom
wat slaap … stil soos die dood.
Stadswyk
Hier staan die voorskootvrouens, maer of vet,
alewig in die ander tyd, of spook
wanhopig met hul besems teen die rook
en roet van treine wat die plek besmet.
‘n Man sit soms met kruisbande en pet
na hy die heelnag ‘n masjien moes stook:
net soos die asswart boompies klou hy
nog aan die lewe met ‘n stug verset.
En langsaan rys die kerkhof, soos ‘n woud
van steen die Jodedeel … en wanneer, goud
tot as verkleur, die son oor Melville skemer,
speel kinders in die straat: hul voetbal hop
tussen die bome deur en dikwels op
die stoep van die begrafnisondernemer.
HARLEKYN VAN DIE DIERETUIN
Hy sien die agies …
Dan wip hy, skielik mal,
van paal na klip,
van klip na krip
en spat die water
venynig-woes
dat almaI keer en koes,
maar as hul skater
vat hy die sak
en vou dit oor sy hoof;
verlate op ‘n ashoop rou
hy oor wat hulle van hom roof;
ver vlaktes en blou dolomiet-
‘n hopie grys verdriet.