Jongste aktiwiteit:

Thomas Deacon
vir

Thomas Deacon

afskeid

vandag wil ek by jou kom nagmaal vier
met rooiwynwoorde op my wit papier
ek lig my glasie hoog bokant ou grootrivier waar vredesduiwe stippelwit
kantel uit die blou saffier
wegbreek oor die groen waar prieska
klip en sand en witgatbome soen
‘n eenstaankerkie kraakvloer op ons wag
om nagmaalsbroodjies te kom breek
luister na die wind wat om die hoeke huil
ons in mekaar se arms skuil
één rooiwynwoord ‘n laaste maal
voordat dieprivier ons twee kom haal

Thomas Deacon

sy onthou die tye
toe hulle stof uit ouplaas se werf
uitgedans het
hy mettie wyepypbroek
wapper-flapper bokant skurwe
hakskene
sy mettie bontgeblomde punt-
geknoopte doek oppie kop
oujaar gelede se krismispersent
vyftig sent het magoed gemompel
diep innie skuld by’ie joodgoed
gedompel
hier oppie stoep dans haar oë
nou padlaans verby
wag oppie koms vannie man
mettie sekel se groet
dans-dans by krismis en oujaar verby
tot dour waar’ie man mettie swart- gelapte wyepypbroek
hakskene lig
om haar te kom groet

Thomas Deacon

iewers naby prieskapoort
blêr ‘n verlore bokooi
eggo-eggo óór grootrivier
by marydale groblershoop verby
staan oom joe chemaly
voor sy groentewinkel
tuur tot vér annerkant die klip-
koppie waar boer en brit
jare toet met bloed betaal het
nou net klip en sand
waar somerson hellevuur
uit die omtes brand
trap verlore bok suutjies oor
verbruinde klip en bos
blêr groot-groot waters uit
hemel los luister oom joe
na die gerinkel van kasregister
in sy groentewinkel

Thomas Deacon

LOFDIG
Oense Griekoes ees soos kanniedood
wat jaar vir jaar sy klokkiesblomsel boëntoe stoot.
Ver tot annerkant waar oulandswerwe trippelvoete kry,
spoe bitterblaar sy vlamtong uut ôr klippensrant,
ôr sand en vlei.
En als die warm winde waai, hul doodslied fluiyt,
klou wortelvingers vas an drooglandskluiyt.
Maar ná die reent, als langgelyfde klokkiesblom
weer uut die diepte van die bitter kom,
weet oens lat alwyn teun die rant,
se vlam ok diep uun oense lyfte brand.

Kanniedood = geharde aalwyn wat in die Noordkaap voorkom
(Aloe grandididentata / Aloe variegata)
Trippetvoete = opgeefsels

ek het vir jou ‘n vyeboompie
op die rant van ons hemelland geplant
maar min het ek geweet
dat voëls van ‘n ander hemel
ook in óns boompie sal wemel
noudat ons in woestyne
van ander kontinente rondploeter en mymer
is daar iets wat ek vir jou wil vra :
as ons eendag t’rugkeer na die blou lug
van ons mooi hemelland
sal jy die návy wees wat ek met
verrimpelde hande pluk
voordat ons saam
aan die weersiens sal sluk

Thomas Deacon

in ‘n vaal boesmanlandse huisie
spoel golwe van verlange oor vera lynn se white cliffs of dover
terwyl rooisand soos branders oor die plaaswerf baljaar en teen diggetrekte venstertjies klots

op die dak sit ‘n swartkraai en skater oor
‘n bollavroutjie wat sit en luister
na vera lynn se white cliffs of dover
terwyl augustusmaand se winde
oorlog oor die landskap voer

Thomas Deacon

goeienaand, my naam is nag
bedags rus ek waar jy my nie kan hoor of sien nie
maar snags kruip ek tot diep in jou drome
en vryf jou slaap met lawwe dinge deurmekaar, of verander in donker hole waar afgryslikhede van onwerklikhede baljaar
kyk, ek lig die swart pet op my kop
en groet jou met onwerklikhede vanuit die hole van my bestaan
ek ag dit my voorreg om jou met vreugde of afgryslikhede te terg
totdat die rooi van die dag touspringetjies oor die rante maak
dan vlug ek weg soos ‘n vlermuis van die nag
en rus waar jy my nie kan hoor of sien nie

Thomas Deacon

bietjie-bietjie vreugde

die vygiesaad wat ma vir my gestuur het
het waarlik opgekom
en blom nou in ‘n halfgeroeste potjie op my rooi ou voordeurstoepie
ant henkietjie van oorkant onse straat –
sy wat so kan praat en praat –
het gister oor ‘n klip gestruikel
‘n been en arm sleg gebreek
nou sal dit seker vir ‘n week of twee
stil wees in ons buurt
want oompie hans gaan haar na upington toe neem, so het ek verneem
om by haar suster sêra aan te sterk
tot die gips verwyder is
nou vra ek, ma, sal ma maar weer vir my ‘n bietjie vygiesaadjies stuur
want ek wil my ou halfgeroeste potjie met sy vygieblom saam met oompie hans
na antie henkietjie toe stuur
maar voordat oompie hans my potjie vat
wil ek eers weer sit en kyk en kyk
hoedat namakwaland op my rooi ou voordeurstoepie blom
nou sluit ek maar my briefie, ma
want miskien het ek te veel gevra
tot later dan, my ma

Thomas Deacon

ek het ‘n kruis uit hardehout gesny
met groot swart letters
op ‘n kleed van dorverwaaide
wintergras geskryf
dit met biggeltrane ingesalf
en voor my houtkruis neergelê :

hier rus my sorge
al my pyn en soeke
op vuurgras oopgesprei
lei U my nou
sodat ek weer kan huppeldans
oor boesmanland
tot waar namakwaland se blomme
uit die lente-aardkors kom

en as kokerbome geelblompyle
teen die rante skiet
sal ek t’rugkom na my kruis
en gousblom, blou-blou sporrie
langbeenvyg en botterblom
aan U voete lê

Thomas Deacon

donkerman klop aan die deur
hy brom en grom
en sukkel om in te kom
maar my deur is dig gesluit
dis net die geluid
van sy grom en brom
soos wat hy beur en beur om in te kom
maar my deur is dig gesluit
en dit hou vir donkerman
vir ‘n wyle buite
somtyds loer hy deur die ruite
knipoog skalks vir my
wink met die sekel in sy hand
en nooi my woordeloos
na sy donkerland

Thomas Deacon

Adam
(tong-in-die-kies vir vrouemaand)

een helder somersdag
(die kwik was rondom
ag-en-tagtig –
o so warm, allakragtag!)
ontwaak broer Adam uit sy slaap
maar wat is dit wat hy daar hoor?
hy ken ‘n skaap se blêr
die roep van kiewiet teen die rant
die vêraf klanke in die veld
maar so ‘n klokkiesklank
het hy nog nooit gehoor
en so ‘n lyf, so slank,
so lank so prentjiemooi
pêrelwit die tande
sag en koel die slanke hande
‘n drif wat deur sy are bruis
(die kwik het toe tot
honderd twee-en-tagtig
opgeskuif)
heserig, maar sag die stem:
“adam, is dit jy? eindelik het jy
‘n maatjie bygekry.”
maar nooit het hy kon dink
dat sagte, slanke hande
‘n vruggie uit die boom sou pluk
die witte pêreltande
geluk en lag en vreugde sou verruil
vir werk en smart en dood en huil
later kom toe kain en abel
set en sem
hul arbei, sweet en swoeg
om doringlande om te ploeg
tot Adam eendag sê: “genoeg!
nou gaan ek bietjie rus
as berggans weer ‘n veer laat val
loop haal ek dit op wuppertal”
(mits dese wou hy vir sy eva sê
hoe diep sy liefde vir die verre
sederberge lê)
honderd jaar het hy gesoek
teen elke krans, om elke draai, om elke hoek
maar berggans was die laate een
om Boerneef met ‘n veer te seën
so sukkel hy maar weer terug
op dinosaurus boggelrug
tuis gaan lê hy op sy verebed
en wragtiewaar
so wrintiewaar
sal eva nie kom voel
of hy nog al sy ribbes het

Thomas Deacon

magrietjie

magrietjie, magrietjie
wil jy my nie net ‘n bietjie liefhê nie
of het heuningby dalkies al
jou liefde gekry?

magrietjie, magrietjie
jou twintig blaartjies vertel vir my
dat ek dalkies, net dalkies nog ‘n kansie gaan kry

magrietjie, my magrietjie
as jy eensklaps wegwaai in die wind
wéét dan die liefde is blind
o so bitterlik blind, my liefste klein kind

Thomas Deacon

Kallie Losklos vannie plaas Lekkervat
het hooggevat en laaggevat
maar gou gelos
toe Hannie Hoenner omdraai
en hy sien haar van voor –
‘n sleggeveerde witborskraai

Thomas Deacon

madeliefie-liefde

die blou-blou lente van namakwa-
land het ink in my pen geword
nou skryf ek madeliefie-
woordjies net vir jou
voordat sleepmis oor koper-
berge stort
en die winter bleek en grou
aan ons madeliefie-liefde klou

Thomas Deacon

namakwaland

iewers op ‘n stofpad na namakwa-
land wapper daar ‘n tarentaalveer
tussen klip en bos en sand
my liefde vir jou is tarentaalveer-
stippeltjies tussen klip en bos en sand
namakwaland my hartvreetland

Thomas Deacon

ingrid *

uit ‘n bladsy van treurigheid
is ‘n laaste vers sponsie-vir-sponsie
opgeslurp uit die ink van die see
terwyl ‘n wegwaaiwind bokant deinings
dit krys-krys uitmeeu :
haar pop het geval toe die son
se gebarste rooi klok lui op ‘n blou
voetpad van ‘n vér horison
terwyl korreltjie-korreltjie sand
uitspoel en stol tussen verweerde
skulp en rots en geknakte buigbamboes

* ruimskoots gebruik gemaak van woorde
uit sommige van haar gedigte

Thomas Deacon

hans onversag dans dans dans met willemiena hogenboesem
al ommie driebeenpot
disse afval enne skaapstert tjou-tjou-tjou
ennie boude dril-dril-dril
so een vir my ennie anner een vir jou jou jou
ennie hunningbier innie papkan brou brou brou

wiekus wawiel swaai swaai swaai
die weetstone kons’tina
en loer loer loer na hogenboesem haaipolfaai hoogtrap willemiena wat soos ‘n heuningby
al om hans se latlyf draai draai draai
terwyl ‘ie hunningbier innie papkan brou brou brou

maak los jou oog van willemiena
hogenboesem haaipolfaai willemina
en swaai swaai swaai die kons’tina
by die driebeenpot verby
waar’ie afval ennie skaapstert tjou tjou tjou ennie hunningbier innie papkan brou brou brou

en hans onversag bly dans dans dans met hoogtrap swaaitrap haaipolfaai willemina
al ommie driebeenpot al ommie driebeenpot
disse afval enne skaapstert tjou tjou tjou
ennie boude dril dril dril
so een vir jou ennie anner een vir my my my
terwyl ‘ie hunningbier innie papkan brou brou brou

Thomas Deacon

Ek stuur vir jou
(Vir Carma Shaw)

Ek stuur vir jou ‘n handvol bloeisels witgewaste gesiggies wat uit knoetsels van amandeltakkies loer

en vredesduiwe wat voor jou venster koer as nuutgebore lentevreugde aalwyn-blom-se-rooi agter skurwe rante roer

en die sagte kleur van sonsak oor die see as meeue swaai en draai hul vreugde oor die dag se rus uitskree

Thomas Deacon

kalkoentjies trap al so en so
maar’ie wêreld bly maar onnerstebo
want my suikerbos het’ie pad gevat
tot diep innie dieptes vannie groot k’roo
nou trap ek stofpad soek-soek-so
want’ie wêreld bly maar onnerstebo

hoe sal ek maak om vir haar te kry
as my suikerbos oppie soekpad bly
so drup my transe so en so
oppie klippenspad vannie groot k’roo

Thomas Deacon

miskien

ek hoor die wals van konsertina
en die tokkel van kitare
ek hoor die klap van die sweep
oor vèr-verre vlaktes
en die roep van die kiewiet
as die son emmers rooi
oor die landskap uitstrooi

ek sien ouma by die bakoond
en oupa agter skaap
kerse wat flikker in blakers
en skadus teen mure
oupa wat vinger-vir-vinger
oor Boekwoorde huiwer
profete wat diep in die toekoms
bly tuur

ek sien ‘n boer op sy perd
jaag oor afrika-vlaktes
en uit die dreun van die hoewe
hoor ek die Stem
van Suid-Afrika

miskien hoor ons weer eendag
die wals van konsertina
en die tokkel van kitare
die klap van die sweep
oor vèr-verre vlaktes
en ‘n kiewiet wat roep
as die son emmers rooi
oor die landskap uitstrooi

en miskien sal profete
uit oupa se vingerwoorde spring
sodat man vrou en kind
weer luidkeels die lied
van ons hartland kan sing

Thomas Deacon

Verlange

Die see het vandag sy bloubroek
hoog opgetrek
en hy skater skuimbek teen die rotse
waar ‘n ou man met sy hond
na dié plesierigheid staar

Hóóg bo sketter seëvoëls
swaai en draai en duik dan af en áf
oor die blou waar son en lig
hul vir ‘n oomblik in ‘n wasigheid vashou

Dan draai die ou man om
stap moeisaam t’rug na stoepsit
koffie en boerbeskuit
waar ou-ou drome soos die hond
bly snuffel-snuffel tussen klip en sand
verlang hy na die rooi-rooi duine
van sy kalahariland

Thomas Deacon

Suikerbekkie

Suikerbekkie, ek wou jou hê,
maar jy’t liefiediefies nee gesê;
nou huil ek my gedaan
hier onner ‘ie Boesmanlandse sekelmaan.
Ek wil, maar ek kan nie huis toe gaan,
want ‘ie Boesmanlandse bakkiemaan
het sekel-sekel deur my lyf gesny,
nou sal ek maar ‘n kliprant Boesman-
landse kokerboompie bly,
hier waar ‘ie katnael-sekelmaan
oor ‘ie windverwaaide vlakte traan.

Thomas Deacon

ek het die boesmanlandse stilte in ‘n dopemmertjie gevang
en die blitsgeel van kokerboomblom agter die kliprant gaan haal
nou knoop ek dit styf in ‘n knapsakkie vas
en stuur dit op die vlerk van ‘n kraai
na my liefste kandas

Thomas Deacon

As hierdie planeet eendag ontplof
en die vlees tussen vallende rotse soos stippeltjies stof opstyg om tussen ‘n doolhof van sterre te verdwyn
wat was dan die sin van lewe en pyn
van oorlog en grenslose haat
as ons níks in ‘n oneindige draaiwiel
van die ís en die wás agterlaat?

Eers dán sal die gees met oorgawe
hallelija kan sing
en sal liefde die nou en die gister vir altyd verdring

Thomas Deacon

‘n sekere flossie met die troetelnaam antjie
wen toe ‘n prys by ‘n rooinekkoerantjie
haar prys was ‘n borsel en ‘n kannetjie dip
toe vlug flossie antjie maar oorsee met ‘n skip

Thomas Deacon

uit die punt van my kwas
bloei roesrooi die rante
van sakson se soen
maar hoog bo die rooi
stol streep-streep die blou
van dag se onthou

Thomas Deacon

blomtyd in namakwaland

hoor hoe speel die winterwind
vreugdesliedjies op sy towerfluit

kyk hoe swaai die sleepmis
uitgekamde wit haarlokke
vermakerig oor kamieskroon
se hoogste spits

versier die tafel met ‘n bloublom-
vygiebos en knoop die skoenriem
van die madeliefies los
sodat hul kaalvoet kopswaai
oor die veld kan askoek slaan
terwyl die wind dit kappit’yt
op sy groengeverfde towerfluit

kyk hoe sleepmis met haar lang
bruidsrok statig wegwaai
en verdwyn om plek te maak
vir rooi en geel en pienk en pers
namakwablom wat ná die reëns
uit hierdie eens verwaaide
sandland kom

Thomas Deacon

bitteraalwyn spoeg rooi tussen klip
diép uit ‘n keel waaruit bittergeid glip
my liefde vir jou is bitteraalwyn
hoe rooier die blom hoe dieper die pyn

Thomas Deacon

ek hang nessies van onthou
aan kromgedraaide doringbome
terwyl sonbesies die vreugde
van lank-gelede kalaharireëns besing
hallelujas wat doringpeule
soos kastanjette in die oggend-
bries laat skommelswaai

iewers sit ‘n koggelmander wipkop-
wipkop op ‘n swartgebrande klip
en bid dat wolke uit die blou sal blits
en reën soos vreugdetrane
oor elke duin sal val en diep-diep
in die rooi sal stol

nou hang ek maar my nessies
van onthou aan doringbome
en kyk hoe vinkies fladder-fladder
uit hul stapelneste flapper
tetwyl ‘n koggelmander sy gebede
wipkop-wipkop deur die blou laat glip

Thomas Deacon

elke aand wanneer die syjapon
glip-glip van haar lyf af gly
sy onder nag se wolkombers
wegdommel met ‘n sug
verkrummel fotogeen
maak plek vir diep erosie
uitgekerf waarlangs trane biggel
tot donker diep emosiepoele
verstar die rooilip giggel
word die dansbaan galgevloere
sien sy die laksman skelm loer
voel sy die glip van tou
ontwaak sy as ‘n nuwe dag
met rooilipmôre trou

(marilyn)

Thomas Deacon

Uit ‘n ander hoek
(Die verloënprogram op RSG)

Elke môre draai hul op hul sy
en luister of die haan wat op die toring staan
dalk vlerke klap
en droewig kraai
dan slaap hul ongestoord
rustig voort
snoesig toegewikkel
in hul nagkabaai

Thomas Deacon

ek wil vir jou vertel

ek wil vir jou vertel van branders wat
onstuimig witskuim teen die rotse slaan
van hadidas wat skel-skel soos uitgelate kinders bokant branders raas, te kere gaan
en van kiewietjies wat nie meer saans voor my venster kir
van vlindertjies wat flapvlerk om en om ons potjie rooiblom malva by die voordeur dans
en van klein evatjie wat gister in die kerk
verbaas gefluit het toe dominee mantelswaai vertel van moses wat met ‘n kierieswaai die towenaars se kierankie laat braai
ek wil die skater van jou lag in my hande gryp en hou
en saans as die vetkers in die blaker vlam
wil ek my vingers deur jou hare kam
wil ek vir jou vertel, ek soek na jou my liefste lam
nou sal ek maar vir jou vertel dat ek ‘n rooivlam aalwynblom
onderkant sukkelsonne teen die rant gepluk het
dit tussen ou-ou spore langs die see geplant het
terwyl hadidas krete van verlange oor die branders heen gestrooi het

Thomas Deacon

somer

terwyl die wind op snare
takke van ouhoutbome tokkel
word die somer oopgekloof
begin sonbesies ‘n nuwe lewe
met hallelujakore loof

Thomas Deacon

nuwe dag

die hamerkop kap-kap
oudag se grafskrif
teen ‘n doringboom
agter polgrassies bid
kiewietjie ‘n nuwe dag
uit die rooikring oop

Thomas Deacon

verganklikheid

soos ‘n sekelduin
sal ons wegskuif
weggewaai word
in ‘n ander duin

Thomas Deacon

(soekers)

twee brommers zirts
eendag weg
na die groot karoo
daar’s als nog vry en óóp
so het hulle geglo

twee brommers sterf
innie groot karoo
weggewaai deur’ie wind
by towerkop
innie kamdeboo

Thomas Deacon

(traan in die maan)

hoekom is daar “n traan in die blink van die maan, my mamma
hoekom is daar “n traan in die blink van die maan?
omdat die man in die maan so huil, my kind
omdat die man in die maan so huil
hoekom huil die man in die maan, my mamma
hoekom huil die man in die maan?
omdat die man in die maan vir pappa soek, my kind
omdat die man in die maan vir pappa soek
hoekom soek die man in die maan vir pappa, my mamma
hoekom soek die man in die maan vir pappa?
omdat die traan in die maan van mamma se oog so blink, my kind
omdat die traan in die maan van mamma se oog so blink
dis hoekom daar ‘n traan in die blink van die maan is, my kind
omdat daar ‘n traan in die oog van die maan is

Thomas Deacon

Lag weer, Pa

Pa, jy staan so stil
hier op die duin
jou pyprook hang soos
uitgereënde wolkies
in die lug
jou lag het weggedroog
dit het verander in ‘n sug
dit sal weer reën, my pa
Pa sal sien
ons moet net vra
ons stemme moet net mooi
in die warm hemel klaag
dan sal die bliksems pyp
opsteek en wolke blaas
en Pa sal weer ‘n rooigras-
duinpa wees

Thomas Deacon

(Pa)

Toe ek nog ‘n tjokkertjie was
het Pa voetperdjie met my gespeel, terwyl hy Ou Ryperd sing en kloppetieklop met sy voet op die houtvloer tik.
So het ons gery en ry
by Kakamas en Pofadder verby
tot in Namakwaland
waar aalwynblom soos rooikoolvure teen die rante brand.
Soms het hy gelag as perdjie oor ‘n slootjie spring
dan het hy oorgeslaan na “Jan Jannie Jan jou lekker ou ding
dra my net tot op Lekkersing
asseblief Jan Jannie Jan
net tot op Lekkersing.”

maar pa het oud geword
en stadigaan het Ou Ryperd stil geraak.

Later het ses paar voete hom kloppetieklop oor die Noordkaapsand
na Lekkerlê weggedra.

Thomas Deacon

daar”s ‘n koggelman wat wipkop-wipkop
op ‘n veldklip sit
en daar’s “n voël wat kwetter-kwetter
op die tak van “n boom
dis al

daar’s “n koggelman wat glip-glip
oor “n veldklip skarrel
en daar’s “n voël wat tjirp-tjirp
op “n boomtak wieg
dis al

daa’rs “n peul wat skud-skud
uit “n doringboom val
dis maar al

(dis maar al)

Thomas Deacon

(een koue môre)

een koue môre iewers in die hantam
het ek jou op ‘n klip sien sit
so asof jy saggies bid
toe ek vir jou vra wat dit is wat jy wil hê
wat jy nie hardop met die mond wil sê
het jy opgekyk
daar’t ‘n traan oor jou wang gebiggel
toe’t jy weggekyk
het ek my verbeel, of het jy saggies gegiggel
daar op jou koue klip
iewers in die hantam?

Thomas Deacon

ek wens ek het ‘n pondokkie
in die boesmanland gehad
waar ek uit ‘n afchipbekertjie
koffie sit en slurp
terwyl ek luister hoe die vinkies
in my peperboompie tjirp
en as die son sy rooiwang
weswaarts swenk en draai
die boesmanland se mooi
agter verre rante stort
sal ek stil na binne gaan
en later deur my venster loer
hoe ‘n boepensmaan
uit ‘n blinkgevyfde silwerbord
vrede oor die landskap stort

Thomas Deacon

(soms wonder ek)

soms wonder ek waarom drup
daar liefdeswoorde uit
my pen se punt
skarlakenrooi soos lydensbloed
spatsels op my wit papier
dan wonder ek of jý dalk weet
of het jou pen se punt
ook reeds vergeet
daar waar jy by jou wit papier
denkend na woordspatsels tuur

Thomas Deacon

REËNBOOGLIEFDE
1.
Oor Boesmanland buig daar
‘n reënboog in die lug
Oom Jantjie vat sy kierie
soek, soek met die oog
tot waar die boog se kleur
met oukliprante trou
By daardie punt, my vrind, sê hy
het ek vir geld gesoek
maar geld het ek toe nooit gevind
so, leer vandag ‘n les by my:
As jy die boog se punt bereik
sal jy g’n pot vol geld daar kry
Ja, as jy die boog se punt bereik
sal jy g’n pot vol geld daar kry
Maar as jy aanhou soek en soek
sal jy iets beters kry
Ja, as jy aanhou soek en soek
sal jy iets mooiers kry

2.

Tant Antjie bring die koffie
en ook die boerbeskuit
“Vir jou en ook die neef,” sê sy
“vars, vars uit die bakoond uit”
en toe sy wegstap knik
oom Jantjie met die oog
wys met sy kierie waar die boog
die tandjiesrante terg
“By daardie boog se punt,” sê hy
“het ek my ware goud gekry
ja, by daardie boog se punt, my vrind
het ek my Antjie-lief gekry
Ja, by daardie boog se punt, my vrind
het ek my wederhelf gekry

Thomas Deacon

(Onse Richtersveld)

Onse oumense had nog geloof gehad,
seg ant Ougoetertjies.
Hier innie dieptes van onse Richtersveld
het hulle gedank en geloof
virrie houtstoof ennie brandyster ennie
swartgatpot ennie bakoond en virrie genade vannie gesondheid van onse lywe.
Maar deuse dae der dage issit lektriek oralster innie huis.
Maar gelukkig stáán onse bakoond en brandyster en swartgatpot nog vir ons en ginnegaap.
Ennie kenners sit mettie kleinfoun innie hand en praat land en sand met hulle se maters van annerkant onse klipwêreld.
Ennie teevie maak hulle vas oppie stoel.
Siet jy dourie klipkoppie dour buite, my grootman?
Ons het vir hulle geklím en geklouter, totlat onse magoed buitekant toe roep om onse voete te kom was, voorlat sy onse hakke met kerswas en parfien ingesmeer het solat die hardigheid kan versag.
Dan’s dit kers opsteek en oorle pagoed het uit die Boek gelees, so met sy vinger soek-soek innie Boek.
So het ons met respekte gesit en luister, en onse pagoed het gebidde.
En sy tong had sweepslag geslaan as hy bidde vir die wêreld en sy onregtigheid.
Dant onse magoed kos geskep. Dis derms en suursous of lekkerboudvleis of bokmelk se kos en buitebak se brood met smeersels bokbotter wat tandmerk innie brood maak met elkere byt.
Dant ons loop kop toemaak mettie dassievel-karos. En ons had eers weer nuwe dag gesien as Pagoed ons uit’ie velle uitboenner om vuur te loop stook innie swartstoof.
Ai, my grootman, hierie hart van my brand nog kolietjie vuur in hierie innerlke van my binneste.
En ek sê nog dankie vir onse Richtersveld
se mooigheid, al issie kinners vér hiervandaan in hulle se moer.

Thomas Deacon

As ek uit hierdie aardse wentelbaan ontsnap,
gryp dan my gees saggies in U hande vas,
en laat my aan U boesem rus.
Mag U my sus soos môrebriesies wat oor rypgeworde koringare tas,
en as my as oor Boesmanlanse winde swiep en swaai en tiekiedraai,
laat almal weet: waar ek nou is, sal ek hul nooit vergeet.

(As ek ontsnap)

Thomas Deacon

By Lekkersing in die Richtersveld
het antiekie Kopdoek vir my tee
met bokmelk in ‘n blouprent koppietjie geskink waarop rooikeps-kaboutertjies
oor blink stroompies spring en rinkink

Sy’t eentand gelag :
Darie dag toe boorman se masjien
die water sláát
het die blinkstroom só lekker
met onse mense gepraat.
Dis waar onse naam van Lekkersing
vandaan uit stroom, my tjent

By Lekkersing in die Richtersveld
het ek bokmelktee uit antietjie Kopdoek
se blouprent koppietjie gedrink
waarop rooikeps-kaboutertjies
oor blink Lekkersing-stroompies spring

(Lekkersing)

Thomas Deacon

gister het die lyf van die see
grys met deinende emosies
teen rotse gespartel
en rasend geroggel
terwyl seemeeue hoog in die grou
van die reënhemel klou

vandag blits die seewaters blou
met baarde wat wit
opskiet en rol
terwyl seemeeue krysend
die winter bly koggel

Thomas Deacon

(Kontras in Richtersveld)

In die bont huisie naby Lekkersing
hang Sylvester Stallone
galant geprent
teen ‘n langkraak
groengeverfde muur

Smal geraam
dra Christus Sy kruis
in ‘n doodloophoekie
waar die son af en toe piets
teen ‘n geelkoper kandelaar

Thomas Deacon

daars vroegdag-se-dou wat aan grassade klou
daars ‘n swartlyf-toktokkie wat klop-klop-sekloppie luister hoe sy maat klop-klop-sekloppie met haar kloplyfie praat

daar wolkies wat skuim deur die blouselblou-blou
terwyl ‘n bergarend swiep-swiep bly draai
en werfhane skeefkop-se-koppie die môre óópkraai

daars ‘n rondepens-son wat skommel-skommel-sjommel op sy pad skoppelmaai

Thomas Deacon

(kopdoekvrou)

sy was maar net ‘n kopdoekvrou
wat hout gaan haal het waar die hemel
blou-blou oopmaak bo haar lyf
waar vybos wag om geknak te word
en as sy deur die sandsloot t’rugtrap
na haar rietpondok
het sy gesing oor hierdie hantamland
waar rooitong van die vybos sawens
opwaarts vlam –
‘n offer aan háár die vybos-kopdoekvrou
wat die vrede van die hantamnag
tussen takverbuigde vingers hou

Thomas Deacon

(kontras)

hy was ‘n elia van die hantam
wat agter kraalbossies kon gaan sit
en met dor-vereelte hande
‘n reënwolk weg kon bid

sy was ‘n maria van die hantam
wat agter asbossies kon gaan ween
oor die droogte in die hantam
oor die wegbly van die reën

Thomas Deacon

(jy)

jou oë glinster soos poeletjies water
wat oor spoelklippies babbel
jou wimpers die sagte pluime van riete
wat wieg-wieg in die soel van die dag

jou hande fladder soos duiwe
hoog in die blou van die hantamlug
waar die son vroegdag
aan ‘n wolklose hemel klou

jou voete dans soos herte
na die lafenis van stil waterstrome
waar reisigers hul neer kan vel
onder groendrup skadubome

jou stem is soos heuning
as jy sing van die liefde
drup-drup die soet uit jou tong
dans-dans jou woorde
eggo-eggo saam met die kabbel-
kabbel van stroompies
wat oor spoelklippies dans

jy’s die kiewiet in my drome
wat my smôrens wakker kir

Jy is my jý

Thomas Deacon

(namakwaland)

as sleepmis vroe smôrens wit lakens
oor namakwaland se velde sprei
sit klipdassies stil op rotslyste asof hul bid dat koperberge spoedig uit
dié witsigheid moet gly om plek te maak
vir nuwe lentesonne

namakwaland, my hartvreetland
teen jou sekelmaan wil ek sawens lepellê
luister hoe bontkopbokkies agter kraalbos blêr
want my liefde vir jou bloei geel
soos hongerblom op winterwerwe
jy wat stapelklip en wegwaaisand
in droëntye is
jy’s my bessiebos
my besembos my bojasbos
my botterblom
partykeer ook my bitterbos
my wag-‘n-bietjie-karmedik

as sleepmis vroe smôrens wit lakens
oor jou koperberge sprei
en klipdassies stil-stil teen die kliprant
sit en bid
hang ek drome aan jou kokerbome
verlang ek na jou wye lyf

Thomas Deacon

aderjan trap-trap’ie drywe innie balie
siepsop se drywetrap innie balie
sing-sing my alie my liefielyfie alie
kyk hoe trap ek drywe innie balie my alie
so dans ek my dans innie drywe my alie
en ek sing lat’ie sappe so spat
hier innie drywetrosbalie my alie
vanaand trap ek’ie klippersepad
na my lieflyfie drywetroslyfie my alie
kons’tina rietflyt ghoera en kitaar
kappit’yt met my drywetros lieflyfie alie
trap trap trap klip yt’ie sandland se balie
met my lieflyfie alie so bytekant
grootrivier se drywetrosbalie

Thomas Deacon

(bokmakierie)

bokmakierie, bokmakierie
sien jy ook die kierie
en die assegaai
tjoep-tjoep-tjoep-tjee
tjoep-tjoep-tjee
bokmakierie
ek hoor jou bokmakierie
hoe jy skree

uit die blou van onse hemel
uit die diepte van ons see
oor ons Godgegewe vlaktes
waar kranse antwoord gee
sal ons uitreik na jou roepstem
ons sal offer wat jy vra
want die bloed van soveel mense
bevlek suid afrika

bokmakierie, bokmakierie
sien jy ook die kierie
voel jy ook die assegaai
tjoep-tjoep-tjoep-tjee
bokmakierie
tjoep-tjoep-tjee
ek hoor jou bokmakierie
ek hoor jou
hoe jy skree

Thomas Deacon

diklyf hendrina florina kariena v’rooi
dink sy’s nog jonk, dink sy’s nog mooi
gooi flikkers vir jonkjan frislyf kaspaas
vanne vér verre boesmanlandplaas
maar jonkjan gooi sirkels om haar
dans met haar ouma, die liewe tant saar

Thomas Deacon

(as die kerspit kantel)

as die kerspit kantel
en die flikkervlam verdwyn
die hier en nou se pyn
soos laaste sonsakstrepies
agter horisonne kwyn
sal ‘n boom van ewig lewe
in mý adamstuin ontspring

Thomas Deacon

oompie tol met sy weetstone kons’tina
wals vir rietlyf hennerik en drilvet willemina
daar doer al oor’ie waenhuisvloer
fluister hennerik in willemina se oor
jy’s my drilsel darling jy’s my dubbeldoor
maak’ie weetstone ‘n laaste swaai
stuur willemina vir hennerik in sy maai

Thomas Deacon

que sera sera
(doris)

al hinkepink óns ook eendag op flentervoetjies oor die sypaadjies van die lewe
sal ons nog steeds jou “doggie” in die venster hoor blaf
vryf ons krampagtig oor sy wollerige natneussnoetjie
stuur ons vir jou ‘n laaste wegwaaisoentjie

ons hoor jou “que sera sera”
en ons vra:
hoekom so swaardra aan óú gedagtes swáárdra
hoekom so baie vrae
as ons verdeksels tog maar wéét:
in die sweet van ons aanskyn moet ons eet

maar eendag as die blikkantien omkantel sal ons waarlik sién
soos jý nou sien
hoekom die hier-se-nou so blitsig wankel

ons hoor jou “doggie” in die venster vrolik blaf
en ons stuur vir jou ‘n laaste flentersoentjie

que sera sera

Thomas Deacon

die dag rol soos ‘n uitgedroogte suur-
lemoen oor die rante
iewers blêr ‘n verlore boklam agter rolbol-tolbossies
waai die wind sy groot verdriet
oor geklipte oulandswerwe

daar stap ‘n ou man met sy hond
hy soek-soek met die oog
na ‘n eliawolkie
prewel hy retories in sy baard
o uitgedrukte windverdroogte suurlemoen
hoe lank sal jy nog die boesmanland
met jou dunskil krimpskil suur-
lemoen bly terg bly terg bly terg

iewers blêr ‘n verlore boklam
‘n antwoord uit die wind

(droogte)

Thomas Deacon

met hoeveel bitterheid het die aalwyn tussen klip en sand en somerdroog teen die kors van klip-se-rant en sand geveg
om net vir ‘n wyle die oog met ‘n titseltjie rooi te terg te terg te terg?

Thomas Deacon

(ek sal opstaan)

ek sal opstaan en na my moeder gaan
waar sy stringetjies gebede uit sagte sykokonne weef
saam sal ons luister hoe vivaldi vier seisoene aan mekaar vasknoop –
‘n jubelende simfonie wat ons óór duifiedorinstekels
na seisoene van lakenwitte winters,
bruinrooi wingerdblaar, namakwalandse madeliefies
en malse reënbespatte somers lei
ek sal opstaan en na my moeder gaan
ek sal my neervlei teen haar marialyf
en ek sal luister hoe sy stringetjies sagte sykokongebede
soos manna oor my stort

Thomas Deacon

hoekom staat’ie kam van’ie haan
oppie kerk se dak v’dag so krom so windverwaai so krom so skewelik liederlik krom
dis oorlat sy kraai deur’ie wind se waai so liederlik verwaai so weggedraai is
nou staat hy kromsekam en draai en draai
sy kraai so wieliewaal deur’ie wind weggewaai so wieliewaal weggekraai is
o haan wat staat oppie kerk se dak
sal jy weer kraai assie wind so ophou waai so griewelik liederlik ophou waai
sal jy weer kraai

(verdeeldheid)

Thomas Deacon

(koeksisters)

koeksisters by die dosyne
het sy gedraai en vars gebak
by haar klante afgelaai
nou sit sy op die stoep
gedagtes soos kinkels
in ‘n ou geroeste kabel
glip woorde soos soet-
gebakte draaisels
oor haar lippe
maar almal skud net kop
as hul probeer verstaan

Thomas Deacon

Toe die Meester op die rug
van ‘n mak esel Jerusalem binnery
het die skare Hom verwelkom
met palmtakke en hosannas
maar iewers het ‘n Iskariot gestaan
en in gedagtes Hom gegesel
met die dorings van ‘n wilde turksvy

Thomas Deacon

op riemvasmaak in die boesmanland
hang die son soos ‘n rooi robyn
oor die stil stroom van grootrivier
iewers staan ‘n ou man en tuur na bó
fladder sy sug soos duiwe óp en óp
in die warm lug

Thomas Deacon

bokmakierie jy merrie swart bef
onner’ie keel
jy merrie groen ennie geel veer
hoe hou jy jou lyf dan so astrant
hier op onse boesmanlandse werwe
vir wat stoftrap jy so al innie pad
bokmakierie jy so linkserig
oor namies se droogtewerf verby
o sonne o sonne
pasop vir onse windlawaai se honne
bokmakierie jy
sal snaterwater kry o bokmakierie jy

Thomas Deacon

somtyds – somtyds meer as net somtyds – reageer die brein heel meganies
en ren die lyf tussen blomme en distels en dorings en groen weivelde
na waters waar die rus verstoor word
deur torings van babel met gebrabbel
van stemme wat denke verdonker
maar somtyds – somtyds meer as net somtyds – trippel die gene verwonderd met oergedroogte bene oor óúvelde
opgeteken in wete van die lobbe
waar rieldanse en kitare die maan laat kantel op sy baan
dan hou die brein op om meganies te klop
hou ons op om te verstaan

Thomas Deacon

die eerste adam moes die tuin verlaat
terwyl die sleepsel van die slang
oor hom bly hang
krom gebuig het hy tussen distels
en dorings geswerf
maar steeds het die skadu van die slang oor hom en sy nageslag bly hang
en toe, vanuit die tuin van olyf
het ‘n Verlosser gekom
wat die kronkels van die slang
aan ‘n vloekhout gedra het
sonder dat ek of jy
daarvoor gevra het

Thomas Deacon

hy was maar net ou jannetjie
en sy was ryk armaans se sannetjie
hy’t vir haar ‘n blommetjie gebring
en sy’t vir hom ‘n liedjie gesing
toe’t hy vir haar ‘n ringetjie gekoop
maar sy’t geskaterlag en weggeloop
want hy was maar net ou jannetjie
en sy was ryk armaans se sannetjie

Thomas Deacon

parys het stil geword want hulle geliefde notre-dame het ineen gestort
in ‘n stil huis iewers op ‘n transvaalse plaas
sit ‘n vrou en rou oor haar man
wat wreed vermink en vermoor is deur barbare
hoeveel jare sal dit neem om hierdie smart te verwerk
hoe lank sal dit neem vir die herbou van ‘n aardsgeboude kerk
in ‘n stil huis iewers op ‘n transvaalse plaas sit ‘n moeder en rou oor die sorg wat sy verloor het
en daar drup ‘n traan

Thomas Deacon

hy’s hennerik die boesmanlandse kalant
hy trap ‘n voetspoor oor die ganske land
maar elke keer trap hy op sy spoor t’rug
met die boesmanlandse vrede op sy rug

Thomas Deacon

sy was bekend as die vrou van die wind
snags as storms oor die see gewoed het
het sy huilend strandlangs gehardloop
haarself in branders gedoop
dan’t sy gelag en gehuil
agter hondeklip se rotse geskuil
vir maan en sterre vertel
van blink goetertjies wat uit die hemel val
van die son wat nie weer sal skyn
van die see wat teen daglig sal verdwyn
so het ‘n visserman haar gevind
hare slierte in die wind
arms uitgestrek asof sy wou bid
langs haar het ‘n mak bobbejaan gesit
saggies geween oor die vrou van die wind

Thomas Deacon

oompie het altyd op die stoep gesit
leunend op sy taaiboskierie
dan’t hy tandloos gelag
as piet die swartkraai
veredos-spoggerig verbytrippel
raas en skel oorlat mart van
antie nel nog nie vir hom kos
gegee het nie
bliekskottel bliekskottel
waar’s my kos waar’s my kos
haak oompie hom met die kierie
kaboems met sy agterent
val hy innie truksvybos
kraai oompie soos wat hy lag

Thomas Deacon

die dag was koud en klam
toe die ou vrou pad vat
tussen garies en kamieskroon
het die wind begin waai
maar sy wou nie omdraai
want iewers het ‘n engel
op die spits van kamiesberg gewag
lag sy tandloos toe sy die klap
van engelvlerke bokant haar hoor
het die lewe nog ‘n siel
uit namakwalandse ondermaanse
verloor

(afspraak)

Thomas Deacon

george henry weideman
(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het george henry weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
maar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
’n staning onder duisend sterre
oopgetrap

Thomas Deacon

die lewe is ’n kaalvoetspoor

die lewe is ’n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor

aan die einde

aan die einde is ons maar net
verwaaide as
of ’n ingekerkerde geraamte in ’n gladgeskaafde
goedkoop hout
kanselwoorde druip heuningsoet
uitgestrekte leraarshande stuur ons weg
en groet

My woestyn

In my woestyn
lê elke môre
manna
op die sand
my woestyn
is elke dag
’n uitgestrekte
hand

heimwee
Thomas Deacon

elke keer wanneer ons by oupa
en ouma op geysdorp gaan kuier het
(so het ma vertel)
het oupa thomas met sy kierie geswaai
gesing: thomas johannes mathys
die paling se zoon
die krap se familie
en die padda se oom
gelag en sy baard het op en af gewip
van boerplesier
dan het ouma heel gedwee die kreukels
in haar swart sisrok met kloutjiekrom hande platgestryk
my teen haar vasgedruk
terwyl ek kraai van plesier
(so het ma vertel)
maar oupa en ouma lê nou handjiekrom
toegemessel iewers in krugersdorp
waar die wind deur dennebome fluister
glip oupa se stem nog steeds soos ‘n paling deur die wind
wapper ouma se sisrok soos ‘n vlag
in donker wolkbeelde hoog in die lug

Thomas Deacon. *4 Februarie 1942 – †21 Januarie 2022.

Uit “Sleepweer”:

met’ie stofpad t’rug
na aggeneys
had blomme hier en daar
beginne kleur te wys
maar ver ver agter my
had sleepweer nog
soos lammers teen’ie
soekblomrante heen gewei




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed