Jongste aktiwiteit:

Toast Coetzer
vir

Toast Coetzer

‘n Tuin

’n tuin is die huis
van skaduwee en mens
die honde en die voëls
is die oudword en ritsel
van die snoeisker en die hark
oor die grasperk van jou hart
waar jy as kind kon ruik
hoe die lewe sou wees
maar steeds jou kanse sou vat
die knol in die grond prop
die saad in die wind
blomme deur die winter bid
pit tot perske
die skadu skuif
die ryp raas
maar na ’n nag
kom ’n dag
na ’n winter
’n somer
’n mens
’n tuin

die drie vissies van saeed

in die see onthou ons ou dinge
en swem met oop oë tussen die
koppe wier
brandvelle onder die son gespan
met vroue en vriende en kinders
uit die rugsak kom kos
’n digte vrugtekoek ontmoet ’n lem
waatlemoen, neute, soet rooibostee
ek probeer onthou of ek gelukkig is
wanneer ek glimlag en lag
en dobber in die deining
“die harders loop!” roep die vissermanne daarnaby
hulle hardloop, stoot die bootjie die golwe in, gooi net
later gesels ek waar hulle inryg, afwas en skoonmaak
die vissies is presies ewe groot
en hulle stink satyn kos
ons is al heeldag hier by smitswinkelbaai
ek verbeel my ek’s jan rabie
’n bobbejaan blaf waar die blou die berg looi
ons gooi bal en vang bal en slaan bal
en onthou en huil binne-in
en die kinders se oë baljaar van die lewe
kleingeknip en blou gepik
saeed kom aangestap
met ’n rooster waarop drie vissies gaar is
klaar gesout, dis verniet, sê hy
ons almal staan om die vissies
en eet met ons vingers tot daar net
grate en koppe en sterte oor is
wanneer ons oppak is saeed en die ander weg
waar hulle sit en ryg het
stap ’n bobbejaanwyfie
met ’n trofee op haar rug

in die begin

in die begin was die aarde woes, en lees
hierdie storie wat ek vir jou skilder
met die fyndermink van ’n vink
op die papier van die natuur
dit handel oor die eenvoud van
houtvoeg vassluit
en boeg bou
voor en onder visribbes van hout
om mee ver te seil oor die see
na nuwe hoop en heil, wel en weë

in die begin was die aarde wroeg, en leef
saam met my deur die eensaamste ure
by doodsbeddens waar die koue
asems van ouers ontbind
en in die meubels en matte
gordyne en groukatgate
syg en sif, deur spinnerakdoek
sybokhaarsag spoel
om die slape van die nag

Koedoes

soggens skuif die son ons voete warm
tot in die sy, waar ons strepe hang
ons is bokke, koedoes
in die heelal
uitgesprei oor die koppe, die rante, hange, valleie, klowe, kranskoeltes, digbegroeide rivierloopdraaie, aalwynknope, swart olienskadu’s
en hierin wentel ons, saam, oor plaasdrade, teen wildheinings af
op soek na oorspringplek, op ou bergpaadjies langs, om besembos en blinkblaar,
oor suurpol en rooigras, verby klipstapel en rotshoop, die planete van
dassies, rooikat, ystervark, vlakhaas, pofadder, bleekvlerkspreeu
en ons kalm oë drink die wip van die uur
aaneengestroom, onafgebroke
nie as tyd nie
maar as leeftyd
by die koel fontein
voed ons die aarde, en die aarde ons
neuse raak aan mekaar en god,
’n skepping, lippe vol intieme
elektrisiteit fotosintetiseer
deur die somer, herfs, winter, lente
ente pyn, seer van hart,
korte duur, elle lang,
leef en beef
tot vul
wat uit
die herd ontsnap
die drade knip
die gewelf ontglip
ek kyk na jou
en jy na my
en ons bene lê die wêreld wit
ons lied se sleepsel kwispel lispel
in die tuig om strydros
die juk op trekos
kreun en kraak
die werwels wat
ons legkaart bou
in lig wat nou
is son wat
sak
ons is bokke, koedoes
in die heelal
saans trek die nag ons toe
ons vou ineen en hang
soos vlermuise
in die wind

Republiek

in hierie republiek van ons
klou ons snags aan mekaar vas
en hou elke droom by die brug
aan die hand en stap
saam met die nou pad
na die blou lug en
sing die stil gesang
van wintervoëls weg

in hierie republiek van ons
met die donker hart en
swaar gewonde geskiedenis en
bloedspoor deur die wattelwoud
en pyl wat ratel deur die longe en
die honde onder in die kloof
wat spoorkry en vat
en nes uitmekaar pluk
en kis spyker en hamer
vind die hand van die volk

in hierie republiek van ons
dryf die busse en die karre
vol kinders onderwater
en waai die blaaie van die boeke
verdoof deur die gange
van die skole waar die woorde
op swartborde staan en stol

in hierie republiek van ons
rol die tolbos deur die dorp
met ’n naelstring agterna
en tarentale skreeu en skrou
hou die dag terug
hou die haan plat
hou die stom stil
dek die storm op die tafel
onderhuids bo-op beens
in die vleis en spier en siel
van die elkeen hier verniel
van die almal hier vermal
van die mal en gek
en doodnormaal

in hierie republiek van ons
is die steen des aanstoots
steeds stadig aan die blom
in die ploeg van die land om
die drom waar die hande
die vuur se verbande
afskil en naderherd
vreet en eet
ieder en elk
sy broer

in hierie republiek van ons
is die laaste kans
die stadig dans
deur die verkeersirkel vleg
van die sterre en maan
met ’n hond onder die arm
deur die smeulende boorde
van die selfmoorde en ander moorde
en moorde wat nie eers
bedoel was
te moor nie

in hierie republiek van ons
die sagte glimlag van die laaste vrou
in die tent van lig
waaruit die poel ’n otter
snoet en duik
en wegdrup
en wink
en weeg
en wik
en wip
en weg

Die strompelende soldaat

skuins uit die halfuur
strompel ’n soldaat
met ’n been in die mond
op die straathoek staan en kou
kon die minister nie maar net
brode bak en grou
met die hand wuif waar hy wou
en die miserabelheid weg kon jou
soos in bybelstories nou
in ’n ou geweeklaag
’n ge-arme ek ge-arme jy
gemene deler gemene gene
gemeenskapsaaldaknatmaak
uniforms en vlae
party-t-hemde gespan oor party-mae
in ’n party-straat met ’n party-naam
word die partytjie geteken in ink
op die stippellyne gelaat
deur die strompelende soldaat
se stomp bloedvoete
getatoe tot die donker
met die eensame gefluit
deur die holte van die been
skoongeblaas van murg
witgesuig van wit

eie terme

jy is hier op eie terme
soos Omar al-Bashir en sy kierie, Jeb Bush en sy uitroepteken, Nasser al-Wuhayshi en sy laaste maal, ’n gewone sekelbos, ’n alleendonkie by ’n droeë fontein

die woestynwind waai, op eie terme,
vlae sandpatrys, woerende bolle stof, los
uit die veraf berge waar die eenhoring
van ’n ou gemsbokbul blink

jy is hier op eie terme, met die kanker
wat jou geringbas het, die dronk bakkie
wat deur die draad jaag en die foonpaal
teen jou kop laat lê en die name vir
al jou lekkende are
een vir een
opsê

hier is jou hart nou, in ’n foto wat nog
by CNA gedruk is, onder ’n hemp waarin
jy kleiner was, en jou vel sagter, jou hare geil,
besig om te lag

daar is ’n tyd wanneer almal – ook al-Bashir, alle Bushes,
ook Zuma – dood gaan wees, en die mense wat om
daardie gate gaan staan, met blink vertoon, of dorings
in hul palms, die eendersheid van hul uiteindes sal herken
in die hoeke van die gat, en die diepte daarvan

bloedsomloop

groot-om loop
doer-om loop
die bloedsomloop
die are geknoop
toe in ’n sloop
in die ou wapad waar kopervoete koop:
olifantpootkoffietafel, volstruisvuisasbak, renostershoringssnuif
FISTPUMP
duif al in die bylsteel af – hierdie is CGI, live, vir jou brein – na die lem daarvan
duik die mond daarvan (van die lem, van die byl)
oop teen die boom daarvan (die lem)
se omloop van (die boom se)
buitewindvel, oopvleisvaatjies, houttong, nat-hart,
grondharsings, mensedonga, woorde gemaak van gewere wat aanmekaargesweis is –
ek versamel die uitroepe van die mense
(die slagoffers die onderdruktes die naamlose dooies)
wat nie gehoor word nie en ek sit hulle
HIER
ver in die wêreld, kyk hie’
hier’s die mier hier teen jou muur
sy skaduwitjie klein
sy bloedsomlopie fyn
trap hom plat hy maak splat
daar spattie eers bloetie, boetie
HIER
wyd omloop, vêr ewenaarwyd,
jou aardbol is rond om te pas in jou iris,
en syd en suid en wyd en wes en naald na noord
(via ’n klein rigting-rapsong)
na jou as reisiger na die pool met jou lippe waarom die robvet blink
en voetbene waarom vleis gedraai is
waarom kouse kraak en swaar dik skoene
gomlastiek, ruimteagtig
soos bybelsbrode, duikbote, gevriesde worshonde in die sneeu vasgekrak word, en diep spore trap in die smeltende wit vasteland
vir wie meeste van ons se oë
nie beskore is, sien
’n katarak kan jy lostrek van jou oog
soos skille
HIER
in die bloedsomloop van die denkende, vroom voorkop,
die onbiologiese hoofbrein wat doen en uitvoer, naai en kap
’n grys granaat in die bakkendhandsbed met ’n delikate pampelmoes vol wilde gedagtes, man, wilde gedagtes, kyk daai katarak is in die vorm van Antarktika
die agterkop-oblongata se koppie bloed – ’n fyngedrukte moerbeimacchiato
waarbinne jy oor die vermoë beskik om uit te haak (messe,
spykers, pangas, kinders lol, moedersmoord), vry te wees, dronk, ’n drol te wees, reksprong te spring, waansinnig, kranksinnig, liefderik, moederlik, vaderlik, oorspronklik
HIER
in jou oor waarbinne die klanke van die ruimte saamdrom as
Toyota Yaris in tweederat, Piet-my-vrou, gruispadtekkies, windafribbokfluit,
bure se TV sitcom-gelag, stoel, werwels kraak, fyntes waters wat ruis, stadsgeroesemoes, Karoolystervlerktwierp, gebriekte windpompneul, die onverwoordbare kleinhondjiegeluid, budgie, alarms, paranoïese staatshelikopters – alles
ALLES
is bloedsomloop, mens, ek en jy is gebind hierdie lint in purper getint
trek Spidermansnaar van hier by my pols tot daar, tussen jou en haar, haar en haar ma, en die ma en dié se dooie oupa, se dooier pa, se doodste grootmoeder begrawe in ’n vinnige graf langs die trekroete, of onder ’n boom iewers, of oorhanggrot, groot griep of koeëls, leeutand, spiese of sommer net ’n tipe onbekende, knaende kanker – daar’s jou snaar, daar’s jou moerbeimacchiato, jou alma maters onderwater, jou geskiedenis wat agteruitloop na jou oer uitkruip-ottergat, die kolk waaruit die lig skyn sodat jou oog ooprek en sien:
die hongertes, die vergrype, eensaamheid, leedvermaak, die leuens van leiers, geldsug, hebsug, net sug, somber & arm rockbands, paddas onderwater in bergpoele, meeu wat chip eet, jou rustigheid gemeet aan likes, aan followers want ons is mos nou almal tipes jesuse, juistement die hartklop, hiertvandaan die voetval, die vingerafdrukke teen jou ruit, die oorblyfsels van ’n gesig in die sand,
dit als drup woordjie vir woordjie deur jou vinger na die vloer:
HIER HIER HIER HIER HIER HIER
HIER HIER HIER HIER HIER HIER

Anene Booysen

die wind het gaan lê
op Bredasdorp
dit is Saterdagaand
tienuur
en Anene Booysen
sewentien
is dood
sy was weggelok van ’n partytjie
sy is weggelei van die lig
in ’n swart kombers
van onverstaanbaarheid
in
vier mans het haar verkrag
haar bene gebreek
haar vingers gebreek
al haar vingers
haar toe oopgeslag
ingewande uitgeruk
in die sand gegooi
in ou Meulestraat
op ’n bouperseel
waar sy as skoonmaker
gewerk het
in die week
sy het nog gelewe
haar swart Grasshoppers gedra
asemgehaal
gelewe
toe sekuriteitswagte
haar kry
sy is hospitaal toe
Bredasdorp
waar haar grootmaakma
wat haar grootgemaak het
ys op haar lippe mog drink
en kon hoor dat
Anene moeg is
en wou slaap
Worcester toe
oorgeplaas
Tygerberg
vir noodoperasie
en sterf
sy het een van die lafaards
die moordenaars
die verkragters
die mans
wag – een van hulle
die verdagtes
was ’n vrou
geken
en sy naam gesê
dit was miskien haar ex-boyfriend
dit was iemand wat saam
met haar grootgeword het
in dieselfde straat
Duinestraat
soos ’n kind in die huis
hoe moes dit gevoel het
om sy naam te sê?
die wind het gaan lê
op Bredasdorp
en in die stilte sit ons almal
in die rietbos en brand

geluk

hier in die onvanpaste wêreld
van verrookte stukke veld
blom die ongewone liefdes
as skaaphompe per kim

soms dwaal my gedagtes
slaap ek agter stuur
strompel boekaspaai
bladloos oor die kaart

elke nuwe brug
bly rif roep oor rivier
waterbloed in karpkieu
suurstofbobbelbed

maar snags in vreemde dorpe
neon stasies petrolpense
baddens stoom soos woorde
om somer bid die reënval

rol die spoelklip van my gedagtes
vonke in die lospad los
tong my neus jou môre-oor
rol die teesakkie lek-lek om

elke eendag reëndag
hou die hoop gepoets
mensbloed per kruiwavrag
geluk geluk geluk

Kersfees 1999

die son skyn in die bergkwaggapark
ek kry you’re the fire op discount van edgars
my broer ook
ons ry en sien elande en blesbokke en volstruise en so aan
en my pa vertel die storie van
die renoster en hluhluwe en tiervisse en:
oom willem gooi destyds
die leeus in die wildtuin
met lemoene
en roep:
moerskonte!

ek en my broer ry terug plaas toe
drink bier uit oom bruhn se yskas
die wolke reën anderkant die kommandodriftdam
24 mm op altydsomer
ek ry die motorbike van elandsdrift af
in agter die reënbui se blaaie
die pad is glad
maar by die huis is net my tekkies vuil
oom johann vra hoekom ry ons dan so stadig
nes oom jim destyds

niemand bad vanaand nie
kayeni het nie vuur aangesteek nie
(dronk êrens, no doubt)
en ons is anyway nie lus nie
ma maak sop warm
en ek bel ‘n paar vriende
geseënde kersfees, vertel ek hulle
diana sê: I prayed for your sins today
ek vra, like what
sy sê: your drunken debauchery
ek sê: thanks, appreciate your concern

daar’s niks op tv nie
net independence day
en die mtv awards
maar ek’t al twee al gesien

liewe jesus sit op ‘n wolk en
gooi ons met die beste somerreëns
in tien jaar en hy roep:
moerskonte!

die albatros

gun een oomblik
stol die hand halfpad na die glas
beweeg ‘n oog uit ‘n stilstaande kop
na die tikkende klok
vir die albatros
alleen op die nes vir dae aaneen
weke
in reën en wind en sneeu en hael
op ‘n veertig sentimeter hopie
die enigste hitte vir ‘n kind
in ‘n huis vol rou elemente
‘n koue vulkaan
‘n rots in die suidelike see
terwyl sy maat –
hulle maak beurte
– sonder vlerkklap of klagte
die windgolwe kam
fyn vlerke seile sonder einde
bedags maar veral snags
wanneer die inkvisse en seekatte en jellievisse
volgens die boeke
vertikaal na die oppervlak migreer
maar soms is die kos maklik
vullis agter ‘n skip
aas aan ‘n onwettige hoek
long line van hier tot taiwan
die albatros
is die wêreld se eensaamste voël
hy sit daar met sy kwynende massa
met sy kind in sy dalende herd
soos die wind en die weer
deur sy vere begin pols
sonder kos in sy maag
sonder maat wat insweef deur die mis
geen vreugdedans wat volg
geen ligweg geraakte snawels
geen oopgespreide vlerke
soos die teenoorgestelde van kruisiging
soos die invers van sterf
net hoopvolle oë
net stilweg glo
maar sy dryf in die deinings
aan die einde van ‘n hoek
sit nou maar die glas aan die lip
kraak die spiere
agter elke oogknip
wag die nat oseaan

lugwaardin

daar lê ‘n lugwaardin voor my deur
sy is dood
uit haar lugruim geskeur
nou, wie gaan my bevry?

sy het duisend diere in
die krale van haar oë
dorings in die seile van haar vel
bol teen stormwinde

sneeu in die pakvleis
die warm riviersmoor
haar arms het die walle gebreek
oor die vloedvlakte heen

die lugwaardin is ‘n fyn voëltjie
‘n uitgeholde hand
wat ek gerieflik staanmaak
op ‘n kussing in my huis

mond tot mond
blaas ek lug terug in haar lyf
hol verjaag
deur staalorkeste, beitels

iets binne die bos
roer soos fyn koper
gering om ‘n enkel
verdoem om ‘n koeël

een riet fluit twee aan die gang
skaam vir klere
bang vir die sekel
blaas riet op riet op riet

asem boggel die padda
deur die modderbarste
onder uit die poel
krap sy naam

die lugwaardin
is bly om my te sien
sy wil by my weet:
chicken or beef?

slegte nuus

elke laaste vis is uit die son se sloep gevang
en die wind is ‘n droë lied sonder die see
maar die meerkatte blom weer in die vlakteveld
en elke laaste skaap sleep ‘n skadukol
na die meenthuise van smart aan die stad se rand
vol wyehoekskerm verdrietige oë
want ‘n vriend van ‘n vriend is geskiet vir sy kar
in die driveway van sy huis met sy kinders wat kyk
na die bloedplas wat soos chris hani s’n gloei
wat die koerante nalaat om te sê kan jy hoor
in die krete van die ma en kinders om die graf
want vandag trek die sondes hulle snyerspakke aan
hulle dra aan die kis en gooi die kluite in die gat
maar hulle los jou alleen reg voor jou deur
en die waters sleur om jou mee met dolke
hulle sny uit jou lyf wat die kraaie nie wil hê
en elke oomblik van nou word jou voete digter
die wynbloed se vate word are van hout
die hare in jou skedel groei gryser na die lig
maar selfs dit skiet pyle uit versteekte gate
jy ystervarkkrom in ‘n hoek met jou wapens
die hol geratel van jou penne tevergeefs
want die kieries reën neer soos ‘n somersbui
druis bo-oor die liedjie wat jy sing in jou kop

op die beeld se website 19/05/2005

vasgebinde bobbejaan vrek
kat doodgekook in mikrogolfoond
swart atleet wat comrades voltooi, 70 jaar later vereer
weerkaatsing laat bush-hulle skrik
bank se slangman skuldig
polisie ‘jaag deur rooi lig’
dooie honde stink vir dae
bidkamer vir leerlinge ingerig




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed