Toon van den Heever
In die Hoëveld
In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
Waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
Ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as ’n kind.
Verlange
Die son daal in glorie; basuine
Steek op in die hemel van kleur
En knetter oor rotse en duine,
Wat die troos van sy taptoe verbeur;
Die klowe word pers en die hange,
Die bergtoppe bloos in hul‘ prag;
Die wind blus die gloed en maak gange
Van groen en smarag.
Maar gee my ‘n dag op die Hoëveld,
Waar ‘n wilkerboom druip oor ‘n voor,
Waar die rooi vesels spoel in die water
En die vinkneste wiegel daaroor.
Ek wil douspore trap op die kweekvlak,
Ek wil groen sien en skoon asemhaal;
Ek is sat van die dal van Giloam,
Waar net knoetsige boom’graamtes praal.
In die Hoëveld
In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo,
Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawens as ek bees- of skaap-toe ry.
Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ‘n jaar of tien,
Waar die bokkies op die lei-grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.
Die beeld van oom Paul
Grou in die maanlig rys die swaar kolos,
Oorheers die jong geboomte aan sy voet,
Waardeur die aandwind huiw’rig klaend spoed,
En rust’loos, soos van geeste, sug die bos.
Die maan maak daar ‘n glimlag op sy wang,
Wat in die skemer lyk soos nat betraan;
Hy peins oor jonggestorwe hoop, en die waan
Van volkwees, peins oor volkswee en oor dwang.
Voor sy gesig daar strek die doderyk,
Waar al sy tyd- en strydgenote rus,
en aandwind saggies oor die slapers stryk.
Wit-dnser’rig skyn die maan oor stene alom . . .
En grillerig die verlede wat daar kyk
Op ‘n gewese Afrikanerdom
Haelwit stapelwolke
Die haelwit gestapelde wolke,
Paleis deur die winde gebou!
Hoe sou ek hul heimnis vertolke
En saggies fluister vir jou?
Verguld steek die dome nog witter
Af teen die velde van blou,
Soos jou oë , en perlemoer skitter
Soos dou
Sal ek fluister? Ons ryk in die weste
Word van sieraad ontbloot;
Die winde verstrooi nou ons veste –
Selfs wysheid moet dood;
Maar wyl lippe op lippe kan bewe,
Bied my jou mond, Lief, bied nou,
Eer ons gloed, eer ons hartstog begewe,
Soos paleise deur winde gebou
Berusting
(Orrel van God)
Waar newelstelsels wêreld word,
Waar keisers en kwepers ryp en val,
Waar de voorhoof van kranse bepêrel word
Met valle en kleure, oweral.
Sels waar Armageddon sy kake rek
En volkere weg uit die wêreld spu,
Is wet, en van uit sy druipende muil
Klink ‘n ysere simfonie.
En doo den lewe – dis alles reg,
En liefde is wet: en ek voel tevree,
Want wie sal ons twis met God besleg?
En alles ruis in die ritme mee.
Dit donder langs die sterrebaan
En sonnestelsels antwoord weer,
Dit ruis in die seepad van die maan
En lispel oor die meer.