TOTIUS
Repos ailleurs (Die rus is elders)
In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.
Die tarentaal
Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.
Hy soek – en dit is ook al laat –
vir hom ‘n kameraad,
om in ‘n boom die eensaamheid
en nag te slyt.
Sáám sal hul in ‘n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.
*
Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!
Die Godsbesluit
Voor die onheilswoning en
tussen die skaars-beblaarde
soetdorings staan, in droë aarde
maar lowergroen en blink van blad,
die wag-‘n-bietjie langs die pad.
Wanneer ek naderkom dan sien
ek dorings krom en reg;
‘k sien takke inmekaar gevleg.
En wil ek in die blare gryp
of aan die takke breek,
dan tas ek in ‘n doringnes
wat vreeslik haak en steek.
Bo al u donker bome, o Heer,
groei my ‘n enk’le reusboom uit:
dit is die wag-‘n-bietjie-bos
van u besluit.
Van vers so skoon, so groen, so blink…
maar hoe verward
wanneer ek dieper kyk en dink
as wat ‘n sondaar pas.
En steek ek dan my hande uit
na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas.
O die pyn-gedagte
O Die pyn-gedagte: My kind is dood!…
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.
Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!
en – ek gryp my bors van die pyn.
O die bliksemgedagte!…Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.
Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!
Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal.
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!
O die pyn-gedagte: My kind is dood!…
dit brand soos ‘n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Vergewe en vergeet
Dat gij niet vergeet de dingen die uwe
ogen gezien hebben. (Deut 4:9).
Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlanges
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie platgetrap.”
Die ossewa verdwyn weer
agter ‘n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
Ps 23
Net soos ’n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters —
so is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
DIE LIED VAN DIE OSSEWA.
Er is het geklap der zweep, en het
gehuil van het bulderen der raderen.
Nah. 3:2.
Hoor hoe sing ek my lied as die osse so stap
langs die wyd-ope veld, waar die voorslag-punt klap,
waar ’n wonder van stilte my alkant omsweef
as ek rustloos-alleen langs my grootpad bly streef;
ja daar vér in die veld, dáár word ek gehoor,
waar g’n straatklank my klinkende stem kom verstoor;
en ek sing met geweldige kiem my geluid
oor die luistrende vlak van die graslaagtes uit.
Op my lied was die bruigom so wonderlik trots
as my wiele wegrammel oor kliprug en rots;
as die seekoeivel-sweep, wat die rooispan bestryk,
in sy hande verrys om na vore te kyk;
of straks skielik weer daal, op my welvaart bedag,
om die veld te deurdreun met ’n knallende slag,
waar die osse van beef en my wiele van raas,
wyl die bruigom meteen op die kettingtou blaas.
Ons drieklank, verenig in innige band,
was die skone gesang in die trekker se land,
toe ons saam het getrek, die land in gesig,
waar ek, troue gesél, hom sy taak sou verlig.
Voor ’n wiel het kon rol in die wêreld nog wild,
het my klank die gebrul van die leeue gestild;
en ek het al gejubel met vorstelike lied
toe g’n pad was gebaan in die woeste verskiet.
Toe g’n huis nog die trekker se kroos kon beskut,
was my tent vir die kleintjies ’n veilige hut,
wat by nagtelike tog met gewieg en gesus
hulle sag het laat sluimer in salige rus.
Ja ek het met die trekker my singend verbly,
of in rampe met klaagtoon sy psalm begely.
In die stryd met Dingaan, as sy siel werd geskeur,
het my troostende stem weer sy moed opgebeur,
en ek het uit die dieptes hom weer uitgevoer
na geweste van rus vir die swerwende boer.
Maar nou val weer my lot in ’n dag van veel kwaad,
want die trekker se seun het sy plaas moet verlaat,
en ek, arme, nog lewend, het agtergebly
om weer saam met sy vrou en sy kinders te ly.
Maar my stem is nou hees en my klank is verdof
na die jare van worstling met sonbrand en stof,
en my kranke geluid word weemoedig gesmoor
deur ’n nare geklaag uit my tentjie gehoor.
Want ek rol, ek en honderde waens met my,
na die plek waar die vrouens en kinders gaan ly.
VERGEWE EN VERGEET.
Dat gij niet vergeet de dingen die uwe ogen gezien hebben.
Deut. 4:9.
Daar het ’n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlanges
’n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
“Jy het mos doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”
Die ossewa verdwyn weer
agter ’n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis —
net een plek bly ’n teken,
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
DIE OS.
Hoe rustig stap hy aan
die edel jukgediert!
hoe waggel hy die kop
met horings swaar gesierd
en stewig ingestrop!
Hoe rustig stap hy aan
so sonder tuiggetooi,
met matte dowwe plof;
sy vel trek plooi op plooi
rondom die breë skof.
So stap hy rustig aan
vol kalme majesteit
en ongesmukte prag —
beeld van stilswyendheid
ên selfbewuste krag.
Steeds stap hy rustig aan
met rustelose drang,
by kou en sonnegloed;
maar snags versnel sy gang
om dagversuim te boet.
Nog stap hy rustig aan
as dae kommervol
laat bleek en krul sy gras;
hy skeer die hardste pol
en suip die modderplas.
Stap, stap dan rustig aan
en deel die trekkerslot;
die skaarste en owervloed,
daar in die land, waar God
ook is vir osse goed!
MOSELEKATSE.
Manestraal aan troeb’le trans;
rond die vure glimmerglans;
kaffers nes in dodedans
om die vlamme;
windgewiegeld, tak en blaar
wenk met spokerig gebaar,
skaduwees nes skimme waar
om die stamme.
Wild gebruis van bometop;
dansgedreun en skildgeklop;
vuurgeglim van onder-op —
hel-tafrele! . . . .
Vlammend rys sy speer oplaas!
Stiller word die krygsgeraas.
Nagwind waai met breed geblaas
sy bevele:
“Hoor die seun van Matchobaan!
Ha! die witman kom weer aan!
Tweemaal het hy ons verslaan,
maar nie weer nie.
“Lewend afgeslag is hul,
ha! die swarte en witte bul;
maar die witte, ha! hy brul
nou nie meer nie.
“Dans dan by die nuwe maan!
Sing die seun van Matchobaan!
Slag nou van die voorpoot aan —
vette beeste!
“Slag die offerbeeste hier;
gooi hul in die groot rivier
met die pronkkalbasse bier —
vir die geeste!
“Laat die dokter uit jul drom
wys deur wie die onheil kom
oor die Matabeledom —
laat hom braaie.
“Vang die slagos uit die trop,
lewend vlek sy skouertop,
sny dit, ha! in toutjies op;
laat dit swaaie
“langsaam in die bitter rook,
byt ’n stuk af van die strook
drink die bitter asstof ook —
en wees manne!
“Wag jul more vir die lis
wat die krag van witman is;
laat jul van jul erfenis
nie verbanne.
“Ons was hier al van begin,
en die witman sal nie win;
eenmaal gaan sy tyd weer in
van verdwyne;
“eenmaal dryf ons hul weer weg!
Ha! die land word skoon geveg,
en die kaffer sal sy reg
sien verskyne.
“Eet en drink nou mond tot mond,
dans en spring nou in die rond,
tot die maan raak aan die grond
met haar sterre!”
* * *
So verklink sy oorlogswoord;
danse, brulle word gehoord;
ja, ’n volle hel-akkoord
dreun van verre.
DIE DRIE KINDERTJIES. [3]
Waar die spruitjie ’n lief geluidjie
murmel langs die groene soom,
en besye weggeleie,
watertjies in plassies droom—
Skep ses handjies van die kantjies
moddergrondjies, swart en vet;
en hul brei die, tot hul klei die
beeld van wa en ossies het.
’n Swarte sware kring barbare,
toegeskote vlieë snel,
kyk nou vrindlik by so’n minlik
en verteedrend kinderspel.
“Moenie breek nie! . . . Moenie steek nie!
Kyk hulle speel nes kaffertjies!”
En hy keer hulle, en hy weer hulle
met sy bloedbedrupte spies.
Hulpontvalle, roep hul alle;
dog . . . . die laer is uitgemoor!
En hul kerme om ontferme
word steeds verderweg gehoor.
“Hulle lewe . . . . maar verdrewe
noordwaarts!” klink dit agterna.
Perderuiters het die buiters
haastig agterna geja.
“Niks kon vinde!”… Net die winde
waai op plekkies droewig rond;
en klein beentjies, tussen steentjies
weggebleek, bedek die grond.
[3] By die Liebenbergs-moord is drie Boerekinders deur Moselekatse se kaffers meegevoer. Potgieter het later ’n vergeefse poging gedoen om hulle terug te vind.
VEGKOP.[4]
Bleek blink die seile vèr teen die hang,
swart kom die kaffers met driftige drang,
bewend omhoog rys gebed en gesang —
o so bang!
Donkre gevaartes dondrend temet,
blitsende flitse van pyle gewet,
borend na bowe die skietgebed:
Here red!
Hoor die gebruis teen die wawiel aan!
Hoor die geklots oor die seile slaan!
Sug van vertwyfling die boesem ontgaan:
Heer, dis gedaan!
* * *
Vas lê die roer in die trekker se hand,
fluks hou sy vrou aan sy syde stand,
weg vlug Kalipi weer na sy land —
vêr oor die rand!
Swart lê die kaffers: blom van die heir;
“Samel by hope die vyand se speer!
God het geseen man en geweer!
Sink dan terneer!
Hom sy die eer!”
[4] In Oktober 1836 het SAREL CILLIERS met 40 man ’n aanval van 5000 Matabeles op die treklaer by Vegkop (Vrystaat) afgeslaan.
’N SPROKIE.
Ek ken ’n mooi klein sprokie
wat so na waarheid klink —
dis dat die tortel altyd
sy water troewel drink.
Kom hy by helder plassies,
dan sal hy drinkend neig
as eers, na sagte roering,
die modderwolkies styg.
Dáárom sing hy so droewig
van donker voëlleed;
dáárom tooi hy hom stemmig
met dowwe verekleed.
So is daar sombre siele
waar hy my aan laat dink,
wat, soos die tortel, troewel
die lewenswater drink:
Vir alle lewensliefheid,
vir vreugdesang bevrees,
drink hulle geen genoeëns —
of dit moet troewel wees!
DIT IS NAG.
Dit is nag, stille nag,
en ’n moeder hou wag,
waar ’n kindjie teer lê te sterf —
net ’n flou-floue sug
in die ruim-ruime lug,
en ’n sieltjie het weggeswerf.
En agter die huis
vlieg met woeste gedruis
die snorkende spoortrein verby;
en die nag die dreun
van sy wilde gesteun,
soos hy voort op die ysters gly.
O die tedere krag
van ’n kind, wat so sag
en so stil weer die wêreld ontstyg;
O die moeder alleen
in haar bitter geween,
as die nag op haar smeekstem swyg!
O die woeste geweld
van die trein oor die veld,
waar die moeder allenig treur;
die hemel en aard
weergalm van sy vaart,
wat die wêreld in tweë skeur.
DAAR RUIS ’N LIED.
Daar ruis ’n lied van lang verlee,
en stemme singend kom van ver;
en immer ruis my siele mee
met stemmelied van lang verlee —
uit d’ eeue her.
Daar ruis ’n lied van lang verlee
wanneer die wind so sag verrys;
en immer, buigend na benee,
die bometop sing klaaglik mee
eenselfde wys.
Daar ruis ’n lied van lang verlee
in d’ oseaan se maatgesang;
en immer ruis die skulpies mee
met d’eeuelied van grote see —
diep opgevang.
Og, kon ek sing van lang verlee
gelyk die skulpies so getrou,
wat opgegaar, nog kleinlik gee
die weerklank van ’n wêreldsee —
by d’ oor gehou.
Og, kon ek sing van lang verlee
gelyk die dentak hoog in top,
wat daar sy naaldjies klein-verbree,
opdat die wind sy oue wee
kan klaag daarop!
O, kom tot my uit lang verlee,
sangstemme, kom uit droomgebied,
deurruis my siel soos awendbee
van westewind, soos verre see
se golwelied!
STOF.
Die luie stof. Hul het geen voete, want
net waar ek kom, daar leg
hul al maar in my weg.
Of kom my voet hul te naby
dan skuif party
net effentjies op sy.
’n Rusbed vind hul oweral
om lomerig op neer te val.
Grassprietjie is hul nie te smal,
wat langs die grootpad staan.
Die grootpad weer is nie te breed;
kerksolder nie te eensaam, of
die toringdak te hoog gemeet.
Hul lê so rustig op die skoen
van werkman, hard en uit fatsoen
getrek al en verslyt —
so rustig soos
in perlemoer van dames-oor,
of op haar blanke hals.
Net reëndruppels laat vir hul
haastig op luie rusbed krul,
nes wurms langs die grond.
Maar as die son se gloed hul vat,
lê hul weer reguit en
gee vir geen wawiel pad.
Daar kom hul aan — dieselfde stof!
Die lug is vuil, die son is dof.
Dit lyk wel wonder-baie of
die wêreld wil vergaan —
so kom hul aan!
Soos ’n bende ruiters, stoer en straf;
Soos ’n kommande op stywe draf,
ry hul verward die grootpad af.
Hul trek hom vol, sy lengte langs,
versprei omheen wildheid en angs
en al na vorentoe.
Die vrouens ruk die deur op slot;
die manne vlug op hoog gebod,
reusbome wals soos skimme rond
en wyk, met huise in verbond,
na ongewisse newelgrond —
en dit is of stof alleen bestaan!
Stof en sy agterryer, Wind,
wat op sy hakke jaag geswind,
hul twee die dryf, van woede blind,
stormenderhand,
die lug en landskap uit verband!
DIE STERRETJIE.
Goei nawend my sterretjie
met jou vrindelike groet;
jou weer te sien skitter
doen my harte so goed!
Ek staan net maar op
van my lampe-liggie,
en daar kyk ek verras
in jou kindergesiggie.
My kleintjies lê binne
in hul droompies al:
ek was bang dat die ryp
in hul ogies sou val.
Met wangetjies rond
lê die slapende bloedjies
glimlaggend te droom
van hul spelegoedjies.
En jy speel maar hierbuite
in die winternag!
En kom my nog teë
met jou olike lag!
Jy weet van geen nag,
geen koue of vrese,-
klein ligtende, laggende,
klein hemelse wese!
Jy speel in die nag
om die aard te verbly;
in my donkere berowing
kom jy laggend tot my.
En is dit my netnou hierbuite te koud,
dan vlug ek geswind weer na binne;
maar jy bly, ongesien, nog skitter daarbo
aan die hoë, hemelse tinne!
DIE OUE PUT.
Ginds op ’n knoppie, wydgeleë,
ver van die woelige werf en weë,
armoedig lê en skaars beskut,
in middagslaap, die oue put.
Geen voël laat sy lied daar klinke,
geen doringboom sy skadu sinke
op leiklip-brokkies, wat lê braai
in middaggloed se ligte laai.
Verwaarlosing se ongenade
spreek uit die stukke pale en drade,
waarbinne staan ’n slingerwiel:
die toegang tot ’n diepe siel;
tot swyggeheim wat waterwelle
straks aan die velde sal vertelle,
as sag ’n windjie hul ontwek,
voordat die kuddes bronwaarts trek.
Intusse daal van hemeltinne,
deur sombre skemering daarbinne,
’n langgespanne silwerdraad
wat afglans op haar stil gelaat.
’n Wyle, en ’t is al verlede —
’n klippie duikel na benede . . .
Waar kom die wekkertjie vandaan? . . .
Het d’awendkoeltjie dit gedaan? . . .
’n Wyle, en ’t is al ontroering,
en al te wrede rus-ontvoering;
want ope slaan die deksel wat
ontsluit geheel haar koele skat.
Sy hoor naby en nog van verre
haar skapies dorstig aan kom blerre;
sy open mild haar waterfles
om al wat bler die dors te les.
Dit put maar en sy gee maar immer,
dit put maar en sy weier nimmer;
gelyk ’n moeder, so opreg,
gee sy haar laaste druppel weg!
Straks gaan die skapies almal hene
en is die putters weer verdwene,
en niemand dink dan langer om
haar so vervalle heiligdom.
Haar lewe is soos die moederlewe:
by ondank immer bly te gewe;
maar ’k hoor as hul is heengegaan,
diep-onder tap… ’n watertraan!
OGGENDSTOND OP ’N BOEREPLAAS.
O, die oggendstond op ’n boereplaas!
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die vraag beslis,
wie of se beurt dit môre is
om ketel te kook.
Die môrester het opgegaan;
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.
Die haan het op sy beul geblaas;
hy spring al van sy tak;
’n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.
Hom volg sy vrind, die kallekoen,
’n oue towenaar:
hy worstel met sy slange, wat
hy nukrig teken in die pad
se stof, met duister vlerkgebaar.
Die kraalvee is al moeg gelê;
hul rek die stramme lywe uit.
Daar kom die kaffer ook al aan,
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.
Sy emmer ruis van pure musiek,
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.
Maar kyk hoe staan die osse met
groot oë na die hek te tuur,
totdat die sware hinderpaal
word uit die mikstok uitgehaal,
waaraan hul saans hul lywe skuur.
Die son gaan op, die vee verdwyn.
Net in die onverstoorbre vert’
’n osse-span stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by ’n rukkerige stert.
Die môre smelt weer met die dou,
die vrede alleen bly soos dit was.
Net ’n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.
PERDEKRAAL-LAER.
Die nag is heen, die môre is grys:
’n plaat van tente en waens wys,
waar Perdekraal se steenhoop rys
teen hoë hange.
Daar staan hul aan die grond gepènd,
die geweltjies so mooi orent —
die eie maaksels, tent aan tent,
in suiwre range.
O Trekkersvolk, my hart ontgloei!
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het en het uitgebloei
tot eie nasie.
Nie net ’n eie vaderland,
nie net ’n eie vlag geplant,
maar alles maak van eie hand —
geen imitasie!
Hoe lê die tentseil baan aan baan.
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan —
mooi eenheid same.
Sy staan daar by die wa se as,
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas —
’n blanke dame.
Twee witte kappe in die veld:
’n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
in sware stonde.
Die wa—’n sterke man is hy;
die tent—’n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
sy boei ontbonde.
Lig op haar voet gelyk die ree,
en trekkend met die trekker mee,
bied sy hom tog ’n vaste stee
in angs-geweste:
as wolkbreuk beuk die witte wand,
die sonstrale op die nokke brand,
of nagdier sluip oor donker land,
’n veil’ge veste.
En as sy wa nie verder dring,
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
stemmig-tevrede.
Dan word haar seile trou bewaar:
by feesdag net span sy ’n laer,
en straal haar seile dankbaar daar —
van groot verlede.
DIE VIERKLEUR IS WEER IN GEVAAR.
Kom burgers, trek die perde reg;
nou vrou en kind goeien-dag geseg.
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan ’n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!
Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis ’n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom burgers, hou nou by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!
Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hengste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot midde in die ruitertrop —
die ponie en die bossiekop.
Kom burgers, ry so by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!
Trek burgers, almal nou geteld,
al vort maar deur die wye veld;
en of jul al omlaag verdwyn,
of op die heuwels weer verskyn —
wys steeds die volle slingerlyn.
Kom burgers, trek so by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!
Jaag burgers, jaag oor rant en rots,
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onverwrikb’re ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan burgers, staan dan by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!
En moet jul val, val dan met eer,
met d’oog die vyand toegekeer!
Val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd
en d’ eerkroon wink al uit die vert’.
Val burgers, val dan by mekaar —
die vierkleur is weer in gevaar!