Jongste aktiwiteit:

TT Cloete
vir

TT Cloete

Anna
TT. Cloete (1924 – 2015)

In die ryping van ons jeug
het ons mekaar met die Prediker verheug.
En nou al meer en meer vel en been sonder vleis
is ons saamhoort ’n groeiende wonder.
Baie van die rypword het ek vandag vergeet en ons smoorverlief se smoor
is lankal oor en baie van ons saamlag, maar ek het nog fragmente daarvan oor
in my onthou. Ons het saam in ’n helder son
in a summer season, when soft was the sun
in Brugge geloop. Ek onthou die carillon,
Gezelle se huis, gragte met swane
en Villon en Carcassonn een ’n mooi skildery van ’n courtisane
in die Louvre, maar van alle onthou
van my en van jou onthou ek jou
helder langs my, in profiel langs my
oral uit die wit lig van my land gesny.
Daar is jy in ’n fyn helder omtrek
dit in die helderste helder hou ek
teenaan my.
Ek herken jou voetstap in ’n besige straat
in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.
Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.
Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, en ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.
Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas

 

Marilyn Monroe foto in blou
T.T. Cloete

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp
volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe
in ‘n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ‘n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die vals-egte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie
 
mooi marilyn monroe foto in rooi
T.T. Cloete
Nè pur le creature che son fore 
d’ intelligenza, quest’arco saetta,
ma quelle c’hanno intelletto ed amore.
Par. I 118-120

Ne le sue braccia mi parea vedere una

persona dormire nuda, salvo che
involta mi parea in uno drappo san-
guigno leggeramente…
Vita nuova

sy lê diagonaal
op ‘n plooi
op plooi fluweelrooi
kleed somaties geniaal

haar huid kyk
het van rosig tot sag
blosend tot teer gesproet soos die vag
van ‘n abessynse kat diep tyk

sy is gemoduleerde lug
wynrooi sag golwend asof
van diep binne uitgepof
holrug asof sy elasties dans of ekstaties vlug

die lewende omtrek
tref dié nofret
met haar silhoeët
fundamenteel perfek

‘n fenomeen
liefderyk
deur ‘n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen

Impasse

T.T. Cloete
– ik weet het niet?

Ons staan in die kombuis, ‘n vrou en ek.
“Waaroor, Kokkie, wil jy dat ek moet skryf,
Voorsitter van die Reg van Vrou en Wyf,
kom sê so ongeveer in die bestek

van veertien verse, slim Doktor Ciclopia,
kom sê wat wíl jy hê?” “’n Strak sonnet,
metries, vol leestekens, en ek belet
dat jy swaar woorde kies, skryf dom, ek vra

dat jy my nié moet irriteer nie – vir my
ook géén Latyn nie, net wat moeiteloos
kan lees terwyl ek afval voorberei.

Streel my, maak my plesierig, my ou bielie,
en geen erns, net teer emosies soos
‘n veer wat prettig oppervlakkig kielie.”

Uit: Jukstaposisie, 1982: Tafelberg Uitgewers.

foto van vrou by die see 1966
geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,
afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis
sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton
in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig
van die glansende see en geel wasige donsson
mymerend en byna deursigtig.
toe was sy nog veilig. hoe
veilig was sy toe
sy sit aandoenlik ingedagte en sereen
met die weerkaatsing in haar agteroorgesig
van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas
vingers aan die pols van die ander een
hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas
effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig
na haar vingers. die sigbare
stilte swyg. die oureool in haar hare
gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand
hang tastend af aan haar geknakte pols hoog
bo die skerp stut van haar elmboog.
elders, ver, baie ver veraf elders doenig
is die kanker met ‘n ander iemand
wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton
in ‘n broekpak by die venster in die lig
van die blink see en geel wasige donsson
dromerig mymerend en byna deursigtig
skimmig geskryf met lig

Identiteit

Tongues are separated by words,
The natures of persons as well;
And their skins are made different
So you can distinguish the peoples.
(“Achnaton’s Hymn to Aton”, vert. J.L.Foster.)

Praat is menslik, maar vir mekaar
is ons soos die diere as ons praat
onderling onverstaanbaar.

Party kyk met amandels, party skreef
horisontaal, ander is skeel
of die oë lê soos die wolf s’n skeef.
Snaaks, ons almal, aan die mossie verwant,
is bipedies, maar elkeen met sy eie trant.

Duisende ander dinge onderskei
ons van mekaar. Tog weer, aan die ander kant,
op dieselfde manier berei
is almal se uitskot ’n houtbruin brei
met dieselfde afstootlike geur.
Deur die chemie van die nier
het almal se urine die kleur
van goed gebroude Black Labelbier.
En dan veral, hoe die variasies ook varieer,
ons gryns as ons huil en treur
dieselfde sout en speeksel … Die variasies
wat die reënboog ekstrapoleer
varieer op die tema van die nasies …

Dié winddun asempie: identiteit,
ons raak dié glibberige ding eenders kwyt.
Almal slaak dit met ’n laaste sug
en stort dan in die oer-Een terug.
Haal ons die ideaal
volmaak alleen as ons ophou asemhaal?

Gomer

huise staan stil en wit
in die sondagsonlig half bewerig
tussen bloekoms waar klanke in sit
en vink op die helder herfsnamiddag

elke windstreek het sy geluid
gillende meisie huilende kind ‘n hond wat blaf
van oos na noord na wes na suid
hoorbaar uremeters rondom en veraf

verver en stilstil vat
‘n jong man met vonkende speke
na sy meisie die geelbruin grondpad
soos alle ander naweke

mens kan elke ding hoor
en sien helder sonderling apart
bas oos geel wit swart

hulle val uit die windstreke bymekaar
ineen bewende huis vonkende fiets meisie wat lag
bloekom en vink hond en kind hulle vergaar
mekaar in ‘n plaasnamiddag

Grieke vandag

Hulle konings van goddelike geboorte
en oorvloed gode self het hulle eeue gelede
reeds in die steek gelaat. Goer as sekere soorte
lewensmoeë plante of diere het van hulle selfs hele stede

uitgesterf. Hulle hemele is tot museums geruïneer
vol vase, vol beelde, tot puintempels met altare
en allerlei brokke klip en tablette vir geleerdes
en mondaine toeriste uit die lande van die barbare.

In swart geklee sit verarmde bejaarde
vroue in klein tandelose groepies
voor die deure, mans met stoppelbaarde
sit op die patios, om die oë en mond groefies

van die sout see en die harde aarde. Hulle praat en lag
min, kyk die toeriste se kamera skugter
aan, rook en lees koerant, dink bedaard en verwag
die dood rustig en onbevrees en nugter.

Dit wat oorbly, berggehuggies bo seë met bote, aarde
met weivelde en herders en skape onder die geel sonlig
is van ‘n voldane blywende waarde
en as blote werklikheid heilig eenvoudig.

Leipoldt 100

Beste Leipoldt die mense is nog soos altyd op geld
gesteld die hekseseks is nog net so volop en lekker maar meer
openbaar en sonder nawee daar is vandag nog steeds geweld
soos in jou tyd die mens bly degenereer

sonder dat daar egter ‘n einde kom
aan sy degenerasie Slegs enkele malles laat hulle moveer
soos altyd om onder miljoene dowes versies te maak te dom
bly die meeste om te leer

van Boggom en Voertsek Nog steeds kneusbaar
is die plant nog altyd welriekend
is die grond en die blaar
die krieke deurentyd ongehoor kriekend

nog steeds is daar die warm klip en die bossies
wat songeur die insek en die voël
nog steeds die varing en katdoring die klossies
bibber nog spokige aaklighede bly goël

op verlate plase Maar nog altyd die grootste wonder
is dat liefste plekke waar jy eenmaal was
steeds oos bly lêvan waar die son onder
gaan ver anderkant jou as

Huis oordag

ek het om my te vestig in vreugde ‘n huis gebou
vir stoeiende seuns vlinderige dogters verwek
in ekstase en ‘n geliefde teer gekweste vrou

vir baie vriende om nes te maak
‘n plek vir swaels hangplek
vir baie skilderye wat bewaak

moet word boeke rak op rak om huis te hou
vir die groot stilte wat skrikgewe
aardebewend in die dak in die stene en die fondament kraak

Huis snags

snags na middernag
kom daar ‘n opstanding in die leë
vertrekke die ekstroverte bediende begin vet lag

deur die huis
die vader maak rusie met die gedweë
teer dogter in die kombuis

word die verjaarsdag van die gebreklike geliefde seun
voorberei met teensin en neurose
onder die vader se gewig kreun

die moeder in haar slaap hoorbaar raas
verydeling in die badkamer ‘n slapelose
soek melk en kaas

in die yskas vir die vrees van die dagtaak
word die pille en medisyne
gesluk die stoele kraak

van vermoeienis en verveling teen dagbreek vlug
in ‘n gestaltelose ewige hol doofstomheid die pyne
en vreugdes se nuttelose geruis kokkerottig trug

Sonante dorp 

die dorp het dag en nag geluid
van motors en fabrieke daar runnik
die bierwaperd die uil
onhoeheil die straler knal ver fluit
die trein heimwee eensaam snik
die getroudes ontroosbaar in mekaar huil
verliefdes eenkant ‘n lyster ‘n duif
geluid sag iewers kreun ‘n sterwende iewers gil
geboorte daar word gefluister
by pyn flink klak skoene sag skuif
pantoffels die dood bly diefstil
onsigbaar in die duister
vriende skinder lagstuipend
gesellig die dorp wil
jil die asemende dorp is sluipend
na kosbare suisbloed op luister

God die digter
TT Cloete
(23 Mei 1924 – 29 Julie 2015)

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak. “, Driepas, 1989




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed