WILMA STOCKENSTRÖM
Binnehof
Wanneer die kleure kouer word en die skadu’s
so diep dat die wind daarin val,
kom die tyd wat langer is as nooitverby.
Die binnehof van ‘n swetterjoel duiwe
leen hom tot spesmase, asof berge
frons op die horison van my gedagtes.
Die fyn varingswaai skryf teen die muur
elke dag in die skuiwende son
opvolgings van hoofstukke, afrondings
van stryd, binne, buite, en matelose
hartseer onder die blou van onse hemel.
Treë tree ek af. Treë.
Installasie van skryf
Die dag het blouvlerk gespan tussen suikerkanblos
ooste toe en later ook in die weste en ‘n maan,
kammetjiegeel, het kom hang in die nag se floers.
Toe sê die kunstenaar: dit is goed so en stal die
handewerk uit in die museum van eindeloosheid
waar puntjies wêrelde diep voor, diep agter, diep onder, diep bo
flikker en wink en elk ‘n eie etmaal uitdink. Party
stel kuddens wesens voor wat bloederig byt en dood,
ander weer ‘n naaiery of dit nou lig of donker is
en dié wat met syfers speel, tel die hartklop
van hul eie spesiale stelsel en dié wat met name
speel, noem hulself die middelpunt en haal
‘n boek van die hemel se rak om te bewys:
lees, in die begin was wat jy nou lees.
Lees en word wys. Lees en vergeet snelstens
die waagmoedige tentoonstelling, want jy is skryfsel
en sal jouself skrywend vasskryf en verskryf
tussen suikerkanblos en –blos, want eintlik
is die skepper ‘n bejammerenswaardige, brose teef
wat leer skryf het met lei en griffie in die handjie,
oor en oor dieselfde voornaamwoord: ek ek ek.
Oor en oor ek ek ek oor en oor ek ek ek
Skeppend
Eendag toe hou die skepper
sy skepping soos ‘n kind ‘n skoelapper
op sy hand, en bibberend
spalt die gebrandskilderde vlerke.
Magtig die kleure wat gloei soos godhede
gloei, oop, toe, met groot
vertoon, die vlerke vir dag en nag.
Die skepper voel nog die pootjies
fyntjies op sy vingers en wonder
oor wat hy vermag het: oopvou
van ‘n al, goudstofoortrekte lig,
en soos skeppendes maar is, bedink
hy, trots en nederig, nog ene,
nog ‘n lieflike ligsinnige vlinder,
herhaaldelik, die ewigheid ter wille.
Bergkyk en seekyk
Kyk, die berg is ‘n huppeling van lyne
vir die lug om mee tou te spring.
Wanneer die wind met die wolke op hol sit
oor ‘n vaderland van bossies en stroompies
en die malmok hom hou op die lugstroom
kyk die berg en die see vir mekaar.
Daar is verse wat lê op die lig van die see.
Kyk, hulle wieg ewewigtig en verdwynend.
Oewergedagtes
Die palmiet buig. Die kurper flits.
Verwondering, my eie ek, dra
‘n gedagte soos ‘n blaar op ‘n kuil.
Die monding rek sy bek groot
en sonsoet water vloei die seë in,
jubbelend jobbelend tot aan die lug.
Tot daar tot daar gaan die gedagte.
Hier kom die dik dood
Hier kom die dik dood. Dag, my gabba.
Vir jou het ek uitgeluister, jong.
Ek het jou hoor knabbel agter dooiemansdeur.
Ek staan so wit en gekwes en my armpies
op na die lug en my voetjies geskoei in brons,
my gabba, en jy rinkink? Ekskuus?
Nee, ek hou nie van jou vet skoot nie.
Laat my afklim, toe.
Die dokters sal jou vertel
wat my binne is en my vel.
Die toordokters sal jou sê
waar my siek begrawe lê.
Skuus?
Die blomme is myne. Die langsteliges.
Is myne. Los.
Arme hulpbehoewende monsters!
Arme hulpbehoewende monsters!
Naglopers drake de lot, uitgediendes
in die armsaligheid genaamd lewe
met oë op die voete in ‘n wêreld van stof
tot stoflikheid in ewigheid gedoem,
groot word my vermurfde hart,
groot en weids soos ‘n bosveldnag
met ‘n droomrondawel vir elk
en skemerkelkies van skerpioengif.
My goggabies, kom woon gerus
in my en hou die mees geslepe
monstervergaderings ooit.
Ontroerend julle met julle permanente
skubbe en julle sluwe embrio’s
versteek in die donker modder
van ander eeue se onderbewussyn.
Hoe maklik het ons julle vervang.
Hoe maklik bemonster ons die wêreld
en sy beloop en saaklik delg ons uit,
sorg ons vir die lekkerste katastrofes,
o, en die verstrooiing wat ons bied!
Vaartbelynde verskrikking. Maar kom,
lomppotiges, sak toe op my. Mý
smaak is sussend ouderwets en katoliek.
Die mens? Vergeet hom. Los hom.
Die mens? Vergeet hom. Los hom.
Gemeet aan al wat groter,
al wat kleiner is in die al
registreer hy nouliks en nou-nou-nou
dan is dit tjoef klaar afgetjop.
In die al niks is die al in hom
niks vir hom, net hy wat vreet,
dié behaarde buis van glorie en smet,
‘n sotterny van mismoedigheid.
Die groot ster wat ín mens
Die groot ster wat ín mens
kom hang, kom seer skyn,
jou verblind fluoresserend
prikkelbaar laf laat wankel?
Sterbesete. Hoop van harte
die skittering verhard.
Gesternte. Gesteente.
‘n Vonkelryp vrug.
‘n Druppel gestuif
‘n Druppel gestuif
uit die stort van ‘n val
het sy tyd om te dink
in sy sekondes van val.
Los, en fyn so vry,
‘n heerlike floute
die asem ophou
deur die diepste bloute.
Hy neem alles in
in die sprong individueel
met die delikate glimmer
van ‘n akwatiese juweel,
en meng sy geskiedenis
met die res van die rivier
na ‘n eeu se swewe
oor die vel papier,
na ‘n daal in stilte
deur diepte en woord
‘n duiselende ja
langs die ruis van sy soort.
En daar’s ‘n paadjie en ‘n hekkie en ‘n end
En daar’s ‘n paadjie en ‘n hekkie en ‘n end,
maar op die stoep droom dit van lewe.
Agter in die huis hou die jare hulle besig
met berekeninge van ‘n gans ander aard
om die nukkerige dood te paai en te fop.
Maar op die stoep met sy vygiekraag, glinsterende
borduursel by afgrond, dink jy ‘n droom uit.
Die drome glip weg soos muisvoëls die drome
met die kleur van leegheid geverf in die aand.
Die skedel lag al huil die gesig
Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook ‘n glaskas in ‘n museum sal haal?
‘n Seldsame dier is die mens nou nie juis.
Tog, hoe slim tog is ons met ons
innerlike uurwerkvernuf, hoe sterk
die groot swaaiende hyskraangebare
waarmee ons wolkekrabbers reghoekig
neerplak in woon- en sakekomplekse.
Merkwaardig ons grabbelende navorsing
dwarsdeur dolomiet om ons arms diep
soos skagte te sink en die grys erts
te gryp en op te trek, te vergruis en te
veredel tot staaf op staaf korfagtig
gepakte kluise van belegging. Ag ja,
wonderbaarlik ons vermoë om weggooisand
tot vuurstof te verryk wat as ons wou
alles onherhaalbaar in allerlaaste oplaaiing
woes skoon kan laat ontbrand.
Ek sê mos die skedel lag
al huil en huil die gesig.
Waterslang
Almaardeur het die waterslang gekabbel –
kabbel van klippies soos lensies en klippies
soos lekkers. En mense in nedersettings
het op en af op sy walle gestap en geluister,
met ‘n skoen se punt in die sand gewroet,
tranerig in die son gekyk en dan
het hulle ‘n klip gevat en gegooi
na die glinsterblinkende waterskubbe
van die slang wat sis dat dit skuim.
Almaardeur het die gekroonde slang
die nag gekies om hom op te hef, maar
niemand van die nedersettings wat dit
dan op sy wal gewaag het, het die ster
op sy kop van die sterre in die trans
onderskei. En die bodeur het hulle
toegemaak, die werwel teen die duister
gedraai en hulle vrouens hoor steun
op die katel van môres van diamant.
Tot een gekom het, vreemdeling met vreemde
bedoelings. En dit was asof die slang
geril het die aand toe die man hom so
bekyk, en beraam en bereken in ‘n boekie.
Die slang het sy vel glad gespan
en sy kronkels probeer versit en op sy
stert gestaan en hoog in die weerliglug
het sy kroon geblits en sy dubbeltong
het die gerammel van die hemelgode verneem.
Maar die man het maar net bly skryf,
gegewens in ‘n tas gestop en sy kar
na die naaste Main Hotel gewiel.
Toe het die slang tot duinesprokie
verstil, gesplete oë toe gewaai
soos die sand daar manshoog loop,
die bek verslik soos die gety spoel
en die klippies so klaterblink maal.
Diep onder die vele jare lê die slang
en wag op die oopskraap van sy graf
en die inval van die dag op sy plat kop
en die skending en die ontluistering
wat kom, wat sal kom, wat kom.
Glansspreeubekentenis
Uit donker geglip na goddelikheid,
ewe vlug van luister ontdaan,
wil ek wip-wip kleur beken.
In die glansspreeuverskuiwing
van glans na vergetelheid
verloor ek behae aan hopeloos
ek – spreeu sus, spreeu so – ek wees.
Altyd bly vlieg van die tak
om jou oulikheid op te vysel
pik-pik by sandale en vellies,
spreeu sus, spreeu so te bly
van vergetelheid, glans: nooit
ophou hunker na einddeurlewing
tot blou en groen en veergeworde vlam.
In my glansspreeubekentenis
wip ek van waarheid verlig
na duister skadu en ondeug,
tintel ek uitspattig van veer,
lastig en eentoning van taal
en bekla en beken en bly ek
voël van glans én van vergetelheid.
So ook maar maaksel
So ook maar maaksel
staan ons teenoor mekaar,
skepsels wat die hande uitstoot
om te weer en te omhels –
staan en gaan ons die planeet vol,
soek ons die kwassars stip deur,
al die korsmosse van die al,
na hom, ewebeeld, beeltenis,
hy wat god sal kan kom speel…
So god weet wees is ons!
Hom soek ons, tamaai en ophelderend,
‘n god van skaterlaggende suiwerheid.
ANTIEKE SPIEëL
Sou die pou-oë van kolle,
die langsame verslaning
verweer wees teen die inneem,
ononderbroke, van in ovaal bestek
gesuspendeerde mure en ameublement
en die roeringe van mense?
Of is dít hoe uiteindelik
tyd self uitdoof: net maar
‘n matter word na dieper silwer
tot ook die spookasem van bloeisels
onopgeteken verwyl in die vaas?
Net maar ‘n donkerder word
van minder neem minder gee
totdat ons verspieëlde kanse
in die swart stilstand ophou.
ECCE HOMO
Wie het hom tog besiel om te wíl
regopstaan? Kierts! Tog nie net
dors na kennis, die bykom van ‘n appel
bo-aan ‘n baie groot, sugtende boom nie?
Handeviervoet sou hy ook, op ‘n lei,
kon leer lees en skryf het, later
die relatiwiteitsteorie vinger-in-die-sand
kon uitgewerk het, en uitgevee het
(want waarvoor?) met minder rugkwale.
Handeviervoet kan jy godsdiens beoefen,
loer in ‘n mikroskoop, klavier speel,
beelde boetseer, op jou rug rol om plafonne
te beskilder, weer omrol en van jou steiers
afklouter, fronsend, ingedagte, honger.
Handerviervoet is eet en drink speletjies,
paring vanselfsprekend. Alles gaan.
Net toneel speel, lyk dit my, sou bedenklik
ingewikkeld, haas onmoontlik en regtig
lagwekkend wees. Regtig. ‘n Kruipende
Faust. ‘n Klutaimnestra met swengelende
borste. Nee! Drama wil hoog reik!
Daar staan hy nou met sy weekdele bloot,
die mense, die sot, die groot toneelspeler.
DIE HIPPIE
Hy groei,
plantaardig uit ‘n stoel voor ‘n kafee,
‘n pers flap, na binne luisterend, na
voetstappe in die kelk, muskietsag,
geslote gemoeid met homself.
Hy slaan
‘n pap handsak oor sy fraiingskouer.
Om huise se kombuise binne te val
sommer saam met die son en die vlieë.
Om gestrand te raak op die rand
van ‘n stoep, voete in die malvas.
Tot ontsetting van die tuinspinnekop.
Hy onthou
die sinkomheinde werf waar uitgepofde
hoenders slaap om ‘n verbitterde bloekom.
Baie oumense dut daar. Hulle kraak.
Hulle oë gaan oop soos kwaste in hout,
en sien nie die hobbeltjie kind wat die pad
vat wat wip oor die blindewit duine
en krink om die pofadder se juwelehuis
van sewejaartjies: kleislang in ‘n kindertuin.
En voort
duimgooi hy na miskien ‘n genommerde
kamer met ‘n Gideonsbybel, miskien die ru
bouval van ‘n malman op ‘n afgrond, of
die binnevlerksagtheid van ‘n woud.
En hy skiet
ghrieskleurige hare uit ‘n apostelgesig
en loop om die tyd in te haal
wat hom vergeet het.
DIE KAAP DIE STAD
Nou dié ou keloniedame sy
druk haar net-en-rose-rookmishoedjie reg
skik haar stywegewelkrulle
trek haar dennekleed buite bereik – sies –
van die see se voorste skuim
en krys uitgelate, oopsnawel
oor God en die weer en die Coloured Question
en, goddank, sê sy vir haar boesemvriendinne
van Clanwilliam tot Mosselbaai,
goddank vir die onvergelyklike fynbos
wat alle geluide van daar oorkant
doof, en sy steek haar knobbelneus
in die son se oranje poeierkwas en glimlag
‘n wit string ligte vir die skepe;
skielik lig sy haar rok met een hand
op om die pienk neon, glad soos jellie,
van ‘n flentertjie broek te wys.
EUROPESE IDILLE
Op ‘n kleine dorpsmonumentjie
in ‘n bloeiselomraamde dorpie
waar ‘n tralaboemboemorkessie
Sondae onder ahorns tralaboemboem
wyl die dorpslui roomkoek eet
voor die Herberg van die Vyf Hase
met sy skewe verkreukelde gesig
soos ‘n heks gekom uit die naaldwoud
om knolle en swamme te verkwansel
en een rooiwangappel,
staan gegrif die datums
1914-1918
1939-1945
met plek gelaat vir nog.
As die fraaie kleine oord
slaap in sy winterkabaai
van fynste geweefde sneeu
loer sy swart skoorstene
onheilspellend soos kanonne,
marsjeer die sparre in gelid
met kentekens van ryp
die heuwelhange uit.
Knars. Knars. Knars.
In die wit, wit stilte.
KOICHAB SE WATER
Seweduisend jaar se opgebergde sagtheid
tap ek uit ‘n kraan en was gewoon
wit nylon en droogdrupgoed daarin.
Dan na die kombuis om kospotte rond
te skuif en by aanbrandsel water te gooi.
Toe dié water die lig sien, het dit
kortliks gewonder hoekom juis toe.
Toe vloei dit deur die pype ondergronds
en bo na al die aangewese plekke toe
om met sy weergalose witheid te suiwer
en te laaf en deemoedig deel te word
van dop en dam, van afval, en rioolvuil;
netso asof ‘n vrou in edelheid opgevoed
haar sonder nadenke eenvoudig gee.
WOLKE : WATER
Mollige wolke in die dam se water,
vlietende kussings met gehekelde punt,
plotseling daar, en lank daar, of
ander van dieselfde soort reeds daar
as ek nog kyk en na die slik staar.
Nie bo-op die membraan van die water,
ook nie vlak daaronder of dieper af
hang in pastel skemering die moeselien.
En tog, eenmalig sien ek hulle, gewaar
ek spookspieëlings aan die uitvaar,
voortdurend, die toegespinde en so
deursigtige raaisels wat in my dryf
en in my bly, gevang in my en nooit
gevang, met ‘n stok geroer, maar
nie vasgepen, nie afgebaken. Onopgeklaar.
DIE ANGS
Daar is die skole visse wat snags
loop deur die ruim op ‘n voortbestemde koers
en soms aan die oewer van ‘n melkweg uitspoel.
Daar is visse wat swenkend, dalend,
in skitterende skares die ongekaarte oseane
inswem en warrelwind in newels saampak
in massaformasie teen die angs wanneer die al
se swart ysskotse kraak en druk.
VERDAMPEND
Noudat ek brosser beginne word,
weet ek nie meer so mooi
hoe ek dit het en waar ek hoort.
Die son brand my skouerknoppe
bruin soos beskuit se ronde korsies.
Ek was so ‘n sappige kind!
‘n Hele tagtig persent water
gerangskik om ‘n skelet
nogal met skarniere toegerus
sodat ek die aarde kon bewandel,
vol verwondering kon raak aan
ander saamgestel soos ek: water
water water water water en.
DIE BOME MY VADERS EN MOEDERS
Die bome, my vaders en moeders,
se lang gespierde arms,
se groot groen rokke,
se kinders by dosyne,
se optog van bloeisels in die parke en langs die strate,
my vaders en my moeders, die bome,
ek slaan my arms om julle,
druk julle blare teen my wang
en vou jul geur soos ‘n doek om my hare.
Bly goed wees vir my.
GESERTIFISEER
Ek kan genoeg gloeilampies koop om al
my vertrekke lewenslank te belig,
maar ek verkies die skemer en skemermense
wat voor die droom van dromend lewe swig.
Ek kan ‘n absoluut betroubare fisiologiese hartklep
aanskaf, gemaak van polipropileen,
maar liefs lewe ek hortend en hinkepink,
afwykend stug, totdat die harde reën
die huise van die laaste eeu smelt,
totdat taal in al sy uitinge verval.
As mens, tot pyn in staat, wil ek leef,
die uiterste mens, gesertifiseer mal.
LÊER VAN ‘N LEEFTYD
In koddige kinderhandskrif: nimmermeer,
nimmermeer sal die maan ‘n kommetjie melk
vir swartkatnag wees, die son nimmer-
nimmermeer ‘n lemoen vol geluksyfies.
Dit was tyd om op te hou prentjies teken.
En dié tyd toe sterre takke was oortrek
met bloeisels en skoelappers vir verliefdes
om mekaar mee toe te dek, dié tyd
het vlug soos die swaai van ‘n tak oorgewaai.
Hierop word die spekulasiehuis gekoop vir die bewoner
wat sy gewoontes aan die gewoontes van die bure gespe,
en sy grasperk dieselfde groen as die buurgrasperke hou.
En wat sy bure onthaal soos sy bure hom onthaal.
Wat sy kinders skool toe stuur om skool toe te gaan.
En wie se kleinkinders ver reis en ver studeer.
Gevolg deur ophou. Ophou kennis neem van
en aandag bestee aan en in ag neem van.
Ophou optel. Syfers. Gewig. ‘n Lepel.
Ophou slaap, lag, liefkoos. Ophou.
Om in ‘n sonnige stoepdroom te dut
voor ‘n blou huis met vrede op die hekkie,
met selonsrose en ‘n spaarkamer vir die uitgespaarde.
Dan, berese en belese, skerpsinnig en vinnig
stamp die kleinkinders die deure oop,
vind vermaak in die vermolmde dokumente,
proes oor doopnaam en datums,
die poses, potsierlik, van kamermaats op kiekies,
en vergeet gou, en verveel hul, en verbrand:
die kwitansies, die kontrakte, die knipsels.
Pret vir ‘n aand was die leeftyd van ‘n mens.
AALWYN IN DIE DROOGTE
Die ergste is dat die lewe dwarsdeur
‘n droogte aangaan en dat nie
wil endkry nie, die verbete beur
van wortels vlak in die rondte,
dat die blare handewringend toevou
om die gees, en, gevaarrooi geverf,
krimpend asem ophou
tot eindelik die vernedering oorgaan.
TE VEEL LIG
Die oog van die son soek-soek tot ook
in hoekies van verdriet, onder brûe van geduld.
Nie net uit vreugde word sonlig gestook.
En daar’s geen vlug na die vlakte van die nag.
Die klippe blink; tog bly hul stom
onder ‘n maan wat omlyninge, nie verbittering versag.
Eensaamheid gooi geen skaduwee,
want ‘n skaduwee sou kon saam stap
en eensaamheid is vir een, nooit vir twee.
ALMOEDER
Om te weet dat waar ek trap
onderaardse riviere vlermuisstil
vloei, laat my bedeesder stap.
Knielend lê ek my oor
op die ryp- en klipbeskotte grond
en span my in om te hoor
waar die hart van die aarde
klop. ‘n Sterk gestel
het sy, die saggeaarde.
Die somergras, weer uitgestoot
deur die swartgebrandheid, staan
prilgroen in oorwinning oor die dood.
BY DIE SELFMOORD VAN JONG SKRYWERS
Ter nagedagtenis van Ingrid Jonker en Nat Nakasa
Want wanneer hulle sterf
is daar nie formasievlugte nodig nie
gillende spreeus begelei hulle en die makaber meeue
hoef daar nie ‘n kanonwa gesleep te word nie
gedigte dra hulle
sketse vertel klein intieme besonderhede
lank na die laaste berig oor die ontslape politikus
Maar wanneer hulle te jonk sterf
– afgeskeurde tak van ‘n stralende perskeboom –
is dit ‘n arm wat afgeruk word
drup die bloed op ons ontbyttafel
koes die huise, krimp die godspaleise ineen
waai ‘n bitter rook oor die land uit eindelose spelonke.
Wilma Stockenström
Monsterverse
Intrede van die groot kalmte. En tog
lê wis en onwis soos lig en skadu.
’n Maan met hokhoes in sy laaste kwartier
blaf so bleek oor township en buurt,
oor die hunkerende staar van ogiesdraad,
oor onrus se hand oor ’n muur van beton.
Skadu gelyk aan gelyke lig.
Geluide sit gevang in eie afstand.
Sit vas in verwarde takke geluide.
’n Skilderkopnag van lig en skadu
lê en blêr in die dreun van masjiene.
Die konsternasie van geweld en geboorte
gaan skreeuend heen soos heengaan.
Tjank afgetrap. Die maan is dol.
Hiëraties hou die dood die lewe,
embrio, die skaam een, in ’n emulsie
van spikkels lig en skurende stilte.
Hy wag om te kom, die maangeborene,
die opgekrulde kind met name skrik,
met name hongersnood en skraal ontbering,
met dief die pa en bedel die ma
kom hy, die droë hongerkind met sy groot
groot oë en lang lang bene en treë
die strate af in lig van lamppaal knoetserig
sigbaar, kind wat langsaam tree, die kind.
Hoe lig die lig en doods die rumoer.
’n Slapende stad is skoon asem.
In die asem sluimer gewoonlik geheue.
Daarin word mens wakker en leef binne
’n dag, ’n kol omring deur nag,
van vooraf aan weer oor. Nimmereindigend.
Nimmereindigend die gesnak en geknutsel,
hand-op-die-blaas omhelsing van welvaart.
Hier is ’n stelsel wat roep om kundige
ingeklankte applous, daarmee gepaardgaande
die bekronings van eie prestasie. Hau!
Wat bly oor van kinders as hul durf
hokgeslaan, as hul in memoriams?
Die slap jong lote, wat bly oor?
Hot en bles word gebie vir ons kinders.
Op die windstrekewisselaar hoeveel singel
af na ’n afrit van ’n vergesig?
Wat bly oor van die gebulder van die kleinburger
as hy die oormaat aan bedrog van sy droom onthou?
Hy is skuimrubber wat bulder, die kleinburger.
Hy ontbind nie in goddelike verrotting nie,
hy verbrokkel tot vlokke van ’n vulliswind,
waai tot ver in die veld, teen dorings vas
waar die borsviool van die wind herinnering speel,
waar slaapstasies snork en psalmpompies kreun,
die bekfluitjies lig van treintjies subiet
gedomp daar waar afstand sy arms
vou, en afgetrokke staan kyk.
Die nag maak sy een oog oop soos ’n uil.
’n Kind se asemhaling is soet onvermoede
van roggel en skop, die kind met motte
lieftallig plat op die ooglede,
wakend aldus oor sy wisseling van wense,
waarmerk en waarmerk van onskuld
hierdie verlorenes tussen grys en goud,
hierdies van die tussenlig. Ou hipofise
verrig versteek sy werk, bemoeisieke
maaier onder die harsings se tweelinglobbe
tweeling-glibberig-apart; en talryke
roerlose slakke in die holtetjies van wees
skei hulle inmenging af, slu,
slymerig, na binne gekeer en bot.
So, ou patroon, wat kan jy daarvoor,
jy met varkmasels van drifte in die vlees,
dat jy wil opsnork eendag se eendag,
en wil hoog opgee met stories lank
en wil opskiet tot ’n boom van wins,
breed en fors van vertakte belange?
G’n wonder die dae trek hul veelkleurig
aan om suf versaagdheid te oorrompel.
G’n wonder die nagte vergaan in geluide,
ontplof stroboskobies in disko’s van opstand.
Insypelend, deurentyd, dienswillig die bydrae
van klier en gier vir die leef om te sterf.
Deurentyd dra die kind die dood saam
en soek ’n graf, en soek, en vind die klip,
die klip hy lê, hy lê die wêreld vol,
nou gôi die kind die klip. Hy gôi.
Kyk, die kind is die dood wat kom, hy kry
sertifikate bymekaar en rus hom toe
om lewe te verower ter wille van die dood.
Kyk, die kind met die kratergesig byt
sy naels tot op die lewe, die kind
in luiers trappelend dood en geweld,
en listig groeiend tot gemelike oudag.
Waar ek oor stiltes wou praat … was dit
die uil? Waar ek als anders wou
Stel, oor singende skadu’s wou praat.
Die wind het ook sy skadu. Hy sleep dit
vlug saam, ylings. Dit raak ons skaars.
Dit vertrek steeds, soos te merk is aan takke,
takke van T.V.-antennas, lamppaaltakke;
die skadu, die sku onderkant van die wind,
het lankal gee pad, het sag soos hare
oor iemand se gesig geveeg en ’n trek
nagelaat van innige ontsteltenis.
Waar ek oor lig wou praat en skadu
en die kalmte nou. Die skadu’s klink
soos tinktinkies, baie klein.
Die tinktinkies skuil in die skadu’s,
klein, baie klein. En dit is
groot gejuig, is groot gejuig wat klink.
Aanstons gaan ’n wêreld ondanks
begin en ondanks die voortsetting
uitmekaar spat in lig en lied,
o hart van bloeiende klank, en jy,
aarde, met die maanhaar van lig,
hou jou spokende maan agter jou.