Jakkals en Wolf & ander kinderstories
Jakkals en Wolf
Jakkals is altyd . . . hy stel vir Wolf in ‘n swak lig, ek hou nie daarvan nie. Want jy weet net goed, as jy van Jakkals en Wolf praat, Wolf gaan maar altyd die spit afbyt, hy gaan die laaste kom en dan is Jakkals altyd eerste. Okay, ek maak gou ‘n storie van Jakkals en Wolf, so ‘n kort enetjie.
Eendag was dit gewees, Wolf het langs die rivier gestap. Sy vrou en sy kinders is honger by die huis. En hy besluit toe om ‘n plan te maak vir iets om te eet. Soos die geluk dit toelaat, daar vang Wolf vyf ganse. Wolf vat die ganse, hy sit hulle in die sak oor sy rug, huistoe. Oppad huis toe ontmoet hy vir Jakkals.
“Môre, Oom Wolfie!”
“Môre, Oom Jakkie!”
“Hoe gaan dit, Oom Wolfie?”
“Nee goed, Oom Jakkie.”
“Au Oom Wolfie, maar ek ruik mos vleis in daai sak van jou!”
“Ja, nee wat, Oom Jakkie, dis maar so vyf gansies wat ek hier teen die rivier vasgelê het.”
“Ag, Oom Wolfie, wil jy nie maar die vyf ganse aan my verkoop nie?”
“Nee Jakkals. Ek kan nie die ganse aan jou verkoop nie, ek wil dit huis toe vat vir my vrou en my kinders.”
“Ag, wee’ jy Oom Wolfie, ek sal jou goed betaal. Ek gee jou vir elke gans ‘n rand. En dié vyf rand, jy kan hom by Oom Leeu gaan kry, en jy weet Oom Leeu is ‘n eerlike man. Hy sal jou regtigwaar betaal vir die vyf ganse. So sê net vir hom ék het vir jou gesê hy moet daai vyf rand wat hy vir my skuld vir jóú gee.”
“Nee, maar is goed, Oom Jakkie.”
Daar vat Jakkals die vyf ganse. Hier gaan Wolf na Leeu toe. Kom by Leeu, klop aan die deur.
“Wie’sit?”
“Is ek, Wolf, Oom Leeu.”
Leeu maak oop.
“Oom Leeu, Jakkals het my na jou toe gestuur. Hy’t gesê jy skuld hom vyf rand, en daai vyf rand jy moet hom vir my gee sodat ek vir my kinders kan kos koop. Want hy’t vyf ganse by my gevat.”
“O nee, maar goed, kom dan in, Wolf.” Leeu maak toe oop, Wolf gaan in, en Leeu maak die deur toe. Toe gaan hy in die huis in, hy gaan haal sy sambok. Hy slaan vir Wolf vyf houe met die sambok. Hel! Toe Wolf uithardloop, skreeu Leeu agterna, “Dit is die vyf rand wat ek vir Jakkals geskuld het wat hy gesê het ek moet vir jou gee!”
Daar’s Jakkals weg my die vyf ganse, en daar’t Wolf sy ganse verloor, en nog ‘n drag slae ook agterna gekry. Dis nie lekker so nie! Vat Jakkals ou Wolf se ganse, hy gaan eet die ganse, en daar laat hy Wolf nog ‘n dekselse pakslae ook kry. Nou is dit nou regverdig so? Nou sulke stories, ek hou nie van hulle nie. Nee, stories moet karakters het. Karakters moet teen mekaar is of saam met mekaar wees. Dan klink hy meer intelligent.
(Gert Hendriks)
WOLF LEER VLIEG
Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.
“Ai, Aasvoël,” kla Wolf, “kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?”
“Dis maklik, antwoord Aasvoël. “Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien.”
“Leer my dan ook vlieg,” soebat Wolf.
“Goed,” sê Aasvoël. “Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen.”
Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf moet net vasklou.
“Sien jy, Wolf?” roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. “Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke.”
Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.
“Eina!” tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.
“Laat dit vir jou ‘n les wees!” roep Aasvoël van bo af. “‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid.”
JAKKALS VERTROU SY EIE VREDE NIE
Op ‘n oggend snuffel Jakkals tussen ‘n klompie bome rond, toe hy Hoenderhaan op ‘n hoë tak gewaar.
“Môre, my liewe Haan,” groet hy vriendelik.
“Môre, Jakkals,” groet Haan. “En waar stap jy dié tyd van die oggend nog rond?”
“Ek soek ‘n bietjie ordentlike geselskap,” sê Jakkals vinnig. “Maar dis nie lekker om so kop in die lug te staan en praat nie. Kom sit liewers hier by my.”
“O nee,” antwoord Hoenderhaan. “Ek ken jou streke. As ek naby jou kom, eet jy my op.”
“Nog nooit nie!” roep Jakkals uit. “Het jy dan nie gehoor nie? Daar is vrede in Afrika onder al die nasies.”
“Koe-ke-le-koe!” lag Haan.
“Hoekom lag jy?” vra Jakkals.
“Nee, ek lag sommer vir al jou stories,” antwoord Haan. “En dan lag ek vir my eie storie ook.”
“Wat se storie is dit?” vra Jakkals.
“Gisteraand het Wildehond my bekruip,” vertel Haan. Toe moes ek die bome in vlug. Nou is Boer met sy honde op pad om my te soek. Ek kan hulle al sien aankom.”
“Nou ja, dan groet ek maar eers,” sê Jakkals skielik haastig.
“Hoekom wil jy al loop Jakkals?” vra Haan. “Ons gesels nou eers lekker. Jy is tog seker nie bang vir die honde nie. Daar is mos vrede in Afrika.”
“O ja,”‘ antwoord Jakkals, “maar die vraag is of die onnosele honde daarvan weet.” En hy draf vinnig weg.
Wolf en jakkals steel skape
Die swaar tyd van die runderpes was gelukkig verby, maar wild was nog baie skaars, sodat Jakkals en Wolf albei aan ‘n knaende vleishonger gely het. Jakkals het amper dag en nag geloop en dink hoe hy vleis in die hande kon kry. So af en toe was hy gelukkig genoeg om ‘n hasie te verras wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie en selfs muise het naderhand lekker gesmaak.
Daar was ‘n boer, nie baie ver daarvandaan nie, wat ‘n klompie lekker vet skape gehad het. Dit sou vir Jakkals maklik wees om die kraal in die nag te besoek en hom trommelvol aan skaapvleis te eet, maar ou Vossie weet goed dat die boer dan die volgende dag, wanneer hy die skade wat aan sy kudde berokken is, ontdek, sy honde sal neem om die skelm te gaan soek. Hy sal dan onkapabel wees om weg te hardloop, want hy sal só vol vleis wees dat hulle hom maklik sal vang.
Onderwyl hy loop en planne maak hoe om die vleis te bekom sonder om gevang te word, kom ou Wolf soos gewoonlik in sy gedagte. Ja nee, hy moet ou Wolf hierby insleep om vir hom die kastaiings uit die vuur te krap. Hy begin dadelik ronddraf en rondloer of hy ou Wolf nie gewaar nie. Toe hy hom sien, sak hy dadelik op sy pens neer en maak of hy iets bekruip. Ou Wolf het hom gesien en hou hom nuuskierig dop. “Ek wed daardie ou skelm is agter iets goeds aan,” dink ou Wolf. “Ek gaan hom agternasit en kyk of ek nie ook iets kan kry nie.”
Ou Jakkals maak of hy hom nie sien nie en kruip maar aan in die rigting van die skaapkraal. Hy gaan lê agter ‘n groot klip. Ou Wolf kom aangesluip tot hy skielik op ou Jakkals afkom. Hy skrik hom asvaal en weet nie wat om te sê nie.
“O, dis jy, né! En jy kruip al agter my aan! Ja nee, ek het altyd gesê jy is die slimste ou takhaar hier in die onderveld. Kyk, dit was baie skelm van jou om my so te bekruip, maar nou is die koeël deur die kerk en moet ek jou maar in die geheim inlaat. Sien jy daardie kraal? Dis vir hom wat ek in die oog het. Maar ek gee nie om nie. Daar is genoeg vir ons altwee en vir nog een en veertig, en vanaand is net so goed soos môreaand.”
Ou Wolf voel vreeslik skaam dat ou Jakkals hom so uitgevang het, maar hy is bly dat hy so goedkoop daarvan afkom. Hy sit kop onderstebo en trek ‘n nors gesig sodat Jakkals dit nie moet agterkom nie.
“Daar is genoeg vir ons twee? En hoeveel is dit?”
“Jy kan hulle tel wanneer hulle vanaand kraal toe kom. Wag net hier en jy sal sien hoe hulle die kraal sommer wit maak. En vet! Hulle dril van vet wanneer hulle loop.”
Ou Wolf voel of sy mond wil begin water. “Is hulle só vet? En is jy seker dat ons hulle kan bykom?”
“Hulle kan bykom? Ag man, wag net so ’n rukkie. Dan sal jy sien of ons hulle kan bykom.”
Hulle sit en wag. Die son gaan onder en daar kom die skape die kraal in en die boer kyk hulle deur. Dan maak hy en die wagter die kraalhek dig toe en gaan huis toe.
Ou Jakkals wag tot dit pikdonker is voor hy sê: “Kom ons gaan.” Hulle beweeg soos skaduwees en kom by die kraal. Hulle mage is só dun van die honger dat hulle sommer losklou oor die kraalmuur spring. Elkeen gryp ‘n slapende skaap, byt hom dood en begin eet. Die leë mage word naderhand vol en ou Jakkals loop na ‘n skuiwergat in die kraalmuur om te meet of hy nog daar sal kan deurkom, as hulle moet vlug.
“Hier jy! Wat maak jy daar by die skuiwergat?” roep ou Wolf.
“Ek kom maar net kyk of die boer nie aankom nie. Hierdie skape blêr so hard.” Hy voel tevrede dat hy nog sal kan deurglip en gaan terug om nog ‘n bietjie weg te lê aan die heerlike vleis. Na ‘n rukkie gaan hy weer meet, maar toe hy ‘n derde keer weer daar kom, voel hy dat hy skaars sou kon deurskuur. Hy voel vreeslik jammer dat hy soveel vleis in die kraal moet los en beur met moeite deur die skuiwergat na buite.
Jakkals weet dat hy nou met boer en sy honde moet rekening hou en daarom het hy vir ou Wolf in die prentjie laat kom. Hy weet dat ou Wolf nog aanhou met eet en dat hy skaars deur die hek sou kom, al was hy ook oop. Maar deur die skuiwergat sal hy nie kom nie, al kry al die honde hom ook aan sy stert beet.
Dis waarop Jakkals gereken het. Hy kruip versigtig onder ‘n deurmekaarbos in wat naby die kraal staan en skree tweemaal net so hard as wat hy kan: “Boer, boer, ou Wolf is in jou skaapkraal!”
“Ja nee kyk, nou is ek veilig,” dink hy. “Die boer en sy honde sal ou Wolf in die kraal kry en sien wie die kwaad gedoen het. My maag is so vol dat ek skaars kan loop en glad nie kan hardloop nie.”
Maar hy moes tog sorg dat hy daar wegkom, want die boer het die geskree gehoor. Hy en sy werkers en sy honde kom na die kraal aangehardloop. Ou Wolf hoor hulle kom en spring na die skuiwergat en duik in. Sy kop gaan deur, maar toe sit hy vas en voordat hy kon begin spartel, kry boer hom aan sy stert beet en pluk hom weer in die kraal in.
Arme ou Wolf! Toe die boer en sy honde met hom klaar is, gooi sy werkers hom soos ‘n lewelose ou skaapvel oor die kraalmuur. Daar lê hy toe soos die dooiste ding wat ooit gelewe het. Daarna is die boer, sy werkers en sy honde weer huis toe om te gaan slaap.
Ou Jakkals was naby genoeg om dit alles te sien. Teen dagbreek begin ou Wolf se een been roer. Met sonop roer sy stert en dit was nie lank nie of hy skraap alles wat van hom nog oor was, bymekaar en hy sluip stadig en kreunend van die kraal af weg, want hy weet die boer sal netnou terugkom om hom af te slag en ‘n karos van sy vel te maak.
Ou Jakkals sien vir Wolf stadig voortsukkel en hy besef dat hy self ook moet huis toe gaan. Maar hoe moet hy dit doen? Sy maag is so vol dat hy skaars kan loop. Maar waarvoor is ou Wolf dan daar? Wolf sal hom moet huis toe dra.
Ou Wolf sleep sy gepynigde ou lyf moeisaam huis se kant toe. Skielik kom hy op ou Jakkals af. Hy lê op sy rug met sy pote in die lug en dit lyk of hy ‘n myl anderkant dood is. “So by my kool,” sê ou Wolf, “dood of nie dood nie; ek gaan sy oor afbyt. Dit sal hom leer om die boer en sy honde op my te sit.”
Ou Jakkals het hom gehoor en hy maak sy oë oop. “O só né? Dit is hoe jy my wil betaal omdat ek jou saamgeneem het en jy geëet het tot jy wil bars. Jy vreet eers klaar en dan skree jy: ‘Baas, baas, ou Jakkals is in die skaapkraal!’ En dan kom hy met sy honde en maak my die dooiste Jakkals wat jy nog ooit gesien het. As ek ooit weer gesond word, sal ek jou nooit weer vertrou nie.” Ou Jakkals gee ‘n paar skoppe en dop sy oë om asof hy sy laaste asem uitblaas.
Ou Wolf is so verbaas dat hy op sy stert gaan sit. “Kyk, ek gaan dol word. Ek het jou met my eie ore gehoor skree, ‘Wolf is in die skaapkraal’, en nou wil jy sê dis ek wat geskreeu het. Dis darem te erg.”
“Wil jy sê dat ek jou nie gehoor skreeu het dat ek in die kraal was nie?” brom Jakkals.
“En wil jy sê dat ek jou nie gehoor skreeu het dat ek in die kraal was nie?” brom ou Wolf.
Ou Jakkals maak skielik asof hy skoon dronk-geslaan is. “Kyk hier, oom Wolf, hierdie ding lyk baie snaaks. Iemand moes geskree het dat ons in die skaapkraal is, of hoe het die boer daar gekom? Wie kon dit wees as dit nie jy was nie? Of anders … so by my siel, dit was seker daardie ou bobbejaan. Ek het hom daar by die huis aan ‘n ketting gesien en hy het my suur aangekyk omdat ek vry is en hy nie. Maar ek kan dit nie glo nie. Kan jy?”
Ou Wolf dink aan al die kattekwaad wat ou Bobbejaan al aangevang het. Naderhand is hy seker dat ou Bôgom die skuldige is en hy wil die ou sommer daar en dan gaan bykom.
Ou Jakkals keer. “Ja, maar ons moet eers huis toe gaan. Jy kan nog loop, maar ék, ek weet nie wat om te doen nie. Ek voel so naar.”
Ou Wolf dink diep. Hy voel ook vreeslik naar, maar ou Jakkals het tog die lekker skaapvleis met hom gedeel en hy het hom vol geëet. Hy gaan nie so ‘n ou maat in die steek laat nie. “Wel,” sê hy, “ek voel ook baie naar, maar as jy op my rug kan klim, sal ek probeer om jou huis toe te dra.”
“Ag nee, jy lyk so naar! Sal jy dit kan doen?” Ou Jakkals frons asof hy wil steun, maar dit is net om ‘n lag te onderdruk. “Ag dankie tog, jy sal my maar moet dra. Ek kan nie loop nie.”
“Klim op man en hou op met praat.” Hulle spartel en kreun en steun en uiteindelik sit Jakkals hoog en droog op Wolf se rug. Die ruiter en sy perd sukkel moeisaam aan huis toe. Die onnutsige Jakkals voel baie plesierig en begin saggies te sing: “Die sieke dra die gesonde! Ag hoe lekker tog! Die sieke dra die gesonde!”
“Wat sê jy?” Ou Wolf gaan staan en maak gereed om ou Jakkals van sy rug af te smyt.
“O,” sê ou Jakkals, “ek sing maar net, ‘die gesonde dra die sieke’.”
“O, dit het vir my gegaan of dit net andersom was.” Hy loop weer aan.
Toe hulle naby Jakkals se huis kom, kon die ou Vos hom nie meer inhou nie. Hy gee ‘n skop en spring oor ou Wolf se kop en begin rondom hom dans en sing weer, “die sieke dra die gesonde.”
Ou Wolf lê magteloos op die grond, té gedaan om Jakkals by te kom. “Wag maar tot ek jou weer in die hande kry,” kreun hy.
“Ja, wag maar,” juig Jakkals en hy skater dit uit van die lag.
Ou Wolf wag van daardie dag af glo nog al die tyd dat daar ‘n geleentheid moet kom om ou Jakkals te straf, maar dit het nog nie gebeur nie.
Ou jakkals en die luiperd
Nadat Jakkals vir ou Wolf met die biltong en by sy pratende huis weer so uitoorlê het, het ou Wolf amper geen rus of duurte gehad nie. Hy droom snags hoe hy nog vir Jakkals gaan terugbetaal vir al die kere wat hy al onder hom deurgeloop het, maar hy kan nie ‘n plan uitdink hoe om dit te doen nie. Toe val dit hom by dat baie diere altyd vir Wituil gaan raad vra, as hulle nie weet wat om te doen nie, want Wituil is baie slim.
Toe ou Wolf klaar sy storie vertel het, sê ou Uil: “Wel, ou Jakkals is baie slim, maar onthou jy dat toe die diere ‘n koning gekies het, was Tinktinkie slimmer as hy.
Ek is bietjie groter as Tinktinkie en ek dink ek kan ou Jakkals beter uitoorlê as wat hy met jou gedoen het. Jy weet waar ou Luiperd in die kloof woon, anderkant daardie berg. Sy het vier kleintjies en sy kry swaar om hulle met kosgee voor te bly. Môre-oggend stap jy by ou Jakkals se huis verby, asof jy van die kloof af kom. Jy neem ‘n stuk heuning saam met jou en as jy by sy huis verbykom, laat jy die heuning van jou kakebene afdrup. As hy buite in die son sit, moet jy maak of jy hom nie sien nie en verbystap. Die volgende môre maak jy weer so. Hy sal jou dan seker môresê, maar jy maak of jy hom nie hoor nie en loop maar net aan na jou huis. Die dag daarna kom jy weer daar verby en dan sê jy, ‘Goeie môre’, as hy môresê. Dan sal hy jou begin vlei om uit te vind waar jy die heuning kry. Moenie hom sommer vertel nie. Gee hom eers ‘n stukkie heuning wat jy in ‘n blaartjie toegevou het. Dit sal hom mal maak om meer te kry. Sê jy sal hom na die heuning neem as hy beloof om dit geheim te hou.
“Dan neem jy hom na die kloof en onder by die luiperd se nes en sê vir hom die heuning is daarbinne. Hy sal inspring en dan rol jy gou ‘n groot klip voor die gat en laat hom daar staan. Die luiperd sal doen wat nodig is wanneer sy huis toe kom.”
Ou Wolf voel baie in sy skik met hierdie plan en voer dit toe ook sommer die volgende oggend uit. Jakkals sit onder die vyeboom by sy huis en sê niks. Hy kyk net oor sy skouer of die deur oop is, sodat hy in die huis kan vlug as ou Wolf hom wil beetkry. Hy sien hoe daar heuning langs ou Wolf se bek afloop en hy begin planne maak.
Die volgende dag, toe ou Wolf weer verbykom, kry Jakkals se nuuskierigheid die oorhand en hy sê: “Môre oom Wolf,” maar ou Wolf loop verby. Die derde dag keer Jakkals hom voor. “Môre oom Wolf. Ons het goeie reën gekry. Daar is ‘n koedoe met haar kalf aan die oorkant van die spruit. Dink jy nie ons twee kan daardie kalf gaan vang nie?”
Ou Wolf gaan staan toe stil, asof hy baie ernstig aan iets dink. “Nee,” sê hy, “ek hou nie meer van koedoevleis nie. Ek het my só versadig geëet aan die heuning dat ek glad nie lus het vir vleis nie.”
“Dink jy nie daardie heuning kan miskien sleg wees vir jou nie? Dit lyk vir my so donker van kleur.”
“O, dis die donker soort.” Ou Wolf smak met sy lippe en ou Jakkals se mond begin water.
“Oom Wolf, gaan jy my dan nie ‘n stukkie van daardie heuning gee nie? Jy weet tog watter groot maats ek en jy is.”
Ou Wolf dink eers ‘n rukkie. Naderhand sê hy: “Ja ek gee nie om om vir jou daarvan te gee nie, maar ek het nog net een stuk oor en ek wil dit huis toe neem vir my vrou.”
“Jou vrou?” Jakkals trek ‘n suur gesig. “Wil jy regtig só verspot wees?” Hy skud sy kop asof hy verstom is om ‘n man te sien wat so laag gedaal het. “Jou vrou weet nie dat jy daardie heuning huis toe neem nie. Daarom kan jy dit maar vir my gee. Wat die oog nie sien nie, kan die hart nie na verlang nie. Jy kan dit vir my gee en sy sal dit nooit mis nie.”
“Ja, maar sy weet dat ek gaan heuning haal het.”
“Jy kan sê dat iemand jou voorgespring het en al die heuning uitgehaal het.”
“Wel,” sê ou Wolf, “ek kan dit doen, maar ek dink ek sal spyt kry. Hier is dit.” Hy gee vir Jakkals die stuk heuning wat hy in ‘n blaar toegevou het.
Ou Jakkals het dit feitlik net met één hap verorber en toe was hy sommer baie lus vir nog veel meer. “Ai, dis baie lekker, man! Waar het jy dit gekry?”
“O, dis ‘n hele endjie hiervandaan. Dis te ver om dit alles meteens huis toe te bring. Ek gaan elke dag soontoe en eet my vol en bring vir my vrou ‘n stuk saam. Daar is baie.”
“O, daar’s baie? Kan ons nie nou teruggaan en vir jou vrou ‘n kalbasvol gaan haal nie? Ek hét ‘n kalbas en dit sal ook niks meer as reg teenoor haar wees nie.”
Ou Wolf skud sy kop en maak of hy nie lus het om dit te doen nie.
“Wel,” sê ou Jakkals, “ek raai jou aan om dit te doen. Sy sal die druppels aan jou ruik en dit sien en jou nooit glo nie. Jy weet dit. Kom ons gaan haal nou vir haar ‘n kalbasvol daarvan.”
Ou Wolf maak of Jakkals hom omgehaal het. “Goed, ons kan gaan, maar pasop as jy weer met jou streke begin! Gaan haal twee kalbassies.”
“Is daar dan soveel heuning?” Hy spring in die huis in en kom met twee nuwe kalbassies uit. Hy knik so onderlangs vir homself en dink: “As ék daardie heuning moet dra, dan weet ek ook wie dit gaan eet.”
Op pad na die kloof loop ou Jakkals aanmekaar en praat van die koedoe en haar kalf en watter wild hulle volgende week sal kan gaan jag en dat daar binnekort lekker waatlemoene gaan wees.
Uiteindelik kom hulle by die kloof. Ou Wolf neem vir Jakkals na die groot rots waar Luiperd se nes is.
“Daar binne in die groot skeur is die heuning. Die nes is agter in die hoek. Onthou om die twee kalbassies vol te maak vir my vrou.”
Ou Jakkals lag. Ja-nee, die kalbassies sal hy beslis vol maak. Hy spring in die skeur in. Ou Wolf rol dadelik ‘n groot klip voor die opening. “Ja ou Vossie, hierdie keer was jy nie slim genoeg nie. Jy sal netnou weet waar Dawid die wortels gegrawe het wanneer Luiperd huis toe kom en jou by haar kleintjies kry. Verbeel jou net: Jy gaan twee kalbassies vol heuning na my vrou toe dra, net asof ek jou ooit met heuning sal vertrou!”
Ou Jakkals hoor die klip voor die gat rol en hy spring terug om uit te kom, maar hy stamp sy kop so hard dat hy net sterretjies sien. Hy hoor wat ou Wolf sê en trek sy neus op. “Jy het seker gedink, as hier heuning was, sou ek dit vir jou huis toe gedra het!”
“En jy het seker gedink ek sou jou vertrou het as hier regtig heuning was!”
“En jy het gedink ek glo jou storie dat hier heuning is. Maar hier is iets baie beter as heuning. Hier is vier klein luiperdjies om op te eet.”
“Ja, en ‘n lekker stukkie jakkalsvleis vir die luiperd. O tog, hier kom sy; laat ek weg wees!”
Ou Luiperd kom en sy sien die klip en sy krap dit met haar poot en sy brom, “Wat maak dit hier?” en ou Jakkals skrik hom asvaal. Hy moet iets doen en sommer gou ook. Hy sê toe: “Ek het daardie klip daar gesit. Jy moet dit liewer nie wegrol nie. Ek het ou Wolf hier gevang. Hy wou jou kleintjies opeet en ek het toe ingekom en die klip vir veiligheid voor die deur gerol. As jy rondkyk, sal jy sy spoor sien.”
Luiperd snuffel rond en kry ou Wolf se spoor. “O so, né? Dan wou hy my kleintjies opeet?”
“Ja, dit is so,” sê ou Jakkals. “As hy hulle nie vandag kan kry nie, sal hy môre weer probeer. Jy moenie die klip wegrol nie. Ek sal jou kleintjies een vir een deur die venster vir jou aangee om te drink. Daarna kan jy weer gaan jag en ek sal hier bly en hulle oppas totdat hulle groot genoeg is om saam met jou te gaan”.
“Jy het ‘n goeie plan,” sê Luiperd. “Gee hulle maar aan.”
Toe al vier klaar gedrink het en weer deur die venster terug is, sê sy: “Pas hulle nou goed op.” Sy gaan toe weer jag en ou Jakkals bly met die vier kleintjies in die grot agter. Hy kyk rond en sien dat hier nog nooit heuning was nie. Maar hierdie vet luiperdjies is lekkerder en gesonder as heuning. Ou Luiperd moet hom tog iets betaal as hy haar kleintjies oppas. Dis altyd raadsaam om die betaling eers te kry en dan nie die werk te doen nie. Toe eet hy een van die kleintjies op en dit smaak vir hom só lekker dat hy besluit om daar te bly totdat hy almal opgeëet het. Hy begin toe ‘n liedjie sing oor heuning waarop hare groei.
‘n Ruk daarna kom ou Luiperd terug. “Hoe gaan dit nou met my kleintjies?” vra sy.
“Lekker!” sê Jakkals.
“Wat sê jy?”
“Ek meen, net lekker honger. Hier is die eerste een.” Hy gee ‘n kleintjie aan en toe dié klaar gedrink het, gee hy die tweede aan en toe die derde. Toe gee hy haar die eerste een weer aan. Hy sê vir hierdie kleintjie: “Jy kry ekstra vandag en ek gaan ook ekstra kry.” Toe ou Luiperd weer weg is, eet hy hierdie kleintjie op.
Na ‘n uur of wat kom Luiperd weer terug om haar kinders te voed. Jakkals gee toe die twee wat oor is elkeen tweemaal aan om te drink. Hy voel so in sy skik met homself dat hy van pure pret daarbinne bolmakiesie slaan.
Luiperd gaan weer op jag en Jakkals eet nog ‘n kleintjie. Toe was daar net een oor. “Ai, dit smaak lekker! Maar hierdie ou kleintjie lyk nie gesond nie. Miskien sal hy beter voel as hy weer gedrink het.”
Met Luiperd se terugkoms gee Jakkals die oudjie viermaal uit, maar toe was hy so vol dat hy nie meer kon drink nie.
“Hy lyk vir my maar siek vandag,” sê Jakkals.
“Ja, hy lyk treurig. Ek wonder wat hom makeer?”
“Ek dink hierdie klip hou die vars lug uit. Jy kan dit gerus ‘n bietjie oopskuif, maar nie te wyd nie, anders probeer ou Wolf om in te kom.”
Luiperd skuif die klip ‘n bietjie weg en die opening word net groot genoeg vir Jakkals om daar deur te kom.
“Pas daardie kleintjie goed op,” sê Luiperd en sy gaan weer op jag.
Die sak biltong en die pratende huis
Van daardie dag af toe Jakkals ou Wolf se stert so vasgevleg het in die grasdak van sy huis, het Wolf elke dag geloop en dink hoe hy vir Jakkals kon terugbetaal. Hy het gewens hy loop hom weer raak, maar Jakkals het sy lyf skaars gehou, want hy het geweet ou Wolf soek na hom.
Op ‘n goeie dag sien Wolf vir Jakkals ‘n ent van hom af teen ‘n klip sit en lekker kou aan ‘n stuk wildsbiltong. “Nou het ek hom,” sê Wolf en hy probeer dink wat hy moet doen. Maar ou Jakkals het hom lankal gewaar en hy weet baie goed wat hy gaan doen. Hy spring op en draf vinnig nader. Hy is tog te bly om sy goeie ou vriend wat so lank weg was, weer te sien.
“Ag, jy’s net die regte man op die regte tyd. Proe net hier!” Hy gee hom die stukkie biltong wat nog oor was. “Ek skuld jou ‘n goeie brekvis en nou gaan ek jou sommer ‘n halfdosyn daarvan betaal.”
Ou Wolf weet nie wat om te doen nie. Hy vertrou ou Jakkals nie, veral nie wanneer hy so vriendelik is nie. Maar die biltong lyk tog te lekker en ou Jakkals smak só met sy lippe dat ou Wolf sommer die stuk biltong gryp en dit heel insluk. Dit was só lekker dat hy meer wil hê.
“Waar kan ek nog daarvan kry? Toe, sê gou!”
Ou Jakkals lag en sê: “Ag, ek het nou so baie daarvan geëet dat ek nie kan hardloop nie, anders sou ek vir jou gaan wys het. Maar dit is so maklik om daar te kom, dat ek nie hoef saam te gaan nie.”
“Sê maar net waar die plek is waar jy dit gekry het,” sê ou Wolf.
“Sien jy daardie pad? Nou ja, daar sien jy die spoor van ‘n wa wat netnou daar verby is. Al wat jy moet doen, is om hier in die veld langs deur die hoë gras te hardloop tot jy ‘n hele endjie voor die wa is en dan gaan lê jy in die pad en maak asof jy morsdood is. As die boer met sy wa op jou afkom, sal hy sê: ‘Ag kyk, hier lê ‘n dooie wolf. Ek sal hom huis toe neem en afslag. Sy vel sal ‘n mooi matjie voor my vrou se bed maak.’ Dan tel hy jou op en gooi jou agter op die wa en dis daar waar al die biltong is. Man, daar is sakkevol! En dan lê jy ‘n rukkie stil en wanneer die man besig is om die osse te dryf, gooi jy ‘n sak biltong af en gly jy stilletjies langs die briek af. En wat wil jy meer hê? Man, ek wens ek kan saam met jou gaan!”
Jakkals vryf ewe droewig oor sy maag en ou Wolf wonder wat voer hy nou al weer in die mou, maar die smaak van daaardie stukkie biltong laat sy mond water.
“Het jy jou biltong ook so gekry?” vra hy.
“Dis al wat ek gedoen het. Ek kan nou nog nie ophou lag as ek dink hoe ek daardie kêrel gefop het nie”.
Ou Wolf twyfel nog, maar die biltong is te lekker om die kans om nog meer daarvan te kry, te laat verbygaan.
“Ek sal daaroor dink,” sê hy. Hy spring weg en kom ‘n goeie half kilometer voor die wa in die pad. Hy gaan lê en maak of hy dood is. Die wa kom aan en die boer sien die dooie wolf in die pad lê.
“Ag, toe nou! Hier lê al weer een van hulle, né? Hierdie een is nie weer ‘n jakkals nie; dis ‘n wolf. Hy dink ek gaan hom ook op die wa gooi, sodat hy met ‘n sak biltong kan wegloop. Maar ek sal vir Oom Kool ‘n lessie leer.” Sy sweepslag tref ou Wolf met ‘n knal teen sy ribbes en toe oor sy kop en voordat hy hom kon opraap, dreun die houe oor sy rug. Ou Wolf gee net een skreeu en storm die veld in. Die boer kom agterna en jaag hom ‘n entjie voordat hy na die wa teruggaan en sê: “Ek is seker jy sal hierdie speletjie nie weer probeer nie.”
Ou Wolf hardloop volstoom totdat hy ‘n rantjie bereik. Hy gaan lê agter ‘n klip en hyg en begin om die seer plekke aan sy lyf te vryf. Hy kyk op en sien hoe woes die boer die osse dryf en die heerlike sakke biltong verdwyn uit die gesig, maar toe sien hy langs die rantjie vir ou Jakkals wat daar lê en rondrol soos hy lag.
Arme ou Wolf. Wat kon hy sê? Sy lyf is so seer dat hy ‘n tyd lank op sy pens moet lê. Hy probeer om te dink, maar toe skud hy maar net sy kop, omdat Jakkals hom al weer so ‘n poets gebak het. Toe begin hy maar na sy huis toe aansukkel.
Dis nie vir ou Wolf meer lekker om tuis te wees nie. Nadat hy die huis klaar gebou het, is hy toe met Wolfina getroud, maar sy het hom sommer uit die staanspoor uit ‘n hond se lewe laat lei. Sy verwyt hom gedurig dat Jakkals sy stert vasgedek het en toe met die bene gegooi het en nou weer met die biltong gekul het. Ou Wolf voel dankbaar dat hy niks van al die ander kere vertel het nie, maar die bietjie wat sy geweet het, was meer as genoeg om haar tong dag in en dag uit besig te hou en dubbel soveel op Sondae. As sy van al die ander kere geweet het, sou sy nie nog meer kon gepraat het nie, want daar is maar sewe dae in die week. Ou Wolf voel al of hy gaan gek word as hy haar nie stilgemaak kry nie.
Hy besef dat hy ou Jakkals op een of ander manier goed moet straf, of anders sal hy verplig wees om van sy vrou af weg te loop. Dis nou net een van twee. Maar hoe hy ou Jakkals gaan straf vir alles wat hy hom al aangedoen het, weet hy nog nie. Hy loop so diep-ernstig en dink dat hy nie oplet waarheen hy op pad is nie en toe hy hom kom kry, staan hy voor ou Jakkals se huis. Hy spring vinnig agter ‘n bos in en loer of hy nie vir ou Jakkals gewaar nie.
Dit lyk of Jakkals nie tuis is nie, want daar trek geen rook nie en die deur en die venster is dig toe. “Nou is dit my kans,” sê ou Wolf. “Vandag gaan ek daardie Jakkals ‘n goeie les leer. Ek gaan nou in die huis in en kruip agter die deur weg en wag tot hy kom, en dan sal ek vir hom die wêreld warm maak. Ai, sal ek hom tog nie kasty nie! En as ek met hom klaar is, sal daar net ‘n vetkol op die vloer wees. Dit sal al wees wat van hom oorbly.”
Ou Wolf gaan kruip toe agter die deur weg en was skaars vyf minute lank daar of hier kom ou Jakkals. Maar hy is nie ‘n swaap nie. In plaas van om sommer binne te gaan, loop hy eers al om die huis en kyk of alles nog veilig is en nog net so is as wat hy dit laat staan het. Hy kry toe ou Wolf se spoor en vermoed toe dat ou Wolf miskien binne in die huis kan wees. Hy dink ‘n bietjie en sê toe vir homself: “Ek sal my ou huis vra of daar iemand in is.” Toe roep hy tog te stroperig: “My ou huis, my ou huis!” Hy wag, maar daar kom geen antwoord nie. Hy roep weer: “My ou huis, my ou huis!” Maar die ou huis bly stom.
Toe sê hy hardop: “Dis snaaks, daar is iets verkeerd met my ou huis. Hy antwoord my altyd, maar vandag roep en roep ek en kry geen antwoord nie.”
Ou Wolf hoor elke woord agter die deur en hy dink: “As ek antwoord, sal hy dink dis sy ou huis wat met hom praat en dan sal hy inkom. Ou Jakkals is nie hierdie keer so slim soos altyd nie, anders sou hy my nie laat hoor het dat sy huis moet antwoord nie.” Ou Wolf dink hy weet nou wat hy moet doen.
Jakkals begin skelmpies te lag en hy roep weer: “My ou huis! My ou huis!” en ou Wolf antwoord stadig en saggies: “Kom binne.”
Ou Jakkals skater dit toe uit van die lag en begin om klippe na die deur te gooi. “Kom uit, jou ou skelm! Dink jy ek ken nie jou stem nie? En daar steek jou stert nog boonop onder die deur uit.”
Ou Wolf voel so kwaad soos ‘n meerkat. Hier het ou Jakkals al weer ‘n groot gek van hom gemaak. Hy swaai die deur oop en storm op Jakkals af. Maar die ou vos het betyds die loop geneem. Wolf kan hom nie inhaal nie en Jakkals bokspring van pure pret, wat ou Wolf nog woedender maak. Hy moes toe maar die wedloop staak en moedeloos terugkeer na sy huis en die pratende Wolfina. Hy het gevoel hy moet nou iets doen, of hy gaan wolwegif eet.
Ou wolf bou ‘n huis
Ou Jakkals se streke het veroorsaak dat hy en ou Wolf nooit opregte vriende kon word nie. Ou Wolf was tog só bedaard en was altyd besig om iets nuttigs te doen. Maar ou Jakkals was altyd tog so slim. Hy was gedurig sonder werk en het hom nooit daaroor bekommer nie. Die enigste tyd wanneer hy iets gedoen het, is wanneer hy kliphard besig was om werk wat hy moes doen, te ontduik. Ou Wolf het gereeld gaan jag om kos in die hande te kry, terwyl ou Jakkals luilekker in die sonnetjie gesit en bak het en skelmpies planne beraam het hoe om gratis etes te bekom. Dit het altyd botsings tussen die twee veroorsaak, soos daardie keer toe ou Wolf ‘n huis gebou het.
Hy was daadie tyd so vurig soos gemmer om met mejuffrou Wolfina te trou. Maar hy kon nie met haar in die huwelik tree voordat hy nie vir haar ‘n huis gebou het waarheen hy haar kon bring nie. Daarom werk hy toe aan daardie huis amper dag en nag en gun homself geen tyd om iets vir die pot te gaan vang nie. Hy eet skaars iets vir brekvis – hy het niks van ontbyt geweet nie – en gooi die bene en vleis wat oor is in die pot en laat dit stadig kook sodat hy dit twaalfuur kan eet. Intussen werk hy soos vuur wat in droë gras brand.
Toe hy besig is om die dak te dek, kom ou Jakkals ewe ongeërg daar aangestap en ruik die vleis wat so geurig in die pot prut. Voor jy kon sê knipmes, het hy die deksel af en loer in die pot.
“Allawêreld, maar dit ruik lekker,” sê hy.
Ou Wolf het die deksel gehoor klink en hy kyk net betyds om. Hy skreeu: “Hier jy, vir wat kyk jy in my pot, hê?”
Hy kry die balk met sy hande beet en trap met een voet op die muur, asof hy met één sprong op ou Jakkals se nek gaan land.
“Goeie môre, oom Wolf,” sê ou Jakkals so vrolik asof die son besig is om op te kom. “Ek is so bly om jou te sien. Ek het só lank vanmôre vir ‘n brekvis gewag dat my maag al dink my keel is afgesny.”
“O jy is agter ‘n brekvis aan, né? Daar is nie ‘n brekvis hier nie. Daar is net ‘n dinner en dit is myne.” Ou Wolf het nie die woord “middagete” geken nie. “Die vleis in daardie pot is die dinner. Ek het nie tyd om vir ander mense te gaan jag nie. Ek het beter dinge om te doen.”
Ou Jakkals sit die deksel weer op die pot. Hy trek ‘n suur gesig en loer so onderlangs na ou Wolf om te sien of hy regtig vir hom die hoenders in is. Hy sal sy kaarte mooi moet speel, of hy kry nie vandag daardie brekvis nie. Toe daar weer so ’n lekker vleis-walmpie onder die pot se deksel uitslaan, was die koeël deur die kerk. Niks, nie eers vier mans en ‘n hond sal hom vandag van daardie brekvis af wegdryf nie.
“O, jy het iets beters te doen, né?” sê hy met ‘n treurige uitdrukking op sy bakkies. “Jy is seker met ‘n verskriklike ding besig wat jou so knorrig maak dat jy nie eers bly is wanneer ‘n ou vriend jou kom besoek en jy die voorreg het om vir hom ‘n brekvis te gee nie.”
Ou Wolf begin sommer sleg voel, maar hy dink aan Wolfina en dat hy hierdie huis moet klaarkry.
“Ek gee nie om nie,” sê hy nors. “Die huis moet klaar en ek het nie tyd om vir ander te gaan jag nie. Ek is te besig en ek is ook honger.”
“Wel, wel,” sê ou Jakkals en hy skud sy kop asof hy skoon verbaas is. “Dit moet darem ‘n gewigtige ding wees wat jou so hard laat werk. Waarom is jy so haastig om die huis klaar te kry?”
Ou Wolf wou dit nie vertel nie, maar toe kon hy nie anders nie en hy sê: “Ek gaan trou; dis die rede.”
“Ag so?” sê ou Jakkals en hy lag. “Is dit nou iets om oor nors te wees! Nou sê ek geen woord meer nie. Ek kom jou help. As jy moet trou, moet ons hierdie huis klaarkry.” Hy trek ‘n gesig asof hy ‘n slim toespraak gemaak het.
Maar ou Wolf glo nie ‘n woord wat ou Jakkals sê nie. Hy ken hom te goed. “Kyk hier, daardie vleis is my dinner. Dis nie jou brekvis nie.”
Maar ou Jakkals se vel is so dik soos ‘n renoster s’n. Ou Wolf kan maar raas, net so lank as wat hy tog maar net ‘n reukie kan kry van wat in daardie pot aangaan. “Kyk ou kêrel, jy hoef nie bang te wees nie. Ek wil nie jou vleis hê nie, al wil jy dit vir my gee. Ek is nie so gulsig nie. Jy het dit nodiger as ek. Jy werk hard en jy sal netnou baie honger wees.”
Die ou skelm loer na sy eie stert en knik met sy linkeroog. Hy trek sy baadjie uit en gooi dit op die grond neer. “Ek kom jou met die dak help, dat die huis kan klaarkom.”
Ou Wolf weet toe nie wat hy moet doen nie. Hy wens ou Jakkals wil val en sy nek breek, maar hy klim so flink met die steier op soos ‘n vink in ‘n perskeboom.
“Kyk man, ons sal hierdie ou stukkie werk klaarhê voor jy kan sê knipmes.” Hy gee ou Wolf so ’n hartlike klop op die skouer dat dit die frons op sy gesig skoon afskud. “Jy is te stadig om jou eie skaduwee te roer. Kyk, ek gaan hier van onder af begin dek en jy van bo af.”
Hy gooi ‘n bondel dekgras na ou Wolf toe en knyp een onder sy been vas. “Jy is net soos ou miesies Korhaan met haar gepraat, praat, praat.”
Ou Wolf was glad nie tevrede met hierdie affêre nie, maar hy het nie geweet hoe hy van ou Jakkals onslae kan raak nie. Hoe harder hy werk, hoe harder dink en wonder hy wat se kattekwaad ou Jakkals al weer in die mou voer en hy dink só hard dat hy skoon vergeet om te loer wat die ou skelm besig was om aan te vang.
Ou Jakkals dek een laag gras en voel baie in sy skik daarmee. Toe hy die tweede laag begin, verskyn daar ‘n skelm glimlaggie op sy bakkies. Toe hy die derde laag dek, kan hy hom skaars inhou. Sy oë blink en hy swaai sy stert heen en weer om te keer dat hy nie uitbars van die lag nie.
Ou Wolf sit al die tyd nog met sy rug na ou Jakkals toe en wonder watter streke die ou skelm nou weer aanvang, maar hy kom nie so ver om te kyk nie.
Met die vierde deklaag begin ou Jakkals baie bedaard te werk, maar hy lyk so skelm asof hy iets gesteel het, onderwyl hy met sy jakkalsstreke besig is. Ou Wolf hou maar aan om te werk en te dink, maar skielik hoor hy hoe die potdeksel opgelig word en ruik die heerlike geur van die vleis wat die wind boontoe waai. Hy draai sy kop en sien ou Jakkals met die deksel in die hand en sy neus in die lekker vleisgeur wat uit die pot wasem. Ou Wolf gee net ‘n halwe skreeu: “Hier jy, wat maak jy al weer by daardie pot?”
Ou Jakkals steek een oor op om te hoor en loer met een oog op om te sien en sê: “Hierdie pot is nie daardie pot nie en hierdie kos in nie ‘n dinner nie; dis maar net ‘n brekvis. Jy het niks hieroor te sê nie.”
Ou Wolf duik sommer van bo af grond toe om ou Jakkals beet te kry, maar hy kom nêrens te lande nie. Dit voel of hy dwarsdeur sy vel gespring het. Toe kom hy agter dat hy in die lug hang. Hy begin te skop en te spartel vir ‘n vale. Iets hou hom vas en hy kan nie sien wat dit is nie, want sy kop hang na onder, omtrent twee meter van die grond af en hier sit ou Jakkals reg onder hom by die pot en smul heerlik aan ‘n stuk vleis!” Toe ou Jakkals daardie vierde laag gedek het, het hy ou Wolf se stert deeglik vasgedek. Hoe hy ook al skop en spartel, loskom is min. Jy moes gehoor het hoe hy skree en vloek. “Maak my los, of ek sal so en so met jou maak!”
Ou Jakkals kyk hom verbaas aan en sê: “Hoekom wil jy loskom?” Hy steek ‘n stuk vleis uit die pot met die vurk en lek sy lippe af. “Dit het niks met jou te doen nie. Jy wil ‘n dinner hê en hierdie is net ‘n brekvis. Kyk self.”
Hy smul tog te lekker aan die vleis en ou Wolf kry byna die stuipe. Hy word sommer so swart in sy gesig en skree: “Maak my los! Ek sal jou wys of dit ‘n dinner of ‘n brekvis is! Dis my vleis wat jy hier sit en opvreet!”
Ou Jakkals se oë glinster. “Ja oom Wolf, miskien is dit waar. Ons kan maar gerus saameet. Hier is joune.” Hy eet die vleis van ‘n kortrib af en gooi ou Wolf met die been. Dit tref die arme ou teen die kakebeen.
Toe is ou Wolf se tong behoorlik los. Jou hare sou gerys het as jy kon hoor wat hy alles kwytraak. Maar ou Jakkals steur hom nie daaraan nie. Hy vertel vir ou Wolf hoe lekker hierdie brekvis vir hom is. Hy wens ou Wolf sal om twaalfuur net so ’n lekker dinner geniet, “want jy het netnou gesê jou pot staan ook hier êrens met jou dinner vir jou en wag,” en hy gooi ou Wolf weer met ‘n been. Toe die pot leeg is, vat hy ‘n riet en begin om ou Wolf daarmee op die neus te tik.
Ou Wolf is rasend en hy spartel so geweldig dat die balke begin skud. Ou Jakkals besluit toe dat dit tyd is om te laat spaander voor ou Wolf hom dalk losruk en toe slaan hy maar ysterklou in die grond.
En daar hang ou Wolf. Sal hy ooit bly lewe om die huis klaar te bou sodat hy en juffrou Wolfina kan trou? As iemand hom nie red nie, gaan hy van honger sterf en uitdroog, sodat ou Jakkals hom vir biltong kan kom opvreet.
Toe kom Wolfina daar aangestap om te kom kyk hoe ver die huisbouery al gevorder het en daar sien sy ou Wolf met die kop na onder hang en sy gesig lyk al pikswart. Sy skrik haar boeglam en gee net een skree en storm die huis in om hom te help. Sy kon hom nie bykom nie, maar sy spring en kry sy ore beet. Daar hang sy toe aan hom en sy dink dat sy hom op hierdie manier help.
Arme ou Wolf! Hy is so verlief op haar dat hy nie eintlik iets wil sê nie, maar hy voel of sy stert uit sy lyf geruk word en sy ore wil afskeur. Naderhand kry hy dit reg om ‘n paar geluide te maak: “Klim … asseblief … tog … op die dak … en maak my stert los,” gorrel hy dit saggies uit.
Toe Wolfina hom hoor praat, gil sy: “O, hy is nie dood nie, hy lewe nog!” Sy is so bly dat sy hom vaster gryp en met hom heen en weer begin skoppelmaai. Arme ou Wolf voel hoe sy stert begin kraak. Hy voel hy gaan flou word, maar toe brul hy dit uit: “Los my, los my! Klim op die dak en maak my stert los!”
Uiteindelik begryp Wolfina wat aangaan. “O, is dít wat jou makeer?” Sy klim op die dak, maar toe sy sien hoe stewig sy stert saam met die gras vasgedek is, wonder sy hoe dit kon gebeur. Onderwyl sy besig is om dit los te vleg, vra sy vir ou Wolf hoe op dees aarde dit kon plaasvind. Hy was dom genoeg om vir haar die waarheid te vertel.
Miskien het Wolfina hom baie lief gehad, of dalk wou sy maar net graag ‘n eie huis hê. Maar sy het baie van haarself gedink en toe word sy vreeslik kwaad toe sy ontdek hoe ‘n onnosele ou stommerik ou Wolf is. Sy los alles net so en vlieg van die dak af. Sy gee ou Wolf ‘n vuishou teen sy ribbekas. “Jou swaap!” skree sy en klap hom teen die kop. “Jou stomkop!”
Ou Wolf skree eina en spartel so woes dat sy stert loskom. Hy val kaplaks op sy kop. Toe Wolfina hom sien afkom, probeer sy hom regop hou om hom beter met haar vuiste by te kom. Maar sy verloor haar balans en slaan neer met haar kop op sy maag. Ou Wolf was skoon wind uit en hy dink hy is dood, maar hy kom weer reg toe Wolfina se vuishoue op hom begin reën. Toe weet hy hy lewe nog en gee net één skreeu en maak dat hy uit die halfklaar huis wegkom. Hy nael vir al wat hy werd is, met sy seer stert al wapperende in die wind totdat hy die veiligheid van die wag-’n-bietjie-bosse bereik.
Daar sit hy toe sy wonde en lek. Hy probeer om te dink, maar sy kop is te seer daarvoor. ‘n Ruk daarna voel hy darem beter en onderwyl hy wegstap, brom hy: “Ja, wag maar ou Jakkals, jou ou skelm. Ek sal jou nog kry. En as ek jou nie goed laat les opsê nie, is my naam hond se kind.”
Jakkals en klein Bogom
Van daardie dag af toe Jakkals vir ou Bôgom, die bobbejaan, so die skrik op die lyf gejaag het met sy byl, was hy bang dat ou Bôgom sou wraak neem. Daarom het hy ‘n paar dae later maar baie versigtig teen ‘n rantjie uitgedraf om te sien of hy nie ‘n vleiskossie kon vang vir hom en sy vrou en vir Antjie nie.
Toe hy niks kry nie, gaan lê hy onder ‘n groot moepelboom om ‘n bietjie te rus. Meteens tref ‘n klip hom bo uit die boom teen sy ribbes en toe hy verskrik opspring om weg te hardloop, kry hy nog een skrams teen sy kop. Hy laat nael ‘n entjie weg van die boom af, maar toe word hy baie nuuskierig om te weet hoe daar klippe uit ‘n moepelboom kan uitval. Hy draai toe om en sien hoog in die takke tussen die blare, die kop en skouers van klein Bôgom uitsteek. Hy was ou Bôgom se jongste seuntjie.
“Ja, jy dink mos jy’s vreeslik slim om met bobbejane die gek te wil skeer, né? Maar ek sal jou ‘n les leer!”
Hy gooi weer ‘n klip na Jakkals, maar hierdie een was mis, want ou Jakkals het betyds gekoes. Hy het ook gesien dat Bôgompie nie meer klippe gehad het om te gooi nie.
Jakkals was nou so kwaad dat hy klippe kon stukkend byt, maar hy besef dat as hy vir Bôgompie wil bykom, moet hy taktiek gebruik. Hy vryf sy ribbes en kreun asof dit vreeslik seer is en vra: “Ag, wanneer het ek met jou die gek geskeer?”
“Dit was nie met my nie. As jy dit ooit met my probeer, sal jy uitvind dat ek vir jou te slim is. Maar jy het ‘n gek van my ou pa gemaak en daardeur het ek in die moeilikheid gekom.”
“Hoe so, man?” Ou Jakkals vryf weer sy ribbetjie en kreun asof dit verskriklik seer is.
“Kyk, jy terg vir ou Wolf so vreeslik dat hy dit nie meer kon uithou nie. Toe kry hy my pa om hom te help om jou op te dons. Toe my pa terugkom, was sy stert só seer dat hy net die heeldag besig is om hom te dokter en befoeterd te wees. As hy so siek voel, kry hy lus vir gom. Dan stuur hy my en my broer die bome in om gom te soek. Maar as ek net een klein stukkie daarvan eet, dan sambok hy my tot ek skreeu of ek regtig seerkry en amper dood is. Sien jy nou, hé?”
“So, al wat jou pla is dat jy nie van die gom wat jy afpluk, mag eet nie.”
“Ja, en ook omdat ek gesambok word omdat ek al die klein stukkies eet wat ek in my mond steek,” sê klein Bôgom.
Jakkals trek ‘n vies gesig en sê: “As ek jy is, eet ek al die gom wat ek kan kry en soek dan nog ‘n bietjie vir jou pa. Jy dink jy’s slim, maar ek skaam my morsdood as ek nie slimmer as jy kan wees nie.”
Toe word Bôgompie kwaad en sê: “Ag, jy dink jy is so vreeslik slim, maar ek wed jy weet glad nie hoe my probleem opgelos kan word nie.”
“Só goedkoop vang jy my darem nie,” sê Jakkals. “Maar bring vir my môre ‘n stuk gom, goeie, helder gom; dan sal ek jou sê wat jy moet doen om al die gom te kry en jou broer al die sambok.”
Klein Bôgom het hiervan baie gehou. Hy belowe om die volgende dag weer hier met die gom in die boom te wees en Jakkals belowe om nie te vergeet om te kom nie.
Toe ou Jakkals die volgende môre by die moepelboom aankom, sit Bôgompie lankal hoog en droog tussen die takke. Jakkals se mond water toe hy die groot stuk soetdoringgom sien waaraan klein Bôgom kort-kort sit en lek.
“Vertel nou vir my wat jy gister beloof het.”
“Goed, maar gee eers daardie gom hier, sodat ek kan sien of dit goeie gom is.”
“Ja goed, ek sal jou gou wys hoe goed die gom is.” Klein Bôgom byt ‘n groot stuk af en begin dit só luidrugtig te kou met ‘n gesmak van sy lippe, dat dit klink soos ‘n span osse wat in diep modder trap.
Toe ontplof ou Jakkals: “Hier jy, waaroor eet jy my gom?”
“Omdat jy sê dat dit nie goeie gom is nie. Ek wys net vir jou hoe goed dit is. Dis ook nie jou gom nie. Jy kry dit nie voor jy my nie daardie plan vertel het waarvan jy gepraat het nie.”
“Ag, dink jy dan dat ek jou sal kul?”
“Ja, jy kry nie die gom voor jy my die plan vertel het nie.”
“Is dít hoe die wind waai? Dan sal ek maar jou broertjie gaan probeer. Hy sal my nie verneuk nie.”
“Dis goed. Loop soek hom. Ek gee hom net ‘n lekker pak slae, dan vertel hy my alles. En nou gaan ek maar hierdie gom sit en eet.”
Jakkals se mond water so dat hy skaars kan praat. “O, jy vertrou my nie, né?”
“Kyk hier, oom Jakkals, ek weet nie of jou plan ooit goed sal wees nie, maar ek weet hierdie gom is goed en daarom gaan ek dit geniet. “ Hy rek sy mond wyd oop om te hap en vryf met sy hand oor sy maag en smak met sy lippe: “Njam, njam, njam!”
Ou Jakkals voel of hy wil flou word, maar hy kry dit reg om te kreun: “O, jy is slim, ja jy’s vreeslik slim.”
Klein Bôgom sê: “Allawêreld, my ma sal baie bly wees as sy dit hoor!”
Toe sien Jakkals daar is nie salf aan die ventjie te smeer nie en verander sy taktiek: “Kom ons praat nou besigheid. Gaan sit die gom op daardie klip by die boomstam en dan staan ek hier ver van jou af en vertel vir jou die plan wat ek vir jou gemaak het.”
“Nou praat jy, man!” skree klein Bôgom en gaan sit die gom op die klip neer, maar hy gaan staan langs die klip en sê: “Nouja, hier is jou gom. Praat nou.”
Jakkals gee toe moed op en sê: “Al wat jy moet doen is om al die gom te eet wat jy in die boom kry. Dan moet jy stilletjies jou broer se kalbassie vol gom met jou leë een omruil. Dan kry hy die sambok as julle by die huis kom.”
Jakkals storm nader om die gom te kry, maar klein Bôgom gryp dit en spring weer in die boom in. Jakkals kry byna die stuipe toe hy sien Bôgompie gee ‘n groot hap in die gom, sodat die helder stroop langs sy ken afloop.
“Hier jou skelm, gee nou my gom! Dis nou myne!”
“Nee oom Jakkals, jou raad is baie sleg. My broer is nie dom nie. Sy oë is altyd oop. As ek die kalbassies omruil, sal my hare waai!”
“Jy het dan gesê jy kan jou broer enige dag ‘n pak slae gee.”
“Ja, maar hy was nie hier naby toe ek dit gesê het nie.”
“Goed,” sê ou Jakkals, “maar ek het jou nou. Ek gaan hier sit tot jy moet afklim.”
“Dis goed. Sit maar lekker. As my pa en die ander bobbejane netnou hier verbykom, sal jy jou draaie nie kry nie.”
Ou Jakkals spring op en sien die grys kraag van die ou voorloper oor die bult kom en toe laat spat hy. Hy hardloop koes-koes tot agter die rantjie en gaan sit daar en dink hoe hy vir Bôgompie kan terugbetaal.
Toe die bobbejane oor die bult kom, het klein Bôgom by hulle aangesluit en saam na skerpioene onder die klippe gesoek. Hy kom by ‘n groot soetdoringboom en sien lang stukke gom wat uit stukkende plekke uit sy bas uitdrup. Hy maak vinnig ‘n plan om al hierdie gom vir homself te kry en sê vir sy pa: “Wil Pa graag daardie ou Jakkals beetkry?”
Ou Bôgom grom kwaai toe hy aan die seer kinkel in sy stert vat. “Ja, laat ek hom net in die hande kry!”
“Hier is nou Pa se kans. Ek pluk gou al die gom van hierdie boom af. Dan smeer Pa dit al oor my lyf en ek hou ‘n groot stuk in my hand vas en Pa sit my op daardie klip in die son en dan wei julle net hier oor die rantjie totdat ek roep.”
“Nou wat dink jy sal gebeur?”
“Pa sal sien.”
Ou Bôgom dink toe sy seuntjie is oulik genoeg om ‘n slim plan uit te dink om ou Jakkals te vang en hy maak toe so. Toe hy oor die rantjie wegdraf, sit Bôgompie hoog en droog in die son, onderwyl die taai gom van sy lyf af op die klip drup. Hy voel sommer baie in sy skik. Hy sal sommer gou al die gom opeet en dan maak dat hy in die naaste boom kom, voordat die ander bobbejane opdaag.
Maar Bôgompie het gou ontdek dat hy nie besig was om piekniek te hou nie. Die son maak hom lomerig en brand die taai gom só droog dat hy glad nie kan roer nie. Hy sien ou Jakkals aankom en probeer om van die klip af te spring, maar sy sitvlak sit daaraan vas en hy kan nie ‘n hand of ‘n voet roer nie.
“Ahaa!” skree ou Jakkals. “Nou het ek jou, en sommer al die gom ook. Ek sal jou leer om met my die gek te skeer!”
Bôgompie bars amper uit sy vel, so beur hy om los te kom. Hy probeer om vir sy pa te skreeu, maar hy kry nie ‘n geluid uit nie want sy kakebene sit aan mekaar vas.
Ou Jakkals kom staan voor hom en lag met ‘n wydoop bek. “Kom ek wys jou waar ek jou die eerste byt gaan gee.” Hy vat aan Bôgompie se ribbetjies, maar daar sit sy hand vas.
“Laat los my hand, of ek sal jou sop laat spat!” Hy slaan klein Bôgom met die linkerhand, maar toe dié ook vassit, skrik hy groot en skree: “Los my, los my, of ek sal jou sewe soorte reënboë laat sien!” Hy byt na klein Bôgom en daar sit sy bek ook aan hom vas. Hy sien twee bobbejane vinnig nadergalop en toe beur en ruk hy met alle krag. Dit klink of daar ‘n stuk linne skeur. Dit was die vel van klein Bôgom se sitvlak wat van die klip losgeskeur het. Maar die twee sit nog aanmekaar vas en toe ou Bôgom en sy ander seun naderstorm om vir Jakkals by te kom, hou hy vir Bôgompie al voor hom om te keer.
Daar sit die drie bobbejane en ou Jakkals almal aan mekaar vas! Dit was ‘n konsternasie om te aanskou. Hulle ruk en pluk en brul en skree en skel. Ou Jakkals kom eerste los en laat nael oor die rantjie dat die rooi stoffies agter hom opslaan.
Toe die drie bobbejane hulle uiteindelik van mekaar af losgeskeur het, dink klein Bôgom dat sy voorland ‘n vreeslike pak slae met die sambok gaan wees. Maar ou Bôgom sê: “Geluk my seun! Jy’s baie slim. Ons het ou Jakkals goed opgefoeter!”
Klein Bôgom het geswel van trots. Van toe af wou hy sy blink sitvlak vir geen ander een verruil nie.
Die Kinkel in bobbejaan se stert
Ou Wolf was baie bly dat hy daardie dag by koning Leeu met sy lewe daarvan afgekom het, maar vir Jakkals het hy nie meer ‘n goeie woord gehad nie. Hy het gedurig loop en dink hoe hy ou Jakkals kon terug betaal vir al die moeilikheid waarin die ou skelm hom al laat beland het.
Op ‘n goeie dag hoor hy dat koning Leeu se klou nou weer gesond is en hy dink dat sy eie vel en sy lewe nou weer veilig is en dat hy ou Jakkals nou maar kan gaan soek om hom die les van sy lewe te leer met ‘n pak slae wat hy nooit sal vergeet nie.
Hy loop en dink en kry toe die plan om vir ou Bôgom, die bobbejaan, te gaan besoek en hom te vra om hom te help om ou Jakkals te straf. Hy loop hom in die rantjies raak, waar hy besig was om skerpioene onder die klippe te soek.
“Môre neef,” sê hy.
“Môre oom”, sê Bôgom.
“Onthou jy daardie ou karnallie van ‘n Jakkals wat jou verlede jaar nooit vir daardie skaapvleis betaal het
nie?”vra hy.
“Daardie skelm? Ek onthou hom baie goed,” sê Bôgom.
“Nou kyk neef,” sê Wolf, “ek gaan hom nou straf. Hy het my ook al rot en kaal gesteel. En nou het hy my ook weer nie vir die twee agterkwarte van ‘n vet eland betaal nie. Dis hoog tyd dat ek en jy sy speletjies stopsit. Hoe lyk dit, kan ons twee hom nie goed onder die sambok laat deurloop nie, sodat hy ‘n jaar lank nie van sy huis af sal kan roer nie?”
Ou Bôgom het eers tydsaam ‘n klip omgerol en gekyk of daar nie ‘n skerpioen onder hom is nie. Toe sê hy: “Ja, maar hoe weet ek of jy nie sal maak dat jy wegkom en vlug as Jakkals wil baklei nie?”
“Ek vir daardie bangbroek vlug? Nog nooit nie, neef! Hoe kan jy so dink?” antwoord ou Wolf.
Maar Bôgom lyk nog maar agterdogtig. Naderhand sê hy: “Kyk hier, oom Wolf, as jy my kan verseker jy sal my nie in die steek laat nie, sal ek jou help. Daar is geen bome by ou Jakkals se huis nie en ek kan nie in die lug in opklim as dit gevaarlik word nie.”
Ou Wolf krap sy kop en Bôgom krap sy maag.
Skielik kry Bôgom ‘n blink gedagte. “Oom Wolf,”sê hy, “kom ons maak ons sterte aan mekaar vas, dan weet ek dat jy nie kan weghardloop nie”.
Ou Wolf lag. “Goed neef,”sê hy, “bind maar vas so styf as wat jy kan”.
Intussen was ou Jakkals besig om met sy byl jukskeie te kap in die sonnetjie voor sy huis. Die byl is baie skerp en glinster in die son as hy hom so rondswaai. Hy het die wêreld goed dopgehou want hy was bang dat ou Wolf sal probeer om hom terug te betaal vir al sy skelmstreke.
Toe hy weer opkyk, sien hy ou Wolf en Bôgom daar oor die bult aangestap kom. Hy merk dadelik onraad toe hy sien hoe na aan mekaar hulle loop, want hy weet hoe baie maal hy ook al vir ou Bôgom uitoorlê het. “Wel, dit is omtrent die snaaksste kommando wat ek vir ‘n lang tyd gesien het.” Hy dink vinnig aan ‘n plan om homself te red.
“Ou vrou!” roep hy oor sy skouer.
“Ja Pa,” antwoord tant Jakkals.
“Luister nou mooi en doen presies wat ek jou sê,” beveel ou Jakkals. “Wanneer ek ophou met kap, dan knyp jy vir Antjie. Jy knyp haar hard totdat sy skree. As ek jou vra wat die kind makeer, dan antwoord jy net so hard as wat jy kan: ‘Dis jou eie skuld. Jy maak jou kind aan bobbejaanvleis gewoond en nou is jy te lui om ‘n bobbejaan te gaan vang.’ Het jy goed verstaan?”
“Ja Pa,” sê tant Jakkals.
Toe ou Wolf hulle naderkom, sê Bôgom: “Wat blink daar net soos weerlig in ou Jakkals se hand? Ek hou net niks daarvan nie!” Dadelik begin hy al stadiger loop.
Maar ou Wolf sê: “Dit is maar net ‘n byl waarmee hy jukskeie kap. Jy gaan tog nie nou bang word nie, man!”
“Wie is bang,” sê ou Bôgom. “Maar dit lyk soos ‘n vreeslike skerp byl. Waarom gebruik hy so ’n nuwe byl om jukskeie te kap? Dit is wat ek wil weet. Ek dink dit is nie net ‘n byl nie.” Hy begin nog stadiger loop.
“Jy gaan nie nou terug nie, hoor jy!” roep ou Wolf wat hom begin vererg.
“Daarvoor is my stert te vas gebind,” sê Bôgom, maar hy draai tog in sy spore om en probeer die aftog blaas.
“Kom aan, man!” roep ou Wolf en gee ‘n harde ruk.
“Ek kom mos,” sê Bôgom. Hy gee nog een tree vorentoe, maar toe steek hy viervoet vas.
Jakkals maak of hy niks sien of hoor nie en hy hou maar aan met kap. Skielik hou hy op. Tant Jakkals knyp vir Antjie en sy skree dat jy haar wie weet waar kan hoor.
“Wat makeer die kind dan, Vrou?” roep ou Jakkals na binne .
“Dit is jou eie skuld!” skree tant Jakkals parman-tig uit die huis. “Jy maak mos jou kind op bobbejaan-vleis groot en nou is jy te lui om ‘n bobbejaan te gaan vang. Dan vra jy nog waaroor sy huil!”
“Toemaar,” sê ou Jakkals. “Ek het ou Wolf gister gestuur om vir my ‘n bobbejaan te gaan vang en hier kom hy nou net met een aan. Maar die ou kees lyk vir my so oud en taai asof hy in Noag se ark was.”
Hy staan op en swaai die byl deur die lug. Ou Bôgom knip sy ogies benoud en gee net één sprong, maar hy slaan hard teen die grond langs ou Wolf neer.
“O, jy wil my vir ou Jakkals kom gee, né!” Hy ruk en pluk en gaan so te kere dat ou Wolf net moet vastrap om nie weggesleep te word nie.
“Jou dwaas!” skree ou Wolf. “Jou esel, dis maar net ou Jakkals se leuens om jou bang te maak!”
Maar Bôgom sien hoe ou Jakkals met die byl naderdraf. Hy gee weer ‘n ruk wat ou Wolf se tande laat klap en daar sleep hy ou Wolf al agter hom aan. Ou Jakkals hardloop agterna en skree: “Hou jou lyf eenkant toe, neef Wolf, dat ek hom kan bykom! Hou tog jou lyf bietjie eenkant toe!”
Dit was vir jou ‘n spektakel om te sien. Ou Wolf probeer om vas te trap, maar Bôgom sleep hom oor die bult dat die stof so staan. Jakkals kyk hulle agterna en lag totdat die trane loop. “Ek dink daardie twee sal my nie gou weer pla nie”, sê hy en gaan aan om met sy skerp byl jukskeie te kap.
Arme ou Bôgom se stert was baie seer. ‘n Mens kan nou nog die kinkel daarin sien, want tot vandag toe het dit nog nooit weer reguit gegroei nie.
Jakkalsstreke
Die slinkse ou Jakkals het maar altyd die dom ou Wolf uitoorlê, soos wat weer daardie dag gebeur het toe koning Leeu se voorpoot so verskriklik seer was.
Dit sou met ou Wolf beter gegaan het as hy ‘n beter vrou gehad het. Tant Wolf het ‘n humeur gehad soos van ‘n kwaai meerkat. Die diere het gewonder hoe ou Wolf dit reggekry het om met haar saam te lewe. Ou Jakkals het gesê: “As sy net my vrou vir vyf minute kon wees, sal ek haar darem ‘n les leer wat sy nooit weer sal vergeet nie!”
Dan plak hy sy hoedjie skuins op sy kop en stap ewe deftig weg met sy ken in die lug. Maar ou Wolf kyk eers of hy nie vir tant Wolf gewaar nie, voordat hy swaarmoedig wegstap. Hy dink swaar en diep, maar daar het nog nooit iets van sy dinkery gekom nie.
Een môre staan tant Wolf op en sy kyk na die balk waaraan hulle altyd hulle vleis ophang. Dit is leeg. Sy kyk na die pot, maar daar is geen mielies in nie. “Ag aarde, daardie ou Wolf is die luiste ou skelm wat ‘n mens ooit vir ‘n man kan hê. Ek gaan nog een van die dae van honger sterf.”
Sy sien ou Wolf op die stoep in die son sit en bak. Hy sit ewe geduldig en droom oor die “brekvis” wat hy gaan kry. (Hy het nie die mooi woord “ontbyt” geken nie). Tant Wolf loop hom by en raps hom met ‘n mieliespaan oor die kop. “Jou ou lui skelm! Hier’s geen vleis vir brekvis nie. Maak dat jy wegkom en gaan haal vleis! Toe, hoor jy?”
Ou Wolf sê niks, maar hy laat spaander net so vinnig as wat hy kan om weg te kom. Nadat hy ‘n paar kilometer gehardloop het, steek hy vas om eers te dink waar hy vleis in die hande kan kry.
“Ek dink ek sal ou Jakkals vanmôre saam met my op hierdie jagtog neem. Hy is altyd so onnodig slim. Dalk kan sy slimmigheid help om iets te vang.”
Ou Jakkals was besig om langs sy huis in die son te sit en bak. Hy sit en wonder waar hy ‘n brekvis gaan kry, want hy voel erg honger. Maar hy is só lui dat hy wens die gras moet skape word, sodat hy net daar waar hy sit kan begin eet. Maar gras word nie skape voordat dit binne-in die skape is nie.
Tant Jakkals is besig om vir Antjie, hulle dogtertjie, te klop en sy wonder waar sy ‘n stukkie vleis kan kry om vir die kind te gee, sodat haar gehuil kan ophou. “Ek wens jou pa wil ’n bietjie sorg dat daar altyd bene is om aan te kou.”
Klein Antjie hou dadelik op met huil toe sy van bene hoor, maar toe daar geen been naby is om aan te kou nie, steek sy albei vuisies in haar oë en begin weer hardop huil. Tant Jakkals kry vir Antjie beet en skud haar só geweldig dat albei haar oë oopvlieg. “Ek is nou moeg van jou geskreeu,” kners tant Jakkals.
Onderwyl Antjie hard dink wat dit beteken, hoor tant Jakkals hoe ou Wolf daar buite vir ou Jakkals vra of hy nie saam met hom wil gaan jag nie, maar ou Jakkals sê hy kan nie gaan nie, hy is baie siek. Antjie het dit ook gehoor en sy gee toe ‘n skree wat hulle ore laat tuit. Tant Jakkals gee haar so ‘n harde klap dat sy van skone verbasing doodstil bly. Tant Jakkals steek haar kop by die deur uit en fluister: “Ons het geen vleis vir brekvis nie, ou man.”
Maar ou Jakkals steur hom nie aan vrouepraatjies nie en skuif net nader aan die muur om beter in die son te bak. Hy kreun: “Ek sê jou ek is siek; ek kan nie gaan jag nie.”
Ou Wolf stap weg en Jakkals kyk hom agterna en sê: “Watter geluk tref my vanmôre! Ek is so honger en nou gaan ou Wolf vir ons iets vang.” Hy draai sy kop na die deur en roep: “Vroutjie sê vir Antjie sy moet ophou skreeu. Ou Wolf sal netnou met ‘n bok terugkom en dan sal ons brekvis kry. As sy nie ophou nie, sal ek binnekom.” Tant Jakkals frons haar gesig en sê: “Antjie, hoor jy? Bly nou stil of jou pa sal jou kom stilmaak!” Toe geniet ou Jakkals die stilte in die huis en sy gebakkery in die son.
Na ‘n rukkie kom ou Wolf daar verby met ‘n vet eland op sy rug. Die sweet tap hom af, so swaar dra hy. Ou Jakkals maak of hy niks gewaar nie, maar al die tyd water sy mond vir die heerlike vleis waaraan ou Wolf so swaar dra. Hy begin planne beraam hoe om ‘n deel daarvan in die hande te kry. Net toe sy gedagtes mooi koers kry, spring klein Hasie uit die gras en staan voor hom.
“Môre klein Haas,” sê Jakkals en hou hom skielik ewe deftig, want klein Haas is koning Leeu se boodskapdraer en hulle moenie dink hy wat Jakkals is, is sommer vuilgoed nie.
“Môre neef Jakkals,” sê Hasie statig en stadig. Hy kyk ou Jakkals met groot oë aan en kry die punt van een van sy lang ore beet en bekyk hom goed. “Ai, waarvoor het ek hiernatoe gekom?” Toe val dit hom by. “Jy moet jou roer, man! Ou koning Leeu brul vir dokter Jakkals dat die berg dreun. ‘Waar is daardie ou Jakkals? Waarom het ek hom my dokter gemaak as hy nie byderhand kan wees as ek hom nodig het nie? Ek het hierdie nael gister byna uit my klou geskeur toe ek die koedoe gevang het. Hy moet baie gou kom. Loop haal hom!’ En hier is ek. Ek raai jou aan om jou lyf te roer!”
Maar ou Jakkals skud sy kop en sê hy is tot sterwens na siek. “Ek voel te swak om my kop regop te hou. Gaan sê vir koning Leeu ek sal kom sodra ek die medisyne klaar het.” Haas bekyk hom met ‘n yslike vraagteken in sy groot oë. “Wel, ek het jou gesê en ek raai jou aan om hierdie keer vinniger as weerlig te wees.” Toe wip hy weg.
Jakkals besef hy sal moet gou speel, maar hy wil nie sonder sy brekvis na ou Leeu toe gaan nie. Hy loop stadig die bos in en pluk hier ‘n paar blare en grawe daar ‘n paar wortels uit tot hy genoeg het. Toe sien hy vir Wolf ‘n endjie van hom af loop. Ou Wolf lyk so selfvoldaan en trommeldik van al die elandsvleis wat hy geëet het dat ou Jakkals hom sommer vererg. Maar hy maak asof hy vreeslik haastig is en hardloop agter ou Wolf aan en roep: “Ag ou Wolf, jy is net die man wat my kan help. Ou koning Leeu het sy poot beseer en hy brul dat jy hom wie weet waar kan hoor. Ek het gou hierdie medisyne vir hom gekry, maar in die haas het ek my doktersboek by die huis vergeet. Nou vra ek baie mooi: Neem tog gou hierdie medisyne na hom toe, terwyl ek terug hardloop om my boek te kry. Asseblief man, so kan jy my help om die koning se lewe te red en ons sal jou goeie daad altyd onthou.”
Ou Wolf was skoon verbaas. Hy sê net; “Gee die medisyne, ek sal dadelik gaan,” en hy spring weg. Ou Jakkals rol soos hy lag, maar toe spring hy op en stryk aan na ou Wolf se huis. Op pad tel hy ‘n stuk koerant op en sê: “Dit sal goed te pas kom.”
Ou tant Wolf sit op die stoep met haar kappie diep oor haar gesig getrek, om die vlieë van haar neus af te hou. “Goeie môre niggie,” sê ou Jakkals so soet soos stroop.
“Môre,” sê sy so suur soos asyn en sy kyk hom aan asof sy hom al êrens gesien het maar nie haar hart sal breek as sy hom nooit weer sien nie.
Ou Jakkals sê: “Ek het hier ‘n brief van jou man. Miskien sal jy dit wil lees om te sien wat hy wil hê.”
Tant Wolf kyk met een oog na die “brief” en met die ander oog na ou Jakkals. Naderhand neem sy die koerant en draai hom onderstebo en dan weer boonste onder. Toe sê sy: “Ek kon nooit geskrewe skrif so goed lees soos gedrukte skrif nie en daardie ou Wolf het ‘n aaklige handskrif. Ek het altyd gesê hy moet weer skool toe gestuur word. Lees jy dit vir my, neef.”
Ou Jakkals vat die stuk koerant en maak asof brieflees nie sommer kinderspeletjies is nie. Hy “lees” dit eers brom-brom deur en toe hardop met ‘n vies trek op sy gesig. “O,” sê hy, “jou man vra dat jy my die twee agterkwarte van die eland moet gee, wat ek van hom geruil het. Maar sies, dis gemeen van hom. Hy het beloof om dit na my huis te bring en nou sê hy hier ek moet dit self kom haal. Ek kan dit net sowel nou maar neem terwyl ek hier is. Maar ek sal ‘n appeltjie met hom skil as ek hom weer sien!”
Tante Wolf gluur ou Jakkals aan, maar hy lyk net so vroom soos ‘n predikant op huisbesoek. Sy bekyk die papier en skud haar kop. “Ja,” sê sy, “as julle ‘n ruil gemaak het, sal ek vir jou die vleis moet gee. Maar ek sal ook met ou Wolf ‘n appeltjie te skil hê as hy huis toe kom.” Sy gee toe die vleis vir hom, en hy brom kwaai toe hy daarmee wegstap, omdat hy dit self moet dra.
Jy moes hom gesien het toe hy ‘n ruk later weer uit sy huis kom. Sy hare blink van die vet en sy stert sleep amper op die grond. Hy is só trommeldik en hy voel só lui dat hy wens hy kan maar weer in die son gaan lê en bak. Maar koning Leeu wag vir hom en as hy nie gaan nie, sal dit hom suur bekom. Maar hy moet ‘n “doktersboek” saamneem.
“Vrou!” roep hy, “gee vir my daardie almanak waarin Antjie so baie prentjies geteken het. Ou koning Leeu sal dit nie raaksien nie.”
Toe hy wegstap, span sy onderbaadjie so styf om hom dat hy nie weer ‘n hotnotsriel kan dans nie, maar hy plak sy hoedjie agter op sy kop en sing “Kimberley se trein,” so luidrugtig soos ‘n lokasie-hotnot wat op ‘n Saterdagaand ‘n paar sopies in het. Hy kom by koning Leeu se huis en hoor hom raas en brul. Hy sit sy hoedjie reg op sy kop en stap binne met sy almanak-doktersboek in die hand.
“Waar was jy al die tyd?” skreeu koning Leeu. Die mure van die huis dril soos hy brul.
“O, asseblief tog, o Koning! Daardie dwase vrou van my het my doktersboek vir daardie ou skinderbek, mevrou Eend, geleen en ek moes toe van huis tot huis hardloop om haar te soek en my boek weer te kry. Maar ek het ou Wolf met die medisyne gestuur en hom presies gesê wat hy moet doen.”
“Ag so!” brul koning Leeu. “En hier staan hy al die tyd soos ‘n kleipot en sê geen woord nie en my klou word elke oomblik vreesliker!”
Ou Wolf begin te bewe. Ou Jakkals kyk hom vies aan en bekyk toe die koning se poot. Hy skud sy kop. “Die inflammasie het al baie ver gegaan, maar daar is net een ding wat dit nog gesond kan maak.”
“Wat is dit?” brul koning Leeu só hard dat ou Wolf voel sy hare rys.
Ou Jakkals tik op die almanak onder sy arm. “Ja, o Koning, hierdie boek sê daar is niks so goed soos die vel van ‘n lewendige wolf om die inflammasie hok te slaan nie. As ou Wolf nou sy ou oom kon gaan haal…”
“Nee, vat dan vir ou Wolf self!” brul Leeu en gryp na ou Wolf, maar die ou was nie meer daar nie. Hy het die ding voel kom en toe ou Jakkals “Wolf” sê, stryk hy al daar ver oor die bult dat die stof so staan.
“Ag Koning, hoe jammer tog dat ou Wolf ontsnap het, maar nou sal ons maar met hierdie medisyne moet klaarkom.”
Hy dokter toe die koninklike klou en stap daarna huis toe. Maar dit gaan nie weer so vrolik soos toe hy gekom het nie, want hy dink aanhoudend hoe hy uit ou Wolf se kloue gaan bly wanneer hulle mekaar weer raakloop.
Die voëls kies ‘n koning
Elke jaar wanneer die somer verby is, vlieg daar duisende voëls na ander lande en bly daar tot die winter hier verby is voordat hulle weer terugkeer. Die voëls wat nie saamgaan nie noem hierdie trekvoëls die “Uitlanders.” Hulle is baie ontevrede omdat hierdie voëls elke somer die room van die land kom wegvreet en wanneer die winter aankom, hulle vleuels in die wind slaan en maak dat hulle wegkom.
Daarom het die Afrikaanse voëls besluit om ‘n koning te kies, sodat hy die uitlanders kan beveel om met hulle speletjie op te hou en hier te bly of anders heeltemal weg te bly.
Hulle het met mekaar gepraat en kom toe almal bymekaar vir ‘n groot raadsitting. Maar hulle kon nie koers kry nie want die een sê dit en die ander dat, totdat hulle naderhand besluit om ‘n slim persoon se raad te vra. En raai, dis toe niemand anders as ou Jakkals nie.
Hulle kon ou Vossie nie dadelik in die hande kry nie, want ou Erdvark het vir Jakkals na ‘n bierdrinkpartytjie genooi, wat ‘n paar dae lank aangehou het. Toe het ou Aasvoël, wat graag koning wou word sy kans waargeneem om dinge ‘n bietjie uit die lug te bekyk. Hy hang daar reg bo ou Erdvark se kraal, waar die bierdrinkery aan die gang was. Hy bly daar in die lug totdat hy sien ou Jakkals kyk op en sien hom. Daarna gaan sit hy kort agter die bult vir Jakkals en wag, want hy weet goed ou Vossie sal nou daar kom rondsnuffel omdat hy dink Aasvoël het daar by vleis gaan sit.
En daar kom ou Jakkals. “Ja Aasvoël, waar is die vleis?”
“Daar is nie nou vleis hier nie, maar daar sal baie wees as jy net ‘n paar dae lank my vriend sal wees.”
Ou Jakkals is só vol bier dat hy nie helder kan dink nie. Hy begin lag. “Ai toggie! Jou vriend? En waarom nogal?”
“Jy sien, die voëls gaan ‘n koning kies en hulle het besluit om vir jou in te roep om vir hulle te kom sê hoe hulle die koning kan kies. Jy moet vir die voëls iets gee om te doen en dié een wat dit die beste doen, sal koning wees. Daarom het ek met jou kom praat.”
“O ek sien,” sê Jakkals. “Is jy deur die voëls afgevaardig, of kom jy vir jouself praat?”
Ou Aasvoël vererg hom toe ou Jakkals so reguit praat. Hy swaai sy lyf kordaat en brom: “Dink jy dan nie dat ek net die regte voël is om koning te wees nie? Ek dink dit sal my baie goed pas.”
“Ag aardetjie tog! Jy dink so, hé?” Hy druk sy neus tussen sy voorpote in en huil soos hy lag.
Ou Aas se vere begin te rys. “Natuurlik dink ek so. Kom, praat nou verstandig. Dit sal jou beter betaal om my te help as vir een van die ander.”
Ou Jakkals is vol bier, maar hy is nie só beneweld dat hy die woord “betaal” nie gehoor het nie. “Wat gaan jy my betaal?” vra hy.
“As jy my koning maak, sal elke voël wat vleis eet vir jou die helfte daarvan gee. Wat sê jy? Kan jy ‘n beter aanbod van enige ander voël kry?”
“Ja ou Aas, dis nie sleg nie, maar wat moet ek doen dat die ander voëls jou hulle koning maak? Het jy ‘n plan?”
“Ja, wanneer al die voëls van die raad jou vra hoe hulle kan vasstel wie koning moet wees, dan sê jy dat voëls vlerke het om in die lug te kan vlieg. Daarom moet die voël wat sy werk die beste kan doen en die hoogste kan vlieg, die koning wees. Dis tog regverdig, nie waar nie?”
“Ja, dit klink goed,” sê Jakkals. “Ek beklink die koop. Maar jy moet maar vir die ander voëls vra of dit regverdig is. En nou gaan ek terug na die lekker bierpartytjie!”
Toe Jakkals uit die oog is, sê ou Aas: “Ek het daardie ou skelm hierdie keer lekker gevang. Wag maar tot ek koning is. Ek sal daardie voëls darem lekker in die lug rondjaag!” Toe vlieg hy weg.
Op pad na sy bierpret, ontmoet Jakkals vir Tinktinkie. “Môre oom Jakkals,” sê hy ewe kordaat.
Ou Jakkals is haastig om by die bierpotte te kom. “Gee pad, ou skaduweetjie, of ek blaas jou weg met die wind van net een oogknip!”
“O so? Is dít hoe die wind waai? Ek kom jou raadpleeg oor daardie storie van die voëls se koning. Maar as jy jou so ongepoets gedra, sal ek dit maar op my eie gaan doen en dan sal ek nie iets aan so ’n domkop soos jy skuld nie.”
“Koning van die voëls!” Ou Jakkals gaan sit en skater dit uit van die lag. “Ja, loop tog en gaan wees koning oor al die voëls, oor ou Aas en oor ou Wituil en oor die hele boel!” Hy rol soos hy lag.
“Ja, en oor al daardie onnosel stommerikke soos jy!” skree Tinktinkie. Hy raap hom op en pluk ‘n bek vol hare uit ou Jakkals se stert. “Wat sê jy nou?” Hy vlieg buite ou Jakkals se bereik.
Jakkals spring op asof weerlig hom getref het. “Jou klein skurk! Ek sal jou koning van die voëls gee as ek jou in die hande kry!”
“En ek sal jou koning van die voëls wys voor ek met jou klaar het!” weergalm Tinktinkie se skril stemmetjie. “Ek sal jou wys hoe ver van slim af jy is !” Toe vlieg hy weg na die plek waar hy ou Aasvoël sien uitkom het. Hy weet dat ou Jakkals ook daar was.
Toe Jakkals en ou Aasvoël met hulle knoeiwerk besig was, het hulle nooit vir Spaansvlieg raakgesien wat daar doodstil onder ‘n bossie gesit het nie. Spaansvlieg was ‘n bietjie skaam oor haar voorkoms en het maar doodstil gesit en wens dat die twee swape moet weggaan, sodat sy tevoorskyn kan kom. Toe hulle weggaan, kom sy uit en begin rond te pronk, maar sy voel ontsteld oor die slordigheid van haar rokkie. En toe kom Tinktinkie daar aan.
“Ag nee, hoe kan jy so skielik op my afkom? Jy dink seker jy is die grootste voël en nie die kleinste een in die hele wêreld nie, klein parmant?”
“O, jy hoef nie daaroor te treur nie,” sê Tinktinkie. “Ou Aasvoël mag die grootste voël wees en hy het seker hier met jou kom praat, maar ek kan hom enige dag uitklop.” Die klein haantjie strek eers die een vlerk en toe die ander, asof hy wil sê: “Kyk net!”
Spaansvlieg is nie beïndruk nie. “Ja,” sê sy, “maar wag tot ou Aasvoël koning is; dan sal jy moet sag praat, meneer Tinktinkie.”
“O, dan het ou Aas vir jou gesê hy gaan koning word? Dit sal ons eers moet sien. Miskien is daar iemand wat daaroor ‘n woordjie te sê het.”
“Ag,” sê Spaansvlieg, “waar het jy al ooit so ’n parmantigheid teengekom? Dink jy dalk jy gaan koning wees?”
“En wat is daarmee verkeerd? Ek is enige tyd net so ’n man soos ou Aasvoël.”
“Ek hoor jy sê so, en jy is parmantig genoeg om so te dink. Maar wag tot jy dit moet wys. Die voël wat die hoogste vlieg, gaan koning wees. Ek het dit gehoor toe ou Jakkals en ou Aas hier was. Wat sê jy nou? Miskien dink jy dat jy hoër as ou Aasvoël kan vlieg. Jy het verbeelding genoeg daarvoor.”
“En ek is ook mans genoeg. Wag maar net en jy sal sien of dit nie so is nie.”
“Ek gee nie om wat jy is nie. Maak tog net dat jy hier wegkom en praat nie weer met my voordat jy nie vir ou Aasvoël geklop het nie.”
“En dan sal ek koning wees,” sê Tinktinkie en hy vlieg weg.
Die dag breek aan dat die voëls ‘n koning moet kies. Die voëls bring ou Jakkals voor die raad en vra hom hoe hulle dit moet doen. Ou Aas kyk Jakkals skerp aan en hy glimlag. “Daar is maar net een manier waarop julle dit kan vasstel,” sê hy. “Voëls het vlerke om in die lug te vlieg. As dit nou is waarvoor ‘n voël gemaak is en as dit nou van hom ‘n voël maak, is dit niks meer as reg nie dat die een wat die werk van ‘n voël die beste kan doen, die beste voël is. As julle dan nou ‘n koning wil hê, moet die beste voël koning wees. Die een wat die hoogste kan vlieg, daardie een is koning.”
Daar was ‘n aantal voëls wat graag iets daarteen wou sê, maar ou Jakkals het sy toespraak op so ’n ingewikkelde manier voorgedra dat hulle nie weet hoe om te begin nie. Hulle sê toe maar: “Goed.” Hulle sê dit, maar hulle dink dit nie. Almal gaan staan in ‘n ry. Hulle merk nie op dat Tinktinkie nie daar is nie.
“Is julle almal gereed?” vra ou Jakkals. “Ja,” sê hulle. “Spat dan!” sê hy en hulle spat weg. Hulle vlieg hoër en hoër en hoër. Patrys gee eerste op en toe ou Flap. Korhaan begin te dink dat dit dwaasheid is en sy val uit. Hulle kom een na die ander af tot daar net één in die lug oorbly. Dit is ou Aasvoël. Hy vlieg hoër en hoër totdat hy nie meer hoër kan gaan nie. Hy kyk grond toe en roep: “Hoe lyk dit vir julle?” Die voëls kyk op en ou Jakkals skree: “Jy het gewen! Jy het die hoogste gevlieg!”
“Het hy?” roep ‘n stemmetjie. Hulle kyk almal op en daar spring Tinktinkie uit. Hy het al die tyd onder ou Aasvoël se vlerk weggekruip. Hy vlieg ‘n endjie bokant ou Aasvoël en begin te sing: “Waar kom ek dan in, ek, Tink, tink, tinkie!” Dan vra hy: “Hoe lyk dit nou?”
Ou Aasvoël kyk op. “Hier jy, klein vent, wat maak jy daar?”
“Ek vlieg hoër as jy en dit maak my koning.”
“Koning! As ek jou net kon bykom, sal ek vir jou koning gee. Kom af, op die daad!”
“O,” sê Tinktinkie, “jy sê nou self dat jy nie so hoog soos ek kan vlieg nie. Dis genoeg. Ek is nou koning!” Hy kom af met sy tink, tink, tinkie totdat hy grondvat. Toe staan hy daar ewe kordaat en sê: “Koning Tinktinkie. Dis wat ek is!”
Die ander voëls kom almal nader en wag dat iemand iets moet sê. Maar Tinktinkie spring hulle voor. Hy wip tot voor ou Jakkals en stoot sy bors uit. “Wel, oom Jakkals, wie is die slimste vandag?”
“Ek wens dat ek een van die voëls was wat jy so gekul het. Dan sou ek vir jou gewys het wat slim beteken.”
Ou Aasvoël strompel nader en vra: “Wie is koning?”
“Die een wat die hoogste gevlieg het,” sê Bloukraan.
“En dit is ek,” sê Tinktinkie en hy pronk voor ou Aasvoël.
“Kyk hier,” sê ou Aas, “as jy nou net nog een woord meer sê, sluk ek jou in!”
“O jy sal, né? Goed ek sê: Een woord meer, een woord meer!”
Ou Aasvoël bekyk Tinktinkie ‘n oomblik lank, en toe duik hy om hom beet te kry, maar ou Aas is so lomp en Tinktinkie is so rats dat ou Aas kort-kort neerslaan as Tinktinkie vrolik om hom heen en weer dans. Hy kom weer regop en sê: “Voëls, gaan ons dit verdra, en gaan hierdie klein skurk koning oor ons wees?”
“Dit sal ons nie toelaat nie,” sê Wituil.
“Is ék dan koning?” vra Aasvoël.
Maar dit wil hulle ook nie hê nie, want elkeen van hulle wil graag self koning wees en gun niemand anders om dit te wees nie. “Nee,” sê hulle, “die een wat die hoogste gevlieg het, moet koning wees en ons het self gehoor toe jy erken het dat jy nie vir Tinktinkie bokant jou kon bykom nie.”
“Wat gaan julle dan doen?” kerm ou Aas.
Toe sak al die voëls op arme ou Tinktinkie toe en gooi hom in ‘n erdvarkgat.
“Laat Wituil hom oppas, want hy het die grootste oë,” sê Jakkals.
Met Wituil voor die erdvarkgat en Tinktinkie binne-in, gaan die voëls toe weer na hulle byme-kaarkomplek om te besluit wie hulle koning moet wees.
Tinktinkie se vrolike stemmetjie weergalm uit die gat: “Ai, dis ‘n heerlike koel plek hierdie! Ek gaan nou lekker uitrus, want as julle klaar beraadslaag het en my tot koning verklaar, sal ek baie besig wees om julle spul voëls te regeer en te beveel en rond te kommandeer!”
“Bly stil, jy pla my!” sê Wituil.
Na ‘n rukkie begin Tinktinkie te gaap. Sy oë val toe en hy maak of hy slaap. Wituil sien dit en dit stel hom gerus. Die son is warm. Dit maak hom lomerig en na ‘n rukkie slaap hy vas. Tinktinkie kruip soetjies by hom verby en maak dat hy wegkom.
Na ‘n rukkie skrik Wituil wakker toe hy die ander voëls hoor aankom. “Wat het julle besluit?” vra hy.
“O, Aasvoël kan nie koning wees nie, want hy kon nie hoër vlieg as Tinktinkie nie. Maar Tinkie kan ook nie koning wees nie, want hy is te klein. Maar daar moenie misverstand kom nie. Daarom gaan ons hom nou ophang. Haal hom uit die gat!” Maar Tinktinkie was nêrens nie.
Toe die voëls besef dat Wituil die klein ventjie laat ontsnap het, was hulle woedend en sak op hom toe, maar hy duik net betyds in die gat in en sit toe ewe veilig daarbinne waar Tinktinkie gesit het. Nie een van die voëls wou hom gaan uithaal nie, want Wituil se kloue en sy snawel is baie skerp. Hulle het maar voor die gat waggehou tot dit donker geword het en toe gaan slaap. Daarna het Wituil uitgekom en vir hom gaan kossoek. Maar toe dit weer dag word, het hy in die digte bosse gaan wegkruip, omdat hy vir die ander voëls bang was.
Hy doen dit vandag nog.
Ou wolf word varkjagter
Die runderpes wat oor die land uitgebreek het, het baie beeste van die boere laat vrek, sodat hulle groot skade gely het. Maar baie wildsbokke het ook die lewe ingeskiet en vir tye lank het die aasvoëls floreer en feesgevier. Nadat dit alles verby is, het kos baie skaars geword, veral vir Wolf en Jakkals. Ou Wolf was so gewoond om maar al om die ander dag, as hy honger is, te gaan jag en met ‘n wildsbok huis toe te kom. As Jakkals dit dan agterkom, dink hy dadelik ‘n paar skelm planne uit hoe om ook van ou Wolf se wildsvleis in die hande te kry.
Maar wild was nou so skaars dat selfs die lui Jakkals moes uitspring om te kyk of hy nie iets kan vang nie. Maar daar was niks. Toe kom hy op ‘n boer se plaas af waar daar ‘n klompie varke was.
Hierdie varke het baie in die lande gepla. Dan gryp die boer ‘n sweep en gaan verdryf hulle, maar hy is skaars in die huis, dan is hulle weer in die land. Dit maak hom baie kwaad. Hy vee die sweet uit sy gesig en sweer dat hy hulle sal doodskiet as hy nie gou ‘n oppasser vir hulle kry nie. Dan gryp hy weer sy sweep en storm al agter hulle aan.
Ou Jakkals het dit alles gesien en begin planne maak om van hierdie varke in die hande te kry. Toe die boer weer met sy sweep agter hulle aan is, wag Jakkals tot hulle in ‘n graspan kom en probeer toe om hulle verder weg te dryf, maar die boer sien hom en klap met sy sweep ‘n knalhou kort agter Jakkals se stert. Hy skrik so dat hy amper deur sy vel spring. Hy sit af na die suikerrietland en gaan kruip daar weg.
Daar sit hy aan allerhande planne en dink hoe om ‘n vark of twee in die hande te kry, onderwyl hy aan ‘n stuk suikerriet kou. Hy besluit dat ou Wolf net die regte ou is om hom te help. Hy sluip weg na die rivier toe en kom by die drif en begin om na ou Wolf te roep. Toe ou Wolf met die paadjie aan die anderkant van die drif aankom, maak ou Jakkals of hy groot skrik.
“Wat makeer jou, man ?” skree hy.
“Ek makeer niks,” sê Wolf. “Ek voel so fris en vet dat ek wens hier was ‘n bietjie wild wat ek net vir die pret kan gaan jag.”
“Moet dit tog nie glo nie,” sê Jakkals met ‘n vroom bakkies. “Jy lyk vreeslik! Kyk die rooi en geel vlekke in jou oë. Wat het jou oorgekom? Kyk die vel onder jou kakebene en die hare op die kroon van jou kop. Jy is baie siek, man!”
Ou Jakkals is so ernstig dat ou Wolf onrustig word. Hy het nie ‘n spieël nie, maar hy probeer om die plekke wat ou Jakkals opnoem, te bekyk. Hy draai sy lyf en hy draai sy oë tot hy so skeel kyk dat hy byna die vel om sy ribbes losskeur en sy stert omkrul soos hy beur. Toe hy nie een van sy twee oë kon sien nie, dink hy dat daar regtig iets met hom verkeerd is. Hy probeer om die vel onder sy kakebene te sien en draai en kronkel soos ‘n slang. Naderhand staan hy op sy kop met sy bene in die lug en slaan reg agteroor en kom op sy rug in die modder te lande. Hy kruip uit en gaan sit moedeloos op ‘n klip.
“Kan jy my sê wat moet ek doen?” vra hy, want Jakkals is koning Leeu se dokter.
“Ja man, jy is hopeloos ondervoed. Die besssies en pampoene wat jy so ’n lang ruk geëet het, is baie ongesond. Dit gee jou geelsug. Jy moet vir ‘n lang tyd net vleis eet. Dit is die enigste geneesmiddel. Ek het agtergekom waar ek vleis kan kry, maar dit is net genoeg vir my. Maar omdat jy so siek is, gaan ek dit met jou deel. Ons is mos ou maats. Kom hiernatoe, dat ons kan praat.”
Toe ou Wolf deur die vlak watertjies van die drif kom, dink hy: “Ou Jakkals is darem die gaafste ou wat ek ooit raakgeloop het. Dis baie goed van hom. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Hy kom by ou Jakkals en vra: “Waar is daardie vleis?”
“Die ding staan só,” sê Jakkals. “Oorkant daardie spruit loop ‘n klomp varke op ‘n boer se plaas. Hulle pla vreeslik in die mielieland en vreet ook al sy waat-lemoene op. Die boer soek iemand om hulle op te pas. Gaan verhuur jou aan hom en dan jaag jy hulle ongemerk hier na die spruit toe en dan sal ons twee met hulle werk.”
Ou Wolf gaan toe na die plaas en die boer neem hom in sy diens. “Pas nou goed op en hou jou oë oop. Daar is ‘n jakkals hier iewers. Ek het hom al agter die varke gesien,” sê die boer vir hom.
“O, ek sal uitkyk vir daardie jakkals. Ek het hom ook al gesien. Hy kan my nie kul nie.”
Ou Wolf jaag toe die varke na die spruit waar ou Jakkals vir hom wag.
“Wat moet ons nou doen?” vra Wolf.
Jakkals haal die koutjie suikerriet uit sy mond en lag so onderlangs. “Nou dryf ons hulle hier in die vlei in. Dan vang ons hulle en sny hulle sterte af.”
Hulle doen dit toe. Maar dit was harde werk en die son was warm. Naderhand kom ou Wolf agter dat hy al die werk alleen doen, terwyl ou Jakkals net bevele gee.
“Wat doen ons nou met die sterte?” vra hy.
“Sien jy daardie moddergat? Steek nou al die stertjies in die modder in met die kwassies na bo.”
Nadat ou Wolf daarmee klaar was, vra hy: “Wat nou?”
“Jy sal dit gou genoeg sien. Maar jy moet nou eers na die boer toe gaan en sê die wildehonde het die varke in die modder gejaag waar hulle almal versmoor het; net hulle stertjies steek uit. As die boer dan vra waarom jy hulle nie uit die modder getrek het nie, dan sê jy dat jy probeer het om dit te doen, maar jy het byna self ook in die modder versmoor.”
“Moet ek my dan met modder besmeer?” Ou Wolf lyk nie baie lus daarvoor nie.
“Nie net besmeer nie, man! Jy moet in die modder rol. Wag, ek sal jou help.”
Voor ou Wolf mooi weet wat aangaan, stamp ou Jakkals hom agteroor in die moddergat in. Ou Wolf se bek was van verbasing wydoop en toe hy op sy rug in die papperelsel beland, sluk hy nog ‘n paar groot happe daarvan in. Onderwyl hy spartel om weer uit te kom, kruip ou Jakkals op die wal rond soos hy lag en gooi ou Wolf met nog meer handevol modder vir die pret.
Uiteindelik is ou Wolf uit die gemors. Hy probeer die modder uit sy oë krap, sodat hy vir Jakkals beter kan sien. Ou Vos staan hand in die broeksak vir ou Wolf en kyk, asof hy ‘n perd is wat hy wil koop. “So ja, nou’s jy reg. Die boer sal glo dat jy die varke wou red en hy sal jou beloon. Jy lyk nou soos die aakligste ding op vier pote in die veld, maar jy is die nuttigste maatjie was ek ooit gehad het.”
“Ag so, né?” kreun ou Wolf. Hy weet nie of hy met die tong of met die vuis moet baklei nie. Maar hy voel so naar van al die modder wat hy ingesluk het, dat hy dit nie met een van die twee kan doen nie. Al wat hy uitkry is: “En wat gaan jy nou doen?”
“O, onderwyl jy na die boer toe gaan, jaag ek die varke na die kraal daar by jou huis. Wanneer jy terugkom, sal ons genoeg vleis hê om ‘n jaar lank piekniek te hou. Dan sal jy gesond word van jou kwaal. Dink nou net, man!”
Ou Wolf probeer dink en sê toe, “Ja goed” en hy sleep aan na die boer se huis toe, want hy was te dik aangepak met modder om te kon draf. Hy vertel vir hom Jakkals se wolhaarstorie en die boer stap saam na die vlei. Hy bekyk die moddergat en hy bekyk die krulstertjies wat so uit die modder steek en hy bekyk ou Wolf.
“Is jy seker dat die varke daarin versmoor het?”
“Kan jy nie hulle krom stertjies daar sien nie? Hulle is almal daar met hul koppe na onder.”
“Wel,” sê die boer, “dis baie snaaks. Ek het gister hier deurgery en die modder was nie eers kniediep nie.” Hy trek een van die stertjies uit die modder uit. Toe weet ou Wolf hy moet nou vinnig padgee, maar voor hy kon wegkom, het die boer hom beet.
“Net hulle stertjies steek uit die modder uit, né?” en hy gee hom een in die ribbe. “Die wildehonde het hulle in die modder gejaag, né?” en hy slaan die wind uit hom. “Hulle is versmoor, né?” en hy swaai ou Wolf in die lug en slaan die grond en vee die veld met hom. Toe gooi hy wat van hom oorbly op die grond en loop huis toe.
Naderhand lig ou Wolf hom op en kruip stadig aan na sy huis. Hy voel ellendig, maar hy troos homself met die gedagte dat hy hom nou lekker met daardie varkvleis gaan dokter. Hy kom by sy kraal, maar daar is geen vark nie en ook geen Jakkals nie.
“Dit is darem snaaks,” dink ou Wolf en hy wag en hy wag. “As hy darem nie nou kom nie …” maar hy het glad nie gekom nie.
En die varke? Van daardie dag af het Jakkals altyd genoeg vet in sy huis om sy neus blink te hou en arme ou Wolf kan nie sonder vleis weer gesond word nie.
Boontjie kry sy loontjie
Tinktinkie en sy vroutjie het hul nessie in ‘n doringboom langs die rivier gemaak. Hierdie doring-boom het half onder ‘n groot wilgerboom gestaan, sodat die wilger sy breë takke oor die doringboom gesprei het.
Ou Jakkals was maar altyd die grootste snuffelaar onder die diere en hy het gou ontdek dat die twee Tinktinkies ‘n nessie bo in die doringboom het. Kos was toe maar skaars en daarom het ou Jakkals skielik vreeslik lus gekry vir tinktinkie-eiers.
Hy wag toe net tot Tinktinkie wegvlieg om te gaan kossoek en mevrou Tinktinkie ewe rustig op haar nessie sit, toe hy daar aangestap kom en onder die doringboom gaan staan.
Hy begin om met sy naels aanhoudend teen die stam te krap, totdat mevrou Tinktinkie oor die rand van die nes loer en vra: “Wie is daar?”
“Dit is ek,” sê ou Jakkals.
“W-wat wil jy hê?” vra sy met ‘n bewerige stemmetjie.
“Ek wil daardie eiers hê!” skree ou Jakkals op parmantige toon. “En maak gou; ek is haastig!”
“O nee, jy kan hulle nie kry nie!” roep sy, maar haar hartjie klop so vreeslik dat sy skaars die woorde kan uitkry.
“O, jy is parmantig, né!” skree ou Jakkals. “As jy nie dadelik vir my ‘n eier afgooi nie, klim ek in die boom en kom jou met eiers en al opeet. Maak nou gou!”
Arme mevrou Tinktinkie skrik toe nog groter toe sy hoor dat Jakkals in die boom wil klim en sy val amper self uit die nessie uit. Sy sien hoe ou Jakkals op sy agterpote teen die stam staan met wydoop bek. Toe gooi sy maar ‘n eiertjie af. Hy sluk dit in en lek sy lippe af, voordat hy wegdraf. Ja-nee, dit was sommer ‘n lekker happie, dink hy. Hy sal sommer elke dag kom totdat daar geen tinktinkie-eier meer oor is nie.
Toe Tinktinkie weer by die nessie opdaag, tref hy sy vroutjie aan in groot verdriet. Nadat sy hom alles vertel het, sê hy: “Het jy dan regtig geglo dat hy kan boomklim? Hy kan dit nie doen nie, al breek hy ook sy nek.”
Hy neem hom voor om Jakkals ‘n les te leer en gaan die volgende dag self op die eiertjies sit, onderwyl sy vroutjie wegvlieg om te gaan kossies soek.
Dit was ook nie lank nie of ou Jakkals staan toe weer onder die boom en begin om met sy naels teen die stam te krap. Tinktinkie loer so effens oor die rand van die nes en vra: “Wie is daar?”
“Ek,” sê ou Jakkals.
“En waarvoor krap jy so?”
“Ek wil nog ‘n eier hê; en jy moet gou maak!”
“Ag hoor ‘n bietjie daar! Laat ek jou vertel: Jy het alreeds al die eiers hier weg wat jy ooit hier sal kry!”
Tinktinkie gaan op die kant van die nes sit sodat ou Jakkals hom mooi kan sien.
“O, is dit jy, né?” sê ou Jakkals met grynsende tande. “As jy nie gou vir my ‘n eier afgooi nie, klim ek hier op en sluk jou, beentjies bek en vere, met net een hap in!”
“Nou toe, kom dan!” roep Tnktinkie en hy spring op ‘n tak. “Toe kom, jou ou harige skurk, as jy dit ooit sal waag!” Hy spring rond en stoot sy vlerkies uit asof hy ou Jakkals enige oomblik wil bevlieg en sy oë gaan uitpik. “Probeer dit net, meneer Jakkals en kyk wat ek met jou sal doen!”
Voor ou Jakkals mooi kon dink wat hy sê, snou hy Tinktinkie toe: “Ek wens ek kon jou bykom, ventjie, dan sluk ek jou en jou eiers met een hou in!”
“Hoor hoe praat so ’n ou papbroek! Ek weet goed jy kan boomklim, maar jy is te bang om te probeer. Ek sal jou leer om arme klein moedertjies van hul eiertjies te beroof, jou ou skelm!”
Ou Jakkals is woedend daar weg en Tinktinkie het geswel van trots oor sy manhaftige gedrag. Toe sy vroutjie terugkeer, vertel hy haar wat gebeur het en sê dat sy ou Jakkals ook so moes trotseer het. Sy neem haar voor om dit te doen as hy haar weer kom pla.
Ou Jakkals let fyn op wie gaan kossoek en wie op die nes sit. Mevrou Tinktinkie hoor weer ‘n gekrap aan die boomstam. Sy probeer haar stem grof maak om vir Jakkals te sê hy moet maak dat hy wegkom, maar sy het skaars twee woorde uitgekry voordat sy in ou Jakkals se tande vaskyk. Hulle lyk so skerp en ou Jakkals lyk so wreed dat sy van skrik begin bewe.
“Gooi daardie eier af of ek kom van jou wors maak,” sê ou Jakkals.
Mevrou Tinktinkie val byna uit die nes van skrik, maar sy sê tog vir Jakkals: “Jy kan nie boomklim nie.”
“O, ek kan nie, né?” sê hy en laat sy hare rys. “Kyk of ek dit kan doen of nie!”
Hy gee ‘n geweldige sprong tot halfpad teen die stam op. Arme mevrou Tinktinkie skreeu van angs want sy dink dis nou klaarpraat met haar en haar eiertjies.
“Gaan jy nou daardie eier afgooi of nie?” skree ou Jakkals.
“Ja, hier is dit, vat dit, vat dit!” kreun sy en gooi die eier af. Ou Jakkals vang dit in sy bek en sluk dit in. “Wanneer ek weer kom, raai ek jou aan om gouer te maak. Ek sal nie weer twee keer vra nie,” sê hy en stap die bos in.
Arme mevrou Tinktinkie se hart was stukkend en sy het aanhoudend getreur oor die verlies van haar eiertjies. Toe sy dink wat Tinktinkie gaan sê as hy huis toe kom en ontdek dat ou Jakkals weer met ‘n eier weg is, kon sy nie langer op die nes bly sit nie. Sy dink skielik aan haar tante, ou Reier, en vlieg weg om haar te gaan soek en raad te vra. Sy kry tant Reier in die vlak water waar sy paddas vang en vertel haar alles.
”O so? Dan is ou Jakkals al weer besig met kattekwaad,” sê ou Reier. “As hy dan sy neus in ons sake wil steek, is dit hoog tyd dat ek hom ‘n deeglike les leer. Gaan jy nou maar huis toe en gaan sit weer op jou nessie. Ek sal môre nog voor ou Jakkals daar by jou wees.”
Die volgende môre sit mevrou Tinktinkie weer op haar nessie. Tant Reier is ook daar. Sy sit hoog verskuil in die wilgerboom, regoor die nessie van die Tinktinkies.
Dit was ook nie hoe lank nie of ou Jakkals was weer daar. Hy begin weer kordaat teen die boomstam krap en sê: “Gooi my ‘n eier af, of ek kom jou opeet.”
“Maak asof jy ‘n eier afgooi,” fluister tant Reier.
“Mevrou Tinktinkie maak asof sy dit gaan doen en sê: “Goed Jakkals, hier is dit.”
Ou Jakkals staan gereed op sy agterpote en maak sy bek wyd oop. Hy knyp sy oë toe. Hy verbeel hom hy proe al die heerlike smaak van daardie eier! Op daardie oomblik leun tant Reier effens vorentoe. Sy maak haar snawel oop en gooi ‘n vet ou spartelende platanna agter in ou Jakkals se keel.
Dit was nou ‘n spektakel! Ou Jakkals begin stik en hy probeer skreeu. Toe spring hy op en rol op die grond rond. Hy probeer die padda uithoes, maar daardie ou vet platanna het kop eerste in sy keel afgeduik en hy skuif al verder tot hy in Jakkals se maag te lande kom. Hy voel ‘n vreeslike gewriemel en geskop in sy maag en hy skrik so groot dat hy daar wegspring en begin hardloop dat die stof so staan. Elke keer as die padda opnuut in sy maag amok maak, skrik hy nog groter en laat waai so vinnig oor die bulte dat hy net hier en daar grondvat. Hy het later so opgeswel dat hy net kon rol. Toe hy eindelik weer tot sy sinne kom, kon hy nie eers meer onthou watter dag van die week dit was nie.
Wanneer die voëls ou Jakkals nou raakloop, begin hulle gereeld te snater. Hulle vra vir hom of hy van tinktinkie-eiers hou en dit maak hom so skaam dat hy nie sy stert wil oplig nie.
Hasie word beeswagter
Koning Leeu het ‘n paar koeie aangehou wat hy gereeld gemelk het. Sy vrou het daarvan gedrink en ook hyself. Die melk wat oor was het hulle botter van gemaak om hulle kinders se neusies blink te hou.
Daar was vyf koeie. Drie van hulle was wegloperkoeie. Koning Leeu het hulle nie self opgepas nie, want dit betaam nie ‘n koning om sulke werk te doen nie. Hy het die ander diere laat beurte neem om sy koeie op te pas.
Die drie wegloperkoeie het maar gereeld probeer om weg te loop. Bewaar dan die arme dier onder wie se toesig dit gebeur het. Hy kon nooit weer koeie oppas nie. Koning Leeu het hom geslag en opgeëet.
Toe kom Hasie Kalbassie aan die beurt om vir sy koning hierdie ou werkie te doen. Op ‘n goeie môre dans en sing hy al agter die koeie aan. Hy sal hulle wys hoe maklik dit is om vyf ou koeie op te pas. Hy steek ‘n grassie in sy bek, stoot sy hoed skuins op sy kop en jaag die koeie in ‘n kampie langs die rivier. Toe gaan sit hy op ‘n koppie om hulle in die oog te hou. Hy sê vir homself: “So doen ‘n mens dit. Wat is nou makliker as dit? Hulle het volop gras en water. Hulle sal nooit wegloop nie; hulle het te veel verstand.”
Na ‘n rukkie begin sy oë te dwaal. Hy bekyk die wêreld en gewaar ‘n bos wat hy nog nooit vantevore raakgesien het nie. Hy wip daarheen en bekyk die blare en bevoel die wortels.
Toe kom daar ‘n klomp blesbokke verby. Hy sien hoe die klein bokkies hulle ma’s met hulle neusies besnuffel. Hy spring op en begin die klein bokkies lastig val, totdat die ou bokke hom wegjaag. Hy onthou dat ou Skilpad ‘n endjie langs die rivier af bly en wip soontoe om hom te gaan terg, maar Skilpad is nie daar nie. Dit maak vir Hasie kwaad en hy begin klippe in die rivier gooi en trek die riete uit wat langs die water groei.
Toe sien hy vir Heuningvoël bokant hom rondvlieg en dink dat daar êrens heuning moet wees om te eet. Maar daar was toe geen heuning nie. Hasie het toe omgedraai, maar die son is so warm en die skaduwee onder die bossies is so koel dat hy besluit om ‘n bietjie te rus. Hy gaan lê in die skaduwee en dit was nie lank nie of hy was vas aan die slaap.
Laat namiddag toe dit koeler word, skrik hy wakker en laat vat net so vinnig as wat hy kan na die kamp waar die koeie moet wees. Hy sien net die twee bedaarde ou koeie. Die drie weglopers is nie daar nie. Hoe hy ook al soek, hy kan geen haar of horing van hulle gewaar nie.
Uiteindelik word dit tyd om hulle kraal toe te bring. Hy jaag die twee makkes aan tot naby die kraal en spring toe om om weer na die ander drie te gaan soek. Daar was ‘n ruigbegroeide en klipperige eiland in die rivier. Tussen die wal en die eiland het ‘n paar groot klippe uitgesteek. Klein Haas spring van die een klip na die ander en kom op die eiland te lande. Hy soek ‘n veilige plekkie uit tussen twee groot klippe en gaan lê daar.
Dit was nie lank nie of hier kom koning Leeu en hy brul: “Waar is daardie Haas wat vanmôre so kordaat gaan koeie oppas het? Wag tot ek hom in die hande kry!”
Hasie trek sy lyf so plat soos ‘n pannekoek daar tussen die twee klippe en hy wens dat hy vlerke gehad het. Koning Leeu brom en brul en gaan sit regop op sy agterpote en stoot so ’n vreeslike brul uit dat die hele eiland bewe, maar Hasie lê plat. Hy is te lam van skrik om uit te spring en te vlug. Koning Leeu loop al brullende langs die rivier af.
Hasie Kalbassie kan weer asemhaal. Hy slaap nog ‘n nag op die eiland, maar toe verlang hy huis toe, want hy is baie honger. Hy kom by koning Leeu se huis aan toe dit al donker was en gaan langs die waenhuis sit om te sien wat in die huis aangaan. Na ‘n rukkie kom sy eie vrou uit die kombuis, waar sy besig was om skottelgoed te was. Sy skrik toe sy vir Hasie gewaar, ma
Later sê sy: “Ons het gedink jy is dood.”
“O,” sê Haas, “dan het jy seker al ‘n ander man in die oog.”
“Nee,” sê sy, “een is genoeg as hulle almal soos jy is. Maar toe koning Leeu gister daardie twee koeie sonder jou sien huis toe kom, het hy gedink jy’s dood.”
“Was hy spyt?”
“O,” sê Hasie en dit lyk of hy daaroor dink. “Bring tog net vir my iets lekkers om te eet; dan sal ek dink wat ek gaan doen. Die ou is groot en lelik, maar hy is nie so slim soos iemand wat ek ken nie.”
Sy bring vir hom mieliepap en melk en daarna vra hy vir ‘n hark en stuur haar weer die huis in. Hy sit ‘n rukkie stil en dink hoe lekker hy en sy vrou, Hasina, hier by koning Leeu gebly het, maar toe begin hy homself met die hark verinneweer. Hy skeur sy klere en trek sy hare uit en krap diep snye en skrape met die hark se tande oor sy gesig, sy hande en sy ribbe, sodat dit lyk of hy in ‘n haak-en-steekbos geval het en iemand hom aan sy agterpote daar uitgepluk het. Toe steier hy die kombuis in en slaan op die vloer neer. “Waar is dokter Jakkals?” kreun hy. “Bring vir dokter Jakkals, want ek gaan dood!”
Sy vrou Hasina gaan aan die gil en al die bediendes storm die kombuis binne. Koning Leeu hoor die lawaai en hy kom kyk wat aangaan. “Hier jou skelm, waar kom jy nou vandaan?” brul hy.
Hasie en skilpad
Op ‘n goeie dag loop klein Haas langs die spruit af en sien ‘n helder kuil water waarin ‘n aantal silwervissies swem. Hy was baie lief vir vis en gaan sit op die wal en dink hoe hy van hulle in die hande kan kry, sonder om in die water te spring en hulle te vang. Toe kom Skilpad daar aan en plomps ewe lui die water in en hang daar met sy kop net bo die water.
Toe Haas hom sien, sê hy: “Allawêreld Skilpad, maar jy lyk baie tuis, né?”
“Ja, ek is tuis,” sê Skilpad. Hy draai nie eers sy kop toe hy met Hasie praat nie. Hy draai net sy een oog half om en dink dis heeltemal genoeg.
“En wat doen jy wanneer jy tuis is?”
“Wat ek nou doen,” sê Skilpad.
Haas swaai sy ore van verbasing. “Maar jy moet tog eet. Wat doen jy dan?”
“Eet,” sê Skilpad.
“O,” sê Haas, “dan moet jy seker ook af en toe ‘n beweging maak.”
“Ek hoef nie te beweeg nie; ek is op die oomblik besig om hierdie waterbossies te eet.”
“Ag so?” sê Haas. Hy voel al so knorrig dat hy die grond met sy agterpoot kan skop en oor sy eie skaduwee spring. “Jy is so lui dat jy liewer bossies eet in plaas van die lekker vissies wat rondom jou swem!”
“Ek eet nie sulke goed nie. Bossies is baie lekkerder.”
“Jy kan al die bossies hou as jy my net die vissies gee.”
“Ja, ek sal die bossies hou en jy kan die vissies hou.”
“Dit is goed,” sê Haas, “maar ek het my Sondagsklere aan en ek kan hulle nie natmaak nie. Dink jy nie jy kan vir my ‘n paar van hulle vang nie?”
“Wat dink ek? Ek dink jy mors jou tyd.”
Klein Haas voel al of hy kan slange vang, maar hy hou hom in. “Kyk hier, as jy vir my ‘n paar vissies vang, bring ek vir jou ‘n klomp heerlike groente van die plaas hier naby.”
“Groente? Sies! Ek hou van bossies.”
“En as die bossies opraak?”
“Daar is nog meer bossies in die ander kuil.”
“En as hulle opraak?”
Toe lag ou Skilpad hom byna dood, tot groot ergernis van klein Haas. “Goed Skilpad,” sê hy, “vreet maar jou bossies,” en hy spring weg.
Hy gaan nie huis toe nie. Hy gaan ou Ratel opsoek om by hom heuning te gaan kry. Maar ou Ratel het nie heuning nie. Al wat in die heuningnes oorgebly het en wat Ratel nie opgeëet het nie, is net ‘n paar druppels en skraapsels, wat Hasie toe in ‘n kalbassie versamel en daarmee terugkeer na ou Skilpad in die waterkuil.
Hasie kom al bokspringende nader. Hy hou die kalbas met een hand in die lug en klop met die ander hand daarop onderwyl hy sing: “Hasie Kalabassie, kadoem, doem, doem…!”
Ou Skilpad se bek hang oop van verbasing. Hasie sien dit en spring nader. Hy steek ‘n lang veer in die kalbas en met ‘n druppeltjie heuning daaraan, druk hy dit in Skilpad se mond.
“Ai, dis lekker,” sê hy. “Gee my nog ‘n bietjie.”
“Ag kyk nou! Vanmôre was jy so onbeskof toe ek vir jou ‘n paar vissies gevra het en nou wil jy van my lekkernye hê, né? Wat sal jy my gee?”
“Ek sal vir jou vis gee as jy vir my weer van daardie soet goed gee.”
“Goed Skilpad. Vanmôre het jy gelag; nou lag ek. Ek wil tien vissies hê.”
“Goed,” sê Skilpad. “Kom bnne ‘n halfuur terug, dan sal ek hulle hê.”
Hoe ou veldskilpad so lekker in die water kan boer en hoe hy die vissies vang, weet ons nie. Maar toe Hasie terugkom, lê daar tien vissies op die wal. Hy moet hulle nou met heuning betaal. Hy sê vir Skilpad om sy oë toe te maak en sy mond oop te rek. Hy stryk die veer stadig deur die ou se mond en steek hom toe vinnig in sy keel af en trek hom weer uit. “Is dit nou nie lekker nie?” sê hy.
Ou Skilpad rek sy mond nog wyer oop en vra nog meer daarvan, maar Hasie bly in sy keel in afkyk tot Skilpad vra: “Waar is die ander heuning?”
“Dit is wat ek graag wil weet,” sê Haas. “Ek het al die heuning in jou keel afgegooi en nou kan ek nie sien waar dit is as ek in jou keel kyk nie. Dit het seker vinnig deur jou keel gegly en toe in jou maag geval.”
Ou Skilpad kon hierdie verduideliking nie mooi kleinkry nie en vra toe: “Wanneer kan ek weer heuning kry?”
“Wanneer ek weer vissies nodig het,” sê Haas.
Toe hy die volgende dag weer daar aankom met sy “Hasie Kalbassie, kadoem, doem, doem,” hou ou Skilpad sy een oog op ‘n skrefie oop toe Hasie hom sogenaamd met heuning voer en gewaar toe dat hy maar net een druppeltjie inkry. Hasie het sy bes gedoen om vir Skilpad weer om die bos te lei. Maar hy moes uiteindelik erken dat daar geen heuning in die kalbas was nie. Hy belowe vir ou Skilpad dat hy die volgende dag sommer twee kalbassies vol heuning by ou Ratel sal gaan haal.
Skilpad is vasberade om saam te gaan, want hy wil hierdie heuning-raaisel nou vir goed oplos. Elke slag moet hy tien vissies opdok vir net een druppeltjie heuning.
Hulle val in die pad, maar toe skilpad vyf tree geloop het, was Hasie al honderd tree voor hom. Dan draai Hasie terug en sê: “As jy nie vinniger maak nie, sal ons nooit by die heuning uitkom nie.”
So het dit ‘n paar keer aangegaan totdat Hasie heeltemal oor die bult verdwyn het. Skilpad het gesê: “Ek sal daar uitkom,”
Maar Hasie het nie van Skilpad vergeet nie. Hy het maar net daar weggebly omdat hy bang was dat Skilpad miskien sou wraak neem oor al die onreg wat hy hom aangedoen het.
Op ‘n goeie dag draf Haas uit die bos op ‘n kaalte uit en sien ‘n plaas voor hom lê. ‘n Entjie van die woonhuis af is daar ‘n mooi tuin met groot perskebome, wat vol sit van ryp, groot nooiensperskes. Ou Hasie kry so lus daarvoor dat hy besluit dat hy van die perskes moet hê, kom wat wil. Hy sien dat die tuin dig omhein is met turksvye- en garingbome, sodat ‘n rinkalsslang skaars daar sou kon deurkom. Hy sien ‘n klipkoppie agter die huis en tuin en spring weg daarheen.
Onder teen die koppie sien hy twee honde onder ‘n boom lê. ‘n Seun kom uit die tuin met ‘n hoedvol van die lekker rooi perskes en gaan onder die boom sit om daarvan te eet. Hasie bekyk hulle goed en kruip toe tussen die klippe en die bossies teen die koppie af tot omtrent veertig tree van die seun af en spring toe uit, maar na ‘n paar tree val hy plat, asof hy vir die seun wil wegkruip. Die seun gee ‘n skree en spring op. Hy spoor die honde aan: “Saa, saa Boelie! Vat hom, Wagter!”
Dis net wat klein Haas wil hê. In die tyd wat dit die seun neem om op te spring en die honde agter hom aan te sit, stryk Hasie al die koppie om. Hy jaag teen die rantjie uit en gaan lê agter ‘n groot klip. Hy wag tot die seun en die honde verby gestorm het. Toe hardloop hy terug, tel die perskes op en maak dat hy wegkom.
Die perskes smaak so lekker vir Haas dat hy begin te dink hoe wonderlik dit sal wees om sy eiebome te hê, waar hy na hartelus perskes kan pluk sonder om deur honde rondgejaag te word. Net daar kry hy toe die plan om weer vir Skilpad op
Ou Skilpad was al weer tuis na sy lang staptog om heuning te gaan soek, maar hy lyk nog luier as ooit en hy knip nie eers ‘n oog toe Hasie daar aankom nie.
Haas skree vir hom: “Kyk hier, Skilpad, ek het ‘n geluk getref! Ek het perskes, en omdat ek en jy groot maats is, gaan ek nou vir jou die lekkerste een van die twee gee.”
Voordat Skilpad hom kon kry, is hy uit die water en neem die perske wat Haas hom aanbied. Hulle sit daar op die wal en elkeen eet sy perske met smaak op.
Toe sê Haas: “Skilpad, ek het gedink ons kan hierdie pitte plant en ons eie bome kweek. Dan sit ons onder hulle skaduwee en kyk hoe die perskes ryp word. Wat sê jy daarvan?”
Skilpad stem in en hulle plant die twee pitte. Die boompies kom op en groei mooi. Maar toe word dit baie droog en hulle moet elke dag water kry. Ou Skilpad is van die môre tot die aand besig om in sy mond vir sy boom water aan te dra, maar Haas doen niks. Uiteindelik is sy boom van droogte dood, terwyl Skilpad s’n vol sit van heerlike groot nooiensperskes.
“As jy nou jou boom ook natgegooi het, het jy ook nou lekker perskes gehad,” sê Skilpad.
“Ja, maar hoe gaan jy daardie perskes in die hande kry om te eet?”
Ou Skilpad het nie geweet nie, maar hy het darem geweet dat hy nie in ‘n boom kan klim nie.
“Sal jy dit nie vir my gaan afpluk nie?”
Ou Hasie is baie gewillig. Hy maak hom toe bo in die boom tuis en begin heerlik te smul aan ou Skilpad se perskes. Maar toe moes jy ou Skilpad hoor skree: “Hier jy! Waarom eet jy my perskes?”
“Omdat hulle lekker is! Vat so, hier is vir jou ook iets!” Hy laat ‘n pit op Skilpad se neus val. “Gaan plant die pit, dan sal jy netnou weer jou eie perskes hê en my nie so staan en beloer as ek perskes eet nie.”
Ou Skilpad kry byna die stuipe. Hy slaan amper hals-oor-kop soos hy skree: “Klim af uit die boom! Dis my perskes daardie!”
“Haai, is dit jou perskes? Klim dan in die boom en kom pluk ‘n paar daarvan voordat ek hulle almal opgeëet het.”
“Jy dink jy’s baie slim, né? Maar wag ‘n bietjie, ons sal sien.” Hy draai om en waggel langs die spruit af en gaan haal al die skilpaaie in die omgewing. Toe Hasie weer afkyk, sien hy hulle het die boom se stam toegepak en hulle knaag met lus daaraan.
“Nou sal ons sien hoe jy gaan lyk as ons met jou klaar is,” sê Skilpad. Maar Hasie gaan maar aan om perskes te eet totdat daar naderhand niks meer oor was nie. Skilpad sien dit en brul: “Ek gaan al daardie perskes uit jou uitklop!”
Naderhand kraak die boom en Skilpad staan gereed om vir Haas beet te kry, maar toe hy weer kraak en val, wip Haas losvoetig oor al die skilpaaie en skree: “Wie gaan my nou uitklop?” Hy skarrel weg en verdwyn oor die rantjie.
Maar die skilpaaie was nog nie klaar met hom nie. “Ek weet wat hy nou gaan doen,” sê ou Skilpad. “Hy loop nou net oor die bult en gaan lê onder ‘n bossie en slaap, want hy is só dik geëet aan my perskes dat hy nie meer verder kan nie. Ons gaan nou ‘n groot kring om hom trek en as hy weer begin hardloop, spring een van ons voor hom op. Dan spring hy om en hardloop terug, maar een van ons keer hom weer voor. Hy slaan dan ‘n ander koers in, maar loop hom weer teen een van ons vas, tot hy hom flou gehardloop het. Dan het ons hom.”
Ou Skilpad se plan het mooi uitgewerk. Ou Hasie was naderhand so flou gehardloop dat die skilpaaie hom in ‘n kring kon omring. Gelukkig vir hom, sien hy toe ‘n erdvarkgat en spring daarin. Die skilpaaie het hulle kring nouer om die gat getrek en hulle klaargemaak om die wag te hou totdat Haas besluit om uit te kom. “Dan het ons hom mos,” sê ou Skilpad.
Maar die vleigrond waar ou Erdvark hierdie gat getonnel het op soek na uintjies en knolle, was bros en sag. Hasie het net ‘n ent verder gegrawe en anderkant die skilpadkordon boontoe gekom en laat spat.
Die skilpaaie het baie dae lank tevergeefs rondom die gat gewag. Ou Skilpad het naderhand vergeet waarom hulle daar waghou. Toe hy baie honger word, het dit hom bygeval dat daar langs die spruit lekker waterbossies groei en het hy weer na sy ou tuiste teruggegaan.
Klein Taaiman kry teespoed
Klein Taaiman was ‘n baie slim ratelseuntjie wat vindingryke planne kon bedink om ‘n happie heuning te bekom, want soos alle ander ratels was hy versot daarop. Maar hierdie kêreltjie was ‘n klein verwende, stout seuntjie wat gruwelik deur sy ma bederf is. Sy wou nooit iets sleg van hom glo nie en sy het hom gereeld probeer beskerm wanneer Pa Ratel hom wou pakgee oor sy kwaaijongstreke.
Pa Ratel het ‘n knapsak vol heuning gehad wat hy in sy slaapkamer gebêre het.
Elke môre wanneer hy die huis verlaat en Ma Ratel in die kombuis besig is en hul dogtertjie, Willemientjie, ewe soet in die huis rondspeel, is klein Taaiman self ook baie besig. Hy wag net tot almal uit die slaapkamer is en gaan sny dan met sy knipmes vir hom ‘n stuk heuningkoek af, wat hy dan in sy sak druk. Dan loop hy ewe doodluiters uit die huis uit om dit êrens buite op ‘n stil plekkie waar niemand hom kan sien nie, ewe smaaklik te gaan sit en opeet.
Na ‘n dag of wat het Pa Ratel agtergekom dat sy heuningsak ligter geword het. Hy kon dit nie begryp nie en roep toe vir Ma Ratel en sê: “Hier gebeur iets snaaks. Die heuning kry voete.”
Nou wat kan jy verwag?” sê sy. “Jy laat daardie klein niksnuts van ‘n Willemientjie oral in krap. Sy doen net wat sy wil en jy glo my nie as ek kla nie.”
Toe stap Ma Ratel met ‘n kwaai frons op haar gesig en met haar neus in die lug by die deur uit en sy gaan gee die arme, onskuldige Willemientjie ‘n deftige loesing.
Gedurende die volgende paar dae het Pa Ratel se heuning in die knapsak nog maar steeds verminder. Dit het vir almal gelyk of Pa Ratel daar niks aan kan doen nie, maar niemand het geweet hoe hard hy daaroor loop en dink nie.
Een môre, net toe die ratels hul ontbyt klaar genuttig het en die familie nog aan tafel sit, haal Pa Ratel ‘n stuk pruimtabak uit sy broeksak uit en sê: “Leen my jou knipmes asseblief, seuntjie.”
Klein Taaiman haal toe sy mes uit sy sak en gee dit vir sy pa. Pa Ratel maak toe die mes oop en hy sien en voel hoe taai die mes se lem van die heuning is. Taaiman besef dat hy uitgevang is en hy sit kliphard en dink watter leuen nou sy bas kan red.
Pa Ratel spring op en kry hom beet. “Nes ek gedink het. Dis jy wat my heuning steel, né!”
“Daar het jy dit al weer!” skree Ma Ratel. “Jy beskuldig hom voor jy weet of dit waar is. Jy gee hom nie eers kans om iets te sê nie.”
“Daar’s geen praatjies nodig nie,” sê Pa Ratel. “Die heuning op sy mes vertel mos vir jou die storie.”
“Maar dit is geen heuning nie,” sê Taaiman toe hy sien sy ma trek weer vir hom party. “Dis maar net soet gom wat ek gister langs die spruit gekry het.”
“Soet gom?” sê Pa Ratel. “Nee kyk, ek is darem ouer as jy en ‘n boom wat soet gom dra, het ek nog nooit gesien of van gehoor nie.”
“Wel, dan het jy nou van een gehoor,” sê Ma Ratel op knorrige trant. Dit wys jou net hoe vernuftig hy is. Laat staan hom. Hy sal jou daardie boom gaan wys.”
“Ja, ek sal vir Pa die boom wys,” sê Taaiman, nou al weer ewe parmantig.
“Goed, ek gaan nou ander werk doen, maar vanmiddag gaan wys jy vir my daardie boom, of ek wys jou iets.”
Toe sy pa uit is vra sy ma: “En wat gaan jy nou doen, seuntjie?”
“Ek gaan hom die boom wys, Ma. Gee my net ‘n ander knipmes, dan sal Ma sien.”
Met die mes in die hand draf Taaimantjie toe na die spruit en kies vir hom ‘n jong doringboom uit wat ‘n bietjie apart staan en nie veel gom aan het nie. Met die mes skraap hy elke krieseltjie gom van die boom af tot hy heeltemal seker was dat daar niks oorgebly het nie en gaan toe weer huis toe.
Na ‘n rukkie kom ou Ratel van sy werk af ook by die huis aan en wou toe dadelik die wonderlike boom gaan bekyk wat die soet gom dra. Klein Taaiman neem hom toe daarheen en sê: “Kyk Pa, hier is die boom. Kyk net hoe skoon het ek die soet gom afgeskraap, want dit was baie lekker.”
Pa Ratel bekyk die boom en sien die plekke waar die gom gesit het. Hy probeer om met sy naels nog ‘n stukkie af te kry, maar klein Taaiman het sy werk so deeglik gedoen dat daar werklik nie ‘n krummeltjie oor was waaraan ou Ratel kon proe of dit werklik soet gom was nie.
Hy kyk klein Taaiman aan en vra: “Wanneer gaan hierdie boom weer soet gom dra?”
Sy slim seuntjie antwoord dadelik: “O, elke môre sit die boom vol soet gom. Die son moet in die dag op die boom skyn en dan kom die soet gom in die nag uit.”
“Goed,” sê ou Ratel, “môre vroeg kom ek daarna kyk. Jy raak dit nie aan voor ek hier was nie.”
Met die terugstap huis toe het Taaimantjie al hoe vroliker begin word, want hy het al klaar weer ‘n skelmstreek beplan wat sy bas moes red. Maar ou Ratel het self ‘n plan in sy kop gekry, want toe hy wegstap om te gaan werk, neem hy sy knapsak met heuning saam.
Die volgende môre was ou Ratel al vroeg besig om los werkies op die werf te doen. Klein Taaiman kon toe ongesiens ‘n stuk heuningkoek in die slaapkamer gaan afsny en nog voor ontbyt na die doringboom gaan. Hy meng die heuning met gom en smeer dit oral aan die boom.
Onderwyl hulle besig was om te eet, voel Taaimantjie besonder vrolik en sit gedurig en glimlag. Na ete neem hy toe vir Pa Ratel weer na die gomboom en jou werklik waar, hierdie keer het die boom weer heelwat stukke soet gom gedra! Ou Ratel proe daaraan en sê dit is baie lekker. Toe haal hy ‘n nuwe knapsak uit sy sak en sê: “Vat hier, seuntjie, skraap al die heuning van die boom hierin af en dan bly jy sommer hier en skraap dit elke môre af tot die knapsak vol is.”
“Maar Pa, dit sal ‘n baie lang tyd neem voordat dit vol is,” sê Taaiman benoud.
“Dit maak nie saak nie. Jy kan vir jou hier ‘n huisie maak. Willemientjie sal elke dag vir jou kos bring. Dink net hoe lekker jy dit hier sal hê, sonder iemand wat jou oppas.”
Toe skrik Taaiman groot, maar daar was niks aan te doen nie en hy moes daar bly. Teen die middag se kant waag hy dit om huis toe te gaan. Hy kom daar al huilende aan, maar ou Ratel betoon hom geen genade nie en dryf hom met die sambok terug.
“Hoe kan jy so iets doen?” skree Ma Ratel. “Hy het jou mos die boom gewys en jy het self die soet gom geproe!”
“Dis waar die moeilikheid lê,” sê Pa Ratel. “As ek nie daaraan geproe het nie, sou ek nie geweet het nie. Ek het in my heuning wilde alwynsap gegooi en die gom van daardie boom wat ek geproe het, was galbitter. As Taaiman slim genoeg is om sy pa se heuning te steel, is hy ook slim genoeg en groot genoeg om van nou af vir homself te sorg. Dit sal hom sy vernuf op ‘n nuttige manier laat gebruik.”
Ma Ratel het geraas en te kere gegaan, maar dit het alles niks gehelp nie want Pa Ratel het vas by sy besluit gestaan.
Die oorsaak van die hele moeilikheid was maar net omdat ‘n ratel nie sy mond van heuning kan afhou nie.
Miekie-muis op streepmuisdraai
Op ‘n lae veldstoeltjie voor haar agterdeur sit Griet, die ma-muis, en kouse stop. Die lang stinkgraspol se skaduwee rek al lank oor die grond. Die son sal netnou ondergaan en sy sal moet gou maak om die stopwerk klaar te kry voordat haar man, Piet-muis en haar dogter, Sarie-muis, uit die koringland aankom. Hulle het vroeg vanmiddag al daarheen gegaan met twee okkerneutdop-emmertjies om ‘n bietjie koring te gaan oes.
Griet-muis se seun Gert is ook nie tuis nie. Hy het vanmôre sy beste klere aangetrek en toe na Streepmuisdraai, die muisdorpie agter die bult, gestap om ‘n bietjie die jongste nuus in Muisland te gaan verneem en sommer vir sy ma ‘n bietjie kaas en makaronie te gaan koop. ‘n Muis word darem so moeg om hier op die plaas net van koring te lewe.
Daar kom Piet en Sarie ook net aan. Hulle dra sommer so skeef aan die twee emmertjies vol koring. Piet vee die sweet uit sy snorbaard en sug: “Ag, dis darem maar swaar vir ‘n muis om ‘n boer te wees! Ek dink ons moet ook maar dorp toe trek.”
“Dis glad nie so erg nie,” sê Griet. “As jy heeldag jou meisiekinders se kouse moet sit en stop, sal jy eers agterkom wat swaar is. Sarie, hoe kry jy en Gert julle kouse so flenters?”
“Ag Ma, dit was nou die aand toe ons hier op die werf gespeel het, toe ou Grootoog die uil ons amper gevang het. Net toe ons by die agterdeur aangehardloop kom, stamp boet Gert my om, om eerste in te wees en toe het my kouse so geskeur.”
Griet staan met ‘n sug op om die aandete vir haar muisfamilie te gaan klaarmaak. Hulle sal vanaand maar weer met koringpastei tevrede moet wees.
Na ‘n rukkie kom Gert ingestap en sit ‘n paar pakkies op die tafel neer. “Naand Pa, naand Ma, naand Sus,” groet hy.
“Naand Gert,” groet sy pa. “Maar waarom kom jy so laat? Weet jy nie dat ou Swartjan, die boer se kat, saans hier naby die koringland in die vlei rondloop nie?”
“Ag ja,” sug sy ma, “muiskinders grootmaak is nie ‘n maklike taak nie.”
“Maar Pa, ek moes byna die heeldag toustaan voor ou Rietrot se winkel om hierdie stukkie kaas in die hande te kry. Die dorpsmuise staan sommer so ’n lang ry tot wie weet waar in die straat. Die ou staan met sy krom neus agter die toonbank en byt vir elkeen net so ’n klein blokkie af. Hulle sê al die fabrieke in Muisland staak en daar gaan hongersnood kom.”
“Het jy vir my suikerklontjies gebring?” wil Sarie weet.
Spoedig sit die hele muisfamilie om die tafel geskaar en geniet ‘n heerlike aandete van fyngeknibbelde kaas oor ‘n skeppie koringpastei gestrooi. Daarna haal Gert uit sy baadjie se binnesak ‘n uitgawe van Die Muislandse Dagblad en begin die nuus hardop voor te lees, terwyl sy ma en Sarie solank die skottelgoed was. Sy pa stop sy pyp vol wilde-alsblaartjies en pof dat die blou dampe so tussen sy yl snorbaard deur walm.
“Die hele Streepmuisdraai is in rep en roer,” vertel Gert. “Omtrent al die muise van die dorp was vandag voor ou Skeerbekmuis se winkel om nuwe klere te koop. Almal praat net van die hoë meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, wat volgende week ons dorp gaan besoek. Luister net, hier staan dit in die koerant ook.” Hy lees: “Sy hoogedele meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, en mevrou Minnie-muis, wat met hulle twee dogters ‘n reis deur Muisland doen, sal aanstaande week ook die dorpie Streepmuisdraai besoek. Hulle sal…”
“Allawêreld!” skree Sarie tussenin. “Ons gaan ook soontoe, né Pa?”
Piet klop sy rietpyp teen sy molvelskoen uit en sê stadig: “Ag, wat sal ons ou plaasmuise nou daar by so ’n hoë meneer gaan maak?”
Maar Griet, sy vrou, laat haar hoor: “Ag ja wat, ou man, ek dink ons kan gerus gaan, want ons kinders het nog nooit so ’n hoë muis uit die adelstand gesien nie.”
Die gevolg was dat Piet die volgende dag sy ou Fordjie onder die haak-en-steekbossie uittrek om met sy familie dorp toe te ry om nuwe klere te gaan koop. Gert pomp die bande op wat al pap geword het van die lank staan.
“Moenie die regtervoorwiel so hard pomp nie,” sê sy pa. “Die soetdoringgom waarmee ek sy barste toegesmeer het, klou nie te goed nie en as die wiel op die pad dorp toe bars, dan sit ons. Die muiskontroleur sal ons nie ‘n permit vir ‘n nuwe een gee nie.”
In die dorp is Griet en Sarie in ou Skeerbekmuis se modewinkel besig om deftige rokke aan te pas. Piet en Gert en ou meneer Kakierot die spekulant, staan op die stoep die land se muissake en bespreek.
Toe Piet die aand weer huis toe ry, was die geslepe meneer Skeerbekmuis ‘n hele klomp muissente ryker en Griet en Sarie het elkeen ‘n nuwe rok gehad.
Die volgende oggend het Piet-muis en sy seun ‘n klompie vars koringare gaan afpluk en dit toe na ou Witrot se meul by die watervoor geneem om te laat maal. Ou Witrot staan met sy arms in sy sye geplant. Hy het ‘n wit voorskoot aan. Hy staan hulle in die deur en inwag en groet ewe vriendelik.
“Kyk Witrot, ek wil spogmeel hê, en dit moet spierwit wees, want dis vir die besoek van die hoë meneer Miekie-muis, hoor.”
“Die miel, hy sal goed wies soes altyd, miester Piet-muis, maar ekke kan nie sief die miel nie. Ekke sal muistronk toe gaan!” Hy trek sy skouers op en sy stert swaai heen en weer soos hy beduie.
Griet die ma-muis moes toe maar growwe beskuit bak vir padkos. Toe die groot dag aanbreek, was alles gereed. Piet ry met sy ou Fordjie al met die muispaadjie langs na Streepmuisdraai. In die dorp gaan hulle eers by nig Vaalmuis aan en trek daar hul beste klere aan. Daarna stap hulle na die hoofstraat, want Piet is bang om in so ’n groot gewoel te bestuur.
Die hele Streepmuisdraai is reeds in rep en roer en al die muise van die naburige muisdorpe het ook gekom om die hoë besoeker te sien. Piet stap met sy familie na die stadsaal waar die meeste muise saamdrom. Jy sien net beentjies en stertjies roer en almal gesels opgewonde deurmekaar. In die lug bokant die dorp draai ‘n paar vliegtuie rond en die muiskindertjies sit laggend op hul agterpootjies daarna en kyk.
Meteens kom die geroep: “Gee pad voor, hulle kom!” Die muise gaan staan eerbiedig aan die kant van die straat en kyk nuuskierig na die groot blink motor wat stadig aangery kom. Meneer Miekie-muis en mevrou Minnie-muis sit agter in die oop voertuig en hul twee dogters sit voor langs ‘n deftige klein skeerbekmuisie wat die motor bestuur. Hulle wuif vriendelik vir die muise en almal skree hard hoera! Meneer Miekie-muis se keil sit skeef op sy kop en mevrou Minnie-muis lag met wyd-oop mond. Daarop begin die dorpsorkes van Streepmuisdraai ter ere van die hoë besoekers die Muislandse volkslied speel en almal staan eerbiedig stil.
Voor die stadsaal hou die motor stil en meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, gaan staan regop en hou ‘n toespraak terwyl al die muise kort-kort hande klap en skree.
“Wat sê hy, Pa?” wil Gert weet. “Ek kan niks ver-staan wat hy sê nie.”
“Hy praat die muistaal van Rottedom. Hy kan nie ons Streepmuise se taal praat nie.”
Daarna het al die muise nadergestaan en om die motor heen gedrom om goed te sien hoe dié hoë familie lyk. Meneer Miekie-muis het selfs met die vernaamste inwoners ‘n paar woorde gepraat voordat hulle weer na die volgende muisdorp vertrek het.
Laat die middag het Piet-muis en sy familie weer in hulle Fordjie na die plaas teruggery. Piet was baie bly toe hulle weer in hulle muishuisie onder die stinkgraspol kon inkruip, want hy het baie moeg gevoel.
“Ag wat,” het Sarie gesê toe hulle eindelik die aand gaan slaap, “hulle het vir my maar net soos gewone muise gelyk.”
“Ja,” sê Gert, “net hul ore en monde is baie groter as ons s’n. As hulle vir Pa en Ma en ons twee so mooi aantrek en in so ’n blink motor laat ry, sal ons baie mooier lyk.”
“Oos wes, tuis bes,” was Piet die pa-muis se gedagte.
Langs die waterkuil
Op ‘n oorhangende takkie van die ou groot vaarlandswilgerboom, aan die kant van die waterkuil, sit Bloutjie die visvangertjie. Sy loer aandagtig na ondertoe. Sy is besig om te jag, want haar kleintjies is al baie honger. Die son sit al hoog en sy het vanmôre nog niks gevang nie.
“En toe blou rower, wat probeer jy in die hande kry, vissies of paddatjies?” hoor sy skielik ‘n growwe stem van die oorkant van die kuil af. Sy draai haar koppie dwars en sien ou Skurwevel die brulpadda, aan die oorkant van die water sit. Hy kyk haar kwaai aan met sy twee uitpeul-oë en sy dik keelvel gaan stadig op en neer.
“Net wat voorkom,” sê Bloutjie.
“Kyk hier, jy hou jou snawel van die klein paddatjies af. Daar’s genoeg vissies en goggatjies om te vang. Ek laat nie toe dat jy nog meer van ons paddageslag uitroei nie!” kwaak ou Skurwevel met ‘n hol stem.
Op daardie oomblik sien Bloutjie uit die hoekie van haar oog twee klein paddatjies speel-speel uit die diep water opduik en sy fladder vinnig neer. Toe sy weer opvlieg, het sy een van hulle in haar bekkie en laat vat vinnig met die spruit af na haar nessie onder die wal.
“Kwaak, kwaak, wag maar, wag maar!” hoor sy ou Skurwevel skree onderwyl sy wegvlieg. Die ou brulpadda blaas hom nog dikker op en sit kwaai en brom.
“Nou wat gaan hier aan, ou Skurwevel? Waarom sit jy so boos en snork?” hoor die ou meteens ‘n stem reg bokant hom. Hy loer boontoe en sien Swartkop die laksman, op ‘n dun wilgertakkie sit. “Wat skeel dan, ou kêrel, dat jy so kwaai sit en brom?”
“Dis daardie blou visvanger!” skree ou Skurwevel. “Sy lol deesdae om net paddatjies te vang en ek het vir haar gesê om haar snawel van hulle af te hou. Sy’s nie baas van die kuil nie. Ek is die baas, die koning van die paddas!” Hy blaas hom geweldig op en sy geel keelvel roer vinnig op en af.
“O, is dít jou moeilikheid?” sê Swartkop en stryk sy skerp snawel teen ‘n wilgertakkie skoon. “Maar kan ek jou nie met hierdie lastige visvangertjie ‘n bietjie help nie?”
“Maar hoe sal jy my nou kan help?” wil ou Skurwevel weet.
Swartkop krap met sy pootjie agter sy oor en dink ‘n rukkie lank diep. Eindelik antwoord hy stadig: “Kyk Skurwevel, as ek nou hier êrens wegkruip en Bloutjie weer iets kom vang, dan kan ek haar dalk lelik skrikmaak, sodat sy nie sommer weer hier naby die kuil sal kom nie. Hoe klink dit?”
“Gaaf, gaaaaf!” kwaak ou Skurwevel en duik met ‘n harde plomps die kuil in.
‘n Klein rukkie daarna kom Bloutjie weer niksvermoedend by die kuil aangevlieg en gaan op ‘n droë stomp aan die kant van die water sit. Sy hou die riffeltjies van die water dop. Ja, daar duik weer ‘n paddatjie oor die opdrifsels. Bloutjie skiet vinnig af en pak hom in haar bekkie. Maar meteens is Swartkop die laksman by en gryp die paddatjie in sy kloue vas, terwyl hy haar met sy vlerke klap en venynig pik. Verskrik los Bloutjie haar prooi en gaan weer op die stomp sit.
“Jou dief!” skree sy. “Dis mos myne; ek het hom gevang!”
“Hier is die sterkste man baas!” skree Swartkop en hy verdwyn met sy gesteelde buit tussen die bome.
“Ja so, ja so!” hoor Bloutjie skielik weer die growwe stem van ou Skurwevel en sien hoe hy ‘n endjie van haar af uit die water klouter en sy groot brulpaddamond wyd ooprek soos hy lag. Daarop vlieg sy weg na haar nessie waar sy verdrietig gaan sit en dink aan die gemene daad wat Swartkop aan haar gedoen het.
Ou Skurwevel sit nog plesierig en dink aan die gawe poets wat hy en Swartkop vir Bloutjie gebak het, toe hy meteens sy twee uitpeuloë benoud knip en sommer halsoorkop die water intuimel. Vlak langs die waterkant gaan oom Grysveer, die hamerkop sit. Hy sien hoe die water nog kabbel waar ou Skurwevel in is en sê: “Wag maar, ou maat, een van die dae gaan jy nog hier by die kuil jou rieme styfloop.”
Oom Grysveer gaan doodstil in die vlak watertjies staan om te begin paddatjies vang. Hy loer na die droë stomp en na die oorhangende takke van die wilgerboom. “Ek wonder waar nig Bloutjie dan vanmôre bly,” dink hy. “Sou daar nie miskien iets by haar nessie verkeerd wees nie?”
Nadat die ou hamerkop ‘n paar paddatjies gevang en ingesluk het en Bloutjie nog nie opdaag nie, word hy naderhand onrustig en vlieg met die spruit langs na haar nessie toe. Bloutjie kyk verbaas op, waar sy op ‘n oopgespoelde boomwortel onder die wal sit en oom Grysveer skielik voor haar op die droë sandbank sien staan.
“Môre oom Grysveer,” groet sy.
“Môre Bloutjie. En toe, waarom kom jag jy nie vanmôre by die kuil nie?”
“Ek was al daar, oom Grysveer.”
“O so, en het jy dan so vroeg al genoeg gevang?”
“Nee, nog net een klein ou paddatjie. My kleintjies is nog honger.”
“Maar waarom het jy dan nou al opgehou met vang?”
Bloutjie vertel met ‘n verdrietige stemmetjie hoedat die nare Swartkop haar beroof het en dat ou Skurwevel ook ‘n handjie daarin gehad het.
“O so, né!” sê oom Grysveer. “Dis daarom dat hy flussies so benoud die water ingetuimel het toe ek daar aankom. Maar nou kom jy saam kuil toe en ons sal sien of Swartkop dit weer sal waag.”
‘n Rukkie later sit Bloutjie weer manhaftig op die droë doringstomp aan die waterkant en oom Grysveer staan ewe ongeërg langs die stam van die ou vaarlands- wilgerboom.
“A!” dink Swartkop die Jan Fiskaal, waar hy hoog in die wilgerboom ‘n geruime tyd al die kuil sit en dophou. “Daar is die onnosele visvanger al weer. As ek nou net ‘n klein bietjie geduld gebruik, kry ek weer ‘n paddatjie present.”
Meteens duik Bloutjie van die stomp af en spartel met ‘n paddatjie in haar bekkie terug. Dog die volgende oomblik is Swartkop by en skree al sommer: “Gee maar hier!” terwyl hy sy krom snawel dreigend oopsper. Maar skielik gewaar hy ‘n tamaai skaduwee oor hom sweef en ‘n groot, grys vlerk raps hom skrams raak, sodat hy plat op sy maag in die water te lande kom.
“So ja!” sis oom Grysveer. “Jy wil mos jou lyf hier kom watervoël hou. Toe, swem nou!”
“Dis nie reg nie, dis nie reg nie!” kwaak ou Skurwevel skielik van die anderkant van die kuil af, terwyl hy bekommerd op die sandbank sit en kyk hoe sy vriend Swartkop kant toe spartel. Hy vergeet skoon sy hamerkopvrees en kwaak weer: “Skande, skande!” Maar meteens gewaar hy hoe oom Grysveer op hom afduik en gee ‘n benoude kwaak, terwyl hy probeer om die water te bereik. Oom Grysveer kry hom aan die agterpoot beet en begin om heen en weer oor die kuil met hom te vlieg.
“Wat wil jy met my doen?” skree die ou benoud met kop na onder. “Dink jy, jy kan my opvreet, ek, Skurwevel die paddakoning?”
“Nogal astrant, né!” brom oom Grysveer. “Wag, hy sal nou-nou ‘n ander deuntjie sing!” en hy styg met hom hoër die lug in.
“Ag, moet my tog nie daar regoor die harde klipplate laat val nie, asseblief tog!” soebat die ou brulpadda nou.
“O jy word nou mak, né?” antwoord oom Grysveer en vlieg met hom langs die spruit af totdat hy naderhand regoor ‘n ander waterkuil kom. “Van nou af kan jy maar hier koning kraai. By ons kuil is ek die koning!”
Daar trek ou Skurwevel skielik deur die lug en keer so ’n paar slae om voordat sy maag met ‘n harde slag die water tref. ‘n Paar oomblikke lank dryf hy bewusteloos op sy rug en begin dan om weer floutjies te skop.
Terug by die vaarlandswilgerboom langs die waterkuil, kry oom Grysveer vir Bloutjie weer op die droë stomp aan die jag.
“En toe,” vra hy, “wat het toe van die laksman geword?”
“Hy het darem uitgekom, oom Grysveer. Ek skree toe vir hom ‘n mens vang nie so paddas nie, maar hy was baie haastig om weg te kom.”
“Nou sal ons rustige dae hier langs die waterkuil hê, sonder ‘n ou Skurwevel wat die ander paddatjies kan waarsku om in die diep water weg te kruip as ek kom,” meen oom Grysveer.
“Ja nee, oom Grysveer, en sonder ‘n ou Swartkop-laksman wat my kleintjies se kos kan afneem,” en Bloutjie kyk dankbaar na oom Grysveer, wat rustig in die vlak watertjies staan en droom.
Bewoners van Boskop
Oor die ruie boskop breek die dag. Reeds begin die bome swart vertoon teen die vinnig-verhelderende oosterlug daaragter. Maar vroeg reeds, nog voordat die lug selfs die geringste teken van die naderende dag verraai het, het Slink, die sekretarisvoël wat nou soos ‘n roerlose nagwag bo-op die kruin van ‘n groot, plat haak-en-steek links van die boskop vertoon, sy nek ‘n slag lank uitgerek en sy vere effens geskud. Toe het hy sy kop maar weer onder sy vlerk ingesteek en ‘n rustige môreslapie geniet.
Nou dat die môrelig al haas deur elke digte bossie straal, laat Slink nie meer op hom wag nie. Hy lig sy vlerke, wip met ‘n sprong oor die boom se kant en begin met kragtige vlerkslae al hoe hoër styg. ‘n Lekker stil môre dié, met alle tekens van ‘n warm dag wat kom. Slink voel opgeruimd daaroor; hy voel of hy sommer vir die pret kan styg en styg tot wie weet waar! Toe hy hoog oor die boskop in die blou lug hang en die uitgestrektheid van sy koninkryk betrag, pak ‘n gier van vrolikheid hom beet en hy begin te brul… brul… brul… van pure genot.
Die môreson bak warm teen die klippe op die boskopkroon. Bo-op die gelykte van die hoogste rots draai Stompie, die dassie sy koppie skuins na bo en sy blink-swart ogies bespeur die rustige vlieër daar in die bloute. Helder en welbekend klink die sekretarisvoël-gebrul vir hom: “Wwwoe-oe-oe-oe! Wwoe-oe…!”
Hy ken Slink. In sy enigheid is hy bly dat hy nie een van die slange is wat hier in die vlaktes om die boskop boer nie, want dan sou sy lewe maar onrustig gewees het.
Slink se stoom is eindelik voldoende afgeblaas. In groot sirkels sak hy stadig grond toe en kies die sonkant van die boskop. Daar stryk hy in die vlakte neer en stuit sy vaart met ‘n wiploop van ‘n goeie tien tree, met die vlerke nog steeds wyd gespan soos dié van ‘n vliegtuig.
Die jag begin. Met afgemete treë stap hy nou die vlaktes deur, baie deftig gekleed in sy blou baadjie en swart broekie. Die klossie agter sy kop is nog stewig en dik. Hy is nog in die fleur van sy dae, hierdie Slink, en hy dink ook nou nie meer aan die droewige nag kort voordat hy as kluisenaar sy intrek in die vlaktes rondom die boskop geneem het nie. Of woel daar soms herinneringe deur die klein vaal koppie, waanneer hy stil deur die vlaktes stap sonder om links of regs te kyk? ‘n Sekretarismannetjie so jonk soos Slink, sou lankal reeds ‘n nuwe maat gesoek het. Maar hy doen dit nie; dit skyn asof hy nog te goed onthou.
Vier jaar gelede toe hy nog ‘n pas uitgegroeide jong mannetjie was, het hy een middag in die kameelvlaktes ten weste van die boskop vir Slim, ‘n jong wyfie ontmoet. Die volgende aand het hulle saam op die kruin van ‘n groot ou kameeldoring geslaap. Dit was ‘n woeste nag en die wind het donker wolkmassas deur die lug laat snel. Eindelik het die storm losgebars en strome water het neergesjor. Maar meteens het ‘n blits met sidderende gekraak Slink se jong wyfie langs hom weggeruk… Hy het veskrik die duisternis ingewip en homself in ylende vlug op sy breë vlerke die nag ingewaag…
Die volgende môre het die dassie op die boskopkruin die vreemdeling bespeur, waar hy ingetoë op die plat kruin van die haak-en-steek gesit het. Vier jaar nou al en die kluisenaar het die heerser van die boskop geword.
Slink maak vanmôre ‘n klopjag op alles wat voorkom: goggas, sprinkane, muise en ander diertjies wat dom genoeg is om hulself te vertoon. Daar snel nou al weer ‘n vaal graskoggelmander oor die kaalte na ‘n wag-‘n-bietjie, stert in die lug, en die sand spat om hom heen! Hy hoor die geklap van reusepote en ‘n groot skaduwee val oor hom. Dan trap Slink met een hou alle lewe uit hom uit voordat hy hom as ‘n lekker happie na binne wurg. So gaan dit telkens. Nou stap hy weer deur ‘n hoë kol stinkgras. “Woerts!” vlieg ‘n grasvoëltjie al skreeuende amper onder hom uit. Slink buk en soek daar rond. Ja-nee, hier is dit! Uit ‘n oop nessie haal hy vier klein voëltjies. Hy smul lekker.
Met die klim van die son begin Slink se jaglus bedaar. Een, twee maal staan hy besluiteloos stil. Dan spring hy weg, asof hy resies hardloop en styg na ‘n paar tree op, reguit na die plat haak-en-steek toe waarop hy van plan is om tot kort voor sononder heerlik met ‘n vol maag te staan en droom van ‘n groot slang wat hy nog wil vang voordat die son vanaand agter die westerrant verdwyn.
Die hele môre het Stompie op die rotspunt in die son sit en bak. Een vir een het sy familie ook verskyn; eers die wyfie om te loer of alles pluis is, toe ‘n kleintjie. Stompie het vir tydverdryf gedurig die sekretarisvoël probeer in die oog hou, waar hy soos ‘n rustige wandelaar die vlaktes deurkruis het hier aan die boskop se sonkant. Indien die dassie dit kon doen, sou hy seker ook altyd tel hoeveel maal in die voormiddag Slink iets vang, want Slink is die enigste bewoner van die boskopomgewing wie se teenwoordigheid vir hom ‘n genot inhou. Hy hou daarvan om dag in, dag uit die onverstoorbare kluisenaar hier vanaf sy sonplek te betrag. Maar die ewige spul katlagters wat gereeld tot sy ergernis hier in die stamvrugtebome kom sit en skater soos dol goed, kan hy nie verdra nie. En dan het hulle gewoonlik nog die vermetelheid om hier so rakelings oor sy kop heen te vlieg.
So sit hy en dink toe hy Slink sien neersak op sy boom en dit is vir hom die teken dat sy onderaardse kamers nou voldoende verwarm sal wees. Haastig word sy wyfie en die piepende kleinding deur die skeur ingejaag, want êrens in sy dassiehart vreet nou skielik ‘n vrees wat gereeld ontstaan presies wanneer Slink elke middag laat na sy haak-en-steek toe pyl. Die dassie wag dan geen oomlik langer nie. Kort voor sononder waag hy dit dan eers weer om versigtig ‘n swart neusie deur die donker openinkie te steek en te luister en te loer en hom eindelik dan saggies na buite te begewe, waar hy ook eers ‘n hele ruk doodstil sit met sy kop na die opening toe, gereed om by die geringste teken van onraad soos ‘n vaal blitsie weer daarin te verdwyn.
Ongeveer tweehonderd tree van die boskop af groei die hoë gras welig om ‘n jong blinkblaarboompie en verberg ‘n ronde tuitmiershoop geheel en al. Hierin boer ‘n yslike geelslang. Die groot kol gras is so dig dat hy nooit nodig het om elders te gaan kos soek om hom dan op die kaal vlaktes in lewensgevaar te begewe nie, want Slink se skerp oë sal hom dadelik van uit die lug daar raaksien. In die voormiddag maak hy jag op grassprinkane, toktokkies en miere, maar sorg dat hy altyd in die nabyheid van die miershoop en onder die digste gras bly. Hy ken die verskrikking wat hier rondwandel in ‘n swart broekie en blou baadjie.
Wanneer dit middag word, seil hy elke maal versigtig na ‘n veilige opening vanwaar die plat haak-en-steek sigbaar is. Indien Slink dan daar bo-op troon, kan ou Gele maar gerus wees en dan pyl hy uit die digte veiligheid uit in oorhaastige vlug na die rotse van die boskopkruin, waar die heerlike middagson so aanloklik blaker. Bo-op ‘n groot plat klip bak die son alle sekreatisvoëlvrees uit sy geel lyf uit en lê hy lomerig met sy gitswart ogies na die slaper op die haak-en-steek en tuur.
‘n Ruk voor sononder wip Slink weer van sy boom af om na die voorwerp van sy drome te soek. Kruis en dwars deurstap hy die soetdoringveld, maar vergeefs. Sy geliefkoosde jagveld is aan die oostekant van die boskop omdat die son hier die warmste braai en gevolglik hier meer slange is as op ander plekke. Maar Slink het reeds vier jaar lank hier onder hulle gevang. Baie van hulle het al hees hul laaste noodsein geblaas wanneer sy genadelose pote hulle woedend teen die grond trommel-stamp en skop. Daarom het ‘n aantal van die reptiele die boskopveld ontruim en ooswaarts verhuis, waar hulle nou ‘n salige slanglewe in die digte ruigtes op die wal van ‘n breë palmietrivier voer. Die weiniges wat agtergebly het, is uiters versigtig en slu.
Slink het lanklaas van sy geliefkoosde kos geniet. Dit was toe hy een middag met gespande vlerke op ‘n klein ou bakkopie afgestorm het. Hy het eintlik skaam gekry dat hy die skadelose ou dingetjie so woes toegetakel het. Die voorvalletjie het net opgekropte lus aangewakker en daarom soek Slink vanmiddag so naarstiglik na die voorwerp van sy hongerlus. Maar die son dreig eindelik om agter die verre rante weg te raak en Slink is verplig om na sy haak-en-steek terug te sweeg.
Toe die helder môreson weer eens vriendelik teen die boskop bak, verskyn Stompie soos gewoonlik op sy plat klip om die komende dag te begroet. Werktuiglik deursoek sy ogies die bloute maar hy gewaar nie vanmôre die gestalte van die sekretarisvoël nie. ‘n Blik na die haak-en-steek verban dadelik die gedagte dat Slink hom moontlik kon verslaap het. Toe vou hy maar sy gladde, swart pootjies onder sy wollerige lyfie in en laat twee dromerige ogies oor die brosdoringvlakte dwaal. Die veld is taamlik oop hier aan die boskop se oostekant en gewoonlik kan hy Slink se bewegings hiervandaan goed volg. Die statige wandelaar is egter nêrens te sien nie.
Vanmôre vroeg – die skemerte het nog oor die vlakte gehang – het Slink sy vlerke oopgesprei en sonder om sy gebruiklike plesiervlug te onderneem, laag oor die boskop gevlieg om die voormiddag aan die westekant daarvan te jag. Hy voel honger want die peuselkossies voed nie lank nie en dit is hoog tyd dat hy weer ‘n slag ‘n heerlike slang raakloop, dink hy, onderwyl hy die ruigte van ‘n vals vleitjie met groot verwagtings deursif.
Op hierdie oomblik het Stompie al die raaisel oor Slink se verdwyning laat vaar en baljaar uitgelate met sy familie oor die steiltes van die enkele groot klippe rond.
By die blinkblaarboom waar die tuitmiershoop skuil, voel die geelslang vanmôre sleg omgekrap. Hy het vannag op die vlakte vergeefs na muise gesoek en het kort voor dagbreek boosaardig in die tuitgat afgeseil. Soos gewoonlik verskyn sy klein spits koppie met die eerste strale van die son in die tuit en die twee venynige ogies soek na die teenwoordighed van Slink daar bo in die lug. Maar hoe hy ook al luister, weerklink daar vanmôre geen gevreesde gebrul uit die hoogte nie. Versigtig seil hy uit by die opening, vanwaar hy die haak-en-steek gereeld in die oog hou. Ook nie! Hy laat die probleem van Slink se verdwyning nie so gou soos Stompie vaar nie. Dis immers sy doodsvyand wie se bewegings hy moet dophou en ‘n knaende onrus pak hom beet onderwyl sy stertpunt kwaai in die sand heen en weer kronkel.
Eindelik skyn dit asof daar rustigheid kom. Hy kry ‘n plan want hy vertrou die skielike verdwyning van Slink glad nie. Hier op die vlakte sal hy vandag nooit veilig voel nie. Uit ondervinding weet hy dat Slink nooit tussen die klipsplete na hom sal gaan soek nie. As sy vyand nou vandag weer die gier kry om ure lank daar bo rond te sweef en elke bewegende ding hieronder dop te hou soos ‘n ruk gelede toe hy byna ‘n halfdag roerloos onder ‘n yl bossie opgerol moes lê…wat dan?
Skielik begin die geelslang vinnig koersvat na die boskop toe. Amper oorhaastig, maar tog versigtig, kies hy sy pad al onder enkele klein boompies en digte graskolle langs. Hy is al oor die helfte van die afstand…
Meteens gaan lê hy doodstil in die gras. Hy lig sy koppie stadig op en loer oor die graspol na die boskop. Tussen die skuinste wei die dassies. Baie versigtig nou, onderwyl sy linkeroog die drie gedurig dophou, begin die slang na regs te seil om agter ‘n digte ghwarrieboompie tussen hom en die dassies te kom. Hy gly vinnig dog geruisloos op die boompie af en die blare ritsel hoorbaar toe sy voorlyf in die lower duik…
Meteen fladder ‘n katlagter bo hom uit en breek met sy harde “Ga! Ga! Ga!” los, onderwyl hy vinnig om die boompie begin sirkel. Uit alle oorde kom die wit gedaantes aangeswerm en binne ‘n paar tellings maal ‘n stuk of twaalf voëltjies met ‘n vreeslike lawaai al om die ghwarriebos. Die slang sit goed verskuil tussen die blare, sy lyf om die stam gedraai. Sy ogies blits venynig en die dun tongetjie glip kort-kort vinnig heen en weer uit sy bek.
Die klomp lawaaimakers verdwyn ewe skielik as wat hulle gekom het en na ‘n paar oomblikke is alles weer doodstil. Toe die geelslang deur die blaregordyn na die groen streep gras onder die rotse loer, het die dassies reeds spoorloos verdwyn. Vies glip hy uit en lê manhaftig die laaste endjie af na die plat klip daar bo waar die warm son weer die vrede in sy gemoed moet herstel.
‘n Paar oomblikke later lê hy lomerig uitgestrek, skaars ‘n tree van die donker skeurtjie in die rots waar die dassie-drietal flussies haastig deurgeglip het. Hul reuk kleef nog aanloklik-tergend hier aan die klippe en herinner die ou gele gedurig aan sy mislukte poging. Hy kry amper lus en daal in die donker opening af, maar die instinktiewe vrees vir alles wat vreemd is weerhou hom en ‘n toenemende vaakgevoel begin hom langsamerhand oormeester.
Aan die anderkant van die boskop het Slink nie te sleg gevaar nie. Die son het wreed op die aarde neergeskroei en gevolglik was daar volop singende goggas en sprinkane in die gras. Die kwaai hitte het veroorsaak dat die ou nie baie lus gevoel het om sy jagterrein vanuit die lug te deursoek nie. Die meeste vinnige slange gaan met ‘n stapjag gewoonlik verlore. Maar tog het Slink reeds drie lomp ou skaapstekertjies een na die ander op ‘n kaal vlaktetjie oorrompel waar hulle die warm son opgesoek het om te lê en droom. En nou voel hy al weer so bykans versadig. Hier duskant het hy nou naasteby alle maklik-bekombare slaggoedjies vankant gemaak en gaan nou weer ‘n slag oorkant in sy ou jagveld probeer.
Hy buk weg en begin opvlieg, styg tot ‘n goeie hoogte en draai ‘n paar maal stadig bokant die boskop. Sy oë loer skerp na onder. Meteens duik hy uit die lug reg op die paar rotse af. Dit lyk asof hy hom daarteen gaan verpletter; maar nee, skaars ‘n meter bokant die plat klip skiet hy reguit verby. Die slang, ru uit sy slaap gewek, spring penregop en sis verskriklik. Hy het hom koud geskrik en in sy nood vergeet hy geheel en al die veilige rotssplete. Hy vaar in aller yl teen die skuinste af, reguit na die blinkblaarbos. Slink merk met voldoening dat sy bekende skrikmaaktaktiek weer geslaag het. Hy draai in klein sirkeltjies bokant die voortvlugtende slang rond totdat hy op die gelyktetjie kom. Toe suis die sekretarisvoël soos ‘n warrelwind op sy prooi neer. Die slang lig haastig sy kop op om te pik, maar ‘n fluitende vlerkslag klap in die verbysnel die geel koppie half-bedwelmd teen die grond. Slink stuit vinnig sy voorthollende vaart en vlieg met uitgestrekte vlerke die slang by. Dis ‘n geblaas van die ander wêreld! Die ou gele probeer nie meer voortseil nie, maar verdedig hom met alle mag. Tevergeefs! Teen ‘n valk of ‘n meerkat sou hy kon volhou, maar die swaarlywige Slink kom met sy skurwe pote meedoënloos op sy rug neer. Hy probeer telkens sy kop oplig om te pik, maar hy word onmiddellik platgeslaan. ‘n Paar geweldige skoppe laat die geelslang inmekaar krul. Toe voer die sekretarisvoël ‘n dodelike trippeldans op die slangpens uit. Na enkele oomblikke is dit gedaan…
Slink skud sy vere en stryk hulle effens plat onderwyl hy manhaftig om sy buit heen stap. Skielik gryp hy die slang se middellyf in sy bek en gaan met hoog opgeligte kop aan die hardloop, vlerkswaaiend totdat voldoende snelheid hom die lug inhelp. Hoër en hoër styg hy met sy vrag totdat die boskop daaronder belaglik klein vertoon. Slink se oorwinnaarshart voel opgeruimd. Hy los die slang en skiet soos ‘n pyl agter hom aan. Dan klap sy vlerke weer vinnig en as hy die volgende oomblik stadig grond toe sak, hang die slang weer in sy bek.
Toe Stompie, wat in die donkerte van sy kamers die geweldige rumoer daar buite gehoor het, weer genoeg moed bymekaar geskraap het en baie versigtig in die bek van die rotsspleet verskyn, is alles weer rustig en stil. Hy bespied en beruik die omgewing ‘n paar oomblikke voordat hy hom op die plat klip in die daglig waag. Hy gewaar die sekretarisvoël daaronder. Dié spring eintlik op en af soos hy ruk en skeur en sluk aan die slang! Stompie volg sy manewales met belangstelling totdat die voël na ‘n laaste wurging sy bek teen die grond skoonvee en dan na sy haak-en-steek laat vat om oor sy oorwinning te gaan droom. Toe pak die ou geelslangvrees weer vir Stompie beet. Hy spring haastig om en vlug ylings deur die skeur!
Die son sak al hoe laer, maar nog steeds troon die stil figuur van Slink daar bo-op die haak-en-steek. Hy het vanmiddag laat geen poging aangewend om die vlaktes weer te deurkruis nie. Stompie, wat al weer hoog en droog vanaf sy platkliptroon die omgewing betrag, kyk kort-kort verbaas na die haak-en-steek en wonder waarom die sekretarisvoël dan nie weer gaan jag het nie. Toe die skemer vaal-swart die omtrek begin vul, glip hy ook deur die donker skeur na binne. En die nag sak swart om die boskop toe.
Blounek keer terug
Op ‘n kaalte tussen ‘n lap hoë stinkgras staan Blounek, die tarentaalmannetjie ywerig en skrop. Dit is al naby sononder en daar is dus nie meer veel geleentheid oor om die krop doeltreffend gevul te kry voordat die skemer aanbreek nie. Gelukkig het hy hier op die klein kaaltetjie ‘n droë boomstomp ontdek wat deur rysmiere gevreet word. Hy skrop lustig en pik hulle smaaklik op.
Die tarentaalmannetjie se waaksaamheid verslap egter ook nie ‘n oomblik nie. Kort-kort hou hy op en rek sy nek wantrouig onderwyl hy aandagtig na verdagte geluide luister.
Hy voel nog nie heeltemal tuis in hierdie nuwe soort afgesonderde lewe, waar net hy en sy wyfie mekaar se geselskap deel nie, want hulle het maar skaars ‘n maand gelede, nadat die eerste onwere die droë grasveld begin laaf het, van die swerm af weggedwaal.
Die paartyd het aangebreek en dit is Blounek se eerste ondervinding om self alleen vir sy eie veiligheid en dié van sy metgesel verantwoordelik te wees, want tot dusver kon hy nog op die waaksaamheid van die ou tarentaalmannetjies steun. Gelukkig is daar nou met die koms van die reënseisoen al weer volop sprinkaantjies en ander insekte tussen die graspolle te pikke en die kossoekery lewer geen groot probleem op nie.
Waar Blounek staan en skrop, dring nou saggies ‘n fyn fluitgeluid tot hom deur, “fu-fuuuut, fu-fuuuut”, kort-lank, kort-lank, die onmiskenbare roepsein van sy wyfie by die nes. Hy staak dadelik sy skroppery en antwoord trots maar gedemp, met die kenmerkende pronkroep van die tarentaalmannetjie: “Tjarr, tjat-tjat-tjat-tjarrr…”, net eenmaal, asof hy besef dat ‘n te groot lawaai maklik onwelkome gaste kan naderlok en laat vat dan op ‘n vinnige draffie deur die kol stinkgras. Hy kom weldra aan die kant van die hoë gras op ‘n groter kaalte te voorskyn en steek eers versigtig vas om die omgewing te bespied. Voor hom strek ‘n plaat rosyntjiebosse uit, wat dadelik ‘n verandering in die aard van die veld aandui. In die ruimtes tussen hierdie struike het die soetgras welig opgeskiet, om digte boskasies te vorm.
Blounek kon nie ‘n beter oord vir die paarseisoen gekies het nie. Die ruigte onder die rosyntjiebosse bied goeie skuiling en die oop ruimtes tussenin kan maklik verken word, sodat geen vyand sommer ongesiens ‘n verrassingsaanval kan loods nie.
Uit ‘n opening in die digte lower onder ‘n groot rosyntjiebos, kom Blounek se wyfie te voorskyn. Hy draf na haar toe en pronk ‘n slaggie om haar rond, maar sy steur haar nie veel aan sy liefdesbewyse nie en draf alleen oor die kaaltes weg. Sy het hom geroep om ‘n wakende ogie oor die nes te kom hou, onderwyl sy voor sononder nog eers gou haar krop moet gaan vul, want die honger knaag al sedert die namiddag met kort tussenposes, waar sy stil en geduldig op die eiers sit en broei het.
Blounek loer by die opening in en betrag die vyftien eiers berekenend. Darem goed beskut hier, waar die mooi geel-bruin gespikkelde eiers in die gras-uitgevoerde holte lê. Sy wyfie broei al ‘n week lank en sover was daar nog geen teëspoed nie. Nog maar sowat drie weke, dan kan die kuikens al pik.
Teen sononder is sy al weer terug en dis duidelik dat sy genoeg voedsel raakgeloop het. Die tarentaalpaar kruip saam onder die rosyntjiebos in en die wyfie neem weer haar plek op die nes in, terwyl daar langsaan ook vir Blounek genoeg slaapruimte onder die digte beskutting beskikbaar is.
Net eenmaal in die nag lig die mannetjie onrustig sy kop en kirr wantrouig, as die tergende klanke van ‘n honger jakkals se gehuil in vlae op die nagluggie aangedra kom. Maar die gevaar is veraf en dit raak weer stil en niks hinder die tarentale verder in hul nagrus nie.
Nog voor sonop wei hulle al weer saam tussen die rosyntjiebosse rond, knabbel hier en daar aan sappige jong blare, vang sprinkaantjies en skrop energiek tussen die graspolle rond. Maar weldra moet die wyfie weer na die nes terug, anders word die eiers te koud.
Blounek dwaal nooit ver van die nes af weg nie. Teen die namiddag gewaar hy ‘n wildekat wat behoedsaam deur die ruigte sluip, in ‘n poging om iets helder oor dag op die lyf te loop, nadat hy tevergeefs gedurende die nag gejag het. Blounek weet dat die wildekat nie juis in die eiers sal belangstel nie, maar sy wyfie verkeer in gevaar. Daarom aarsel hy nie ‘n oomblik nie. Hy draf skuins voor die roofdier verby. Die kat het hom gewaar en sak dadelik plat teen die grond, onder die indruk dat die tarentaal nie van hom weet nie. Daarna sluip hy weer versigtig vorentoe, kry die tarentaal af en toe in die oog, waar hy oënskynlik argeloos rondskrop, maar sorg dat hy steeds verder en verder van die nes onder die rosyntjiebos weg beweeg.
Die wildekat is geflous. Die dag het verder sonder ongevalle verloop en so ook die volgende dae daarna.
Uiteindelik wei daar saam met Blounek en sy wyfie ‘n span mollige kuikens tussen die rosyntjiebosse en nou verslap sy waaksaamheid geen enkele oomblik nie. Hulle wei bedags al verder van die omgewing van die nes af weg om vars weiveld te bekom, maar keer altyd teen die namiddag weer huiswaarts om teen sononder almal saam onder die beskutting van die beproefde ou rosyntjiebos in te kruip. Die kuikens word sterk en sal binnekort in staat wees om snags saam in die hoë bome te slaap. Dit sal die bedreigings van die nag heelwat verminder, dink Blounek.
Die voëls is besig om op ‘n gelykte langs ‘n plaat brosdorings uintjies uit te skrop. Dit word tyd om nes toe te versit. Die kuikens wei al verder van die ou voëls af weg en die wyfie moet hulle kort-kort met ‘n gebiedende kirr nader roep.
Hoog in die lug, so hoog dat alleen ‘n klein, vaal stippeltjie in die bloute sigbaar is, hang ‘n vaal kuikendief en speur met sy skerp oë na onder. Hy gewaar die groepie tarentale en sy kragtige vlerke kom flink in beweging.
Skielik waarsku Blounek dringend met ‘n angstige “tjik-tjik”-geluid. Daar is meteens die gesuis van vlerke wat blitsvinnig die lug klief. Die wyfie fluit waarskuwend en laat nael soos ‘n renperd na die beskutting van die hoë gras daar naby, terwyl Blounek met opgepofte vere en gestrekte nek ‘n oorverdowende lawaai opskop. Maar die volgende oomblik was die slag alreeds gelewer. Die groot valk het soos blits, laag oor die toppe van die brosdorings heen geswiep en ‘n naaste kuiken opgeraap. Die ander het eenvoudig net presies waar hulle was in die niet verdwyn.
Dit duur ‘n rukkie voordat Blounek sy oorlogskreet staak en die wyfie weer uit die lang gras te voorskyn kom. Sy fluit saggies en oral op die gelykte verrys skielik weer die gestaltetjies van die ander kuikentjies. Hulle storm gretig op haar toe.
Daardie aand slaap Blounek en sy wyfie onrustiger as ooit tevore en gedurende die nag lig hy verskeie kere die kop om na moontlike gevaarseine te luister. Maar gelukkig gaan die dae verder vir die tarentaalfamilie sonder enige ongevalle verby. Na ‘n maand kon die kuikens al fluks volhou om vinnig en aanhoudend te draf. Hulle kan al ver ente vlieg. Hulle slaap lankal nie meer onder die ou rosytjiesbos nie, maar wei reeds ver daarvandaan in ‘n strook veld waar kolle hoë stinkgras deur lappe brosdoringbome afgewissel word.
Blounek kom ‘n ander tarentaalfamilie teen. ‘n Dag of wat later groei hul geledere weer aan. Die verskillende groepe sluit saam en spoedig wei daar reeds ‘n groot swerm rustig tussen die brosdorings rond. Dit wemel van jong, opgeskote tarentale, die gewese kuikens van die afgelope broeiseisoen.
Die somer is stadigaan besig om te kwyn. Gelukkig is kos nog volop in die ruie doringveld. Oorvloedige reëns het gesorg dat daar geen gebrek aan grassprinkaantjies, rysmiere, grassade, sappige worteltjies en knolle soos krulblaar, uintjies, bossie- en graskalkoentjies bestaan nie. Die jong tarentale groei vinnig en die ou mannetjies steur hulle nie meer veel aan die jonges nie.
Blounek herken verskillende ou bekende makkers van verlede seisoen. Hy voel nou weer volkome tuis. Maar tog bly hy en sy wyfie naby aan mekaar en hulle skrop gewoonlik saam. Hulle steur hulle nie meer aan hul eie kroos nie, want al die jong tarentale het reeds selfstandige lede van die swerm geword.
Die swerm slaap nie graag langer as twee opeenvolgende nagte op dieselfde plek nie, om te verhoed dat ongediertes die slaapplek ontdek. Teen sononder tou die swerm lawaaierig na ‘n groepie alleenstaande blinkblaarbome en vlieg luidrugtig tussen die hoogste toppe in. Dis al sterk skemer voordat die laaste “tjarrr-tjik-tjik-tjarrr…” van die mannetjies stil raak en die swerm uiteindelik tot rus kom.
Die nag sou egter nie rustig verloop nie. Vroeg in die voornag kom ‘n wildekat onder die bome langs versigtig aangesluip. Hy steek vas toe hy skielik ‘n verdagte donker kol bokant hom op ‘n dwarstak gewaar en hy weet dat dit ‘n jong tarentaal is wat dom genoeg was om nie in die hoogste toppe te gaan skuiling soek nie.
Hy sluip behoedsaam nader en klim geluidloos teen die blinkblaarstam na bo. Die volgende oomblik trek sy liggaam deur die lug. Takkies kraak en ‘n harde plofgeluid versteur die stilte terwyl hy met sy buit na benede stort. Dan word die nagstilte skielik fel versteur soos die menigte tarentale halsoorkop uit hul slaapplekke opfladder en met benoude “tjik-tjik”-geluide vinnig in alle rigtings die donker inskarrel. Enkele van die jonges het bly sit en tuur nou met gestrekte nekke senuagtig die duisternis in, maar as die wildekat skielik ‘n oorwinnende gegrom uitstoot, wag hulle nie meer langer nie, maar warrel haastig uit die takke uit, die onbekende nag in.
‘n Rukkie na dagbreek die volgende môre, kom klein groepies tarentale oral uit die bome van die omgewing te voorskyn en soek die ander verstrooide lede van die swerm op. Eers lank daarna begin die swerm weer voltallig lyk. Skynbaar is die ergernis van die nagtelike aanval gou vergete en kom die groot ligblou swerm weer in beweging.
Die dae gaan gelukkig met min ongevalle verby, maar gaandeweg word die veldkossies skaarser, want die winter kruip al nader en die groot tarentaalgemeenskap word genoodsaak om elke dag ‘n hele end te trek in ‘n poging om die kroppe gevul te hou.
Een middag laat kom hulle al weiende onder ‘n plaat haak-en-steekbosse aangekuier, toe die voorstes skielik vassteek en die nekke rek. Die hele swerm ruk tot stilstand. Dofweg deur die bome klink die geblaf van ‘n hond op en die ou mannetjies “tjik-tjik” onrustig.
Na ‘n rukkie wei hulle verder en kom aan die kant van die haak-en-steek op ‘n draadheining af. Aan die ander kant strek ‘n afgeoeste mielieland oor die kaalte uit en dit duur nie lank nie of die hele swerm wei genoeglik tussen die stronke rond. Hier is vir jou darem nou sommer baie te pikke, en sulke smaaklike kos daarby! Hulle skrop volop mieliepitte en selfs heel mieliekoppe onder die blare oop en die kroppe word vinnig vol. Blounek en die ander groot mannetjies het die afgelope paar dae die honger so sterk voel knaag dat hulle waaksaamheid met hierdie ryk vonds sommer heeltemal verslap. Daar gebeur egter niks nie en teen sononder beweeg die swerm na ‘n aantal wilde seringbome aan die kant van die land. Hulle skop ‘n groot lawaai op, onderwyl hulle selfvoldaan in die bome opvlieg om ‘n kommerlose nag deur te bring.
Omtrent ‘n kilometer daarvandaan het die boer van die plaas die rumoer gehoor en hy wis dat die tarentaalswerm die mielieland ontdek het en die volgende paar dae nie sommer verder sal trek nie. Vroeg die volgende môre stap hy en sy seuntjie met ‘n haelgeweer deur die bome in die rigting van die lande daar teen die bult. Hulle nader die land deur die ruie plaat haak-en-steek en kruip naderhand stadig op hande en voete die laaste paar tree deur die hoë gras, voordat hulle die massiewe bank ligblou gespikkelde tarentaalrûe tussen die stronke gewaar.
Dit is maar pas sonop, dog die swerm wei al weer houtgerus en behaaglik aan die kant van die land, binne goeie trefafstand. Blounek en ‘n paar ander mannetjies voel meteens onraad aan en lig tegelyk hulle koppe op. Maar dan dreun die haelgeweer se oorverdowende slag skeurend deur die môrestilte en die benoude ge-“tjik-tjik” van die angstige voëls word oombliklik verswelg deur die gesuis van die menigte tarentaalvlerke, soos die swerm verbouereerd in al vier windstreke oor die mielieland wegskiet. Tussen die stronke spartel twee van die voëls tevergeefs om weer op die been te kom en ‘n derde hardloop ‘n slag al in die rondte en probeer kort-kort opvlieg, maar val terug, want een van sy vlerke hang slap.
Die seun hardloop so wat hy kan oor die kaalte van die land op die gekweste tarentaal af. Dié probeer nog eenmaal om op te vlieg, maar dan lê die gekweste voël die rieme neer tussen die stronke deur, met sy af-vlerk flappende langs sy sy. Sy agtervolger haal uit so al wat hy kan, maar die jong tarentaalmannetjie behou sy voorsprong tot aan die kant van die land en glip ongedeerd onder die beskutting van ‘n digte lap katnael in. Die seun stap teleurgestel terug, maar hy voel tog trots op sy vader se kordaatstuk om twee tarentale met een skoot neer te skiet.
Daardie dag het die swerm dit nie weer gewaag om naby die mielieland te kom nie. Dit het ‘n lang ruk geduur voordat al die voëls mekaar weer raakgeloop het, maar eindelik het die swerm weer naasteby voltallig aan die voet van ‘n koppie onder ‘n paar uitdoppertjiebome rondgekuier en toe die son ondergaan, maar sommer daar in die hoogste bome oornag.
Die volgend môre was die herinnering aan die vorige dag se verskrikking nog te vars in al die tarentaalgeheues en nie een van die ou mannetjies het ‘n poging aangewend om die swerm weer in die rigting van die mielieland te lei nie.
Die vorige middag het die seun van die plaas ‘n sifdraad-vanghok na die mielieland geneem. Die volgende môre het hy vol verwagting die vangplek besoek, maar teleurgesteld weer omgedraai.
Laat daardie middag het Blounek en sy maters al weer in so ‘n mate van die skrik herstel dat die honger die oorhand gekry het. ‘n Rukkie voor sononder nader die swerm weer stil-stil die mielieland, bespied die omgewing goed en wei dan versigtig al dieper die land in.
Op die voorpunt gewaar Blounek en ‘n paar van die ander tarentale die eienaardige sifdraadhok tussen die stronke en betrag die vreemde verskynsel met argwaan. Die ding bly egter leweloos. Hulle draf om hom rond en sien die mieliepitte binne-in lê. Blounek ontdek eerste die ingang en glip na binne. Drie van die jong mannetjies volg hom. Hulle pik lustig aan die heerlike mielies, onderwyl nog meer tarentale ‘n poging aanwend om die pad na binne te vind. Om een of ander rede wil een van die jong voëls aan die binnekant net eers weer ‘n slaggie uitkom en probeer om deur dieselfde ingang deur te glip. Die sifdraad druk terug en die opening sluit. Hy begin op en af langs die hok se kante na uitkomkans soek. Blounek en die ander twee staak hulle pikkery en begin self senuweeagtig al teen die die draad langs beur. Die tarentale aan die buitekant raak onrustig oor hulle maats se verleentheid en wei haastig verder. Net Blounek se wyfie staan ‘n endjie daarvandaan verwonder en toekyk en kan nie begryp wat dit is wat haar getroue ou makker daar in die snaakse ding gevange hou nie.
Blounek self kan dit ook nie verstaan nie. Hy het sy snawel en die horing op sy kop al seer gestamp teen die dun sifdraad, maar dit wil glad nie meegee nie. Dis baie sterker as enige grasstingel en hy vermoed vaagweg dat die affêre ook met die eienaardige tweebeengestaltes in verband staan. Hy blik verlangend deur die versperring na sy wyfie en sien hoe sy meteeens omspring, ‘n endjie hardloop, dan vinnig opvlieg en met groot vaart oor die bome verdwyn. Van die ander tarentale is daar geen spoor meer te sien nie en die son gaan al onder.
Dan gewaar Blounek die oorsaak waarom sy wyfie so haastig gevlug het. Die seun kom haastig tussen die stronke deur gedraf. Saam met die drie jong tarentale wend Blounek nou ‘n wanhopige poging aan om deur die draadversperring te breek, maar alles tevergeefs. Met ‘n juigkreet op sy lippe buk die seun langs die hok, steek sy hand deur die vangopening tussen die spartelende voëls in en trek een van die jonges uit. Sy nek word haastig omgedraai en ook die tweede een s’n, wat aan die pootjies uitgesleep word. Die seun sukkel ‘n paar oomblikke opgewonde om die derde jong mannetjie in die hande te kry, vang hom eindelik aan ‘n vlerk en trek hom gretig deur die opening. Die angstige voël spartel geweldig en voordat die seun hom aan die pote kon beetkry ruk hy meteens los met verlies van byna al sy stertvere en fladder dreunend oor die mieliestronke heen weg. Hoe heerlik lok die amper verlore vryheid tog nie daar ver oor die hoë boomtoppe heen nie!
Die seun los ‘n paar luidrugtige verwensings en vestig dan sy aandag op die laaste tarentaal in die hok. Dit is darem ‘n pragtige groot mannetjie! Hy kry skielik ‘n ingewing, snuffel in sy sakke en bring ‘n stukkie tou te voorskyn. Hy slaag daarin om die beangste voël deur die opening te trek en sy pote stewig vas te bind. Dit raak al skemer toe hy met sy ryk buit in die rigting van die plaashuis aanstap.
Die volgende oggend ontdek die angsbevange tarentaalmannetjie dat hy in ‘n ander groot sifdraadhok op die plaaswerf gevange gehou word. Die seun kom van die woonhuis af aangestap en gooi ‘n klompie mieliepitte in die hok. Blounek raak verbouereerd en maal al in die rondte teen die draadkant aan. Hy wend vrugtelose pogings aan om te probeer ontsnap en toe die skemer uiteindelik aanbreek stap die ontstelde ou tarentaalmannetjie nog een stryk deur al in die rondte teen die sifdraad langs.
Na ‘n paar dae word hy rustiger en pik al af en toe aan die mieliepitte in sy hok. Hy raak al gewoond aan die bewegings van die mense op die werf, maar fladder nog beangs teen die draad wanneer die groot hond verbystap.
Hy voel soms ‘n drang om te skrop alhoewel dit nie juis nodig is nie, want hy kry genoeg kos. Die grond is buitendien so hard en droog dat ‘n skroppery niks help nie.
Snags sit hy soos ‘n armsalige hoender op sy slaapstokkie en kwyn en dink vaagweg aan die swerm en wonder waar sy wyfie haar bevind.
Gelukkig gaan die winter verby en die koue verdwyn. Die kwesplekke aan sy kop wat deur die sifdraad veroorsaak is, het lankal genees. Al kry hy genoeg kos, staan hy maar elke dag verwese daar in sy hok, in troostelose tarentaal-eensaamheid, met gestrekte nek al starend oor die plaaswerf heen.
Op ‘n goeie nag begin die weerlig aanhoudend aan die westekant te flikker. Die wind steek op en die dreunings word al harder totdat die eerste druppels van die voorjaar in die stof begin te plof. Weldra ruis die stortreën neer, sodat die waterstroompies helder in die blitse van die weerlig blink. Met sy kop onder die vlerk sit die tarentaalmannetjie ongestoord en slaap onderwyl die druppels oor sy vere rol.
Toe dit lig word ontdek hy dat die vuil modderwater ‘n gapping onder die draad van sy hok uitgespoel het sodat hy sy kop daar heeltemal kan deur steek. Hy begin naarstiglik te skrop dat die grond in alle rigtings spat en die opening word stadig maar seker groter want die grond is lekker nat. En dan breek die groot oomblik aan, die oomblik waarop hy amper nie meer kon hoop nie. Hy duik onder die draad in, spartel ‘n oomblik woes en glip deur. Eers skyn dit of die ou tarentaalmannetjie nog glad nie besef dat hy werklik vry is nie. Hy staan ‘n oomblik stil en hoor hoe die woonhuis se agterdeur oopgaan. Dan klink daar oor die stil werf skielik die bekende “tjik-tjik” van ‘n tarentaalmannetjie wat geskrik het.
Die seun wat by die agterdeur uitgestap kom, is net betyds om te sien hoe die voël vinnig oor die kaalte spore maak voordat hy in volle vaart opwaaier en swenkend oor die huis se nok verdwyn.
Blounek het die hele dag lank tevergeefs na sy eie tarentaalswerm gesoek, maar toe die son ondergaan, hoor hy die lawaai van tarentaalmannetjies wat gereedmaak om in die slaapbome in te vlieg. Hy draf daarheen en tref net enkele voëls van sy eie swerm aan, wat nog nie afgedwaal het om te paar nie. Sy wyfie is ook nie daar nie.
Vroeg die volgende oggend verlaat Blounek weer die klein swermpie en sny hot en haar oor die vlakte spoor. Aan die kant van ‘n kol blouhaak ontdek hy bekende skropmerke. Sy uitdagende geroep weerklink oor die vlakte. Diep uit die blouhaak kom die gefluit van ‘n tarentaalwyfie se antwoord en onmiddellik daarna verneem Blounek ook ‘n tarentaalmannetjie se stem.
Hy draf tussen die blouhaak op ‘n kaalte uit en tot sy vreugde gewaar hy sy eie wyfie, waar sy aan die kant van die hoë gras staan en skrop. Sy kyk verras op onderwyl hy nader draf, maar die vreugdevolle herontmoeting duur nie lank nie want ‘n ander tarentaalmannetjie kom met opgehewe vere aangedraf en gaan Blounek onmiddellik te lyf. Toe is die geveg verbete aan die gang. Die stryd word blitsvinnig met hul snawels gevoer, want ander weermiddels besit hulle nie. Uiteindelik kry Blounek sy teenstander aan sy kaal nek beet, byt vas en rem woes agteruit.
Die pyn verdryf skielik alle veglustigheid en die verloorder ruk wanhopig los en blaas vinnig die aftog, met Blounek ‘n paar tree agterna.
Dan skenk hy weer aandag aan sy teruggevonde wyfie. Hy pronk ‘n slag windmakerig rond en begin dan om naarstiglik onder die blouhaakbos rysmiere oop te skrop. Sy pik dit skaam-skaam op, want Blounek haar eie mannetjie, het uiteindelik weer teruggekeer.
Die blinkklippe
Roerloos, met pote onder hom ingevou en sy pens plat op die grond gedruk, lê die jakkalsmannetjie en wag. Hy luister en loer aandagtig, halfongeduldig, halfnuuskierig. Hy lê aan die kant van die kol hoë stinkgras, veilig versteek agter ‘n paar bedekkende polle. Hy sien mooi deur die blaargordyn voor hom oor die kaalte na die tweede kol gras daarvoor. Daar is ‘n paar fisante lustig aan die skrop. Hulle maak groot lawaai, om hul genoeë te kenne te gee met die frisse, vroeë môre. Maar die geslepe rooijakkals weet hoe waaksaam dié skelm voëlsoort kan wees. Hy kan dit nie waag om oor die kaaltetjie te sluip nie. Hy lê nog besluitloos toe sy vrees bewaarheid word.
‘n Groot fisantmannetjie tree statig uit die gras te voorskyn en beklim trots ‘n miershopie aan die kant van die gras. ‘n Paar minute lank wil hy nou brandwag speel. Hy verklaar dit ook met klappende vlerke en gestrekte nek aan die bos soos hy daar op die miershoop troon en sy skelle “klarrr! klarrr…!” die môrestilte instuur. Kort-kort slyp hy sy mooi, lang spore dat die hale teen die miershoop lê. Verder in die gras skrop die ander fisante nog houtgerus en lawaaierig voort op soek na rysmiere.
Vies lê die ou rooie die pronker en betrag. Die posisie skyn vir hom maar haglik te wees. Hy het vannag vergeefs hier in die brosdorings gejag. ‘n Brandende hongersteek knel sy ingewande en die geniepsige koue van die stil wintermôre byt aan sy pote en neus. Hy lek sy lippe en dink met weemoed terug aan die tyd toe die jakkalspare van heinde en ver aangetrek gekom het na hierdie eertydse lushof, hierdie ou geil brosdoringbulte, toe jy nog nie nodig gehad het om jou snags pootseer te sukkel vir ‘n ou stukkie kos nie. Maar die mannetjie is vasberade soos hy hier lê, sy stertkwas suutjies kwispelend. Sy geslepe jakkalsbrein werk vinnig om ‘n oplossing vir die moeilike toestand te vind. Die fisantmannetjie daar op die miershoop is wakker en gee dit luidkeels aan alle vyande in die bos te kenne. Nog ‘n rukkie lê die rooijakkals met vlammende oë deur die blaartjies en loer. Eindelik draai hy versigtig om en sluip op sy hoede in die teenoorgestelde rigting weg.
Tot dusver het die fisantmannetjie nog geen gevaar bespeur nie en nog minder sy klompie trawante daar in die gras. En selfs al sou hy nou die jakkals sien wegsluip het, sou dit geen agterdog by hom gewek het nie, so doelbewus het die geslepe ou skelm weggedraf. In die kolletjie gras is nogal ‘n aansienlike geselskap aan die skrop. ‘n Paar vet hennetjies is besig om met ‘n klompie opgeskote kuikens tussen die polle rond te snuffel. Onder hulle is ‘n paar groterige haantjies wie se spore al pik, maar hulle het nog groot ontsag vir die ou rooibel-leier wat daar so geesdriftig op die miershoop te kere gaan. Dis tog snaaks dat die ou vanmôre net die een kant van die weiveld bewaak. Sy voëlverstand besef blykbaar nie dat die ander kant ook aan gevaar blootgestel is nie. Dit is juis waarop die jakkals gereken het toe hy, reeds so ‘n endjie in die bosse in, koers verander en met ‘n omweg terugdraf. Versigtig nader hy nou van die teenoorgestelde kant af. Die wind is juis in sy guns; dit trek glad nie en kan hom dus nie verraai nie. Van pol tot pol kom hy suutjies aangeseil totdat hy naderhand in die digte kolletjie is. Dis nog sterk skemer en dit help hom baie. Hy neem posisie in langs die smal voetpaadjie in die hoë gras, goed verskuil, sy neus amper in die paadjie onder ‘n pol bedek. Hy weet goed die fisante moet netnou hier verbykom as hulle klaar het. Dis sy enigste hoop. Hy ken die wakker voëls te goed om hom in hulle te vergis; om hulle sommer aan te val sou hopeloos misluk.
Die rooijakkals se verwagting word vervul. Van die anderkant uit die gras kom ‘n gebiedende “korrr!” van die ou leier. Die fisante raak stil en die jakkals hoor aan die gekraak van die grassies in die paadjie dat hulle nader. Toe die eerste jong haantjie om die draai in die gangetjie verskyn met sy nuuskierig-uitgestrekte nek geen twee duim van die jakkals se neus af nie, verdwyn sy koppie blitssnel tussen die twee kake en word die lewelose outjie vinnig uit die paadjie geruk. Die lot tref ook ‘n tweede kuiken, maar terselfdertyd kom ‘n groot hen om die draai en skrik haar boeglam terwyl sy nog waarskuwend piep. Die ou rooie dink nou vinnig en handel ook oombliklik. Hy stoot ‘n luide gehuil uit en spring vorentoe. Die kuikens word so verbouereerd dat hulle halsoorkop onder die polle induik. Die groot fisante vlug egter onder groot lawaai van die ou leier met dreunende vlerkslae deur die bome weg. Ná ‘n deeglike soektog snuffel die jakkals nog wee kuikens uit en maak hulle van die gras af. Die ander sit egter te deeglik verskuil en hy besef gou hoe nutteloos dit sou wees om verder te soek. Een van die fisantjies word gou opgevreet om die las ligter te maak en daarna gryp hy die ander drie se koppe in sy bek en draf deur die gras.
Dit is al heeltemal lig. Hy het die kordaatstuk net betyds uitgevoer gekry. Dit is hoog tyd om weg te kom van die kolletjie gras af, want sy lawaai kon maklik ander hongeriges daarheen lok. In hierdie tyd van gebrek ly is elke jakkalsoor gespanne. Met dié gedagtes kom die ou na ‘n rukkie se draf uit die gras te voorskyn en gaan staan aan die kant van die wapad wat hier voor hom lê. Nou is hy dubbel versigtig. Hy weet goed met watter kêrel hy gewoonlik in hierdie lang, nou pad te doen het. Dis die mens wat soms met sy klomp langoor-diere voor ‘n snaakse affêre gespan hier verbykom en naderhand weer teruggaan met die ding vol hout gelaai, daar onder na die vlakte waar hy woon. Die rooijakkals vrees hom. Hy het eenmaal agter ‘n bossie in die gras lê en loer hoe die mensing met ‘n stuk hout in sy hand agter ‘n haak-en-steekboompie aangekruip kom na ‘n steenbokkie wat ‘n end daarvandaan gewei het. Die jakkals het toe gereken dat dit pure kaf is met hom, want hy het vreeslik gesukkel om op sy drie pote vorentoe te kruip. Om ‘n steenbok te bekruip en te bespring of in te loop, is mos nie elke man se werk nie. Maar was die jakkalsmannetjie nie verbaas toe die mensding skielik agter die boompie regop gaan sit en die stok na die bokkie toe wys nie. Skielik hoor hy ‘n vreeslike slag en sien rook uit die stok trek en daar lê die steenbok op die grond en spartel! Hy het nog lê en kyk hoe die mensding opspring en jou waarlikwaar penregop na die bok toe hardloop, hom optel en wegstap. Van toe af vermy hy die gevaarlike kêrel met sy dodelike stuk hout.
Met hierdie gedagtes draf die jakkals oor die pad nadat hy alles deeglik in oënskou geneem het. Daar volg nou weer ‘n kol hoë stinkgras waardeur hy sy weg met moeite baan, gehinder deur sy prooi. Eindelik kom hy op ‘n klein kaaltetjie uit, omring deur hoë, bedekkende gras. Hier lê ‘n paar groot klippe. Hul uitstaande punte is rond en gladblink geskuur deur die talle grootwild wat vroeër deur die jare heen hier kom aanleun en skuur het onderwyl hulle ‘n rustige middagslapie geniet. Tussen die klippe is daar ‘n smal opening wat toegang verleen tot ‘n ruim, doeltreffende jakkalswoning.
Die rooijakkals nader die klippe en laat die fisante voor die bek van die opening val, gee ‘n knor en gaan vly hom dan ‘n endjie daarvandaan neer om te wag totdat die son hom hier kom warm bak. Dadelik strompel drie jong jakkalsies deur die opening en storm knorrend op die buit af. Dog daar tree hul ma ook te voorskyn om die orde te handhaaf. Sy snou hulle gou van die voëls af weg en skeur twee van die fisante in repe, waaraan hulle nou hongerig wegval. Dan gaan sy rustig lê en kou aan die derde een.
Die son kom op en styg na die hoogte. Stadig word die veld warm en lomerig gebrand. ‘n Vlaag tevredenheid wel in die gemoed van die jakkalsmannetjie op, waar hy op die oop kaaltetjie lê en skroei. Sy stemmings stem steeds ooreen met die wisseling van die elemente. Hy voel nou weer die selfvoldaanheid van die warm son deur sy ledemate sypel, soos in die vroeër, volop jare. En tog het hy nie juis veel te vrete gekry in die afgelope tyd nie, Vanmôre se fisantjie dien darem om die honger tydelik te verdryf.
Die wyfie kan haar egter nie tevrede stel nie. Die enkele fisantkuiken was te min vir haar. Die drie kleingoed is egter versadig en lê vlak langs die opening in alle onmoontlike posisies uitgestrek, so lui en loom, dood aan die slaap soos alleen ‘n dikgevrete klein jakkals kan wees.
Die wyfie het self vannag met die drie gaan jag. Hulle is al groot en word reeds bedrewe in die jagveld. Maar hier in die bos word kossies in die afgelope tyd so moeilik bekombaar dat hulle dikwels ná ‘n vergeefse lang nag pootseer na die skeur moet terugkeer. Gedurende die voornag het die familie saam gejag, maar later het die wyfie besluit om terug te keer na die gat. As die mannetjie alleen is, is sy kanse beter om iets op die lyf te loop.
Flus, toe die jakkalse nog heerlik lê en droom het, het ‘n stokstertmeerkatjie versigtig deur die kant van die gras oor die kaalte geloer. Hy het die vleisreuk gewaar en kom verken. Maar toe hy die jakkalsreuk ook teëkom, was hy dubbel versigtig. ‘n Goeie vyf minute lank het die klein knaap die wêreld lê en besnuffel en beloer en eindelik besluit dat daar nie veel gevaar skuil nie. Bangerig kom hy oor die kaalte aangedraf en begin heerlik aan die repies vleis te smul wat nog oral rondlê. Sy waaksaamheid verslap naderhand en hy gewaar nie hoe ‘n lelike rinkhals geruisloos van die ander kant af oor die kaalte op hom toeskiet nie. In sy haas het die slang hom egter misreken en slaan met sy stert dat die stof so trek, skuins by die katjie verby. Skielik is die stilte by die blinkklippe verbreek. ‘n Gesis en geblaas van die ander wêreld is aan die gang. Dit is hierdie rumoer wat die jakkalse wek. Alle vrees het uit die meerkatjie gewyk. Met stertjie gespan en sy hare hoog gerys sodat sy smal lyfie komieklik kwaai lyk, spring hy heen en weer, om, oor, langs die slang verby, blitsvinnig, sy bekkie oopgerek dat die slagtandjies wit glinster in die middagson. Met hierdie wending van sake is die rinkhals min gediend. Met opgehewe kop spuug hy blasend na sy aanvaller, onderwyl sy verwoede ogies elke beweging van die meerkat noukeurig volg. Die jakkals volg belangstellend die geveg; sy vrees het ook skoon verdwyn.
Die meerkat se bewegings word al vinniger; dit maak die slang nog meer verwoed. Met ‘n geweldige kraginspanning pik hy na sy teëstander. Hy mis sy doel en kantel so effens. Van hierdie geleentheid maak die katjie gebruik om die slang ‘n sydelingse byt in die lyf toe te dien en weer blitssnel weg te spring. Die slang voel half lam, maar staan nog verwoed sy man. Die meerkatjie haal weer ‘n ander taktiek uit en spring soos ‘n klein dronkaard al om hom heen. Die slang se ogies volg elke beweging; hy word naderhand duiselig van die ronddraaiery. Die stokstert merk dit en die rinkhals kry weer ‘n onverwagte hou aan sy lyf. Nou maak die meerkatjie hom klaar om drasties op te tree, maar voordat hy vasberade op die slang afstorm, loer hy vlugtig oor die kaalte en laat nael skielik dat die stof so trek na die gras toe!
Skoon uit die veld geslaan wonder die jakkals wat nou sou gebeur het. Die slang, al taamlik lam gebyt, verstaan ook nie die toedrag van sake nie, dog skielik gewaar hy die oorsaak daarvan en probeer so vinnig as wat sy seer lyf hom kan dra, na die gras toe pyl. ‘n Swaar gedruis van vlerkslae word opeens gehoor en die jakkals sien hoe ‘n groot sekretarisvoël op die rinkhals neersuis en hom meedoënloos onder sy kloue teen die grond hamer. ‘n Rukkie daarna hardloop hy met die dooie slang in sy bek deur die veld en styg tevrede op na die bloute van die lug, waar hy sy prooi los, weer vinnig in sy kloue vasgryp en dan maar verder en verder voortvlieg terwyl sy genoeglike gebrom nog lank daarna loodswaar in die lug hang.
Die son sak al hoe laer. Die jakkalse slaap nie meer nie. Die skouspel van vaneffe het alle slaap verdryf. Die ou vos voel baie teleurgesteld dat die sekretarisvoël alles kom bederf het. Hy was vas van plan om, sodra die meerkat die slang klaar op sy baadjie gegee het, die buit vir homself te kom toeëien, want met sy verskyning sou die outjie dadelik op die vlug geslaan het. Nou is daar egter niks aan te doen nie. Die son gaan reeds onder en nuwe hoop vir die nag se jagtog ontvlam in die ou rooie se hart. ‘n Rukkie daarna staan hy en sy familie in die aandikkende skemer op die kaaltetjie en luister na die geroep van die jakkalspare wat nou oral op die bulte en in die bos uit hul gate te voorskyn kom. Ons jakkalse sluit aan by die verspreide koor en laat die lang, huilende note met kort, blaffende afwisselinge troosteloos deur die stilte van die nag weergalm.
Die mannetjie draf nou voort deur die gras met sy honger familie kort op sy hakke. Aan die kant van die wapad vertoef hulle eers ‘n rukkie om te spioeneer. Die rooijakkals draf ‘n endjie al in die pad op om sy nuuskierigheid te bevredig aangaande die eienaardige groot, lomp soort bokspoor wat hierlangs gaan. Daar is ‘n kleintjie by, seker dié van die lam. Skielik dring die herinnering weer helder tot sy bewussyn deur en hy onthou dat hy al voorheen dié soort diere gesien het. Hy het een aand teen sononder hier langs die pad die mensding met ‘n klompie van dié diere sien verbykom. Dis skape. Die rooijakkals weet goed dat al die diere waarmee die mensding te doen het, maar vreeslik dom is.
Hy draf belangstellend verder op die spoor. Sy familie volg nuuskierig. Die wyfie het af en toe moeite om die drie rakkers in toom te hou. Die kleinste knaap dink dis ‘n plesiertog en vind sy pa se snuffelbewegings tog te vermaaklik. Hy wil kort-kort met sy potsierlike lyfie luidkeels daaraan meedoen. Na ‘n paar van sy pogings het sy ma hom egter so geniepsig afgeknou dat hy hom nie weer aan wangedrag sou waag nie.
Toe die spoor wat nog betreklik vars is, ná ‘n rukkie uit die pad die veld indraai, word die jakkalsmannetjie se nuuskierigheid en belangstelling groter. Dit is nie juis baie donker nie. Die maan se grou lig laat die veld vaal vertoon; die lug is onbewolk en die sterre help om die omgewing effens te verlig. ‘n Endjie verder gaan staan die jakkals weer ‘n slag om te luister. Vorentoe iewers het hy ‘n sagte geblêr en getrippel verneem. Hy voel nou heeltemal seker en kruip vinnig nader. Sy familie volg stigtelik. Eindelik steek die jakkalsmannetjie sy kop deur die kant van die gras en loer in die flou maanlig oor die kaaltetjie voor hom. ‘n Tien tree verder, onder ‘n groot deurmekaarbos, lê ‘n skaapooi met haar lam. Sy het vanmiddag toe die trop aan die kant van die bos gewei het, afgedwaal van die ander en die wagter het dus sonder haar na die kraal teruggekeer.
Met gespitste ore staan die jakkalse die posisie en betrag. Die ou rooie voel hoe die moed stadig in sy ledemate opkruip, aangemoedig deur die hongersteke in sy maag. Eindelik gee hy die teken en die jakkalse storm met groot lawaai vorentoe. Die ooi het opgespring en staan verbouereed en rondtrap by haar lam. Huilend skaar die jakkalse hulle om die twee. Die ooi, met kop na vore gebuig, blaas kwaai en kap manmoedig met haar voorpootjie in die grond. Die jakkalsmannetjie besef egter dat hy nie hier moet aarsel nie, anders hou die ooi hulle tot môre besig. Tjankend kom hy met opgehewe maanhare en ontblote tande astrant nader gestap. Die ooi storm vorentoe. Met ‘n hartoerende gehuil vlieg die jakkals om en vlug halsoorkop deur die gras terwyl die ooi kopswaaiend agterna kom. Onmiddellik natuurlik, draf die jakkalswyfie die lam by. Sy benoude geblêr laat die ooi weer vinnig omspring en naderstorm, maar voordat sy weer die deurmekaarbos kan bereik moet sy haar weer teen die mannetjie se rugaanval beskerm. Hy skyn nou desperaat te wees en dreig met sy vreeslike geknor en getandewys om elke oomblik kleingeld van haar te maak.
Intussen is die lam al dood en solank as die jakkalsmannetjie die ooi besig hou by die deurmekaarbos, draf die jakkalswyfie so vinnig as wat die swaar las dit wil toelaat, deur die gras weg. Toe die wyfie met die drietal weer die wapad kruis op pad na die blinkklippe, besluit die rooijakkals dat hy nou genoeg het van die komediespel. Hy lig sy kop in die hoogte en “haahaaaa . . .!” huil hy opeens voor die ooi. Dan spring hy vinnig om en laat vat agter sy familie aan. Daar agter by die deurmekaarbos hoor ‘n mens die vinnig heen-en-weertrippelende geluid van die skaapooi wat angstig en blêrend na haar verlore lam rondsoek.
So gly die nag se ure traag verby. Eindelik breek die môre aan. Die jakkalse het, nadat hulle van die lam by die blinkklippe kleingeld gemaak het, die tweede maal bos toe koersgevat, maar teen dagbreek het hulle moeg gedraf na die klipskeur teruggekeer. Hulle voel vanmôre nie so erg honger nie. Dis ‘n tevrede jakkalsfamilie wat die veiligheid van hul blinkkliptuiste opsoek.
Toe die son laat in die middag, asof moeg in die weste bokant die enkele hoë brosdorings hang, strek vossie homself onder in die holte net ‘n paar keer lui uit om heerlik verder te dut totdat die nag met nuwe verwagtinge sou daag …
Die son het pas ondergegaan. Sommige diere ontwaak, ander gaan slaap. Luisterend staan die jakkalsfamilie weer by die blinkklippe en wag. Die vlaktes weerklink vanaand van kant tot kant van hongerige jakkalskore wat luid hul nood aan die bos uittjank. Die mannetjie besluit om vanaand ‘n nuwe jagterrein aan die westekant van die blinkklippe op die proef te stel. Hy draf weg. Die wyfie skyn egter nie met die idee gediend te wees nie. Sy blik hom besluiteloos agterna en begin dan stadig in die teenoorgestelde rigting aanstap na die wapad. Sy vertrou meer op die ou bekende jagveld. Net soos die mannetjie die vorige aand, besluit die wyfie ook om ‘n end in die pad op te draf.
Skielik gaan sy stilstaan en snuif belangstellend in die lug. Die windjie trek effens en bring die reuk van vars ingewande en pensmis in haar neusgate. Nuuskierig gaan die viertal ondersoekend verder totdat die wyfie naderhand op ‘n sleepsel afkom wat die grootpad kruis en verder die gras inlei. Met neuse laag op die grond, draf die jakkalse voort, al op die aanloklike reuk langs. Omtrent ‘n kilometer ver gaan die ondersoekingstog voort. Dan kom die wyfie op ‘n stukkie vleis af en sluk die lekker happie gretig weg. Met nuwe ywer volg hulle die spoor. Naderhand het die drie kleintjies ook al elkeen ‘n flentertjie raakgeloop. Dan draai die wyfie skielik uit en gaan lê hygend onder ‘n rosyntjiebossie. Verbaas staan die drietal om haar heen geskaar en wonder wat nou met hul ma aan die gang is. Dan begin een outjie ook kreun terwyl hy inmekaargekrimp gaan lê. Nog ‘n paar minute van verbystering gaan verby voordat die wrede lot ook die ander tweetjies tref. Die wyfie byt wanhopig met haar tande in die graspolle vas en slaan geen ag op die kleintjies se magtelose gesteun nie. Eindelik, na ‘n lang ruk, lê al vier roerloos uitgestrek, slagoffers van die mensding se vreeslike wraak…
Aan die ander kant van die blinkklippe is die ou rooijakkalsmannetjie ywerig aan die jag. Skielik kom hy op ‘n dooie haas af waaraan hy hongerig begin smul. Hy sou hom eers versadig eet en dan verder vir sy familie jag. Nadat hy genoeg het bly daar nog ‘n groot stuk oor, want dit was ‘n mooi, vet haas en kon ook nie te lank dood wees nie. Hy begin daarmee aandraf na die blinkklippe toe. Maar ‘n paar tree verder skiet verlammende pyne deur sy maag en verwonderd laat hy die haas val. Die krampe word al hoe hewiger. Hy begin weer stadig aansukkel. Hy wil so graag die blinkklippe haal, waarom, weet hy nie. Eindelik strompel hy uit die gras te voorskyn en bly ‘n oomblik op die kaalte lê. Stadigaan word alles swart om hom en eindelik weet die kranige ou rooijakkalsmannetjie niks meer nie…
Die nag se ure gaan langsaam verby. Die son verskyn en verdryf die tekens van die duisternis uit die bos. Die diertjies is elkeen weer vroeg aan die roer en elkeen gaan sy gang. Oral in die lug draai aasvoëls rond en skiet af en toe in klompies neer, want kort-kort gewaar hulle die heerlikste buit. By die blinkklippe op die kaalte gaan ‘n paar ou langnekke vlerkflappend sit en wip dan nader met uitgestrekte hals en begerige oë voordat hulle gulsig op die gewese ou rooijakkals afstorm…
Die nag in die brosdorings
Die son se laaste strale speel nog flou oor die toppe van die hoë brosdorings langs. Deur die enkele openings heen sien ‘n mens nog die berge dynserig-blou in die verte. Baie van die nagdiertjies in die bos loer al ‘n hele rukkie ongeduldig uit hul gate of uit die kolle hoë boesmansgras en wens dat die nag vinniger oor die uitgestrekte bos moet daal. Die dagbewonertjies het lankal hul slaapplekke vir die nag gaan opsoek.
Die donker versprei al digter om die ruie deurmekaarbos wat amper heeltemal weggeduik in die hoë gras skuil. Onder sy knopperige takke wat soos krom arms deurmekaar vleg, is dit stil en donker. Nog donkerder gaap die swart opening teen die stam. Dan verskyn daar versigtig iets in die bek van die gat, versigtig en stil, swart soos die nag. Dit is ‘n ystervark en sy familie. Onder in die ruim binnewêreld van sy uitgeholde tuiste, waar hy en sy familie die hele dag lê en slaap het, was dit heerlik warm. Nou waai die koel aandwindjie liggies teen sy swart neus aan. Hy snuif dit gespanne op. Ja-nee, dis tyd om op sy nagtog uit te gaan.
Dit sal ‘n lekker aand wees. Die maan skyn taamlik helder, net goed om jou die pad mooi tussen die bome heen te wys. Hy hou baie van die stikdonker, maar in die maanlig is dit makliker om vyande te bespeur. Dog vir die spierwit, helder daglig deins hy terug met ‘n geheimsinnige vrees. Dan droom hy maar altyd lekker met sy familie hier by die deurmekaarbos, diep onder in die gat waar nog altyd ‘n stukkie van die nag se duisternis om hom vertoef. Maar dis snaaks, as die skemer daal, dan voel hy sommer gereeld daar onder in die gat dat die nag aan die kom is, soos vanaand ook weer.
Weer snuif hy versigtig in die lug. Hy kruip stadig onder die donker kol uit, in die flou maanlig in. ‘n Sog met vier varkies volg op sy hakke. Sy byt kort-kort geniepsig na een se neusie, want die kleingoed is nog maar kort gelede in die geheime van die jagkuns ingelei en rig allerhande dom dinge aan. Die ou sog het soms net moeite om hulle in toom te hou. Die grootste enetjie begryp nog nie waarom hy dan al die droë blare onder die bome moet mistrap nie en waarom hy nie af en toe sommer ‘n lekker snorkie mag gee nie.
Aan die voorpunt draf hul pa. Vanaand pyl hy doelbewus na die kant van die bome, waar die hoë brosdorings by ‘n plaat fyn rosyntjiebossies aansluit. Die ou ystervark jag nog nie lank in hierdie omgewing rond nie; tog ken hy die doringbos al taamlik goed. Hy weet dat op die kaaltes waar die vaal rosyntjies welig tier, nog heelwat kossies te kry is. Daar is nog allerhande soorte uintjies en soetwortels om uit te vroetel. Hy het nou die dag effens verder af volop smaaklike bossie- en graskalkoentjies ontdek. Vanaand mik hy eintlik soontoe. Die sog het dit lankal geraai en volg gewillig. Net die vier kleingoed wil hulle maar nog nie ordentlik gedra nie.
Skielik gaan die ou ystervark staan. Hier uit die nou voetpaadjie waarin hulle loop, lei ‘n dowwe uitdraaipaadjie. Hy weet goed waarheen dit gaan. Dit is mos die pad waarlangs die vlakhase en steenbokkies saans aantrippel na die turflaagte daar onder op die vlakte waar die mielieland lê. Besluiteloos staan die ystervark ‘n oomblik en snuif huiwerig die lug op. Gou loer hy om na die sog. Half asof sy begryp, kom ruik sy ook en tuur ‘n rukkie na die turflaagte se kant toe. Die grootste varkie dink ook sommer dadelik dat die uitdraaipaadjie interessanter sal wees en wil die voortou neem. Sy ma knor hom kwaai terug en die ou ystervark begin weer aanstap na die plaat rosyntjiebosse toe. Hy besef ook maar te goed, net soos die sog, dat die turflaagte verbode grond is om te betree. Tog sal hy daardie genoeglike nag in die mielieland, ongeveer ‘n week gelede, nooit vergeet nie. Hulle het dié aand hierdie nuwe paradys toevallig raakgeloop. In die ruie rantjiesveld, waarvandaan hulle ‘n tydjie gelede na die brosdorings verhuis het, was so iets heeltemal onbekend. Die heerlike groenmielies het dié aand vorentoe gesmaak. En tog is sy soet hernnerings ook gemeng met ‘n eienaardige vrees, iets wat hy nie juis kan verklaar nie. Daar hang mos so ‘n eienaardige vae reuk tussen die lang mielieplante in die lug. Die goed staan so komieklik in rye agtermekaar. Hy onthou dit alles nog te goed. En dan is daar die snaakse plat spore tussen die rye op die grond. Daar was ook nog ‘n ander soort, soos dié van ‘n jakkals, net groter …
Nee, die ou ystervark luister vanaand liewer na die stem van sy vrees. Vannag sal hy seker met die uintjies en kalkoentjies tevrede moet wees; al is dit nou maar karige voedseltjies en nie halfpad so smaaklik soos die heerlike mielies nie.
Met sy swart neus laag op die grond, stap hy in die voetpaadjie aan. Die kleintjies volg nou ewe gedwee agter hom. Die sog het hulle eindelik onder beheer.
Vanuit die teenoorgestelde rigting kom ‘n rooijakkals met dieselfde paadjie behoedsaam aangesluip. ‘n Endjie agter hom volg sy wyfie, taamlik lusteloos. Die ou streeprug voel verskriklik honger. Hy wil vannag sy uiterste bes doen om iets te vrete te kry. Hy moet versigtig wees, dink hy; jy loop maklik ‘n haas in so ‘n wildspaadjie op die lyf. Maar wat hoor hy daarvoor …? ‘n Sagte geblaas en ‘n dowwe voetgetrippel kom nader. Die jakkals sak suutjies op sy hurke in die paadjie neer en wag …
Hier kom die ou ystervark stadig om die draai met sy neus teen die grond. ‘n Ligte vlieswolkie hang oor die halwe maantjie en kleur die veld amper swart. Skielik steek die ystervark met ‘n harde geblaas vas en loer voor hom uit. Kort agter hom volg nog ‘n kwaai snork en die jakkals hoor hoe die gras saggies ritsel. Dan besef hy dadelik wat gaande is en rig hom dreigend op voor die vark in die voetpaadjie.
Die jakkalswyfie wat belangstellend gaan lê het toe haar man in die paadjie neersak, begryp dat haar lis vanaand weer nodig is. Slu verdwyn sy in die gras om met ‘n omweg weer die voetpad te bereik. Geen ritselinkie verraai haar teenwoordigheid nie. Die hele tyd staan die rooijakkals met opgeligte stert voor die ystervark. Dit maak die ou norse veteraan nog ongeduldiger. Hierdie kastige dreigement om jou aan te val en dan verder niks uit te rig nie, krap hom om. Maar hy besef dat die veiligheid van die kleintjies op die spel is. Hy laat die opgehewe penne oor sy nek boos kletter. Hy stamp met sy voorpoot op die grond en blaas met ‘n woestheid van die ander wêreld. Skuins langs hom kom die sog staan, net so dreigend; maar dit verontrus nie die jakkals nie. Ewe bedaard staan hy en wag. Dit maak die ystervarke nog kwaaier, want nou besef hulle dat die slinkse dief weet dat hul kleintjies hier êrens in die gras is. So ‘n ellendige jakkals kan hulle die hele nag hier besig hou, want hy is tog te versigtig om sulke pantsers openlik aan te durf en hy sal nooit besef hoe vergeefs hy hier staan en wag nie.
Eindelik dink die vos dat sy wyfie seker nou van die anderkant af baie naby moet wees en besluit om die ystervarke se aandag nou des te meer op hom te vestig. Hy sak plat met sy voorlyf en begin kwaardaardig knor. Met nekpenne wat amper vorentoe staan soos die ystervark sy kop wegsteek, stap hy gepantserd op die jakkals af. Die sog volg dadelik skuins agter hom. Die ou rooie is genoodsaak om geleidelik te retireer, maar hy laat al die tyd sy gedempte gebrom hoor.
Meteens ontstaan ‘n lawaai daar agter in die gras. Die jakkalswyfie wou die klein ystervarkie geluidloos uit die wêreld help maar sy het hom net skrams raakgebyt en nou skop hy ‘n vreeslike herrie op. Dreunend kom die sog aangestorm. Die jakkalswyfie raak skoon verbouereerd deur haar ongeluk en spring te laat weg. Die sog vlieg onverhoeds onder die wyfie deur en laat ‘n paar penne agter, diep ingedrywe in die jakkals se bene. Sy tjank benoud en toe die sog terugspring om die aanval te hervat, spat die jakkals bang die gras in.
“Haahaaaa…!” huil die mannetjie skielik van teleurstelling daar in die paadjie. Dit was te tergend vir die ou ytervark. Maar die vos spring rats opsy toe hy snorkend storm en begin vies wegdraf deur die gras na sy wyfie toe wat ‘n endjie daarvandaan besig is om te nies en te steun van die pyn in haar voorbene.
Die ou leier en sy sog gaan langs die paadjie by die varkie staan wat daar lê en skop. Versigtig kruip die ander drie ook uit die gras en kom ruik bang aan hul maatjie wat sulke snaakse manewales hier lê en uithaal. Die sog loer in die rigting waar die jakkalse verdwyn het en snork kwaai onderwyl haar penne kletter. Die ou beer staan nors en toekyk. Langsamerhand hou die varkie op met skop; sy kreuntjies versag en netnou roer hy nie meer nie. Die ou ystervark weet dadelik dat daar nou verder niks aan die outjie te doen is nie en wil voortdraf. Die sog steur haar egter nie aan hom nie en probeer die dooie varkie met haar snoet ophelp. Sy laat ‘n klaende gesteun hoor. Die ander drie outjies staan dom en toekyk. Hulle begryp nog nie wat gebeur het nie. Eers toe hul ma weer kwaai na hulle knor, val hulle in die voetpad en begin al agter hul pa aanstap. Die sog berus ook eindelik in die onvermydelike.
Voor stryk die ou ystervark nou haastiger aan. Die petalje het hom ‘n hele ruk vertraag. Kyk waar het die maan nie al bokant die bome uitgeklim nie! Maar die plaat rosyntjies lê darem ook nie meer so ver nie; net ‘n klein endjie nog.
Die vroeë nagwind wat flussies nog koel gewaai het, het teen hierdie tyd nog amper net merkbaar die grashalms beweeg. Die ystervark weet goed dat daar netnou selfs nie eens meer ‘n luggie sal trek nie. Dit maak hom onrugstig, want dis dan so moeilik om die vyande wat hier in die doringbos hou, te ruik. Daar het nog die hele tyd vlieswolkies oor die maan gedryf; gelukkig is hulle nou besig om stadigaan te veryl. Die maan sal oor ‘n rukkie die wêreld hier in die bos taamlik veilig maak.
Toe die ou ystervark met sy familie deur die fyn rosyntjiebossies vleg, voel hy meer gerus. Die sog bly naderhand met die kleintjies agter om oral rond veldkossies uit te grawe. Hyself stuur doelbewus op die kaalte af, waar hy die kalkoentjies op die lyf geloop het. Hy weet sy gevolg sal mettertyd nader wei.
Maar die ou voorloper word vanaand in sy verwagtings teleurgestel. Daar is oral graafplekke tussen die kortgras te sien. Byna al die bossiekalkoentjies het verdwyn. Die vorige aand het vreemde ystervarke die nuwe terrein ontdek en daar kleingeld van gemaak. Dit stem die ou vark nog norser. Dit lyk vir hom of alles vanaand misloop. Hy het baie lus vir sappige vroetelkossies vannag en nog hier en daar ‘n lekker bolletjie om sy lus nog meer aan te wakker.
‘n Rukkie daarna kom die sog weer by en dit is duidelik dat sy die tog ook heeltemal teleurstellend vind. ‘n Oomblik staan die ou voorloper besluiteloos en peins. Dan skiet ‘n ander gedagte hom te binne. Hy loer op na die sog en dit is asof sy onmiddellik begryp waarheen sy gedagtes dwaal. Haar houding beduie instemming en die ou leier neem dadelik die voortou. Met ‘n dowwe voetpaadjie langs wat vaal in die flou maanlig deur die gras kronkel, kies hy sy weg in die rigting van die brosdorings om netnou met ‘n kortpad weg te swaai die turflaagte in. Toe die ou ystervark deur die droë spruitjie die biesies met sy spits snoet kloof, kan hy al die dowwe groen van die lang, regop mielies duidelik teen die naglug sien afsteek. Hy dink ook nou nie eintlik meer aan vyande of gevare nie. Hy voel te honger en die feestelike vooruitsigte laat hom vinniger aanstryk. Die sog kan natuurlik goed bybly, maar sy is genoodsaak om effens te talm, want die kleinste van die drie varkies is al moeg van die aanhoudende gedraf die hele nag deur en begin met ‘n snorkstemmetjie pieperig te kla. Sy spoor hom saggies aan en toe die ou beer tussen die eerste mielies instap, kruip sy kort agter hom met die drie onder die stywe doringdraad deur.
Tussen die mielies is nou ‘n heerlike fees aan die gang. Die sog breek verskeie stronke om en skeur die swaar koppe oop sodat die drie hongerige kleingoed lustig aan die soet, sagte pitjies kan knabbel. Effens dieper in rig die ou voorloper ‘n groot verwoesting aan onder die wonderlike plante wat so heerlik sappig is. Hy gaan sommer met een van die rye af en byt voor die voet om. Dit smaak vorentoe!
Skielik staan hy stil en luister: Diep in die land ritsel die blare dof. Hy hoor sagte voetgetrappel wat al duideliker te onderskei is namate dit naderkom. Die ou leier wil net begin aanstaltes maak om te vlug toe ‘n bekende kortaf geblaas sy ore bereik en hom weer gerusstel. Na ‘n rukkie kom twee opgeskote ystervarke tussen die stamme deur aangestap en merk nou eers die feesvierende familie op. Die twee is al lankal dik gevreet en stap maar tevrede verby om bo by die hoek van die lap mielies weer die digte gras binne te dring. Die ou ystervark steur hom nie veel aan hulle nie en gaan maar voort om ‘n volgende mieliery te verniel. Hy voel naderhand dat hy begin vol word en byt net so hier en daar van elke mieliekop wat hy afruk ‘n bekvol lekker pitte af. Die sog moes egter die kleingoed eers versorg en vreet nou nog rustig voort.
Meteens staan die ystervark vir die tweede maal die nag in gespanne houding doodstil en luister. Ver in die mielies ontstaan ‘n eienaardige geraas wat al harder word. Die ou leier verneem gedempte klanke en voetstappe wat heeltemal vreemd klink. Dit is al of hy ‘n gesnuffel hoor soos jakkalse soms maak, maar dit is iets vreemds. Hy kan maar nie verstaan wat dit is wat so luidrugtig naderkom nie. Die sog het die geluide ook gehoor en lyk net so dronkgeslaan, waar sy skuins agter hom by ‘n omgebyte mieliestronk staan. Die drie kleintjies het bang onder hul ma ingekruip en luister ademloos. Die ou ystervark het nog geen oomblik aan gevaar gedink nie. Sy nuuskierigheid is hom skoon meester. Hy het nog nooit met dié soort diere kennis gemaak nie en wil graag sien hoe hulle lyk. Die luggie trek ongelukkig in die teenoorgestelde rigting; hy wou graag hul reuk ook in sy neusgate opsnuif. Die ou kan duidelik hoor dat hulle nou baie naby moet wees en hy wag nog steeds gespanne. Maar skielik word dit doodstil; hy kan net effens die gesnuffel en voetstappe nog sag verneem. Wat gaan nou aan? Sy nuuskierigheid slaan stadig oor in vrees want dis al of hy weer dieselfde eienaardige reuk begin gewaar wat hy daardie vorige nag nog hier so flouerig geruik het.
Skielik sien hy twee donker gestaltes regop tussen die mielies beweeg. ‘n Snaakse geblaf skeur die stil nanaglug en twee grommende gevaartes storm op hom af. Dit is honde! Hy hoor hoe die sog agter hom ‘n harde blaas gee en met die kleintjies op vlug staan. Die ou voorloper is half verbouereerd en weet nie of hy moet omspring en vlug of verdedig nie. Een van die regop gestaltes snel met ‘n swaaiende kierie bokant sy kop ‘n end van die ou ystervark verby, met ‘n hond voor hom uit, agter die vlugtende sog aan. Die ander hond en sy baas kom skreeuend op die ou leier af. Dog die vinnige hond is gou by en spring dom op hom toe. ‘n Oomblik is hy plat teen die grond. Dan laat die hond ‘n vreeslike getjank hoor en spring eenkant op drie bene rond. ‘n Skerp pen het dwarsdeur sy blad gesteek en afgebreek. Onder aan sy pens steek verskeie ander penne soos klein assegaaitjies vas. Die ystervark spring dadelik op om sy vlug voort te sit, maar die skreeuende swartman is alweer met sy swaaiende kierie byderhand. Die ou ystervark voel ‘n geweldige hou op sy rug neerkom. Die vreeslike krag daarvan laat hom steier, maar sy taai lyf vol penne voel verder nie veel nie. Om dood en lewe vlug hy weer voort tussen die mielierye deur. Dit skyn egter of sy vyand soos ‘n windhond kan hardloop. Die stronke kraak en breek en binne ‘n paar tree haal hy hom weer in. Dan voel die ou leier skielike ‘n rukkende slag in sy kop en hy slinger hulpeloos oor die grond. Hy stort met sy slap lyf teen ‘n dik mieliestam neer wat krakend ombreek soos hy daarteen neerslaan. Sy vyand het hom hierdie keer op die teerste plek getref, sy kop. Met ‘n laaste kreun hou hy op met skop en dan lê die stoere ou ystervark doodstil …
Die sog kruip versigtig en bang onder ‘n digte haak-en-steekbos uit en hyg nog effens na asem soos sy daar alleen in die flou maanlig tussen die kort gras staan. Sy loer agterdogtig rond en dit is duidelik dat sy nog in die vreeslike avontuur van flus lewe, net asof alles weer helder voor haar afgespeel word. Dan roep sy na die haak-en-steekbossie en een ou kleintjie kom knorrend aangedraf, net een. Die sog voel weer hoe benoud sy was toe sy doodverskrik deur die gras en bossies weggevlug het. Sy hoor hoe een van die ou kleintjies ‘n laaste angskreet uitstoot toe die hondgevaarte hom doodbyt; dit was die outjie wat vannag al so moeg was en toe al begin agterraak het. Op daardie oomblik het die sog skielik weggeswaai in haar vaart. ‘n Kleintjie het haar gevolg. Die ander een het egter met die skielike swaai sy koers verloor. Sy hoor weer die wilde geskree in haar ore tuit. Sy sien nog hoe die regop gestalte sy kierie kragtig laat neerkom; sy hoor die angstige gekreun – en toe was alles verby. Hulle het haar nie verder met hul wrede honde agtervolg nie.
Mistroostig soek die een ou varkie nou skuiling teen sy ma en hy kla droewig. Die sog wag dat die ou beer moet terugkeer sodat hulle na die deurmekaarbos toe kan terugdraf. Maar ‘n donker voorgevoel maak hom van haar meester. Dis ‘n skrikgedagte dat die ou voorloper vannag dieselfde pad gegaan het as die drie kleintjies. Die sog voel vreeslik eensaam en verlate waar sy daar langs die haak-en-steekbossie in die kort gras op die terugkoms van die ou beer wag. Die halwe maantjie se flou lig lê bleek oor die bome heen. Dit stem haar nog weemoediger as sy na die donker skaduwees onder die bome kyk. Dis of die koel nagwind wat nou weer effens deur die grassade begin roer, maar net aanhoudend fluister van verdriet en leed, van doodskaduwees wat in die nanag stil oor die grond aangekruip kom. Dit lyk asof die ou varkie begryp wat daar in sy ma se gemoed omgaan, want hy laat ‘n droewige gekwiek hoor en steek sy swart neusie onder haar in asof hy skuiling wil soek teen die noodlot.
Die sog gee eindelik moed op en begin stadig deur die bome na die ruie brosdorings terug te stap. Die yl sterretjies aan die bleek lug maak al aanstalte om te verdwyn en die sog word al haastiger en koers op ‘n kort draffie voort met die varkie op haar hakke. Toe sy aan die kant van die brosdorings kom wat soos donker gestaltes teen die lug afsteek, staan sy eers stil en tuur verlangend in die skemerte terug. Mismoedig gaan die tog dan maar weer voort deur die bome. ‘n Vroeë vlakvoël laat twee lang fluite hoor om te beduie dat hy al wakker is. Origens is dit nog stil, die rustige stilte voor die aanbreek van die dag. Eindelik kruip die ou sog met haar kleintjie onder die knopperige takke van die deurmekaarbos in en verdwyn in die donker opening teen die stam.
‘n Korhaan se krakerige roepstem begin vakerig deur die môrestilte heen kla. In die ooste begin ‘n rooi gloed stadig oor die horison sprei … Dit is die dag wat oor die brosdorings breek.
Drama by die kuil
Die rivier se oewer is hier dig begroei om een van die grootste kuile van die Toelanie. Op die wal het ruie fynbos en katnael tussen die wilgers ingevleg sodat dit ‘n paradys geword het vir vinke en ander voëls en ook vir sluipende wildekatte, muishonde en ander kleiner roofdiere.
Die son kom op. Aan die kant van die groot waterkuil op die sandbedding lê ‘n ou knewel van ‘n waterlikkewaan roerloos op die sand uitgestrek, dog as die koesterende sonstrale verskyn, kom daar meteens lewe in sy skynbaar stywe litte. Hy lig die kop op en onderwyl hy fyn luister na die verskillende oggendgeluide oor die water en deur die bos, skiet sy gesplete tongetjie vinnig uit en in by die skurwe bek.
Oral in die bome en op die lang, slap oorhangende grasstingels, gesels die vinke lustig. Die ou likkewaan loer teleurgesteld na die dun wilgertakkies waaraan die neste hang. Maar in die digte ruigte daar oorkant in die vlak watertjies, is ook ‘n paar rooivinknessies wat hy gereeld besoek. Daar tref hy ook nog platannas aan.
Sy lang, plat skurwe lyf vertoon al te koddig en lomp onderwyl hy oor die witsand aanwaggel en in die water tuimel. ‘n Rukkie later is daar net ‘n paar borreltjies op die oppervlakte van die stil kuil te sien, maar dan roer en lewe die ruigte skielik aan die oorkant soos hy lawaaierig daar uitklouter. Hy maak geen geheim van sy teenwoordigheid nie. ‘n Paar oomblikke daarna begin die vinke rumoerig swets en al oor die ruigte heen draai, al bokant die vraatsugtige rower wat skaamteloos die lang grasstingels omdruk en een vir een nessie deursnuffel. Af en toe vind hy ‘n paar eiertjies en sluk dit gulsig in.
Die lewe om en in die kuil is in volle gang. ‘n Paar wilde-eende kom vinnig oor die bome aangevlieg en met ‘n gewirrr van vlerke ploeg hulle skuimend deur die water totdat hulle eindelik soos klein, wit bootjies tussen die ander begin ronddobber. Drie goudkleurige, donserige kleintjies roei vinnig en lustig tussen die grotes rond.
Aan die kant van die kuil, onder ‘n paar oorhangende biesies, kom ‘n swart koppie stadig te voorskyn en draai versigtig heen en weer. Dan klouter ‘n groot waterskilpad sukkelend aan wal en stap swaaiend ‘n paar tree aan. Spoedig volg die wyfie. Nie te lank daarna nie speur die ongeoefende oog alleen twee mooi skurwe klippe aan die kant van die water op die wit sandbank, waar die twee oues heerlik lê en bak in die môreson.
Kort-kort duik een van die wilde-eende agter ‘n paddavissie aan en kom dan weer ‘n klein endjie daarvandaan te voorskyn. Een van die mannetjies sien ‘n klein kurpertjie vlak voor hom verbyswem en pak hom vinnig beet. Hy spartel vlerkflappend uit die water op en vlieg vinnig oor die ruigte weg.
Die waterlikkewaan hoor die vinnige vlerkgeflap oor hom heensuis en sien hoe die eendmannetjie ‘n paar honderd tree verder in ‘n klein deurmekaarbos inwaggel en amper onmiddellik daarna weer te voorskyn kom, sonder die vissie, en vinnig afsit water toe.
Haastig draf hy nou, swaaiend deur die polle, reguit na daardie deurmekaarbossie toe. Toe hy op sy agterpote staan, kyk hy vas in die rooi ogies van die wilde-eenwyfie wat sit en broei. Sy begin meteens hewig blaas en met die vlerke te klap, maar ‘n oomblik later piets die likkewaan haar skoon uit die nes met sy geweldige stert en ryg die mooi, spierwit eiers een vir een in. Die wilde-eendmannetjie het nou weer by sy wyfie aangesluit – in die lug – waar hulle doelloos en met ‘n harde eendegesnater rondmaal om dan maar eindelik weer na die kuil te keer en hul troos op die wateroppervlakte te gaan soek.
Tussen die digte gras deur sukkel die dikgevrete waterlikkewaan ook terug na die kuil, want dit word nou stadigaan middag en die loomheid wat volg op ‘n goeie eetmaal, begin sy werk doen. Hy vly hom op die wit sandbedding neer en bly roerloos lê.
‘n Rukkie later hoor hy die sagte gekrap van iets in die sand en lê nog maar versteen en rondloer met wakker, listige ogies. Uiteindelik! Ja, daar kom die skilpadwyfie tydsaam uit die ruigte gestap en gly stadig oor die wal, die water in. Sy het natuurlik pas haar eiers gelê en hulle nou toegekrap onder die sand, dink die ou skelm. Alleen die luiheid, veroorsaak deur die heerlik-bakkende son en sy vol maag, weerhou hom daarvan om die eiers te gaan oopgrawe en te verslind. Hy dommel maar weer heerlik in.
Die wilde-eende wat nog besig is om lui-lui rond te vroetel in die water, begin kriewelrig rondloer en besluit dan om die kuil te verlaat. Die takke van die hoë vaarlandswilgers rondom die water begin meteens lewe van klein, swart gesiggies wat nuuskierig om die stamme loer. Die son was warm vandag en die trop blouape het besluit om hulself langs die waterkant te kom verkoel en te vermaak. ‘n Paar klim versigtig grondwaarts en galop huiwerig nader. Dan volg die hele trop.
Die likkewaan skop meteens die sand dat die klippies so spat en slaan met ‘n harde geploemps bolmakiesie in die water in. Die voorste apies het verskrik vasgesteek, maar nou kom almal weer nader. Spoedig heers daar ‘n opgeruimde geselsery om die kuil onderwyl sommige, veral die jonges, in die vlak water baljaar dat die druppels so spat. Party grawe uit pure lewenslus in die sand rond. Toevallig word die broeisel skilpadeiers ook ontdek en spoedig lê net die doppe oor die sand verstrooi.
Maar lank voor sononder is alles weer rustig by die kuil. Soos altyd swem die wilde-eende weer kommerloos op die watervlak rond.
Diep onder die oorhangende biesies in, rimpel die water meteens liggies as die likkewaan sy snoet bokant die oppervlakte uitsteek. ‘n Klein endjie verder swem drie klein eendjies en pik goggatjies op. Skielik breek ‘n golf oor hulle heen en een verdwyn onder die water. Die likkewaan is op die jag uit. Die ander twee haas hulle met klappende vlerkies in die rigting van die groot eende wat ook nou vinnig naderswem.
‘n Rukkie later sukkel die likkewaan tussen die biesies in met sy buit in die bek. Die eende herstel gou van hul skrik en gaan weer rustig voort om kos te soek.
Die son het reeds agter die vaarlandswilgertoppe ingeskuif. Eindelik lê die sluwe ou likkewaan weer op die sandbedding uitgestrek en luister na die nuwe geluide wat een vir een in die bos begin ontwaak. Hy merk hoe slordig die wêreld hier agtergelaat is deur die geselsende bosvolkie wat vanmiddag kom besoek aflê het. Ook die skilpadeiers is nou sy neus verby.
Die son gaan onder. Die paar wilde-eende vlieg die een na die ander op en verdwyn geselsend oor die ruigte. Hoog bokant die toppe van die bome kom meteens ‘n swerm tarentale oorgewarrel en vat fladderend pos op die ruie takke van die vaarlandswilgers om daar te oornag. ‘n Rukkie later sweef ‘n groot oortjiesuil soekend oor die ruigte op soek na prooi. Sy jagtyd het begin.
Die likkewaan luister na die aangroeiende paddagesang, maar dit lok hom nie eintlik nie. Vanaand voel hy nie lus vir paddas nie. Hy besluit om te gaan rondvroetel tussen die ruie bosse op die wal van die rivier en begin lomp oor die wit sand aan te waggel.
Alles is doodstil lang die Toelanie, maar onder die sluier van die nag is menige klein roofdiertjie ywerig besig om te jag. ‘n Wildekat wat behoedsaam langs die oewer nadersluip, loer ergerlik op na die opkomende maan toe hy merk dat hy omtrent ‘n sekonde lank sigbaar was tussen die ruigte. Nou word alle sintuie tot die uiterste ingespan want hy weet dat hier voor langs die groot kuil die beste kans bestaan om ‘n honger maag te vul – as jy wakker is.
Vér op die vlakte klink meteens die krete van ‘n paar kiewiete op toe hulle begin om heen en weer deur die lug te maal. Dis natuurlik weer muishonde wat daar op die jag uit is, dink die wildekat, en hy verskerp sy waaksaamheid nog meer om ook iets op die lyf te loop.
Skielik steek hy vas en bly roerloos staan met een voorpoot opgelig en met gespitste ore. ‘n Klein endjie vorentoe is ‘n swart bondeltjie op een van die talryke dwarstakke van ‘n vaarlandswilger sigbaar. Geen geluidjie of sigbare beweginkie dui aan dat die wildekat stadig nadersluip nie. Vlak onder die boomstam loer hy opwaarts. Dis ‘n jong tarentaalkuiken. Waarom sou die outjie so laag naby die grond sit en slaap?
Die wildekat besluit om nie van die grond af ‘n sprong te waag nie. Dit kan dalk hoër wees as wat dit in die bedrieglike duisternis lyk. Versigtig soek sy naels vashouplek teen die donker wilgerstam. Hy klouter geruisloos tot regoor die dwarstak en ‘n oomblik later trek sy lyf deur die lug. Net ‘n effens versteurende kwiek klink deur die nagstilte en daarna die sagte plof wat die katpote veroorsaak deur sy val op die grond. Die kuiken is reeds dood; sy nek is af.
Alleen die gedagte dat hy verdere prooi sou afskrik, weerhou die hongerige, maar tewens tevrede wildekat daarvan om ‘n sagte knor van genoegdoening te laat hoor. Hy val dadelik weg aan die buit.
Op hierdie tydstip is die ou likkewaan besig om aan die oorkant van die bos versigtig op ‘n kaalte van pol tot pol te sluip en die omgewing te deursnuffel. Tot hier waag hy dit nie in die daglig nie, maar die duisternis van die nag bied genoeg beskerming en stem selfs sy likkewaanhart dapper. Hy het reeds in die polle ‘n drawwertjienes met twee eiertjies uitgevroetel en die inhoud vraatsugtig ingesluk. Suutjies beweeg sy lomp pote oor die grond. Hy is skaars sigbaar in die flou maanlig. Meteens bly hy doodstil lê soos ‘n stukkie boomtak, lank reeds vergaan…. Hy hoor die sagte slaapgekweel van kiewiete hier vlak voor hom in die graspolle. ‘n Hele rukkie gaan verby, want die likkewaan is bang dat sy lomp geskuifel die voëls kan wek.
‘n Steenbokkie het argeloos aangestap gekom. Skielik voel die likkewaan ‘n harde, skerp kloutjie wat hom teen die grond vasdruk, toe die niksvermoedende bokkie op hom trap. Blasend skeer hy die wêreld nou terug rivier toe en storm holderstebolder onder die vaarlandswilgers in. Die bokkie het liggies die veld ingewip en die naglug weergalm weer eens van die angstige wekroepe van vesteurde kiewiete. Op die hoë takke van die vaarlandswilgers sit die swerm tarentale met gestrekte nekke in die donkerte en tuur.
Die waterlikkewaan nael reg op die feesvierende wildekat af. Laasgenoemde sien dadelik die aanstormende gevaarte en spring blitssnel, snouend en blasend uit die pad, terwyl hy hom in die verbygaan ‘n klap met sy kragtige klou toedien. Die likkewaan nael nou met verdubbelde snelheid krakend deur die ruigte en tuimel dan kaplaks ……. halsoorkop in die water! Die stil naglug weerklink nog van die slae van talle kragtige tarentaalvlerke soos die voëls rigtingloos die nag invlug.
Dit duur nog lank voordat die verbaasde ou likkewaan weer sy skurwe kop bokant die watervlak uitsteek. Hy kruip voetjie vir voetjie uit en verdwyn dan onder die uitgeholde stam van ‘n groot vaarlandswilger aan die kant van die kuil.
Die nag slaap rustig deur …..
Grootoog die doodvoël
Dof sigbaar in die skemer, aan die kant van ‘n groot opening tussen die bosse, sit ‘n gespikkelde arenduil roerloos op ‘n droë doringstomp en wag. ‘n Goeie kwartier sit sy al so en tuur na die strooise hier voor haar op die kaalte. Daar om die strooise baljaar nog ‘n paar klein klonkies luidrugtig rond. Grootoog, die arenduil, slaan hulle belangstellend gade, haar wydgerekte pieringoë vreemd-starend deur die skemer heen.
‘n Klein endjie duskant toe silhoeëtteer ‘n droë doringboom se takke teen die lug. ‘n Klompie hoenders het flus, toe dit vir ‘n aanval nog veels te lig was, uit alle rigtings soontoe aangestap en oral tussen die mikke ingevlieg vir die duur van die nag. Dis egter te gevaarlik om tussen die baie takke in te duik.
Maar laag op ‘n wegstaande dwarstak sit ‘n paar opgeskote kuikens wat nie hoër kon kom nie. Dit is ‘n pragtige kans en Grootoog voel die gryplus in haar kloue kriewel; maar sy bly doodstil sit, deel van die droë doringstomp, want ‘n instinktiewe vrees vir die regop figuurtjies daar om die hutte weerhou haar van die aanval.
By die strooise is die paar klonkies nog te uitgelate om so vroeg al hul skemerpret te staak. Een vir een gaan sit hulle om die nuutaangepakte vuurtjie en babbel voort. Grootoog word opgewonde. Sy is nie gewoond om haar prooi eers te sit en beloer nie. Stadig strek sy die nek en laat opeens haar diep “hoe-oeoeoe…!” vreesaanjaend oor die bosse rol. ‘n Waaksame ou haan hef ‘n fyn, piep-stemmerige “kirrr” aan en die kuikens op die dwarstak loer onrustig rond. Grootoog wip geluidloos van die stomp af en skiet pylreguit na die doringboom. Dan klap dit op die dwarstak as sy haar naels soos tange om een van die kuikens vou en net so onhoorbaar soos flus weer in die skemer verdwyn. Agter haar verneem sy die opgewonde lawaai van die hane en die geroep van die volkies, alles deurmekaar.
Grootoog is honger en verslind ‘n groot deel van die buit tussen die takke van ‘n moepelboom. Dan vlieg sy met die orige in haar kloue laagweg oor die donker bome heen in die rigting van die ruie bosklofie teen die hang van die berg. Daar, in een van die digte, hoë uitdoppertjiebome, is haar nes. Twee uiltjies wat nog nie in staat is om die nes te verlaat nie, waggel verras vorentoe toe hul ma geluidloos deur die takke flap met die halfgevrete kuiken. Sy kyk ‘n paar oomblikke selfvoldaan toe hoe hulle daarop aanval en verdwyn dan weer stil in die skaduwees van die geheimsinnige aand.
Sy vlieg laag tussen die bome deur, haar groot oë ondersoekend grondwaarts gedraai, jagbelus. Weldra vang haar oog die beweging van ‘n muis wat halsoorkop tussen ‘n paar struike induik. Met ‘n sagte gesuis van die vlerke swaai die arenduil om en soek heen en weer tussen die gras. By ‘n klein openinkie gewaar sy die vaal strepie van ‘n muispad wat net onder die bossies uitkom en weer verdwyn. Doodstil vat Grootoog langs die paadjie pos. ‘n Rukkie later snel ‘n niksvermoedende muis verby. ‘n Klap met die klou en die uil sit weer doodtevrede haar buit en verskeur.
Grootoog is nie haastig nie. Die muisjag duur ongesteurd voort. Maar naderhand begin dit haar tog te verveel en is sy weer op die vlerk, fyn-ondersoekend oor die bome heen, aan die digbeboste voet van die berg.
Erens tussen dieselfde boskasie waggel ‘n bont gestaltetjie slu deur die struike. Dit is Skerpneus, die muishond. Baie honger is hy nie, maar sy neus jeuk om die geur van vars bloed te snuif. Moordbelus loer hy oral tussen die bossies rond. Uit ‘n lae rosyntjiebos waai ‘n aanloklike voëlreuk hom teë. Hy sluip versigtig nader en klouter tussen die buigende latte in. Twee grasvoëltjies vlieg meteens verskrik op en soek verwilderd skuiling in die naaste bome. Skerpneus druk sy snoet deur die bek van die nessie en byt eers die eiertjies stukkend voordat hy teleurgestel verder draf. Weldra kom hy op ‘n oop kaaltetjie en weer deur sy neus gelei, draf hy reguit op ‘n kiewietnes af. Die twee groot voëls vlieg luidrugtig op en draai dan al rakelings oor die rower heen om hom af te skrik. Maar Skerpneus laat hom nie van stryk bring nie en dam die twee weerlose klein kiewietjies by. Die koppies word haastig oopgebyt en so effens aan die geurige harsings gelek. Dan sukkel hy weer voort. Die maan het stadig agter die berg uitgeklim en gooi ‘n flou lig oor die veld. Skerpneus wil vannag nog lekker moor. Hy draf voort oor die kaalte, sy bont rug flou sigbaar in die dowwe maanlig. Meteens rol die vreesaanjaende “hoeoe-oe-hoeoe…!” van ‘n arenduil soos ‘n diep spotlag oor die berghang. Skerpneus se pootjies word swaar van angs. Dan dring die besef tot hom deur dat hy moet vlug en haastig begin hy na die bossies wegwaggel. ‘n Dowwe skaduwee gly oor die kaalte. Daar klink die gevreesde “hoe-oeoe…” angswekkend naby. Die arenduil sak vinnig grond toe. Skerpneus het vasgesteek en sy skerp tandjies dreigend omhoog gelig. Hy kyk vas in ‘n woeste, gesperde snawel en twee groot, grypende kloue. Dit sluit om hom heen en Skerpneus voel dat hy magteloos van die grond af gelig word. Hy byt wanhopig in die sagte vere van die arenduil, maar Grootoog se naels dring dieper deur sy vel en sy gly voort deur die bome. Skerpneus het sy laaste moord gepleeg…
Die twee jong uiltjies wurg met genoeë aan die repies vleis wat hul ma uit die muishond skeur. Grootoog sit op die rand van die nes en voel tevrede met die aand se vangs. Dis nie nodig om vannag nog verder rond te jag nie. Sy hou ook immers veel meer daarvan om net saans en in die vroeë môreskemer op die vlerk te wees. Maar in die jongste tyd moes sy dikwels die hele nag deur jag om die uiltjies nie te laat hongerly nie. Kort nadat hulle uit die dop is, is haar mannetjie een aand met skemer deur een van die gevreesde mense doodgeskiet onderwyl hy op ‘n heining na aan die huis die hoenders sit en bespied het. Grootoog het van toe af die werf vermy, maar dikwels die plaaswerkers se hutte begin besoek. Hulle skyn nie so gevaarlik te wees nie. Sy het reeds opgemerk dat wanneer sy daar naby “hoe-oeoe” die kleingoed stil in die strooise verdwyn. Sy kon dus maklik so af en toe ‘n lekker hoendertjie daar gaan haal as die nood dreig.
Die nagwind het opgesteek en wieg die omringende bome heen en weer in die maanlig. Talle droë blare fladder ligwarrelend grond toe. Die najaar het gekom, dink Grootoog, terwyl haar fyn gehoor al die onbeduidende geluidjies opvang. Die skaars tyd sal weldra aanbreek, wanneer al die diertjies hulle so stil sal gedra dat jy min jaggeleenthede kry.
Laat in die nanag wip Grootoog weer uit die nes. Gewoonlik is dit ‘n lekker jagtyd. Geluidloos gly sy oor die bome, die groot oë ondersoekend grondwaarts gerig. ‘n Rukkie later is die arenduil deel van ‘n droë tak wat effens uitsteek bo die kruin van ‘n wildevyeboom. Die twee veerklossies voor haar ore is luisterend regop gespits. Maar sy hoor niks om op af te wip nie. “Hoe-oeoe, hoe-oeoe…!” geëindig met ‘n gesnap van die snawel, klink dit skielik weemoedig, maar dreigend deur die nag. Fyn luister Grootoog nou of die een of ander nagdiertjie nie uit verbouereerdheid by die aanhoor van haar oorlogskreet ‘n hoorbare beweging maak nie. Maar alles is doodstil. Geduldig sit sy maar en wag.
Uit die rigting van die swartes se hutte klink meteens dofweg die geklaag van ‘n verlangende kat. Grootoog luister ‘n oomblik en duik dan van die tak af. Gedra op haar groot en donserige vlerke, swenk sy vinnig deur die bome daarheen. Gou gewaar sy die wit gestalte van ‘n mannetjieskat stadig oor die kaaltetjie draf, waar die snaakse ronde hutte staan. Hy merk die naggevaarte wat onverwyld op hom neerskiet en lê die rieme neer na die hutte toe. Maar Grootoog is blitssnel op hom. Die kat laat hom egter nie so maklik oorrompel nie. Met venynige geblaas en gesnou kap hy links en regs na die uil, wat doodstil oor hom heen fladder. Weer probeer hy sy vlug voortsit. Grootoog skiet op hom neer en lig hom van die grond af. Boosaardig draai die kat hom om in haar greep en grawe blasend met sy kappende naels bolle donsvere uit. Maar Grootoog se knellende greep verswak nie. Laag oor die bome skiet sy voort met die snouende kat, nes toe. Sy weerstand verswak. Haar naels boor dieper in. Sy vlieg voort nes toe, waar die twee honger uiltjies al verlangend op haar wag.
Die dag begin breek in die ooste en die dowwe skyn van die halfmaan wat nog hoog in die lug hang, verbleek stadigaan teen die groeiende rooi gloed agter die bergkrans. Grootoog bespeur met tevredenheid die koms van die dag, waar sy veilig tussen die uitdoppertjieblare in die nesholte sit. Die uiltjies het genoeg gevreet. Dit was ‘n geslaagde nag.
Grootoog sit doodstil en luister hoe die boskinders saam met die koms van die dag ontwaak. Van die vroegste voëltjies het al uit hul slaapplekke te voorskyn gespring en lewendig begin tjirp. Nie ver daarvandaan nie hef ‘n bergpatrys sy opgewekte deurdringende gefluit aan. Grootoog spits meteens haar ore en loer ondersoekend deur die blare; maar dit is al effens te lig na haar sin en sy besluit om die patrys maar met rus te laat.
Die son kom op en bring die dartelende lewe met hom mee. Maar die vaal, deurdringende lig wat deur die blarenet skyn, val bedrieglik skerp in die arenduil se groot oë. Roerloos sit sy en luister na die veraf gewerskaf van die daglewe. Om haar is die geluid van vallende blare en die geritsel van raasblaarpeule in die vroeë môrewind wat saggies deur die bome begin wieg. Dit laat vaagweg weer die besef van verganklikheid in Grootoog se gemoed ontstaan. Hier in die poortvallei het sy dit jaar na jaar verneem. Eers was hier nie swart- en witmense nie en die bosse was digter langs die hang van die berg af. Maar hulle roei uit so ver as wat hulle posvat, hierdie eienaardige wesens. Eers was daar nog ander opregte arenduile wat jaar na jaar kon luister na die geluid van vallende blare deur die herfsdae heen. Vanjaar is dit nog net sy wat oor is. Grootoog sluit haar oë vir die bedrieglike lig, wat in vaal straaltjies deur die blare skyn en sit weldra rustig aan die slaap. Wat in die dag gebeur, kan haar maar min skeel. Sy wag op die koms van die nag met sy aanloklike onsigbaarheid en sy tallose kanse.
Die son het na die hoogte opgeskuif en alles is rustig na die vroeë gewerskaf van die bosbewonertjies. Suutjies deur die bome, met gespande voëlrek in die hand kom ‘n seun aangestap. Grootoog se veeroortjies trek luisterend regop, maar sy bly doodstil sit. Net die ronde oë knip onheilspellend teen die vaaldof lig toe die voetstappe krakerig oor die droë blare al nader skuifel. Sy bly onrustig-gespanne sit toe dit naderhand reg onder haar klink en dan skielik tot stilstand kom. Die seun kyk in die boom rond en gewaar die rooi-ryp uitdoppertjies wat aanloklik tussen die blare verskuil sit. Hy hang die rek om sy lyf en begin teen die skurwe stam opklouter. Dan rys die arenduil skielik soos ‘n grootoogspook steunend van haar nes af voor hom op en dit skyn asof sy die indringer met een vlerkgeklap uit die boom gaan slinger. Maar die knaap het reeds verskrik gegil vir die onverwagte verskyning en holderstebolder langs die stam afgetuimel en nael nou voort deur die bome onder die bedwelming van sy skielike skrik. Toe het Grootoog ook al van die nes af hoër op tussen die blare verdwyn. Sy vrees hierdie regop, tweebenige gestaltes.
Weldra sit sy weer op die kant van die nes by die twee nuuskierige uiltjies, haar oortjies onrustig na vore getrek. ‘n Hele end daarvandaan tussen die bosse kom die seun tot besinning en stap vies weg in die rigting van die plaaswerkers se hutte. Dan was dit maar net vir ‘n uil op haar nes waarvoor hy so geskrik het, dink hy. Hy begin planne beraam onderwyl hy deur die bome aanstap.
Die skaduwee onder die bosse begin langer rek. Die dag is besig om stil verby te gly. Grootoog hoor ‘n klompie katlagters hoër op teen die berg, waar hulle kastig in die bome sit en dut. Dis darem ellendige voëls wat nie eers hul snawels kan toehou wanneer hulle rus nie, dink sy.
Dan begin een luid skaterlag en die ander witrugge spring geselsend agter hom aan teen die berghang af. Die arenduil kyk gesteurd op toe een met sy ewige rumoer deur die uitdoppertjie se blare deur vleg. Hy merk die uil by haar nes en begin sy maats luidkeels te verwittig van sy ontdekking. Weldra wip die rusversteurders opgewonde oor die boom heen en weer en skater dit uit in volle koor. Grootoog slaan hulle ergerlik gade. Haar groot oë gloei. Wat se gelol is dit nou weer vandag? Maar die voëls is nie van plan om uitgepraat te raak nie en een wip tergend naby voor haar verby. Sy spring hom met gesperde snawel agterna en bevind haar meteens in die helder namiddagson. Nou is dit of die spul rumoerders van die duiwel besete raak. Hulle maal in ‘n skaterende spotkommando oor die uil, wat verbouereerd die berg uitvlug na digter bedekking toe. ‘n End voor haar agtervolgers duik sy meteens laagweg deur die bome en sit ‘n rukkie later weer stil tussen die digte blare van ‘n groot moepelboom. Die lagters gaan kekkelend in verskeie bome sit en vleg aapagtig tussen die takke deur. Grootoog voel so vies dat sy maar hier tussen die moepelblare versteek sal bly sit totdat die skemer kom. Die son sal tog weldra onder wees en dan is sy weer baas. Bewaar dan die katlagter wat nog sy groot mond hier kom ooprek. Maar sy weet dat hulle lank voor die tyd die spat sal neem.
Sy sit ‘n rukkie stil en wag. Dof in die verte, laer af teen die berghang, verneem sy gedempte stemme wat al nader kom. Eindelik klink krakende voetstappe duidelik op die droë blare. Grootoog luister benoud na die steurende geluide, want hulle beweeg ongetwyfeld in die rigting van die uitdoppertjieboom. Hoe magteloos voel sy nie in die dag nie! Hier sit volop tergende katlagters om haar in die bome en daar onder is gewis ‘n paar rowers by haar nes besig. Sy hoor ‘n opgewonde gebabbel en ‘n skuurgeluid teen die takke. Dis die seun wat met versterkings teruggekeer het om hom te wreek. Grootoog trap onrustig rond. Die daglig is vir haar soos boeie aan die vlerke. Daar onder klink ‘n paar triomfkrete en sy hoor hoe die rowers babbelend verder deur die bome voortstap.
Anstig wag sy die skemer af. Die groot oë boor gedurig deur die blare. Dof verneem sy die deurmekaar geskater van die katlagters nou vér in die boskloof op en besef dat hulle dus padgegee het. Dan spring sy uit die blare te voorskyn en seil vinnig tussen die stamme deur nes toe. Alles is daar in ‘n warboel. Groen blare lê oral onder die uitdoppertjie met stokke afgeslaan. Die nes is heeltemal verwoes en die twee uiltjies is weg. Grootoog wip angstig van tak tot tak. Haar pieringoë gloei boosaardig-soekend in die flou namiddaglig. Dan gaan sy besluiteloos op ‘n dwarstak sit en begin ‘n saggedempte gehoe. Dit klink soos ‘n weemoedige getreur oor verlorenes. Haar groot oë dwaal soos in ‘n droom om haar heen. Met kort tussenposes klink die geroep deur die bosse. Dan besef die ou uil skielik dat haar onverskillige “gehoe” maklik ander vyande op haar kan afbring en sy swyg. Soos ‘n treurende sit sy by die nes, haar wydgerekte oë starend deur die blare heen.
Die son het ondergegaan en die skemer begin weer oor die bome toesak. Asof sy uit ‘n droom ontwaak, rig die arenduil haar meteens op en skud haar vere reg. Die aand het gekom en die aanloklike skemer wink om weg te vlug van hierdie droewige onheilsplek.
‘n Rukkie later flap sy swenkend deur die bome en laat haar spookagtige geroep dreigend deur die skemer rol. Dan duik sy woes omlaag en skiet rakelings teen die grond verby. ‘n Bergpatrys tuimel halsoorlop die hoë gras in en sit roerloos verskuil. Maar Grootoog gly voort deur die bome. In haar vlug verneem sy die gekraai van ‘n haan by die hutte, wat die sterwende dag ‘n afskeidsgroet toeroep.
Roerloos op die droë doringstomp sit sy nou. Die swartes sal boet. Die laaste hoenders sukkel met groot lawaai die slaapboom in. Grootoog gewaar met genoeë die paar kuikens wat op die dwarstak sit. Terg wil sy hulle vanaand, uittart en uitoorlê. Eers dofweg, maar al hoe harder en dreigender klink haar onheilspellende “hoe-oeoe” deur die skemer. Onrustig “kirr” ‘n paar hoenders in die boom. Van die hutte af kom ‘n paar regop gestaltes aangestap. Grootoog verdwyn stil van die stomp af en vat pos in ‘n digte karee. Sy hoor klippe oral deur die bome gons, vergesel van skor bangmaakgeluide. Hard en tergend “hoe-oeoe” sy uit die donker karee, geëindig met ‘n klank soos van ‘n diep spotlag. Dan glip sy stil terug deur die bome en laat haar agtervolgers soekend agter. Onverwyld skiet sy af op die doringboom en met grypende kloue vooruit, raap sy ‘n kuiken van die dwarstak af. Agter haar is weer die opgewonde rumoer van die hoenders en die hees geroep van die swartes, terwyl sy hoog oor die bome voortvlieg na die bos. “Hoe-oeoe, hoe-oeoe…!” klink dit soos ‘n hoonlag deur die skemerte heen.
Vér tussen die bome sit Grootoog op haar gemak die hoendertjie en verskeur. Tevrede wurg sy repies vleis na binne. Sy het haar gewreek.
Tussen die bome aan die hang van die berg, styg ‘n rooi gloed in die lug op. Grootoog vlieg nuuskierig daarheen om te gaan speur wat gaande is. Sy gewaar die vlamme van ‘n groot kampvuur wat die naaste bome daaraan helder verlig. ‘n Byna onhoorbare klapwiek en Grootoog neem plaas in die digtheid van die donker kareeboom naby die kant van die ligkring. Haar twee groot ronde oë loer deur die blaregordyn na die vreemde skouspel hier voor haar.
By die lig beweeg ‘n paar mense luidrugtig rond. Enkele musieknote dring soos huilklanke met ‘n eienaardige “tong-tong”-begeleiding tot by die kareeboom deur. Luisterend en belangstellend kyk Grootoog voort. Die mense begin rumoerig om die vuur in pare tiekiedraai. ‘n Donker vrees verskyn in Grootoog se pieringoë, vrees vir hierdie snaakse skepsels en die verlies van haar kleintjies skiet haar weer te binne. Sy wip geluidloos van die tak af, die nag in…
“Hoe-oeoe…!” Geheimsinnig klink dit deur die nag. Die pieringoë loer na die donker silhoeët van die bergkrans aan haar linkerkant. Sy moet weg uit die poortvallei waar allerhande gevare heers, voort op nuwe vlugte snags deur ander bosse heen. ‘n Oomblik draai sy dwars in haar vlug en blik vir laas na die helder gloed tussen die bome.
“Hoe-oeoe…!” Dis ‘n enkele sug wat stil deur die bome versmelt onderwyl die ou doodvoël op ligte slae van haar breë vleuels die nag se donkerheid insweef…
Langs die Toelanie
Versigtig kom die twee voorste rooibokramme oor die lang sandbedding aangestap. Enkele treë na agtertoe, waar die hoë apiesdorings teen die skuinste van Toelanie se skurwe walle wortel, staan die res van die trop onrustig en rondtrap, voordat hulle aarselend die twee ramme volg. Maar steeds bly elke sintuig gespanne, bedag op die geringste teken van gevaar.
Dit is winter. Al wat nog van die rivier oor is, is enkele vlak kuile wat deesdae die drukbesoekte suipings van die wild uitmaak. Die rooiboktrop se doelwit is juis die groot kuil, ‘n honderd tree daarvandaan in die draai van die rivier, waar die uitgestrekte takke van die twee ou reuse-apiesdoringbome op die wal, hoog oor die ruie bosgasie troon. Heel op die voorpunt kom Snel, die leier van die trop, en kort agter hom volg ‘n ander uitgegroeide ram.
Onverwags verander die bokke hulle koers en stryk ‘n paar tree verder oor die sand aan voordat hulle aarselend gaan staan. Meteens spring die hele trop om en nael ‘n paar tree terug om dan maar weer vas te steek en met nuwe versigtigheid in die rigting van die groot kuil aan te stryk.
Snel weet dat dit hier nie baat om ter wille van die dors sommer argeloos water toe te stap nie. Jy moet eers baie seker maak of daar nie miskien êrens tussen die ruie bos langs die water enige verborge gevaar skuil nie.
Aan die anderkant van die kuil ontstaan meteens ‘n hewige lawaai en die rooibokke weet onmiddellik dat ‘n blouaaptrop in aantog is. ‘n Rukkie later verskyn hulle galoppende gestaltetjies op die sandbedding regoor die kuil, onderwyl die volgroeide mannetjies swetsend teen mekaar gryns. Dog skielik word ‘n paar waarskuwende note gehoor en die hele aapgemeenskap spat met lang hale en gekromde sterte teen die rivierwal uit om op veilige afstand in die hoë bome grommend te gaan sit en tande wys.
Die bokke het intussen vasgesteek en snuif die lug wantrouig. Die ooie beweeg rusteloos tussen die opgeskote lammers rond. Snel is met hierdie jongste wending van sake by die kuil gladnie tevrede nie. Toe hy ‘n rukkie later drie vlakvarke teen die wal aan die oorkant na die water sien aftrippel, hou hy hulle gespanne dop, in die hoop om finaal te kan vasstel of dit vir sy trop veilig sal wees om ook nader te staan.
Die vlakvarke het sommer onverskillig die wal afgedraf, oor die sand tot by die eerste vlakwatertjies, waar hulle nou gulsig, met sagte slurpgeluide besig is om hulle dors te les. Snel sien weer ‘n groot aapmannetjie oor die sand aangestryk kom. Die varke skenk geen aandag aan hom nie, maar toe hy regoor die groot apiesdoringboom verbygalop, loer hy meteens in daardie rigting en versnel sy pas geweldig, terwyl hy by die kuil verbynael. Die drie ou langsnoete het nou vervaard orent gewip en lig hul sterkwassies en misvormde koppe hoog in die lug om vas te stel wat die konsternasie van die aap veroorsaak het. Maar hulle slaag daar blykbaar nie in nie en ná nog ‘n paar haastige slurpe draf hulle vinnig teen die wal uit en verdwyn tussen die bome.
Hierdie laaste onraadsteken het ook nie die wakker oë van Snel, die sierlike rooibokram, ontgaan nie. Hy kyk verlangend na die waterkuil want hy en sy trop is die vorige dag ook verhinder om te kom water drink, maar instinkmatig voel hy dat daar êrens tussen die riete langs die kuil vanmôre gevaar skuil. Die bokke voel egter baie dors en met die prikkelende geur van die water in die neusgate, begin die trop weer stadigaan kuilwaarts beweeg. Snel en die ander groot ram staan nog steeds op die sand en rondtrap. Uiteindelik nader die voorste bokke die waterkant en begin versigtig te drink …
Meteens is daar ‘n geweldige knal en die rooiboktrop spring vervaard om en wip met lang hale oor die sand heen. Teen die wal begin een van die jong ramme gevaarlik kantel en stort dan hard teen die grond neer, waar hy skoppend op sy sy bly lê.
Agter die massiewe stam van die groot ou apiesdoring kom ‘n manspersoon te voorskyn en stap vinnig oor die sand na sy buit aan. Toe hy by die bok kom, beskou hy hom met ‘n kennersoog, terwyl hy hardop met homself gesels: “Darem nie te sleg nie, die beste wat ek in die omstandighede kon doen. Was dit nie vir die ellendige ape nie, kon dit nou daardie pragtige groot ram gewees het.”
Hy lig die bok met moeite op sy skouers en begin swaar deur die dik sand aansukkel …
Ver op die oop veld tussen ‘n lap kurkbos, steek Snel en sy verwilderde trop weer die eerste keer vas. Terwyl sommige van die jonger bokke onrustig in die rigting van die onheilsplek terugstaar, meet die groot rooibokram die stand van die son met sy oë en dink onrustig daaraan dat daar ‘n baie onaangename dag vir hom en sy trop voorlê. Die son het nog nie eers tot op sy hoogste punt geklim nie en die bokke was vroeg vanoggend al baie dors. Om twee dae sonder water klaar te kom, het die nood hier langs die Toelanie al dikwels vereis, maar om desnoods drie dae so deur te sukkel, soos waarskynlik vandag gaan gebeur, is genoeg om enige groot rooibokram om te krap.
Hy maak aanstaltes om sy trop laer langs die rivier af te lei, want ‘n kilometer of wat ondertoe is daar ‘n lang vals vlei, waar sekerlik nog iets groens te knibbel sal wees.
Die gevreesde jagters is besonder bedrywig hierdie winter, dink Snel. As dit so moet aanhou, sal dit naderhand hier langs die Toelanie vir ‘n rooiboktrop heeltemal onveilig word …
‘n Paar kilometer daarvandaan, waar ‘n wit tentjie onder ‘n groot haak-en-steek opgeslaan staan, sit twee persone op veldstoeltjies en toekyk hoedat ‘n ou jong die ram afslag. Die een klop sy pyp teen sy skoen uit en vervolg : “Ek sê jou maat, dit was ‘n pragtige ram, daardie leier van die trop; ek het gevoel my vel word hoendervleis toe hy teen die skuinste afgetrippel kom en ek sy swaar rooibruinlyf in die son sien glinster …”
“En jy sê die ape het jou kans toe heeltemal bederf?”
“Ja man, die ellendige goed … maar luister, jy weet daardie bokke sal môre vroeg nie lank ná sonop by die water wees nie en ons moet daardie ram hê.”
“Hulle sal natuurlik nie môre weer na dieselfde kuil toe kom nie.”
“Ek twyfel, maar ‘n endjie laer af in die rivier is ‘n ander groterige kuil waar die wild ook volop drink. Ek dink ons moet môre vroeg daar gaan probeer …”
Die dag is uiteindelik aan die breek en waar die rooiboktrop ver op die vlakte gretig die koms van die sonlig inwag, trap Snel reeds lankal haastig rond. Hy het besluit dat hulle nie ‘n dag langer meer in hierdie omgewing gaan vertoef nie. Sy plan is om wei-wei al verder langs die rivier af te trek, maar darem op veilige afstand daarvan verwyderd te bly. Langs die rivier af behoort daar ook nog goeie weiveld en waterkuile te wees, waar miskien nog geen gevreesde jagter heen deurgedring het nie. Maar voordat hy die tog met sy trop aanvaar, sal hulle eers hul knaende dors moet les.
Snel voel nog steeds te lugtig om weer die groot kuil in die draai van die rivier te besoek en het die tweede kuil in gedagte toe hy luierig agter sy trop aanslenter. Eindelik steek die voorste bokke ondersoekend op die digbegroeide wal voor die droë sandbedding van die rivier vas en tuur stip voor hulle uit. Aan die oorkant lê ‘n taamlike groot eiland, want gedurende reëntyd vloei hier twee strome water, ongeveer ‘n honderd tree van mekaar af, voordat hulle ‘n paar honderd tree verder weer saamsluit.
Die bokke moet in ‘n oopgetrapte voetpad dwarsoor die eiland langs gaan om die kuil aan die anderkant te bereik, Die dors het egter nog nie die oorhand oor hulle ingebore versigtigheid gekry nie en kort-kort gaan hulle senuweeagtig staan en rondtrap, bedag op die geringste teken van gevaar. Eindelik lê die kuil voor hulle en die troppie aanvaar die laaste paar tree oor die sand. Die voorste bokke begin alreeds haastig te drink maar Snel staan maar nog ondersoekend op die agterhoede en rondtrap. Uiteindelik waag hy dit, om ook nader te staan …
Meteens knal daar twee oorverdowende skote bykans gelyktydig en die bokke spring verwilderd die beskutting van die eiland binne. Hulle storm daar blindelings dwarsdeur na die veiligheid van die oop vlakte aan die anderkant. Snel voel ‘n verskriklike brandpyn in sy bors and sy andersins kragtige bene dra hom traag en moeisaam tot aan die punt van die eiland, waar hy hygend onder ‘n digte bos inkruip. Hy voel hoe die bloed langs sy voorbene op die grond begin afdrup en vir die eerste maal in sy lewe voel die gewig van sy sierlike horings meteens te veel vir die spiere van die slank nek en druk hy sy neus laag teen die grond.
Hy is vaagweg bewus van haastige voetstappe op die droë blare, ‘n paar tree daarvandaan. Hy bly egter roerloos staan en die geluid sterf weer langsaam weg.
Aan die anderkant van die eiland is die twee jagters nou besig om naarstiglik al in die droë bedding langs spoor te sny. Uiteindelik staan hulle moedeloos langs mekaar.
“As ons net sy bloedspoor kan kry, waar hy die veld in is …”
“Ja ons kan nie die pragtige ram verloor nie.”
“Gaan bewerk jy solank die ander bok, dan draf ek kamp toe om die honde te gaan haal …”
Snel staan nog steeds onder dieselfde bos en luister gespanne of hy nie miskien weer iets van sy agtervolgers gewaar nie. Die brandpyn in sy bors het effens afgeneem maar sy hele voorlyf begin stadigaan stram en styf word. Hy wonder vaagweg waar sy verstrooide trop hulle tans bevind. Hy sal miskien maar vandag nie hier probeer verroer nie en teen sononder ‘n poging aanwend om die veiligheid van die doringveld te bereik. As die ellendige lamgevoel net eers weer sy voorlyf wil verlaat en as sy agtervolgers tog maar net nie weer spoedig terugkeer nie …
Skielik lig hy sy kop regop en luister aandagtig. Laer af op die eiland is ‘n duidelike pootgetrippel en ‘n geritsel in die lang gras hoorbaar. Die geluide word al duideliker en spoedig gewaar Snel twee snuffelende gedaantes al op sy bloedspoor aangesluip kom. Dit is honde!
Met die laaste bietjie krag wat nog in sy pynlike liggaam is, spring hy onder die bos uit en koers blindelings tussen die bome voort. Sy nuwe vyande uit ‘n paar kort tjankblaffies en snel meedoënloos agterna. Snel voel dat sy laaste kragte kom begin begeef. Hy struikel oor ‘n katnaelbossie en hoor die onheilspellende pootgeklap kort agter hom. Toe gryp die voorste hond hom aan die agterbeen en pluk hom genadeloos teen die grond. Hy probeer weer opstaan, maar die tweede aanvaller is in ‘n oogwink by en val langs sy maat in. Moedig beur die rooibokram sy pynlike voorlyf orent en probeer om die honde met sy horings by te kom.
Tussen die bome kom twee hygende regop gestaltes aangehardloop en die een nader versigtig van vooraf en kry die weerlose bok skielik aan sy horings beet. Snel voel hoe sy nek met geweld vooroor gebuig word en die volgende oomblik skiet ‘n skerp steekpyn agter sy kop in en elke senu in sy liggaam tril, onderwyl hy stadig sy bewussyn verloor …
Die twee jagters sukkel swaar met hul vrag teen die steil wal van die rivier uit.
“Ons het hom,” sê die een.
“Dis die mooiste rooibokram wat ek nog ooit in my lewe geskiet het,” sê die ander.
Op hul hakke volg die twee honde met druipende tonge wat vér uit die hygende bekke hang, selfvoldaan oor hulle ongewaardeerde kordaatstuk.
Vér aan die anderkant van die Toelanie staan ‘n klompie rooibokke rusteloos op die vlakte en rondtrap, af en toe in die rigting van die rivier turend, asof hulle nog steeds verwag om die slank gestalte van Snel, hulle gewese leier, enige oomblik oor die lang grassade aangespoed te sien kom.
Onder die ou Kameeldoring
Ligvoets trippel die steenbokkie in die dowwe voetpaadjie langs tussen die wag-‘n-bietjiebome deur na die braklaagte daaronder. Die son is nog maar pas uit en die geur van lentedou op die soetdoringblomme ruik soet en fris in die koel môre. Tog het sy dit reeds raadsaam geag om nie langer daar oorkant tussen die jong, sappige mielies te vertoef nie. Daardie lekkernye is bedoel vir die stil ure van die nag.
Sy begin rustig wei aan die soetgrassies tussen die biesiepolle langs die kuil in die laagte. Eers toe die son heelwat hoër geklim het, draf sy teen die oorkantse bultjie uit, tussen die hoë stinkgras in.
Sy is op pad na die ou kameeldoringboom op die bult wat soos ‘n reusewagter sy takke oor die vlakte verhef. Hier is haar skuilplek gedurende die dag.
‘n Paar tree van die ou boom af kom sy uitgetrippel op ‘n taamlike groot kaalte. Naastenby in die middel daarvan steek die groot tuit van ‘n ou verlate miernes in die lug. Hierin het ‘n geruime tyd gelede reeds ‘n stokstertpaar hulle intrek geneem. Die mannetjie was juis net ‘n paar tree van die tuit af aan die wegdraf oor die kaalte om die dag se jag te begin, toe sy fyn oortjies die dowwe geluid van klappende kloutjies teen die grond verneem. In ‘n oogwenk het hy teruggeswaai en teen die tuit uit laat nael tot binne in die gat. Toe die steenbokkie ‘n oomblik later oor die kaalte draf, loer die klein meerkatkoppie al weer nuuskierig oor die rand en hy bespeur tot sy gerusstelling dat dit maar net een van hul makkers is wat ook al lankal haar intrek by die ou kameeldoringboom geneem het.
Skuins onder die kameel staan ‘n welige blinkblaarbos, met sy hoogste takke oral tussen die skurwe spruite van die ou boomreus ingevleg en net so welig het die gras tussen die blinkblaar se doringagtigheid opgeskiet en vorm dus ‘n digte boskasie. Die oog merk dadelik dat die steenbokkie goed gekies het toe sy haar lêplek teen die stam van die blinkblaar tussen die gras gemaak het.
Vanwaar sy nou lê, geheel en al bedek tussen die groen lower, kan sy deur die grassprietjies heen op die kaalte lê en uitkyk. Sy sien hoe die twee stoksterte teen die tuitmiershoop afseil en koers kies tussen die gras in. Sy weet dat die klein meerkatjies al sterk word en dit vereis baie werk van die twee oues om die magies vol te hou. Een van die dae sal hulle die kleinspan seker op die jag meeneem…
So lê die steenbokkie rustig-peinsend en herkou totdat sy naderhand deur die eentonige eendeuntjiegesang van sysies en die aanhoudende ge-loe-loe-loe van ‘n reënroepertjie in die bos, insluimer. Maar kort-kort verraai ‘n oortjie wat luisterend in die een of ander rigting draai, dat die slapertjie se aangebore waaksaamheid nog werksaam is.
Die steenbokkie het meteens haar oortjies gespits. Uit die rigting van die bos kom duidelik hoorbaar die geselsende ge-kok-kok van boskraaie. Na ‘n rukkie verneem sy die lompe vlerkgefladder reg bokant haar in die takke en loer nuuskierig opwaarts. Die twee ou sekelbekke is ou bekendes en hulle is na lang afwesighed weer terug om hul nes in die holte van die ou afgesaagde kameeltak, hoog teen die skurwe stam van die ou boom, te bou.
Die wyfie het dadelik nadergewip na die uitgeholde knoets om te ondersoek of die ou broeiplek nog veilig en doeltreffend is, terwyl die mannetjie rusteloos tussen die takke rond kok-kok, asof hy daarmee aan die omgewing wil verkondig dat die boskraaipaar weer terug is en groot planne vir hierdie seisoen koester.
Die steenbokkie lê hulle belangstellend en dophou. Sy weet uit ondervinding dat die lang, stil ure van die dag nou nie meer so traag sal verbysleep nie, want buiten die stoksterte wat interessante makkers hier onder die ou kameeldoring uitmaak, is ook die sekelbekke nou weer hier om die eentonigheid te help verdryf.
Tusssen die stinkgraspolle aan die oorkant van die kaalte, kom die meerkatwyfie versigtig uitgesluip. Sy steek vas toe sy die nuwe aankomelinge merk en bly ‘n rukkie verras op die agterpootjies sit om die sekelbekke se gewerskaf te aanskou. Dan word sy meteens haastig, want dofweg, dog duidelik hoorbaar, kom die dringende geroep van haar mannetjie, “piep, piep, pieu!” as ‘n gewisse teken dat hy ‘n ryk buit op die lyf geloop het; miskien ‘n klomp oopgeskropte rysmiere of ‘n span jong sprinkaantjies, meen sy en roep met ‘n fluit die vier kleintjies uit die nes. Hulle gly sku een vir een oor die rand van die tuit en snel opgewonde op hul moeder toe. Sy laat egter geen tyd verlore gaan nie, maar koers onmiddellik terug deur die graspolle met die kleinspan op ‘n streep agterna.
Intussen het die twee sekelbekke ernstig begin werk aan hul nes. Hier en daar word ‘n paar veertjies bymekaar geskraap, blaartjies, grassies en ander goed en ywerig in die hol ruimte ingewerk. ‘n Geruime tyd bly hulle besig en die steenbokkie lê hulle belangstellend en beskou. Een van die dae sal die wyfie natuurlik pal op die nes begin sit en sal die ou mannetjie sy sekelsnawel vol hê met modder aangedra vanaf die braklaagte, om die opening van die nes toe te pleister.
Al aan die kant van die gebroke wag-‘n-bietjieveld onder langs die braklaagte, beweeg die stappende figuur van ‘n man met ‘n geweer in die hand. Toe hy duskant op die bultjie uitkom, is dit duidelik dat hy stadigaan in die rigting van die ou kameeldoring aankom. Die son sit nog effens hoog in die weste, maar dit is tog al moontlik om weiende bokkies op die lyf te loop. Dis jammer dat die stinkgrasveld vanjaar so hoog gegroei het; voordat ‘n mens die wild gewaar, het hulle jou lankal hoor aankom en op die vlug geslaan… Hy stap oor die kaalte kortby die ou boom en plaas ‘n paar oomblikke later die geweer regop teen die stam. Dan begin hy om met moeisame gewerskaf teen die stam op te klouter. Eindelik steek die jagter sy kop bokant die plat kruin van die ou kameelreus uit. Nou kan hy vér sien. Hy plaas sy hand bokant sy oë en tuur ondersoekend oor die uitgestrekte veld, om te sien of hy nie miskien al ‘n bokkie êrens gewaar nie.
Skielik hoor hy ‘n geritsel in die gras reg onderkant hom en toe hy vinnig afkyk, spring die steenbokkie vanuit haar bedekking te voorskyn en draf ‘n paar tree oor die kaalte aan voordat sy nuuskierig vassteek en met verbaasde oë die vreemde verskynsel in die boom starend betrag. Met die onmiddellike besef dat hy hopeloos getroef is, dink die jagter aan sy geweer onder teen die stam. ‘n Paar sekondes gaan verby en nog staan die steenbokkie hom met gespitste ore en dophou. Dan begin hy om suutjies terug te klim, onderwyl hy die bokkie gretig in die oog hou. Sy draf nog ‘n paar tree verder en steek dan weer vas, maar toe sy sien hoe die gedaante teen die stam afgly en met ‘n dowwe plof die grond raak, maak ‘n instinktiewe vrees hom van haar meester en gly sy voort oor die grassade met sierlike en vaartige spronge. Vér agter haar staan die teleurgestelde jagter met geweer in die hand homself en verwens…
‘n Kwartiertjie later keer die stokstertfamilie van hul jagtog terug. Toe hulle oor die kaaltetjie aangestreep kom, kry die oues meteens die vreemde geur in die neus. Die wyfie gebied die kleinspan om onmiddellik in die gat skuiling te soek, terwyl sy self nuuskierig oor die rand van die bek loer. Die mannetjie het intussen die omgewing versigtig besnuffel. Hy merk ook dat die steenbokkie reeds haar skuilplek verlaat het. Dis eienaardig, dink hy, want gewoonlik gaan sy eers heelwat later op die wei uit. Nadat nog ‘n paar minute verstryk het, lê die stoksterte weer almal lomerig in die laat middagson en bak.
Die ou kameeldoring se skaduwee het langsaam langer gerek. Die meerkatte lê en luister hoe die tortels oral in die bos die suisende stilte begin verbreek met hul weemoedige geroe-koe-koe. ‘n Luggie begin trek en dan kom ‘n dwarrelwindjie tergend oor die kaalte aangedans en draai lustig onder die kameelboom deur. ‘n Paar peule raak bo tussen die blaartjies los en klater hard op die grond neer. Die meerkatte nies die lastige stof uit hul neusgate uit.
Toe die son sy koppie agter die lap brosdorings oorkant die braklaagte wegtrek, kom die twee boskraaie weer by die ou kameeldoringboom aangevlieg. Spoedig het elk ‘n geskikte slaaptakkie uitgesoek en posisie ingeneem vir die nag. Oor die rand van die tuit het ook die laaste meerkat nou verdwyn, want slapenstyd het aangebreek…
Onder in die braklaagte lig die steenbokkie haar koppie op waar sy besig is om sappige uintjies uit die grond te krap, en tuur deur die skemer in die rigting van die plaat wag-‘n-bietjies, waaragter die mielieland lê. Eindelik is dit donker genoeg na haar sin en koers sy versigtig voort deur die bome. Spoedig trippel sy aan die bopunt van die lap jong mielies die land in, waar ‘n genoeglike nag op haar wag.
Eindelik het die son weer oor die brosdoringveld geloer en die klein-dierelewe van die bos is besig om te ontwaak. Die opgeruimde tortelgesang weerklink deur die bome. By die ou kameeldoring is die sekelbekke ook al op die vlerk. Meer as een niksvermoedende akkedissie wat op ‘n miershoop lê en blaker, word verras voordat hy tussen die gras kan verdwyn. Met behulp van hul gekromde snawels skeur hulle die buit aan stukke voordat dit haastig na binne gewurg word. Toe die steenbokkie weer onder die beskutting van die blinkblaarbos indraf, begin die stokstertfamilie weer aanstaltes maak om op ‘n kossoektog te vertrek. Daarna begin die ure om traag en langsaam verby te gly.
Intussen het die sekelbekke teruggekeer en die wyfie het in die holte van die nes verdwyn. ‘n Bietjie later vlieg die mannetjie weg in die rigting van die kuil onder in die laagte. Toe hy terugkeer, merk die steenbokkie dat hy ywerig begin om die die bek van die nes toe te pleister met modder. Na ‘n rukkie sit hy weer af laagte toe en so hou die gewerskaf ‘n tyd lank aan. Eindelik is die wyfie nou ‘n gevangene in haar eie nes, met ‘n klein openinkie waardeur die mannetjie haar moet voed. Dit skyn asof die ou sy verantwoordelikheid terdeë besef, want nadat hy sy sekelbek teen ‘n kameeltak skoongevee het, fladder hy weg tussen die haak-en-steek-boompies in om te sien wat hy op die lyf kan loop.
Die voormiddagson begin reeds fel braai oor die soetdoringveld. Die verenigde gesang van sysies in die nabyheid sus die gemoed van die steenbokkie tot ‘n ligte sluimering. Skielik word sy weer tot die werklikheid teruggeroep deur die harde gevlerkflap en gekok-kok van die sekelbekmannetjie. Halfpad teen die ou kameelstam sit ‘n bloukopkoggelmander wat van plan was om ook sy intrek hier te kom neem. Dat die boskraai daarteen protesteer is duidelik, want toe die koggelmander hom nie laat afskrik nie, word hy deur ‘n venynige vlerkslag grond toe gestuur en nog voordat hy die veiligheid van die graspolle kon haal, het die groot, gekromde snawel hom beetgepak en die lewe uit sy skurwe lyf gepers.
Die steenbokkie rek haar behaaglik uit, onderwyl sy genotvol lê en herkou. Sy sien die meerkatte luierig oor die kaalte aankom en lêplek inneem aan die sonkant van hul tuitmiershoop. Twee van die kleinspan voel egter nog nie lus om stil in die son te lê en bak nie en verdryf die tyd deur mekaar op die kaalte rond te jaag. Ná ‘n rukkie voeg hulle hul ook by die ander, te moeg om voort te gaan met die spel.
Meteens verneem die meerkatte die steurende gekok-kok van die boskraaimannetjie en toe hulle nuuskierig omkyk, wip die voël uit die takke en begin skuins agter die tuitmiershoop laag teen die grond sirkel. Nuuskierig om die oorsaak van sy konsternasie te bespeur, draf die meerkatmannetjie om die tuit. Oombliklik is hy die opgewondenheid self, want skaars vyf tree voor hom rys die voorlyf van ‘n bakkop in die lug, terwyl die boskraai tergend bokant die slang draai. Ons stokstert het meteens alle aandag van die slang op homself gevestig toe hy vlak onder die bereik van die sissende bakgetrekte kop vassteek om die slang te tart. Dié laat ook nie op hom wag nie en sy opgehewe voorlyf sak vinnig grond toe, maar die volgende oomblik pik hy in die stof, terwyl die katjie hom alweer vanuit ‘n ander rigting bedreig.
Die stilte onder die ou kameeldoring is weer tydelik versteur. Die boskraai het, toe hy sien dat die slang nou in veilige hande is, in die naaste tak van die boom gaan sit om die verloop van die speletjie dop te hou, onderwyl hy die meerkatjie met behulp van sy luidrugtige, skor stem aanmoedig.
Intussen het die stokstertwyfie haar by haar maat kom voeg, nadat sy die kleinspan in die tuitmiershoop versorg het. Die wêreld word nou te warm vir die bakkop en kort-kort probeer hy die beskutting van die stinkgraspolle haal, dog moet telkens woedend omswaai om een van die lastige aanvallers van sy lyf af te weer. Hou vir hou pik hy elke keer op die plek waar een van die katte pas ‘n oomblik tevore was en sy mislukte aanvalle maak hom nog venyniger.
Toe die stoksterte sien dat die slang tekens van uitputting begin toon, gaan hulle tot die werklike aanval oor. Veglustig wip hulle heen en weer, om en oor die slang, dat hul stoksterte soos waaiers in die lug wapper. Die slang kom nou nie meer so blitssnel regop na ‘n mislukte pikpoging nie en af en toe gebeur dit dat ‘n meerkatjie in die kort oomblik sy kans waarneem om hom aan die lyf te byt. Dit word nou duidelik dat die bakkop dit nie meer lank kan maak nie. Meteens, op die geskikste oomblik, het die stokstertmannetjie blitsvinnig vorentoe gewip en die slang agter die kop gepak, terwyl die wyfie aan die stertkant byspring. Toe die meerkatpaar hom los, kan die reptiel se voos lyf net nog ‘n paar kragtelose kronkelinge gee. Hy het vandag sy moses teengekom hier onder die ou kameeldoringboom waar hy die wêreld wou kom verken met die oog op ‘n verblyfplek in die tuitmiershoop.
Nadat die stoksterte ‘n rukkie gevreet het, word die kleintjies uit die gat geroep en die familie val weer saam weg aan die heerlike buit. Die ou boskraai het die gewerskaf geduldig sit en dophou totdat die katte, versadig en selfvoldaan, hulle weer aan die sonkant van die tuitmiershoop gaan neervly. Dan begin hy die oorblyfseltjies nes toe te piekel, waar sy wyfie deur die klein openinkie daarvan geniet.
Eindelik het die steenbokkie dit laat genoeg geag om te gaan wei. Die meerkatte wat nog kort voor sononder die laaste hitte van die kwynende sonnetjie soek, sien haar lenige gestaltetjie versigtig oor die kaalte beweeg voordat sy tussen die stinkgras verdwyn. ‘n Rukkie daarna gly die meerkatte een vir een oor die rand van die tuit, want die nag is aan die kom. Ook die ou sekelmannetjie het reeds sy sitplek vir die nag ingeneem op ‘n dwarstak skuins bokant die nes.
Onder in die laagte is die steenbokkie nog besig met wei. Die skemer het egter vinnig begin toesak en spoedig word die doringveld in donkerte gehul. Nou vertoef sy nie meer langer nie en laat vat op ‘n vinnige stapgangetjie in die rigting van die mielieland teen die bult. Aan die kant van die land het sy met gespitste oortjies versigtig vasgesteek en die koel naglug opgesnuif, voordat sy wei-wei aan die soet mieliestengels begin knaag. Dog telkens hou sy op met vreet om die oortjies luisterend te spit wanneer sy die geringste verdagte geluidjie hoor.
Aan die onderpunt van die land verskyn daar meteens die straal van ‘n helderskynende lig wat langsaam oor die lap mielies draai. Die bokkie staar met groot oë na hierdie vreemde verskynsel en weet nie hoe om daarop te reageer nie. Sy begin weer vreet. Stadig begin die ligstraal beweeg en naderende voetstappe wat die wonderlike affêre vergesel, dwing haar weer om daaraan aandag te gee. Meteens word sy bewus van ‘n drang om te vlug en begin skuins oor die land hardloop. ‘n Endjie verder steek sy vas, want haar nuuskierigheid het weer die oorhand gekry. Verblindend val die strale nou vol op haar en sy staan asof gehipnotiseerd en toekyk… Oorverdowend knal daar skielik ‘n slag en die steenbokkie verneem meteens die gesang van miljoene sysies, soos op ‘n warm somerdag, terwyl die nag om haar vir ewig verdonker.
Môre, by die wakkerword van ‘n nuwe dag, wanneer die ou boskraai weer soos altyd in die takke van die ou boom sal rond kok-kok en die meerkatfamilie aan die sonkant van die tuitmiershoop lê en bak, sal hulle haar mis onder die ou kameeldoring, want haar lêplekkie sal voortaan leeg wees teen die blinkblaarboom se stam.
Oortjies
n Triestige motreëntjie sif sag oor die bome heen en laat die haak-en-steekboompies dof en vaal in die ligte druppelgordyn vertoon. Dis reeds laat in die môre, maar die wolke bedek die son en die wind sny koud oor die veld.
Tussen die haak-en-steek, onder ‘n groot stinkgraspol, sit Oortjies die hasie en lek besorg die druppeltjies van haar vaal-grys pootjies af. So ‘n dag verdra sy nie.
Dis nie eens meer winter nie en voel tog hoe koud waai die wind deur die gleufies teen haar aan.
Kort-kort skud sy ‘n paar druppels van haar af, wat bo in die haak-en-steek aan die blaarpunte soos veelkleurige diamantjies gehang het. Dit laat haar kouerig inmekaar krimp en besorg deur die opening van die bome heen loer.
‘n Klein endjie daarvandaan, weet sy, het sy haar kleintjie veilig versteek in sy nessie tussen die ruie gras wat dig tussen een van die haak-en-steekbossies deurgevleg het. Sy weet dat hy daar gehoorsaam sal bly lê en op die geringste teken van gevaar doodstil inmekaar sal krimp met sy oortjies plat teen sy wollerige lyfie gedruk.
Hy word al groot genoeg om vir homself te begin sorg en eersdaags sal hy nie meer in die nessie hoef te bly nie. Saans trippel hy al alleen rond en eet oral aan die fyn, groen grassies wat naby die haak-en-steekbossie staan.
‘n Skemer-vaal mistigheid hang oor die veld en hul die bome in ‘n somber sluier sodat alleen die naaste omgewing sigbaar is. Daar vér tussen die bome doem stadigaan die swart gestaltes van ‘n aantal beeste, soos groot gevaartes, in die mistigheid op. ‘n Endjie agter hulle fluit die wagter. Oortjies sit nou gespanne en loer en luister of sy nie ander verdagte geluide kan gewaar nie. Die trop wei langsaam verby totdat hulle weer heeltemal in die verte in die digte mis verdwyn. Maar Oortjies voel nog nie heeltemal gerus nie.
Skielik sien sy ‘n endjie van haar af ‘n snuffelende hond deur die boompies sluip. Hy gaan skuins by haar verby, reguit in die rigting van die bossie waar sy haar kleintjie versteek het. Eers het sy dieper onder die graspol ingekruip sodat hy haar nie moet sien nie, maar die gedagte dat haar kleintjie daar anderkant in lewensgevaar verkeer, laat haar soos ‘n warrelwind onder die graspol uitwip en sy nael in volle vaart enkele treë voor die hond verby om sy aandag af te lei. Hy spring met ‘n luide geblaf agter haar aan en die twee snel tussen die bome deur. Oortjies besef dadelik dat die baie gras en bossies haar vaart oneindig belemmer, want sy moet oor alles heen wip, terwyl die hond sommer onverskillig die gras en struike platloop. Sy swenk vinnig linksweg om op die oop vlakte te kom. Die hond kom met ‘n woeste blaftjank agterna gesnel en wen aanvanklik ook ‘n paar tree op die haas. Maar toe Oortjies uit die boompies te voorskyn spring en oor die vlakte heen koers, begin hy langsamerhand agter raak.
‘n Goeie seshonderd tree duur die wedren voort. Oortjies mik nou reguit na die enkele blinkblaar-wag-‘n-bietjies toe, daar voor waar ‘n ander kol hoë gras begin. Toe sy ligvoets, met opgewipte sterkwas, tussen die boompies deursnel, is die hond al ‘n goeie vyftig tree agter. In die gras swenk sy onmiddellik regs en sit haar vlug voort, so vinnig as wat die hinderlike gras dit wil toelaat. Haar ore is plat teen haar rug getrek.
Die hond storm hygend tussen die blink-blaarboompies voort en koers reguit deur die gras. Met kop omhoog gelig, steek hy naderhand vas toe hy niks gewaar nie en begin ywerig rondsnuffel na die verlore spoor. Maar hy is reeds by die plek verby waar Oortjies koers verander het. Gou-gou word hy moeg van die nodelose gesoek en draf stadig terug oor die vlakte, met jaende asem, terwyl sy tong hygend by sy bek uithang.
Oortjies wip reeds daar vér anderkant oor die veld met ‘n groot omweg terug na die kol haak-en-steekbome toe. Eindelik nader sy versigtig die nessie in die graspol en piep saggies om die outjie te roep. ‘n Opgeskote hasie draf opgetoë onder die grasbedekking uit en skuur liefkosend teen sy ma aan, onderwyl sy hom toelaat om te drink. Daarna kruip hy weer ewe tevrede onder die grassies in en Oortjies loer onrustig rond om te sien of daar nie dalk ‘n paar vyandige oë is wat hulle uit die struike dophou nie. Dan draf sy versigtig weg om ‘n klein endjie verder weer onder ‘n ander graspol te gaan sit en waghou en tewens ook te wag dat die lang dag wat tog so vol allerhande gevare is, moet verbygaan.
Die mis het stadigaan met die ouerword van die dag gewyk. Naderhand vertoon die omgewing helder sigbaar en die mistige wolkies dryf uitmekaar en gee die son ‘n kans om lekker op die aarde neer te skyn.
Nou voel Oortjies sommer baie minder swaarmoedig as vanmôre. Dit duur nie lank nie of al die spore van nattigheid op die blare is weggedroog. Oortjies sit nou lekker en skuil onder ‘n oorhangende pol want die son skroei reeds warm neer en dwing haar om die koelte op te soek.
Dofweg word die veraf geblaf van die hond weer verneem en die singende stem van die klonkie by die beestrop. Dit herinner Oortjies weer aan die onplesierige ondervinding van die oggend. Sy kyk onrustig rond, maar alles skyn veilig en doodstil te wees. Dit duur nie lank nie of sy vergeet die voorval en sit naderhand gemaklik inmekaargekrimp en slaap. Dis nie die vaste slaap wat voortduur onder die grootste rumoer nie, want selfs die sagte geluid van ‘n tor wat brommend oor die bossies heen snor, laat die groot oë onmiddellik oopgaan en haar ore aandagtig spits.
Laat in die middag draf sy weer weg om haar te gaan vergewis van haar kleintjie se veilighed en laat hom weer ‘n slag drink. Nog ‘n paar uur van volkome rustigheid gaan verby, waarin die hasie haar heerlike slapie geniet.
Die son wil al ondergaan. Oortjies strek haar luilekker uit en stap weer na die nessie toe. Sy roep die hasie en die twee begin versigtig tussen die boompies rondstap. Die outjie eet al net fluks en pluk oral aan die sagte rosyntjiebessieblare. Dit lyk of hy hom nie meer veel aan sy ma steur nie en sy dink self ook dat dit darem al tyd word vir hom om alleen klaar te kom. Sy roep hom nie terug toe hy al verder deur die gras aan die wegwei raak nie.
Oortjies voel vanaand weer in haar die ou natuurlike verlange na maats opborrel. ‘n Paar keer het sy al op haar agterpootjies gaan sit en haar ore luisterend heen en weer geroer. Die son het reeds ondergegaan en die skemer begin verdonkerend oor die omgewing sprei.
Skielik begin Oortjies, sonder om op die jong hasie ag te slaan, deur die veld wegdraf. Daar bo teen die bult weet sy uit ondervinding, sal sy volop geselskap aantref. Intussen het die skemer al sterk toegeneem. Die vlieserige wolke wat so ewe nog laag in die ooste gehang het, het verdwyn en bied die volle maan ‘n gulde kans om agter die helder horison statig, soos ‘n groot, goue bal te rys.
Oortjies draf ‘n bultjie uit en gaan sit ewe op haar gemak regop met opgeligte ore na die maan en tuur.
‘n Endjie daarvandaan kom ‘n groot haasmannetjie in die paadjie aangespring, Sy skerp ogies loer vanaand verlangend deur die skemer heen, want dis nou byna drie maande gelede dat die gevreesde hond sy wyfie gevang het en sedertdien dwaal hy nog alleen rond. Al die ander hasies van die haak-en-steekgemeenskap is geholpe; net hy alleen moet wewenaar speel.
Meteens steek hy vas en tuur verwonderd voor hom uit. Hier vlakby hom op die bultjie gewaar hy die silweromrande silhoeët van Oortjies teen die volle maan, wat soos ‘n helder keerkring om haar heen straal en veroorsaak dat sy buitengewoon groot vertoon. Dit maak die mannetjie effens twyfelmoedig, maar gou-gou skep hy moed en tree manhaftig vorentoe. Toe gewaar Oortjies hom en sit hom nuuskierig en beskou, onderwyl hy skaam-skaam met ‘n flikflooierige stemmetjie nadertree. Toe hy by haar kom, sien hy sommer dat sy hom goedgesind is en skuur homself vriendelik-liefkosend teen haar aan. Oortjies gee ‘n speelse klappie met haar opgeligte voorpootjie na haar nuwe vryer, waarop hy kastig ernstig koes, en toe draf die twee aan na die paadjie waarlangs die mannetjie so pas gekom het. Hulle ontmoet nog ander hasies en speel-speel voer die geselskap ‘n rukkie later ‘n trippeldans op die kaalte uit.
Oortjies en haar maat begin aanstryk na die laagte toe, waar die lande dof in die maanlig lê. Daar staan heerlike groen ertjies wat sappig en soet onder die kake kraak as jy so heen en weer deur die paradysie wei.
Hulle nader die heining versigtig, maar toe hulle aan die kant van die lande kom, sien hulle reeds die dowwe wit van ander hasies wat reeds besig is om van die boer se lekker groente te geniet. Oortjies en haar maat wei so ‘n endjie van mekaar af. Die sagte peule smaak vorentoe, en al wat haas is in die omgewing, geniet die feesmaal terdeë.
‘n Paar wolke wat nog die hele aand lank in die lug gehang het, het stadig afwaarts beweeg en die maan in sy opwaartse pad ontmoet. ‘n Somber donkerte versprei oor die ertjieland en laat die omgewing spookagtig vertoon. Die hasies loer onrustig rond. Dis nie so veilig in die donker as in die helder maanskyn nie. Na ‘n rukkie word hulle weer gerus en duur die fees in die ertjieland maar weer onvermoeid voort.
Opeens verskyn daar aan die kant van die ertjies ‘n helderskynende lig wat soos ‘n son in die nag sy strale oor die land gooi. Die ligstreep gly heen en weer oor die plante. Die mannetjie voel die helderheid daarvan op hom gerig en gaan nuuskierig reop sit om die eienaardige verskynsel beter te beskou. Die ander hasies in die donker sit ook doodstil en verstaan maar nie wat nou aangaan nie. Hulle sien die duidelike figuur van die mannetjie soos hy daar in die ligstreep reop sit en sy oortjies nuuskierig heen en weer roer…
Skielik knal ‘n geweldige donderslag en die gefluit van goedjies wat vinnig deur die lug vlieg, word gehoor. Die ander hasies sien hoe die groot mannetjie met ‘n kreun hulpeloos omtuimel en swakkies lê en skop. Daarop beweeg die lig vinnig nader en die hasies spaander verward in alle rigtings weg.
Oortjies kom eindelik weer op die bultjie aan waar sy haar minnaar vroeër die aand ontmoet het. Sy voel verdrietig en bang. Sy het gesien hoe hy flus deur die donderslag gedood is. Sy voel ‘n vae nuuskierigheid in haar opwel om te weet wat dan die oorsaak daarvan is. Die lig moes ook seker iets daarmee te doen gehad het, reken sy. Sy ag dit ‘n besondere ongelukkige aand vanaand; sy het ‘n mannetjie en ook ‘n heerlike fees aan groen ertjies verloor. Al wat nou oorbly, is om maar hier tussen die grassies te wei totdat sy versadig is voordat sy na die haak-en-steekboompies toe teruggaan.
Sy ontdek ‘n plekkie waar volop bossie- en graskalkoentjies staan en sy eet lekker aan die sappige stingels. Om sommige is die grond nie so hard nie en met ‘n bietjie gekrap van die voorpote grawe sy die smaaklike bolletjies oop.
Die maan het agter die wolke uitgeklim en skyn nou helder neer oor die veld. Oortjies voel veiliger en wei maar rustig voort. Hoër op in die bulte word die gelag van ‘n jakkals verneem en onmiddellik daarna die krasgeskree van ‘n korhaan wat lawaaierig opvlieg en op die maat van sy kortaf gekrak-krak voortvlieg in die maanlignag totdat hy netnou stil raak en iewers op die vlakte neerflap.
Oortjies staan ‘n rukkie stil en luister. Sy hoor dofweg die klaende geween van ‘n aantal kiewiete wat ook deur die een of ander ding in hul nagrus versteur is. Skrikwekkend dreun opeens weer die donderslag wat nog so vars in Oortjies se geheue is, vér anderkant die ertjieland. Sy spring verskrik weg en nael ‘n entjie voort deur die gras, maar gaan staan gou weer om aandagtig te luister. Toe die stilte voortduur, begin sy weer aan die grassies knabbel.
Die ure van die nag gaan langsaam verby. Die maan het al na die hoogte geklim en skyn vriendelik neer. Oortjies sien ‘n paar tree voor haar twee witruggestaltetjies in die maanlig heen en weer waggel en herken dadelik die twee muishonde wat die stinkgrasbultjie lankal reeds tot hul tuiste gemaak het. Sy het een aand skielik op hulle afgekom waar hulle besig was om die nessie van ‘n grasvoëltjie in een van die polle te stroop. Die twee het hulle dreigend op haar gewerp en sy moes verward, maar vinnig, omspring om nie deur die twee astrante goed gebyt te word nie.
Oortjies sit doodstil om te sien wat hulle vannag weer gaan aanvang. Skielik vlieg ‘n kiewiet voor hulle met groot lawaai op en begin boos bokant hulle in die rondte maal. Die twee het reeds haastig vorentoe gestrompel en die nes op die kaal grond ontdek. Het die kiewiet bly sit, sou hulle miskien onbewus van haar verbygedraf het. Die gesteurde voël vlieg elke maal rakelings oor hulle heen, maar al wat sy ontlok is ‘n boosaardige gesis uit die muishondkele. Hulle byt die twee klein voëltjies dood en lek feitlik net die bloed op voordat hulle moorddadig verder draf.
Oortjies staan nog lank en luister na die geweeklaag van die kiewietjie. Toe besluit sy om maar stadig na die kolletjie haak-en-steekbos toe terug te wei. Vannag het sy darem genoeg gehad. Die wilde kalkoentjies en ertjies saam was ‘n heerlike fees.
‘n Endjie laer af sien sy, onderwyl sy op ‘n afstand verbydraf, ‘n ystervarkfamilie wat ook ywerig besig is om kalkoentjies uit te grawe. Vanjaar sal die boer se mielies dit maar weer ontgeld, reken Oortjies.
Sy word naderhand haastig en spring ligvoets voort, met haar wippende stertkwas regop en wit in die maanskyn. Daar voor gaan die voetpaadjie deur ‘n kol hoë gras en ‘n endjie daarvandaan staan ‘n groot doringboom. Meteens sien Oortjies hoe ‘n paar groot vlerke op die boom ontvou. ‘n Reusagtige, gespikkelde arenduil wip geluidloos van die tak af en laat hoor die volgende oomblik ‘n onheilspellende “hoe-oeoe…!” onderwyl hy na onder duik en meedoënloos op haar afswenk, snawel en kloue na vore. Skrikbevange seil Oortjies halsoorkop onder ‘n doringboompie in en lê roerloos en bewe. Sy was net betyds om die grypende geweld te ontvlug. Die volgende oomblik klap dit agter haar soos die groot horinguil ‘n paar sentimeter bokant die grond verbygryp en boosaardig-krassend, met wydgesperde oë, weer die lug inskiet. Oortjies hoor sy ontevrede “hoe-hoeoe…” wegsterf in die nag en bewe nog van die buitengewone skrik. Sy kruip bangerig onder bossies uit en sit ‘n hele rukkie doodstil en luister. Dan draf sy weer versigtig voort deur die gras.
Die maan hang al laag aan die westerrant en Oortjies verneem dof in die verte reeds die hoendergekraai by die huis van die boer, asof hulle weet te vertel dat die dag nou al gaan breek. Al die nagdiertjies wat van sononder af aan die wei en kossoek was, begin aanstalte maak om na hul gate en skuilplekke terug te gaan.
Eindelik draf Oortjies deur die plaat haak-en-steekbossies na haar lêplek. Toe sy by die boompie kom, wip die jong hasie haar kwiekend tegemoet asof hy sy ma wil verwyt dat sy hom so skandelik in die steek gelaat het. Maar hy is tog te bly om haar weer te sien. Oortjies ontvang hom hartlik en skuur saggies teen hom aan. Hy begin weer drink en sy laat hom maar toe, ondanks haar besluit van vanaand met sononder.
Dan kruip die twee onder die grassies in om geduldig te wag totdat die rooidag weer in die ooste breek.
Op die stinkgrasbultjie
“Ta-waaak! Ta-waaak!” klink sy harde geroep oor die vlakte deur die môrestilte. Die enkele groot brosdorings steek nog swart en donker af teen die stadig verhelderende grasveld. “Ta-waaak! Krak, krak!” Die ou korhaan is besig om die slapende graslewe uit die môreskemer se rustige sluimering te wek. Hoog bo-op ‘n rooi miershoop troon hy met uitgestrekte nek en stuur sy welbekende geroep oor die graspolle heen. Kort-kort roer die swart, plat koppie heen en weer soos hy luister hoe die vlakte- en boskinders een vir een vir ‘n nuwe dag ontwaak. Bosduiwe begin oral ‘n lokkende geroep aanhef. ‘n Paar tinktinkies en wipstertjies vind ook skielik uit dat hulle vanmôre te laat is om die rooidag te sien breek en stuur ‘n skreeuende lawaai die lug in vanuit ‘n nabystaande wag-‘n-bietjie-bos.
‘n Glinstering speel in die ou korhaan se rooi-omlynde ogies toe hy belangstellend na die toenemende rumoer luister. Die klomp vabonde, nou wil hulle lawaai maak nadat hy lankal sy eerste weknote deur die môrestilte heen gestuur het! Hy is die enigste van die vlaktebewoners wat smôrens vroeg, nog voordat die dag begin skemer, nie meer onder sy graspol sit en dut nie, maar met lewenslustige vrolikheid die rooi gloed in die ooste ‘n welkom “kra-kreek!” toeroep.
Hy stoot sy grys bors vorentoe en loer belangstellend oor die dou-sware grashalms heen. Hy is nie ‘n lui knaap nie, dink hy van homself. Hy is die meester hier op die stinkgrasbultjie. Saans laat as almal al rustig slaap, gee hy niks om om sommer ‘n paar slae luidrugtig sy opgewektheid deur die aandstilte te laat weergalm nie. Sy hart voel vanmôre ruim soos die vroeë wind wat ritselend deur die slanke grasstingels heen roer. Sy korhaangemoed voel vredig soos die flappende skoenlappertjies wat elke môre kom om die dou van die grashalmpies hier op die bultjie te drink
In stilte bekyk die ou korhaan die verskynende rooi gloed van die son. Dan wip hy van die miershoop af en sluip met uitgestrekte hals die eerste kort graspolletjies in. Die dou-nattigheid lê blink op die takkies en blare versprei; die kort grassies glinster in die son se eerste flou strale. Die ou korhaan draf vrolik oor die vlaktetjie heen en weer; sy rooi beentjies is nat van die dou. Hy geniet ‘n heerlike ontbyt vanmôre van allerhande soorte grassprinkaantjies en goggatjies wat op die grasstingels sit en soet sappies suig. Kort-kort laat hy ‘n kreuntjie van tevredenheid hoor, so ‘n kortaf “krak”-geluidjie.
So jag die ou heen en weer tussen die graspolle, blykbaar heeltemal tevrede met homself en met die wêreld om hom heen, totdat die son naderhand teen die bloute uitgeklim het en nou warm neerskyn op die stinkgrasbultjie. Hy bestyg met welgevulde krop weer die miershooptroon en tuur oor die vlaktetjie. Die sysies skreeu eentonig voort. Hul harde krasgeluidjies sing fyn deur jou ore. Die korhaan laat so af en toe sy bewerige kraakstem hoog oor die eentonigheid heen klink.
Daar is iets wat sy gemoed al ‘n hele paar dae lank kwel, ‘n gevoel van eensaamheid wat stadigaan sterker word… Hy voel lomerig-lui daar op die miershoop. Die son skyn so bitter warm dat hy jou sommer maklik aan die slaap kan brand hier op die oop vlakte. Maar tog werk die ou korhaan se gedagtes nog stadig voort en al hoe sterker dring die besef tot hom deur dat hy in die afgelope tyd baie eensaam is. Juis vandag kriewel die gevoel kort-kort deur hom en dit is asof hy so af en toe aandagtig luister nadat hy ‘n lang, klaende noot die ruimte ingestuur het.
Hier anderkant die bultjie waar die turfvlakte kort-kort met struikagtige kaffer-wag-‘n-bietjie afwissel, boer mos nog volop korhane. Die ou alleenheerser op die stinkgrasbultjie het baie dae al die moontlikheid oorweeg om maar daarheen te vlieg en sy koninkrykie vir volop geselskap te verruil. Maar hier was nog altyd kossies in oorvloed. Die ander korhane hou meer van die turflaagte omdat dit minder bebos is en daar ook minder vyande aangetref word. Maar hierdie eenling is ‘n dapper ou kêrel en hy het snags nog altyd die sluipende aanvalle van jakkalse, wildekatte en muishonde afgeslaan deur betyds die stil naglug in te fladder. Bedags is hy taamlik veilig en kan hy maar houtgerus sit en droom, want die vaal stokstertmeerkat is maar altyd hier rond en laat gereeld ‘n fyn, waarskuwende gepiep hoor as daar gevaar dreig.
Vanmiddag verlang hy darem knaend baie na geselskap soos hy hier op die miershoop sit en droom. Teen sonder, weet hy, sal die oulike korhaankoor weer hier oor die bultjie aangewaai kom en hom lok om te gaan baljaar. Dan sal hy dadelik antwoord en soontoe vlieg. Hy soek mos lankal ‘n vroutjie. Hy sal haar hier na die stinkgrasbultjie toe bring, hier waar baie sprinkaantjies en goggatjies rondwip. Net hier iewers in een van die groot polle moet hulle die nes kom bou.
Die ou korhaan droom rustig op die miershoop, verdiep in eie gedagtes. Sy swart koppie is oulik onder ‘n vlerk ingesteek. ‘n Paar tree agter die miershoop steek skielik ‘n spits neusie deur die graspolle. Dit is die swartbont wildekat wat vandag ‘n desperate poging wil aanwend. Hy het lanklaas geëet; hy is honger. Tot dusver het sy aanvalle op die enigste spekvet korhaan van die bultjie nie geslaag nie omdat die voël gewoonlik so nugter wakker en waaksaam is dat hy maar elke slag gefop tussen die polle moet lê en grom. Maar nou …! Sy ogies glinser listig en sy yslike stertkwas piets-piets liggies heen en weer. Vandag is die dag! Stadig en versigtig gly hy oor die grond. Tien tree voor hom troon die grys bondeltjie nog roerloos op die miershoop. Die kat se oë bly strak op sy doel gevestig. Net twee tree nog, dan kan hy ‘n sprong waag … twee tree nog …
“Piep! piep! pieieuuuu …!” dis die meerkat se stemmetjie. Skreeuend vlieg die korhaan die lug in en sweef met sy tergende “krak-krak” oor die bultjie.
‘n Endjie anderkant die miershoop sit die klein meerkat op sy agterpootjies en piep met gerekte nekkie. Die teleurgestelde wildekat voel skielik ‘n boosheid in hom opvlam. Die klein rakker ! Meteens storm hy met lang hale grommend oor die kaalte op die outjie af. Die meerkant piep benoud en sy stertjie span om weg te kom. Die bont gevaarte kom nader, nader … “Klaps” kap sy voorpootnaels teen die grond dat die stof so trek. Gefop! Hy loer in die nou gaatjie af. Aanloklik walm die vars meerkatgeur in sy neus op. Die wildekat voel nou sleg omgekrap. Brommend draf hy terug na die hoë gras om hom maar weer te gaan verskuil totdat die skemer vanaand swart oor die bultjie aangevee sal kom. Hy vertrou op die donker. Dis sy vriend. In die dag wemel dit mos van piepende meerkatte en waaksame korhane. Maar in die pikswart donkerte van die nag sal hy hulle wys! Die nag is goed vir hom; die nag is sy vriend…
En dan sak die son al hoe laer totdat hy naderhand agter die bultjie sy goudkop wegtrek. Voorbodes van die nag fluister aan die klein meerkatjie wat daar tussen die enkele groot graspolle loop en rondloer, dat hy maar in sy gaatjie moet gaan inkruip. Ou Grootoog, die horinguil, kry mos soms vroeg-vroeg saans die ellendige gier om hom op die vlerk te waag, nog voordat al die dagbewonertjies hulle in hul tuistes teruggetrek het. Een aand teen sononder, toe die meerkatjie op weg was na sy gat, was hy amper na die maan toe die ou gedrog blasend op hom neergeswiep het. Het hy nie so gou onder ‘n groot, vaal graspol ingewip nie, was dit dié aand klaar met hom.
Maar toe die duister swart oor die brosdorings op die bultjie sprei, is die meerkatjie lankal in droomland onder in sy ruim holtetjie.
Waar sou die korhaan dan wees? Die wildekat jag vannag kruis en dwars tussen die donker bome. Die flou lig van die sekelmaantjie wat aan die oosterkim lê en droom, hinder hom effens. Hy is nie so onsigbaar as wat hy graag wil wees nie. Selfs nagvoëltjies het hom netnou reeds gewaar en lawaaierig die lug ingeskiet toe hy versigtig deur die digte graspolle heen gly. Kort-kort kom hy op ‘n kaaltetjie uit en dan loer die ronde, listige oë dubbel so skerp. Hy soek net die ou korhaan vanaand, net die ou korthaan …
Maar ons ou makker skree vannag plesierig ‘n paar kilometer verder, waar die wit waaigras met die swart turfvlaktetjie in die flou maanlig saamsmelt. Vannag is hier volop maats vir hom; hy’s mos groot en mooi sterk van die stinkgrasbultjie se sprinkaantjies. Die korhaankoor klink uitgelate deur die stil aandlug …
Die wildekat soek vergeefs. Die korhaan se lokroep is stil vanaand hier op die bult. Die sekelmaantjie het hoër geklim en sit nou dowwerig en wag dat die rooidag moet breek sodat hy in die bloute kan verdwyn. Die wildekat voel ‘n knaende honger aan sy maag vreet en gee eindelik die korhaanjag prys. Dis nog sterk donker. Ná ‘n rukkie bemagtig hy ‘n slapende kiewietjie op die oop vlakte. Die ander voëltjies vlieg vervaard op en verdwyn skreeuend oor die bult. Die wildekat draf tevrede met die dowwe voetpaadjie langs terug na die die ruie stinkgras. Dan word dit al effens lig tussen die bome. Netnou breek die dag.
“Ta-waaak, ta-waaak, krak, krak, krak!” Dit is weer die ou korhaan se opgewekte geroep wat oor die bult weergalm. Dof dring dit tot die wildekat se slinkse brein deur. Hy rol behaaglik om onder sy haak-en-steekbos en nies slaperig. Wag maar, vannag is nog ‘n nag …! Hoor net hoe uitgelate tart die voël hom. Die klank dring gedemp deur die bome, maar in die dag waag die wildekat dit nie weer nie, dit help tog niks nie. Dalk sien die lammervanger hom raak op die kaal, bedrieglike vlakte.
Maar die korhaan is nie verniet vanmôre so uitgelate nie. Hy voel sommer baie plesierig, want hy het met ‘n vroutjie teruggekeer.
Stil sit sy teen ‘n graspol aangedruk, terwyl hy ‘n endjie daarvandaan op sy ou miershooptroon sy vreugde uitbasuin. Hy is lawaaierig en opgewek, sy, skaam en ingetoë; hy is swartbont en maklik herkenbaar, sy, vaalgrys soos die gras. Die ou spring van die miershoop af en lok haar die kort grassies in. Met ‘n gedienstige “kor-kor” vang hy al die vet sprinkaantjies en laat dit voor haar val. Sy pik dit skaam op.
Die stokstertmeerkatjie maak ook al so stadigaan aanstalte om op die vlakte te gaan rondsluip. Hy kom mos eers uit as die sonnetjie alles al lekker warm gebak het. Die outjie beweeg versigtig van pol tot pol en geniet ‘n heerlike ontbyt van stokdraermiere en toktokkies. Hy gewaar die twee korhane daar in die strepie kort gras en sit ‘n rukkie penregop en toekyk op sy agterpootjies. Hy wonder waar die tweede voël nou skielik vandaan kom. Maar dit hinder hom nie lank nie. Doelbewus draf hy onder ‘n plaat soetdoringboompies deur om aan die anderkant, waar die veld kaaltes maak, ‘n bietjie rond te snuffel. Oral verrys die rooi hopies grond hier met die noubek meerkatgaatjies langsaan. Hier boer sommer ‘n hele kolonie. Die stokstertmeerkatjie voel glad nie tuis onder hulle nie, want hulle is van die rooirugsoort, wat blaserig-astrant is en ‘n mens net gedurig wil verjaag waar hulle jou kry. Daarom het hy maar sy tuiste bo-op die stinkgrasbultjie gaan maak en kom net af en toe hier verken, want dis tog maar van sy eie soort. Hy sorg dat hy altyd hierdie tyd van die dag kom om daar rond te snuffel, want dan is hulle mos almal altyd vas aan die slaap onder in hul gate. Soos ‘n klein dief sluip hy stil tussen die grondhopies rond en snuffel hier en daar. Hy beruik die ingange, krap oral in die grond rond; maar let altyd fyn op of een van die rooirûe hom nie gewaar nie. Stadig begin hy weer die terugtog aanvaar, selfvoldaan en ewe houtgerus …
“Swieppp!” Dit is die vlerke van ‘n groot bosvalk wat rakelings oor hom heen trek . Die meerkatjie is totaal verbouereerd geskrik en pyl halsoorkop op die plaat soetdorings af. Woedend swaai die roofvoël om. Dis die eerste maal in sy lewe dat hy so sleg skat en nie met die eerste poging sy prooi bemagtig nie. Soos ‘n warrelwind suis hy net betyds aan die kant van die dorings op die verskrikte hardlopertjie neer. Sy kloue kap diep in die mollige lyfie in. Angstig klink die meerkatjie se laaste piep … Die valk skud sy vere reg en skiet met kragtige vlerkslae die bloute in. Onder aan sy kloue hang die lewelose ou meerkatjie.
Die ou korhaan het maar die heeldag hier in die nabyheid van die miershoop rondgedwaal met sy nuwe vroutjie. Hy hou baie van hierdie openinkie tussen die bome, hier waar die miershooptroon staan. Hier is mos kort gras, hoë gras, kaaltes, miershope, bome, kos en alles wat mooi is. Net hier iewers moet die nes geskrop word, hier iewers in een van die digte polle. Maar een klein dingetjie hinder hom: Vyande! Ja, waar sou die skelm wildekat weer vandag vertoef? Daar is onrus in die ervare ou korhaan se gemoed. Dis ‘n nare wildekat hierdie. Hy probeer mos selfs om jou in die dag ook te vang; hy maak nie soos ander wildekatte nie.
Die korhaan se liefdesbetuigings het al verminder. Hy is nou seker dat hy die wyfietjie sal behou en sleep nie meer so gedienstig vlerk nie. Sy bly maar ewe skaam altyd naby die kant van die hoë gras, terwyl hy weer liewer die kaaltes uitsoek, veral waar daar baie miershope is om op te klouter. Vandag voel die ou se gemoed rustig en tevrede. Daar is nie die klaagtoon van die afgelope paar dae in sy geskree nie. As hy nou op ‘n miershoop koim, dan skreeu hy fors en hard met ‘n uitdagende trilling in sy stem. Hy voel eindelik volkome gelukkig op die bultjie. Net een ding wat hinder: Vyande!… die wildekat!
Die ou korhaan vrees met reg. Onder die digte haak-en-steekbos is daar vreeslike planne aan die broei. Vroeg vandag het die leë gevoel al op die ou bonte se maag gaan sit en dit het stadigaan vererger. ‘n Kiewietjie in ‘n hele lang nag is maar ‘n skraal stukkie vir so ‘n kwaai eter soos hy. Die son het nog ‘n goeie twee uur tyd voordat hy die westerrant sal raak, maar die wildekat is nou al so knaend honger dat hy begin planne smee om vroegtydig kos te kry. Die verhekste ou korhaan! Dis sy skuld dat hy verlede nag verniet gejag het. Die kat skeur die grondjies kwaadaardig met sy klou voor hom oop. Hy is vasbeslote om die terggees voor môrevroeg te vang. Die vreeslike honger spoor hom aan. Hy sal sommer nou begin; die son sal tog netnou onder wees en dan moet hy al lankal in erns bekruip. ‘n Rukkie daarna is alles verlate onder die haak-en-steek. Die wildekat is op jag …
Al met die digste gras langs koers hy voort na die bultjie toe, versigtig onder die ruie brosdorings deur. Hy weet presies op watter kaalte die ou korhaan gewoonlik skree en rumoer. Dis daar waar hy gister die mislukte aanval gemaak het. Maar vanaand … So versigtig en glad soos ‘n gedagte gly sy slank lyf om die polle. Elke senuwee is gespan; geen ritseling of geluid ontsnap sy aandag nie. Hy stuur doelbewus deur die bome op die kaalte af. Netnou maar … netnou maar … Hy hoop die korhaan is daar . Dit gaan nou uiters versigtig verder. Hy is amper op die plek waar hy gister uit die pol gekruip het. ‘n Sagte kreuntjie word gehoor. Die wildekat is byna senuweeagtig van opgewondenheid! Soos ‘n trapsuutjies loer hy om die bos … dan spring hy! Die ou korhaan se wyfie lê nek-af en spartel; geen geluid het haar ontsnap nie. Die wildekat grom nog boos en lek sy lippe af; maar dan pak hy sy buit in ‘n paar sterk kake en verdwyn slu in die gras.
Net anderkant die strokie klein bossies wat die kaalte van ‘n tweede een skei, is die ou korhaan besig om rysmiere los te skrop. Hier is darem maar baie kossies op die stinkgrasbultjie, dink die ou. Dit was baie goed dat hy hiernatoe verhuis het. Dit was net altyd ‘n bietjie te eensaam hier; maar noudat hy ‘n vroutjie het…!
Die laaste gedagte herinner hom weer aan sy vreugde. Met ‘n genoeglike “krak!” vlieg hy op om die kort endjie van skaars ‘n honderd tree deur die lug af te lê na sy miershooptroon toe. Hier iewers het sy wyfietjie mos lê en skrop. Hy stryk op die miershoop neer en kyk rond. Waar sou sy wees? Die ou korhaan word onrustig en laat ‘n vraende “korr?” hoor; twee, drie maal herhaal hy sy lokkende roep. Sy is tog seker net hier iewers en sal netnou uitkom. Dalk skrop sy die nes reg hier aan die kant van die hoë gras. Hy gooi sy swart koppie in die lug en laat die harde geroep opgewek oor die vlakte klink: “Karak, karak, kraaaak, kraaaak!”
Dis tog snaaks, dink hy, wat sou dan van die meerkatjie geword het? Dis al of hy vanmôre spoorloos verdwyn het. Maar dit hinder hom nie lank nie. Selfvoldaan spring hy af om die wyfietjie te gaan soek tussen die gras. Aan die kant van die hoë polle steek die ou skielik vas; hy merk onraad. Watter krappe is dan hier op die grond? Hier lê vere … en bloed. ‘n Eienaardige reuk waai dof teen die ou korhaan aan. Stadig dring die werklikheid tot sy voëlbrein deur: Die wildekat het haar gevang; hy is weer alleen …
Die son trek sy kop agter die bulte weg. Stadigaan begin die aandwind deur die bome heen roer en fluit saggies ‘n klaaglied vir die ou korhaan. Die donker sak langsaam toe, maar die ou voël wil nog nie daar van die bultjie af weg nie. Hy draai maar doelloos al tussen die miershoop en die ongeluksplek rond. Die donserige veertjies sweef grys in die grou maanlig met die windjie weg.
“Karak, karak! Krak, krak!” Soos ‘n droewige sug klink die verdriet in sy geroep. Die ou korhaan is besig om sy smart luid oor die slapende vlakte uit te klaag. Onder by die plaat brosdorings luister ‘n donker gestaltetjie ademloos na die geroep en begin dan skielik vinnig koersvat na die stinkgraskol daar teen die bultjie …
Dit is die wildekat.
Tussen die blouhaak
Dis winter. Dit sien mens ook aan die veld hier tussen die blouhaakbome, want die fyngras wat tussen die doringagtige stamme opgeskiet het, is vaal verkleur en leweloos. Tog is die omgewing ruig en só bly dit deur die jaar heen, want die geniepsigheid van die blouhaakdorings verhoed dat die veld deur die vee kaal gewei word. Moontlik is dit die rede waarom Rooibel, die kranige fisantmannetjie, ‘n geruime tyd reeds die blouhaakveld as verblyfplek vir hom en sy gevolg gekies het. Dit bied die beste skuilplek.
Die son is pas op. Trots op sy status as leier van sy trop, troon Rooibel bo-op ‘n miershoop aan die kant van die blouhaakbos.
As die ander veldbewonertjies dan nie hul stem laat hoor nie, sal hy dit doen. Hy skrop pronkerig teen die harde kors en laat sy welluidende wekroep deur die môrestilte weergalm. Een vir een kom die ander fisante skelm tussen die gras te voorskyn en draf by Rooibel verby, af in die dowwe voetpaadjie wat na die afgeoeste mielielande daaronder lei. Trots kyk Rooibel sy troppie agterna; ‘n klompie uitgegroeide wyfies en ‘n paar mannetjies, die oorblyfsels van verlede jaar se kuikenoes, nadat die wildekatte hul deel weg het. Hy wonder hoe dit hierdie winter sal gaan…
Die fisantmannetjie volg egter nie onmiddellik die ander nie. Na nog ‘n paar kragtige roepe kruip ‘n fisantwyfie uit die gras, gevolg deur ‘n stuk of ses opgeskote kuikens. Rooibel spring van die miershoop af en pronk ‘n slag spoggerig om sy wyfie voordat hulle die ander fisante volg.
Tussen die stronke van die afgeoeste mielieland, is die fisante reeds lustig aan die skrop. Daar lê nog volop mieliepitte rond en hulle loop selfs hier en daar ‘n heel mieliekop raak. Hierdie voorwinter sal geen kossoekprobleem oplewer nie. Rooibel bly in die nabyheid van sy wyfie om ‘n wakende oog te hou oor die klein fisantjies. Af en toe laat hy nog sy pronkgeroep hoor.
Al aan die bokant van die lande groei ‘n streep bome en struikgewas op die wal van die watervoor. Rooibel se waaksame oog sien meteens ‘n opgeskote seun vanuit hierdie beskutting te voorskyn kom, geweertjie in die hand. Hy is op ‘n vroeë fisantjag uit. Die mannetjie fluit waarskuwend. Al die fisante hou op met skrop en hou die indringer onrustig dop. Hy kom egter houtgerus aangestap sonder om iets te gewaar. Dan begin Rooibel voor sy trop uitdraf om hulle van die gevaar weg te lei. Die wyfie met die kleintjies volg laaste.
Eers toe die fisante oor die klein kaaltetjie aan die kant van die land draf, gewaar die seun hulle vir die eerste keer. Rooibel steek manhaftig vas om die gevaar in oënskou te neem. Onmiddellik fluit ‘n paar stofwolkies ‘n endjie vorentoe op. Die voortdraffende fisante wirr…! gelyktydig in die lug op en skiet voort in die rigting van die blouhaak. Die twee ou fisante bly egter onverskrokke voortdraf met die kuikens. Toe die seun die oorsaak van hulle manmoedigheid merk, spring hy weg en laat nael agterna so wat hy kan. Die wyfie fluit gebiedend en die twee ou voëls volg hulle makkers langs die korste weg deur die lug, terwyl die kleintjies voor die verbaasde oë van die seun verdwyn.
Hy soek hot en haar tussen die betreklike kort grassies rond, maar sonder sukses. Die wyfie het egter nie vér gevlieg nie en was reeds versigtig agter ‘n paar haak-en-steekboompies aan die terugkeer. Anstig fluit sy en kom ‘n oomblik van agter ‘n paar polle te voorskyn om onmiddellik weer te verdwyn. Die seun kruip-kruip dadelik agterna. . . dog spoedig hoor hy die sagte gefluit al weer ‘n endjie verder tussen die bossies. Die wyfie vertoon haarself af en toe net ‘n rapsie lank en gee hom geen kans vir ‘n skoot nie. Dan besef hy dat sy hom maar net probeer weglok van die terrein waar haar kleintjies tussen die polle wegkruip en hy gaan terug om die soektog opnuut voort te sit, dog tevergeefs.
Toe hy ‘n rukkie later weer die wyfie se angstige gefluit van agter ‘n paar struike verneem, gee hy die gesoek prys en stap aan in die rigting van die huis, geweer oor die skouer. Die son het al hoog gesit toe die fisantwyfie met haar kroos ongedeerd tussen die beskutting van die blouhaak indraf.
Hierdie doringbosse bied veiligheid gedurende die dag. Rooibel en sy fisanttroppie verlaat selde hierdie doeltreffende skuilplek gedurende die middelure van die dag. Maar snags slaap hy en sy gevolg tussen die polle van ‘n lap droë gras aan die kant van die ruigte omdat dit veiliger is as tussen die blouhaak self. Vyande kan hulle daar nie so maklik verras nie en by onraad is dit nie moeilik om tussen die polle op te vlieg nie, terwyl die blouhaakbome in hierdie geval ‘n hindernis sou wees.
Laat in die middag, wanneer die blouhaakskaduwees reeds lankgerek oor die grond lê, hoor ‘n mens tussen die droë gras weer die sagte geritsel van versigtigtrappende fisantpootjies. Rooibel is besig om sy trop bymekaar te maak en ‘n rukkie later draf die fisante oor die kaalte van die ruggie aan die onderkant van die mielieland. Spoedig is hulle weer ywerig aan die skrop. Naderhand kom die fisante op ‘n streep mieliepitte af wat dik gesaai oor ‘n kaal kol heen lê en almal begin ywerig te geniet van die ryke vonds. Tussenin lê graansorghum en sonneblomsaad wat ‘n spesiale lekkerny uitmaak. Die affêre kom vir Rooibel effens vreemd voor. Nog voordat die ander fisante hulle kroppe klaar gevul het, staan hy al die omgewing aandagtig en bespied. Na ‘n paar minute verslap sy waaksaamheid, want nêrens is daar iets agterdogwekkends te bespeur nie.
‘n End hoër op, al met die digbegroeide watervoor langs, stap ‘n man en ‘n seun in die rigting van die plaaswoning. “Sien jy hierdie lap blouhaak?” sê die man. “Ek dreig elke jaar om die goed te laat uithaal en hier lande te maak.” “Maar, dis so ruig, Pa. Hoe sal die werkers tussen die dorings inkom?”
“Ons sal dit een aand moet kom skoonbrand.”
“A, kyk ‘n bietjie daar onder in die mielieland, Pa, die fisante! Dis net waar ek vanmiddag die voerplek gemaak het. Môrevroeg gaan ek hulle met die haelgeweer voorsit!”
Al geselsend verdwyn hulle oor die bult, terwyl Rooibel die twee vreemde figure met uitgestrekte nek wantrouig agternastaar.
Die son het pas ondergegaan en ‘n skraal winterluggie begin trek. Nietemin voel ou Rooibel vanaand selfvoldaan. Hulle kroppe is almal vol en hier lê kos vir ‘n hele paar dae.
Die skemer begin net skerp toesak toe die gelukkige fisantfamilie hulle gerieflik tussen die ruie graspolle nestel vir die nag. Veraf huil ‘n jakkals, want dis winter. Die fisantwyfie “korrr” nog vir oulaas onrustig en vou haar vere digter om haar kroos as sy dink aan al die gevare van die nag. Verder is alles stil. Net ‘n paar kiewiete is flus van hul slaapplek opgejaag en vlieg nog protesterend rond. Ou Rooibel luister onrustig na hulle gekla. Hy wonder watter rusverstoorder dit kan wees…
Aan die ander kant van die blouhaakbos, waar die kaalte dof in die skemer sigbaar is, is twee muishonde aan die speel. Dit is ‘n lekker baljaarplek hierdie. Die twee muishonde agtervolg mekaar met lompe bewegings. Dan rol hulle om en om in die sagte sand, spelend en stoeiend, om na ‘n paar oomblikke telkens asem te skep en die stof uit die neusgate te nies.
Suutjies het ‘n ander grou gestalte, deur die geluide gelok, tussen die droë gras genader tot aan die kant van die opening vanwaar hy nuuskierig die vaagomlynde figure dophou. ‘n Effense luggie trek in sy rigting en die wildekatmannetjie kry meteens die walgende muishondgeur in sy neusgate. Sy twee vurige oë begin boos vlam. Hy hou net niks van hierdie stinkende indringers wat al ewig die wild voor ‘n mens se neus uit verwilder of op hul hoede stel nie. Met ‘n waarskuwende knor sluip hy vinnig vorentoe en kap woes links en regs op die plek waar die twee muishonde nog ‘n oomblik tevore baljaar het! Dié het elk met ‘n benoude piep holderstebolder onder die blouhaakruigte ingetuimel en hul onwelriekende geur hang nou besonder skerp in die lug.
Die wildekat het nie sy aanval ernstig bedoel nie; dit was net om hulle die skrik op die lyf te jaag. Hy is op soek na fisante. Hy hoor saans met sononder hoe hulle in die rigting van die blouhaakbos te kere gaan en daarom is hy vanaand hier. Sonder versuim beweeg sy lenige gestalte oor die kaalte om dan langsaam en ondersoekend aan die rand van die blouhaakbome voort te sluip; hy weet reeds deur ondervinding dat jy nie snags fisante binne in die bos moet soek nie, maar in die oop veld. Die wildekat beweeg baie versigtig, hy weet hoe waaksaam hierdie voëls is…
Rooibel lig vir die soveelste keer sy koppie onder sy vlerk uit om na ‘n verdagte geluid te luister… maar hy is ‘n paar sekondes te laat! Kortby klink meteens ‘n dowwe slag, gevolg deur ‘n paar ligte vlerkflappe en onmiddellik daarna die wildekat se genoeglike knor. Toe dreun dit soos die fisante elkeen sy eie koers die nag in kies. Die wyfie het angstig oor die lap blouhaak heen geskiet en sover as wat sy die lug klief, laat sy ‘n dringende tjik-tjik-tjik-geluid hoor, want twee of drie van die sterkste fisantjies het haar gevolg. Op die kaalte aan die ander kant stryk sy neer, want sy weet dat die kuikens dit nie veel verder kan maak nie. Die muishondpaar luister verras na die ongewone gedruis van vlerke en waggel nuuskierig onder die beskutting van die graspolle uit. Een van die kuikens stryk vlak voor hulle neer. Die muishonde besef oombliklik dat dit weer ‘n gelukkige nag gaan wees toe die mannetjie vinnig op sy prooi toespring…
Die sekelmaan hang hoog in die lug en sy flou lig verkleur die veld in ‘n dowwe dynserigheid. Rooibel se trop slaap vannag verstrooid op die blouhaakveld en wag angstig op die koms van die dag.
“Kwarrr! Kwarr, kwarrrr!” klink die fisantmannetjie se fors geroep vanaf sy ou plek op die miershoop. Die son is skaars op, maar ou Rooibel is haastig en ongeduldig om sy verspreide trop bymekaar te maak. Hy verwens al wat wildekat is en sy misnoeë is duidelik herkenbaar in sy stem. Een vir een kom die skugter fisante uit die gras gekruip en Rooibel merk hoe hul geledere uitgedun is. Dit kwel hom egter nie lank nie en die fisante begin aanstalte maak om na die mielieland te vertrek.
Agter die digte lower van ‘n kareeboom aan die kant van die land, sit die seun ongeduldig en wag met haelgeweer in die hand. Vanoggend, toe die skemer nog swaar oor die veld gehang het, het hy hom reeds hier kom versteek. Die fris wintermôrelug byt geniepsig aan ore en hande en hy wens dat die fisante moet kom. Die voerplek is reg. Die mielies lê in ‘n mooi lang streep oor die land, reg in die pad van die hael.
Rooibel het nie lus om soos gewoonlik rustig-weiend in die rigting van die lande te beweeg nie. Hy gee die teken en ‘n oomblik later waaier hy oor die blouhaakbosse heen. Die ander fisante volg op ‘n streep. In die land slaan fyn stofdampies op waar hulle gaan sit. Toe die fisantmannetjie op die voerplek afdraf, waarsku iets hom dat alles vanmôre nie pluis is nie. Hy het kortweg vasgesteek en die ander fisante volg sy voorbeeld. Hulle trek die lyfies plat op die grond, gereed om by die geringste teken van gevaar te laat spat.
“Nou wat is dit nou?” dink die seun, terwyl hy sit en wag. Dis duidelik dat die fisante reeds klaar onraad bemerk het. Darem skelm voëls… As hy nie gou maak nie… Hy lê aan, liewer een as niks nie…
Die stilte van die oggend word versteur deur die bulderende skoot en tegelykertyd word die rumoer gehoor van kragtige vlerkgedruis soos die fisante in alle rigtings die lug deurklief. Die seun voel teleurgesteld as hy uit sy skuilplek tree om die spartelende fisant op te tel. Hy wou nou vanmôre ‘n spogskoot geskiet het, maar dié voëls is nou eenmaal te fyn…
Die son sit reeds hoog. By die blouhaakbos klink kort-kort die sagte, maar deurdringende gefluit van ‘n fisant. Dis Rooibel wat weer trag om sy verstrooide makkers tuiswaarts te rig. Wat sou dan deesdae oor die blouhaakveld los wees?
Later in die dag het die fisantfamilie reeds gedeeltelik van die onsteltenis van die oggend herstel. Al is hulle vanmôre die lekkernye van die mielieland ontsê, is daar tog nog heelwat te pik tussen die blouhaak aan rosyntjiebessies en grassprinkane en die meeste fisante lê al lui en skrop aan die kant van ‘n opening tussen die bome. Die koesterende wintersonnetjie maak dit aangenaam om die ure van die dag hier te verdryf. Rooibel staan eenkant en toekyk hoe die paar kuikens behaaglik in die losgeskropte grond vlerkflap. Nadat elke outjie vir homself ‘n holtetjie reg het, keer hy sy magie na die son, onbekommerd oor wat reeds gebeur het of nog kan kom. Maar die fisantmannetjie laat selfs hier nie sy aangebore waaksaamheid verslap nie.
Dit sou egter nie vir die fisanttroppie nodig wees om nog meer beproewings gedurende die rustige ure van die dag te verduur nie. Die son is reeds vinnig op pad na die westerkim, toe die fisante weer vir die soveelste keer wei-wei onder die beskutting van die blouhaak uitdraf en doelbewus in die rigting van die ou mielieland koersvat. Dog ou Rooibel lei sy trop vanaand so ver as moontlik weg van die onheilsplek van die oggend, want die herinnering aan dié gebeurtenis is nog vars in sy geheue.
Toe die fisante ‘n ruk later by die blouhaak in die gras verdwyn, is dit duidelik dat Rooibel dit raadsaam geag het om hul slaapplek ook heelwat te verskuif. Hy voel huiwerig as hy dink aan die nag, want daar dreig soveel gevare. Maar ‘n ruk later het die fisante, soos al die ander diertjies van die dag, hulleself aan droomland toevertrou al lig die ou leier so af en toe sy koppie onder sy vlerk uit om na verdagte geluide te luister.
Eers dof en veraf, maar naderhand al hoe nader en duidelik, klink die geluid van voetstappe en mompelende stemme. Die fisantmannetjie verwonder hom oor hierdie vreemde gedoente. Dit moet ‘n vyand wees wat nie omgee om sy teenwoordigheid te verraai nie. ‘n Paar oomblikke later het die fisante nog meer rede om so te dink, want toe die geluide tot op ‘n kort afstand genader het, ontstaan daar meteens ‘n liggie in die gras wat gou groter groei en die omgewing begin verlig. Die fisante het almal hul koppies opgelig en betrag die wonderlike verskynsel met stygende onrus. Die wyfie kirr bekommerd en maak seker dat haar kleinspan veilig is.
Die vuur het vinnig posgevat en die bewegende figure daarby is duidelik sigbaar. Met sekels word bondels gras gesny en nadat dit vlam gevat het, word die vuur vinnig in ‘n groot sirkel om die blouhaakveld gelei sodat die hele omgewing rondom die fisante gou-gou aan die brand is. Toe die lekkende vlamme die digte bosgasie inrol, knetter miljoene vonkies met lustige gekraak soos skietende pyltjies in die lug op en laat meteens die blouhaakomgewing helder in die lig geteken staan. Die fisante voel hoe die geweldige hitte aangroei en ou Rooibel besluit om nie meer langer in hierdie onheilsplek te vertoef nie.
Die seun kyk verras op toe enkele fisante ‘n paar tree van hom af voor die lekkende vuur opwaaier en onmiddellik daarna in die donkerte versmelt. Dan sien hy weer hoe op dieselfde plek ‘n fisantwyfie besorg heen en weer draf, fluitend en roepend in die rigting van die dansende vlamme waar haar kleintjies agtergebly het, totdat die angs haar moederinstink oorwin en sy met ‘n benoude gekêk-kêk in die nag verdwyn…
Die son het weer oor die blouhaakveld opgekom. Maar in plaas daarvan om deur die vrolike geroep van ‘n fisantmannetjie wat op ‘n miershoop sy trop inwag begroet te word, bespeur jy vanmôre tussen die verkoolde stamme ‘n uitgestekte swart tapyt, wat soos ‘n roukleed oor die vernielingswerk lê wat aan die tuiste van soveel gelukkige veldbewonertjies gedoen is.
Op ‘n knoppie aan die onderkant van die ou mielieland kom Rooibel en sy gevolg uitgedraf. Die ou leier steek vas en blik in die rigting van die kaal stamme waar daar vir die fistante nog kort gelede ‘n doeltreffende skuilplek was. Dan is die fisante meteens duidelik sigbaar bokant die hoë bome langs die watervoor soos hulle vinnig in die lug opstyg voordat hulle gelykweg oor die bosse voortskiet, voort na ‘n nuwe tuiste, êrens aan die oorkant van die rivier, waar minder gevare dreig.
Vaaljas en die bergkrans
Hoog teen die regaf rotse, op ‘n deurlopende, uitstaande kliplysie, sit Vaaljas die dasmannetjie, met sy swart voorpootjies netjies onder hom ingevou. Die lysie is so breed hier dat hy sy agterbene lekker gemaklik kan dwarsgooi, soos ‘n hond gewoonlik doen.
Die son het so pas oor die plaat bome en bosse op die kruin van die oorkantste bergrug sy verskyning gemaak. Toe het Vaaljas eers versigtig uit sy donker holte bo-op die krans geloer en met ‘n paar ratse hardloopspronge in sy bekende paadjie afgewip tot hier waar hy gewoonlik brandwag sit.
Die bergkrans met sy groot massiewe rotse, steek tronend bo die omheenliggende hoë heuwels uit en vanwaar die dasmannetjie hier na die ooste lui sit en tuur asof hy eintlik nêrens in belangstel nie, kan hy dwarsoor die oorkantse bergrug die dynserige vlaktes daar oorkant sien. Hier tussenin lê ‘n ruie bosklofie wat die weiveld uitmaak van die dasse in die krans.
Oral op rotspuntjies, hoër as waar Vaaljas sit, verskyn die bruin dasgesiggies om die môreson te begroet. Die groterige mannetjies strek hulle luilekker met ‘n hoorbare littegekraak op die rotsplate uit en gaap dat die kake so klap. Die spelerige kleintjies woel oral om en oor die klippe heen.
Vaaljas is nie die enigste brandwag van die kransgemeenskap nie. ‘n Entjie links sit ‘n ander groot mannetjie ook reeds op ‘n gerieflike rotssitplekkie en loer oor die bosse en bome om te sien of van daardie kant af nie moontlik onverwagte vyande opduik nie. Daar is nog ‘n derde brandwag. Hy sit weer aan die teenoorgestelde kant. Maar Vaaljas ag homself die vernaamste grootmeneer en word ook in stilte deur die ander eerbiedig. Die ander twee brandwagte sal dit maar liewer nie waag om hom te lyf te gaan nie. Sy status het hy deur ‘n kwaai geveg verwerf. Nietemin sien die mannetjies darem almal ook na die ander twee erkende brandwagte op en sal nie sommer op hul status aanspraak maak nie.
Die dassies lê kommerloos op die klipplate versprei. Hulle vertrou hul veiligheid volkome aan die waaksame oë van die brandwagte toe en namate die son hoër klim en ‘n slaperiger stemming in hul bruin lyfies inbrand, dink hulle ook al hoe minder aan gevaar, soos hulle daar in geliefkoosde houding uitgestrek lê; agterbene skuins uitgeskop, maar die kop steeds regop.
Vaaljas voel ook nie juis meer onrustig nie. Ná ‘n rukkie staan hy op en trippel liggies heen en weer op die lysie in sy pogings om die jong blaartjies van ‘n boompie wat tussen die splete groei by te kom. Hy moet ook maar so af en toe wanneer daar ‘n kansie kom, probeer om iets te ete te kry, want smiddae laat en saans wanneer al die ander wei, kan hy nie heelhartig daaraan meedoen nie maar moet dan sy amp waaksaam en pliggetrou beoefen.
Hoog bokant die swart rugrant, aan die teenoorgestelde kant van die bergkrans, styg ‘n jakkalsvoël met vinnige hale bokant die digte bosse uit en begin met uitgespreide vlerke allerhande waaghalsige toere in die lug uithaal. Sy skerp oë soek nog nie ernstig na prooi nie en sy valkgemoed moet eers bevredig word in die vryheid van die helderblou lug, waar hy sy swenkende manewales met ‘n ysingswekkende heen-en-weer-skietende vaart geniet.
Dis aan die blindekant van die bergkrans, aan dié kant waar geen brandwag oor die bosse sit en tuur nie. Meteens seil die jakkalsvoël met ‘n swierige vaart hoër die lug in en begin met vinnige vlerkslae nog hoër en hoër styg totdat hy eindelik hoog bokant die krans, as ‘n swart stippeltjie in die dynserigheid hang. Nog het die dassies hom nie gewaar nie. Die brandwagte versuim vanmôre hul plig.
Helder vanuit die hoogte klink opeens sy langgerekte jakkalslag, onderwyl hy in statige kringe stadig verder swewe. Dit werk soos ‘n donderslag op die dasse. Gelyktydig met die ander twee gee Vaaljas ‘n kortaf waarskuwende noot toe hy vierkantig in sy vier spore op die lysie vassteek en onmiddellik daarna in vlieënde vaart teen die krans uitnael.
Leweloos vertoon die rotse nou. Die son skyn al warm neer en die dasse wat oral tussen die splete en in hul gate verskuil sit, beskou dit as verkwisting van heerlike strale. Nadat hulle die brandwagte stilletjies sien wegsluip het, kom een vir een ook weer versigtig uit om hom op die klipplate met ‘n tevrede knor neer te vly.
So gaan ‘n paar uur rustig verby. Vaaljas doen intussen sy bes om so tussen sy waaksaamheid deur sy magie te vul met die jong blaartjies van die boompies wat naby staan. Vaaljas vertrou vandag glad te veel op homself. Hy word onverskillig en deursoek nie die lug noukeurig met sy skerp ogies nie. Sê nou ‘n kouvoël of ‘n lammervanger kry dit in sy kop om soos ‘n klip uit die hoogte op die krans neer te val…
“Swiep…!” fluit opeens ‘n berghaan in sy swierlike swenk soos ‘n draaiende warrelwind rakelings aan die rotslys verby. Hy was van plan om die argelose das met een hou van kant te maak, maar reg bokant Vaaljas steek ‘n klippunt gevaarlik vorentoe en die voëlgevaarte kon alleen met die uiterste vlerkinspanning hom in sy duiselingwekkende vaart effens swenk om hom nie daarteen te verpletter nie.
Boos sirkel hy nou hoog in die lug rond en gee sy misnoeë met luide geskree te kenne.
Die ander brandwagte het onmiddellik die sein gegee en die dasse is almal skoonveld. Terselfdertyd het Vaaljas met ‘n benoude piep vorentoe gespring, dieper die rotsspleet in. Hy ontdek ‘n ruimer holte en in sy angs om nog verder te ontvlug, merk hy nie die slapende mamba agter in die gat nie. Hy stuit met sy voorpootjies so te sê op die slang. Toe vlieg hy met ‘n onaardse noot om. Die slang skrik hom skoon nugter en die twee borrel saam soos ‘n warrelwind by die bek van die gat uit en tuimel oor die krans!
Onderwyl hy na benede trek, herstel Vaaljas se teenwoordigheid van gees reeds in so ‘n mate dat hy daarin slaag om ná ‘n val van ses meter met sy vier pootjies teen ‘n skuins boomstan vas te skop, daarvandaan terug teen die rots te skiet en weer skuins af teen ‘n ander boom waarvandaan hy netjies op ‘n breë lys te lande kom en halsoorkop die eerste skeur invlug. Hy is net betyds. Dubbel teleurgesteld swenk die altyd waaksame berghaan weer laag teen die kranse verby en sit sy vlug voort, verder oor die berge.
Die slang het met ‘n harde plomps onder deur ‘n plaat wildevyebome geval en mankoliekig begin wegseil na die eerste die beste klipskeur toe. ‘n Sekretarisvoël, juis op die kossoektog uit hier tussen die bome, loer verwagtend om, maar stap toe ewe getroos aan. Hy waag sy lyf liewer nie aan hierdie tamaai verskrikking nie.
Ná ‘n lang ruk kom Vaaljas uiters versigtig weer teen die krans uitgespring na sy sitplek toe op die lysie. Die vrees ril nog deur sy lyfie, soos hy daar sag-piepende sit en met verskerpte sintuie die omgewing fyn opneem. Hy sal hom vandag nie weer laat verras nie. ‘n Paar dassies loer nuuskierig oor die krans om te sien of hul brandwag nog leef. Na ‘n rukkie vergeet hulle van die voorval en bak weer lekker in die son.
Dit het stadigaan middag geword. Die son het na die hoogte geklim en begin langsaam sy eentonige paadjie na die westerhorison toe voortsit. Vaaljas en baie van die ander dasse het lankal die gang van die son lê en dophou, asof hulle haastig is dat hy moet ondergaan. Die dae is nou ook so lank dat die dassies vroeg-vroeg smiddae al begin honger voel. Die lomerigheid begin gaandeweg uit hul lyfies te wyk en van die jongeres begin lus voel vir speel. Die heel kleintjies bly in die gate en durf nie buite verskyn voordat hulle sterk genoeg is nie.
Nou breek die tyd aan dat die brandwagte dubbel waaksaam moet wees, want baie van die groot arende wat gedurende die dag vergeefs gejag het, word so teen sononder tot besondere listigheid opgeskerp deur hul knaende honger. Vaaljas sit nou getrou op sy pos. Hy voel nie juis honger nie en sit maar net en wag dat die son moet ondergaan. Die meeste van die dassies begin spraaksaam word. Dis nie die fors, helder skreeu van die brandwagte nie, maar slegs ‘n flikflooierige piepgeluidjie waarmee hulle gesels. Hier en daar vind ‘n groot mannetjie ‘n wyfie baie aantreklik en kom smeek sag-knorrend om haar guns.
Eenkant, weg van die ander af, sit ‘n groot mannetjie nog luierig en dut asof hy nie deur die ander gesteur wil wees nie. Twee jonges kom spelerig oor die klippe aangewip. Hulle sien hom nie en spring hap-hap na mekaar op die klip waaragter hy sit. Dit is genoeg om die ou das se toorn te wek. Hy spring boos op, steek eers goed vas en storm dreigend op hulle af. Na enkele treë steek hy skielik vas met ‘n paar skor, kortaf bangmaakgeluide. Toe nael die twee reeds daar anderkant oor die klippe tussen die ander verwonderde dasse deur!
Dis nog ‘n klein rukkie voor sononder. Die dasse begin aanstaltes maak om langs die krans af te trippel tot onder in die ruie klofie waar ‘n aandfees van heerlike malse blaartjies op hulle wag. Van die ou grotes gaan vooraan en knibbel so in die verbygaan oral aan die bossies en boomblare. Groot en klein laat saggies ‘n tevrede gepiep hoor. Dit klink baie soos die geluidjies van klein kuikentjies wat van hul ma afgedwaal het.
Vaaljas en die ander brandwagte skud hulleself net weer reg om te begin kos soek toe al drie bykans gelyktydig ‘n helder waarskuwing uitbasuin. Vaaljas steek vas asof hy vir ‘n resies wil regstaan en laat nael na die naaste klipskeur toe! Hy het nie soos die bobbejaanwagter, tyd om eers te let of die trop veilig is nie. Op die oomblik is dit elke das se mening. In ‘n ommesientjie het almal spoorloos verdwyn en die eerste die beste skuilplek uitgesoek. ‘n Paar het bo uit die boompie waarin hulle aan die rondklouter was, neergetuimel en onder ‘n graspol ingeduik. Ander sit nog tussen die ruie blare verskuil, of tussen die splete van oorhangende klippe ingedruk; oral sit hulle.
Statig seil die teleurgestelde kroonarend oor die krans en maak asof hy in ‘n oostelike rigting gaan voortvlieg. Sy lang stert en kort, ronderige vlerke wek die indruk van moed en jeugdigheid. Na ‘n wyle sweef hy sierlik op sy spoor terug. Die verekuif agter sy kop laat hom soos ‘n reuse-draaivalk in sy vlug vertoon.
Die dassies is honger en dit duur nie lank nie of hulle wei al weer knibbel-knibbel verder af langs die hang. Meteens waarsku Vaaljas weer met ‘n dringende skree, maar… te laat! Die enorme kroonarend het reeds sy vlerke gesluit en val soos ‘n klip uit die hoogte op die dassies neer. Is dit toeval dat juis die groot mannetjie reg onder hom nie so gou ‘n skuilplek kan vind soos die ander nie en nou radeloos en verbouereerd onder ‘n yl bossie probeer inkruip?
Die lug suis om die arend soos hy weer sy vlerke span om sy vaart te stuit. Met kloue en snawel vooruit dreun hy op die dasmannetjie neer. Een angswekkende skree skeur deur die lug. Dan flap die groot voël weer vasberade sy sterk vlerke en styg met sy prooi die lug in.
Nadat hy verdwyn het, is alles ‘n hele paar minute doodstil. Die dassies het lelik geskrik en lê nog roerloos in hul skuilplekke. Dan verskyn hier en daar ‘n kop en netnou kom hulle weer een vir een versigtig uit hul wegkruipplekke te voorskyn en begin maar weer rustig feesvier.
Die son het reeds ondergegaan. Stadigaan begin dit donker word. Dog hieraan steur die dassies hulle maar weinig. Dis beter so, want nou is daar heelwat minder gevaar om deur een van die gevreesde roofvoëls oorval te word.
Vaaljas het ook sy sitplek verlaat en so ‘n endjie langs die berghelling afgekom. Hy kom liewer nie tot tussen die dassies nie, maar bly so ‘n paar tree agter, waar hy beter in staat is om gevaar te bespeur en tog nog volop te knibbel te kry. Tot laat in die nag hou die dassies aan met vreet. Die maan kom naderhand op en hang soos ‘n dowwe lig oor die terrein en laat die donker silhoeët van die krans soos ‘n reuse-troon vertoon.
Vaaljas merk dat die ander brandwagte wat weerskante van hom ook aan die wei was, stadigaan die helling weer uitklouter en hy volg hul voorbeeld. Toe hy die regop steilte van die loodregte krans bereik, spoed hy in ‘n aantal ratse spronge heen en weer teen uitstaande rotspunte en boomwortels die hoogte uit en kom hoogs voldaan op sy bekende brandwagsitplekkie op die middellyste te lande. Dof sien hy hoe die dassies een vir een aan sy regterkant, waar dit minder steil is, verbyspring. Na nog ‘n rukkie weet hy dat almal nou bo-op die krans moet wees en klim trippelend sy welbekende paadjie verder uit na boontoe.
Tussen die rotsgleuwe steek hy vas en sien die ander brandwagte ‘n paar tree van hom af stilletjies tussen die rotse verdwyn.
‘n Dikkoppie begin stadig om in die ruie bosklofie daaronder sy klaagsangetjie in trae, langgerekte note die nag in te stuur. Hy soebat om reën… Origens is dit stil in die bos.
Dan glip Vaaljas selfvoldaan tussen een van die rotssplete in.
Oor die bergkrans heers die nag.
Veerpoot se vlug
In die skadu van die bloekombome op die werf van die ou plaaswoning op Outhomasseloop, staan ‘n jong seun, Henkie Basson, met die een hand beskermend oor sy oë terwyl hy met gespanne aandag drie bewegende stippeltjies in die blou lug volg. Soms glimlag hy senuweeagtig wanneer die dynserige afstand dreig om die drie duiwe daarbo voor sy turende oë te laat vervaag.
Agter hom teen die lang muur van sy pa se waenhuis en stoor, waarvandaan die aanhoudende pronkgeluide van die res van sy duiwegemeenskap weerklink, het hy sy goed ingerigte duiwehok gebou. Maar op die oomblik gun Henkie sy duiwehok geen stukkie aandag nie. Die drie duiwe wat so swierig daarbo in die blou ruimte sirkel, is vir hom soos die appel van sy oog; dis sy pronkpaar daardie, die enigste posduifpaar wat hy besit en die derde is ‘n jong mannetjie wat deur sy trotse ouers op een van sy proefvlugte vergesel word.
‘n Paar maande gelede het Henkie al sy spaargeldjies bymekaar geskraap om die trotse besitter van daardie spogmannetjie te kon word. Veerpoot het ook sommer spoedig sy naam ontvang, aan die twee netjiese vereklossies aan sy bene ontleen. Hy is ‘n egte posduif, opreg en vinnig op die vlerk. Henkie koester ook groot verwagtings van die jong mannetjie wat nou alreeds tekens begin toon dat hy maklik die voortreflike eienskappe van sy pa gaan ewenaar.
Hy sien hoe die drietal hoog bokant die bome ‘n laaste draai gooi en dan doelbewus met lang, vinnige hale begin terugbeweeg, die jonge in die middel. Hy weet dat hulle aanstons laag oor die dak van die huis gaan sirkel voordat hulle een vir een selfvoldaan op die hok neerstryk.
Sy oë bly genoeglik op die drie naderende gestaltetjies gevestig. Meteens verstar sy blik en ‘n oomblik hang sy mond benoud oop voordat hy vinnig sy twee voorvingers in sy mond plaas en ‘n langgerekte, deurdringende fluit die lug instuur. Dog Veerpoot, die mannetjie, het nog voor Henkie die gevaar gewaar. ‘n Blouvalk het skielik van êrens uit die bloute verskyn en val met geslote vlerke duiselingwekkend op die drie wit duiwe af. Henkie hou sy asem in spanning op en fluit weer met alle mag want dit skyn asof die duiwe van die naderende onheil heeltemal onbewus bly. Toe dit vir hom lyk asof die blou gevaarte nou enige oomblik op sy prooi gaan neerskiet, sluit hy moedeloos sy oë en sien in sy gedagte reeds die lug gevul met wit donsies wat stadig neerfladder.
Maar toe hy weer kyk, trap hy opgewonde van blydskap rond! Die duiwe het op die laaste oomblik hul wilde vaart met ‘n blitsvinnige sywaartse swenk gestuit en die valk het soos ‘n klip vlak voor hulle verbygeval. Dog nou het die groot kragmeting begin. Die wyfie en haar seun het paniekerig weer opwaarts geskiet en seil nou soos twee wit pyltjies weer nader. Toe die valk ‘n paar oomblikke later ‘n aantal meters laer af in die lug tot stilstand kom, gewaar hy alleen die fladderende gestalte van die groot duifmannetjie wat, asof hy skoon van stryk af is, besig is om in die lug rond te maal.
Die valk skiet verwoed omhoog maar die kragtige vlerke van die duif het meteens vinnig in beweging gekom en teen sy hoogste spoed gly hy voor sy aanvaller uit.
Henkie se oë glinster van trots met vrees gemeng. Uit die hoekie van sy oog sien hy die ander twee duiwe hygend op die duiwehok neerflap, maar sy aandag bly daarbo in die lug vasgenael. Skielik bestorm hy die leer wat langs die waenhuis lê en plaas dit regop teen die muur. Hy klouter soos ‘n kat teen die sporte op en ‘n paar oomblikke daarna dans hy opgewonde op die platdak rond! Dit skyn vir hom asof die ellendige valk stadig maar seker sy spogduif inhaal. Hulle is al so vér weg dat hy sy oë moet inspan om die verloop van die wilde wedren te volg.
Kyk… daar het Veerpoot skielik onverwags met gespande vlerke soos ‘n vallende klip vlakvoor die gesperde snawel van sy aanswiepende vyand na benede geskiet en die volgende oomblik kom hy soos ‘n windswael op sy spoor terug! Toe die valk daarin slaag om sy fluitende vaart te stuit is hy reeds ver agter. Hy sit egter onmiddellik die meedoënlose agtervolging voort… Nader en nader kom die duif, reguit in Henkie se rigting aangevlieg. Hy hou met ingehoue asem die gevaarlike wedren dop. Dit skyn asof die roofvoël nou nie meer op sy prooi inhaal nie en dis duidelik dat die duifmannetjie besig is om die laaste afstand met verdubbelde vaart af te lê. Nog ‘n paar oomblikke van ademlose spanning volg, waarna die duif met die valk slegs ‘n paar meter agter hom behendig na benede duik en met ‘n wye swaai langs Henkie op die dak te lande kom, terwyl die bloeddorstige roofvoël met wydgespande vlerke krassend die hoogte inskiet. Die seun het haastig op die duif toegestrompel en hom in sy hande geneem waarna hy liefderik die bewende liggaam streel.
Toe hy na die leer toe stap om af te klim, sien hy sy pa onder staan. Hy klouter haastig met die duif in die een hand na benede.
“En toe, kêrel, wat staan jy daar bo my dak so lendelam en trap? Jou ma het al tweemaal geroep om te kom eet, maar dit lyk my as dit vakansie is het julle ook nie eens meer ore nie. Wat gaan met die duif aan; het die valk hom gejaag?” gaan sy pa in een asem voort.
Aan tafel vertel hy met opgewonde handgebaar die besonderhede van die pasafgelope avontuur en sy moeder luister geïnteresseerd, maar sy pa meen dat sy liefhebbery net ‘n onnodige uitgawe en ‘n nuttelose tydverdryf is.
“Waarom doen jy nie liewers nuttige houtwerk daar by my skaafbank as om heeldag met jou spul duiwe te lol nie?”
“Ag Pa, die houtwerk is mooi, maar dis nie vir my lekker nie want die hout is dood en jy kan daarmee maak net wat jy wil, maar ek hou van die lewendige diere, van die duiwe omdat hulle kan vlieg en pronk…”
“Ag ja, ou man,” laat sy ma hoor, “jy was nooit juis ‘n liefhebber van troeteldiere nie. Die kind aard na my; laat hom maar die plesier hê…”
“Og wat,” sê sy pa, “nou toe dan. Maar ek wonder of jou neef Piet nie straks vir jou kinderagtige spel sal lag as hulle môre hier oppad Bloemfontein toe aankom nie.”
“Pa, ek dink Piet hou self duiwe in Bloemfontein aan want verlede keer toe hy geskryf het dat hulle kom kuier, het hy my ‘n hele klomp dinge gevra hoe ek my duiwe behandel, watter kos ek hulle gee en so aan.”
“Nou toe nou, dit ook nog…”
En Piet was ook werklik net so ‘n geesdriftige duiweboer soos sy neef Henkie, want die volgende middag nadat hy en sy ouers opgedaag het, was die twee gou-gou by die duiwehok aan die gesels.
“Wat sou dan van die seuns geword het?” wou Piet se pa naderhand weet.
“Swaer, ek dink hulle is natuurlik daar buite by Henkie se spul duiwe. Die kêrel wil mos mal word oor die goed.”
“Ag-nee, maar dan is Piet seker in sy noppies want hy is net so ‘n ywerige duiweboer.”
Hulle stap by die agterdeur uit na die twee seuns toe. Henkie beduie vir sy neef hoe rats Veerpoot sy duik uitgevoer het om aan die grypende kloue van die blouvalk te ontkom en die twee mans luister geamuseerd. Henkie se vader bespeur die opgewonde tinteling in sy seun se oë en ‘n skielike gedagte kom by hom op. Na ‘n rukkie sê hy: “Boet, as daardie duif van jou regtig so baie beteken, moet hy mos ook kan doen wat hulle voor afgerig word, om berigte oor lang afstande te vervoer soos in oorlogstyd. Ek wonder of ons hom nie kan toets nie. Hoe sal dit wees as Piet hom saamneem Bloemfontein toe en dan daar los sodat hy hiernatoe moet terugvlieg?”
Henkie voel dat die eer van sy spogduif op die spel is maar voel darem nog nie baie geneë om die uithoudingsvermoë van die dier so onnodig op die proef te stel nie; dog sy pa vervolg: “As hy weer hier uitkom gee ek jou honderd rand; hoeveel duiwe kan jy daarmee koop?”
Die seun se oë glinster.
“Minstens een goeie, pa. As hy net nie iets oorkom nie sal die vlug vir Veerpoot sommer kinderspeletjies wees.”
“Ag ja Henkie, ek is seker hy sal dit selfs van Kaapstad af lag-lag maak,” moedig sy neef hom aan.
Die volgende môre het Piet en sy ouers weer na hul tuiste vertrek en in ‘n klein koutjie het Veerpoot, die kranige duifmannetjie, eensaam in die hoekie van die motor heen en weer sit en wieg terwyl die voertuig kilometer na kilometer oor die gelykpad brom.
Henkie het met weemoed van sy beste duifmannetjie afskeid geneem. Sê nou maar dis laaste sien, het dit deur sy gedagtes geflits, maar aan Veerpoot het hy gefluister: “Totsiens, ou maat, oor ‘n dag of twee is jy mos weer terug hier in jou hok en die honderd rand in my sak…”
Die afspraak was dat Piet hom die volgende middag na hul aankoms goed moes voer en dan vir sy gevleuelde reis moes loslaat.
Die middag vroeg het daar ‘n dynserige wolkebank rondom die horison gelê toe Piet nog met die posduif doenig was. Sy pa kom juis van buite af in.
“Dit lyk vir my of ons vanmiddag gaan reent kry. Dis maar goed dat ons besluit het om gister al te kom, anders kon ons maklik vandag miskien in slegte weer beland het.”
Piet is besig om ‘n klein papiertjie aan Veerpoot se been vas te maak. Daarna neem hy die duif na buite en pa en ma kom saam uit om te sien hoe die voël sy lugreis aanvaar. ‘n Oomblik trap hy rusteloos op die oop handpalm van die seun rond en wip dan met harde vlerkgeklap die lug in. Bokant die huis begin hy vinnig hoër te sirkel totdat hy uiteindelik hoog in die lug ‘n paar maal rustig op een hoogte bly draai. Skielik skiet die wit stippeltjie dan blitsvinnig doelbewus in die noord-oostelike rigting voort en verdwyn gou uit die gesig.
“Wêreld, Pa,” laat Piet opgetoë hoor, “hy’s vinnig, né? Die meeste duiwe draai baie langer voordat hulle die regte koers inslaan!”
“En wanneer dink jy kan hy daar wees?”
“Ag, as alles goed gaan is hy nog voor sononder daar. Ou Henkie het dié slag sommer maklik honderd rand verdien. Ek wens Pa wil met my so ‘n weddenskap maak!”
‘n Harde skaterlag begroet sy woorde terwyl die seun na sy eie duiwehokke aanstap om sy troeteldiere te gaan versorg.
Kilometer na kilometer gly Veerpoot hoog oor die Vrystaatse vlaktes heen. Sy vinnige maar reëlmatige vlerkgeklap word telkens afgewissel deur ‘n klein pouse waarin hy na benede daal voordat hy weer onverpoosd op dieselfde hoogte voortsnel, voort na sy doelbewuste eindbestemming waar sy wyfie en die jong duif op hom wag en ook sy jeugdige baas wat angstig die tik van die ure tel…
Vér onder Veerpoot kronkel die spoorlyn en weerskante toe strek groen mielielande oor die bulte heen. Orals op die horison verskyn die wit krulle van stadig-opmekaarpakkende wolkbanke. Die duif moet hom nou kragtiger inspan om vinnig genoeg oor die weg te kom. Aanvanklik klim hy ‘n end hoër die lug in ten einde buite bereik van die warrelende stof te kom en beur moedig teen die sterkerwordende lugstroom voort. Uiteindelik voel hy dat sy kragte tevergeefs op hierdie manier verspil word en vasberade duik hy met gespande vlerke sirkelvormig na benede totdat hy rakelings oor die boomtoppe heen weer vorentoe beweeg. Twee dowwe vliesies is beskermend oor die groot ronde oë gespan, sodat die stofdeeltjies skadeloos verbywarrel.
Die wolkestapels het intussen die lug bedek en enkele groot druppels begin geniepsig deur die vaart van die wind gedryf, van voor te slaan. Maar nog beur Veerpoot voort…
Meteens skeur die blitse krakend deur die lug, onmiddellik deur die rollende donder gevolg en toe bars die storm fel en hewig los.
Die moedige duifmannetjie besef dat die elemente sterker as sy vasberadenheid is en swenk grondwaarts. Verbouereerd wip hy tussen die takke van ‘n kareeboompie in om skuiling teen die pietsende reënvlae te probeer vind. Die wind ruk aan die takke van die boompie en die moeë duifmannetjie klou krampagtig aan die tak waarop hy te lande gekom het, vas en wieg onrustig mee terwyl die storm onafgebroke woed.
Naderhand begin die wind bedaar maar dit reën nog sterk, een stryk deur. Veerpoot koes so goed as waartoe hy in staat is onder die beskermende lower weg en wag geduldig voort.
Die reën het uiteindelik sagter geword en naderhand opgehou. Nou is dit asof die duifmannetjie skielik besef dat hy geen oomblik langer meer kan vertoef nie want die son het reeds laag gesink. Hy wip versigtig tussen die takke van die kareeboom uit en vlieg laag oor ‘n sorghumlandjie heen. Hy voel dat hy eers ‘n bietjie kos sal moet bemagtig om sy leë krop te vul want die buitengewone inspanning en die koue van die reën het ‘n brandende hongergevoel laat ontstaan.
Op ‘n kaaltetjie in die land, vlak by ‘n lae strooisie sak hy neer en vind spoedig heelwat koringkorreltjies waaraan hy smaaklik wegpik. Uit die lae opening van die pondok loer ‘n jong nuuskierig na die pragtige groot wit duif wat hier so skielik op sy werf verskyn het.
Maar hierdie duif is mos heelwat groter as die wilde tortels wat heeldag in sy koring pla, dink hy. Hy is amper soos ‘n jong patrys en sy vleis sal seker ook baie lekker by ‘n potjie suurpap smaak… Hierdie laaste gedagte laat die ou jong versigtig op hande en voete by die deurtjie uitkruip tot aan die agterkant van die hut waar hy naarstiglik na ‘n gooiding soek…
Net toe Veerpoot sy vere regskud om weer te laat spat, gons daar ‘n klip met ‘n aaklike woergeluid rakelings oor hom heen en slaan krakend teen die koringstamme vas. In sy beangste vaart duik die duif swenkend om die hut en vlieg so hittete die verslete hoedjie van die verbaasde ou man se kop af, wat handeswaaiend met ‘n gehoei en ‘n gehaits die vinnige vlugteling agternastaar totdat hy in volle vaart oor die hoogste koringtoppe verdwyn!
Aanhoudend spoed die uitgeruste duif nou oor die heuwels voort. Sy linkeroog meet die stand van die son teen die westerhorison en sy vinnige vlerkslae klief die wind met ‘n eentonige sisgeluid op sy lang pad na die noorde.
Na enkele ure, toe die son pas agter die hoogste rant weggeduik het, gly die Vaalrivier se breë kronkels onder hom verby en sak hy vir die laaste keer grondwaarts om ‘n paar oomblikke lank sy tam vlerke ‘n bietjie skiet te gee voordat hy vasberade weer die skemer op sy laaste skof insirkel.
Henkie Basson sit met sy ouers saam aan tafel, besig om die aandete te geniet. Kort-kort dwaal die seun se oë onrustig na die venster wat in die rigting van die agterplaas wys. Oom Gert Basson merk die onrustige senuweeagtigheid. Hy voel glad nie spyt dat hy so ‘n eienaardige weddenskap aangegaan het nie, al sou hy dit ook moes verloor. Om die waarheid te sê sal hy seker net so teleurgesteld as sy seun voel indien die duif nie weer opdaag nie. Hy het nooit kon dink dat die onskuldige liefhebbery van sy seun nog soveel aangename opwinding kon veroorsaak nie.
“En hoe laat verwag hy vir Veerpoot terug?” laat volg hy.
Die seun sluk swaar aan ‘n broodkors maar kyk sy pa moedig in die oë.
“Hy moes al teen sononder hier gewees het, Pa. As hy net nie dalk teëspoed gekry het nie want ek het die heel middag onweer aan die suidekant gewaar…”
“Ja, moontlik het dit in Bloemfontein begin reën en het Piet besluit om hom nie vandag te laat vlieg nie,” reken sy ma.
Maar Henkie sit opeens aandagtig en luister; buite is daar skielik duidelik die geluid van klappende vlerke in die donker hoorbaar. Hy spring van die tafel af op dat die stoel hard agter hom omtuimel en kies haastig die deur, terwyl oom Gert rustig opstaan en na die slaapkamer stap.
‘n Oomblik later storm Henkie weer met ‘n vreugdekreet na binne en plaas die moeë duif wat doodstil na sy asem sit en hyg, op die tafel neer onderwyl hy begin om versigtig die papiertjie aan sy been los te maak. Hy vou dit oop, maar die inkletters is bykans onleesbaar; dis duidelik dat die duif met water in aanraking was. Met moeite ontsyfer hy darem: “halftwaalf gelos… veilig aankom… onweer…”
“Sien Pa! Hy was in ‘n storm; dis daarom dat hy so laat is! En toe my ou Veerpoot, is my ou duifie baie moeg? Ek wens jy kon my alles vertel wat jy van vanmiddag af moes deurmaak…” Hy streel hom liefkosend oor die kop en stap dan na buite om sy kampioen te gaan versorg.
Toe Henkie Basson na ‘n rukkie weer terugkeer, lê daar twee vyftigrandnote langs sy bord.
Die teerprop
Jakkals wou graag vir Hasie ‘n slag ‘n streep trek. Hy maak toe ‘n pop van teer en stokke en terpentyn, en die teerpop laat hy sommer daar langs die grootpad staan. Toe gaan kruip Jakkals in die bosse weg om dop te hou wat gebeur.
Nie te lank nie of Hasie kom vrolik in die pad af gespring. Toe hy by die teerpop kom, gaan Hasie op sy agterpote staan en bekyk hom goed.
“Môre!” sê Hasie vir Teerpop, “dis ‘n lekker dag né?”
Maar Teerpop sê niks en Jakkals lê maar net platter tussen die bosse waar hy wegkruip.
“Ek sê môre,” sê Hasie weer, en hy kyk Teerpop bietjie kwaai aan.
Maar Teerpop sê niks.
“Hoe’s dit dan met jou?” vra Hasie ewe boos. “Is jy miskien doof? Nou ja, as jy doof is kan ek skreeu!”.
Teerpop sê nog niks.
“Jy’s hardgebak né?” sê Hasie. “Wag maar, ek sal jou regruk.”
Jakkals kan amper sy lag nie hou nie en Teerpop bly maar doodstil.
“Nou sal ek jou leer om met ordentlike mense te praat!” skreeu Hasie. “As jy nie daardie hoed van jou afhaal en my groet nie slaan ek hom van jou kop af!”
Teerpop bly tjoepstil.
Toe slaan Hasie vir Teerpop oor sy kop. En daar sit sy hand aan die teer vas. Hy ruk en hy pluk maar hy kan sy hand nie loskry nie.
Jakkals wil nou amper hard uitbars van die lag.
“As jy my nie loslaat nie sal ek jou skop!”
Maar Teerpop laat hom glad nie los nie.
Hasie skop Teerpop met sy een voet maar sy voet sit ook vas. Hy ruk en pluk maar sy voet kan nie loskom nie.
“As jy my nie loslaat nie dan skop ek jou met my ander voet!” skreeu Hasie, “Jy hou jou bra snaaks.”
En toe skop Hasie vir Teerpop met sy ander voet. En dié voet sit ook vas.
Jakkals sit en skud van die lag daar tussen die bosse.
“Laat my los of ek stamp jou in jou gesig met my kop!” skreeu Hasie woedend.
Teerpop laat hom nie los nie.
Toe stamp Hasie vir Teerpop in sy gesig met sy kop. En daar sit sy kop ook vas.
Toe lag Jakkals hardop. Hy kruip uit die bos uit.
“Hoe gaan dit Hasie?” vra hy. “Dit lyk my nie te goed nie né.” En Jakkals rol op die grond soos hy lag..
“Dit lyk darem of ek jou dié slag gevang het Hasie! Jy dink mos jy’s die baas hier in die buurt. En nou’s jy vas en daar sal jy bly!”
Jakkals begin dadelik droë stokkies om Hasie en Teerpop pak.
“Vandag gaan ons met jou braaivleis hou!” sêJakkals en lek sy lippe af.
“Jy kan my maar verbrand as jy wil,” sê Hasie, “maar moet my tog net nie in die braambos gooi nie. Moet my asseblief tog nie in die braambos gooi nie! Gooi my in die rivier as jy wil maar gooi my asseblief tog net nie in die braambos nie.”
“Ek dink ek sal jou ophang,” sê Jakkals, en hy lag baie tevrede met homself.
“Hang my maar op, so hoog as jy wil, maar gooi my asseblief net nie in die braambos nie,” soebat Hasie.
“Hier is ook nie ‘n boom waaraan ek jou kan ophang nie. Ek sal maar jou vel solank aftrek,” sê Jakkals.
“Maak met my net wat jy wil,” pleit Hasie, “maar moet my tog nie in die braambos gooi nie!:
Toe hou Jakkals op met lag. Hy vat Hasie en Teerpop en gooi hulle binne-in die braambos.
Met ‘n groot lawaai val Hasie en Teerpop in die bos. Toe staan Jakkals nog so ‘n bietjie daar rond om te kyk wat gebeur.
Die dorings het Hasie gehelp om van die Teerpop los te kom.
Jakkals hoor meteens Hasie se stem daar ver weg. Toe hy kyk waar dit vandaan kom, sien hy Hasie daar bo op ‘n heuweltjie op ‘n stomp sit en die teer uit sy hare en oë vee.
Toe spring Hasie van die stomp af op en draf vrolik teen die rantjie uit. Voordat hy oor die rantjie verdwyn, kyk hy nog eers ‘n slag om en skreeu: “Dankie Jakkals! My huis is mos in die braambosse. Dis waar ek woon!”
En so het Hasie weer ‘n keer vir Jakkals uitoorlê.
Hoe die see ontstaan het
Leeu en Hasie het eendag saam gaan jag. Leeu het maar sleg gevaar en elke keer as Hasie ‘n bokkie vang, sêLeeu dis hy wat die bokkie doodgebyt het. En omdat Leeu soveel sterker as Hasie was, het Hasie dan maar vir hom die bokkie gegee. Maar Hasie het lankal besluit om Leeu terug te betaal.
Toe dit donker word, was hulle so ver van hul huise dat hulle sommer die nag in die veld oorbly. Op die wal van ‘n riviertjie het hulle ‘n vuurtjie gemaak en hul kos gaar gemaak. Ná die ete het hulle stories vertel en toe sê Hasie vir Leeu hy hoop hy sal hom nie wakker snork nie, want hy slaap so vas dat hy glad nie weet as hy snork nie. Maar Leeu vertel dat hy net so vas slaap.
Toe wil Hasie hê Leeu moet hom laat hoor hoe hy snork as hy vas slaap. Leeu se snork was soos ‘n span osse wat ‘n wa oor ‘n gruispad trek. Daarna het leeu sommer gou aan die slaap geraak maar Hasie het net gemaak asof hy slaap.
Eers toe Hasie hoor dat Leeu vas slaap, staan hy op en strooi die koue as langs die vuur oor homself, en toe gooi hy die warm kole op Leeu. Leeu het hard gebrul en opgespring, maar toe hy die as op Hasie se lyf sien, het hy maar net rondgekyk of hy nie kon sien wie dit gedoen het nie. Toe het hy hom maar weer uitgestrek en gaan slaap.
Na ‘n rukkie het Hasie weer ‘n handvol as gevat en oor sy lyf gestrooi en toe ‘n handvol goeiende kole op Leeu gelos. Leeu het weer opgespring en rondgekyk maar niks gesien nie. Toe sê Hasie:
“Jy is gemeen om my so te brand.”
Leeu hou vol dat hy dit nie gedoen het nie. Toe ruik Hasie iets brand – dit was Leeu se hare wat so skroei.
Hulle het oral rondgekyk, maar daar was niemand in die omtrek nie. Toe sê Hasie hy sal wag hou, en Leeu het weer gaan lê en slaap. Vir die derde keer het Hasie as oor homself gestrooi en die warm kole op Leeu gegooi.
Toe Leeu dié slag opspring, skreeu Hasie:
“Ek het hom gesien Leeu! Ek het gesien hy kom van die oorkantste wal!”.
Leeu het net een brul gegee en dwarsoor die rivier gespring. Net toe Leeu aan die oorkant land, sny Hasie die tou af wat die walle aanmekaar hou. Toe glip die walle al verder van mekaar weg en Leeu kon glad nie terugkom nie want die rivier was nou te breed. Die walle het al verder en verder uitmekaar getrek en die rivier het vinnig al breër en breër geword.
Naderhand kon Hasie nie meer vir Leeu sien nie. Die stroom water het al sterker geword en die oorkantste wal het heeltemal uit die gesig verdwyn.
So het die oseaan ontstaan, en dit is ook die rede waarom daar geen leeus in Noord-Amerika is nie.
Die Katoen-fee
Daar het eenmaal ‘n baie klein ou feetjie aan die kant van ‘n groot moeras gewoon. Sy was seker niks groter as ‘n akker nie maar ‘n vriendeliker ou dingetjie kon mens nêrens kry nie. Sy het ‘n baie oulike klein spinnewiel gehad wat sy van ‘n vlieg se vlerk gemaak het.
Daarmee kon sy vreeslik vinnig spin. Die ou spoeletjie was so klein dat ‘n mens dit amper nie kon sien nie. Dit was ‘n angel wat ‘n vriendelike by vir haar gegee het.
Ure lank het sy elke dag voor haar spinnewieletjie gesit en die pragtige draadjies gespin waarvan die ander feetjies hul dansrokkies gemaak het. Vir ou koning Winter het sy die silwerdraadjies gespin wat as ysnaaldjies in die winter van die bome afhang. Ook vir die blomme het sy die fynste haartjies vir hul blare en stamme gespin. Sy was dus ‘n baie flukse klein vroutjie, maar iemand was jaloers op haar.
Dit was Spinnekop. Hy kon ook pragtig spin, maar lank nie so mooi soos ons fee nie en daarom was hy jaloers op haar. Hy besluit toe om haar so bang te maak dat sy wegvlug uit haar huisie.
Een oggend toe die feetjie byhaar venstertjie uitkyk, wat sal sy sien? Hier reg voor haar huisie is ‘n tamaai groot spinnerak, en in die middel sit die grootste en lelikste spinnekop wat sy nog ooit gesien het.
Vinnig ruk sy die venstertjie toe, maar sy het so groot geskrik dat sy byna flou geword het. Toe drink sy sommer ‘n hele doudruppel op.
Daardie dag het sy niks gespin nie. Toe dit aand word, loer sy weer versigtig deur die venster, en ja, waarlik, die ou lelike spinnekop is weg. Toe dra sy haar spinnewiel tot voor die huisie se deurtjie, en sy spin en spin so al wat sy kan om verlore tyd in te haal. Sy voel so gelukkig dat sy sommer ‘n mooi liedjie sing. Maar dit moes sy liewer nie gedoen het. Spinnekop was daar naby en hier spring hy sommer by haar uit: “Aha!” skreeu die lelike ou ding. “Nou het ek jou!”
Die feetjie skrik haar boeglam maar sy vlieg op, gryp haar spinnewiel en daar trek sy met Spinnekop agterna. Spinnekop het lang en baie bene, daarom kan hy vinnig hardloop. Die fee het vlerkies maar is so bang dat sy byna nie kan vlieg nie. Daarom kom Spinnekop al hoe nader… nader. Die fee kom by ‘n muisgat verby en roep beangs:
“Maak oop! Maak tog oop!” Maar die onbeskofte muis klap die deur in haar gesig toe. Nader, al hoe nader kom Spinnekop, en hy skreeu: “Ek sien jou!”
Dis nou al sterk donker en die feetjie raak verdwaal. Sy kom by Padda en skreeu: “Ag oom Padda, steek my tog weg!” Maar Padda was ook nie ‘n vriendelike kêrel nie en steek net sy tong vir haar uit. Waar sal sy tog heen vlug? Die spinnekop is al byna op haar.
Meteens roep iemand uit die donker: “Wat makeer Feetjie?”
“Ek moet wegkruip, hy wil my vang”, skreeu die feetjie benoud. En toe sien sy die liggie van ‘n klein lanterntjie wat Vuurvliegie voor haar hou. Spinnekop is nou al so naby dat sy hom kan hoor asemhaal.
“Gou!” skreeu Vuurvliegie. “Hiernatoe! Spring hier in!”
En val-val struikel die feetjie by ‘n ligroos bloeisel in wat aan ‘n groot plant sit.
“Aha!” skreeu Spinnekop, “Nou het ek jou!” En hy steek sy harige pote uit om haar te gryp, maar Vuurvliegie druk sy lanterntjie in die ou lelikerd se gesig. ToeSpinnekop weer sien, het die blom sy blaartjies toegevou en ons feetjie sit veilig binne-in.
Spinnekop was vreeslik boos en dié nag het hy die blom heeltemal toegespin met sy drade. Maar die feetjie was niks meer bang nie. Binne-in die blom het sy begin spin. Naderhand het sy ontdek dat daar agter in die blom ‘n saadknoppie sit, en nou het sy sommer ‘n groot kamer gehad waarin sy kon spin.
Toe die blom se blaartjies naderhand afval, het die fee in hierdie saadknoppie aangehou met spin.
Eendag het Spinnekop so boos geword dat hy sommer die knoppie wou stukkend byt, maar die ou het homself per ongeluk raakgebyt en so groot geskrik dat hy die loopgeneem het en nooit teruggekom het nie.
En toe gaan die saadknoppie oop en daar hang die pragtige draadjies uit wat die fee daarin gespin het – lieflike sagte, wit klossies, so mooi soos sy nog nooit tevore gespin het nie. Dit was vir die ander feë so mooi dat hulle almal in die ligroos blomme begin spin het.
Dit was die blom van die kantoenplant, en die wit, wollerige klossies wat hulle gespin het, is die katoen wat die mense gebruik om katoendraad mee te spin waarmee hulle tot vandag toe nog klere maak.
Die gestewelde kat
‘n Meulenaar het drie seuns gehad. Toe hy sterf, het hy ‘n meul, ‘n donkie en ‘n kat nagelaat. Die oudste seun het die meul gekry. Die tweede seun het die donkie gekry. En die jongste seun het die kat gekry. Die jongste het baie ontevrede gevoel.
“My broers kan maklik geld verdien met die meul en die donkie. Maar wat kan ek met ‘n kat doen? Ek sal van honger omkom,” het hy gesê.
Die kat het gehoor wat sy baas sê. Hy gaan na hom en sê: “Moenie bekommer nie baas. Gee my net ‘n sak en laat vir my ‘n paar stewels maak sodat ek in die steekgras kan loop. Jy sal sien dat jy glad nie so ‘n swak erfenis ontvang het nie.”
Die seun het die stewels laat maak en vir die kat ‘n sak gegee. Die kat het die stewels aangetrek, die sak oor sy skouer gegooi en na ‘n kamp gegaan waar daar baie konyne was. Hy het semels en seidissels in sy sak gesit en dit op die grond neergegooi. Toe het hy ‘n entjie daarvandaan gaan lê en wag vir die konyne om te kom vreet. Toe hy ‘n konyn in sy sak sien kruip, het hy haastig opgespring en die skuif toegetrek.
Met sy prooi in sy sak is hy na die koning se paleis. Voor die koning het hy ‘n diep buiging gemaak en gesê: “Die markies van Carabas (hierdie naam het die kat nou vir sy baas uitgedink) stuur vir u hierdie konyn persent.”
Die koning was in sy skik met die persent en het die kat gevra om sy baas daarvoor te bedank.
‘n Ander keer het die kat patryse gevang en na die koning gebring. So het hy ‘n paar maande aangehou om vir die koning wild te bring.
Eendag het hy gehoor dat die koning en sy dogter langs die rivier sou gaan ry. Hy gaan na sy baas en sê: “As jy doen wat ek sê, sal jy jou oor niks meer hoef te bekommer nie. Gaan swem in die rivier. Ek sal jou wys waar jy moet ingaan. Ek weet self wat om verder te doen.”
Die markies het gemaak soos die kat gesê het en terwyl hy besig was om te swem, het die koning se koets daar verbygekom. Toe skree die kat so hard as wat hy kan: “Help! Help! Die markies van Carabas verdrink!”
Toe die koning die hulpgeroep hoor, steek hy sy kop by die koetsvenster uit. Hy herken dadelik die kat met die stewels aan wat so dikwels vir hom wild gebring het en beveel sy wagte om die markies van Carabas te gaan red.
Solank hulle die arme markies uit die rivier haal, stap die kat na die koets toe en vertel vir die koning dat diewe sy baas se klere gesteel het terwyl hy besig was om te swem. In werklikheid het die kat sy baas se klere agter ‘n groot klip weggesteek.
Die koning het dadelik sy wagte beveel om een van sy mooiste pakke klere vir die markies van Carabas te gaan haal.
Die koning het die markies bedank vir al die wild wat hy gestuur het. In die mooi klere van die koning het die markies ook nou soos ‘n regte markies gelyk, en hy was ‘n mooi jong man. Die prinses het sommer dadelik op hom verlief geraak. Die koning nooi hom toe om in die koets te klim en saam met hulle verder te ry.
Die kat was hoog in sy skik toe hy sien hoe goed sy plan slaag. Hy het voor die koets uitgehardloop. Toe hy by ‘n klomp boere kom wat oes, sê hy vir hulle: “As die koning verby kom moet julle vir hom sê dat hierdie land aan die markies van Carabas behoort. As julle dit nie doen nie sal ek met julle afreken.”
Die boere was bang vir die gestewelde kat en toe die koning daar kom, sê hulle dat die land aan die markies van Carabas behoort.
Die kat het altyd ‘n ent vooruit gehardloop en toe hy weer by boere kom wat besig was om te oes, sê hy vir hulle ook hulle moet aan die koning antwoord dat die land aan die markiesvan Carabas behoort.
Oral langs die pad het die kat boere gekry en altyd het hy dieselfde ding vir hulle gesê. En die koning was verbaas oor al die uitgestrekte landerye van die markies van Carabas.
Eindelik kom die gestewelde kat by ‘n pragtige kasteel. Daar het ‘n reus gewoon. Hy was baie ryk en al die lande waarlangs die koning gery het, het aan hom behoort.
Die kat het eers alles omtrent die reus uitgevis. Toe vra hy of hy met hom kon praat. Die reus het hom ingenooi en hulle het saam geëet.
“Die mense sê jy kan jou in ‘n dier verander,” sê die kat aan diereus.
“Dis waar,” sê die reus, “ek sal jou sommer nou wys!” – en hy verander homself in ‘n leeu.
Die kat het groot geskrik en toe die reus weer sy regte gedaante aanneem, sê die kat:
“’n Reus kan darem seker nie ook die gedaante van ‘n baie klein diertjie aanneem nie, ek bedoel ‘n rot of ‘n muis?”
“Gmff, ek sal jou wys,” brom die reus.
En dadelik verander hy homself in ‘n muis. Toe die kat die muis oor die vloer sien hardloop plak hy mooi sy poot op hom neer en vreet hom heerlik op.
Intussen het die koning se koets ook by die kasteel aangekom.
Toe die gestewelde kat die koets buite hoor stilhou, loop hy daarheen en sê aan die koning: “Welkom, u majesteit, die markies van Carabas se kasteel staan tot u beskikking.”
Die markies en die prinses het agter die koning aan die trappe van die kasteel opgestap. Hulle het ‘n groot saal binnegegaan. Daar was juis ‘n eetmaal vir die reus en sy vriende berei, en hulle het sommer gaan aansit.
Die koning was net so ingenome met die markies van Carabas soos sy dogter. Toe hy al die besittings van die markies sien, sê hy aan hom: “Ek wil jou graag as skoonseun hê.”
Die markies het die koning hartlik bedank en dieselfde dag nog is hy met die prinses getroud.
Die gestewelde kat was nou ‘n belangrike persoon. Hy het hofmeester aan die hof van die markies van Carabas geword. Nou het hy nooit meer muise gejag nie. So af en toe het hy net vir ‘n bietjie oefening agter hulle aangehardloop om hulle skrik te maak.
Die prinses en die padda
Daar was in die ou tyd ‘n prinses wat tog te graag met ‘n bal gespeel het. Sy het gewoonlik op die rantjie van ‘n diep put in die tuin vandie paleisgaan sit en speel. Dit was ‘n gevaarlike plek maar as haar oppasser haar waarsku om nie te naby aan die put te gaan nie, antwoord sy maar net:
“Jy kan maar huistoe gaan Pabe, ek is nie meer ‘n kind nie.”
Ure lank het sy dan op die rant van die put gesit en balle in die lug opgooi en gevang. Kort-kort het ‘n bal in die put geval maar daaraan het sy haar nie gesteur nie.
Een warm somerdag het die prinses weer by die put gesit en balle in die lug opgooi. Die een na die ander het die balle in die water geval totdat sy niks meer oorgehad het nie. Toe haal sy haar goue kroontjie van haar kop af en gooi dit soos ‘n bal in die lug op.
Maar toe sy nog so met die kroontjie speel, vang sy mis en daar val die kroontjie ook in die water. Dit was nou ‘n ramp want die kroontjie was haar kosbaarste besitting, en die put was so diep dat sy dit nooit daaruit sou kan kry nie.
Toe begin sy bitterlik huil, Sy kyk af in die swart water van die put en sien hoe die balle daar ronddrywe, maar van die kroontjie is daar geen teken nie. Terwyl sy so verdrietig sit en snik, hoor sy ‘n stem vra:
“Waarom huil jy prinses?” Toe sy opkyk sien sy ‘n lelike groen padda in die water.
“Dis oor my goue kroontjie wat in die water geval het,” antwoord sy.
“Toemaar, moenie meer huil nie,” sê die padda, “jy sal jou kroontjie terugkry. Maar wat sal jy my gee as ek dit vir jou gaan haal?”
“Wat wil jy hê padda?” vra sy. “My klere, my juwele en my balle?”
Toe sê die padda: “Ek wil geen klere of juwele hê nie. Maar as jy belowe om my altyd by jou te laat bly en jou speelmaat te wees sal ek jou kroontjie gan haal. Jy moet my langs jou aan tafel laat sit en uit jou bord laat eet en op jou bed laat slaap.”
“Ag ja, dit belowe ek jou,” sê die prinses, gaan haal tog asseblief my kroontjie.” Maar sy dink: wag maar tot ek my kroontjie weer het dan sal ons verder sien.
En toe die padda met haar kroontjie uit die water kom, gryp sy dit en hardloop weg.
“Wag vir my!” roep die padda. “Neem my saam met jou.”
Maar sy was al ver weg. Toe klim die padda uit die put en begin na die paleis aanstap.
Die volgende aand toe die koning en sy dogter besig was om te eet, hoor hulle iets plof-plaf die trappe opkom. Iemand klop aan diedeur en toe die bediende oopmaak, kry hy die padda daar op die trap. Toe die koning van die vreemde besoeker verneem was hy baie verbaas, maar die prinses het groot geskrik en die bediende beveel om die deur te sluit. Maar toe die bediende die deur gaan toemaak, sê die padda:
“Ek wil graag die prinses sien. Sy het my iets belowe.”
Toe die koning hoor wat die padda sê, vra hy die prinses:
“Wat het jy die padda belowe?”
Sy vertel haar vader wat die vorige dag by die put gebeur het, hoe haar kroontjie in die water geval en die padda aangebied het om dit te gaan uithaal as sy belowe dat hy altyd haar speelmaat sou wees, maar dat sy weggeloop het toe hy haar kroontjie gebring het.
Toe sê die koning:
“As jy ‘n belofte gemaak het moet jy dit nakom. Laat hom inkom.”
Die prinses maak toe die deur oop en die padda kom agter haar aangespring. Toe sy by haar stoel kom sê die padda:
“Tel my op jou stoel.”
Die prinses wou dit eers nie doen nie maar die koning sê:
“My kind, maak soos die padda sê.”
Toe spring die padda bo-op die tafel en sê aan die prinses:
“Stoot jou bord nader sodat ons albei daaruit kan eet.”
Toe hulle klaar geëet het sê die padda:
“Ek is moeg, ek wil nou gaan slaap. Gaan wys my waar jy slaap.”
Die prinses was glad nie lus om die slymerige padda op haar skoon beddegoed te laat slaap nie en sy begin huil. Die koning word kwaad en sê:
“Die padda was goed genoeg om jou kroon uit die water te haal! Nou moet jy jou belofte nakom.”
Sy vat die padda en sit hom in ‘n hoek van haar kamer neer.
Maar hy spring tot by die bed en sê:
“Tel my tog op en sit my in die lekker bed dat ek kan warm kry.”
“Nog nooit!” skreeu die prinses woedend. Sy spring uit die bed, tel die padda op en gooi hom terug in die hoek.
Daar verander die padda meteens in ‘n pragtige prins. Hy glimlag en buig voor die prinses. Toe gaan hulle haastig na die koning om hom die nuus te vertel. ‘n Nare heks het die prins in ‘n padda verander en hy moes daar in die put bly totdat ‘n prinses hom sou verlos.
Die prins het die koning gevra om met die prinses te mag trou. Die volgende dag is hulle getroud, en almal het ‘n week lank in die paleis feesgevier.
Toe het die prinses en die padda-prins teruggegaan na sy land en hulle het lank en gelukkig saamgewoon.
Rip van winkel, wat 20 jaar geslaap het
Baie jare gelede, toe Amerika nog ‘n kolonie van Engeland was, het daar aan die voet van die Kaatskillberge ‘n man met die naam Rip van Winkel gewoon. Hy was ‘n afstammeling van die Hollandse koloniste wat die mooi dorpie aan die voet van die berge aangelê het.
In een van die skilderagtige huisies met hul traliewerkvensters, mooi gewels en weerhane op die dakke, het Rip en sy vrou gewoon. Hy was ‘n gawe ou siel. Almal was lief vir hom en waar hy ookal op straat verskyn het was daar altyd ‘n hele string kinders agter hom aan want Rip was die baasstorieverteller van die dorp.
Maar Rip se vrou was ‘n regte rissiepit wat nooit opgehou het om die arme Rip uit te skel nie. Hy was later bang om in sy eie huis te kom. Dit was egter ook sy eie skuld. Hoewel hy so goeie mens was, was hy baie lui om vir homself werk te doen. Die plasie wat hy van die vader geërf het was naderhand toegegroei onder die vuilgoed. Maar sy vrou se skellery het alles niks gehelp nie.
Wanneer sy die dag in so ‘n ekstra kwaai bui was het ou Rip maar sy vriende by die herbergie opgesoek waar hulle lekker sit en rook en die skoolmeester vir hulle uit die koerant voorgelees het. Later was dit ook hier nie meer vir Rip veilig nie want sy kwaai vrou het hom selfs daar kom uitboender.
Hy het hom nie daaroor bekommer dat sy kinders se klere stukkend is en dat sy plasie verwaarloos is nie. As sy ou vrou hom die huis uitjaag of by die herbergie verwilder, roep hy maar sy hond, Wolf, die enigste in sy huis wat hom nie sleg behandel het nie, en gaan ja hulle twee in die berge of gaan vang vis in die stroompies.
Op een van hierdie jagtogte agter eekhorinkies aan het hy verder geklim as ooit tevore – tot op die hoogste punt van die Kaatskillberge. Dit was al taamlik laat in die middag en hy was moeg geklim, daarom het hy ‘n bietjie gaan lê en rus. Tussen die bome deur kon hy die Hudsonrivier soos ‘n reuse silwerslang sien kronkel. Agter hom was daar ‘n diep kloof. In die strale van die laat middagson was dit ‘n pragtige gesig.
Rip het lank daar lê en droom, en toe hy hom kom kry begin dit al sterk skemer word. Hy het net begin dink watter leuen hy weer aan sy vrou sou vertel, toe hy skielik iemand sy naam hard in die stil aandlug hoor roep: “Rip van Winkel! Rip van Winkel!”
Rip kyk vinnig rond maar sien niemand nie. Net ‘n eensame kraai vlieg hoog in die lug. Net toe Rip opstaan en wil loop. hoor hy ‘n tweede maal iemand na hom roep. Toe vlieg ou Wolf ook op en sy hare staan regop op sy rug.
Rip wou net begin bang word, toe hy iemand in die steil kloof sien opsukkel met ‘n vaatjie op sy rug. Rip was verbaas om iemand in hierdie verlate deel van die berge te sien maar soos sy geaardheid was, altyd gereed om iemand te help, spring hy op en klouter na onder om die vaatjie te help dra.
Die vreemdeling was ‘n kort, dik mannetjie met lang, deurmekaar hare en ‘n toutjiesbaard. Sy gesig het vir Rip snaaks gelyk maar hy was nog snaakser aangetrek, volgens ‘n ou Hollandse mode: ‘n kort leerbaadjie om die middellyf vasgebind, en ‘n hele paar wye broeke oor mekaar met knopies langs die kante.
Die mannetjie was so moeg geklim en gedra aan die swaar vaatjie dat hy net maar met sy hande aan Rip kon beduie om hom te help. Beurt-beurt dra hulle die vaatjie in die steil kloof op, maar die vreemdeling praat geen woord nie. Kort-kort hoor Rip net iets wat soos veraf donder klink.
Toe hulle deur die nouste deel van die kloof is, kom hulle meteens op ‘n pragtige oop plek tussen die berge, en daar op ‘n mooi groen graskol sien Rip ‘n klompie manne besig om ‘n outydse kegelspel te speel. Almal is net so lelik soos die mannetjie wat die vaatjie gedra het en ook net soos hy aangetrek. Toe hulle verbaas en boos na Rip kyk, bewe sy knieë eintlik, so bang is hy.
Een van die snaakse mannetjies tree nader, wys na die drinkbekers op die gras en beduie vir Rip om hulle vol te skink uit die vaatjie. Rip gehoorsaam sommer dadelik en bedien die manne. Toe hulle klaar gedrink het, gaan hulle weer aan met die spel maar nog praat niemand ‘n enkele woord nie en hulle gesigte bly ewe strak. En wanneer die balle so teen mekaar rol, klink dit soos donderweer.
Nadat Rip se ergste bangheid oor is, kry hy toe lus om te proe wat in die vaatjie is, en toe hy dink die manne kyk nie na hom nie, skink hy vir hom ‘n stywe dop in. Dit smaak so lekker dat Rip nog ‘n dop en nog een wegslaan. En toe word hy skielik baie vaak en slaan net daar om en raak aan die slaap.
Toe onse vriend vanmelewe wakker skrik, sien hy dat hy nog op dieselfde groen kol tussen die berge lê; die voëltjies sing lustig in die bome; waar die droeë kloof eers was, is daar nou ‘n bruisende rivier, maar die snaakse mannetjies is skoonveld.
Rip voel nou baie honger maar toe hy wil opstaan, is sy ledemate so styf dat hy amper nie orent kan kom nie. Hy kyk rond waar sy geweer is maar in plaas van sy netjiese blink geoliede geweer, sien hy ‘n ou vieslike lelik verroeste ding daar eenkant lê.
“Die vabonde het my geweer gesteel en hierdie verroeste ou ding vir my hier gelaat,” dink hy.
Nou roep en fluit hy na sy hond, Wolf, maar al wat kom, is Wolf. Baie hartseer oor sy hond en sy geweer, sukkel Rip teen die steil berge af huis toe.
“Hierdie berge is nie so goed vir my nie,” dink Rip. “Sê nou ek kry rumatiek en moet in die bed bly? Hoe sal die ou vrou tog nie met my aangaan nie!”
Bang-bang kom hy nader aan die dorpie. Hy sien ‘n hele paar mense, maar snaaks genoeg, hy ken geeneen van hulle nie – hy wat die ou dorpie ken asof hy dit gemaak het. Hulle is ook so snaaks aangetrek, almal kyk hom so verbaas aan, en wanneer hulle na hom kyk, vat hulle aan hul ken.
Nadat ‘n hele klomp mense dit gedoen het, vat Rip vanmelewe ook aan sy ken en, o aarde!, sy baard is meer as ‘n voet lank! Dis vir Rip baie snaaks, maar toe hy die dorpie ingaan, begin die hele petalje eers. ‘n Klomp kinders sit hom agterna en skree: “Kyk sy baard!”, en die honde blaf of hulle betaal word.
Rip soek rond waar sy eie huis is want die dorp is nou so anders. Daar is rye en rye huise wat daar nie was toe hy gister daar weg is nie. Die hele wêreld is vir hom onderstebo, betower, dink hy. Dit is mos tog sy dorp hierdie! “Maar dis alles daardie ellendige vaatjie se skuld!”
Na baie gesoek kry Rip eindelik sy huis maar alles is verlate – die vensters is stukkend, die deure hang aan flenters, en daar is niemand te sien nie. ‘n Maer, hongerige ou hond loer by die deur uit. Rip dink dis Wolf en hy roep, maar die hond knor net en hardloop weg.
“Liewe land,” dink Rip hardop, “selfs my hond ken my nie meer nie.”
Hy roep na sy vrou, hy roep na sy kinders, maar net sy eie stem weerklink in die verlate ou huis.
En toe vlieg Rip daar weg na die ou herbergie. Maar liewe land, ook die herbergie is daar nie meer nie, In sy plek staan daar ‘n hotel en daar is ‘n hele klomp mense wat hy nog nooit gesien het nie. Een van hulle is besig om ‘n toespraak te hou maar toe hy Rip sien met die lang baard en die geroeste ou geweer, bly hy meteens stil en stap nader:
“Vir wie gaan jy stem?” vra die vreemde man. “Vir die Federale of die Demokrate?”
Rip kyk hom verbaas aan en sê: “Ek weet nie wat jy praat nie! Ek is getrou aan die Koning van Engeland!”
Maar toe moes jy die klomp hoor! Hulle skree en raas en maak ou Rip uit vir ‘n spioen, en hoe hy ookal verduidelik, niemand wil ‘n woord glo wat hy vertel nie. Hy vra waar sy ou vriende is want hulle sal aan hierdie klomp kan sê dat hy Rip van Winkel is, ‘n ou inwoner van die dorp; maar dan moet hy hoor dat al sy ou maats lankal dood is.
Eindelik kom daar ‘n vrou met ‘n baba op haar arm tussen die mense uit. “Rip van Winkel was my vader. Twintig jaar gelede het hy een dag met sy hond die berge ingegaan. Die hond het teruggekom maar hy nooit weer nie. Wat van hom geword het, weet niemand nie. Ek was toe maar nog ‘n klein dogtertjie.”
“Ek is jou vader!” roep Rip bly uit en toe vat hy sy dogter om die nek en soen haar.
Met die grootste verbasing het almal na ou Rip se storie geluister van hoe hy werklik twintig jaar lank geslaap het. Maar hy was ook nie minder verbaas oor wat in dié tyd in sy land plaasgevind het nie. Hy moes hoor dat daar oorlog was – die Amerikaanse Vryheidsoorlog – en dat Amerika nou ‘n vry land was.
Hy het by sy dogter gaan woon en omdat hy nou eers niks te doen gehad het nie en sy ou vrou ook al dood was, het hy sy ou luilekker lewe van vroeër hervat. Hy het gou weer ‘n lekker ou klomp maats gehad en elke dag kon ‘n mens hom op die bankie voor die hotel sien sit waar hy aan elke nuwe gas sy snaakse verhaal vertel het.
En die inwoners van die dorpie het geglo dat Rip van Winkel op Hendrik Hudson en sy matrose daar in die berge afgekom het. Vandag nog wanneer die weer dreun, sê hulle:
“Hoor, daar speel die ou klomp weer met die kegels in die berge!”
Die ondankbare slang
Daar is ‘n groot brand in die dennebos. Die vuur vreet deur die droë naalde op die grond en dans in die toppe van die bome rond. Toe Pofadder sy lui oë oopmaak is dit te laat. Die vlamme is al om hom. Hy probeer dié kant toe en daardie kant toe maar orals is hy vas.
Net toe duik daar ‘n boer deur die rook. Hy is besig om die vlamme met ‘n nat sak dood te slaan.
“Boer! Boer!” roep Pofadder, “Help my, ek verbrand!”
“Verbrand maar”, se Boer. “As ek jou hier uithelp sal jy my sekerlik pik.”
“Ek sal dit nog nooit doen nie!, beloof Pofadder. “Help my net!”
Toe kry Boer vir Pofadder jammer. Hy hou die sak se bek oop sodat Pofadder kan inseil en dra hom uit die gevaar. Maar toe Pofadder weer veilig op die koel grond lê, lig hy sy kop op en sê: “A! Nou het ek jou! Ek’s lankal lus vir jou bloed.” En hy trek sy kop agteroor vir die doodpik.
“Nee, jy kan dit nie doen nie, jy’t dan belowe!”, roep die Boer.
“As jy so onnosel wil wees, is dit jou eie skuld,” sê Pofadder, en hy blaas gevaarlik.
“Kom ons hoor eers wat ander daarvan dink,” sê Boer.
“Goed”, sê Pofadder want hy geniet dit om Boer nog ‘n bietjie langer bang te maak.
Hulle kom by Koei waar sy in haar kampie wei.
“Koei, ek het hierdie slang uit die vuur gered en nou wil hy my pik,” kla Boer.
Koei kyk op “’n Koei moet vreet en melk gee,” sê sy, “En ‘n slang moet pik en klaarkry. Nee, dis reg wat Pofadder wil doen.”
“Kom ons vra vir Perd ook, sê Boer.
Perd runnik van lekkerkry toe hy die storie hoor. “Boer pik my altyd met sy spore as ek nie vinnig genoeg hardloop nie,” sê hy. “Nee, ek dink dit sal goed wees as jy hom ‘n slag bykom Pofadder.”
“Hoor jy daar?” blaas Pofadder.
“Lyk my Koei en Perd hou nie van my nie,” sê Boer hartseer.
“En ek moet sorg dat hulle altyd genoeg kos het en snags warm slaap. Julle diere is almal ondankbaar. Pik dan maar as jy wil pik.”
Maar toe kom Jakkals verbygedraf. “Wat’s hier aan die gang?” vra hy.
Boer vertel weer sy storie.
Jakkals krap sy kop. “Boer was in die sak, en toe het Pofadder hom uitgedra,” herhaal hy.
“Nee, nee,” sê Boer, “Pofadder was in die sak,”
Nou is Jakkals heeltemal deurmekaar. “Maar hoe kon Pofadder in die sak gewees het? Dit was dan aan die brand.”
“Jy’s verspot Jakkals,” roep Pofadder uit. “Die bos was aan die brand, en toe het Boer my by die sak laat inseil.”
“O, Boer was aan die brand, en toe het die bos by die sak ingeseil,” begin Jakkals weer. “Nee, die bos was in die sak en toe het Pofadder…” Jakkals skud sy kop. “Dit spyt my, maar jy sal moet wys wat gebeur het, Pofadder. Julle praat my heeltemal dronk.”
“Nou kyk dan goed!: sê Pofadder boos. “Jy mors my tyd en ek is lus vir pik.” Toe glip hy sy dik voorlyf by die sak in tot net sy dun stertjie uitsteek. “Sien jy nou?” roep hy van binne af, maar Jakkals spring vorentoe, gryp die sak, trek die bek toe en sê: “Nou is alles weer soos dit was. Vat die sak Boer, en sorg dat Pofadder jou nie weer ompraat nie.”
“Dit sal nie gebeur nie,” sê Boer. “Baie dankie. Kom haal gerus vanaand vir jou ‘n vet hoender. Ek sal die honde vasmaak.”
“Dankie Boer,” sê Jakkals
Die Rob-vrou
‘n Visser stap laataand oor die strand, moeg na die dag se vangs, toe die volmaan oor die berg kruip en hy iets in die waters sien roer. Sewe robbe duik uit die golwe en waggel teen die sand uit. Hulle gooi hul velle af, en nou is hulle sewe jong vroue wat met blink lywe in die maanlig dans. Betowerd bly die visser staan, en dit word middernag sonder dat hy dit weet. Maar toe die kerkhorlosie in die dorpie twaalfuur slaan, gryp die vroue hulle velle en verdwyn laggend tussen die branders.
Nou soek die visser elke aand na die vroue, want vandat hy hulle eenmaal gesien het, kan hy hulle nie vergeet nie. Maar dit word volmaan voor hulle weer verskyn. Dié keer sluip hy ‘n bietjie nader totdat hy hul lang, nat hare soos seewier in die wind sien, en hy hoor hul lied soos die dreuning van die stormsee, en weer ligter soos golfies in rotspoele – hoewel hy geen woord daarvan kan verstaan nie.
Die derde volmaan waag hy dit digby en kyk na hul oë wat helder soos die water blink. Die visser verlang onkeerbaar om een van hulle te wees, maar hy weet as hulle hom eers gesien het, sal hulle nooit weer kom nie. Daarom wag hy sy kans af, kruip tot by die hoop velle, steel een en begrawe dit in die sand.
Twaalfuur eindig die dans. Ses susters gryp en hardloop oor die strand, maar die sewende soek vergeefs.
“Susters, my susters!” roep sy. “Ek kan my vel nie kry nie.”
“Suster, ons suster!” roep hulle terug, “Maak gou, want ons mag nie langer vertoef nie,”
Die rob-vrou dwaal oor die duine. “Susters, my susters!” smeek sy.
“Suster, ons suster!” roep hulle uit die golwe.
Die rob-vrou val snikkend neer. Nou kom die visser te voorskyn. “Kan ek jou miskien help?” vra hy.
“My vel, my robvel! Het jy dit nie dalk gesien het?” soebat sy.
“Nee, ek het dit nie gesien nie,” antwoord die visser, “Maar kom gerus saam met my. Ek sal jou ‘n huis gee en alles wat jy nodig het. Dan sal jy weer gelukkig wees.”
“Ek sal nooit weer gelukkig wees nie,” sê die rob-vrou maar sy stap saam met hom.
So is die visser en die rob-vrou getroud, en hulle het twee kinders gehad: twee meisietjies met hul moeder se seegroen oë, en hulle hare dieselfde goud as hare. Maar die visser het altyd versigtig gebly. Daarom het hy die vel wat hy gesteel het, gaan uitgrawe en in die kelder toegesluit, en die sleutel orals met hom saamgedra.
Die rob-vrou was ‘n goeie moeder, en niemand sou sê dat sy anders as gewone mense is nie. Net saans as sy haar kinders in die bed sit en vir hulle ‘n slaapliedjie sing, raak die visser onrustig. Want dan hoor hy weer die water in haar stem soos daardie aande toe sy saam met haar susters op die strand gedans het. Sy sing:
Ver is die land waar die susters woon,
waar hul tuimel oor die golf se kruin,
waar die vlegsels wier om hul bene vleg,
en hul daglank draal teen die goue duin.
Ver is die land, o ver, ver van hier,
waar hul snags uitdans oor die silwer strand,
met die maan en die wind en die waters se lied –
o, ver is die Land van Anderkant.
Die jare gaan verby, die kinders word groot, en die moeder sing nie meer nie.
Haar hare se goud is al gespikkel met grys en haar oë verdof. En die visser dink: nee, nou het sy seker vergeet. Maar tog dra hy die sleutel nog altyd by hom, al is hy nie meer so versigtig daarmee nie.
Maar op ‘n dag is hy haastig die huis uit omdat die wind sterk stoot en hy bang is daar kan dalk skade by sy boot kom. Die sleutel vergeet hy tuis.
Die rob-vrou het nooit weer van die verlore vel gepraat nie, maar noudat sy die onbekende sleutel in haar hand hou, is dit asof iets haar trek. Sonder om te soek, stap sy reguit na die kelder. Sy sluit dit oop, en daar lê die vel. Met albei hande gryp sy dit vas, en skielik skud die wind weer goud uit haar hare en diep in haar oë flits die maan se lig. Haar kinders wat haar gemis het en na haar kom soek, skrik toe hulle dit sien.
“Moeder, ons moeder!” roep die meisies.
“Vaarwel, my kinders!” roep die vrou en sy begin seetoe hardloop.
“Moenie weggaan nie, Moeder!” smeek die meisies.
“Ek kan nie bly nie, my kinders!” roep die vrou en sy hardloop al vinniger.
“Moeder, ons moeder!”, snik die meisies.
Maar die laaste wat hulle van haar sien, is ‘n blink ligglans op die duine toe sy haar klere afgooi en die robvel aantrek. En die laaste wat hulle van haar hoor is die weerklank van haar lied uit die golwe:
Ver is my Land van Anderkant,
die glansende golf en die silwer strand,
en die maan en die wind en die vlegsels wier.
Ek kom, o my Land Ver-van-Hier!
Toe die visser terugkeer en sien sy vrou is weg en sy kinders vertel hom wat gebeur het, weet hy dit sal nie eens help om te soek nie. Net saans met volmaan kan hy homself nie bedwing nie. Dan dwaal hy op die strand om te wag en te kyk of die susters nie weer sal kom nie. Maar hulle het ander kuste gevind waar hulle die silwer ure om kan dans – weg van mense se nuuskierige oë en vissers se grypende hande, doer in die Land Ver-van-Hier.
Uilspieël en die pynlike waarheid
Tyl Uilspieël se pa is dood toe hy nog ‘n jong seun was. Omdat Pa Uilspieël in sy lewe nooit veel van werk gehou het nie, het sy mense ná sy dood heeltemal onversorg agtergebly. Terwyl Ma Uilspieël droewig sit en huil, kom die jong Tyl op haar af. “En nou, Ma?” vry hy.” “Wat makeer?”
“Jou pa is dood,” snik sy. “Wie sal tog sy plek kan vul?”
“Ek, Ma,” antwoord Tyl.
“Jy?” sê sy ma. “Jy lyk ‘n mooi bog.”
“Geen my net ‘n bak pap, dan sal ek Ma wys,” antwoord hy.
“Hoe bedoel jy nou?” vra sy.
“Ma het mos altyd gesê Pa dra meer pap in sy maag by die deur uit as wat hy brood in sy hande inbring.”
“Jou ongepoetste kind!” roep sy ma uit en gee hom ‘n oorveeg. “Het jy dan geen respek vir die dode nie?”
Huil-huil gaan Uilspieël langs die straat sit, toe ‘n skeel vrou daar verbykom. “Wat makeer, my kind.” vra sy.
“My ma het my geklap omdat ek die waarheid gepraat het,” snik Tyl.
“Siestog,” sê die vrou. “Dis darem nie mooi van haar nie. “Daar is so baie mense wat leuens vertel dat ‘n mens nie die waarheid kan straf nie. Hier, gaan koop maar vir jou ‘n bietjie lekkers.” En sy stop Uilspieël ‘n oulap in die hand.
“Dankie, skeel vrou,” sê Uilspieël.
“Wat!” roep die vrou uit, en sy gee hom ‘n oorkonkel. “Het jy dan geen respek vir ‘n grootmens nie?” Toe stap sy woedend weg.
“Ai!” sug Uilspieël.
Die waarheid maak mens bitter seer –
dis nie altemit nie:
ding ding wat almal so begeer,
maar niemand wil besit nie.
Bobbejaan en die eina-pere
Bobbejaan is lief om Hasie te tempteer. Wanneer Hasie ‘n bietjie in boer se slaai-akkertjie gaan wei, sit Bobbejaan hoog in die vyeboom en skree: “Boer! Maak gou! Haas is in die groentetuin.”
Dan kom boer met sy honde en geweer, en hy is so kwaad dat hy skoon van Bobbejaan en die vye vergeet.
So hou dit nou ‘n week lank aan. Hasie het al by Bobbejaan gekla, en hy het mooigepraat, en elke slag beloof Bobbejaan beter maniere. Maar hy is nie ‘n man van sy woord nie.
“Nou goed,” sê Hasie by homself. “Party diere hoor net wat hulle voel.” En hy hou sy oë oop tot hy sien wat hy soek, en hy draf na Bobbejaan toe.
“Ja, wat is dit Hasie?” vra Bobbejaan, en hy lag in sy kies. “Het jy al weer ‘n klagte?”
“Niks klagtes nie, Oom,” antwoord Hasie.
“Ai, maar jy het vanoggend weer oopgelê,” sê Bobbejaan, en hy lag uit sy maag. “Daardie windhond van boer is darem haastig op sy voete.”
“Ek hou van so ‘n bietjie hardloop vroeg in die oggend,” sê Hasie. “Dis goed vir die gesondheid.”
“Sien jy nou, Hasie,” sê Bobbejaan, en hy lag kliphard, “Jy kerm altyd so oor ek boer en sy honde roep, maar eintlik dink ek net aan jou.”
“Nee, ek verstaan, Oom,” sê Hasie, “Dis waarom ek graag vir Oom ook iets wil doen. Ek sien boer het sullke lekker pere maar ek kan hulle nie bykom nie. Wil Oom nie ‘n bietjie gaan pluk nie? Daar is oorgenoeg vir ons altwee.”
“Ons kan so maak, Hasie,” sê Bobbejaan, en sy mond water. “Baie dankie. Maar die pere is mos vroeg vanjaar?”
“Dis ‘n nuwe soort,” antwoord Hasie. “Hulle sê jou oë traan eintlik as jy hulle proe.”
Ewe vriendelik stap hulle in die paadjie af na boer se vrugteboord toe. Dit word al skemer, maar Bobbejaan wil nie wag nie.
Hasie lei Bobbejaan tot tussen die bome waar die eerste peertjies nog skaars begin boep maak, en hy wys hom ‘n paar perdebyneste wat hoog aan die takke hang. “Daar is hulle, Oom. Sulke vet rooies. Maar pluk tog gou, want dit lyk my ek sien iets by boer se huis.”
Bobbejaan laat nie op hom wag nie. Dis net hier trap en daar trap, wip-wip en raak vat – en reguit kies toe. Want hy was nog nooit van plan om vir Hasie ook van hierdie pere aan te gee nie.
Maar dit moes hy nie gedoen het nie. Perdeby wil net gaan skuinslê toe hy sy huis vreeslik voel skud. Voor hy nog kan regop kom, kraak iets die dak wawydoop. Perdeby ken nie ‘n ding soos skrik nie en aan vlug het hy nog nooit gedink nie. “Storm!” skree hy vir vrou en kinders, en hy lê met sy angel in.
Bobbejaan sit regop. Nee, dis snaakse soort pere hierdie. Dit smaak net soos grond, en as jy dit byt, dan byt dit terug. Bobbejaan wil uitspoeg wat hy nie insluk nie en hy laat los wat hy nog vashou. Maar nou is Perdeby op hom, saam met sy hele gesin – en sy ooms en tantes en neefs en niggies en aangetroude familie ook. Bobbejaan koes en klap, en hy val reg tussen die takke deur tot op die grond, maar die perdebye steek.
“Eina! Eina! Eina!” roep Bobbejaan.
“Hoe lyk dit, Oom?” vra Hasie, “Traan Oom se oë al?”
“Eina! Eina! Eina!” skree Bobbejaan, en hy lê oop berge toe.
“Eina! Eina! Eina!” tjank Bobbejaan tot sy stem in die skemerte verdwyn.
“Nee wat,” sê Hasie kamtig onskuldig, “sulke eina-pere wil ek ook liewers nie proe nie.” En hy draf weg na die slaaibedding toe.
Die slimste muis
Slang woon in ‘n akkerbos. Hy bly lekker want daar naby is ‘n groot muiskolonie, en Slang is lief vir muise.
Elke oggend as die son rooigesig oor die berg loer, kronkel hy homself los, want hy rol hom altyd op as hy snags gaan slaap. “Nou kan ek weer vir my ‘n muis gaan vang,” sê hy by homself, en lek sy koue swart lippe met sy dun rooi tongetjie af.
Vinnig seil hy deur die lang gras weg, en die sonstrale blits op sy lyf want hy is moddervet. By die muisvoetpaadjie gaan hy doodstil lê en wag.
Nie te lank nie, of daar kom ‘n muis in die paadjie af om in die veld te gaan kos soek. Slang lig sy kop op en blaas; nie te sag nie want dan sal muis niks hoor nie en verby hardloop; nie te hard nie want dan sal muis skrik en weghardloop. Hy blaas net reg. Die muis kyk nuuskierig op en vas in sy oë. Toe hy sy ou vyand reg voor hom sien skrik hy so groot dat hy nie ‘n voet kan verroer nie. Stadig kom Slang nader, slaan blitsig vooroor, en die muis het skaars drie piepe gegee of hy het by sy keel af verdwyn.
Maar daar is een muis wat Slang nie kan vang nie.
As hierdie muis in die paadjie afkom, lig Slang sy kop soos altyd en blaas net hard genoeg, Maar Muis gaan nie staan nie. Ligvoet spring hy tussen die gras in, en met ‘n piep is hy weg. En wat vir Slang die ergste is, is dat hierdie piep net soos ‘n lag klink.
Op ‘n dag toe Muis weer vrolik in die paadjie aankom, kan Slang dit nie langer uithou nie. In plaas van te blaas, roep hy so vriendelik as hy kan: “Muis! Muis! Hoor ‘n bietjie hier.”
Muis gaan doodstil staan en gee drie piepe. Nou weet Slang vir seker: hy lag. Slang sluk sy woede af en gaan voort: “Ek wou jou net gevra het, liewe Muis, hoe jy dit regkry om elke slag van my weg te kom.”
“Ek is te slim vir jou,” sê Muis kordaat, en hy gaan op sy agterbene sit om sy snor te krul.
“Dit lyk my so,” antwoord Slang kastig gedwee. “Maar wil jy my nie sê hoe jy dit doen nie?”
“Dis baie eenvoudig,” sê Muis, “as jy verstand het.”
“Ja, ja?” sê Slang.
“Ek kyk net nie in jou oë as jy blaas nie. Dan kan jy my niks maak nie!” sê Muis.
“Nee, Muis, so maklik kan dit nie wees nie,: sê Slang kastig vies. “Ek dink dis maar net van bangheid dat jy altyd so vinnig vlug.”
“Is nie!” sêMuis.
“Is!” sê Slang.
“Is nie!” sêMuis.
“Nou kyk my in die oë dat ek kan sien of jy die waarheid praat!” sê Slang.
“Nou kyk dan!” sê Muis woedend.
Vir die eerste maal kyk hy reg in Slang se oë, en Slang kyk reg in syne. Nou is Slang tjoepstil. Muis wil nog iets sê maar hy kan nie. Te laat besef hy Slang het hom uitoorlê.
Stadig wieg Slang se kop heen en weer, en Muis se kop wieg saam. Nader en nader kom Slang, maar Muis sit versteend. Toe Slang vooroor slaan en hom in die bek gryp, het hy nie eens genoeg krag oor om te piep nie.
Tevrede seil Slang weg om in die sonnetjie te gaan lê en bak. En al wat van die slimste muis oorgebly het, is ‘n groot knop in Slang se lyf.
Toutrek
Hasie kom op Olifant in die veld af. “Staan soontoe!” sê hy ewe grootman en begin reg onder Olifant se neus te wei.
“Gee pad, jou klein bog!” sê Olifant vies.
“Moenie so met my praat nie,” antwoord Hasie, “want ek is tog sterker as jy.”
“Sterker as ek!” roep Olifant uit. “Jy sal jou wat verbeel.”
O ja,” sê Hasie. “En as jy my nie wil glo nie, kan ons gerus ‘n bietjie toutrek. Dan sal jy wel sien.”
“Bring die tou,” brom Olifant. “Ek het nou genoeg van jou grootpratery gehad.”
“Hier is die tou, sê Hasie, en hy snuffel agter die bossie waar hy dit al lankal weggebêre het. “Hou solank die een punt vas maar moenie trek voor ek ‘n plukkie daaraan gee nie.”
“Goed,” sê Olifant.
Soos die wind spring Hasie daar weg en hardloop na die rivier toe. Hier lê Seekoei op ‘n sandbank en slaap. “Kyk net die lomp ou seekoei,” koggel Hasie. “Hy is al so vet en lui van al die niksdoen dat selfs ‘n haas vir hom te sterk is.”
Seekoei maak sy oë oop. “Wat sê jy daar?” grom hy boos.
“Ek sê net wat ek sê – en jy het my goed gehoor. Ek daag jou uit om teen my tou te trek, dan sal jy sien ek praat die waarheid.”
“Gee die tou dat ek jou wys!” bulk Seekoei woedend, en hy kom op die been.
“Kom saam,” sê Hasie. “My tou lê net daar agter die rantjie.”
Hasie woerts-warts vooruit, en Seekoei is op ‘n stywe draffie agterna. “Hier is dit,” sê Hasie toe hy by die plek kom. “Hou styf vas, en moenie trek voor ek ‘n plukkie gee nie.”
“Pluk net gou, ek is haastig,”sê Seekoei. ” Daar is nog ‘n lang stuk slaap wat ek moet inkry voor ek vannag kan gaan wei.”
Nou draf Hasie tot reg bo-op die maanhaar van die rantjie, en hy kyk af na Olifant en Seekoei wat aan weerskante staan en wag. Hy lag eers lekker in sy kies. Toe pluk hy, en Olifant en Seekoei val weg.
Dit is vir jou ‘n gedoente! Olifant wil sommer aanstap, want hoe sal Hasie hom kan terughou? Maar Seekoei skop vas, en toe begin die trekkery. Olifant ploeë vier sulke vore in die grond. Seekoei se maagvelle skuur eintlik deur soos hy plat lê. So kan dit nie aanhou nie. Nou swik Olifant, en dan laat Seekoei weer skiet. Een sal moet ingee.
“Nee!” sug Seekoei oplaas, en hy tuimel neer. Die tou haak aan sy agtervoet vas, en Olifant sleep hom bo-oor die rantjie.
“Ek het jou mos gesê, Haas,” trompetter Olifant verheug. “Ek is sterker as jy!”
Maar toe hy omkyk, is Hasie nêrens te sien nie, net Seekoei.
“Wat’s hier aan die gang?” brul Olifant verwoed. “Probeer jy miskien met my gekskeer?”
“Nee, nee!” pleit Seekoei, want hy’s nog te moeg om weer regop te kom. “Ek het ook gedog ek trek teen Hasie tou.”
“Ek glo jou nie,” sê Olifant. “Dis jy en daardie haas wat saam hierdie plan uitgedink het om my te tart, maar gelukkig is ek te sterk.” En hy bestorm die arme Seekoei en byt sy stert stomp af. “Laat dit vir jou ‘n les wees,” sê Olifant terwyl hy slurp omhoog wegstap, “om nooit weer met my soort skoor te soek nie.”
Hangoor en baie moedeloos sukkel Seekoei terug rivier toe. Hy was nog altyd so trots op sy mooi krulstert. Toe hy by die water kom en sien hoe al die jong seekoeie met hulle sterte in die lug rondpronk, word hy so kwaad dat hy hulle een vir een byloop en hul sterte morsaf byt soos Olifant met hom gemaak het.
En van daardie dag af het seekoeie nie sterte nie.
Die buffeljag
Die buffeljag het nie deur mense plaasgevind nie, maar deur Jakkals en oom Leeu. Jakkals was altyd oom Leeu se lyfwag as hulle gaan jag.
Eendag sê oom Leeu: “Kom Jakkals, die tante wil biltong maak. Ons moet vir haar ‘n buffel gaan skiet.”
“O, ja, oom,”sê Jakkals, “wag net tot ek gou my pyl en boog gaan haal. Oom kwes miskien ‘n buffel, en oom weet, dan is hy eers gevaarlik; dan storm hy ons en dan moet ek mos daar wees om hom die doodskoot te gee.”
“Nou ja, maak dan gou, jou klein bog.”
Een, twee, drie is Jakkals weer by en daar loop hulle. Jakkals hol die hele wêreld vol. Hier skiet hy na ‘n mossie en daar na ‘n meerkat.
“Hou nou op om so rond te hol, Jakkals,” sê oom Leeu. “Ek sien hier baie buffelspore. Gaan loer oor daardie rantjie of jy iets gewaar.”
Jakkals kruip op sy maag en toe hy bo kom, wink hy opgewonde vir oom Leeu en wys met sy vinger waar die buffels ‘n paar honderd tree agter die rantjie staan. Oom Leeu kruip nader en lê versigtig aan met sy ou sanna, terwyl Jakkals net so ernstig korrelvat met sy pyl en boog. Toe die skoot klap, spring hy op en sien hoe die groot buffelbul teen die grond neerslaan. Soos die wind is hy by hom, vat korrel en skiet ‘n pyltjie in die buffel se linkeroog. Toe oom Leeu daar kom, spring Jakkals opgewonde rond en skree: “Dis mý skoot, oom Leeu! Ek het die korrel op sy oog. Dis mý buffel!”
“Ag loop, jou klein vabond, sê oom Leeu, “die buffel het dan met sy regteroog na ons kant gestaan.”
Oom Leeu soek in sy sak na sy jagmes om die buffel af te slag.
“Ag Jakkals, ek het my mes by die huis laat lê. Maak gou en gaan vra vir die tante my mes. Toe nou. Die son sit al laag. Ek sal so lank hier bly en die aasvoëls weghou.”
Jakkals draf teësinnig die lang pad terug. “Jou ou vabond,” dink hy, “jy wil my mos hiet en gebied net of ek jou slaaf is, né? Maar vanaand gaan ek jou nog ‘n streep trek!”
Hy gaan by ‘n bos verby en skrik toe die wind ‘n wit ding by hom verbywaai, maar dit was net ‘n blad uit ‘n kladboek wat een van die skoolkinders daar laat val het. Hy tel dit op om te bekyk en toe hy die gekrap daarop sien, kry hy ‘n plan. Hy wil hom doodlag, toe hy die papier in sy bladsakkie steek. Hy hol eers gou huis toe en neem ‘n groot sak saam en sit af na tant Leeu se huis.
“Naand tante,” sê hy. “Nee tante, ons het nog niks gekry nie en dis so ver van die huis af, oom Leeu sê hy sal maar vanaand daar slaap. Ek moet net kom kos haal; hier is sy brief.”
Jakkals weet goed dat tant Leeu nie kan lees nie. Hy maak of hy die brief wil oorhandig, maar sy sê: “Ag Jakkals, lees ‘n bietjie wat daar staan; ek het my bril verloor.”
Jakkals vou die brief plegtig oop en begin kastig te lees: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê: Tien span van daardie wors wil hy hê.
“Wat! So baie? Daar bly byna niks oor nie”, sê tant Leeu toe sy teësinnig die stuk wors vir hom gee. Onderwyl hy dit in sy sak stop, kyk hy rond en sê: “Dis nie al nie tante. Hier staan nog meer in die brief.” Hy lees plegtig verder: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê, daardie speenvark wil hy hê.
“Wat!”sê die tante. “Jy het dan al die wors, waarvoor wil jy dan my lekker speenvark hê?” “Nee ek weet nie, tante. Hy is seker baie honger, en tante weet as hy honger is, kan hy byna iets oorkom, so boos word hy.” Sy gee hom die speenvark en Jakkals stop dit in sy sak
“Ek dink dis al, tante, “sê hy. Skielik val sy oog op nog iets in die huis en haastig sê hy: “O nee tante, hier agter op die brief staan nog iets. Hy lees: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê, daardie skottel pork-chops wil hy hê.
“Maar jok jy nie, Jakkals?” vra tant Leeu. “Jy dra al my kos weg. Waar staan dit?”
“Kyk hier, tante,” sê Jakkals en wys na die gekrap agter op die papier. “Kyk daar! P-o-r-k C-h-o-p-s. Dis seker daardie varkkarmenaadjies. Tante weet, toe oom Leeu klein was, was daar net Engelse skole.”
“Nouja, vat dit en loop en sê hy moet vir my ‘n buffel, ‘n koedoe en ‘n rooibok bring, want my huis is leeg!”
“Ja tante. Goed tante. Naand tante,” sê Jakkals en maak dat hy wegkom met sy sak vleis, reguit na sy gat. Toe hy daar kom, skreeu hy vir sy vrou en kinders: “Kom, kom, hier’s baie kos! Wat wil julle hê, wors, speenvark of tjops?
Dit was nie lank nie, toe sit almal lekker warm in Jakkals se gat en uit die bek daarvan trek die heerlike geur van vleis wat braai.
Intussen sit arme oom Leeu in die koue by die dooie buffel, maar al wat kom is Jakkals. Hy stap naderhand na die rantjie en skree alte boos: “Jakka-a-a-a-ls !”
“Laat hom skree,” sê Jakkals, “hy noem my mos ‘n klein bog.”
Naderhand is oom Leeu so woedend dat hy nie langer kan stilsit nie. Met sy skerp tande en kloue skeur hy die twee boude van die buffel af, gooi hulle oor sy skouer en stap huis toe in die donker. Hy smyt die twee boude neer en vra vir sy vrou: “Waar is daardie klein swêrkater van ‘n Jakkals? Dis al ure gelede dat ek hom gestuur het om my mes te kom haal om die buffel mee af te slag.” Tant Leeu skrik haar boeglam.
“Mes?”sê sy. “Mes? Hy het dan hier gekom met ‘n brief van jou dat jy eers môre sal terugkom en dat jy wors, speenvark en chops wil hê. Ek is dan reeds so omgekrap daaroor. Kyk hoe leeg is my huis. Hy het alles hier weggedra.”
Oom Leeu kon byna nie woorde kry nie. “So ‘n klein derduiwel! Wag net tot ek hom in die hande kry, dan sal ek van hom wors en chops maak!” Hy stap buite toe, laat sak sy kop en stoot so ‘n geweldige brul uit dat die aarde dreun. Toe bewe Jakkals se broekspype daar onder in die gat, maar die volgende oomblik kruip hy en sy vrou en kindertjies uit en lê lieflik in die sonnetje en braai, trommeldik van al die vleis. Hy was slim genoeg om sy gat in die middel van ‘n groot stuk kaal grond te maak, sodat niemand hom kon bekruip nie.
Maar oom Leeu het vroeg-vroeg tot so naby aan die gat gekruip as wat kon kom, sonder dat Jakkals hom sien. Toe gee hy net één brul en hier kom hy! Jakkals gee net een skree, gryp sy vrou en kinders by die ore, stop hulle in die gat en kruip self in, maar oom Leeu kry hom aan die stert beet.
“Nou het ek jou, jou klein duiwel! Nou sal ek jou wys!”
Jakkals skop met alle mag teen die kante van die gat vas en skree: “Dis glad nie my stert nie, oom Leeu! Hier sit ek onder in die gat. Dis ‘n taaiboswortel wat jy beet het.”
“O nee,” sê oom Leeu . Dit ís jou stert. Ek kan sien daar’s hare aan.”
Arme Jakkals! Dit voel vir hom of sy stert gaan afbreek. Hy kry so seer dat hy amper nie kan praat nie. “Nee, nee oom Leeu, dis sommer haarworteltjies van die taaibos. As jy dit nie wil glo nie, loop haal ‘n klip en stamp daarop. Dan sal jy sien daar kom rooi sop uit. Ek sit al lankal onder in die gat.”
Oom Leeu is so waar dom genoeg om dit te glo. Hy los die stert en gaan haal ‘n klip. Woerts is Jakkals onder in die gat en toe sit hy oom Leeu lekker en uitlag.
Oom Leeu het later verskeie kere probeer om hom in die hande te kry, maar Jakkals was elke keer te slim vir hom. Voëltjie fluit, die storie is uit!
Hasie en Olifant
Hoe Hasie en Olifant tougetrek het
Hasie was altyd baie vererg dat die diere wat soveel sterker is as hy hom so verag en met hom spot. Soms sit hy lank doodstil en dink hoe hy hulle ‘n streep kan trek, veral vir sulke ou grotes soos Olifant en Seekoei.. Eendag kry hy ‘n gawe plan. Hy stap na Olifant toe, wat op die wal van ‘n groot rivier staan en vreet.
Hasie sê: “Môre oom Olifant.”
“Môre jou klein niksnuts, wat wil jy hê?”
“Oom, ek wil met Oom kom toutrek.”
Olifant blaas vir Hasie met sy slurp amper onderstebo.
“Ag loop, Hasie! Kan jy dan toutrek?”
“Ja Oom. Vandag oor twee weke, met volmaan, in die oggend om tienuur moet Oom hier wees, hoor? Dan sal ek ‘n lang tou bring en hier onder by die rivier gaan staan en …. pasop Oom, of ek sleep jou binne in die water!
Olifant sê net: “Ag loop, jou klein bog!”
“Onthou nou Oom, presies oor twee weke, om tienuur, hier op dieselfde plek. Totsiens Oom.
Hasie stap op sy agterpootjies oor die wal, stert in die lug, af na die rivier, waar die vader van al die seekoeie – of is dit seebul? – in die lekker sonnetjie langs die rivier lê. Hy is amper net so groot en so dik soos ‘n olifant.
“Môre oom Seekoei, “ sê Hasie.
Seekoei loer lui-lui na Hasie en sê: “Môre klein langoor, , wat wil jy hê?”
“Oom Seekoei, ek wil met Oom kom toutrek.”
“Ag loop, kan jy dan toutrek?”
“Ja Oom. Kyk, vandag oor twee weke, presies om tienuur moet oom hier wees, hoor? Dan sal ek ‘n lang tou bring en ek sal hier bo op die rivier se wal gaan staan en …. pasop Oom, of ek sleep jou hierdie wal uit tot binne in die bosse!
Maar Seekoei sê net: “Toe, maak dat jy hier wegkom, jou klein vabond!”
“Vabonde!”sê Hasie toe hy huis toe loop. “Julle spot met my. Wag maar, hy wat laaste lag , lag die lekkerste.”
Hasie laat toe sy vrou en kinders hom help om ‘n sterk tou van bobbejaantou te vleg. Dit was so dik soos ‘n man se arm en so sterk soos ‘n wa se trektou. Hulle het veertien dae lank byna dag en nag gewerk. Op die laaste oggend sleep hulle die tou na die rivier, sodat die een punt in die water hang en die ander punt daar bo oor die wal tussen die bosse lê. Hasie was nog hiermee besig toe Olifant aangestap kom.
“Môre oom Olifant. Hou asseblief Oom se agterpoot uit.” Hasie bind die tou styf om die agterpoot vas. “Oom, nou sal ek daar onder by die rivier gaan staan by die ander punt van die tou. En as ek skree TREK!, dan moet jy trek, hoor! En pasop Oom, of ek trek jou vandag binne in die water!”
Onderwyl Hasie weghuppel, dink Olifant: “Toemaar jou klein bog, vanoggend gaan ek jou ‘n les leer. Ek gaan jou ruk dat jy daar bo in die lug styf loop met die tou.”
Toe Hasie by die rivier kom, sê hy: “Môre oom Seekoei.. Hou ‘n bietje Oom se agterpoot uit. Asseblief Oom, ons wil sommer vandag hier ‘n plesiertjie maak.”
“Nou toe dan, jou klein papbroek,” antwoord Seekoei en dink: “Mannetjie, jy hou jou so parmantig, stert in die lug, maar vandag gaan ek jou ruk dat jy soos ‘n vrot lappie hoog bo-oor die wal waai en sommer doe-e-er in die water val. Dan versuip jy miskien nog en dán sal ek lekker lag!’
Intussen het Hasie die tou styf vasgewoel en toe sê hy: “Nou ja Oom, nou gaan ek daar bo agter die wal by die ander ent van die tou staan. As ek skree TREK! Dan moet jy trek hoor! En pasop Oom, of ek sleep jou vandag hier teen die wal uit!”
Hasie loop toe terug tot by de middel van die tou en wink vir sy vrou en kinders om nader te staan en die pret te aanskou. Toe skree hy net so hard as wat hy kan: “TREK!”
‘n Tyd lank gebeur daar niks. Olifant dink: “Die klein bog, hy trek hom seker boeglam daar onder en ek voel niks.” Seekoei dink net so. Naderhand sê Olifant vir homself: “Nou gaan ek net ‘n klein rukkie gee en jy sal sien hoe kom die haas hier oor die wal gewaai.”
Hy gee ‘n ruk en skielik voel Seekoei hoe sy agterpoot uitskiet agtertoe. Hy skrik hom byna dood en sê: “Maar kyk so’n klein bog! Hy is darem sterker as wat ek gedink het.. Maar nou gaan ek hom wys!”
Seekoei gee toe ‘n kragtige ruk sodat Olifant se poot sommer reguit agter hom uitstaan. Olifant skrik groot, gryp met sy slurp ‘n boom vas en begin vorentoe kruip. En daar trek Seekoei teen die wal uit. Maar hy klou die rotse vas en begin weer afkruip water toe. Die tou span so styf soos ‘n boogsnaar en Hasie en sy kinders dans daarop en skree net “Trek….trek….trek!”
En toe gaan dit op en af …. op en af. Olifant is wel sterker as Seekoei, maar hy trek opdraand en Seekoei afdraand.. Hulle ploeg ‘n pad deur die bosse soos Olifant kruip en gly……kruip en gly, terwyl Seekoei naderhand met sy pote ‘n diep sloot in die wal uitgegrawe het.
Skielik is daar ‘n donderslag, soos die tou morsaf breek! Seekoei rol bolmakiesie die wal af en val in die water, stokflou. Olifant val sommer drie bome plat en daar lê hy. Sy groot maag gaan op en af…..op en af, so swaar haal hy asem.
En hier kom Hasie! Hy spring op Olifant se maag en terwyl hy so lekker op en af ry, sê hy: Nou ja, oom Olifant, jy wil mos met my toutrek! Dis jou geluk dat daardie tou gebreek het, anders het ek jou gedoriewaar binne in die rivier gesleep. Op ‘n ander dag moet jy tweemaal dink voor jy weer met ‘n haas kom toutrek, hoor! Totsiens oom Olifant!” Maar Olifant lê maar doodstil.
Hasie stap stert in die lug na arme ou Seekoei wat in die water lê en blaas., té skaam en té flou om sy oë oop te maak.
“Kyk hier, oom Seekoei, dis nou die laaste maal dat jy met ‘n haas moet kom toutrek, hoor! Jy kan jou sterretjies dank dat die tou gebreek het, anders het ek jou binne in die bosse gesleep en dalk nog aan ‘n kiepersolboom op tou gespan. Totsiens oom Seekoei!” Maar die arme Seekoei kan nie ‘n woord uitkry nie, so flou is hy.
“Pappie,” sê een van Hasie se kinders, “kom ons gooi hom ‘n slag vol modder. Hy wou mos ons Pappie laat verdrink.” “Nee”, sê Hasie, “Oom Seekoei is nie ‘n slegte ou nie. Hy is vandag al genoeg gestraf.”
Van dié dag af het Olifant en Seekoei opgehou om met Hasie te spot. Hulle het gewonder hoe hy soveel krag in sy pap pootjies kon hê. Toe sê Hasie vir hulle: “My krag lê nie in my pootjies nie, maar in my kophare, soos Simson s’n”. Voëltjie fluit, my storie is uit!
Die onbevoegde regter
Kanarie en Kraai kry op ‘n dag stry oor wie van hulle die mooiste sing.
“Nee,” sê Kanarie eindelik stokflou gebaklei, “dit help nie. Ons moet ‘n regter soek.”
“Goed,” sê Kraai, “ons vra die eerste dier wat ons teëkom.”
Hulle vlieg weg en sien Vark in ‘n modderpoel lê. Kanarie stel hul saak.
“M-m-m-!” sê Vark. “Sing maar.”
Kanarie kantel sy kop agteroor, en hy sing van die son en die goue dag tot al die ander voëls stil word, en die wind gaan lê om te luister, en selfs die ou treurwilger sy takke ‘n bietjie lig.
Maar Kraai het langs Vark gaan sit, en hy krap sy rug met sy lang, sterk naels dat Vark “Ê-ê-ê!” van lekkerkry, en hy kras: “Kwa-kwa-kwa!” in sy oor.
“O,” sê Kraai sonder om twee maal te dink. :”Kraai sing die mooiste.”
Kanarie skud sy kop droewig en sê: “Dit kom daarvan as ‘n kanarie toelaat dat ‘n vark oor hom regter speel.”
Toe sprei hy sy vlerke en vlieg weg.
Die vierde vingertjie
Dit het in Kanada gebeur, daardie koue land, noord van die Verenigde State van Amerika. Daar was ‘n predikant wat in die noorde van die land onder die mense gewerk het. Die sneeu het daar soms weke lank op die grond gelê. ‘n Paar maande nadat hy daar gekom het, hoor hy dat daar ver agter die Sneeuberge ook mense woon wat al byna wild geword het omdat hulle byna nooit ander mense sien nie.
Die predikant besluit toe om hulle darem ook te besoek. Hy saal dus een mooi dag sy perd op en ry met die voetpad soos die mense hom beduie het. Dit gaan berg op en berg af, maar toe hy naderhand weer op ‘n hoë bult uitkom, sien hy daar onder in die kloof ‘n huisie staan en ‘n rokie trek. ‘n Endjie verder kry hy ‘n seuntjie wat skape oppas en wat verwonderd na hom kyk.
Hy klim toe af en sê: “Môre my kind, wat maak jy?”
“Oom, ek pas skape op,” antwoord die kind.
“En wie pas vir jóu op?”
“Ek weet nie, oom, ek is mos nie ‘n skaap nie.”
“Maar het jy dan nog nooit van die Here Jesus gehoor nie? Hy is mos die goeie Herder wat daar bo in die hemel woon. Ons wat groot is en Hom liefhet, is mos sy skape en die kiunders s die lammers wat hy oppas.”
Toe sê die seuntjie: “Nee oom, van Hom het ek nog nooit gehoor nie.”
“Ja my liewe kind,” sê die leraar. “Hy het ons lief en wil vir ons sorg. As jy tot Hom bid dan hoor Hy jou, al kan jy Hom nie sien nie. En as jy jou hart aan Hom gee en Hom liefhet en die sonde laat staan, kom Hy in jou hart woon en dan word jy sy lam. Dan pas Hy jou dag en nag op, en as jy eendag sterf, neem Hy jou na die hemel daarbo.”
Die seuntjie het aandagtig staan en luister. Naderhand sê die predikant: “Wat dink jy, wil jy nie ook graag ‘n lam van die Here Jesus word nie?”
Die kind staan ‘n oomblik stil en sê toe: “Ja oom, baie graag, want ek is so alleen en baie maal in die nag is ek so bang.”
“Nouja,”sê die leraar, “ek is baie bly om dit te hoor. Maat kyk, dit word laat. Vanaand sal ek by jou huis verder met jou praat oor die Here Jesus, hoor? Ek wil jou nou so lank ‘n versie uit die Here se boek, die Bybel, leer. Dan sê jy dit vir my vanaand op. Die versie is:: ‘Die Here is my Herder.’ Kyk, hou nou die vingers van jou regterhand op. Daar is vyf vingers, né? Die versie het ook vyf woorde, een vir elke vnger.
Toe laat die leraar hom ‘n paar maal die woorde op sy vingers aftel. Daarna sê hy: “Ek gaan nou so lank na jou huis. Tel nou die woorde oor en oor op jou vingers tot jy die versie goed ken. Hou die vierde vingertjie styf vas: Die Here is my Herder.. Ja my liewe kind, die Here is ook jou Herder, al is jy so alleen hier tussen die berge. Hy het jou ook lief.”
Toe hy wegry, sien hy dat die seuntjie sy vierde vingertjie met sy ander hand nog altyd styf vashou.
Toe hy by hulle huis kom, was die vader al te bly om hom te sien. “Meneer,” sê hy, “u is die eerste predikant wat nog ooit by ons gekom het. Geen wonder dat ons al byna wild is nie..”
Nadat hulle ‘n tyd gesels en koffie gedrink het, sê die vader: “Verskoon my tog, dominee, ek sien daar kom ‘n swaar kapokstorm oor die berg aan. Ek moet no eers my kind met die skape gaan haal. Waar het u hom gekry? U moet weet as die storm losbars, kan ‘n mens deur die kapok niks sien nie en dan word dit sommer gou donker.”
Die vader is haastig na die plek wat die leraar hom beduie het. Intussen het die storm vinnig nader gekom, sodat dit gou pikdonker was en die sneeu soos ‘n spierwit gordyn gev al het waardeur ‘n mens niks kon sien nie. Selfs die voetpaadjie was spoedig toe onder die kapok. Ongelukkig het die arme kind verdwaal. Toe sy pa daar kom waas die dominee hom gekry het, was hy al ver weg i die donker en daar was geen spore meer van hoim of die skape te sien nie. Alles was toe onder die sneeu. Toe sy pa glad nie kon sien in watter rigting hy geloop het nie, is hy haastig huis toe, en dadelik is ‘n groot vuur gemaak en skote afgeskiet om die kind te wys waar die huis was. Maar dié tyd was hy al ver agter ‘n rant en het niks daarvan gesien of gehoor nie.
Die skape het in die nag een vir een by die huis gekom. “skaap verdwaal nie sommer nie. Die kind het seker gesien in watter rigting hulle loop. As hy maar agter hulle aangeloop het, sou hy ook veilig die huis bereik het. Maar hy het gedink hulle gaan verkeerd en toe gaan hy in ‘n ander rigting.
Laat in die nag sê die vader moedeloos: “Nee doninee, nou is my kind al lank verkluim. Wie kan in hierdie bitter koue nog lewe?”
Tien dae lank het die leraar by hulle gebly solank as wat die kapok nog dik op die grond gelê het. Hy het aldag gehelp soek en aand vir aand het hy met die ouers om die Woord van God vergader en hulle geleer van die Trooster, die Heilige Gees en van die groot ontfermende Saligmaker. Maar eindelik sien hy dat die kapok reeds gesmelt het en toe moes hy met groot droefheid van die treurende ouers afskeid neem en wegry.
So ver as wat hy gery het, het hy opgelet of hy nie iets gewaar nie. Skielik sien hy daar oorkant teen ‘n rant iets onder ‘n bos. Hy ry dadelik daarheen. Daar lê die dooie kind en bo-op hom lê sy getroue hond, wat sy kleinbasie nog wou warm hou. Maar albei was lank reeds dood.
Hy tel die kind op om hom op die perd te sit en wat sien hy? Sy een hand hou die vierde vingertjie van die ander hand styf vas !
Hy bring die dooie kindjie toe net so na sy ouers terug en sê vir hulle. “Hier is jul kind. Kyk net na sy hande. Waarom, dink julle, hou hy sy vierde vingertjie so styf vas?”
Toe vertel hy hulle weer hoe hy met die seuntjie gepraat het toe hy hom op die berg ontmoet het en van die versie wat hy hom geleer het en sê: “Jul arme kind het seker geloop tot hy nie meer kon nie en toe onder die bos ingekruip, waar niemand gehoor het hoe hy gehuil en na sy pappie en mammie geroep het nie. Maar toe het hy opgekyk na die hemel en tot die Here Jesus gebid en gesê: Die Here is mý Herder, en sy vierde vingertjie styf vasgehou. Toe het die Goeie Herder van die hemel gekom en sy klein lammetjie met Hom saamgeneem. Julle kind is nou veilig in sy arms, salig en gelukkig in die hemel.”
Bronne:
* Stories uit die Afrikaanse Kinderensiklopedie, die hersiene uitgawe van 1964. Elkeen van hierdie verhaaltjies is geskryf deur groot kindervriende en ‘n ware juweeltjie uit die Afrikanervolk se skatkis. Die redakteur is dr CF Albertyn.
* Die mooiste Afrikaanse sprokies aan deur Pieter W Grobbelaar en Séan Verster.
* http://www.afrikanervolksparty.org/index.php/101-ou-web-argief/storietyd.html