Die bestuur van leeutroppe in Botswana.
Meer leeus was deur hulle eie spesie doodgemaak in Botswana as deur enigiets anders. Dit is deur baie kundiges oor baie jare nagevors. Om die leeubevolking te behou moes hulle reg bestuur word. Daar was nie baie druk van die mensdom op die leeugetalle in die land nie. Die sensus syfers van 1976 het getoon dat daar maar 780,000 mense was in die land. Bevolking was dus yl versprei en die mens was net in sekere gevalle bedreig deur leeus. Die getalle opname wat in 1975 gedoen was het getoon dat daar meer as 100,000 leeus in die land was. Daar was baie groot gebiede waar leeus vry kon rondloop en nie deur mense bedreig was nie.
Met die oorloe wat bykans rondom die land aan die gang was moes die diere migreer na veilige hawens toe en die roofdiere moes noodwendig agterna. Weermagte met hulle horde wapens en baie male swak dissipline onder soldate was geensins glad nie goeie natuurbewaarders nie. Ek weet van baie spesies wat in die Caprivi en ook in die Wankie deur soldate geskiet was en ook deur polisie manne toe hulle nog die grense bewaak het. Baie mense wat op die grense was wou iets saam neem huistoe en dit was baie male die velle of dan net fotos van diere wat huistoe gesmokkel sou word.
Die inheemse bevolking het ook gou geleer dat hulle velle en aandenkings aan die soldate kon verkoop en dit het ook druk geplaas op die natuur. Die burger oorlog in Angola het ook sy tol geeis en derduisende diere sou die slagoffers wees. Toe ek die eerstemaal in Angola in was in 1974 was die gedeelte van suid oos Angola ‘n lushof van diere. Troppe en troppe wild so ver jou oog kon sien, toe ek weer daar was in 1979 was daar net rietrotte oor. Die miljoene AK’s en ander wapens sou baie meer skade aan die natuur doen as aan die mensdom. Selby het my vertel dat hy in Angola elke jaar tussen vyftig en tagtig renosters en groot olifant bulle geskiet het. Die Portugese wat in 1975 onttrek het, het geweldig baie wild geskiet en ek was by hulle basis langs die Luiana rivier in 1974 en daar was tonne en tonne ivoor en die velle van baie diere. Savimbi se manne het baie diere en ivoor geskiet en bykans gemaai onder die natuur.
Ons kan maar vir Kenia neem as ‘n voorbeeld wat alle jag in 1973 verbied het. Binne tien jaar het die leeugetalle met sestig present afgeneem en vandag het die land maar ‘n breukdeel oor van sy oorspronlike getalle. Die leeu het in die land sy valuta waarde verloor en geen waardelose dier het dan ‘n bestaansreg nie. Die mense in Kenia het met die V.V.O. se hulp ‘n bykans bevolkings ontploffing ondergaan en die natuur was die lydende party. Vry lopende leeus is ‘n skaars dier in Kenia vandag en met die krimpende reservate sal hulle baie skaarser word. As ‘n leeu egter geld werd was in die land sou hulle meer gewees het, hy is egter net ‘n beskermde dier wat staats eiendom is en die mens dink nie veel van die staat se eiendom nie. Hulle boer met derduisende beeste en ander vee binne park grense.
Ek weet dat daar op ‘n stadium ‘n leeu bestuursprogram in die Kruger ook aan die gang was. Leeus wat besmette TB buffels vreet steek aan en die siekte tesame met miltsiekte is dodelik vir leeus. Volgens baie goeie inligting is die leeu bevolking van Kruger onder baie hoe druk en ‘n goeie weermag vriend van my wat vir jare daar wildbewaarder was het nie baie hoop vir die leeus van Kruger nie. Hy is ook met regstellende aksie daar weg en sy opvolgers glo hy nie veel in nie. Hy het my vertel van honderde leeus wat deur die grensdrade gelok word elke jaar en dan deur sogrnaamde jag ondernemers doodgeskiet word. Baie droewige nuus om van ons grootste park te verneem. As ‘n leeu buite die park is geld daar blykbaar nie meer jurisdiksie oor die leeu nie. Ons moet dus aanvaar dat die dae van vrylopnde leeus verby gaan wees en dit sal baie gouer gebeur as wat ons dink. Onlangs is die laaste woestyn mannetjie langs die skedelkus doodgeskiet ook deur ‘n sogenaamde ondernemer en die sub spesie is dus vir altyd verlore. Dus moet die stelling gemaak word dat nie alle jagters goeie natuurbewaarders is nie. Kan ons hulle jagters noem?
Die leeu is die heel boonste skakel van die roofdier ketting en net soos daar met renoster horing gesmokkel word, word daar met leeu geraamtes gesmokkel. Die natuurbewaarder se dat dit op ‘n baie groter skaal as renosters is. Dit kry egter nie die media blootstelling wat dit verdien nie. Ook die smokkel van ivoor het blykbaar drasties toegeneem en hy se dat vir elke renoster daar minstens ses olifante in die Kruger gestroop word. Dan is daar die toormanne wat ek so haat, wat in elke diertjie iets sien wat of ‘n man baie viriel maak of die polisie se koeels van jou lyf af sal hou. Baie duisende diere word gestroop elke jaar en net ‘n goeie voorbeeld is die heer wat ons land regeer met sy aanhangers, almal geklee in luiperd velle. Dit is nie nagemaakte velle nie en ek glo nie hulle is almal met permitte geskiet nie.
Baie goeie natuurbewarings voorbeeld wat die mense vir die nageslag stel. As ‘n boer ‘n probleem luiperd skiet draai hy by die tronk om, as jy die land regeer kan jy maar half naak op nasionale TV verskyn met ‘n luiperd vel aan en niemand vra vrae daaroor nie. Al wat jy eintlik doen is om ‘n absolute idioot van jouself te maak in die buitelandse pers. As die boonste skakel van die roofdier ketting onder so veel druk kom sal dit noodwendig beteken dat daar ‘n wanbalans onder die laer skakels sal plaasvind, ons het almal al die dokumenter van sentraal Afrika gesien wat heet “ Africa Adieu.” As ons nie wil daardie pad loop nie sal leeutroppe bestuur moet word en om hulle te bestuur moet dit groot troppe wees. Om troppies wat deur die jare klein geword het weer groot te kry sal baie jare se intensiewe bestuur verg met die regte mense aan die stuur van sake. In die bree beskou is dit ‘n sombere prentjie. Die oud bewaarder vriend van my gee te kenne dat die leeus van Kruger nog in ons tyd kan tot niet gaan. Die regte mense met die regte kennis sal moet dringend aandag gee of is dit dalk al klaar te laat?
Die konflik met mense in Botswana was eintlik nie noemenswaardig nie, probleem leeus was ‘n klein breukdeel van die leeubevolking. Hulle moes eintlik van hulle self gered word omdat hulle te veel druk op die groot troppe geplaas het. Daar was met wetgewing verbied dat leeus van ‘n trop geskiet mag word. Trofee was net nomade wat of van plan was om troppe oor te neem of reeds uitgebyt was by troppe. Hulle deel van die teelketting was baie beperk en hulle was werklik oorbodig. Wyfies was nie geskiet nie tensy hulle baie probleme gegee het. Om probleme te voorkom moes die groot troppe gesond kon aanteel, en natuurlik kon leef. Wyfies wat al ‘n paar maal hulle welpies verloor het by oornames het dan weggedros van die troppe af en dit het wel probleem leeus veroorsaak.
Om dit te voorkom moes die nomade minder gemaak word, wat dan gesonde groot troppe tot die gevolg gehad het. ‘n Gesonde leeutrop in Botswana kon vier of selfs ses mannetjies wees met so veel soos twaalf wyfies en hulle welpies. Welpies sou aan al die wyfies drink en selfs in hulle jong lewe was daar ook ‘n orde. Te groot troppe moes te veel en te groot prooi vang en dan het die welpies wat onder aan die rangorde was honger gely. Van die troppe sou opbreek in kleiner groepe en dit was wat dit gesond gemaak het. Eintlik ‘n baie fyn balans wat gehandhaaf moes word. As wyfies sou gaan broei sou hulle van die trop weg beweeg vir so lank soos ses weke sou hulle alleen bly en dit was hier waar hulle baie kwesbaar was vir nomade. Van die wyfies sou in pare en selfs meer weg beweeg om hulle minder kwesbaar te maak. Hienas sou ook vir baie ongevalle sorg en ‘n te groot hiena bevolking het baie druk op leeus geplaas. Ons het nooit hiermee ingemeng nie, ek het wel vir ‘n wyfie wat vyf welpies gehad het by die Chinamba Heuwels af en toe ‘n rooibok geneem en sy het haar vyf welpies groot gemaak. Ek kon haar later weer herken toe sy by die trop aangesluit het.
Dit was net goeie praktyk om as daar nomade geskiet sou word te probeer om die hele trop te skiet, as een sou oorbly was sy kanse minder as nul om langer as ‘n week te leef. Ander leeus en hienas sou hom doodmaak en baie van hulle sou nader aan die bevolking beweeg waar hulle veiliger sou voel en dit het weer konflik met mense geskep. Ek het by die Makgadi panne eendag een geskiet wat net vel en been was weens ystervark penne, ek het hom net verlos en met weemoed verder gery. Uit ‘n menslike oogpunt kon die natuur soms baie wreed wees. Nadat leeu jag in Botswana toegemaak was, het die leeugetalle drasties afgeneem. Net soos in Kenia was hulle waardeloos, was in almal se pad en was eintlik niemand se onaantasbare eiendom. Leeutroppe is nie verder bestuur nie en die leeu was weereens sy eie grootste vyand. Blykbaar word daar nou weer leeus op ‘n klein skaal gejag en is die balans aan die herstel. Soos wat die Afrika Griep die bevolking takel is daar op die huidige oomblik ook weer ‘n diere migrasie aan die gang terug na die Caprivi en Zimbabwe. Dit is wat my geleerde vriende vir my se.
Ek was so ‘n ruk gelede by ‘n groot taksidermis onderneming en daar was drie pragtige leeumannetjies. Hy se hy doen so by die tweehonderd leeus per jaar. Een was ‘n wit leeu soos wat ons weet hulle in die Timbavati voorkom en dan ‘n geel mannetjie soos die Kalahari leeu en dan ‘n enorme een met swart maanhare tot onder sy pens. Daar was ook twee leeuwyfies by. Hy weet nie van waar hulle kom nie en sou my seker ook nie gese het nie. Laat ek onmiddelik se dat hoewel so ‘n groot deel van my lewe trofee jag ingesluit het, ek nie mal is oor trofee nie. Daarmee kritseer ek glad nie mense vir wie dit ‘n passie is nie. Elke mens het sy voorkeure in die lewe en dit staan n man vry om sy trofee teen sy muur te hang.
Ek het al met baie bewondering na van my vriende se trofee gekyk. Ek besit nie een trofee nie en is ook nie van plan om vir my te kry nie, dit is egter my smaak en my redenasie. Die spesifieke leeus is deur ‘n Rus geskiet en sy hele versameling was toe net gereed gemaak om verskeep te word. Ek het nie besef die Russe het so baie geld nie want sy rekening was meer as ‘n miljoen en ‘n half Euro’s. Daar was bykans van alles by selfs ‘n ystervark en ‘n rooikat en blykbaar was dit die derde jaar wat die mense vir hom werk doen. Of hy nou ‘n museum wil gaan stig in Moskou en of dit net sy passie is weet ek nie. Feit bly staan dat die leeus in Afrika geskiet is en dat iemand die geld gehad het om daarvoor te betaal. Volgens National Geographic is daar net in die V.S.A. meer as 30,000 leeus in private besit, leeus is dus nie skaars nie en word daar blykbaar ook oorsee baie leeus geskiet deur manne wat hulle in “Deepest Darkets Africa” met groot lewens gevaar gejag het. Net so terloops, die wereld rekord koedoe bul is vier jaar gelede in Texas op n “ranch” geskiet.
Verlede jaar was ek in die ou Wes-Transvaal en het die aand by ‘n gaste plaas geslaap en toe het ‘n koor leeus hoor brul. Ek wou weet waar die leeus was en die mense het vir my gese waar en ek is die volgende more soontoe. Ons het ‘n afspraak gemaak en op die plaas is ook restaurant en ‘n plek waar jy kan gaan trou as jy so mal wil wees en dan sommer posseer saam met die wilde diere van Afrika sodat jy die belangrike dag van jou lewe vir ewig sal onthou. Die eienaar het ons self teen betaling op ‘n toer geneem, ek het my as ‘n boer en ‘n jagter voorgestel en hy was nou ‘n boer wat onder andere ook met leeus boer. Nie ver van hom af nie is ‘n beesvoerkraal en hy kry van sy karkasse by hulle en dan het ek die weemoedige toneel gesien van ‘n horde perde en donkies wat in ‘n kamp loop wat ek aangeneem het geslag sou word. Van die perde was mooi diere maar was nou seker maar in die pad of hulle eienaars het groot geword en is dalk oorsee. Eens troeteldiere wat nou op pad was om leeukos te word. As ‘n boer verstaan ek al die goed en is ek ook maar in ‘n harde leerskool groot gemaak.
Hy het sy storie begin deur te se dat elke leeu wat hier loop een of ander tyd geskiet sou word, net soos ek met vee boer en hulle laat slag, boer hy met leeus. Daar was baie leeus en van die mooiste mannetjies wat ek nog gesien het. Hulle word net soos by stoeterye sekere mannetjies by sekere wyfies gesit en hoe meer imposant die maanhare en die grootte hoe beter die trofee. Toe hy nou hoor ek het ook leeus geskiet, het hy seker maar meer gese as wat hy moes.
Leeus teel baie goed aan in gevangenisskap, hy pas maklik aan in hokke en as hy genoeg kos het sal hy vreet en slaap en seker maar so tevrede wees soos wat dit kan kom. Dit was eintlik maar net ‘n leeufabriek net soos die twee plase langsaan ‘n bees en vark fabriek was. Ek het die man gevra wie sy leeus skiet en of hy nie met van hulle opgeskeep sit nie. Sy aanvraag kon hy nie aan voldoen nie en dit was weens valuta meeste buitelanders maar ook baie mense van ons land wat daar kom skiet. Ek wou weet hoe dit gedoen word en hy het my gaan wys waar ‘n hoe kamp was met elektriese drade en die hele onderneming was ingerig om een enkele leeu te kon uitkeer na die kamp van teregstelling toe. Daar kon die proffesionele jagter besluit of daar te voet of per voertuig in die kamp gegaan sou word en dan sou die leeu geskiet word. Die kamp het ‘n gedeelte bos in gehad en was seker ‘n paar honderd hektaar groot en daar was ‘n klompie kroes blesbokke in.
Ek wou nie in ‘n redenasie betrokke raak nie en het ‘n mate van boer tot boer gevoel gehad vir sy onderneming. Hy het by die restaurant by my kom sit en gese dat elke swarwitpens wat ek op die buurplaas gesien het ook geskiet sal word op een of ander stadium en ook die baie duur buffels wat te koop is en aan die einde van sy lewe gekom het. Hy het ook ‘n wildkamp met ‘n paar spesies in en elke dier wat daar gebore en groot word sal uiteindelik geskiet word. Hy het gepraat van mense wat hy ken wat by natuurbewaring se veilings renosters gekoop het teen ‘n sekere prys en hulle net ‘n maand later deur buitelanders laat jag het teen ‘n baie goeie prys, van hulle volgens hom vervyfdubbel. Dit was hulle eiendom en hulle kon met hulle maak wat hulle wou. Hy het my sy swartwitpens teelbul gaan wys, die was in ‘n kampie so groot soos ‘n tennisbaan, hy het so af en toe by die trop koeie gekom en sy tyd was ook verstreke want daar moes ‘n nuwe een kom. Dit was die nuwe era wildboerdey wat ek maar net van gelees het en nog nooit prakties gesien het nie. Dit was nou volgens hom soos die trofee jag van die toekoms sou lyk.
Nadat ek met my wildbewarings vriend gepraat het, het so ‘n paar aspekte wat hy genoem het in plek geval, die res sal seker maar vir my onbeantwoord bly. Daar is baie mense in die wereld wat geld het en ‘n passie het om trofee te versamel en hulle sal tot aan die einde van die aarde ry om die goed te skiet. Hoe en waar en onder watter omstandighede hulle geskiet word is nie ter sprake nie. Hy was bly om te hoor dat daar leeuplase was want dit kon die druk op natuurlike leeus wat onder drade deur gelok word verlig. Dit kon ook gebeur dat ‘n pes die natuurlike leeus tref en dan kon parke met van die leeus aangevul word. Hulle is reeds besig al vir ‘n klompie jare om siektevrye buffels naby die Kruger te teel om as dit sou nodig wees die park mee aan te vul. Die stroopdruk op natuurlike wild binne ons parke is soos hy vir my verduidelik het absoluut skrikwekkend.
Die bestuur van natuurlike leeus het vir my absoluut sin gemaak want vyf jaar na daarmee begin is was die leeubevolking in Botswana veertig present meer en die probleme met tagtig present verminder. Ons kon nie die mensdom wegwens nie en daar moes in harmonie geleef word met volhoubare benutting van die bron. Dit het gewerk en toe daarmee opgehou was het die getalle getuimel.
Die nuwe soort trofee jag soos die boer dit aan my beskryf het, dit sal nie vir my afgaan nie. Gaan ons nou K.I. geteelde buffels op tennisbane skiet? Of dalk ‘n 50” swartwitpens met glasoe ophang wat ook van ‘n tennisbaan af kom? Of dalk swartrooibokke of geel beeste of wit koedoes, almal kunsmatig geteel vanaf die voordeur skiet? Dit is ‘n enorme bedryf en elkeen het die reg om te teel en te skiet soos hy wil en die jagplekke raak skaars wat vrye wild aanhou. Dit gee kos en inkomste aan baie mense met ‘n bevolkings ontploffing wat die ruimte al hoe minder maak. Die wild bedryf is groot, baie groot en die aanvraag vir die spesies is enorm. Manne maak goed geld daarmee en ek gun dit vir elkeen. As dit pap reen moet jy skep en sluk. Miskien is dit soos dit gaan lyk in die toekoms. Dan kan ons nie meer praat van die jag van trofee nie.
Ek is die Goeie Gewer baie dankbaar dat ek in ‘n vrye Afrika met goeie wette en met die regte manne aan bewind te kon gejag het. Ek is dankbaar dat ek ‘n nat leeu kon ruik en dat hy teen my bakkie kon spuit terwyl ek binne die bakkie was. Ek is dankbaar vir die Afrika sonder heinings en drade en afwykings en mutasies wat net ‘n normale wereld was. Vir baie manne sal dit werk, ek is maar uit die oude doos, ek sou dit nie wou anders he nie.