Jongste aktiwiteit:

John Gleeson bly aan en n bekende bankier kom jag uit ons land
vir

John Gleeson bly aan en n bekende bankier kom jag uit ons land

Ons het baie min Suid Afrikaners gekry om te jag, in die aantal jare wat ek in Botswana was was dit net n paar. Ek het die man gevra of ek sy naam mag noem maar hy wou nie en sal hom dus Piet noem. Hy was n hele paar jaar voor my in dieselfde skool en het gelees van Harry Selby se konsessies en besluit om te kom jag. Hy het al baie groot wild in Afrika en ook in ons land geskiet en was nie n groentjie nie. Ek het hom op Makuku gaan haal met die bakkie wat die president vir ons gegee het en ons kon lekker in ons eie taal gesels. Ek is by Selby aan en ons het lekker gesels en die jagdatums opgedateer tot einde Mei en ek het die boesman projek vir hom gaan wys wat weer my asem weggeslaan het en die Katolieke het werklik hier by Makuku baie gedoen om die mense op te hef en is ook deur die VVO genoem as die voorbeeld projek vir Afrika. Hy kon nie glo wat daar in so n kort tydjie gedoen was nie. Ek het die Boesmans weer gaan besoek en die ou hoofman wat nou blind was het my stem herken en ons het so bietjies gesels. Hy wou weet hoe dit met Jeannie gaan en sommer net gesels en gevra hoekom sy nie lekkers gestuur het nie. Hy was werklik baie gedaan en ek kon nie sien dat hy veel langer kon leef nie.

Ek wou by Ben by die Gwai/Kavango konsessie hoor hoe sy trofee was want Piet wou net rekords skiet en ek was nie op datum met rekords nie. Hy het sy minimums gehad wat gewig en lengte betref en ek het nooit dit gewaarborg vir kliente nie. Selby was ook nooit hiervoor te vinde nie en het dit duidelik vir Piet uitgespel, hy sou nie skiet as dit nie na sy sin was nie. Ek was werklik nie voorbereid om deur n man wat ek geken het uit my eie land so gedruk te word nie en het dit vir hom en Selby gese. Luka en Katwindi was goed daarmee en ook Ben wat dit al vir jare gedoen het. Hy wou eintlik net n honderdponder skiet wat gewaarborg moes wees. Ben het my hier gered en gese dat hy ses maande in Botswana sou moes bly en elke dag moes jag om een te skiet en dat ons nie gewig waarborg nie. Krokodille kon ons kort op vyftien voet gee en leeus net n baie groot mannnetjie wat ek baie gehad het en luiperds ook groot mannetjies. Hy sou dus by my n leeu en luiperd skiet en by Jakkie n krok en n seekoei en ons sou kyk vir n swaar olifant bul. Buffels het hy al geskiet maar sou self besluit of die trofee die moeite werd was. Die man het baie vereistes gehad en ek het gewonder hoe lank ons sou oor die weg kom. Hy het op skool al n eenkant windgat houding gehad maar ek moet erken dat hy sy skatte met eie oordeel opgebou het. Ek sou hom vir Luka en Katwindi gee en hom laat loop dat hy daarvan geweet het, hy sou sy houding verander na baie kilo’s. Dit het met baie jagters van ver oor die water gewerk, dit sou hier ook moes werk. Hy het my taamlik veeleisend en vol draadwerk gelyk. Dit was die teenstelling met baie oorsese jagters. Luka het geweet hoe om met sulke mense te werk.

Ek het vir Piet aan Bees, die Batonka voorgestel en sy kamera het gerol waar die grote man met die kleintjie van Ben speel en waar hy vir Piet bo sy kop uitstoot soos n veertjie en gewys hoe hy alleen n drom diesel van die bakkie aflaai. Hy het nog n hele paar kragtoertjies uitgehaal en Ben het vertel hoe hy sy vrou gered het van n krok en Bees sy self aangestelde slaaf geword het. Hy het die groot foto van Bees afgeneem waar hy alleen n tsessebe bul dra en dit was werklik indruwekkend. Ek dink nie dat Bees self geweet het hoe sterk hy werklik was nie. Altyd met die assegaai by hom en naby Ben en klein Ben, kaal bolyf.

Honderdponders was skaars en op n gegewe tyd was daar seker nie meer as vyftig in Botswana nie, hulle het ook baie migreer en kon op enige plek wees en by enige konsessie. Ek het geweet dat by die Wankie konsessie by Noel ook af en toe sulke grotes deurgekom het van Rhodesie af maar jy was baie gelukkig om hulle te kry. Hy sou moes daar ook probeer. Ek het meer van hulle in die Delta gesien as op enige ander plek. Toe ek by Selby weg is na ses jaar is daar van dat hy in Botswana gekom het net agtien geskiet waarvan ons n paar geskiet het. Hy wou ook n 60” koedoe he en dit kon hy ten noorde van die Nxai panne skiet, daar was groot bulle. Lengtes en gewig was nie my sterk punt nie en die ewige najaag om die grootste en beste te he het my baie geirriteer. Komende van n man wat ek goed geken het was dit vir my nog minder aanvaarbaar. Hy het in Afrika groot geword en het al baie gejag en het geweet waarvan hy praat, tog het ons ook baie gejag en het geweet wat ons doen. Ek het werklik nie uitgesien na die jagtog nie en moet dit na al die jare nog teenoor myself erken. Ek het besluit om hom baie formeel te behandel met geen gunste nie, ons was nie afhanklik van jagters uit Suid Afrika nie. As sy houding anders was sou ek ook heel anders gewees het.

John Gleeson en sy twee manne was byna soos familie en hy het klaar gejag en sou net saam met my vleis skiet en rondry na die inwoners en die boesmans. Sy dokter het gese dat Afrika hom baie goed doen en hulle het genoeg medikasie gehad vir n lang tyd, hulle sou ook laat invlieg as dit nodig was. Hy het veral vir Jeannie baie geniet en hulle kon oor die VSA en baie dinge in hulle land praat, ek het nie altyd die tyd gehad om te gesels nie en was baie dae net te besig. Hy het vir alles betaal en Temba het baie kere vir hulle met n ekstra bakkie vergesel as hulle wou diere afneem of net in die park wou rondry en gaan piekniek hou en sommer van die gaste wou onmoet. Hulle was geensins in my pad nie en Jeannie het ten minste n draf vriend gehad. Hulle het elke oggend aan die binnekant van die basis se heining gedraf met die mak diere van haar wat saam gedraf het.

Saam met Piet het sy fotograaf gekom en hulle was dus net twee wat die een gaste huis gedeel het. Ek het hulle baie professioneel en formeel behandel en besluit om my afstand te behou en net as gewone kliente met meer formele optrede te behandel. Ons het by die huis gekom en ek het hulle die huis gaan wys en aan Luka en Katwindi voorgestel wat sy jagters sou wees en Selby het vir hom gese dat hulle die beste in Botswana was. Ek het hulle die kroeg area gewys en die swembad en aan die taksidermis mense voorgestel en hy moes sy smake en voorkeure aan die mense voorle. Ek het my hele personeel geroep na die dek toe en gese dat daar van alles baie sorgvuldig moes boek gehou word en ek wou elke more n staat sien wat alles weerspieel wat op hulle rekening was. My mense was verbied om enige geselskap aan te knoop en ek het spesifieke swembad ure vir hulle vasgestel. Die kroeg sou altyd oop wees hy moes net die klok lui en die sjef moes elke ete met hulle bespreek, ook dit wat moes ingepak word as hulle sou veld toe gaan. Ek het nie eens oor sy kalibers gepraat nie maar gesien dat hy n tas wat twee gewere hou gelaai het by die vliegtuig na hy gekla het dat daar nie mense was gehelp het met die oorlaai nie. Ek het self gelaai soos by alle kliente wat ek ontvang het. Dit was n ongemaklike situasie maar dit was so deur die klient verkies. John het gese dat hy n snob was en ek het stil gebly en wou niemand bespreek nie.

Ons het die aand baie formeel sy jag met Luka en Katwindi bespreek, hom vertel hoe ons jag na ek hulle ingelig het wat die agtergrond was. By my dek het ek n bordjie “privaat” laat opsit want dit was vir my gebou deur die firma wat die basis gebou het. Die res van die basis was buite perke vir die twee. Daar was n jagfooi vasgestel deur Selby vir elke dier op sy lys. Dit moes binne 14 jagdae afgehandel wees en elke dag daarna sou hom baie van sy skatte kos. Hy sou betaal vir alle ekstras. Hulle sou ry tot by sekere punte en van daar loop op spore en hoop vir die beste. Of hy sy trofee’s sou kry of nie, hy was verantwoordelik vir die betaling van die volle bedrag soos hy en Selby ooreen gekom het. Hy wat in n Afrikaanse skool was het sekere terme nie verstaan nie en ek het so goed as moontlik probeer verduidelik. Ek kon sien dat Selby sy pryse gelaai het en het stil gebly. Katwindi en Luka sou n radio saam dra en my min of meer verduidelik waar hulle was as ek hulle moes kom haal of terug ry na hulle voertuie toe. Hulle sou begin met die olifant en die koedoe binne die park se grense en my laat weet in watter rigting hulle jag elke dag. Dit was somer en dit het vroeg lig geword en daar moes teen vieruur in die more geroer word.

Ek was op my dek die volgende more toe hulle die twee bakkies laai en vir Jas saam neem, die ander twee moes by my bly. Jas kon Matabele verstaan en hy sou ingelig word. Die taksidermis was op bystand en hy sou ook met die radio met Luka praat. Ek het n sug van verligting geslaak en my koffie begin drink toe hulle die basis uitry. Ek en Jeannie en John en sy gevolg het na Jakkie toe gery langs die Linyati, hy het familie van die bekende Kerry Packer uit Australie gehad vir n jag en hulle wou die dag afle nadat hulle baie goed gedoen het die vorige dag en ek het gereel dat Monica en Kabous ook daar sou wees en ons sou met die boot uitgaan en vir John die mooi rivier gaan wys.

Ons het vroeg gery wat maar altyd die mooiste van die dag was en die diere was aktief want ek het geweet dat daar na die oostewind sou reen kom, hy het al vir drie dae gewaai en die wereld was droog vir die tyd van die jaar. Baie wild en baie soorte en ek het net my 416 saam geneem vir dit wat dalk sou nodig wees. Ek was net n ent weg toe Selby op die radio roep en sy gebruiklike kerrie gooi oor die bankier uit my land uit. Ek het hom gese dat n man met goeie maniere baie minder betaal as een daarsonder en daarmee afgesluit, hy sou sy honderdponder by hom in die Delta moes skiet as ons hom nie kon help nie. Hy het byna die mikrofoon afgebyt soos die kerrie oor die radio geloop het. Hy het hom as arrogant beskou, ek het geweet dat hy sou moes loop vandag en dat hy nog sou nat reen ook. Dit kon my min skeel, Luka en Katwindi sou hom maniere leer, daarvan was ek baie seker. Ek het by die jagluiperd aan gery wat Temba gevoer het met die ses kleintjies en vir haar vleis van die huis af gebring, die stuk rietbok wat ons nie gebruik het nie. John wou nie glo toe ek die toeter blaas en sy op die masjienkap kom spring nie. Ek het die vleis vir haar gegee en sy het lank daarmee in die bek gestaan en kyk en die ses klientjies geroep, sy kamera het gerol soos byna nooit nie. Hy het aan haar gevat en sy het daarvan gehou, hy was werklik in vervoering. Hulle kon baie mak word en ek kon hulle nooit skiet nie en het n groot jammerte vir die wyfie gehad, om ses kleintjies groot te maak was nie maklik in die wereld waar dit gewemel het van roofdiere nie. Ons het haar drie bokke per week gevoer.

Die Linyati was soos altyd baie mooi en die water het hoog gele en ek het geweet dat daar altyd iets van my by die rivier sou wees. Ek was byna 20 maande van my lewe hier en het die area baie goed geken en die trassie buffel en die zebra was daar met die vlakvark en Jeannie was in vervoering oor hulle. Die neushorings het weer gebroei waar hulle elke jaar gebroei het en ek en Jakkie en Kabous wou net gou weer besigheid praat om te hoor of alles nog reg verloop. Alles was by die rustige mense reg en Kabous se oewer “Lodge” het baie ver gevorder en ek wou op die water gaan met John voor dit sou reen en ons is rivier toe. Op die rivier was baie herinneringe van my en n mate van hartseer het my so effe gevang, ek was so gelukkig hier langs die Linyati en het dit werklik gemis. Die water was baie naby my loodsboomstam waar ek so baie emosies moes verwerk en die visarend het seker geweet dat ek daar was. Hy het my welkom geheet. Ons het hier teen net voor 12 so n ligte sjampanje ete gehad wat Naomi en Monica vir ons gegee het en John kon nie ophou met rolprente maak nie. Die blasende seekoeie en die olifante wat swem en die grote krokke en hier en daar n otter en die kleurvolle byevangers, wonderlik mooi soos altyd.

Daar het van die noorde se kant sulke lang vaal reenbuie gekom en ons kon die reen ruik en die visse het gepring uit die water uit en ons moes huis toe gaan. Ons het eers vinnig in die swemhok geswem en vir Kabous ook daar in gewerk en het sopnat gereen by die die huis aan gekom, net betyds want toe stroom die water uit die lug uit. Ek het gereel dat ons daar sou slaap en ek kon weer in my ou kamer gaan le die aand. Net so vinnig soos die reen gekom het was dit weer verby en Jakkie het 77mm gemeet en toe die son weer uitkom het hy soos gewoonlik dooierus gevat en was dit warm. Ons het langs die swembad en by die kroeg area gesit met Jeannie met die alewige diere om haar en ons het gepraat oor Jakkie se konsessie en Kabous se jagte en toere en hulle dinge was werklik baie agtermekaar. Selby was nog laas by hulle toe ek daar gebly het, hy het net op die radio geblaf elke dag en sy dinge het glad geloop. Jakkie het wat my betref n groter sukses van die konsessie as ek gemaak. Tog het hy nie so baie hooi op sy vurk soos ek gehad nie en kon al sy aandag aan die jagtery gee. Ek moes te veel stoele warm sit en kon nie al my aandag elke dag gee nie. Jakkie was n gebore skut en jagter en met sy kalme geaardheid het hy dit oorgedra na almal rondom hom. Ons het oor die bevolking en hulle gesaaides en hulle vleis kwota gepraat en hy het my op datum met alles gebring.

Ons het die leeujag waar ons die vyf mannetjies en die wyfie geskiet het in diepte bespreek en hy het ons geloof, hy sou dit nie gewaag het nie en ook nie met n klient nie. John het gese dat hy niks gehad het om te verloor nie. Ons het oor die boordery gepraat en sy pa wat so hard op sy broer was oor hy opgeskop het. Hulle het al nader aan Nyati geboor en ek sou meer aandag aan sy broer gee. Hy en Kabous het werkilik n baie goeie besigheid bedryf en veral met Kabous se sake kennis en kontakte het hulle baie vermag. Ons het oor die bankier gepraat en ek het hom ingelig want die man wou sy rekord krok en miskien n seekoei skiet by Jakkie. Jakkie wat so nederig en ongekunsteld was het geweet hoe om ongeskikte mense te hanteer. Die reen was verby en die son het gesak in die weste en hy het vir John genooi om saam te ry na sy soutlekke toe. Ek en Kabous het in die kroeg area gesit en geld gepraat en sy planne bespreek vir sy oord langs die water.

Katwindi het op die radio geroep en my die blye tyding gegee dat hulle n koedoe gekry het na die man se smaak, dit was noord van die Nxai panne soos ek gese het en die man het twee geskiet wat oor die 60” was. Hy het ook gevra vir n eland. Ek het die pryslys gesien wat Selby aan hom gegee het en hy kon maar n bul skiet wat aan sy standaarde voldoen, hy moes self die lengtes skat en tevrede wees as die bok dood was. Katwindi het gese dat hulle n baie groot eland bul gesien het en dat hy sy spoor sou neem die volgende more. Hulle het olifante gesien en ek het ook die ander konsessies laat weet om op die uitkyk te wees vir n honderd ponder. Ons het Matabele gepraat en ek wou weet hoe dit gaan met die bankier, Katwindi het gese dat hy baie moeg geloop is. Dit het my laat glimlag, sy eland wat hy nie bespreek het nie het nog voorgele, hy sou dan sien wat loop beteken. Ek het elande geken, as hy begin draf het hy nie opgehou nie.

Jakkie en John het terug gekom van die soutlekke af en John het n baie mooi bosbok, puku en n rietbok geskiet. Ek het geweet dat Jakkie hom nie om dowe neute saam geneem het nie. Hy was in ekstase en die kamera moes weer rol en die opnemer sy werk doen. Die manne van Australie het die man net so geniet want hulle het sy omstandighede geken. Hy het omtrent breedvoerig uitgebrei oor die bosbok veral want dit was n mooi bok. Ek het hom geluk gewens met die puku, ek was meer as twee jaar in die land en het nog nie een geskiet nie. Dit was naby donker word en Jakkie het hom genooi om te kom saam draf en die twee is kaalvoet met Jakkie met die geweer oor die skouer by die kamp weg. Die dokter het met my kom praat. Die laaste bloedtelling van die man het baie verbeter en die feit dat hy aktief was en aan die gang gehou was het baie in sy guns getel. Ek het gevra wat sy prognose was en die dokter het gese dat dit elke dag vebeter maar dat ons hom weer net een dag moes afgee vir erge behandeling. Ek het gevra of ek met hom daaroor kon praat en hy het instemmend geantwoord. Ek kon aan sy opgewekheid sien dat hy beter word en het dit maar aan die jagtery toegeskryf.

Monica en Naomi het die aand, wat n baie mooi aand was vir ons almal baie heerlike kos gemaak en ek kon met die Aussies oor hulle land praat en veral oor landbou toestande en veeboerdery. Hulle was in die televisie bedryf en meer oor sport en ons kon krieket en rugby ook praat. Een van hulle, Brian Weir het vir Australie heelagter gespeel in hulle 1969 toer na ons land toe. Baie aangename mense en hulle het klaar n jag vir oor ses maande bespreek en wou met alle geweld langer bly. Dit kon nie, Jakkie en ek was vol bespreek en kon nie meer mense inpas nie. Hulle het nog tien dae by Kabous se plek wat half klaar was gebly. Baie aangename mense wat my net laat dink het aan Engels sprekendes in ons land. Hulle het ons almal genooi om n maand te kom na hulle land toe en ek het dat Jeannie hulle nommers en adresse afskryf, ek wou baie graag soontoe gaan. Ek het werklik met heimwee aan my tye langs die Linyati gedink en in n mate vreeslik verlang na die rustigheid wat ek hier geken het.

Ek het vroeg die volgende more op my boomstam gaan sit en gewonder wanneer ek weer die Linyati sou sien wakker word. Die bospatrys het met haar vyf kuikens tot bykans by my gekom en is skarrelend oor die wit sand weg en die visarend het my weer gegroet en ek het na die noorde, die Caprivi gekyk en gewonder wat daar aangaan. Die seekoeie het gesnork en ek kon die getrompetter van olifante hoor en weste kant toe teen die rivier op het leeus gebrul. Dit was hier waar ek my drome vir Afrika so baie en so eensaam probeer laat waar word het en ek was baie dankbaar want so baie het waar geword. Hier het ek gebid en gedroom en beplan en baie male met my self gewroeg. Ek het noue onderhandelings hier uitgewerk en my Ma en Pa het saam met my koffie op die stam gedrink. Ek was hier hartseer oor my vorige meisie en het baie diep besluite geneem oor my toekoms in n vreemde land. Ek en Jeannie het met haar eerlikheid wat sy in siel kom rongrawe het ure hier deur gebring, ek het vir haar op die stam gese dat ek lief is vir haar. Ek het my oe toegemaak en gebid en huistoe geloop.

Jakkie was soos altyd besig met sy oggendparade met sy mense en hulle het my hartlik gegroet en vir my gesing, Naomi het hulle geleer sing. Jakkie se hoof boesman was Naartjie en ek en hy het saam by Selby begin jag. Hy het vir almal vertel van die pak slae wat hy en Mark by Selby gekry het toe hulle vir n olifant vers weggehardloop het wat ek moes skiet. Ek het gevra vir vleis vir die wilde honde en hulle sou twee seekoei boude stukkend maak en in sakke in my stasiewa laai. Ons het gegroet en ek het die noorde verlaat en geweet dat ek weer n wegloop plan sou maak om die Linyati weer te sien. Ek wou by die konsessie aanry waar die olifant die man destyds dood gemaak het en net n roetine inspeksie doen namens die staat en n verslag opstel en dan terug gaan na Nyati. Hulle plek was opgegradeer maar nog steeds baie primitief en hulle het Spanjaarde gehad vir n jagtog. Ons het lekker gesels en alles van die verlede vergeet en hulle wou my graag besoek by my nuwe basis. Ek het n huis oop gehad in die Katolieke gedeelte en hulle genooi om die selfde aand te kom want ek kon nie my beplanning altyd by die onvermydelike in pas nie. Hulle was vier wat net n aand sou oorslaap en kom kyk na die nuwe plek. Dit sou ook goeie Engelse geselskap vir Bruce Kinlock wees.

Ek moes van die pad af weg draai na die wildehonde toe en het gewonder of die trop by die nes sou wees en vir John gewaarsku om sy afneem gereedskap reg te kry. Temba het die honde gereeld gevoer en hulle was glad nie sku vir bakkies en mense nie. Ek was nog ver van die nes af toe begin die trop hardloop langs die bakkie en as ek sou stop het hulle gespring om binne in te kyk. Ek het gewonder hoeveel rolle film die man gehad het en by die nes hulle gewaarsku om nie uit te klim nie. Die vleis was in stukke gekap en gesaag en Temba het my gewaarsku dat hulle ongeskik raak as hulle vleis ruik. Ek het die bakkie agteruit gestoot tot naby die nes en uitgeklim. Hulle was op n stadium baie lus vir my maar na ek die eerste stukke gegooi het was dit chaos en kon ek die hele klomp aflaai met honde wat bykans tot teen my was. Ek het hulle dopgehou met die kleintjies wat al byna speen ouderdom was en hulle weer getel en hulle was nog steeds vyftien met dertien groot honde. Dit was maar een van net vier troppe honde wat ons in die Chobe van geweet het. Ek was seker dat daar nog was en dit vir Bruce gese. John was baie bang dat ek sy trofee vir die honde sou voer en het gekeer vir die vale.

Ons het net begin ry teen omtrent drie uur toe Luka roep en se dat hulle die eland gekry het en die lengte was reg en blykbaar lank genoeg. Hulle het sewe ure op sy spoor geloop en vir Temba gesoek om hulle naby die Drieling Kremetarte te kom haal. Ons het Matabele gepraat en hulle het gese dat die man blase het op sy voete en sy lieste was deurgeloop. Hy was baie tevrede en hulle sou byna donker eers by die huis kom en ek moes reel met die slagters. As hy tevrede was was ek ook tevrede. Dit het net te vinnig na my sin gegaan. Twee dae se jag en drie bokke was amper te goed om waar te wees.

Die Engelse konsessie se mense het opgedaag en ek het vir Bruce laat roep en ons het op die dek gaan sit. John het kom verskoning maak, hy moes eers weer gif en versterk water in sy are kry en sou nie die volgende dag draf of gesels nie. Hy het net weer vir ons kom bedank. Piet en Luka het met die een bakkie opgedaag en n rukkie later die ander bakkie met die eland op. Dit was n baie mooi eland en baie mooi horings en hy is in die slagstoor afgelaai en Piet het my stel buffehorings gesien. Ek het die horings by leeus opgetel toe ek die boordery gaan besoek het en hy was in ekstase oor hulle. Hy wou weet wat hulle kos en ek het n enorme prys gevra, hy wou weet of dit n kuip insluit en ek het dit bevestig, hy moes dit net self skiet. Ek was die leeus dankbaar vir hulle fooitjie aan my en het geweet dat Piet vir n paar dae nie sou loop nie.

Ons was op die dek aan die gesels en Piet in die kroeg en eet area en ek het verskoning gevra en by hulle n draai gaan maak om te hoor of die bankier tevrede was met sy diens wat hy gekry het. Hy was baie tevrede maar sou nie kon loop nie en ek het gese dat ons n dokter van John by ons het en ek kon selfs nonne stuur om sy lieste in te smeer. Hy het baie duur whisky laat haal en my baie bedank vir die spesiale diens maar eintlik die buffelhorings. Daar was nie nog so n stel horings wat hy van geweet het in ons land nie. Ek het sy whisky geniet en nog gesels en hy wou net twee dae rus en het weer oor die horings gepraat.

Ek en Jeannie het die aand gele en praat oor die man en sy behepdheid oor lengtes en groter wou wees. “ Pine small things amuses small minds.” Ek dink sy was reg en het nou die dag weer die leeus se horings gesien met n televisie ondehoud en hulle na al die jare herken .

2 Maart 1978.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed