Jongste aktiwiteit:

Les Holloway se buffel
vir

Les Holloway se buffel

Ek het soos gewoonlik weer vroeg op die dek gaan sit en oor die watergat gekyk, daar was altyd diere van baie spesies. Katwindi het met die koffie gekom en ek en hy het die jag van die twee Amerikaners bespreek. Ek was werklik te besig om saam met die manne te jag. Toe ek na die Nyati toe getrek het weg van die Linyati af het ons besluit om nooit by die basis te skiet nie. Daar was enkele mambas geskiet met die haelgewere maar selfs die skietbaan was vyf kilometer weg op die westelike vloedvlakte. Diere moes nie hier gepla word nie en dit moes werklik n plek van vrede wees vir hulle. Die water plek was mooi en as dit nie gereen het nie was dit al water in n redelike groot gebied. Ons het ook weekilks sout gevoer wat die diere geniet het en ook gelok het, die gebied was arm aan sout en hulle het hulle tekorte hier kom aanvul.

Die stadige migrasie was aan die gang uit die suide uit en alles het met kleintjies geloop en rustig noorde toe getrek. As n mens so lank sit en diere dophou leer jy later hulle lyftaal ken en weet jy as leeus dik gevreet is en die prooi weet dit ook. Rooibokke sou dertig meter weg van leeus drink as hulle nie bedreig gevoel het nie. Daar was n paar kere diere gevang by die watergat maar gewoonlik maar in die nag, vir my was dit nooit mooi om te aanskou nie. Dit was die natuur op sy beste maar ek het nie gehou van hienas wat stukke uit diere ruk nie en dit gewoonlik probeer vermy. As leeus n buffel verwurg het en begin vreet het aan hom terwyl hy nog leef dan het dit my ontstel. Ander mense het dit verfilm, dit was nie vir my nie. Ek kon nie die mooi daarvan raaksien nie en het my uit die voete gemaak as dit gebeur. Ek moet erken dat ek n hele paar kere ingemeng het want n skoot deur die kop was vir my die mooier en meer genadige keuse. Daar het vier ou buffelbulle kom drink en die een se agterbeen het gesleep, ek het dit al n paar kere gesien. Die ou manne het ook maar geskrum en dan het baie van hulle heup beserings gekry. Dit was n hele paar ton vleis en spiere en baie dik bene wat se kragte teen mekaar te staan gekom het, iets moes na so vele jare ingee en dit was gewoonlik die agterbene. So n ou man het swaar geloop en was gewoonlik binne dae leeukos gemaak.

Dit was n baie groot bul en Les moes nog n bul skiet. Ons het Matabele gepraat en ek het gese dat hy maar vir Les vir my moes gee die dag en met Tom Hanks gaan jag dan sou ek die ou bul se spoor vat en gaan skiet want hy het baie groot horings gehad. Die ou bul sou nie ver loop nie en sy spoor sou maklik wees om te volg. Hy het vir Les gaan roep en ek wou net by hom seker maak of hy in so n beseerde dier sou belang stel. Hy sou baie ver soek vir n groter stel horings maar kliente het ook hulle dinge gehad en baie sou nie so n bul wou skiet nie. Les het gekom en ek het hom die bul gewys wat vyftig meter weg was en verduidelik dat ons nie by die water of naby die basis jag nie. Ons sou sy spoor vat en hom skiet waar hy ook al was. Dit sou eers later die more wees as hulle ver weg gewei het.

Ons het vir Jeannie dopgehou wat al teen die binnekant van die heining gaan draf het met die twee rifrug honde en die dik-dikkies wat ook saam gespeel het en die gebande muishond wat alewig aan die grawe en soeke na iets was wat net sy van geweet het. Les het haar geken van toe sy nog klein was en hy kon nie uitgepraat raak hoe gelukkig sy was nie en hoe makilik sy in die verre land aangepas het nie. Tom Hanks het ook kom gesels en gese dat hy baie moeg gaan wees na die jagtog want hy kyk net diere en slaap byna nie want hy is bang hy mis iets. Dit was werklik baie mooi by die watergat van Nyati. Die kameelperde het kom drink en hulle het gou n manier uitgevind wat makliker was as om so ongemaklik wydsbeen te staan. Omdat dit n sement vloer was het hulle halflyf in die water geloop en dan rustig gedrink. Ek sal altyd n baie spesiale plek in my hart vir die ou lang nekke he en het maar die jag van hulle op ander manne afgeskuif. Sy kalfie was vir my van die mooiste diere in Afrika.

Jan Hugo was nog by my en sou die dag sy huisraad gaan haal en afsluit op Tsukudu en ek en hy het lank oor die boesmans gepraat. Ek het werklik niks van die nasie geweet nie, net gesien hoe hulle verwaarloos word en baie male vir hulle eie ondergang verantwoordelik was. Ek het die kaarte wat ek gehad het met waterpunte vir hom gegee en vir my die belangrikste gedeelte om mee te begin was om die mense gedokumenteer te kry. Hulle het onuitspreeklike name gehad en hulle gewoontes was vir my heeltemal vreemd. Onder mekaar het hulle blykbaar in vrede geleef en nie mekaar dood gemaak of enige aggressie getoon nie. Dit was maar teenoor die Tswanas wat hulle n wrok gekoester het en ook sou hulle vee steel.

Een van die beloftes wat die president gemaak het was dat alle prisoniers wat in die tronke was vrygelaat sou word en eers deur ons kliniek moes gaan en dan weer by hulle groepe moes aansluit. Sulke parole mag net binne die parke gewoon het en sou weer tronk toe gaan as hulle die parke verlaat. Die tronke was absolute hel vir die stomme mense want weer was hulle in die verre minderheid en weer die slawe van almal. Jan het hulle verstaan en hulle taal was ook die eerste taal wat hy en sy vrou as kinders kon praat. Beide was natuurbewaarders en het dus geweet wat in die veld aangaan. Bruce Kinlock wat die hoof van natuurbewaring was het ook kom koffie drink en ek het voorgestel dat Jan Hugo net op die boesmans en die swart renosters moes werk. Ons het nie n idee gehad hoeveel daar was nie en Jan wat baie male die nomade sou gaan besoek moes die pos van renosterbewaarder ook vul. Ek het die motivering vir die boesmans by die president ingekleur met die renoster bewaring as die hoofdoel. Die boesmans sou ons kon inlig waar hulle voorkom en ons sou n tipe sensus kon doen. Elsabe was n baie aangename mens en het gekom van die Tuli blok in die suide van die land en sy is ook aangestel saam met haar man. Hulle het n driejarige seuntjie gehad wat ook Jan was en die knaap het vir my en Jeannie ure probeer om die Nama taal te leer, hy was nie baie suksesvol nie. Ek was baie mal oor die klong en het hom geleer .22 skiet en om die twee rifrugte te ry soos perde.

My boesmans het by die asgat gedeelte gewoon en iemand moes hulle loop haal elke more want daar was gedurig leeus by die watergat en ek het later vir Jas genoeg vertrou om met die bakkie saans huistoe te ry en weer die more terug te kom. Vir hom het n bakkie net een rat gehad en dit was die eeste een wat kon vorentoe gaan. Hulle was geensins meganies aangele nie maar niemand het n geweer beter skoon gemaak as Jas nie. Ek wou my dood lag toe hulle die eerste maal probeer fiets ry. Hulle kon nie verstaan dat ek kon fiets ry en hulle nie. As ek nie gejag het nie was hulle besig in die basis om tuin te maak of om by die kliniek te help om versorging te doen. Hulle liefde was maar die veld en om te jag was byna soos die ou oerinstinkte wat net weer in werking sou kom. Dit het my n paar maande geneem om hulle te leer om n pap band af te haal.

Les was n geweersmid in sy eie land en hy het met drie gewere gekom maar vir die buffel wou hy die 500 NE gebruik wat hy met 400grs gelaai het. Dit was n dubbel gebou op n Krieghoff aksie en elke loop het sy eie visiere op gehad wat vir my baie sin gemaak het. Dit het nie so mooi gelyk nie maar was baie effektief. Hy wou nie met 500grs skiet nie en ek het met die geweer geskiet in die VSA en vir my het hy taamlik geskop, meer as my 416. Ons is eers skietbaan toe en hy het goed gedoen daar en is toe op pad terug oor die vloedvlakte n baie groot vlakvark gekry. Almal wou n mooi vark skiet en hoewel hy dit nie geboek het nie sou ek hom die vark persent gee as hy nie wou skiet nie. Hy wou baie graag en kon nie glo dat hy vergeet het om aansoek vir een te doen nie. Ek het al baie varke geskiet en geweet dat sy oe nie so goed is nie maar sy neus maak op daar voor en met sy twee radars langs sy kop is daar gewoonlik nie fout nie. n Groot deel van die vloedvlakte was gebrand en dit was op hierdie nuwe groei wat die varke geloop het.

Die ou man was alleen so op die kant van die brand en verder weg het nog varke geloop. Dit was n kaal wereld en ek het hom my 338 met die teleskoop aangebied maar het het gese dat as hy nader as 150 meter kan kom dan sou hy sy skoot kon merk. Daar was nie gevaar van ander diere nie en ek het vir hom en Jas gestuur na die vark wat so vyfhonderd meter van die bakkie af was. Hulle sou moes baie goed bekruip en Jas was goed daarmee maar hy kon nie n letter Engels praat nie. Ek het vir Jas gese om die vark te gaan bekruip saam met Les en ek sou by die bakkie wees as daar dalk leeus of ander gevaarlike goed naby kom. Hy moes net vir Jas volg. Dit was die eerste maal dat Jas alleen saam met n klient gejag het en ek sou dit nie gedoen het as die daar net meer dekking was nie. Hulle is by die bakkie weg al gebukkend, die deel wat nie gebrand was nie was maar net knie hoogte en Jas het sy assakkie gehad om die wind te toets. Hy het al “hogs” geskiet in sy land en die skootplasing het ek vinnig met hom bespreek en dit was nogal koddig om n slag die toeskouer te kon wees van mense wat jag. Hulle kon nie baie ver deur die lang gras gaan nie want die wind het dit nie toegelaat nie en toe moes hulle die gebrande deel vat.

Die laaste meer as honderd meter was die wereld kaal en ek het met Twenty en Sixty op die dakrak van die bakkie die twee dopgehou deur my verkyker. Hulle was later hande viervoete en Les het sy geweer onder sy bors gehang en Jas het sy sakkie aanhoudend geskud. Dit het maar stadig gegaan want die vark was op sy kniee en het reg in hulle rigting gewei en as die vark opgekyk het het hulle gevries. Voor hulle het kiewiete geraas en later opgevlieg en ek het enige oomblik verwag dat die beer sou wegvlieg in hoogste rat. Ek kon nie die afstand tussen hulle en die vark skat nie want hulle was byna reguit in lyn met my en ek wou ook nie die bakkie roer en dalk hulle kanse bederf nie.

Die opmerkings wat veral Sixty, wat byna nooit gepraat het nie, gemaak het was vir my baie koddig. Ek het besef hoe min ek eintlik van my eie mense weet en hoe goeie sin vir humor hulle het. Hulle was seker goed vir n halfuur besig agter die vark toe Les gaan sit en ek kon sien dat hy regmaak om te skiet. Dit het gereen en daar sou nie stof uitslaan nie en sy skoot het vir my lekker nat geklink en ek het nader gery. Vlakvarke wat gekwes was kon baie ongeskik word maar die vark het gele toe ons by hulle stop. Beide van hulle was swart van die roet en die gebrande veld maar hy was baie trots op sy vark. Botswana het nie baie mooi varktande gehad nie weens die tekort van Kalsuim maar die een was werklik besonders en ek het laas die grootte in die Xai- Xai panne gesien saam met prof Fritz Elloff. Hulle het daar beslis groter tande as hier in die noorde gehad.

Ons het die vark gelaai en by die slagstoor gaan aflaai en gou iets geeet want ek wou die kruppel buffel gaan opsoek. Brian, my huishulp het kom vra of hy kon saam gaan want hy was lus vir jag. Ek het hom my ander 416 gegee en gewonder of Katwindi met hom gewerk het want hy was nog laas bang vir n toorstorie toe ons saam gejag het. Katwindi en Luka was weg met Tom Hanks om n swartwitpens te gaan skiet en ek het die ekstra jagter waardeer. Dit was vier buffels en hulle was soos altyd maar onvoorspelbaar en die ou manne wat so lank saam geloop het, het na mekaar omgesien. Ek was al n paar kere geskraap deur gesonde buffels as een sy doodsbrul gegee het of as hy sy maters geroep het. Dit het veral gebeur waar die leeubevolking baie dig was en hulle mekaar al n paar kere moes bystaan. Toe hy bykom het ek vir Sixty en Twenty gelos om die vark klaar te slag en vir Jeannie gese dat sy ons met die bakkie moes kom haal en ek het n handradio geneem. Die boesmans kon ons spoor lees en sy kon net daarop ry. Hulle moes die beervark ook vir die siek boesmans neem as hy klaar geslag was. Dit was die eerste maal dat ek nie met n voertuig by Nyati weg is om te gaan jag nie. Dit het by die Linyati gebeur maar nog nie hier nie.

Die watergat het soos n niervorm al onderkant die basis gele en hoewel daar baie spore was het ek gou die ou man s’n gekry en hy het reg suid-oos gehou in die rigting van die oostelike vloedvlakte. Ek het geweet dat buffels nie in die oop gebiede sou loop as een beseer was nie want die leeus was te volop en hulle het reg in die rigting van die koorsbome gegaan wat redelik ruig was maar ook die vorige jaar gebrand het. Dit was altyd vir my hartseer dat so n ou bul moes pyn he die laaste gedeelte van sy lewe. Hy het die been bykans gesleep en sy maters het volgens die spore vir hom gestaan en wag en hulle sou nie te ver gegaan het nie want hy het volgens my stadig gevorder.

Ek en Brian het voor geloop en in Matabele gesels en die spore gelees en sy kennis het my verbaas, hy het al gejag maar was n stil man en ek moes alles uit hom uit trek wat ek wou weet. Dat hy kon skiet het ek geweet maar wat hy sou doen as dinge warm word het ek nie geweet nie. Hier suid van die basis en so naby die water was baie wild, en baie soorte en vir die eerste maal kon ek die spore van jagluiperds kry met kleintjies. Hulle het meer suid van die Chobe voorgekom en was meer vir die oop vlaktes gemaak. As hulle keintjies gehad het sou hulle ook die ruigtes opsoek want baie diere het hulle bokke gesteel waar daar min skuiling was. Ons het seker drie kilometer geloop en dit was warm en Jas het die water gedra toe ons op mis afkom. Die mis wat net soos n bees sin lyk was nog effe warm maar reeds n lagie gevorm soos die son gebrand het en die fyn vliegies en die miskruiers was doenig met die hoop. Die buffel het ook water afgeslaan hier en dit het begin droog word bo-op en ek het geweet dat ons moes aanstoot.

Ons het die rand van die koorsbome gekry en sou nou beter kon spore lees want die gras groei nie so hoog onder die bome nie en is meer platgetrap soos die diere skaduwee opsoek. Dit was egter meer ruig en uit ondervinding het ek geweet dat buffels in die ruigtes maar altyd eerste van jou weet en nie andersom nie. Die sleepspoor was nou baie varser en ek het gaan sit en seker gemaak dat die gewere reg was en met Brian in sy taal gepraat en gese dat hy ons moes beskerm, hy het geantwoord dat hy al baie buffels geskiet het, baie wat gestorm het ook, hy was nie bang nie. Dit het my meer tevrede gemaak en ek het besluit om self die jag te lei met Brian langs my. Die volgende mis was baie vars en die wind nog steeds reg want hulle het reg teen die wind gewei, hulle was lief daarvoor waar leeus lasting was.

Die bome het so dertig meter van mekaar gestaan en ons kon goed sien onder die takke deur en Brian het my aan die skouer gevat en afgedruk. Die bul was aan sy linkerkant en het reg weg van ons geloop en weer was ek verbaas want ek was op sy spoor en hy moes iets waargeneem het en op sy spoor gedraai het. Ek wou ten minste langs die bul kom want n skoot van agter het gewerk maar was vir my altyd n lafhaard skoot. Ons het regs begin draf en langs n koorsboom vir Les gese om sy skoot te skiet. Dit was reg op die blad op dertig meter en die ou het geswik en gaan le. Ek kon die ander bulle nie sien nie en het gese “Hit him again” en sy tweede skoot het die bul omgegooi en hy het sy brul gegee. “Reload, where are the others? They will definitely come for us, this is their favourite territory, be ready.”

Ons het net daar waar ons was bly staan want dit was ruig naby die bul en ek wou nie in die ruigte gevang word met drie kwaai bulle nie. Ek het dat ons vyftig meter weg loop na ons regterkant toe waar dit meer oop was want ek was seker dat die ander drie ons nie sou los nie. Ons het onder die boom gaan sit en doodstil gebly. Ek kon n kwevoel en renoster voels hoor wat kwetter anderkant die bul maar dit was te ruig om iets te sien. Ek het my pyp opgesteek en die rook het weg van ons af gewaai en ons het water gedrink. Ek was bykans seker dat die ander bulle naby was en wou nie na die dooie een toe gaan nie. Ek was nie verkeerd nie en seker n halfuur later het die drie soos skimme opgedaag en die ou man beruik en gebrul en toe soos een deur die ruigte weggestorm. Ek wonder vandag nog of hulle ons sou geskraap het as hulle ons kon sien by die dooie bul. Ek het vir Jeannie op die radio geroep en sy was reeds halfpad op pad na my toe. Ons het nader geloop en ek het vir Les geluk gewens. Jeannie het die fotos kom neem en ek het hulle haastig gemaak want ons moes nog die bul in die sout sit die aand en ook hy sou boesman kos word.

Jeannie het die bakkie bestuur terug basis toe en ek en Brian het Matabele gepraat agter op en ek wou die toording van hom hoor. Hy het met Katwindi gepraat en hy het geglo hy was getoor deur dieselfde toordokter wat ons by Makuku n pak slae gegee het. Toe hy nou hoor wie die pak gegee het was hy tevrede want dan sou ek al lankal dood gewees het as die man my ook moes getoor het. Hy het gese dat ek sy lewe gered het. Ek kon dit nie glo nie, die mense sou vir altyd bang bly vir die wesens wat ek so gehaat het. Hy het vertel van sy jagte en onder andere saam met Mike Cameron en andere wat ek geken het. Ek was baie dankbaar daaroor want ek het n ekstra jagter gehad wat kon bestuur en ook my huishouding gedoen het. Sy vrou was baie knap en ek sou hom weer later takel oor die toormanne om meer te weet en om kennis op te doen.

30 Januarie 1978.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed