Ngamiland
Dit was wat die gedeelte tussen die Delta, die Kavango rivier en die grens van Namibie wat toe nog Suid Wes Afrika was, genoem was. Ek was al op n vlugtige besoek aan die gedeelte maar omdat dit nie deur die staat gediens was nie en ons maar baie min daar gejag het, het ek nie die gebied geken nie. Op die kaart sal dit dan die gebied wees ten noorde van die Ngami meer tot teen die Wes Caprivi en dan tussen die Delta en die Namibiese grens. Ons het die gebied ten ooste van die Delta tot teen die Rhodesiese grens en tot teen die Chobe gejag en dienste gelewer. Die Kavango was onbegaanbaar en ons het hom al oorgesteek maar met baie moeite en prakties was dit net te veel ergernis om daar te kon jag.
Daar was een jagkonsessie in die suide by die Koanaka heuwels wat aan ander jagters behoort het en hulle het tussen die Delta en die grens gejag maar hulle mag nie ten noorde van Gumare gejag het nie want dit was veeboer wereld vir die Herero’s. Die hele gebied was eintlik n republiek op sy eie met die verste staat inmenging wat by Tsao gestop het. Toe die Duitsers die Herero’s uit Namibie verjaag het en baie duisende van hullle gedood is het hulle na die gedeelte gevlug. Soos wat ek kon aflei by die president, met een van my besoeke aan hom, het die eerste Bamangwato opperhoof wat dan nou sy oupa of -grootjie was die gedeelte aan die verhongerde nasie in nood gegee en beloof om nooit met hulle in te meng nie. Die belofte is na gekom en hulle is in vrede gelos. Die Herero is n baie trotse nasie en toe ek daar was het hulle my n witvel genoem en ek het besef dat ek nie welkom was daar nie. Hulle het baie dinge teen die wette van die land gedoen maar die staat was siende blind en hulle laat begaan. Hulle het baie wapens gehad wat teen die wet was en baie gejag maar die gebied ten noorde van Gumare was hulle eiendom en so het dit gebly. Hulle het met baie beeste en perde en ander kleinvee geboer en was onder n opperhoof wat sy wette laat geld het. Baie veespekulante het by hulle gekoop en geruil en die goed moes al langs die Delta aan gejaag word tot by Maun of Ghanzi wat baie ver was, om verkoop te word. Daar het ook Asiate en selfs wit boere met hulle handel gedryf en vir hulle was dit ook maar n redelike optog om by Sepupa uit te kom want alles was deur die opperhoof beheer en sy goedkeuring moes vir alles gegee word. Hy het by Sepupa gewoon en kon n paar tale praat onder andere my taal. Ek glo hulle het ook met mense uit die ou Suid Wes gemeng en gehandel maar het dit nooit gesien nie. Hulle het wel heen en weer oor die grens geloop en op plekke het die heining nie meer bestaan nie. Hulle het ook boesman slawe gehad wat ek self gesien het maar ook ander kant toe gekyk het. Ek het dit aan die staat genoem en daar was verskuiwing van boesmans wat toe liewer na Tsumkwe uitgewyk het. Ek het niks daarmee te doene gehad nie. Van die boesmans is na my toe verskuif en in die sentrale Kalahari gevestig. Hulle was al boesmans wat geboer het met vee wat ek geken het en hulle het ten noorde van Orapa gewoon.
Die suidelike deel is n droe wereld maar baie gesonde bees wereld en die ongediertes was baie goed beheer deur die boere self en ons het niks met hulle uit te waaie gehad nie. Met ons besoek daar het n luiperd ons byna gevreet by die Tsodilo heuwels en dit bly een van die grootstes wat ek nog geskiet het hoewel ek hom nie kon weeg nie. Ek en Piet was terug van die olifant skiet af en op my dagboek was in rooi geskryf dat ek Peter Williams moes kontak met die foon want hy het probleme gehad in Ngami land. Omdat die politieke situasie in suider Afrika so abnormaal was, het baie mense gevlug van verskillende lande na Botswana. So het my hele werksmag bykans van Rhodesie af gekom en baie van Selby se werkers ook want die inheemse mense het of glad nie gewerk nie of baie het op ons land se myne kom werk. Die gedeelte waar ek in die land besig was het die inheemse mense geboer en baie vrouens gehad wat vir hulle moes werk en die jong manne moes die beeste oppas en die vrouens die plantwerk doen. As n jong man wou trou het hy gewoonlik op ons myne kom werk vir n ruk en dan vir ewig in die son kom sit in Botswana. Dit was blykbaar teen hulle geloof om vir wit mense te werk en dit is so deur Katwindi aan my verduidelik. Hoe hulle op ons myne gewerk het sou ek nie geweet het nie.
Peter was baie ontsteld want daar was blykbaar Angolese vlugtelinge in die noordweste en die staat wou n rapport daaroor he. Hoekom hulle nie die weermag gevra het nie was vir my snaaks en hy sou twee helikopters stuur die volgende dag saam met die offisier wat die skieter gevang het en die een helikopter sou net brandstof saam vlieg vir beide. Hulle sou vroeg by my kom en ek het hom gewaarsku dat dit reen seisoen was en die manne sou dalk moes slaap in die veld as die weer nie reg was nie. Ek sou ook nie met net een vlieg nie want ons sou oor n gebied vlieg wat baie yl bevolk was en ek wou van bekende bakens na die volgende een vlieg en nie n reguit lyn nie. As daar moes noodlandings gemaak word moes dit naby bekende plekke wees. Hy sou n vragmotor met brandstof ook stuur. Hy het saam gestem dat die helikopters per pad moes bereik kon word as daar foute sou kom. Ek was werklik nie lus vir politiekery nie want dit is maar wat dit was maar het my gaan reg maak en n vlug plan uitgewerk. Dit sou oor Ben gaan by Gwai en dan ten weste van die Linyati oor die Savuti, die gedeelte waar sy renosters geloop het en dan wes na die Kavango oor Seronga na die hoofman by Sepupa. Ek het kos en klere in gepak vir drie aande en genoeg skryfgoed en vir Jeannie saam genooi, sy wou nie, daar sou te veel manne wees en dit kon ongemaklik wees. Daar was niemand wat wou saam vlieg nie en ek het vir Bruce baie mooi gevra maar ook hy was nie lus nie. Dit was twee vreemde loodse en hulle moes teen donker begin vlieg het want hulle was redelik vroeg by my en ons het die ekstra brandstof by my gelos en genoeg in die ander een gelaai en saam gevlieg. Die wereld is mooi uit die lug maardie loodse het baie hoog gevlieg uit vrees vir voels en dan was dit maar vreemd.
Ons is teen elfuur oor Ben se Gwai konsessie en is oor die Savuti en ek het met die kaart gesit en my self probeer wys maak waar ek was. Ek kon nie renosters sien nie want hulle het hoog oor die water gevlieg uit vrees vir die baie voels en teen drie uur was ek al lekker honger en het ons by Sangoshe geland. Ek het weer die kaart gaan bestudeer want dit was nog steeds n gebied wat ek goed geken het en van hier sou ons effens suid gaan na die hoofman by Sepupa. Ons het langs die Kavango geeet en nie baie tyd verspil nie en het die rivier oorgesteek na die hoofman toe. Ons was net nege mense saam met die loodse en hulle assistente en het n hele ent weg van die nedersetting geland vir die stof want die wereld was maar baie getrap van die beeste en kleinvee. Ons was nou aan die westekant van die Kavango en ek het ook die plek geken en ook die hoofman wat my n witvel genoem het. Daar het n paar wildevye gestaan en verder was daar niks en ons is soontoe en die offisier moes gaan kyk of die hoofman ons wou sien. Opvallend was die verskil van die een kant van die rivier na die ander kant waar die beeste hom baie getrap het oor baie jare en die veld nooit weer sou herstel nie.
Hy het ons laat haal met n F250 bakkie en ons is in sy “paleis” in en onder n rietdak sou hy ons kom sien. Ek kon byna nie mense sien nie net so hier en daar n kind en het gewonder waar almal was. Daar het n soorte van sekretaris gekom en gese dat die edele nie meer lank sou wees nie. Ek het hoofmanne geken, dit was hulle plig om jou te laat wag, iets wat ek nooit mee goed was nie. Ek het die offsier wat ek as Archie geken het, gese dat ons so n entjie moes stap want ek was moeg gevlieg en die mense kon ons maar kom roep of net ons spore in die stof volg en hulle sou ons kry. Ons was skaars honderd meter weg toe n groep perder ruiters opdaag met die man met n wit volstruisveer in die hoed in die middel. Op sy skouer was n 303 wat blink was en sy lyfwagte was ook met mausers en 303’s gewapen. Nogal indrukwekkend, het ek gedink. Daar het n lyfbediende of n ding gekom en die perd vasgehou en nog een hande viervoet gaan staan en hy kon op die se rug trap en afklim. Daar was n soorte van n erewag wat gesalueer het en die man het gekom en daar is n stoel vir hom uitgedra met n luiperd vel op op so n effense verhogie. Hy het n bandolier gehad en sy geweer wat blink opgevryf was en sy opslaan hoed vir die bediende gegee en gaan sit. Ons is gevra om ook te sit. Ons was vyf in die geselskap en ek n regerings man en die offsier en twee van sy juniors. Hulle drie het uniforms aan gehad en ons twee nie. Hy het my eerste aan gekyk en gevra of ek van Duitse herkoms was, ek het gese dat ek n Botswana burger was en hom op my beste aan gegluur. Hy wou weet wat ek doen in die land en ek het my woorde baie versigtig gekies en hom vertel. Archie het hom gese dat ek persoonlik gestuur is deur die regering om sy klagte oor vlugtelinge te kom ondersoek. Daar was volgens hom honderde vlugtelinge in sy land wat hy gekoop het van die oupa of iets en hy wou hulle weg he. Hulle was naby Muhembo net ten suide van die Caprivi kaplyn en hulle het n gevaar in gehou vir sy welstand want van hulle familie was besig met militere diens in die Caprivi en van hulle was drosters uit die S A weermag. Ek het by oom Dirk Du Toit gehoor van die vlugtelinge en geweet van hulle maar my dom gehou. Ek het ook geweet dat 32 Bataljon byna op sy voete was en die Angolese wat daar was sou verbinding he met lede van die Bataljon. Dit het niks met my uit te waaie gehad nie en hy het gese dat dit omtrent twee ure se ry was na die mense toe en ons moes nie vlieg nie. Hy sou sy tuiswag en vier bakkies saam stuur want hulle sou weghardloop vir die helikopters. Dit was te laat in die middag om te ry en ek het voorgestel dat ons daar slaap by die helikopters as hy net vir ons sou van hout voorsien want alles was vir myle ver kaal sonder hout. Die veld was kaal getrap en het soos ons ou tuislande gelyk.
Hy het gevra of ek bang was vir leeus en ek het gese dat ons wil vleis braai en ek was nie bang vir leeus nie. Hy wou he dat ek hom as “edele” aanspreek en ek het gese dat ek nie sy onderdaan is nie en hy kon dit van hulle vra. Ek het hom op sy naam wat Hendrik was aangespreek. Ons sou teen eerste lig reg wees om te ry en die vlieeniers sou nie saam gaan nie maar ek is bly dat sy wagte saam gaan. Hy was welkom om saam te gaan maar hy sou dit eers met sy raad bespreek. Die vrouens het ons nie verwag nie en na n ruk was almal in die mooi tradisionele drag getooi en het die plekkie begin lewe kry. Hy het gevra of ons die mense die volgende dag gaan verwyder en ek het gese dat dit eers aan die staat moes voorgele word. Hy het nie daarvan gehou nie. Hy sou die voertuie voorsien en ek het met die kaart gaan sit en vir die loodse gewys waarheen ons sou ry en hulle moes net op ons spoor ry en ons kom haal teen elf uur want ek wou nog terug gaan die aand en hulle kon by my kom slaap by Nyati. Ek wou nie weer al die pad terug ry met bakkies wat ek nie geweet het of hulle die paal sou haal nie. Archie het saam gestem en ons het gaan vuur maak met hout wat twee boesmans met n perdekar gebring het. Ek het my slaap plek onder die wildevy mooi gaan regmaak en Jeannie en Maria het vir ons genoeg vleis en wors en blikkies groente in gepak en n hele koeler vol koue bier en twee bottel whisky. Daar moes genoeg gewees het vir drie aande weg van die huis.
Ek het lekker gesels met die soldate en die een loods was van ons land af en ons was al blanke mense daar en die bier het net begin loop toe die “ Veer-in-die-hoed” man weer met sy magsvertoon met die perd aangery kom. Hy sou nie saam gaan die volgende more nie, sy mense het gese dat dit dalk onveilig vir n man van sy kapasiteit kon wees. Ek het gese dat die loodse ons na ons inspeksie sou kom haal en sy wagte sou alleen terug kom en ons sou vlieg na waar ons hoort. Hy sou wel saam vlieg en het homself genooi vir n drankie. Die bier was koud en sy koppie baie lig en die stoel was gou vergete en toe ek whisky drink wou hy ook he en ek het syne skoon gegooi, toe is hy maar net wat ek geweet het hy was. Hy kon net sy kos eet en het die een slaaf gestuur om sy mense te gaan roep met n bakkie. Hy sou nie op n perd kon ry nie. Ek was bly toe hy ry en ons ons laaste planne kon maak en gaan inkruip.
Die bakkies was vroeg daar met die gemengde uniform manne en die outydse wapens en ons het die tog aan gepak en was voor sewe by die vlugteling kamp. Dit was net tente en n paar sink geboue en ek het n hele paar van ons weermag uniforms gesien en die kolf van n AK onder n kombers in een van die tente. Die taal was maar moeilik maar dit was vlugtelinge wat vir Swapo bang was en ek kon nog so n bietjie Portugees verstaan maar het my dom gehou. Ek wou van een wat een kant was weet waar die uniform vandaan gekom het hy het gese dat hy in ons weermag was en op verlof was. Hulle het geweet dat hulle onwettig in die land was maar Swapo het blykbaar nie Botswana se grond gebied binne gekom nie. Die mense was regtig in vodde en het maar van die Kavango en wild geleef en ek het my blind gehou vir die geweerkolf. Daar was 188 lewende wesens as daar nie nog in die bosse geskuil het nie en van hulle was van gemengde afkoms maar almal uit Angola en hulle het met die Herero’s handel gedryf en in vrede geleef. Ons het gesien wat ons wou sien en die offsier het fotos geneem en dit was nog vroeg toe ek vir Archie se dat ons maar net so wel kon ry en die pad korter kry. Toe ons by die helikopters kom wou hulle net begin vlieg en ons het die terug tog aan gepak.
Hierdie slag wou ek oor Ben se Savuti gedeelte vlieg en kyk of ek sy renosters waarop hy so heilig was kon sien, ons het sestien uit die lug getel en vier was jong kalwers en ek sou so graag die wat in die suidelike Chobe was ook so uit die lug uit wou sien. Die gedeelte ten noorde van die Savuti het baie wild gehad en ek kon n hele paar baie groot olifant bulle sien en toe ons by die Selinda kanaal kom het ons suid gedraai en na Nyati gevlieg. Daar was baie mooi wild troppe en veral in die gedeelte waar ek min gejag en gekom het wat ten weste gele het. Dit sou verbeter as die boorgate eers daar klaar was en daar in die winter ook water sou wees. Die manne kon nie huis toe vlieg nie want dit was laat middag toe ons by Nyati gekom het en ek en Archie het in my kantoor gaan sit en n verslag opgestel. Alles net so beskryf soos ons dit gesien en ondervind het en ek het n afskrif gehou en hy sou die ander een vir Peter neem. Hulle sou by ons oornag en ek het uitgesien om net weer tyd saam met Jeannie te spandeer want ek was werklik besig en daar was altyd mense wat gesien en geantwoord moes word.
Ons het op die dek gaan sit en Jan Hugo en Bruce het gekom en die vrouens was in die swembad doenig en ek was stiller as gewoonlik. Piet het met die seer voete kom se dat Katwindi hom drie plekke gaan wys het waar groot luiperds vreet en hulle het met takke skoon gevee om die spore te gaan kyk die volgende more. Ek het vir John Gleeson gaan groet, hy was beter en het gese dat hy die volgende more wou gaan probeer draf saam met Jeannie. Hy was maar vir my baie pap en die dokter het gese dat hy die volgende dag sou beter word. Ek het op die bed langs hom gaan sit en ons het n bietjie gesels en toe ek uitstap het ek gedink dat hy seker die “ultimate gentleman” moes wees. Kanker is n wrede siekte en het die manier om die room af te skep uit die samelewing.
Die manne het nog n paar vliegure gehad en ek het hulle baie mooi gesoebat om oor die suidelike Chobe te vlieg en ek en Jan Hugo en Jeannie en Bruce het saam vier ure gevlieg vanaf Nyati tot by die suidelike Nxai panne en van daar oor die oostelike deel in die rigting van Panda Matenga en ook oor die nuwe konsessie wat langs ons Wankie konsessie was. Ons het drie maal op en af gevlieg en 89 renosters getel en baie groot olifant bulle gesien en n hele klomp bastergemsbokke wat ek nie van geweet het nie. Die boorgate het die water in die suide baie meer versprei en die wild het baie gou daarby aangepas en in die somer het ons baie wind gehad vir die windpompe. Dit was net die westelike gedeelte tussen Nyati en die Delta wat nog in die winter moes water kry dan sou die gedeelte perfek wees vir wild en boesmans. Die migrasies sou minder word en die wild meer stabiel. Vir die vergunning het ek n hele eland se vleis vir hulle saam gestuur klaar in wors en steaks verwerk en hulle sou my weer kom help.
Ek het die aand op die dek gaan sit en die afgelope twee dae se werk stuk vir stuk deur gewerk en was met die wild en boesmans baie tevrede. Die vlugteling kwessie was n diplomatieke kwessie en die staat moes dit oplos. Tog het ek vir oom Dirk du Toit gebel op Katima en my informasie deur gegee. Hy was die inligtings man daar en kon die weermag inlig oor wat die Angolese doen en waar hulle was. Ek kon nie anders as om n mate van hartseer te ondervind nie. Behalwe vir Botswana was die gedeelte van Afrika n kookpot en dit sou nie gou eindig nie. Ek het met my ouers gepraat en ons land was ook maar deurmekaar. Politieke leuens is die wereld in gestuur en dit het nooit vir my sin gemaak nie. Rhodesie se dae was getel en tog het dit op politieke vlak, behalwe vir vlugtelinge geen effek op Botswana gehad nie. Ons het voort gegaan soos altyd. Daar was vrede en neutraliteit en die staat het hom weerhou van die gemors wat bykans rondom die land afgespeel het.
Ek het gewonder of ek ooit in my lewe politieke stabilitiet soos wat dit in Botswana was sou ondervind in my eie land. Dit het nie so gelyk nie, ek was bykans bewoe en het gewonder hoe lank dit sou duur.
5 Maart 1978.