Jongste aktiwiteit:

Ons slaap in Maun en ek wou Kubu eiland besoek maar die reën hou ons weg
vir

Ons slaap in Maun en ek wou Kubu eiland besoek maar die reën hou ons weg

Ek het baie by Riley’s geslaap want my voertuig kon agter in die agterplaas staan buite bereik van mense. Ek het met die regerings stasiewa gery en hy was welkom by alle vulstasies en hotelle en mense wat maar wou goed doen aan die staat. Ek onthou vandag nog Riley’s se telefoon nommer, 660320 en die ontvangs klerk se van was Mpitsang, ons het hom as Dennis aangespreek. Hy het altyd vir my die beste kamer gegee wat vir die staat se gaste bedoel was en ek kon met die regerings kaart betaal.

Ek het n ou krok jagter gekry wat se naam Bobby Wilmot was en ons het op my balkon gaan sit en gesels en ek het vir Kabous en Monica gewag en ons het oor jag en die veld begin gesels. Jeannie was in die spa waar ek haar so bietjie bederf het en ek het vir ons van die heerlike nat beesbiltong gekerf en die bedrywighede in die straat dop gehou. Nog n jagter, Jack Stephenson wat ten weste van die Delta gejag het, het by ons kom sit. Ek kon nie verstaan dat hy daar wou jag nie, dit was n verlate wereld en die wild het baie gemigreer en hy het vir lang tye op die eilande gejag waar dit baie moeilik was om die trofees te herwin. Jack het moeilik geloop want hy was deur n pofadder gepik en ou dok Selkirk het baie moes weefsel wegsny uit sy kuit. Ons het gepraat oor Kubu eiland waar ek nog nooit was nie en die ruines wat daar was wat net soos miniatuur Zimbabwe ruines gelyk het. Bobby het my gewaarsku teen die leeus van die eiland wat baie ongeskik was maar gese dat ek die ruines moes gaan besigtig en daar was ook boesmans wat my sou wys en my taal kon praat.

Kubu was reg oos van Maun en uit my koers uit en het aan die bopunt van die Sua panne gele wat maar net n gedeelte van die groot Makghadigadi panne was. Dit was nog steeds in my gebied en ek sou oor Gweta ry na Nata toe en dan suid draai na Mosetse en die eiland was eintlik net n gedeelte wat nie sout was nie en wonderlik om te sien die lower groen deel tussen die dooie sout gedeelte met die mooiste Kremetarte en ek wou graag die boesmans daar onmoet en vir hulle vertel van ons werk. Jakkie se ouers het ten weste van die Shinamba heuwels op die Mababe vlakte geboor en hulle het nou al meer as 150 windpompe opgesit en die bevolking so meer laat versprei en die wild nie meer so afhanklik gemaak van watergate nie. Bobby het gese dat hy saam sou ry my met my en Jeannie en Kabous sou ook met sy bakkie saam ry en hy kon brandstof laai want die regeringsbakkie het nie sulke groot tenks gehad soos ons jagbakkies nie. Ons kon by Gweta of Nata vol maak maar ek wou nie die risiko loop dat hulle dalk nie branstof gehad het nie en ook nie met net een bakkie ry nie. Ek het vir hom en Jack genooi vir n drankie in die kroeg en n hele spul biltong saam geneem want hulle het n elektriese kerwer gehad en dan kon almal saam eet. Daar was n hele paar jagters en ek was dankbaar om hulle te sien en die staat se wette en regulasies net weer te beskryf. Daar het werklik n baie beter gees tussen my en die ondernemers geheers as ooit te vore. Ek was daar om net so veel na hulle belange om te sien as na die van die staat en hulle het dit geweet.

Vrouens was nie toegelaat in kroee in Botswana nie en dit was dalk n goeie ding want dit kon maar rof raak tussen n klomp jagters, toe Jeannie en Kabous en Monica opdaag het ons in die sitkamer gaan sit en die geselskap het meer geword en die biltong minder. Dit was werklik lekker om met die verskillende konsessies se manne te gesels en die probleme wat maar min was het ek sorgvuldig opgeskryf en sou aandag daaraan gee. Jeannie het na die sessie by die spa baie mooi gelyk en het die manne se koppe laat draai en ons het n heerlike aand gehad en selfs later by die klavier gedans soos die ou Wilde Weste flieks. Kabous kon mooi klavier speel en dit was net lekker en ons het te laat gaan slaap. Baie jagters het in die Sedie Hotel geslaap wat so drie myl ten noorde van Maun was en goedkoper as Riley’s was maar hulle het by Riley’s kom eet en drink en mekaar ontmoet. So het die een na die ander kom groet en gesels. Mark Kyriakou en Cecil Riggs het lank gesels en later het Greame Pollock en sy vrou Amber kom gesels en ook Wilton Raats. Ons het maar almal dieselfde belangstellings gehad en baie jagdinge is bespreek en daar was kliente van oor die wereld saam met hulle ondernemers. Hierdie manne het baie meer van Botswana en sy wild geweet as ek, hulle was baie meer ervare jagters en van hulle was gebore in die land en het tussen wilde diere groot geword.

Dit het begin reen soos dit net in Botswana kon reen en die Thamalakane rivier wat verby Maun loop was in vloed die volgende more en die manne wat geweet het, het my afgeraai om die toer te neem. Die Boteti het ook afgekom en die sentrale gedeelte van die land was baie nat na 180mm reen en selfs die strate van Maun was meeste maar grond strate en dit was n modder gemors en ons het besluit om maar later na Kubu te gaan. Ek is n paar maande later soontoe en was eintlik teleurgesteld, as jy die noorde met sy baie water en moerasse geken het was die suidelike sout panne nie die moeite werd nie. Ek het nooit die ruines gesien nie en ek weet nou nog nie of hulle werklik bestaan nie. Ek is terug na Makuku toe en is na n vinnige draai by Selby met die pad noorde toe want ek wou by Ben gaan slaap by Gwai want die Savuti was oorlopens vol en die Delta het ook sterk afgekom na die Kavango en hoer op baie reen moes gehad het. Ek het geweet dat die wild veral in die Savuti baie mooi sou wees want dit was waar die meeste wild in die land voorgekom het. Reen was welkom en die groot waters ook maar dit het dit baie moeilik gemaak om te jag en Ben was baie vol bespreek. Hy sou moes kliente na my verwys as hy sou vasbrand want ek het genoeg jagters gehad en my behuising was baie en die reen het nie so n groot invloed op my gebied gehad nie. Die wereld was meer skuins in die Chobe as langs die Delta en het vinniger droog geword na baie reen.

John Gleeson was al die pad saam met ons en hy en sy film man het alles afgeneem en op band gesit en vir my en Jeannie het hy al hoe beter geword. By Ben het n snaakse ding gebeur, daar het n jong seekoei vers haar kom tuismaak by sy huis. Sy het net opgedaag en sonder om genooi te word en sonder rede op sy grasperk kom le en die honde was aanvaklik baie vies daar oor maar sy het met almal vriende gemaak en klein Ben het op haar rug gesit wanneer hy wou en die Batonka was nie so genoe met die nuwe speelmaat nie. Ben was Rhodesie toe gewees en het drie inboorlinge saam gebring wat die snaakste voete gehad het wat ek nog aan n mens gesien het. Hulle het n spoor soos n volstruis getrap en het net n groot toon en klein toontjie gehad met so n keep waar die ander tone moes wees. Ben het onderkant die die Kariba vir baie jare gejag en het die spesifieke stam mense goed geken. Hy het hulle as eenkant mense beskryf wat wonderlike goeie werkers en atlete was en blykbaar kon boomklim soos geen ander wese nie. Hulle was die Vadoma genoem en blykbaar was n groot deel van die stam se voete so misvorm. Dit was ook verbode om buite die stam te trou en dit het bykans een derde van die mense die snaakse voete gegee. Ben was baie mal oor hulle en ek moet erken dat hy n harde man was om voor te gewerk het. Hy het hulle taal gepraat en vir hom was daar nie beter werkers nie. Hy het hulle met vrouens en kinders saam gebring en almal het die misvormde voete gehad. Dit het hulle geensins gestrem nie net die feit dat hulle nie skoene kon dra nie. John het n lang artikel hieroor gepubliseer in die VSA wat Ben se konsessie nog meer bekend gemaak het en die stomme skaam mense nog meer bloot gestel het. Hy het net soos ek ook maar gesukkel om met die inheemse rasse sy werk gedoen te kry. Hierdie mense was werklik werk esels en wou nie met ander meng nie en ongelooflik betroubaar. Hulle was net baie in hulle self gekeerd en sou nie sommer met vreemdes gesels nie.

John het die riviere wat in vloed was afgeneem en die feit dat ons vir myle ver deur water moes ry wat bykans by die deur wou in kom en waar die ratkas hefbome was het so af en toe water in gekom. Ek het geweet dat Jakkie se ouers wat in die Mababe Laaglande geboor het baie sou sukkel met die swaar masjiene en dat ons vir n tyd nie sou jag nie. Die voertuie se ratkaste en aste sou ook moes afgetap word en nuwe olie ingesit word en ek was dankbaar toe ek op die groot pad kon kom en weg uit die myle ver water wat so ver die oog kon sien gestaan of stadig geloop het op die plat vlaktes. Die weer het weer opgesteek en ons het gedruk om by Nyati uit te kom. Dit was eintlik baie mooi om die water met die hoe bome, Mopanies, Kiaat, Maroelas, Wildevye, Jakkalsbessie en Worsbome te kon sien wat almal so ent in die water gestaan het. Dit het die grond wesens laat boomklim en in bykans enige boom was daar muishonde of meerkatte en likkewane en ek het selfs rooikatte gesien wat almal baie bedroef was oor die oorstroomde grond. Die ondergrondse nagwesens het nou in die dag geloop en ystervarke en erdvarke en baie meer diere het voort geploeter en baie jammer vir hulle self gelyk. Teen die hoe miershope het die klein vlakvarkies gele en steenbokke en lechwe lammers en vele meer wat moes wag dat die water eers sak voor hulle kon beweeg.

Byna alle diere wat ek ken kan swem op die een of ander manier en toe ek die grootpad kry wat hoer was as die veld was dit bykans onrybaar van die diere. Hoevele male moes ek stop en uitklim vir n skilpad of n ietermagog en baie pofadders en selfs mambas wat ek maar baie lugtig voor was en ek was dankbaar dat die pad vir verkeer gesluit was en net ons en natuurbewaring kon ry tot die water laag genoeg gesak het. Dit het vir eindelose film werk gesorg van die manne van die VSA af en seker die mooiste was die ietermagog wat sy twee kleintjies op die rug gehad het. Die son was warm, tog het die weer weer opgesteek en ek het geweet dat dit sou reen die middag. Daar was die grooste brulpaddas in die pad, so groot soos n man se hand. Baie fisante met kuikens en sommer alles waaraan n mens kon dink wat nie gehou het van water nie. Langs die pad vir myle ver het die water blink geloop en baie stadig op die vloedvlaktes en ek het geweet dat dit was wat die wereld wou gehad het. Die groter diere het die weer geniet en die kameelperde wat altyd so rustig was het gehardloop dat die water spat en die rooibok ramme was met hulle geraas doenig en die enkele leeus was maar vies vir die nat wereld. Van hulle het in die pad gele en die bekende leeureuk was baie sterker in die nattigheid as droe weer. Agter ons na die weste kant toe het die weer baie dik saam gepak en ek het die film manne aan gejaag en gedruk om by Nyati te kom. Ons was net daar toe die hemelse sluise oop maak en dit het gereen dat die reenmeter oorloop en ek het by my lapa op die dek gaan sit en die reen geniet. Die honde en Jeannie het by gekom en ons kon lekker gesels en die diere wat tussen so baie water was het nog steeds kom drink by die gat waar aan hulle so gewoond was.

Daar het n nuwe groep boesmans gekom vir hulle onderhoud en hulle was soos altyd maar honger. Katwindi het gelukkig kop gehou en die seekoei en krok wat Piet geskiet het saam gebring en hulle kon daaraan peusel en veral hulle honde wat baie maer was. Daar sou nie gou gejag word nie en die weermag se rantsoen pakke moes maar gebruik word. Piet het toe sy “rekord” krok en seekoei geskiet en by Jakkie was n leeu oorbevolking wat buite die park se grense was en hulle het drie mannetjies geskiet wat uit gebyt was, weklik baie mooi katte met mooi maanhare. Ek was baie dankbaar dat sy jag verby was. Hy het met Jakkie se honde n rooikat ook geskiet wat hulle as 46lbs. geweeg het en ek het min male in my lewe later nog so n groot rooikat gesien. Die kat het Jakkie se le-hoenders gevang en is met die honde vas gekeer. Dit was omtrent iets vir Piet wat so n groot kat kon geskiet het, ek het maar stil gebly. Ek het min rooikatte in die Chobe gesien maar die een was groter as waarmee ek groot geword het. Hy was naby die einde van sy jag en ek was dankbaar, ek het vir Selby op die radio geroep en hy moes my belowe dat ek nie weer mense van ons land sou laat jag sonder n persoonlike onderhoud nie. Jakkie het my gese dat hy nog nooit n jagter met soveel s…………..gesien het nie en die verskil was dat hulle dieselfde taal gepraat het. Sy byvoeglike naamwoorde het bykans nie einde gehad nie. Ek was baie dankbaar toe Piet die volgende more sy rekening klaar gemaak het en ek vir Luka kon stuur om hulle Maun toe te neem.

16 Maart 1978.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Lollie het ‘n nuwe publikasie gemaak