Jongste aktiwiteit:

Probleem olifant by Gcoverega
vir

Probleem olifant by Gcoverega

Voor ons by Nyati gaan woon het, het ek baie in die Chobe gejag en dit maar probeer doen vanaf die Linyati wat n hele ent se ry was en gemaak het dat ek baie aande in die veld moes slaap. Die leeus was maar altyd ongeskik en dit was die rede dat ons voertuie leeu bestand gemaak moes word. Die Chobe was n deel van ons Linyati konsessie en die beheer van leeus en probleem diere was eintlik gemik om toeriste binne die park te beskerm. Hoewel die voubiljette wat die staat vir elke toeris gegee het dit duidelik gemaak het dat daar gejag was in die reservate, het ek so ver moontlik die toeriste as groen gesien en so onopsigtelik as moontlik gejag. Rob was op die voorblad van n koerant in Botswana omdat hy toeriste vir die krokke wou voer wat sy buffels afgeneem het en hom groen vrae gevra het. Ek moes inderhaas gaan vure dood maak by die staat en hy moes belowe om nie weer vreemdes te wou voer vir krokke nie. Op die voubiljette was selfs n kleur foto waar ek n olifant skiet om die mense te waarsku om nie diere te voer nie. Omdat toeriste van oor die hele wereld gekom het, het ek kontak as jagter probeer vermy. Ook was my basis by Nyati en al die ander konsessies buite perke en slegs vir noodgevalle toeganklik vir toeriste. Die mense het baie oe en baie kameras gehad en ek was moeg om die jag stories te verdedig.

Ek het die more na Jeannie die leeus geskiet het weer vroeg op die dek gaan sit met die leers van die twee Amerikaners om hulle jagte uit te werk en myself in die prentjie te bring. Dit was lanklaas wat ek saam met kliente gejag het en ek wou my huiswerk reg doen. Die een was Tom Hanks wat die eienaar was van die wapen winkel in Portland waar ek bykans al my gewere in Amerika gekoop het, saam met hom was sy swaer en geweersmid Les Holloway. Die manne het wapens geken maar dit het hulle glad nie jagters gemaak nie en hulle sou moes die leer van onder af klim. Dit was maar ons gewoonte, begin by die makliker spesies en bewys jou self en werk dan op met die jag leer na die groter goed toe.

Katwindi het gekom en ons het gepraat oor Temba en sy vermoe om te kon jag en die vrees vir toordokters. Ek het dit aan hom gelaat om terug te kom met n antwoord en indien moontlik n oplossing. Temba was net gehuur om my huiswerk te doen en om rond gestuur te word en nie as n jagter nie. Ek wou ook weet van die takke waarmee die olifant toegemaak was en hy het dit al n paar kere gesien en dit was nie iets snaaks vir hom nie. Weer het ek besef hoe min ek eintlik weet van die natuur en sy gewoontes.

Bruce het by ons kom kla dat n olifant toeriste pla by n ruskamp naby Gcoverega wat net binne die grense van die Chobe geval het. Ons het al n probleem bul by n plek met die naam van Leboom geskiet die vorige jaar en ek het geweet dat met die uitdunning wat anderkant die grense aan die gang was dit al hoe meer sou voorkom. Olifante was slim diere en gewoonlik is die hele trop geskiet maar die natuur manne was nie baie genoe om die ou groot bulle te skiet nie. Dit het baie versteurings binne die hegte familie bande van die diere veroorsaak.

Ek het met Don Heath gepraat toe ek saam met Jeannie se ouers in Rhodesie was en hy het be aam dat hulle die groot bulle los en die res skiet. Hy het genoem dat dit probleme gaan en sal veroorsaak. Ek kon hulle nie verkwalik nie, die uitdunning van olifante was wat my betref baie nodig, maar nie vir my as jagter nie. Ek sou dit nie kon doen nie. Toe Rob en Piet by ons Wankie konsessie ook uitdunning moes doen het ek hulle aangeraai om hele troppe te skiet want hulle het nooit die mens se wandade vergeet nie. Dit was n wrede maar baie noodsaaklike operasie wat gedoen moes word. Dit was die bulle wat uitdunning oorleef het wat probleme gemaak het. Hulle het werklik mense gehaat want die askaris wat saam met hulle geloop het vir n paar jaar was deur mense geskiet en hulle was alleen en op hulle eie aangewese. Die regte ding sou gewees het om hulle ook te skiet, dit was egter n ander land met ander mense en wette en reels en olifante het nie grense eerbiedig nie.

Die twee Amerikaners wou saam gaan en ek het vir Luka en Katwindi met een bakkie laat ry en ons vier in die een met die kap op. Langs die pad wou ek darem met die Rigby 416 skiet om te kyk of hy groepeer want ek het nog nie met hom geskiet nie. Die oue het ek goed geken en die smid het die snellers vir my dieselfde gestel, baie lig soos ek dit al die jare maar verkies het. Die Rigby was op skoot en het vir my opmerklik minder as die BRNO geskop. Ek kon nie n verklaring daarvoor vind nie. Ek het al n paar dae tevore nuwe doppe op dieselfde lading gelaai as vir die BRNO en dit gemerk om die twee gewere se doppe nie te meng nie. Ek sou vir jare nooit n verklaring daarvoor vind nie tot Ginger van Zyl die lope gemeet het en die BRNO reggemaak het. Ek kan nie onthou nie maar dit was iets met kopspasie te doen.

Dit was n redelike ent van Nyati tot waar die bul ongeskik was en ons moes maar aanstoot en ek het aanvanklik padlangs gery en later die veld verkies omdat die reservaat paaie maar swak was en ompaaie na waters was. Dit het beteken dat ons reg suid moes ry en dit was die meer savannah tipe veld wat maklik gery het. Groot Kameeldorings met so hier en daar n ruigte maar eintlik n mooi wereld.

In 1978 was daar net vier ruskampe binne die reservaat en dit was die uitsluitlike werk van die toeriste operateurs om die plekke in stand te hou. Die staat sou nog in die jaar die plekke oorneem en opgradeer. Die ruskampe was maar primitief maar baie goed omhein, daar was ook sg. rus en uitspan plekke waar mense kon uitklim en waar water en toilette was maar hulle was nie omhein nie. Dit was die werk van die toer operateur om sy kliente teen diere te beskerm. Baie van hulle het erg misbruik gemaak van hulle toere en baie diere is geskiet om aan die kliente n sg. leeuvangs te gaan wys.

Baie was weer so groen dat hulle geen gevaar gesien het in diere nie tot hulle verbasing. Dit was die enkele rede vir die agteruitgang van die ruskampe want niemand was in beheer daarvan nie en niemand wou geld daar spandeer nie. Dit was die eerste groot taak van Bruce Kinlock om die plekke staats eiendom te maak en op te gradeer en n fooi te hef wat weer terug geploeg moes word. Dit het die uitfasering van n hele paar operateurs tot gevolg gehad. Baie was gedoen deur baie mense om Botswana se onbewerkte gedeeltes toeganklik te maak vir mense. Uit eie Tswana geledere was niks gedoen nie en kon ons die werklike inwoners van die land nie eintlik gebruik nie. Hulle het hulle self as bestaans boere gesien en neergesien op die mense wat wou werk. Afrika lyk maar op baie plekke so.

Ons het soos maar altyd, baie wild gekry van baie spesies en ek het weer eens besef dat die kwota wat ek vir die Chobe gehad het nie n merk op die troppe kon maak nie. Daar was veral baie swartwitpense wat elke jagter maar wou skiet en baie troppies bastergemsbokke met baie mooi bulle by. Baie mooi koedoe bulle wat tot tien in n trop was met baie mooi trofee by en n paar troppe leeus en een het n luiperd in n boom vasgekeer. Die Kiaat het n baie regop stam gehad en hy het sy jong vlakvark bo in sy mik gehad en die leeus was lus vir sy vark maar hulle kon die stam nie klim nie. Die kameras het gerol en die mense van ver oor die water was dit nie te wagte nie.

Jy kon enige plek stilhou en jy sou diere sien van n hele paar spesies. Die stadige migrasie uit die suide het op sy tyd plaas gevind en alles het gekalf of gelam en die wereld was mooi groen en oral het die donderweer opgesteek en kon ons die buie sien uitsak. Toe ek hulle die aand vra wat vir hulle die mooiste was het hulle gese die hiena wat haar kleintjies in die bakkie se skaduwee laat drink het. Wonderlik hoe smaak kon verskil, ek het nie baie van die stink goed gehou nie. Ek het hulle nooit onnodig geskiet nie maar sou ook nie my liefde betuig vir hulle nie. By die bevolkings kampe het ek basies meer probleem hienas geskiet as leeus want dit was ook trop diere waarvan die wyfies gaan broei het en nooit weer in die troppe toegelaat was nie. Net soos by wildehonde mag net die Alfa teef gebroei het. As n ander een sou dragtig word is sy of haar kleintjies doodgebyt of sy het die trop vir ewig verlaat. Dit was die enkelinge wat probleme gemaak het en baie inwoners van Afrika loop met die letsels van die sterk kake rond. Maak geen fout nie, hulle is van die intelligentste diere op aarde en baie effektiewe jagters. Hoewel hulle stink is hulle van die roofdiere wat die meeste was en bad waarvan ek weet.

Ons het by die ruskamp gekom en die mense het ons by die hek kom haal want almal was te bang om te gaan wild besigtig en ons moes die probleem oplos. Ek het nie die bul gesien nie maar geweet van die watergat wat naby was. Daar was twee groepe toeriste en die laaste wat ek wou gehad het was om diere te skiet waar baie mense met baie oe en kameras was.

Katwindi en ek het eers koffie gedrink want ons is sonder ontbyt weg by die huis. Luka en Jeannie het by die bakkie vir die twee Amerikaners ontbyt gemaak en die hele toergroep wou weet wat ons sou doen. Ek het hulle aan Jeannie oorgelaat en met die plaaslike natuur manne gaan praat. Om iets onvoorbereid te doen was nooit vir my nie en ek wou ook weet aan watter sonde die bul nou eintlik skuldig was. Die grootste probleem was dat daar nie bevolking was wat die vleis kon benut nie en ek wou ook nie n olifant binne n watergat skiet nie. Aasdiere sou daar genoeg wees en die karkas sou nie onbenut gelaat word nie. Ook het ek in Rhodesie gesien dat die natuur baie gou bederf en as hulle jagspanne sou begin skiet dan sou leeus die skote hoor en selfs aasvoels het die jagbakkies uit die lug dopgehou. Waar daar protein was sou diere baie gou aanpas en leer om te kom aas wat ook baie abnormal was. Dit moes in die Chobe verhoed word.

Die bul was blykbaar n groot bul en hy wou in die kamp inkom en het sy bes probeer om die heining te breek en mense wat naby die heining gekom het, het hy verskree en probeer storm en selfs na hulle gegryp met sy slurp maar die heining het hom uitgehou. As hy sy vrees vir mense verloor het en hy was alleen dan was hy n probleem en net n kwessie van tyd voor hy sy frustrasies op mense sou uithaal. Botswana se beleid was baie duidelik aan my voorgele. “ Ons het baie diere en min mense, haal die probleemdiere uit. Dit is waarvoor ons jou betaal. Beskerm ons mense te alle tye.”

Ek en Katwindi het met die gewere na die water toe gestap want dit was waar hy laaste gesien was. Daar was baie olifant spore maar onmiskenbaar die een wat sy voorkop in die modder boor en sy tande vuil maak en eintlik net met n magsvertoning besig is om mense die skrik op die lyf te jaag. Katwindi en ek het terug gestap tot by die kamp en ek het werklik die olifant jammer gekry hoewel ek hom nog nie eens gesien het nie.

Die ou bulle het hulle selfvertroue verloor as die askaris doodgeskiet word en hulle alleen was want hulle oe en ore was nou weg en hulle wat trop diere was, was dan alleen. Ek het nie geweet van een geval waar ou bulle nuwe askaris bygekry het nie en waar hulle met hulle lewe kon normaal voorgaan na so n uitdunning nie. Hoe meer ek die diere gesien het hoe minder het ek van mense gedink. Hierdie was n mens gemaakte probleem wat net sou groter word. Ek het baie male in my lewe lekker gevoel as ek n goeie skoot geskiet het. Ek het nie een maal lekker gevoel na n olifant nie en ek moes dit baie male doen. Baie male en miskien die meeste male onder baie groot spanning en stress.

Omdat die Amerikaners by was het ek engels gepraat en ons opsomming gegee soos ek en Katwindi gedink het. Bulle wat magsvertonings hou is nie werklik aggressief nie, eerder is hulle geweldig onseker van hulle self en probeer mense oortuig om hulle uit te los. Hulle sou die ruigte gaan opsoek en probeer skuil en net as hulle met mense in aanraking kom n bek opsit wat baie gevaarliker gelyk het as wat dit werklik was. Tog sou hulle uit onsekerheid nie huiwer om te storm as hulle gepla word nie. Ongelukkig was al die ruskampe by waters gelee wat deur die ou bulle besoek sou word en hier in die suide waar water skaarser was moes hulle met mense in aanraking kom. Ek het op die stadium olifante baie goed geken en amper geweet wat in hulle gedagtes aangaan. Diep in my hart het ek hulle jammer gekry want dit was mens gemaakte probleme waarin hulle onskuldig was. Daar was hopeloos te veel van hulle om te kon dink aan hervestiging of om werklik groen te kon n redeneer. Ek het dit so aan Jeannie en die Yanks verduidelik en hoewel ons nie voorbereid was om oor te slaap nie sou ons as dit moes want ek wou myself eers goed vergewis van sake en die olifant die beste van alle opsies gee. Dit was binne die grense van die park en hier het nie mense gewoon nie. Daar was nie voltydse inwoners wat hy kon kwaad doen nie. Net die toeriste. Wat my betref het kon hulle nog n dag binne die ruskamp se heinings gebly het.

Ons het die spoor gevat en die twee Amerikaners was by en ek het vir Jeannie by die ruskamp gelos by die toeriste. Ek het geweet dat sy haar man baie beter as ek kon staan en die redenasies van Afrika net so goed soos ek geken het. Daar was baie olifante in die omgewing en ek wou net myself vergewis of hy sou maters maak met ander troppe of dan jong bulle. Ek het geweet dat ek ek uiteindelik die bul sou moes skiet maar ek was maar net n week terug in Botswana en het reeds twee bulle geskiet en het nie geweet waar dit sou eindig nie. Hy het n kenmerkende linker toon nael gehad wat sy spoor maklik gemaak het en na twee jaar se bykanse voltydse jag kon ek ook spore lees en kon niemand meer vir my lieg nie. Die spoor was duidelik op die natgereende sand en die wereld was meer oop as die noorde waar ek die ander bul geskiet het.

Ons het hom na bykans drie ure se loop gekry met twee baie moee Ameriknars saam met my. Hy was by die water tussen n klompie ander jong bulle en n groot bul. Hy en die ander meester was mekaar aan die ruike en gesels met die slurpe en stof gooi en water gooi soos hulle maar kommunikeer. Daar was n sterk suide wind en ek kon tot naby hulle gaan. Ver in die weste het die weer opgesteek en ek het geweet dat die suide wind dit sou maak reen. Hy het twee kenmerkende tande gehad, een wat afgebuig was grond toe en die ander een wat normaal was. Bo sy linker oog was n knop so groot soos n lemoen en ek sou hom tussen duisend ander kon uitken.

Ons het gaan sit en Matabele gepraat want ek het vergeet van die twee Amerikaners en die troppie dopgehou wat so veertig meter weg was. Ons het hom n naam gegee “ Gcaba Amazinjo” wat beteken “Snaakse Tande.” Hulle was met hulle kennisname besig en magsvertoon en het my baie laat dink aan koshuis kinders wat maar altyd die sterkste en grootste en magtigste wou wees. Die 416 was reg en op veilig en ons was reg om die bul te skiet en ook as van die ander sou ongeskik raak. Dit was n lawaai en geraas by die water want dit was nog n bul met stomp kort en dik tande en vyf jonger bulle en die twee ou manne het mekaar gepak in n skrum om te kyk wie die sterkste kon skrum.

Dit is nogal iets om te sien. Geen aggressie nie net brute krag teen krag en spiere wat al stram was en nekke en tande en doodstil met die jonges wat net staan en kyk hoe die twee ou manne mekaar pak. Dit het seker n uur aangehou en later was beide moeg en moes hulle op n stilstand besluit het. Hulle het langs mekaar gaan staan en water oor mekaar gegooi en die ander een het sy slurp binne in die bek van Tande gesteek en water uit sy pens gesuig on oor albei gespuit. Luka het langs my geprewel “Xholo” wat beteken Vrede. Ek het hulle kamp toe gestuir om n bakkie te gaan haal en die hele situasie aan die twee Amerikaners verduidelik en verskoning gevra dat ons Matabele gepraat het.

Hulle het lank mekaar gestaan en natspuit en weer n paar skreeue gegee en stof opgeskop en toe dit later word het hulle geloop van die water af en een jong bul het vir Tande met sy slurp aan die stert gevat en hulle het verdwyn, sag soos net hulle kon met n vriendelike gerammel van pense en ek het geweeet dat ek hom miskien eendag sou skiet maar nie vandag nie. Hy was weer tussen sy mense en hulle het hom aanvaar. Ek het met weemoed in my eie binnekant gaan krap en gewonder of ek nie maar baie dae te vinnig met die 416 was nie. As daar een enkele dier n siel in Afrika het dan is dit n olifant, ek was dalk skuldig aan moord, het dalk te inpulsief opgetree en dalk te maklik geskiet.

Ek het die storie die aand vir Jeannie en die twee Yanks vertel en hulle het dit op kamera gehad en hulle was baie dankbaar vir die menslike optrede van n jagter. Toe ek op my kniee gaan die aand het ek verskoning gevra vir die wat ek dalk onnodig geskiet het en ook omdat ek dalk die staat se geld nagejaag het en betaal was vir elke probleem dier. Ek het vir die Goeie Gewer gevra om asseblief vir my die verskil tussen probleem diere baie duidelik te maak. Diep binne in my was n skuld gevoel teenoor n paar dinge waar ek dalk nie diep genoeg oor na gedink het nie.

21 Januarie 1978.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed