Jongste aktiwiteit:

Prof Elloff kom maak n draai by Nyati
vir

Prof Elloff kom maak n draai by Nyati

Rob en Jakkie en Piet was nog steeds by die Gwai konsessie besig om te jag en ek het n hele paar vragte gehad om te ry na Nyati toe en ook moes Luka en Katwindi hulle finale skuif maak en so lank dinge gaan inrig vir my finale trek. Daar was die papierwerk wat moes geskuif word en Kabous se mense het my verbindings klaar gedoen en eintlik het niks behalwe sentiment my nog by die Linyati gehou nie. Ek het dit nooit geweet nie maar ons huise is vol gemeubileerd aan ons afgegee selfs met die borde, glase, messe, vurke, alles , ons kon net intrek. Weer was Kabous se pa se rol hierin werklik onmisbaar, daar was selfs komberse, lakens, handdoeke stoepstoele alles. Ons het eintlik net ons klere en gewere nodig gehad. Hulle het selfs Jeannie se kamer pienk geverf. Absoluut wonderlike diens.

Selby het laat weet dat prof. Elloff wou kom kuier en ek sou hom by Nyati ontvang, die rede was maar oor die groot leeugetalle wat in die Chobe voorgekom het en hy wou die migrasie van diere sien. Hy was n leeukenner by uitnemendheid, wonderlike nederige mens met n kennis waarvan die meeste mense net oor kon droom. Hy het in diepe kennis gehad van die kleinste akkedissie tot die grootste oilfant. Ek het sy besoeke altyd geweldig geniet en het regtig uitgesien daarna. Hy het byna nooit sonder studente of rugbyspelers gekom nie en dit was darem ook weer vars geselskap. Baie Noord Transvaalse en later Sprinbok spelers het by ons saam met hom gekuier. Hy het die wonderlike vermoe gehad om enige mens te laat belangrik voel. Enige vreemdeling sou binne minute vir die man die grootste respek he en hom waarlik liefkry soos jou eie ouers. Tussen my en hom het n baie groot vriendskap ontstaan wat vir jare geduur het. Hy was n absolute gebore leier wat met geweldige nederigheid gelei het, jy was te bang jy maak hom seer. n Absolute “Gentleman” wat ook n “gentle man” was. Hy was versot op Jeannie en sy oor hom. Hy sou nooit sonder n geskenkie of n blommetjie of iets by haar kom nie, vir my was hy n wonderlike rolmodel. Sy sou sommer op sy skoot gaan sit en hulle sou vir ure gesels. Seker van die beste sout wat ek op aarde gesien het.

Dit het gereen in die suide en die migrasie van wild het begin. Van bo uit die noorde uit die Wes Caprvi die Kavango en al langs die Delta tot so ver as die Savuti en die Linyati en die Selinda Kanaal het derduisende diere gestroom na die suide tot ver suid van die Makgadigadi panne en in die sentrale Groot Kalaharie sou die troppe beweeg en dan net na die nuwe jaar weer terug kom. In 1977 voor die Bek-en-Klou-seerlyn gebou was, was dit n groter migasie as wat vandag nog in die Serengeti gesien word. In 1980 was dit steeds die grootste migrasie van diere ter wereld. Werklik iets om te sien en te aanskou en vir my was dit elke jaar n belewenis om sommer tussen die troppe in te ry en net te kyk en deel te wees daarvan. Dit was ook een van die redes vir die prof. se besoek en ek het hom beloof dat ek sou laat weet as ons die migrasie begin gewaar. Dit het later as die vorige twee jare gebeur omdat die reens later gekom het.

Ek en Jeannie is by die Linyati weg, ons sou weer terug kom maar Luka en Katwindi nie, hulle sou permanent trek en later die boesmans kom haal. Hulle moes hulle dinge en die kombuis en die administrasie in orde plaas want hulle sou nie oor die feesdae met vakansie gaan nie. Prof Elloff sou drie aande by ons wees en die gaste huis moes nog reggekry word. Hy het altyd geweet om by die nonne op Makuku vir ons genoeg groente te laai wat nog maar skaars was by ons. Hy het gewoonlik met twee F250’s gekom en was gewoond om in die veld te slaap en het tente en kampbeddens en alles gehad.

Dit was weer opmerklik die verskil wat ons kon waarneem na ons laas daar was. Die watergat het baie meer water in gehad want die manne het n boorgat ook geboor en die pomp het ook daarin gepomp as dit nie die watertrokke moes vol maak nie. Wild van baie spesies was daar maar die onrustigheid van die migrasie was in die lug. Dit het gereen en die stof was minder tog sou die groot troppe die sand wereld gou weer snuif trap. Ons huis was baie netjies en Jeannie en die ander twee vrouens het nie nodig gehad om baie te doen nie. Die man wat my meubels gemaak het by Katima, Spyker, het vir my n dik Kiaat van meer as n half meter bree blad en 60mm dik en amper twee meter lank gesny wat op vier swaar pote gerus het vir my herlaai tafel. Die blad was los verpak en van die werkers het ons kom help om dit vas te sit en my pers ook en ek het baie uitgesien na die herlaai proses wat ek in die VSA geleer het. Hy het die mooiste rakkies vir my gemaak en die konstruksie ingenieur wat ook n jagter was het vir my n spesiale geweerkas in die kamer laat in bou. My plek was werklik baie netjies en hy het ook n baie sterk deur laat aansit want daar sou ander mense ook in ons basis woon wat dalk kon krap in my goed.

Jeannie het die honde saamgebring en hulle het nie van die eletriese draad geweet nie maar sou dit baie gou agterkom toe n ratel baie naby die heining kom en aan die heining geraak het en hulle hom wou storm. Hulle was baie jammer vir hulle self daarna en sy moes baie troos. Skielik was hulle bang vir alles en wou net by haar wees. Diere kon glad nie die effek van skok kleinkry nie en dit sou vir baie vermaak sorg. Prof. Fritz het gekom en hy was absoluut stom geslaan deur die plek. Hy wou nie veel van my hoor nie en hy en Jeannie het met die honde deur die hele basis gestap en ek was seker dat sy vir hom liewer was as vir my. Sy moes alles verduidelik wat waar gaan gebeur en ek het hulle laat begaan en die manne saam met hom verwelkom en op die toring gaan sit. Snaaks hoe n mens stil word in sulke gevalle en dit was werklik n geval van stom geslaan deur die diere en die wonderlike uitsig. Prof. het gekom en by my kom sit en lank stil gebly en later gese dat net Jeannie en haar geaardheid mooier as die plek was. Die watergat was driekwart vol en daar was gedurig spesies wat kom drink het. Daar was n olifantkalfie wat seker net n paar dae oud was en hy was nader as twintig meter van ons af. Dit was werklik iets om te sien en ek het n bandopnemer wat Jeannie vir my in die VSA gekoop het gaan haal en ek het eers vir die prof gevra of ek mag opneem want hy moes die migrasie van die diere aan my verduidelik. Die opnemer was later my dagboek en ek het oor die jare 144 bande versamel en mooi geliaseer en dit was vir my baie werd om ou herinneringe op te roep.

Goeie mens wat hy was het hy dit eerstens aan die Skepper se werke toegeskryf en daarna die mens se verklaring probeer gee. Somer reens het eerstens in die noordelike gedeeltes geval en later meer suid. Die noorde het meer reen gekry en die grond was ook meer vrugbaar en die drakrag dus baie hoer. Dit was egter arm aan mikro- en selfs makro- elemente wat elke dier nodig gehad het vir normale oorlewing. Die elemente was volop in die suide wat n baie laer reenval gehad het en dus moes die diere dit daar gaan vreet. Dit gee die noorde se veld dan kans om weer uit te groei vir die winter wat dan voorle. Hulle kon dit nie doen as daar nie reen geval het nie en dus water en kos was nie. So het hy die groot rendier migrasie in die noorde van die Amerika en ook in Finland beskryf wat weer meer oor klimaats toestande gehandel het en dan ook veld tipes. Hy het ons vertel dat duisende takbokke in die noorde van Europa gevrek het toe hulle basies selfmoord gepleeg het deur in die see in te migreer. Dit het ook blykbaar met trek springbokke gebeur in ons land langs die weskus naby Springbok. Die Serengeti het hy beskryf as presies dieselfde net die verskil was dat die diere daar die wereld byna opgevreet het en baie male verplig was om te migreer al het dit nie op tyd gereen nie. Voor die mensdom Afrika se werke kom deumekaar krap het, het diere van so ver as die sentrale lande in Afrika suid en selfs noord gemigreer. Hy het vertel dat daar selfs in sy jong dae ook kleiner migrasies in die Kruger Nasionale Wildtuin was. Veral ook Blouwildebeeste en Zebras wat blykbaar maklik migreer. In Botswana het bykans nie diere bestaan wat nie tot n mate migreer het nie. Ek het n hap-oor olifant koei in die Wankie gesien en sy was ongeskik en wou vir my en Jeannie trap, ses maande later moes Selby haar skiet net noorde van Makuku. Dit was n hele ent en ook n lang afstand wat nie water gehad het nie.

Daar het natuurlik ook diere van dieselfde spesies nie gemigreer nie, hulle was of te swak of te oud of bloot intelligent genoeg om net agter te bly. Hulle het geweet dat die troppe weer terug sou kom. Die klein goedjies het net verskuif met so n migrasie soos bv. dik dikke en steen bokke en sou weer die winter op dieselfde plek wees. Hulle het lewenslank gepaar en was nie trop diere nie. Die roofdiere het saam agter die troppe gegaan behalwe wildehonde wat baie gebieds gebonde was. Dit het n baie groot effek gehad op die wildstapel. Eerstens kon daar nooit inteling plaasvind nie want bulle en ramme het ander gebiede en ander vroulike troppe gekry. Dit het die troppe gesond gehou want ou diere en swakkes en gebreklikes het uitgesak en roofdier kos geword. Dan het hulle die noodsaaklike minerale gaan vreet wat hulle sisteme weer n jaar aan die gang kon hou tot die volgende migrasie. Dit het ook die effek van druk beweiding op die veld geplaas wat dan kaal gevreet sou word en weer lank sou rus. Ek kon vir ure na die prof luister en ek het gewonder hoe sy studente hom moes geniet het, die wat saam was het hom bykans aanbid.

Prof. Fritz was ook n unieke kenner van die inheemse volke van die Kalaharie, veral die !Kung en die Ghalaghadi boesmans, die klein geel mensies wat in die harde wereld kon oorleef en nooit onder beheer van enige wet of reel wou staan nie. Hy kon vir ure praat oor die mense en selfs n bietjie van hulle taal ook. Omdat die Chobe se boesmans onder my sou val in die komende jare het ek baie belang gestel in wat hy te vertel gehad het. Ons het die aand gebraai en ek wou dat prof. vir ons die boesman tekeninge gaan uitle waarvan daar duisende was in die heuwels agter die basis. Luka moes die volgende more na Victoria valle gaan en n broer van Suzie en sy vrou gaan haal wat my huishulp sou word, hy sou vir drie maande proeftydperk kom. Katwindi moes as n ekstra lyfwag saam gaan, ek was nog nooit werklik diep in die heuwels nie en ek het geweet dat daar baie wilde goed sou wees. Die migrasie was nog nie voltyds by ons nie en n dag kon daarvoor opsy gesit word. Ons het die aand prof se geliefde eland fillette gebraai en vir n slag lekker groente ook geeet. Ek sal altyd onthou hoe n koel en kalme mens hy was. Met sy navorsing het ons een dag net noord van die Makghadighadi panne op n groep boesmans afgekom wat bykans deur leeus opgevreet was en ek het een bakkie na Makuku gestuur met die oorlewendes en ek en hy het die leeus met die ander bakkie agtervolg. Hy moes bestuur en ek was agter op en sou skiet en ek het twee van die drie geskiet en gesukkel met die laaste een. Hy het na n lang agtervolging die bakkie gestorm en die voorste modderskerm vol gate gebyt toe ek hom uiteindelik dood kry. Prof. het op sy droe manier na die skoot uitgeklim, na die dooie leeu gekyk en gese. “ Kom byt nou weer die bakkie jou robbies.”

Ons is die volgende more vroeg in die heuwels in en dit was seker die interessanste toer in my lewe. Daar was werklik duisende tekeninge van baie soorte diere maar die eland was die meeste en ook die mees kunstigste uitgebeeld. Vir die mense is die eland werklik baie belangrik en speel dit n groot rol in hulle lewe. Hy bied nie net kos in oormaat nie maar sy leefwyse van groot en sag geaard tog vinnig met baie uithou vermoe is seker maar waarop hulle lewens geskoei was. Elke groot jagter het sy lewens verhaal hier kom neerskryf op die rotse en daar was van hulle wat volgens prof nog baie vars was. Daar was ou verhale van konflik met baie ander nasies waar boesmans hulle met pyle skiet en selfs klippe op hulle afrol. Baie van die mense was ook in n soorte van beswyming en soos prof. verduidelik het kon ons dit duidelik sien vanaf die sketse. Daar was ook n prent van wat ons kon aflei Livingstone moes gewees het met mak perde en dan manne met gewere wat dalk ou jagters kon gewees het. Daar was ook afbeeldings van tweelinge wat dood gemaak was want dit was teen hulle wette om n tweeling groot te maak en ook van swak en ou boesmans wat in die veld gelaat is met kos en water om n natuurlike dood te sterf. Soos die jare aan geloop het, het die sketse daarby aangepas. Die teorie van Prof. dat baie van die sketse baie jonk was is bewys deur n paar waar selfs ruiters en perdekarre in gespan gestaan het. Daar was twee sketse van baie belang vir hom. Die een was van n krokodil wat gejag was en die ander van n baber wat iewers gevang was. Dit was uniek in die opsig dat die mense verskillende gelowe gehad het en party die maan aanbid het en ander spesifiek babers en krokodille.

Tussen elke groep boesmans was daar n soorte van toordokter wat dan ook maar die leier was en sy woord was wet. Dit was gewoonlik n ou man wat kastig oor bonatuurlike magte beskik het. Die bonatuurlike magte loop baie wyd deur Afrika en dit is iets wat die westerling nooit sal verstaan nie hoewel baie daaraan glo. Prof. het dit as magte van satan beskryf wat beheer oor die mense geneem het en sy verklaring daarvoor het vir my as leek baie sin gemaak. Dat die mense regtig kon vooruit sien het ek n paar maal teegekom en dit was n feit. Hy het van die sketse gewys wat dit ook aan toon en die verklarings daar voor gegee. Die maan het n groot rol gespeel en hy het aan ons verduidelik dat met nuwe maan sou die bene van diere nie murg in he nie, die jagters sou nie eens die bene oopkap agter murg aan nie. Met donker maan weer was daar baie murg en het hulle spesfiek gegaan vir groot diere met baie murg en dus dik bene. Ek het dit nooit self op die proef gestel nie maar hom geglo. Ek het my boesmans gevra en hulle het dit beaam. Die plaaswerkers wat ek mee saam groot geword het, het ook nie saad in die grond gesaai met nuwe maan nie, ek het hulle nooit gevra hoekom nie.

Boesmans migreer maar gedurig agter wild en reen aan en soos die ou toormanne vir hulle voorse om te doen. Dit het nog in prof. se junior jare gebeur dat groot groepe bymekaar kom elke jaar met een of nader nuwe maan en dan kom teken en ook tussen die groepe vrouens uitruil en dan weer sou terug gaan na hulle ou wee. Dit is ten strengste verbied deur die koloniale regering en ook die nuwe onafhanklike regering, of hulle daarby sou hou het hy nie geweet nie. Tradisies en gebruike was baie sterk in die mense geteel en ek het uit my bietjie ondervinding sterk daaroor getwyfel. Selfs die ou hoofman by Makuku het twee vrouens gehad, een wat oud was en een wat jonk was. Dit was nie eens die onbeskaafde Haikum, !Kung en Ghalaghadi boesmans nie. Die wat ons mee gewerk het was baie verder gevorder en beskaaf as die regte woestyn boesmans. Die egte woestyn boesman het ook nie sy eie vrou gehad nie maar hulle is gedeel tussen mekaar en daar was n paartyd net soos by wilde diere. Dit is soos prof. dit in die ou Suidwes gesien het. Die sterkste jagters sou die meeste deur die die vroue bekoor word. Kinders buite seisoen gebore is lewend begrawe.

Die heuwels het hom so gefassineer dat hy n twee weke tyd met my gereel het om n groep kenners te bring gedurende Maart 1978 om na nuwe spesies en die sketse te kom kyk. Ons is die middag laat terug en die grootste ontdekking wat ons gemaak het was dat daar klipspringers in die heuwels was. Tot op daai stadium was hulle onbekend in Botswana en is hulle net op die boesman tekeninge gesien. Ek het van die boesman tekeninge geweet van die bokkies en dit het my gefassineer en dit was van die hoofredes vir ons besoek aan die sketse. Dit het die volgende jaar redelik opslae gemaak tussen die natuurkundiges in Afrika en dit was n sterk bevolking en by twee ander heuwelgroepe is ook bevolkings ontdek. Dit was nie al nuwe spesies nie. Botswana het n natuur wonder geword en sal dit vir nog n aantal jare bly. Ons het weer die aand heerlik gebraai en sou die volgende more die migrasie gaan sien en weer het die meester kenner ons geboei soos nog nooit tevore nie. Dit het baie gereen die nag en dit sou aangenaam wees om die troppe wild te kon aanskou sonder die gewoonlike stofwolke wat vir myle oor die vlaktes getrek het. Ons het tot laat in die aand soos kindertuin kinders gehang aan die vertellings van prof. wat nie net oor die natuur gegaan het nie maar oor die hele lewe. Hy was n geweldige wyd belese mens, n mens mens.

Luka het die volgende more gekom met n man wat se naam Brian was en hy en sy vrou was ook by Livingstone werksaam en hulle sou my huishouding en tuin werk doen en hy het ook n swaarvoertuig lisensie gehad en dit het my gepas. Ek het n vragmotor van die staat aangevra om ons benodigdhede vanaf die groter plekke aan te ry en het nie n bestuurder gehad nie. Hulle was ook vanaf Rhodesie en ten volle geleerd en ek kon in Matabele of Engels praat met hulle. Luka het gese dat die migrasie baie naby was en dat dit duisende diere was en dat hulle vir n paar dae sou trek. Ons het besluit om reg te maak en ry in die rigting van die voorste groepe.

Dit het my altyd getref dat die diere lyk asof hulle in n waas verkeer het. Koppe op die grond en net in een rigting, suid. Daar was van alles behalwe oilfante wat maar gedurig rond getrek het. Ons het met die twee bakkies gaan staan tussen die troppe en hulle sou bykans teen die bakkie verby skuur met geen vrees vir die mens nie. Duisende blouwildebeeste, zebras, hartebeeste, gemsbokke, volstruise, tssesebes, bastergemsbokke,springbokke swartwitpense en alles wat daar te vinde was. Baie groot troppe buffels en kameelperde en almal wat net een doel voor oe gehad het, trek suidwaarts. Die veld was kaal getrap en die grond nog nat en ek het vir Selby geroep op die radio en by die Delta het dit net so gelyk. Ook langs die rivier af het het derduisende diere van alle spesies getrek en hulle moes mekaar aangesteek het want Jakkie het gese dat hy ons mak diere toegemaak het want hulle was ook onrustig. Daar moes n tipe telepatie tussen diere gewees het want alles in die veld was onrustig. Dit het op die nat veld gelyk asof hy byna skoon geploeg was van die duisende hoewe en pote, op die grond was niks, kaal gevreet. Ek het geweet dat die agterpunt nie sou kos he om te vreet nie, dit was kaal tussen die troppe en baie sou uitsak en die leeus wat agter was sou n goeie tyd he. Hulle sou nie so ver suid gaan soos die ander soorte nie. Roofdiere het die agterhoede gedek. Bo hulle sou die duisende aasvoels draai en al die goed wat saam eet. Baie van die diere sou in die suide lam en kalf en oor twee maande weer terug trek met hulle kleintjies. Die slag sou dit nie so n malle gedoente wees nie en sou dit stadig en meer doelgerig wees en ook sulke groot troppe nie. Selfs die rooibek vinke het soos springkane gelyk en binne minute kom drink en weer soos wolke opgevlieg en is ook suid. Om in die middel van so n skouspel te kon wees was werklik iets besonders en dan kon n mens net kyk na die Skepping en dit wat Hy doen.

Ek en prof. en die ander het die aand gesels daaroor en geweet dat dit nog vir n hele paar dae so sou wees. Nie altyd dieselfde roete nie, hulle sou weer afwyk en dele soek waar nog iets te ete was. Hy het besluit om nog twee aande oor te slaap en meer oor die groot migrasie te probeer uitvind en probeer die menslike verklaring daarvoor vind. El was baie bly om dit te hoor en veral Jeannie het dit geniet saam met die man.

8 Desember 1977




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Lollie het ‘n nuwe publikasie gemaak