Terug na Afrika
Paul het gese dat ons die 7de November kon terug vlieg. Daar was besendings wat per vliegtuig moes afgelewer word en ek het maar aangeneem dat dit pelsprodukte was. Die goed sou in kiste verpak word en ons moes via J.F.K. waar die eerste besending sou afgelaai word na Frankfurt vlieg waar n groot besending sou afgelaai word vir London en Milaan en van daar na Las Palmas waar daar nog n besending moes afgelaai word wat vir Japan en die Arabiese lande bedoel was. Dan sou ons op Windhoek land en twee aande oorslaap want daar moes Swakara pelse en wildsleer gelaai word en ook n besending afgelaai word en van daar na Maun want die groot vliegtuig kon nie op Makuku land nie.
My gewere was alles in ‘n kis verpak so ook my herlaai toerusting en hy het my verseker dat alles veilg sou wees. Daar was so veel sanksies teen ons land en die laaste wat ek nodig gehad het was om met gewere in n vreemde land gevang te word. Ek het op Portland met die loods gaan praat want ek was werklik tevrede om die wapens maar eerder te los as om gevang te word, hy wou hom dood lag. Omseiling van die groen mense was sy werk wat hy al vir jare vir die mense gedoen het. Hy het die roete al baie gevlieg en hy was kalm daaroor.
Ek het elke more wat ek daar was die geel perd gery en n draai by die plaaswerkers gemaak en die kinders bederf, van daar het ek gewoonlik deur of die beeste of die skape gery en party male by die varke of ook die wildtelery. Die perd het my verstaan en as ek geroep het, het hy gerunnik en hy het uitgesien om gery te word. Ek het vir hom nuwe ysters opgeslaan en hy was fluks tog skelm maar die spore het hom baie gou van sy planne laat afsien.
Die Meksikane was goed met perde maar hulle wou nie iets teen die baas se besluite doen nie. Hulle het my aanvaar as n man wat kennis van hulle werk gehad het en met n groot deernis vir kinders. Ek het die kinders geleer om oom te se en dit het soms baie snaaks uitgekom. Die hele plaas het teerpaaie gehad en die geel skoolbus het hulle elke more kom haal en daar was vier plase wat se kinders saam skool gegaan het by n sentrale punt. As n geel bus gery het, moes jy stilstaan en jou voertuig uit die pad neem, kinders het die voorrang geniet. Hulle het my elke more langs die pad gekry en gegroet en my een middag gaan wys waar die skool was. Dit was teen die wet dat n kind meer as 300 meter skool toe moes loop sonder die toesig van twee volwassenes, daar was busse en alle verkeer moes hulle respekteer. Hulle mag nie agter op n bakkie skool toe gery word nie tensy die bakkie n kappie op gehad het en daar duidelike tekens was dat dit skoolkinders vervoer.
Die skool was ook maar nie van die beste gehalte nie en die mense wat daar gewerk het was almal van Meksikaanse afkoms. Hulle was almal al landsburgers maar het tog nie die werklikhede van die rykmans land geniet nie. Bloot omdat ambisie maar net ontbreek het en die herkoms en groot word maar teen hulle getel het. Die tipe van skoolhoof het gehoor dat ek ook jag en ek moes kom praat met die kinders. Ek moes vertel van my land en die jag van diere. Jeannie is met fotos saam en ook van die ou 16mm rolprente wat hulle geneem het en ek ook die eerste maal gesien het. Hulle het dit vreeslik geniet en wou weet of die skoolbus hulle na my toe kon bring in Afrika.
Jeannie het gereel dat hulle die trofees kon kom besigtig en baie van die goed was werklik baie lewensgetrou as n mens n kind was en nog nooit sulke lang tande en skerp naels gesien het nie. Party wou weghardloop. Ons het n uitstappie gereel na die dieretuin by Portland. Ek hou nie van dieretuine nie net vir die blote feit dat ek nog nooit n dier gesien het wat gelukkig lyk agter tralies nie. Dit was vir baie van hulle en die ouers die eerste maal dat hulle in n groterige stad sou kom. Ek het gedink aan ons land wat as die muishond van die wereld voorgehou was en het hier baie meer verskille tussen mense in die grootste demokrasie van die wereld gesien. Ek het besluit om niks te se nie. Ons het almal bederf met n lekker ete en roomys en lekkers vir die kinders.
Ek wou nog n slag by die tandarts gaan kuier en ons sou n aand oorslaap en die gebied ook beter leer ken. Die platteland was eintlik heerlik in die opsig dat alles daar beskikbaar was en jy nie die druk van die geweldige groot stede gehad het om oor te bekommer nie. Hy het ook in ons land gejag maar het nie vir die manier van jag kans gesien nie. Daar was nog twee mense uit ons land afkomstig en ons kon op die manier waarmee ons groot geword het kuier en gesels. Jeannie was nou al baie goed met ons taal en sy het net af en toe iets gevra wat sy nie verstaan het nie.
Die woorde en die kerrie wat Kabous en Jakkie haar geleer het, het vir baie gelag gesorg en ek het n punt daarvan gemaak om haar reg te help en ook om hulle aan te praat. Dit was onregverdig om mense onwetend te leer vloek. Ek het weer my ouers van hier af geskakel en het lekker gesels en gese dat ek van Windhoek af weer sou skakel. Ons het een aand gaan uiteet by n “Western Restaurant” en ek en sy kon weer dans soos toe ons by die Kariba was. Die “Country en Western” liedjies was in ons land ook beskikbaar en ek het die meeste geken. Dit was heerlike ontspanning.
Wat my baie opgeval het van die platteland was dat daar sommer n horde fabrieke was wat in n groot behoefte oor die hele land sou voorsien, van klere tot wyn en selfs whisky is sommer op plotte gemaak en vir duisende myle versprei. Bykans enigiets denkbaar was daar en entrepeneurs wat n gaping sou sien en iets vervaardig. Sy het by ‘n leerfabriek vir my drie cowboy saals gekoop met die brandmerk van “King’s Ranch Texas” op en ek het hulle deur die jare nie veel gebruik nie. Ek kon n paar stelle lekker stomp spore koop wat ek vir jare mee sou perdry. Dit is alles gepos na my ouers toe. Jeannie het my na n plek toe geneem wat pype maak en ek kon van die beste gehalte hier koop en vir baie jare gebruiik, ook op n kleinhoewe. Ek moes afskeid neem van my vriende en dit was net tot n weersiens. Die manne sou almal baie jare my vriende bly.
Toe Selby my voorgestel het aan Paul en Ursula het hy ook die Afrikaner gewoonte van “oom” opgehaal en ek het dit met hulle bespreek. Hulle wou dit nie gehad het nie en ook nie sir of enige voorvoegsel nie. Dit was vir my vreemd om nie mense te eer nie want Jeannie het my ouers en vir die meeste ouer garde as oom en tannie aangespreek. Dit was die een aspek wat ek moes teen my wil aanvaar en hulle het dit as normaal gesien. Ek het probeer maar dit het nie gewerk nie. Dit het vir my vir baie jare n mate van n ongemaklikheid gebly, ouer mense moes geeer word en veral as hulle dit verdien het, hier het dit nie so gewerk nie. Ek moes hulle op die naam noem want dit was hulle manier van doen. Die mense van ander lande het ander gewoontes gehad en baie was vreemd en in n groot mate nie aanvaarbaar nie. Ons het anders groot geword in n ander wereld met ander gewoontes en waardes wat weer vir hulle baie vreemd was.
Paul het gese dat daar nog een ding was wat moes gedoen word en dit was om die oorlede seun se as te gaan uitstrooi by die rivier wat die verste grens van die plaas was en op die onderpunt gelee was waar die wild geteel was. Daar was n lewens groot beeld van die seun wat met die voel wat hy by my geskiet en die .22 gestaan en uitkyk het oor die rivier, net soos op die foto. Die standbeeld moes baie geld gekos het en was baie lewens getrou. Die hele plaas en ook die kinders en die fabrieks werkers was teenwoordig en ek het die mense baie jammer gekry. Daar het nie trane geloop nie, net n blyk van herinnering is voorgelees en ons het saam gelees en gebid. Die familie het die as rondom die beeld gestrooi en daar was ook die grafte van sy oorlede broer en die se gesin wat in die vliegongeluk die lewe gelaat het. Vir my was dit baie treffend maar weereens n vreemde ritueel wat ek nog nie in ons land gesien het nie.
Hulle het vir my en van die werkers die eer gegee om n paar bome te plant aan die weste kant van die beeld en die Meksikane het begin sing, dit was vir my aandoenlik en ek het sag weg geloop en teen die wildkamp se heining gaan staan. Hierdie mense sing mooi in hulle eie taal en hoewel ek dit nie verstaan het nie kon ek sien dat dit opreg bedoel was en uit hulle harte gekom het. Dit het my laat dink aan n plaas begrafnis en ek was maar nooit die soort wat daarvan gehou het nie. Die kind was baie bemind onder die werkers en soos die soort mense maar is het die seun in almal se harte in gekruip.
Die tyd wat hy saam was in Botswana en ons tyd op die Kariba het by my verby geflits en Jeannie het maar altyd gese dat hulle weet hy nie oud sou word nie. Tog moes sy skielike dood vir die gesin n groot skok gewees het en ek het gedink dat hulle dit op hulle eie vreemde manier verwerk het. Ek het terug gedink hoe ek in Botswana een more in die veld godsdiens gehou het vir my boesmans en Paul deel daarvan wou wees. Daarna sou ons baie saam godsdiens hou en ook hier by hulle huis in die VSA.
Daar het weer trofee opgedaag en daar was so vier aande oor voor ons sou vlieg, n paar mense was genooi om te kom groet en ook my tandarts vriend was daar. Die groot vet man wat aan die ongeneeslike siekte gely het en die honderdponder saam met my en Jakkie in die Delta geskiet het, het ook opgedaag. Dit was sy geweer wat ek by Jakkie gekoop het en die man was baie bly om my te sien. Later sou ek hoor dat hy bykans halfpad om die VSA gevlieg het om my te sien. Ek het hom genooi om weer te kom jag, die slag by Kabous.
Die Bongo wat Paul geskiet het was daar en as ek een bok mooier as mooi kon beskryf dan was dit die Bongo. Dit was werklik n baie mooi bul en ook die eerste maal dat ek die lewensgrootte bok kon aanskou. Daar was die Bergnyala wat hy in Ethiopie geskiet het en die was net so n mooi bok, tog nie so indrukwekkend soos die Bongo nie. Vir my wat nog nooit een geskiet het nie sal dit altyd een van die top trofee van Afrika wees. Ek wou die mense bedank vir hulle gasvryheid en het voor die gaste hulle genooi om by my in die Chobe te kom skiet. Ek het n kwota gehad as staatsamptenaar en sou dit vir hulle gee.
Daar was trofee wat hy nie gehad het nie en op ons plaas was en nie in Botswana voorgekom het nie. Ek het hom genooi vir n Rooiribbok, Vaalribbok, Blesbok en n Klipspringer, dit moes hy by ons kom skiet. Ek het Jeannie bedank wat my soos n blinde oral rondgery het en my gids was en sonder wie ek heel verlore sou wees. Ek het die Meksikane bedank hoewel hulle nie teenwoordig was nie, hulle het my hulle lewe gewys en wat hulle doen en my in hulle vertroue geneem. Paul het my bedank vir die landbou dinge en my baie mooi gese om dit sterk te oorweeg om die plaas te kom boer vir hom as ek klaar gejag het. Ek het gese dat ek dit sou oorweeg, dit was iets om in gedagte te hou. Afrika kon baie vinnig verander, nie altyd ten goede nie.
Die groot Amerikaner wou ook iets se. Hy het my bedank vir die moeite wat ek en Jakkie met hom gehad het, ek het gese dat ek op die stadium malaria gehad het en nie veel werd was nie. Hy het egter vir ons albei n persent gebring. Dit was twee Remington pasmaak gewere in 338 kaliber met herlaai goed en 500 rondtes vir elkeen. Daar was jagmesse en n horde persente en ek het skielik baie klein gevoel. Ek is so haastig uit Botswana weg dat ek nie een klient gekontak het nie en ek het vir baie van hulle beloof om te laat weet as ek na die VSA sou kom. Ek het gewonder wat Jakkie in die vreemde land sou gedoen het en of hy sy geliefde 303 vir die windgat geweer sou ruil. Ek het hom baie bedank en gese dat hy die volgende more moes saam gaan as ons die gewere sou gaan inskiet en nog herlaai komponente sou gaan koop. Hy en sy bestuurder het twee aande by ons geslaap en hy het soos gewoonlik alles geniet en was meer as dankbaar vir die Autios.
Ek wou die voorlaaste aand by die Meksikane gaan kuier en dit was soos ek verwag het baie suksesvol en ook met emosies belaai. Hulle het almal doodstil gesit en luister en ek het net gepraat en dankie gese en van die kinders het so n halwe sirkel kom sit en gesels en die mense het my n handgeweefde poncho en n groot hoed saam gegee. Weer het ek klein gevoel en hulle alles van die beste toegewens en die kinders aangese om hard te leer en op te let en sukses aan almal toegewens. Jeannie het drie skape gekoop waarvan ek nie geweet het nie en die goed is op sulke regopstaan spitte gebraai en ek moes noodgedwonge hulle nasionale drank n slukkie van neem, dit was die minder lekker deel. Die mense het ook diep in my hart gekruip en weereens het hulle kom dankie se vir die wildsvleis en die baie soorte wat dit was. Al was hulle dalk agtergeblewe was dit eerbare mense wat trots op hulle werk was en maar net die slagoffers van nog n stelsel was waaroor hulle nie beheer gehad het nie. Die kinders was vir my die lydende party en Jeannie het beloof om dit reg te stel voor ons sou vlieg na Afrika. Ek sou wat wou gee om sulke werkers vandag op n Karoo plaas te kon he. Toe ek die volgende more die geel perd vir oulaas gaan ry was ons nege ruiters, almal om vir oulaas net deel te kon wees van n vriendskap wat ons nie geweet het of dit weer sou kon voortgaan nie. Kindertjies het gehuiil op pad na die bus en die vrouens het gegroet en gewaai en gesing en ek was hartseer maar ook bly. My hart was in Afrika en ek het die land gemis en ek wou terug gaan so gou as moontlik. Die geel perd was nou so mak dat Ursula hom gemaklik kon ry, sy het gepraat van nog twee perde en ek het gese om hulle te hou, ek sou weer kom.
Die vliegtuig het baie ruimte gehad en Jeannie se goed was meer as myne, daar was n trourok vir Monica en n pak vir Kabous en baie persente vir almal ook in n kis verpak. Dit was net die drie loodse en n twee lugwaardinne en ek en sy. Die binne ruim was ook verander en ons het drie beddens gehad en n tafel en ons kos sou op die vliegtuig berei word. Dit sou maar lang vlugte wees en ek wou presies by die loods weet hoe lank elkeen sou wees, die landings tye en ook die tydperke op die lughawens. Ursula het met my kom praat en ons het nog nooit geheime tussen mekaar gedeel of weggesteek nie. Sy het my gese dat haar dogter baie mal is oor Afrika en dat sy dink meer mal is oor my. Ek het haar in alle eerlikheid beloof dat ek net so mal is oor haar maar nie op die oomblik dink aan trou nie, my lewe het net te veel dinge gehad en was net te vol onsekerheid maar dat ek nie van plan was om haar kind se tyd te mors nie.
Ons het op JFK geland en net vol gemaak en nog vrag gelaai en is fort na Frankfort. Daar sou ons agt ure oorbly en ons het op die lughawe gaan eet en ek het n paar persente vir my ouers gekoop en is toe na Las Palmas toe. Dit is langs die weskus van Afrika en ons het deur n Sahara sandstorm gevlieg wat nie baie aangenaam was nie, daar het ons weer vrag afgelaaai en ek het van die pille van Kabous se ma gedrink en geweet dat ek op pad was na Windhoek waar ons twee dae sou oorbly. Daar was n niggie van my op Windhoek en ek het onwillekeurig gedink aan die vorige keer toe ek daar geland het en n militere begrafnis in die suide van die land moes bywoon. Ek het besluit om die beste te maak van n land waar elkeen my taal gepraat het en het selfs die grond gesoen toe ek afklim. Dit was twee heerlike dae in Windhoek en ons het dit so geniet dat ek dit sterk oorweeg het om daar te kom woon eendag in my lewe. Suidwes se mense was soos my eie mense en ons het ons gate uit geniet. Die Duitse klubs met die Duitse musiek was heerlik en die vleis was bekend en ek kon in my eie taal praat. Ons het die stad deurgery en alles gesien en ek sou defnitief weer die plek wou besoek.
Ons het op Maun aangekom teen die oggend omtrent elfuur en ek kon die heerlike gevoel in my siel en liggaam voel indruis. Ek was tuis en al wat kort gekom het was Selby wat altyd laat was. Ek het n man geskakel en hy het met sy twee bakkies gekom en ons vrag gelaai en ek wou so gou as moontlik op Makuku kom want daar was twee bakkies van my. Toe ek by Selby kom was hy onder die indruk dat ek eers oor n week sou kom. My bakkie het nog net so met die gewere voor in langs sy huis gestaan. Hy kon partymale net te veel deurmekaar wees. Ons het n paar ure gesels en ek het my boesmans gelaai en is met die twee Land Cruisers vort na die Linyati. Elke neushoring en elke duif was vir my mooi en ek het die Gewer bedank vir die lang tyd oorsee. Dit was net te wonderlik om terug te kon wees. Dit het geruik na reen en die wind was noordwes en die blitse het ver oor die ooste begin slaan en ek het geweet dat dit oor twee dae sou reen.
10 November1977.