Pieter Mostert
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
2.Die misterie van ’n uitdyende kosmiese tydmasjien
Tyd sit om in kennis en kennis brug wysheid. Ons noem dit ondervinding of ‘lewenswysheid’, wat ’n mens bekom het oor ’n tydperk. Wysheid en kennis noop die mens om in verwondering te staan voor die misterie van die skepping van God asook die grootsheid en ondeurgrondlikheid van sy skepping. Selfs Salomo in al sy wysheid het nie die antwoord op alle vrae gehad nie (Spreuke31:18 ev.).
Die mens probeer al vir eeue lank die misterie van die skepping te ontrafel. Hoekom? Want dan word die ‘onbekende’ die ‘bekende’. Uiteraard is die mens geskape met ’n ondersoekende en wysgierige gees en deur God aangestel as Sy rentmeester op aarde, om Sy skepping te bewerk en te bewaak. Dít lei die mens noodwendig tot die bestudering van die heelal, wat as kosmologie bekend staan.
Die kosmologie is na my mening die kern waarin alle dissiplines funksioneer. Of dit nou Sterrekundiges, dierkundiges, wiskundiges, die fisikus, die filosoof, die ekoloog, ensovoorts, selfs die digter en die teoloog is. Almal vind mekaar binne die kosmologie, alhoewel vanuit verskillende gesigshoeke en met bepaalde vooropgestelde idees en opinies. Gottfried Wilhelm Leibniz het dit pragtig gestel: ‘Dit is ’n nimmer-terugwykende geveg teen skeptisisme en dogmatisme, ongeloof en bygeloof, wat gesamentlik gevoer word deur die godsdiens en die wetenskap, en die lydende wagwoord in hierdie oorlog was nog altyd en sal deurgaans in die toekoms wees: Voorwaards na God!’ Ek sal egter nie op die detail hier ingaan nie, daar dit buite die skopus van hierdie rubriek val. Ek sal eerder konsentreer op een aspek waarna al hierdie dissiplines soek en op pad is, naamlik ‘die onbekende’.
Ek is van mening dat God die mens toelaat om die misterie van al hierdie wonderlike dinge in sy skepping te ontrafel, maar tot op ’n punt waar Hy ’n streep trek en sê ‘dit is nou vêr genoeg, hier gaan jy nie oor nie’. Dít is die grens tussen die bekende en die onbekende. Een van die mees gesaghebbende wetenskaplikes van alle tye, Albert Einstein, het in gesê ‘Voor ons staan die heelal soos ’n groot, ewige raaisel.’
Die heelal is een groot uitdyende, skitterende tydmasjien waarbinne alle orde rondom tyd draai. Tyd draai die nag- en daeraad. Tyd draai die seisoene. Tyd draai die jare. Alles draai om tyd. Jy kan tyd nie terug draai nie. Tyd snel voort na die ewigheid, en die ewigheid huisves die onbekende. Maar, en ek kan dit nie beter stel as met die woorde van die russiese wetenskaplike, Fjiodor Dostojeweski: ‘Daar kom oomblikke wanneer tyd skielik stilstaan en plek maak vir die ewigheid.’
Tyd is bo alle twyfel ’n kardinale faktor in die raaisel van die mens se verwisseling van die tydelike met die ewige en betreding van die ‘onbekende’ …
——————————————–oo00oo——————————————
©Pieter Mostert [Silwer]
Bronnelys
1. Boslough, J. 1992 Masters of Time. London: J.M. Dent.
2. Jeans, sir J. 1934 Through Space and Time. Londen: Cambridge University Press.
3. Joubert, G. 1998 Die Groot Gedagte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad.
SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK
1.DIE EKLOGIE EN DIE KWESSIE VAN RENTMEESTERSKAP – ’N Woordomskrywing
Die ekologie is iets wat my baie na aan die hart lê. Wanneer ek oor die ekologie praat of daaroor nadink, kom daar noodwendig drie woorde by my op, naamlik: ‘rentmeester,’ ‘bioom’ en die woord ‘biotoop.’
Nou vra jy seker: ‘maar wat is ’n rentmeester, die ekologie, ’n bioom en ’n biotoop; en voorts, wat het dit met my te doen?
Laat ek verduidelik. Die woord ekologie is afgelei van twee Griekse woorde naamlik oikos wat ‘huishouding’ beteken en logos wat ‘studie’ beteken. Dus is die ekologie, ’n studie van die huishouding. Meer spesifiek, ’n studie van die huishouding van God, hier op aarde, deur die mens wat as rentmeesters oor Sy huishouding aangestel is. Kripties gestel kan ekologie beskryf word as ‘omgewings-biologie’, daar dit hom bemoei met die wetenskaplike bestudering van alle lewende organismes in die natuurlike habitat waarbinne hulle deur die Skepper gehuisves is.
’n Bioom daarenteen, is in ’n neutedop, die versamelwoord vir fauna (diere) en flora (plante), wat in ’n bepaalde habitat leef. In hierdie geval, die aarde. Die heersende klimaat asook die geografie binne hierdie bioom, wat as vegetasiegordels bekend staan, word bepaal deur die verspreiding van fauna en flora. Essensieël is daar ses belangrike biome op die aarde waarmee daar deeglik rekening gehou moet word, tydens die bestuur en ontwikkeling daarvan deur die mens as verantwoordelike rentmeesters van God. Hierdie ses biome is: Tropiese bosse, loofbosse, naaldbosse, graslande, woestyne en toendras. Binne tropiese bosse en tropiese reënwoude is daar ook sogenaamde mikrobiome geleë, soos onder andere die risosfeer. Vir doeleindes van hierdie artikel sal ek nie op die verdere detail hier ingaan nie, daar dit buite die skopus van die artikel geleë is.
Die woord biotoop is weer afgelei uit die Griekse woord biostopos. Bios beteken ‘lewe’; en ‘topos’ beteken ‘plek’. In die letterlike sin van die woord is ’n biotoop dus ’n bepaalde gebied, bekend as ’n ekologiese sisteem, geleë binne ’n bioom, (die aarde in hiedie geval), waarbinne die omgewingstoestande van sodanige aard is dat dit ’n natuurlike leefplek, (habitat), bied vir sekere spesies insluitend die mens. Binne sodanige biotoop is daar voortdurend ’n natuurlike wisselwerking tussen lewende en nie-lewende elemente. Sodoende ontstaan daar ’n gesonde ekologiese balans.
God het die mens aangestel as Sy rentmeester op aarde. ’n Rentmeester is iemand wat deur iemand anders aangestel is om sy eiendom tot sy beste voordeel te bestuur, en om gereeld aan die eienaar verslag te doen oor sy rentmeesters-aktiwiteite. Met ander woorde. rentmeesterskap is nie eienaarskap nie. God het die mens as rentmeesters van Sy skepping aangestel, nie as eienaars nie. Die mens, as rentmeesters van God, moet Sy skepping bestuur en gebruik tot God, wat eienaar is, se beste voordeel.
In Genesis 2:15 gee God vir die mens opdrag om Sy skepping:
* te bewerk en te bewaak (shama) of te wel op te pas. En dit is inderdaad volgens Taalkundiges, wat met die vertaling van die Hebreeuse woord, shamar, geïmpliseer word;
* wat betref die woord ‘onderwerp’, wat vertaal is uit die Hebreeuse woord kabash, is dit volgens die vertalers van die Bybel wel so dat laasgemelde Hebreeuse woord, die gedagte van ‘trap op’ en ‘oorwin’, ondervang; en
* wat betref die woorde ‘heers oor’, en vertaal is uit die Hebreeuse woord radah, kan die vertolking van vertrap, daaraan geheg word. Hoe vertolk ons hierdie ‘teenstrydighede’?
Indien ek die hele skeppingsverhaal in sy volle konteks lees, maak alles my mooi sin. God sê vir die mens, Adam, en dus vir alle mense, ‘bewerk en bewaak, My skepping’ en dit is eenvoudig. ‘shamar’. Kortom, om die ekologiese balans binne Sy bioom op verantwoordelike wyse te bestuur.
In Psalm 8: 6-9, sê Dawid, met verwysing na die mens as rentmeesters van God, die Skepper: U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van U hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug …
Die mens, en dit sluit alle mense in, nie net ’n gesellekteerde groep nie, is getaak vir die verantwoordelike bestuur en ontwikkeling van hierdie bioom tot voordeel van alle fauna en flora. Dit is dringend nodig dat die letterkunde, die ornitologie, die teologie, die ekologie en die wetenskap hande vat binne die breë spektrum van die ekologiese sisteem wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het, om sodoende Sy opdrag van rentmeesterskap effektief te kan vervul.
Die vraag wat ek by die leser van hierdie artikel wil laat is:
-
-
- * Hoe heers en waak jy as rentmeester van God, oor Sy skepping?’ Anders gestel: I
-
s jou skakel in die ‘ekologiese ketting’ wat God vir die aarde uitgewerk het, waarin jy as Sy rentmeester ingeskakel is, stewig in lyn met die opdrag van God?;
OF
* gaan ons maar ook nongelant die houding inneem van die woorde wat ek eenmaal op ’n ‘bufferplakker’ van ’n luukse motor gesien het:-
“ONS IS BESIG OM HIERDIE PLANEET TE VERNIETIG. ONS SAL LATER BY DIE ANDER PLANETE UITKOM‘.”
————————————–oo00oo———————————————–
©Pieter Mostert
BIBLIOGRAFIE
- Abrams, M.H. 1999. A glossary of literary terms. Heinle & Heinle. Boston.
- Becky, H. 1967-8. Anthologia Graeca. 4 bande. 2de verbeterde uitgawe. (Griekse teks met Duitse vertalings.) München: Ernst Heimeran.
- Cock, J, & Koch, E 1991 (eds). Going green: People, politics and the environment in South-Africa. Cape Town: Oxford University Press.
- Conradie, Erenst. 1996. Rus vir die hele aarde: Lux Verbi, Kaapstad.
- Cuddon’s Dictionary of Literary Terms (1984).
- Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
- Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
- Du Plessis, Isak. God en Wetenskap – en ons wat glo. 2003: Lux Verbi, Kaapstad.
- Jan van der Walt ed.al (2012) Interliniêre Bybel Grieks – Afrikaans Nuwe Testament Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Joubert, S. 2012 Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelse Reis vir ’n beter verstaan van die Skrif. Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Odendal, FF. (hoofred.) 2005. Vyfde uitgawe. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taa Johannesburg: Perskor.
- Simpson, D.P. (1979). Cassell’s Latin Dictionary (5th ed.). London: Cassell Ltd.
- Van der Watt, Jan, Barkhuizen, Jan, & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
- Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words (1971) F.F. Bruce. ed. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
- Vos, CJA & Muller, JC 1991.God, mens en wêreld: Mens & Omgewing: Orion, Halfway House.
- Webb, M. De Villiers, M. Du J.J. & Du Toit, P. 1983 Verklarende Biologiewoordeboek: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk, Bloemfontein.
- Wilkenson, L. Earthkeeping in the Nineties: Stewardship of Creation, (Rev, Ed. 1991) Wm. B. Eerdmans Publiushing Co. USA.
2.Saam kyk na Jesus
Hierdie paar opmerkings dien net as breë-trekke agtergrond aan die leser. Indien jy egter meer hieroor wil nalees, verwys ek jou graag na die bronne wat ek gebruik het soos gelys in die bibliografie aan die einde van hierdie artilel.
Die eerste drie boeke in die Nuwe Testament naamlik Mattheus, Markus en Lukas, staan bekend as die Sinoptiese Evangelies. Die woord sinopties wat ‘saamkyk’ beteken, het sy oorsprong in die Griekse taal. In wese kan gesê word dat hierdie drie sinoptiese evangelies ‘saamkyk na Jesus’, beteken.
Alhoewel elkeen van hierdie evangelies die gebeure vanuit sy eie gesigshoek beskryf, sê hulle op die einde van die dag dieselfde oor die lewe en leer van Jesus.
In die evangelie van Mattheus staan Jesus as die Messias voorop, terwyl die evangelie van Markus Jesus uitlig as Seun en lydende dienskneg van God. Die evangelie van Johannes, (wat nie deel is van die drie sinoptiese evangelies nie), laat die klem weer val op die goddelike natuur van Jesus asook op die feit dat Jesus een is met Sy Vader (God).
Die evangelie van Mattheus is in hoofsaak op die Jodendom gerig, terwyl die evangelie van Markus, wat die oudste van die drie sinoptiese evangelies is, hoofsaaklik op die Romeinse lesers gerig was. Daarenteen is Lukas se evangelie in hoofsaak op nie-Joodse en Griekse lesers gerig.
Soos voormeld is die wonder van die sinoptiese evangelies dat alhoewel elkeen van hulle vanuit verskillende gesigshoeke na die dieselfde persoon naamlik, Jesus kyk, ons ’n volledige prentjie van die geboorte, lewe, leer, sterwe en opstanding van Jesus kry uit hulle ‘saamkyk,’ daarna.
Deur my indiepte bestudering van die drie sinoptiese evangelies asook die evangelie van Johannes het ek tot die gevolgtrekking gekom dat Johannes in sy evangelie ’n unieke benadering tot die lewe en bediening van Jesus het.
Daar is byvoorbeeld nie een van Jesus se gelykenisse opgeteken in die evangelie van Johannes nie. Soos voormeld laat die evangelie van Johannes die klem val op die goddelike natuur van Jesus asook op die feit dat Jesus een is met Sy Vader (God).
Wat die sinoptiese evangelies betref is dit merkwaardig dat omtrent alle gebeure wat in die evangelie van Markus beskryf word ook in die evangelies van Mattheus en Lukas voorkom.
Daar is net drie insidente / gedeeltes wat slegs in die evangelie van Markus voorkom, wat nie in die ander twee sinoptici. (Mattheus en Lukas), opgeteken is nie. Hulle is Markus 1:1, wat die inleiding tot sy evangelie bevat; Markus 4:26 – 29, waarin die gelykenis voorkom van die saad wat vanself groei; en Markus 8:22 – 26 wat Jesus se genesing van die blinde man van Besaida beskryf.
Daarenteen het die evangelies van Mattheus en Lukas verskeie gedeeltes wat nie in die evangelie van Markus voorkom nie, soos onderandere die Bergpredikasie.
Hieruit word die afleiding deur Bybelkundiges gemaak dat Mattheus en Lukas die evangelie van Markus, (wat, soos voormeld, die oudste evangelie van die drie sinoptici is), gebruik het as bron vir hul ‘saamkyk’ na die lewe en leer van Jesus.
—————————————-oo00oo———————————-
©Pieter Mostert
Bibliografie
- Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament survey, Thomas Nelson, Nashville.
- Blum, E.A., 1983, ‘John’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 267-348, David C Cook, Colorado Springs
- Cole, R.A., 1989, The Gospel according to Mark: An introduction and commentary(Tyndale New Testament Commentaries, volume 2), IVP Academic, Downers Grove/Nottingham.
- Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
- Hiebert, D.E., 1994, The Gospel of Mark: An expositional commentary, Bob Jones University Press, Greenville.
- Joubert, S. 2012 Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelse Reis vir ’n beter verstaan van die Skrif. Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Martin, J.A., 1983, ‘Luke’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 199-265, David C Cook, Colorado Springs.
- Van der Watt, Jan, Barkhuizen, Jan, & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
- Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words (1971) F.F. Bruce. ed. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK
1.Liefde (1738 woorde)
Die liefde is sekerlik een van die mees kontroversiële onderwerpe in ons moderne samelewing. Oor die liefde het Langenhoven gesê: ‘Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.’ Nou maar waarom ’n artikel wei oor die liefde? Ons weet mos almal wat liefde is. Ja! Maar is jou persepsie van liefde dit wat ware en opregte liefde is? Laat ek verduidelik.
’n Skilder maak grootliks gebruik van sinestesie* om met behulp van ’n kwas, en die verskillende kleure uit sy palet, ’n kleurvolle gedig met sy skildery uit te beeld. Met ander woorde, skilderkuns is digkuns wat in ’n skildery vasgevang word en deur middel van sinestese tot ons spreek.
Die digter, daarteenoor, maak weer gebruik van digstylfigure en verskillende genres uit die kleurryke palet van sy taal, om sy gedig op papier, met behulp van ‘n pen, potlood of sleutelbord, vas te lê. Met ander woorde, digkuns is verbale skilderkuns, in dié sin dat dit hardop gelees kan word. Die filosoof, Plutarch, het in sy vergelyking van skilderkuns en digkuns, gesê: ‘Skilderkuns is stille poësie, en poësie is skilderkuns wat praat.’ En dít is presies wat die skopus van hierdie artikel is, om aan die leser ’n volledige woordskildery, in ons pragtige Afrikaanse taal te bied oor wat liefde werklik is.
Die vraag is: Waar het liefde dan sy oorsprong vandaan? Wel, soos wat ek dit verstaan, as digter en skrywer uit my vertolking van Joh. 1. van die 1953 vertaling van die Bybel, het die Liefde reg in die begin, tydens die skepping van die hemel en die aarde ontstaan.
Ja, in die begin was die Liefde en die Liefde was by God en die Liefde was God self. Alles het deur die Liefde ontstaan en alles het in die Liefde ontstaan; en in die Liefde het ware liefde ontstaan. Ware Liefde is die die eerste en die laaste. Ware Liefde is die Alfa en die Omega, die begin en die einde. Ware Liefde is dit wat was en dit wat is en dit wat sal wees. Ware Liefde is die Almagtige Skepper. Ware Liefde is Agapē**
In die Antieke Griekse taal is daar altesaam vyf*** woorde vir ‘liefde’. Elkeen van hierdie woorde beskryf ’n spesifieke ‘vorm’ van liefde :-
- Die woord Agάpē, beteken ‘Goddelike Liefde’ en word gebruik wanneer daar verwys word na die liefde tussen God die Vader en Jesus die Seun van God, asook die liefde wat God vir die mens het soos gemeld in Johannes 3:16;
- die woord Philia, word gebruik wanneer daar van ’n ‘vriendskaplike liefde’, gepraat word. Met ander woorde, die verhouding tussen twee persone wat baie goeie vriende is, maar nie op fisiese vlak nie;
- die woord Storge, word gebruik wanneer daar van die liefde tussen familielede gepraat word;
- die woord Xenia, verwys weer na die liefde wat ’n gasheer- / vrou vir sy /haar gaste het. Xenia kan ook as naasteliefde vertolk word; en
- die woord Eros, word gebruik wanneer daar gepraat word van, of verwys word na ’n romantiese verhouding tussen ’n paartjie****
Teen hierdie agtergrond nooi ek die leser van hierdie artikel uit om die volgende verhaal wat opgeteken is in Johannes 21:1-17 aandagtig saam met my deur te lees:
‘Verskyning van Jesus by die see van Tibérias.
- NA hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tibérias, en Hy het só verskyn:
- Daar was bymekaar Simon Petrus en Thomas wat Dídimus genoem word, en Natánael van Kana in Galiléa en die seuns van Sebedéüs en twee ander van sy dissipels.
- Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie.
- En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.
- En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee.
- En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe aan die regterkant van die skuit gegooi; en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om die net te trek nie.
- Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see.
- Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el.
- En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.
- Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.
- Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
- Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was.
- En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.
- Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.
- Toe hulle dan klaar was met die oggend-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.
- Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.
- Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.’
Met die klem op verse 15, 16 en 17 in hierdie verhaal is daar drie aspekte van die liefde wat duidelik na vore tree.
- In vers 15 vra die Here Jesus vir Petrus of hy Hom agape, (wat vertaal is met die woorde ‘waarlik lief het’), in plaas van ‘goddelike liefde’. Met ander woorde Jesus vra vir Petrus: ‘ … het jy My lief met ’n goddelike liefde … ’. Waarop Petrus antwoord dat hy die Here Jesus Philia, (wat vertaal is met die woord ‘liefhet’). Met ander woorde Petrus sê dat hy die Here Jesus liefhet met ’n ‘vriendskaplike liefde’, eerder as met ’n ‘goddelike liefde’, wat agape
- In vers 16 vra die Here Jesus vir Petrus vir ’n tweede maal of hy Hom agape, (wat vertaal is met die woorde ‘waarlik lief het’), in plaas van ‘goddelike liefde’. Waarop Petrus weereens antwoord dat hy die Here Jesus liefhet met ’n ‘vriendskaplike liefde’, eerder as met ’n ‘goddelike liefde’, wat agape
- In vers 17 vra die Here Jesus vir Petrus ’n derde maal of hy Hom liefhet, deur die woord Philia, (wat ‘liefhet’, beteken). Waarop Petrus dan bevestigend antwoord: ‘ Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.’
Kan ons nou hieruit tot die gevolgtrekking kom dat daar twee ‘tipes’ of te wel wyses van liefhê is, naamlik:
-
-
- goddelike liefde, wat agapēis; en
- vriendskaplike liefde wat Philia
- dat hierdie twee vorme van liefde ’n groot invloed het op ons in ons lewens, veral wanneer dit kom by die romantiese verhoudig, wat (Eros), tusssen man en vrou; en dat
- Philiaen Eros, ‘gebou’ is op die fondament wat deur agape vir ons gelê is. En voorts die liefde wat daaruit voortspruit, ‘ware liefde’ is.
-
Daarmee is ons pragtige woordskildery van wat ware en opregte liefde is kleurvol voltooi op die doek van ons harte.
—————————————-oo00oo—————————————–
©Pieter Mostert
VOETNOTAS
*Sinestesie beteken letterlik ‘saam waarneem’ m.a.w. dit is ’n vermenging van sintuiglike waarneming, in die sin dat twee sintuie dieselfde ‘ding’ gelyktydig waarneem,
** Agapē is een van die Griekse woorde wat as liefde vertaal word, en meer spesifiek ‘Goddelike liefde’, met verwysing na die liefde tussen God die Vader en Jesus die Seun asook die liefde wat God vir die mens het in Joh. 3:16, van die 1953 vertaling van die Bybel.
*** Daar is ses volgens ander bronne, maar vir doeleinde van hierdie artikel volstaan ons by die vyf wat hierbo genoem word.
****Man en vrou binne die parrameters van hierdie artikel.
Bibliografie
-
-
-
-
- Abrams, M.H. 1999. A glossary of literary terms. Boston: Heinle & Heinle. Boston.
- Cuddon’s Dictionary of Literary Terms (1984).
- Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
- Die Bybel 1953 vertalingBybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.</l
- Fromm, Erich The Art of Loving, Harper Perennial ,1956
- Jan van der Walt ed.al (2012) Interliniêre Bybel Grieks – Afrikaans Nuwe TestamentChristelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Joubert, S. 2012 Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelse Reis vir ’n beter verstaan van die Skrif. Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Van der Watt, Jan, Barkhuizen, Jan, & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament:Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
- Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words (1971) F.F. Bruce. ed. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
-
-
-
—————————-oo00oo—————————
Pieter Mostert
November 2024 – OOP projek
2.Die skepping van die heelal – wat is die waarheid?
Hierdie is sekerlik een van die mees tergende vrae waarmee die menslike brein gekonfonteer word. Die mens is geskape met ’n ondersoekende gees en hierin speel sy sintuie, veral sy oë, ’n prominente rol. Die mens se oë soek na orde in elke saak of verskynsel en kanaliseer dan daardie orde na sy brein, wat weer op sy beurt na patrone soek om by sy denke in te pas.
Wanneer ons nou oor die skepping van die heelal praat sal baie teoloë en gelowige Christene vir jou sê dat God van die Bybel alles geskep het. Met ander woorde hulle siening is gegrond op ’n geloofsuitspraak. Godsdiens is gebaseer op geloofsuitsprake wat nie wetenskaplik bewys kan word nie.
Nou maar wat is geloof dan? Albert Einstein, een van die grootste wetenskaplikes wat daar nog was, het tydens sy lewe met verwysing na sy eie persoonlike geloofsoortuiging gesê: Wetenskap sonder godsdiens is lam, godsdiens sonder wetenskap is blind. ‘n Godsdienstige persoon is vroom in die sin dat hy geen twyfel het aan die betekenis van daardie bo-persoonlike voorwerpe en doelwitte wat nie rasionele grondslag vereis of in staat is om te wees nie.’ In teoloë en Christene se denke is geloof ’n vaste vertroue in die dinge waarop hulle hoop gevestig is, synde ’n bewys van die onsienlike.
Teenoor geloof staan die wetenskap. In ’n neutedop is die wetenskap gebaseer op kennis wat op feite gegrond is. Sodanige feite word deur wetenskaplikes, (Kosmoloë in hierdie geval), bekom deur middel van waarneming en eksperimentering van en met dinge. Kortom, wetenskap konsentreer nét op feitlike bewyse van en oor dinge. Interessant genoeg dat Bybelse uitsprake ook nie deur die wetenskap as ‘onwaar’ bewys kan word nie. (Dít, wys jou hoe groot die God is wat ons dien).
Met verwysing na die feit dat alles in die skepping met nougesette presiesie aanmekaargesit is, meld Gideon Joubert in sy boek ‘Die Groot gedagte’ wat handel oor die ‘Abstrakte Weefsel van die Kosmos’, dat dit inderdaad blyk asof ’n Groot Gedagte, die skepping presies so ontwerp het. Selfs die gerespekteerde Einstein het die skepping beskryf het as ’n ‘put-up-job’. Kosmoloë is ook van mening dat die skepping ontstaan het met wat hulle die oerknal noem. Etlike miljoen jare gelede het die oerknal losgebars uit die groot niks, sê hulle, en wel as gevolg van die geweldige losbarsting van energie. Laasgemelde het die ‘in die begin’ tot gevolg gehad. Dít is dan ook die woorde waarmee die Bybel in die boek Genesis begin. Hoe moet hierdie oerknal verstaan word? Wie het, en hoe is hierdie oerknal ‘geaktifeer’. Joubert praat in sy voormelde boek van ’n ‘Groot Gedagte’ en impliseer daardeur dat dit God is wat agter die oerknal sit. In sy boek begin hy met ‘n aanhaling uit die Bybel waarin aanspraak gemaak word dat God alles gemaak het wat ontstaan het. Die vraag wat by herhaling in gelowiges, se gedagtes opkom is: As God dan gesê het Laat daar lig wees!, is die stem van God dan nie miskien die oerknal wat alles uit die groot niks, laat losbars het nie? Met ander woorde moet ons nie eerder praat van die oerknal van God se Stem nie, as om net van die oerknal te praat nie … ?
Aanvanklik benader Joubert in sy boek die skepping met ’n geloofsuitspraak vanuit die Bybel. Dit is egter opmerklik dat hy daarna vasval in oordonderde wetenskaplike argumente. Sy geloofsuitsprake vervaag dus onder die verskoning dat dit moeilik is om die heelal te begryp. Joubert voer aan dat die mens nie die wese en werking van die heelal sal of kan verstaan as hy nie ook die ingewikkelde wese en werking die oneindig klein sub-atomiese wêreld verstaan nie. Die mens bevind hom in, wat Joubert noem, ’n tusseninwêreld van massiewe galaksies en ’n mikrowêreld van sub-atomiese kwarke.’ Sodanige wêreld kan dan, volgens hom net betree word deur in wat hy ’n kwantumsprong noem. Gevolglik word die mens se begripsvemoë volgens hom, oorspan en bevind hy homself in ’n surrealistiese wêreld waarin tyd en ruimte een word en massa onstabiel voorkom.
Kosmoloë is voorts van mening dat die heelal in wat hul noem, ’n ‘kosmiese kode’, geskryf is. Die antwoord op ons begrip van die wese asook die werking van dinge, lê volgens hulle in die ingewikkelde ‘eenvoud’ van die atoom en die wette waardeur sy bousteentjies beheer word. Die vraag is: Kan daar op grond hiervan geredeneer word dat die mens hom bevind tussen iets oneindig groot en oneindig klein, soos wat Leonardo da Vinci, eeue gelede gesê het?
’n Verdere aspek wat ’n vraagteken in die gemoed baie teoloë en Christene laat, is die feit dat kosmoloë, (wat ook Joubert se siening is), die skepping in drie fases plaasgevind het. Fases 1 en 2 wat elk sesduisend jaar geduur het; en Fase 3 wat ’n korter periode was, waartydens die mens geskep is.
Die redenasie van baie gelowiges is dat God die hemel, die aarde asook die mens in ses dae geskep het en dat Hy op die sewende dag gerus het. Laasgemelde is egter weereens ’n geloofsuitspraak wat nie wetenskaplik bewys kan word nie.
In die boek 2 Petrus 3 van die Bybel lees ons in vers 8 dat ‘ … een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.’ Híerdie vers uit die Bybel dien heelwaarskynlik as teoloë en gelowige Christene se antwoord aan Joubert en die kosmoloë se 3-Fase-skepping argument.
Teoloë en gelowige Christene se redenasie is dat indien hulle interpretasie van 2 Petrus 3 vers 8 korrek is, en hulle somme hulle nie in die steek laat nie, hulle by op hoogstens 7 000 jaar uitkom. Met ander woorde sewe dae van 1 000 jaar elk en dat die getal 7 volgens die Bybel ’n volmaakte is.
Ten slotte bly die vraag nogsteeds: Wat is die waarheid omtrent die skepping?
Wie is reg?
Teoloë en Christene met geloofuitsprake; of
Kosmoloë met wetenskaple uitsprake?
—————————————————oo00oo—————————————-
©Pieter Mostert
VOETNOTAS
- ‘Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie’ (Hebr. 11:1).
- Aangehaal uit Einstein’s essay getiteld ‘Science and religion’, wat gedurende 1954 gepubliseer is in die tydskrif: The New Republic 1954.
- Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here (Jes. 66:2).
- ‘ … een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.’ (2 Petrus 3:8).
Bibliografie
- Boschke, F.L. (1964). Die Skepping duur Voort. Kaapstad. Humman & Rousseau.
- Calder, N (1997). Einstein’s Universe. London. Penquin Books.
- Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
- Daniel Arasse, Leonardo da Vinci, (1997) Konecky & Konecky.
- Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggebaai, Kaapstad.
- Du Plessis, Isak. God en Wetenskap – en ons wat glo. 2003: Lux Verbi, Kaapstad.
- Gamow, G. (1952)The Creation of the Universe. New York. Viking Press.
- Gribon, J (1984). London: J.M. Dent.
- Joubert, G. (1977). Die Groot Gedagte Abstrakte weefsel van die Kosmos. Formeset Cape Printers,Wes-Kaap.
- Liana Bortolon, The Life and Times of Leonardo, Paul Hamlyn, Londen, 1967.
- Pagels, H,R. (1984). The Cosmic Code. Reading: Penquin Books.
- ttps://www.filosofie.nl/de-mens-is-groots-in-zijn-kleinheid.
3.Om innig jammer te voel
Ons weet vandag almal dat die Bybel aanvanklik in ’n Hebreeuse Ou Testament en Griekse Nuwe Testament geskryf was, waarna dit in verskeie ander tale insluitend Afrikaans vertaal is. Voorts is daar vandag ook verskeie Afrikaanse weergawes van vertalings van die Bybel.
Derhalwe is dit nodig om soms terug te gaan na die oorspronklike grondteks waarin die Bybel geskrywe was, indien jy die dieper betekenis van ’n sekere woord of uitspraak wil navors.
Een so ’n uitspraak wat my denke gestimuleer het is die woorde ‘ … innig jammer gekry … ‘, soos opgeteken in die volgende drie gelykenisse wat Jesus vertel het tydens sy aardse bediening:
- Mattheus 18, wat handel oor die Gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser. Ons lees in vers 27:- ‘En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld’;
- In die baie bekende Gelykenis van die verlore seun soos opgeteken in Lukas 15 lees ons in vers 20:- ‘En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel … ’ ; en ook
- Die ewe bekende Gelykenis van die barmhartige Samaritaan in die Evangelie van Lukas vanaf vers 25 – 37. Ons lees in vers 33: ‘Maar ’n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel … ’
In Matteus 9 , wat handel oor: Die oes en die arbeiders, gebruik Jesus in vers 36 self ook die frase: ‘innig jammer gevoel’. Ons lees: ‘En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle.’
Dit het my laat wonder hoekom nie net praat van ‘jammer gevoel’ eerder as ‘innig jammer gevoel’. Dus het ek my tot die grondteks in die Nuwe-Testamentiese Grieks, gewend waar die woord ‘splangnizomai’ voorkom, welke woord vertaal is as ‘innig jammer’. Boonop het ek vasgestel dat die woord ‘splangnizomai’ slegs enkele kere in die Nuwe Testament voorkom.
Dit het my tot die gevolgtrekking gebring dat daar ’n spesiale konnotasie aan die woord ‘splangnizomai’ geheg moet wees.
Met die ontleding van die woord ‘splangnizomai’ het ek tot die interessante ontdekking gekom naamlik dat die letterlike betekenis van die woord ‘splangnizomai’ is: ‘My ingewande is onderstebo gedraai – om jammerte of deernis of barmhartigheid of groot liefde vir iemand te hê.’ Dit het my tot die gevolgtrekking gebring dat die woord ‘splangnizomai’, wat vertaal is met die woorde ‘innig jammer gevoel’, die sterkste uitdrukking van jou emosies is wanneer dit kom by aspekte soos barmhartigheid, medelye en koestering. Met ‘splangnizomai’, wat as ‘innig jammer gevoel’ vertaal is, word as’t ware letterlik bedoel: ‘My ingewande word onderstebo gekeer – om jammerte of deernis of barmhartigheid of groot liefde vir iemand te hê’.
Op grond van laasgemelde verklaring kan daar nou geredeneer word dat wanneer jy aangegryp word deur die nood van jou medemens, jy tot in diepste van jou mees lewensbelangrike organe van jou ingewande, soos jou hart en jou niere, aangegryp word.
Die slotsom is:-
Om innig jammer te voel vir jou medemens, beteken dat Jesus se gesindheid die allogamie van liefde, medelye en deernis deur jou allerdaagse omgaan met jou medemens, deur en in jou, gemanifisteer word.
—————oo00oo—————
©Pieter Mostert
Bronne
- Abrams, M.H. 1999. A glossary of literary terms. Boston: Heinle & Heinle. Boston.
- Becky, H. 1967-8. Anthologia Graeca. 4 bande. 2de verbeterde uitgawe. (Griekse teks met Duitse vertalings.) München: Ernst Heimeran.
- Cuddon’s Dictionary of Literary Terms (1984).
- Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
- Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.https://academy.wentzelcoetzer.org/splagchnizomai
- Jan van der Walt ed.al (2012) Interliniêre Bybel Grieks – Afrikaans Nuwe Testament Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Joubert, S. 2012 Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelse Reis vir ’n beter verstaan van die Skrif. Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
- Van der Watt, Jan, Barkhuizen, Jan, & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
- Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words (1971) F.F. Bruce. ed. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
- ===========================oo00oo==============================
Desember 2024 – Kersfees projek
1.Kersfees – ’n Ekonomiese sneltrein?
Globaal gesien het ‘kersfees-denkers’ omstrede opinies oor Kersfees, asook die oorsprong en betekenis daarvan. Oor een aspek, naamlik die kommersialisering van Kersfees, sal almal waarskynlik eenstemmigheid hê.
Verbruikersielkundiges wys daarop dat dit wat die mens in sy alledaagse handel en wandel waarneem, ’n prominente rol speel in die mikro-ekonomie. Die menslike oog hou van orde, gevolglik is jou brein voortdurend op soek na prentjies om by daardie orde in te pas. Kleinhandelaars is deeglik bewus hiervan. Gevolglik orden hulle Kesrfees om deur middel van die mikro-ekonomie by die prentjies van jou brein in te pas. Daarom assosieer jy Kersfees met ’n kersboom met liggies, kersvader met geskenke en ’n samesyn met vriende en geliefdes. Híérdie ‘items’ is eie aan die sogenaamde Kersfees-kleinhandelseisoen, wat gepaard gaan met Kersmusiek en -versierings in groot inkopiesentrums. Kersfees het wêreldwyd in ’n ‘ekonomiese sneltryn’ ontaard. Mense word in sy sneltog na die kommersialisering van Kersfees, op die ‘stasie’ van ’n finansiële verknorsing afgelaai.
Ouers se finansiële skuldlas word verhoog omdat hulle duur geskenke as gevolg van emosiebelaaide bemarkingstrategieë van mikro-handelaars koop, sê ekonome. Boonop is alles net eenvoudig duurder. Impulsiewe kredietkaartskuld skiet die hoogte in, onder die voorwendsel van ‘ekonomiese seën’. ‘Gee en daar sal vir jou gegee word’, is een van die mikro-bemarkings argumente.
Gegewe die feite, is die vraag: ‘Het Kersfees dan nou die knie gebuig voor die ekonomie’?
———————————————-oo00oo———————————————–
©Pieter Mostert
(Silwer)
[Woordtelling = 230]
BIBLIOGRAFIE
- Glahe, F.R. & Lee D.R. 1997. Micro Economics Theory and Application.Washington, D.C.
• Jaco Tom se Bybelkoerant van 26 November 2020 – Artikel oor: Die ou-ou tyding in ’n nuwe baadjie.https://bybelkoerant.co.za
• Joubert, G. 1998. Die Groot Gedagte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad.
• Meyer, L.P. & Koortzen, P. 1999. Verbruikersielkunde. Unisa, Pretoria.
• Schiffman, L.G. & Kanuk, L.L. 1978. Consumer Behavior Sixth International Edition Prentace Hall International, New Jersey.
2.Kersfees of Ekonomie fees?
Die woord ekonomie is afgelei van die Griekse woord ‘oikonomos’. Dit is saamgestel uit die woorde, ‘oikos’, wat huis beteken en ‘nomos’, wat orden beteken, synde die beginsels waardeur sodanige huishouding bestuur word. Dus behels ‘oikonomos’ die ordening van ‘n huishouding. Ongeag of dit die mikro- of makro-ekonomie is, is dít die beginsels waardeur sodanige huishouding bestuur word.
Toegepas op Kersfees, deur dit te ‘kommersialiseer’, is die Christelike opvatting dat die angel uit die ware boodskap van Kersfees gehaal word. Kersfees word deur die ekonomie geëtiketteer as sogemaamde ‘Kersfeesgolf’, wat deur kleinhandelaars vir finansiële gewin ‘gery’ word. Lank voordat Desembervakansies begin, word Kersfees geadverteer as ’n tyd van samesyn en skuldmaak, onder die emosionele-vaandel van ‘geskenke gee’.
Mense wat dit nie regtig kan bekostig nie gaan groot bedrae skuld aan op hul kredietkaarte. Hulle sukkel dan om ‘kersskuld’ af te betaal omdat hulle nog afbetaal aan die vorige Kersfees se skuld. Kredietburo’s en skuldinvorderaars floreer deur op mense se onkunde te teer! Vir Christene lê die ware boodskap van Kersfees, wat genade en versoening is, nou onder die puin en hartseer veroorsaak deur mense wat materialisme en kapitalisme najaag. Die ‘boodskap’ wat voortspruit uit die ekonomie deur Kersfees te ‘kommersialiseer’, is een van materialisme en uitbuiting. Kan kommersialiserig van Kersfees beskou word as deel van God se groot skildery’? Moet ons eerder praat van ‘Ekonomie-fees’ as van Kersfees?
Die vraag is in die Christelike denke is:
Waarom lyk, [bloei], Kersfees só?
———————————————-oo00oo———————————————–
©Pieter Mostert
(Silwer)
[Woordtelling = 240]
BIBLIOGRAFIE
• Gilkey, L. 1976. Reaping the whirlwind. A Christian interpretation of history. New York: Seabury.
• König, A. 2002. God, Waarom lyk die Wêreld só? Lux Verbi, Wellington.
• Meyer, L.P. & Koortzen, P. 1999. Verbruikersielkunde. Unisa, Pretoria.
• Schiffman, L.G. & Kanuk, L.L. 1978 Consumer Behavior Sixth International Edition Prentace Hall International, New Jersey.
• Van der Watt Jan, Barkhuizen Jan & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
• Viljoen, P. 1998. Makro-Ekonomie. Universiteit van Pretoria.
• Viljoen, R.P. (Red). 2001. Mikro-Ekonomie. Unisa, Pretoria.
Januarie 2025 – OOP projek
2.Bonsaiboompies – integrale deel van die mikro-kosmos
Om bogenoemde vraag vanuit ’n Christelike gesigshoek behoorlik te kan beredeneer, moet ons eers kyk na wat die rentmeesterskap taak is wat God die mens opgelê het.
In Genesis 1:28 gee God aan die mens opdrag om Sy skepping, (en dit sluit die mikro- asook die makro-kosmos in), te:-
• ‘onderwerp’ en daaroor te ‘heers’. Dít impliseer dat die mens die skepping, binne die raamwerk van sy rentmeesterskap, met gesag moet onderwerp aan sy heerskappy. (Wat ’n geweldige groot taak lê God hier aan die mens op! Faal of slaag die mens hierin? Kyk maar bietjie rondom jou en oordeel self.)
In Genesis 2:15 gee God aan die mens opdrag om Sy skepping, (en dit sluit weereens die mikro- asook die makro-kosmos in), te:-
• ‘bewerk’ en te ‘bewaak’. Dít impliseer om met volgehoue entoesiasme, nougesette versorging en verantwoordelikheid Sy skepping, wat kosbaar is, te beskerm.
Die vraag is nou: Wat is hierdie mikro-kosmos wat onder die mens se rentmeesterskap sorteer? Waarna verwys ons as ons van die mikro-kosmos praat? In ’n neutedop is die mikro-kosmos ’n miniatuur weergawe van makro biologiese ekosisteme en/of sosiale strukture, wat selfstandig funksioneer. Wanneer ons verwys na die mikro-kosmos binne die raamwerk van hierdie artikel, verwys ons na bonsaiboompies, daar hulle kleiner weergawes is van die bome wat ons in die natuur vind.
Kan ons nou teen hierdie agtergrond redeneer dat bonsaiboompies ’n integrale deel van die mikro-kosmos van God se skepping is? Daarom, ’n lewende simbool vir die simbiose van die natuur, asook die kreatiwiteit van die mens se gees. God het immers volgens die Bybel die mens geskape met ’n kreatiewe ondersoekende gees.
In sy alledaagse handel en wandel is die mens gewikkel in die stryd om balans en harmonie in sy denke te orden. Soos wat Joubert in sy boek ‘Die groot Gedagte’ daarop wys hou die menslike oog van orde. Daarom is die menslike oog voortdurend op soek na prentjies wat by die orde van sy brein inpas. Die uiterste vorm hiervan is ’n voortdurende strewe na perfeksionisme, dít net terloops.
Die antieke Oosterse kunsvorm van bonsai, tesame met die kulturele betekenis daarvan, het grense en kulture oorskry. Dít het tot gevolg gehad dat die invloed van Zen-Boeddhisme daarmee saam na Westerse lande gebring is.
Gevolglik het hierdie Oosterse kunsvorm in die harte kom kruip van menige liefhebber van miniatuurboompies. Tereg verwys Pieter Laubcher na bonsai in sy boek oor bonsai as ’n ‘kuns in die kleine’.
Binne die Oosterse filosofiese denke word daar met die verbouing van bonsai gepoog om harmonieuse balans van opponerende kragte en die geestelike onderlinge verbondenheid met die natuur te bewerkstellig. Sodoende word die strewe, volgens hulle, na skoonheid en wysheid ondervang. Die deurgaanse versorging van bonsaiboompies, oftewel die sikliese versorging daarvan, simboliseer vir die aanhangers van Oosterse Zen-Boeddhisme, geluk en voorspoed asook ’n lang lewe, binne die ewige siklus van lewe, dood en wedergeboorte. Laasgenoemde weerspieël dan ook die Chinese konsep van yin en yang. In ’n neutedop is die konsep van yin en yang, ‘n siklus van teenoorgestelde, maar onderlinge verbonde selfbestendigheid. Die diepere betekenis van yin en yang is vir doeleindes van hierdie artikel nie ter sprake nie, daar dit buite die skopus van hierdie artikel geleë is. Kan ons dus hierin die siening, oftewel die geloof in reïnkarnasie regverdig? Indien wel, op welke wyse harmoniseer laasgemelde met God se opdrag van rentmeesterskap?
Vir die Chinese is bonsai byvoorbeeld die simbool van hul kulturele erfenis, waarin ook hul diepe eerbied vir die natuur verweef is. Kan ons rentmeesterskap, soos wat ons dit vanuit ’n Christelike perspektief verstaan, hierby inlees? Kyk die Chinese dalk vanuit ’n ander gesigshoek na die natuur en rentmeesterskap?
Globaal gesien is bonsai ’n kunsvorm wat tydelike en ruimtelike grense oorskry. In die proses word die essensie van die Oosterse filosofiese nuanses en artistieke bemeestering van bonsai, asook die menslike ervaring daardeur tot eenheid saamgeweef.
Die kweek van bonsai as kuns vereis deurlopende aandag aan detail. Daarom is geduld en deursettingsvermoë van kardinale belang. Dít opsigself, is ’n weerspieëling van die menslike vermoë tot toewyding. Laasgemelde is dan ook ’n essensiële vereiste vir effektiewe rentmeesterskap.
Die vraag is of die betrokke boom, wat as ’n selfstandige entiteit in die natuur funksioneer, nie nou sy ‘selfstandigheid’ verloor as gevolg van die mens se ‘ingryping’, deur dit as bonsaiboom te kweek of uit die natuur te haal en as bonsaiboom op te lei nie? Anders gestel, haal die mens nie nou ’n boom wat God in die makro-kosmos geplaas het uit die makro-kosmos en verdwerg dit dan om in die mikro-kosmos te funksioneer as entiteit wat ten volle van die mens vir sy voortbestaan afhanklik is nie? Moet die kweek van bonsaibome, hetsy deur middel van saad, of die verdwerging van groot bome uit die natuur, gesien word, soos voormeld as sprekende bewys van die mens se kreatiwiteit? Of as die mens se vertolking van sy opdrag van ‘onderwerp’ en ‘heers’ daaroor, binne die breë raamwerk van sy opgelegte rentmeesterskap?
Die kuns om miniatuurbome, bekend as penjing, te kweek het weer sy oorsprong in antieke China. Hierdie kunsvorm het as ’n samesmelting van Taoïstiese en Boeddhistiese filosofieë, te voorskyn gekom.
Binne laasgemelde geloofsdenke is die doelbewuste manipulasie van die natuur gesien as ‘n manier om geestelike balans en harmonie te bewerkstellig. Hoe moet hierdie ‘doelbewuste manipulasie van die natuur’, vertolk word? As ’n manier om die natuur, by name die makro-kosmos, te beheer, deur ’n sogenaamde ‘geestelike balans en harmonie te probeer bewerkstellig’? Is dít rentmeesterskap soos wat God dit bedoel het binne die parameters van Genesis 1:28 en Genesis 2:15, soos voormeld? Is die konsep van beheer en manipulasie versoenbaar oftewel sinonieme begrippe?
In sy boek ‘Bemeester Bonsai’, huldig Pieter Loubser die mening dat die materiële wêreld van glas en beton gevul met kunsmatighede, die hindernis is tussen die Westerling en die natuur. Dit is dan ook volgens hom, die rede waarom die Westerling wat die kuns van bonsai beoefen, dit ‘nie maklik’ sal bemeester binne die denkprosesse van Zen-Boeddhisme nie. Gevolglik sal die Westerse bonsai-kunstenaar, indien hy bonsai wil beoefen binne die Zen-Boeddhistiese denkwyse ‘om die natuur in die kleine te herskep’, weg moet breek van sy bestaande instinktiewe lewenswyse. Hierdie ‘herskep in die kleine’, (mikro-kosmos), behoort vertolk te word as ’n spieëlbeeld van dit wat God in die makro-kosmos geskep en geplaas het, dan nie?
Die deursnee bonsai-kweker of bonsai-versamelaar, in veral Westerse lande, is nie eers bewus van die Oosters geloofskonnotasie van Boeddhisme en Taoïstme, wat daar aan bonsaiboompies geheg word nie. ‘Dis net vir my mooi’, is die opmerking wat jy bykans deurgaans by Christene kry wanneer bonsaiboompies die onderwerp van bespreking is.
Deur bonsaiboompies as stokperdjie te kweek, het ek as Christen intens bewus geraak van my taak as rentmeester van God se skepping op aarde wat die bewerking en bewaring van die ekologie betref.
Bykans al die Christen bonsai-kwekers waarmee ek gesels het in my navorsing om hierdie artikel te kan skryf, het bevestig dat hulle ‘n dieper waardering vir die intrinsieke waarde van die natuur, en spesifiek die mikro-kosmos, het. Voorts het hulle ook bevestig dat hulle tot die besef gekom het dat daar ’n onderlinge verbondenheid van alle lewende wesens is, waarin die mens as rentmeester van God, vooropstaan.
Eerbied vir die makro-kosmos, sê hulle, word weerspieël in die mikro-kosmos deur die ‘rustige, kontemplatiewe atmosfeer wat die kuns van bonsai omring.’ Daardeur word daar ’n diepe gevoel van balans en harmonie teweeggebring by bonsai-kwekers en die beoefening daarvan as kuns, synde uiting van die talent wat God aan die bonsai-kweker gegee het.
Dus kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die mens deur bonsai te kweek simboliseer dat hy omonwonde oor die vermoë beskik om as rentmeester van God se skepping in harmonie met die natuur en meer spesifiek die mikro-kosmos, te leef. Daardeur word die mens dan ook meer bewus van die delikate balans van ons ekosisteem waaroor God hom as rentmeester aangestel het. Die kweek en oplei van bonsaiboompies word as’t ware ’n ‘metafoor’ vir die strewe na balans en harmonie op die bonsai-kweker se lewensuitkyk.
Ten slotte word daar ’n artistieke konnotasie aan bonsaiboompies geheg daar dit ’n spieëlbeeld van bome in die natuur, (makro-kosmos), is, wat in miniatuur, (mikro-kosmos), ‘geskep’ word. Ek kan dit nie beter stel as wat ’n toonaangewende geleerde en praktisyn van Chinese Penjing, ene Dr Li, dit stel in Zhao Qingquan se boek: Penjin, wat handel oor Die Chinese kuns van Bonsai:
‘Binne die domein van bonsai-verbouing word artistieke uitdrukking in ingewikkelde, doelbewuste gebare gedistilleer, terwyl meesterlike hande die boom se miniatuurvorm lok en vorm in ‘n lewende, asemhalende kunswerk.
Elke versigtig gesnoeide tak, elke fynbedrade kurwe en elke noukeurig versorgde blaar dien as ‘n verklaring van die ambagsman se vaardigheid en toewyding.
Die bonsaiboom word ‘n doek waarop die kunstenaar ‘n genuanseerde verhaal van tekstuur, vorm en balans skilder.
Soos die boom groei en ontwikkel, so ook die kunstenaar se visie, wat aanpas by die organiese ritmes van die natuurlike wêreld.
Die bonsai word ‘n dinamiese, drie-dimensionele beeldhouwerk, waar elke element noukeurig gekalibreer word om ‘n harmonieuse geheel te skep.
Die kunstenaar se kwashale word vervang deur snoeiskêre, aangesien die boom se essensie gedistilleer word in ‘n mikro-kosmos van elegansie en verfyning.’
Kan ons nou met reg sê dat hierdie miniatuurwêreld van bonsai ’n integrale deel van die mikro-kosmos is?
—————————————oo00oo————————————
© Pieter Mostert
VOETNOTAS
• Die Hebreeuse woord ‘kabash’, wat met ‘onderwerp’ vertaal is in Gen 1:28, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van ‘om te onderwerp’, en te ‘onderhou’.
• Die Hebreeuse woord ‘radah’, wat as ‘heers’ vertaal is in Gen 1:28, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van die uitoefening van gesag of beheer, in die konteks van bestuur oftewel rentmeesterskap.
• Die Hebreeuse woord ‘shamar’, wat in Gen 2:15, as ‘bewaak’ vertaal is, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van ‘om op te pas’ of ‘wag te hou oor’.
• Die woord ‘simbiose’, is saamgestel uit twee Griekse woorde naamlik, ‘syn’ wat saamwees beteken en ‘bios’ wat lewe beteken. Dus beteken die woord simbiose letterlik ‘saamlewe’ met verwysing na ‘enige direkte en intieme saamleefverhouding tussen twee organismes van verskillende spesies’.
BRONNELYS
• Die Bybel 1953 vertaling. Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
• Joubert, G. 1998. Die Groot Gedagte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad.
• Loubser, Pieter. 1993. Bemeester Bonsai. Delta Boeke (Edms. Bpk), Parklands
• Loubser, Pieter. 2008 Bonsai: Kuns in die Kleine: Griffel Media.
• Webb, M. De Villiers, M. Du J.J. & Du Toit, P. 1983 Verklarende Biologiewoordeboek: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk, Bloemfontein.
• Zhao Qingquan. 2012. Penjing: Die Chinese kuns van Bonsai. Sjanghai Pers- en Uitgewersontwikkelingsmaatskappy.
• F.F. Bruce. ed. 1971. Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.