Pieter Mostert
Desember 2023 – Veldslag projek
1.Toe spottery se hart gaan staan
Soos dit seker in enige kaalvoet seuntjie se lewe gaan, moes ek ook ’n spottery gedurende my kinderjare verduur onder die venynige tonge van ander kinders soos: ‘Haai kyk ouens, hier kom ou Piet Ore aan. Kyk sy ore lyk soos aanhalingstekens waartussen sy afdraande longdrop-bakkies hang. Ja, kyk sy neus lyk soos ’n misplaaste uitroepteken, wat in vetgedrukte letters tussen die kommas van sy padkaart-oë op sy bolip aftuimel, terwyl sy onderlip, wat lyk soos verslyte motorbande, krampagtig aan sy mieliepit-tande klou. Dan het almal geskater van die lag. Ja, julle ouens, kyk mooi na ou Piet Ore se deurskynende pienk ore. Toe hy twee jaar oud was het sy ma sekerlik gewonder of hy wil loop en of hy wil vlieg. En, haai Piet Ore, pasop tog net dat ’n dwarrelwind jou nie vang nie, anders draai jy dalk jou eie nek om.
Ma kon my nie beskerm teen sulke vernederende gespottery nie ek het dikwels my pyn en woede in die magtelose trane van haar oë gesien. Dit lê soos jaarringe in my wese gegraveer op die emosionele vlak van my lewe. Hiérdié tonge was verwoestende emosionele swaarde in my jong lewe as kaalvoet-seuntjie. Ek moes net eenvoudig ’n uitlaatklep vind anders sou ek my kop verloor. Daarom het ek as jongman by die land se spesiale taakmag aangesluit om daar ’n uitlaatklep vir my opgekropte emosies te probeer vind.
Tydens my opleiding en tot groot vermaak van sy mede-soldate, het ek knaend deurgeloop onder die skerp vernederende tong van my instrukteur: ‘Jou ore lyk soos askoestiese satelietskottels en jou neus soos ’n wankelende radiomas wat bokant jou morsekode-snor uittroon. Sou die vyand ooit, ons in ’n hinderlaag lei en op ons begin skiet sal ons veilig skuiling vind deur net agter jou ore die dek te slaan en veilig daaragter weg te kruip.’
Op patrollie het stilte skielik die klankgrens gebreek en die aarde in infrarooistrale oopskeur. Geskroeide vlees en been en bloed het my neusvleuels gedikteer en spottery se hart het gaan staan terwyl masjiengewere angswekkend kletter.
Die versoeking kon ek nie weerstaan om uit benoude humor triomferend te skree: ‘Sersant! Kom kruip julle almal net veilig agter my ore weg …’
————————–oo00oo———————
©Pieter Mostert
STERGRADERING: SILWER
(Woorde = 385)
Desember 2024 – Kersfees projek
1.Toeka se ritueeltjies
Vir my was die hoogtepunt van elke jaar Desembermaand. Wanneer die skool sluit en pa se verlof begin, is die Prefect gelaai vir ons Kersvakansie op Oupa se plaas. Hoe goed onthou ek nie die ritueeltjies nie.
Die laaste skof plaas toe het Pa met kreun-stoot bewegings agter die stuurwiel die Prefect aangemoedig: ‘Kom ou motortjie. Nog net hierdie laaste buld uit, dan is ons daar’.
Oupa het ongeduldig gemor: ‘Waar bly Bassie en Sus so lank ? ‘Jishof ou vrou, vandag se reis is seker vir die kinders ’n uur te perd en ’n moerse ent’. ‘Dis Oukersaand’! ‘Hulle moet behoorlik uitgerus wees wanneer Kersvader vanaand hulle geskenke by die kersboom uitdeel.’
Wanneer die Prefect in die laning tussen die populierbome afgekom het, het Oupa khaki-hoed in die hand gewuif, so asof hy die Prefect met sy hoed op die werf wil invee.
Met betraande oë het Oupa gevra: ‘Waar draai julle so lank? ‘Ek hou die pad al van vroeg af dop’, terwyl hy ons almal sommer gelyktydig omhels het.
Intussen het Ouma ook nader gekom, ’n traan van blydskap met haar voorskoot afgevee en elkeen van ons styf teen haar hart vasgedruk. In my oë was sy ’n regte ouma, met haar lang grys hare in ’n netjiese bollatjie agter haar kop opgebind.
Na hierdie ritueeltjies het ons die opstal opgewonde binne gehardloop en in groot afwagting voor die kersboom gaan sit …
——————————ooo000ooo—————————
©Pieter Mostert
[Silwer]
[Woordtelling = 240]
3.Heimwee
TEMA: SO ONTHOU EK KERSFEES.
Die hoogtepunte in my kinderlewe was die jaarlikse viering van Kersfees op Oupa se plaas, in die opstal met sy spierwitgekalkte mure.
Ouma se kombuis was die hartklop van haar huis. Met beesmis en perskepit uitgetimmer het haar vloere skitterblink gepronk. In die hoek het die koolstoof met klik-klak-geluide gekletter. Die erdeketel het prut-prut my lus vir Ouma se moerkoffie en karringmelkbeskuit aangewakker en wolkies stoom, wat vir my soos spookasem gelyk het, die lug ingeblaas. In die ander hoek van die kombuis het die kersboom en die kersfeeskoek, gestaan en wag dat kersvader die geskenke moet bring.
Op die stoof het Ouma se pot met kerrie-afval die lug omhels en my neusvleuels in trane opgedruk. Ouma het altyd die aandete opgeskep in porsies mieliepap en heerlike kerrie-afval.
Na aandete het ons altyd opgewonde gesit en wag vir kersvader. Dan het ek ongeduldig buitentoe gestap en plat op die grond op my rug gaan lê. Ek het na die triljoene sterre aan die hemelruim gestaar en saggies gebid dat kersvader tog net sy weg met sy slee vol geskenke, na oupa se plaas toe moet vind …
——————————ooo000ooo—————————
©Pieter Mostert
[Silwer]
[Woordtelling = 236]