Jongste aktiwiteit:

Elmarie Nienaber Van Kampen
vir

Elmarie Nienaber Van Kampen

Lees meer oor Elmarie Nienaber Van Kampen

September 2023 – OOP projek

2.

Afrikaans práát met my

320 woorde

Myne.  Ja, mýne! Mý Afrikaans.

Soos ‘n baba oor sy bersie en ‘n hondjie oor sy been. Dít is hoe ek voel oor my Afrikaans.  Ek waak jaloers oor my moedertaal wanneer en praat en wanneer ek skryf.  Perfekte woordeboek en sprelreël-Afrikaans gebruik ek beslis nie, maar ek beledig nie my taal, toegewyde oud-Afrikaansonderwysers óf voorouers deur te praat en skryf in die hedendaagse sms-taal nie.  Ek gaan nie “saam iemand” iewers heen nie en ek laat nie al wat ‘n lidwoord of voorsetsel lui-lui weg in my gesprekke en skrywes nie.  Ek stel my dus ten doel om die taal waarin ek daagliks kommunikeer, mooi op te pas en mense wat dit nie doen nie, liggies te betig.  Ek is al in my lewe ‘n taalsnob genoem, omdat ek iemand reggehelp het.  Aanvanklik was ek diep geaffronteer én bekommerd oor hierdie ongevraagde titel wat aan my toegedig is.  Later het ek dit vergeet en verder gepraat en gestry saam met my mede taalsnobs om ons Afrikaans te beskerm.

Nie alleen praat, dink en skryf ek in Afrikaans nie, maar my Afrikaans praat ook met mý!

Ek hoor haar in my alledaagse handel en wandel.  Sy praat met my deur die pasgebore lammetjie se dom ogies.  Sy maak my hart week wanneer ek ‘n vet babawangetjie streel en wanneer ek die skugter vertroue in ‘n dier na wie ek uitreik, sien.  Wanneer ek opkyk na die majestieuse berge, saamgeskraap deur twee Vaderhande, roep my Afrikaans my toe vanaf die hoogste pieke.  Sy eggo deur die klowe, koggel die swewende arend en lag klokhelder tussen die branders en rotse.  Lig ek my oë na die horison, fluisterroep sy en kan ek my vingers oor my sleutelbord laat sak en haar boodskap neerpen.  Haar strelende stem noem my naam wanneer ‘n donsveer onverwags sy lêplek op my lessenaar kry en waar ‘n doudruppel diamant-mooi hang net buite my venster.

Afrikaans is my moedertaal, my erfenis, my woordvriendin…sy is mý Afrikaans.

 

Elmarie Nienaber van Kampen

 

Maart 2025 – OOP projek

3.Vlegsels 365 woorde

Ek en my sibbes het onlangs ons ouerhuis gaan leegmaak, nadat my ma ook oorlede is. Ek het in ‘n ander wêreld inbeweeg soos ons die een na die ander bekende voorwerp, foto en speelding ontdek het. As volwassenes, het almal van ons die meeste van die goed in ons kindertyd laas gesien en hanteer. Ons was dus ook op ‘n nostalgiese reis, as sulks.

 

Met ‘n bakkievrag ma-se-goed en my baba-album onder my arm het ek later by die huis aangekom en my aandpligte vinnig afgehandel.  Daarna het ek gaan sit en my ou foto album oopgeslaan

My swart-en-wit babafoto’s, waarna ek bitter lanklaas gekyk het, het my geroer op ‘n ander vlak as vorige kere. Dit is dalk omdat ek raak aan sestig, wie weet?

Dit was en is steeds vreemd om aan myself te dink as ‘n brose baba, om te besef dat ek pap en weerloos en gedagteloos was.  Soos ek ouer geword het, het my menswees begin ontwikkel, maar ek kan dit nie tree vir tree onthou nie. Dis asof ek maar sommer net vanself, ék geword het.

 

Nog iets wat my ma al die jare gebêre het, is ‘n vlegsel van my hare. Sy het my lang, blonde vlegsel laat afsny iewers in my Gr 1-jaar en dit sorgvuldig bo in haar kas gebêre.  Die dag van die groot skoonmaak, het ek dié vlegsel gesoek, later koorsagtig, maar nie gevind nie. Ek wou vat en ruik aan die hare, dit koester teen my wang, die sysagtheid daarvan tussen my vingers voel. Dit sou my nader aan die dogtertjie-ek laat voel het as die foto’s.  Dit was helaas nêrens te vinde nie en om die een of ander rede is daar nou ‘n klein-klein leegtetjie iewers hier binne my. Dalk wou ek dat my vlegsel alles waarvoor ‘n dogtertjie-vlegsel vir my staan, weer aan my terug besorg: onskuld, vreugde, sorgeloosheid, geluk en eindelose vertroue in die lewe?

 

Telkens wanneer ek net alleen wil wees met my gedagtes oor my lewe, vat ek my baba album en gaan nestel iewers. Ek het vrede gemaak daarmee dat die vlegsel en alles wat dit vir my vergestalt, vir altyd verlore is vir my.

 

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak