Annamarie du Toit
Lees meer bydraes deur Annamarie du Toit
BRONS KLAS
Carpe diem
1.Gryp die oomblik
‘n Klompie jare gelede was Koos en ek vir ‘n paar maande in Zambië gestasioneer. Ons selfone was nie internasionaal gekoppel nie. Ons was afhanklik van Pieter en Elsie se huisfoon vir oproepe na Suid-Afrika. En was dit duur! – sestig rand vir drie minute se kosbare gesels met ons geliefdes.
Pappie was oud en alleen, maar nog vol lewe en werk. Hardus en Ellare en so ook Corneel en Ronel, was pas getroud. Francois se universiteitssangroep het hul eerste CD vrygestel. Broers en susters het hulle gange gegaan.
Waarom het ons in daardie tyd so verskriklik na ons mense verlang? Miskien juis omdat kommunikasie so duur was?
Ons bel vir Hardus-hulle. Hulle speel binnenshuise krieket. Teleurstelling. Pa en Ma het in die sak gepraat, het ons later gehoor. Die selfoon was in hulle sportsak, terwyl hulle besig was met hul sport. Met Corneel en Ronel kan ons ‘n geselsie inkry. Francois is ook beskikbaar.
Ek bel vir Paps. Hy gesels land en sand. En skielik:
Haai, ou kindjie, dit kos seker baie om so te praat?
Ek sluk swaar aan die sestig rand in my agterkop.
Ja, Pappie, dit is maar duur.
Dan moet ons nou maar afsluit.
Dis reg so, Pappie. En ons groet.
Twee weke later is hy oorlede. Sonder ‘n verdere groet.
GRYP DIE OOMBLIK!