Carmen Edwards (Iron Lady)
Lees meer oor Carmen Edwards (Iron Lady)
Junie 2021 – Interteksualiteits projek
3.Is iets beter as niks?
“Die hoender!” “Issie dissie eier!” hoor ek hoe die kinders buite stry.
Dis die eeue oue argument wat volgens my net een antwoord het. Die hoender, want God het die diere gemaak, daarna het die hoender eiers gelê.
Dit laat my dink aan die bekende Afrikaanse gesegde: “n Halwe eier is beter as n leë dop.”
Onmidelik wil my verbeelding mos ‘n prentjie maak van n halwe eier in die natuur. En die halwe kuiken wat daaruit gaan klim. Dan hardloop my vrugbare verbeelding weg met idees oor die fiasko’s wat dit kan afgee. Koerantlees gaan dan ‘n fees wees!
Die werklike betekenis is : “ iets is beter as niks.” *Arikaanse spreekwoorde, gesegdes, ens. gee die verklaring as: “Iets is beter, hoe min ook, as niks.” Die **HAT plaas dit as: “Iets is beter as niks.”
Daarvan het ek ook al baie gehoor. Destyds toe oom Dana sonder werk gesit het, het iemand hom ‘n klein werkie aangebied. Hy het hardkoppig geweier om dit te doen. Ouma het hom met die eier spreekwoord gegooi waarop hy die volgende te sê gehad het: “Ma, ek weier om my standaarde te verlaag en te werk vir minder as wat ek werd is”.
Toe my Tantonet se huis afgebrand het tot net swart gebrokkelde murasies en sy haar borduurraam ongeskonde gekry het, het sy met ‘n dapper glimlag gesê: ‘n Halwe eier is beter as ‘n leë dop..”
Lyk mos vir my asof almal se uitkyke oor die ou gesegdetjie hemelsbreed verskil. Miskien is dit ook afhanklik van die mens se geneigdheid tot die positiewe of negatiewe. Dan smaak dit asof n tikkie dankbaarheid ‘n hoofvereiste is vir die werklike positiewe toepassing van die ou gesegde.
Mense wat negatief is, gaan volgens my, nee sê vir ‘n halwe brood, en ja vir ‘n hongerdood.
Dit laat my nou aan die spreekwoord “Wat jy nou bedank, is jy môre kwyt.” dink. Maar kom ons los daardie een vir n ander dag.
Bedink maar eers vir julleselwers of iets beter is as niks.
Bronteks:
* Arikaanse Spreekwoorde, Gesegdes, ens. [Kritzinger, De Villiers en Pienaar] J.L van Schaik 1925
** HAT [Perskor] 1965
364 woorde
@Iron Lady
Februarie 2022 – Liefdesprojek
2.Taai tameletjie
Woordtelling: 320
Ek verstaan hoekom die manne maan toe gegaan het. Ek verstaan Aardrykskunde, en ek verstaan so ‘n ietsie van Wiskunde, behalwe as dit by kos, sin en tan kom. Maar as daar nou een ding is wat ek rêrig niks van verstaan nie, is dit die Liefde.
Liefde, soos dit vir my klink, is die as waarom die menslike wêreld wentel. En daardie wentelinge verskil ook van dag tot dag. ‘n Heeltemal onstabiele gedoente.
Vat nou vir Benita. Sy en Alan was só lief vir mekaar. Op die einde van die dag is hulle geskei omdat hy ‘n oggendmens was en sy nie. Toe kantel hulle hele wêreld in chaos. Moes liefde dan nie gehelp het dat hulle rondom die probleem kan werk nie?
Verder dink ek aan Klein Joe en Martie met hulle 15 kinders. Martie was aan die einde voos vir die lewe en liefde was nie eens ‘n huurder in hulle huis nie. Aparte kamers en die kinders het mekaar groot gemaak. Joe was die Casanova wat elke rok gejag het. Sou die liefde hier verdamp het soos die kinders hulle verskyning gemaak het?
Liefde sny siele met lemme. Hy trou met haar. Sy ewige liefde. En wat gebeur? Sy vang hom saam met ‘n man slaap. Sy voel vuil, vernederd en woedend. Haar siel bloei ewig want hulle wêreld het skeef gekantel.
‘n Baba word in ‘n asblik opgetel. Vuil, met koerantpapier toegedraai. ‘n Bondeltjie lewe wat liefde moes wees en nou sonder liefde moet leef. En hy weet nie eers dat sy wêreld alreeds gekantel het nie.
Hulle is 25 jaar getroud. Hy word by die werk in ‘n skietongeluk ontman. Omdat hy nie meer ‘n man is nie skei sy hom en twee pragtige kinders verstaan nie waaroor hulle wêreld nou onderstebo gekantel is nie.
Die liefde is ‘n klipharde rots. Soos grou graniet.
Nee, ek dink eerder die liefde is ‘n taai tamaletjie.
Carmen Edwards (IronLady)
April 2022 – En toe… projek
3.Mensedinge
Woordtelling: 387
Mense is snaakse goete. Hulle baklei en vloek. Hulle dobbel en verkwis geld soos bossies. Party van hulle trou en skei. Sommige van hulle het snaakse houdings. Party is hoogmoedig en andere weer nederig. Tog is almal van hulle deur dieselfde Skepper formeer.
Daar is mense wat mooi kan skilder, hulle word kunsternaars genoem. Andere dans soos die voëls in die lug, vol grasie en passie. Mense noem hulle ballerinas. So kry ons baie mense wat talente het en wat aangelê is vir spesifikieke dinge soos meganika en die bankwese.
Die mensenasie kan ook wreed wees teenoor mekaar. As Ons Lina Spies se Lied van die kinders bestudeer lees ons ‘n wêreldwye wreedheid en misbruik van kinders raak. Daar is ook dinge soos slawerny wat glo al jare lank afgeskaf is. Dan mishandel sommige manne ook kinders en vroue alles in die naam van liefde. Daar is ook vroue wat hulle kinders teen die muur doodslaan omdat hulle gewaag het om te huil en dit dan blameer op hulle ouers en hoe hulle groot geword het. Pedofiele en reekksmoordenaars is van die wreedste mense wat die aarde bewandel.
Oorlog is massamoord op groot skaal om iemand se passie na mag te kan bevredig. Daar word mense wreed deur mense vermink en gemartel as hulle met hulle lewens uit die mensehel ontsnap. Deur die eeue is daar ‘n hoofweg gevul met al hierdie manne wat kontinente en ryke in chaos dompel.
Vir my is die snaakste ding die mense en hulle geloof. Daar is mense wat hulle ou uitgediende godjie met groot gebaar en blomme op die rivier plaas om weg te dryf na iemand wat hom nodiger as hulle het. Die tokkelossie is die klein mannetjie wat op beddens klim en mense wat getoor is skade berokken. Ander sê hulle glo in God maar hang nog steeds allerhande bygelofies aan. Ek lees van ‘n Pastoor wat vir sy gemeente sê om gif te drink vir een of ander onbekende verhewe rede. En almal doen dit, hy ook. Só vrek hulle almal onnodig met maagrampe en stuiptrekkings.
Korona virus tref die mensdom. Hulle sterf by die duisende, dra maskers en handhaaf sosiale distansie, iets wat eintlik onmoontlik is.
En toe kom vyftig nasies bymekaar om verenigd “Amazing Grace” op die wieke van korona die wêreld in te stuur.
Carmen Edwards (IronLady)