Driekie Grobler
Julie 2019 projek – ‘n Reis in tyd
1.Dankbaar oor my lewensreis
Met ‘n warm koppie boeretroos tussen my koue hande, tuur ek die vlaktes in. My gedagtes loop ver en wyd, verby al die hoë geboue en bome, oor die koppies en bergtoppe. So ver terug dat ek doelbewus spinnerakke moet afstof om helder te kan onthou.
My lewensreis tot hier was vol kronkels en draaie. Soms het ek heeltemal die pad byster geraak en soos ‘n blinde rondgetas op verdwaalpaaie. Maar telkens was daar ‘n Hand wat my kom red het van ondergang, my weer geduldig teruggelei het na veiligheid. Daar was diep, donker dale waar ek moes deur, maar darem ook hoogtes vol vrede en seën.
Ek wonder soms of ons (aan die begin van ons lewenspad) nie angsaanvalle sou kry as ons moes weet wat alles vir ons voorlê in die lewe nie?
Maar die goeie nuus is dat ons die pad MOET stap en kan kies om ‘n Reisgenoot saam te nooi.
DIT was die beste besluit wat ek in my lewe gemaak het. Om daardie Reisgenoot saam te nooi op my lewenspad.
Hartseer en trauma het sommer vroeg aan my lewensdeur kom klop, toe ek maar sewe jaar oud was. Dis tóé dat ek ‘n hand gesoek het om vas te hou. Een wat nie wankel of my in die steek sal laat nie. Daardie Hand het ek gevind en klou nog steeds verbete daaraan vas. Sonder daardie Hand sou ek dit nooit tot hier gemaak het nie, daarvan is ek seker.
Dis te danke aan daardie Hand dat ek vandag kan terugkyk en my hoof in ootmoed en dankbaarheid buig oor al Sy liefde, trou en genade, asook die voorreg om oral spatsels seën te sien skitter, soos fyn onverdiende diamantjies.
©Driekie Grobler
Januarie 2021 – Verwagting(s) projek
2.Cheers op 2021
Hier teen die einde van verlede jaar het my kersie maar flou gebrand en moes ek behoorlik koes en keer om nie deur die Corona-tsoenami meegesleur te word nie. Die stormwinde, wat onophoudelik verwoesting saai in vele gemoedere, het so ampertjies die laaste flikkering van my hoopliggie ook geblus. En ek is beslis nie die enigste nie, ek lees en sien die toestand oral om my, ‘n geworstel om bo te bly.
Met die verbod op feesvier en vuurwerke het ek my stil teruggetrek in eie denke en verlore geraak tussen “wat nou’s”. Leepoog teruggedink aan vorige jare se oujaarssamesyn. Nou nie dat ek ‘n groot partytjiedier is nie, maar die vrolikheid van ander kan nogal aansteeklik wees en bring soms weer die kind in mens na vore.
Groot was my verbasing toe ek, na nog ‘n stil aand en vroeg inkruip, wel om 12uur die nag wakker gebombardeer word met klapgeluide en kleurflitse, die ou bekende oujaarsaand vrolikheid. Kinderlik opgewonde het ek opgestaan en die gordyne wyd oopgetrek om weer, vir ‘n oomblik, ‘n onbesorgde “kind” te kan wees.
“Kom kyk, kom kyk,” het ek manlief wakker geskud, “daar is sowaar mense wat nié so gehoorsaam soos ons is nie!”
Soos twee opgewonde kinders het ons voor die venster stelling ingeneem en kon wyd en ver die kleurespel van vuurvonke in die lug sien ontplof, met selfs ‘n vrolike uitroep hier en daar hoorbaar deur die stil nag.
Ja, ek wéét dat vuurwerke verbied is, en ek wéét watter skade dit aan diere veroorsaak, en …, en …, maaaar … daardie vuurvrolikheid het my gemoedsvlammetjie weer helder laat opvlam.
“Voorspoedige Nuwe Jaar!” het ek ook spontaan vanuit my woonstelvenster geskree, saam met al die frustrasie wat opgebou het die afgelope jaar, en gevoel hoe alles wat styfgetrek het, skietgee. Uitgelate het ons mekaar omhels en vrolik gelag, koffie gaan maak en gecheers op 2021 wat pas gebore is.
Die volgende oggend het ek wakker geword met ‘n ligter gemoed en geweet dat my verwagting vir hierdie jaar nie gebonde hoef te wees aan reëls en regulasies wat my inperk nie, maar aan die vryheid van denke wat streef na ‘n waardevolle lewe.
Ja, mens moet reëls gehoorsaam en nakom, maar dit hoef nie jou gemoed en gees te temper nie. Ek kies om 2021 ‘n oorwinningsjaar te maak!
©Driekie Grobler (2021)
(396 woorde)
Februarie 2021 – Liefdes projek
1.Wraak my liefde
Die konsep van liefde word totaal misverstaan. Of laat ek liewer sê: meestal verkeerd geȉnterpreteer deur meeste mense.
Dalk is dit net ‘n kwessie van verskillende opinies oor die uitvoer daarvan, maar hoe dit ookal sy, liefde is nie ‘n teorie nie, dis ‘n daad.
Hoe baiekeer hoor mens nie Sê dit met liefde in plaas van Wys dit met liefde nie?
Om te sê jy is lief vir iemand, beteken jy bedink die emosie (teerheid, minsaamheid, verwondering) wat jy voel en verwoord dit om uiting daaraan te gee. Dit beteken egter nie dat jy werklik weet hoe om daardie teorie om te skakel in dade nie.
Liefde spruit voort uit voorbeeld.
Kinders leer van kleins af wat liefde beteken:
Sommige vereenselwig liefde met tug en vermaning;
Sommige met die ontvang van ‘n oorvloed geskenke en versnapperinge;
Sommige voel dit deur aanraking – drukkies en soentjies;
Sommige beleef dat dit verdien moet word deur sekere goed te doen of op ‘n sekere wyse te presteer;
Sommige verstaan glad nie die omvang van die woord nie, omdat hulle geen ervaring daarvan kry nie.
Hoe dit ookal sy, LIEFDE is gratis, verniet, passella en deur ‘n liefdevolle Vader aan ons geskenk om mekaar te bedien.
Liefde laat jou gekoester en waardevol voel.
Liefde bring die beste in jou na vore.
Liefde spoor jou aan tot hoër hoogtes.
Slegs as jy liefde ontvang kan jy dit weer uitdeel.
Die grootste voorbeeld van liefde was Jesus se daad aan die kruis.
Kom ons wees lief vir mekaar, vir onsself, vir ons skepping en die Skepper daarvan.
Laat ons PRAAT ons DOEN wees.
©Driekie Grobler (2021)
(270 woorde)
Mei 2021 – OOP Projek
1.Geknoffel
Die winter het hom toe heerlik kom tuismaak hier in ons midde. Twee dae gelede kon ons nog baadjieloos buite rondloop bedags. Maar van gister af gryp ons na ‘n warm jas en lê styf lepel snags.
So stoei ek en manlief nou al geruime tyd om die komende winterkieme weg te hou. Ondersteun gretig en gulhartig die F&V-stad (Fruit & Vegatable City) om ons voorraad vars vrugte en groente gereeld aan te vul. Ons vol vitamiene C en gesondheid te stop. Het spesiaal vir dié doel, een van daardie versappers, wat elke druppel sap uit enigiets kan pers, aangeskaf.
So drink ons getrou elke tweede oggend ‘n glasie vars lemoensap met gemmer en soms kom daar ‘n wortel by. Hierdie takie het manlief op homself geneem, hy verstaan die werking van die versapper beter as ek en geniet dit om allerhande vrugte- en groentekonkoksies te brou. Ek moet soms net neus toedruk en sluk.
Vars gemmerwortel is nogal ‘n skaars ding, daarom was ek verheug toe ek ‘n botteltjie vars gemaalde gemmer op die winkelrak raaksien. Skaf dit toe sommer dadelik aan, want dis darem nou gerieflik, dink ek by myself. Skep net soveel jy benodig en siedaar.
Vanoggend is toe weer manlief se beurt vir ‘n lemoensappie met gemmer. Hy kondig aan dat die gemmerwortel gedaan is. “Ag liefie, gebruik sommer van die gemmer in die botteltjie, dis in die yskas,” los ek gou-gou sy probleem op. “Sal dit werk?” vra hy so ewe. “Natuurlik, dis mos verpulpte vars gemmer,” antwoord ek trots oor my ontdekking.
‘n Bekende walm kom saam met hom en die glasie lemoensap (in sy hand) die kamer ingewals. Voordat ek kan vra wat …, antwoord hy ewe vroom: “Jammer, ek dink ek het seker die verkeerde houertjie gevat, wat hierdie ruik eerder na knoffel in plaas van gemmer.”
Dit was toe nie te onaardig nie, en ek glo die kieme sal nou beslis op die vlug slaan, so ook ‘n hele paar mense om my. Ek sal maar die suigmentjies naderby moet hou tot die aroma om my vervaag.
©Driekie Grobler
Junie 2021 – Interteksualiteits projek
2.My erfenis
“Familie is soos takke aan ‘n boom, almal groei in verskillende rigtings, maar ons wortels bly as een.” Hierdie gepaste gesegde het my oog gevang toe ek op oom Google se inligtingsplasie gaan rondkuier.
Daar word nie verniet gesê: “Jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie.” Ons dna lê vasgewortel in erfgrond, maak nie saak hoe wyd die takke groei en hoe mooi die blomme bloei nie.
Soos die jare aanstap het ek tot groot ontsteltenis begin agterkom dat ek al meer soos my ma lyk en begin funksioneer. Skrikwekkend, want ek het my bes probeer om nooit eendag soos sy te wees nie.
As kind kon ek haar baasspelerige houding en ongevraagde wysheid en vermanings nie verdra nie. Haar sienswyse het totaal verskil van myne. Sy het ons met ‘n ysterhand regeer, nooit toegelaat dat ons eie besluite maak nie. Haar woord was wet en basta. Niemand het ‘n kat se kans gestaan om teen haar op te staan of om haar van sienswyse te laat verander nie.
Kyk, as manlief my nou rerig kwaad wou maak, moes hy vir my sê: ‘Jy is nes jou ma’. Om een of ander rede het daardie woorde my lont behoorlik laat vlamvat en die vonke laat spat.
Met die grootmaak van my eie kinders het ek hard probeer om ‘n modelma te wees, nie die foute van my ma te herhaal nie. Hulle genoeg ruimte gegee om hul eie identiteit te ontwikkel. Alles volgens die boek gedoen en trots gespog wanneer hulle presteer en sterk opstaan teen die stroms van die lewe.
Met die koms van kleinkinders, en ek nou gryser en wyser, sien ek duidelik die geykte karaktertrekke sterk deurslaan. Hoor ek soms my kinders kla oor hulle kinders se hardkoppigheid en vurige temperamente. Dan glimlag ek stilweg in die wete dat “die appeltjies beslis nie ver van die boom geval het nie” (soos die spreekwoord sê) en sien ek duidelik hulle, wat na my aard, wat na my ma aard, wat na haar pa aard, in hulle raak, veral die oudste enetjie, is haar wyse oumagroot uitgeknip.
Ek moes vrede maak met familiegene, want daardie einste hardkoppigheid en standvastighed het my oor vele berge en deur baie laagtes gedra.
©Driekie Grobler
(Bronnelys: Google – met erkenning aan Brenda van Zyl; Afrikaanse gesegdes en inspirerende woorde & wyshede – Marietjie Visagie, Afrikaanse gesegdes – “Bekende Afrikaanse spreekwoorde” kursiefgedrukde uitdrukkings in alledaagse spreektaal – Wikiquote – Foto “Grap blad vir almal” Facebook)
Oktober 2021 – Akrostiese projek
1.Oktober kraai gewis nie koning nie
Ek het nog altyd geglo die mensdom is na-apers. Tropdiere met ‘n voorloopskaap. Dit is ook al oor en oor bewys. Kyk nou maar hoe maklik hang almal “slim sêgoed” aan. Iemand raak byvoorbeeld op ‘n dag digterlik en raak iets kwyt soos “Oktober, die mooiste, mooiste maand,” en dit kos net een oplettende digliefhebber om die klok te lui, en ‘n hele trop/samelewing raak in beswyming daaroor en maak dit sommer ‘n lewenswet dat Oktober van nou af die mooiste maand van al die maande gaan wees.
Wat van September, met sy somergroet van bottende bome en vars grasspriete. Vinke wat vlink nessies bou en velddiertjies wat ontwaak uit winterslaap?
Wat van Augustus, met sy winddanse wat spelend kielie deur boomtakke en vrolike note optower uit stoepklokke?
Wat van Julie, met die son wat vroeër oor die rante glim, met soet beloftes van somer aan die kom?
Wat van Junie, met sy wit landskappe, kapok op die berge, knus kaggelvure en heerlike trooskos, inblydae vol kwaliteit gesinstyd?
Wat van Mei, met sy kleurvolle herftapyt, waarin die mooiste sonsondergange hul eggo’s vind?
Wat van April, met velde ootrek van kosmos, wuiwend in eerbied oor ons Verlosser se bloedoffer?
Wat van Maart, met sy donderstorms en gematigde klimaat, nie te warm of te koud, die ideale tyd vir pieknieks in die natuur of pannekoek op reëndae?
Wat van Februarie, met sy liefdesgloed, rose in oorvloed om liefdesboodskappe gul oor te dra?
Wat van Januarie, met sy vars begin na feesoordadigheid, heerlike luilekker somersdae van son, swem en braaivleis?
Wat van Desember, met al sy feestelike blink, vakansies wat wink en viering van die Skepper wat al die mooi gemaak het?
Wat van November, met sy stille somerprag, reënvlae wat alles skoon kom was?
So, jy sien, mnr. Leipoldt, jou gedig oor Oktober is werklik uitstaande, maar beslis nie gegiet as lewenswet nie. Oktober mag wel die oorgang wees van lente na somer, met Jakarandas pers in blom en Namakwalandvelde oortrek met kleurvolle blommeprag, maar of dit die mooiste maand is … daaraan twyfel ek sterk.
©Driekie Grobler
Januarie 2022 – DRAMA projek
1.Aandadig aan moord
Verwoed gooi ek wal toe Boet eendag by die huis aankom met ‘n klein, sagte bondeltjie. maar die oomblik toe hy haar versigtig in my hande plaas, is my hart verlore. Die verskonings gou vergete met die bang, kloppende hartjie teen my vingerpunte. “Toemaar” troos ek sag, “hier is jy veilig.”
Sy was die pragtigste, sagste chinchilla-dingetjie wat ek nog ooit gesien of vasgehou het. Met deernis het ek haar teen my hart vasgedruk, al het ek geweet hoeveel tyd en versorging sy gaan verg. ‘n Nagkind wat slaap in die dag en woel in die nag.
Hoekom ek altyd ingee wanneer die kinders troeteldiere huis toe bring, weet nugter, want hulle verloor gou belangstelling en dan word dit my verantwoordelikheid.
Na ‘n paar maande was sy groot genoeg om ‘n maatjie te kon kry. Versigtig en nuuskierig het sy die nuweling in haar domein ontvang en nie lank daarna nie was hulle ‘n gesinnetjie van drie. Daar is ge”oe” en “aah” oor die nuwe baba.
Nog ‘n jaar later was daar ‘n tweeling by. Identies en baie skugter het hulle diep weggekruip, selde kom groet. Sy het hulle gewys hulle hoef nie bang te wees nie, ons sal hulle geen leed aandoen nie.
Saans kon ek hoor hoe sy met hulle speel en gesels, bevele uitblaf om hulle te leer. Nie dat daar seker veel van die lewe te leer was in hulle beperkte lewensomstandighede nie, want hulle is, net soos sy, ook, in gevangenisskap gebore. Haar leef-en-oorleef-instink het nooit kans gekry om te ontwikkel nie. Van gevare buite die hok was sy nie bewus nie, want hier, in hulle eie koninkryk, was hulle veilig, beskut en versorg.
Ek het soms gewonder wat hulle dink wanneer hulle vir ure so doodstil op ‘n stomp sit en deur die ogiesdraad staar. Wonder hulle dalk hoe dit moet voel om vry te wees; van boom tot boom te kan spring; hul eie kos bymekaar te kan maak; getrou aan hulle natuur te leef; gevare te trotseer; vry en ongebonde te kan wees, soos God hulle geskape het, maar mens dit van hulle kom ontneem het.
Later was die babas groot genoeg om te kan verkoop. Dit was mos die aanvanklike rede waarom Boet hulle aangeskaf het, om met hulle te teel vir ‘n ekstra inkomste. Maar by verkoop het dit nooit uitgekom nie, want hoe kry mens dit oor jou hart om so ‘n pragtige gesinnetjie op te breek?
Op ‘n dag besluit manlief om die kleintjies bietjie te laat proe aan vryheid. Hy maak die hok se hek oop en haal die tweeling uit. Sit hulle buite die hok neer met die wete dat hulle nie te ver van hul ma sal wegdwaal nie. Sy teorie werk, hulle bly naby die hok, hardloop en speel net rondom die hok, in die koelte van die groot perskeboom.
Een oggend staan die hek wawyd oop. Ek skrik en dog dadelik dis ‘n kat, maar besef ‘n kat sal nie die hek kan oopmaak nie. Ons fynkam die binne- en buitekant van die hok vir leidrade en spore. Een van die tweeling en die ma is weg. Ek stap om die huis om te kyk of daar enige teken of spoor van hulle is en skok tot stilstand. Op die rand van die swembad lê sy op haar magie, sopnat met lewelose, oopgesperde ogies. ‘n Bietjie verder weg lê die baba ook.
“Aggenee, Bubbels, wat het gebeur?” snik ek my hartseer uit.
Kyla, ons getroue herdershond, kyk my met hartseer oë aan. “Wat het gebeur, Kyla?” vra ek asof ek ‘n antwoord van haar verwag. Ek het haar hoor blaf in die nag. Ek glo sy het die spartelende bondeltjies, wat hulle misgis het met die blink poel water, probeer red, deur hulle met haar bek uit die water te haal, maar dit was te laat. Die geheim van die gebeure lê agter haar oë weggesluit, oë wat nie woorde kan praat nie.
My hart is seer. Daar heers ‘n atmosfeer van treurigheid in die chinchilla-hok. ‘n Gesin van vyf is nou net drie., en ‘n kleintjie soek sy ma.
Wie aandadig is aan dié chinchilla-moord, sal ons sal nooit weet nie.
©Driekie Grobler (700 woorde)
April 2022 – En toe… projek
2.Arme Jan (400 woorde)
“Daar was ‘n man, sy naam was Jan,” so begin baie kinderstories. Dit maak ook ‘n mooi rympie. Vele liedjies is al geskryf daaroor, soos “Jan, Jan, Jan, die bielie van die Bosveld.” Grappies is gemaak en spreekwoorde het daaroor ontstaan. ‘n Algemene naam, waaragter ‘n ryk geskiedenis lê.
Lank, laaaank gelede, was daar ook ‘n Jan wat na máánde op see voet aan wal gesit het aan die Suidpunt van Afrika. “Hallo, Afrika, ek is Jan,” het hy homself seker voorgestel met drome in sy oë en vele planne in sy kop om van hierdie woeste, leë, ongerepte land ‘n vooruitstrewende spogland te kom maak.
Jan was beslis nie lui nie, hy het gewoeker en gewerskaf, planne gemaak en huise laat bou, groente geplant en wingerde laat aanlê. Hy het reëls en wette gemaak, sodat orde gehandhaaf kan word. Gou was daar ‘n hele gemeenskap wat floreer het, van skool tot kerk. En so het hy voortgebou, ook sy nageslag, en hulle nageslag, en hulle nageslagte (tot waar dit ons insluit) om hierdie pragtige sonskynland op te bou en te laat floreer. ‘n Groot land met oorgenoeg plek vir almal wat gekies het om dit hul tuiste te maak.
Maar toe gebeur “en toe …” en daarna nog meer “en toe’s” en later nóg meer “en toe’s” totdat die papaja die waaier tref en jy net pitte en oranje pap sien spat.
“En toe, wat gebeur toe?” wil jy seker nou vra.
Toe, my liewe vriend/vriendin, begin die grappies floreer. Vingers word gewys na arme Jan, en alles wat verkeerd gaan word voor sy deur gelê. ‘n Groot mishoop wat alle redelikheid versper. Hy kry die skuld vir maagpyn en verstopte dreine, vir onmin en slapelose nagte. Sommiges dink dis snaaks, ander kry maagsere en skree oorlogskrete.
“Dis Jan se skuld dat ons nou hier in die 20ste eeu sukkel met alles!” “Dis Jan se skuld dat daar beurtkrag is en gate in die paaie waar dit veronderstel is om gelyk te wees, sodat ons kommer- en vreesloos daar kan ry. En dis sý skuld dat daar nié gate is waar gate moet wees nie, sodat ons versoeningspale vir vooruitgang kan plant, want honger mense moet kos kan kry en dakloses huise.”
Klink dit vir jou bietjie sinloos en deurmekaar? Toemaar, vir my ook.
Maar íemand moet seker die skuld kry … arme Jan!
©Driekie Grobler
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
3.Laat logika seëvier
Ek verstaan regtig nie hoe party mense dink en redeneer nie. My logika sê vir my dat wanneer daar ‘n monument vir ‘n spesifieke taal opgerig word, soos die Taalmonument vir Afrikaans, dat die monument se naam vanselfsprekend “Die Afrikaanse Taalmonument” sal heet. Hoe is dit dan nou logies om so ‘n monument se naam te wil verander? Verander na wat nogal?
Duidelik stem my logika nie ooreen met almal se siening daaroor nie. As mens fyn tussen die lyne lees oor die kontroversie wat daaroor ontstaan het, dan wonder ek baie sterk of dit nie hier maar bloot oor politiek gaan nie.
Daar is mense wat alles wat ruik, smaak en klink na “Boer”, waarvan die Afrikaanse taal ook mee vereenselwig word, tot niet wil maak en verban.
Afrikaans is lankal nie meer eksklusief ‘n blanke taal nie. Dis ‘n taal wat sy regmatige plek in ons land en samelewing gevind het, en die mense (oor kleurgrense heen) wat dit praat, is trots daarop. ‘n Taal wat onomwonde gekoppel word aan die museum wat spesiaal daarvoor opgerig is, jare gelede.
My mening is dus: As julle verveeld is en wil karring aan goed wat vir ons belangrik is, gaan karring liewer op ‘n ander plek met iets anders en los ons taal en ons Taalmuseum uit. Dit het nog nooit gepla nie, waarom nou wil ongelukkigheid en verdeeldheid veroorsaak deur ‘n naam wat al geslagte lank kom, te wil verander?
©Driekie Grobler