Estelle Rubow
September 2018 – Spyse vir die siel projek
1.Verlatenheid
Ons ry deur die verlatenheid van die Skedelkuspark, ‘n oerlandskap wat lyk of dit nie aan hierdie wêreld behoort nie. Ons ry stadig want die pad is sleg en ek wil niks mis nie. Ek wil stadig elke faset van hierdie verlatenheid opsuig soos ‘n spons, elke nuanse van vorm en kleur ervaar wat voortdurend vloei en verander, soos ‘n enorme seedier wat gewigloos en grasieus deur die water kronkel.
Ons ry met ‘n paadjie tot by die see. ‘n Pragtige baai omkelk ‘n silwerskoon strand en ek verwonder my aan die skatte in die opdrifsels… stukkies spoelhout deur die see gevorm en geskuur, pers en rooi seegras vervleg met ‘n klossie mosselskulpe wat oopkeel in perlemoenkleure vir die son lê en lag.
Die lug is skoon met ‘n ligte seebriesie, die son is aangenaam, ek kry die vars reuk van die see en hoor die stilte, die wind, die branders, ‘n damara sterretjie se hoë skril roep. Ek sien vlietend sy wit vlerke in die son weerkaats voor hy versmelt met die grond waar hy gaan sit.
Verderaan by die Huab lagune lê die water helder in die sonlig, omsoon met ‘n glinsterende wit soutrand. ‘n Klompie trekduikers sit op die strandjie, vlerke wyd gesprei om af te droog. Ek stap nader sodat hulle kan opvlieg vir ‘n foto. Stadig, luierig vlieg hulle een vir een op om net ‘n entjie verder onverstoord weer te gaan sit. Tussen hulle ‘n verdwaalde flamink, seker op pad terug na sy blyplek ‘n entjie verder by Kaap Kruis se soutpanne.
Daar heers ‘n totale vreedsaamheid in hierdie bo-aardse, amper buitewesenlike verlate landskap, ‘n vreedsaamheid wat ek in my diepste binnewese vind. Daar waar ek volkome stil kan raak, waar my kreatiwiteit se oorsprong lê, waar my spirituele bewussyn lê. In hierdie verlatenheid voel ek volkome een met die skepping.
Skielik, in ‘n helder oomblik is dit asof ek weet waarheen ek sal gaan as my rol as menslike wese hier op aarde vervul is. Dis waar ek sal wees, ‘n drywende energie wat onvermoeid in hierdie veratenheid sal voortbestaan, interaktief met ander van my soort, in ‘n woordelose bewussyn. Geen soeke meer na die waarheid, geen soeke na woorde om my gevoelens te beskryf, geen woorde wat verkeerd verstaan kan word, kan kwets nie.
Net ‘n bewussyn “in ‘n lewe iewers ná die dood waar ek gewigloos oor die maan sal seil soos die spook van parmenides, ‘n energie soos waterdamp só yl…”.
©Estelle Rubow