Jongste aktiwiteit:

Hester Steenkamp
vir

Hester Steenkamp

Lees meer oor Hester Steenkamp

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

2.Eenheid in verskeidenheid (497 woorde)

Die hele debakel rondom die verandering van die naam van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) krap nou al ‘n geruime tyd hier aan my binneste – soos die spreekwoordelike klippie in jou skoen. Eers wanneer jy gaan stil staan en jou voet uit die skoen wikkel en die lastige klippie uitskud, kan jy ontslae raak van die ergenis en frustrasie. Kort-om, die klippie moet verwyder word.

Die rede vir my frustrasie is tweeledig. Eerstens kan ek nie verstaan waarom mense bly krap aan die geskiedenis nie, want daar is geen nut in nie. Jy kan skel van ‘n podium af, dreigemente maak, name verander, standbeelde in die see gaan gooi en skoolhandboeke herskryf, maar jy sal nooit die geskiedenis kan verander nie. Dit is wat dit is. Wat gebeur het, het gebeur, en niks wat jy nou doen sal dit ooit verander nie. Ek voel dit is veel belangriker om die toekoms te probeer verander en beter te maak, want daaraan kan ons beslis iets doen. Tweedens kan ek nie verstaan waarom iemand dink om ‘n klip struktuur se naam te verander, mense se lewens sal beter maak nie. Dit gaan nie. Maar die geld wat aan die naamsverandering bestee sal word, kan soveel beter aangewend word en dit kan wel mense se lewens beter maak. Dink net aan al die talent in Suid-Afrika, oor kleurgrense en taalgrense heen! Skrywers, sangers, akteurs en aktrises, digters en skilders, en tientalle ander vorme van kuns en kultuur wat hard deur Covid geslaan is. Daardie fondse kan ‘n reuse verskil aan baie mense se lewens maak wat reeds so swaar trek.

Het die Afrikaanssprekendes foute gemaak in die verlede? O ja, sonder twyfel! Ons het báie foute gemaak, maar dis mos hoe mens leer. Ek is oortuig dat baie van ons diep jammer daaroor is, en dat ons dit anders sou wou hê as ons tyd kon terugdraai. Ons kan egter leer uit die foute en dit regstel en sorg dat so iets nooit weer gebeur nie. Nóóit weer nie. Maar om die ATM se naam te wil verander gaan net ou rowe afkrap en nuwe wonde veroorsaak. Mandela het gedroom oor ‘n reënboognasie, en baie het saam gedroom, maar wanneer jy ‘n reënboog se kleure meng, kry jy net grys. ‘n Vaal en dooie kleur wat geen vreugde aan enige iemand verskaf nie.

‘Eenheid in verskeidenheid’ is Suid-Afrika se leuse. Dit beteken dat ons mekaar se kulture, taal en tradisies moet aanvaar en respekteer. Ook dié van die Afrikaanse taal en kultuur. En dis al hierdie verskillende tale en kulture wat aan ons reënboog die lieflike kleure gee. Net soos wat daardie monument ons taalgeskiedenis vertel, so is dit ook ‘n herinnering aan dit wat nooit weer mag wees nie. Dis tyd om die geskiedenis te los waar dit is – in die verlede, en te fokus op die hier en nou en omstandighede beter te maak vir die’s wat nog kom.

© Hester Steenkamp

 

JULIE 2024 – OOP PROJEK

1.Vaal is die boervrou se wit

Soms kry ek myself dat ek deur Pinterest se foto’s blaai en dan verkyk ek myself aan al die lieflike goed daar. Soos die smaakvolle huise met hulle pragtige meubels en tuine. Die son wat met engelstrepe deur blinkskoon vensters skyn en oor sagte banke met wollerige komberse val en weerkaatsings maak op blink vloere. Die lieflike gesonde potplante wat met heldergroen, welige blare in hoeke staan en oor hangmandjies tuimel. ’n Badkamer met blink spieëls en ’n gladde bad met snoesige handdoeke wat in perfekte rolletjies gerol is, met ’n orgideë op die marmer tafeltjie. ’n Deken wat skuins oor ’n stoel lê met die tossels wat so netjies in gelid op die houtvloer rus. Die tuine met geen tak of blaar uit plek nie en die klippertjies wat netjies die beddings bedek en nie eers een onkruidjie wat uitloer nie. En dis wit. Alles is wit. Die banke, die kussings, die vloere, die handdoeke. Selfs die mure. Dis net wonderlik mooi. En skoon. En wit.

 

Maar laat ek julle nou ’n ding vertel … dis níé hoe ’n boervrou se huis lyk nie. Wit is nie jou vriend nie. Wit is uit. Vir alles en enige iets. Ons werk in skakerings van bruin en beige en grys. Jy weet, aardse kleure. Kleure wat lyk soos die veld en die grond, die diere en jou man se lyf. Basies die kleur van stof. Vir enige sielsvrede, gaan vir bruin en vergeet geheel en al van wit.

 

Van die kombuise praat ek natuurlik nou nie eers nie. Dis mos maar ’n vrou se plek daardie. Daar waar jy, gewillig of baie onwillig, die meeste van jou tyd deurbring.  Pinterest kombuise laat kry jou sommer lus vir kook en bak en inlê. Groot skoon oppervlaktes met koperpotte wat uit die dak hang. Groot vensters wat natuurlike lig inlaat vir die kruietjies op jou vensterbank. ’n Stoof waarmee jy ’n weermag kan voed. Blink glasbottels met geheime in wat jy sommer kan ruik. Maar huh-uh, nie onse kombuise nie. Daar is die oppervlaktes vol van rondlêgoed. Dis hoede en spuite en kastreerrekkies. Dis wassers en tietiebottels vir die hanse en fakture van die koöperasie. En draad. En gom. En batterye. Maak jy die yskas oop, moet jy jou weg baan deur die magdom botteltjies en houertjies met veemedisyne en hondsdolspuite. Die yskasdeur behoort aan die boer.

 

Ons plante het almal bruin stingels en kalkkolle op die blare. En natuurlik stof. Die banke is toegegooi met komberse en kussings vir die troeteldiere. Die matte is bruin en verbeeldingloos en lyk maar soos buite – skakerings van vaal. Voor die vensters, aan die buitekant, hang skadunet om die dodelike weste son uit jou kombuis te hou, want niks wil daarbinne lewe gedurende die somermaande nie. Veral nie jy nie. In die tuin voer jy ’n ewige stryd met onkruid, bossies en kweek wat alles verswelg. Geen plant groei so vinnig en mooi en gewillig soos ’n onkruid nie. En dis ’n stryd wat jy telkemale maar verloor en soms voel jy jy gaan alles uitruk en net klippe gooi. Maar nie wit klippe nie, want nie eers ’n wit klip bly wit op ’n plaas nie.

 

Dis so lekker om die mooie goed te kyk en te droom en te wens, maar soos die spreekwoord mos sê, jou huis is waar jou hart is, en my hart is op die plaas met sy bruin en vaal en stof. En hondehare wat oral vassit. En plante wat ons lewendig troetel. En ’n boer vol stof wat diep sug van genoegdoening as hy sy moeë lyf op die bed neerlê. Op die bruin beddegoed wat jy vir huweliksvrede leer liefkry het.

©Hester Steenkamp

SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK

1.Ingelegde liefde

Ek het nou die dag gelees iemand sê dat tradisie niks anders as groepsdruk van dooie mense is nie. En dit is seker soms so, maar daar is baie goeie tradisies ook, en dit maak nie saak hoe modern die lewe raak of hoe maklik en vinnig sommige dinge deesdae is nie, daar is net sommige goed wat beter is op die outydse manier. Soos byvoorbeeld die inlê van produkte. Modern beteken nie noodwendig beter nie.

Ons voorouers het dit gedoen omdat hulle geen ander keuse gehad het nie. Daar was nie iets soos yskaste en vrieskaste nie, en nog minder ‘n Spar op elke hoek. Hulle moes produkte bewaar wat in seisoen is, vir wanneer dit nie meer is nie. Ek het al gehoor dat hulle vleis bewaar het deur dit gaar te maak en dan in lae in houtvate te pak met varkvet oor. Hulle kon dit vir baie lank so vars hou. Hulle was vindingryk en hulle planne het nooit opgeraak nie.

As mens jonk is, is hierdie dinge vir jou sinneloos. Jy skud maar net jou kop oor die tannies wat heeldag staan en week, skil, kook, steriliseer en bottel, want dit is outyds, tydrowend en onnodig. En duur. Hoekom sal jy staan en tamatieskille aftrek as jy winkel toe kan gaan en vir ‘n paar rand en min moeite vir jou soveel tamatiekonfyt koop as wat jou hart begeer? Binne en buite tamatie-seisoen?

En dan, op ‘n dag begin kry jy daardie oeroue drang in jou om ook iets in te lê. Dit bekruip jou soos ’n dief in die nag. Voor jy weet is jy een van daardie tannies waarvoor jy jou oë gerol het. En as jy eers begin, kan jy nie ophou nie, want dit is deel van jou DNA. Dit hardloop in jou bloedstroom rond. Dan begin bel jy jou ma en skoonma vir resepte en jy begin vra al jou bure om vir jou hulle leë glasbottels te bêre. Jy gaan haal jou ouma se resepteboek uit die kas wat in 1941 gedruk is (13de druk) en blaai met respek en deernis daardeur en probeer prentjies in jou kop maak van hoe sy by haar kombuistafel sit en deur die einste boekie blaai.

Terwyl jy so staan en skil en kerf en tientalle gaatjies in elke makataanstuk druk, dan wonder jy oor hierdie dinge, en dan vra jy jouself af waarom doen jy dit elke keer aan jouself. En dan besef jy, jy doen dit rééds omdat dit outyds, tydrowend en onnodig is. Dis soos liefde wat jy in ‘n bottel sit. Vir later.

Jy doen dit reeds ómdat dit outyds is, want dis deel van wie jy is. Jy doen dit soos jou ma dit gedoen het, en sy het dit gedoen soos háár ma dit gedoen het en so is dit aangegee van die een geslag na die ander. Dit is deel van jou. Jy het dit geërf.

Jy doen dit reeds ómdat dit tydrowend is, want alles wat die moeite werd is in die lewe, vat tyd. Rome is nie in ‘n dag gebou nie. Om makataankonfyt te kook beslis ook nie. Jy moet eers skil, dan moet jy elke stuk vol gaatjies prik, en dan moet dit oornag in kalkwater lê, met ‘n swaar bord bo-op sodat al die stukke onder die water is. Die volgende dag spoel en spoel en spoel jy die stukke sodat al die kalk uit die gaatjies is en elke blokkie soos ’n stukkie glas lyk. Dan begin jy met die stroop. Sodra dit kook, plaas jy die stukke een vir een in die kokende stroop sodat dit nie afkoel en ophou kook nie, want dan raak die stukke pap. Dis ‘n kuns. Dis ‘n liefdestaak.

En jy doen dit reeds ómdat dit onnodig is, want wat is liefde anders as om iets vir iemand te doen sonder dat dit nodig is? Dit is mos suiwer liefde wanneer iemand iets vir jou doen omdat hulle wil, en nie omdat hulle moet nie. Dit is die tyd, aandag en moeite wat jy insit wat ‘n bottel konfyt, wat jy self gekook het, anders maak as die boks sjokolade wat jy by die supermark gekoop het.

Die beloning is soet wanneer jou aanstaande skoonseun die eerste keer plaas toe kom en die flesse suspisieus aankyk en dan later vra of daar genoeg is sodat hulle daarvan huis toe kan vat. Dit is wat daardie oudtydse, tydrowende en onnodige taak die moeite werd maak en maak dat jy dit weer en weer doen.

En die beloning is nog soeter wanneer jou dogter jou bel en jou vir resepte vra en jy later foto’s ontvang van die allermooiste bottels konfyte en strope in blink flesse wat op haar kombuiskas staan.

Wanneer iemand vir jou iets in ‘n bottel gee wat hulle self daarin gesit het, kan jy maar weet dit is liefde in daardie bottel. Nes ons voorouers dit gedoen het vir hulle gesinne en geliefdes. En die ná ons dit sal doen, want dit is wie ons is.

©Hester Steenkamp

November 2024 – OOP projek

1.Plaaskinders

Plaaskinders kan op ‘n myl uitgeken word. Die seuns se hare is gewoonlik kort en hulle hemde is ingesteek. Die meisies is onopgesmuk met blosende wange en vellies aan hulle voete – selfs met hulle matriekafskeid. Hulle stap fier en regop en het goeie maniere. Hulle toon respek teenoor ouer mense en hulle sê dankie en asseblief.

Plaaskinders word selfstandig gebore. Van kleintyd af leer hulle van die lewe en van dood en van oorlewing. Hulle verstaan dissipline en roetine en respekteer die natuur. Hulle kleuterskool juffrou is hulle ma’s, en daar is geen kwaaier onderwyseres as ‘n ma nie. Hulle weet dat plig voor plesier kom. Wintermaande kan hulle uitgeken word aan blou heupbene en gekneusde knieë van agter op die bakkie staan tydens jagtyd. Hulle weet jy skiet om te eet en nie vir plesier nie. Hulle verstaan baie goed dat as jy wil saam eet, moet jy saam werk. Hulle gril nie vir rou vleis nie. Hulle weet hoe voel dooie vingers van yskoue vleis wat verwerk word vir biltong en droëwors vir die koskas. Hulle kan ‘n derm se punt blitsvinnig vasvat as dit by worsstop kom. Hulle weet waar die Suiderkruis en Orion is en lê saans op die gras en soek satelliete. Hulle weet hoe lyk die maan as mens sê dat hy water uitgooi. Plaaskinders is lief vir diere, behalwe vir jakkalse en vlakvarke. Hulle weet hoe stilte klink en hoe donker donker is wanneer dit donkermaan is. Hulle eet saam met hulle gesinne aan ‘n tafel en hou saam huisgodsdiens. Plaaskinders weet hoe om krag en water te spaar, aanvaar dat vakansies op die plaas deurgebring sal word en dat die kersboom heel waarskynlik ‘n droë doringboom sal wees.

Plaaskinders weet hoe proe springbokniertjies wat in die veld gebraai word. Hulle kan van kleins af help skaap trek en hulle weet wat die verskil tussen bloudraad en binddraad is. Hulle kan vinnig agter ‘n wegbreekdorper aanhardloop en haar terugkeer na die trop toe en weet hoe dit voel om hulle nerwe af te val oor klippe agter ‘n halstarrige bok aan. Hulle ken die verskil tussen ‘n uierooi en ‘n gusooi. Plaaskinders weet hoe dit klink as Ma, Pa en Sus die enigstes is wat veels geluk met jou verjaarsdag vir hulle sing. Hulle het al duisende kilometers op ‘n grondpad bestuur voor hulle die plesier van ‘n teerpad ervaar. Plaaskinders weet wat ‘n burdizzo is. Hulle weet hoe dit voel om koshuisbrakke te wees en ken van bruinbrood en louwarm rooibostee saans tydens studietyd se pouse en aanvaar dat hulle moet kamers deel. Plaaskinders kan in vyf minute alles inpak wat hulle vir die komende week nodig sal hê. Hulle doen hulle eie huiswerk en take – gewoonlik deur die week, sodat hulle naweke in die veld kan wees. Wanneer jy vir ‘n plaaskind vra wat sy vir haar agtste verjaarsdag wil hê, sê sy ‘n “bokooi wat klaar by die ram was”. Hulle verstaan waar lammertjies vandaan kom en ken die storie van die blommetjies en die bytjies lank voor iemand dit aan hulle hoef te verduidelik. Plaaskinders ken die silklus van die maan en windrigtings en besef die waarde van ‘n noordewind in die somer.

Plaaskinders ken die plaas en jy kan hulle stuur om lek uit te ry en windpompe los te maak. Hulle maak sommer self gou die gat in die draad reg en kyk met oë wat raaksien en kom rapporteer die ooi wat sonder haar lam by die krip staan. Hulle kan spoorsny. Hulle staan soggens vroeg op om vir die hanslammers bottel te gaan gee en hulle ken die gevoel van verlang en ver van die huis af wees. Plaaskinders gee nie om om hulle ouer broer of suster se klere te dra nie. Hulle het ‘n kas in hulle kamers by die huis wat altyd vol plaasklere is, al bly hulle later op ‘n ander plek. Plaaskinders kan die beste vir reën bid en hulle geloof en vertroue is die sterkste. Hulle bel gereeld huis toe om te hoor of dit al gereën het en wanneer die tyding goed is, is hulle die volgende naweek daar om die reuk van nat plaasgrond te kom inasem. Hulle ken die intense lekkerte van in ‘n vol pan swem wat na jare se droogte vol gereën het en put eindelose genot daaruit om reëngoggas in die veld te soek. Hulle slaap graag met oop vensters. Hulle het sagte harte en sterk hande. Hulle is beginselvas en fluks en het waardering vir die vet jare, want hulle leer van kleins af hoe die maer jare voel. Die plaasgrond vloei deur hulle are.

Plaaskinders verlang altyd huis toe. Hulle neem verlof by hulle werke om self hulle diere te kom werk en reël voer en medisyne van ver af. Hulle weet wat die vleispryse is en spaar vir ‘n stoetram waarop hulle hulle oog het by die volgende veiling. Hulle woon kursusse by en leer van vroeg af om ‘n dier te klas en die beste eienskappe raak te sien. Hulle is oplettend en werk spaarsamig met geld. Hulle aanvaar dit wanneer daar gesê word dat daar nie nou geld is nie en dat hulle tekkies nog moet hou vir die nuwe sportseisoen. Plaaskinders besef lánk voor die meeste ander mense dat om ryk te wees niks met geld te doen het nie.

Plaaskinders kan goed skiet en weet hoe om ‘n wapen veilig te hanteer. Hulle het respek vir alle lewende wesens en ken die name van die grasse en bosse op die plaas. Hulle weet hoe dit voel wanneer jy in ‘n Prosopisdoring trap –  dat jy vandag bloei en môre brand. Hulle is nie bang vir swaar weer nie en as jy hulle vra wat is vir hulle die lekkerste reuk, sal hulle sê reën. Plaaskinders is opreg en eerlik en plaasmeisies hoef nie een tree terug te staan vir plaasseuns nie. Hulle kan boer én bak. Hulle hande staan vir niks verkeerd nie en help graag in die kombuis tydens vergaderings en die boerevereniging se funksies en met die bak vir die kerk en die basaar. Hulle kan alles doen wat plaasseuns doen.

Plaaskinders wil altyd weer eendag teruggaan plaas toe. Na daar waar hulle bloed, sweet en trane in die sand gedrup het.

© Hester Steenkamp

Desember 2024 – Kersfees projek 

1.Kersdag in die droogte

Dis Kersdag. My boerman is vroeg uit om die diere voer te gee, en ek sit op die agterstoep met ’n koppie koffie.

Terwyl ek oor die droë veld uitkyk, sien ek die brosdoring helderpienk teen die vaal van die veld. Die kontras laat snak my na my asem. Soos ek die skouspel bewonder, kom daar ‘n paar dorpers aangestap na die bos toe, en hulle begin vreet al die pienk sade van die bos af. Hulle vreet tot daar nie ’n enkele een oor is nie. Toe sê ek dankie dat die Liewe Here selfs in hierdie verskriklike droogte vir die diere sorg. Al is dit met net ‘n paar sade vir Kersfees.  .

Ek wil ook soos ’n brosdoring wees wat blom selfs wanneer omstandighede op die slegste is en lafenis bring daar waar nood is. ‘n Brosdoring wat pienk blom in die droogte.

© Hester Steenkamp




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed