Jongste aktiwiteit:

Lollie (Loret Zwarts)
vir
0 views

Lollie (Loret Zwarts)

Lees meer oor Loret

April 2023 – KLUG projek

2.Leuens die euwel van ons tyd

(436woorde)

n Leuen bly n leuen. Daar is nie grotes, kleintjies of n wit leuentjie nie. Laasgenoemde in die verkleining laat dit klink asof dit verskoon kon word. Hoekom maak n leuen so seer ?. Jy steek die persoon vir wie jy jok se vertroue met n graaf af. Hoekom sê ek n graaf, want die pyn hou nooit op nie. As jy n graaf gebruik moet jy moeite doen om iets af te steek, nou so is n leuen. Die een wat n leuen vertel doen moeite om jou te oortuig , intussen jok hy homself net meer vas.  Dit bly nie net by een leuen nie die vorige een kry kleintjies en stertjies en so vergeet die leuenaar wat hy wanneer gejok het.

  1. Leuens is n euwel dit word naderhand n siekte, al gehoor van n psigopatiese, manipulerende leuenaar ?.
    Dis n persoon wat so oortuigend jok dat hy of sy hulself glo. Dit word n leefstyl en hulle gebruik manipulasie om hul sin te kry.

Om n leuen te vertel kan soveel skade aanrig omdat dit vertroue skend en dit kan mense se lewens verwoes.  Leuens het al telkemale deur die hof getriomfeer en so beland onskuldige mense in die tronk.   Daar is n gesegde wat lees, ” jy dink jy kan my lewe verwoes met leuens, maar ek kan joune verwoes met die waarheid”.

Leuens verbrokkel verhoudings en huwelike.  Hoeveel keer is mense vir dekades getroud en net skielik sonder om daarna te soek vind jy uit dat jou maat n dubbele lewe lei of vir hoe lank het jy n leuen gelewe omdat hy of sy iets vir so lank kon wegsteek met n leuen.  Daar is net een ding.  n Leuen trek die waarheid klere aan net vir n kort tydjie.

Een of ander tyd as die wiel gedraai het gaan die verlede jou inhardloop van after af en al die leuens en onregverdigheid ontbloot.

Die waarheid het n manier om uit te kom terwyl jy nog jou kondensmelk koffie drink stap die waarheid by die voordeur in en word jy en die leuen in jou koffie beker onkant betrap.  My gesegde is gee my enige tyd die waarheid en ek kan my weg oop sien om jou te vergewe, maar moenie my intellegensie onderskat en my wil toegooi met leuens nie.

Leuens se kombers is vuil, taai en maak seer.  Vertroue vat jare om te herstel en baie keer herstel dit nooit.  Die een wat die waarheid vertel slaap rustig, n leuenaar is bekommerd oor wat hy vir wie gejok het want môre moet hy dit onthou.

Leuens die euwel van ons tyd om iets uit n mens te kan kry en later as jy klaar gehelp het hardloop die leuens oor jou rond in die strate, maar die een wat jok en skinder gaan vir niemand vertel wat jy vir hulle gedoen het nie.

Loret Zwarts

 

3.Leuens jou kopkussing

Wanneer jy verkies om leuens jou kopkussing te maak gaan jy verseker nie soete drome ervaar nie. Mens se gewete kla jou tog aan al wil jy nie luister nie.
Die onrus laat jou uitgeput opstaan. Die wat dink niemand sal weet nie daar is n verrassing. Die lewe sorteer jou vinnig uit. n Leuen het net die manier om wanneer jy dit die minste te verwag ontbloot te word. Die wêreld is klein , mense ontmoet mekaar en voor jy weet ken ons meer mense as net mekaar.
Die ding van n leuen is gewoonlik gedagtes.
Mense wat jok vergeet gewoonlik wat hul jou vertel het. n Leuen moet herhaal word en dis daar waar die skaal kantel. As jy nie onthou nie word n nuwe weergawe by gejok wat handjies vashou met die vorige weergawe en so onderskat jy mense se intellegensie juis omdat dit by jou ontbreek. n Leuen laat die leuenaar ongemaklik voel. Ek het die gawe om deur mense te sien verby die krop tot by die bedoelings voordat dit op jou lippe kom lê.
Mense se lyftaal sê meer as woorde. Het jy al gesien hoe vinnig mense bewys kan van hulself kan raak, hul vermy oogkontak en raak bewys van n haar uit sy plek, die kort rokkie wat sy nou met mening oor daai knieë wil trek.
Ja nee wat meisie die leuen het die materiaal opgevreet dis net n man wat jy met jou slenter gaan vang.
Mense kry swaar dit is waar, ons almal doen. Ek beleef dit een jaar dat n man kom hulp vra. Hy en sy vroutjie is stukkend deur die son gebrand. Hy begin vertel hoe hy en sy uit Upington geryloop het. Hulle vra net n geldjie vir n taxi tot in Johannesburg en miskien iets om die honger te stil. Ek kry jammer my kinders por my aan om te help. Ek gee die geld vir wat hy gevra het. Ek voel goed in my hart ek het my goeie daad vir die dag gedoen. Ons ry verder en stop by die Kentucky op pad huistoe. So benader dieselfde man my weer . Ek herken hulle dadelik, maar hulle erken my nie. Hier kom hy met n ander storie, die keer uit Kimberley sy motor het gebreek en as hy tog nou net die onderdeel kan koop is hulle koppe deur. Wat my op daardie oomblik tref is die drank asem wat my oorweldig in my motor. Ek het rooi gesien , uitgeklim en hom die waarheid vertel net daar en dan.
Dis die ding van n leuen om te kry wat jy wil hê of om n slegte gewoonte kos te gee nou manipuleer jy mense en dan doen jy dit ook nie geloofwaardig nie. Jy druk jou kop in die drank nes was dit om moed te kry Vir die volgende liegstorie ?.
Selfs my kinders het geweet jy jok hulle het hul spaargeld vir jou gegee. Jy het met kinderharte gesmokkel dat hul trane moes afvee.
Leuens is n euwel om geld of iets uit iemand te kry. Manipulasie is die oortuiging wat jou laat ingee. Mens word as harteloos afgemaak of baie sal sê jy is n snob as jy nie wil help nie, maar somtyds sien n mens deur die leuen verby die te veel grimering, vals naels en hare. Selfs die goue oorbelle wat skitter in die sonlig of die selfoon in jou hand spreek boekdele. Probeer mens nie jouself verbeter en jou waardigheid behou as om gekenmerk te word aan n leuen nie ?.
Nes leuens en manipulasie het alles n tyd wat dit werk en daarna begin mense jou skelmstreke agterkom.
Die euwel van vandag is dat mense makliker geld en kos kry om te bedel, maar so gou jy n werk aanbied dan stel hul nie belang nie. Hulle verdien meer by die robot n dag as wat hul sou kry in n salaris en dan oorweeg hul niks doen teenoor hande arbeid op.

Leuens spreek van n mens se integriteit en karakter. Loop in die waarheid behou eerder jou selfrespek en waardigheid as om die leuen mooi aan te trek.

Loret Zwarts

September 2023 – OOP projek

1.Meer as ’n seisoen

Lente is die seisoen waar alles nuut word oornag met plantjies wat haarnaald koppies uitsteek in groen spikkels.   Bloeisels vou die nuwe blomme in groen gekelkte hande toe om spikkels van die reënboog met ons te deel.  Hierdie jaar is anders.  Die weer patroon het skielik gedraai en ons uit ons gemaksone kom ruk.  Die springgety het skielik verwoesting begin saai aan die kus waar branders woedend sonder genade  ‘n golwende wit Lyn aan die kuslyn kom trek het.  Swaar reënval het die Kaap van goeie hoop op sy knieë gedwing terwyl brande onverpoos aan droë grasvlaktes lek in Limpopo.

Mens en dier ervaar rampe oor ons land tot op die uiterste vlak.  Mense het alles verloor.   Diere lê dood verbrand en mense vlug voor lekkende vlamme uit.

Hoe raak dit ons wat nog onaangeraak lente vier en inkopies doen asof daar niks om ons gebeur nie ?

Vanoggend kan ek net stil raak terwyl my gemoed my siel in ‘n stortvloed trane was.

Dan wonder ek hoeveel van ons het al so situasie beleef ?

Ons elkeen is ‘n lewende getuie hoe ons genade ontvang elke dag.  Jy wat nog vanmôre beskuit en koffie of ‘n ontbyt kan geniet, kom ons word stil voor God en bid vir ons naaste.  Word stil waar jy is en bid saam met my vir die rampe wat ons land en sy mense tref.   Kom ons draai na God in gees en dade en word dissiepels om ons mense in gebed te dra.  Dan bid ons vir slagoffers, maar ook vir die wat bereid is om te help.  Ons bid dat hul wie se harte in hierdie tyd bloei vir sy medemens ook seëninge op ander gebiede sal ervaar.  Moenie dink dat slegte dinge nie met goeie mense kan gebeur nie.  Slaan ag op wasrskuwings en bly veilig.  Die krag van die natuur moet nooit onderskat word nie.   Ons moet gedurig deur respek het vir God, ons naaste en onsself.   Moet nooit dink jy kan niks doen nie, elkeen van ons het ‘n roeping die Pottebakker het iets unieks om te maak met elke stukkie klei.

Ons het mekaar nodig hier in Suid – Afrika !

 

Loret Zwarts

 

2.Erfenis in ons onthou

Waar lê ons erfenis, wat beteken erfenis dag vir jou ?

Ek glo die onderwerp is stof tot nadenke.  Ek kom uit ‘n hardebeenkou era tussen spoorlyne en miskoeke optel vir warm water.

Ek glo my grootword jare het my geskaaf tot wie ek vandag is.   Dis my  erfenis.   Vandag praat die swart en wit kiekies hard met my.  Jy weet daai wat sommer so tussen jou duim en wysvinger ontwikkel het as jy hom skud.

Ek blaai deur die album van toeka tot nou en besef dat ons die laaste  gelukkige generasie was.   My erfenis lê diep gekelder in die wynkelder van my hart of nes die spens op die plaas, my ouma se heiligdom.

So bottel ek die herrinneringe nes ouma se ingelegde geelperskes, die jêm en kerrieboontjies.   Al die gebeurtenisse staan op hul eie rak in tyd en plek verseël.

Die etiket is geel verkleur van ouderdom, maar papier is geduldig.

My erfenis het die eerste Januarie 1972 begin toe ek my longe volgetrek het en uit volle bors my eerste asemteug kon gee.

Daarna is al my flaters en oorwinnings tussen te klein skoene en later kaalvoet in beesmis deur die lewe in die argiewe van my bestaan geliaseer.

Vandag voel ek hoe my erfenis my ‘n deel van afrikaans maak.  Die arm dogtertjie met die ongekamde hare het stil met die laaste lokomotief se yster treë haar debuutbundel “Stasiehuis no 5”  uitgegee.

Gepubliseerde digter en skrywer kan ek nou tussen treinspore skryf.

 

Loret Zwarts

 

November 2023 – OOP projek

2.Warmste November

Dis November maand en almal tel al die dae tot kersfees.
Vir van die plaasboere en hul werkers wag ‘n stresvolle besige tyd.
Die hittegolf wat huidiglik die land se temperature in die rooi laat styg bring uiterste onuithoudbare warm dae en bitter min of geen reën. Die reën seisoen hier in die ooste van die vrystaat is gewoonlik oktober. Dan is daar reeds geplant en kan mense die rustigheid geniet om die kersseisoen.
Hierdie jaar werk dinge bietjie anders. Boere wat net op reën staatmaak se plantseisoen is deurmekaar gegooi en die droë hittegolf bring min belofte van reën.
Die mense wat wel kersinkopies kan doen ek gun elke oomblik vir julle. Vir jare eers as dieselwerktuigkundige is dit van ons kinders gesteel omdat hulle pa tot laat die vier-en-twintigste nog moes werk en nou as “jack of all trades” by ‘n boer met grondwerke hang ons kerstyd af van plant tyd.
As daar nie geplant is of klaar geplant is nie kry hy nie verlof nie. Dit is maar wat dit is en daar is min mense wat die ekstra myl sal loop.
Daar is tog ‘n paar dinge wat mense vergeet terwyl die vure hoog brand en die eerste kas bier begin leeg raak.
Dit is nie waaroor kersfees gaan nie. Het ons mense verstrik geraak in die koop sindroom van die feestyd want net die beste en duurste is goed genoeg ?
Is dit regtig so of is Jesus se liefde en genade nie kosbaarder as goud, pêrels en korale nie ?
Terwyl jy geld soos bossies uitgee is daar kinders wat net smag na ‘n bord kos.
Dan vra ek myself af waar lê my rykdom ?
Daar is iets wat God vir my wil wys in hierdie middelklas bestaan van my.
Dan glimlag ek want sien ek is ryk. Jy sal dalk lag want ek sê dan nou net my man is baie ontneem in sy lewe. Ja dit is waar, maar hy is ‘n voorbeeld vir ons kinders om te werk vir dit wat hulle wil hê.
Hy is ‘n godvresende man wat sy Here dien en sy vrou liefhet met sy hele bestaan.
Ons hoef nie iets aan die wêreld te bewys of met ons geloof te koop te loop nie want dit kan nie aan geld gemeet word nie.
My lewe is ‘n geskenk van God en dit wie ek is en hoe ek ander behandel is my geskenk terug aan Hom.
Is ons trots op wie ons is of klou die koop sindroom en eie “ek” so aan ons persoonlikhede vas dat ons gemaklik is met wat die wêreld ons bied ?
Kom ons word stil sodat ons , ons siel kan hoor. Wat sê jou hart vandag vir jou ?
Ek weet waarheen ek op pad is en daar is niks te koop nie . Alles wat mooi en opreg is en uit jou hart uitkom is die mooiste geskenk wat jy iemand kan gee. Jou tyd, jou aandag, jou liefde.

Loret Zwarts

 

MAART 2024 – OOP PROJEK

1.Skatryk

Wat is rykdom ? Sien ons dit as materiële dinge en geld in die bank ?
Miskien is dit waaraan baie mense vandag waarde heg. Status word geken aan wit voertuie en hoeveel aardse besittings jy het.
Tog in my beskeie opinie is rykdom die spoor wat jy agterlaat .
Vir my is dit hoe jy mense laat voel as jy ‘n vertrek verlaat, dit wat mense van jou gaan onthou lank nadat jy weg is.
Ek glo rykdom lê in ons harte. Dis die Klein dingetjies in die lewe wat ‘n mens werklik gelukkig maak. Om jou kleinkinders te sien en tyd met hulle te spandeer is tydlose geluk in kinder glimlaggies verseël.
Verlange en geluk is elemente van ons emosies en elke dag se bestaan.
Ons ervaar emosies verskillend en ons verwerk sekere gebeure en aspekte in die lewe verskillend omdat ons unieke mense is.
Tog is dit ook verwagtinge wat ons meer seermaak omdat ons verwag dat ander dieselfde vir ons sou doen as wat jy gedoen het. Dis die verwagting wat seermaak en nie die mens van wie jy dit verwag het nie.
Ek glo mens vind vreugde in die klein dingetjies in ons elke dag se bestaan. Dis die klein dingetjies wat die goud is wat ons gelukkig maak en die hoop in ons harte aanwakker.

Lollie

 

Mei 2024 – OOP projek

1.Trek jou kruisie

Woensdag 29 Mei 2024 is ‘n belangrike dag in ons land se geskiedenis. Dit is wanneer ons as burgerlikes in Suid-Afrika die geleentheid kry om vir ‘n politieke party te stem wat in ons beskeie opinies ‘n verskil in mense lewens sowel as ons land sal maak.
Wat het verander vanaf 1994, is daar plek vir verbetering of is jy gemaklik om net met die resultaat tevrede te wees deur glad nie jou kruisie te gaan trek nie ?
Hoekom dink mense hul stem gaan nie ‘n verskil maak nie ?
Mense redeneer as ‘n sekere party nie kans het om te wen nie dan stem hy nie. Ons land het nie sulke sienswyses of invloed nodig onder landsburgers nie.
Elke stem maak ‘n verskil wie in beheer sal wees van jou provinsie, stad of dorp.
Hoekom kan ons nie saam staan nie ?
Wat ‘n vraag. Uit my opinie is dit eenvoudig.
Te veel mense met gebrek aan kennis wil in beheer wees. Die engelse sê dit so mooi, “more chiefs than Indians”.
As almal in beheer wil wees, oor wie gaan daar beheer uitgeoefen word ?
Nie almal kan ‘n land beheer of bestuur nie, maar jy kan dit makliker maak deur jou kruisie te trek.
Niemand stem saam nie ons het almal uitlopende opinies, maar jy kan by jouself begin en jou kruisie trek.
Ons beleef onsekerheid in ons land en daarom moet ons positief wees en as jy deel wil wees en’n verskil wil maak om dinge te verander moet jy ondanks baie uitdagings en terugslae gaan stem.
Moenie dit as braaidag of ‘n vakansiedag sien nie, sien dit as’n kardinale belangrike aspek hoe ons land kan verbeter, herbou en besluite kan neem vir vooruitgang. Mense wat nie wil stem nie is ook die wat dan die hardste kla daarna, maar hy het niks gedoen om ‘n verskil te maak nie
Maak woensdag jou keuse nie net om jou eie lewe te verbeter nie, maar ook jou medemens sin. Die werkloosheidsyfer styg by die dag en misdaad neem teen ‘n spoed toe . As jy ‘n verskil wil maak gaan stem. Trek jou kruisie en laat jou stem tel vir ‘n beter toekoms in ons land.

@Loret Zwarts = Lollie

 

JULIE 2024 – OOP PROJEK

2.Dis hoe dit is

Die lewe is somtyds onverstaanbaar.
As ons siele sigbaar kon wees en nie die duur klere nie het ons mekaar dalk beter verstaan.
Ons lewe in ‘n wêreld waar omgee vir mekaar en jou naaste liefhet nie meer deel van die alledaagse norm is nie.
Het dinge verander of was dit altyd so dat ons dit net op ‘n dag opgemerk het of het ons verander omdat die wêreld hard en ongenaakbaar geword
het ?
Mens verander nie om by die wêreld te pas nie, maar om geestelik te groei, nader aan jou Skepper te lewe en om vorentoe te bly beweeg.

Somtyds stagneer mens geestelik of in ‘n ou roetine want jy dink dit is goed genoeg. Jy is gemaklik net waar jy is want jy is versigtig, jy is bang om ‘n kans te vat. Tog is dit ook goed want jy is realisties en is nie bereid om waaghalsig te wees of hals oor kop in ‘n ding in the gaan nie.
Tog moet ons waag om te kan wen. Partykeer moet ons, oneself uitdaag om iets nuuts te probeer om meer te wees as wat ons was. Elke dag is ‘n nuwe kans om ‘n beter mens te wees as gister.

Tog sien die wêreld nie jou seer of bloeiende hart nie. Mense staan nie stil en kyk net om hulle nie en sou hulle dit wel doen kyk hulle deur oë van vyandigheid, oordeel en hoogmoed.
Ons dien nie meer ons naaste soos wat God van ons verwag nie. Sou iemand se geliefde sterf sal baie die argument het dat ons almal gaan sterf dit was die persoon se tyd.
Sien mense ‘n boemelaar dan is dit sy eie slegtegeid. Vra ‘n kind ‘n stukkie brood dan is sy ouers te sleg om vir hom te sorg.

Waar is ons naasteliefde wat jou laat bid vir jou daaglikse brood, waar is jou begrip in die onskuld van ‘n kind ?
Het jy twee treë in iemand anders sê skoene geloop , nee !
Dis nie wat mense dink nie, nee hul tong het die sweep van oordeel geword.
Dis hoe die lewe geword het of eerder die mense daarin.
Hier waar ek skryf is ek dankbaar dat nie swaarkry of die wêreld se oordeel my verander het nie. My Sotho naam is Mmabatho wat beteken “mens van die mense”. Dis presies wat my persoonlikheid is. Mense se seerkry is my seerkry, my honger, my omgee. Ek weet my omgee en uitreik is dalk net ‘n pleister vir nou, maar ek lewe my lewe voluit en ek eer die tweede gebod.
Naasteliefde.

 

Lollie

 

3.Kunstenaar van jou lewe

Ons almal het al snydende woorde beleef wat jou hart in stukke sny.
Jy ken ook dan die verslae seermaak gevoel wat jou sprakeloos laat.
Dan vra mens jouself die vraag af hoekom mense mekaar so seermaak ?
Glo my baie keer gaan krap hul baie diep veral sielkundiges om ‘n antwoord te kry en dit begin altyd in die kinderjare.
Emosionele trauma, fisiese aanranding, verwaarlosing, geboelie op skool, sonder ‘n rolmodel en dit is net ‘n paar wat ek kon noem.
Ek dink tog wat in ‘n mens se kinderjare gebeur het ‘n inpak op jou as tiener en daarna as grootmens.

Dan in die volgende asem kan ‘n mens kies of jy ‘n slagoffer of ‘n oorwinnaar wil wees.
Mens hoef nie die resultaat van jou omstandighede te wees nie, nee jy kan verbeter en dit is ook net as mens wil .
Waar ‘n wil is, is daar ook ‘n uitweg en altyd hoop.
Dan kan ons ook seker sê ons is resultate van swaarkry en seerkry, maar selfs dit is ‘n keuse of jy daardie gedagtes wil aanhou troetel of wil jy dit agter jou sit, die les leer en ‘ n beter mens anderkant uitstap ?
Daar word ook gesê dat ‘n leë beursie en ‘n honger maag jou meer lesse leer as bergtoppe.
Ons moet net altyd onthou dat ons niks in die lewe gaan bereik om in ons gemaksone te bly nie.

Nuwe geleenthede word nie in gemaksones gebore nie, nee jy moet opstaan, jy moet arriveer en jou eie lewensverhaal op die doek van die lewe skilder. Moenie dat iemand anders die kunstenaar van jou lewe word nie.

@loret Zwarts Lollie




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed