Marianne Fourie
November 2022 – OOP Projek
1.Om onsigbaar te wees
Om met ʼn Flegmatiese persoonlikheid/temperament/ingesteldheid- wat ook al mens dit noem – geseën te wees is soms nie ʼn seën nie. Ek wil dit sommer as ʼn FPA beskryf – ʼn flegmatiese persoonlikheidsafwyking.
Jare gelede, net toe ek begin skoolhou, reël die hoof ʼn spreker om die personeel bietjie te kom bemagtig. Hy begin sy bemagtingingsproses met ʼn ‘toets’. Ons kry ʼn lang lys vrae om te beantwoord. Hoe sal jy optree wanneer die of daai gebeur, hou jy eerder van dit of dat, hoe voel jy as sekere dinge gebeur … Na die toets kry ons die geleentheid om ons ‘punte’ op te tel en dan ons scores op ʼn grafiek in te vul. Daarvolgens word jy dan geklassifiseer as een van vier persoonlikheidstipes. Ek beland slam bang reg in die middel van die flegmatiese kwadrant.
Ons kry elkeen ʼn lysie van sterk en swak punte wat, volgens die spreker, ons sal help om ons optrede en gevoelens tydens sekere situasies te verklaar. Ek is die enigste een op die personeel wat totaal en suiwer flegmaties is, ʼn introvert en onemosioneel.
Ek kom maklik met ander mense oor die weg, haat konfliksituasies en onttrek myself eerder voor ek in konflik met mense kom. Ek is kalm en het ʼn uiters droë sin vir humor. Ek is die vredemaker en sal nooit, aspris, iemand te na kom nie. Mense gaan vér soek om ʼn geduldiger mens as ek te vind.
Maar nou dat ek ‘groot’ is begin hierdie einste flegmatiese “persoonlikheid” my aan die agterent byt. Ek het nooit geleer baklei nie. Nooit geleer hoe om op te staan vir dit wat reg is nie. Ek het dus ʼn vloerlap geword, daai een wat maar gaan lê as iemand op my wil trap. Die een wat vra hoe hoog as iemand sê spring.
Ek het iewers in my sestig lewensjare onsigbaar geword. Onbelangrik. Nutteloos. Dit wat ek as positiewe kenmerke beskou het, het my grootste vyand geword. Ék het my eie grootste vyand geword.
Ek glo mense te maklik. Aanvaar hulle redes en verskonings te geredelik. Ek gee te maklik toe dat ék verkeerd is, dat dit wat met my gebeur (of nie gebeur nie) my eie skuld is. Die fout lê mos in myself, of hoe?
“Jy moet vir jouself opstaan,” sê vriende wat meer selfgeldend as ek is. “Stel jou grense. Moenie dat mense jou misbruik nie. Groei ʼn ruggraat.”
Mense verstaan nie – ek kán nie. Dis soveel makliker om die minste te wees, om konflik te vermy, want my kwaad loop uit my oë voor die woorde by my mond kan uitkom.
Iewers binne in my is ʼn plek waar ek al my frustrasies, hartseer, woede … al die onreg wat aan my gedoen word, gaan bêre. Daar lê dit en sweer en vergiftig my bietjie vir bietjie. Dit maak my siek, fisiek en geestelik.
Wanneer ek wel die sweer oopmaak verloor ek die geveg nog voor hy begin het. Trane, al is dit woedetrane, word mos dadelik gesien as ʼn swakheid, rede vir mense om jou te verkleineer, verneder.
Vriende (en kennisse) deel graag goedbedoelde raad: “Lees dié boek! Dit leer mens hoe om jouself te laat geld.” “Gaan praat met dominee/pastoor So-en-so.” “Bid” – so asof ek nie al vir ten minste veertig van my sestig jaar al bid daaroor nie.
Aangeleerde gedrag kan seker afgeleer word maar wat maak mens met ingebore, ingeteelde, gedrag?
Dis makliker om onsigbaar te wees. Soos Koos du Plessis dit so mooi gestel het:
As niemand van jou hoor nie;
As niemand van jou weet nie,
Kan jy tog niks verloor nie –
Kan niemand jou vergeet nie. *
Onsigbaar wees maak minder seer.
(* Koos du Plessis – Skielik is jy vry)
*616 woorde
Marianne Fourie