Marlene Erasmus
Februarie 2020 – Limeriek projek
1.Lag is die beste medisyne
Ek hoor nog die oumense met die sê-ding: “Lag en die wêreld lag saam, huil en jy huil alleen.” As kind was dit vir my nogal vreemde begrip om te verstaan, want sien: as jy huil wil jy mos darem nie heeltemal alleen sit en huil nie. Wel, nou dat ek grootmens is, besef ek dat mense veel eerder rondom ʼn humoristiese mens as ʼn smartvraat wil wees.
Die lewe is so vol van seer en ernstige sake dat mens baie maklik in die strik kan trap om die humor in die lewe mis te kyk. Hoe jy reageer op die swaarkry in die lewe is en bly elkeen se eie keuse maar om die lewe bietjie ligter te maak met ʼn skeut humor, het niemand nog nooit skade gedoen nie.
Het jy al ooit in ʼn vol winkelkompleks of tussen klomp mense kliphard uitgebars van die lag? Die effek is beslis so aansteeklik soos Die Groot Griep van die jaar 1918. Daar is beslis min dinge so lekker as om saam met ʼn sprankelende mens te wees wat ʼn goeie humorsin het.
Baie interessant is die feit dat die mens die enigste lewende spesie is wat humor kan verstaan en ook waardeer. Wat wel baie waar is, is dat nie alle dinge vir almal ewe snaaks is nie, die een kan homself ʼn papie lag vir iets wat vir die volgende persoon geensins snaaks is nie.
Van een ding kan jy gewis wees: die ou suurknolle in die lewe lyk of hulle suurlemoene gevreet het en die bitterbekke lyk of hulle enige oomblik kan gal braak terwyl die vrolik, opgewekte “soettande” van die lewe lyk of hulle die soet in die lewe geproe het en dit waardeer!
In elke krisis is daar ook ʼn tikke humor te vind. Ek onthou een van die mooiste kinderherinneringe in my lewe was die dag toe die wasmasjien se uitlaatpyp uitgeglip het en ons lang gang in ʼn “glip-en-gly”-baan omtower het. Ma het nie ʼn oomblik gehuiwer om die krisis in ʼn pret-ervaring te omtower nie.
Ek wil afsluit met die volgende aanhaling:
In Elsabé Aldrich se snaakse boek Vonkelkyk op die lewe skryf sy: “Humor is soos ’n gewilde, duur velroom. Jy vermoed dit doen nie alles wat dit belowe nie, maar jy voel beter as jy dit gereeld aanwend.
Laat ons lag en die wêreld sal ʼn beter plek wees …
Marlene Erasmus
Maart 2020 – Triomfboog projek
1.Ter nagedagtenis aan ʼn held
As ek terugdink aan my kinderjare as kanaal-aap in Upington se wêreld, kan ek nie anders as om ons kuiertjies by vriende langs die rivier, te onthou nie. Dit is die dae waar kinders gesien en nie gehoor is nie en waar jy baie vinnig gevra is of jy wil tande tel as jy jou tuisgemaak het tussen die grootmense. Jy het jouself baie skaars gemaak en geweet wat jou voorland is as ma of pa ʼn tweede kwaai kyk na jou kant toe gegee het.
Naweke se kuiertjies op die oewer van die Oranje-rivier was die hoogtepunt van die week, maar die een aspek wat my koue rillings gegee het was, as die natuur geroep het en jy noodgedwonge die “kleinhuisie” moes besoek. Jy sal dalk nou wonder wat op aarde so erg daaraan is, maar laat ek jou ʼn storie vertel. Die “kleinhuisie” of buitetoilet was so ʼn hanetreetjie van die rivier af. Dit was in die dae voor die spoeltoilet uitgevind is en het gewoonlik bestaan uit ʼn klein houtgeboutjie met ʼn sitplek van plank bokant ʼn emmer of vuilput. Wanneer die put met verloop van tyd te vol geraak het, is dit met grond opgevul en die huisie is dan net verskuif om wydsbeen sy staanplek te kry oor ʼn splinternuwe gat.
Die pad na die “kleinhuisie” was rillerig en donker. Die oorsprong van my nagmerries was die dag toe tant San se hans hen: Bekkie weggeraak het. Moedeloos geroep en gesoek is ek na die “kleinhuisie” toe die natuur roep. Ek het net lekker my beentjies gerek om op die ongemaklike houtbankie te kom toe iets my van onder uit die put bevlieg! Met ʼn vreeslike gedoente en geskree is ek broek om die enkels die vlakte in. Dit was die dag toe my ma gedink het haar jongste word vermoor, net om met groot verligting, Bekkie se kop te sien waar sy aan die uitklim was uit die vuilput!
Die spoeltoilet is eers laat in die 1500’s uitgedink toe Sir John Harrington ʼn ruwe toestel ontwerp het wat hy by sy huis installeer is. Hy het egter nog nie oor die kennis beskik vir die nodige pyp en waterwerk nie. Dit was dan eers bykans twee eeue later in 1775 toe ʼn horlosiemaker Alexander Cummings op die toneel verskyn het met sy uitvindsel wat deur Joseph Bramah verbeter is. Vanaf die 1800’s is die spoeltoilet in al hoe meer van die ryk mense se huise gevind. Dit het egter nog paar jaar geneem voordat die toilet soos ons dit in vandag se lewe ken, in bykans almal se huise te vinde was.
As daar nou een is vir wie ek ʼn triomfboog sal wou oprig is dit definitief Sir John Harrington wat heel eerste met die wonderlik idee van ʼn spoeltoilet begin eksperimenteer het! Sou dit in my kanaal-aap jare al beskikbaar wees het Bekkie my definitief nie van onder bestyg en my amper bokveld toe gestuur met my broek om my enkels nie!
©Marlene Erasmus
31/03/2020
Woordtelling: (inhoud) 500
Mei 2020 – “Ek wens dat ek…” projek
1.Utopia
Hulle sê dat die wêreld soos ons dit geken het, nou vir altyd anders gaan wees. Hoekom? Want sien – ʼn nare virus het uitgebreek! Dit het onverwags en ongevraagd in ons lewe ingesluip soos ʼn dief in die nag! Daar is verskeie teorie – oorsprong van die nare ding by ʼn nasie wat eet alles wat hulle wil – en ons ander laat gril, tot die skrikgedagte dat daar ʼn “maker” van hierdie ronde, monsteragtige bolletjie met tentakels is! Mensgemaak al dan nie – die gedagte bly vreesaanjaend! Ek wens dat ek kon wegglip uit die wrede werklikheid van kieme, siektes met hulle simptome en soms die uiteinde: die dood! Ek wens dat die wêreld weer kon wees soos dit was voor die sondeval, voor Eva vir die slang geluister het en Adam daarna vir haar! Daar waar ons vry kan asemhaal, waar ons drome vlerk kry en ons sweef soos arende op die wind. Dan sou ons in harmonie met mekaar kon saamleef sonder die ellende van ons tyd. Ons sou veilig wees om kaalvoet te loop sonder distels op ons pad, ons sou kon eet net wat ons wou – ons sou vry wees om te wees wat Hy ons wou …
©Marlene Erasmus
31/05/2020
(200 woorde)
Julie 2020 – Klanknabootsing projek
2.As geluide my irreteer
“Ag nee, jy is net onnodig,” moes ek so dikwels hoor.
Dan wonder ek: “Is ek regtig onnodig?” Kan ek mense kwalik neem as hulle die opinie van my vorm? Ek kan dit net nie verhelp nie: sekere geluide irriteer my grensloos! Selfs as jong kind aan tafel kon ek sekere geluide glad nie verduur nie en vir my streng ouers was ek die “stout” ene as ek net wou opspring en in my kamer gaan eet. Menige etenstye het in ʼn stryery ontaard.
In my jonger dae het ek gewonder wat maak dat ek so voel. In my gryse ouderdom maak dit alles nou vir my sin dat ek nie “onnodig” is nie. Google het dit baie duidelik aan my uitgespel dat ek aan misofonie ly. Misofonie is die neurologiese toestand waar bepaalde geluide hewige reaksie in party mense ontlok. Die reaksie grens letterlik aan walging, renons of woede. Misofonie beteken: “haat van geluide”.
Dit is ook nie die volume van die geluide wat die reaksie ontlok nie – dit kan sagte of harde geluide wees wat my hare laat rys.
Hetsy sag of hard, dié geluide ken ek op ʼn afstand. Paar van die sondebokke is onder andere: mense met loopneus wat kort-kort snuif, kougom wat klap-klap gekou en in borrels geblaas word, koffie wat uit die beker geslurp word, as ek iemand enigsins kan hoor asemhaal en dan daardie afstootlike agteruitsnuif en spoeg-aksie wat so dikwels uitgeoefen word!
Onlangse studies het bewys dat die toestand nie iets is wat ek uitgedink het nie, dit is net hoe my brein respondeer op sekere geluide.
Die oomblik as iemand langs my slish-slish slurp aan pasta of girts-girts harde lekkers kou, staan my nekhare orent en moet ek myself baie mooi in toom hou. Om nie eers te praat van die persoon wat langs my sit en sy been op-en-af wip asof hy deelneem aan ʼn maraton wip-kompetisie nie. My hande begin sommer jeuk van die drang om ʼn klap of twee uit te deel. My hart begin letterlik vinniger klop en ek voel of ek wil weghardloop as ek bewus word van die irriterende geluide!
“Bedaar, bedaar,” begin ek myself rustig te stem. So onthou ek Juffrou Meyer se kalmerende stem: “Wees rustig, haal diep asem en laat kalmte jou oorspoel – dan sal jy ‘okay’ wees.”
Misofonie is niemand se speelmaat nie.
©Marlene Erasmus
15/07/2020
(397 woorde)
3.Die horrie-piep aanval
Die skool het gesluit en soos ons gesin se tradisie is, word die kwartaal se afsluiting met ʼn besoek aan ons plaaslike Wimpy gevier. Ons gaan die skoolvakansie behoorlik inwy.
“Nooi paar van jou vriende,” is my ma se woorde soos soete klank in my ore.
Stiptelik om drie kry ons mekaar en geselsend neem ons ons sitplekke in. Daar heers ʼn vrolike atmosfeer in die raserige eetplek met klein kinders wat heerlik speel.
Die ouers vermaan darem so af-en-toe die kleintjies as die geluide bo ʼn seker toonhoogte styg.
Ek neem my sitplek in, so ver as moontlik van die bron van geraas.
Die tafel reg agter ons is beset deur paar tienerseuns wat kliphard lag en grappe maak. My misofonie wil net uitspring toe een kliphard sluuush-sluuush slurp aan die laaste paar millimeter melkskommel. Ek haal diep asem en tel tot by tien om myself in toom te hou. Ek voel ek kry horrie-piep! Ek fokus doelbewus op my vriende en gelukkig begin die musiek sag te speel.
Gelukkig is Johnie Bravo en sy trawante kort voor lank klaar en hulle verlaat Wimpy.
Paar keer begin kriewel my kopvel behoorlik van die kinders se gegil as hulle mekaar rondjaag in die rooi, groen en pers tonnels. Ek vermaan myself om kalm te bly en daarop te fokus om nie deur hulle geraas by die deur uitgedryf te word nie.
Ons smul aan die melkskommels en die atmosfeer is heel gemoedelik tot Johan sluuush- sluuush ronddelf onder in sy melkskommelglas. Ek byt behoorlik op my tande en probeer kophou. Ek fokus op die televisieskerm in die hoek waar Kurt Darren vrolik dans op maat van “Kaalvoet sokkie”. Net toe ek dink die aanslag op my ore is verby, begin Susan tot groot vermaak van almal, kyk of sy harder kan slurp as Johan. Gou ontaard ons tafel in ʼn slurp-kompetisie van Olimpiese Spele-standaard.
Ek raak warm en voel skoon duiselig toe die misofonie my oorspoel. Almal lag en moedig die twee deelnemers aan om die wenner te bepaal. Die volgende oomblik spring ek penorent en soos ʼn pyl uit ʼn boog klap ek! Ek tref Johan teen die gesig en jy sien net melkskommelglase in alle rigtings spat. Ek besef wat so pas gebeur het en moet tot my verleentheid uit met die waarheid: ek ly aan misofonie en raak intens geïrriteerd met sekere geluide.
©Marlene Erasmus
16/07/2020
(399 woorde)
September 2020 – Liefdesprojek
1.Liefde in Joslingstraat.
Liefde speel so ʼn tamaai groot rol in ons lewens. Alhoewel dit ʼn ernstige onderwerp is, kan ek nie anders as om lekker saam te giggel as ek so tong-in-die-kies die verhaaltjie van my ouma vertel nie.
Ouma Lilly se huis was groot en wit met ʼn wye rooi politoer- voorstoep. ʼn Regte veilige hawe vir ons. Die trappies was omraam in groen met beddings petunias wat wieg in die wind.
Ouma maak tuin nat en praat met so ʼn gemaak verergde stem: “Julle maaifoedies! Julle moet julle neste op ʼn ander plek gaan maak! Vir wat nou hier teen my spierwit muur?” Kompleet asof die swaeltjies haar kan hoor, swaai en swiep hulle deur die lug. Hulle verspil nie hulle asems met ʼn sarsie tjirp nie, maar gee vermakerig net so een laaang tjjjjjjjjjjrr voor hulle wegvlieg.
So is oupa Myburgh dood in die laat sestiger jare en ouma Lilly het die drade opgetel en aangegaan met haar lewe.
Ouma Lilly met haar netjiese woning was bekend op ‘Die Rand’ in Upington.
Vroegoggend voor die eerste hanekraai vind jy haar waar sy die werf hark en vee. Geen blaar te vind. Dan volg die natleiproses – die grasperk, lemoenbome en haar fyntuin. Dit is die soet geur van petunias wat jou begroet. Geelkopvinke wat vrolik kwetter in die treurwilger by die visdam in die hoek van die erf.
Ouma Lilly was ʼn jong weduwee van net ses-en-vyftig jaar oud, aansienlik en goed versorg daarby. Dit is veral haar fyn sin vir humor en geaardheid wat haar so bemind gemaak het.
So het die wewenaars van die dorp net gewag dat die tyd verbygaan dat dit fatsoenlik sou wees voor hulle kom kuier.
Hoed in die hand, kom oom Natie getrou elke Saterdag om te kom koffie drink. Die kuiertjies het al langer geword aangesien oom Natie ander planne in gedagte gehad het.
Laat een somersdag stap ouma saam met oom Natie na die voorhekkie om te groet. Na baie kuggies en met groot bravade kom die vraag: “Lilly, die saak staan nou so. Ek is eensaam en jy is ook alleen in hierdie groot huis van jou.” “Ek het nou gedink: Kom ons twee trou, hulle sê mos nie verniet twee is beter as een nie?”
Ouma Lilly skrik haar boeglam en dink aan die eerste ding wat in haar kop opkom.
“Ag nee, ou Natie! Ek is mos lankal op die paal!” Die groot halfmaanglimlag verdwyn soos mis voor die son. Hoed word vinnig op die kop gedruk en met ʼn vinnige mompelgroet: “Nee, dan is dit reg Lilly, dan gaan ek maar eers”, verdwyn hy straataf.
Verdwaas wonder ouma Lilly wat het gebeur toe sy besef wat presies sy vir Natie gesê het. Sy skaterlag so hard dat jy haar tot onder in Josslingtraat kan hoor. “Gie-gie . . . heggeee . . . hêê . . . gie-gie …” Met haar hele lyf wat skommel van die lekkerlag, kyk sy die stofstreep agterna. Nodeloos om te sê was dit die laaste sien van die blikkantien. Die toeloop van die wewenaarkuiertjies het spoedig opgedroog soos ʼn stroom in die dorre Noord-Kaap.
©Marlene Erasmus
Januarie 2021 – Verwagting(s) projek
1.Die wipplank van my gemoed.
Die son trek water waar ek laatmiddag met my voete in die kabbellende stroompie sit. Ek sug behaaglik en asem die laaste strale van die son in … oranje gloed speel wegkruipertjie op die skemer horison. My gedagtes draal na 2020 en die gevreesde woord: COVID-19. Tonele van angstig sit en wag om te kyk na die televisie-uitsending met nuus van die President en inperkingsmaatreëls, flits by my verby.
Dit is asof die hele wêreld uitgeskree het: “Virus! Asemnood … Kwarantyn”. In die begin van die pandemie is die werklikheid afgemaak as moontlike mensgemaakte virus. Sameswering oortuigings is ook as die sondebok gesien. Een feit is seker: in my gemoed is oomblikke vasgelê wat sekerlik vir baie lank daar sal wees.
As jou lewe eensklaps kennis maak met ʼn groot onbekende PANDEMIE besef jy egter baie gou hoeveel krag daar in jou verskuil lê. Kop in die sand steek is beslis nie ʼn opsie nie en jy leer doodeenvoudig swem in die woeste waters.
Verstommend is egter sovele mense se onsensitiwiteit. Fopnuus en negatiewe uitsprake wat heen en weer geslinger word, selfs al het hul nie veel kennis van jou of ander se situasie nie.
Een groot les wat COVID-19 my kom leer het, is dat geen mens onaantasbaar is nie. Moenie dink dat geld, status of selfs geleerdheid jou kan vrywaar van die ongenooide gas in ons midde nie.
Ek het geleer dat jy net moet doen wat gedoen moet word, die son sal wel weer skyn. As jy fyn ingestel is op jou lyf, sal jy weet dat jy soms net moet oorgee aan die behoefte om jou hart uit te huil of ʼn lekker bak roomys te verorber – al is dit ook in die privaatheid van jou eie huis.
Deur jou aandag te wy aan aktiwiteite wat jou help ontspan, kan jy uitstyg bo die ellendige gevoel van melancholie. Leer nuwe stokperdjies aan en begin doen dit waaroor jy lankal droom. Trek die kookboeke nader of stof die klavier af. Gaan stap of as jy dapper genoeg is, gaan draf om die blok.
Met die vooruitsig van beterskap in 2021 is my gemoed soos die ou geroeste wipplank in die parkie – op en af. As my gemoedswipplank te lank naby moeder-aarde hang, skop ek my bene styf en wip hoog in die lug op. Ek rantsoeneer doelbewus nuusuitsendings en koerante wat my gemoeds-meter kan laat daal en fokus op die positiewe verwagtings vir ʼn COVID-19 herstelde wêreld.
“I’m going where the sun keeps shining, Thru’ the pouring rain”, neurie ek die woorde van die bekende liedjie as ek my oë hoopvol rig op die mooi wat môre kan bring.
Ek is opgewonde vir die nuwe uitdagings van die jaar wat grootoog vir ons lê en loer.
©Marlene Erasmus
31/01/2021
(469 woorde)
April 2021 – Oordenkingsprojek
3.Paashaas se geboorte
In die Romeinse gebied van Germanië woon daar ʼn wonderskone mooi jong dame, Eostre. Sy is nie ʼn gewone jong dametjie nie, maar sy is die godin van dagbreek en lente. Sy is baie geliefd onder haar mense en is ʼn vrolike, opgewekte blondekop. Waar al haar vriendinne vriende het, is Eostre die enigste vrou wat nog nie die liefde van haar lewe ontmoet het nie.
Die winter is hierdie jaar besonders koud en mistroostig. Die aarde kreun behoorlik onder die dik laag sneeu. Eostre sug hardop as sy daaraan dink dat sy lente na hierdie vreeslike winter moet terugbring na haar mense.
“Ek sal seker moet aanstaltes maak om hierdie winter te trotseer. Die tyd raak min en die kalender herinner my dat lente eersdaags moet verskyn.” Dit is tyd vir ʼn nuwe seisoen.
Vroeg-oggend verlaat haar vriendin, Treoné die huis, behoorlik gestewel en gespoor teen die koue. Sy trap diep spore in die sneeu en kom kort-kort tot stilstand om te rus. Die vars sneeu is korrelrig en dit laat mens nie so maklik gly nie.
“Wat se geluidjie hoor ek? Verbeel ek my nou”, wonder sy hardop by haarself. Sy staan stil en trek die mus se klappies effens van haar ore af om te luister. “Daar is dit weer! Ek het my beslis nie verbeel nie, ek hoor regtig ʼn voël hier onder in die sneeu. Sy voel met haar stewel en sien die arme beseerde voël Sy besef die voël is sterwend en sy moet iets doen om hom te help. Sy bid hardop en weet dat sy vir Eostre moet vra om te help.
Sy het skaars besluit om hulp te gaan soek toe daar uit die niet ʼn reënboogbrug voor haar verskyn wat die sneeu smelt. Voor haar staan Eostre en sy sien dadelik dat die voël so erg beseer is dat sy besluit om hom in ʼn spierwit haas te verander. Eostre maak net daar en dan ʼn belofte aan Treoné dat die haas een maal per jaar sal terugkeer met hope reënboogeiers! Die voorwaarde is dat die haas nie toegelaat sal word om die eiers te hou nie en dat hy die eiers moes uitdeel. Dit is hier waar die Paashaas se lewe begin het: in die gebied van Germanië met Eostre se hulp.
Daar word vertel dat die Paashaas nou Eostre se metgesel is.
©Marlene Erasmus
29/04/2021
(400 woorde)
Oktober 2021 – Akrostiese projek
3.Oktober – nié ons “mooiste, mooiste maand” nie
So amper verbeel ek my ek hoor jou, Mnr C. Louis Leipoldt wat die welbekende woorde voordra:
“Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.”
Ek wil met jou verskil! Jy is gebore in 1880 en moes tog bewus gewees het van die Groot Griep van 1918? Dit was een van die swaarste tye in die geskiedenis van Suid-Afrika toe die epidemie uitgebreek het. Volgens verskeie artikels was die winkels gesluit en die verkeer tot ʼn stilstand geruk, behalwe vir die begrafnisstoete wat dag en nag beweeg het.
Jy was omtrent 38 jaar oud tydens die epidemie en moes tog sekerlik die seer van daardie Oktobermaand beleef het?
Gelukkig is jy die Covid pandemie gespaar anders sou jy seker twee keer gedink het voor jou mooie Oktobermaand-gedig?
Nogtans het jy verkies om die mooi te besing. As mens egter terugdink aan die Oktober van 1918, kan ek nie anders as om saam Prof. Jaap Steyn te stem met sy woorde:
“Ja-nee, Oktober 1918 was, soos Die Huisgenoot opmerk, was ’n donker maand in die geskiedenis van ons land”.
©Marlene Erasmus
31/10/2021
(214 woorde)
Desember 2021 – Metafoor projek
2.Heuning op die tong
So kom ons op die punt waar die jaar letterlik op sy rug lê. As ʼn ywerige aspirantskrywer en digter probeer ek om vir oulaas in 2021 my gedagtes te verwoord. ʼn Baie interessante projek laat my tone krul en die woorde warrel omtrent heen en weer in my kop. Vir my is metafore soos heuning op die tong, en ek haal graag vir professor Cas Vos aan oor die onderwerp: “Woorde is die disse wat sinne verbind in metafore, ironie en retoriese strategie om die taal te vorm waarmee ons ons wêreld beskryf, waardeur ons droom.”
Ek kom agter dat metafore soos ʼn vonkie is wat die verbeelding aansteek, die klein vonk van die skrywer of digter se woorde kan ʼn groot brand aansteek en die donker in die wêreld verlig! Die mens se samestelling is nou maar eenmaal visioneel en ook sintuiglik. Metafore laat mens amper taal se smaak in jou mond kry.
Wat ek besef het met my soeke na die oorsprong en betekenis van metafore: met metafore kan jy toor. Mens moet egter senuwees van staal hê as jy dink jy kan dig of skryf. Wyl die pêrels van my mond wegsak in die verbode vrug wat Eva in die moeilikheid gehad het, hoor ek ʼn groot geruis van die rivier en ek droom in strome van metafore.
Mag ek aanhou gorrel met metafore, sinonieme en idiome in Afrikaans. Mag ek nie die lesers verveel en so streef na hoër standaard in my werke.
©Marlene Erasmus
Januarie 2022 – DRAMA projek
2.Sus se plot
Die gebruik was dat daar een keer in ʼn maand reservaat toe gery word om slaggoed te gaan uitkies om te koop. Soos die gewoonte was, het ons kinders met groot opwinding uitgesien na die uitstappie want dit was ons tyd saam pa. Pa was treindrywer en baie lang skofte weggewerk van die huis af en die tydjies saam hom was kosbaar en spesiaal.
Die Saterdag is daar vroegdag reggemaak en padkos ingepak vir die gebruiklike uitstappie na Tses, die 82 kilometer is onderbreek met ʼn piekniek langs die pad. Daar is by die “tafel-en-stoeltjies” stilgehou, koffie geskink en broodjies geëet met vleisbolletjie en gekookte eiers.
Ek en Nico wou natuurlik net speel en was maar traag om weer in die pad te val. Pa Jan aan die anderkant wou net daar kom om die slaggoed te kry.
Terug in die bakkie is daar gelag en grappies gemaak, Pa kon ons vermaak met staaltjies uit sy kinderdae as kind van rondtrekkende boorman van beroep.
Een saak waaroor ons altyd geredekawel het is wie die hekke moet oopmaak, elkeen het sy beurt gekry. Nico was die ouer een en het maar altyd gesorg dat Sus meer beurte kry.
So onder die redekawel deur besluit Pa dat hy self sal beurte uitdeel en onder ʼn onderlangse gebrommery het Nico dan ook die eerste hekoopmaak-beurt gekry. Met die terugklim in die bakke skuif ek dan weer om langs die deur te sit aangesien pa klaar besluit het die volgende beurt is myne.
Pa maan my om nie “uit te klim” voor hy stop nie en vat die draai op die rooi Kalahari grondpad. Ek wonder by myself waarom sal ek dan nou voor die tyd wil uitklim!
Met die gedagte vars in my kop, gebeur die ondenklike! Ek sit met my hand op die knip van die swaar ou Ford bakkie, die knip ingedruk – gereed om oop te maak en uit te klim. Met Dolly Parton se “Jolene, Jolene, Jo-llleeeen” vlieg die deur oop, en ek agterna soos ʼn vrot vel en kom met ‘n slag te lande.
Ek voel eintlik hoe my nerwe trek toe die Ford bakkie se agterwiel so 30 sentimeters van my gesig af tot stilstand kom. Nico hang soos verskrikte haas by die oop deur uit om te kyk waar Sus is en die volgende oomblik storm my pa om die agterkant van die bakke.
Met grys-wit geskokte gesig maak hy eers seker dat ek lewe voor hy net daar my sitvlak warm klop. Dit was die grootste skrik van my tien-jarige bestaan en ek neem aan vir Pa Jan niks minder skrikwekkend nie. Hy het darem net een hou gegee voor hy besef het wat hy doen en het dadelik getroos en sy optrede op skok geblameer.
Die atmosfeer was maar gedemp en die pad na die reservaat is in stilte afgelë. Daar gekom is die slaggoed gekoop en ons is terug Keetmanshoop toe. Tot groot vermaak is die plek vernoem na: “Sus se plot”.
Vir jare daarna is daar met groot gelag verwys na die dag toe Sus grond gekoop het.
©Marlene Erasmus
30/01/2022
(515 woorde)
Maart 2022 – OOP projek
2.Die mossie
In die sewentiger jare het ons onbesorg en sorgvry grootgeword. Ons het grootgeword voor die tyd van televisie en sosiale media.
Ons ouers was hardwerkend en tye wat ons saam spandeer het, was baie kosbaar en min.
Piekniek in die droë rivierloop en braai in die veld was ons tydverdryf as pa se werk, as treindrywer dit toegelaat het.
Baie aande sou ons draaitjies gaan ry het en een aand sal ek nooit vergeet. Styf teen mekaar ingedruk voor in die bakkie was die opwinding groot – pa was in opgewekte bui.
Pa Jan, regtig platjie wat hy is, het natuurlik reeds sy plan agtermekaar gehad. Ons het lekker gelag en gesels toe ons rustig in die tweespoorpad ry. Pa was natuurlik die ene hanswors met sy stories en veral sy spookstories het ons aan sy lippe laat hang.
Die maan het flou geskyn en het net af en toe agter die wolke uitgeloer. Met afgedraaide ruite kon ons die naggeluide om ons hoor. Die naggeluide was soos mens dit net in die vlaktes van Namibië se Suide-kontrei kon beleef. Pa stop by ʼn versamelvoëlnes om vir ons die “woonstelle” in die groot nes uit te wys toe hy ʼn mossie gewaar wat doodstil in die motorligte se baan sit.
Ouboet Nico wou oplaas net dat pa vir hom die mossie vang. So gesê, so gedaan.
Opgewonde het Nico die mossie in sy groot seunskindhande vasgehou en planne beraam hoe hy hom sou makmaak.
Eensklaps ruk en sluk die klein Mazda bakkie en die volgende oomblik ruk die bakkie tot stilstand. Pa probeer so ʼn keer of wat die bakkie weer aan die gang kry, maar sonder sukses.
“Vanaand slaap ons maar hier in die veld”, probeer pa ons twee troos.
“Dit is reg so pappa”, hou ek my ewe braaf.
“Pa!, nee pa! Ek wil huis toe gaan!”, versoek Nico met ʼn baie duidelike bewe in sy seunsgrowwe stem.
Ons het nog so tydjie daar gesit in pikdonker toe pa lekker uit sy keel lag terwyl hy die bakkie aanskakel en stadig wegtrek.
Ons het lekker saamgelag, met Nico hoorbare verligting in Nico se stem dat ons nie die nag in die donker veld moet deurbring nie.
Toe ons voor die huis stilhou, kom Nico se stem so ewe verslae: “Pa, my mossie wil nie wakker word!”.
Nodeloos om te sê, die seunshande se greep op die mossie was net te veel.
My mamma Fonna se woorde sal my altyd bybly:
“My kind, die lewe is vol opwinding, maar is ook baie broos. Hou die lewe vas met ʼn oop hand anders druk jy dalk net te hard en verlep die blom in jou hand.”
©Marlene Erasmus
19/03/2022
(446 woorde)
Junie 2022 – Winterlandskap projek
1.My seisoen: Winter
Almal van ons het ʼn gunsteling seisoen. As jy die mense rondom jou bietjie pols, sal jy hoor dat bykans elke mens ʼn gunsteling seisoen het. Wel, ek is definitief ʼn winterkind. Op een koue aand in Julie maand is ek gebore – ʼn winterkind!
Winter is beslis nie almal se gunsteling nie en soos elke ander seisoen beskik winter oor sy eie unieke kenmerke.
Wintersdae lê vlekkeloos wit so deursigtig soos glas. Met ’n byt in die lug ruik jy die koue as die son vroegaand water trek.
In die ryptrap van ʼn winterlandskap steek die sterre hulle vuurtjies aan as die maan oor die aarde verrys. In die byna magiese stilte kom skep winter sy eie unieke atmosfeer. Knus voor die kaggel se knetterende vuur wek winteraande soms ʼn weemoed in my.
Wintertyd is ook vir my ʼn trooster. Winter is ʼn tyd vir heerlik samesyn voor vriendelike kaggelvure. Nog ʼn rede vir die warmte om my hart, is die kuieraande om geurige wintersdisse. Wat is dan lekkerder as pere geposjeer in jou gunsteling rooiwyn met knippie kaneel en ʼn pikante sjokoladesous oor.
Voor die vuur vloei die verbeelding en vriende besin oor tye wat was, goeie en slegte tye wat ons beleef het.
Op ’n koue wintersdag skyn die lug helder blou en glimlag die son dapper oor die rooi geroeste aarde.
As ek my tuismaak op my bank voor die groot venster, kyk ek uit op winter-horison wat soos ’n verhoogdrama voor my afspeel. Die reënwolke wat in stadige pas begin saamtrek as die laaste sonlig flouerig glimlag in flenters lig. Vlieswolke sweef in grys, blou en wit oor die aarde: ‘’n proses wat homself oor en oor herhaal. So verloop die lewe ook in seisoene.
In die greep van ʼn koue winter sien jy orals foto’s van die ysige weer met sneeu en kapok wat val. Die beslissing wat die Bybel aan ons voorhou oor winter en somer kom stilweg by my op: “U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” (Ps. 74:17)
Ek besef dat die wisseling van seisoene nie sommer toeval is nie, dit is ook nie net die natuur wat besluit oor seisoene nie, nee, die is die Vader wat alles geskep het en dit tot vandag toe nog onderhou. Mag ons nooit vergeet dat seisoene die werk is van Sy hande nie.
©Marlene Erasmus
25/06/2022
407 woorde
2.Winter inferno
Ons almal lewe en droom van die “eendag”. Ons gaan deur die seisoene van die lewe, soms met groot blydskap en soms met hartseer. Ons begin in die lente van ons lewe.
Ek ontwaak hier in die einde van Junie met die verskriklikste wete van verlies! My asem stol in my borskas, dit wurg in my binneste! Here, dit kan mos nie waar wees nie!?
Ons almal stap die pad van “wonder”, wonder wat gaan jy doen as jy klaar is met skool, wonder wat se lewensmaat jou pad gaan kruis, wonder oor hoeveel kinders jy gaan grootmaak, wonder waar jy gaan bly en werk, wonder of jy by aftrede gaan uitkom.
Soos in die natuur, loop ons as mens ook die 4 seisoene van die lente, somer, herfs en winter. Elkeen kan hierdie lewensloop op ons eie lewe van toepassing maak. In watter seisoen sien elk homself nou in die lewe.
Kom ons begin by die lente – dit bring vir almal nuwe lewe, met blomme en blydskap. Ek skat ek kan dit gelykstel aan ons jongmenstyd waar jou kop vol drome is, met baie ideale. Jy lewe voluit en die lewe sing sy lied in blydskap vir jou! In die natuur vind jy eerstens ʼn bloeisel wat oopgaan en oorgaan tot die allermooiste blom! Vars, rein en ongeskonde.
In die verloop van die siklus kom jy uit by somer. Dan begin hierdie fraaie blomme oorgaan tot in wasdom. Jy word nou ‘n volwasse mens en lewe in die beste jare – jou fleur van jou lewe. Jy glo jy is so in beheer van jou eie voorspoed en sukses dat jy net dalk kan vergeet dat jy in afhanklikheid van God lewe.
Eendag staan jy voor die spieël en tref die besef jou: voor jy jou oë uitvee het herfs aan jou deur kom klop. Herfs het sowaar arriveer! Klein jakkalsies begin verniel die wingerd en kort voor lank, duik probleme op wat jou laat besef jy is nie meer so heel jonk nie. Herfs breek vir sommiges in meer felheid aan wat betref uitdagings met die gesondheid. Dalk begin jy nou besef dat jy afhanklik is van God.
Een mooie oggend vee jy vermoeid oor jou oë en besef: winter is hier! Die winter bring dood in die natuur – einde van nog ʼn siklus. Meteens besef jy hoe kort lewe werklik is! Met groot dankbaarheid kyk jy na die goeie dinge wat jy in die lewe gedoen en bereik het. Jy kyk met meer dankbaarheid na jou kinders, kleinkinders en vriende om jou heen. Soms is daar ook tikke hartseer oor die teleurstelling en mislukkings wat jy moet stap.
Winter-seisoen word die tyd van geleenthede, reis , uiteet en kort toere saam goeie ou vriende of familie.
Dit bring my vandag by die rede vir hierdie skrywe. In lewe en werk het ons die voorreg gehad om vir oom Sakkie en tannie Annetjie te ken in ons loopbaan in die bankwese. Ons was selfs op ʼn stadium bure en ek onthou vroegoggend-ontbyte en soms ʼn braai of potjiekos saam met hulle. So het die jare aangestap en elkeen gaan mos maar op sy eie wandelpad vir hom uitgelê.
Ons is self op so ʼn kort kleine ‘toer’ na Okaukeujo, Etosha op die dag dat ek die nuus ontvang. Ek maak die selfoon oop met die ondenkbaarste hartseer nuus wat my keel toedruk en my hart uit my bors uitruk!
Die volgende oggend was die berig in ons plaaslike koerant: Die Republikein:
“’n Besoek aan ’n lodge in die suide van die land het Woensdag ’n uiters tragiese nadraai gehad, toe ’n egpaar in hul suite doodgebrand het. Isak (Sakkie) Dawid Engelbrecht (76) en sy vrou Anna (Annetjie) Catherine Jacobine Engelbrecht (72) het in die brand in hul suite by die We Kebi Safari Lodge in die Maltahöhe-distrik, sowat 70 km van Sesriem, gesterf.”
Vader, hulle was dan net op die wandelpad in die ryptrap van ʼn winterlandskap? Ook op ʼn klein toer en sou die nag oornag. Wou net bietjie hitte soek teen die versengende ysige weer met ʼn vrolik, knetterende vuurtjie in die kaggel voor hul sou gaan slaap?
Hoe verstaan mens die verskriklikste tragedie wat hierdie dierbare mense getref het? Hoe verstaan mens hoe hulle winterseisoen so ʼn vuur-inferno tot stilstand geruk kon word?
Met liefde en mooi herinneringe dra ek die familie in my gebede …
In tere herinnering van oom Sakkie en tannie Annetjie Engelbrecht, Namibië.
Ons sal jul nooit vergeet.
©Marlene Erasmus
30/06/2022
(752 woorde)
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
1.NEE! vir ‘n nuwe naam
Nathi Mthethwa kom toe mos op 10 Maart 2022 met sy briljante idee vorendag: die Afrikaanse Taalmuseum en –monument se naam moet verander word – ononderhandelbaar! So reken meneer Mthethwa dat die Afrikaanse Taalmonument “ ’n groot deel van die Paarl, waar die monument en museum geleë is, en omliggende gebiede se taalgemeenskappe uitsluit” in sy eie woorde. Hy ignoreer die feit dat die Afrikaanse Taalmonument baie energie daaraan bestee om ‘die diversiteit van Afrikaans te promoveer.” Hy verkies ook om sy eie versinsels te glo rakende die Afrikaanse Taalmonument.
Die Afrikaanse Taalmonument is ʼn grootse monument wat erkenning gee aan die oorsprong en voortbestaan van Afrikaans. Die monument is ingewy op 10 Oktober 1975 op die destydse Krugerdag.
Teen dié prentjie gemeet van Afrikaner-nasionalisme voel agtergeblewe Afrikaanse gemeenskappe nie gelukkig nie, hulle voel uitgesluit. So was Adam Small nie onder die uitgenooides, maar tog het hulle ʼn gedig van hom voorgelees:
Nkosi Sikelel iAfrika
Hier, halfversteen
onder die geel gloed van die son
staan-staan ’n swartman
en sy twaalf rooi beeste
in gelid
en in die stilte
wat groen glinster teen die bulte
wys die dorings wit;
ou geeste
kan weer leef soos ou vulkane
as die bloed in hul bly kook het
vir ’n duisend mane,
maar wie kan vir ons bid
dat God die wêreld seën
en elke os en nasie
vet laat reën
en ons laat weet hoe feilbaar was Nonkwasi.
– Adam Small (uit Sê sjibbolet, 1963)
Interessant dat dit die keuse van openingsgedig was in die apartheids-era. Dit is kompleet asof die Afrikaanse Taalmonument vanaf sy ontstaan sommige mense irriteer het. Met ʼn gevoel van eksklusiwiteit was dit asof almal nie ingesluit gevoel het nie. Ons kan ons ook nie heeltemal blind hou vir die geskiedenis nie, maar is ‘n naamsverandering regtig nodig?
Vir baie hou die naam van die Afrikaanse Monument nie ʼn bedreiging in nie, maar wel die gevoel van uitsluiting of verwerping.
Feit is egter dat Nathi Mthethwa se eis om die naam te verander aan absolute dwaasheid grens! Ek sien dit as ʼn direkte aanslag teen Afrikaans. Die versoek veroorsaak verdeling onder mense.
Op ons landswapen is gegraveer: !ke e: /xarra //ke in Khoisan en dit beteken: “Eenheid in verskeidenheid.” Ek glo die leuse is doelgerig so gekies, ons is almal medeburgers. As Suid-Afrikaners moet ons mekaar met verskillende kulture en gewoontes aanvaar.
As jy die pad opstap na die Afrikaanse Taalmonument sal jy die woorde lees: “DIT IS ONS ERNS”, die beroemde woorde geuiter in die stryd om die erkenning van Afrikaans.
Mag ons hande vat en saamstaan teen die naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument!
©Marlene Erasmus
20/07/2022
(443 woorde)
Augustus 2022 – My huis is my woning projek
2.As jy kan droom
Elkeen van ons het ʼn ingebore hunkering om eendag ons eie huis te besit. Toe ek ʼn jong meisie was, kon ek ure rondry en huise kyk. Die gewoonte is gevorm toe my pa ons op Sondagmiddag-uitstappies geneem het. Ons sou van Walvisbaai ry na Swakopmund om draairoomys te koop, dan het ons op super stadige spoed deur die mooi woonbuurte gery om al die huise te bewonder.
Ek onthou so goed die dag in ʼn vriendin se huis toe ek my verkyk het aan die groen prent teen die muur. Dit was vroeër jare ʼn ou Zam-Buk-advertensiebord wat kunstig ingespan is as ʼn fokuspunt. Hul huis was so mooi dat dit ʼn geweldige impressie op my gemaak het.
Ek het gedroom van ʼn groot kombuis met kersiehoutkombuiskaste en moderne oop ruimtes. My kombuis moes terselfdertyd modern wees, maar ook ʼn plaasgevoel skep.
Voorwaar het my drome waar geword toe ek en my man in ons eie woning ingetrek het. Grootoog en opgewonde is ons met baie van ons ouers se meubels in ons nuwe tuiste in. Kosbaarhede en oudhede laat my hart warm klop. Ek hou van moderne styl wat vermeng word met vervloë dae se sjarme.
Ek is verlief op oopplan-kombuis-en-leefareas. Dit voel warm en gesellig as almal saamkuier voor die gesellige kaggelvuur en die kinders speletjies sit en speel.
In ons huis sal jy dikwels vrolike klanke hoor van musiek en almal wat saam lag en gesels. Hier kan jy uitstap op die groot houtdek om die natuur te geniet. Die voëls baljaar in die bome en jy sal tarentale sit wat vrolik skrop op soek na kos.
Ek is gelukkig, ons het ons eie droomhuis gevind. Ons huis is ons woning, hier kraai ons koning.
©Marlene Erasmus
31/08/2022
(297 woorde)
September 2022 – Snelheidsprojek
1.Vakansieverkeer en ongelukke
Met die naderende vakansieseisoen op hande duik die kwessie van padongelukke en padsterftes op. In Suid-Afrika en Namibië is padsterftes van die hoogste ter wêreld. Kyk maar na die statistieke van langnaweke of die jaarlikse vakansietye in die land na hierdie statistieke. Jy kan daagliks ʼn koerant oopslaan of die televisie nuus kyk en daar is ʼn berig van nog ʼn gru-ongeluk.
Die vraag op almal se lippe is natuurlik waaraan hierdie afgryslik ongelukke op ons paaie toegeskryf kan word.
Daar is ʼn hele rits oorsake wat onder die loep kom: aandagafleiding, alkoholgebruik, roekelose bestuur en natuurlik spoed!
Volgens statistieke word al die padongelukke in drie hoof afdelings van oorsake opgedeel: menslike faktor, onpadwaardige voertuie en omgewingsfaktore.
Spoed en drank is van die grootste faktore wat ongelukke veroorsaak. Spoed word in die meeste gevalle as die sondebok uitgesonder, is daar by my die vraag: die bestuurder se vaardigheid om sy voertuig te beheer.
Ek dink dit is nie noodwendig die spoed wat die grootste oorsaak is nie, maar eerder ons bestuurders se gevaarlike bestuursgewoontes. Die klem val veels te veel op die “Spoed maak dood”-veldtog waar die aandag nie op die bestuurders se gewoontes is nie.
Kyk maar na voertuie wat op gevaarlike plekke verbysteek, volgafstande en verkeersligte doodeenvoudig net ignoreer.
Ek is seker dat as al die motors padwaardigheidstoetse slaag en die motoriste by die basiese padreëls hou soos byvoorbeeld die regte spoed handhaaf daar baie minder ongelukke op ons land se paaie sal plaasvind.
Ten spyte van bewusmakingsveldtogte neem ongeluksyfers nie regtig af nie en ek dink dat maatreëls in plek gestel moet word vir meer sigbare teenwoordigheid van verkeerspersoneel en voertuiginspeksies.
Die boetes vir spoedoortredings moet ook ernstig toegepas word wat as afskrikmiddel kan dien.
Ons moet almal hande vat om ons paaie veiliger te maak.
©Marlene Erasmus
30/09/2022
(305 woorde)
Oktober 2022 – Liriese projek
2.Ek stap my pad met blymoedigheid
“Dit gaan met my goed, dankie, BAIE goed.” Die woorde van ʼn kosbare vriendin, Theresia sal my altyd bybly. Ongeag watter dag van die week of watter tyd van die dag, as jy haar vra hoe dit gaan het sy jou geantwoord, met ʼn glimlag op haar gesig.
Ek dink terug aan my oupa-grootjie, oom Koos van Rooyen wat ʼn vrome man was met ʼn groot liefde vir sy Skepper en die lewe. Hy en ouma was getroue kerkgangers en hy het altyd met blymoedigheid sy pad gestap. Lewensvreugde het hy met sy hele wese uitgestraal.
Dit laat mens wonder: uit wat bestaan blymoedigheid en waardering vir die lewe om ons?
Ek is baie kere op my eie en vir baie is alleenwees die monster wat hulle vreugde wil kom steel. Ek stap deur die tuin en pluk arms vol geelgloed-sonneblomme, asem die aroma in en kyk ek na die son. Dan strooi ek sonskyn in my voorhuis en sit die ketel aan vir boeretroos.
So met die stomende koppie tussen my hande vasgeklem gaan my gedagtes na die kuiertjies by Ouma Lilly in Upington. Vroegoggend se koffie in die bed met ʼn sny warm aartappelsuurdeeg-brood. Haar goue, krakerige gemmerkoekies saam die tienuur-tee. Die geur van vars uitgebraaide skaapstert om vir ons goudbruin kaiings te maak.
Ek sal nooit die vet-en-stroop brood se reuk kan vergeet nie.
Ek onthou die soet reuk van Petunias langs die trap van Oupa Koos se huis. Sy huis was maar paar tree van die kanaal af. Die modderreuk van die kanaal het ons kinders aangetrek soos ʼn magneet. Ons kon ure lank kleilat gooi daar op die wal. Hoewel die kanaal verbode terrein was, het ons dit so een of twee keer gewaag om die waters te toets. Ons het so lekker baljaar in die koel, groenerige water dat ons glad nie die grootmense se dringende geroep gehoor het nie. Toe ons ons oë uitvee, val die houe van die vars afgeplukte wilgerlat “KARPLAKS” op ons sitvlakke. Geen maer vark sou ons geskreeu kon verbeter toe ons huis toe hardloop nie.
Ek stap my ‘onthou-pad’ met dankbaarheid en vrede as ek die reuk van Jasmyn in my voorhuis ruik.
So stap ek die pad.
©Marlene Erasmus
30/10/2022
(379 woorde)
Desember 2022 – Samesyn projek
2.In ‘n groep
Ek kyk na die groep mense wat gesellig om die braaivleisvuur lag en gesels. ʼn Warm gevoel kom maak nes in my binneste. Ek voel veilig in my vriendekring en ek besef dat die noodsaaklikheid van samesyn nooit oorbeklemtoon kan word nie. In die moderne wêreld van vandag waar tegnologie ʼn belangrike rol speel, is dit maklik om die belangrikheid van samesyn uit die oog te verloor. In ons samesyn word ons in staat gestel om ons ervarings met mekaar te deel, ons kan mekaar ondersteun en ons beleef die gevoel dat ons iewers behoort.
Die vrolike geskerts van almal bring ʼn glimlag op my gesig.
As ʼn groep mense, met dieselfde belangstellings bymekaar kom, word sterk bande gesmee wat nie maklik verbreek word nie. Die tipe verbindings is van uiterste belang vir huisgesinne aangesien dit elke individu veilig en gewaardeer laat voel. Deur samesyn word daar die gevoel van sekuriteit en geborgenheid bevorder. Deur tyd met mekaar deur te bring word kommunikasie en begrip aangemoedig. So word beter verhoudings onder mekaar moontlik gemaak.
Saamhorigheid onder groepe mense kan ook help om gemeenskappe te versterk. Wanneer mense bymekaar kom, is hulle in staat om gemeenskaplike belange en waardes te deel. Dit kan lei tot ‘n gevoel van trots, en dit kan ‘n meer verenigde en ondersteunende omgewing skep. Wanneer mense in gemeenskappe bymekaar kom kan dit ook help om misdaad te laat afneem aangesien mense vir mekaar omgee en mekaar se belange beskerm.
Dit is my mening dat samesyn ‘n bron van vertroosting vir mense kan wees. As mense deel is van ondersteunende, omgee-omgewing, skep dit dadelik ʼn gevoel van sekuriteit en stabiliteit. Samesyn bied definitief troos aan mense wat deur moeilike tye gaan soos verlies van ʼn geliefde of dergelike situasies.
Deur die moeilikste tye in my lewe was dit vir my noodsaaklik om ondersteunende vriende en familie te hê. Om mense om jou te hê wat luister en raad gee is ʼn kosbare voorreg.
Samesyn is vir my ‘n bron van krag, troos en hoop in my lewe.
©Marlene Erasmus
24/12/2022
3.My belangrikste samesyn
Deur die Woord sal jy sien dat Jesus mense kos gegee het en saam geëet het. Van die bekendste was die ete wat Jesus en sy dissipels gehad het kort voor Hy aan die kruis sou sterf. Volgens die Skrif het Jesus uitgesien na die samesyn van ʼn maaltyd met sy geliefde mense.
As klein dogtertjie het ons ook aan tafel gesit en eet, hierdie is vir my kosbare herinneringe. Dit was dan ook hier waar ons gelag en gesels het, maar soms ook koppe gestamp het. Hier het ons as gesin oor die dag besin en gedroom oor die toekoms.
Ek kan byvoorbeeld een maaltyd presies onthou toe my oupagrootjie, oupa Koos vir ons kom kuier het. Hy het oudergewoonte na ete vir ons huisgodsdiens gehou en het sy Nederlandse Bybel nadergetrek. Ons as klein kindertjies het doodstil, groot-oog na hom geluister alhoewel ons maar baie min van die Hollandse woorde kon verstaan. Ons sou dit egter nie waag om te lag nie. Oupa Koos het met sy gebruiklik sagte “amen” afgesluit. Ons kon hom beswaarlik hoor so sag het hy geprewel aan die einde van sy gebed. Ons moes amper so met een oog loer om seker te maak hy is klaar.
Deesdae is die tye meer gejaagd, maar ons maak nou nog ʼn punt daarvan om middag-ete saam om die swart houttafel te vergader.
Die kosbaarste samesyn wat ek egter nou ervaar is as ek soggens douvoordag by die einste houttafel plaasneem met my beker koffie en my Bybel. Hier is waar ek my Heer ontmoet. Hier is waar ek my krag vandaan kry. Hier beleef ek volkome vreugde van aanbidding. Ek dink aan hoe die psalmdigter moes gevoel het toe hy na ʼn plek van aanbidding wou gaan.
“Ek WAS BLY toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan!” – Psalm 122:1
Om tyd in die Woord te spandeer is vir my sinoniem met samesyn. Nêrens voel ek so geliefd.
©Marlene Erasmus
30/12/2022
(336 woorde)
Januarie 2023 – Projek NUUT
2.Handewas word groot pret
Soms het mens tyd op jou hande om nuwe vaardighede aan te leer. Nadat die wêreld getref is deur Covid-19 het almal deeglik bewus geraak van die belangrikheid van handewas. Op aanbeveling van die Die Wêreldgesondheidsorganisasie moet jy ongeveer vir 30 sekondes lank was met seep en warm water om jou hande effektief te kan ontsmet.
So tref die idee my om my eie handeseep te begin maak. Ek swem behoorlik deur al die inligting en idees wat vrylik op die internet beskikbaar is. Gou kom ek agter dat daar baie verskillende metodes is om jou eie handeseep te maak.
Ek besluit op die “Koue Roermetode” en gebruik die volgende resep:
500 gr Olyfolie
200 gr Klapperolie
15 gr kasterolie
15 gr sonneblomolie
137 gr bytsoda
274 gr water
Geur en kleur soos jy verkies.
Jy moet masker en handskoene dra vir die soda-dampe en in ʼn trek werk. Eers plaas jy die bytsoda in die water, roer en laat afkoel. Die volgende stap is om jou olies te vermeng, dan as bytsoda mengsel afgekoel het, voeg jy dit by die olies en klits tot verdik. Vul in pannetjies en SIE-DAAR – jy het seep gemaak. Jy laat dit in die vormpies staan tot die volgende oggend en haal uit panne. Dit staan op draadrakkie omtrent 4 tot 6 weke voordat jy dit as seep kan gebruik.
Moenie dat die bytsoda jou afskrik nie, dit verbind met die olies en verdamp sodat dit nie skadelik is vir gebruik nie.
Hier het ek ʼn vars, vonkelnuut stokperdjie ontdek en ek kan jou my woord gee: dit is heerlik om met jou eie olies en geure te speel om jou eie seep te maak.
Vir die kinders kan jy sepies maak met verskeidenheid kleure, jy kan eers kleiner vormpies maak wat jy dan binne-in die koekie seep sit. Verskillende diere vormpies verskaf ure se pret aan die kleingoed. Hulle geniet dit om met hierdie sepies te was.
So kan jy jou eie geskenkies maak en as jy die moed het kan jy hierdie stokperdjie in ʼn winsgewende tuisnywerheid-besigheid omskep.
Ek het goed navorsing gedoen om te verseker dat al die bestanddele wat gebruik word, goedgekeur is en ook voldoen aan internasionale gesondheid- en velsorgstandaarde.
Probeer gerus hierdie stokperdjie, ek voorspel jy gaan dit net so baie geniet soos ek.
©Marlene Erasmus
31/01/2023
(388 woorde)
Junie 2023 – Winter projek
1.Wat is wintervakansie sonder sneeu?
As ons aan wintervakansie dink, kom die prentjie op van kinders wat in sneeu baljaar, sneeumanne bou of skiërs wat teen steil hellings afjaag. ʼn Warm vuurherd-kuier mag jou ook herinner dat dit wintervakansie is.
In ʼn land soos Suid-Afrika is sneeu egter ʼn skaars verskynsel en mense se soeke na sneeu word ʼn prioriteit. Net die idee om sneeu te kan aanskou, te voel of selfs te proe, vul die meeste van ons met groot opgewondenheid. Sneeu kan as inspirasie dien. Die dorpie: Hogsback in die Oos-Kaap was vir J.R.R. Tolkien die inspirasie om fantasie stories te skryf. As ons gelukkig is word die landskap jaarliks omgetower om soos iets uit ʼn ware feëverhaal te lyk as die sneeu begin val.
Wintervakansie sonder sneeu kan nie die beeld van ʼn ware, onvergeetlike vakansie voltooi nie. Sneeu bring vir my skoonheid sonder weerga. As die eerste sneeuvlokkies val en die aarde in wit lappe bedek word, tree verwondering dadelik in. Die beelde van sneeubedekte vlaktes is net skouspelagtig. Die sagte grys wolke met die skerp wit sneeu kom pluk aan jou hartsnare.
Sneeu wakker ook die avontuurlus aan en skep vir ons die geleentheid om te ski of sneeubord te ry. Die gevoel van vryheid as jy met hoë spoed teen die berg af gaan laat die adrenalien behoorlik vry. Die aktiwiteite laat ons harte vinnig klop. Die belewenis van sneeu laat my siel dans van vreugde!
Die stilte wat heers as sneeu die aarde bedek, is so besonders. Woorde ontbreek my dikwels om die gesig van die spierwit landskappe te beskryf. Jy ontsnap van die alledaagse gejaag en vrede en rustigheid spoel oor jou. Die sereniteit van ʼn wit sneeulandskap is voedsel vir die siel en laat ons eenvoudige vreugdes waardeer.
Die herinneringe van ʼn wit vakansie sal my altyd bybly. Die jongklomp se kapperjolle en vrolike geterg as ons sneeuengeltjies maak is die beste. Sneeubalgevegte tussen die niggies, nefies en vriende word gewoonlik afgesluit met ʼn stomende beker warm sjokolade voor die kaggelvuur. Dit is beslis hierdie oomblikke wat wintervakansie onvergeetlik maak. ʼn Wintervakansie sonder sneeu, los my met ʼn onvervulde gevoel.
So, ʼn wintervakansie sonder sneeu is vir my eenvoudig nie goed genoeg nie! Die ervaring van sneeu bied ʼn unieke, betowerende tyd wat nie op ander plekke beleef kan word nie. Wit wintervakansies bring skoonheid en betowering wat oud en jonk se harte aanraak. As jy enigsins die kans kry om die wonder van ʼn wit wintervakansie te beleef, maak seker dat jy dit nie mis nie!
Niks kom by ʼn wintervakansie vol sneeu nie!
©MarleneErasmus
06/06/2023
(437 woorde)
Augustus 2023 – Musiek projek
1.’n Les uit die “Lied van die lewe”
Musiek is allermins ‘n reeks van note en woorde, maar veel eerder ‘n venster na die siel van die mens. Musiek besit die krag om my diepste gevoelens, vrese, drome en herinnering uit te beeld. Een van die liedere wat altyd met my resoneer, is Gé Korsten se “Lied van die lewe”. Die lied het vir my ‘n baie spesiale plek in my hart, nie net vanweë die aangrypende melodie nie, maar ook vanweë die lewenslesse wat dit aanbied.
In die woorde van die lied sien ons die lewensiklus van die mens, dit begin by die onskuldige dae van ons jeug tot by die kalmer jare van ons in ons ouderdom. Die terugblikke van die jeug wek by my die gevoel van matelose nostalgie. Die besef van verganklikheid tref jou as jy na die woorde: “dikwels gaan dit so gou verby”, luister. Onmiddellik besef jy dat jy elke oomblik voluit moet leef en die lewe moet waardeer.
Een tema wat vir my uitstaan is die vloei van tyd. “Om jonk te wees, bring lekker dae …”, sing Gé, maar hy voeg ook heel gou by: “Niemand dink aan die tyd wat verby gaan.” Die subtiele waarskuwing dat alhoewel die vryheid en vreugde van jonkwees geniet moet word, dit dalk ook die tyd is waarin ons dikwels onbewus is van die waarde van die oomblik.
Met die luister van hierdie lied, het ek besef hoe belangrik dit is om die hede te waardeer, elke dag te leef asof dit jou laaste is en om nie net vir die toekoms te leef nie. Dikwels word ons so vasgevang in ons daaglikse doen-lysies dat ons die skoonheid van die oomblik in die hede misloop.
Met die “Lied van die lewe” het ek paar lewenslesse geleer. Die heel belangrikste is dat die lewe ‘n kosbare, groot geskenk is, iets wat baie vinnig verby kan gaan, en dat ons elke oomblik van ons lewe moet geniet en waardeer. Dit herinner my om nie meer bewus te wees van die toekoms as van die hede nie.
Ter afsluiting wil ek noem, elke keer as ek hierdie wonderlike lied hoor, herinner dit my daaraan om die lewe te vier, mekaar te waardeer, en ook om huidige tye te koester. Want soos dit aan die einde sê; “dikwels gaan dit so gou verby.”
Kyk gerus weer na die woorde:
Lied Van Die Lewe.
Om jonk te wees bring lekker dae, die son skyn daar op elke dag
Die kinders skaats en ry fiets in die strate, jongmense luister na nuwe plate
Niemand dink aan die tyd wat verby gaan en dat die lewe net nie stil sal staan
En dat die lewe net nie stil sal staan
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Ja, dikwels gaan dit so gou verby
Maar die lewe sal nooit stilstaan, dae kom en dae gaan
Die jonges trou en gaan op hul eie, nou kom daar soms sware tye
Almal werk net vir die hede, ure, maande en jare vlieg soos die wind verby
Ja, ure, maande en jare vlieg soos die wind verby
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Ja, dikwels gaan dit so gou verby
Die oues word dan ook weer ouer, hul word dan oupa en oumamma
Die dae word dan vinnig korter, langsaam gaan die son dan onder
Herinneringe laat mens oor die lewe wonder en lewe vol mooi en troebel dae staan aan einde toe
En lewe vol mooi en troebel dae staan aan einde toe
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Sing met my ‘n lied van die lewe, sing met my van jonk en oud
Die lewe gee soveel mooier dae maar dikwels gaan dit so gou verby
Ja, dikwels gaan dit so gou verby
Koester elke oomblik.
©MarleneErasmus
30/08/2023
(390 woorde sonder die titel en die lirieke van die lied.)
September 2023 – OOP projek
1.’n Stukkie hemel in Namakwaland
Ek onthou die eerste keer wat ek Namakwaland as ‘n kind besoek het. Dit was ‘n familievakansie, en ek was nie ouer as tien nie. Ek het die hele lang pad in die agterste sitplek van ons ou, roesbruin kar deurgebring. Tussen die spelery met my sussie het ek gemerk hoe die landskap stadig verander het. Ek was gewoond aan die vaal vlaktes van Suidwes-Afrika. Hierdie kleurvolle uitgestrekte, oop veld was vir my ‘n vreemde, onbekende wêreld.
Die aand het ons by ‘n kampvuur gesit en na die sterre gekyk wat pa vir ons gewys het. Ek het daardie aand met ‘n gevoel van verwondering gaan slaap. Ek het geweet dat hierdie plek vir altyd ‘n spesiale plekkie in my hart sou hê.
***
Ek is seker dat die hemel bietjie soos Namakwaland in blomseisoen lyk. Daar waar ‘n grootse bossielandskap voor jou ontvou tot aan die kant van die Atlantiese oseaan. Elke jaar word die reënval met valkoë dopgehou om ‘n voorspelling te maak oor die blomme. Dit is die tyd wanneer geen mens mag mor of kla oor reën nie.
Ons begin ons uitstappie en ry kuslangs tot by Spoegriviermond. Jy kan ver sien, kilometers aaneen sien jy ‘n strook van die mooiste blou see. Branders skuim spierwit waar hul teen die donker rotse slaan. Ek staan en kyk na die wonder van die natuur. Ek proe die soutasem van die soel seebries op my lippe.
Die volgende dag ry ons na Hondeklipbaai en kronkel-kronkel met die tweespoorpad deur plate vetplantkaroobossies. Melkbos, vygies en soutslaai pronk in mooiste kleurvertoning van vaal en groen.
Ons verkyk ons aan die snaakse oop sirkels in die grond. Die oorsaak is termietneste wat die sand se samestelling oor die tyd kom verander het. Sommige bossies verkies dit om binne hierdie sirkels te groei. Dit dra by dat die landskap sulke ronde kolle vol goudgeel blomme het. Dit is veral surings wat in hierdie sirkel floreer.
In die verte sien ons paar gemsbokke wei tussen die blomme. Ek begroet die blomlandskap met my lang lens. Blomkoors het my in sy mag gekry. Die doel van ons kuier in Namakwaland is om die blommeprag te aanskou. Hier voel dit of my siel kan asemhaal.
Verby Kamieskroon vind ons Kombi die pad na Skilpad-natuurreservaat. Blomkykers stap rustig rond met kameras wat die skoonheid vasvang. Plate helderoranje meisoentjies lê uitgesprei soos ‘n karos. Sjoe! Die skouspel sorg vir groot plesier. Plate en plate blomme wissel van helderoranje, helderpienk en verander dan na blou sporries. Die liggeel pietsnotte troon bo die ander blomme uit. In die verte, teen die klipkoppies pryk die kokerbome trots. Die rooi klokkies van die kankerbossie vang my oog. Wat ‘n pragtige klein blommetjie?
By Nababeep is die blommeprag asemrowend mooi! So ver soos jy met jou blote oog kan kyk, verdrink die aarde in madeliefies en gousblomme. Selfs in die strate en orals waar jy ‘n oop stukkie grond kan sien, pronk blomme.
Dan vat ons die pad na Vanrhynsdorp. Volgende stop is Nieuwoudtville. Hier pronk die Blou Trots van Nieuwoudtville met die Karoosatynblomme wat almal bekoor. Die blomme bly vir my ‘n grootse wonderwerk, een waarvan ek nooit genoeg sal kry. Dit lyk behoorlik of die aarde met kleur gesprinkel is. Hier vind jy kalkoentjies, katsterte, spinnekopblomme en koringblomme in oorvloed.
Sandveldlelies pronk bont tussen fynbos. Op die landerye, in bewerkte grond vind jy bergmagrietjies in blom. So ver soos jy ry staan daar plate oranje en wit gousblomme, kewergousblomme in salmpienk en goudgeel gansogies.
By Nieuwoudtville se NG Kerk loop ek tussen die blomme deur. Die wind waai liggies en die laventelbossies dans vrolik saam. Die geur van die blomme ruik hemels.
Ek is seker hier in Namakwaland beleef jy ‘n stukkie van die hemel …
©MarleneErasmus
28/09/2023
(626 woorde)
Oktober 2023 – KORT projek
2.’n Kortsluiting
Ek wonder baie oor ‘n kort humeur. Dit laat my dink: het jy al opgemerk dat ‘n kort humeur soos wifi werk? Hoe nader jy aan die bron kom, hoe sterker is die sein. As daardie bron gekoppel word aan ‘n honger maag, raak dit ‘n noodsein! Ek het agtergekom dat ‘n heerlike sny brood my 4G kan wees, maar ‘n vol bord kos is ‘n hele netwerk. As die opvangs traag is, weet jy mos – jou maag skree vir opvangs! Dus, as jy weer ‘n kort humeur in die gesig staar, gee hom ‘n sjokolade… of twee! Dit kan net die sein versterk en die versteurings laat bedaar. Ons almal het maar ons oomblikke. Net soos ‘n lae batterylading herlaai benodig, moet ons soms ook ons humeur laat ontlaai. En hoe sê die spreekwoord? Moenie jou humeur vandag hier by my verloor nie, want ek het regtig nie tyd om daarna te soek nie!
©MarleneErasmus
12/10/2023
(155 woorde)
3.Daantjie Dinamiet
Ons almal verloor soms ons humeur. Vir party vat dit net bietjie langer om te ontplof. Dit laat dink my aan ‘n spesifieke oom; Daantjie Dinamiet. Sy van was Nel, maar almal het hom geken as Daantjie Dinamiet. Hy was ‘n man met ‘n groot hart, maar met ‘n kort lont! Ek onthou nog die keer toe ons almal bymekaar was vir Kersfees. Hy het die hele dag in die kombuis gehelp, en het hom paar keer amper vererg. Toe een van die kinders per ongeluk ‘n glas melk oor die klaar versierde koek omgekeer het, het die vonke behoorlik gespat en het hy sy Dinamiet-kant gewys. Hy het wild probeer keer, maar het gestruikel en gesig eerste binne die bak jellie beland. Almal om hom het geskater van die lag en half verleë het hy ewe droog gesê: “Jul weet mos ek ontplof maklik, maar ek koel net so vinnig af!”
©MarleneErasmus
12/10/2023
(152 woorde)
Desember 2023 – Veldslag projek
1.Vrede bo veldslae
Volgens die woordeboek is ʼn veldslag ʼn selfstandige naamwoord wat beteken daar vind ʼn geveg of ʼn botsing plaas tussen twee of meer leërs, gewoonlik op ʼn oop veld. Dit is egter nie al betekenis van veldslae nie. Veldslae kan ook figuurlik gesproke wees as daar verwys word na enige stryd of kompetisie tussen mense of groepe mense.
Daar is ook moderne veldslae tussen verskillende nasies, sakevennote, familie of vriende. Hierdie konflikte kan op verskeie vlakke ontstaan, vanuit politieke spanning tussen nasies tot persoonlike struwelinge of onderonsies binne gesinne. Die nodigheid van hierdie tipe veldslae is dikwels ʼn weerspieëling van die kompleksiteit van menslike interaksies en die behoefte aan beheer.
Internasionale konflikte tussen nasies ontstaan dikwels uit ekonomiese, ideologiese of geopolitieke redes. Hierdie veldslae kan baie ernstige nagevolge inhou vir miljoene mense, asook ekonomiese verliese en kan selfs op gewapende konflik uitloop.
Op ʼn meer persoonlike vlak, is konflik tussen vennootskappe, vriende of families baie keer onvermydelik. Geskille ontstaan as gevolge van verskillende persoonlike waardes of oortuigings en onsekerhede. Alhoewel die tipe veldslae nie aangenaam is nie, bied dit dikwels geleentheid tot groei, selfontdekking en selfs versterking van verhoudings.
Ek voel dat die tipe van veldslae heel onnodig is, want dit veroorsaak pyn, lyding, haat en verdeeldheid. Ek is ʼn voorstander daarvoor dat daar beter maniere is om geskille op te los. Daar kan gebruik gemaak word van mediasie, onderhandeling, arbitrasie en regstellende stappe om geskille op te los. Deur gebruik te maak van hierdie metodes word konflik verminder, vertroue word herstel en vrede bewaar.
Moderne veldslae is dikwels nie die gewenste benadering nie, want die onderliggende oorsake van konflik word nie aangespreek nie, dit verhoog net die spanning tussen die partye. Sodoende word daar weer nuwe probleme geskep. Moderne veldslae kan ook baie onvoorsiene gevolge hê, soos byvoorbeeld omgewingskade, humanitêre krisisse, politieke onrus of selfs terrorisme. Dit is ook nie net die omgewing wat geraak word nie, hierdie moderne veldslae kan ook die menseregte en menswaardigheid van die partye skade berokken.
Ek voel dat in ʼn ideale samelewing die noodsaaklikheid van moderne veldslae beperk behoort te word deur die bevordering ban vreedsame oplossings, volgehoue gesprekvoering en die erkenning aan gedeelde menslikheid. Hierdie benadering vra van mense om op ʼn bewuste manier konflik op ʼn konstruktiewe manier te hanteer. Sodoende word ʼn samelewing geskep waar verskeidenheid gerespekteer en gekoester kan word.
©MarleneErasmus
30/12/2023
(394 woorde)
Januarie 2024 – OOP Projek
1.Die inpak van Tegnologie op ons samelewing
Vandag lewe ons in ‘n vinnig veranderende wêreld waar tegnologie ‘n integrale rol speel in die samelewing. Ons durf nie die impak van tegnologie op ons lewens ignoreer nie, aangesien dit op verskeie maniere ons dag-tot-dag bestaan beïnvloed.
Kom ons kyk na die voor- en nadele van tegnologie en hoe dit die samelewing om ons heen raak.
Een van die duidelikste voordele van tegnologie is die verbetering van kommunikasie. Deur die ontwikkeling van sosiale media, mobiele toestelle en ander kommunikasieplatforms, het ons die voorreg om met mense regoor die wêreld te skakel. Die voordeel hiervan is dat kultuurgrense oorbrug word en nuwe vorme van gemeenskap geskep word. Aan die ander kant het die vinnige toename in digitale interaksies ook sosiale uitdagings veroorsaak, soos die verspreiding van vals inligting en die moontlikheid van afsondering. Die individu bevind hom meestal voor die rekenaar en sodoende bring hy minder tyd in ander se geselskap deur.
‘n Ander opvallende voordeel van tegnologie is die verbetering van die gesondheidsorgstelsel. Deur gevorderde mediese tegnologie en digitale gesondheidsrekords, het die samelewing toegang tot doeltreffender sorg gekry. Tegnologie het die diagnose en behandeling van menige siektes verbeter, wat tot ‘n verlengde lewensduur en ‘n verbeterde lewenskwaliteit kan lei. Nietemin bring die afhanklikheid van tegnologie ook uitdagings mee, insluitend die bedreiging van privaatheid en etiese vraagstukke.
Daar is ook ‘n toenemende fokus op tegnologie in die werksomgewing. Outomatisering, kunsmatige intelligensie en robotte verander die aard van arbeid en die vereiste vaardighede vir werknemers. Hierdie veranderinge het positiewe gevolge, soos ‘n toename in effektiwiteit, maar dit gaan ook gepaard met die moontlikheid van werkloosheid en die behoefte aan nuwe opleiding en vaardighede.
‘n Aspek waaroor besondere kommer bestaan, is die impak van tegnologie op die omgewing. Die vervaardiging van elektroniese toestelle en die toenemende vraag na energie het ‘n aansienlike ekologiese tol geëis. Die samelewing staar ‘n uitdaging in die gesig om ‘n balans te vind tussen die voordele van tegnologiese vooruitgang en die bewaring van die omgewing.
In afsluiting kan daar nie ontken word dat tegnologie ‘n onmisbare rol in ons samelewing speel nie.
Dit hou vir ons baie voordele soos verbeterde kommunikasie, gesondheidsorg en effektiwiteit in die werksomgewing in. Nietemin moet ons waaksaam wees vir die negatiewe impak daarvan, wat sosiale uitdagings, etiese kwessies, en omgewingskwessies kan insluit.
Die uitdaging lê daarin om ‘n gebalanseerde benadering tot tegnologie aan te neem wat die samelewing as geheel sal bevoordeel.
“Tegnologie is ‘n instrument wat ons kan help om ons doelwitte te bereik, maar dit is nie die doelwit self nie. Ons kan nie ‘n toekoms bou sonder die hulp van tegnologie nie, maar ons kan ook nie ‘n toekoms bou sonder die hulp van mense nie.” Kristina Halvorson.
©MarleneErasmus
31/01/2024
(459 woorde)
MAART 2024 – OOP PROJEK
2.Die groot woord: verhuising!
As daar een woord is wat my maag behoorlik op ‘n knop laat trek, is dit: verhuising! Jy woon so heerlik in die woning wat jy huur en verbeel jou daagliks dat dit jou eie eiendom is. Dan kom die gevreesde oproep van die agent.
“Mevrou, ons het ‘n paartjie wat na die huis wil kom kyk. Hulle het die plek op die internet gesien en het besluit hulle moet dit sien.”
Natuurlik kan hulle maar kom soos talle paartjies voor hulle. Die dag vir die besigtiging breek aan en ek sit en kyk met groot oë na die drietal. Wil nie eers die rondte saam hulle stap nie, want die agent weet mos hoe om die huis aan die mense te wys.
Na afloop van die besoek hardloop daar ‘n lelike vrees deur my binneste. Ek troos myself dat dit net nog mense is wat na “my” huis kom kyk.
“Ons laat weet jou wat hulle besluit,” is die woorde waarmee die agent vriendelik groet.
Skaars ‘n week later kom die oproep net na agt in die oggend. Hulle het besluit om “my” huis te koop!
Ons trane stroom onwillekeurig as die nuus stadig tot ons almal deurdring!
Verhuising is ‘n lewensveranderende gebeurtenis wat met baie emosies gepaardgaan. Dit het ‘n diepgaande impak op die mens se psige. Van opwinding tot stres, van hoop tot vrees is maar paar van die uiteenlopende emosies wat volg. Die effek kan werklik ‘n mens se psige beïnvloed en ‘n wye spektrum van emosies ontlok.
Kom ons kyk bietjie na die impak van verhuising op die mens.
Emosionele reaksie:
Verhuising kan beslis ‘n gevoel van eksitasie veroorsaak, veral as dit ‘n heel nuwe begin beteken. Jy kan ook die gevoel van angs en verlies ervaar as jy jou bekende omgewing, vriende en roetines moet agterlaat. Die emosionele reaksie op verhuising kan uiteenlopend van aard wees en word dikwels beïnvloed deur persoonlike ervarings.
Veranderende identiteit:
Verhuising kan inderdaad ‘n groot impak op die persepsie van jouself en jou identiteit veroorsaak. Die idee van nuwe fases in jou lewe dwing jou dikwels om jou lewe te herdefinieer. Alhoewel verhuising geleentheid bied vir selfontdekking en groei, is daar dikwels verwarring en identiteitskrisisse wat jy in die gesig moet staar. Wie het besluit dat mens “kleiner” moet leef na sestig?
Stres en aanpassing:
Een van die mees algemeenste reaksies op verhuising is stres. Die hele proses van uitsorteer, inpak, verhuis en dan die aanpas in die nuwe omgewing kan ‘n aansienlike las op jou psige plaas. Die aanpassing kan tyd vat en dan kan onsekerheid nog verdere stres op jou plaas. Dit is baie belangrik om te erken dat die stres wat jy ervaar kan wissel afhangende van faktore soos ondersteuning van familie en vriende.
Die rol van sosiale ondersteuning:
Al dink mens nie so daaraan nie, speel sosiale ondersteuning ‘n kritieke rol in die hantering van jou emosies en stresvlakke in die tyd van verhuising. Jou familie en vriende kan jou ondersteun om die impak wat die verhuising op jou het te verlig.
In ‘n neutedop kan verhuising ‘n hele reeks emosionele reaksies by jou ontlok wat jou psige op verskeie maniere kan beïnvloed. Terwyl daar stres en uitdagings mag wees, bied dit ook geleentheid vir groei en nuwe avonture in jou lewe.
In die ontrafeling van die raaisels van verhuising ontdek ons dikwels ware skatte in die lewe – die moed, die groei en die euforie van ‘n skoon, nuwe begin.
Dus, laat ons die kartonne maar opgestapel bly staan tot jy die moed bymekaar skraap om te begin met hierdie sogenaamde nuwe avontuur!
©MarleneErasmus
31/03/2024
(605 woorde)
APRIL 2024 – UIT DIE OOG VAN ‘N KIND PROJEK
1.Die wonder van die lewe
Die siening van hoe grootmense die wêreld van vandag ervaar kan baie uiteenlopend van aard wees. Faktore wat ‘n rol speel is hul eie persoonlike ervarings, kulturele agtergronde asook die sosio-ekonomiese konteks waarin hulle leef. Vir heelwat mag dit dalk voel dat die wêreld ‘n uiters uitdagende plek is met sy eie probleme terwyl ander dit mag sien as ‘n geleentheid vir vooruitgang en groei.
Om die wêreld deur die oë van ‘n kind te sien is om weer die wonder van die lewe te ontdek. Kinders kyk met ‘n vars, onbevooroordeelde blik. Hulle sien vele moontlikhede waar grootmense grense sien. Kinders se drome is so wyd soos die hemel self.
Uit die oog van ‘n kind:
“Wanneer ek na die wêreld om my kyk, sien ek soveel kleure – kleure wat huppelend dans en sing. Ek sien nie die donker kant nie, ek sien ‘n plek waar die son altyd helder skyn. Ja, selfs in die donkerste dag. Ek hoor hoe gelukkig lag my vriende, helder soos die blink môrester. Elke gesig wat ek sien is ‘n nuwe storie wat wag om vertel te word.
Waar jul grootmense ‘n plas water sien, sien ek ‘n magtige oseaan om te tem. Die stok in my hand word ‘n swierige swaard om talle drake mee te verslaan. Die boom in die hoek van ons erf is my wagtoring waar ek die wêreld vanuit die hoogte kan sit en beskou.
As ek rondkyk, is daar vir my geen gisters of selfs ‘n môre nie. Vir my is daar net die nou en die hier. Dit is wat vir my saak maak. Elke oomblik is vir my ‘n nuwe avontuur en elke ervaring is ‘n splinternuwe geskenk. In my wêreld is daar geen limiete, daar is geen einde nie – nee, net een groot oneindige begin.
Ek weet julle grootmense sien die wêreld anders, opgedeel in dele. Ek sien geen onderskeid. Vir my is elke mens my vriend en elke liewe dier my metgesel op hierdie wonderlike reis. Ek hoor jul praat van onluste, oorlog en misdaad. Ek leef my droom van vrede en vriendskap, een plek waar ons almal saam kan wees om hande te vat en so te bou aan die toekoms.
So, as jul deur my oë kon sien, sou jul dalk beter verstaan dat die wêreld ‘n wonderlike plek is waar liefde altyd oorwin. Miskien, net miskien, as almal soos kinders kon sien sou almal die skoonheid raaksien en die lewe ten volle geniet.”
Mag ons kinders se onskuldige wysheid koester en bewaar en mag dit ons ook aanmoedig om die wêreld met hernude verwondering te benader. Laat ons saamwerk om ‘n wêreld te skep waarin elke oomblik ‘n geskenk is. Mag elke ontmoeting ‘n geleentheid vir vriendskap wees en elke uitdaging ‘n kans vir groei en verandering.
Laat ons die woorde van die kind neem en dit koester as ‘n lig in donker tye, ‘n herinnering aan die krag van hoop, liefde en geloof. In die oë van ‘n kind lê die belofte van ‘n wêreld wat vol verwondering geniet kan word.
Kom ons kyk deur die oë van kinders en beleef elke dag die wonder van die lewe.
©MarleneErasmus
26/04/2024
(529 woorde)
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
2.Die pad vorentoe
As ek dink aan die toekoms, kom daar twee woorde by my op: die onbekende. Dit is slegs twee woorde, maar dit wek verskeie emosies op in my binneste! Gedagtes van opwinding en afwagting tot vrees en onsekerheid. Ons leef in ’n era waar kennis en inligting tot ons beskikking is en tog bly daar so baie wat ons nie weet nie. Die vraag is: hoe benader ons die onbekende? Met ope arms of met ’n huiwering in ons binneste?
Van kleins af word ons nuuskierigheid geprikkel deur iets wat ons nie ken nie. Kinders vra voortdurend vrae, probeer nuwe dinge en is op soek na antwoorde. Hierdie ingeboude menslike eienskap is dit wat wetenskaplikes en ontdekkingsreisigers dryf om nuwe grense te verken.
Kom ons dink maar net aan die groot ontdekkingsreise van die verlede. Name soos Vasco da Gama, Christopher Columbus en vele ander het die onbekende oseane aangedurf om nuwe wêrelde te ontdek. Hul waagmoed en honger na kennis het gehelp om die wêreld soos ons dit vandag ken, te vorm. Die vraag bly egter, wat sou gebeur het as hulle in hulle gemaksones gebly het, bang vir die onbekende?
Ons moet egter onthou, aan die ander kant is daar ook die diepgewortelde vrees vir die onbekende. Hierdie vrees hou ons dikwels terug en maak ons versigtig. Ons hou daarvan om vaste hou aan die bekende en vermy die risiko’s wat met die onbekende gepaard gaan. Hierdie vrees is nie ongegrond nie, die onbekende bring immers onsekerheid mee en onsekerheid kan soms ook gevaarlik wees.
Kom ons kyk net na die snelle ontwikkeling van tegnologie in vandag se tyd. Baie mense vind die idee van kunsmatige intelligensie en robotika steeds vreesaanjaend. Onbekende implikasies van nuwe tegnologie het die potensiaal om ons manier van lewe te verander. Dit is die vrees vir die onbekende wat ons vrae laat vra oor die etiese en maatskaplike impakte daarvan.
Ek dink die uitdaging lê daarin om balans te vind tussen die opwinding en die vrees van die onbekende. Ons moet leer om die onbekende met ’n gesonde gesindheid te benader. Dit onbekende hoef ook nie noodwendig ’n bedreiging te wees nie, dit kan ook ’n geleentheid vir groei wees.
Om die onbekende te omarm beteken ons moet buite ons gemaksones beweeg, nuwe dinge probeer en ons gedagtes oopstel vir dit wat ons nie verstaan nie. Dit beteken ook ons moet leer om aan te pas, om risiko’s te aanvaar en nuwe avonture met moed aanpak.
In ‘n wêreld wat voortdurend verander, is die onbekende ons metgesel. Hoe ons kies om hierdie metgesel te hanteer, sal bepaal hoe ons as individue en as samelewing vorentoe beweeg.
So, kom ons kies om die onbekende nie met vrees nie, maar met gesonde nuuskierigheid en moed te benader. Laat ons die onbekende nie as ‘n vyand beskou nie, maar as ‘n vennoot in ons reis na selfontdekking en wêreldse vernuwing.
Soos hulle sê: Die enigste ding om te vrees is vrees self. Dit is soos ‘n deur wat oopstaan, maar ons moet die moed hê om daardeur te stap.
©MarleneErasmus
30/06/2024
(518 woorde)
SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK
2.Word ons meer emosioneel as ons ouer word?
Nou die dag sit ek voor die televisie en kyk na “Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel”. Dit is die verhaal van ’n vrou wat drie jaar lank op straat gewoon het. Ek sit en kyk sonder om veel verwagting te hê, dit is mos maar net ’n program, dink ek.
Maar toe begin hulle haar storie vertel: hoe sy eers haar werk verloor het, toe haar huis, en uiteindelik alles. Sy het op die sypaadjie van die lewe beland, sonder enige sekerheid of toekoms. En dan, hoor sy van Clare se program. Sy besluit dat sy oor die saak sal bid en kyk of hulle haar gaan kontak as sy inskryf. Sy vang die vervaardigers se oog en word gekies.
Sy is gekontak om haar mee te deel dat sy gekies is vir die mooimaak-sessie. Daar word sy die kans van ’n leeftyd gebied. Sy kry ’n nuwe blyplek, klere, en uiteindelik word sy van kop tot tone mooier gemaak. Haar vel, hare en tande kry alles aandag, en teen die einde van die program lyk sy soos ’n heel ander mens. Toe gebeur dit: die trane begin stil oor my wange loop.
Nou moet jy verstaan, as ek jonger was, sou ek hierdie hele program met ‘n skeptiese oog sit en kyk het. Ek sou dalk gesê het, “Ja, dit is net televisie. Hulle het seker ure spandeer om dit so goed te laat lyk.” Nou kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is nog jonk! Sestig is mos die nuwe dertig, reg? Maar hier sit ek, heeltemal oorweldig deur die blote mooiheid van die oomblik. Waar ek vroeër sou weggedraai het van die emosionele kant van sulke stories, sit ek nou met ’n knop in my keel, asof ek persoonlik betrokke is by haar verandering.
Haar glimlag na die verandering raak my besonder diep. Dis nie net oor hoe sy uiterlik verander het nie, hoewel die blink hare en perfekte glimlag beslis indrukwekkend was. Dis die idee van ’n tweede kans, van hoop wat weer opvlam, wat my die meeste roer. Die vrou het van niks na ’n nuwe lewe gegaan, en terwyl ek na haar kyk, kan ek nie help om haar met myself en ander mense te vergelyk nie. Hoe dikwels gaan ons maar net aan met die lewe, sonder dat iemand ons ’n kans gee om weer te begin? Miskien is dit wat ouer word beteken – dat jy begin verstaan hoe kosbaar elke geleentheid is om oor te begin, hoe waardevol dit is om net ʼn bietjie meer genade te ervaar, van ander en van onsself.
Dis interessant hoe my persepsie verander het oor die jare. Vroeër sou ek die oppervlakkige aspekte van sulke programme opgemerk het, maar nou, met ’n bietjie meer lewenservaring agter my, sien ek dieper. Ek sien die mens agter die transformasie, die seer en die herstel. En dit raak my op ’n manier wat ek nie verwag het nie.
Ek kan nie help om te wonder of dit iets met ouderdom te doen het nie? Dat ek makliker geraak word deur ander se stories, dat ek ’n dieper empatie ontwikkel het vir die moeilike paaie wat mense stap. Waar ek vroeër dalk skepties sou gewees het oor hierdie soort reekse, laat dit my nou dink oor wat dit beteken om weer ’n kans te kry, om herstel te ervaar. En dit is daardie gedagte wat my die meeste beweeg het.
Miskien is dit wat gebeur as mens ouer word: jy begin die mooiheid in ander se lewens veranderings raaksien en waardeer. Jy verstaan beter dat die lewe nie altyd regverdig is nie, maar dat dit soms die kleinste oomblikke van hoop is wat ons almal aan die gang hou.
Uiteindelik besef ek dat tweede kanse ons almal aanraak omdat dit ons herinner aan die onvoorspelbaarheid van die lewe en die moontlikheid vir herstel. Ons groei nie net deur ons eie tweede kanse nie, maar ook deur te sien hoe ander se lewens ten goede verander. Dit is daardie onuitgesproke band van menswees, die wete dat ons nooit alleen is in ons struikeling of herstel nie, wat my opnuut raak. Miskien is dit wat ouer word regtig beteken: om te besef hoe waardevol elke geleentheid is om ’n nuwe begin te ervaar, en om hierdie mooiheid in ons en ander, te waardeer.
©MarleneErasmus
11/09/2024
(727 WOORDE)
OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK
2.Epikuris (839 woorde)
Epikuris: Die kuns van plesier en balans.
Is dit verkeerd om plesier bo alles te waardeer? In ’n wêreld waar prestasie en produktiwiteit dikwels as die hoogste doel beskou word, is dit ’n vraag wat my gereeld laat nadink. Ek onthou ’n eenvoudige, maar betekenisvolle oomblik – ’n ete waar elke happie soos ’n stukkie hemel geproe het. Tydens daardie ete het ek sit en wonder oor die waarde van ’n epikuristiese lewensbenadering: Wat as ons plesier bewustelik op die voorgrond van ons bestaan plaas? Is daar ruimte vir so ’n idee in ’n samelewing wat so gefokus is op die noodsaaklikheid van harde werk?
Plesier hoef nie oppervlakkig te wees nie. Dit kan ’n diepgaande bron van waarde wees, veral as dit deel vorm van ’n gebalanseerde lewe. Ná dae of weke van harde werk is daar min dinge so bevredigend soos om tyd saam met geliefdes te spandeer, ’n heerlike ete te geniet of om bloot in die natuur te ontspan. Hierdie klein oomblikke van vreugde herlaai ons energie en herinner ons hoekom ons leef. Tydens ons onlangse vakansie in die Kaap het ek hierdie balans eerstehands ervaar. Van slee-ritte by Cool Runnings en ’n avontuur op die kabelkar by Tafelberg, tot ’n week van ontspanning by Club Mykonos in Langebaan. Elke aktiwiteit het iets besonders na vore gebring. Dit was nie net tyd vir rus nie, maar ’n herinnering dat plesier betekenis gee aan die oomblikke wat ons andersins dalk sou mis. Selfs die disse wat ons by verskeie restaurante geniet het, het soos ’n viering van die lewe gevoel. Met elke happie het ek besef: Dit is nie verkeerd om plesier te koester nie – solank dit nie jou lewe oorheers nie.
Dit is hier waar balans ter sprake kom. Te veel fokus op plesier kan ook gevaarlik wees. Dit is maklik om in ’n oppervlakkige lewenstyl vas te val as plesier vir jou die enigste dryfveer word. Wanneer onmiddellike genot al jou verantwoordelikhede oorskadu, verloor dit betekenis. Mense wat voortdurend op soek is na oomblikke van genot, ervaar dikwels ’n leemte – ’n vorm van leegheid wat ontstaan wanneer diep vervulling in hul lewe ontbreek. Ook gedurende ons vakansie was daar ook oomblikke van besinning. Een van die kosbaarste ervarings was toe ek vroegoggend langs die see na die sonsopkoms gekyk het. Daar, in die stilte van die vroeë ure, het ek besef hoe belangrik balans in ons lewens is. Plesier is noodsaaklik, maar net soos water, kan dit versmoor as dit nie met matigheid geniet word nie. Dit is hierdie kuns van genoegsaamheid wat ware vreugde moontlik maak: om te weet wanneer om plesier te omarm en wanneer om dit opsy te sit.
Ons leef in ’n samelewing waar produktiwiteit as die maatstaf van sukses dien. Hoe meer jy bereik, hoe meer waardevol lyk jou lewe. In so ’n wêreld is dit maklik om skuldig te voel oor plesier, asof rus en ontspanning iets is wat jy moet “verdien.” Hierdie druk om voortdurend produktief te wees, kan egter geestelike en emosionele uitputting veroorsaak. Ons vergeet dat plesier nie net ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir ons algehele welstand. Ek het lank gesukkel om hierdie skuldgevoelens af te skud. Ek het egter geleer dat om plesier doelbewus te koester, nie luiheid is nie – dit is eerder selfversorging.
Om ’n moderne epikuris wees, beteken nie dat jy in oorvloedige weelde leef nie. Dit beteken om klein oomblikke van vreugde raak te sien: ’n vars koppie koffie, ’n glimlag van ’n vreemdeling of ’n middag onder ’n boom. Hierdie oomblikke van blydskap gee ons die krag om die uitdagings van die lewe met ’n vars gemoed aan te pak.
Epikurus het geglo dat blydskap en sin met mekaar verweef is. Vandag is dit maklik om te dink dat vreugde en betekenis los van mekaar staan – asof jy óf werk kan doen wat betekenisvol is, óf kan geniet, maar nie albei gelyktydig nie. My vakansie het my net weer anders laat dink; die oomblikke van plesier wat ek ervaar het, was nie net tydelike ontvlugtinge nie; dit was ’n herinnering aan wat belangrik is in die lewe. Elke ete, aktiwiteit en geselskap was soos ’n klein viering van ons bestaan.
Uiteindelik gaan dit oor balans. Plesier het sy plek en dit is nie minderwaardig as prestasie nie. Die geheim lê daarin om te weet wanneer om dit te omarm en wanneer om ruimte te skep vir ander verantwoordelikhede. Tydens my vakansie het ek nie net gerus nie, maar ook weer geleer dat die lewe nie net oor werk en doelwitte gaan nie. Dit gaan ook oor die oomblikke tussenin, dié wat ons harte vul en ons herinner waarom ons leef. Om plesier bo alles te waardeer, is nie verkeerd nie, solank jy balans handhaaf. Die beste lewe is een wat spreek van ewewig – met genoeg ruimte vir plesier én betekenis. En soms, net soms, is dit goed om jouself te bederf met ’n bietjie roomys wat ons herinner aan die eenvoudige vreugde van die lewe.
©Marlene Erasmus
30/10/2024