Marsofine Krynauw
April 2019 Humor projek
2.Die kar op my gat
Die dames van die Namibiese Trofeejagvereniging sit en gesels in hul middagete. Daar is Almut, die Hoofbesturende Beampte, Gerida die ontvangsdame en Marso, Almut se regterhand. Hulle praat oor die dag se gebeure en die vereniging se lede so soms selfsugtige optrede. Dan gaan dit oor in hoe onmanierlik die bestuurders in ons dorp is en hoe selfsugtig hulle kan optree, en soms selfs ‘n gevaar kan wees met hul optrede.
Hulle drie is ‘n hegte span en werk goed saam, maar Gerida is wat Almut as ‘langs haar self’ beskryf en dit in gewone Afrikaans is as iemand verstrooid is.
Sy is ook die een wat ons met haar ervaringe kan laat lag dat ons op die grond rond kruip. En kom gewoonlik op die onmoontlikste tye met die ‘openbarings’ vorendag. Wat dit nog meer snaaks maak is dat dit gewoonlik een of ander iets is wat met niemand anders sal gebeur nie, en sy vir haar self lag dat sy so lê.
Die volgende oomblik trek sy begin sy vertel “julle sal nie glo wat gister namiddag op pad huis toe met my gebeur het nie, ek ry by die President se huis verby met die dubbel pad, en sit my flikkerlig aan om te af te draai by die verkeerslig, maar ek sien in my truspieël dat daar ‘n wit motor verskriklik naby aan my ry en net hier by my motor se agterkant is, ek versnel, maar die motor bly op my gat sit. Ek vervies my en wonder wat is die persoon se probleem, net nou neuk hy of sy in my vas. Ek verwissel van baan om aft e draai, maar die simpel kar bly op my kar se gat sit. Ek draai af en sien dat die motor nog op my gat sit en besluit nou gaan ek aftrek en hierdie persoon hul fortuin vertel. Toe ek stop sien ek die wit motor nog in my truspieël en klim vererg uit, net om te besef, daar is geen motor agter my nie, of eers naby my nie! Dit was al die tyd my eie motor se agterkant wat ek gesien het, omdat my truspieël verkeerd gestel het. En net daar bars ek uit en lag my half dood, die motors wat verby ryk kyk my half snaaks aan.”
Dan bars sy weer uit en lag dat sy so lê en natuurlik kon nie Almut of Marso hierdie storie glo, of dat iemand so erg ‘langs hulself ‘ kon wees dat hulle nie eers besef hul sien hul eie motor se agterkant in hul truspieël nie, en lag albei ook dat die trane so loop al kopskuddend vir hul kollega.
Dit is nou vir jou die top punt van ‘langs jouself’ wees!!
©Marsofine Krynauw
Maart 2020 – Triomfboog projek
1.Pappa, ek bou vir jou ‘n triomfboog
Woorde: 497
Vyf en vyftig jaar gelede! Dit is ʼn leeftyd, Pappa! Dit is toe die vrou wat haar my ma genoem het, jou met twee klein kindertjies agtergelaat het. Agtergelaat het vir ʼn ander man!
Dit het jou letterlik en figuurlik tot nugterheid geskok. Meteens het jy, ʼn man wat maar lekker diep in die bottel kon kyk, gesit met ʼn seuntjie van sewe en ʼn dogtertjie van vier. Wat nou? Hou nou gemaak? Hoe moes jy, ʼn man wat ʼn lewe maak van ʼn bou werkie hier en ʼn bou werkie daar, na twee klein kindertjies om sien?
Dit was oorweldigend! Jou hart was gebreek, meer nog, jou kindertjies was moederloos. Meteens het jy besef, die drank moet gaan, dadelik. Jy moet nugter vir jou kinders wees. Jy het ook besef, alleen sal jy dit nie kan doen nie, want vandag werk jy hier en môre daar. Daar was die Vader weereens goed vir jou en het jy jou getroue oudste suster gehad. Sy was maar te gewillig om te help.
Sy was kinderloos, en daarby net so lief vir ons, soos jy, Pappa. Vinnig het julle twee dinge in plek gekry: om ons versorg en geborge te kry. Om die verlies van ʼn moeder wat die een oomblik daar was en die volgende oomblik uit eie keuse weg, so sag as moontlik vir ons te maak.
Jy het gewerk, jou hande deur, jou vel verbrand, om vir ons te sorg. Terwyl tannie Ellie ons oorlaai het met liefde, gekoester het en vertroos het in jou afwesigheid. Maar niks kon ons vreugde elke naweek wanneer jy huis toe gekom het, beskryf nie. Van vroeg namiddag af het ons al die pad dopgehou. Ons vreugde was volmaak as jy uit die voertuig klim van die persoon wat jou ʼn geleë gegee het.
So het jy gewerk om ons te versorg, en naweke ons oorlaai met liefde, met stories en met jou lekker lag. Jy het so hard gewerk dat jy net nadat ek skool toe gegaan het, jou eie bou besigheid begin het.
Pappa, en dit is waar ek begin het om vir jou triomfboog, na triomfboog in my hart te bou. Jy was my held, my eerste liefde, my maat, my steunpilaar.
Toe ek ʼn tiener word en Ouboet weermag toe is, het ek gereeld naweke by jou in jou groot nuwe huis gaan kuier. Dan het jy my met musiek vermaak. Het ons saam gedans en saam gelag. Saterdae het ons dorp toe gegaan, om saam koffie te gaan drink by die kafee. Jy het my selfs geneem om klere te gaan koop, raad gegee oor wat mooi is vir jou.
Te gou het die doodsengel aan jou deur kom klop, hopeloos te gou. Net na my sestiende verjaarsdag, op Kersdag, is jy onverwag weg van ons.
Pappa, nou 43 jaar later, bou ek steeds triomfboë in my hart vir jou en bly jy steeds my held! Gister met jou verjaarsdag, het ek weer vir jou ʼn triomfboog gebou!
Marsofine Krynauw