Martelie Read
Julie 2021 – OOP projek
2.Wanneer my glimlag glip
(Woordetal 293)
Mense het skanse en skerms.
Feit.
Nie almal weet nie en baie se skanse is so rotsvas in plek dat hulle vir dood sal stry daaroor.
My skanse is minder, my insig is meer. My seer dalk ook.
Ek sukkel met ANGS. Vir maande, dalk jare, het ek dit net eenvoudig nie geglo nie. Nope. Dit kan mos nie wees nie? Dit is net my hormone na my moeilike swangerskap, my huweliksberading om die sinkende ark van ‘n huwelik te red en, en……
Tot eendag wat ek besef het – ek maak my eie lewe soveel moeiliker deur nie te erken nie.
Vandag glip my glimlag. Ek hoor in my gemoed hoe raas die stormpype van my energie soos hulle leegloop. En terwyl ek voor Zoom sit wonder ek – vir wat? Vergete is my amper arrogante trots oor my werksetiek. Ek het ‘n doodse moegheid vir die wêreld se aaklige werklikheid.
Vandag glip my glimlag en ek het niks om te gee nie. Hoekom kan almal wat uit my skep soos met skopgrawe nie sien ek is leeg nie?
My glimlag glip en my siel hunker na meer as ‘n glimlag wat verdof na ‘n herinnering.
Ek droom van Stilbaai en koffie op die strand terwyl die golwe my glimlag teruggee.
Vandag glip my glimlag en ek wil elkeen wat my hart kan hoor nooi om te erken dat hulle glimlag soms met hulle laaste wilskrag in plek is. Net soos myne…
Soms het ons nie ‘n sprokie nodig nie,
maar net ‘n Psigiater wat omgee.
‘n Sussie wat die gordyne ooptrek.
’n Vriendin wat kom tee maak.
Ouers wat altyd daar is.
‘n Kind wat maak dat opstaan nog moontlik is.
Vandag glip my glimlag, maar my village bring hom altyd weer terug.
Martelie Read