Paula Paxton
November 2020 – Samesyn-projek
1.Paaskersfees
Ella word wakker met die veraf klank van kersfeesmusiek in haar ore.
Lui vee sy die slaap uit haar swaar oë en beur orent.
Met ‘n tevredenheid in haar siel val sy weer terug tussen verekussings.
Vandag sal die eerste kersfees in agt jaar wees wat haar gesin weer voltallig aan tafel sit.
‘n Sagte klop aan haar deur trek haar aandag af. Op ‘n skrefie skuif dit oop.
“Ella, is jy al wakker?” hoor sy haar ma se sagte stem.
“Ek’s wakker Nienie, ek is net lui.” Sy gooi haar slanke bene van haar matras af. Haar kaal voete voel die koue van die teëls terwyl sy opstaan.
Sy hak vrolik by haar ma se arm in en saam stap hulle die ruim plaaskombuis binne.
Die reuk van varsgebak hang in die lug. Ella weet dat hier in die vroegoggendure reeds ‘n storm losgekook is.
Die skaapboud staan reeds gaar op die groot houttafel, waar haar pa besig is om hom in skywe te sny. Hy kyk op en Ella sien die sagte blou oë wat met soveel deernis alles om hom beleef.
“Kom, maak jou handig my Pikkie, hier is nog heelwat om te doen.” Sy vryf oor sy verimpelde hand. “Dis reg Paps, waarmee help ek?”
Die akkerboom in die tuin gooi sy magtige skadu oor die grasperk.
Onder hom is ‘n kleurvolle gedekte tafel. Erêns in die hoek blaf ou Woef stertswaaiend van opgewondenheid oor sy skaapboudbeen.
Daar is ‘n vrolike voëlgesang van kalmte en liefde.
Die wind suis deur die blare wat ‘n lafenis bied in die warm van Desember.
Silwerklokkies klingel ‘n dans van blydskap oor die toneel wat voor hulle afspeel.
Die klank van eetgerei teen porseleinborde is hoorbaar van ver af terwyl stemme lag en gesels.
Kinderlaggies weergalm in die koel blou water van die selfgemaakte plaasdam.
Ella se Pa gee ‘n kuggie en kap effe met sy mes teen kristal.
Die stemme verstil, en met eerbied draai almal hul koppe na die punt van die tafel waar die hoof van die huis sit.
Selfs die kinders is in afwagting om te hoor wat Oupa gaan sê.
“Vandag is besonder, ‘n samesyn van geslagte op my plaas. Selfs oor die blousee se water het my kinders gekom om hierdie dag met ons te deel. Ons is voorwaar geseën. So, vandag is dit feestyd, ‘n eenheid vir ons gesin.” Ella sien die emosie in haar pa se oë opwel en hoor sy stem wat breek. Vir ‘n wyle is almal stil, maar dan is daar ‘n koor van gesamentlike hoor-hoor.
Sy sit terug in haar stoel en sien ‘n verhaal van lief maar wat nie sonder leed gekom het nie. Maar so het elke huis sy kruis. Die geheim agter dit is egter hoe mens deur situasies werk om steeds gesinsbande so sterk te kan mag hê.
‘Wyl die son in purper in die weste sak, en jakkals sy roep in die verte laat weerklink
kyk sy met trots na haar ouers waar hul boeretroos in die koel lig drink. Hulle het alles moontlik gedoen om ‘n gesin bymekaar te hou, ten spyte van seer tye.
Vandag was ‘n belewenis van nostalgiese herinneringe met stewige familiebande.
‘n Voorbeeld waarop sy verseker kan bou.
Dis met ‘n tikkie hartseer wat sy besef, samesyn van ‘n gesin is meer kosbaar as edelstene…
Paula Paxton
Februarie 2021 – Liefdes projek
2.Dieper as ‘n gevoel
Hierdie tyd van die jaar is daar mos altyd ‘n tipe van euforie in die lug.
Oral sien ‘n mens rooi harte, lekkergoed en pragtige blomme. Die sappigste woorde word oor en weer op kaartjies gegriffel. Skoenlappers rinkink op die krop van jou maag en jou bene raak lendelam. Dit voel letterlik asof daar ‘n vlam in jou gesig aangesteek word as jy in jou geliefde se teenwoordigheid is en elkeen wat iets ontvang in die maand is vas daarvan oortuig dat hy of sy nou ewige liefde gevind het.
Maar as daar dieper gekyk word na hierdie emosie wat omtrent elke mens een of ander tyd in sy lewe ervaar, is daar defnitief iets meer besonder as net die gevoel van liefde.
Alles begin mos maar met emosie, maar dit alleen is defniteif nie die gom wat liefde aan die gang kan hou nie. Baie keer hoor mens ander sê dat hulle net nie meer dieselfde gevoel gehad het as in die begin van ‘n verhouding nie en daarom het dit nie uitgewerk nie. ‘n Mens kan nie op jou emosie staatmaak om ‘n verhouding te laat werk nie. Liefde is baie dieper as voel. Ek stry nie dat dit absoluut fantasties is om “verlief” te voel nie, maar daar is ‘n geheim tot alle verhoudings wat werklikwaar die toets van die tyd sal deurstaan en dit is wedersydse respek.
As respek in ‘n verhouding is, ongeag of dit nou ‘n verhouding tussen twee geliefdes of selfs tussen ‘n ouer en kind is, kan dit net ‘n besondere band wees wat geen gevoel ooit sal kan vernietig nie.
Nou vra jy wat is respek dan? Dis ook nie iets wat afgedwing kan word nie. Respek is vir my werklikwaar liefde. Wie respek het, besit liefde.
As jy iemand werklikwaar lief het sal jy daardie persoon se belange op die hart dra. Jy sal omgee met ‘n deernis wat onverstaanbaar is. Ek dink as mens die Bybel vat en Korintiërs 13 met ‘n oop hart en verstand lees, jy werklikwaar wysheid in pag sal hê. Hier stel die skrywer, Paulus dit duidelik wat liefde werklik behels. Hy maak die stelling dat jy allerhande gawes kan hê maar as liefde nie deel daarvan uitmaak nie, het hy eintlik niks.
Wat beteken dit as liefde dan geduldig moet wees? My insiens is dit dat elke mens foute het, en dat jy jou geliefde met sy of haar foute moet aanvaar, en geduld met hulle moet hê ongeag of jy van hulle foute hou of nie. Jy het ook tog immers foute. Hoe kan jy verwag van jou geliefde om foutloos te moet wees as jy jouself vol daarvan is.
Iemand wat liefde het sal altyd vriendelik wees, want as jy met ‘n brombeer mentaliteit rondstap kan jy nie liefde weerspieël nie. As jy heeltyd nukkerig is, is jy mos dan defnitief nie gelukkig nie. Met ander woorde is emosie weer hier ter sprake.
Jy moet jou geliefde gun om hul eie belangstellings en stokperdjies uit te leef. Moenie afgunstig voorkom nie. Onthou, die persoon is net vir jou geleen en nie jou besitting nie.
In hierdie teksvers kry jy al die riglyne oor wat liefde werklik is, maar die een wat vir my die meeste uitstaan is dat liefde alles bedek en altyd hoop sal hê.
Ek dink om onvoorwaarlik lief te hê en mense hul oortredinge te vergewe, die enigste egte vorm van liefde is. Niemand kan op voorwaarlike liefde oorleef nie. Vreemd dat sommige mense tog verwag dat hul tekortkomeninge kwytgeskel moet word maar dat dieselfde mense geen genade aan ander kan betoon nie. Hierdie dubbele standaard is iets wat my verstand nog altyd te bowe gegaan het.
Daarom dan, laat ons mekaar liefhê met respek en vergifnis soos die kronieke van tye baie oud ons voorgesê het om te doen.
Paula Paxton