Driekie Grobler
Oktober 2020 – OOP Prjoek
1.Dood waar is jou angel
My ervaring om ‘n begrafnis in “lockdown”tyd by te woon, het my tot die besef laat kom dat Covid-19 ons nie net fisies en emosioneel kom inperk en afsonder het nie, maar emosioneel groot skade berokken het.
Alhoewel ek hartseer is oor die verlies van ‘n familielid, was ek ook heimlik opgewonde om weer familie (wat ek baie jare gelede laas gesien het) weer te kon ontmoet en sien.
Maar oo wee, ons daag by die kerk op in doodse stilte, word vermaan om nie rond te staan en te gesels nie. Ons stap in ‘n gespasieerde ry die kerk binne, almal stil, statig, gemasker.
Ons koors word gemeet, ons hande ontsmet en ons moet op ‘n vorm teken, waar ons vooraf moes bespreek het om die begrafnis te kon bywoon.
Toe word ons begelei na ‘n sitplekkie heel in die hoekie van die kerk. Elke 2de bank is leeg. Wit en rooi plastiekbande (wat gewoonlik om misdaadtonele gespan word, is tussen banke gespan om te wys waar dit verbode is om te sit.
Ek probeer, vanuit my verskuilde hoekie, rondkyk of ek dalk bekende familielede kan eien. Maar al wat ek sien is groot, emosielose oë, wat uitdrukkingloos terugstaar bokant gesnoerde monde. Hoe herken mens nou iemand as die helfte van sy/haar gesig agter lap weggesteek word?
Ek raak benoud, voel ongemaklik en vasgekeer, kan nie lekker asemhaal deur die masker voor my mond en neus nie, en my bril se glas wasem kort-kort toe. Ek bly trek aan die masker om asem te kan skep, en wonder benoud hoe ek vir ‘n uur gaan uithou met so ‘n toegemaakte mond en neus sonder om paniekerig te word agv ‘n gebrek aan vars lug.
Die ergste vir my was die singery. Ek het so paar reëls agter die masker probeer sing en toe maar, soos die res van die samehoorders bes gegee. Mens kan mos nie uit volle bors sing as jou woorde dof teen ‘n lap vasplof en jy nie vars lug kan inasem nie?
Na die kerkdiens is ons daar weg sonder om vir een, enkele mens “hallo” te sê, want weereens is ons vermaan om nie buite die kerk te staan en gesels nie.
Ons mag nie met mekaar praat nie, ons mag nie aan mekaar raak nie, ons mag mekaar nie van aangesig tot aangesig sien nie en ons mag ook nie ordentlik asemhaal of sing nie.
“Dood waar is jou angel?” het die dominee gesê, en in my hart het dit uitgeskree “die angel lê beslis in afsondering verskuil”.
Soveel vryheid het verlore gegaan, soveel spontane menslikheid in die slag gebly en alles voel emosioneel dood!
©Driekie Grobler
Februarie 2022 – Liefdesprojek
1.In eenvoud skuil opregtheid
Liefde is ‘n kontroversiële saak met baie uiteenlopende verklarings waaroor daar al vir baie jare bespiegel en oor geskryf word.
Dat dit ‘n spesiale gevoel is waarvan jy in jou binneste bewus word, is ‘n voldonge feit, maar wat gee aanleiding tot daardie gevoel?
Is dit toegeneentheid of bewondering? Dalk ‘n weerspieëling van jouself wat jy in ander waarneem? Of dalk sommer net bloot aantrekkingskrag teenoor iemand wat vir jou aantreklik en aanvaarbaar is?
Hoe dit ookal sy, dis beslis iets waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Ons almal het liefde in ons lewe nodig. Daardie spesiale omgee wat jou gekoester en menswaardig laat voel.
Dit verklaar dalk hoekom ons ons so maklik laat beïnvloed deur gebruike soos Valentynsdag. ‘n Spesiale dag op 14 Februarie elke jaar, waar die wêreld om ons omskep word in rooi harte met rooi rose in alle vorms en geure, ‘n oorvloed sjokolade, beertjies en alles wat snoesig is om die gevoel van liefwees by ieder en elk aan te wakker.
Maar waar kom hierdie jaarlikse gebruik vandaan?
“Jare gelede het ‘n man, genaamd Sint Valentinus, van Rome, die man wat hom in die tronk laat stop het omdat hy soldate getrou het wat nie veronderstel was om te trou nie, se dogter genees. Kort voor sy dood het hy ‘n brief aan haar geskryf wat hy onderteken het as: Jou Valentyn.” (Google: Uittreksel uit netwerk 24, Die Huisgenoot.)
Soos die mensdom maar is, het die storie ‘n gebruik laat vlamvat en uitgekring tot ‘n jaarlikse instelling waar mense op die wyse hul liefde aan mekaar verklaar.
Besigheidseienaars het die geleentheid aangegryp om daarvan ‘n kommersiële, winsgewende bedryf te maak, want waar dit die liefde aangaan, word realiteit maklik oorboord gegooi. Hulle glimlag al die pad bank toe met die geur van rose in die lug en die smaak van sjokolade op die tong.
Het ons regtig ‘n spesiale dag in die jaar nodig om ons liefde aan iemand te verklaar? Nee, beslis nie, maar ons is mos maar “succers” vir sentiment, en gewoontes is aansteeklik. As jy nie deelneem daaraan nie, word jy maklik uitgeskuif.
Kyk maar hoe spog almal op Facebook met hulle foto’s en vertellings oor wat hulle alles gedoen en gekry het op Valentynsdag. Geliefdes besing omtrent mekaar se lof met liefdesgedigte, rympies en versies, in sommige gevalle selfs met spesiale liedjies. Almal wedywer om die mees interessantste en romatiese idees te praktiseer om ‘n ‘ongelooflike’ ervaring vir hul geliefdes te skep.
Hoe groter, hoe beter. Dit laat my wonder of dit eintlik oor die vertoon gaan of werklik oor die liefde. Is daardie groot vertoon nie maar gou weer vergete na ‘n paar dae nie?
Is liefde nie veronderstel om standvastig te wees met ‘n deurlopende gevoel van toegeneentheid nie? Nie iets wat bepaal word deur ‘n spesiale dag in die jaar waar jy jou liefde uitbasuin aan die wêreld nie?
Moet mens nie liewer daarin poog om daagliks erkenning aan jou geliefdes te gee nie? Om die mense naaste aan jou elke dag te bederf, al is dit net met erkenningswoorde nie? Dis mos lekker om te hoor hoe iemand vir jou sê: “Ek is lief vir jou,” en aan hul dade te sien dat hulle dit werklik bedoel. Kom ons sê dit so gereeld as wat ons kan. Kom ons wys dit deurlopend met ons dade. Dan het ons nie nodig om op ‘n spesiale dag astronomiese bedrae te spandeer aan blomme, sjokolade en duur geskenke en uitetes nie.
In eenvoud skuil mos opregtheid.
©Driekie Grobler
(576 woorde)
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
2.Kampvegters vir Afrikaans
Vanmelewe was daar nog altyd voorlopers wat dit hulle werk maak om te waak oor sake na aan die hart. Mense wat erns maak om dit waarin hulle glo, uit te bou en seker te maak dit gewig dra.
Daar is verskeie organisasies wat hulle daarvoor beywer, en alhoewel almal op die einde dieselfde doelwitte nastreef, het elke organisasie hul eie unieke werkswyse wat bevordering en bewusmaking van Afrikaans betref.
Tans is daar heelwat organisasies wat hulle beywer vir die voortbestaan van Afrikaans, veral in ons skole. Organisasies soos AfriFrorum, Afrikaans.com, Die Afrikaanse Taalraad, die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging), die GHA (Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans) en nog vele meer.
As lid van bykans al hierdie organisasies, het ek die voorreg gehad om ook persoonlik betrokke te raak by die GHA op bestuursvlak, vir ‘n hele paar jaar.
Die GHA beywer hulself veral daarop om moedertaalonderrig in skole te behou, en te bevorder, deur die aanbied van verskeie projekte deur die jaar. Om dit moontlik te maak is dit nodig om hande te vat met organisasies soos AfriForum, CVO-skole en die ATKV.
Was dit nie vir hierdie taalkampvegters nie, sou Afrikaans dalk lankal die knie moes buig onder die regering se doelwit om Engels die voertaal in alle skole te maak.
Elektroniese media en TV stories, wat meestal in Engels is, het ‘n groot aandeel in die verengelsing van ons kinders. Ook platforms waartoe kinders toegang het, soos Google, Facebook, Twitter ens. Alles wat hulle naslaan vir skooltake op internet, word meestal in Engels aangebied, met slegs ‘n paar Afrikaanse naslaanwebwerwe, soos Mieliestronk.
Maar skole is en bly die grondslag waar kinders opgevoed en onderrig moet word in hul moedertaal. Daarom is dit hartseer om te sien hoe Afrikaans in skole al meer vervang word met Engels. Daar word dus geredeneer dat twee tale oorbodig is en koste bespaar kan word met net een taal. Die taal wat uitgeskakel kan word is die een wat in die minderheid gebruik word, naamlik Afrikaans.
Op AfriForum se webwerf noem Alana Bailey, hoof van AfriForum Kultuursake, in ‘n artikel “Moedertaalonderrig – Feit versus Fiksie” die volgende – ek haal aan:
“Ten spyte van bewusmaking oor taalregte en die voordele van moedertaalonderrig, groei die druk teen eentalige Afrikaanse skole deurentyd en is daar geen staatsondersteunde universiteite in die land oor waar ‘n student ‘n kwalifikasie en die administrasie daaromheen uitsluitlik in Afrikaans kan afhandel nie.”
Verderaan meld sy: “Wat minder verskoonbaar is, is Afrikaanse ouers wat doelbewus teen moedertaalonderrig kies en hulle kinders in Engelse kleuter-, laer- en hoërskole plaas. Hulle doen dit onder die wanindruk dat die kinders hierdeur vlot Engels sal leer praat en suksesvolle loopbane sal hê as hulle in die “wêreldtaal” (Engels) studeer. As gevolg van hulle optrede, verkeer Afrikaanse skole onder druk om jaarliks voldoende inskrywings te kry om hulle eentalige status te handhaaf. Elke skool wat oorskakel na parallel of dubbelmediumonderrig loop die gevaar om mettertyd eentalig Engels te word en benadeel die Afrikaanse gemeenskap.” (Afriforum.co.za/moedertaalonderrig-feite-versus-fiksie)
Dis is dus van kardinale belang dat organisasies wat hulle beywer vir die voortbestaan van Afrikaans in ons land, en veral in ons skole, ‘n groot en belangrike bydrae lewer om moedertaalonderrig behoue te laat bly vir ons kinders en nageslag.
Sonder hul inisiatief om op regeringsvlak te bly veg vir Afrikaans, sou Afrikaans dalk al lankal verdwyn het uit skole.
©Driekie Grobler
FEBRUARIE 2023 – BLOU PROJEK
1.1.Wanneer intro’s speel
582 woorde
Dis Sondag. Verlangdag. My vingers blaai tydsaam deur die CD-rak op soek na nostalgie. Jim Reeves, Slim Whitman, Virginia Lee, Min Shaw, Gé Korsten, Rina Hugo, Engelbert Humperdinck. ‘Gister se musiek’ sê die jongklomp, maar vir my bly dit tydlose hartsmusiek.
Agter elkeen van hierdie deurluisterde CD’s lê ‘n onthou vasgeknoop in my psige. Strelende troosklanke van jare gelede wat bekendheid sussend streel oor my verlangende hart. Gelukkige saamweestye herroep om soos ‘n snoeskombers my toe te vou in herinnering.
Gé Korsten se “Jerusalem”, Pa se gunsteling. Gunter Cullman Choir se “Classic serenades”, Ma se gunsteling. Jim Reeves se “Across the bridge”, ouma Minnie se gunsteling … Hartsmense wat vereenselwig word met sekere gebeure, onlosmaaklik vasgeknoop aan spesifieke treffers.
Ek kry my lê op die bank, sit oorfone op om alle buiteklank uit te skakel en sink weg in vergete tye. Soos blare in die wind dwarrel en draai soet, rustige klanke deur my onstuimige gemoed. My wese spons heimwee, laat trane drup wat afrol oor my wange en kielie in my nek. Emosies laat wipplank tussen blydskap en hartseer, maar mettertyd stille berusting salf oor hulle wat lank reeds weg is.
Die wete vasknoop in my denke dat musiek my gemoed verander van swaar na lig, van hartseer na vreugde; dat musiek ‘n integrale rol speel in elke lewe en ingeweef word in die DNA van elke mens. Dit skep herinnering wat nooit vervaag nie; troos; skep atmosfeer; pols ritme; en verwoord wat baie sukkel om self te sê.
In die week ry ek na ‘n vergadering en luister, soos altyd, na RSG se “Jou keuse”, waar mense hul eie keuses van musiek instuur om gespeel te word terwyl die persoon vertel wat elke liedjie vir hom/haar beteken.
‘n Baie bekende intro begin speel en onmiddellik verplaas dit my in denke terug na 1973, standerd 6 (nou graad 8). Die grootste treffer van daardie tyd, “Heart” van Gene Rockwell. As koshuismeisie in Potchefstroom was die radio kliphard gedraai sodra die intronote tydsaam, afwagtend begin speel. Later het “Why me Lord” bygekom. Twee liedjies wat tot vandat toe nog steeds groot gunstelinge by my is, iets in my hart laat ontplof wanneer ek dit hoor speel. My kleinkinders kan my opgewondenheid en nostalgie oor dié liedjies nie verstaan nie.
Vrydagmiddag. Kuiertyd saam met een van my liefiekinders. Ek gaan haal haar elke Vrydag na skool. Dis haar en Ouma se spesiale kuiertyd om lekker dinge saam te doen. En raai, musiek speel hier ook ‘n groot rol. Ek leer haar blokfluit, kitaar en klavier speel. Ons drink tee/koeldrank en eet koekies, gesels oor alles en nog wat. Speel Barbie-pop. Soek YouTube liedjies op TV (natuurlik háár keuse, want ouma moet maar aanpas by nuwe geite) en dans die sitkamermat sat op die (soms) té raserige, té ritmiese musiek. ‘n Vitamienbooster van oormatige oefening en oormatige klank vir ‘n besadigde ouma, maar prysloos teenoor die vreugde en skaterlag wat daarmee gepaardgaan. En wanneer ons doodmoeg en uitasem op die bank neersak, sy haar arms om my gooi en ‘n vet soen op my wang plak terwyl sy sê: “Ouma is die beste! I love you lots!”, besef ek opnuut die waarde van musiek. Dis ‘n saambindfaktor en uitlaatklep wat herinnering skep en vestig.
Eendag, wanneer hierdie ouma ook lank reeds weg is, sal dié naby my dalk ook onthou hoe lief ek vir sekere musiek was, en met nostalgie aan my dink wanneer die intro’s begin speel.
©Driekie Grobler