Marlene Erasmus
Februarie 2020 – Limeriek projek
1.Die ontstaan van die Limeriek
Ongeveer in 1820 Het Edward Lear die versvorm bekend laat word deur middel van sy verspotte versies. Die historikus Herber Langford Reed het egter beweer dat limerieke oorspronklik religieus van aard was en hulle oorsprong in Frankryk gehad het.
Hoewel die oorsprong nie met sekerheid vasgestel kan word nie, is dit definitief ʼn Engelse digvorm wat nie altyd so maklik in ander tale tot sy reg kom nie. Gedurende die tagtiger- en negentigerjare het die limeriekdigkuns definitief ʼn groeitydperk in Afrikaans beleef. Speelse verse, het in 1988 die lig gesien – waar die limeriek baie aandag geniet het.
Die limeriek het ʼn vaste vorm en kan uitgeken word aan sy vyfreëligheid met ʼn vaste rymskema van aabba. Die limeriek handel altyd oor ʼn persoon of ʼn plek waar hy woon en gewoonlik is daar ʼn stoute skop in die laaste versreël aanwesig. Die eerste, tweede en vyfde reëls is ewe lank, terwyl reël drie en vier effens korter is en ook dikwels effens weg van die kantlyn geskryf word. Tradisioneel word elke nuwe reël met ʼn hoofletter geskryf. Baie belangrik is dat die limeriek ook ʼn vaste metrum het wat baie, baie belangrik is. As jou metrum inkorrek is, is die limeriek nie ʼn limeriek nie.
Die limeriek se aantal lettergrepe in die versreëls is as volg: 8-8-5-5-8
Die metrum van die limeriek:
ta TAM tattaTAM tattaTAM
ta TAM tattaTAM tattaTAM
taTAM tattaTAM
taTAM tattaTAM
ta TAM tattaTAM tattaTAM
Die klem word gelê op die TAM-gedeeltes – wat met hoofletters geskryf is en dan is die metrum van die limeriek perfek!
Philip de Vos is die Afrikaanse skrywer wat bekend is as die land se limeriek-koning. Hy lê egter baie sterk klem daarop dat as die limeriek nie in die presiese vorm weergegee word nie, dit uitsluitlik net nog ʼn lawwe versie is.
©Marlene Erasmus
Maart 2020 – Triomfboog projek
1.Parys – tuiste van die Arc de Triomphe.
As jy aan Parys dink, dink jy onwillekeurig aan een van die grootste toeriste aantreklikhede, onder andere die Eiffeltoring! Parys beskik egter oor soveel meer geskiedkundige besienswaardighede, om net paar te noem: Arc de Triomphe, die Paleis van Versailles, die Notre Dame-katedraal, Musee du Louvre, die museum “Carnival”, die katakombes van Parys: ʼn ondergrondse begraafplaas.
Alhoewel Parys vir vele net ʼn pragtige plek is om te kom ontspan, is Parys die plek met soveel historiese plekke soos hierbo vermeld, wat jy eenvoudig net moet besoek.
ʼn Triomfboog kan ook bekend staan as: erepoort, ereboog of selfs ʼn triomfpoort.
In Parys vind jy dan ook een van die wêreld se heel grootste en bekendste Triomfboë.
In die middel van ʼn baie bedrywige stadsplein sal jy Die Arc de Triomphe, ʼn wêreldbekende monument vind.
Die triomfboog is opgerig ter nagedagtenis aan Napoleon Bonaparte se oorwinnings by Austerlitz. Jean François Therèse Chalgrin was die oorspronklik argitek wat in 1806 met konstruksie begin het en Guillaume Abel Blouet is die argitek wat die triomfboog voltooi het met Chalgrin se oorspronklike ontwerp.
Die eenvoudige ontwerp en die grootte van Die Arc de Triomphe is tipies van die 18de-eeuse boustyl: Neoklassieke styl.
Die triomfboog is bykans 50 meter hoog, 45 meter breed en 22 meter en het ongeveer 300 trappe wat na die bokant gaan. Aan die kante vind jy vier groot beelde en ses reliëfs. Die name van 558 generaals van die veldslag is op die boog graveer. Die wat dan tydens die oorlog omgekom het, is onderstreep. Op die vier pilare vind jy vier beeldhouwerke:
“Die Vertrek van die Vrywilligers” in 1792 (ook bekend as La Marseillaise ) deur François Rude;
“Napoléon se Triomf” van 1810 deur Cortot; en
“Weerstand” van 1814 en
“Vrede” van 1815 , beide gedoen deur Etex.
Onder die boog vind jy die Graf van die Onbekende Soldaat van die Groot Oorlog en die graf word gekenmerk deur ‘n ewige vlam wat reeds brand sedert ʼn Wapenstilstand in die jaar 1921.
Arc de Triomphe – definitief die moeite werd om te besoek met jou volgende Parys vakansie.
©Marlene Erasmus
31/03/2020
(353 woorde)
April 2020 – Grendel projek
1.Ontstaan van ʼn slot.
Die sluittoestel oftewel slot, is ʼn ontwerp wat ons gebruik om iets mee toe te sluit. Die slot kom voor in ʼn hele aantal verskillende groottes en soorte. Die rede vir die ontstaan van ʼn slot was dan ook om toegang tot waardevolle besittings te beperk. Slegs ʼn persoon wat oor die slot se sleutel beskik het, het toegang gekry tot die besittings wat agter slot en grendel was.
Volgens navorsing het van die eerste slotte reeds sowat 4000 jaar gelede die lig aanskou in die ou Egipte. Sedert mense besittings gehad het, het daar ʼn behoefte ontstaan om hulle eiendom te beskerm. In die vroeër tye kon jy jou waardevolle, kosbare besittings in grotte versteek of selfs in gate in die grond begrawe.
Na oorlewering het die Akkadiërs al so vroeg soos die 24ste eeu voor Christus ʼn soort sluittoestel gehad, op party prentjies is die god: Shamash geteken met ʼn sleutelagtige voorwerp wat hy vashou. Party kenners beweer egter dat daar geen bewyse vir die bevinding is en dat dit slegs ʼn staf in sy hand kon wees.
Daar word egter maklik aanvaar dat die vroegste slot eers ongeveer 2000 voor Christus ontstaan het. Die beskrywings van slotte wat vir die nageslag behoue gebly het, was die wat in Egipte gemaak is om opslagplekke te sluit. Dit was baie groot houtgemaakte slotte en die mense moes hierdie enorme sleutels op hulle rug dra. Hierdie houtgemaakte slotte het ooreenkomste met die modern ‘stiftsilinder’-slot wat ons vandag ken. In die ruïnes van Dur-Sharrukin, in die noorde van die hedendaagse Irak, is daar een van die slotte gevind wat behoue gebly het.
In die Romeinse tyd het die mense egter slotte van metaal soos brons begin maak. Dit word oorvertel dat die ryk klas Romeine hulle skatte in veilige plekke bewaar het en dan die sleutels as ringe op hulle vingers laat pryk het.
Toe die Industriële Revolusie aangebreek het, is daar baie nuwe tegniese sluitmeganismes vervaardig wat bygedra het tot groter veiligheid. Dit was dan ook in hierdie tydperk wat Amerika hulle sluithardeware self begin ontwerp en vervaardig het.
Met ʼn terugblik op die geskiedenis van beroemde slotmakers, duik die volgende name op:
Robert Barron het in 1778 die eerste dubbelwerkende ‘tumbler’-slot gepatenteer in Engeland.
Joseph Bramah het in 1784 ʼn veiligheidslot gepatenteer. Sy slot was in ʼn heel nuwe klas.
James Sargent het toe in 1857 dit reggekry om die wêreld se eerste suksesvolle sleutelvervangbare kombinasieslot te ontwerp. Baie gou het sy slot groot byval gevind by banke en die VSA se tesourie-afdeling. Toe in 1873 het James ‘n tydslotmeganisme gepatenteer. Die slot sou die prototipe word het van dié wat in vandag se bankkluise gebruik word.
Samuel Segal het in die jaar 1916 die eerste ‘jimmy proof’-slot ontwerp. Segal was bekend daarvoor dat hy meer as 25 ontwerpe die lig laat sien het.
Harry Soref het in die jaar 1921 die Master Lock Company gestig. Hy het ook die verbeterde hangslot gepatenteer: vervaardig van gelamineerde staal.
Linus Yale Sr. het in 1848 ‘n dubbelwerkende pen-tuimelslot ontwerp. Later het sy seun op die slot verbeterings aangebring.
Linus Yale Jr. (1821-1868) Linus was ‘n meganiese ingenieur van beroep. Die slotvervaardiger ontwerp en patenteer in 1861 ‘n ‘silinder-tumbler’ slot. Hy het dan ook die moderne kombinasieslot ontwerp en patenteer in 1862.
©Marlene Erasmus
(556 woorde)
Februarie 2021 – Liefdes projek
1.Laat ons oor liefde praat
Seker die onderwerp waaroor daar nog die meeste geskryf, gepraat, gesing en gefilosofeer is. Liefde omsluit ʼn kombinasie van toestande, geestelik en emosioneel, wat kan varieer in gewoontes en tot diepe aangetrokkenheid kan lei. Die tipe aangetrokkenheid dui op die gevoel van liefde wat verder strek as blote guns of gewone vriendskap. Daar is ontsaglik baie uiteenlopende voorbeelde van liefde. Dink bietjie hoe verskil moederliefde van die liefde vir jou gade, of liefde vir kos of musiek om paar te noem. Liefde is ʼn warm gevoel van geneentheid of gehegtheid aan ʼn persoon of ʼn saak waarin jy glo. Liefde beskik oor eienskappe soos deernis, toegeneentheid en vriendelikheid. Liefde moet nooit verwar word met verliefdheid, wat ʼn neurobiologiese verskynsel is nie.
Daar bestaan ʼn opvatting dat liefde die faktor is wat mense bind as daar lewensbedreigende gevaar ontstaan.
In die ou antieke era het Griekse filosowe verskillende tipes van die liefde identifiseer:
Storge familie liefde
Philia vriendskaplike liefde
Eros romantiese liefde
Xenia gas-liefde en
Agape goddelike liefde.
As jy die diversiteit van al die gebruike en definisies kombineer met die komplekse gevoelens wat daarmee gepaardgaan, is dit uiters moeilik om liefde te beskryf.
Ons kan egter duidelik onderskei tussen onpersoonlike en interpersoonlike liefde. Wanneer daar na liefde vir ʼn saak, beginsel of selfs voorwerp verwys word, en daar is nie nog ʼn persoon betrokke nie, sorteer dit onder onpersoonlike liefde. Dit kan ook bekend staan as: Altruïsme of selfloosheid. In kort is dit die beginsel waar ander se welsyn belangrik geag word. Altruïsme of selfloosheid is die antoniem van selfsug.
Interpersoonlike liefde is duidelik die liefde tussen verskillende mense. Die vorm van die liefde dui op ʼn meer intense sentiment as om slegs van ‘n persoon te hou. Aan die anderkant van interpersoonlik liefde kry jy ongelukkig ook die geval van onbeantwoorde liefde, waar die gevoel van liefde nie erken, aanvaar of beantwoord word nie. Interpersoonlike liefde loop nou saam met interpersoonlike verhoudings. Dit is die liefde wat jy vind wat daar tussen familielede, paartjies en goeie vriende bestaan.
Alhoewel dit filosowe en godsdienstiges is wat in ou antieke tyd die meeste oor die onderwerp van liefde bespiegel het, is daar in die 20ste eeu ook deur die wetenskaplikes gespekuleer. In die meer afgelope tye het die wetenskappe van die antropologie, neurowetenskap en biologie ook bydraes gemaak om die verskynsel van liefde beter te verstaan.
Daar is verskillende basisse van die liefde. Ons kan die onderskei as: biologies, sielkundig en evolusionêr.
Die biologiese basis is die tendens om die seks-aspek van liefde te sien as ʼn funksie van die soogdier soos byvoorbeeld honger of dors. ʼn Eertyds antropoloog wat menslike gedragspatrone nagevors het verskil egter van die tendens en deel die liefde in drie fases in:
* passie,
* gevoel van romantiese aangetrokkenheid en
* ʼn diepe gehegtheid.
Onder passie word verstaan die gevoel van seksuele begeerte.
Gevoel van romantiese aangetrokkenheid dui dit aan wat iemand aantreklik vind en najaag.
Diepe gehegtheid is ‘n gevoel van geborgenheid, veiligheid en sekuriteit.
Omrede passie en gevoel van romantiese aangetrokkenheid as tydelik gesien word, word ʼn derde fase benodig vir langtermynverhoudings: ʼn diepe gehegtheid.
Diepe gehegtheid is ʼn skakel wat blywende verhoudings tot gevolg het. Diepe gehegtheid is oor die algemeen op verpligtinge soos byvoorbeeld die huwelik en kinders gebaseer maar kan ook op harmonieuse vriendskap gebaseer word.
Sielkundige basis vind gestalte in die beeld dat liefde ʼn sosiale verskynsel is . Robert Sternberg, die sielkundige het ʼn driehoek-teorie waar hy aanvoer dat liefde drie elemente het: intimiteit, toewyding en passie. Intimiteit vind plaas as twee mense hulle lewens aan mekaar toevertrou en kan gevind word in gewone vriendskappe, romanse of liefdesverhoudinge.
Toewyding is die hoop dat die verhouding permanent en blywend van aard is.
Die derde element van die liefde is passie (en ook seksuele aantrekkingskrag). Passie kan gestalte kry in verliefdheid sowel as die romantiese liefde.
ʼn Feit is dat alle vorme van liefde gesien kan word as samestellings van hierdie drie elemente.
Jy kan sê “Ek hou van”, dan bevat dit intimiteit. “Verlore verliefdheid” bevat dalk net passie. Sinnelose, leë liefde behels weer toewyding, maar die ander elemente ontbreek.
In romantiese liefde vind jy intimiteit sowel as passie. Omgee-liefde bevat intimiteit en toewyding. In die geval van dwase liefde vind jy passie en toewyding. Ware volkome en volmaakte liefde sal al drie die elemente bevat: intimiteit, toewyding en passie.
Evolusionêre sielkunde poog om vir hele paar redes die liefde as ‘n oorlewingsinstrument te omskryf.
Vroeë navorsers soos Charles Darwin het uniek eienskappe van menslike liefde teenoor ander soogdiere aangeteken en het die liefde as ʼn bepalende faktor uitgewys as ondersteuningstel wat die ontstaan, ontwikkeling en uitbreiding van Homo Sapiens moontlik maak.
©Marlene Erasmus
27/02/2021
(791 woorde)
Oktober 2021 – Akrostiese projek
3.Holi-fees: Fees van kleure in Indië.
ʼn Land waar daar ʼn verskeidenheid van feeste plaasvind, is Indië. Een van die wêreld se kleurrykste feesvieringe vind in Indië plaas. Die fees staan bekend as die Holi-fees. Die fees word gevier ter herdenking van ʼn oorwinning van “goed oor sleg”. Tydens die fees word die Hindoe-god geprys as “God van Bewaring” omdat hy volgens hulle oortuiging daarin kon slaag om die duiwel uit te wis.
Die Holi-fees is ʼn tradisionele fees waar kleure gebruik word om goddelike liefde en triomf te simboliseer. Die fees het groot aantrekkingskrag en spoor mense wêreldwyd aan om aan die feestelikheid deel te neem. Die fees staan in baie ander lande bekend as die “Color festival” of “Kleur-fees”.
In die artikel gaan ons die oorsprong ondersoek en ook aandag gee aan die tradisies van hierdie Holi-fees. Ons gaan ook kyk na die verandering van hierdie ou tradisie in ons hedendaagse tydgleuf. Ons gaan spesifiek raak aan die geslagsdinamika in die feesvieringe asook die kommersialisering en kulturele implikasies van die fees wat vandag regoor die wêreld plaasvind.
Die Holi-fees duur oor die tydperk van twee dae. Tipies vind die fees plaas na die verskyning van die volmaan in Maart, wat by implikasie elke jaar op alternatiewe datums kan geskied.
Oorsprong van die Holi-fees.
Dag 1: Holika Dahan.
Holika Dahan, oftewel “Holika se dood” sinspeel op die oorwinning van goed oor sleg. Op die dag word die jaarlikse vreugdevure aangesteek, dit vind plaas op die aand voor die groot Holi-fees.
Die groot vreugdevuur verlig die naghemel. Groot skares toeskouers stook die vuur met stukke hout of voorwerpe wat hulle as onnodig mag beskou in hulle lewens. So word Holika, ʼn Hindiese demoon, wat met die hulp van die Hindiese god: Vishnu doodgebrand is, herdenk. Die spesiale puja – “ritueel van lofprysing” word gedoen , daar word ook gesing en gedans deur die mense rondom die vuur en die mense stap ook drie keer rondom die vuur.
Die gebeurtenis van Holika Dahan, staan ook bekend as die Narada Purana. Volgens oorlewering het Holika se broer, die duiwel King Hiranyakashyap aan Holika opdrag gegee om sy seun, Prahlad, te verbrand omdat hy ʼn aanhanger van Lord Vishnu geword het en hom nie by sy vader geskaar het nie. Holika het toe vir Prahlad op haar skoot getel en vasgehou toe sy in die verterende vuur gaan sit het. Sy het vas geglo dat geen vuur haar kan skade kan berokken nie. Wat toe gebeur het was dat Prahlad, wat toegewyd was aan Lord Vishnu, die vuur oorleef het en Holika doodgebrand het.
Anders as meeste van die ander feeste in Indië is daar op dag 2, die hoofdag van die Holi-fees, geen godsdienstige rituele beoefen nie. Die dag was uitsluitlik net ʼn gewone dag om pret te geniet!
Dag 2:
Met dag 2 word die aanbreek van lente ook gevier deur die feesgangers. Die fees word baie intens gevier met die gebruik van kleurvolle droë verf en die spuit van water op die vrolike feesgangers. Mense van alle ouderdomme kom na die strate om deel te neem aan gooi van kleurpoeier, lag en eet van tradisionele eetgoed – Gujya (soet kluitjies gebak in diep olie) en Imarti (blomvormige kluitjies gemaak van ʼn tipe soet swart boontjie).
Tydens dag 2 trek alle feesgangers wit klere aan want hulle word die skilderdoek vir kleurvolle “skilderye”. Die geverfde liggame simboliseer ʼn ode aan gode en godinne. Die helder kleure word Gulal-kleure genoem en is vroeër gemaak van bome se blomme. Mettertyd is sintetiese kleurstowwe gebruik toe bome minder geraak het in die stedelike gebiede. Die nuwe kleurstowwe is vervaardig deur paar chemiese prosesse wat gevolglik ook skadelik vir die gesig en vel kon wees. Daar is toe weer bewusmakingsveldtogte geloods om meer eko-vriendelike poeiers te vervaardig. ʼn Verskeidenheid veilige kleurstowwe word gebruik soos Cucuma longa (borrie), Indigofera (indigo) of Bixa orellana (annatto). Dit is alles bestanddele wat teen matige pryse maklik beskikbaar is.
Die verskillende kleure simboliseer verskillende temas.
Blou:
Simbool vir die god: Krishna, wie se gelaat donkerblou was nadat ʼn demoon hom sou probeer vergiftig het. Blou verteenwoordig ook die volgende eienskappe: vermoë om moeilike situasies te hanteer, vasbeslotenheid, moedigheid asook goeie karakter.
Rooi:
Verteenwoordig oordra van goeie wense aan die gode. In die Hindoe-kultuur is dit ook die kleur vir liefde en troues. Rooi poeier op die vrouens se voorkoppe is om ʼn gelukkige huwelik te vertoon.
Geel:
Dui op ʼn manifestasie van die god Vishnu wat na die bos verban is. Groen is ook die simbool van nuwe begin en nuwe lewe.
Oranje:
Alhoewel dit nie een van die tradisionele Holi-kleure is nie, word dit in die hedendaagse feeste baie algemeen gebruik. Oranje simboliseer die son wat dui op die begin van nog ʼn nuwe dag. Dit word ook gesien as die verterende vuur wat die ou dinge verbrand om plek te maak van die nuwe dinge.
Hoe het die Holi-fees oor die jare verander?
Die tradisionele fees se oorsprong was in die 4de eeu voor Christus. Die tradisies is egter ontkoppel van die oorsprong en het die geslagdinamika ook baie verander. In die ou tradisionele feeste is mans op die voorgrond geplaas maar hedendaags neem ʼn steeds groeiende aantal vrouens deel aan die fees. Dan het die Holi-fees ook regoor die wêreld begin plaasvind.
Die geslagsdinamika:
Tradisioneel is mans in die middel van die feesvieringe geplaas en in sommige dele van die land, Indië is die feeste dikwels geassosieer met dronkenskap en seksuele teistering! In vroeëre Hindoe-tradisies is daar die idee geskep dat vrouens afstand moes doen aan plesier en moes hulle ʼn vaal, onderdanige stil lewe lei. Die vrouens het in sommige dorpe van die Kumaun streek teen die oeroue tradisies rebelleer en ook aan die kleurvolle vieringe begin deelneem.
Kommersialisering en kulturele implikasies van die fees:
Die oorspronklike Holi-fees het baie gewild geword regoor die wêreld. In Londen staan die bekend as die ‘Color Run’-fees. Die mense hardloop en neem deel aan ʼn wedren en word gegooi met kleurvolle verf. In ander land soos Melbourne, Kuala Lumpur, Maleisië en selfs in Suid-Afrika en Namibië word dit gevier met die hou van musiek- en danspartytjies. Die mensdom hou nou eenmaal van feesvier.
Kultureel was daar geleenthede waar die Holi-geleentheid se organiseerders onder skerp kritiek deurgeloop het vir kulturele toe-eiening! Die eens Hindu-fees is regoor die wêreld vrylik ingespan en gebruik as ʼn “geldmaakonderneming”. Sodoende het die betekenis van die Holi-fees verander in ʼn fees wat deur die Westerse tradisies geskep is.
Kleur as handelsware.
Die ‘Color Run’ is bekend vir winsgewendheid en noem slegs die Holi-fees in vae verduideliking. Vir die joernalis Ruchira Sharma, werksaam vir “i-Newspaper’ is dit ʼn belediging dat die organiseerders van die ‘Color Run’ melding maak van die Holi-fees. Sy hou voet by stuk dat hulle die Holi-fees vir hulle eie kommersiële motiewe gebruik en dat die geensins hulle bedoeling is om Indië se Holi-fees as hulle godsdienstige fees met kulturele tradisies te bevorder nie.
Vir sommige geskiedeniskenners pleeg die organiseerder van hierdie sogenaamde kleur-feeste ʼn skreiende daad van kulturele toe-eiening. Aan die ander kant is daar ook Caru Das van die Verenigde State wat nie saamstem met die opinie van kulturele toe-eiening nie. Volgens hom is kleurfeeste ʼn geleentheid tot ʼn atmosfeer van feesviering. Vir die ‘Color Run’-deelnemers is die feeste net die geleentheid tot ʼn onvergeetlike ervaring van plesier in volkleur!
As die geleentheid hom aan jou voordoen om weer aan ʼn kleur-fees deel te neem, dink aan die kulturele oorsprong daarvan en soek na die rede waarom jy daaraan deel wil hê.
Hou dit vir jou verband met ander kulturele tradisies of is dit vir pure plesier?
Bron: https://time.com/5799354/what-is-holi/
Bron: https://www.india-visa-online.com/af/holi-fees-Indië
Bron: https://af.traasgpu.com/8-mees-gewilde-feeste-in-indie/
©Marlene Erasmus
31/10/2021
(1257 woorde)
Maart 2022 – OOP projek
1.Vryleer: oop toegang tot inligting
Wat presies behels oop toegang?
Oop toegang – OT, dui op vrye toegang tot inligting wat verkry kan word deur die Internet tot nagevorste vakspesifieke artikels, tesisse en ook proefskrifte. Die voordeel van oop toegang is dat die inligting onverwyld beskikbaar is vir gebruik. Nog ʼn groot voordeel is die bekostigbaarheid van oop toegang.
Navorsers word dikwels gesien as boumeesters vir iets nuuts. Om ʼn verskil te maak, moet hulle navorsing egter in die akademiese arena gedeel kan word met die res van die wêreld.
Navorsers of skrywers wat in die oop toegang milieu publiseer, maak gebruik van ʼn spesifieke lisensie wat aan die publiek gratis toegang gee tot die gebruik van hulle oorspronklike werk. Die voordele van oop toegang: dit bied aan vele gebruikers ʼn alternatief wat finansieel lonend is. Drukkoste van boeke is ʼn ontsettende groot uitgawe. Oop toegang verseker ook ʼn makliker vloei van gegewens en inligting tussen die navorser en die publiek. In die geval waar die navorsers of skrywers dan gebruik maak van oop toegang, maak hulle hulle werk wettiglik beskikbaar om te gebruik, sonder betaling. Alhoewel die gebruik gratis is en versprei mag word, is daar ʼn voorwaarde aan verbonde: die outeur en die oorspronklike bron moet elke keer volledig aangehaal word sodat daar op die manier aan die outeur erkenning gegee kan word.
Voordele van oop toegang?
* Navorsingsartikels is baie vinniger beskikbaar. Navorsers kan mekaar se werk bestudeer en ook daarop verbeter wat weer nuwe navorsing en resultate moontlik maak.
* Dikwels help die regering met befondsing uit die staatskas en op hierdie manier kan die belastingbetaler ook deel kry in die aanwending van staatsgeld.
* Vooruitgang in opleiding. Oop toegang verleen aan opvoeders en studente vrye toegang tot die jongste navorsing.
* Kennis word verbreed deur beskikbare navorsing.
Oop toegang se ontstaan?
Oop toegang het hul oorsprong in die volgende drie definisies gehad:
– die Budapest definisie in 2002
– die Bethesda definisie in 2003
– die Berlin definisie ook in 2003
‘n Vierde belangrike verklaring: opgedateerde Budapest BOAI10-definisie.
“Saam met die Budapest Open Access Initiative (BOAI) en die Berlynse verklaring oor oop toegang tot kennis in die wetenskappe en geesteswetenskappe, het die Bethesda-verklaring ‘oop toegang’ gestig as die term om inisiatiewe om inligting wyer en maklik beskikbaar te stel, te beskryf.[1]”
aanhaling:
https://ewikiaf.top/wiki/Bethesda_Statement_on_Open_Access_Publishing
Die mening bestaan dat mens feitlik nie kan groei sonder oop toegang nie.
Hoe beskikbaar is oop toegang?
Verskeie universiteite is vir die afgelope tyd besig om beskikbare akademiese werk op te neem in institusionele navorsingspakhuise. (Institutional repositories.)
Daar is verskeie institusionele “pakhuise” waar inskrywings en artikels gevind kan word met baie maklike soektog op die internet. Daar is regtig ʼn oormaat inligting beskikbaar vir diegene wat navorsing doen oor ʼn sekere onderwerp.
Die Universiteit Stellenbosch het die meeste inskrywings – 55 000 en stel hulle dokumente beskikbaar by:
http://scholar.sun.ac.za
Unisa se pakhuis is gelaai met bykans 15 000 inskrywings en kan gevind word by:
http://uir.unisa.ac.za
Noordwes se pakhuis het self ook ten minste 9 000 inskrywings by:
http://dspace.nwu.ac.za
Met pakhuise wat oorloop van inligting, is al wat jy moet doen: GOOGLE! As jy dit nie vind nie, is die kanse dat dit nie bestaan nie, baie groot. Vryleer is definitief ʼn konsep wat gekom het om te bly.
In die veranderde tye is dit nie nodig om ten duurste te betaal vir inligting nie, met oop toegang tot inligting het jy die wêreld se inligting aan jou vingerpunte.
©Marlene Erasmus
31/03/2022
Neologisme:
* vryleer: gratis toegang tot leermoontlikhede.
Bronne:
http://news-nwu-ac-za.web.nwu.ac.za
https://www.netwerk24.com
https://en.wikipedia.org/wiki/Open_access
(592 woorde)
April 2022 – En toe… projek
1.Busboikot en burgerregte
Op 4 Februarie 1913 word Rosa Parks gebore as Rosa Louise McCauley in Tuskegee, Alabama. Sy is James en Leona Edwards McCauley se eersteling en het later ʼn broer gekry – Sylvester. Haar ma was ʼn onderwyseres en haar pa ʼn skrynwerker van beroep.
Na haar ouers se egskeiding het sy en haar broer saam met haar ma verhuis na Pine Level, ʼn klein plattelandse dorpie naby Montgomery. Hier bring sy haar kinderjare deur. Sy voltooi haar laerskoolloopbaan as elfjarige.
As klein dogtertjie het sy reeds besef dat daar onderskeid getref word tussen wit en swart kinders toe net die wit kinders op die busse vervoer is.
Haar ma stuur haar na Montgomery se Industriële skool vir meisies, waarna sy Alabama Staatsonderwys Kollege toe is. Terwyl sy hier is, word haar ouma siek en is Rosa terug om met haar versorging te help tot met haar afsterwe. Rosa was net gereed om terug te gaan toe haar ma ook siek word. Sy moes haar opleiding staak.
In 1932 trou Rosa met Raymond Parks, ʼn kapper van beroep. Met Raymond se aanmoediging voltooi sy haar opleiding en raak betrokke by die ‘National Association for the Advancement of Coloured People’ – NAACP. Raymond was ʼn aktiewe lid en Rosa het gewerk as sekretaresse en was later ook die jeugleier.
In hierdie tyd was Alabama bekend vir baie streng segregasiewette. Daar was aparte geriewe en skole vir Afro-Amerikaners en blankes. So ook was daar aparte sitplekke op die openbare busse. Die eerste rye was net vir die blankes en die Afro-Amerikaners was gedwing om agter in die bus te ry, al het almal dieselfde fooi betaal.
Op 1 Desember 1955 klim ʼn moeë Rosa op die bus en neem haar sitplek in, in die ry reg agter die banke wat vir die blankes gereserveerd is. Daar klim toe nog blanke passasiers op en die onbeskofte James Blake, busbestuurder beveel Rosa om op te staan. Twee of drie staan op, maar Rosa weier om op te staan. Die busbestuurder laat arresteer Rosa net daar.
Op pad tronk toe het die nuus oor Rosa soos ʼn veldbrand versprei. ED Nixon, ʼn vriend en die president van die NAACP nader Rosa om ʼn saak te maak teen die busonderneming.
Hierdie daad het die Montgomery-busboikot van 381 dae tot gevolg gehad. Die busboikot is beëindig met die beslissing dat die segregasiewette in Alabama ongrondwetlik was.
In 1996 was sy die ontvanger van die Presidensiële Medalje van vryheid en in 1999 die Kongres-goue medalje, en nog baie ander toekennings.
Op 24 Oktober 2005 sterf Rosa vreedsaam soos die stil voorbeeld van haar lewe.
©Marlene Erasmus
30/04/2022
(448 woorde)
Bronne:
https://af.wikipedia.org/wiki/Rosa_Parks
https://www.history.com/topics/black-history/rosa-parks
https://www.nps.gov/features/malu/feat0002/wof/rosa_parks.htm
Mei 2022 – Mei OOP projek
1.Die vlermuis
Gevaarlik of skadeloos? Die feit is: vlermuise is ongewone soogdiere, trouens die enigste soogdiere wat kan vlieg. Vlermuise het ʼn uitsonderlik buitengewone voorkoms en dierkunde beskryf die vlermuis as verteenwoordiger van die orde: Chiroptera. Hulle val in die klas: skemerdiere. Sekere soorte kan glad nie goed sien in die donker nie. Vlermuise het eggolokalisering ontwikkel en is in staat om in hulle vliegaksie voorwerpe te identifiseer en sal daarom nie in iets vas vlieg nie.
Voorkoms:
Die gewig kan wissel van ʼn skamele 3.5 g tot 900 g met ʼn vlerkspan van 20 cm tot 1.5 m. Die vlerkgedeelte word gevorm uit ʼn elastiese, leeragtige membraan. Die membraan span oor die voorarm, middelhandbene en vingerlitte wat verleng is in voorkoms. In ooreenkoms met voëls vlieg die vlermuis met lang, smaller vlerke beter as die wat effens korter, breër vlerke het. Sommige besit selfs oor die vermoë om op een plek doodstil in die lug te “hang”.
Die spoed van vlermuise kan tussen 15 en 50 km per uur bereik. Aan die duim van die voorpootjie sal jy ʼn krom, sterk nael vind waarmee hy kan klim. Die nael steek opsigtelik voor die vlerkies uit. Daar is geen naels aan die agterpote nie. Hulle gebruik die agterpootjies as hulle in ʼn rusposisie is. Alhoewel dit nie so lyk nie, is dit vir ʼn vlermuis geen moeite om so kop onderstebo te hang nie, die spiere in hulle toontjies sluit outomaties as hulle in die rusposisie aan ‘n tak hang.
Lewenswyse:
Daar is baie verskillende soorte vlermuise, meeste van hul is net snags bedrywig en sal deur die dag in donker plekke skuil. Sodoende ondervind hulle nie probleme met natuurlike vyande in die stryd om oorlewing nie. Jy kan vlermuise reg oor die wêreld, met uitsondering van Antarktika, in die warmer dele vind. Jy sal ook vind dat sommige spesies hiberneer. In kouer omstandighede sal hulle temperatuur daal om aan te pas by hulle habitat. Meeste van die tyd sal jy vind dat hulle ondergronds (in grotte) skuil met temperature van nie laer as 3 °Celsius nie.
Sintuie:
Aangesien hulle snags bedrywig is, help hulle sintuie hulle om kos te vind, selfs in die donker. Sekere van die spesies soos die vrugtevlermuis het dan ook baie groot oë wat goed kan sien. Van die ander spesies het egter swakker oë wat nie goed ontwikkel is nie en hulle maak staat op eggolokalisering. Hoe dit werk: klankgolwe met toonhoogte tussen 25 en 150 kHz word uitgestuur. Hierdie geluid is vir die mens nie hoorbaar nie, as die golwe van die klank dan ʼn voorwerp tref word dit teruggekaats en die vlermuis kan dan bepaal waar daar hindernisse of ander vlermuise is.
Nie alle vlermuise maak op dieselfde manier geluide nie, sommige spesies maak geluide deur hul neuse en ander weer deur hulle bek. Hulle reuksintuig is ook baie goed en die vleisetende- en bloedsuiersoorte is gevoelig vir die suur wat in die sweet van warmbloedige diere afgeskei word. Hulle besit ook oor die vermoë om temperatuurveranderinge baie goed waar te neem.
Voortbestaan:
By die vlermuise vind jy die manlike en vroulike dier.
In die mans vind jy geslagsorgane wat in bykans alle spesies voorkom: buis, kliere, blaas, prostaat, penis en testikels.
In die vroulike vlermuis vind jy twee eierstokke, baarmoeder, serviks en die vagina.
In die broei-seisoen sal al die wyfies intrek in ʼn “kraamkolonie.” In die kouer dele van die wêreld paar die vlermuise in herfs alhoewel hierdie spermselle slegs gestoor word en bevrugting eers in lente sal plaasvind tydens haar winterslaap. Dit kan ook gebeur dat bevrugting dan wel in herfs plaasvind, maar die embrio sal eers in die lente aan die uteruswand gaan vasheg.
In die tropiese dele sal vlermuise deur die jaar voortplant en die wyfie kan selfs weer swanger wees terwyl sy nog ʼn kleintjie soog.
Die geboorte self is baie interessant. Die wyfie sal in kraam gaan en sy sal aan haar duime hang, kleintjies word dan in die vlieghuid ‘gevang.’ Gewoonlik kry vlermuise net een kleintjie, maar by uitsondering is daar soms twee kleintjies – tweelinge.
Die mamma sal gaan kos soek en haar baba saamdra terwyl hulle nog nie te swaar is nie.
Klein vlermuise is op bykans 10 weke selfstandig genoeg om op hulle eie te oorleef en sal dan die kolonie verlaat. Geslagsrypheid sal kort na die tyd plaasvind.
Die mens en die vlermuis:
Vlermuise is ongelukkig nou maar een van die diere wat nie ʼn goeie reputasie by die mens het nie. Ondanks dit wat mense van vlermuise glo: is hulle nie bloedsuiers nie en sal hulle ook nooit in jou hare vassit nie!
Moeilik om te glo is dat hulle eintlik baie saggeaarde diere is wat ook ʼn belangrike rol op aarde speel.
Ongelukkig beskik die vlermuis oor ʼn grillerige voorkoms en omdat hulle slegs snags bedrywig is, het hulle dan die simbool van siektes, peste en gruwelstories geword.
Verskriklik om te dink: in sommige Europese dele sal mense die vlermuise lewendig aan hul mure vaskap met spykers om sodoende “slegte geeste uit te hou!”
Aan die ander kant beskou party nasies hulle selfs as gelukbringers! In sommige dele van die Midde-Ooste word van die groter spesies gesien as ‘n fynproewer dis.
Hoe dit ook al sy, al die faktore dra by tot ʼn vermindering in die getalle van vlermuise. Die grootste bedryginsfaktor is egter die vernietiging van vlermuise se natuurlike habitat. Nog ʼn faktor is die gebruik van gifstowwe wat deur die mens gebruik word om rotte en muise uit te roei.
Die vlermuis speel egter ʼn rol in die wêreld se voedselketting en verdien nie om uitgewis te word nie, inteendeel verdien hulle ook nie die nare reputasie nie!
Lank lewe die liewe vlermuis.
©Marlene Erasmus
31/05/2022
(961 woorde)
Bronne:
http://www.mieliestronk.com
https://www.southafrica.com/blog/vlermuise-van-suid-afrika-nagtelike-kreature/
https://uarihes.ru/vrae/5477-is-vlermuise-gevaarlik-vir-mense-of-troeteldiere.html
https://af.animalstend.com/10825681-what-does-a-bat-look-like-and-what-it-eats
Junie 2022 – Winterlandskap projek
1.Olimpiesespele se beginjare
Een van die heel bekendste sportgebeure in die wêreld, het vir die heel eerste keer plaasgevind in ou antieke Griekeland. Griekeland het tussen 700vC en 1000vC verskillende provinsies gevestig, elk met eie regering en wette. Die atlete van die onderskeie state het teen mekaar meegeding in kompetisies. Sport het ʼn baie groot en belangrike rol gespeel in Griekeland. Kinders is van kleintyd af vertroud gemaak met verskillende sportsoorte en sport het ʼn fundamentele rol gespeel in hul opvoeding.
Hierdie spele het ook nou betrekking gehad tot die Grieke se godsdiens. Die Grieke het nie aan net een God geglo nie, maar aan vele verskillende gode. Hulle het die gode gesien as gewone mense, maar ook as misterieuse wesens wat nie kon sterf nie. Die verskillende stamme het self besluit watter god hulle wou aanbid. Daar was dertien belangrike gode soos Zeus, wat as hoofgod bekend gestaan het en dan ʼn hele paar ander. Van die bekendstes was die god van die see, Poseidon, die godin van liefde, Aphrodite en vele meer.
In die antieke Olimpiese spele het godsdiens ʼn pertinente rol gespeel. Die spele het in die begin ontstaan as ʼn belangrike religieuse gebeurtenis wat elke vierde jaar plaasgevind het om eer te bring aan hul hoofgod, Zeus. Hierdie insident het plaasgevind op die Vlakte van Elis in suidwestelike Griekeland by Olimpia. Die jaar van ontstaan kan nie met duidelikheid bevestig word nie, maar 776vC is van die eerste spele waarvan daar melding gemaak word.
So word die jaar 776vC dan gereken as die begin van die Spele.
As jy in die geskiedenis navorsing doen, sal jy vind dat daar wel nog ander sportsaamtrekke was, maar die Olimpiese Spele was sonder uitsondering erken as die belangrikste. Die Griekse state het die Spele so belangrik geag dat hulle tot hulle kalenders opgedeel het in vierjaartydperke, oftewel Olimpiades.
Die Olimpiese Spele was die finale ronde van kompetisies wat in die verskillende state plaasgevind het. Nie sommer enige een kon deelneem aan die Spele nie, slegs mans en seuns afkomstig van Griekse agtergrond. Dan moes die deelnemers ook nog sonder enige kriminele rekord wees en nie as ʼn slaaf gewerk het nie. Zeus is erken as die god van die Spele en elkeen wat wou deelneem moes ʼn eed aflê dat hulle getrou sou bly aan die land se godsdiens. Die deelnemers moes selfs bereid wees om te sterf vir hulle godsdiens, sou dit nodig wees.
In die beginjare het die Olimpiese Spele net vyf dae geduur. Tydens die tyd het die Grieke vakansie gehad en daar het verskeie volksfeeste ook plaasgevind. Daar was gedurig oorloë tussen die verskillende state, maar aangesien die Spele so ʼn belangrike gebeurtenis was, moes daar ʼn wapenstilstand plaasvind, ʼn maand voor die Spele se aanvang. So is die veiligheid van al die deelnemers en toeskouers gewaarborg. Hulle moes ook weer veilig kon terugkeer na hulle onderskeie state na afloop van die Spele.
Die Olimpiese Spele het vanaf 776vC tot ongeveer 393nC, amper 1000 jaar lank, elke vierde jaar plaasgevind.
Volgens hulle wette, kon geen vrouens deelgeneem het nie. Hulle kon ook nie as toeskouers die Spele bygewoon het nie. Slegs op die eerste dag is die priesteresse toegelaat om te help met die toewyding aan godsdiens en sang.
Die Griekse vrouens is uitgesluit, maar dit het hulle nie verhoed om belangstelling in hul mans en seuns se deelname en prestasies te toon nie. In die perderesies was dit so dat die prys nie na die jokkie gegaan het nie, maar wel aan die eienaar van die perd. Heel dikwels was dit vrouens wat die Olimpiese prys gekry het, sonder dat sy kon deelneem of as toeskouer daar kon wees.
Daar is vir drie dae na die opening van die Olimpiese Spele meegeding in verkillende kategorieë. Daar is meegeding met die oogmerk om vaardigheid, fisiese vermoë en ook toewyding aan die sportsoort te toets. Die deelnemers het al hulle kragte ingespan om uit te blink.
Daar was deelname in atletiek, boks en stoei om paar op te noem. Daar was selfs ʼn afdeling waar skrywers, digters en redenaars hulle talente kon tentoonstel.
Die ou Grieke was toegewyd aan individue en spansport het jy nie gevind nie. Hulle het ook geglo dat slegs een prys toegeken word aan die eerste en beste deelnemer, geen tweede of derde pryse is gegee nie. Daar is geen rekords opgeteken vir toekomstige byeenkomste nie. Geen kontantpryse of medaljes is oorhandig nie. Op die laaste dag het die Spele afgesluit met die prys vir deelnemers wat gewen het. Die deelnemers wat gewen het, moes vir Zeus offers bring. Die individuele wenners het die eer ontvang as die beste en daarvoor het hy ʼn olyftak-kransie ontvang. Dit was ʼn eer vir die atleet om die prys te ontvang.
Hoewel die atlete nie vreeslik opgehef is nie, het hy groot erkenning gekry by sy stadsgenote. Sy ontvangs was ʼn vreeslike geleentheid, hy is in ʼn strydwa met twee wit perde in die stad ingeneem. Nog ʼn gebruik was om ʼn opening in die stadsmuur te maak want die nuutgekroonde held sou die hele stad kon beskerm.
In 146vC is Griekeland as deel van die Romeinse Ryk ingelyf, maar die Spele het voortgegaan. Daar het egter verandering plaasgevind toe Romeinse atlete ook begin deelneem het en met die Griekse atlete kon kompeteer. In die jaar 391nC het Theodosius I wat ʼn Christen was al die kultusse verban en is Zeus en die gode ook verban. Die laaste Spele in die antieke tyd het plaasgevind in 293nC, ʼn tradisie wat 1168 lank bestaan het se einde het aangebreek.
Die moderne Olimpiese Spele het die eerste keer in Athene plaasgevind.
In 1924 in die ryptrap van ‘n winterlandskap word die heel eerste Olimpiese Winter Spele gehou in Frankryk.
Tot op hede is die Olimpiese Winter Spele ʼn skouspelagtige geleentheid waarna almal uitsien.
©Marlene Erasmus
27/06/2022
(979 woorde)
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
1.Die geveg vir moedertaalonderrig
As jy vertroud is met die nuus van die afgelope tyd, sal jy vind dat Afrikaans dikwels die onderwerp van bespreking is.
Verskeie instansies soos Die Afrikaanse Taalraad (ATR) en burgerregte-organisasies soos AfriForum en die DAK Netwerk is in ʼn verbete stryd gewikkel om Afrikaans se belange te beskerm. (DAK se naam verwys na drie taalvaardige Khoi-leiers wat simbolies is van ons herkoms en erfenis: Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa.) Hulle geveg is om Afrikaans se voortbestaan as onderrigmedium te waarborg en die saak word dikwels in hofsake aangevoer.
Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier. UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) het juis die dag ingestel sodat mense regoor die wêreld bewus kan word oor die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig. Unesco ondersteun die belangrike feit dat kultuur en erfenis vir ons nageslag bewaar moet word.
Op Litnet is die stelling gemaak: “Afrikaans, eens uitgekryt as ‘n kombuistaal, is vandag ‘n wêreldtaal. ʼn Taal van onderwys, wetenskap en ekonomie.” Intensiewe navorsing nasionaal sowel as internasionaal oor die voor- en nadele steun ook die erns van onderrig in die leerder se taal.
Moedertaalonderrig is beslis die onderwerp waaroor daar reg oor die wêreld navorsing gedoen word.
UNESCO het navorsingsprogramme van stapel gestuur om die saak deeglik te ondersoek. Telkens was die bevinding presies dieselfde: moedertaalonderrig is net eenvoudig die beste! Hulle staaf die stelling met onteenseglike getuienisse vir die voordele van moedertaalonderrig.
Moedertaalonderrig verseker die uitbreiding van kennis met begrip en is ook voordelig vir kognitiewe ontwikkeling en sosiale vaardighede. Die kennis wat leerders moet versamel is egter nie so ʼn eenvoudige proses nie. Daar moet effektiewe interaksie plaasvind tussen die leerkrag en leerling. Hiervoor word daar doeltreffende kommunikasie vereis. Die primêre kerngedagte vir kommunikasie is taal. Dit is bewys dat leerders vinniger verstaan en hulle kommunikeer ook beter in hul moedertaal.
Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en –bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat het gesê: “Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal, laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld.”
Afriforum Jeug, ʼn nie-politieke burgerregte-organisasie veg ook vir die behoud en voortbestaan van Afrikaans as moedertaalonderrig. Die groep is in die lewe geroep en hulle beywer hulle vir die belange van jong Afrikaners. Hulle het ʼn memorandum aan professor Dan Kgwadi, visekanselier van die Noorwes-Universiteit oorhandig met ʼn versoek om Afrikaans as onderrigmedium aan die Puk te kan behou.
Marcus Pawson, AfriForum Jeug se verteenwoordiger is hier aan die woord: “Niemand gaan namens ons besluite neem oor Afrikaans en Afrikaner-studente by die Puk nie. Ons sal vir onsself praat oor sake wat vir ons belangrik is. Ons wil in Afrikaans leer, leef en ontwikkel”
Afrikaans as die taal van onderrig word egter die teiken van vele aanslae met ʼn kommunistiese agenda.
CF Visser het jare gelede geskryf:
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
Niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Hierdie eenvoudige vers van lank gelede laat my met die vraag: Waar staan ons vandag met die taalkwessie en ons begrip van moedertaalonderrig?
As jy wel bekommerd is oor die aanleer van ʼn ander taal hoef jy nie verder daaroor te tob nie.
Taalkenners is van mening: ‘Language is caught, not taught.’ ʼn Kind se brein is so vormbaar en dit gee aan jong leerders ʼn groot voordeel om taalkodes uit hul onmiddellike omgewing te kan hanteer.
Wêreldwyd sal jy vind dat suksesvolle onderwysstelsels hand-aan-hand gaan met onderrig in die leerders se moedertaal.
©Marlene Erasmus
30/07/2022
(617 woorde)
Bronne:
afrikaans.com/2018/02/22/moedertaalonderrig-meertaligheid-of-nie/
litnet.co.za/repliek-op-die-debat-oor-moedertaalonderrig-binne-die-suid-afrikaanse-onderwysstelsel/
afriforum.co.za/ouers-studente-en-kind
September 2022 – Snelheidsprojek
1.Die sneltrein
Sneltreine is ʼn tipiese passasierstrein wat ʼn baie hoër spoed as ander tradisionele passasierstreine handhaaf. Verskillende lande het verskillende standaarde, in die Europese Unie is dit byvoorbeeld treine wat 125 – 200km per uur of vinniger reis, in Verenigde State is dit treine wat 90km per uur of vinniger reis.
Geskiedenis van sneltreine.
So vroeg soos die begin van die 20ste eeu was treinreis ʼn baie gewilde soort vervoer vir passasiers en ook vir die vervoer van vrag.
In 1933 het die eerste hoë spoed treine verskyn in Europa asook in Amerika. Hoë spoed treine is in werking gestel om mense en goedere te vervoer teen spoed van sowat 80 km per uur.
In 1939 word die eerste ETR 200-trein in Italië aan die publiek voorgestel. Hierdie trein kon sowat 203km per uur haal. Die Tweede Wêreldoorlog het egter verdere ontwikkeling van die ETS 200 in die wiele gery.
Na die Tweede Wêreldoorlog is die navorsing voortgesit en het die sneltrein weer op die voorgrond getree. So in die middel 1960’s is Japan se eerste sneltrein bekend gestel as die Shinkansen. Met hierdie bekendstelling was die spoordiens tussen Tokai en Osaka in diens met ʼn spoed van ongeveer 135 km per uur. Die Japanese woord: Shinkansen beteken “hooflyn”.
Sneltrein tegnologie in vandag se tyd.
Vandat sneltreine ontstaan het, het daar ontsettend baie vooruitgang in die tegnologie plaasgevind.
Alhoewel magnetiese levitasie (maglev) ʼn beduidende verandering was, maak die meeste sneltreine nie meer van hierdie tegnologie gebruik nie. Ander tegnologieë wat makliker is om voorsiening te maak vir direkte snelverbindings tussen stede waar nuwe spore nie nodig sal wees nie, word eerder vir hierdie doel aangewend.
Sneltreine oor die wêreld heen.
Hierdie tegnologie word nou wêreldwyd aangetref. Veral in China en Japan is sneltreine van kardinale belang. Die grootste snelspoornetwerk word in China aangetref. Voor 2007 was Japan die voorloper op die gebied. Tot vandag nog is die Shinkansen uiters belangrik en tans word nuwe maglev- en ook staalwiel-treine getoets.
Die drie gebiede wat op die voorpunt van hierdie tegnologie opereer is Europa, China en Japan. Daar word ook sneltreine as pendeltrein in die ooste van die VSA, Suid-Korea en Taiwan aangetref.
Voordele van sneltreine.
Alhoewel die koste vir die oprigting van hierdie tegnologie hoog is, hou dit ontsettend baie voordele in as die stelsel eers voltooid en in werking is. In lande waar infrastruktuur-ontwerp ontwikkeling van snelweë en lugreis-sisteme beperk, kan sneltreine die oplossing vir hierdie probleem bied.
Die doeltreffendheid van hierdie sneltreinstelsels word hoog geag. As ons kyk na passasierskapasiteit kan sneltreine ook die hoeveelheid grond per passasier verminder as dit vergelyk word met hoeveelheid van motors op openbare paaie. Nog ʼn voordeel is die spasie wat ʼn treinstasie opneem, beslis baie kleiner as byvoorbeeld lughawens. Treinstasies kan binne-in stede gebou word en dit kan reis wêreldwyd vergemaklik.
Sneltreine se toekoms in die wêreld.
Aangesien die voordele van sneltreine so hoog is, word sneltreine se gebruik wêreldwyd uitgebrei.
Europa beplan om teen 2025 baie meer verbindings in werking te stel. Die EU het ʼn voorneme om ʼn Trans-Europese hoëspoednetwerk in gebruik te kry wat dan die totale streek kan verbind. Daar is talle ander voorbeelde van sneltrein-netwerke wat beplan word, byvoorbeeld in Kalifornië tot Marokko.
In Suid-Afrika maak die gebruik van sneltreine ook sin. Die afstand tussen Durban en Gauteng is baie geskik vir ʼn sneltreindiens. As jy reken die afstand is 600km en die sneltrein kan teen die spoed van 300km per uur ry, sal jy beslis vinniger in Durban kom, (as jy woonagtig is in Gauteng) as wat die geval sal wees as jy ʼn vliegtuig moes haal.
Sneltrein-netwerke kan beslis geag word as ʼn lewensvatbare vorm van openbare vervoer in die toekoms.
©Marlene Erasmus
30/09/2022
(619 woorde)
https://af.wikipedia.org
https://af.traveldirecting.com/travel-and-tourism/37
https://af.eferrit.com/treine
Oktober 2022 – Liriese projek
1.Die ontstaan van liriese poësie
As ek na mooi gedigte luister kry ek soms ʼn oorweldigende begeerte om te sing! Soveel is my waardering vir sonnette, elegieë en villanelle wat uitgeken kan word aan spel van klanke en sterk emosies. As jy na my aard, is jy sekerlik ook ʼn liefhebber van liriese poësie.
Liriese digkuns het in antieke Griekeland ontstaan toe digters letterlik hulle verse hardop gesing het met die begeleiding van musiekinstrumente soos die lier of die harp. Liriese poësie is geïnspireer deur persoonlike perspektief en gevoelens wat uitgebeeld is in figuurlike taal.
Liriese poësie het aansporing gegee vir meer romantiese en konfessionele poësie.
Antieke Griekeland (7de tot 5de eeu v.C.)
Die digters in hierdie era soos byvoorbeeld Sappho en Pindar het bygedra tot die ontstaan van die liriekbeweging, hulle het ook seker gemaak dat hul nalatenskap sterk is.
Volgens mening word daar beweer dat Sappho meer as 10 000 reëls in gedigte neergepen het met net sowat 650 wat oorleef het. Sy staan bekend as: “Die digteres”. Hierdie titel het sy verwerf omdat sy soveel uiteenlopende werke met liriek, emosie en ʼn persoonlike trant geïllustreer het.
Sy was lief daarvoor om die voornaamwoord “ek” in haar gedigte te gebruik. Sy was vas in haar mening dat poësie betekenisvolle skoonheid kon verkry uit daaglikse menslike ervarings.
Pindar was ook een van die kanonieke lirieke digters van die tyd van Antieke Griekeland. In sy werke het baie fokus geplaas op sy eie persoonlike geloof en sy rol as digter in natuurwaarneming. Pindar se betekenisvolle bydraes tot digkuns word steeds vandag bestudeer.
19de eeu
In die 19de eeu tree daar baie bekende lirieke digters op die voorgrond. Name soos Emily Dickenson en Rainer Maria Rilke kom dadelik by my op. Dit is eers na Emily se afsterwe dat bykans 2000 van haar gedigte gepubliseer is. Alhoewel dit postuum publiseer is, bly sy een van die digters wie se gedigte die meeste gelees en bestudeer word. Dickenson se verse gee duidelik die indruk van ritme en struktuur met gemeterde vers. Sy was lief daarvoor om ballade-sonnette te skep.
Dickinson was ʼn misterieuse figuur wat bekend was vir haar amper kluisenaarsbestaan. Haar werke beeld dikwels ʼn geheimsinnige komplekse lewe uit. Haar verse het baie keer gehandel oor spiritualiteit, sterflikheid en die siel van die mens.
Die Duitse digter, Rainer Maria Rilke se werke volg met tradisionele romantiek en liriese poësie. In een van sy bundels val die klem op elegieë.
Rilke is ook bekend vir sy belangstelling in sterflikheid, lyding en die ware sin van die lewe. Alhoewel dit gewigtige sake is, het hy hierdie onderwerpe in juksta-posisie geplaas met die gebruik van pragtige beelde uit die natuur. Hy het ʼn studie gemaak van lig en duisternis wat mekaar op ʼn sekere punt en stadium moet kruis.
Digters van ons tyd.
As ons dink aan Suid-Afrikaanse digters, kom die volgende digters dadelik by my op.
Jan F.E. Celliers (Jan Francois Elias Celliers, 1865-1940):
Die bekende gedig: “Die Ossewa” is ʼn liriese ode aan die os, ʼn nederige trekdier wat ʼn belangrike rol gespeel het in die geskiedenis van die Afrikaner-volk.
Totius (Jakob Daniël du Toit, 1877-1953):
Een van Totius se bekendste verse: “Repos ailleurs” plaas die ryk treinpassasier in juksta-posisie met ʼn arm meisie wat by ʼn tent sit en hunkerend na die verbygaande trein staar. Selfs in vandag se tyd bly hierdie so ʼn uitstekende uitbeelding van die mens wat altyd na ʼn “beter lewe” verlang.
Eugene Marais (Eugène Nielen Marais, 1871-1936):
Die skeptici het nog gedink dat Afrikaans ʼn agterlike kombuistaal is en nie waardig genoeg was vir poësie nie, toe slaan Eugene Marais hulle voete onder hulle uit met “Winternag”. Die vers was ʼn blik op die hartseer lot van die Afrikanervolk in die tyd na die Anglo-Boereoorlog.
A.G. Visser (Andries Gerhardus Visser, 1878-1929):
A.G. Visser se: “Om te poep is nie ‘n sonde nie”, laat vandag nog mense glimlag as hulle die lighartige gedig van die stoute karnallie wat die kerk ontstig het, lees. Menigte onthou verlangend hulle kinderdae.
Dan natuurlik is daar:
C. Louis Leipoldt (1880-1947):
Geeneen kon dit weer regkry om die natuur so liries te beskryf soos Leipoldt in sy baie bekende gedig: “Oktobermaand” nie.
“Viooltjies in die voorhuis –
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!”
©Marlene Erasmus
31/10/2022
(740 woorde)
www.researchgate.net
www.litterm.co.za/index.php/l/317-liriek
www.versindaba.co.za/tag/liriese-gedigte
https://www.academia.edu/26650562/2010VersenVerhaal
November 2022 – OOP Projek
2.Die Kaapse klopse
Almal in Suid-Afrika en veral Kaapstad is vertroud met die jaarlikse skouspelagtige Kaapse Klopse. Klopse is ʼn woord wat afgelei is van die Nederlandse woord: klubs.
Die onmenslike gebruik van slawerny was ʼn wrede werklikheid wat in die Kaap bestaan het van 1653 af, in die tyd van Jan van Riebeeck se aankoms. Hierdie walglike gebruik het bestaan tot in die jaar 1838.
Die Kaapse Klopse het vir die eerste maal plaasgevind in 1907. Die karnaval het baie jare se oorloë en struwelinge oorleef en is vir meer as ʼn eeu ʼn groot aantreklikheid in die Moederstad. Die fees vind plaas op die Tweede Nuwejaar en dan word Kaapstad se strate herskep na ʼn asemrowende kleurvolle skouspel.
Hierdie fees het egter nie altyd gepaardgegaan sonder wrywing nie. Die stadsvaders en die komitee van die Kaapse Klopse het dikwels koppe gestamp oor allerhande nietige sake soos byvoorbeeld watter roete gevolg moes word. Die tradisionele roete van meer as 100 jaar het so gelyk: die optog begin by die Keisergracht of Distrik Ses, af in Darlingstraat waar hulle verby die Kaapstad Stadsaal gaan. Dan moet die optog links in Adderleystraat, regs opwaarts in Waalstraat tot hulle by Roosstraat in die Bo-Kaap kom, hier gaan hulle regs tot onder by die Waterkant. Die groot kompetisie word dan gehou by die Groenpunt-stadion wat vandag meer bekend is as die Kaapstad se sokkerstadion.
Vroeër in die begin van die Klopse is die slavinne ingespan om vir hulle eienaar mooi uitrusting te maak. Die uitrusting is dan gedra op die dag van die fees: Tweede Nuwejaar.
John Manson was ʼn kenner van geskiedenis en werksaam by die Universiteit van Virginia in die VSA. Hy beweer dat die Klopse hul ontstaan gehad het toe ʼn groep wit Amerikaners in die 1800’s ʼn fees begin het waar hulle hulle gesigte swart geverf het en liedjies gesing het van die Afrika-slawe. Met groot gewildheid het hulle begin toer deur Europa en selfs in Suid-Afrika.
Met die aankoms van die skip: Die Alibama in die jaar 1864 het talle mense vergader by die Vlaeberg om die skip in te wag. Volgens oorlewering het iemand hardop geskree: “Kyk, daar kom die Alibama!” Die slawe was so meegevoer dat hulle begin sing en dans het en dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van die lied: Daar kom die Alibama.
Die Kaapse Klopse was destyds ʼn viering van vryheid vir die slawe. Vandag nog is Nuwejaar die tyd waarin mense besin en reflekteer oor nog ʼn jaar wat verby is, maar ook ʼn tyd vir hoop vir ʼn jaar wat voorlê.
Die Klopse se bekendste kenmerke is die vrolike sang, baie uitspattige kleurvolle uitrustings en vrolike danse. Gesigte word geverf om by die uitrustings te pas en almal neem deel – van oud tot jonk! Verskillende groepe neem deel aan die fees en daar is ʼn kompetisie om wenners aan te wys.
Tradisionele liedjies is oorgedra van geslag tot geslag en van die bekendste is: “Januarie, Februarie, Maart”, “Daar kom die Alibama” en “Ghoema, ghoema, ghoema”.
Die lirieke van: Daar kom die Alibama, maak nou soveel meer sin.
“Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Januarie Februarie Maart
April May June July
Januarie Februarie Maart
April May June July
August September October November December
August September October November December
Januarie Februarie Maart
April May June July
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Die Alibama, die Alibama, die Alibama
Hy kom oor die see …”
As ons weer na die kleurvolle deelnemers van die Kaapse Klopse kyk, laat ons kyk met ander oë. So baie van ons ken nie die hartseer verhaal agter die skouspelagtige kleurvolle fees nie.
Alhoewel die Kaapse Klopse destyds die tyd was waar die eertydse slawe feesgevier het, vier hedendaagse Kapenaars nou ook fees om vryheid te vier. Dis is die mens se reg om vryheid te waardeer en te geniet.
Heel van pas, lees ʼn feesganger se plakkaat: “Freedom of Enjoyment!.”
©Marlene Erasmus
30/11/2022
(793 woorde)
www.mieliestronk.com/bruinmense.html
voertaal.nu/die-vrystelling-van-slawe-in-die-kaapkolonie-1-desember-1834/
dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/15511/2014WaarkomdieAlibama.pdf
Desember 2022 – Samesyn projek
1.Bring sinvolle gesinstyd deur
As ons na gesinsverhouding in ons tyd kyk sal ons vind dat ons lewens besiger as ooit is. Dit is die een vergadering op die ander, tyd vir mekaar het regtig ʼn luukse geword in meeste van die hedendaagse gesinne.
Navorsing het bewys dat om meer tyd saam deur te bring, dit die kind se fisiese en geestelike gesondheid kan bevorder. ʼn Interessante projek is op die been gebring: “The Family Dinner Project”. Hierdie organisasie bring die voordele daarvan om as ʼn gesin aandete saam te geniet, onder die mens se aandag. Hulle kom ook vorendag met pret-idees soos interessante resepte en idees vir sinvolle gesprekvoering.
ʼn Navorsingstudie wat in 2010 deur die “National Center on Addiction and Substance Abuse” (CASA) gedoen is, het bewys dat in vergelyking met tieners wat gereeld as gesin saam eet teenoor die wat minder gesinsetes saam eet, meer as twee keer geneig is om te sê dat hulle al eksperimenteer het met rook, alkoholgebruik asook die gebruik van dagga.
Hierdie CASA-studie het bevind dat sterk familiebande geassosieer word met ʼn verminderde las op die gebruik van verbode middels onder minderjariges. Die samesyn van gesinne het ook meer selfversekerde tieners tot gevolg. Al mag dit moeilik wees om gereelde tye in te ruim vir gesamentlike gesins-aandetes, moet daar gepoog word om by ʼn skedule te hou. Ouers en kinders sal beslis die vrugte daarvan pluk.
Top tien voordele van familie samesyn:
Mens mag dalk wonder waarom is samesyn in die familie verband so belangrik. Samesyn is belangrik omdat dit liefde en ondersteuning aan mekaar bied. Om by familie te wees, help om sterk beginsels te vestig en dit verbeter ook geestesgesondheid. Om aanvaar te word in die familie is ʼn goue sleutel in ʼn mens se ontwikkeling aangesien dit die omgewing is waar belangrike lewenslesse aangeleer en gevestig word.
1) Beter geestesgesondheid
Om fisies daar te wees vir mekaar word sterk emosionele ondersteuning gebied om die alledaagse uitdagings van die lewe te kan hanteer.
2) Verbeter kinders se akademiese prestasie
Navorsing het bevind dat kinders wat meer familietyd saam deurbring geneig is om ook beter op skool te vaar. Kommunikasievaardighede en belangrikheid van opvoeding word aan hulle bekend gestel in die veilige omgewing van hulle huis.
3) Gesonde gedragspatrone
Daar is bewys dat kinders wat meer tyd in die gesin spandeer, minder risiko toon vir gedragskwessies soos geweld en dwelmmisbruik.
4) Verhoogde selfvertrou
Kinders leer by hulle ouers om ʼn gesonde selfbeeld te hê deur spesifieke vaardighede soos gesonde kommunikasie en probleemoplossing.
5) Goeie toekomstige ouerskapvaardighede word aangeleer
In ʼn gesonde liefdevolle atmosfeer sal kinders ʼn begeerte ontwikkel om dieselfde liefdevolle atmosfeer te skep vir die dag as hulle self ouers is.
6) Hantering van konflik
Alhoewel daar tye van pret en geluk is in die gesin wat tyd saam deurbring, ontstaan daar ook konflik. Die oomblik as die konflik ontstaan, ontstaan daar ook ʼn geleentheid hoe om saam aan ʼn oplossing te werk. Interpersoonlike kommunikasievaardighede en konstruktiewe probleemoplossing leer jou hoe om konflik sinvol te hanteer.
7) Verminder stres.
Mense wat in sterk gesingesonde verhoudings opgroei is geneig om ook gesonder hanteringsmeganismes vir stres te soek. In die samesyn van gesonde gesinne word die gewoonte aangeleer om te praat oor die probleme en sodoende word stres hok geslaan.
8) Aanpasbaarheid
Die vermoë om die lewe met sy uitdagings die hoof te bied word verbeter in sterk gesinsverband. Om by jou familie te wees gee jou dadelik die gevoel dat jy weet waar jy hoort, versorg word en aanvaar word.
9) Beter fisiese gesondheid
Met die regte soort gesinsaktiwiteite word fisieke gesondheid positief beïnvloed. Gesonde speletjies, sport en selfs tuinmaak-aktiwitiet het ʼn positiewe invloed op fisiese gesondheid.Om as ʼn gesin deel te neem aan ʼn sportsoort is heel anders as om saam televisie te kyk. Tydens die oefening as gesin, vind daar gesonde interaksie plaas.
10) Verleng lewensverwagting
Daar is ook bevind dat gesonde gesinsverhoudings jou lewensduur kan verleng. As jy die voordele hierbo kombineer met geestelike gesondheidsvoordele is jy beslis op die regte pad.
Samesyn is belangrik! Spandeer kwaliteit-tyd met jou gesin en jy sal die vrugte pluk van ongelooflike voordele. Kom ons sit bietjie die fone neer en skep tyd vir betekenisvolle samesyn.
©Marlene Erasmus
30/12/2022
(699 woorde)
Bronne:
www.afth.org/the-importance-of-spending-time-together-as-a-family-unit
www.thefamilydinnerproject.org
www.netwerk24.com/netwerk24/za/noordkaapbulletin/maak-jou-familie-n-wenspan-20220512
Januarie 2023 – Projek NUUT
1.Neologisme
Wat beteken neologisme?
In ʼn taal staan neologisme ook bekend as ʼn nuutskepping, ʼn woord wat oor verloop van tyd ontstaan het en gebruik word deur mense om by hulle omstandighede te pas. Later kan die woord dan ook erken word as ʼn nuwe woord. Taalkenners is in baie gevalle skepties en sien hierdie woorde as swak, saamgeflanste woorde. Neologismes kan oor verskillende beginpunte beskik en kan vooruitgang tot gevolg hê, maar kan ook die teenoorgestelde uitwerking van agteruitgang van die taal veroorsaak. Hoe dit ook al sy, daar is plek in sekere woordeboeke waar neologismes opgeneem word.
Neologismes word aangetref in ander tale, maar jy sal nie neologismes kry in Spaans nie.
Hoe word ʼn neologisme gevorm?
Daar is ʼn bepaalde metode wat in alle tale gevolg word om neologismes te vorm. ʼn Voorvereiste is om ʼn woord se aanvang te ken en om te weet in watter konteks die woord gebruik word. Die woord word dan verander of aangepas vir gebruik in ʼn tydperk of era. Met hierdie denke word nuutskeppinge gevorm. Die soeke na kraaknuut nuwe woorde is onvermydelik en so groei die taal.
Die skepping van neologismes in alle tale volg die volgende roetes.
Nuwe woorde wat gevorm word deur:
Akronieme / afkortings wat as ‘n woord gebruik word, byvoorbeeld: VIGS.
Parasintese / samestellings waar woorde saamgevoeg word om nuwe woorde te skep, byvoorbeeld: kuberterrorisme.
Onomatopee / klanknabootsing waar woorde gevorm word deur geluide te beskryf, byvoorbeeld:
Die seun speel met sy karretjie en sê dit maak, brrrrrrrrrr.
Verskillende tipes neologismes:
As ons na die vorming van neologismes kyk, moet ons verstaan dat daar sekere metodes gebruik word om nuutskeppinge te vestig.
Vorm-neologisme
Samestellings of afleidings van bestaande woorde, byvoorbeeld: fotojoernalistiek.
Semantiese neologismes
Dit gebeur soms dat woorde wat reeds bestaan ʼn totaal nuwe betekenis kan kry, byvoorbeeld: soekenjin.
Tegnologiese neologismes
Hierdie tipe neologismes is baie algemeen in gebruik en dit hou verband met tegnologie of wetenskappe, byvoorbeeld: skandeerder, bediener.
Bekende neologismes van vandag:
Google – as jy inligting soek op internet.
Smartphone – om na ʼn selfoon te verwys wat sekere funksies kan uitvoer.
Selfie – as jy van jouself ʼn foto neem.
Blog – as jy jou dagboek hou op internet.
Hierdie is maar enkele bekende neologismes wat die meeste van ons ken.
Het ʼn neologisme ʼn teenoorgestelde?
Argaïsme is daardie ou woorde in ʼn taal wat almal steeds in moderne tyd gebruik. In die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, of HAT kan die woorde aangedui word as “verouderd” of selfs “histories” van oorsprong en aard.
Baie woorde word ook weggelaat uit nuwe woordeboeke soos byvoorbeeld neerhalende of rassistiese woorde van die verlede.
Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), ‘n publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met spelreëls is in 1917 die eerste keer gepubliseer en word nog gereeld bygewerk sodat vars nuwe woorde aangeteken kan word.
Neologismes het gekom om te bly! Hoe jy dit ook al sien, ons woordeskat is beslis iets waarin jy jou kan verheug!
©Marlene Erasmus
31/01/2023
(497 woorde)
3.Lugbraaiers het die wêreld ophol
Praat met enige persoon in die koswêreld en jy sal agterkom dat hierdie vindingryke toestel op almal se lippe is. Vir meeste is die toestel kraaknuut en het dit gekom om te bly. Tien teen een het jy al jou vriendinne hoor spog oor hoe maklik en vinnig hierdie nuwe wonderwerk kos op die tafel waarborg. Die tegnologie van die lugbraaier verbaas almal in die kombuis.
Alhoewel die eerste van sy soort alreeds in 2010 deur Philips aan mense bekendgestel is, is dit nou maar eers onlangs dat die lugbraaier die wêreld so op hol het. Sedert die bekende sjef Gordon Ramsey sy liefde vir die toestel verklaar het, het lugbraaiers vinnig bekendheid verwerf.
Hoe werk die lugbraaier?
Die toestel is losstaande en vat nie so baie plek soos ʼn oond nie. Jy moet nie mislei word deur die “braaier” in die naam nie. Geen kos word in olie gebraai nie. Slegs ʼn baie klein hoeveelheid olie sal oor die voedsel gedrup word alvorens die gaarmaak-proses begin.
Warm-lug tegnologie word ingespan om binne sowat 5 minute temperatuur van 200°C in die lugbraaier te verkry. Die warm lug word dan binne hierdie braaier sirkuleer. ʼn Konveks-effek word ingespan wat verseker dat die kos gaar word en terselfdertyd verbruin wat ʼn krakerige buitekant en sappige binnekant tot gevolg het.
Of jy nou gek is oor pizza of net gou slapskyfies wil eet, trek gou jou lugbraaier nader. Jy kan ook vleis heerlik rooster en selfs vir nagereg gou ʼn sjokoladekoek maak.
Hoe lank sal dit neem om kos gaar te maak?
Aangesien die oppervlak heelwat kleiner as ʼn oond is, maak die regstreekse warm lug die kos heelwat vinniger gaar. Verskillende opsies is beskikbaar soos die bak-opsie wat baie gewild is.
Is die lugbraaier veilig?
Die toestel is beslis veiliger as ʼn oond en jy kan tussen-in die gaarmaak proses die mandjie uithaal om die kos te roer sonder die risiko van warm olie.
Selfs kinders kan die toestel met veiligheid gebruik.
Hoe smaaklik is die lugbraaier se kos?
Soos met enige kos moet jy besef, as jou voorbereiding gedoen word om jou ete smaaklik te maak, sal jy ook smaaklike kos daaruit kry. Een goue reël is om by die spesifikasies van jou model te hou, moet nooi die rakke / mandjies te vol maak nie.
Watter kos kan ek so gaarmaak?
Die opsies is baie: vleis, vis, hoender, seekos en groente. Jy kan ook gevriesde geregte in jou lugbraaier voorberei of selfs bakgeregte soos koek of poeding maak.
Die heel beste geregte vir jou lugbraaier is beslis aartappelskyfies en geregte wat jy wil krummel. Spek en worsies werk ook baie goed in die lugbraaier. Brood kan lekker gerooster word.
Is die lugbraaier ekonomies?
Beslis baie vinniger as die oond wat kragverbruik verminder. Jou olie wat jy gebruik kan letterlik 70-80% minder wees.
Het die lugbraaier nadele?
Een nadeel is dat dit nie geskik is om vir baie mense op een slag kos te maak nie.
Kos kan maklik brand.
Nogal duur toestel om aan te skaf.
Paar waardevolle wenke:
Plaas jou lugbraaier op ʼn veilige plek
Halfpad deur die proses, haal mandjie uit en roer die kos.
Moet nooit oorlaai nie.
Gebruik bakpapier op bodem wat skoonmaak vergemaklik.
As jy hou van nuwe avonture in die kombuis en jy kan dit bekostig: skaf dadelik vir jou een aan.
©Marlene Erasmus
30/01/2023
(564 woorde)
https://af.wikipedia.org/wiki/Lugbraaier
https://www.bezzia.com/af/freidora-de-aire-el-nuevo-best-seller-de-la-cocina/
https://af.wikipedia.org/wiki/Lugbraaier
2.Die vreugde van samesyn
Die vreugde van samesyn.
Samesyn kan gesien word as die warm tevrede gevoel om saam met ander mense te wees wat gemeenskaplike belangstellings deel. Om bloot net saam te wees in ʼn groep, verseker egter nie samesyn nie. Wanneer ons gedagtes en belangstellings met mekaar ooreenstem ontstaan daar ʼn gees van eenheid wat ware samesyn na vore laat kom.
Die spreekwoord lui mos: “Twee is beter as een”.
Die Harvard Universiteit het in studies bevind dat hegte verhoudings en samesyn baie voordele kan inhou. Dit kan onder andere moontlik verligting bring aan hoe mens pyn ervaar en beleef. Nog ‘n voordeel is dat dit breingesondheid bevorder.
Die belangrikheid van samesyn.
Die gevoel van samesyn maak dat ons met deernis en empatie na ander mense kyk. Samesyn help ook mense wat in eensaamheid leef om te voel hulle hoort in die samelewing.
Samesyn kan gereken word as van kardinale belang vir die mens en sy behoeftes. Samesyn skep eenheid, gee aan ons sekuriteit en ondersteuning. In ons samesyn ervaar ons liefde en ondersteuning.
As ons na die Bybel gaan vir antwoorde, vind ons in 1 Korintiërs 12: 12-27 die oproep tot samesyn so duidelik:
“12 Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
13 Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.
14 Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.
15 As die voet sou sê: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.
16 as die oor sou sê: “Omdat ek nie ‘n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie.
17 As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik?
18 Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.
19 As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees?
20 Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.
21 Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.”
22 Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik,
23 en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak,
24 terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom,
25 sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.
26 As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.
27 Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan.”
Ons as mense moet saam ʼn eenheid vorm. Dit word van ons verwag.
Samesyn in die Kersseisoen.
Om tyd saam met familie deur te bring in die seisoen is waar ons van aangesig tot aangesig met mekaar kuier. Die fisiese teenwoordigheid van geliefdes skep ʼn veilige omgewing vir emosionele ondersteuning en kan depressie, angs en geestestoestande verlig.
Die saamkuier oor Kerstyd help die kinders in die familie om die belangrikheid van familie te beleef. Alhoewel hierdie tyd van samesyn prettig behoort te wees, ontstaan daar ook soms konflik situasies. Hier word interpersoonlike kommunikasievaardighede geleer wat konstruktiewe probleemoplossing kan bevorder.
Kersfees gaan hand-aan-hand met samesyn, plesier, feesvieringe en hope heerlike kos. Beplan egter betyds en moenie dat stres van beplanning hierdie vreugde kom steel nie.
Nigel Hamilton het gesê: Danksegging is ʼn tyd vir samesyn en dankbaarheid.
©Marlene Erasmus
11/12/2022
(706 woorde)
Bronne:
www.bible.com/af/bible/6/1CO.12.AFR83
www.graceandlightness.com/80-year-harvard-study-relationships-and-health
www.counsellingonthecoast.com.au/christmas-a-time-when-families-come-together-the-best-they-can/
Maart 2023 – OOP projek
1.Tegnologie: Kunsmatige Intelligensie
Wat is kunsmatige intelligensie?
Kunsmatige intelligensie (KI) verwys na ‘n afdeling in informasietegnologie wat ontwerp is om ‘n masjien of rekenaar die vermoë te gee om ‘n tipe van intelligensie uit te voer wat normaalweg met mense geassosieer word: soos bv.
• leer,
• redeneer,
• probleemoplossing.
Kunsmatige intelligensie maak gebruik van onder andere: algoritmes, sagteware en hardeware wat die menslike brein kan simuleer of naboots vir probleemoplossing.
Kunsmatige intelligensie kan in twee kategorieë verdeel word: swak KI en sterk KI.
Swak KI verwys na KI-stelsels wat dan ook so ontwerp is om ‘n spesifieke taak of probleem op te los, maar nie ‘n volledige en selfbewuste intelligensie het soos die menslike brein nie. Hierdie tipe KI is beperk tot die uitvoering van beperkte take, wat dit dan ook anders maak as sterk KI, wat ‘n volledige intelligensie kan naboots of selfs oortref.
Swak KI-stelsel maak gebruik van masjienleer of bepaalde tegniek om data te ontleed en dan op grond van dit besluite te neem. As daar meer volledige data ingevoer word, kan hierdie KI-stelsel verbeter, maar steeds sal die stelsel beperk wees tot die taak waarvoor dit dan oorspronklik ontwerp is.
Spraakassistente is voorbeelde van swak KI-stelsels. Hierdie stelsel sal gebruik maak van masjienleer-metodes. Swak KI-stelsels is nie in staat om wye spektrum take uit te voer soos wat die menslike brein kan doen nie.
Alhoewel swak KI-stelsels beperk is kan dit groot impak hê op die samelewing.
Sterk KI verwys na stelsels en rekenaars wat in staat is om meer intelligent as die slimste menslike brein op te tree, hierdie stelsels maak ook gebruik van onder andere algoritmes.
Sterk KI-stelsels is in staat om selfstandig te leer, te redeneer en nuwe kennis te genereer sonder die ingryping van die mens.
‘n Voorbeeld van sterk KI is motors wat van selfbesturende tegnologie gebruik maak. Hierdie voertuig is in staat om selfstandig op sy eie te bestuur sonder die hulp van ʼn menslike bestuurder. Die stelsel maak gebruik van masjienleer algoritmes; dit leer van sy omgewing en kan reageer hoe om op te tree in verskeie situasies soos by verkeersligte en padtekens of hoe om ander voertuie te “lees”. Dit maak ook gebruik van beeldsensors om verskillende objekte te identifiseer en om sekere voorwerpe te vermy, soos voetgangers, fietsryers en diere. Dit kan kommunikeer met ander voertuie om te verseker dat daar geen botsings plaasvind nie.
“Chatbot” is nog ʼn voorbeeld van sterk KI. In die geval kan die stelsel oftewel ‘robot’ selfstandig leer met die hulp van gesprekke met mense. Die stelsel word ingespan in wye verskeidenheid velde soos vir kliëntediens, besigheidsnavrae en kan selfs in die mediese veld ingespan word vir gesondheidsorg.
AlphaGo: AlphaGo is nog ‘n KI-stelsel wat ontwikkel is deur Google om teen die beste Go-spelers in die wêreld te kan speel. Go is ‘n baie komplekse spel, en het ‘n baie groter moontlike spelvlaktes as skaak. AlphaGo het die spel geleer deur gebruik te maak van ‘n tegniek genaamd masjienleer, en het uiteindelik die wêreldkampioen in Go geklop.
In die afgelope tyd is daar baie vordering gemaak op hierdie gebied. Daar is reeds KI-stelsels wat in staat is om te leer deur middel van ‘n proses wat bekend staan as “diep leer”. Hierdie stelsels is in staat om selfstandig die patrone in data te identifiseer en daaruit te leer sonder menslike inmenging.
Verder is daar nuwe benaderings soos “versterkte leer”, waarin KI-stelsels deur middel van ‘n proses van beloning en straf geleidelik kan verbeter en aanpas in ‘n omgewing sonder direkte menslike instruksies.
Ons moet egter nie uit die oog verloor dat daar nog baie uitdagings is wat oorkom moet word voordat KI-stelsels regtig 100% in staat sal wees om selfstandig te leer, te redeneer en nuwe kennis te genereer sonder die mens.
Een van die grootste uitdagings is die ontwikkeling van algoritmes en modelle wat nie slegs akkuraat is nie, maar ook betroubaar en eties is.
Kortom, terwyl daar reeds baie vordering gemaak is in die rigting van KI-stelsels wat selfstandig kan leer en nuwe kennis kan genereer sonder menslike ingryping, is daar nog ‘n lang pad voor ons hierdie doel kan bereik.
Die moontlikhede van KI is egter baie opwindend en sal waarskynlik in die toekoms nog meer baie voordele vir die samelewing kan bied.
©Marlene Erasmus
29/03/2023
(716 woorde)
Bronne:
www.af.wikipedia.org/wiki/Kunsmatige_intelligensie
www.litnet.co.za/kunsmatige-intelligensie-2/
www.hsbvoorwaarts.co.za/kunsmatige-intelligensie-nader-as-wat-jy-dink/
April 2023 – KLUG projek
1.Hoekom is ’n funksionerende strafgeregstelsel belangrik?
Hoe moet ʼn land se strafregstelsel funksioneer?
Wat is ʼn strafregstelsel?
Strafreg verwys na die gedeelte van die publieke reg wat aandui watter oortredings strafbaar is en ook watter strawwe daarvoor toegepas moet word. Die land se strafregstelsel verwys na die stel reëls, prosedures en instansies wat gebruik word om oortreders te vervolg vir misdade om sodoende ʼn gepaste straf aan die wat skuldig bevind word, op te lê.
Die strafregstelsel word baseer op die beginsel dat ʼn persoon onskuldig is tot hy skuldig bewys word in ʼn konstitusionele hof. Dit is die staat se verantwoordelikheid om die aangeklaagde se skuld te bewys en dan ʼn gepaste straf op te lê. Die staat moet die beskuldigde bo redelike twyfel skuldig kan bewys. Indien die staat dit nie kan doen nie, moet die beskuldigde die voordeel van die twyfel ontvang.
Inleiding:
Sodra ʼn persoon bewus raak van ʼn misdaad moet dit aangemeld word by die polisie. As die oortreding strafbaar is en die persoon gee sy getuienis in die hof, speel hy ʼn uiters belangrike rol om die land se strafregstelsel toe te pas. Sodoende word daar na die landsburgers se belange omgesien en word daar seker gemaak dat die oortreders verantwoordelikheid moet aanvaar vir hul dade. Dit word van die strafregstelsel verwag om vinnig en effektief op te tree asook om die persoon met respek en waardigheid te hanteer. Die slagoffer moet ten alle tye respekteer word.
Wat is die minimumstandaarde?
Die Minimumstandaarde vir Dienste vir Slagoffers van Misdaad, word kortliks verwys na as “Minimumstandaarde”. Dit is ʼn dokument wat geskryf is om jou regte te verduidelik. Dit is jou regte soos verwoord in die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad in Suid-Afrika. Die Dienshandves en die Minimumstandaarde het net een doel voor oë, en dit is om inligting te verskaf rakende die regering se onderneming vir verbeterings van dienslewering aan slagoffers van geweld. Hierdie dokumente poog om die proses aan die slagoffers te verduidelik in verstaanbare terme.
Waarom moet die strafregstelsel doeltreffend funksioneer?Doeltreffendheid is van uiterse belang om verskillende redes.
• Beskerming van die samelewing: Misdadigers word ontmoedig as hul weet dat hulle gestraf sal word vir hulle misdade.
• Handhawing van reg en orde: Versekering dat burgers se regte beskerm sal word.
• Bevordering van vertroue in die regstelsel: Die samelewing sal vertroue ervaar teenoor die stelsel.
• Voorkoming van selfreg: Mense sal ontmoedig word om die reg in eie hande te neem.
• Positiewe impak op ekonomiese ontwikkeling: Die land sal positiewe impak op ekonomiese ontwikkeling ervaar. Dit maak die land ʼn veilige plek vir buitelandse beleggings.
Doeltreffende funksionering van ʼn land se strafregstelsel is regtig van kardinale belang.
Wat gebeur as die strafregstelsel nie effektief funksioneer nie?
Die gebrek aan ‘n doeltreffende strafregstelsel lei tot ‘n drastiese toename in misdaadbedrywighede en afname in vertroue in die regstelsel. Die land se ekonomiese ontwikkeling word benadeel en stabiliteit verdwyn.
Dit is van uiterse belang dat die strafregstelsel effektief en doeltreffend funksioneer om die regte van die landsburgers te beskerm en vir elkeen ʼn veilige, regverdige en betroubare samelewing te verseker.
Die strafregstelsel en korrupsie.
Wat is korrupsie? Alle vorms van oneerlike of kriminele optredes wat deur ʼn persoon of organisasie uitgeoefen word, is korrupsie. Korrupsie kan vele vorms aanneem, soos byvoorbeeld omkopery, geldwassery, verduistering en diefstal, om maar net paar te noem.
Korrupsie in ons land vier hoogty. Die inwoners van die land beleef ʼn stemming van ontnugtering, teleurstelling en baie woede jeens die regering. Diefstal, moord en omkopery se voorkoms dui op gebrek aan integriteit.
Volgens die vakbond Uasa (United Association of South Africa) speel die werkloosheidsyfer en armoede ʼn groot rol wat op rampspoed afstuur. In 2022 se eerste kwartaal het die werkloosheidsyfer met 0.8% gedaal terwyl prysinflasie en brandstofpryse gestyg het. Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa het die gevaar hieraan verbonde uitgespel.
Daar is ʼn beroep gedoen op al die inwoners van die land om saam na oplossings te help soek en nie net vir die regering te wag vir oplossings nie.
©MarleneErasmus
30/04/2023
(655 woorde)
https://www.netwerk24.com
www.prokureur.co.za
www.uir.unisa.ac.za
www.gov.za/about-sa
www.en.wikipedia.org/wiki/Criminal_justice
http://www.ipt.co.za/pdf/criminal_justice
Mei 2023 – OOP projek
1.Tina Turner
Biografie
Op 26 November 1938 word Anna Mae Bullock gebore in Tennessee. Op 24 Mei 2023 sterf die “Queen of Rock and Roll” op die ouderdom van 83. Sy staan bekend as Tina Turner, die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer wat met ʼn ster vereer is op ‘Hollywood Walk of Fame.’
Kinderjare
Anna-Mae Bullock se kinderjare was moeilik. Sy was die jongste dogter van Floyd Richard Bullock en Zelma Priscilla Bullock. Sy het twee ouer susters gehad, Evelyn Juanita Currie and Ruby Alline Bullock, ʼn liedjieskrywer. Die gesin het in die klein gemeenskap van Nutbush gewoon. Haar pa was opsigter van die deelboere by Poindexter Farm. Sy kon later onthou hoe sy op ʼn baie jong ouderdom saam met haar gesin katoen moes pluk.
Toe Anna-Mae baie klein was, word die gesin opgebreek toe haar ouers by ʼn fasiliteit gaan werk gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Anna-Mae het by haar streng, christelike grootouers, Alex en Roxanna Bullock gaan woon. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog word die gesin herenig en gaan vestig hulle in Knoxville. Na twee jaar verhuis hulle weer en vestig hulle in Nutbush waar Anna-Mae skool bywoon. Sy doen haar skoolopleiding tot graad 8.
Anna-Mae sing in die kerkkoor van die Baptiste kerk. Toe sy elf jaar oud is, verdwyn haar ma. Haar ma besluit dat sy genoeg gehad het van mishandeling en geweld en gaan woon in St. Louis. Skaars twee jaar later het haar pa weer getrou en hy en sy nuwe vrou verhuis na Detroit. Die dogters word na hulle ouma, Georgeanna Currie, in Brownsville gestuur om daar te gaan woon. Later het sy in ʼn outobiografie, “I, Tina” onthul dat sy nooit beplan was nie. Sy sê haar ma, Zelma wou toe al van haar pa skei, maar het swanger geraak en besluit om by Floyd te bly.
Vroeë jare
Gedurende haar tienerjare het sy as huishulp gewerk by die Henderson-gesin. Anna-Mae was ʼn regte rabbedoe wat baie van kuier gehou het. Toe sy sestien jaar oud was, het haar ouma gesterf en sy gaan bly by haar ma in St. Louis. In 1958 voltooi sy haar hoërskool opleiding en gaan werk sy as verpleegster by die Barnes-Jewish Hospitaal.
Anna-Mae en haar susters hou van die sosiale lewe en besoek talle nagklubs in St. Louis. Dit is hier waar sy kennis maak met Ike Turner en sy orkes: Kings of Rhythm. Sy is gaande oor hom en sy musiek. Afgesien van die feit dat min vroue in orkeste opgetree het, vra sy Ike om saam hulle te sing. Hy het egter nie ingestem nie, maar een aand in 1957 kry sy die mikrofoon van Eugene Washington in die hande. Sy begin sing: “You Know I Love You”, en Ike is baie beïndruk. Sy het die hele aand saam met die orkes gesing. In 1958 verskyn haar liedjie onder die naam van Little Ann, op die enkelsnit “Boxtop”.
Huwelike
In 1962 tree Anna-Mae en Ike in die huwelik. Ike besluit dat Anna-Mae onder die naam: Tina Turner sou optree. Uit hierdie huwelik word haar tweede seun gebore. Haar eerste seun, Ronnie is in Oktober 1960 gebore. In 1963 verhuis hulle na ʼn huis in die View Park area. Ike, Tina, hul seuns: Ronnie, Craig en Ike Jnr en Michael tesame met Ike se vorige meisie, Lorraine Taylor woon saam.
Tina het later in haar biografie, I, Tina onthul dat Ike beledigend en wreed was tydens hulle huwelik. Dit het gelei daartoe dat sy in 1968 ʼn oordosis Valium-pille neem om haar lewe te beëindig. Alhoewel sy baie lief was vir Ike het hy haar groot ongelukkigheid veroorsaak.
Een aand tydens hul reis na die Dallas Statler Hilton, rand Ike haar verskriklik erg aan. Dit was die laaste strooi en Tina wag tot hy slaap, sy verlaat hom met haar donkerbril op haar gesig en 36 sent in haar sak. Sy doen aansoek om te skei. Op 29 Maart 1978 is sy finaal van Ike geskei.
In 1986 ontmoet Tina vir Erwin Bach. Hy is meer as sestien jaar jonger as Tina en Julie 2013 tree hulle in die huwelik nadat hulle 27 jaar in ʼn verhouding was.
Kinders
Tina het twee biologiese seuns: Raymond Craig, gebore op 20 Augustus 1958 by die saksofoonspeler, Raymond Hill. Haar tweede seun is saam met Ike Turner, Ronald “Ronnie” Turner, gebore op 27 Oktober 1960. Tina het ook Ike Turner se kinders aangeneem. Ike het Tina se oudste seun aangeneem en sy naam verander na Craig Raymond Turner. In Julie 2018 is Craig dood gevind nadat hy oënskynlik selfmoord gepleeg het. Haar jonger seun, Ronnie was getroud met die Franse sangeres Afida Turner. Ronnie is in Desember 2022 dood aan komplikasies van kolonkanker.
Geloof
Tina Turner het na haarself verwys as ʼn Boeddhis-Baptis. Sy het opgegroei in die Baptistekerk waar haar pa ʼn diaken was, sy het as volwassene die Boeddhisme-geloof aangeneem.
Gesondheid
In haar 2018-memoir: “My Love Story” het sy aan die lig gebring dat sy verskeie lewensbedreigende siektes gehad het. Sy het sedert 1978 hoë bloeddruk gehad wat gelei het tot nierversaking. Drie weke na haar troue met Erwin Bach, het sy ʼn ernstige beroerte gehad en sy moes van vooraf leer loop. In 2016 word dermkanker by haar ontdek. In 2019 het sy geassisteerde selfmoord oorweeg wat wettig is in Switserland. Haar man Erwin oorreed haar egter om vir nieroorplanting te gaan en hy skenk haar ʼn nier.
Laaste tyd
Op 24 Mei 2023 sterf die legendariese Tina Turner op 83-jarige ouderdom by haar huis in Switserland.
Tina Turner word onthou vir haar liefde vir musiek en dans. Soos baie sal sê, was sy: “Simply the BEST!”
©MarleneErasmus
27/05/2023
(939 woorde)
www.tinathemusical.com/uk/timeline
www.tina-turner.nl/biography.php
www.imdb.com/name/nm0877913/bio/
www.memphismusichalloffame.com/inductee/tina-turner/
Junie 2023 Winter projek
2.Klimaatsverandering: feit of foefie?
Die aarde staar ʼn onbetwisbare bedreiging in die gesig – klimaatsverandering! Dit is tyd om ons oë oop te maak vir hierdie werklikheid. Hierdie probleem hou ons toekoms in sy greep. Die vraag is nie of klimaatsverandering ʼn werklikheid is nie, maar eerder hoe ons hierdie probleem gaan aanpak om die veiligheid van ons toekoms te waarborg.
Klimaatspatrone verander, al hoe meer natuurrampe vind plaas en daar is afname in biodiversiteit. Jy kan kies om die gegewe feite te ignoreer, maar dit is ʼn feit dat die mens en sy aktiwiteite die hoof rolspelers in hierdie drama is.
Die kwessie van klimaatsverandering is ʼn baie kontroversiële aangeleentheid. Dit is nie net wetenskaplike of omgewingskwessie nie, maar beslis ook ʼn sosiale, ekonomiese en politieke kwessie. Klimaatsverandering is ʼn bron van spanning en debattering tussen individue, gemeenskappe en lande.
Hierdie artikel kyk na die bestaansreg van klimaatsverandering asook die impak van optrede om die bedreiging te stuit.
Argumente vir Klimaatsverandering.
Ons kan hier kyk na twee hoofkategorieë:
- Wetenskaplike argumente:
Navorsing deur wetenskaplikes ondersteun die teorie dat klimaatsverandering ʼn werklike verskynsel is. Hulle baseer hulle bevindinge op die volgende feite: - Stygende koolstofdioksied (CO2):
Verbranding van fossielbrandstowwe asook die stygende getal woude wat ontbos word. Hierdie verhoogde CO2-vlakke verhoog die natuurlike kweekhuis-effek wat lei tot temperature wat styg.
b. Aardverwarming:
Die aarde se temperature het oor die laaste paar dekades verander. Studies deur wetenskaplikes het gevind dat aards oppervlak so wel as see-temperature geleidelik styg.
c. Klimaatsveranderings-patrone:
Regoor die wêreld het klimaatpatrone toenemend verander. Hieronder kry jy hoër temperature, reënvalpatrone wat verander, verhoogde verskynsels soos droogte, orkane, vloede en hittegolwe. - Impak- asook risiko-argumente:
Hier kan jy ook kyk na die potensiële effek van klimaatsverandering op die mens, sy omgewing en ekonomiese stelsels. - Ekologiese impak:
Klimaatsverandering kan beslis ʼn negatiewe uitwerking hê op die wêreld se ekosisteme en biodiversiteit. Dit veroorsaak verlies van spesies, habitatte wat verdwyn en verandering in die lewensgemeenskappe, asook sisteme wat afhanklik is vir voedselvoorsiening en ander ekostelsels dienste.
b. Menslike impak:
Die veranderinge in klimaatspatrone kan ʼn definitiewe uitwerking hê op die mens se welstand en ook sy gesondheid. Ons kyk na siektes-verspreiding, voedseltekorte, watertekorte, migrasie van die mense asook sosiale en ekonomiese onstabiliteit.
c. Ekonomiese gevolge:
Klimaatsverandering kan tot ekonomiese verliese lei deur skade aan infrastrukture en verlies van landbou produksie. Dit kan ʼn negatiewe uitwerking hê op globale ekonomie en lewenskwaliteit.
Argumente teen Klimaatsverandering.
Alhoewel klimaatsveranderinge ʼn realiteit is, is daar ook argumente teen klimaatsverandering. Hier volg paar punte wat die klimaatskeptici voorhou. Hou egter in gedagte dat hierdie punte nie ooreenstem met die wetenskaplike konsensus nie. In party gevalle word die punte ook nie ondersteun of bewys met wetenskaplike bewyse nie.
- Klimaatsverandering is ʼn natuurproses.
Die teenstanders beweer dat klimaatsveranderings ʼn natuurlike verskynsel is en dat ons huidige verandering in die weer binne die normale val. Hulle sê dat die aarde in die verlede natuurlike fluktuasies ervaar het, sonder dat menslike optrede dit beïnvloed het. - Son-aktiwiteit.
Sommige mense beweer dat die son se aktiwiteite, soos sonwind en sonvlekke ʼn groter invloed op die klimaat uitoefen as menslike aktiwiteite. Hulle gaan verder en sê dat aardverwarming verband hou met natuurlike veranderings in die son se eie energie-uitstraling. - Onbetroubare klimaatmodellering.
Die klimaatskeptici voer aan dat die klimaatmodellering onakkuraat is. Hulle beweer dat die model wat gebruik word, beperkinge het wat nie die dinamiese aard van die aarde se klimaatsisteem korrek kan verteenwoordig nie. - Natuurlike faktore.
Hier sê die teenstanders dat invloed van natuurlike faktore, soos vulkaniese bedrywighede en die natuurlike fluktuasie in die oseane, die hoof oorsake is van klimaatsverandering. Volgens hulle is die rol van die natuur op klimaatsverandering baie groter as die rol wat die mens speel. - Ekonomiese gevolge van maatreëls.
Daar is mense wat klem plaas op die ekonomiese gevolge van die implementering van ʼn klimaatsveranderingsbeleid. Hulle beweer dat dit ʼn groter negatiewe impak kan plaas op die groei van die ekonomie, besigheidsaktiwiteit en ook werksgeleenthede.
Dit moet weer benadruk word dat die argumente nie in ooreenstemming met wetenskaplike konsensus oor klimaatsverandering is nie. Wetenskaplike bevindings en navorsing steun die idee dat die mens se aktiwiteite asook verhoogde CO2-vlakke, ʼn belangrike bydrae lewer tot klimaatsverandering.
Ongeag verskille in sienings oor klimaatsverandering, mag ons nie die feit ignoreer dat ons ʼn groot uitdaging in die gesig staar nie. Klimaatverandering raak nie net die natuur nie, maar het ook ʼn baie spesifieke impak op die mens, gemeenskappe, ekonomieë en die toekoms.
Ons mag nie toelaat dat die verskillende oortuigings ons verdeel nie. Ons moet fokus op samewerking en gesamentlike optrede. Dit is nou die tyd om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons optrede.
Ons moet ʼn nalatenskap van bewustheid en bewaring skep, sodat die toekomstige geslag kan voortbou op ʼn gesonde planeet.
©MarleneErasmus
26/06/2023
Bronne:
www.maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-n-gebalanseerde-debat-oor-klimaatsverandering/
www.landbou.com/landbou/weer/klimaatsverandering-tameletjie-om-effek-op-diere-te-voorspel-20210825
https://af.wikipedia.org/wiki/Aardverwarming
https://af.warbletoncouncil.org/consecuencias-cambio-328
(802 woorde)
Julie 2023 – OOP projek
1.Sinéad O’Connor se stem raak stil
Woensdag het die familie van Sinéad aangekondig: “Dit is met groot hartseer dat ons die dood van ons geliefde Sinéad aankondig. Sy was 56 jaar oud. Hulle hartseer was duidelik hoorbaar toe hulle privaatheid versoek het.
Die Ierse popsensasie het haar gewildheid verkry in die 1990’s met die lied: “Nothing Compares 2 U”, oorspronklik geskryf deur Prince. Sinéad was veral bekend vir haar unieke stem, maar ook vir haar rebelse houding. Sy het haar eie mening gehad oor godsdiens, menseregte en geestesgesondheidkwessies, en het nie geskroom om haar stem te laat hoor nie.
Kinderjare
Sy word op 8 Desember 1966 gebore as Sinéad Marie Bernadette O’Connor in Dublin, Ierland.
Haar kinderjare was nie maklik nie en het ‘n groot rol gespeel op haar persoonlikheid as volwassene. Dit het ook haar musiekstyl bepaal in haar loopbaan as kunstenaar. Haar ouers is geskei en sy het saam met haar broers en susters by haar ma, Marie gewoon. Sy en haar ma het ‘n stormagtige verhouding gehad en sy is dikwels emosioneel en fisiek mishandel. Dit het daartoe gelei dat sy haar onttrek het. Sy het uiters onveilig gevoel in haar gesinsomgewing.
Op die jong ouderdom van 15-jaar het sy na ‘n groot geveg met haar ma besluit om weg te loop. Sy was vir ‘n tyd op straat, maar haar winkeldiefstal gewoontes het daartoe gelei dat sy vir 18 maande in ‘n inrigting beland het. Die inrigting het bekend gestaan as die Grianán-opleidingsentrum in Drumcondra.
Begin van musiek-loopbaan
Sy het haarself in musiek gevind toe sy in haar tienerjare begin sing het. Haar heel eerste album , “The Lion and the Cobra” word in 1987 vrygestel. Sy neem die verhoognaam van Magda Davitt aan. In 1990 reik sy haar tweede ateljee-album, “I Do Not Want What I Haven’t Got” uit. Die hoof-snit, “Nothing Compares 2 U” wat geskryf is deur die kunstenaar Prince, word in 1990 deur die Billboard Music Awards aangewys as die nommer een wêreld-enkelsnit. Haar opname van “Nothing Compares 2 U” word meer as 400 miljoen kere gekyk op YouTube.
Latere loopbaan
In haar leeftyd reik Sinéad tien ateljee-albums uit. Twee van haar albums, 1992 se “Am I Not Your Girl?” en 1994 se “Universal Mother” bereik goue status in Brittanje. In 2000 het haar album, “Faith and Courage” goue status in Australië gekry, en in 2005 het, “Throw Down Your Arms” goud behaal in Ierland. Sy verskaf ook talle liedjies vir films en het ook saam met ander kunstenaars opgetree vir liefdadigheidsfondsinsamelings-konserte. Haar 2021-memoir, “Rememberings” was ‘n topverkoper.
Die omstrede kant
Sy is die kunstenaar wat nie net vir haar goue stem onthou sal word nie. Sy kon haar stem laat hoor om haar opinies en oortuigings aan die wêreld bekend te maak. Haar uitgesprokenheid het dikwels tot gelei tot baie kontroversie.
In Oktober 1992 tydens “Saturday Night Live”, skeur sy ‘n foto van pous Johannes Paulus op. Dit dien as bewys van haar protes teen onregte wat gepleeg word teen kinders in die Katolieke kringe. Met die aksie sing sy Bob Marley se lied, “War”.
Skaars twee weke na die episode, met die 30ste herdenkingkonsert vir Dylan, was die woede nog sigbaar toe sy wee die lied “War” acapella sing! Sy het in trane uitgebars en is deur Kris Kristofferson van die verhoog af gelei.
Sinéad en geloof
Sy staan bekend vir haar komplekse spirituele reis. In haar jonger jare is sy grootgemaak in ‘n Katolieke gesin. Sy het self op ‘n stadium oorweeg om ‘n non te word. Die Katolieke agtergrond het ‘n groot invloed gehad op sommige van haar vroeëre musiek.
In 1999 word sy as ‘n priester ingelyf in die Latynse Tridentynse Kerk. Hierdie kerk is deel van die Rooms-Katolieke Kerk wat die liturgie en die tradisies volg soos dit voor die Tweede Vatikaanse Konsilie was. Hulle gebruik die “Tridentynse Mis,” wat ook bekend staan as die “Tradisionele Latynse Mis.”
Haar persoonlike lewe
Sinéad se lewe is gekenmerk deur onstuimige kenmerke. Daar was die moeilike verhoudings, asook die gesondheidsprobleme waarmee sy geworstel het.
Sinéad was vier keer getroue en uit die huwelike is daar vier kinders gebore: Jake in 1987, Roisin in 1995, Shane in 2004 en laastens Yeshua in 2006. Onder haar verhoudings duik daar name op van Peter Gabriel en John Waters.
Sy het aan ‘n bipolêre versteuring gelei en is in 2003 gediagnoseer met fibromialgia. Dit is ‘n chroniese toestand wat baie pyn veroorsaak.
In 2022 pleeg haar seun, Shane selfmoord op die brose ouderdom van 17 jaar. Sy het haar seun se dood baie moeilik gevind.
Deur haar lewe het sy verskeie selfmoord pogings gehad , waarvan die laaste een in 2023 haar einde beteken het. Sy was by haar huis in Ierland tydens haar afsterwe.
Nalatenskap
Sinéad sal onthou word. Sy was die ikoon wat man kon staan, en sy het derduisende mense ontroer met haar porseleinstem.
Sinéad, ek sluit af met Prince se woorde: “Nothing compares to YOU!”
©MarleneErasmus
30/07/2023
(832 woorde)
Bronne:
https://www.irishtimes.com/culture/music/2023/07/26/sinead-oconnor-acclaimed-dublin-singer-dies-aged-56/
https://www.heart.co.uk/showbiz/explained/sinead-oconnor-children-son-shane-death/
https://en.wikipedia.org/wiki/Sinéad_O%27Connor#2020s
2.Tupperware-triomf: ’n era van plastiek
In die afgelope eeu is daar een naam wat uitstaan as simbool van uitnemendheid in voedselbewaring en voedselberging: Tupperware. Hierdie ikoniese produk het ʼn enorme rol gespeel in die manier waarop baie huishoudings voedsel bewaar, voorberei en geberg het. Tupperware het beslis in menigte huisvroue, wêreldwyd se harte gekruip.
Die ontstaan.
Tupperware se ontstaan het vroeg in 1942 plaasgevind toe Earl Tupper, ʼn Amerikaanse chemikus sy eerste klokvormige plastiekhouer ontwerp het. Daarna het vele plastiekhouers die lig gesien. Earl het sy eie onderneming gestig in Leominster, Massachusetts. Hy noem sy besigheid: Tupper Plastics. Vier jaar later het hy aan die afronding van sy plastiek verander en het poliëtileen gebruik om sy eerste Tupperware-stel – The Wonder Bowl, bekend te stel.
Die bak was ʼn plastiekbak wat met ʼn baie digte seël die inhoud veel langer kon vars hou. In daardie beginjare wou hy sy produkte aan winkels verkoop, maar dit het nie voorspoedig gegaan nie. Mense was nie bewus van die voordele wat Tupperware vir hulle ingehou het nie. Toe verskyn Brownie Wise op die toneel.
Die Tupperware-partytjie revolusie.
Brownie Wise was ʼn geskeide adviesrubriekskrywer van Florida. Sy het ʼn goeie aanvoeling gehad vir bemarking en kon ʼn geleentheid in die mark raaksien en benut tot Tupperware se voordeel. Brownie het begin met die sogenaamde Poly-T-partytjies waartydens sy die houers demonstreer het. Haar teikenmark was tuisteskeppers. Bietjie later het sy dan huisvrouens gewerf om ook te help met die bemarking van Tupperware. Tupperware-parytjies het die “in-ding” geword en verkope het die hoogte ingeskiet.
Die duursaamheid van Tupperware.
Een van die uitsonderlike eienskappe van Tupperware is beslis sy duursaamheid. In die tyd waarin ons leef waar plastiekprodukte dikwels eenmalig gebruik word wat ʼn ernstige omgewingsprobleem veroorsaak, bied Tupperware ʼn betroubare oplossing vir die probleem. Tupperware se lewensduur en kwaliteit het tot gevolg dat dit vir jare gebruik kan word. Sodoende verminder dit die probleem van plastiekafval. Tupperware bied ʼn groener alternatief vir die mensdom.
Toe dinge begin skeef loop.
Deur die jare was Tupperware so suksesvol dat dit amper in ʼn selfstandige naamwoord verander het. Daar is baie prototipe plastiekware vervaardig en enige plastiekhouer is Tupperware genoem, al was dit nie die ware Jakob nie. Daar het verskeie probleme opgeduik in die Tupperware-kamp soos byvoorbeeld die manier van direkte verkoopsmag tot by handelsnaamkwessies. Finansiële probleme het opgeduik weens hoër rentekoerse en dalende verkope.
Die beskikbaarheid van verskeie plastiekware het Tupperware se bestaan bedreig. Die strawwe mededinging van groter en bekende handelsmerke soos Pyrex en Glad het ook bygedra tot Tupperware se dilemma.
Baie verbruikers het van mening verander om na meer volhoubare maniere te kyk vir die berging van kos.
Is die einde in sig?
Daar is onlangs berig dat die Tupperware-ryk moontlik hul einde in die gesig staar. Daar word melding gemaak van finansiële probleme en groot skuldlas.
Tupperware-produkte mag dalk binnekort versamelitems word.
©MarleneErasmus
21/07/2023
(482 woorde)
Bronne:
www.en.wikipedia.org/wiki/Tupperware
www.people.howstuffworks.com/tupperware2.htm
www.rarehistoricalphotos.com/tupperware-parties-pictures-history/
www.tupperware.com/
Augustus 2023 – Musiek projek
2.Musiekterapie vir trauma slagoffers
Deesdae is daar soveel wat aangaan in die wêreld rondom ons. Jy hoor byna daagliks van gebeurtenisse soos skietvoorvalle by skole, aardbewings, vloede of brande om paar op te noem. Diep in die menslike psige het musiek die vermoë om emosies en herinneringe op te wek wat soms moeilik met woorde uitgedruk kan word. Vir slagoffers van geweld, wat ook dikwels met komplekse emosionele en sielkundige wonde worstel, bied musiekterapie ‘n unieke pad na genesing en herstel.
Wat is Musiekterapie?
Terapeute maak gebruik van musiekterapie, dit is ‘n professionele gesondheidsbenadering waarin musiek gebruik word om individuele te behandel. Die doelwitte kan verskil van geval tot geval met betrekking tot emosionele uitdrukking en interaksie, kognitiewe ontwikkeling en fisiese koördinasie.
In die geval van trauma slagoffers van geweld kan die terapeutiese ervaring van musiek help om deur die emosies te werk. Sodoende word die emosionele wonde genees, stres verlig en ‘n nuwe sin van veiligheid gevestig.
Hoe werk musiekterapie?
Musiekterapie is ‘n vorm van terapie waar musiek aangewend word om die gesondheid en welstand van die slagoffers te verbeter. Die kern van die vorm van terapie lê in die terapeutiese verhouding tussen terapeut en sy pasiënt. Die opgeleide terapeut sal gebruik maak van verskeie tegnieke. Om paar te noem:
1. Aktiewe musiekmaak; Hier maak die pasiënt en terapeut saam musiek, dit help om emosies uit te druk en sodoende sosiale vaardighede te ontwikkel.
2. Luister na musiek; Die proses lei tot diepsinnige introspeksie en kan die pasiënt help om sy persoonlike pynlike herinneringe te verwerk.
3. Skryf van musiek; Hier kan die pasiënt sy eie ervaring en gevoelens kommunikeer en te dokumenteer.
Voordele van musiekterapie
Vir baie slagoffers van geweld, kan tradisionele terapie soos praatjies soms te veel voel na konfrontasie. Dit kan dan lei dat hulle oorweldig voel deur die praatjies. Musiek bied egter ‘n alternatiewe medium waardeur hulle hul gevoelens kan uitdruk sonder om noodwendig weer die trauma te herleef. Enkele voorbeelde:
1. Emosionele Uitdrukking: Musiek bied ‘n veilige ruimte waarin die individu hul eie pyn, woede, hartseer en hoop kan uitdruk.
2. Vermindering van angs en spanning: Die ritmiese melodieuse aard van musiek kan help om die liggaam en gees kalm te kry.
3. Verhoogde sosiale verbindings: Aktiewe maak van musiek kan sosiale vaardighede bevorder en interaksie tussen mense aanmoedig.
4. Verbeterde liggaamlike koördinasie: Ritmiese aktiwiteite, soos tromme, kan help om motoriese vaardighede en liggaamlike bewuswording aan te moedig.
Getuienis uit die praktyk
‘n 32-jarige slagoffer van huislike geweld, beskryf haar ervaring van musiekterapie as die keerpunt in haar genesingsproses.
Kritiek en uitdagings
Hoewel baie mense die voordele aanvaar, is dit nie noodwendig ‘n een-grootte-vir-almal benadering nie. Paar kritici argumenteer dat musiekterapie nie altyd die diepste vlakke van trauma kan aanspreek nie en dat dit beter as ‘n aanvullende terapie gebruik moet word, eerder as ‘n primêre behandeling.
Slotgedagtes
Terwyl musiekterapie nie noodwendig die antwoord vir elkeen is nie, bied dit ‘n baie kragtige hulpmiddel in die arsenaal van terapeutiese benaderings vir trauma slagoffers van geweld. Dit is ‘n bewys van die universele en transformerende krag van musiek – ‘n groot krag wat kan help om die wonde van die verlede te genees en ‘n toekoms van hoop en genesing te skep.
©MarleneErasmus
31/08/2023
(532 woorde)
Bronne:
https://af.warbletoncouncil.org/musicoterapia-2048
https://kedlaguru.bid/huis/41185-8-maniere-om-trauma-en-depressie-genees.html
https://welstand.solidariteit.co.za/nuwelinge-op-terapietoneel/
https://scholar.ufs.ac.za/bitstream/handle/11660/1674/StraussM.pdf?sequence=1&isAllowed=y
3.Musiekterapie vir gestremde kinders
Musiek, as universele taal, spreek tot die siel waar woorde faal om deur te dring. Musiek bied aan kinders met gestremdhede ‘n unieke geleentheid om hulself uit te druk. Sodoende word hul gehelp om hul volle potensiaal te ontdek. Die gebruik van musiek in terapie bied talle voordele.
Wat is musiekterapie?
Musiekterapie is die kliniese benadering waar musiek deur gekwalifiseerde terapeute gebruik word om individue te help met verskeidenheid kognitiewe sowel as emosionele uitdagings. Dit word aangewend om die geestelike sowel as die fisiese gesondheid te verbeter. Die terapie behels nie bloot luister na musiek nie, maar eerder ‘n interaktiewe en doelgerigte proses wat elke individu se behoeftes in aanmerking neem.
Musiekterapie moet nie verwar word met musikale instruksie nie. Indien die doelwit is om instrumentele vaardighede te ontwikkel, moet daar eerder gekyk word na ‘n musiek-onderwyser.
Die wetenskaplike grondslag van musiekterapie.
Musiek is ‘n kragtige stimulant vir die brein. Navorsing het bevind dat musiek die vermoë besit om die limbiese stelsel te beïnvloed. Die limbiese stelsel is ‘n groep breinstrukture bo-aan die breinstam en onder die korteks. Dit is verantwoordelik vir emosies en motiverings en speel ‘n rol in die perifere senuweestelsel. Elizabeth L Stegemöller het in haar navorsing bevind dat musiekterapie ‘n ideale hulpmiddel is.
Die Voordele van Musiekterapie
Kognitiewe Voordele: Musiek kan help om aandag en konsentrasie te verbeter en kan ook bydra tot die verbetering van kognitiewe vaardighede soos geheue en probleemoplossing.
Fisiese Voordele: Ritmiese stimuli kan help met motoriese koördinasie, wat veral nuttig is vir kinders met fisiese gestremdhede.
Emosionele Voordele: Musiek kan dien as ‘n uitlaatklep vir emosionele uitdrukking en kan ook gevoelens van angs en depressie verminder.
Toepassing op Gestremde Kinders
Musiekterapie word aangepas volgens die spesifieke behoefte van elke kind. Of ‘n kind ‘n leer-gestremdheid, outisme, ‘n fisieke gestremdheid, of ‘n ander uitdaging het, kan ‘n gekwalifiseerde musiekterapeut programme ontwerp wat spesifiek daarop gemik is om daardie kind te help.
Praktiese Voorbeelde
Een van die mees suksesvolle metodes in musiekterapie is die gebruik van liedjies om roetines vir die kind aan te leer. Vir kinders wat sukkel om sekere daaglikse roetines te onthou of te volg, soos aantrek of hare kam, kan ‘n spesifieke liedjie geskep word wat die stappe van daardie roetine beskryf. Deur daardie liedjie elke dag te sing, kan die kind gehelp word om die roetine te onthou en te volg.
Vir kinders wat dit moeilik vind om hulself verbaal uit te druk, kan die bespeling van ‘n musiekinstrument, soos ‘n klawerbord of fluit, ‘n manier wees om gevoelens en emosies uit te druk sonder woorde. Dit kan veral nuttig wees vir kinders met spraak- en taalgestremdhede.
Vir kinders met motoriese gestremdhede, soos diegene met Serebraal Palsie, kan ritmiese oefeninge soos handeklap of trommelspeel help om motoriese beheer en koördinasie te verbeter. Deur op ‘n trom te slaan in ‘n spesifieke ritme, kan die kind nie net ritmiese vaardighede aanleer nie, maar ook motoriese beheer oor sy of haar ledemate verbeter.
Die Toekoms van Musiekterapie
Met die voortgesette navorsing oor die voordele van musiekterapie, en met meer bewusmaking in die gemeenskap, is die toekoms vir musiekterapie in Suid-Afrika en wêreldwyd belowend.
Soos Hans Christian Anderson gesê het: “Waar woorde faal, spreek musiek.”
©Marlene Erasmus
31/08/2023
(541 woorde)
Bronne:
https://www.mymundaneandmiraculouslife.com/10-incredible-benefits-of-music-for-special-needs-kids
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/25316915/
Oktober 2023 – KORT projek
2.Wie is die kortste?
As mens dink aan rekords, kom Die Guinness World Records dadelik by jou op. Die Guinness World Records word jaarliks gepubliseer. Hierin kan jy ‘n wye verskeidenheid van wêreldrekords vind. Dit sluit menslike prestasie asook natuurverwante verskynsels in. In hierdie boek kan jy verskeie rekords vind soos byvoorbeeld, die oudste, vinnigste, swaarste, grootste, kleinste ensovoorts. Jy sal ook die langste of korste in die lys vind. Alle rekords aangeteken moet aan spesifieke kriteria voldoen om aanvaar te word soos: meetbaar, breekbaar, standaardiseerbaar, verifieerbaar en gebaseer word op die feit dat dit die beste in die wêreld is. Hulle het baie streng beleid wat gevolg moet word.
Kom ons kyk na die kortste mense wat opgeteken is.
Korste lewende man:
‘n 20-jarige man van Iran, Afshin Esmaeil Ghaderzadeh is in Desember 2022 as die heel kortste lewende man aangewys deur Guinness World Records. Hy is op 13 Julie 2002 gebore in ‘n klein dorpie in die Bukan-distrik in Iran. Met sy geboorte het hy die skaal op ‘n skrale 700 gram getrek. Vandag weeg Afshin 6.5kg met ‘n lengte van 65.24cm. Hy kon nie skool bywoon nie as gevolg van sy grootte, maar hoop om met sy nuwe roem donasies te kry om sy gesin te help versorg.
Kortste lewende vrou:
Jyoti Amge is op 16 Desember 1993 gebore in Nagpur, Indië. Sy is ‘n aktrise wat bekend is vir haar rolle in American Horror Story, Bigg Boss en CAVEiN. Sy ly aan die toestand genaamd primordiale dwerggroei – achondroplasie. Die toestand het veroorsaak dat sy ‘n lengte van slegs 62.8 cm is. Op haar 18de verjaarsdag in Desember 2011 is sy in die Guinness World Records aangeteken. As aktrise en sosiale media-ster lei sy ‘n vol lewe en dien as inspirasie vir ander kort mense.
Kortste man wat geleef het:
Volgens kennis was Chandra Bahadur Dangi van Nepal die heel korste mens wat ooit geleef het. Hy is gebore op 30 November 1939 en is oorlede op 3 September 2015. Hy was net 54.6cm lank en is op 26 Februarie 2012 in die Guinness World Records aangeteken. Op die ouderdom van 75 is hy oorlede. Hy het geboer en was gelukkig met sy lengte. Hy word onthou vir sy vriendelike, nederige geaardheid wat sy plek in die samelewing vol gestaan het.
Dit wys net dat mens voluit kan lewe, ongeag hoe kort of hoe lank jy is.
©MarleneErasmus
30/10/2023
(409 woorde)
Bronne:
https://en.wikipedia.org/wiki/Afshin_Esmaeil_Ghaderzadeh
https://www.guinnessworldrecords.com/records/hall-of-fame/jyoti-kisanji-amge-shortest-woman-living
https://www.indiatoday.in/education-today/gk-and-current-affairs/story/chandra-bahadur-dangi-261562-2015-09-07
November 2023 – OOP projek
2.Net een Antjie Krog
Vroeë lewe en herkoms
Op 23 Oktober 1952 word Anna Elizabeth Krog gebore op Middenspruit, ‘n plaas naby Kroonstad. Sy was die oudste van die gesin se vyf kinders. Daar is drie seuns en twee dogters vir die egpaar gebore. Haar ouers was Willem Krog, ‘n boer van beroep, en Susanna Jacoba Serfontein wat bekend gestaan het as Dot Serfontein, die skryfster. Danie Serfontein, haar oupagrootjie aan haar ma se kant van die familie, was ‘n parlementslid vir Kroonstad.
Onderrig
Sy was ‘n leerling aan die Hoërskool Kroonstad waar sy haar matriekjaar voltooi het. Antjie het reeds van jong ouderdom af belangstelling getoon in taal en digkuns. Van haar gedigte in die skool se jaarblad het vir groot opskudding veroorsaak vanweë die seksuele beskrywings en politieke verse wat as lasterlik gesien. Sy word byna oornag bekend toe Die Beeld van 16 Augustus 1970 op bladsy 5 ‘n artikel plaas oor haar.
“Dorp gons oor gedigte in skoolblad”
Een van ons voorste digters reken haar werk is verbasend goed. Sy lewer
kuns, sê haar skoolhoof, en baie mense kan haar werk nie na behore
waardeer nie. Maar Kroonstad gons oor die sewentienjarige Antjie Krog,
Matriekleerling aan die hoërskool.
Antjie studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en in 1973 verwerf sy haar B.A.-graad met die hoofvakke: Engels, Wysbegeerte en Afrikaans-Nederlands.
As student dien sy op die redaksie van Irawa en Shimla, die studente dagblaaie.
Loopbaan en verdere onderrig
Tydens haar lewe as student aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ontmoet sy vir Albie van Schalkwyk. Hy was ‘n bekende pianis. Toe hy Kaapstad toe verhuis volg sy hom. Sy word aangestel by Die Burger. In 1973 tree sy in die huwelik met Albie. Daar word vir hulle ‘n seun, Andries gebore in 1974. Die huwelik beland egter gou op die rotse en hulle paaie skei in 1976.
Sy is egter later daardie jaar weer getroud met ‘n ou skoolliefde, John Samuel. Hy was ‘n argitek van beroep. Die huwelik lewer drie kinders op: Susan, Phillip en Willem.
Antjie verwerf ‘n B.A. Honneurs-graad in Engels aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Haar M.A.-graad in Afrikaans verwerf sy aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling oor die onderwerp Familiefigure in die poësie van D.J. Opperman. Sy kry ook haar Onderwysdiploma met lof van die Universiteit van Suid-Afrika.
Joernalis en digter
Antjie staan haar plek vol as huisvrou en ma terwyl sy ook onderwyseres is by ‘n hoërskool in Kroonstad. In 1993 vul sy die pos van redaktrise by Die Suid-Afrikaan in Kaapstad. Later word sy aangestel as politieke verslaggewer by die SABC Radio-diens. Sy is ook die verslaggewer wat berig moet lewer oor die werksaamhede van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK). Na hierdie tydperk in haar lewe skryf sy Country of my skull in Afrikaans. Nadat sy in 1999 bedank het, het sy voltyds begin skryf.
In 2001 is Antjie verkies tot ‘n komitee om die taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse onderrig sektor moet bestudeer. In 2004 aanvaar sy die pos van Buitengewone Professor by die Universiteit van die Wes-Kaap. Tydens die tyd lewer sy gedenklesings en verskyn sy ook op televisie.
Sy vier haar sestigste verjaarsdag in Den Haag.
Omstredenheid
Antjie skroom nie om haar ten sterkste uit te spreek teen maatskaplike onreg nie. Sy is dikwels betrokke in polemiek en stamp koppe met vele ander mense. In 1987 bots sy met Ton Vosloo oor die bedanking van die redakteur, Dene Smuts.
In 2003 spreek sy haar uit dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie aanvaar nie tydens ‘n simposium van die NG Kerk.
Kritiek teen Antjie
In 2006 word sy beskuldig van plagiaat deur professor Stephen Watson van die Universiteit van Kaapstad. Hy beweer dat haar digbundel met vertalings van Sandigters, die sterre sê ‘tsau’, gebaseer is op sy eie bundel . Antjie ontken die bewering van Watson ten sterkste.
Poësie
1966 – 1970 verskyn Antjie se eerste werk in skoolkoerante en sy wen verskeie literêre kompetisies vir skoolgaande leerlinge.
1970 publiseer sy haar debuutbundel Dogter van Jefta wat hoofsaaklik uit hoërskoolgedigte bestaan oor onderwerpe van liefde, seksualiteit, volk, vaderland en godsdiens
1972 publiseer sy Januarie-suite wat bestaan uit intieme liefdesgedigte, asook die soeke na dinge wat verlore is. Hiervoor ontvang sy die Eugène Marais-prys.
1974 publiseer sy Beminde Antarktika asook Mannin wat handel oor vrouens se belewenisse voor en na die huwelik. Vir hierdie bundels ontvang sy die Reina Prinsen Geerligs-prys.
1979 publiseer sy Otters in bronslaai, ‘n hoogtepunt in haar loopbaan. Dit handel oor die self, huweliksmaat, seksualiteit, kerke en digkuns op verskillende maniere. Hier ontvang sy die W.A. Hofmeyr-prys.
1987 Jerusalemgangers, hier kry sy Rapport-prys.
1990 Lady Anne – die Hertzogprys en is sy ook op die kortlys vir die C.N.A.-prys.
1992 Lady Anne kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.
1996 Gedigte 1989–1995 op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.
2001 Kleur kom nooit alleen nie verkry sy die heel eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk
2004 Kleur kom nooit alleen nie verskyn op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.
Antjie se gedigte word vertaal in ander tale, onder andere Engels, Nederlands, Italiaans, Spaans, Sweeds en Serwies. Daar is ook toonsettings van sommige gedigte.
Vir die kinders
Alhoewel Antjie meestal fokus op ernstige temas, het sy haar aandag ook gevestig op kinderverse. Hier dink ons aan die bekende Mankepank en ander monsters in 1997 en Fynbosfeetjies in 2010. Sodoende laat sy ‘n ryk erfenis na in letterkunde en skep sy ruimte vir die jonger lesers om op jong ouderdom die skat van poësie te ontdek.
Prosa
Haar veelbesproke boek Country of my skull skryf sy in Afrikaans en Ivan Vladislavis help vertaal dit in Engels. Dit is baseer op die werk van die WVK en beeld onder andere die woorde van slagoffer uit. Vir hierdie werk kry sy in 1999 die Sunday Times Alan Paton Award vir nie-fiksie. Sy ontvang ook ’n toekenning van die internasionale Hiroshima Stigting vir Vrede en Kultuur. Daar word ‘n film vervaardig met die naam van In my country.
Verskeie ander werke uit Antjie Krog se pen sien die lig.
Afsluiting
Antjie Krog is en bly ‘n veelbesproke, invloedryke skrywer in Suid-Afrika en die wêreld. Met haar verskeie pryse en toekennings het sy bygedra tot die bevordering van Afrikaans.
Sy is ‘n stem van hoop, geregtigheid en versoening in ‘n land wat worstel met sy verlede en sy toekoms.
©MarleneErasmus
30/11/2023
(1068 woorde)
Bronne:
www.afrikaans.com/2022/10/25/antjie-krog-n-voelvlug
https://www.dbnl.org/tekst/_ons003199601_01/_ons003199601_01_0079.php
https://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/4953/Vanschalkwyk_JM.pdf?sequence=3&isAllowed
MEI 2024 – OOP projek
1.Taal se begrafplaas
As jy vandag die aanhaling gebruik “So waar as padda manel dra” sal paar van die jonger mense jou skeef aankyk. Waar hoor jy nog mense wat praat van babbeljoentjie of waterlander? Babbeljoentjie verwys na hemelbed of bed met gordyne om. Waterlander is ’n term wat gebruik is vir ’n traan. Dit is beslis nie meer in gebruik nie, maar dit gee ’n baie mooi beeld van ’n traan wat soos ’n druppel water uit ’n fontein vloei.
Babbeljoentjie en waterlander is maar twee woorde wat nie meer bekend is in ons daaglikse taalgebruik nie. Dit laat my wonder waarom woorde uitsterf.
Dr. Donovan Lawrence, ’n senior lektor in Taalkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland het in sy studies gesê dat sommige woorde in onbruik raak omdat die referent waarna die woord verwys nie meer gebruik word nie. Nog woorde wat nie meer so bekend is nie, is beeldradio, tiekieboks en katlagter. Hierdie woorde staan bekend as argaïese woorde en staan ook bekend as verouderd as hulle ingesluit word in ’n woordeboek.
Volgens Donovan het sy oupa ook die woord ametig gebruik. Deesdae sal mense eerder die woord aamborstig gebruik as ametig. Ons grootouers het graag gepraat van meester as hulle na ’n onderwyser verwys het. Dikwels is ’n vrou wat jonger was as nig aangespreek. Die ouderwetse term vir televisie was algemeen bekend as beeldradio.
Waarom verdwyn sekere woorde?
Tegnologie is beslis een van die faktore wat hiervoor blameer kan word. Daar is ook die sosiopolitieke faktor wat ’n rol gespeel het. Toe apartheid van die toneel af verdwyn het, het sekere woorde ook verdwyn. Woorde waaraan ek kan dink, is: tuisland of dompas. Die dompas het inligting soos ’n persoon se naam, foto, vingerafdruk en werkstatus bevat. Mense van sekere rasse moet dompasse dra en was verplig om dit aan polisie te toon as hulle daarna gevra is. Dit was ’n uiters vernederende reël en het op onderdrukking gedui.
Kan uitsterwing van woorde gekeer word?
Met taalontwikkeling ontstaan daar nuwe woorde. As ouer woorde dan in onbruik verval, is dit dikwels maar net die verloop van natuurlike verandering. Hierdie verandering is dikwels ook onvermydelik.
In die meer formele teoretiese taalkunde bestudeer navorsers semantiek om te verstaan hoe woorde betekenis dra. Hulle kyk ook hoe en waar woorde in ’n taalstelsel inpas. Aan die ander kant, in die praktiese toepassing van taal, is dit die leksikograwe of woordeboekmakers wat hiermee werk.
Een so ’n woordeboekmaker is Fred Pheiffer. Fred is betrokke by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Volgens hom kan woorde nie uitsterf as hulle opgeteken is in woordeboeke nie. Indien woorde nie opgeteken is vir die nageslag nie, sterf hulle uit saam met die mense wat hulle gebruik het vir kommunikasie.
Met die vrylike gebruik van internet en digitale boeke is argaïese woorde nog vrylik beskikbaar om te gebruik.
Dit is almal van ons wat ’n verantwoordelikheid het om te verhoed dat sekere woorde nie meer gebruik word nie. Hier kan ons vir onsself vra: wat beteken ons taal vir ons?
Watter rol speel skrywers?
Skrywers kan help om woorde in gebruik te hou. Alhoewel sommige woorde in ’n graf beland het, kan hierdie woorde weer nuwe lewe kry. Daar word egter nie van skrywers verwag om taallesse aan hulle lesers te bied nie, hulle grootste doel is om akkuraat te skryf met interessante woordgebruik. Ou skrywers soos C.J. Langenhoven, Jan F.E. Cilliers en Totius tel onder die skrywers wat argaïese woorde vir die nageslag neergepen het.
Waarom roep sommige woorde nostalgie op?
Sekere woorde herinner ons aan gelukkige oomblikke en kan ’n nostalgiese gevoel opwek. Dink maar aan jou kinderdae, spesiale geleenthede of tydperke in jou lewe.
Ons onthou dikwels baie selektief as ons aan ons verlede dink. Elke mens hunker op ’n stadium na die goeie ou tyd.
Laat ons almal saam daarna streef om ons mooi, ou taal bewaar.
©MarleneErasmus
18/05/2024
(646 woorde)
Bronne:
www.viva-afrikaans.org
www.uj.ac.za/members/dr-donovan-lawrence/
www.af.wikipedia.org/wiki/Taal
https://www.litnet.co.za/waar-le-die-uitklophou-vir-afrikaans/
2.Die gegons oor bye
In 2014 het Slowenië met ’n briljante idee te voorskyn gekom. Hulle het ’n idee voorgelê aan die Verenigde Nasies (VN) om jaarliks ’n Wêreld Byedag te vier op 20 Mei. Aanvanklik het daar niks van hierdie voorstel gekom nie, maar in 2017 het die VN die voorstel goedgekeur. Van toe het dit ’n jaarlikse instelling geword om Wêreld Byedag op 20 Mei te vier.
Die vraag op baie se lippe is, hoekom vier ons Wêreld Byedag? Die hoofdoel is sodat die mensdom meer bewus kan raak van bye en selfs ook ander bestuiwers se rol vir die ekosisteem. Dit sal nie die bye help om die dag te vier nie, maar so word daar seker gemaak dat daar ’n bewusmaking van hulle belangrike rol is. So ’n dag sal help daar baie meer praatjies en gesprekke rondom bye en hul voortbestaan gevoer sal word.
Hoekom is bye belangrik?
Heuningbye speel ’n uiterse belangrike rol in ons ekosisteem asook in die voedselsisteem. Hulle vervul ’n kritieke rol as dit by bestuiwing kom. Isabelle Dajoz, ’n navorser in bestuiwingsekologie aand die Sorbonne in Parys, Frankryk het intensiewe navorser oor die bye gedoen. Sy het ook gekyk na wildebye en die rol wat hulle speel.
Bye is verantwoordelik vir hulle taak as bestuiwers van baie soorte gewasse wat aan die mense voedsel moet voorsien. Baie gewasse, insluitend vrugte, groente, neute en sade is afhanklik van bestuiwing. Sonder heuningbye sal bestuiwing van baie verskillende plante aansienlik verminder. Dit sal ’n negatiewe impak op voedselvoorraad en biodiversiteit hê.
Die gewone heuningby; Apis mellifera is ’n indrukwekkende insek.
Bestuiwing: Volgens die Voedsel- en Landbouorganisasie (FAO) van die Verenigde Nasies is dit bykans ’n derde van die wêreld se voedselproduksie af van bye!
Voedselsekerheid: Heuningbye dra by tot die diversiteit van voedselbronne deur hulle bestuiwing.
Biodiversiteit: Groot populasies wilde plante wat biodiversiteit ondersteun word onderhou deur heuningbye.
Ekonomiese rol: Die Byeboerdery bedryf het ’n ekonomiese impak. Dit skep werksgeleenthede en diegene wat betrokke is by produksie van heuning en ander byeprodukte.
Sosiale Struktuur: Heuningbye word aangetref in kolonies of korwe. Hierdie kolonies is gemiddeld 50 000 bye sterk. Almal in die kolonie speel ’n rol in die voortbestaan van die gemeenskap.
Interessante feite oor die heuningby.
Bye het vier vlerke, twee aan elke kant. Die vlerke hak by mekaar in om een groter paar vlerke te vorm as hulle vlieg. Hulle voorste vlerke is gewoonlik groter as die agterste vlerke.
Bye gebruik hulle vlerke vir meer as net vlieg. As die bye stil staan, gebruik hulle hul vlerke om die lug in die byekorf te sirkuleer. Die beweging van hulle vlerke is baie belangrik om die hitte en humiditeit te handhaaf. So help hulle ook om die vog na die nektar te laat verminder.
Bye kommunikeer deur te dans. Dit lyk of hulle dans, dit is hulle manier hoe hulle met mekaar kan kommunikeer. Hulle help mekaar en wys voedselbronne so uit.
Die nuwe koningin eet koninginjellie. Die werkerbye kies ’n jong larwe en voer haar met koninginjellie om te verseker sy word groot en baie vrugbaar.
Heuningbye het vyf oë. Jy sal twee groot oë vind wat uit honderde klein lense bestaan, en dan ook drie kleiner oë wat in ’n driehoek op hulle kop vorm. Bye kan die meeste kleure sien wat ons as mense ook kan sien.
’n Kolonie bestaan uit drie tipes bye. Die koninginby se werk is net om eiers te lê. Sy skei sekere stowwe af wat die ander bye se gedrag bepaal. Die werkerbye se werk is om stuifmeel en nektar te kry, om die byekorf te bou en te beskerm, skoon te maak en ook om die lug in die korf te sirkuleer. Die hommelbye se enigste werk is om met die koninginby te paar.
Hommelbye word uit die korf verban in die winter. Tydens lente en somer is daar honderde hommelbye. Sodra die winter aanbreek gaan die hommelbye egter uit die korf verban. Hierdie vorm deel van die bye se oorlewings-taktiek.
Een heuningby kan nie veel heuning maak nie. Dit vat ’n hele kolonie om heuning te maak in groter hoeveelhede.
Is dit net heuningbye wat belangrik is?
Nee, volgens navorsing speel wildebye ook ’n baie belangrike rol. Wiledebye sal jy egter nie soos heuningbye sommer in swerms aantref nie. Verskillende blomsoorte het verskillende bye wat hulle optimaal kan bestuif.
Die Europese boomgaardby, Osmia Cornuta is byvoorbeeld die ideale by om appels te bestuif. So is die hommelby, Bombus meer ideaal vir groente soos byvoorbeeld eiervrug en tamaties. Hulle is ook die wat moet help om aartappels, amandels en bloubessies te bestuif.
Bye en hul rol in biodiversiteit.
Daar is verskeie diere soos byevangers, ratels en die bedreigde violet oliekewer wat afhanklik is van bye vir hulle voortbestaan.
Bye is toegerus met ’n ongelooflike goeie reuksintuig en kan ook klimaatsveranderinge aandui. Die bestuiwingsproses speel ook ’n rol op absorbering van koolstofdioksied.
Bye en blomme is ’n uitstekende voorbeeld van simbiose. Bye kry hul proteïen in die stuifmeel en in die nektar kry hulle weer al hul koolhidrate. Blomme is die bye se hoofvoedingsbron. Aan die ander kant kan blomme nie sonder die stuifmeel wat bye versprei voortbestaan nie. Die volgende is baie waar; as bye toegang het tot goeie voedingsbronne, het die mens toegang tot goeie voedingsbronne. As daar nie bestuiwing kan plaasvind nie, sal daar ook minder natuurlik plantegroei wees.
Alhoewel daar nie genoeg statistiek is oor die afname in byegetalle nie, is daar baie redes vir die verminderde getalle bye. Siektes, parasiete en gifstowwe is van die enkele grootste oorsake in die verminderde byegetalle. Die aanplanting van byvoorbeeld een soort gewas, soos sojabone het tot gevolg dat daar nie genoeg kos vir hommelbye is nie. Plaagdoders en gifstowwe is ook ’n ernstige bedreiging vir bye.
Byeboerderye is ook ’n bedreiging vir inheemse wildebyspesies. Afrika se heuningbye is oorheersend wild.
Waarom is beskerming noodsaaklik?
Aangesien baie bye in Suid-Afrika wild is kan jy korwe op veilige, voedingsryke plekke plaas. Dit is maar een van die maniere hoe om bye te bewaar. Alhoewel dit nie voel of dit baie is om te doen nie, is dit ’n baie goeie begin as jy besluit om die bye te help . Dit sal ook help as jy jou tuin bestuiwingsvriendelike plek vir bye kan maak. Oop, sonnige plekke en dooie hout is ideale broeiplek vir wildebye. Plant paar dekgewasse om die grond te voed en kos vir die bye te verseker. Vul jou tuin met blomme en struike wat bye, voetjies en skoenlapper na jou tuin toe lok.
Laat ons bewus word van die bye!
©MarleneErasmus
(1100 woorde)
Bronne:
https://af.wikipedia.org/wiki/Heuningby
https://southafrica.co.za/af/die-voeding-van-heuningbye.html
https://www.landbou.com/landbou/nuus/die-mens-is-bye-se-grootste-vyand-20210507
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
1.Olive Schreiner: ’n Pionier in Literatuur en Maatskaplike Verandering
Olive Schreiner het bekend gestaan as die vrou wat die onbekende aangedurf het vanweë haar moedige benadering tot literatuur en sosiale vraagstukke in haar tyd.
Olive Schreiner het ’n onuitwisbare merk gemaak in die Suid-Afrikaanse en internasionale letterkunde met haar baanbrekende roman The Story of an African Farm in 1883. Nie net het sy die landskap van Suid-Afrikaanse letterkunde verander nie, maar het ook ’n internasionale impak gemaak deur onbekende temas aan te spreek soos agnostisisme, eksistensiële onafhanklikheid, en die rol van vroue in ’n veranderende samelewing.
Vroeë Lewe en Agtergrond
Olive Schreiner is gebore op 24 Maart 1855 naby Herschel, Kaapprovinsie. Sy was die negende kind van ’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap, Gottlob Schreiner. Haar ma, Rebecca Lyndall was verantwoordelik vir haar vroeëre onderrig. Hier het sy ’n groot liefde vir lees ontwikkel. Haar bestudering van nuwe idees het ook vanuit haar agtergrond ontstaan. Dit was dan die blootstelling hieraan wat haar later sou aandryf tot haar skryfwerk.
Tussen 1874 en 1881 het Olive die rol van goewernante ingeneem op verskeie plase. Van jeugdige ouderdom het sy deel gehad aan die ryk kulturele en taalkundige aspekte van die plaaslike Griekwas en San gemeenskappe. Hier het sy bewus geraak van die uiteenlopende ervaring in die lewens van die mense van die Kaapkolonie. Dit was veral die maatskaplike ongelykhede en beperkings van die vrou wat haar fassineer het.
Literêre Loopbaan
Olive het baanbrekerswerk verrig toe sy haar roman, The Story of an African Farm in 1883 vrygestel het. Sy het dit aanvanklik gepubliseer onder ’n skuilnaam, Ralph Iron. Die werk het melding gemaak van die uitdagings van die lewe op die Suid-Afrikaanse platteland asook verskeie kwessies soos agnostisisme (die filosofiese siening dat die logiese waarheid van sekere aansprake onbekend is), eksistensiële vryheid en die sosiale posisie van vroue in haar tyd.
Internasionale Impak
The Story of an African Farm was die eerste literêre werk wat internasionale sukses behaal het. Sy het onbekende kwessies vreesloos aangepak.
Dit was ’n uiters boeiende roman met skerp introspektiewe vertellings. Hiermee het daar ’n nuwe perspektief op Suid-Afrikaanse lewe op die platteland ontstaan. Regoor die wêreld het dit mense aangegryp en die feit dat sy dit onder ’n skuilnaam geskryf het, het die roman met ’n misterieuse gevoel omring.
Die roman het ’n internasionale publiek geboei met sy skerp en introspektiewe vertelling, wat ’n nuwe perspektief op Suid-Afrikaanse lewe en maatskaplike verhoudings gebied het. Dit het literêre kringe oor die hele wêreld aangegryp en het bygedra tot ’n groter bewustheid van die unieke stemme en uitdagings van ’n jong en ontwikkelende nasie.
Skrywer en denkers deur haar beïnvloed
Virginia Woolf: Sy het bewondering vir Schreiner se eerlikheid en diepte in haar skryfwerk uitgespreek, veral in verband met vroue se sosiale posisie en selfstandigheid.
George Bernard Shaw: Shaw het Schreiner se werk hoog geag vir sy vernuf en sy vermoë om sosiale kwessies op ’n uitdagende en omvattende manier te hanteer.
D.H. Lawrence: Lawrence het Schreiner se The Story of an African Farm geprys as ’n werk wat die menslike psige en die sosiale omgewing van Suid-Afrika op ’n unieke wyse verken.
Feministiese bewegings: Skrywers en denkers binne die feministiese bewegings het Schreiner se werk dikwels aangehaal vir sy vroeë bydrae tot die debat oor vroueregte en feminisme.
Latere Lewe en Bydraes
Haar bekendheid het nie gestop na die sukses van The Story of an African Farm, nie. Sy het voortgegaan om ’n invloedryke figuur te wees op die gebied van literêre sowel as op sosiale en politieke gebied. Sy was vir ’n tydperk in Engeland waar sy vriende geraak het met H. Havelock Ellis, ’n Britse psigiater en skrywer. Hulle het ’n hegte vriendskap gehad en kon ure oor intellektuele en filosofiese sake gesels. Hulle gedeelde belangstellings het waarskynlik bygedra tot die verhouding.
Nog van Schreiner se werke het die lig gesien, Daar was onder andere Dreams (1890), Trooper Peter Halket of Mashonaland (1897), en Women and Labour (1911). Met hierdie werke het sy haar reputasie as skrywer en denker verder gevestig.
Hoewel sy haar hele lewe lank ’n vrydenker was binne die raamwerk van haar Victoriaanse agtergrond, en anders as die hoofstroom van Christenskap in haar tyd, het Olive Schreiner steeds geleef volgens die gees van die Christelike Bybel wat haar ouers as sendelinge verkondig het. Sy het ’n sekulêre siening op wêreldbeskouings ontwikkel, met ’n paar mistieke elemente ingesluit.
Nalatenskap en Invloed
Haar nalatenskap is ’n erfenis van literêre uitnemendheid en sosiale bewustheid wat voortduur tot vandag. Haar werke, veral The Story of an African Farm (1883), het ’n diepgaande impak gehad op die Suid-Afrikaanse en internasionale literatuur deur haar eerlike en vernuwende benadering tot verskeie temas.
Deur haar vreesloosheid om die onbekende aan te durf het sy ’n uiters belangrike rol gespeel in die stryd vir vroueregte en maatskaplike geregtigheid.
Dit het nie net van haar ’n ikoniese figuur gemaak het in die literêre geskiedenis van Suid-Afrika, maar het ook ’n belangrike rol gespeel in die bevordering van ’n meer inklusiewe en geregtigde samelewing.
Olive Schreiner se erfenis leef voort in die harte en gedagtes van mense wat haar werk bestudeer en waardeer vir hul unieke bydrae tot literatuur en sosiale bewustheid.
Haar nalatenskap herinner ons daaraan om nie die onbekende te vrees nie, maar om dit te omhels as ’n geleentheid vir groei en verandering.
©MarleneErasmus
30/06/2024
(896 woorde)
Bronne:
https://www.sahistory.org.za/people/olive-schreiner
https://www.britannica.com/biography/Olive-Schreiner
https://www.brooklynmuseum.org/eascfa/dinner_party/heritage_floor/olive_schreiner
JULIE 2024 – OOP PROJEK
1.Die harlekyn: ’n wêreld van maskers en kostuums
Het jy al ooit gewonder oor die woord, harlekyn? Dalk het jy al iewers die term gehoor, maar is dit steeds ’n bekende verskynsel in vandag se wêreld?
’n Harlekyn kan ook bekend staan as ’n nar of ’n hanswors. Die harlekyn, daardie kleurvolle karakter met sy kenmerkende masker en vrolike houding, het ’n ryk geskiedenis en simboliek wat die moeite werd is om te verken. Ek is seker almal in Suid-Afrika onthou ook die fliek: Sing vir die Harlekyn.
Sing vir die Harlekyn is ’n Afrikaanse rolprent wat in 1980 deur Rand Films uitgereik is. Johann Schutte was die vervaardiger en F.C. Hamman die regisseur. Die temalied, Sing vir die Harlekyn, is deur Sonja Herold gesing en is vandag nog steeds bekend.
Oorsprong:
Die oorsprong van die harlekyn kan teruggevoer word na die Italiaanse Commedia dell’Arte, ’n vorm van improvisasieteater wat in die 16de eeu ontstaan het. Hierdie teaterstyl het ’n verskeidenheid van argetipiese karakters gehad, en die harlekyn was een van die mees geliefde karakters. Met sy ondeunde geaardheid en vinnige optrede, was hy die een wat altyd in die moeilikheid beland het. Hy het egter ook altyd ’n plan gehad om daaruit te kom.
Die betekenis en simboliek van die Harlekyn:
Die harlekyn is meer as net ’n nar. Hy verteenwoordig die kontras tussen die oppervlakkige vreugde en dieper verdriet, ’n tema wat deur die eeue heen weerklink het. Sy masker, wat altyd ’n glimlag wys, simboliseer hoe ons dikwels ons ware gevoelens kan wegsteek agter ‘n front van geluk. In ’n moderne konteks kan ons die harlekyn as ’n simbool van die menslike optrede sien. Ons almal kan soms ons ware gevoelens wegsteek om aan die wêreld se verwagtinge te voldoen.
’n Harlekyn in hedendaagse tyd:
Vandag sien ons steeds die harlekyn in verskeie vorme van kuns en kultuur. Van kostuumpartytjies tot die kleurvolle karakters in karnavaloptogte, die harlekyn bly ’n ikoniese figuur. Dit laat die vraag ontstaan: weet mense regtig nog wat die harlekyn verteenwoordig? Vir baie is die harlekyn bloot ‘n vrolike figuur, sonder om die dieper simboliek te verstaan. Die skoonheid van die harlekyn lê in sy vermoë om vreugde sowel as refleksie te bring.
Moderne verklaring van die harlekyn:
In die moderne era het die harlekyn se beeld ’n boeiende transformasie ondergaan, waardeur sy klassieke en herkenbare kenmerke deur kunstenaars en modeontwerpers herinterpreteer word. Hierdie kontemporêre benaderings bied ’n interessante insig in hoe die karakter steeds relevant bly in vandag se samelewing.
Hier volg ’n paar voorbeelde van hoe die harlekyn se beeld op kreatiewe maniere herleef:
Kuns
Moderne kunstenaars gebruik die harlekyn as ’n simbool om komplekse menslike emosies en sosiale kommentaar oor te dra. Die kontras tussen die vrolike voorkoms en die onderliggende tragiese of satiriese aard van die harlekyn word dikwels gebruik om temas soos dualiteit, identiteit, en die menslike toestand te verken.
Pablo Picasso: Picasso het die harlekyn in sy werk “Arlequin” (1901) uitgebeeld, wat deel is van sy Blou Periode. In hierdie stuk weerspieël die harlekyn se gesig die eensaamheid en melancholie wat kenmerkend is van hierdie periode.
Jean-Michel Basquiat: In Basquiat se werk, wat dikwels gereken word as ’n moderne interpretasie van klassieke simbole, kan jy invloede van die harlekyn se dualiteit en visuele styl vind.
Mode
Alexander McQueen: McQueen het die harlekyn se kenmerkende diamantpatroon ingesluit in sy 2009 Herfs en Winter reeks. Die patroon en die gebruik van helder kleure verwys na die tradisionele harlekyn kostuum, terwyl dit ook ’n moderne draai kry met avant-garde styl.
Vivienne Westwood: Westwood se werk het ook die harlekyn se estetika verken, veral in haar “Pirate Collection” waar sy kleurvolle patrone en geskeurde en herontwerpde kostuums gebruik het wat herinner aan die harlekyn se speelse en soms anargistiese styl.
Film en Teater
In film en teater het die harlekyn se beeld aanpas by nuwe vertellings en genres. Karakters soos die Joker in DC Comics se films en Harley Quinn toon ’n donkerder en baie meer komplekse aard van die harlekyn, wat ook die karakter se veelvuldige aspekte beklemtoon. Hierdie moderne interpretasies beklemtoon die harlekyn se voortdurende relevansie en vermoë om aan te pas by die veranderende kulturele landskap.
Die Venesiaanse Karnaval in Italië is bekend vir sy kleurvolle maskers, insluitend die harlekyn-masker. Hierdie jaarlikse gebeurtenis beklemtoon die harlekyn se rol as simbool van speelse anonimiteit en die viering van die visuele kuns van maskerades.
Slot
Die harlekyn bly ’n fassinerende karakter wat mense deur die eeue heen aanhou boei en inspireer. Sy beeld dien as ’n tydlose simbool van die menslike ervaring – van vreugde en tragedie, van diepte en oppervlakkigheid. Terwyl die wêreld voortgaan om te bly verander, bly die harlekyn ’n konstante herinnering aan die kompleksiteit van die menslike natuur. Deur die lense van kuns, mode, en vermaak, leef die harlekyn voort. Nog steeds gereed om ons te laat lag en nadink oor die lewe.
©MarleneErasmus
23/07/2024
(816 woorde)
2.Die lewe sonder reëls
Inleiding.
Het jy al ooit gewonder hoe dit sou wees om in ‘n wêreld sonder reëls te leef? Hierdie vraag sit mens aan die dink oor die kern van ons samelewing en hoe dit funksioneer. In hierdie artikel sal ons die teoretiese en praktiese implikasies van ‘n wêreld sonder reëls ondersoek, gebaseer op historiese voorbeelde, sosiologiese teorieë, en moderne navorsing.
Sonder reëls, sou die wêreld waarskynlik in chaos verval, waar onveiligheid en onvoorspelbaarheid die orde en samewerking wat ons samelewing ondersteun, vernietig.
Wat is reëls en hoekom bestaan hulle?
Reëls is strukturele norme wat die gedrag van individue binne ‘n gemeenskap reguleer. Hierdie reëls kan formeel wees, soos wette, of informeel, soos sosiale norme en tradisies. Reëls is daar om die samelewing te orden, veiligheid te waarborg en om ‘n voorspelbare omgewing te skep waarbinne mense kan funksioneer en groei.
‘n Voorbeeld van ‘n informele reël is die gebruik van ‘n wagbeurt in ‘n speelgrond. Kinders leer vinnig dat hulle moet wag vir hul beurt om op die swaai te speel, en hierdie reël help om konflik te vermy en verseker dat almal ‘n kans kry. Hierdie eenvoudige, informele reël illustreer hoe norme spontaan ontstaan om sosiale interaksie te vergemaklik en harmonie te bevorder.
Watter rol speel reëls in ons samelewing?
Historiese voorbeelde toon dat samelewings wat effektiewe reëls het, meer stabiel en voorspoedig is. Byvoorbeeld, die antieke Romeinse Ryk het komplekse regs- en politieke stelsels gehad. Hierdie stelsels het streng wette en administratiewe prosedures ingesluit wat oor die hele ryk toegepas is. Deur ‘n gesentraliseerde regstelsel en die instandhouding van openbare orde deur die gebruik van wetstoepassers soos die praetoriaanse wag, het die Romeine ‘n gevoel van stabiliteit en sekuriteit verseker. Hierdie reëls het nie net misdaad en onrus beperk nie, maar ook voorspelbare handel en ekonomiese groei bevorder, wat bygedra het tot die langtermyn stabiliteit en uitbreiding van die ryk.
Aan die ander kant is daar samelewings wat reëls verwaarloos of nie toegepas het nie, soos wat gebeur het tydens die Val van die Romeinse Ryk. Hulle ondervind dikwels chaos en agteruitgang.
Die gevolge van ’n wêreld sonder reëls.
A:Anargie en Chaos
In ‘n wêreld sonder reëls, sou anargie waarskynlik heers. Anargie verwys na die toestand van wanorde in die samelewing weens die afwesigheid van regering of gesag. Die meeste mense het reëls nodig vir ‘n gevoel van sekuriteit en rigting. Sonder reëls sou menslike gedrag ook onvoorspelbaar wees en geweld en misdaad sou waarskynlik aan die orde van die dag wees.
Die Somalië Anargie (1991-2006):
Na die ineenstorting van die Siad Barre-regime in 1991, het Somalië in ‘n staat van anargie verval. Daar was geen sentrale regering of formele reëls om die samelewing te bestuur nie. Die gevolg was ‘n totale ineenstorting van orde, met verskillende militêre faksies wat vir beheer baklei het. Hierdie periode van anargie het gelei tot grootskaalse geweld, misdaad, en humanitêre rampe, wat duidelik illustreer hoe noodsaaklik reëls en ‘n georganiseerde regering is om stabiliteit en sekuriteit te handhaaf.
B:Samelewingsvertragings
Zimbardo se Stanford Gevangenis Eksperiment is ’n bekende voorbeeld van hoe mense optree wanneer hulle voel hulle is nie gebonde aan enige norme of reëls nie. Die eksperiment het getoon dat, in die afwesigheid van duidelike reëls, selfs gewone mense geneig is om gewelddadige en onderdrukkende gedrag aan te neem.
C:Ekonomiese Impakte
Ekonomies sou ‘n wêreld sonder reëls regtig rampspoedig wees. Markte funksioneer op vertroue en voorspelbaarheid. Beide van dit hang af van ’n stel gevestigde reëls. Sonder reëls sou kontrakte waardeloos wees, besigheidstransaksies sou afneem en ekonomiese groei sou stagneer.
Die Enron Skandaal:
Enron was een van die grootste maatskappye in die VSA. In 2001 het hulle bankrot geraak weens grootskaalse bedrog en ’n gebrek aan voldoende finansiële regulasies en toesig. Die bestuur het winste en verliese gemanipuleer om die maatskappy se finansiële toestand beter te laat lyk as wat dit werklik was. Die onvermydelike ineenstorting van Enron het duisende werkers hul werk en spaargeld gekos. Beleggers miljarde dollars verloor. Hierdie skandaal het gelei tot die aanvaarding van die Sarbanes-Oxley Wet in 2002, wat strenger reëls vir finansiële verslagdoening en korporatiewe bestuur ingestel het.
D:Maatskaplike Struktuur en Gesondheid
Reëls help ook om gesonde maatskaplike struktuur te ondersteun. Volgens ’n studie gepubliseer in die Journal of Personality and Social Psychology, bevorder reëls en norme koöperasie en gemeenskapsverband. In ‘n wêreld sonder reëls, kan hierdie bande verswak. Dit sal lei tot verhoogde sosiale isolasie en geestesgesondheidskwessies.
ASPEK | Samelewing met reëls | Samelewing sonder reëls |
Orde en Veiligheid | Gereëlde wetstoepassing, beperkte misdaad | Toename in misdaad en onveiligheid, wanorde |
Ekonomiese Groei | Voorspelbare handel, stabiele markte | Ekonomiese ineenstorting, onsekerheid oor kontrakte |
Maatskaplike Struktuur | Sterk gemeenskapsbande, ondersteuning stelsel | Toename in isolasie, swak gemeenskapsverbande |
Gesondheidsimpakte | Minder stres, toegang tot gesondheidsorg | Verhoogde stres, gesondheidskwessies neem toe |
Politieke Stabiliteit | Georganiseerde regering, politieke deelname | Politiese chaos, onbestendigheid in regeringsowerheid |
Utopiese anargie: ’n onrealistiese verwagting?
Sommige mense argumenteer vir ’n utopiese anargie, waar mense spontaan en vryelik saamwerk sonder die behoefte aan formalisering van reëls. Terwyl hierdie idee baie aanloklik mag lyk, het die praktyk getoon dat die menslike natuur geneig is tot konflik en magsdinamiek wat reëls benodig om te beheer. In utopiese gemeenskappe soos die kibboets-beweging in Israel, het selfs hierdie idealistiese samelewings uiteindelik formele strukture en reëls aangeneem om hul funksionering optimaal te verseker.
Ter afsluiting, terwyl die idee van ’n wêreld sonder reëls aanloklik mag wees vir sommige, toon historiese en sosiologiese bewyse dat reëls noodsaaklik is vir die funksionering van ‘n stabiele en voorspoedige samelewing. Reëls verskaf aan ons die struktuur wat nodig is om veiligheid, orde en samewerking te bevorder.
“Reëls is die rotsvaste fondasie waarop samelewings gebou word. Sonder hulle, sou ons wêreld vinnig verval tot chaos en wanorde.”
©MarleneErasmus
09/07/2024
(953 woorde)
Bronne:
https://www.apa.org/pubs/journals/psp
https://www.verywellmind.com/philip-zimbardo-biography-2795529
https://cja.org/where-we-work/somalia/
AUGUSTUS 2024 – SSKULDLAS PROJEK
1.Doeltreffende skuldbeheer: stappe en wenke
Baie van ons ken die uitdagings van skuld, of dit nou is om groot aankope, soos ’n huis, te finansier, of net om deur die maand te kom. Skuld speel dikwels ’n belangrike rol in ons finansiële beplanning en help ons om doelwitte te bereik, maar dit bring ook ernstige finansiële implikasies mee. Dit is belangrik om die verskil tussen “goeie” en “slegte” skuld te verstaan. “Goeie” skuld, soos dié wat gebruik word om ’n huis of opleiding te finansier, kan op die lange duur waarde toevoeg en help om jou finansiële doelwitte te bereik. “Slegte” skuld, aan die ander kant, word dikwels gekenmerk deur hoë rentekoerse en onnodige uitgawes wat jou finansiële las kan vererger. In hierdie artikel verken ons die finansiële gevolge van skuld en hoe dit jou ekonomiese situasie kan beïnvloed.
Soorte skuld en hul finansiële impakte
Persoonlike skuld
- Kredietkaarte: Kredietkaarte bied ’n maklike manier om aankope te finansier, maar die hoë rentekoerse kan jou verpligtinge vinnig laat groei. As jy nie die volle bedrag maandeliks terugbetaal nie, sal die rente jou skuld ook laat verhoog.
- Persoonlike lenings: Die meeste persoonlike lenings het ’n vaste rente en betalingstermyn, wat dit meer voorspelbaar maak, maar dit kan steeds ernstige finansiële druk veroorsaak, veral as jy verskeie lenings het.
Besigheids-skuld
- Besigheidslenings: Vir baie besighede kan lenings ’n noodsaaklikheid wees om te groei en bedrywighede te befonds. Dit kan egter lei tot ’n hoë skuldlas wat die maatskappy se kontantvloei negatief kan benadeel.
- Krediete: Maatskappye wat voortdurend krediet gebruik, kan in die moeilikheid kom as hulle nie betyds betalings maak nie, wat hulle kredietwaardigheid en toekomstige leningsbevoegdheid kan benadeel.
Korporatiewe skuld
- Kapitaalmarkskuld: Groot korporasies neem dikwels skuld op om te finansier, maar dit kan lei tot hoë rentekoste wat hul winste kan beïnvloed. Die skuldvlakke moet bestuur word om te voorkom dat dit die maatskappy se finansiële gesondheid benadeel.
Finansiële impakte van skuld
- Rentekoste: Hoë rentekoerse op skuld, veral op kredietkaarte, kan jou maandelikse uitgawes drasties verhoog en die totale bedrag wat jy oor die lewe van die lening sal terugbetaal, aansienlik verhoog. Het jy al ooit gevoel dat jou maandelikse betalings net nie wil eindig nie? Jy is nie alleen nie.
- Kredietwaardigheid: Jou kredietgradering kan negatief beïnvloed word deur hoë skuldvlakke. ’n Lae kredietgradering kan dit moeiliker maak om toekomstige lenings goedgekeur te kry en kan lei tot hoër rentekoerse op nuwe krediet.
- Kontantvloei: Skuldverpligtinge kan jou kontantvloei benadeel, wat jou vermoë om ander finansiële verpligtinge en noodsaaklike uitgawes te dek, beperk. Dit kan jou algehele finansiële stabiliteit en lewensgehalte beïnvloed.
- Verlies van besigheidsgroei: Vir maatskappye kan ’n hoë skuldlas die vermoë om te groei en nuwe geleenthede te benut, beperk. Hoë skuldvlakke kan ook die maatskappy se vermoë om op ander areas te fokus, soos innovasie en uitbreiding, benadeel.
Strategieë om skuldbeheer te verbeter
- Begroting en spesialisasie: Deur ’n gedetailleerde begroting op te stel en by finansiële planne te hou, kan jy jou skuld effektief bestuur en die impakte daarvan drasties verminder.
- Kredietberading en herfinansiering: Professionele kredietberaders kan jou help om skuld te herstruktureer en jou lenings te herfinansier, wat kan lei tot laer rentekoste en beter finansiële bestuur. Moet nie bang wees om hulp te vra nie. Kredietberaders is daar om jou te help om op koers te kom.
- Verhoogde finansiële bewustheid: Deur meer te leer oor hoe skuld werk en die koste daarvan, kan jy beter besluite neem wat jou finansiële gesondheid sal verbeter.
Praktiese wenke vir skuldbeheer
Begin met die opstel van ’n eenvoudige begroting wat al jou inkomste en uitgawes insluit. Dit sal jou help om areas te identifiseer waar jy kan bespaar. Oorweeg ook om ’n professionele kredietberader te raadpleeg om jou te help met herfinansiering of om ’n persoonlike skuldbeheerplan te ontwikkel. Hierdie stappe kan jou help om beter beheer oor jou finansies te kry en skuldvlakke te verlaag.
Gevolgtrekking:
Skuld kan ’n kragtige hulpmiddel wees om finansiële doelwitte te bereik, maar dit bring ook risiko’s en koste mee. Deur behoorlike bestuur en strategieë kan die finansiële las van skuld verminder word en kan jy ’n gesonder finansiële toekoms bou.
©MarleneErasmus
31/08/2024
(686 woorde)
Bronne:
debtgrip.co.za/wat-beteken-dit-om-onder-skuldberading-te-wees/
afrikaans.com/2022/06/01/skuld-goed-sleg-sneeuballe/
pcbruwer.co.za/help-ek-kom-nie-uit-met-salaris-nie/
www.skuldhulp.co.za/post/wanneer-word-skuld-te-veel-skuld