Ammie moon
Lees meer bydrae deur Ammie moon
BRONS KLAS
Winter-nostalgie
3.Kaneel en warm sjokelade
ek is weer terug op koffie
en die kaffervink in my hart
raas nie meer so erg nie
want die nes is knus en vere pof vir selfbehoud
karmosyn drup langteelbeen teen nag-kristal
en die maan sit met haar arms oor haar hoof gevou
(ook maar net vrou)
die wyn in my bloed syfer sy eie loop
deur nuut gevonde gleuwe
en prop warmte in leë holtes van my lyf
die dat ek veer in die hand sit en skryf
want die plek wat ek vir jou by my kaggelvuur
reserveer, is nog onbeset
by jou reën dit
ek weet
ek kan die afstand tussen my en jou
meet aan die klam in jou trui se grein
as jou gees kom lyfskuur in my nek
ek die muskus en mos hoor kleef
aan jou wimpers
die klam dennenaalde wat nog aan jou
voetsool klou van jou beur teen winterkou
asem teen die vensterruit
vries teen gletsers van seesout glas
en ek probeer my vingerpunte tussen
Venus en die drie konings pas
en ek boog toe jou woudruising
om my huis se hoeke ween
vanaand is ek weer alleen
maar vreemd tevrede in die wete
dat storms jou gou weer sal nes
in vingerkommetjies
van my kaneel en warm sjokolade.
© Almarie Truter (Ammie moon)
Herf projek
2.Koorsige herfs
hierdie dag word die inglipvoering
van ‘n oorgang seisoen –
traag om sy roes jas uit te trek,
om verjaag te word deur dwarswinde
uit seer bekende rigtings
dalk is die onttrekking meer fel
as in die verlede,
snerpend die beklemming
in elke berekende tree,
tog ruik die lug na soete en soute
en blare dwarrel soos vlinders
na klam lêplekke
amber rus ons liefde, in afwagting
dat dit weer ontspring
en toe sien ek jou weer
jy begin groei voor my oë
jou stam glim lemmetjiegroen in weerkaatsings
van ‘n flou son
jy word ‘n koorsboom voor my aangesig
en in die fladdering van sagte skadu’s
begin ek teen jou stam opgroei.
© Almarie Truter (Ammie moon)
Teenstellings
3.Daardie nag
goue paljas newel weer my sinne en ek dink wat nou,
hoe nou gemaak om ‘n nag uit my hart te wis, want
nouse nagte is dit altyd dag oral om my, dag hele dag
en nagtyd dag maar hier binne, hier diep binne my bly
dit nag, ‘n eindelose nag en al wat ek nou raaksien is
bloedbelope kerse maar hulle is waksvoet gesmelt oor
daardie nag se tafelblad en die wierook se as grys alte
fyn in ‘n urn van glas, en musiek, wonderskone musiek
hang nou soos ouvrou hare iewers tussen blare in ‘n
ruimte tussen hemel en aarde in ‘n eindelose nag in
my, god weet altyd binne my, in ‘n nag wat nooit as te
nimmer einde kry want ek en jy was bymekaar en jy
was oral daar en nou maande later wonder ek deur
goue newels van paljas, hoe wis ek ‘n eindelose nag.
© 2011 Almarie Truter (Ammie Moon)