Jongste aktiwiteit:

Andries Fourie (Seirdna)
vir

Andries Fourie (Seirdna)

BRONS

Julie 2019 projek – ‘n Reis in Tyd

1.My huis 

daar’s krake in die koepel
en skemer in skarniere
van geheime deure
in die mure
van my huis

daar’s geluide in die geuwels
en kankers in die kelders
van vergete dieptes
orals elders
in my huis

daar’s skadus in die solder
en husse in die hoeke
van stowwerige stories
in ou boeke
in my huis

maar daar’s lig in die laning
want jeuglik jonk in jare
pronk blou bloed van die vader
deur hul are
in my huis

 

2.SINTUIE 

hoor jou in die windjie
sien jou in die son
dink jou deur die donker
van ‘n veraf dig kokon

roer jou met die reëntjie
vang jou in die dou
wens jou uit die wonde
van ‘n wêreld grys en grou

proe jou in die luggie
sluk jou uit die see
weet jy voer ‘n duisend
liggies met jou mee

stuur jou in die storm
vat jou uit die vuur
eis jou in ‘n dagdroom
wat vir ewig duur

ruik jou in die bloeisel
beleef jou in die blom
van ‘n langverwagte somer
wat dalk my pad langs kom

Oktober 2019 – Kleure projek

2.Digterskleure

daars ‘n kleur in elke digtersiel
daars ‘n kleur in elke daad
‘n ligter kleur vir liefde
en ‘n donker kleur vir haat

daars ‘n vaalheid aan die more
van ‘n son wat ophou skyn
en ‘n grouheid aan die nadag
van ‘n ou mens aan die kwyn

daars ‘n voorkleur en ‘n nakleur
in alles wat jy doen
wat afhang van jou liefde
en hoe jy jou versoen

die kleure in jou lewe
keer altyd terug na jou
soos die hande van die hemel
wat die heelal vas moet hou

uit ‘n mengelmoes van kleure
soos ‘n skilder met sy kwas
kies jy dan ook jou kleure
wat by jou digkuns pas

Andries Fourie (Seirdna)

November 2019 – Laat lente projek

2.Jou naam is Lente

daar is lente in jou geur
en in die roer van elke omdraai van jou lyf
daar is lente in jou son
en in die some van die lyne in jou vel

daar is lente in jou lag
en in die wieke van geheime in jou siel
daar is lente in jou wyses
en in die ritme van die nadraai van jou pad

daar is lente op jou lippe
en in die heuning in die hoeke van jou mond
daar is lente in jou roep
en in die eggos van die klanke in jou sang

daar is lente op jou voorstoep
en lente waar jy gaan
…en daar’s laat lente
In die wysheid van jou naam!

Seirdna

Februarie 2020 – Limeriek projek

1.Tuinbou

Oom Hansie is lief vir sy tuin
Tant Ralie sê: “Als vir die skyn!
Hy loer oor die muur
In die namiddag uur
Na die mooie Mev. Stienie Steyn!”

Seirdna (Andries Fourie)

SILWER KLAS

Mei 2020 “Ek wens dat ek…” projek

1.Ode aan my hond Mister (Shakespeariaanse Sonnet)

Met jou noodroepsein skeur die rampgordyn,
belange-en-emosieloos in twee;
aanvaar jou deurtraplyf sy kankerpyn,
sy afskeidslot, jou laaste treë, gedweë.

Ek mis jou in my môre my ou hond
en jou growwe rowwe blafstem in my dag.
Jou leemte laat ‘n wrang smaak in my mond;
ek wens dat ek nog hier vir jou kon wag.

Maar nou is daar net foto’s en onthou
van dinge en van stories in jou tyd,
die mense wat hul lewens om jou bou;
die vreemdeling se bangwees vir jou byt.

Jou lewe en jou kranige bestaan,
vereer ons met ‘n sware afskeidstraan.

Seirdna (Andries Fourie)

 

2.Rooiwyn (Italiaanse Sonnet)

In ‘n digmisgetooide môrestond,
teen ‘n ploegskaarlyn  van ‘n losklip rand
is ek neergelê deur die boer se hand,
‘n varsloot geplant in geleende grond.
So koelsomersoel en blinkpêrelrond
in volrooi getooi teen die wingerd sand,
vryhand geskilder aan die berghang kant,
soos ‘n smelt in die mond, so ongeskond.

My vrede so soet is per se verby,
sommer net so gepluk en uitgeruk
uit die rustigheid van my droom vallei.
En ek wens dat ek nou gerust sal kry,
in ‘n Langverwacht of ‘n Grootgelukt,
wyl ek vredevol op my rak gedy.

Seirdna (Andries Fourie)

Junie 2020 Vryheids projek

1.Anderkant die spoorlyn

Anderkant die spoorlyn
lê ‘n blootsiel in die as,
kognitief verslete in ‘n
vaalbruin tonteljas.

As ‘n roeper vir die vryman
(uit dié se eie regterstoel,
sê maar, sy selfbenoemde amp)
is sy doel gedien ter aarde,
in die flikkerende ligsein,
van die kondukteur se lamp.

Nuutskeppings

# Blootsiel – ‘n mens wat meer as die normale negatiewe blootstelling in sy lewe ondervind het.
# Tonteljas – ‘n Finale kledingstuk(jas) waarin jy weggebêre word soos in ‘n tonteldoos.
# Roeper – iemand wat jou tot die werklikheid terug roep (in hierdie konteks)
# Vryman – ‘n persoon wat vry van buitengewone blootstellings is. Die teenoorgestelde van ‘n blootsiel.

Seirdna (Andries Fourie)

2.Vryval

hoe vry is vertes in die niet
en al die sterre wat verskiet,
in hierdie huisgebonde
ankertog van tyd?

hoe vry is wolke wat kan sweef
tussen winde wat herleef,
wie vir wagtings
by ‘n bliksemstraal moet pleit?

hoe vry dan is ‘n vloeivallei
langs die hange van ‘n berg,
teen die onmeetbare kontoere
van die son?

hoe vry is varsgeplukte vrugte
uit ‘n bronbegiete boord,
in ‘n afgeleefde pakhuis
van beton?

hoe vry die toekoms van ‘n kind
in ‘n blikkombuis se winter,
kort van water
met ‘n kors gemufde brood…

wie nog hunker na vars liefde
en ‘n hongerhoop bly koester,
in sy vasklou
aan die vryvaltrein van dood?

Seirdna 21.06.2020

Neologismes in sinoniem

“ankertog” – reis wat vas is en nêrens heengaan nie
“wagtings” – oomblikke van rus
“vloeivallei” – ‘n vallei waarvan die lyne in die omgewing kosmeties inpas.
“bronbegiete” – toegevoeg met al die noodsaaklike bykomstighede
“blikkombuis” – kombuis in ‘n plakkerskamp
“vars liefde” – aaneenlopende, hernieude liefde
“vryvaltrein” – ‘n versnellende reis sonder stop

Augustus 2020 – OOP projek

3.Verlore dans

ek dans ‘n eens verlore dans
op Strauss se Blou Donou
die dansvloer is in goud gehul
en ek wals heelaand met jou

die meester hang nog self ook daar
so skuins bo teen die muur
en deur my passies wonder ek
of hy na ons ook tuur

die aand is soel en gul omhul
met die liefde van ons twee
waar ek in diepste mymering
my hand weer vir jou gee

en as ek jou dalk weer sou sien
en jy my kan onthou
dan vra ek jou ‘n laaste keer
vir ‘n wals op die Donou

vir nou is al die nostalgie
eers goed genoeg vir my
en ek tik tik met my vinger
tot ek weer die ritme kry

A Fourie (Seirdna)

September 2020 – Liefdesprojek

3.Skrefieswind

ek stuur vir jou ‘n somerstraal
ek stuur vir jou die son
knoop oop jou jas
pak af jou tas
en wag net daar
ek kom…

kyk uit vir ‘n skrefieswind
‘n briesie oor die see
hy sê jou naam
hy bring my saam
en fluister
vir ons twee…

Seirdna (A Fourie)

Oktober 2020 – OOP projek

2.Die dorpdigter

Die digter op die dorp
het almal in ‘n knoop.
Dis sy spottery met siekte
wat alger daartoe noop.

Dit het begin met Covid
toe oom Piet die siekte kry;
kort na die begrafnis
het dié wraakgedig gedy:

“‘n Selfgemaakte masker
dié het die oom versmoor;
die tannie lyk maar alte bly,
sý het oom Piet vermoor.

Sy wou so graag haar hande
op die oom se boedel kry;
na jare se mishandeling
sou haar wrok die oorhand kry”

Die vryval van Tant Ralie
uit die venster by haar huis,
het die digter weer laat wonder
en dié skrywe laat verrys:

“Tant Ralie se los voete
was die oorsaak van haar dood.
Oom Koos het haar balansprobleem
by die venster uitgestoot.

Hy had haar nie meer lief nie
almal weet waarom,
toe die jongman daar loseer het
het die liefde omgekom.”

Die digter se probleme
is op die spits gedryf
toe hy Mev. Dominee
se toestand só beskryf:

“Dis al die vat van dominee
uit die susters se kombuis
dat die Here hom gestraf het
met sy vrou se siektekruis.

Die hemele sien alles
tot verby ‘n vroom gebed,
dwarsdeur die komberse
van ‘n ander vrou se bed.”

Die dominee is briesend
die gemeente ly aan skok.
Die klagtes van die dorp
hang aan die kerk se klok.

Die digter hou sy kop omhoog
en slaan sy oë na bo.
“Wat dan van digtersvryheid
en die wat daaraan glo?”

In die skoolsaal hang die fotos
uit die jare sestig uit.
Die jongman is in Standard 6
en hy loer speels deur die ruit…

Die rugby en die netbal
die kiekies hang ook daar;
die tannie met die bene…
en oom Koos…
loer vir mekaar.

Seirdna (A Fourie)

November 2020 – Samesyn-projek

2.Blinde avontuur

jy was aan my tafel
en ek was woordstom oor jou lyf
jou oe jou mond jou houding
jou styl het afgevryf
soos ‘n lofgedig of ode
(ongesensor vryhandstyl)
fyn op brailpapier geskryf

en ek die blinde leser
se hande gloei soos vuur
kom saam
kom met verwagting
op hierdie blinde avontuur
bring jouself
jou tas en wese
want dit mag vir ewig duur

Seirdna
(A Fourie)

Desember 2020 – OOP -projek

1.Eindeloos

op dié dag vroeg in September
het ‘n berg jou siel kom haal
jou lyf opgelaai op rotse
en deur Ou Kaapse weg getiekiedraai
totdat jy dronk was van verligting
van jou pyn

jou koebaai het kamers vol gehuil
maar die kranse het jou
dankbaar ingeneem;
hier neffens jou vleuel-digklavier
op die hoogte van ‘n arend
het ‘n nuwe helder lig
weer wit geskyn

so is jy nou
slapend in jou swygingsuur
(omhul in hemeblou)

in sagte somer
wolkberghange
toegevou

Seirdna (A Fourie)

2.Ware liefde

jy was kil en krities
sy was sag en mooi
jy’t my in jou sneeuseisoen verloor
en sy’t my in haar lentewind voltooi

ragfyn was haar hare
sag haar oophand sonskynlyf
haar vrede het my lokkend
in haar mirreboesem ingedryf

vloeiend was haar vingers
oor die deinings van my vlees
haar lipsag diepe liefde
was die gasheer vir my gees

die kloof was diep en dreigend
maar daar was blomme in haar lag
en ek sweef op wolktapyte
na waar sy vir my wag

en nou na net een jaar …

nou sit ek op my donkie
en my perd is wie weet waar
ek mis my stoep se uitsig
en haar kinders maak my naar

my kostes het verdubbel
en haar soene het versuur
en hierdie grynslag van my donkie
irriteer my uur na uur

Seirdna (Andries Fourie)

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

3.Troudag

ek hou vir jou ‘n boesemblom
diep hier in jou wegloopkis
vol verskans teen windverlange
hoopvol in haar soekerus

soos rooiwyn in ‘n vaatjie lê
wag blomkind hier vir jou
al mooier elke wegblyjaar
vir die dag wat jy kom trou

A Fourie (Seirdna)
2020.12.10

Februarie 2021 – Liefdes projek

1.Effe blind

die liefde vat ‘n lessenaar
en pak sy laaie reg
gaan sit dan op sy skrywerstoel
en begin vredeswoorde vleg

dit skryf rolle van verbeelding
van die skitter van haar oë
van die kurwes van haar vloei
die lokval van haar lippe
en die lofprys in haar glo
wyk dan af na die natuur
en skryf oor brandvuur oggendsonne
wat oor horisonne gloei

die liefde vaar dan vreesloos in
en skryf ‘n ou verhaal
van nederig wees en eerbetoon
van minsaam wees
met groot geduld
en laat hom sagkens uit
teen selfvoldaan en eiewaan

lankmoedig en geruisloos
skryf die liefde heeldag deur
sinne en sinsnedes
soms met gebare
soos ‘n kind
en as die dag verby is
moet die proeflees eers begin
die nasien verg ‘n nuwe bril

want sien

die liefde is mos
effe blind

A Fourie
(Seirdna)
14.02.2021

2.Liefde breeksels

o in sy omdraai-omkyk
val die dag in kleine breeksels
amper soos stukkies van skrapnel
skuifelend en beurend
uit die skadus voor die son

al die afgelegde liefdes
lê in kamers van verleentheid
van eergister en gister
en kyk huiwerend afwagtend
na die vroëe uur wat kom

wag vir elke brokkie liefde
wat die nuwe dag mag bring
al is dit net die krummels
vir die honde oorgehou
uit die hande en die harte
van geluk se binnekring

elke dag gaan elke dag verby
en eindig in ‘n spasie van verval
gekluister aan die kelders van die nag
verslaap die wagters oor die liefde
vele male sonder tal

A Fourie
2021.02.20

Maart 2021 – Liefdes projek

2.Wolraad Woltemade

‘n winterwoes noordwester het daardie dag gewaai
die skip De Jonge Thomas het sy laaste seil gedraai
die golwe was verwoestend die aanskouers was geskok
wat eers ‘n avontuur was word die dood in Tafelbaai

die soldate op die strand kon magteloos net staan
die strome was te sterk om die see in te gaan
en in die vroeë oggendmis deur die branders en die skuim
breek die skip in twee as die waters oor hom gaan

dis te veel vir die bemanning dié waterdood wat dreig
en ‘n skok vir jonge Christiaan toe hy sy pa op Vonk sien ry
‘n goeie boer en vader wie kos vir sy seun wou bring
nou ‘n lewensredder wie die see in moet dring

sonder om te aarsel het hy sy perd se kop geswaai
strandaf gegallop en die deinings ingedraai
hy prewel sy gebede en hy hou sy hande hoog
in ‘n see van verwoesting reageer hy in geloof

so red hy veertien manne twee twee op ‘n slag
en in die agste reddingspoging met hul laaste greintjie krag
verloor man en perd die stryd
in die breking van die dag

dit is ‘n bitter beker wat die noodlot vir hom skink
as hy bibberend in vrees aanskou hoe sy pa en perd verdrink
in ‘n oomblik van verbystering jeens die wreedheid van die see
is die pa held van ‘n jong seun aan die mensdom oorgegee

Wolraad Woltemade het die ewigheid betreë

A Fourie (Seirdna)

April 2021 – Oordenkingsprojek

2.Vlugteling

my lewe is ‘n fluistering
gehawend en verskeur;
die ek in my, die vlugteling,
deur storms meegesleur

in hawens word ek vasgemeer,
as skendeling in boei
ingemessel, toegesmeer
verguis om dood te bloei

toe word my sielkant vrygekoop;
nou koester ek ‘n hemelhoop

A Fourie
(Seindra)
26.04.2021

Neologismes
1. Skendeling- In hierdie konteks ‘n persoon wat deur die slegte deel van die lewe geskend word.
2. Sielkant – Die mens se geestelike deel.

GOUEKLAS

April 2021 – Oordenkingsprojek

3.Heldebeelde

daar’s blomme wat deur mymering in kosmokraters blom
en uit seisoene wat verjaar het se koesterkelders kom
wat teen berg en dal kalmerend pantoene skep oor tyd,
waar die reuse en die helde hul rusmomente slyt

hul dade van vergange hou in stories ‘n verhaal
van ongeloof en hulde wat die hordes oor hul taal,
van fabelroemer dade wat deur boekplafonne styg
voor die menigte se buiging onder ballende gejuig

en hier waar ons vandag staan hoor ons net die sluimernis
van die versugting in gebeentes van die helde wat daar rus

A Fourie
(Seirdna)
2021.04.20

Neologismes:
1. Fabelroemer dade. Roemryke dade
2. Boekplafonne. Die maksimale beskrywingsvermoë van ‘n ter boekstawing.

Mei 2021 – OOP Projek

1.Wroeging van ‘n talentvolle skrywer

ink my met jou kodevog hier midde-in jou aftog
dat ek in die jare van my wegbly in jou voorhuis kan vertoef
spykerhang gemuur teen die afguns van my drifte
sal ek paletgeskryf en raambevang jou lende kom bedroef

wens jou verhale aan my toe in tikmasjien traktate
as jy in die laatlig van die afdraaison my afkykoë vermy
starend deur die stekelstof sal ek sinne oor jou gluur
wat die skrifsels van jou maaksels tot letterploet kasty

ek sal in onbenulstagnansie, weerstandig teen vergeef
uitverkoop in wete, verdoemend weens my wroeg
in kort goedkoop drinkwynsessies, deur papirusrolkonkoksies
van my eie muse swoeg

A Fourie
(Seirdna)

2.Erfenis (‘n gedig aan ons land)

het jy nog ‘n lente oor in jou
‘n lente wat weer blomme vas kan hou
wat al jou beddings nat laat reën
en die nanagsleep in jou
laat blink in skitter môredou

het jy nog ‘n somer
in die herfsdeel van jou hart
wat, al lê die winter woes en wag
in kluimgebied en ryp
nog steeds na helder sonskyndae
en bloeiselblos kan gryp

al is dit net uit ‘n dagblik
van ‘n droomtydstip gevang
uit die kloue van die kake
van jou diepste donker nag
waar jou sinne se gesprekke
nog in nagparkades wag

as jy nog het

roep dit ten laaste
in jou swanesang oor my
dat ek ‘n loflied as ‘n offer
uit jou erf’nis kan bevry

A Fourie
(Seirdna)

Junie 2021 – Inteksualiteit projek

1.My taal

Gebruik my teen jou vyand in geveg
en stu my met die bond van jou bestaan.
Gewapen sal ek woedstaan vir jou reg;
met luide mag die pad voor jou begaan.

Al pyl die bresse slaanend teen jou heen
en buig jou bome teen die westerwind,
sal ek die sierskrif in my sinne steun
en elke lasterbrief met ink verslind.

Ek sal ‘n roering op die aarde bring
en stormvuiste teen sy korste bal.
Ek sal my moedertaal se eer besing
al moet ek teen die voorste vorste val.

Met siel ontbloot stort ek my taalhart uit
en bloei my hande oor die gif en neid.

A Fourie
2021.06.28

‘n Indirekte verleiding van die gedig
“Plak my teen die linies” van die Ink Moderator,
na ‘n Englse sonnet.

Julie 2021 – OOP projek

3.Gister

die wit hier langs ons slape
lyk soos troppe spierwit skape
wat weiding soek daar teen die berg se hang

en ons dink hoe vry die lewe was
in ‘n wêreld waarin almal pas
toe die kinders nog die donker kon gaan vang

nou’s daar ‘n diep donker verlede
wat krap krap aan die hede
en altyd maar die vrede kom vervang

en as die onmin ons verbyster
en die vryheid kom vaskluister
kan ons maar net in drome terugverlang

daar’s ‘n ligter kant aan gister
en die hede is maar blou
en niemand sou kon sê nie
of die wind môre gaan lê nie
want dié twee
is op mekaar gebou

A Fourie

Augustus 2021- As die blare val projek

1.Herfsgeid

daars ‘n goedheid aan die goudheid
van ‘n blaar
wat voorwinterwindjie sag
swewend na benede daal
en slaapplek soos ‘n oumens
sielalleen en halfbemind
in ‘n skadu van genade
teen ‘n sterfling grafsteengrassie vind

maar tog
dié doodsheid van die herfsgeid
en van elke blaar wat val
sal deur sterwe net weer plek maak
vir ‘n nuwe lentespel

Andries Fourie (Seirdna)

September 2021 – Positiwiteits-projek

3.Karooverlange

ek wil in eenvoud lewe
ek wil terug na die Karoo
daar waar die son oor vriespunt opkom
en die velde ook nog glo

ek wil my kommer neerlê
en op ‘n klipkoppie gaan sit
waar die koggelmanders en akkedisse
nog saam in sonsit bid

ek wil weer stewig vashou
aan my God se regterhand
en gaan stap langs droë lope
verby huiwende groen wilgers, met my voete in die sand

ek wil klein word in die stilte
teenoor die vlaktes weer gaan staan
met ‘n stofstorm in die verte
en ‘n weerligstraal wat slaan

ek wil weer bly wees en tevrede
met net die klere aan my lyf
ek wil die blinkgoed wat my aftrek
en die selfoon wat my pla, by die agterdeur uitskuif

onder die sterre wil ek wees
met ‘n melkweg soos satyn
en onder ‘n halwe maan wat skuinsweg loer
my probleme laat verdwyn

my ou Karoo jy is dalk vaal
maar na jou verlang ek nou
my hart trek ‘n onthoulyn
en ek wil my arms om jou vou

Andries Fourie (Seirdna)

Oktober 2021 – Akrostiese projek

3.Laat Oktober

Oktobermaand het laat gekom die jaar.
Koes-koes op ‘n lentebries half kuiserig verskyn.
Tot die fietste van die vaal gras wou al weet,
Of die namib oor hul naaktheid tog ooit weer gaan verdwyn.
Baie kenners van die weer
En slim sieners van weleer,
Raai raak in hul voorspellings;
Maak korreksies in hul tellings.
As Oktobermaand so laat is en
As die winde windwaarts waai,
Neig die weerman tot ‘n wankel en
Draai die reën ‘n Kaapse draai.

Andries Fourie (Seirdna)

November 2021 – OOP projek

1.Flenterwind

die flenterwind het nes gemaak
in bloekomblou se ritselbos
soos ‘n deurskynkind sy fluit gevleg
en deur elke blaar gewaai
al was hy toe nog baie klein
kon hy reeds die takkies swaai

die flenterwind het groot geraak
in bloekomblou se ritselbos
soos ‘n weskuskind sy wrok gewys
en deur elke boom gewaai
al was hy toe nog baie jonk
kon hy reeds die toppe draai

die flenterwind het oud geword
in bloekomblou se ritselbos
soos ‘n grysklipkind sy kop gesak
en teen elke struik gewaai
al was hy toe al witbaard wys
kon hy nog ‘n tolbos draai

Andries Fourie

Wenner van INK Skryf in Afrikaans se digkompetisie

Desember 2021 – Metafoor projek

1.Beroerte

die dag toe hy gebreek het
het stukkies van sy glasgesig
in sy pantserkas bly lê
sy voorkoms is ‘n ewebeeld
deur duisend kleine breeksel
mosaïekspieëltjies ontsê

wasig word sy mening min
en sy wysheid ploeter rond
asof die veters aan sy voete
soos slangdrome krioel
en sy klawerlose klankbord
deur stroomversnellings spoel

sy naam gaan skuil in gleuwe
van wolkformasiebeelde
haak vas teen skerp versperrings
as dit slinger deur die sand
en duisel oor die afgrond
van sy tong se sluierkant

die stemme om hom rond
spreek ‘n helder visioen
soos kinders in ‘n speelpark
se gelag
hy beur teen die beroerte
se slaparm sindroom
sinkend in die dryfsand
word sy asem
uitgesmag

A Fourie
(Seirdna)

2.Kasgeraamte

geraamtes hang in donkerstyl
aan ou hangers in ‘n kas
geboë soos aan galge
met saamgeperste vuiste
(alles been op been)
skuil agter ou ge-erfde jasse
en bly vir jare daar alleen

maar as die skadus konkel
en strepies lig kom in
verander die versteekskelet
in ‘n moë marionet
een wat struikel in sy val
en alles op jaslappe
in die oopte kom uitstal

Andries Fourie
(Seirdna)

Januarie 2022 – DRAMA projek

1.Monsieur Le Fleur

het jy al gehoor van die duiseltrap
waar geen mens of dier dit waag te stap
daar teen die hang waar die winde loei
en die dood se skadus uit die naglig vloei
diep oor die drumpel van die ou houtdeur
wag die wroegverhaal van Monsieur Le Fleur

het jy geweet hy’t die dood gefnuik
en deur die tou van ‘n galg na ‘n vuur gekyk
waar sy vrou en kind verbrand tot as
(wie in onskuld voor die laksman was)
die slag het sy hart in twee geskeur
daardie nag van die wind en die gure weer

maar die soet van die wraak op die punt van sy swaard
het Le Fleur in ‘n monster laat ontaard
in die donker van die nag het hy geskuil
en gewag vir die maan en ‘n wolf wat huil
hy’t die oë van die laksman uitgeruk
en sy swaard in sy mond deur sy keel gedruk

die geroggel van die nag is vandag nog daar
en die oë van ‘n man wat grond toe staar
as jy laat in die nag by die herberg verby
en die volmaan jou op jou pad kom kry
hoor jy die gekraak van die ou houtdeur
dis die onrusgees van Monsieur Le Fleur

Andries Fourie
01.11.2021

Sinoniem/Neologisme vir “drama” – wroegverhaal

3.Reënleser

vandag die leser weer gesien
in die laat middag
teen uitspantyd
toe die rooi son glim
en die skemer daal
het hy vir hom ‘n wolkboek
uit die hemelrak kom haal

in ‘n warrelwind het hy gekom
hy’t die dunner skrifte weggedruk
en ‘n dik boek beetgekry
hom oopgeruk tot by hoofstuk een
en die voorwoord
met ‘n slag vermy

met donderstem het hy gelees
tot die aarde en die hemel beef
sy oë het aan die brand gebly
en in die weerkaats van sy glinstering
het die hoofkarakter manalleen
met sy blitsperd deur ‘n wolk gery

deur sy stem teen eggo kranse
het die byspelers met lus gedans
die fakkels in hul hande
het die hemele verlig
tot net die skadu’s van hul name
in die donker agterbly

hy’t stuk vir stuk die boek gelees
en dit uiteindelik toegeslaan
vir ‘n wyle het hy diep gesug
en toe met rukke begin huil
en in die aftog van die hemelspel
sy diepe droef en trane
vir moedverloor en hoop verruil

Andries Fourie
04.01.2021

(sinoniem/neologisme vir drama: hemelspel)

Maart 2022 – OOP projek

2.Oopgespêrde hoop

sy het sag na hom geloer
maar hy’t haar in sy blik verdoem
haar hart was dragtig soos ‘n jersey koei
haar handjies was wit wolskapies
en haar voetjies sagte karakoelsy

hy was die opper oostewind
en sy maar net ‘n fraaie-vredeskind
hy het deur haar lyf gewaai
haar oopgespêr
en afgemaai

uit ‘n naakte narsisme bitterbeker
het hy het haar bloed gedrink
en soos ‘n leë rooiwynbottel
in glasstukgroen gelos

tog het sy weer vol geword
… en ‘n nuwe neus gekry

Andries Fourie
(Seirdna)

April 2022 – En toe … projek

2.Honger vuur

in ‘n diepe droom van son en see
waar goudstrande teen die hemel smee
kom daar uit die hemelkring
‘n skoonheid wat van liefde sing
in haar wierook-en-laventelhand
lê diep my hart se skemerkant
en in die wind se wispeltuur
lek uit my mond ‘n honger vuur

en toe ek haar wese wou verslind
het haar mag my drif in eed verbind

Andries Fourie (Seirdna)

3.Braille kiekies

die kiekies
in die swart boek
se hoekies is verslyt
maar die raampies
is nog handig
want dit hou
my hande uit

my hande wou
my sig herhaal
oor die deinings
van jou lyf
en toe strelend
soos ‘n braille-gebed
my vingers
daaroor vryf

A Fourie (Seirdna)

Mei 2022 – OOP projek

3.Wegkyker

só kan ‘n aanslag van ‘n skuinswind
jou kom optooi in ‘n kissie as
jou armoede naak kom blootplak
daar waar jou verdelg van goed
al lankal
asielsoekend was

of jou aan ‘n aalmoesbiegbank vasboei
totdat die selfgryp van jou gawes
(uit jou gul genadebron)
soos ‘n klipverdroogde vlakte
reënsmeek rimpel in die son

en op daardie selfde plek
waar jy wegkykend was
jou slaapplek in ‘n wintersteeg
op ‘n kaal karton laat pas

só …
as jy nog kan

maak jou hande oop soos bome
om geewinde te vang
dat jy dit aan uitgeparste wesens
as asems aan kan hang

Andries Fourie
(Seirdna)

Junie 2022 – Winterlandskap projek

1.Verspeelde liefde

jou see is nog indigo en
jou berge lê nog blomvarsblou
soos laventelvelde
wat aan die hemel raak
diep diep in my
vêronthou

jou woorde prik nog pruilmondvars
raakvas teen my vel se voel
in die ryptrap van ‘n winterlandskap
toe jy nog somers af wou dwing
en jou warm stormwaters
oor my koue hart wou spoel

en nou is al waaroor ek krenkend stry
hierbinne in die lomerkind van my
hoedat die inhou van die liefde
en die uitgaan van die hart
mekaar so groetlangs teëloop
en dan saans wanneer dit stil raak
stom soos droogtegrond bly hoop

Andries Fourie
(Seirdna)
20.06.2022

Intertekstueel. Die sin “in die ryptrap van ‘n winterlandskap” iewers in die gedig, is voorskriftelik deur die Ink moderator daargestel.

 Augustus 2022 – My huis is my woning projek

1.Die lewe is ‘n aangaanding

die lewe is ‘n aangaanding
in ‘n waansinwaas gebore
wat in sy strompel deur die jare
elke dag moes nuutbreek
en uit ‘n rooi geriemde afdraaison
‘n nietnag
af moes wring

die lewe is ‘n aangaanding
in hoopsels vasgevang
van huiwers teen die ure
en wagtings op die wind
vir lig of donker dinge
om oor te huil
of oor te sing

die lewe is ‘n aangaanding
met talle duurdiep spore
wat kringend uit die kolke
van wegverdwaalde paaie kom
en in ‘n laaste fakkel-flikkervlam
jou altyd
huistoe bring

Andries Fourie (Seirdna)
23.08.2022

September 2022 – Snelheidsprojek

1.Besef

ek het die grote melkweg raakgesien
ek het die mier se daderdiens aanskou
ek staan hier knielgebuig in diep berou
ek het my skepper selde goed gedien

ek rig my oog om na die troon te kyk
ek sien die tyd wat uit die uurglas wyk

Andries Fourie
(Seirdna)
2022.09.22

3.Weggooiwoorde

ek vat my woorde wat ek weg wou gooi
en plak dit op waar leegtes skreiend was
ek draai dit toe en bind dit veilig vas
tot iedereen in sieraadmooi ontplooi

‘n optelsin sal weinig waarde hê
voordat hy in ‘n koningsvers gaan lê

Andries Fourie

Oktober 2022 – Liriese projek

2.Sononder by trekoskraal

die aand was nog aan’t afdraai
in pag vir môre se gewoel
dit was die mooiste skildery
toe die son en see in sfier ontmoet
en die wynrooi in die wolke
in skakerings van skarlaken
vir my asemroof vergoed

die son het uit sy amp getreë
in pigmente van vergank
en deur die wimpers van die wolke
met die glansgloei van saffraan
het hy sy laaste asemstrepe
oor die waterblink laat gaan

en hier by trekoskraal se duine
het ek sprakeloos gestaan
en deur my strandroos
… my papierblom
hierdie kunswerk sien ontvou
en my oë soos twee pêrels
het geblink soos druppels dou

Andries Fourie
(Seirdna)

November 2022 – OOP Projek

3.Woordkomplot (Engelse sonnet)

dis in die boorde van jou woordkomplot
waar vrug in wrok en wrang sy tak verlaat
daar waar die skryfboom driemaal weierbot
en elke sin sy snede troebelhaat

dis teen die hange van jou skurweberg
waar elke krans in kliprant kruheid staan
daar waar jou woorde vlym en vinding verg
en elke bastion nog sukkelstaan

dis teen die vooraand skemer skadublik
waar lig en leef teen duister swartink veg
daar waar die sluiers oor die denke strik
en elke siel vir asemregte veg

daar waar ‘n ere-standbeeld val oor taal
dáár sal ‘n soete skryfgees oor jou daal

Andries Fourie (Seirdna)
2022.10.24

Januarie 2023 – Naaswenner GHA digkompetisie

Februarie 2023 – Blou projek

2.Delictum

in die suiwer son kon ieder sien
wie het die podium verdien
maar toe die skemerskadus daal
verskiet die ster se skyn na vaal

in die oewermag se maanblomplant
se galgehand lê wenkontant
en deur haar vingers val daar name
wat bloeiend buig in afskeeprame

die woordengel staan vraend daar
toe veritas dié baster baar
“hoe vry is vrede so gepars
dat blomvloek uit sy stingels bars!?”

“jy ken mos die kleur van die hemel my kind
dis daar waar jy jou niksels in die blou lug sal vind”

Neologismes

Blomvloek – slegte uit die goeie
Niksels – dade met slegte gevolge

Andries Fourie

Maart 2023 – OOP projek

1.As sonette begin sing en dans

die dag wat vry vers bloots die rymperd ry
en opdis teenoor sinmaak regop staan
die dag wat oudig na lam leemtes vry
en jambies en sy versvoet huistoe gaan

die dag wat letters in hul vlug vervaag
en skroeiend songestraf in prosa skuil
die dag wat gratis vers die ordes daag
en bloedseldiep sy siel vir eer verruil

die dag wat wysheid sonder grysheid loop
en Salomo se spreuke vloerwaarts val
die dag wat kennis al sy vlyt verkoop
en heuningsoet tot bitterals vergal

dié dag sal die sonnette dans en sing
en vry vers as ‘n offerhande bring

 

Andries Fourie (Seirdna)

April 2023 – KLUG projek

1.Die siklus

dit was in breekdag uur
die oppervuur was koud

die mens se slapersiel in duie
en die louwater was oud

die agskyn van miljoene
lê smeekgereed en wag

‘n klug hang aan beloftes
opgetof en leeg

en vryval dan deur waarheid
tot hy smagmaties ophou leef

en ‘n nuwe klug
‘n doemdag
met grasie
binnebeur

Andries Fourie

Mei 2023 – OOP projek

2.Ingehaal

wat eens ‘n dageraad van drome was
waar kinders lag en sing
en liefde langsaam louter
om dié lewens-siele hang
het die uurglas in die hussekas
sy omdraaihand se tyd verpas
en sweef daar nou net engtes
in die gang

binne-in sy mure
brand daar ‘n hougenis van vure
omsingel deur die binne-angs van bang
en iewers met verdrag
tussen al die honger en gesmag
is daar dalk iemand wat onthou …
wat na die vlam en na die son
in hierdie mensverhaal
verlang

Andries Fourie (Seirdna)
2023.05.13

Junie 2023 – Winter projek

1.Haikoe (koue uur)

tydloos draal die uur
kluimstom swartbrutaal bevries
klipkoud wroeg die nag

Andries Fourie
20.06.2023

Neologisme: Kluimstom – Woordeloos koud

 

Augustus 2023 – Musiek projek

1.Musiek oor my

hoe luimer hierdie Sondag my
met sy middagskyn gelaat
“sunshine on my shoulders
makes me happy”

sing goudverweefd John Denver
op sy droomverlore maat

gister groet my dagdroom sag
deurdringend met gevoel
wyl ‘n “green green grass of home” windjie
oor my kinderjare spoel

en ek sien Tom Jones daar staan
met sy blink klemankies aan

dan tref ‘n skimglans my gesig
‘n wurgruk vat my ver ver terug
en my somber siel onthou
elke oomblik se tragiek

as Kris Kristofferson se “Sunday morning coming down”
oor my somber siel mimiek

Andries Fourie
(Seirdna)
18/08/2023

Nuutskepping(s)

klemankies – uitsonderlike kledingstukke

wurgruk – ‘n vasgryp terugblik uit die verlede

 

2.Winterklawers

die winter dra sy koue las
so onverdiend en onvanpas
in die skootsels van ‘n somerson
ontwyk die gul genade hom

maar eensaam winde maak musiek
hul draai en speel en sing

hulle speel ‘n lied van wel en weë
op die vleuelklavier van tyd
soos wat die liefde neem en gee
noot elke drama driftig uit

op die ritme van sy roeteskof
het die winter weemoed in sy fluit

maar sy einde kom in bloeiselbars
as die lente deur hom breek
en granaatpitrooi sy vingervloei
die koue uit die klawers smeek

met een crescendo blommeplof
soos die toccata … van ‘n Bach

Andries Fourie
(Seirdna)
10/08/2023

Nuutskepping:

Skootsels – stukkies onderbroke sonskyn

 

Desember 2023 – Veldslag projek

3.gelofte

Die mis het oor die laer soos ‘n Godskombers gehang.
Skeurend oor die vlaktes
teen die skemer flikkerskadu’s,
klink ‘n hadida se snerping
teen die dreuning van die aanddiens
se gesang.

En in ‘n slotsom-sakrament
van ‘n Geesvervulde uur
prewel die Trekkers hul gelofte,
langs die kabbelende vloei,
van ‘n verwagte bloedrivier.

In die holtes en die laagtes,
waar elke Zulu impikryger,
dorsgereed vir nog ‘n slagting,
(met die doepa van Inyanga
op sy blinkpunt assegaai),
huiwerend en kruiwend
in die langras lê en wag,
breek vanuit boeremidde
‘n bariton van dankies,
oor die oopgesperde onheil
van die nag.

En in ‘n oomblik van vertwyfeling
voel die ganse Zulumag,
die tintelende swewing
van God se Gees se krag!

Dan daal die moegheid doemfinaal
oor die oog van iedere man
en in die stilte voor die storm,
onbewus van wat gaan kom,
lê die voorlaaier en assegaai,
dormant en koud langs elke vegter,
onskuldig stomverlate,
vry in hul eie vrededom.

Andries Fourie
(Seirdna)
31.12.2023

Neologismes.
Godskombers – beskerming van bo
Kruiwend – kruipend in afwagting
Doemfinaal – onafwendbare toekomstige negatiewe uitkoms.

Woordbetekenis.
Inyanga – toordokter in Zulu

 

MAART 2024 – OOP PROJEK

2.My Hemelse straat

so het ek gedroom
van ‘n hemelse straat
van glyglip op groen gras
in glimmergewaad
van rose en rambas
van bruis en brokaat
van lower en lof
in ‘n blinkgoue graad

so het ek gedroom
van ‘n hemelse straat
teenoor haat en sy hinka
se skande en skaad
met sy vuur en sy vlam
om sy ewige es
droewig en dorstig
in sy gloeirooi gelaat

waar ek met my pluiskuil
my prag en my praal
silwer gesakdoek
in sypakgewaad
eens honger vir liefde
geteister en vaal
met legate van louter
verguising en smaad
die bul en die beer
van dié aarde verlaat

o daar in my straat
my hemelse straat
waar ek glyglip op groen gras
in my glimmer gewaad
waar die sterre se lig
op die melkweg kom wig
en my voete wil dans
op die soelwind se maat

 

Andries Fourie

 

3.Introspeksie

ek het ‘n prismalens ervaar
die kartels deur sy glimgelaat
het oor my vel
en deur my siel
in buffertaal met my gepraat

en deur sy silwer glasgordyn
aankantig tot sy kubusrant
het oor my oog
se invallyn
‘n windreënboog op my gebrand

daar was ek wees en weggeval
my ware self was blootgestel

 

Andries Fourie

JULIE 2024 – OOP PROJEK

1.Middelpuntvliedend

die rooiwyn vloei in weerwil
tot al dieper in die glas
die kohesie aan die bottelwand
teen die helling van die skinkerhand
stuur af op ‘n verduur
van ‘n veg-tot-vrede uur

die wenner is die somtotaal
van middelpunt se vlied
plus die drinker en sy vriende
se neiging tot banaal
oor ‘n leë ontpropte offer
se iets-tot-niks verhaal

dis amper intermolekulêr
so ‘n drinkerbroer-geblêr

Andries Fourie
01.06.2024

 

OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK

1.Reën

 

Ek sien ‘n wolk soos watte teen die blou;

‘n Son wat skroeiend oor die dorheid brand

en deur die hunkers van die honger sand,

‘n kokerboom wat hande opwaarts hou.

Ek hoor die fluitstem van die Piet-my-vrou.

Hy roep die reën na hierdie droë land.

Ek sien die bliksems teen die klipkoprant

en voel die wind wat uit die grou ontvou.

 

Die eerste drup wat teen ‘n grassaad plof,

spat teen die grond se gapende gewag

en sypel deur die skeure van sy mond.

Die droē loop en waterstroom ontstof

en met ramfanje in sy skitterlag,

verstaan die veld die goue Godsverbond.

 

Andries Fourie

15.10.2024

 

Neologisme:

Ramfanje – ekstase

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed