Carma Shaw – Viooltjie
Lees ander bydraes deur Viooltjie
BRONS KLAS
Carpe diem projek:
1.Soos die voëls van die hemel
hoe dans ‘n kwikkie tog so kwikstert fyn
rinkink ‘n vink, en laat die riete roer
en in bome, waar son deur blare skyn
breek die dag vir ‘n duif wat lustig koer
as die rooivlerkspreeu so verleid’lik fluit
en muisvoëls kwetter waar die pers bos blom
drink jangroen uit die kanferfoelie tuit –
hoe soet die sap wat uit diep kelke kom
pelikane sweef langs ‘n skedelkus
oor die wy’ oseaan, die koudste see
‘n albatros vind op lugstrome rus –
dis storm en wind wat sy vlerk krag gee
die lewe’s nóú, wis elk voël klein en groot
‘n hemels’ vlug (in ‘n stryd) tot die dood
C Shaw
Winter-nostalgie
1.Pappa rym is immer
Die wintersmiddag is ‘n blouberg,
‘n wit maan wat bo-oor alles hang.
En – in ‘n oopte tussen wolke –
‘n teeleend, vir momente vasgevang.
Dis ‘n aalwyn wat oranje
(herhaal, herhaal die blom in vlam)
vir myle met die teerpad saam
verby drie reiers . . . en ‘n dam.
Hierdie groen seisoen is ‘n koue uur.
En in grys minute – net voor vyf –
word die Boland deur olyfboorde
langs naakte wingerdstok omskryf.
*
Pappa, ons winters was ‘n storieboek –
koue hande om ‘n bakkie warm sop.
En jy, wat slapenstyd gedigte lees.
‘t was lank terug, maar rým . . . hou nimmer op
© C. Shaw
Teenstellings
2.Die vrug van jou skoot
Mamma, toe ek klein was
was ek soos bloeisels vir jou oë
ragfyn sag en kneusbaar broos
in perskepienk en appelkoosblomwit
wat ontbloot aan naakte takke sit
swanger aan belofte
lentegeur en hoop.
*
Mamma, hier in Meimaand
hang my perskeboom se blare
so herfsdor aan hul takke.
My appelkoosboom het – na sewe jaar –
toe ook nie laas seisoen geblom.
Maar Mamma, jou bloeiselkind
het ság . . . tot rype vrug gekom
© C. Shaw
Najaarsblom
1.Pienk bloei die herfs
Daardie dag – waarop jy dood is –
was Matsikamma aan die bloei
met najaarsblomme wat oor rante
tot onder in valleie groei.
Maart se pienkste kandelare
het wyd rangskik oor sand en klip
en dat iets so mooi nog kon bestaan
was veels te veel vir my begrip.
Die uur was vol van skamel hoop
en ek het stom en heel verslae
gewonder waarom Gifberg’s hang
nog steeds sy skoonste jas sou dra
. . . dáárdie dag – waarop jy dood is –
toe die kandelaar* so pienkblomblaar.
* Kandelaar – Brunsvigia bosmaniae (Maartblom)
© C. Shaw
Projek Liefde vir Afrikaans
1.Ek ken n taal
Ek’t gehoor daar’s ‘n taal wat van ver af kom
– onwetend – oor ‘n blou oseaan
om haar vlag te plant op ‘n suiderstrand
en toe wankelend in wording moes staan.
Ek’t het gehoor daar’s ‘n taal wat gewortel is
in die aarde, soos die stam van Kambro
wat dialek in Kaaps en Namakwa
en ook die karretjiesmens se Karoo.
Ek’t gehoor daar’s ‘n taal wat vry refrein
en wat name oor die landskap laat blom
in suikerbos, aalwyn, piempiempie, lint
viooltjies en vygies wat wink vir die son.
Ek’t gehoor daar’s ‘n taal wat luid weergalm
wat kan donder, wat kan blits, en kan hael
wat klank in ‘n fluit waar die wildwinde suis
druis in die branders wat oor seesande maal.
Ek’t gehoor daar’s ‘n taal wat ‘n hart het
dis groot genoeg vir nostalgies onthou
en selfs sou woorde uiteind’lik verbygaan
vind sy ‘n weg om van nuuts af te bou.
Ek’t gehoor daar’s ‘n taal wat uitbundig leef
wat lag, sing en dans, soms laat waai met ‘n riel
wat hartseer kan wals (wat soms huil oor dit als)
die taal het ‘n ritme, en haar ritme besiel.
Ek ken ‘n taal wat haar stemme wil deel
dis ons taal . . . en sy wil vlieg met haar droom
om altyd en immer aan dié suidpunt te bly
en om trots – in Afrikaans – hier te woon.
© C. Shaw
SILWER KLAS
1.Ek kom haal jou in Augustus
By Postberg, aan die Weskus
digby Langebaan –
dis waar madeliefies weer vanjaar
so geil oor vlak en rante staan.
En teen die duin’
– daar waar hul strandlangs hou –
blom vaalblaar salies roes en blou
langs die oranje, wit en geel geweef
waaroor meeue op die winde sweef.
Die blesbok en die eland wei
voor heuwels en ‘n krans verby.
Dis ‘n dikkop wat so eenbeen rus.
Die voetpad loop tot teen die kus.
En nou
– wyl Augustus na sy einde draal –
wens ek só
ek kan jou kom haal
wyl hierdie land van sand en klip
‘n bont sarong
oor lend’
en skouers glip –
hier by Postberg, aan die Weskus
digby Langebaan . . .
waar madeliefies wéér vanjaar
so wild en wyd oor velde staan.
© C. Shaw
INK gedenkbundel – Desember 2016 en Januarie 2017 projek
2.Verby die berge blou (slegs vir kleine kinders)
Êrens
op ‘n ander plek,
verby die berge blou –
daar waar dit maar selde reën,
maar darem tóg
so dan en nou –
woon ‘n kleine, kleine meisiekind,
(haar hele lyfie, koperbruin).
En elke oggend, laterig
– sodra die hete son verskyn –
sit sy voor haar huisie
in die skadu van ‘n klip
en kyk hoedat die warm wind
sy stofjas oor die heuwels
en die ruwe rante glip.
Maar
aan die einde van elk droogte
kom daar weer ‘n reënseisoen –
‘n tyd vir baie lag en bly wees
en heelwat goeters om te doen.
Gou skud sy haar vlerkies reg
en ‘wyl sy vrolik fluit en sing,
vlieg sy oor die groenste gras
die koelte van die dagbreek in.
Êrens
op ‘n verre plek,
verby die berge blou –
land die feëkind in ‘n blom se kelk,
tussen skitterdruppeltjies dou.
Sy vou haar vlerkies t’same,
sy drink soetsap en sy speel,
die bloeiseltjie se stuifmeel
kleur haar hele lyfie geel.
En elke oggend, as sy opstaan
– nog voor die donker nag verdwyn –
wag sy reeds vir die môreson
om oor die velde te verskyn.
Só
as jy dalk ooit gewonder het
waar hierdie kleinste, kleinste meisie bly
dan gaan ek jou nou weer vertel
waar jy dié feëtjiekind kan kry . . .
dis êrens
op ‘n ander plek,
verby die berge blou –
daar waar dit maar selde reën,
maar darem wél
so dan en nou.
C. Shaw
Maart projek – Menseregte en morele wysheid
3.Op dowe ore
hoor, hoor! swaardswaaiers
ons wêreld se kinders ween
– bloed aan jul hande
© Carma Shaw
April – ope projek
1.Heilige ibis*
Die son kom op net waar sy wil
en wys haar mooiste kleure
oor Blue Downs* en Driftsands* se duine.
Sy strooi haar gloed oor wilde tuine
wat weinig meer as sand en boegoe is.
Sy steek haar kop deur rook en mis
en vly haar skoonste lig oor roet en as –
dáár
waar net gister nog, die helse vure was.
En sonder oordeel skyn sy bloedig rooi
‘wyl sy die hemel soos framboos,
tot in die diepste diep oranje tooi.
Die son breek deur die donker wolk
en glim oor kuile en ‘n vlei
waarom die groenste riete groei.
Sy laat blink die laaste winter waters
wat nog in (amper droë) riviere vloei.
Sy gloei voor Helderberg se hang,
oor witgeverfde huise
waar die rykes woon.
Sy vlam oor fynbos en oor vlaktegras,
oor voetpad en teen heinings vas
waar agter plakkers
in plank- en sinkgehugte droom.
Die son skyn waar sy wil –
oor taxi’s en blink motors
en rus vir oomblikke verblindend, stil
bo ‘n brug wat oor die N2 baan.
En hóóg,
waar – in ambergoud – haar strale dans,
kruis ‘n ibis teen die hemeltrans.
En hy sprei sy vlerke vry en wyd . . .
in ‘n skadubeeld van heiligheid.
© C. Shaw
9 Januarie 2017
* heilige ibis – wit- en swartgekleurde ibisvoël
* Driftsands – ‘n reservaat ongeveer 20 km vanaf Kaapstad langs die R300 en die N2
* Blue Downs – ‘n informele woongebied aangrensend aan Driftsands
Mei 2017 – Moedersdag Psalm/Vonkfiksie projek
1. ‘n Psalm vir my ma
Ma, die woorde uit jou mond
is altyd soet – soos die fynste suiker,
soos heuning – elke gedagte uit jou hart.
Al swerf ek oor die hele aarde heen,
al sou ek elke huis en ruimte verken –
nêrens sal ek jou gelyke vind nie.
Want jy is soos ‘n veldblom met geurige nektar
geurig is jy, soos heide – wat nimmer verwelk.
Jou stem is teer en klank net liefde –
soos sagte liefde klink dit as jy praat.
Ma, die woorde uit jou hart
is soet – soos fynbos heuning,
soos fyn wit suiker
is al die woorde uit jou mond.
© Carma Shaw
2.My ma se huis is bottergeel
Mamma,
in jou tuin is daar ‘n plek waar die son opkom.
Sy vly haar strale teen die mure van jou huis,
haar lig vloei by jou kamers en jou gange in.
Snags blink die maan bo jou woning –
‘n vol maan wat nooit sy glans verloor nie.
Sterre dans en strale krans om jou vye-
en amandelbome.
Ja, die son en die maan en die sterre
loof jou met hul ligspel,
hulle eer jou in die dag en in die nag.
Jou huis se mure het jy bottergeel geverf
want jy verstaan hoe lig werk.
En waar daar lig is, is daar geen donker nie.
© Carma Shaw
Junie – FAK projek
2. Kammalandse tannie*
Sy bak koekies vir haar blou koekblik,
sy geur dit met amandel.
Daar buite vlinder vlinders
deur die vroeë môreson.
O, die winterwind is stil vanjaar
die wolke tint laventel
– haar oë duif oor die vaalberg
na ‘n ander plek en tyd.
Sy onthou weer ‘n lankgelede,
‘n vrou wat jonk en mooi was –
die kammaheks van Blommeland
wat purper rokke dra.
*
Sy meermin in riviere
en saans speel sy klaviere,
‘Für Elise’ sy vir ‘n skare –
drie honde en haar langhaar kat.
Soms dans sy onder sterre
saam met Venus en die sekelmaan
– ‘n rondomtalie wentelbaan
deur die middernag se blou.
Haar dae breek oor tuin en veld
en oral waar sy wandel
met haar voete op die aarde –
die geur van fynbos aan haar lyf.
*
As die wintermiddag koud word
en haar lampe brand so warm
herken sy weer die vuur se vlam
en die reuk van paraffien.
Sy bak koekies vir haar blou koekblik,
sy geur dit met amandel.
En iewers vlug haar vlinders
deur die laaste Junieson.
© Carma Shaw
27 Junie 2017
*Kammalandse tannie (titel ontleen uit FAK sangbundel)
EERVOLLE VERMELDING
Sing jy (maar) van blomme* … (ek sing van vuur)
Die son gloei vanoggend oor die wye Karoo
maar elders brand daar treine, of skole – of so
nog ‘n vrou, nog ‘n kind, nog ‘n man in die straat
verloor die stryd teen die vlam, die rook en die haat.
Wie moet hiervoor die skuld kry – en nog smeulende vrae
of is dít hoe ons Showville* in Suid Afrika?
Laat die jonges pantsula, laat die ou mense wals
kom ons sing, kom ons lag,
kom ons huil oor dit als.
Die son sak weer vanaand oor die wye Karoo,
oor ons stede en townships, ons plaasgrond – en so.
Hoeveel as, hoeveel roet moet ‘n land dan verduur
voor sy lelies weer blom
in die spoor van die vuur?
© C. Shaw
31 Mei 2016
* FAK Sangbundel: (Titelnaam ~ Sing jy van blomme)
* Showville – Suid Afrikaanse televisie program waarin daar na plaaslike talent gesoek word.
JULIE – Oop en nuwe projek
1.Waar die gompou vlieg
Op ‘n plaas in die Limpopo
lemoen die boorde vol in vrug.
En naby Pont Drift vlieg ‘n gompou.
O hoe verlang ek nou weer t’rug
na ‘n winter wat nie koud word nie
en die saligheid van son
wat middaglaat so lou laat voel.
Ek sou teruggaan
as ek kon
na daardie plek waar nagte lewe
met bosbokooie oor jou stoep
en ‘n skopsuil in die donkerte.
Ek hoor nog steeds sy roep
(prrrp … prrrp)
na daglig wat deur krone vlam –
om daar te towerwoud
oor stam en tak en dooie blaar.
Die vaal gras tint tot goud
langs groot riviere
waarom koorsbome nog groen.
En oor ‘n droë loop kruis mens en dier
soos hul vir eeue reeds al doen.
*
Ek verbeeld jou weer, Limpopo –
jou arende wat vis kom vang.
Ek sien ‘n gompou vlieg by Pont Drift.
En hoe laat dít
my nou verlang.
© Carma Shaw
2.Limpopo onbegrens
(Sy sien nog soms die beeste
sy hoor hul klokke lui –
die klongelklank wat willoos
oor alle grense gly)
LIMPOPO ONBEGRENS
klongel-klongel
praat die klokke –
“Groot Limpopo
ons hang hier
om die nekke van jou beeste
tussen oewers
oor die grense
deur die droë loop
van jou rivier.
Aan die oorkant
op jou walle
staan die vrou
vanuit die Suide
sy luister na jou winde
en na ons klokkespel geluide.
Sy groet jou groot Limpopo
sy groet jou groot rivier
want môre sal sy weg wees
maar dan hang ons nog steeds hier
en klongel-klongel
om die nekke van jou beeste.
En van als hier in die Noorde
is dié verlies
vir haar die meeste.”
© Carma Shaw
EERVOLLE VERMELDING
Die lig in die donker
Kom ry saam met my
oor die groot Gariep
oor die onsigbare diep rivier
deur die mis wat wit bo die water rus
in die donkerste uur ~
net voor drie
verby die plek waar die maan so gloei
verby die fontein waaroor die maan so bloei
verby die silver dam
en die bloekomboom
onder sterre wat die nag met hul lig beloon.
Kom ry saam met my
oor die Vrystaat vlak
waar Venus oor die heuwels refrein
deur ‘n land waar ons (soms)
aan die duister stik
tot die dag vir ons breek ~
duskant Bloemfontein.
© Carma Shaw
Augustus 2017 – As die seisoene draai projek
1.Vlieg is vir die voëls
Hier, waar varings soms nog welig groei,
die son so rooi bo die ooskrans bloei –
staan sý met die donker oë en kyk
hoe duiwe vér oor die dale wyk.
Toe dink sy só; “was ek ‘n duif,
het ek saam met die voëls oor die berg geskuif –
na ‘n plek waar sterre in die donker blink,
die maan nog haar lig oor die velde skink.
Na waar wolke pers bo die lentegroen
en die laatherfs hom met die ryp versoen.
Tot waar bloukraanvoëls oor die vlaktes vaal
terwyl winter die lewe uit die geel gras haal.”
© Carma Shaw
Oktober 2017 – Fees projek
1. Feesmaal
Bring silwer rose en geel sonneskyn
vroeg in die môre – dit sprankel met dou.
Naas ‘n helder rivier wag ek vir jou –
blink langsteelglase vol vonkelend’ wyn.
Hier’s ‘n wit tafeldoek en bont servet –
kom, vier die lewe met ‘n tuinbanket!
© Carma Shaw
November 2017 – Oop projek
1.Nie soos glas nie
Party dae word alles skielik blou
– sommer so, dálk
omdat dit Maandag is.
Jy sit alleen voor jou Wimpy ontbyt
of in die mall se Mug & Bean
(soos ‘n beeld uit ‘n movie scene)
– en jy word bewus.
Jou bord is byna leeg,
jy bestel nog koffie – vir die dors.
En iets wel op uit jou bors, na bo
om hier vlak in jou oë te dryf.
Jy tas na jou donkerbril,
al brand die lampe flou.
Die son verlaat jou kop.
Die maan se lig hang buite jou lyf
(jy wens jy kon dit met jou hande vang).
En jy verlang na tye wat nooit sal wees nie,
hunker na dít wat nooit werklikheid was nie …
en jy voel hoe jy breek –
maar jy breek nie soos glas nie.
(O, party dae word alles blou).
© Carma Shaw
Eervolle vermelding
oor die gebrokenheid van mossels
…
kan ek nie vir jou skryf nie,
ook nie oor die liefde nie.
Hoe verhaal ek die hunkering in elke sel van hierdie lyf,
in watter taal word verlange vasgevang.
(Die woorde, die frases, die sinne
bly my faal.)
Ek kan dit voel,
dis iets waarvan ek weet,
maar ek sal nooit daaraan kan raak nie –
so onbereikbaar
soos vroeë sonskyn teen Tafelberg se krans,
soos Melkbos se meeue
wat – teen ligdag – oor die waters dans,
so onbegryplik
soos ‘n gousblom wat in soutigeid kan groei,
droë seebamboes wat sirkels oor die landskap bloei
en branders
wat nooit ophou breek nie.
Wie verstaan wolke
of dat verlatenheid so vol emosie is.
My spore verdwaal oor Duynefontein
en skepe verdwyn in die mis
na plekke waar ek niks van weet nie.
Hoe sal ek die einde van my skaduwee bepaal –
kom ek daar, is dit nie daar nie.
Oor al hierdie dinge
kan ek nie vir jou skryf nie –
veral nie
oor die liefde nie.
Want ek weet net dat dit IS –
soos skulpe op die sand,
soos klippe …
en soos die gebrokenheid van mossels
wat splinter oor ‘n strand.
© Carma Shaw
Verwagting
(Vroeër het die warm son
soos ‘n hellevuur gebrand,
deur die dynserige hemel
bo die purper krans se rand)
VERWAGTING
Dis die einde van Oktober
en die middag is al laat.
Bo die boulevard (in Brackenfell)
en die karre in die straat,
oor die hoogtes en die heuwels
waaragter Bolandberge kring –
hang die donker donderwolke
en belóóf
dat hulle reën sal bring.
Dis vyfuur – en reeds skemer,
daar gloei onheil in die lug
en dieper in die hete dorp
is twee kolganse aan’t vlug.
Sou hul dalk die waarheid wis
wyl hul skellende bly skree –
dat bloot ‘n tiental druppels
oor hierdie dorre grond
sou vee.
© Carma Shaw
Desember 2017 – Kerfeesviering projek
2. Kersnag in die Karoo
Heel die hemel kyk neer
oor vaal bossies en klip
na ‘n stal en ‘n windpomp
naas ‘n kraal en ‘n krip.
Al die melkweg se sterre
skitter helder daarbo –
oor ‘n stofpad wat kronkel
deur die Tankwa Karoo.
En elke naguiltjie sing
sodra die son ophou skyn
en laat ‘n hoopvolle lied
deur die droë land refrein.
Daar waar nagte nog stil raak
– asof oor heilige grond –
leef elk mens en elk dier
steeds met God in verbond
en word vrede op aarde
net ‘n werf met ‘n dam
onder ‘n volmaan wat glim
bo ‘n ooi, langs haar lam.
©Carma Shaw
Januarie 2018 – Weegbegin projek
3.Noudat gister verby is
Nóú wil sy weer haar eie lewe lei:
Weer dooie blomme vanaf takkies breek,
haar plante water gee (met voeding by),
voel hoe die dorings van ‘n roos kan steek,
verstom wees oor die kleur van nuwe groei
terwyl haar hande – deur die son gevlek –
bloeddruppels uit terloopse wonde bloei.
Sy wil bidgoggas in haar boom ontdek,
met bange vingers aan groen ruspes raak.
En voor die jaar tot bittereinde kom
elk braakland omspit om ‘n tuin te maak,
sade saai en hul pamperlang tot blom.
Ouhout wegsnoei, al bring dit soms verdriet –
(uit naakte botsels stulp die lewe nuut).
© Carma Shaw
GOUE KLAS
Maart 2018 – Digkuns projek
1.Die vrou weet waar vuur is
die vuur is in die son se straal
oranjerooi in gloed
wat wals oor vlaktes en oor velde;
dis in die môrestond se groet
die vuur vloei deur valleie
dit volg die nag se spoor
deur elke kronkelpaadjie
die hellings en die steiltes oor
die vuur vly in die blom se kelk
en teen die kokerboom se stam;
dis in die wyse waarop bloeisels
bo die vaalblaar van ‘n aalwyn vlam
dit gly oor die Namakwaland
dis in die warm van die sand
dit steek die heuwels en die rante
also goudbruin aan die brand
die vuur hang oor die water
dit klop die koper uit die klip
en bloei bloedloos teen die hemeltrans
alvoor dit in die weste
oor die horisonne glip
dis in die vonkel van die sterre
wat immer deur die melkweg baan
en sluimer salig teen die wange
van donkernag se vollemaan
*
die vuur is in die vrou se hande
wat skilder (met of sonder kwas)
op doek of teen ‘n hart se wande
die vuur pigment (vir eeue al)
in klei en roet
en as
© C. Shaw
April 2018 – Paasfees projek
1. Vrydag
Tien vingers aan Sy hande
een vir elk gebod
‘n doringkroon
‘n lendelap.
Is dít die Seun van God?
‘n Houtkruis teen ‘n heuwel
vyf tone aan elk voet.
Bitterwyn en spykers
donkerson
en bloed.
© Carma Shaw
2.Oordenkingstyd
As ek kon, sou ek vanaand aan tafel sit
by ‘n oopgeslane boek
vol ongeskrewe woorde.
En huiwerig die spasies vul
(met pennepunt die skrifte krul)
soos iemand uit die vêr velede.
Geen hedendaagse helder lamp
sou aan plafonne hang
en by die warm vlam van paraffien
sou ek weer suiwer voel
en dieper sien
(als is aan mekaar verbonde – gisters, môre, hede).
En ek sou midde hierdie woordbreek uur
soetwyn uit ‘n beker drink,
die pase en die herfs oordink …
en lank vervloë wonde(rs)
oor die sye van leë blaaie vloei
in purper letters
wat deur ooptes tussen lyne bloei.
© Carma Shaw
Mei 2018 – Moeders projek
1.Nou weet ek, Ma
Jy knoop my vas,
jy bind my los
met naelstringwoorde
soos suikerbos en kandelaar,
Komaggas en Soekmekaar.
Jy kweek in my ‘n liefde vir ons taal.
Jy hou my teë, jy laat my gaan,
jy bly my by. En ek verstaan –
die band wat ons gebonde hou
strik sag, maar tog ook styf.
En waar my weë ook al baan
(tuis, of oor die wydste oseaan) –
jou stem vly teen my hart se wande
asof gebeitel deur jou liefdeshande.
© Carma Shaw
2.Verbintenis
Die taal wat uit jou mond kom, Ma
was my altyd net tot seën
en die woorde oor jou lippe –
soos edensblomme
na die eerste lentereën.
Jou spreuke en jou sprake
het ‘n goue draad gespin
gehekeld in patrone;
dit het wyd alom gekring –
tot ‘n deken (snoesigsag)
waaraan my menswees vas kan klou;
wat my ewig, innigstyf
aan hierdie taal van jou hart
en aan jou skoot verbonde hou.
© Carma Shaw
Junie 2018 – Poëtiese orde projek
1.Delvillebos (op ‘n dag in Julie 1916)
Vanoggend het Fanus Venter* ‘n nare voorgevoel…
en net daar !PLOF! iets in die sandbank –
dis die eerste ligdagkoeël.
Teen die walle van die Somme
is die duiwel eensklaps los
tussen kaal geraamtebome –
dit is die slag van Delvillebos.
Vir die jong man van die Vrystaat
is die masjiengeweer se vuur
(genadiglik tog darem) van baie korte duur;
dis ook maar net sy vlees en bloed
wat hy hiér in die vreemde los.
*
En iewers skarrel daar ‘n korhaan
tussen vlaktegras en ‘n bitterbos.
© Carma Shaw
* Fanus Venter is ‘n fiktiewe naam
Julie 2018 – Oop projek
1.En dalk nog Simonsberg se hang
dis oukei as jy wil weggaan
terwyl die muisvoëls bessies vreet
– ek verstaan as jy van alles
en van die mossies wil vergeet
en van die boom en die visdam,
die skewe grense om my tuin;
van my houthuis met die venster
en die son wat daardeur skyn
(dis net ek en die duiwe
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke lente na die koms
van jou voetval sal verlang)
dis oukei as jy wil groet –
ek sal steeds in skadu’s rus
die wind wat oor my skouer speel
sal my troebel siel kan sus
en die lelies wat so oopmond lag
in die hitte van die uur
sal jou omdraai en jou wegloop
met ‘n glimlag kan verduur
(dis net ek en tarentale
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke somer na die koms
van jou voetval sal verlang)
dis oukei as jy wil weggaan
op ‘n koue dag in Mei
ek kan ‘n traan aan die aalwyn
– wat oranje blom – bely
en aan die wolke en die wit maan,
aan my tafel en my stoel;
ek weet die doringdraad en straatlig
sal verstaan hoedat ek voel
(dis net ek en pelikane
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke najaar na die koms
van jou voetval sal verlang)
en dis oukei as jy wil groet
terwyl die aronskelke blom
kyk, die swaeltjies vlieg ook weg
voor die koue maande kom
hadedas en kolganse
vlug maar immer hier verby –
so, dis oukei as jy wil weggaan
op ‘n bibber dag na Mei
(want dis net ek en ‘n blouvalk
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke winter na die koms
van jou voetval sal verlang)
© Carma Shaw
2. 2 julie 2018 (en die pers heks van Blommeland skryf)
My liefling, dit is winter
en ek verlang weer, dis maar al –
hier vanuit die Kaap
waar die reën vanjaar
in strome
oor die Weskus en die Boland val.
Die bitter van die droogte
is uiteindelik verby
en water stort oor kranse
by Jonkershoek, De Doorns en Grabouw.
Vol riviere raap nou dooie reste op
en vloei na eens leë vleie
wat seisoene lank na water smag.
By Gordonsbaai en ander strande
druis en droef die branders grou,
maar Paternoster maak ‘n reënboog
op hierdie grys en somber dag.
En ek sou alles gee
om hierdie koue uur met jou te deel.
By Sutherland speel ‘n jong kind in die strate
langs verlate lampe
waaronder sneeu teen dagbreek glim.
En by Worcester klim en skitter kranse
(vir ‘n oomblik) in die son.
Hemel en Aarde was nog nooit so wit nie.
My lief, ons trek al halfjaar.
In my houthuis is dit skemer
en buite waai die winde kil en klam.
Maar ek draai die lamp se pit ‘n bietjie hoër;
hou my twee verkluimde hande
nader aan die hitte van die vlam.
*
En ek onthou ‘n ander Juliemaand
(dit het gereën hier in die Kaap)
en die nat geur van fynbos
teen ‘n purper berg se val.
*
My liefling – blameer die winter,
want ek verlang weer
(dis maar al).
© Carma Shaw
3.Ek vlug soms, my lief
Ek vlieg soms oor ons land, my lief
‘n enkeling aan’t vlug
van hierso tot ‘n verweg plek
soos duiwe deur die lug.
Ek vlieg soms waar die wolke wit
oor berge heen en t’rug
so asof ek nie bang is nie
soos duiwe deur die lug.
My lief, die veld is soms aan’t blom
die son ‘n sagte sug,
maar ek vlug omdat ek moet, my lief
soos duiwe deur die lug.
Daar was ‘n tyd toe ons kon praat
oor niks, maar ook oor als;
ons woorde was so lig van voets
‘n danser en ‘n wals.
Maar nou is ek so sonder praat
‘n enkeling aan’t vlug
en sommer net, verlang ek soms
na lank gelede t’rug (2)
© Carma Shaw
Augustus 2018 – Haikoe projek
1.Haikoe
dis winteroggend –
‘n skoot klap in die Vrystaat,
warm bloei ‘n bok
Carma Shaw
2.Haikoe 3
liglose einders –
skepe verdwyn in die mis
oor maanligwaters
© Carma Shaw
September 2018 – Spyse vir die siel projek
1.’n Storie uit Donkerbos
In Donkerbos, so omstreeks middernag
(geklee in ’n tutu van wit satyn)
het ’n feekind met ’n vrolike lag
in ’n ou kalander se mik verskyn.
Die maan het sy in haar palms gehou
en met kale voet, op haar toontjies fraai
(onder ’n hemel wat indigoblou)
gewals, ballet en om-en-om gedraai –
so al met die voetpad se kronkeling
verby gras en bos en ’n boom se stam
(omring deur sterre in ’n silwer kring)
tot net voor dit rooi in die ooste vlam.
Maar douvoordag het sy weer weggeraak,
want ’n nágfee moet teen die son bly waak.
© Carma Shaw
3.As dit winter in September
hoe bibber die lente in die Boland –
by Hermon kelk room lelies in ’n dal
skape verf ’n wit streep teen ’n groen rant
bont beeste wei in vrede teen ’n wal
Groot Winterhoek pryk in ’n sneeugewaad
by Wellington tak akkerbome kaal
canola toon haar sagste geel gelaat
waar mis voor bergvoet na benede daal
orals oor die hange geil gewasse
by Tulbagh roer ’n graspluim in die wind
tot Soetensdal se blink waterplasse
word hemele (in newebeeld) verbind
die lente sal haar altyd trou bewys
al sou September bitterkoud soos ys
© Carma Shaw
Oktober 2018 Projek
2.Hunkering
Sou ek vanaand een droom kon droom
sou dit rus wees naas ’n doringboom
– een wat haar takke wyd laat kroon.
Sou ek vanaand een droom kon droom
voor ek oplaas van hier verhuis –
droom ek ’n melkweg en ’n suiderkruis.
Sou ek vanaand een droom kon droom
sou dit rus wees, naas ’n doringboom.
(Triolet)
© Carma Shaw
November 2018 projek
1.Strandfontein (goud)
Ek wil weer een oggend langs jou weskus sit
en mosbeskuit in my koffie doop;
hoor hoedat branders teen jou lang strand breek
en ’n myl of twee deur die wit mis loop.
As die nag verby is en die dag ontwaak
(om kraakdelikaat aan my vel te raak) –
wil ek jou see en jou sand en jou sout kan ruik
’wyl jou grou oseaan akwamaryn ontluik.
My blik wil dwaal tot by jou verste kim;
my hande – oor my koue, klam wange vryf.
Hierdie hunkerhart wil van dolfyne weet
wat nog vryheid ken en wat op deinings dryf.
Ek wil weer een môre op jou meeue wag
(’n myl of twee deur die wit mis loop)
die weswind voel wat van die see af waai
daar tussen Papendorp … en Doringbaai.
© Carma Shaw
3.Philadelphia (Goud)
In ’n kamer in die Blikhuisie
wag daar ’n vulpen en papier
en ’n posbus wat verlangbriewe
reguit hemel toe kan stuur.
Is daar nog ’n plek aarde
wat so klein is van gestalte,
maar tog so groot van gees;
wat midde veld en koringlande
’n baken van die hoop wil wees.
Met ’n kerk wat by haar ingang
en by haar uitgang staan –
die toring wat omhoog wys
dui die rigting aan.
*
Ek loop verby ’n pienk rankroos
wat skroomloos klim oor rante
van ’n heining wat getimmer is
uit witgeverfde planke.
En verby vevloë dae
se gepoleerde hoë stoepe
waarop malvas – in kleipotte –
nonchalant rangskik in groepe.
In Louwstraat staan ’n peperboom
reeds jare oud, en groot;
haar wilgerende takke
het sy wyd om haar gestoot.
Hier kan mens nog koffie drink
en oor die lewe sit en droom
langs die knoetserige stam
van die restaurant se boom.
*
Is daar nog ’n plek op aarde
waar stege so kan blom
elke jaar Oktober
as lente na die Boland kom.
’n Plek waar die verlede,
maar ook hoop, hul stempels los;
’n plek waar mens ’n brief kan skryf
en dit hemel toe kan pos.
© Carma Shaw
Desember 2018 projek
1.’n Klein verhaal van groot tragiet
Êrens in die Vrystaat
oor vlaktes vol verlatenheid
lê ’n ou seisoen se pluimsaad
en wag (vergeefs)
dat dit moet reën.
En midde die verskroeide somer
staan ’n windpomp (onvoltooid)
naas ’n sinkdam sonder water
– ’n tafereel in ’n slotverhaal.
Die aarde kraak haar lippe oop,
skreeu stil dié groot tragiek:
droogte ken die perke nie,
die son besing sy eie lof
en…
God had geen genade nie.
© Carma Shaw
Januarie 2019 Projek
1.Tanka 3
sy nuwejaarsbruid
(in rookvaal sluiers gehul)
strooi asgewade
oor Leeukop se fynboswang
– swart roet haar soen van verraad
© Carma Shaw
2.Tanka 1
Overstrande groet
die jaar met fynbosbrande,
dae vuur en vlam
en nagte hyg na asem –
versmoor in rook, roet en as
© Carma Shaw
Februarie 2019 projek
1.Party sou seker sê: “Hulle tyd het uitgeloop.”
In Blyvooruitzigt, Carletonville
het Hettie menig uur verspil
deur na die krake in die muur te kyk.
Elke bars se loop
het sy sorgvuldig nagegaan
ook elke stoeppilaar se val
of (nog) wankelende staan.
Oor die onderdeur het sy geloer
na die gat daar in haar agtertuin –
of dit groter of dalk dieper word;
of daar dalk nóg ‘n gat verskyn.
*
Die vakansie in Amanzimtoti
het haar ’n wyle laat vergeet
hoe om ’n bars of kraak se breedte
met die blote oog te meet.
Ja, die vakansie het haar goed gedoen
en dit was netsowel,
want dis die enkele ligpunt
in die verhaal wat ek vertel.
*
Skaars sit Hettie voet aan huis
of ’n dwarskraak heet haar
. . . . . WELKOM TUIS . . . . .
só, asof hy oopmond vir haar lag.
Toe het sy gewis geweet
–sy’t lank genoeg gewag.
“Net more maak ek werk hiervan;
hiér sal ons moet uit, so gou as wat ons kan.”
Dit was 1964
in Blyvooruitzigt, Carletonville
toe Hettie daardie aand
weer haar kosb’re tyd verspil
deur vir oulaas na ’n kraak te kyk
net voordat sy van moegheid
in ’n diepe slaap beswyk.
Die winterswind was snerpend koud,
Augustusmaand net drie dae oud
in Carletonville, aan die Verre Wes-Rand.
(Dit was vroeg in die oggend –
so twee-uur se kant.)
Toe breek die doodse stil…
en Hettie het blykbaar hard gegil
toe huis en haard in vlamme staan
net voor dit na benede gaan;
toe die aarde – onder hewig druk –
mond oopmaak
en haar áls insluk.
(Soos goudstof deur ‘n uurglas tuit
loop elke mens se tyd maar uit.)
Ns.
Jare later kon die buurmansvrou
die groot geraas nog goed onthou:
Want toe mure breek en ruite kraak
het alles net te veel geraak.
En die skok was boonop dubbel groot
toe die radio sê:
“Jim Reeves is dood.”
© Carma Shaw
4 Junie 2014
Op 3 Aug 1964, op die myndorpie Blyvooruitzigt, het ‘n reuse sinkgat die huis van Johannes en Hester (Hettie) Oosthuizen geheel en al ingesluk. Hettie, haar man, hul drie kinders en die huishulp was binne die huis tydens die gebeure. Vir meer inligting
2.Blou Dinsdag
toe…
het sy elke groot en klein verdriet
in haar twee palms uitgegiet;
dit fyn, en fyn, en fyn gemaal
– soos duinesand
wat aswit vaal
haar hande sag tot vuis gemaak
bo, waar die uurglas nounek raak
en al die seer daarin laat loop
met net een enkel, skrale hoop
dat ieder droefheid, sondermeer
met ywer na benede keer
en deur die smalle poort sal baan
– soos tyd
(wat sommerso) velore gaan
om (ten laas) te kom
tot ewig rus
dáár waar Melkbosstrand
so duinekus
© Carma Shaw
26 – 02 – 2019 (Dinsdag)
11:31
Maart 2019 projek
1.Sprokieloos
rook en roet van vuur gaan nooit verby nie
dis newels vasgevang
onder hierdie sterrelose hemel
waar reenboë nooit meer hang
al kyk ons goed
dis nêrens te vind
(’n sprokie geketting in die hart van ’n kind)
oë word dof en die duister verblind
as ons reënboë ontbind
ons volg elke nag die swart riviere
wat straat deur grys beton
en al sou ons loop
ontelbaar ure
die lig bly ons ontkom
tog laat ons onsself immer hier bind
al is ons storie ontsprokie, onmind
wil ons nog geluk en vrede hier vind
soek ons steeds die reënboogpunt
ons volg elke dag die swart riviere
ons kyk alom en om
hopend op ’n land van blou saffiere
biddend vir ’n brokkie son
© Carma Shaw
24 Maart 2019
Neologismes
1. ontsprokie
2. onmind – wat nie meer gemin word nie
BRONTEKS
Sprokie vir ‘n stadskind
Koos du Plessis
As die reën van stof en roet verby is
en die rook verdwyn
Sal daar in die sterrelose hemel
‘n neonboog verskyn
En kyk maar goed,
want as jy hom vind
vertel ek vir jou ‘n sprokie my kind,
van ‘n skatkis met ou kettings gebind
aan die neonboog se punt
Volg hom elke nag oor swart riviere
Oor kranse van beton,
as jy aanhou stap
tien duisend ure
sal jy dalk daar kom
Maar hier moet jy jou nimmer laat bind
want so lui die ou, ou sprokie my kind,
As jy geluk en vreugde wil vind
soek die neonboog se punt
Volg hom elke dag oor swart riviere
kyk nie eenmaal om
Dalk vind jy die land van blou saffiere
en dalk ‘n brokkie son
2.Arboretum
vir jou wil ek soos ’n houthuisie wees
wat in varingvelde rus
in die skadu van koel bome
waaraan rooiwangpere hang
met duiwe in die takke
wat vroeg smôrens kanonkoer
vir jou wil ek soos ’n houthuisie wees
aan jou doringbaai se kus
met malgasse wat huis toe kom
en wit mis oor die see
en jy wat oor die waters kyk
deur wawyd-ope ruite
tot jou leedsiel weer teen strande rus
jy voel tuis in ’n Bolandhuis
met geelhoutvloere en los matte
en winters eet jy pannekoek met stroop
buurkatte is welkom op jou stoep
en jy’s gewoond aan Kaapse weer
en elke-naweek-braaivleisgeur
en met jou wil ek my lewe deel;
in die onskuld van my boomhuisie rus
© Carma Shaw
24 Maart 2019
Neologismes
1. buurkatte – die bure se katte
2. elke-naweek-braaivleisgeur
3. leedsiel – siel wat baie leed verduur
4. kanonkoer
Bronteks
florauna – André Letoit (Koos Kombuis)
ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in die boland van my hart
met ‘n peerboom in die tuin
en vaatjies wyn in die kombuis
en ‘n tuinhekkie met krulle
en boekrakke met sartre.
ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in my onderkaap van smart
met skepe in die hawe
en donssaad op die berg
en jy, in lewende lywe
op die stoep, in jou kombers
in die winterboland van my hart.
jy kom van ‘n groot glaskasteel
met kandelare en wolkatte
en toffies toegedraai in bordjies
en poedels op plaveisel
jy’s ongewoond aan kaapse weer
jou tekkies is geparfumeer
maar ek wil vir jou my lewe gee
in die witafdophuisie van my hart.
April 2019 Humor projek
2.Alles wat jy nog altyd van rugby wou weet, maar te skaam was om te vra
Rugby is ’n rowwe spel
wat gespeel word op groen gras
tussen strepe wat ’n veld omlyn
– as dit maar al die strepe was.
Dit het ’n kantlyn en ’n doellyn
om net maar twee te noem;
’n middellyn en kwartlyn –
daar kan die baan op roem.
En op tien treë, ’n stippellyn
(dit raak nou erg gekompliseerd)
daar’s selfs ’n lyn van voordeel ook
– dié vind ek onverstaanbaar wierd.
Vyftien manne aan ’n kant
goed gespierd van baie gim,
is wel póótuit aan die einde
maar hulle’t darem goed begin.
Hul moet kan hardloop, stamp en stoot
– ek dink mens noem dit dryf;
die oogmerk, om ’n drie te druk
maar eintlik tel dit vyf.
Op die doellyn staan twee pale
met ’n dwarslat tussenin;
om oor te skop tel twee of drie
– dit maak al amper sin.
Hoogvat, laagvat, lynstaan
ook losgemaal en skrum –
hul moet kan skepskop en kan stelskop
hul moet ’n bal kan vang.
Behalwe vir die dertig man
is daar nog een wat fluit moet blaas;
meestal lyk hy net verlore
maar eintlik is hy baas.
En boonop moet hy kaart kan speel
(daarvan is ek bewus)
hy deel rooies uit en geles;
dit dien as vrypas om te rus.
Onthou ook net die speeltyd
word in twee helftes verdeel
deur ’n pouse net mooi lank genoeg
om jou vriende te verveel
met jou opinie van die wedstryd
tot dusver op die groen
en met ’n demonstrasie
van hoe mens dit eintlik doen.
Maar nou het ek genoeg vertel
en ek is seker jy verstaan
dat ek soms maar net my kop skud
en wonder…
wat de duiwel gaan daar aan.
© Carma Shaw
Mei 2019 projek
2.Lig uit die donker
Pa leun teen die deurkosyn;
in sy hand, ’n bruin kardoes.
*
Ek laat die steentjies tuimel
in ’n hopie op my bed
en stryk dit met my palm plat.
Die jaspis, wat so dieprooi roes
maak amber vuur in die agaat
die tieroog lê – vol strepies –
neffens rooskwartspienk
en smeulendbruin granaat
maansteen wit langs groen smarag
en ek was só bewus
van die blou van blou saffiere,
die pers van ametis.
Ek hark die steentjies bymekaar
tot ’n reënboogmengelmoes
‘wyl ek dié wete bly bewaar –
dat lig skakeer en sluimer
in die donker
van ’n bruinpapierkardoes.
© Carma Shaw
Junie 2019 Projek
1.Wintersgenade
Op die sestiende dag
het ek my son heeldag lank vir jou laat skyn,
sodat jy weer onder bome kon sit
in jou klein paradys.
Jy kon na my hemel staar en jou aan blomme verkyk.
(My Bougainvilleas het nog nooit só pers gebloei nie.)
Ek het die voëls sonder ophou laat sing
en duiwe deur my bloutes gevleg.
Die noordweswind het ek in toom gehou
en ‘n wolkkasteel bo Simonsberg se krans gebou.
Want ek ken jou bakens,
ek weet waarheen jou oë altyd vlug.
Ek weet jy vrees die donker.
En heel jou menswees smag
na ’n ewigheid vol lig.
© Carma Shaw
3.En op die neënde dag het dit gereën
Sewe dae lank
het winter haar asem opgehou
maar op die agste dag
(toe winde teen haar borswand beur)
hou sy haar lippe in ’n tuit
en blaas vir ure lank
in rukke en in stote
die laaste bries en lug daaruit.
Grou wolke het sy uit die see gaan haal
en hul soos wilde perde
(sonder ruiter, sonder saal)
oor heel die Boland laat galop;
tóé eers was haar asem op.
En oplaas
in die stilte van my nanagdroom
lewend’ waters uit haar lyf laat stroom.
© Carma Shaw
Julie 2019 projek – ‘n Reis deur tyd
1.Toe ek ‘n kind was
stuur vir my ’n dagbreek uit die Vrystaat
’n vyfuur-in-die-oggend
se breek-my-hart-so-mooi
en stuur die eerste goue strale
wat grasvelde verroes tot byna rooi
*
ek sit hier in ’n kamer, ek kry chemo;
Simonsberg (soos altyd) in my sig
*
maar soms verlang ek net
na Vrystate en vlaktes –
die bloekoms, die murasies langs die pad;
windpompe en koppies in die verte
en skape agter grensdraad
in dik woljasse toegeknoop
wat gedienstig deur die
daeraad se vroegste sonskyn loop
stuur vir my ’n sonop uit die Vrystaat
’n vyfuur-in-die-oggend
se breek-my-hart-so-mooi
want ek hunker na die dae toe ek kind was –
toe oggendstonde kon verroes tot byna rooi
© Carma Shaw
2.’n Oomblik se wonder
Ek het omgedraai
en na die see gekyk
(rigting Melkbosstrand) –
daar waar oeroud mosselskulp
versplinter het tot sand.
En soos eens
het die silwer dag weer aand geword
en die water – vlam en vuur;
toe meeue bo die branders klim
…toe vermiljoen die skemeruur.
En stil het ek bly wonder:
Sal daar eendag (millennia van nou)
weer ’n vrou, nét hier
op dieselfde plek kom staan –
hier waar lig en skadu
beurt’lings oor die aarde wals.
En sal sy (soos ek)
ook wonder oor die wonder
van dit als?
© Carma Shaw
Augustus 2019 – Wilde wind projek
1.Oor Kannaland waai ‘’n winterwind
Klein Karoo
jou winterwind
kom middernag aan’t lewe
waai woes alom die Gamkaberg
skop stof op in die droë loop
waar Tierkloof tussen kranse gang
sy ruk aan bossies en aan bome
sy maak amok in die donker uur
tier haar woede
en versteur die vrede
sy sis en suis oor dorre velde
teister skaap en hond en hoenderhaan
stroom wild om klipmurasies
wat nog hoopvol
in leë vlaktes pryk
Kannaland
jou winterwind
vlaag oor kranse en deur klowe…
maar smôrens ween sy
al hoe sagter
tot sy stil word in haar sterwe
© Carma Shaw
September 2019 – Verplasings projek
1.My naam is Eva
Vind my
teen die hange van ’n Overberg;
roep my naam
en hoor hoedat ek antwoord gee.
Ek reënboog oor die vlaktes en valleie –
daar waar ek verbonde
met lig se breking smee.
Ek vloei in riviere af –
strome wat kronkel deur klowe en ’n poort;
vloed wyd oor dale waarin riete groei
en vergestalt my in die lelies
– wat wit kelk –
langs die oewers van ’n sloot.
Ek fynbos tussen klippe, oor die velde
en pluim in die sade van lang gras.
Ek loof aan die takkies van mimetes,
kontoer in al die krakies
van haar growwe stam se bas.
Ek vlies ewig in die wolke bo die kranse,
glinster teen die ganse hemeltrans,
pols in die fotone
uit elke ster en son en maan –
om te sweef op die ritme
van ’n Goddelike dans.
Sien my in die kleure oor jou landskap,
in die vuur van ’n môrestond se gloed.
Ek edel daar soos amber en robyne
en vlam in elke skemeraand –
só, asof ek jou groet.
© Carma Shaw
Oktober 2019 – Kleur projek
2.Want die liefde is nie blind nie
Ek weet jy loop soms met ’n blink vlei langs –
’n vlei waarin die wolkelose hemel
(in die koelte van die oggend)
vir eeue reeds skakeer.
Ligte briese wapper deur jou hare,
pluk-pluk aan jou pante –
die kleur van konings is jou hemp.
En hoe sal ek jou oë beskryf
– soos kraanvoëls
in gras- of koringlande
en soos klingelende tinte van saffier
wat adellik oor dobbertjies en eende
tot vér verby die verste rante
op die horisonne tuur.
© Carma Shaw
3.Afskeid
Verlorenvlei, Verlorenvlei
jou weggaan skroei tot roof in my
dit sny ’n spoor van roet en as
waar gister helder strome water was
en los my in die ligverlate
donker stege, lamploos strate
wat na die doodse stilte lei
Verlorenvlei:
die duister het die maan gesluk
die sterre het die nag ontglip
en oor die strandmeer neffens Elandsbaai
sal meeue tot in sterwens draai;
pik en teer – dié vloei deur my
Verlorenvlei … Verlorenvlei
© Carma Shaw
November 2019 – Laat lente projek
1.Novemberaand
vyf flaminke oor die swart rivier
hoe blink blink die blinkwit maan
hoog bo die vuil van vaal fabrieke
en die grys van die teer
wat daarnaas baan
sewe ganse teen die silver lug;
reeds lê die son in die see –
vér onder meeue op hul skemer vlug
en ’n brug wat sement oor die lou N 2
’n blouvalk fladder – eenalleen
(die aandster het verskyn)
op soek na prooi tussen gruis en gras
voor die laaste lig
in die nag verdwyn
dis bo Simonsberg waar dit so amber gloei
as die laatlente-aand teen die wolke bloei
© Carma Shaw
Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek
1.Onthou om te huppel
Huppel over berge en heuwels
volg die kronkelpaadjies
wat oor veld en vlaktes vurk
en hurk langs die spikkeleier van ’n bloukraanvoël.
Kyk, dit lê op barre aarde
tussen klippertjies en gras.
Skulp die kuiken van ’n kolgans
in die holte van jou palms vas
voel hoe sag voel veredons
as jou vingers daaroor streel
en selfs die sekretarisvoël
sal haar kinders aan jou toevertrou
aan jou, met die helder oë
en die onskuld aan jou hande.
Dans oor somer koringlande
al staan die stoppels droog en vaal;
immer sal die goue son
die amber en die heuning
uit jou gelaat en hare haal.
Wals onder ’n hemel van blou saffiere
vind die stroompies
volg die riviere
wat water na die dorses bring.
Vind jou vrede
daar waar velde nog oor wye vlaktes baan,
waar jy die penne van jou tent
diep in die aarde vas kan slaan.
Huppel over berge en heuwels
selfs in die donker van die nag;
volg die kronkelpaadjies
wat deur gras en klippers vurk
en hurk waar spikkeleiers op die barre aarde vir jou wag.
En onthou
iewers vonkel vonkelsterre
en êrens
edeltin ’n maan.
© Carma Shaw
Januarie 2020 – OOP Projek
1.My Mei
toe wingerdstok so roesrooiblaar,
toe klipkranse ’n volmaan baar,
toe heel die lug skarlakenvuur
in lofsang aan die skemeruur
het herfs se wind, so allerstil
haar asem oor my wang gewil;
toe effe koud haar gang gegaan
my (eenling) langs ’n berg laat staan
© Carma Shaw
2.Die lampman is dood
hy
wat in stilte sy werk verrig
terwyl niemand daarvan weet nie,
hy
wat die lampe moet aansteek,
die paraffienlampe
moet laat brand
kyk hoe stil lê sy hand
langs sy roerlose liggaam
op die klippe en die sand
hy
wat die lig moes bring,
wat die lampe vir ons voete
op ons paaie moes laat skyn
hý lê nou droomverlore
oor die spore (die ysterspore)
van ‘n trein
*
en wie sal dit vir die vrou vertel –
die vrou met die kind op haar skoot;
wie is sterk genoeg van gees,
wie sal die nagtelike boodskapper wees:
“jammer mevrou, maar die lampman,
jóú lampman … is dood”
© Carma Shaw
Februarie 2020 – Limeriek projek
1.Boer van de Aar
’n Eensame boer van De Aar
Wou graag ’n paar nooiens vergaar
Voor mens kon sê més
Had hy sommer ses
O wee, toe is oorlog verklaar
© Carma Shaw
2.Meisie Lotter
’n Sekere meisie lotter
Se bekkie was glad soos botter
Toe een haar herinner
Staak nóú die geskinner
Begin sy sommer te stotter
© Carma Shaw
Maart 2020 – Triomfboog projek
1.Sprake van hoop
o perste, perste vygie
o doring aalwynblaar
kyk hoe rus die Bolandberge
sommer net maar daar
o dynserige vertes
o ligsteblouste lug
swerfplek vir windswawels
so-heen-toe en terug
o eens verlate vlaktes
o uitgestrekte land
deur wind en water hier gekerwe
tot krans, tot klip, tot sand
o soele, soele lentedag
o mooiste mooi seisoen
’n tafereel in onskuld –
elke skadukloof verbloem
o wingerde en weivelde
o plaas en landery
eens se lappe, lappe fynbos
– vir altyd nou verby
o Paarlpêrel in die son
o Boland, o geskonde
solank hange nog so purper bloei
is daar salwing vir jou wonde
o perste, perste vygie
o aalwynsteek en -vaal
hoe anders in jul wese –
tog deel jul dié verhaal
van koepels en van torings
van tale in graniet
en spreek jul triomfboog monumente
oor hierdie grondgebied
© Carma Shaw
2.Bakoven
êrens in die weste waar die branders breek
daar waar die hemel saans ’n vuur aansteek
anderkant die einders waar die son wegsink
dis dáár waar die dag in die see verdrink
en haar vlam in triomboog bo die water skyn
alvoor avond se gloed in die niet wegkwyn
© Carma Shaw
April 2020 – Grendelprojek
3.Voor dan
voor die einde kom
wil ek eenkeer nog my arms strek,
met my hande aan die Bolandberge gryp,
myself ophys teen ’n krans
en grendelloos oor Kaapse pieke dans;
vastrap in die Karoo … en spring
ek wil my voete in die Vrystaat plant
want daar waar ek nog kind was
(en eens kon skoppelmaai)
wil ek weer vryvlug aan ’n bloekom
se oorhangtak gaan swaai
© Carma Shaw
Mei 2020 “ek wens dat ek…” projek
1.Enkeling in vlug
hoe graag vlieg ek oor dié geliefde land
oor berge hoog en dale wat vallei
die aarde lê en palm, nes ’n hand
waaroor Gariep en spilpunte gedy
mag weinig wolke ooit my sig versper
oor ooptes tot in einders wil ek tuur
as Venus skitter, soos ’n eensaam ster
terwyl die hemel in die ooste vuur
en vlug ek heen oor oseaan en kus
waar branders in blink strande sand versink
word ek van blougroen watere bewus
wil ek in akwa-en-maryn verdrink
ek wens dat ek die reis met jou kon deel
dat jou liefoë só oor my sou streel
© Carma Shaw
2.Godverlate
Die bloukraanvoël het net ’n veer gelos
teen die versletevaal ou baksteenmuur
(naas die oop deur van ‘n leë wolskuur)
tussen doringstruik en granatebos.
Net toe die laatson oor die einders blos
en skarlakenrooi oor die hemel vuur;
toe ’n wolkie stof oor die stil werf stuur
het selfs sy oplaas van die grond gedros.
Ek vestig my blik op die lug daarbo
waar die ruimtes wyd oor die aarde strek.
Selfs die mens se lot is tog ook maar só:
Hier in die middel van die dor Karoo
weet ek dat lammers van die dors sal vrek
…ek wens dat ek in verlossing kon glo.
© Carma Shaw
Junie 2020 – Vryheidsprojek
1.Om vry te wees – soos berge
Die bolande se berge
lê uitgestrek voor my;
die kranse en die klowe paradeer
millennia se verhale
by my hunkeroë verby.
Hoe vry moet dit nie wees nie
om vir ewig so te lê nie
(terwyl fynbos teen jou hange groei,
wingerd aan jou voete bloei)
en die hele wye hemel
as jou ope dak te hê nie.
Hoe salig moet dit wees
om die son op jou te voel
en sawens, as die skemer kom
stadig af te koel
tot jy middernag
(kaalontbloot)
kan aanskou hoedat die heelal
haar sterstreep oor jou skroot.
En selfs al reën jy winternat
en al word jy woes verwind
wis jy –
vryheid is die één ding
wat jy binne jou moet vind.
© Carma Shaw
19 Junie 2020
5:12
* kaalontbloot – intensiewe vorm vir ontbloot of vir kaal
* Winternat – nat, soos bv. ’n Kaapse winter
* Verwind – om erge wind te verduur
* Hunkeroë
* Sterstreep
2.Ligteling
Sal daar ooit weer só ’n tyd wees
soos toe ek kind was –
vry van klae en kommer,
geen kennis van die wee;
al wat ek onthou
is die pad na sonnestrande
en die duisende dae by die see.
Hoe warm was die strale teen my lyf,
hoe gewigloos kon fotone
hul heelalslig in my binnewêreld skryf.
Ek verbeel my soms die meeue bo die water,
blinknat sterre naas ’n rots
en hoe ongebonde branders breek
as dit skroomloos teen die swart klip bots.
Vroegaande was oranje,
elke oggend blou saffier;
my aarde was ’n paradys
en ék, ’n ligteling
krakensvol van lewensvuur.
© Carma Shaw
14 Junie 2020
Nuutskeppings
* Ligteling – positiewe persoon wat ‘lig’ voel van binne in teenstelling met iemand wat depressief en ‘donker’ voel.
* Krakensvol – so vol dat dit kan oopkraak
* Sonnestrande
MEESTER KLAS
Julie 2020 – Klanknabootsingprojek
1.Kaap van storms
Ek onthou nog hoe winde huil deur klowe –
’n fluitend treursang wat droefenis belowe,
die riete se geritsel in die newelstof
net voor die eerste reuse druppels
teen my kamerruit ontplof
die gerammel van die donderweer,
die krrraaakkkinggg deur die lug,
die Klap! Klap! Klap! as die bliksems breek
oor Karbonkelberg se rug
dit alles stol nou in my oor se labarint
totdat dit (nes jou asem) saggies stilraak
en sjuut-sjuut wegwaai in die wind.
© Carma Shaw
2.Net na dagbreek het ek jou vers gelees.
Tóé wou ek weer skryf: oor hoe nagte lewe
as skopsuile in die donker roep
en as jakkalswelpe huil,
hoedat die kras van honger meeue
in die holte van my oor kan skuil,
dat ek die fluitsang van ’n suikerbek
wil eggo met my mond
en dat ek wis hoe duisend hoewe dreun
as dit klop-en-kletter oor die klippegrond.
Want jou woorde resoneer
en weerklank in my gees.
Net na dagbreek, het ek jou vers gelees.
© Carma Shaw