Cornien
Lees meer bydraes deur Cornien
BRONS KLAS
Amakeia
2.Awendster vir Amakeia
Ek roep jou naam, deur die berg klowe – Amakeia
en al wat terugkeer is … eia, eia, eia,
soekend wandel ek langs die dig begroeide bospaadjies,
soek ek iets van jou, agter elke struik en gaatjie.
Op my tog verdwaal ek tussen witstinkhout en geelhout bome
wat majestueus pronk aan die voet van die groot Amatola-berge
en daarnaas slang kronkel die kei-rivier nogsteeds –
verborge sy geskiedenis van iets so wreeds.
Verbeel ek my – ek hoor jou saggies neurie …
alhoewel die natuur hom nie daaraan steur nie,
dan … sien ek jou skim, moederlik met die kleintjie
op jou rug, sing jy saggies jou rympie….
“Wees stil my kind,
wees stil my baba…”
Verseker jy die kleinding sy pa sal tuis wees met dagbreek
wyl assegaai diep in jul hart steek …
dat ‘n ster hom huistoe sal lei
voor die doodsengel sy sin kon kry.
Dan verdwyn jou wasige beeld
nadat Maxosas die verhaal verseël
met hul onheils lag
op die grens van die nag.
Jou heilige belofte lê nog steeds op die altaar …
wandel jou plig die tog elke jaar,
beskerm jy jou nonna se kind
en wag om die laaste awendster te vind.
@ Cornien
Projek Liefde vir Afrikaans
2.My trots my taal
Van moederskoot ken ek jou…
in kleutersang en troetel woord,
strompel jy hink-hink tot skoene groot.
My taal… Afrikaans, jy’s lieflik in klank,
hoe meer ek van jou leer, hoe meer wil ek weet,
so laat my toe om jou te ontleed.
Jou suiwer prag en praal is skaars
soos eeue oue skatte verborge in bestaan
moet ons keer dat jy nie in tyd vergaan.
Jy’s volks besit in jou skugter roem
en pronk pragtig in digterstaal
en vele spannings volle verhaal.
So luier op elk’ gewillige tong – my taal,
kosbaar is jou klank wyl ons in jou spore dwaal.
Julie 2020 – Klanknabootsingprojek
3.U stuur ‘n lemoenduifie
ek sit op my draadstoeltjie “bo-op” die sementbraai
sodat my oë aan die horison kan hang –
om te sien tot dáár waar uitkyk sy bloute kleur
en die spikkelbome sonstrale vang
maar hier deur die laagte,
sug my gemoed soos koue mis
en vou sy vingers om my benerige siel
terwyl alleen sy skoene uitskop
en hom tuismaak hier langs my nis*
dan sien ek hom…
ʼn klein lemoenduifie skaars twee meter van my af
koer-koer so asof hy sê “maar Ek is hier, maar Ek is hier”
© Cornien Naudé
31 Julie 2020
*nis – “Hy het sy bes probeer om iewers ‘n nis te kry waar hy kon tuis voel”
Augustus 2021 – As die blare val projek
2.Die laaste blaar het geval
dit was herfs my lief, daai jaar…
en son was lui om vroeg op te staan
so ons voetspore het verdwaal
onder al die blaar massas
en jy, jy het vir ewig verhuis, daai jaar
en ons onthoutjies het yl gehang
soos hande teen die grys-grou hemel
wyl wind sy treursang treurig gesing het
en boom se arms my gedagtes gesus het
het die gevalle blare saam gedans op die maat
gewarrelwind, getol en gehink-en-pink
tot wind gaan lê het
en son die oosterkim roesrooi gekleur het
het ons laaste blaar geval
©Cornien Naudé