Jongste aktiwiteit:

Ano
vir

Ano

Lees meer oor Ano

Maart 2018 – Digkuns projek

1.Sagte blou oë agter ’n goue raam bril

Dit was ’n warm somersdag en die twee periodes net voor tweede pouse. Ons standard 4 klas (graad 6 vir die millenniums) moes ’n uur lank in die Afrikaanse klas sit en goed leer waarvoor ek nie eintlik omgegee het nie. Tog, ons opdrag om iets oor ’n Afrikaanse digter te skryf, het ek met groot ywer gedoen.

Al is dit nou al soveel baie jare gelede, kan ek steeds onthou dat my natuurlike keuse Totius was. Iets omtrent die man se gelaatstrekke fassineer my tot vandag toe nog en sy gesig getuig van ’n saggeaarde kunstenaar wat medelye gehad het vir mens en dier. Iemand wat diep kon dink en diep kon voel.

Waarom ek daardie dag so helder onthou is omdat die liewe Afrikaanse juffroutjie, klein en blond, byna uit haar vel geklim het van opgewondenheid – tot my verleentheid! As iemand wat nie gemaklik is met enige ophef nie, was haar opgewonde aandag bietjie te veel na my smaak. Haar aandrang om nie net een keer nie, maar sommer DRIE keer my geskrewe stukkie voor te lees, het my laat wens die aarde maak oop en sluk my sommer net daar-en-dan heel in.

Totius (21/2/1877 – 1/7/1953) was ’n bynaam wat Jacob Daniël du Toit op universiteit gekry het. Al wou hy aanvanklik ’n myningenieur word, oorreed sy moeder hom om predikant te word. (Predikante het seker meer aansien in die samelewing gehad as ’n myningenieur en aansien is tragies genoeg báie belangrik vir sommige.)

Sy letterkundige nalatenskap sluit in die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel, die Psalms as liedere, sowel as ’n aantal digbundels. Voor die Tweede Vryheidsoorlog publiseer hy gedigte onder die skuilnaam “Jaduto”, maar na die oorlog raak hy bekend as Totius. Hy speel ’n baie belangrike rol in die eerste opbloei van poësie in Afrikaans.

Nadat Totius uit Amsterdam terugkeer (waar hy as teoloog gestudeer het), trou hy op 28 Augustus 1903 met Maria, die jongste dogter van professor Dirk Postma, stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Maria se troetelnaam vir Totius was Jongie en die kleinkinders het hom later oupa Jongie genoem.

Uit hul huwelik word twee dogters en vier seuns gebore. Francois, die jongste, was net oor ’n jaar oud toe hy op 7 November 1920 aan meningitis sterf. So skryf Totius oor Francois :
Vier laaste snikkies
Van my sterwende wig! –
Wat hier al immer,
immer gebeur –
’k vergeet hul nimmer,
nimmermeer …

Wilhelmina, die oudste dogter word enkele weke later op 31 Desember deur ’n weerligstraal in haar slaapkamer getref. Weer skryf hy :
o Gee maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en sy
was nie dáár in die vreeslike stonde
toe die weerligstraal van ons dak sou gly.
o Gee my maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en ’k sal
van arg’lose wesens ontkoming verkonde
voordat nog die dood hul skielik oorval …

Alhoewel dit nie Totius se eerste skryfwerk was nie, debuteer hy met die bundel “Bij die monument” (1948), wat hy as ’n beskeie bundeltjie beskryf. Daarna volg bundels soos “Verse van Potgieter’s trek”, “Wilgerboombogies”, “Oor Rachel”, “Trekkerswee” (waarmee hy die eerste Hertzogprys verower het), “Passieblomme” (ook ’n Hertzogprys), “Uit donker Afrika” en sy laaste digbundel “Skemering” wat in 1948 gepubliseer is. Totius het ook “Kinderverse vir huis en skool” geskryf, maar die resensies was nie baie vleiend nie.

Interessant genoeg was daar in dieselfde tydperk ’n hele aantal “groot geeste” gebore. Mense wat groot impak op Afrikaans gehad het, soos Jan F.E. Celliers (1865), Eugene Marais (1871), A.G. Visser (1878), C. Louis Leipoldt (1880) en D.F. Malherbe (1881).

Hier onder is twee van Totius se bekendste gedigte:

Vergewe en vergeet

Daar het ’n doringboompie
digby die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlangs
’n ossewa verby
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry
“jy het mos, doringstruikie
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap”
die ossewa verdwyn weer
agter ’n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op
sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom
ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ’n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan. (Bij die monument, 1908)

O die Pyn-gedagte

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.
Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,
só, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!
en – ek gryp my bors van die pyn.
O die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.
Sy was so teer soos ’n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!
Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis één uit die tienduisend-tal.
en ag! dat dit sy was en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!
O die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly. (Passieblomme, 1934)

Ano

Augustus 2018 – Haikoe projek

2.Kuntsugi

Soms moet ek met alle mag die begeerte onderdruk om iemand aan die skouers te gryp en hom/haar ‘n goeie ruk-skud te gee. Skrik tog net wakker! Tweede beste ding om te doen is seker om stil te sit en te wag dat die gevoel iewers moet wegsyfer, tesame met die wete dat nie een van hierdie metodes die ander enigsins sal help nie – dalk nie eens vir myself nie. Aan die ander kant hoef ek seker niemand met ‘n geknal uit hom droomland te help nie, al is dit wel my begeerte.

Dit is nou bykans vier jaar waarin ek daagliks met vele bedroefdes te doene kry en party dae vang dit my steeds heeltemal onkant. Nie die hartseer nie, maar die onvermoë om uit hul slaap wakker te word en te besef dat hulle nie saam met hul geliefde gesterf het nie. Dit mag dalk baie ongeskik en onprofessioneel wees, maar soms wonder ek of party dit geniet om soos ‘n varkie in hul smart te sit. (En ek praat nie van die eerste twee of drie jaar na ‘n afsterwe nie.) Dit wil voorkom asof sommiges hul verlies soos ‘n kroon met kosbare juwele dra – trots en half afgesonder van die res van ons plebs.

Maar iewers het ek ook geleer dat gebroke nie lelik en vuil hoef te wees nie. Dat gebroke deel is van die lewe, maar dit wat jy daarna doen tref die onderskeid tussen lewe en bestaan. Ons het nie baie sê in wat met ons gebeur nie, maar ons het volle seggenskap in oor hoe ons dit hanteer! Dit is maklik om saam met daardie stukkende stukke van jou lewe moed op te gee, op 30 te sterf en eers op 80 jou laaste asem uit te blaas.

Mag niemand ooit so ‘n liederlike ding van my sê nie. Ek sterf van skaamte…

En so het ek “Kintsugi” ontdek.

Kintsugi is ‘n ou Japanese kunsvorm wat gedurende die 15e eeu ontstaan het en die legende lui dat Ashikaga Yoshimasa se gunsteling teepot gebreek het. Hy het dit na China teruggestuur om heelgemaak te word en dit was lelik en onbruikbaar toe hy dit terugontvang het. Daarna het jy ‘n metode ontwikkel om stukkende keramiek te herstel waarin die artikel selfs mooier en beter as vantevore was.

Goud, silwer en platinum word saamgesmelt en die mengsel word gebruik om die gebroke stukke aanmekaar te las. Nie net word die item herstel nie, maar dit word ook ‘n unieke kunswerk en meesterstuk. Kintsugi is egter nie net ‘n tegniek om stukkende vase te herstel nie, maar ook ‘n filosofie waarin ons leer om die gebroke lewe met al sy fasette te omhels. Hoeveel meer vreugde kan ons uit die lewe put wanneer ons álles daarin hanteer en nie hoop dat sommige dele eerder sal verdwyn asof dit nooit gebeur het nie.

Rumi, die groot 13 eeuse Persiese digter stel dit so : “The wound is the place where the light enters you.”

Ek wil dit verander na : “The wound is the place where the light exits you, to light up the world around you.”

Terwyl die oorspronklike vorm (hetsy ‘n vaas of jou lewe soos wat jy dit tot op daardie dag geken het) heeltemal vernietig is, is die diepgesetelde innerlike skoonheid steeds daar en die uiteindelike doelwit is nie net om te herstel nie, maar om te floreer. Dalk is die eerste stap eers om te oorleef en daarna verander dit stadigaan in floreer. Met ander woorde, moet nie net die gebroke stukke aanmekaar plak met goedkoop super glue nie, maar maak dit iets besonders – herstel dit met ‘n duursame metaal soos goud! Maak dit ‘n pragstuk. Laat die onbruikbare skerwe ‘n asemrowende mosaïek vorm.

Dit is maar moeilik om ‘n mens te wees en ek ervaar die aardse bestaan veel meer as ‘n spirituele leerskool en wandeling as ‘n vleeslike een. Miskien daarom dat dit moontlik is om nie op ‘n hoop te sit en aan smart oor te gee nie. Emosionele veerkrag word aangeleer, en soos moeilikhede oor ons pad kom, leer ons dit hanteer en elke keer stap ons bietjie sterker daaruit. Dit is egter grotendeels ‘n kop-besluit en soms moet mens maar diep delf om die nodige krag te vind alvorens enigiets sal verander.

Deur jou lewe op die Kintsugi manier te hanteer, beweeg jy uiteindelik weg van die “arme-ek-kry-my-asseblief-jammer” mentaliteit. MEESTE mense hou nie van slagoffers nie…

Ano

September 2018 – Spyse vir die siel projek

1.Kaneel-suiker vir die siel 

‘n Tydjie gelede hou ek ‘n ouerige dame dop wat skuins voor ons in die vliegtuig sit. Dit lyk asof sy definitief aan die regte kant van die spoorlyn, daar doer op die bult, gebore is. Haar hare is mooi versorg en haar klere is opsigtelik duur. Die juwele lyk ook nie te onaardig nie, maar sy is baie duidelik liggaamlik poegaai. En my hart bloei vir haar want ek besef weereens dat nie die grootste en duurste diamant in ruil gegee word vir gesondheid nie. En, die dood is ons almal se Groot Gelykmaker. Dit diskrimineer nie en in die dood lyk ons almal dieselfde. Dan tel kennis, universiteitsgrade en bankrekenings lankal nie meer nie. En terwyl ek haar so sit en beskou, kan ek nie help om te wonder waar haar waardes lê nie? Het sy al ontdek dat sy soveel meer as net “mens” is? En indien so, voel sy (soos ek) ook dalk wild opgewonde oor wat aan die anderkant lê? Sien sy daarna uit om huis toe te gaan, of vrees sy die onvermydelike?

Dit sal my waarskynlik nog ‘n hele leeftyd sal neem om die verskil tussen siel en gees te verstaan, al is dit reeds 100x met prentjies en byskrifte aan my verduidelik. Iets daaraan wil nou net nie lekker gaan sit-lê in my binneste nie. Ek sien die mens dus so : jy is eerstens ‘n onsterflike gees met ‘n liggaam en dan ‘n verstand. Waffer is waffer? Soms voel dit soos hare kloof en uiteindelik maak dit nie vreeslik saak nie want die belangrikste deel van my aardse bestaan is daardie onsterflike en onsigbare wese wat iewers gedurende swangerskap in my borskas ingetrek het en dit eers sal verlaat wanneer ek my laaste asem uitblaas, voordat sy terugkeer vanwaar sy gekom het. Sy is lewend en onmiskenbaar deel van my bestaan. Haar naam is “Blue”.

Maar dit is nogal opvallend hoe meer die mens bekom in die vorm van aardse besittings, hoe minder is hy daarvan bewus dat hy eintlik meer gees as vlees is. Inteendeel, hoe meer ons verval in hebsug, vraatsig en egotisme, hoe meer vergeet ons dat sonder hierdie onsigbare wese net ‘n dooie dop is! Dit is asof baie nog nooit eens daaraan gedink het dat hulle meer as net ‘n liggaam is nie.

Iets wat ek jare gelede reeds geleer het, is om geestelik te kan groei moet mens geensins *geestelike omseiling toepas nie. Dit is grotendeels ‘n manier om te vermy om dieper in jouself te kyk en verantwoordelikheid te neem vir jou eie doen en late. Spiritualiteit en/of geloof kan dus opsigself ‘n probleem skep wanneer jy daaragter skuil in die hoop om pyn en hartseer te vermy. Dit is om doelbewus (maar dikwels onwetend) oogklappe aan te sit. Jy verkies om alles met ‘n mooi en soms heilige sousie te bedek en hoop deur positief te dink gaan al jou probleme vanself verdwyn.

Ja, right….

Om te vermy om bietjie in jouself in te delf, stel bloot net die onvermydelike tydelik uit. Daardie tydelik kan ‘n paar jaar tot ‘n paar dekades wees, maar weet verseker dat elkeen een of ander tyd tot stilstand gedwing sal word en jy onwillekeurig introspeksie sal moet doen. Dan gaan al die ou geraamtes ratel in angstigheid dat daar diep en dringend aandag aan hulle gegee moet word. En dit is wanneer ons hand om dit graaf vou en bietjie spit-werk doen, dan ontdek ons gawes en krag waarvan ons voorheen nie bewus was nie.

Hoe mens deur geestelike hindernisse groei is om bietjie saam met daardie ongemaklike emosies te sit en dit deeglik te ondersoek. In plaas daarvan om angstigheid ten alle koste te probeer vermy, kyk eerder waar die oorsprong lê. In plaas daarvan om hartseer met ‘n glas whiskey, dwelms, pornografie of enige ander vorm van destruktiewe gedrag te probeer vermy, sit daarmee en spreek dit aan. Dóén dus iets om die oorsprong te herstel in plaas daarvan om eerder met skeel en half blinde oë deur die lewe te gaan.

Geestelike omseiling mag dalk baie mooier as ander taktieke wees, maar dit het steeds dieselfde uitwerking. Dit keer dat jy die waarheid in die oë kyk en dit weerhou jou daarvan om werklik jou gevoelens te voel. Dit is veel eerder ‘n “checking out” as “checking in”. Spirituele groei is dus net so belangrik soos om in jou geloof te groei en doelbewus nader aan God te beweeg.

Sou jy in ‘n maalkolk vasgevang raak en nie weet hoe om daaruit te ontsnap nie, gaan gesels met iemand – verkieslik ‘n kundige persoon op daardie spesifieke gebied want ons koop immers nie brood by die hardewarewinkel nie. Daarvan gepraat, my bloeddruk het eens op ‘n tyd ‘n paar grade gestyg toe onse liewe predikant my na ‘n huweliksberader verwys het vir ‘n probleem wat niks met my huwelik te doene gehad het nie. Ek was heeltemal bereid om Hubby met die ysterpan oor die kop te neuk en dan sou daar iets gewees het om oor te gesels! Die regte persoon met die regte kennis kan wondere verrig, die verkeerde persoon met min kennis en insig kan die fondamente van jou lewe totaal laat verbrokkel, maak nie saak hoeveel sewe-jaar-grade hul agter hul naam kan skryf nie, en hoeveel swart tosseltjie-togas in daardie hangkas hang nie.

* Spiritual bypassing is a “tendency to use spiritual ideas and practices to sidestep or avoid facing unresolved emotional issues, psychological wounds, and unfinished developmental tasks”.

Ano

Oktober 2018 Projek

1.Liefde is … St. Francis van Assisi

Al lees mens net die woorde van die lied van St. Francis van Assisi, kom mens gou agter dat dit iemand was wat groot deernis en empatie vir sy medemens gehad het, iemand wat bereid was om die ekstra myl te stap om die lewe vir ‘n ander effens makliker te maak. Mense wat goed ingeburger in selfsugtigheid en ego is, kán nie sulke woorde op papier laat val nie.

“Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer u vrede deur my vloei…
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
O Heer, help my om altyd so te leef – om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself – en ook eerder te gee as te verwag.
Laat, Heer, u vrede deur my vloei…
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.”

Dit is aangrypend om te dink dat hierdie man byna ‘n duisend jaar gelede geleef het en so ‘n impak op sy medemens en omgewing gehad het dat hy op 16 Julie 1228 as heilige verklaar was. Dit is ‘n verhaal van lank-lank gelede, en sy toewyding aan God word uitgedruk deur sy liefde vir alles en almal wat op die aarde beweeg het – mens en dier.

Nou en dan neem ek kennis van ‘n geleentheid in nagedagtenis van St. Francis waarheen diere gebring en geseën kan word. As Protestant vind ek hierdie gebruik effens vreemd, nietemin stroom die mense in groot getalle daarheen. Of dit enigsins ‘n verskil aan die troeteldier maak, is seker vir elkeen om te besluit. Maar ek stem egter saam dat wanneer ‘n persoon homself as instrument van God sien en hom daarin uitleef om die hande en voete van Christus te wees, verlig jy die pyn en hartseer van die wêreld ‘n klein bietjie.

Ano

Desember 2018 projek

Die “Vader van Motivering”

Dr Wayne Dyer, ʼn psigoterapeut, skrywer en motiveringspreker was in 1985 aangewys as een van die ses mees prominente Amerikaners. Met ʼn totaal van meer as 40 boeke (21 daarvan New York Times beste verkopers), ʼn skrywersloopbaan wat oor vier dekades strek, 5,200 radio- en televisie optredes wat Oprah, The Today Show en The Tonight Show ingesluit het, was hy geen onbekende nie.

Vir so ʼn besonderse en “die glas is nie half nie, dit oorstroom”-tipe persoon, was sy kinderjare moeiliker as wat mens sou raai. Gebore op 10 Mei 1940 in Detroit, Michigan, was hy die jongste van drie boeties wie se pa nie die verantwoordelikheid van ouerskap kon hanteer nie. Sy ma wat as ʼn ‘Candy Girl’ moes werk, het nie genoeg verdien om die gesin te versorg nie en Wayne het die grootste deel van sy eerste tien lewensjare in ʼn kinderhuis gespandeer totdat sy ma weer toesig oor haar kinders kon verkry.

Waar so ʼn ondervinding vir die meeste ʼn negatiewe ervaring sou wees, het hy herhaaldelik uitgewys dat dit grootliks ʼn verryking in sy lewe was in terme van veerkragtigheid en dat dit hom gehelp het om ʼn beter onderwyser te wees, sowel as ʼn lewende bewys dat mens enige teenspoed kan oorkom. Alhoewel die lewe in die kinderhuis geensins maklik was nie, het Wayne Dyer skynbaar hier gefloreer. Dit was dan ook die vyfjarige Wayne wat nuwe kinders (heel dikwels ouer as hyself), onder sy vlerk geneem het en vertel het dat die kinderhuis nie ʼn plek is waar verwerpte kinders woon nie, maar dat dit ʼn groot en lekker familie is.

Reeds as kind het hy klein werkies vir mense gedoen en selfs koeldrankbottels bymekaargemaak in ruil vir ʼn paar sent – ʼn gebore entrepreneur! Saans wanneer die huisgesin gaan slaap het, het hy na televisieprogramme soos “The Tonight Show” gekyk en onderhoude voor die spieël geoefen – tot groot vermaak van sy gesin natuurlik. Reeds as jongeling het hy die droom gehad om eendag wanneer hy groot is, ook aan daardie program deel te neem (wat toe wel ʼn paar keer gebeur het).

As ses-en-twintig-jarige publiseer hy sy eerste boek, Your Erroneous Zones (1976), wat niks te make het met seks nie, maar wel alles te doen het met positiewe denke. Dit sou uiteindelik 35 miljoen kopieë verkoop en het sy loopbaan as skrywer en motiveringspreker met ʼn knal van stapel gestuur. Hy was nie bang om ou denkwyses uit te daag nie en moedig die leser of gehoor aan om vir hom- of haarself te dink en notisie te neem van hoe jou denke jou lewe kan verryk of selfs kniehalter. Neem dus verantwoordelikheid vir jouself en moet nie ʼn ander se sienswyse blindelings navolg en daarna wonder waarom jou lewe nie wil ‘werk’ nie!

Dr Dyer se unieke benadering tot die lewe sluit in ʼn fokus op die spirituele sowel as verstandelike denkwyse. Vir sommige moontlik ʼn vreemde uitkyk, maar wanneer mens beter begrip het vir die verband tussen die brein (denkwyse) en die liggaam, val baie dinge in plek. Jou gedagtes bepaal uiteindelik die kwaliteit van jou lewe en of jy gelukkig en/of tevrede met jou omstandighede voel. Gou ontdek hy die samelewing se behoefte vir persoonlike groei en selfontdekking en werk daaraan om hierdie kennis na ʼn wyer gehoor te neem.

Hy voel die verskuiwing in menslike denkwyse aan en dit moedig hom aan om die spirituele aspekte van die menslike bestaan te ondersoek. “My doel is om mense te help om na hulself te kyk en ʼn verskuiwing in hul denkwyse aan te moedig. Onthou, ons is nie ʼn land, ʼn ras of ʼn geloof nie. Ons is onsterflike wesens en deur jouself as ʼn onsterflike wese sonder ʼn etiket te sien, transformeer ons uiteindelik ook die wêreld.”

Hoe maklik verstaanbaar is die volgende aanhaling nie : “As jy iets nie wil doen nie, sal jy altyd ʼn verskoning vind. As jy iets wil bereik, sal jy ʼn geleentheid raaksien.” Mense wat altyd kla of bitter en meestal ongelukkig is, by hulle is daar áltyd ʼn verskoning waarom hul lewe so lyk. So ʼn persoon is dus ook ʼn slagoffer van omstandighede sonder om te besef dat dit heeltemal binne hul vermoë is om daardie omstandighede self te verander. “CHANGE YOUR THOUGHTS…!”

Daar word liefdevol na hom verwys as “die vader van positiewe denke” en dit was eers in 1992 in die boek “Real Magic” waar hy oor spiritualiteit begin praat het – om nie soos ʼn Christen te lewe nie, maar om soos Jesus te lewe.

Wayne Dyer was drie maal getroud. Uit sy eerste huwelik met Judy word ʼn dogter gebore, geen kinders uit sy tweede huwelik met Susan Casselman nie, en in die huwelik van twintig jaar met sy derde vrou Marcelene, is vyf kinders gebore. Tesame met die twee stiefkinders uit Marcelene se vorige huwelik, was hy uiteindelik die vader van agt kinders. Alhoewel hy reeds in 2009 met leukemie gediagnoseer was, het dit geensins sy loopbaan as skrywer en motiveringspreker beïnvloed nie en sterf hy aan ʼn hartaanval op 75-jarige ouderdom op 29 Augustus 2015.

“Don’t die with your music still in you.”

Bronne :

Wayne Dyer Biography


https://en.wikipedia.org/wiki/Wayne_Dyer

About Dr. Wayne Dyer

Ano

Januarie 2019 Projek

1.Nuwejaar, net nog ‘n datum

Nee, ûh-ûh. Hierdie gewoonte van die mens om nuwe jaar met ʼn groot lawaai en dikwels ooglopende dronkenskap in te rumoer, is en bly vir my onverstaanbaar. As gesin het ons ook in die kinders se grootword jare ʼn handvol klappers gekoop om hulle te vermaak en niks daarmee verkeerd gesien nie. Vandag laat ek my kop vêr en diep in skaamte hang!

Soos die jare aangestap en ons wyser geword het, het hierdie tipe vermaak ʼn wrang smaak begin kry want, wanneer iemand ʼn klapper aan die brand steek, dink hy net aan “ek-ek-ek” en “ek se plesier” wat nou dadelik bevredig moet word ten koste van alles en almal. Dit maak nie saak dat die bure dalk slaap of die buurt se angstige troeteldiere byna van oordosering kan sterf weens die hoeveelheid kalmeerpille wat in hul kele afgedwing word nie. Die gedagte dat die stad se bome vol inwonende voëls is, is ook net ʼn gedagte vir die voëls en enige ander muis of insek is maar net nog ʼn ‘ding’. Geen lewende wese is gevrywaar van skrik en benoudheid nie en die oënskynlike intelligente twee-been spesie toon dikwels ʼn groter gebrek aan empatie en intelligensie as die domste dom paddavis.

Ek wil nie eens dink aan die dieremishandeling waarvan ons jaar na jaar in die koerante lees nie. Waarom word daardie persoon nie gestraf met presies dieselfde aksie wat hy op ʼn onskuldige dier toegepas het nie? Dit sal seker nie dieselfde mate van amusant wees wanneer die mens se ingewande flenters geskiet is en sy agterend net ʼn gapende gat is nie?

Die feit dat dit reeds jare lank onwettig is om vuurwerke te af te vuur keer die groterwordende populasie geensins om daaraan deel te neem nie. Wette word ingestel en niemand pas dit toe nie.

Soos al die ander jare het ons ook hierdie keer gebid dat ‘n donderbui op Oujaarsaand sou uitsak en ons gebede was inderdaad verhoor. Maar as iemand nou ʼn sak vol geld uitgegee het aan duur speelgoed, sal sy agterend bly jeuk totdat hy daarvan ontslae geraak het. Dit mag dalk nie vanaand wees nie, maar more en oormore en volgende week is nog steeds genoeg tyd om daardie jeuk-plek goed te krap!

Daarby skep die gebruik van klappers ʼn brandgevaar. Kyk nou net wat het onlangs by die Tuinroete gebeur toe iemand grootskaalse verwoesting aan die gang gesit het met die afvuur van ʼn fakkel. Die straf wat hierdie persoon opgelê kan word, sal nooit kan betaal vir die skade aan eiendom en die natuur nie. Eintlik behoort so ʼn persoon se hande summier afgekap te word. Maar dit is seker nou weer mishandeling of so iets. Siestog…

Maar nuwejaarsvieringe hou nie by die skiet van klappers op nie, veral nie wanneer daar jaar na jaar berig word oor die talle verdrinkings wat plaasvind nie – heelwat meer as op enige ander dag van die jaar. Die hospitale word oorval met pasiënte wat met steek- of skietwonde opdaag. Die een wat homself op Hillbrow se sypaadjies bevind, se lewe kan dalk onverwags kortgeknip word deur ʼn vallende yskas of ander swaar voorwerp. ʼn Groter hoeveelheid motorongelukke vind plaas, waarskynlik weens die misbruik van alkohol. Die feit is, jou lewe kan onverwags ʼn slegte draai maak deur ʼn ander se doen en late. Wanneer dit lyk asof die wêreld aan die feesvier is, haak die mense se koppe oënskynlik heel skuins uit.

Dan die ander vraag… Waarom is hierdie dag nie net dieselfde as die vorige een of selfs die volgende een nie? Hoe verder ek van die wêreld en sy egotistiese sienswyse verwyderd raak, hoe groter en meer onverstaanbaar word hierdie sinnelose plesiertjies waaraan die mens deelneem. 1 Januarie is nie vreeslik verskillend van die 14e Maart nie. Die son kom op, voëls sing, ons eet ontbyt, gaan werk toe, geniet aandete en die son gaan op ʼn bepaalde tyd weer onder waarna ons ook in die bed behoort te kruip.

ʼn Datum is net ʼn datum, totdat die mens ʼn bepaalde betekenis daaraan toevoeg.

Ano

Februarie 2019 projek

1.Tikketjie-Tok

Mens verstaan selde die waarde van tyd voordat dit heeltemal insink en jy met jou hart en verstand weet dat dit wat verlore is, nooit weer teruggekry kan word nie. Met heimwee in hul verbleikte oë staar die ouer mense lank en ver terug na die gewaande “goeie ou dae”. Meestal met spyt oor die verlore tyd wat soos fyn sand tussen hul krom rumatiek-vingers deurgesyfer het. Hul grootste wens is om daardie goeie tye tot in ‘vandag’ in te sleep en nog 1000x te herhaal. Vergete is al die gespook om gedurende daardie tyd liggaam en siel aanmekaar te hou.

Tyd is egter nie ʼn voorwerp wat vasgehou kan word nie en watter mens het nie al gewens dat hy op sy voetspore kan terugdraai en iets uit die verlede kan oordoen of herstel nie. Selfs al probeer mens byna hardhandig die armpie van die alewig tikkende horlosie vashou, sal dit nie die die wêreld laat stilstaan nie. Boonop lyk dit soms asof die hele wêreld met hul lewens aangaan, terwyl joune onverwags en pynlik tot stilstand geruk is.

Die aanstap van tyd is dus bloot ʼn persepsie van die individu. Horlosies met hul ewig-bewegende sekondewyser is egter ʼn perdjie van ʼn heel ander kleur!

In haar boek “The Top Five Regrets of the Dying”, vertel Bronnie Ware nie ʼn enkele keer dat iemand op sy sterfbed die wens uitgespreek het dat hy/sy meer ure agter sy lessenaar deurgebring het nie. Inteendeel, die direk teenoorgestelde wens word eerder as ʼn diep versugting uitgespreek. Wanneer die besef posvat dat jou lewe nou na die verkeerde kant begin oorhel en jy sonder toestemming tot stilstand gedwing word, dan eers besef jy hoeveel tyd jy deur die loop van baie jare vermors het. In haar boek leer Bronnie die leser dat om deurlopend die regte besluite te neem, jy in jou oudag minder met spyt sal sukkel. Hopelik, want kom spyt nie immers ALTYD te laat nie?

In my kinders se kinderjare sou ek ook graag minder tyd by die werk wou spandeer, maar die kinders was alewig honger en hul groeiende lyfies het aanhoudend klere nodig gehad. Nie “brand” klere nie, bloot net gestikte stukke lap om die nodigste toe te hou en darem die skyn van ordentlikheid te probeer bewaar. Daardie jare was dit ʼn gespook op oorlewing en nie om inhalig vet bankrekeninge bymekaar te skraap nie. Hoe tragies is dit nie dat die jare wanneer jy baie tyd aan jou jong kinders se opvoeding en plesierige tydjies saam behoort te spandeer, dan is daar nie geld vir rondlê of speletjies speel nie. Dan werk jy oor baie jare hard vir jou pensioengeldjie, maar in jou gryse jare het jy dalk nie die gesondheid of geleentheid om daardie opgegaarde geldjies te spandeer nie. Die kinders is lankal groot en dalk wil hulle nie eens meer baie tyd in jou geselskap deurbring nie – waarskynlik omdat dit nou hulle beurt om elke dag te stoei om genoeg kos op die tafel neer te sit en ʼn heel dak oor hul kop te hê.

Die lewe is ingewikkeld en soms sommer heeltemal verkeerd-om. Maar ten spyte van alles is die lewe nooit onregverdig nie. Dit deel presies die regte hoeveelheid swaarkry en vreugde op presies die regte tyd uit – selfs al verstaan ons dit heeltemal so nie. Meestal is dit eers met die terugkyk wat mens kan sien hoe alles netjies in plek gepas het.

Dit was onder moeiliker omstandighede wat ek noodgedwonge moes leer dat daar nie werklik iets soos “more” bestaan nie, en dat vandag die enigste dag is wat ek tot my beskikking het. Om heeltyd met my kop iewers in die toekoms te leef, het die gevolg dat vandag se kosbare tyd ook ongesiens deur my vingers glip. Hoe maklik vrees ons nie die toekoms nie? Vrees dat die kinders iets sal oorkom, vrees dat ek dalk ʼn ongeneeslike siekte sal opdoen en doodgaan (asof dit nie in elk geval gaan gebeur nie…). Daar is immers niks wat waarborg dat my liewe hardwerkende hart nie oor ʼn uur of later mag besluit dat hy nou genoeg liters bloed gepomp het en die wêreld vaarwel gaan toeroep nie. Miskien ry ʼn vragmotor my more oggend platter as ʼn pannekoek en beland ek voor ander ysterhekke as die kerk s’n… Feit is, niemand weet presies hoeveel ure by geboorte aan elkeen toegesê word nie. En juis daarom is dit belangrik om nie kosbare tyd te verspil met onsinnighede nie. As ʼn aktiwiteit nie die lewe polsend deur jou are laat bruis nie, waarom spandeer jy tyd daarop? As iemand se teenwoordigheid jou voete laat sleep en jy met die dood gedreig moet word om te gaan kuier, hoekom gee jy toe aan daardie versoek? Vir wie doen jy dit? Wat hoop jy om met hierdie vriendskap te bereik? Is dit plig of plesier?

Een van my gewoontes is om voortdurend my daaglikse lewe en die inhoud daarvan te heroorweeg en skoon te maak – “purging” soos die Kakies dit noem. Nie noodwendig die uitgooi van materialistiese goed nie, maar eerder van vriendskappe, aktiwiteite en selfs my eie gedrag. Is iets positief? Dra dit by tot my lewe of is dit ʼn stadige wegsyfering van energie? Tyd is heeltemal te kosbaar om vermors te word op aktiwiteite wat mens ongelukkig maak.

Verder, is dit WERKLIK moontlik om verlore tyd in te haal? Waarskynlik nie, want water vloei immers nie twee maal oor dieselfde klip nie.

Ano

Maart 2020 – Triomfboog projek

1.Beleef ons moontlik ’n tyd van groot verandering?

Soms is dit moontlik om gebeure in jou lewe waar te neem wat jy nie anders kan beskryf as ʼn triomfboog nie – jou eie “Arch of Victory”. Dit is daardie gebeurtenis wat jou lewe in twee deel, ʼn voor en na. Soms gaan dit gepaard met ʼn dag en datum maar meestal sal dit ʼn tydperk aandui. Dit mag ʼn vrolike affêre wees of dalk ʼn baie traumatiese geleentheid. Dan kan ek ook nie help om te wonder of die hele mensdom nie nou voor hul eie triomfboog te staan gaan kom nie, en hoeveel van daardie’s dit so sal waarneem en besef dat daar dalk noodgedwonge veranderings in hul lewensstyl sal moet plaasvind.

Persoonlik geniet ek hierdie gedwonge stilte. Of liewers, ek is onder geen omstandighede bang vir stilte nie. Die feit dat dit so te sê almal regoor die aarde raak, maak alles net soveel interessanter. Geen vliegtuie wat dag en nag oor die huis dreun nie. Geen verkeersknope nie en selfs die snelweë is verlate. Niemand jaag om die kinders betyds by die skool te besorg nie. Inteendeel, selfs die vrolike kinderstemme is stil want die twee skole om die hoek se hekke is al ʼn week of twee gesluit.

Wat my die meeste van stilte laat hou is die tyd vir introspeksie – en oh, ek weet hoe bang die meerderheid is om met hul innerlike gekonfronteer te word! Dit is byna lagwekkend om mense se geskarrel waar te neem en hul drang om die hele tyd besig te bly, want dit is in die stiltes wat jy kans kry om jou hart te hoor praat. Vir baie ʼn onbegonne taak omdat hul kop so besig is met ʼn alewige geraas, die ongemak duidelik sigbaar. Ek is seker dat indien dit moontlik was, sou diegene wat algehele stilstand en stilte vrees eerder uit hul vel wou klim en kaal die straat af hardloop as om stil te staan en hul skadukant te konfronteer.

Maar hierdie stilte is die gevolg van ʼn globale krisis. En soms wonder ek of die heelal, die aarde self, nie soms so ʼn gebeurtenis laat plaasvind om bietjie getalle beheer toe te pas nie, of dalk net die natuur ʼn blaaskans te gee en te herstel van die mens se nimmereindigende inmenging en vernietiging.

Sover dit myself betref, ek weet dat ek lank reeds voorbereid was op ʼn tydperk soos hierdie, hoe vreemd hoe dit ookal mag klink. Ek het my triomfboog reeds beleef en weet ons ook hierdie krisis sal dit oorleef. Is dit ooit ʼn krisis? Dat die virus en tyd van afsondering verby sal gaan, maar ek weet ook dat dit iewers in die toekoms weer sal gebeur. Mens kan net nooit, “nooit” sê nie. En, of jy dalk siek sou word en dit oorleef (miskien nie), weet ek dat jy nog steeds OK sal wees. En jou familie sal ook OK wees want die lewe self is eintlik net ʼn illusie.

(Woordtelling 500)

Ano

April 2020 – Grendel projek

2.Goue Handboeie

Wel, hierdie tyd van inperking kan seker geklassifiseer word as sagte huisarres, dus sal ek my moet gedra om te keer dat dit nie dalk ʼn langtermyn instelling word nie. Niemand wil onnodiglik met lelike enkel-juwele verras word nie. En as hierdie paar weke dit byna kon regkry dat my sinne lelik deurmekaar te krap tot op die punt van kop verloor, wil ek nie weet watter skakering van swart tronkvoëls se gemoedstoestand mag wees nie.

Maar grendels is nie noodwendig van die buitekant af nie, iets wat iemand anders aan jou “doen” of voorskryf nie. Dit is dikwels idees wat jy heel onbewustelik binne jouself ronddra. Miskien is dit gedrag of ʼn denkwyse wat deur jou ouers oorgedra is, geslagte lank reeds. Jy vreet maar die ander persoon se nukke en grille op omdat dit so van jou verwag word – deur die persoon self, dalk jou familie of selfs vriende. Jy ervaar druk van ander om in die goue kou met goue slotte te bly omdat dit “die regte ding is om te doen”. Jy is dalk bang vir die onbekende.

Miskien is dit die gedagtegang wat die kerk by jou ingeprent het en wat jy navolg sonder om twee maal daaroor na te dink. Jy neem deel aan aktiwiteite en gebruike omdat dit nog altyd so voorgeskryf was of omdat dit so in jou Bybel staan. Jy glo dat dit die Woord van God is en nie betwyfel mag word nie, maar sonder om daaraan te dink dat dit steeds mense is wat besluit het watter boeke in die Bybel opgeneem sal word en watter nie. Daar is egter min wat weet van die duisende geskrifte wat doelbewus uitgesluit is sowel as baie ander inligting wat uit die Bybel weggeneem is. Niemand knip ʼn oog nie want wat die oog nie sien nie, treur die hart nie oor nie. Niemand waag dit eens om iets te bevraagteken nie want dan praat jy uit die duiwel se bek. ʼn Sterk leier kan sy volgelinge maklik op die verkeerde pad lei.

Miskien is jou waarheid net iets wat jy al genoeg kere vir jouself vertel het en dit nou as almal se waarheid aanvaar. Mense hou van ander mense wat dieselfde as hulle lyk, dink en praat. Die een wat anders lyk, hoe subtiel ookal, staan vinnig uit. Die een wat nie wil inval met die meerderheid se blinde navolging in enige rigting nie is verkeerd, selfs al is hy eintlik reg. Die ding is, mense wat oogklappe dra hou nie van ander wat daarsonder klaarkom nie.

Iewers in jou lewe ontvang jy die boodskap dat jy ʼn beter lewe sou hê indien jy ʼn sekere produk of diens kan bekom. Jy word saggies oortuig dat jy nie ʼn goeie lewe sal geniet indien hierdie ding nie in jou besit is nie, en jy sluk dit aas, hoek en sinker! As verkoper weet ek hierdie aanmoediging word bemarking genoem, en ek gebruik dit ook sonder om te blik of te bloos – want ek wil hê jy produk moet verkoop! Enigeen wat vir my grappie val sorg vir ‘n paar rand in my sak.

Hierdie tydperk van inperking het my egter iets waardevol geleer (al het ek dit nog altyd oppervlakkig geweet). Dat mens werklik net drie of vier dinge nodig het : kos, ʼn dak oor jou kop, gesondheid en klere en dat mens met verbasend min oor die weg kan kom. Niemand het kaviaar/KFC/snoepgoed nodig om te oorleef nie, al is dit hoe lekker. Niemand het ʼn huis met vyf slaapkamers en vier badkamers en ʼn Olimpiese swembad nodig nie, al is die ruimte heerlik. Almal het gesondheid nodig en hoe gesonder jy is (fisies en geestelik), hoe makliker is jou lewe. En ja, niemand het kaste en kaste vol uitspattige klere nodig nie, maar alleenlik die basiese stukkies wat jou bas kan toehou en die koue kan uithou. Met die nodigste kan mens ʼn heel vervulde lewe lei.

Dit sal lekker wees om weer heeltemal vryheid van beweging te ervaar, al het ek vinnig geleer dat mens eintlik baie maklik sonder ʼn haarkapper kan klaarkom; dat die materiaal- en hardewarewinkel nie die alfa en omega van inkopies is nie; dat mens met beter beplanning baie minder winkels hoef te gaan. Huiswerkers is nie so nodig soos suurstof nie, dit is moontlik om jou eie tuin in stand te hou en jy kan self na jou kleuters omsien en hul leer hoe om die potjie te gebruik. Met ander woorde, elke mens met twee gesonde hande kan sy eie vuilwerk doen. Dit is eerder ʼn kwessie van WIL jy of is dit net lekkerder om die sleurwerk op iemand anders af te stoot?

Ons moderne mens is ten spyte van die goue kou wat ons bewoon, dikwels diep ontevrede. Is dit dalk omdat ons deur die spasies van hierdie goue versperrings die wye veld en skoon lug daarbuite kan waarneem? Of is die muur so dig toegemessel dat jy niks anders raaksien as die weerkaatsing van klatergoud nie? Hoe meer jy besit en hoe groter en duurder dit is, hoe gelukkiger is jy? Of is jy? Is dit werklik die waarheid of is dit net ‘n illusie?

ʼn Kennis en inwoner van ʼn eerste wêreldse land het hardop gewonder of die “arm mense in Afrika” nie dalk in ʼn leuen leef deur te sê dat hulle ten spyte van hul armoede, tog gelukkig is nie. Vir haar is die hoogs onwaarskynlik dat mens net so gelukkig op ʼn fiets kan wees, as in ʼn gemaklike Mercedes. Ons trane is ewe sout, maar dit kan sy nie verstaan nie. Terwyl ek my kop heen en weer skud, kan ek nie help om haar tog innig jammer te kry nie. Jy besef eers hoe arm jy was wanneer jy als verloor wat geld nie kan koop nie.

My wens vir die mensdom is dat elkeen sal ervaar hoe die goue kettings en -grendels van hul gedagtes ʼn onnodige las kan wees en dat algehele vryheid selfs binne vier mure ervaar kan word.

Ano

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

1.Ver weg van die stad se geraas

Woordtelling 482

Dit was die geskree-gesprek tussen politikusse wat my moertjie net nog ʼn fraksie stywer laat draai het. Hubby kan nie sonder RSG se Monitor program klaarkom nie en ek is al vergete dik vir die onophoudelike Corona verslaggewing – so al asof daar niks anders in die wêreld gebeur nie. Daagliks word die dooies getel asof ons in ʼn wedloop met die doodsengel is. Is daar ʼn medalje of prys vir die dag wat die meeste mense doodgaan? Moet ons geskok luister of liewers ore toedruk en nie toelaat dat die wêreld se paniek jou hart en siel oorneem nie?

Tensy ek dus my pap-en-melk in die onwelriekende kleinhuisie gaan opslurp is daar nie wegkomkans nie. My gehoor kan nie na willekeur aan of af geskakel word nie en ek sal hoor, of ek nou wil of nie en ek gee al vergete nie meer om nie.

Daar en dan word die besluit geneem dat ek nou al lankal moeg is vir die vier hoekpale van hierdie erf. Dit is dringend tyd om weer vir ‘n slag iewers heen te verdwyn. Hubby wil nog verskonings uitdink oor die afstand, ons moet maskers dra, jy mag nie uitklim nie en wie weet watter patetiese gekibbel nog, toe is ek al handsak oor die skouer halfpad by die deur uit. Hy het ʼn keuse – bly of ry, want Ano gaan nou ry.

Ons koop broodnodige versnaperinge by die naaste winkelsentrum en kies koers na ʼn klein wildreservaat byna in die middel van ʼn stad. Dit is winter en stowwerig, maar nog nooit was buitekant so mooi soos nou nie. Ten spyte van die streng reëls om binne jou motor te bly, wil ek sommer uitspring en in die droë gras gaan rol en die reuk van stof diep in my longe intrek. Ek wil sonder verskoning uitbundig hardloop en dans en nie omgee vir die grassade wat in my hare vasklou en die stof op my skoene en broekspype nie.

Ek wil in die lang gras lê en luister hoe die sprinkane met ʼn groot ge-kirrrrrr iewers heen spring, of hoe die wind saggies daardeur woel. Ek wil luister hoe die voëltjies na hul maats roep en vertel waar om die varste “road kill” te kry. Ek wil by die oop motorvenster uithang en hoor hoe die buffel en zebras se hoewe op die harde teerpad klippedie-klop, ritmies en egalig. Geen haastige motoris versteur hul rustigheid nie want hierdie is hulle koninkryk, die mens net nog ‘n mak dier. Ek wil langs die waterstroom stop en hoor hoe vinnig dit oor die klippe kabbel. Inteendeel, ek wil sommer net buite wees en die natuur inneem en my siel verkwik want die mensgemaakte strukture met klippe en sement raak soms benoud beknop.

Wat is dan mooier as die geluide van die natuur, ver weg van die stad se verkeer wat nooit tot rus wil kom nie?

Ano

September 2020 – Liefdesprojek

1.Liefde is… ingewikkeld

Vir elkeen wat die aarde bewandel sal liefde sekerlik ’n ander waarde of betekenis hê. Vir sommige word dit as wortel voor ’n ander se neus gehou in die hoop om iets uit die situasie te ontvang. Soms is dit ’n geleentheid om onvoorwaardelik te dien. Vir ander is liefde selfs ’n ononderhandelbare item, iets wat nie baie ruimte vir misstappe toelaat nie. Dit kan wissel tussen daardie lekkerkry bonsende gevoel of die koele rustigheid van ’n immer-vloeiende stroompie, of selfs gebruik word om ’n ander af te knou!

Liefde kan dus so goedkoop of so duur wees as wat jy dit self wil maak. Maar een ding is seker, daar is ALTYD ’n prys om te betaal inruil vir iemand anders se liefde – of dalk is dit eerder die prys vir aandag en nie noodwendig liefde nie.

Ware liefde kan nooit met geld of besittings betaal word nie. Wanneer dit opreg aangebied word, sal dit nie saak maak indien die ontvanger nie oor aardse rykdom beskik nie. Maar in so ’n verhouding is daardie selfde liefde ook uiters duur want dit vra 100% getrouheid, eerlikheid, lojaliteit, liefdevolheid en om te probeer om nie jou maat se vertroue te skend nie. Liefde is ook die bereidwilligheid om dikwels en duidelik te kommunikeer en stilstuipe of vloekwoorde is nou nie juis ’n goeie vorm van kommunikasie nie. Tog, wanneer ware en onvoorwaardelike liefde tussen twee mense ontstaan, is geen prys te hoog om te betaal nie.

Gratis liefde, of daardie vorm van vermaak wat snags op die straathoeke aangebied word, is so “cheap” soos die stukkende sykouse en siekes waarmee die draer getooi is. Liefde wat in ruil vir ’n paar rand weggegee word, word baie beslis nie gewaardeer nie, al is prostitusie so oud soos die mensdom self. Daar is geen lojaliteit by betrokke nie en dit is alleenlik die middel tot ’n doel – geld.

Maar wat as die prys van ware liefde te hoog word om oor ’n lang tydperk te betaal? Wat as een of beide van die partye nie meer 100% kan of wil gee nie? Gooi mens dan daardie verhouding net soos as in die wind en “let bygones be bygones”? Is dit werklik so maklik om ’n verhouding soos ’n ou paar skoene uit te skop en weg te draai, of is daar altyd iets wat saam met jou stap? Jou gewete dalk, herinneringe aan die goeie, maar ook slegte tye, die vreugdes sowel as die hartseer? En as jy daardie wond nie tyd gee om eers gesond te word nie en jy stap te vroeg in ’n volgende verhouding in, dan kan jy maar seker weet dat jou bagasie een of ander tyd swaarder gaan weeg as jou vinnige hartklop!

Die koste en produk het soms nie dieselfde waarde nie. Tog, daar is niks so mooi en na aan die hemel as om iemand lief te hê nie. Ja, dit maak mens bang om jou hart so oop te stel in die hoop dat dit goed behandel sal word, daar is so baie om te verloor, maar daar is soveel meer om te wen. Soos mense sê, dit is beter om lief te hê en dit te verloor as om nooit lief te gehad het nie

Ano

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

1.Om te hoop of nie te hoop nie

Iewers het ek gelees dat slegs 10% van ons verwagtinge ʼn werklikheid word, veral wanneer dit negatief is. In ʼn kits kan jy jouself in ʼn toestand van stres en vrees indink, en dan word dit nooit eens waar nie!

Magdaleen Krüger van RSG skryf die volgende : “Ons het uitgesien na 2021 in die hoop dat dit ‘n beter jaar sal wees. Ek weet nie wat die jaar verder gaan oplewer nie, maar sover is dit nie noodwendig vir almal vol voorspoed nie.”

Ja right. Verwagtinge… Die verwagting dat wanneer die horlosie tot een minuut na twaalf op 1 Januarie van ʼn nuwe jaar skuif, al die ou moeilikheid en swarigheid van die vorige jaar in ʼn miswolkie sal verdwyn. Realisties gesproke is dit hoogstens ʼn paar dae se euforie voordat die werklikheid weer insink en jy besef dat ʼn nuwe datum nie die verlede se dag-tot-dag swarigheid skielik omgekeer het nie. Ongeag die datum moet jy nog steeds die vorige jaar (of selfs vorige een/twee/sewe dekades) se seerkry in die oë kyk.

Ongelukkig is die besef dat ek ʼn realis is en alte maklik iemand se dromerigheid oor die nuwe jaar per ongeluk die heelal inskiet, ʼn ongemaklike een. Daar is niks in hierdie wêreld wat my laat smag na “volgende jaar sal dinge beter gaan nie”, want ek weet voor my onheilige siel dat niks ooit verander tensy jy nie iets daaraan DOEN nie. Jy maai inderdaad presies wat jy saai. Miskien is my geloof net nie sterk genoeg om te dink dat die Liewe Heer in die hemel soos ʼn genie uit ʼn bottel sal kom en met drie wense ons lewens sonder enige inspanning van ons kan af, gaan vergemaklik nie. Dus, ek verwag ook nou nie eintlik enigiets van enigiemand nie, nie meer nie in elk geval. Die lewe is ʼn harde leermeester en ek wil nou ook nie heeltemal Donkie speel en my kop aanhoudend teen dieselfde klip stamp nie.

Maar tog word elke mens met ʼn sekere hoeveelheid verwagting gebore. Die baba verwag dat sy behoeftes vervul sal word. In sy woordlose kommunikasie vra hy vir kos, gemaklike klere of selfs ʼn stewige porsie liefde en troos. Hy VERWAG dat sy ma dit sal hoor en gee. Indien dit oor ʼn lang tydperk nie gebeur nie, leer hierdie klein mensie ook dat hy nie goed genoeg is om liefde te ontvang nie en dat sy behoeftes nie belangrik genoeg is nie. Hierdie is dikwels die beginpunt van vele lewenslange sielkundige probleme.

Die basis van elke verhouding – maak nie saak of dit tussen ouer en kind, liefdesmaats of selfs Baas en Klaas is nie – bestaan tog uit wedersydse gevoel van veiligheid, versorging, begrip, aanvaarding en vertroue. Dit is tog normaal en goed dat ons dit van mekaar verwag, dan nie? Daarsonder het geen verhouding ʼn stewige fondament om op te bou nie en sal jy van die een verhouding na die ander soos ʼn veertjie rondgewaai word – gewigloos en sonder anker.

Ons verwag ʼn goeie regering, ʼn goeie onderwysstelsel, ʼn stewige ekonomie en selfs dat die bure se honde eerder snags sal slaap as om op een enkele noot onophoudelik te kef. Maar verwagting en realiteit loop selde hand aan hand. Die groter vraag is eerder wat maak mens met daardie onvervulde verwagting? Gaan jy nou op ʼn ashoop sit en in die volgende eeu by elke geleentheid en oor kla oor alles wat verkeerd geloop het, of gaan jy dit as ʼn bousteen gebruik omdat jy iets waardevol geleer het?

En soms hang my mond maar so bietjie oop wanneer ek na ander se verwagtinge luister. “Maar hulle is mos van die kerk!?!” Ons verwag dat ‘mense van die kerk’ goed sal wees, nie steel, mekaar bedrieg en beskinder nie, want preek die leraar dan nie dikwels dat “Christene anders as ander mense is nie”? Miskien werk dit so in sy wêreld waar mense net hul beste voetjie voorsit en hul soetste glimlaggie vir die predikant bêre. Vir die res van ons plebs kry ons ten volle te doen met daardie aardige natuur van ander. Ons weet almal dat die kerk VOL sondaar is! (Ook so verneem van die preekstoel se kant af.) En veral in besigheid weet ek al dat wanneer ʼn persoon vir my moet vertel dat hy/sy ʼn Christen is, ek nog meer op my hoede moet wees vir ʼn skelmstreek, juis omdat geloof dikwels gebruik word om iemand te sus sodat jy nie sal raaksien wanneer hy jou bedrieg en soms openlik besteel nie!

Verwagtinge? Nee wat, kyk en sien wat kom na jou kant toe en werk dan eerder daarmee. Dit maak die lewe net so klein bietjie makliker.

Ano

April 2021 – Oordenkingsprojek

2.Meditasie as medikasie

(woordtelling 397)

As ek my familie en Christen-vriende moet glo, is ek verseker met haastige treë op die breë pad na daai gevreesde warm plek want sien, meditasie is mos iets van die bose. Joga ook, al beoefen ek nie Joga nie maar eerder Pilates. Vir die oningeligde is dit egter een en dieselfde ding en volgens hulle loop dit uit op die aanbidding van Boedha, of sommer aanbidding vir die duiwel ook. Baie van daai’s sal nooit raai dat hulle dalk self ‘van die duiwel’ is nie want hulle sit mos elke Sondag hul gereserveerde plekkie in die kerk vuurwarm en hou Woensdae Bybelstudie saam met die ander wat op loer is waar die res van die beskawing verkeerd trap.

Self het ek by my liewe Moeder geleer dat wanneer jy jou gedagtes laat stil word, gee jy die duiwel kans om in te klim en oor te neem. Ai tog. As liewe Moeder net geweet het dat daardie lieflike stilte die beste teenvoeter is teen depressie en angstigheid, sou sy dit dalk ook probeer het! Maar nou ja, mens probeer seker nie iets wat jy met elke vesel in jou lyf vrees nie. As ek geweet het dit help vir oorgroot emosionele reaksies, sou ek dit dalk vroeër in my lewe ondersoek het en net dalkies sou ek minder moorddadige gedagtes gekoester het.

Maar nou ja, elke ding seker op sy tyd. Mens leer seker eers wanneer jy genoeg ongemak ervaar en uiteindelik bereid is om iets nuuts te probeer. Dan eers mag jy dit oorweeg om die duiwel aan sy horings te vang en bloots te ry. Eers wanneer jy ervaar dat jy toe nie per ongeluk vir Boedha begin bid het nie, en die kalmerende effek van meditasie ervaar, sal jy ontdek hoe die dinge waarin ons glo ons soms glad nie tot voordeel strek nie.

As ek nou die Genie se boepens lampie kon vryf en net een wens kon kry, sou dit wees dat mense se oë bietjie sal oopgaan en hulle sal wakker skrik vir die feit dat daar nie ‘n duiwel agter elke bos wegkruip nie, maar dat daardie duiwel dalk veel eerder baie knus in hul oënskynlike heilige gedagtes woon! Daar is seker baie maniere om stil te word en om in gebed te tree is verseker nie stil nie!

Ano

Junie 2021 – Interteksualiteit projek

2.Ou hond, nuwe truuks

(woordetal 397)

Proverbs 23:7 (NKJV) : “As a man thinketh in his heart, so is he.” Maak nie saak hoeveel keer ek hierdie vers raakgelees het nie, dit het nie ‘n blywende indruk gemaak nie, maar die dag toe ek die volgende raakloop, “Change the way you look at things, and things you look at will change” (Max Plank, 1858-1947), het iets heel anders gebeur. Ek moes dit ‘n hele paar maal lees en woord-vir-woord uitmekaar haal om dit te verstaan. En die lig het aangegaan…

Mens raak so maklik vasgevang in jou gedagtes want dit het ‘n manier om altyd dieselfde ou paadjie te stap tot dit later ‘n besige, eenrigting snelweg in jou brein vorm. Dit is sommer twak dat mens “so gemaak en so laat staan” is, en elke ou hond kan wel nuwe truuks aanleer. Jy moet net besef dat niks onmoontlik is nie en nuwe denkwyses die geleentheid gee om saad te skiet.

‘n Goeie voorbeeld hiervan was my eie pa wat altyd die gesprek teruggelei het na ou-ou stories, waarvan sommige totaal en al van alle waarheid ontbloot was. Maar hy het dit vas geglo, so al asof dit in klip gegraveer was. Niks en niemand kon hom oortuig om sy idees hieroor te ondersoek nie, en wat ‘n jammerte om die meerderheid van jou 90+ jare te broei oor iets wat nooit eens gebeur het nie. Vermorste tyd. Sou dit nie veel lekkerder en gesonder vir sy gees gewees het om die geur van koffie te geniet en die skoonheid van veldblommetjies te bewonder as om die slegte in elke situasie te sien en hopeloos te veel ure spandeer om daaroor te tob nie?

Ons mag maar uit ander se situasies leer, en hy was verseker ‘n goeie leermeester – van hoe ek nie wil wees nie! Bogenoemde gesegde het my daaraan herinner om voortdurend my denke te ondersoek en te kyk of dit my help of dalk onbewustelik iewers vasgevang hou. Jou situasie is immers net so lig of donker soos die manier waarop jy daarna kyk. En wat in jou gedagtes aangaan, wys nie net op jou gesig nie, maar ook hoe jy ander behandel. Immers is niemand is pizza of tequila nie, en daarom kan niemand almal gelukkig maak nie. As jy eerste na jou eie geestelike welsyn en denkprosesse omsien, sal jy die lewe heeltemal anders sien en ervaar.

Ano

Oktober 2021 Akrostiese projek

3.Kling, Glöckchen, klingelingeling

(Woordtelling 609 – Silwer)

Ugh, Kersfees… Maar nee wag, daar is niks fout met Kersfees nie, maar die oormaat blink balle, stringe en stringe tinsel wat grillerig beweeg wanneer jy daarby verbystap, plastiek bome – van piepklein na dakhoogte-groot, sommige sommer klaar versier met strikke en liggies, irriterende klingelende musiek, is als genoeg om my tussen 1 Oktober tot ten minste 31 Januarie uit die winkels te hou. Die voordeel is dan sommer ook dat my bankbestuurder nie die nodigheid sal insien om ʼn persoonlike oproep te maak omdat hy reken my bankkaart het dalk in die verkeerde hande beland het nie.

Wat die oog nie sien nie, treur die hart mos nie oor nie. En as ek nie in die verkeerde winkels ronddwaal nie, hoef ek nie daardie kom-koop-my-goetertjies te sien nie. Maak nie hoe mens daarna kyk nie, daar is absoluut niks subtiel rakende die aankondiging dat die uitmergelende lang Desembervakansie, gepaardgaande met Kersfees, net om die draai is nie. Dalk is dit eerder die gevoel dat die jaar alweer byna ongesien deur my vingers geglip het wat hierdie ongemak veroorsaak.

Net eergister nog was ek by daai ander winkel om ʼn paar krale te koop. Vandag moes ek noodgedwonge terug omdat ek soos ʼn aap getel het en daar slaat byna op my gesig neer toe ek die algehele verandering raaksien. Eers dog ek dat verdwaal alweer in my kop nesgemaak het, maar nee, dis dieselfde plek as twee dae gelede. Dit is, maar dit is ook nie. Eergister was alles nog ‘skoon’ en normaal. Vandag lyk dit asof ʼn onverwagse sneeustorm-ontploffing op ʼn lieflike somersdag losgebars het, en oral het bome uit die keramiek teëls opgeskiet tot byna teen die dak – alle kleure en alle groottes. En natuurlik, daai musiek… Rêrig ugh! Die paar liedjies wat die hele tyd herhaal is genoeg om kop befoeterd te laat uithaak. Ek voel innig jammer vir die mense wat daar werk en dit is nou nie asof hulle die geklingel kan ontsnap nie. Boonop moet hulle vir die volgende drie maande daarna luister, ses of sewe dae per week, te veel ure per dag. Elke dag. Elke uur. Geen wegkomkans van die irriterende herhalings van dieselfde vyf liedjies nie.

Alles is so … plastiek! So … vals, en dit skree vir als en almal om geld te spandeer wat dalk eerder vir noodsaaklikhede aangewend moet word – soos kos of skoolgeld. Maar koop moet die mens mos koop! Daar is dansende Kersvadertjies, groot en klein, lawwe elwe met lang slap bene, goetertjies in elke kleur en geur, rooi plastiek- en lap hoede in elke denkbare tipe materiaal, rooi Kersfeesmusse – langes en kleintjies, groot tossels of niks tossels. En natuurlik, party mussies word sommer op ʼn haarknippie vasgeplak. Dit is nou een item wat sy pad na my mandjie sal vind, al is dit net om my familie te irriteer. Waarvoor dit eintlik beter aangewend kan word is vir markdag wanneer ek ánder mense wil naderlok sodat hulle Kersgeskenke by my tafel kan koop! Miskien moet ek sommer ook die oorbelle ook in my mandjie gooi! En wat van daai rooi das! Of die lawwe gestreepte kouse?? Kom buurman, kom. Spandeer man, dis lekker! Jy kan mos nou nie by buurman afsteek en vir jou kindertjies net EEN persentjie gee nie? Nee jong, dit moet ʼn groot verskeidenheid wees sodat die stapel pakkies die boom sal verdwerg. Kom man, kom…

As koper is die vroeë verskyning van Kersfeesprodukte ʼn totale skok vir die sisteem. Dit is so in jou gesig en mens wil byna naar word, maar as klein-skaal handelaar is daar nooit iets soos te vroeg nie. Koop-koop se bek hang nou lekker oop!

Ano

Februarie 2022 – Liefdesprojek

2.Marionet aan ‘n toutjie

(Woordtelling 1017)

Dit is hoogs uitsonderlik dat ʼn persoon nie liefde wil hê of nie deur ander aanvaar wil word nie. En om ʼn maat te hê wat ondersteunend, vriendelik en lojaal is en werklik onbaatsugtig omgee, is nie abnormaal nie. Maar, wanneer die euforie van die wittebrood verby is, en die lekker dae in die minderheid is, is dit tyd om in diepte na jul verhouding te kyk. Dit is daardie tyd wanneer die komplimente of grappies skielik met onderlangse stekies versuur word, “Het jy te veel koekies geëet?” Of, “Jy het gister hiervoor gelag, waarvoor ruk jy jou vandag so op?” Dit eskaleer maklik na openlike kritiek en verbale misbruik tot fisieke mishandeling.

Wat is WARE liefde? Dit is ʼn sterk en langdurige verbintenis tussen twee persone in ʼn gelukkige gee-en-neem verhouding. Liefde tussen hierdie twee mense groei soos hulle mekaar beter leer ken. Hulle is gewoonlik daartoe verbind om mekaar te ondersteun, op te bou en aan te moedig, eerder as om die ander te kritiseer, te veroordeel, en te verkleineer totdat daar niks van die mishandelde persoon se selfwaarde oorbly nie.

Wanneer is hierdie “op die wolke sweef”-gevoel nie liefde nie, maar ’n trauma-verbintenis? Liz Powell skryf, “’n Trauma-verbintenis of -verhouding is wanneer die verbintenis deur fisieke of emosionele trauma afgewissel word met positiewe versterking.” Om dit in eenvoudiger taal te stel, “daar is ’n groot hoeveelheid verskriklike goed wat gebeur, en dit word afgewissel met af-en-toe se vreeslike goeie goed.”

Kortliks: dit is wanneer ’n verhouding op ’n mespunt balanseer waarvan die misbruik en afsydigheid meer prominent is as die geleenthede van toegeneentheid en positiewe aandag, letterlik ’n warm/koud verhouding waarvan ʼn enkele onnadenkende woord die spreekwoordelike appelkar kan omkeer. Die een persoon loop die hele tyd op eiers om nie die ander een te ontstel en ’n plofbare reaksie ontlok nie. Na ʼn uitbarsting volg ʼn groot vertoon van diep berou en ʼn tydperk van goeie gedrag wat grotendeels ekstra aandag, uitspattige geskenke, tot duur vakansies kan insluit.

Dit is ʼn heeltemal natuurlike reaksie om ʼn verbintenis met iemand te vorm wat jou met teerheid behandel, VERAL wanneer dit iets is wat voorheen in jou lewe ontbreek het. Wat belangrik is om in gedagte te hou is dat daar altyd ʼn groot mate van inkonsekwentheid en manipulasie in so ʼn verhouding bestaan. ʼn Trauma-verbintenis kan fisies, emosioneel of sielkundig wees.

So ’n verbintenis is ook nie beperk tot romantiese verhoudings nie, maar gebeur ook tussen ouers en kinders, waar kindermishandeling in enige situasie plaasvind, vriende, kollegas, tydens militêre opleiding, en selfs godsdienstige kultusse. Waar dit in ’n romantiese verhouding voorkom, sal die misbruikte persoon dit dikwels moeilik vind om die mishandelaar te verlaat omdat die persoon wat die oorhand het hul slagoffer dikwels sonder moeite kan oorreed om te bly, selfs al is die situasie onhanteerbaar. Wanneer dit tydens militêre opleiding gebeur word die mense in onmoontlike situasies geplaas en jy het geen keuse as om jou mede-soldaat te vertrou in lewe-of-dood situasies nie.

Tensy die mishandelde persoon hierdie patroon herken en daaraan werk om sy emosionele wonde te hanteer, kan die vorige ondervinding van trauma veroorsaak dat hy keer op keer in dieselfde verhouding beland. So ʼn verhouding voel “normaal” of ten minste bekend. As ʼn kind gedurende sy kinderjare mishandel of verwaarloos was, is die mishandeling as volwassene dus nie ʼn onbekende situasie nie – want hy ken niks anders nie of weet bloot net nie van beter nie. Hierdie persoon sal dus ook onbewustelik van sy mishandelaar verwag om sy emosionele behoeftes te vervul.

ʼn Trauma-verbintenis begin deur die liggaam se natuurlike reaksie tot stres. Wanneer ʼn persoon onder geweldige stres verkeer, aktiveer ʼn gedeelte van die brein wat ons emosies beheer en dit word die veg-of-vlug reaksie genoem. Wanneer dit gebeur, is die gedeelte van die brein wat risiko’s identifiseer onder geweldige druk en die prefrontale korteks skakel af. Dan is jou brein intens gefokus om jou deur die trauma te kry. Dus, wanneer die mishandelaar na sy slagoffer sou kom met verskonings en liefdesbewyse, assosieer sy brein daardie persoon met ʼn bron van veiligheid en kan hy nie die langtermyn effekte van so ʼn verhouding raaksien nie. Volgens Jimanekia Eborn is daar dus “ʼn sterk hormonale verbintenis tussen die mishandelaar en die mishandelde want laasgenoemde dink dat hy hierdie persoon nodig het om te oorleef.”

Die brein raak oorweldig deur die hormone oksitosien, die troetel-hormoon en dopamien, die goed-voel hormoon. Die resultaat is dus dat selfs wanneer die persoon sleg behandel word, sy brein hom nie “toelaat” om weg te breek nie omdat dit so goed voel wanneer die mishandelaar hom goed behandel. Op die einde van die dag word dit weer ʼn vorm van afhanklikheid en beheer. ’n Trauma-verbinding skep dus die geleentheid waar hy sy eie realiteit ondergeskik stel aan dié van die ander persoon. Wanneer die mishandelde wegbreek van so ’n verhouding, is dit dikwels ’n langsame herontdekking van wie hy is en om weer te leer hoe om sy eie intuïsie te vertrou.

Hoe herken jy hierdie tipe verbintenis?
Wanneer jy uitgehonger is vir liefde en ondersteuning en baie dankbaar is vir die krummels wat na jou kant gegooi word.
Jy voel vasgevang in ʼn verhouding en weet nie hoe om daaruit weg te breek nie.
Wanneer mishandeling teenwoordig is, mag jy vind dat jy op eiers loop om nie die ander persoon te ontstel nie. Selfs wanneer jy weet die gedrag van die ander persoon is verkeerd, probeer jy jou bes om nie die oppervlakkige harmonie te versteur nie.
Jou vriende en familie mag jou daarop wys dat hulle sekere gebeure onaanvaarbaar vind, maar jy verdedig steeds die persoon en sy gedrag.

“ʼn Persoon kan slegs uit so ʼn verhouding wegbreek wanneer hulle eerlik met hulself kan wees en leer hoe om grense te stel”, aldus Dr. Omari.

Onthou, ’n trauma-verbintenis is nie liefde nie en het waarskynlik begin omdat dit ’n diep behoefte vervul het. Dit is ook nie jou “skuld” nie, maar noudat jy weet wat dit is en waar dit vandaan kom, is die volgende vraag wat jy daaromtrent gaan doen?

Ano

Maart 2022 – OOP projek

3.Toe nie met oop oë gebore nie!

(Woordtelling 1304)

Dit is darem verstommend dat selfs al het jy reeds oor die lewe se halflyn-strepie geglip, jy nog steeds onontginde talente kan ontdek. Mens sou tog dink dat jy teen hierdie tyd weet wie en wat jy is en waarin jy uitblink of nie.

Aanvanklik het ek gedink April Fool’s Day het hierdie jaar net ʼn bietjie vinniger gearriveer as ander jare – so ʼn hele week te vroeg, maar wie tel nou eintlik?

Maandag is ek flink uit die vere want my nuwe besending boeke moet vandag afgelewer word. ʼn Hele paar kartondose vol en ek kou al naels want waar op dees aarde gaan ek die goed pak en hier is skaars plek vir ʼn muis. Miskien moet ek dit maar opmekaar stapel en ʼn sitplek daarvan maak. Maar, my opgewondenheid het vinnig gekwyn toe een van die kartondose iemand anders se boeke bevat!

Naarstiglik skakel ek die koerier se nommer om hierdie sakie uit te klaar. Dit is goed en wel dat ek met ʼn vreemdeling se voorraad sit. Ek weet darem dat ek dit nie rêrig sal waag om ʼn stoel daarvan te maak nie, maar sy mag dalk nie dieselfde oor my goedjies dink nie.

Die vriendelike dametjie aan die anderkant van die telefoon lig my in dat my pakkie ongelukkig tot in Oos Londen gereis het en as ek net hierdie nommertjie vir ons plaaslike tak sal skakel, sal dit vinnig uitgesorteer word.

Ongelukkig is alle dames nie uit dieselfde stukkie lap geknip nie en die plaaslike een is sommer openlik ongeskik. Dan is sy ook nie iemand wat pa of ma wil staan vir ʼn fout wat duidelik deur hulle gemaak is nie, en sê dis die uitgewer se skuld. My ystervarkpenne ritsel so saggies want niemand gaan sommer net ʼn ander verniet beskuldig nie. Jy wys nie een vinger vorentoe en sien nie die ander raak wat na jouself terug wys nie!

Ek druk maar ʼn koel lappie teen my warm voorkop en smeer die heuning dik aan. Immers is my duur betaalde besittings nou in haar krom hande en is ek van haar guns afhanklik om dit ongeskonde tot by hierdie huis te kry.

Dinsdag breek aan, Dogter se verjaardag. Aangesien ons baie jare laas so ʼn geleentheid saam deurgebring het, besluit ons om iewers ʼn koppietjie koffie te drink en ook sommer ietsie te eet om die groot dag te vier. Dit moet natuurlik by ʼn plek wees waar die kinders buite kan speel tot hulle tonge op die grond sleep (al is dit net sodat ouma bietjie agteroor kan sit).

Die koel melkskommeltjie gaan heel lekker en koel af, en die dametjie is vinnig daar om ons bestelling te neem. Dit is nogal raserig by hierdie plek want ons sit letterlik tussen die swaaie en klimrame. Die groot koelteboom was egter ʼn groter trekpleister en gesels maar so tussen al die plesierige gille deur. Die kelnerin glimlag mooi en skryf ons bestellings met groot sorg neer. Nou begin die lang wag.

En ons wag. En wag. Ek begin agterkom dat melkskommel nie kos is nie, en dit les ook nie jou dors nie.

Eers kom die kinders se kos. Uhm nee, dit moes nie broodjies gewees het nie, maar pizza. Die kelnerin is verleë en gaan tjank in die badkamer. En rêrig, ons was glad nie lelik met haar nie! ʼn Ander kelnerin staan maar goedgunstiglik in en sy sit TWEE pizzas voor Dogter neer – een met vye op (yuck) en die ander een met ander oneetbare vleiserige-dinge. ʼn Ontbyt-pizza met gebakte eiers word vir Hubby afgelewer (yuck). Toe ek sien sy mik om te loop, vra ek haar of ek ook darem vandag nog kos gaan kry? Ons wag immers seker al veertig minute of so.

Uhm, wat het ek bestel??? Oh nee, hulle het nie DAAI kos in voorraad nie. Ek hap verward ʼn paar lugborrels want hier het baie duidelik iets groot verkeerd geloop. Asof die jillende kinders nie alreeds genoeg was om my snare styf te trek nie, begin die eerste een nou sommer skiet. Wil ek iets anders bestel? Nee, want nou gaan ek eers sit en kyk hoe my tafelgenote eet terwyl ek al die tafel wil aflek uit pure honger. Wanneer my kos miskien oor ʼn verdere veertig minute gaan opdaag, sal die kinders heel waarskynlik al moeg en huilerig wees en almal gaan dan ongeduldig vir MY sit en kyk hoe ek eet!

Elkeen wat sy lewe liefhet weet dat mens nie tussen ʼn persoon se bord kos en sy honger maag indruk nie, en my m**rtjie is heel gepas, maar onverwags, lekker dik. Ek vat my handsak en gee liewers pad voordat ek in trane gaan uitbars. Die gesmelte rubber lê seker oor die restaurant se vloer, maar ek storm voort. Kleinseun hardloop agterna met ʼn stukkie pizza. “Hier ouma, ek het vir jou kos gebring.” Mag ek nou maar sê dat ek toe byna aan die tjank raak omdat hy so ʼn omgee hartjie het? Boonop kan ek mos nie die kind se kos uit sy mond vat nie! Hulle pizzatjies is so groot soos ʼn kleinbortjie en nou-nou is die arme kind nog honger en moet ons vir roomys stop omdat Mamma verjaar.

En so, terwyl ek in die kar sit en broei, loop my gedagtes oor al die jare se gehap na lugborrels by vele restaurante. Daardie keer toe ons ʼn Banana Boat bestel het, maar die kelnerin eers die piesangboom moes gaan plant en kyk hoe dit groei. Ons het ure daar gesit voordat daardie nagereggie op ons tafel beland het.

Wat van die keer toe ons net ʼn eenvoudige ou melkskommeltjie wou drink, maar die koei moes eers gebore en grootgemaak word voordat sy melk kon gee wat in roomys omskep kon word. Ons het net so lank gewag. Dit raak nogal ongemaklik wanneer mens agterkom dat mense wat lank na jou gearriveer het, reeds lekker smul en jy sit soos Piet Pompies droëbek en wag nog steeds.

Wat van die ander keer toe ons rasend honger by ʼn restaurant in ʼn bekende “kunstenaar-dorp” opgedaag het. Daar was net ʼn hoop rys en twee sopbene in die koue bord voor my. So byna het my hare byna vlam gevat het want van hul beloofde bredie was daar niks te siene nie. Omdat die hele dorp op ʼn Sondagmiddag gaan stilstaan, was daar nie ʼn enkele kafee oop om ʼn brood te koop nie. Honger mag ʼn goeie kok wees, maar dit is verseker nie ʼn goeie brandblusser nie.

Of daardie keer toe vriendin haar geroosterde broodjie reeds verorber het en ek nog (on)geduldig gesit en wag het dat myne eendag sal opdaag? So uit die hoek van my oog het ek ook gesien hoe die kelner met ʼn sakkie in die hand oor die pad aangesluip kom. Deesdae is ek nie meer so geduldig nie en het al opgestaan wanneer dit voel asof hulle eers die koring moes gaan plant.

En nou hierdie. Ek wil met trane in my navy blue eyes weet waarom hulle nie gesê het dat al die bestanddele vir daardie gereg nie beskikbaar was nie? En waarom het Dogter so wragtag TWEE pizzas gekry want sy kon kwalik een verorber. Ek was ook nie van plan om een van daardie wild avontuurlike disse te eet nie. En buitendien, ek was in elk geval nie lus vir pizza nie.

Maar terwyl ek so sit en nadink in die warm kar, besef ek dat dit nou seker een van my onontdekte talente moet wees. Hierdie vermoë om hopeloos te dikwels die presiese item op die spyskaart te kies wat nie beskikbaar is nie. Dit is asof my radar ingestel is om daardie een item op te spoor asof dit die enigste dis is wat my honger sal stil.

Is ek nou bewerig-bang om weer agter ʼn openbare plek se tafel in te skuif? Verseker. Maar as ek nou slim is, kan ek hierdie in ʼn inkomste geleentheid omskep – die kliënt kan my gebruik om alles uit te skakel wat nie beskikbaar is nie. Op daardie manier sal niemand tyd mors en hopeloos te lank wag voordat sy kossies dalk opdaag – of nie. Dit is amper soos om ʼn munt in die lug te skiet en te kyk op watter kant dit sal val.

Vandag berei ek liewers self my ete voor en weet sommer dat die helfte van wat ek gaan opdis, ook op my bordjie sal beland. Fluit-fluit, my storie is nou uit.

Ano

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

2.Lekker bredie en dik snye boerbrood

(Woordtelling 478)

Afrikaans is soos ’n bredie – daar is altyd plek vir nog bietjie vleis, groente of speserye. Is dit dan nie oorspronklik ʼn kombuistaal genoem nie? Hierdie eens veragtelike kombuistaal het egter gou-gou in ʼn lekker potjie dik bredie met ʼn geurige sous verander, die vernedering lankal vergete.

Eintlik staan ons moedertaal maar nog in sy tienerjare in vergelyking met Engels en die ander Europese tale. Alhoewel Engels ook deur die eeue ontwikkel en verander het, is verandering net soveel meer sigbaar in ʼn nuwe taal. Die Afrikaans wat mense soos C.J. Langenhoven, Eugéne Marais, Boerneef, Totius en nog vele ander gebruik het, ʼn skrale 100/150 jaar gelede, klink darem baie anders as dit waaraan ons nou aan gewoond is. Maar verandering is selde ʼn slegte ding, of hoe? In die eerste gedrukte weergawe van Die Afrikaanse Patriot wat op 15 Januarie 1876 verskyn het, kan mens duidelik sien dat ons nie meer so praat nie. Die spelling en taalgebruik klink maar woes vreemd.

Meer moderne skrywers soos Audrey Blignault, PG du Plessis, Uys Krige, Dalene Matthee, Jan Spies se stories en soveel ander groot geeste, het elkeen bygedra om ons taal te bevorder en uit te brei. Sonder Afrikaanse radio en -skole sal dit ongelukkig ook weer terugkeer na ʼn dialek wat net in die huis gepraat word, maar ons sal dit sal nooit weer ʼn kombuistaal noem nie. Ons baklei nie verniet so hard dat Afrikaans moet bly staan nie, want as Afrikaans val, is daar ten minste tien ander tale wat ook hul alies moet sien. Ek is jammer, ek hou van regverdigheid en as die minister sy mes in het vir Afrikaans, kan hy maar sy eie moedertaal ook daarby insluit.

Nie net gebruik ons leen-woorde uit ander tale nie, maar die anglisismes is ʼn ongemaklike warm kooltjie in my skoen. Dit knou Afrikaans af en is sommer net lui praatjies. My gesig trek sommer op ʼn mislike plooi wanneer ek geen idee het wat die persoon nou eintlik gesê het nie! Dan eers die Engelse woordeboek nadertrek en met ʼn ompad die woord se betekenis probeer uitvind. Ai man, dit is so onnodig! Het ons taal dan nie genoeg mooi en beskrywende woorde sonder om sulke platvloerse vertalings te maak nie?

Afrikaans mag dalk nie die belangrikste taal in Suid-Afrika wees nie, maar dis verseker ook nie die uitskot nie, al haat party mense dit met ʼn passie. Net soos elke ander taal, het Afrikaans ook sy plek en bestaansreg hier aan die suidpunt van Afrika. Dit hang nou van jou en my af hoe hard ons wil werk om Afrikaans nog lewendig en suiwer te hou. Sonder “ons” (wat maar ʼn handjievol van die totale bevolking uitmaak), sal ons nie meer in Afrikaans kan lag, bid of huil nie. En vra my maar, dis rêrig nie lekker om in Engels te huil nie!

Ano

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

3.My siel, my spirituele woning

My huis is werklik net waar my hart is en nie noodwendig waar my lyf homself bevind nie. En as jou hart gelukkig is, is enige plek op die aardbol reg.

Dit gaan selde oor die meubels of peperduur ornamente wat in ʼn huis rondstaan wat dit ʼn woning, of eerder ‘n tuiste, maak. Daardie woning kan ʼn enkele vertrek in ʼn paleis wees, of die buitekamer in iemand anders se agterplaas. Solank jou hart daar tevrede en gelukkig is, het jy jou woning gevind. Vir sommige sal hierdie plek noodwendig ʼn fisiese plek moet wees, maar wanneer jou kop en hart in lyn is, dan het jy jou woning reeds binne-in jou hart gevind, en dis die plek waar die towenaars hul kuns kan vervolmaak.

Miskien begin dit in jou kinderjare wanneer jou hart intens verlang na daai misterieuse plek-sonder-naam. Jy het geen idee waar dit is nie, maar alles in jou roep om huis toe te gaan. Jy sit saam met jou gesin rondom die etenstafel, maar jy verlang na iets anders. Jy is letterlik omring deur mense, maar bevind jouself geestelik op ʼn eiland van eensaamheid. Jy weet jy word nie verstaan nie, en dat selfs jou gesinslede na jou verwys as “snaaks” of “anders”. Welllll, die samelewing word immers nie verander deur mense wat almal dieselfde dink nie!

Dalk spruit dit eerder uit die wete dat dit maar moeilik is om ’n vierkantige pennetjie in ’n ronde gaatjie te forseer. Oënskynlik was die res van ons ronde-pennetjie-gesin tevrede met hul lot. Of hulle was heeltemal onbewus dat daar ʼn baie, baie groter prentjie is as die een waardeur ons daagliks worstel. Die lewe gaan immers oor baie meer as om elke dag op te staan en ‘n paar uur by die werk te spandeer. Die vaal mannetjie wat die vaal paadjies loop, elke dag tot vervelens toe dieselfde.

Ek sien die eensaamheid in ʼn vriendin se gebrek aan reaksie na haar man se skielike dood. Ek weet haar hart soek nou na daardie tuiste waar sy vermoed hy homself bevind, min wetende dat hy nie so onbereikbaar ver is nie. Haar opvoeding en dit wat ons in die kerk leer, keer haar om verder as net die tasbare te kyk. Vrees vir wat sy nie kan sien nie weerhou haar daarvan om met hom te gesels en selfs sy antwoord te hoor.

Selfs die liewe predikant het maar swaar aan my vrae gesluk en dit saggies doodgepraat. Eers het ek gedink dat hy my nie mooi gehoor het nie, maar wanneer jy vir ʼn tweede keer dieselfde reaksie kry, dan weet jy dat hy eintlik nie weet nie. Daardie EEN persoon wat jy dink dalk ʼn oop Skype-lyn hemel toe sou hê, weet nie waarvan ek praat nie. Of hy was te bang om sy kennis te deel, maar ek vermoed eerder dat my vrae bietjie bo sy vuurmaakplek was. Dit is jammer, want ons lewe is soveel armer wanneer ons onbewustelik met oogklappe rondloop. Tog, jy het ook seker nie die kennis voordat jy dit nie soort van gedwing word om dit te leer nie. Meestal omdat die vrees vir alles onbekend en onsigbaar sedert jou geboorte by jou ingeprent is. Jy word die brandende hel belowe as jy nie glo soos ander voorsê nie, en omdat jou hartjie met vrees bewe en tril, sê jy maar “ja mammie” en hou jouself onnosel.

Hierdie uitmergelende soektog na daardie onbereikbare woning sou uiteindelik dekades lank duur. Dit was altyd net-net buite bereik en niks en niemand kon daardie leemte volkome vul nie. Maar soms neem die lewe jou op ʼn onbeplande reis langs stowwerige paaie en oor vreemde kontinente. Geestelik stap en stap jy, sit nou en dan op ʼn plat klip en bepeins jou omstandighede.

En wanneer jy eendag sat is van al die weghardloop vir jouself, mag jy dalkies in jou moegheid agterkom dat daardie ewig-ontwykende tuiste die presiese plek is waar jy lank gelede begin hardloop het. Dat daardie plek toe al die tyd ʼn gevoel in jou hart was, en nie ʼn PLEK nie. Jy kan elke moontlike uithoek van die aarde fisies besoek, net om niks te vind nie. Die leegheid klou soos ʼn stekelrige neet aan ʼn sagte woltrui. Soms kan ons net nie raaksien wat reg voor ons neus is nie, of soms het mens nodig om eers oor berge en vlaktes te beur voordat jy ontdek dat oos, wes, tuis bes tog die huisie het waarna jy nog altyd gesmag het.

Jy ontdek dat jy in die gesukkel in ʼn moderne spirituele alchemis verander het en onbeplan ʼn innerlike transformasie ondergaan het. Jy ontdek dat jy eers gees en dan liggaam is. Dit is wanneer jy lig kan skyn op al die toegespykerde deure van jou onderbewussyn en nie bang is om uiteindelik daarna te kyk nie. So ʼn aksie op sigself maak jou vry van die opinies en voorskrifte van die wêreld en sy inwoners. Dit maak jou heel. Jy deel nie meer dieselfde vrese as die res nie en jou sienswyses verander radikaal. Die mense rondom jou herken jou nie meer nie, en baie val weg uit jou lewe want julle is skielik nie meer op dieselfde bladsy nie, dalk nie eens meer in dieselfde boek nie. Dit moet net, en dis ʼn natuurlike proses.

(Alchemis : Iemand wat die vermoë het om ‘dinge’ of omstandighede beter maak.)

Ano

Oktober 2022 – Liriese projek

3.Blommelicious
Woordtelling 631

Dis maar moeilik om oor enigiets liries te raak wanneer jy weens die hoë petrol prys tuis moet bly en saans noodgedwonge by kerslig in mekaar se oë sit en staar. Dis nie eintlik om voor te gee dat jy in jou aftreejare skielik ‘n opwelling van romanse ervaar nie, maar veel eerder omdat Eskom vir die soveelste week na mekaar ʼn onophoudelike probleem ervaar. Eers was die kole nat en nou is die diesel op. Intussen maak hulle die kragstasies blykbaar met kinderspeelgoed reg. Sug.

So, wat is dan nuut? Wat is daar wat mens nog enigsins opgewonde kan maak, veral as jy hoor dat Checker-Checkers-net-om-die-hoek te ver is en mens g’n vir elke brood en tjoklit winkel toe kan ry nie. Dan sit ek maar dikbek tuis terwyl ek gefrustreerd op my tande kners. Saans kan mens nog vroeg in die bed gaan kruip, maar bedags (werktyd) is dit niks anders as ‘n frustrasie nie. Maar nou ja, so is die lewe op die oomblik.

Soms het Hubby ‘n harde stamp in die rigting van ‘n uitstappie nodig om hom uit daardie diep groef van tuisbly te lig. “Kom ons gaan kyk of die proteas blom” en in die hardloop gryp ek net vinnig na ‘n waterbottel. Ek is te bang dat indien ek te lank sou draai, die hele “op die ingewing van die oomblik”-onbeplande uitstappie na die maan gaan wees. Carpe diem! Gryp daai oomblik wanneer hy binne bereik kom.

Ai, dit is darem alte lekker om weer buite hierdie vier mure vrygelaat te word en die buitewêreld lyk weer vars en mooi soos op daardie eerste dag. Dit voel asof my longe uitswel en ek haal sommer makliker asem. Die dou op die groen gras, die swaaiende takke in die wind. Ek moet myself net keer om nie langs die pad te parkeer en eers in die veld te gaan stap nie. Dit is darem báie beter as daardie blertsie gras en die twee honger duiwe wat deur die eetkamer se venster sigbaar is. Nou en dan maak die kwikstertjie ook sy verskyning op die vensterbank. Maar die dag wat ek toestemming kry om die sleutel in die aansitter te draai, kom die son sommer twee maal op!

Hier en daar waar die heuwels ‘n onverwagte gaping maak, word die blou-blou van die see sigbaar. My hart klop opgewonde en ek moet myself net knyp om te weet ek droom nie. Die see is nét daar, al sien ons dit maar selde, en die fynbos langs die snelweg maak alles sommer weer reg. Saam met die gesing van die motorbande op die teerpad, kan ek hoor hoe my hartjie sing. Ons draai links en ry stadig al met die kronkelpad tussen die digte bosse deur. Hier en daar loop ons van die plaaslike inwoners raak, almal geklee in kleurvolle tradisionele drag en ‘n staf in die hand. Dit moet ʼn belangrike geleentheid geleentheid wees en dis darem ‘n mooi prentjie om op ‘n lou-warm weeksoggend teë te kom.

En dan die proteas… Ai man, kilometers ver staan dit in volle blom. Dit is niks anders as asemrowend nie. Grotes, kleintjies, geel, rooi, wit, groen, pienk, oop kelke, toe kelke – jy bedink ‘n blom en dit neem vorm aan. Dit is waarlik ‘n lus vir die oog. Strelitzias, fynbos, jy noem ʼn veldblom en dis daar. Ons hou by ‘n tafeltjie stil en sit eers rustig om middagete te geniet. Geen ander plek laat toebroodjies so lekker smaak nie!

Hoeveel armer is ons nie sonder hierdie lieflikheid nie? Ek tel my seëninge een vir een en raak sommer hoendervleis van lekkerkry. So, is daar nog iets om oor liries te raak? Verseker. Soms moet mens net eers verby jou denkbeeldige sifdraad-tronk kyk om dit raak te sien.
Ano

November 2022 – OOP Projek

3.Is Blondie slim of net slinks?

(Woordtelling 1141)

 

Liewe Sharlies Tron,

Genade vroumens! Jy gedra jou darem nou heeltemal te blond, of baie slinks.

Ek weet ons ou Afrikaanse taaltjie word al hoe minder gepraat. Dit is nie net ons gesinne wat nie meer groei nie, die sprekers verengels so saggies en sonder dat ons dit agterkom. Dit bly egter steeds ʼn baie slim manier om die kollig weer op jou krimpende loopbaan te vestig. Voel jou bankrekening dalk bietjie dun? Ons weet almal dat daar niks is wat mens so vinnig in die kollig sit as om ʼn ander in die openbaar te beledig nie, en daar is niks wat mense so vinnig laat saamstaan soos wanneer hul erfgoed bedreig word nie.

Onthou, ek weet waar jy vandaan kom. Ek ken daai ou plaasskooltjie al was ek in die ander skool, net om die hoek. Dalk kyk jy deesdae met minagting op jou nederige begin en dit is jammer, want al daardie moeilike jare en skrikwekkende ondervindings het jou die mens gemaak wat jy vandag is. Jy kan die mooiste ontwerpersklere dra, jou hare by die wêreld se beste haarkapper laat knip, maar jy kan nooit van jou verlede weghardloop nie. Dit is deel van jou bloed, jou hartklop. En ja, Afrikaans is steeds deel van jou DNA, al wil jy jou nederige begin en ander se toekoms so verneder.

Ons het kennis geneem dat jy oor die laaste paar dekades die buitelanders ʼn goeie skoot lelike Afrikaanse vloekwoorde geleer het waarvan sommige my haarwortels aan die brand laat slaan het. Yo! Daar is woorde wat ek nie eens saggies vir myself sal sê nie. Ek kon aanvanklik nie glo dat daar soveel liederlikheid uit so ʼn mooi bekkie kan kom nie. Aan die ander kant, miskien moet mens nie iets beter verwag van ʼn arm maplotter wie se pa haar ma gereeld getimmer het nie. Boonop gebruik jy Afrikaans as jou geliefkoosde skinder-taal. Sies vir jou. Weet jy nie dat mens nooit van ʼn ander moet skinder nie, maak nie saak in watter taal dit mag wees nie. Iemand, iewers… daar sal altyd iemand wees wat jou sal verstaan. Ons leef immers nie elkeen in sy eie afgesonderde lugborrel, ver weg van al die ander nie.

Jy het meer kere op die voorblad van ons plaaslike koerantjie verskyn as wat ek vingers op my twee hande het, en ons dorp se inwoners was trots dat jy daar anderkant die groot water ’n suksesvolle loopbaan vir jouself kon uitkalwe. Is jy bekommerd omdat die plaaslike verslaggewers oënskynlik van jou vergeet het? Jy het immers nou al ou nuus geword. Met dertig Amerikaanse seisoene het jy seker al vergeet dat Benoni se stof baie dieselfde as Los Angeles sʼn lyk, of Parys sʼn, of selfs Indië s’n.

Ek weet ook dat jy steeds Afrikaans praat, al is daar net vier of vyf ander Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners in die Stad van Drome. Gesels bietjie met Arnold Vosloo en hoor wat hy te sê het oor Afrikaans en die Afrikaanse filmbedryf. Jy mag dit dalk oorweeg om weer bietjie na jou Vaderland terug te keer vir ‘n besoek, en krummelpap saam met gebraaide Karoo tjoppies te eet terwyl jy aan ʼn Afrikaanse produksie werk.

Maar hierdie groot stofstorm is toe eintlik nie al waaroor dit gaan nie. Afrikaans IS besig om ʼn bedreigde taal te word. Ek en dogter praat juis onlangs waarom die kleintjies in ʼn Engelse skool is. Al is dit wonderlik dat die kinders ten volle tweetalig is, is dit maar ʼn gevoelige puntjie. Lank gelede, toe Ouboet gebore was, was daar net Engelse kleuterskole in die betrokke dorp, Dus, Ouboet moes teen wil en dank Engels leer. Die arme kind was omtrent deurmekaar – bedags was hy Engels, en saans en oor naweke moes hy in Afrikaans sy behoeftes uitspel. Met Sussa was dit ʼn doelbewuste keuse. Dogter vertel dat toe sy haar opleiding as vlieënier begin het, het sy so byna nie haar eerste eksamens geslaag nie, bloot omdat baie van die woorde iets was wat haar twee ore nog nooit gehoor het nie, wat nog te sê verstaan!. Sy het so half met die woordeboek in die een hand gestudeer. Dit was maar goed moeilik en nou hoop sy om die pad vir haar kinders net ʼn bietjie meer gelyk te maak. My grootste hartseer is dat die kinders uiteindelik tog heeltemal sal verengels en so sal Afrikaans ook stadigaan in ons twee saamgestelde families begin wegval. Dit bly ʼn teer puntjie, maar nou ja, ons doen seker maar wat ons moet doen. Elkeen moet op een of ander manier sy bes doen om in die groter wêreld te oorleef.

En dan die radio. Die AFRIKAANSE radiostasie wat veronderstel is om ʼn voorbeeld te stel. Dit is nie soseer die aanbieders nie, maar die deelnemers van die verskeie programme. Anglisismes is aan die orde van die dag en spesifiek na die afgelope naweek Omgewingspraatjie wou ek my vinger in my keel gaan druk. Die anglisismes het die melk in my koffie sommer na vrot melk laat ruik, want wat de drommel is “predasie” (predator), “predator(e)”, “mimikrie” (nabootsing), “modifiseer” (verander). Ek dog ek het op ‘n ander planeet wakker geword! Genade tog Prof Rialet Pieters, jy het seker in jou haastigheid net ʼn artikel op die internet opgesoek en die ding so in die hardloop probeer vertaal. Kon nie eens ordentlike Afrikaanse woorde uitdink nie! Nee sies man. Vir iemand met ʼn graad agter jou naam praat jy darem alte lelik. Wat leer jy die jongmense in jou klas? Moet hulle ook met ‘n woordeboek in die een hand sit om te verstaan wat jy nou eintlik probeer sê?

Maar ja, dit is dan ook ʼn werklikheid dat ons Engels en Afrikaans lekker vermeng. Soms klink dit na ʼn verlepte mengelslaai en meeste mense laat dit saggies verbygaan. Daar is soveel woorde wat ons oor en weer gebruik, dat niemand eintlik meer ʼn oog knip nie. Ekself is ook maar lekker skuldig daaraan. Soms kan mens bloot net nie vinnig genoeg aan die regte woord dink nie, en ander kere is daar net nie ʼn goeie beskrywende woord nie – al sê die taalkundiges dat daar tientalle woorde is wat perfek sal pas. Selfs die rekenaar se woordeboek gooi my soms toe met ander voorstelle, terwyl ek net wil gebruik wat ek wil gebruik! Basta met so korrek wees dat dit lyk asof jy ʼn laaistok van die verkeerde kant af ingesluk het.

Net, hierdie oor-en-weer leen van woorde is nie anglisismes nie – ʼn woord wat soos ʼn half-nommer iewers probeer inpas nie. Anglisismes is sommer net lui. Te slim om die woordeboek te gebruik en wragtag te dom om te weet hoe stupid jy nou klink!

Dit hang seker af deur watter lens mens na Afrikaans se voortbestaan kyk. Viva Afrikaans.

Ano

Desember 2022 – Samesyn projek

3.Elke diertjie soek sy plesiertjie

(Woordtelling 832)

Om in ʼn kompleks te woon kan die heerlikste gevoel van samesyn skep, of dit kan te vinnig in die grootste nagmerrie ontaard. Hierdie gevoel van tevredenheid hang grootliks af watter buurman sy intrek langs jou neem en of julle tweetjies se gewoontes ooreenstem. Indien dit bietjie krapperig gaan, is daar natuurlik geen sprake van ʼn lekker hier-is-ons-deel-van-ʼn-groter-familie nie.

En so is dit dan ook baie hartseer wanneer mens twee keer bly raak oor ʼn ander se teenwoordigheid, eerste keer wanneer jy hulle ontmoet, en dan weer as hulle hul goedjies pak en hopelik die land verlaat. Laat iemand anders daar doer ver met hul lawaai regkom, want hier is dit erger as om ʼn turksvy ongeskil af te sluk.

Dit het ʼn jaar gelede begin toe die nuwe bure ons met hul middernagtelike, romantiese onderonsies begin vermaak het. Ons weet maar almal dat daar intieme oomblikke tussen man en vrou sal wees, maar ons hoef dit darem seker nie uit te saai vir almal om te hoor nie! Elfuur, twaalfuur, twee uur, selfs vier uur word jy deur daardie gille van plesier wakker geskree. Goeiste genade, slaap die mense dan nooit? Maar dit was veral wanneer die kat weg was, wat die muis haar twee man-maatjies oorgenooi het vir ʼn lekker plesierige partytjie. Almal binne hoorafstand word onwillekeurig daarby betrek en ek kan byna sweer ons slaapkamervensters wasem van die buitekant af toe – en dit het niks te doen met die winter nie. ʼn Voorstel dat hierdie loskop dolla en haar maatjies hul luidrugtige maniere moet terugneem waarvandaan dit gekom het, was toe ook nie so goed ontvang nie.

Boonop is hul motorhuis ook direk langs ons slaapkamer en dit was nogal ʼn probleem wanneer hulle tydig en ontydig iewers tussen middernag en vier uur soggens terugkeer huis toe – dikwels reeds goed gepreserveer. Dan vibreer die lug soos die motordeure toegedon…, ekskuus, toegeklap word. En mooipraat het ook nie gehelp nie. Die reguit versoek dat hulle asb. hul slápende bure sal respekteer, lok die teenoorgestelde reaksie uit, en daarna het ons behoorlik deurgeloop.

Jittetjie tog, dat sommige mense so vokaal en luidrugtig kan wees! Partymaal het die son nog nie eens sy kop oor die horison gesteek nie, dan breek daar al ʼn geveg onder die vryende bure uit. Dan word die klappende deure nie beperk tot die motor nie, maar die huis se binnedeure het alle kosyne laat vibreer van skok. En dit is nie net een of twee keer se toeslaan en dan is alles oor en verby nie! In my verbeelding kon ek sien hoe hulle weerskante van dieselfde deur staan en mekaar beurte gee om dit met mening toe te klap. Dit is verseker mense wat met oorgawe leef en vry, of baklei. Dat hulle nog nooit geleer het om soos beskaafde mense in stilte te baklei nie, is ook duidelik. Jy weet, daardie stywe trek op jou gesig, ruggie reguit asof jy ʼn laaistok ingesluk het, rollende oë, lippies maar lekker dun getrek, en niemand praat ʼn woord nie. Die wonderlike stilstuipe waaruit niemand eens ‘n ordentlike oplossing kry nie. Dit is nou nie eintlik ʼn gesonder manier om jou geskille op te los nie, maar darem weet die bure nie van elke vuurwarm onderonsie nie.

Dit was eers toe ek vir hulle so wragtag uit die diepte van my hart jammer gekry het, dat ek besef het die koeël nou finaal deur die kerk is. Mens kan ook nie vir iemand meegevoel hê en ook kwaad raak vir hul kinderagtige stuitigheid nie. Die jammerte het meer gegaan omdat hulle nog moet grootword, en op die oog af gaan dit ʼn baie moeisame pad wees. As mens darem al jou dertigste verjaardag sien naderkom en jy tree nog soos ʼn onvolwasse student op, dan weet jy die pad gaan lank en moeilik wees.

En so val ek toe weer een nag uit die bed van pure skrik. Dit is pas twaalfuur en die bure kom nie tot rus nie. So lê ek dan ook en luister hoe hulle nie net die motordeure toeklap en gaan slaap nie, maar aanhoudend oop en toemaak, oop en toe. Dan ry hulle iewers heen en vyf minute later herhaal die hele storietjie homself. Teen drie uur die oggend is alles uiteindelik stil. Nou is daar net een of twee ure se slaaptyd voordat ek vir werk moet aanmeld.

My ogies is is maar dik geswel van die min slaap, maar ek kon sien dat die bure se huis dolleeg is. Nie ʼn enkele gordyn in sig nie. Die opkomende son verlig die vertrekke soos ek dit nog nooit gesien het nie. Net skelms trek in die middel van die nag, maar skynbaar skreeubekke ook. Dalk het hulle geweet dat die bure baie openlik bly sal wees wanneer die sweer in die klein gemeenskap uiteindelik verkas.

En vir die res van ons, nou kan ons weer terugkeer na ons vroeëre gevoel van saambindende vriendskap en samesyn – sonder die lastige kinders.

Ano

 

Maart 2023 – OOP projek

1.Integriteit, meer as net eerlikheid

(Woordtelling : 723)

 

Integriteit: “Integrity is the practice of being honest and showing a consistent and uncompromising adherence to strong moral and ethical principles and values. In ethics, integrity is regarded as the honesty and truthfulness or accuracy of one’s actions.” Wikipedia

Dit wil voorkom asof hierdie ʼn karaktereienskap is wat aan die uitsterf is. Jy kan nie sommer-maar-net aanvaar dat die belofte om iets te doen, noodwendig beteken dat dit gaan gebeur nie. Dit is asof mense se woord lankal nie meer hul eer is nie. Wanneer iemand eerlik is dat hulle openlik leuens vertel, kan jy nie anders as om te wonder oor watter reëls ook in die stilligheid ook oortree word nie.

Mense met integriteit is eerlik. Hulle is opreg en as hulle iets sê, kan jy maar weet hulle bedoel dit. Hulle sê nie mooi dinge voor jou om jou gelukkig te laat voel, maar skinder agter jou rug nie. Hulle maak nie ʼn gewoonte daarvan om ander te misbruik nie, en sal eerder iemand opbou as om af te kraak.

Mense met integriteit het waardering vir ander en respek vir sy medemens se tyd. ʼn Persoon wat kronies laat vir afsprake opdaag, is werklik baie onbedagsaam en dit vloei ook oor na ander areas van hul persoonlikheid. As jy nie betyds vir ʼn eenvoudige koffie afspraak kan opdaag nie, hoe moet jy vertrou word om groter beloftes na te kom? Dit is werklik moeilik om te alle tye op so ʼn persoon staat te maak.

Mense met integriteit doen die regte ding, al is daar niemand om dit raak te sien nie. Hulle stop by die 4-rigting stop, al is daar geen ander motors nie. Hulle ry nie oor ʼn rooi verkeerslig net omdat daar nie ander verkeer is nie. Die regte ding om te doen is om die reëls na te kom, al lis dit ongeleë. Reëls is nie gemaak om gebreek te word nie, maar om almal in sekere omstandighede so veilig as moontlik te hou.

Dit wil voorkom asof betroubaarheid en eerlikheid al hoe dunner gesaai word. Jy moet die hele tyd op jou hoede wees om nie deur ander se skelmstreke en bedrog gevang te word nie. Jy is versigtig om op skakels in jou e-posse en SMS’e te klik. Jy val nie oor jou voete wanneer iemand vertel dat jy die gelukkige erfgenaam van ʼn paar goue munte en ʼn landgoed in Italië is nie. Jy moet jou hardverdiende geldjies maar versigtig belê, selfs al was daardie leuen tydens ʼn program op ʼn gewilde radiostasie verkondig.

Eintlik bring hierdie gebrek aan totale deursigtigheid en eerlikheid ook die res van die samelewing onder verdenking. Dit is moeilik om die hele tyd op jou hoede te wees en die hele tyd ʼn skelmstreek te verwag. Selfs vriende kan die wolf in skaapklere wees wat jou met mooi praatjies in ʼn kan-nie-waar-wees-belegging in praat.

As jy jou inkomstebelastingvorm invul, en nie heeltemal die waarheid praat nie, is jy ʼn leuenaar. As jy iets van wat aan ʼn ander behoort, is jy ʼn dief. Daar is nie iets soos “bietjie swanger wees nie”, en daar is ook nie iets soos ʼn klein leuen of klein diefstal nie. Bedrog is bedrog – klein of groot, uit nood gepleeg of nie.

Nie eens die kerk is gevrywaar nie. Hoeveel “wonderlike” Christene ken ons nie, net om agter te kom dat daar maar ʼn hele paar wolwe hul tande sit en slyp en op loer is na goedgelowiges. Wanneer jy die hele tyd moet hoor dat hulle nét Radio Kansel luister, maar volgende week word jy gebel en uitgevloek asof dit die laaste dag op aarde is. Dit laat nogal die skille van jou oë val.

Die parlement se stoele word warm geslaap deur leuenaars, bedrieërs, diewe en moontlik ook moordenaars. Van integriteit en eerlikheid is daar min sprake en dit blyk asof oneerlikheid beloon word en diegene wat dit aan die lig bring, se lewe in gevaar is.

Maar slim van sy baas, en die wiel draai. Doen maar jou ding in die donker waar jy dink niemand sien jou nie, maar weet net een ding, niks wat in die donker gebeur blý in die donker nie. Dit word altyd deur iemand raakgesien en die waarheid het altyd die laaste woord. Elke hond kry sy dag, maar ʼn brak kry sommer ʼn naweek.

 

Ano

 

April 2023 – KLUG projek

2.Vader Kersfees noodlottig gewond, die skuldiges op vrye voet

(Woordtelling 992)

 

Agge nee!! Dit kan net nie waar wees nie! Is jy ernstig dat Kersvader net ʼn storie is? ʼn Klug? Dat hy dat glad nie bestaan nie? My hart pyn nou sommer van stres en skok. Hoe kan dit waar wees? En al hierdie jare het ek gedink… Ai, toggie tog.

Maar die feit van die saak is dat Ano nie in ʼn huis opgegroei het waar feëverhale ooit vertel was nie. Stories oor Vader Kersfees of die Tandemuis het nooit oor my ouers se lippe gekom nie. Daarvoor was hulle heeltemal te prim en propper en sou hul nooit in der ewigheid waag om so ʼn gruwelike leuen te vertel nie. Inteendeel, die Bybelse Kersverhaal was elke jaar oor en oor by my ingedril en is daar seker gemaak dat ek nie dalk per ongeluk sou waag om op die aand van 24 Desember droomverlore by die venster uit staar, wagtend op die nie-bestaande Kersvader wat ʼn geskenk onder ons nie-bestaande kersboom sou laat nie. Inteendeel, my ouers het so ʼn hekel aan die wêreldse Kersfees gehad, daar was nooit geskenke nie. Hulle het van die groot vreugde gepreek en van Jesus wat die werklike geskenk is, maar ek kan ook nie onthou of daar enigsins spontane vreugde gedurende hierdie feesseisoen tussen die baksteenmure van 13e Laan nr. 51 was nie.

My kinderjare was dus deurtrek met harde vermanings oor al my sondes wat deur God raakgesien word. Wegkruipplek was daar nie, en die wêreldse plesiertjies van vermaak was nie aangemoedig nie.

My onversadigbare lus vir feëverhale en ander stories moes maar met die hulp van ons Skatkis boekversameling geblus word. Die senior reeks met verhale van Griekse gode en meerminne sou eers heelwat later ontdek word en dit het ek maar skelmpies gelees waar Ma my nie kon sien nie.

Of mens hierdie stories nou vreeslik ernstig opneem en heelhartig aan Vader Kersfees of enige ander fantasie karakter glo, maak seker nie baie saak nie. Wat van groter belang is, is die feit dat die oordra van feëverhale ʼn onmiskenbare bydrae maak tot ʼn kind se algehele ontwikkeling en broodnodige verbeelding. Jy leer hoe om in prentjies te dink eerder as om dit deur middel van ʼn TV skerm gevoer te word. Dit skep ʼn wonderwêreld waar die kind kan droom en vry wees van die druk van skool- en ouers se verwagtinge. Boonop het elke fantasieverhaal ʼn klein lessie in. Dit leer ook die kind dat hy situasies kan oorkom, hy leer om in homself te glo.

Hopelik maak dit die kind opgewonde om ook self te lees, en vir skrywers is dit baie belangrik om ook lesers te wees. Droewige boeke met droë lewenslesse in maak niemand opgewonde om die boek herhaaldelik oop te slaan en die woorde te verslind nie.

Fantasie leer die kind om verby die opsigtelike te kyk. Om met ander oë na die lewe te kyk en miskien ook om minder met jou brein, maar meer met jou hart te sien. Wie hou nie van ʼn muis wat kan praat, of kabouters wat blommetjies verf nie? Of selfs takbokke wat een aand van die jaar deur die lug kloof en ʼn spoor van flikkerende sterre agterlaat nie?

Hier leer jy van reg en verkeerd, van mededeelsaamheid, van gevolge van jou dade. Dit is makliker om ʼn kind deur middel van stories te leer as om die hele tyd ʼn droewige preek af te steek. Daardie preek gaan in elk geval net by een oor in en die ander een uit en die natuur het die mens so gemaak dat jou ore soms genadiglik bot toe slaan! Wanneer daardie selfde les met ʼn interessante wolhaarstorie vertel word, sal jy beter aandag gee. Kyk maar net hoe verslind my liewe suster die twak wat soms aan haar opgedis word. Ons kort net nog een spekvark wat kan vlieg, dan het ons albei alles gehoor.

Baie feëverhale is egter deurtrek met bangmaak stories. Vader Kersfees gaan mos vir jou ʼn stuk steenkool bring as jy deur die jaar stout was. Dink maar aan die wolf wat vir ouma kon insluk en nog die teenwoordigheid van gees gehad het om vir Rooikappie ook te verlei. Hierdie verhale leer dus ook ʼn kind om sy vrese in die oë te kyk. In elke storie is daar ʼn subtiele boodskap dat goed tog uiteindelik die kwaad oorwin. Die vertel van stories skep gewoonlik ook die gevoel van samehorigheid en dis ʼn herinnering wat vir ewig by jou bly. Dit is soos ʼn sagte trooskombersie op ʼn koue wintersaand.

As mens nie ʼn kind se natuurlike kreatiwiteit en verbeelding doelbewus aanwakker nie, is dit gewoonlik teen die ouderdom van 8 jaar tot niet. Mense sonder verbeelding kan nie skryf nie, en gaan ons skrywersgemeenskap eendag ook tot niet gaan net omdat ons nie meer kreatief kan dink nie? Jy kan nie ʼn storie uitdink as jy nooit na (onwaar) stories geluister het nie.

Gló ek dat Peter Pan kan vlieg, of wanneer jy ʼn grillerige padda soen hy in ʼn oulike prins gaan verander? Of dat Vader Kersfees, natgesweet in sy rooi fluweel broek en -baadjie, op ʼn warm someraand in ons niebestaande skoorsteen gaan afgly? Wel, nie eintlik nie, maar bring ʼn bietjie fantasie nie tog ʼn klein bietjie towerkuns in ons lewens nie? En is dit nie uiteindelik ook maar die doel van die vertel van enige storie nie, om net daardie klein bietjie blink-oog-afwagting in ons kinders aan te wakker nie? Een of ander tyd vind ons almal uit dat dit net ʼn storie is, maar dis tog lekker om nou en dan net so ʼn klein bietjie aan die onmoontlike glo.

Jingle bells, jingle bells…. My tone krul sommer om van irritasie, maar nou ja, die drome van ʼn jong Kersvader wat op ʼn wit perd in die maanlig deur die vlak branders galop, is laf en lewendig. Mag hierdie fantasieë vir nog baie geslagte oorvertel word.

Ano

 

Augustus 2023 – Musiek projek

2.Ozzy, Rocco of Strauss?

(Woordtelling : 836)

 

Musiek kan my soms tot trane dryf – letterlik. Of dit altyd goeie trane is, is debatteerbaar, want party genres het die vermoë om my moer-knoppie deeglik blink te vryf. Die eentonigheid van Rap is so … ugh. Maar ons noem dit musiek, en soms selfs Afrikaans! Grrr.

Wanneer dit klink asof die sanger se groottoon met ʼn 10-ton hamer vergruis word, is irritasie gewoonlik die enigste emosie wat byna onmiddelik volg. Ek val byna oor my voete om die radio se skakelaar by te kom en die ding se bek vir ‘n uur of twee stil te maak. Dit is ongelukkig so dat alle musiek nie in almal se smaak val nie en mens het nie juis beheer oor die keuses wat die omroeper maak nie.

Almal het seker al agtergekom dat vrolike musiek help dat kopers meer spandeer, ‘n vinnige tempo restaurant besoekers meer en vinniger laat eet, en dat stadige, hartseer musiek jou aan ‘n begrafnis laat dink of jou ‘n verlange kan laat voel vir ‘n plek waar jy nog nooit was nie, selfs na mense verlang wat jy nog nooit ontmoet het nie. (Eintlik verlang jy net na jouself, maar kan dit selde in woorde uitdruk.)

Sommige sangers weet bloot net nie hoe om te sing sonder om te skree nie. Of om dieselfde twee reëls ‘n honderd maal te herhaal nie. Dit klink ook asof die moderne kunstenaar eintlik in ‘n opsigtelike toestand van breindood probeer oorleef en nie meer sinvolle lirieke kan skryf nie, anders sou hulle nie dieselfde drie woorde tot vervelens toe herhaal het nie. Dit blyk dat met die koms van ons tegnologiese eeu, ons kreatiwiteit ongelukkig ook daaronder gelei het.

Instrumentale musiek pas my dus soos ‘n fyn, kant-handskoentjie. Ek kan in vrede op iets anders konsentreer én musiek luister! Soos om te lees terwyl die radio steeds saggies in die agtergrond speel, want wanneer daar lirieke is, kan g’n mens op ‘n boek of blokkiesraaisel konsentreer nie! Instrumentale musiek maak my rustig. Dit veroorsaak nie dat my hart 100 km/h uit my borskas wil uitbars nie. Ek hap immers nie na ‘n onskuldige bystander wanneer my hartklop teen ‘n rustige pas voortdraf nie. Dit het nie net ‘n kalmerende invloed op my gemoed nie, maar ontspan sommer my lyf ook. Ek voel gelukkig en gemaklik.

Maak nie saak hoe ander oor hul musiek voorkeur voel nie, ek is bloot gelukkiger wanneer ek nié na ‘n geskree hoef te luister nie. Ek het nie nodig om die volume so hard te draai dat dit as tydelike ontvlugting van my gedagtes en emosies moet instaan nie. Ek hou van die gedagtes wat deur my kop dryf en het nie nodig om dit dood te skree nie! Die natuur se musiek is natuurlik nog beter as ons mens-gemaakte pogings. Kabbelende water, voëlsang, die wind in die bome. Beter musiek is daar net nie, al moet jy soms na die buitewyke van die dorp ry om weg te kom van motors se getoeter en die bure se bulderende partytjies.

Die enigste musiek waarna my pa ooit geluister het, was die psalms en gesange tydens Sondag se kerkdiens. Hy was oor die algemeen maar ‘n knorrige man, veral in sy latere jare. Was sy gemoedstoestand te wyte aan die gebrek aan musiek in sy lewe of iets heeltemal anders?

Ousus het dikwels dawerende musiek gespeel om haar “in the mood” te kry. Ek kon nooit agterkom wat daardie bui eintlik veronderstel was om te wees nie, maar dit was verseker nie dieselfde een as mýne nie. En buitendien, haar musieksmaak het teen dieselfde tempo verander soos die verskeidenheid mans in-en-uit haar lewe stofpad-draaie gegooi het.

Wanneer laas het ek ʼn troue bygewoon en kon net heerlik met die lang-verlore familielede kuier? Die platejoggie wil almal ook graag “in the mood” kry, en dit werk selfs vir my, al is daardie bui nie iets is waarmee mens graag partytjie wil hou nie. Teen die einde van die aand (waarvoor ek in elk geval nooit teenwoordig is nie), is mens se stem al hees geskree. Dan sit julle net skaapagtig vir mekaar en loer deur die té hoë blommerangskikking terwyl jy jou smaaklike poeding met klein happies verorber.

Dit is jammer dat skootrekenaars nie meer ‘n ingeboude CD-speler het nie, want ek moet erken dat dit iets is wat ek mis, om na rustige musiek te luister terwyl my vingers woorde op die sleutelbord spel. Ag nee wat, ek praat nou eintlik sommer net twak. Om eerlik te wees, ek hou eintlik baie meer van die geluid van stilte terwyl ek by die rekenaar besig is, en soms Johann Strauss vêr, vêr in die agtergrond.

Miskien is ek net doodgewoon oud gebore. Ek verlang terug na daardie dae toe lirieke nog sin gemaak het en die kunstenaars liefs stilgebly het as om hul stembande tot die uiterste toe te toets. Ja wat, vanaand gaan ek na Rocco de Villiers se manewales op die verhoog kyk. Wat ʼn heerlikheid.

 

Ano

 

Oktober 2023 – KORT projek

2.Klein mensies, groot uitdagings

(Woordtelling : 396)

 

Sneeuwitjie en haar sewe dwergies was seker die eerste keer wat ek bewus geword het dat daar besonderse klein mensies iewers in die samelewing versteek is. Behalwe dat hulle besonders klein van statuur is, het nie almal ‘n opsigtelike gebrek nie en die oorgrote meerderheid is verstandelik heeltemal normal. Die rede waarom ons so min van hulle sien is omdat die meeste verkies om ‘n stil en afgesonderde lewe te lei, weg van die nuuskierige oë van die samelewing. Dit moet moeilik wees wanneer mense jou oop en bloot aanstaar, of graag aan jou wil vat, net omdat jy ’n miniatuur mensie is en anders as die gemiddelde persoon lyk.

Afshin Esmaeil Ghaderzadeh van Iran is as volwasse man kwalik groter as ‘n groterige pop, met ‘n lengte van ‘n tweejarige kind (65.25cm). Hy weeg ‘n skrale 6.5kg. Dit moet uiters frustrerend wees om ’n volwasse man te wees, maar soos ‘n baba lyk. Met sy intelligensie skort daar duidelik niks, al kan hy eintlik nie lees of skryf nie. Die uitdagings om saam met normale kinders skool toe te gaan was bloot net te groot en hy het eers onlangs geleer hoe om sy naam te skryf. Hy hou wel daarvan om met sy vriende op Facebook te kommunikeer.

Deernis en respek is iets wat nie noodwendig na hul kant kom nie en baie mense tree soms onnadenkend en baie onsensitief teenoor hulle op. Dit is ‘n growwe wanopvatting dat wanneer ‘n iemand anders as jy lyk, die persoon outomaties verstandelik gestremd is. Of dit nou gebore is uit swak maniere of net deur oningelig te wees, het die deursnee mens dikwels hopeloos te min begrip dat álmal graag met respek behandel wil word, ongeag wie en wat jy is.

Die uitdagings wat sulke klein mensies in die gesig staar is dat hulle moeilik aanpas in ‘n wêreld wat duidelik nie voorsiening maak vir buitengewone mense nie. Om onafhanklik te wees, op hul eie te woon, ’n motor te bestuur, of selfs net ’n passasier te wees in ’n gewone motor, is reuse uitdagings. Die gemiddelde mens sukkel om werk te kry, maar dit is bykans ’n onmoontlike saak vir hierdie klein mensies. Die meeste is dus afhanklik van ‘n staatspensioen (te min om van te leef) en openbare vervoer wat kwalik bestaan – in Suid-Afrika in elk geval en moet staatmaak op familie vir ondersteuning.

 

Ano

 

November 2023 – OOP projek

2.Ongehoorsame grootouers

(Woordtelling 1052)

 

NORMAALWEG sal mens mos nie in ’n ander se huis instap en sy kaste na jou voorkeur herrangskik nie, of hoe? So, waarom dink party mense dat dit okei is om openlik in ’n ander se lewe in te meng totdat dit daardie ander persoon tot die rand van waansin dryf? Wanneer raak jy so ʼn gemaklike beheervraat dat jy dink álmal moet na jou pype dans en dat grense nie vir jou geld nie?

Die feit dat jou kind van jou liggaam gekom het, beteken nie dat hy/sy tot in lengte van dae aan jou ondergeskik is nie. En, dat jou kind nog steeds ʼn “kind” is, al het sy reeds veertig verjaardagkersies doodgeblaas. As julle nie wedersydse respek het nie, hoort julle eintlik nie in mekaar se lewens nie want daar kom ʼn tyd wat jou kind nie meer dink en optree soos ʼn kind nie. Dit mag ʼn verrassing wees, maar jy het nie noodwendig meer wysheid net omdat jy meer jare op jou kerfstok het nie.

Of ons dit nou wil weet of nie, elke geslag maak sy kinders anders groot as die vorige. Elke geslag het unieke uitdagings en moet noodgedwonge daarby aanpas. Dit is normaal en dit is reg. Ek kan nie verwag dat my kinders dieselfde foute met hulle kinders maak, net omdat ek dink mý manier was so wonderlik nie. Wie wil in elk geval hul kinders opvoed met idees wat ʼn honderd jaar gelede gegeld het? Tye het verander, óns het verander, en dit is belangrik om aan te pas by veranderende tye en denkwyses. Jy kan nie vandag se kinders in ʼn tegnologiese wêreld grootmaak op die manier wat vyftig of sewentig jaar gelede gewerk het nie.

Dit maak nie saak of jy die wonderlikste verhouding met jou ouers of skoonouers het nie, ferm grense is altyd nodig sodat julle nie mekaar se emosionele deurdrumpel tot flarde trap nie. Dit is nodig om respek te hê vir ander se huisreëls en dat ander se keuses nie onder ʼn vergrootglas beskou en gekritiseer sal word nie. Dit beteken nie dat daar ʼn toksiese element in jul verhouding bestaan nie, maar eerder dat almal weet waar hulle met mekaar staan en wat toelaatbaar is of nie.

ʼn Goeie verhouding tussen die twee volwasse geslagte is ʼn baie belangrike hoeksteen vir die verhouding met jou kleinkinders. Dit is nié toelaatbaar dat die grootouers agter hul kinders se rug moeilikheid maak en dan voorgee dat botter nie in hul mond kan smelt nie. As mamma gesê het Jannie mag nie ʼn sak toffies ʼn uur voor aandete verorber nie, is dit nie ouma se plek om dit te bevraagteken nie. Erger nog, ʼn uur voor aandete die sak toffies aan Jannie te gee en hom aan te sê om nie vir mamma te vertel nie!

As Jannie se ooms en tannies net hamburgers en vetterige slap aartappelskyfies gekry het om te eet en vandag min of meer gesond lyk, beteken dit nie dat jy nou maar kan sug en jou oë dakwaarts rol wanneer mamma vir Jannie leer om ʼn verskeidenheid groente eet nie. Sy is nie besig om die kind te straf nie, sy is besig om ʼn grootmens met gesonde eetgewoontes op te voed! Dit is jou plig om haar daarin te ondersteun, nie om ʼn klip op elke moontlike hoek en draai in te rol nie.

Die enigste tyd wanneer jy mag inmeng is wanneer daar mishandeling plaasvind. Anders, laat jou kind toe om ʼn grootmens te wees en haar kinders na die beste van haar vermoë groot te maak.

So, waarom kry mens sulke hardkoppige, kinderagtige, moeilike mense wat nie by hul kinders se wense kan hou nie? Waarom laat jy alles toe wat mamma sê nie toelaatbaar is nie? As die ses jarige Jannie toegelaat word om ʼn rolprent te kyk met ʼn ouderdomsbeperking van 13, wat het jy nou eintlik daardeur bereik? Dat jy in jou grootheidswaan dink jy is baie belangrik en dat reëls nie vir jou geld nie? Enigeen se brein gaan vlamvat in so ʼn situasie, veral wanneer grense byna daagliks oorgesteek word.

Wanneer jy weet dat jou wense nie gerespekteer word nie, het jy nie rus vir jou siel terwyl die kleuters ʼn paar uur by Oupa en Ouma deurbring nie. Jy weet nie of die kinders vanaand hul kos sal eet nie, en of hulle dalk vannag deur nagmerries geteister gaan word nie.

Wanneer almal op dieselfde golflengte is, is daar ʼn gevoel van harmonie wat samesyn ʼn absolute plesier maak. Outomaties skep dit ook ʼn veilige atmosfeer en omgewing vir die kinders, wat natuurlik deeglik van enige onderstroming bewus is. Kinders wat veilig voel, het oor die algemeen ʼn beter lewe. Hulle waag meer kanse en kom minder in opstand teenoor gesag, en hulle speel nie die een persoon teen die ander een af nie.

Watter grootouer wil nie hê dat hul kleinkinders moet floreer nie en oulike grootmense word nie? Mense wat heeltyd teen ander se (gesonde) grense terugdruk, leer ook daardie kleintjies dat dit okei is om nie respek vir ander te hê nie. Is dit werklik wat ons vir die volgende geslag wil leer? Is so ʼn persoon onbewustelik besig om ʼn narsis groot te maak en watter regdenkende, gebalanseerde persoon wil dit vir ʼn ander hê?

Grootouers is daar om die kinders te geniet op ʼn manier wat dalk vroeër jare nie moontlik was nie. Dalk moes hulle werk om liggaam en siel aanmekaar te hou, en die tyd saam met jou kinders was min. Om ʼn grootouer te wees beteken nie dat jy jou kleinkinders in die afgrond in mag bederf deur mamma se wense op elke hoek en draai te dwarsboom nie. Daar is geen liefde en wysheid in so ʼn dwarstrekkerige, vermakerige, oumens nie. Inteendeel, dit breek verhoudings af in plaas daarvan om die bande sterker te maak.

Dit is alreeds moeilik vir enigeen om gesonde grense met hul ouers af te dwing, daarom is dit onwys om dit moeiliker te maak, al is dit onwetend. As iemand reguit vir jou sê, kan jy nie maak asof jy dit nie gehoor het nie. Word groot man! Los die kinderagtige gedrag vir die klein kinders en gedra jou soos ʼn verantwoordelike grootmens. Is dit nou te veel gevra??

 

Ano

 

Desember 2023- Veldslag projek

2.En soms is daar nie woorde nie

(Woordtelling : 400)

 

Daar was so baie persoonlike veldslae. Party het net dekades langer as ander geneem om ten volle verstaan te word, en voordat die ou wonde kon genees. Tog, as ek nou terugkyk, het elke letsel ʼn verhaal om te vertel. Deur hierdie ondervindinge het ek geleer en gegroei.

Natuurlik sou ek verkies het as my hele lewe met geurige pienk rosies besaai was, maar wanneer daar groot berge in jou pad gerol word, het jy nie ʼn keuse as om op een of ander manier ʼn pad daardeur te kalwe nie. Jy kan jouself nie blind hou nie, saggies aan die kant verbyglip, bo-oor of onder deur kruip nie. Die enigste manier om jou hart weer heel te kry is regdeur die middel van die pyn. Swem Sannie, swem! Soms verdrink jy so ʼn bietjie, of klou verbete vas aan ʼn stuk drywende hout, maar opgee mag jy nie. Jou storie is immers nie verby voordat jy nie jou laaste asem uitgeblaas het nie.

Die grootste veldslag wat my hele lewe in ʼn oogwink verpletter en verander het, was die dood van my jong-volwasse seun. Mens, daar was geen herkenbare stukkies van my oor nie. Dit is ʼn ding wat jou laat oop bars soos wanneer ʼn olifant wat op ʼn mier trap. Nie eens ʼn nat kolletjie vir DNA het oorgebly nie.

Máánde lank het hierdie lyf asem gehaal, maar het nie gelewe nie. Dit was ʼn wilsbesluit, eers met die kop en toe met die hart, wat stadig en versigtig die begin van ʼn nuwe bestaan uitgestippel het. Die woorde van die rouberader was, “ʼn ouer kom nooit oor die dood van sy kind nie”, en my eerste gedagte was dat hy nog nie vir Ano ken nie. Mammie het my hoeka moedswillig en ʼn moeilikheidmaker genoem, daarom wou ek terugbaklei en wys dat mens nie net bly lê net omdat ʼn ander so sê nie. Veral as hulle nog nie self deur so iets moes werk nie, hul lewe van vooraf herbou nie.

Die wiel van die lewe draai maar stadig, en die lewe het met rukke en stote terug gegroei. Eers in sekondes, later kon ek dit vir ʼn dag lank vashou. Nóg later kon ek ander daardeur begin help. En ja, vandag is ek dankbaar vir die lewenslesse wat ek in daardie donker jare geleer het, al sou ek eintlik ʼn ander storie verkies het.

 

Ano

 

MAART 2024 – OOP PROJEK

1.Resep vir geluk

(Woordtelling : 1166)

 

5 fyngemaalde naeltjies

‘n Knypie vars gerasperde vrywillige diens

1 opgehoopte lepel bewustheid

2 stingels groei-ingesteldheid

‘n Koppie liefde

1 Eetlepel lag

Meng als saam en bêre in ‘n lugdigte houer. Neem daagliks een teelepel van die mengsel sodra jy wakker word.

 

Dit is so maklik om gelukkig te wees, maar dit is ook nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie. Viktor Frankl, die wêreldbekende sielkundige, skrywer, en holocaust-oorlewende, het gesê: “Die groot vraag na die sin van die lewe is nie watter sin dit vir my bied nie, maar watter sin ek daaraan kan gee.”

Om ‘n onuitputbare bron van geluk in jouself te kweek en in stand te hou, is daar verseker ‘n paar voorskrifte.

Vind vreugde in jou werk. Dit moet nie net ‘n plek wees waarheen jy jouself jaar in en jaar uit, sleep nie, en net van die een naweek na die volgende oorleef nie. As jou werk jou nie gelukkig maak nie, soek iets anders, en as dit nie moontlik is nie, probeer jou fokus en ingesteldheid daaromtrent te verander.

Goeie verhoudings met familie en vriende is belangrik, maar jou eerste verhouding is met jouself. Koester die mense in jou lewe maar moet nie van enigiemand anders verwag om jou gelukkig te maak nie. Hou jou verwagtinge van ander laag en jou grense hoog, maar sonder om ‘n muur te bou. Hou diegene wat jou verniel uit jou lewe en behou diegene wat jou opbou en ondersteun.

Kyk na jou geestelike gesondheid. Hoe jy oor jouself voel, hoe jy oor ander voel, jou bereidheid om te vergewe en ou griewe te laat gaan, speel ‘n belangrike rol in jou daaglikse geluk. Skop verbitterdheid, onverdraagsaamheid, oordeel, skaamte, hartseer, vrees, drange, en valse trots onder sy agterend. Nooi aanvaarding, gewilligheid, liefde en vrede in jou lewe.

Hou op om jouself met ander te vergelyk. Hou op om te dink dat jy nie goed genoeg is nie. As jy elke dag jou bes probeer, is dit alreeds goed genoeg. Maak nie saak dat iemand anders ‘n taak beter of vinniger kan verrig nie, doen jy net die beste wat jy kan.

Jou omstandighede is nie jou identiteit nie. Jy is wat jy doen, nie wat met jou gebeur nie. Hou op kla. Een van twee dinge gebeur met mense wat die hele tyd kla. Hulle het (a) geen vriende nie, of (b) net vriende wat saam kerm en kla. Soort soek soort en dit wat jy uitstraal kom na jou toe terug. As jy wel swaar dra aan bekommernisse, kyk of jy iets kan doen om dit te verander. Indien nie, vertrou dat alles sal gebeur soos dit moet, ongeag wat die uitkoms ookal mag wees. Leer om die lewe buite jou omstandighede raak te sien.

Dankbare mense se gevoel van geluk is ook baie hoër as ander s’n. Al is ek geensins ‘n entoesias om ‘n dankbaarheid joernaal te begin nie, is dit tog ‘n goeie manier om jouself te herinner dat daar wel goeie goed in jou lewe is. Gewoonlik is dit die ervarings en gebeurtenisse wat nie ‘n bloue duit kos nie. Soms is dit nodig om doelbewus te soek na die mooi in die lewe, die dou op die groen gras wat soos diamante blink, en dat die blommetjies se gesiggies verhelder sodra die son daarop skyn.

Skakel die TV af en raak aktief, geniet die buitelug. Beperk bietjie die tyd wat jy voor ‘n skerm deurbring en onthou dat daar ‘n hele wonderlike lewe buite daardie vier mure is. Gaan stap, verkieslik buite en nie in ‘n winkelsentrum nie. Slaan of skop ‘n bal. Kyk na die lewe met die oë van ‘n kind.

Leef vandág. Sorg dat jou lyf en gedagtes op dieselfde plek is. Ek is ongemaklik oortuig dat tyd vinniger verloop as ‘n paar jaar gelede, so leer jou gedagtes om nie iewers in die toekoms rond te dwaal nie, of dalk onnodiglik aan die verlede vas te klou nie. Jou herinneringe aan die verlede gaan nie verdwyn net omdat jy nie dag en nag daaraan dink nie. Waardeer die goeie in jou verlede en vergeet die slegte dinge.

Leer af om jou probleme “weg te gee” en neem verantwoordelikheid vir jouself. Dit is onmoontlik om in die langtermyn jou probleme met drank of medikasie te verdoof. Om jou pyn net aan die Here oor te gee en te dink dat dit wonderbaarlik gaan verdwyn, is niks minder as magical thinking nie. Met ander woorde, dit is ‘n manier van ontduiking en moedig nie geestelike groei aan nie. Jy is hier op aarde geplaas om te leer hoe om jou moeilike omstandighede te hanteer, nie hoe om dit te vermy nie.

Wees bewus van die manier waarop jy met jouself praat. Praat met jouself asof jy jou eie beste vriendin is. Gewoonlik sal mens nie die hele tyd op jou beste vriendin skel nie, of haar vertel hoe sleg sy is nie. Indien so iets wel gebeur, sal jou gou vind dat daardie vriendin lankal padgegee het. Ongelukkig kan jy nie van jouself wegkom nie, so moedig jouself eerder aan as om af te kraak.

Hou op dink dat die son ondergaan wanneer jy gaan sit. Jy mag dalk besonder goed wees in jou werk, of dalk ‘n uitsonderlike prestasie behaal het, ‘n indrukwekkende titel voor jou naam skryf, maar dit beteken nie dat jy jouself hoër as ‘n ander moet ag nie. Niemand se **** ruik soos laventel nie.

Help ander waar jy kan en doen dit sonder om iets terug te verwag. Mense wat met ‘n oop hand en -gemoed gee, is verseker gelukkiger as diegene wat ‘n verskuilde agenda het. ‘n Luisterende oor kan ‘n wêreldse verskil vir iemand anders maak en dit gaan jou nie geld uit die sak jaag nie. Wanneer jy iemand anders help, help jy eintlik ook jouself.

Mense wat ‘n groei-ingesteldheid het, hanteer die lewe ook sommer baie makliker. So ‘n persoon is oop vir verandering en nuwe idees. Hulle het ‘n lewenslange ingesteldheid om te leer en te groei. Hul glas is nie net half vol nie, dit loop sommer oor. Mense wat in ander belangstel, leer ook by hulle. Jou wêreld verbreed en jy kyk met nuwe oë na ‘n ou situasie. In Carol S. Dweck se boek, Mindset: The New Psychology of Success, praat sy van ‘n groei- of gevestigde ingesteldheid. Mense met ‘n gevestigde ingesteldheid fokus op intelligensie en talent, eerder as om jouself voortdurend te verbeter. ‘n Groei ingesteldheid sien oneindige potensiaal in elke situasie en weet dat hulle deur volharding en moeite hul omstandighede kan verander. Só ‘n persoon gee ook nie so maklik op nie. Talent beteken niks as jy nie bereid is om ook hard te werk nie.

Hou houding teenoor jouself en ook ander bepaal hoe gelukkig jy sal wees. Maak van elke dag die beste een, want dit is ook die enigste dag wat jy het. Gister is verby en more is nie gewaarborg nie.

 

Ano

 

APRIL 2024 – UIT DIE OOG VAN ‘N KIND PROJEK

2.Om weer klein te wees

(Woordtelling : 886)

 

Kinders het die wonderlike gawe om nog die wêreld as ʼn magiese plek te ervaar. Daar waar feetjies en kabouters vir blomme sorg en diere in verstaanbare taal met mense kan kommunikeer. Hul wêreld is ʼn plek van wonders en towerkuns waarin jy jouself kan verloor, mits jy bereid is om weer klein te wees en toe te laat dat ʼn klein mensie jou in hul droomwêreld inlei, en nie jy die leiding met logika wil neem nie.

Die groter vraag is dalk, op watter ouderdom hou ‘n persoon dan op om met onskuldige oë na die wêreld te kyk?

Hoe jonger die kind, hoe groter die verwondering. Die eerste sewe jaar is die heel belangrikste want dit is nog voordat die brein só gevorm het dat logika en redenasie oorneem. As ouer en grootouer is dit byna ons plig om kinders aan te moedig om hul verbeelding lewendig te hou. En, hoe langer kinders nie blootgestel word aan die volwassenes se siniese lewensuitkyk nie, hoe beter. Uiteindelik is ʼn kind net ʼn skoon vel papier wat wag om ingekleur te word, en ons het die beheer wat daarop verskyn.

Hulle vra die onmoontlikste vrae en verwag ‘n goeie antwoord, al is dit soms bietjie onlogies. En soms, wanneer ons dit waag om ‘n onmoontlike vraag te vra, kan die antwoord ook vir ons ‘n heel ander wonder-wêreld laat oopgaan. Klein kinders se wêreld is getint met ʼn verskeidenheid van kleure wat volwassenes al vergete agtergelaat het.

Wat ons dikwels mis kyk is die feit dat ons kinders miskien nog jonk en in ʼn kleinerige verpakking is, maar dat hulle in der waarheid ons leermeesters is, d.w.s., indien jy nie reeds te verstok is om iets nuuts te leer nie. Moet vir geen oomblik dink dat daardie groot oë wat met soveel onskuld en vertroue na jou kan kyk, ʼn oningeligte siel huisves nie. Dit mag wel so wees dat hulle onskuldig en onkundig in hierdie lewe inkom en alles soos ʼn uitgedroogde spons indrink, tog het hulle reeds verstommende kennis van goed wat ons dalk nog nie geleer het nie. Kom hulle nie eintlik vars van die geesteswêreld af nie?

Ongelukkig dra ons ook ons vrese en skewe idees oor, en nie net die riglyne hoe om ʼn goeie en sosiaal aanvaarbare mens te wees nie. Geen kind is ʼn rassis van geboorte af nie, en hulle praat nie lelik van mekaar nie. ʼn Kind sien ʼn speelmaat raak en dit is al wat tel. Hoe langer dit neem om n kind te indoktrineer met die samelewing se vele voorskrifte, hoe beter. ʼn Kind is dus eintlik daar om ons te herinner aan ons eie onskuld en verwondering oor alles wat ons so as vanselfsprekend aanneem.

Wanneer ek saam met my kleinkinders na ou Spinnie op die vensterbank kyk, gril hulle nie outomaties vir al daardie bene en hoe vinnig Spinnie dalk op hulle kan spring en begin hardloop nie! Hulle sien veel eerder haar ronde, blink-swart lyfie en kort beentjies raak, en ondersoek haar van alle kante. Dikwels loop hierdie gesprek uit op vrae wat Oupa en Ouma nie kan antwoord nie, en moet ons eers ʼn boek uit die boekrak gaan haal en bietjie leer oor spinnekoppe se gewoontes.

Die liederlike geel-en-swart spinnekop wat ʼn web so groot soos my sitkamer is, en wat nou heel vrolik tussen twee bome geweef is, word ook van alle kante bekyk en bewonder. Dat daardie ding groter as hul handjies is, skrik hulle geensins af nie! Hulle sien net die ingewikkelde patrone van die web en die mooi kleure van die spinnekop raak. Al is ek geensins ʼn liefhebber van spinnekoppe nie, kan ek dit wel saam met die kleintjies geniet en nie instinktief na die blik Doom reik nie, al rebelleer my lyf teen als wat my oë nou raaksien!

Die lang swart wurm met die geel steeksels vind ons gou uit is eintlik die voorloper van ʼn geel-en-swart skoenlapper en hy word met groot versigtigheid terug op die blaar gesit, reg om sy lewensiklus te voltooi.

Tydens ʼn reis moes ons noodgedwonge deur die klein dorpie se plakkerskamp ry. Die strate is vuil en die kinders lyk verslete. Hul voetjies is kaal en hul klere mag stukkend en vuil wees, maar hulle weet hoe om ʼn bal te skop! Toe 8-jarige kleinseun heel onskuldig vra of ons nog in Suid-Afrika is, kyk ek met nuwe oë na ons omgewing. Miskien het hy op hul groot-skerm TV gesien dat Afrika se kinders so lyk, heel onbewus dat ons ook maar deel daarvan is. Net, dit is nie iets waarmee ons werklik gekonfronteer word nie, en in sy skool is daar nie vuil kinders met verslete klere nie.

As jy dus ’n gelukkige grootmens wil wees moet jy nie net meer tyd saam met kinders deurbring nie, maar ook jou skewe idees oor die lewe opsy skuif en weer met nuwe oë na ou goed kyk. Kinders en diere is die enigste wesens wat hulle nie aan sosiale voorskrifte steur nie en is pýnlik eerlik. ʼn Kind het nogal nie ʼn probleem om ʼn baie helder en ongemaklike lig op verkeerde goed te laat skyn nie. Sonder ʼn sweempie van skaamte. Die maklikste pad sonder enige misverstande is reguit, sê ʼn ding net soos dit is.

Ano

 

Mei 2024 – OOP projek

3.Toe nie heeltemal so gek nie

(Woordtelling : 1092)

 

Die lewe is verseker nie ʼn maklike reis nie, al kan dit nogal interessant wees. Die tuimel trein se harnas word met geboorte vasgemaak en daar gaat jy! Nou moet jy maar net klou deur al die op-en-af gebeurtenisse en hoop dat jy nie in die proses jou uhm, tande verloor nie. Maar ten spyte van alles is dit nog steeds ʼn wonderlike en manjifieke plek waarin ons leef.

Ons het almal gebeurtenisse in ons lewe wat ons met liefde sou vermy het. Sommige daarvan het ons oor onsself gebring met slegte keuses, ander het net gebeur en jy word ʼn toeskouer in jou eie lewe. So word jy soms heel onwillig op die wilde rit saam gesleep en moet jy net vasklou in ʼn poging om nie in jou smart te verdrink nie.

Dit is egter ons ingesteldheid, wat jy glo, en in Wie jy glo. Moet nie vir ʼn enkele oomblik dink dat jou geloof in God sal keer dat groot dramas nie in jou lewe sal gebeur nie. Waar hierdie idee ooit posgevat het, weet ek nie, maar ek weet verseker dat dit ʼn onwaarheid is wat ons al vir geslagte lank oordra. Ek werk ook al lank genoeg met mense van diep gelowiges tot absolute ateïste, dat ek kan weet dat jou geloof jou nie vrywaar van emosionele pyn nie. En dat dit meestal ook nie jou geloof is wat jou daaruit kry nie, maar eerder introspeksie, om verantwoordelikheid te neem vir jou eie emosionele en geestelike welsyn, en die bereidwilligheid om jou denke te verander. Selfs die diepste gelowige kan ʼn houding van selfbejammering hê, of selfs ander blameer vir sy ongeluk, en die uiteinde van daardie saak is dat hy nie ʼn aks in enige rigting gaan beweeg nie. Nie eens God kan jou gedagtes verander nie.

Die oomblik wat jy wegkom van die idee dat God goeie dinge laat gebeur en die duiwel slegte dinge, het jy al ʼn trappie gevorder. Die lewe is net soos dit is, en dit is ons keuses wat dinge laat gebeur. Oorloë word deur niemand veroorsaak behalwe deur die mens homself wat inhalig en onverdraagsaam is nie. Nie God of die duiwel het sy vinger in daardie warm pasteitjie nie.

Ek lees onlangs op Facebook hoe die persoon die duiwel blameer vir ʼn ander se ernstige long toestand, sonder om in ag te neem dat daardie persoon deur haar eie rokerige gewoontes haar siekte veroorsaak het. Jip, as jy nie verantwoordelikheid vir jou dade wil neem nie, blameer net die duiwel. Selfs die spieël wat na jare se desperate vasklou aan die hangkas net een dag opgegee het, was ook die duiwel se werk. Die vent is darem besig hoor en ek is seker hy geniet al die aandag wat hy kry.

Dit is egter interessant hoe sterk die mens se gees kan wees. Veerkragtig eintlik. Meestal is jy baie sterker as wat jy dink en kan jy berge verskuif waarvoor jy op geen ander tyd kans voor sou sien nie. Aan die einde van elke dag kan jy ʼn sug van verligting gee dat daar nog ʼn dag verby is. Dit maak nie saak of jy teen ʼn slakkepas daardeur gekruip het nie, jy het nog ʼn dag oorleef om aan jou storie te las.

Die belangrikste is om goed te wees vir jouself. Moet jouself nie veroordeel oor dit wat jy nie nou kan doen nie, maar klop jouself op die skouer vir dit wat jy wel gedoen het, al was dit ook net om te erken dat jy vandag wragtag swaar gekry het. More is ʼn nuwe dag, wat dit ookal mag inhou. Miskien gaan die vrees weer sy koue kloue om jou hart slaan. Dalk gaan die verslawing weer die oorhand kry, of die rousmart weer in volle swang terug wees, meer intens en aakliger as gister of laas maand. Dalk is dit vir die eerste keer nóg meer skrikwekkend en hartverskeurend as enige ander dag en sal jy dalk begin wonder of jy dit ooit gaan oorleef. Jou emosies spring tussen histerie tot ongekende gevoelloosheid. Jou brein vertel dat dit nou ʼn goeie tyd is om na jou donker grot terug te keer en daar te bly lê totdat jou skelet verdor het, maar jou hart weier hartnekkig om tot stilstand te kom.

Ander het dit oorleef, maar gaan jý? Dit voel soms onmoontlik en ander mense is natuurlik baie sterker as jy. Tot jy ontdek dat jy sterker is as wat jy ooit van gedroom het.

Dit is niks minder as tragies dat mense nie net deur ander veroordeel en beskinder word oor die intense emosies wat hulle voel nie, maar dat ons onsself ook veroordeel omdat ons nie reageer soos die samelewing voorskryf nie. Die groter samelewing hanteer verlies en ander groot uitdagings met min simpatie, om nie eens te praat van empatie nie. As jy jou emosies kan ignoreer of op God afskuif, soveel beter. Dan hoef jy nie ander ongemaklik te laat voel met jou onbeheerste emosionele uitbarstings nie.

Die dae verander in maande, soms jare. Die tuimel trein se wilde skommel-rit is rustiger en kom selfs nou en dan tot stilstand. Jou emosies is minder rou en die eerste strale van die son breek deur. Die kole wat vroeër die vlamme hoog laat brand het, het nou ʼn verwelkomende hitte wat jou van die binnekant af verwarm. Jy leer hoe om met liefde te onthou en nie aan die pyn van gister vas te klou nie. Jy leer dat dit okei is om die drade van jou lewe op te tel en die beste te maak van dit wat oor is. Jy vergeet nie, maar jy kan die pyn eenkant neersit. Jy kry ʼn manier om jou vrees vir die lewe te oorkom en voluit te leef, soos wat dit vooraf reeds bestem was. Niks gebeur immers sonder die groter lewensplan nie, al is dit soms moeilik om te glo.

Dit was nooit die plan dat ons ʼn “human doing”  moes wees nie, maar eerder ʼn “human being”. Iewers langs die pad het ons verleer hoe om werklik te leef en nie net geld na te jaag nie. Die lewe bestaan nie net uit werk, werk, werk van die more tot die aand, 365 dae van die jaar nie. Tyd om te rus en na die blomme langs die pad te kyk is kos vir jou siel. Gaan herlaai jou siel so ʼn bietjie in die natuur, daar waar die jakkals tjank en die sonbesies skree. Dalk op die rotse waar die branders se sproei klam teen jou gesig en hare waai. Gee jou emosies en swaarkry staanplek in jou lewe, kyk daarna, en dan sal dit ook verby gaan.

 

Ano

 

JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK

1.Voorwaarts na die onbekende

(Woordtelling : 874)

 

Die mens is ʼn wese wat nogal maklik aan vrees kan vasklou, en hierdie juisste vrees is die ding wat ons keer om spontaan en ten volle te leef. Jy is bang want wat as…. Moeder het altyd gesê, “as is verbrande hout”. Op ʼn subtiele manier wou sy my leer dat dit nie nodig is om onnodiglik oor die toekoms te bekommer nie.

Jou liewe brein (ego eintlik) wil jou eintlik net op elke moontlike manier veilig hou. Maar daardie veiligheid veroorsaak ook dat baie nooit die spronge maak waarna hul hart eintlik begeer nie. Die meeste mense sukkel met verandering want die verlede is bekend en jy was gemaklik daarmee, selfs al het dit emosionele pyn veroorsaak.

Navorsing het bewys dat sowat 90% van ons vrese nooit waar word nie, en van die oorblywende 10% was die uitkoms van ʼn situasie heelwat beter as wat die persoon verwag het.

Is dit nie interessant dat angstigheid en depressie in die laaste paar dekades met rasse skrede toegeneem het nie? Ons word gebombardeer met slegte nuus en ander berigte wat ons grootste vrese aanwakker, en dit is so onnodig.

Ons vrees dat ons nie genoeg sal hê nie, dat jy dalk nie goed genoeg voorbereid is vir aftrede nie en begin dan om elke sent drie maal om te draai. Of dalk verwag jy om vir ewig te leef en maak bymekaar asof daar nie ‘n einde aan jou aardse skatte moet wees nie. Die uiteinde is dat jy te bang is om saans die gang se lig aan te los want jy moet spaar. Jy wil nie R20 op ʼn roomys uitgee nie want dalk kry jy dit volgende week nodig. En dan? Die volgende dag slaat jy morsdood neer en jou kinders juig oor die miljoene waaraan jy so hard gespaar het.

Ons vrees dat ons nie goed genoeg is nie. Vir wie en vir wat? En wie gaan in elk geval besluit dat jy nie goed genoeg is nie, en waarom moet dit jou pla? As ek in my eie hart tevrede is dat ek in alles, en elke dag, die beste doen wat ek kan, dan is dit reeds goed genoeg. Niemand anders se opinie is nodig nie, dankie. Dit help in elk geval nie om jou lewe met iemand anders se maatband te meet nie.

Ons vrees dat ons nie op ons eie sal regkom nie, of vir eensaamheid, en trou dan sommer met die eerste persoon wat flikkers kom gooi. Ons ken almal ʼn Jannie of Sannie wat binne enkele maande na ʼn egskeiding, of hul eggenoot se dood, weer met ʼn blink ring aan die vinger gespog het. Ongelukkig is dit ook so dat daardie einste mense na ʼn jaar of twee ontdek dat hulle ʼn aller verskriklike fout begaan het, en nou is hul sterte geknoop.

Mense is bang vir stilte. Hulle is bang om in hul eie geselskap te wees en probeer so besig moontlik te bly net sodat hulle tog net nie na hul eie gedagtes moet luister nie. Hulle praat en praat en praat, en vergeet dalk ook om so nou en dan bietjie asem te skep. Enigiets net sodat daar tog net nie ʼn oomblik van stilte moet wees nie.

So hier en daar is daar ʼn paar wat al ontdek het dat jy op jou eie kan wees, maar sonder om alleen te voel. As jy gemaklik is met jou eie geselskap sal jy mos nie sommer eensaam raak nie, of hoe?

Om in konstante vrees vir die onbekende toekoms te leef, is niks anders as blote oorlewing nie. Dit word ʼn lewenswyse en is glad nie eens daarvan bewus nie. Om in ʼn konstante toestand van oorlewing te wees, beïnvloed ook jou gedrag en keuses. Meestal negatief. Maar glo my maar, jy het geen beheer oor die toekoms nie. Niks. Nada. Jy kan bang wees vir die uitslag van die verkiesing, en nie eens besef dat jy absoluut geen beheer daaroor het nie. Nie die grootste kommer in die wêreld gaan jou beheer oor die toekoms gee nie, so waarom so benoud wees? Elke dag sorg uiteindelik vir homself, of hy daaroor bekommerd was, of nie.

Daar is egter ʼn manier om hierdie vrees te systap. Wanneer jy besef dat hierdie dag waarin jy nou staan nooit weer gaan gebeur nie, dan begin jy keuses maak wat vir hierdie dag belangrik is. Jy begin om meer spontaan te leef. Jy kyk na elke sonsopkoms en sonsondergang asof dit die enigste een is wat jy ooit gaan sien. Jy geniet ʼn koppie tee asof dit die laaste een is wat jy ooit sal drink.

Met ander woorde, jy begin om bewus te wees van alles wat jy doen. Jy gaan nie vanaand in die bed klim en wonder waar die dag heen verdwyn het nie, of dalk die laaste jaar nie.

Wees bewus van die toekoms. Maak planne en maak voorsiening vir jou oudag, maar sonder om snags wakker te lê oor dinge waaraan jy in elk geval niks kan verander nie.

 

“There is freedom waiting for you, on the breezes of the sky. And you ask, “What if I fall?” Oh, but my darling, “What if you fly?” Erin Hanson

 

Ano

AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

1.In die sop

(Woordtelling : 1276)

 

Hallo, my naam is Ano en ek is ʼn verslaafde.” Dat dit ʼn verslawing aan daardie liederlike Chinese maatskappy is, noem ons liewers nie in opgevoede geselskap nie. En dat ek openlik sal erken dat ek skuldig voel, sal ook nie gebeur nie.

Dis nie die klere wat ek aantreklik vind nie, maar al daai goed wat jy gebruik om jou uitgebreide kuns-projekte makliker te maak. As die verskeidenheid net minder was, was my aankope ook seker minder. Of dalk, as die pryse nie so aantreklik was nie, het ek dalk twee maal daaroor nagedink. Tog, daardie dag toe ek besef dat ons liewe Suid-Afrikaanse verskaffers hul voorraad by presiés dieselfde plek aankoop, en dit dan weer hier teen drie maal die prys hier verkoop (posgeld uitgesluit natuurlik), was die gort behoorlik gaar.

My enigste verweer is dat ek tot op hede min of meer elke item gebruik het. En ek doen ook nie impulsiewe aankope nie, of gebeur dit dalk soms? Dit is verseker ʼn bonus dat ek dan ook ʼn redelike aantreklike inkomste uit daardie kuns-projekte verdien. Die enigste probleem waaroor ek noodgedwonge skuldig voel is om te erken dat ek alweer besig is met inkopies en Hubby moet toestemming vra om sy kredietkaart te gebruik. Die blote gedagte aan die donderwolk wat sy gesig gaan ontsier laat my gewoonlik twee maal dink voor ek daardie “Betaal gou voor jy van plan verander”-knoppie druk. Tog, dit is nie asof hy vir my aankope betaal nie want uiteindelik is die rekening steeds my verantwoordelikheid.

Daar is selfs ʼn ondersteuningsgroep vir die ons kopers. Ag, ons noem dit maar ʼn ondersteuningsgroep al is dit veel eerder ʼn plek om eers jou nuutste aankope vir almal te wys, en dan later met die skeppings wat daaruit voortgevloei het te spog. Almal “oe” en “aaaa” vir mekaar se pragtige produkte en soms word daar raad gevra wat die mense gul beantwoord. Dit is nie net raad om ‘n beter resultaat te kry nie, maar ook hoe om jou oepsies reg te maak, soos daardie dag toe ek per ongeluk Resin op ons Embuia eetkamertafel gedrup het. Tot vandag toe nog kan ek nie verstaan hoe dit gebeur het nie, want ek is altyd versigtig. Skynbaar nie versigtig genoeg nie! Om dit ligweg te stel, Hubby was nie beïndruk nie. Dit was nie moeilik om soos ʼn vyfjarige te voel wat deur die hoërskool se hoof onder kwaai oë aangespreek word nie.

So, wat is dan volgende? Gaan vra raad by die groep natuurlik! Iémand sal dalk kan help. Die mense is vriendelik en hulpvaardig en dit wil my voorkom asof baie al so iets oorgekom het. “Nee jong, jy moet hierdie plek met jou haardroër lekker warm maak en dan afskraap.” Ek wag dat Hubby weer saam met ʼn groep vriende gaan stap voor ek skelmpies die tafel begin warm maak en dan afskuur. Maar oh wee, in plaas van die Resin sit daar nou twee spierwit kolle op die tafel!

Nou het ek bloot die een moeilikheid vir ʼn ander verruil. Doer agter in die kas grawe ek ʼn lang vergete botteltjie houtolie uit. Vryf, vryf, vryf… Dit werk nie so goed nie want nou is die nuwe wit kolle skitterblink van die olie en die res van die tafel lyk maar soos dit altyd lyk. Al genade is om die hele tafel met olie in te vryf, en toe sommer die res van die houtmeubels ook, voor Hubby snuf in die neus kry en ondersoek instel oor wat ek nou alweer aangevang het! Die hele huis stink van die olie, maar ek klap my handjies selfvoldaan saam. Oënskynlik is hierdie probleem netjies opgelos.

So, wanneer kom mens agter dat jy dalk ʼn probleem mag hê? Dit was daardie oggend ek my nuwe pakkie eers later in die dag by die huis ingesmokkel het. Of wanneer jy dit in Checkers se groen plastieksak sit om saam met die ander aankope op die tafel neergesit te word. Hopelik kry mens nie onnodige hulp om die inkopies weg te pak nie. Dalk is dit wanneer jy iemand anders se arm draai om saam met jou inkopies te doen sodat julle nie posgeld hoef te betaal nie.

Die enigste manier om dit te regverdig is om hierdie aankope in ʼn lonende bedryf te verander en ʼn goeie skoot sakgeld daaruit te verdien. Kyk, ek drink nie, rook nie, slaap nie rond nie (bly ook nie wakker saam met ander nie), meng en kruie my taal soms so ʼn bietjie, gebruik nie dwelms nie en is nie verslaaf aan hoesmedisyne en hoofpyn pille nie. Ek mishandel nie my eggenoot fisies of emosioneel nie, al wou ek hom al meermale die ewigheid met ‘n skop en ‘n glimlag inhelp. Ek het ook nie skuld nie, al moet ek in daardie oomblik op Hubby se kredietkaart leun. In kort, ek kom darem so min of meer die tien gebooie na. Meestal. As ek my soos ‘n soet dogtertjie gedra.

Miskien is dit die omgewing se skuld want sien, hier waar ons nou woon is daar ‘n oorvloed van kunswinkels en mense wat bereid is om vir jou skeppings te betaal. Dalk is dit Covid se skuld want om weke aaneen weggesluit te word van almal wat leef en beef het ‘n onverwagse nagevolg gehad! YouTube, aanlyn winkels en ‘n oorvloed van koeriers. Dit was maar net die begin, eers ʼn paar potjies verf, toe  ‘n kwas of drie, nog ‘n paar produkte. Die een ding lei na die volgende en toe ek my oë weer uitvee, wou die ingeboude kas se deure nie meer so maklik toedruk nie.

Jy kan ook nie sommer maar net halfpad ophou wanneer jy ʼn nuwe stokperdjie ontdek nie, want daar is altyd iets wat jou lewe bietjie makliker gaan maak. G’n mens kan net een potjie verf aankoop en dan niks verder nie. En hoe wyer jou belangstelling en nuuskierigheid, hoe groter die aankope natuurlik. Om eerlik te wees, as jy eers begin is dit moeilik om op te hou. Vir my in elk geval.

ʼn Deel van die probleem is natuurlik dat dit so maklik is om deur die internet aankope te doen. Enige tyd van die dag of nag, voor ontbyt, voor slaaptyd. Maak nie saak nie, die “winkels” is altyd oop. Geen lang toue nie, geen frustrasie wanneer die produk wat jy soek nie op die rak is nie. Jy hoef nie te wag vir die deure om 9uur oop te maak nie, en jy hoef nie haastig te wees as 5uur verbete naderkom nie. En, terwyl jou verkose produk hier uitverkoop is, is daar tien ander wat bie om die beste prys te verskaf. Die keuses is werklik eindeloos – van vars groente tot haarnaalde, letterlik van ʼn speld tot ʼn olifant!

Nou ja, voor ek te skuldig voel omdat ek my laaste paar sente op ʼn handvol blommetjies gespandeer het, sal ek eerder my energie gebruik om my te verlustig in die nuutste skeppings wat daar op die eetkamertafel wag. More is weer mark-dag en hopelik sal hierdie voorraad nuwe eienaars kry. Hubby sal genadiglik ook gou van my aankope vergeet terwyl hy “oe” en “aaah” en die goed teen die son hou om beter te kan sien. Soms sal hy selfs waag om te vra hoe ek hierdie of daardie dinge gedoen het. Ek wou hom al leer maar vermoed dat hy bang is dat ons huis nie twee verslaafdes sal kan hanteer nie. Die kaste is immers reeds vol.

Maar wag, laat ek ophou gesels. Daar is nog ʼn paar bladsye met interessante items op daardie webwerf om deur te kyk…

 

Ano




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed