Arnold van Zyl
‘n Stem vir Gesondheid
1.Ek bly nog ‘n vrou
Onwetend stap ek die slaapkamer binne, my blik val op die plek van die liefdespel. Ek steek in my spore vas en draai hakerig om soos ʼn rollaer sonder smeerolie, retireer ek stadig weer na buite. “Ek is jammer om net so in te bars.”
“Jy hoef nie jammer te voel nie, kom in Renier.” Ek hoor aan die intonasie van haar stem dat alles nie wel is nie.
“Wat het my besiel om sommer net in te bars,” prewel ek by myself. Daar staan ek met my kop teen die deurkosyn, my hart skiet meteens vol pyn.
“Kom in Renier.” Ek hoor hoe sy my weer roep. Met onsekerheid maak ek die deur stadig oop. Ek sien dat sy in haar eie wêreld van smart vasgevang is.
“Weet jy Renier, hier is niks om meer te begeer nie, net ʼn halwe vrou.” My hart skeur in twee.
“Renier het jy al ʼn halwe vrou gesien?” met haar kop na benede gerig.
“Wat bedoel jy met hiérdie woorde?”
“Kyk mooi Renier! Is jy bang om aan ʼn halwe vrou te vat?” onverpoosd koester sy haar nuwe voorkoms met ʼn spesiale room vir kanker.
“Nee Rosemarie!” met ʼn onwelkome frons.
“Sal dit dan lekker wees om aan ʼn halwe vrou te vat?” Ek neem die spesiale room uit haar hande. My blik gerig na die eens begeerlike heuwels wat die bloed laat bruis het. Daar sien ek nou twee aandagstrepe weerkante van die verleidelike vallei. Dit laat my spraakloos soos daardie twee rooilyn strepe. Jou vrouwees is vir ewig geskend.
Sy gaan lê op haar maag, ek masseer haar rug met deernis. Onwillekeurig pik sy ʼn traan, haar innerlike bewe onder my handpalms. Daar voel ek hoe haar innerlike gemoed in twee skeur soos ʼn aardbewing die aardkors versteur.
Ek bedek haar oorblywende vroulike trots met die laken. Geleidelik word haar bene met deernis gemasseer tot by haar voete. Haar innerlike gemoed kom tot ruste, draai sy met ʼn passie om en kyk my ferm in die oë en sê:
“Ek bly nog ʼn vrou al lyk ek ietwat anders.”
@Arnold van Zyl