Charleine Collins
Lees meer oor Charleine Collins
Februarie 2020 – Limeriek projek
1.Blye Bettie
My dierbare krosie was ‘n pragtige, spontane dogtertjie, maar hiperaktief en super-sosiaal. Ons het in ‘n nuwe buurt vol jonggetroudes met klein kindertjies gewoon. Die bure direk agter ons, het vier woelwaters gehad, waarvan die oudste seuntjie (so oud soos ons spruit), ook ‘n absolute handvol was.
Die “klein kerkie” in ons gemeente het ontstaan direk as gevolg van Seun en ons eie Madelie – dit was ‘n kwessie van nood leer bid. Madelie het die maatjies in die kerksaal vreeslik geniet, maar Seun het een oggend tydens die diens “ontsnap” en doodluiters die kerk binnegestap om sy ma te gaan soek.
Tydens ‘n kinderdiens is ons toe met die hele klomp terroriste vir ‘n slag weer in die kerk. Die meeste sit voorlangs om mooi te kan hoor en sien wat Oom Dominee te vertel en te wys het. Die dominee se preek was oor Bettie Blydskap, ‘n poppie wat op een bakkie van ‘n balanseerskaal sit, met vere en allerhande gewiggies op die ander bakkie. Die les moes gaan oor sonde en genade en die balans van al die dinge in ‘n mens se lewe. Hoe dit gewerk het, kan ek nie mooi onthou nie, maar Bettie se bakkie en haar blydskap het opgegaan en dan weer af, soos wat die gewiggies en sondes in die ander bakkie verander is.
Maar toe kantel Bettie en haar mooi gebreide basaaruitrusting om – en Bettie het nie ‘n broekie aan nie. Sy “flash” die hele gemeente met haar ewig geslote plastiese kuisheid agter die wye rokkie wat soos ‘n blommetjie die prentjie omraam. Oom Dominee sien niks en preek lustig voort, terwyl daar ‘n ligte ruising onder die kleuters ontstaan wat met “total glee” en onnutsigheid agter hulle handjies vir hulle ouers en maatjies loer en fluister en beduie. Vir hulle het dit gegaan oor die voor die handliggende prentjie, maar hoe blyer Bettie en hoe groter die sonde word, hoe meer het die ouers begin rondloer en gegiggel. Dominee se preek was daarmee heen. Uiteindelik het hy gesien daar is fout en vir Bettie in haar sittende posisie probeer kry, maar Bettie Blydskap wou net bene in die lug bly lê. Hy was al duidelik ongemaklik en het die situasie probeer wegpraat, maar moes toe maar opgee en saamlag, want teen hierdie tyd het almal al ontplof, soos ‘n mens net in ‘n kerk kan doen, wanneer jy voel jy mag nie.
Die preek het darem in ons familie ‘n lessie behou. Dogtertjies het daardie tyd nog baie rokkies gedra en is geleer om “mooi” te sit. Ek het nooit daarna nodig gehad om na mooi sit te verwys nie. Ek kon net sê “Bettie Blydskap”, dan het Madelie presies geweet wat ek bedoel!
Charleine Collins ©