Driekie Grobler
November 2020 – Samesyn-projek
1.Die genot van ‘n kykpartytjie
Vanoggend was die sonsopkoms vir my asemrowend mooi en dit het my ver laat terugdink aan ons kinderjare op Oupa en Ouma se plaas.
In tye van afsondering dwaal mens se gedagtes nogal baie terug na die ou dae, die dae van ware vryheid en dit hou mens aan die gang. Vir meeste van ons is ons kinderjare ons lekker-onthoudae. Die kattekwaad, die ontdek van nuwe dinge en die vreeslose inploeg in avonture wat agterna (wanneer dit uitkom) die grootmense se nekhare laat rys het.
Die lekkerste gesels, wanneer mens die geleentheid kry om ontspanne bymekaar te kuier, is om oor die verlede te gesels. Staaltjies uit te ruil wat gewoonlik saamgaan met baie gelag.
Die “onthou-jy-nog” geselsies wat alle opgeboude spanning laat skietgee, wat weer die avontuurlus aanwakker en wat bande weer verstewig. Dit is wat ons dalk die meeste mis op hierdie oomblik, daardie gesellige bymekaarkomtye, daardie samesyn.
Maar hier, alleen en afgesonder in ons inperking, het ek sommer my eie “onthou-jy-nog” kuier ontdek. Ek het op ‘n dag, van pure verveeldheid, ‘n vergete boks vol foto’s bo uit my kas gehaal, dit op my bed uitgegooi, vir my ‘n lekker koppie koffie gaan maak en toe pens-en-pootjies op my bed geklouter en deur die foto’s begin sif.
Daar is hordes foto’s van die kinders, van geboorte tot waar hulle vandag is, foto’s van die kleinkinders, foto’s van familie en familiesamekomste, foto’s van vriende, vakansiefoto’s, prestasiefoto’s, ens. My kamera was altyd by my en ek het gesorg dat ek elke spesiale oomblik vasvang en verewig. (Hoe dankbaar is ek nie vandag daaroor nie!)
Eintlik vertel elke foto sy eie storie. Sommige foto’s het my hardop laat lag met die onthou van spesifieke insidente. Ander weer, het trane in my oë gebring.
Manlief het later nuuskierig kom kyk wat ek aanvang en hoekom ek so lekker lag, sommer gou was hy ook pens-en-pootjies op die bed langs my en tóé het ons ‘n behoorlike kykpartytjie gehou.
Kort-kort het ek gou opgespring om ons koffiebekers te hervul en sommer ‘n paar peuselhappies vir middagete aanmekaargeslaan, sulke regte piekniekkos – ons het ons verbeel ons sit êrens op ‘n eiland en herleef weer ons lewe van vooraf.
Ons kon nie glo hoe jonk ons eens was nie. Mens kom mos nie agter hoe jy verouder nie, totdat jy weer vaskyk in ‘n jonger jy, waar die hare nog donker en die vel glad was, dan besef jy hoe die jare jou verkleur en opgefrommel het.
Ons kon nie glo die kinders was so klein en onskuldig nie en kon nie uitgepraat raak oor hul wysheid deesdae nie, soveel so dat hulle selfs oor óns wil baasspeel en óns wil vertel wat vir óns goed is en wat nie, maar dit nou eers daar gelaat …
So het ons die dag om gesels, gelag, gehuil, gedroom. In een dag was ons weer jonk en verlief; het weer getrou en gewonder wie van ons trougaste nog leef; weer die kinders se geboortes herleef en hulle grootwordjare (al die kattekwaad wat hulle aangevang het) die foute wat ons as ouers gemaak het en waaroor ons vandag spyt is en wens ons kon sekere dinge anders doen; weer elke vakansie beleef en geniet; die kinders se troues beleef, met al die spanning wat dit vooraf behels het; die opgewondenheid ervaar van die kleinkinders wat gekom het; die trots oor almal se prestasies; die genotvolle familiekuiers beleef en gekoukus oor dié wie se plekke reeds leeg is.
Toe die son begin sak, het ons behaaglik teruggelê en saam besluit dat ons (ten spyte van al die teenspoed) tog ‘n goeie en geseënde lewe gehad het.
Traag het ons opgestaan, die foto’s bymekaar gehark en teruggegooi in die boks. Dit weer veilig gebêre, diep agter in my kas, en besluit dat, wanneer die inperking verby is, ons so ‘n fotopartytjie gaan reël met ons kinders en kleinkinders, sodat hulle ook die genot daarvan kan smaak.
Want eendag, wanneer ons nie meer daar is nie, gaan hulle die boks met foto’s erf en ons wil hê dit moet vir hulle ook ‘n waardevolle skat wees, soos dit vandag vir ons was.
Herinneringe wat seker met tyd sal vergeel, maar vir ewig in ons harte vasgeplak is.
©Driekie Grobler (718 woorde)
Januarie 2021 – Verwagting(s) projek
2.Wat ons glo is wat ons is
As kinders het ons graag wens-speletjies gespeel: ek wens ek was …; ek wens ek kon …; ek wens ek het …, ek wens …, en op talle verbeeldingsvlugte gegaan. Ons wense is meestal geïnspireer deur voorgestelde idees uit tydskrifte, waarvan ons prente uitgeknip en plakboeke van gemaak het, van mooi modelle, mooi hare, mooi klere, mooi huise, mooi motors, tot alles wat vir ons mooi was en wat ons ook graag eendag wou hê! Dan het my ouma ons so skeefkop beluister en telkens ons bubble gebars met haar gesegde: “Wens in jou een hand en spoeg in die ander hand, dan kyk jy in watter hand is die meeste.”
Nog een van haar gesegdes, wanneer ons so gekla het oor ons eie voorkoms en ander s’n begeer het, was: “My kindjie, wees tevrede hoe die liewe Heer jou gemaak het, want as jy jouself moes maak, het jou oemf dalk onder jou arm gesit.”
Soos die jare aangestap het, het ons die ware wysheid van Ouma se woorde begin agterkom. Die glansfoto’s in tydskrifte is ver verwyder van die werklike lewe. Geluk in die lewe lê nie in “alles mooi en perfek” nie, maar in die kwaliteit waarmee jy dit, wat wel binne jou bereik en vermoë is, uitbou en waardeer.
Hoe jy jouself sien en daagliks beleef, is wat van jou “jy” maak, en wat bepaal hoe ander jou sien en beleef. Ons verwagtings moet aanklank vind by ons vermoëns en nie andersom nie, en alles begin in die kop, in dit wat ons dink, want wat jy dink gaan jy glo, en wat jy glo gaan jy wees en uitleef.
So was daar eendag ‘n meisie wat deur haar familie as baie lelik beskou is. Omdat sy daagliks moes hoor hoe lelik sy is, het sy dit geglo en daarvolgens geleef, totdat ‘n jongman, wonder bo wonder, eendag op haar verlief geraak en met haar getrou het. Hulle het weggetrek en eers na baie jare, met haar vader se dood, teruggekeer vir sy begrafnis.
Die familie was geskok om die mooi vrou aan die arm van die ouman se skoonseun te sien. Almal wou van hom weet wat van die ouman se dogter geword het, hoekom hy dan nou ‘n ander vrou by hom het.
“Nee,” het hy hulle verseker, “hierdie mooi vrou is dieselfde vrou wat ek destyds hier weggevat het. Ek het toe al haar innerlike skoonheid raakgesien en haar daagliks vertel hoe mooi sy is. Later het sy dit begin glo en daarvolgens begin leef, en dit is die verskil wat julle nou raaksien.”
Hulle was verstom en baie jammer dat hulle nooit verby haar uiterlike gekyk en haar gegun het om haar innerlike skoonheid uit te leef nie.
Soms laat ons te maklik toe dat ander se woorde bepaal hoe en wie ons is, al is dit teenstrydig met die waarheid.
Mag ons verwagting (veral teenoor onsself) in hierdie jaar alle negatiewe denke oorskrei en die skille van veroordeling van ons oë laat afval, sodat ons met nuwe oë dieper sal kyk as die oppervlak, en onsself sal toelaat om te wees wie God ons bedoel het om te wees.
©Driekie Grobler (2021)
(536 woorde)
Maart 2021 – Liefdes projek
1.Geite en feite
Snaaks hoe iemand iets kan kwytraak, ander dit kan opraap, en ‘n geit oornag kan laat verander in ‘n feit!
Kyk nou maar net weer al die berigte en sensasionele stories en boodskappe wat oor ons spoel vandat die “corona” ontwaak het. Voor dit was dit die “sars” en voor dit … So sal ons kan aangaan en aangaan.
Dat dit ‘n ernstige toedoen van sake is, sal niemand oor stry nie, maar lees mens al die bespiegelings, vermanings, selfs grappies daaroor, verwonder mens jou aan die mensdom se ryke verbeelding en vermoë om so maklik iets totaal uit verband te ruk.
Kieme en virusse was daar nog altyd en sal daar altyd wees. Sommige glo kinders moet kieme kleintyd inkry om immuun te raak teen siekword en besmetting. Ander glo weer kinders moet skoon en higiënies gehou word, kiemvry huise, speelterreine, ens.
Wat dan is die regte manier van lewe en doen? wonder ons so baie, want daar is soveel uiteenlopende teorieë dat mens soms voel soos ‘n “verkleurmannetjie in ‘n smartieboks”.
Oneindige hoeveelheid boodskappe het al my arme selfoon getref wat so teenstrydig met mekaar is, moet mens maskers dra ja of nee, moet mens handskoene dra ja of nee, kan mens winkels toe gaan ja of nee, ens. ens.
Ja, mens moet luister na die KUNDIGES (nie sommer elke jan rap en sy maat se siening nie) en jouself probeer beskerm sover moontlik, sonder om oorboord te gaan. Ook nog steeds onthou dat jy mens is en elke dag moet lewe en funksioneer.
Met al hierdie goed wat nou so op die voorgrond is, laat dit my dink aan die prentjie van ‘n klein klippie wat in ‘n dam water gegooi word en kring op kring vorm, al groter en al wyer.
Hoeveel keer gooi ons nie self so ‘n klein klippie in die dam nie? Hoeveel keer het ons nie al self kringe veroorsaak en water geskommel nie?
Die nadeel van so ‘n geskommel van water, is dat dit al die vuilgoed wat op die bodem lê weer aan die beweeg kry en na die oppervlak bring. Dit vat dan eers weer geruime tyd voordat alles afsak en die water weer helder kan word.
As ons tog maar net kan besef hoeveel krag daar agter woorde lê! Hoe ‘n enkel woord of sin, ‘n totale omwenteling in iemand se lewe kan veroorsaak.
Ons moet leer om daagliks in wysheid te dink, te praat en op te tree (soos die Skrif ons leer). Daardie lui/gedrosde wag weer terug te roep en staan te maak voor die poort van ons “moeilikheidmaker” (tong/mond).
Ook moet ook vra vir ‘n gees van onderskeiding, sodat ons die feite van die geite kan skei, want om in vrees en onsekerheid te lewe het sy eie nadele en veroorsaak soms erger siektes (fisies en geestelik) as enige kiem of virus.
Die kruks van die saak is dat ons GEEN beheer het oor goed wat gebeur nie, maar dat ons wel kan KIES hoe ons dit wil en gaan hanteer. En die manier HOE jy dit hanteer, maak van jou ‘n oorwinnaar of ‘n sukkelaar.
Daar is ‘n Engelse gesegde wat dit baie raak stel: “If you worry you die, if you don’t worry you also die, so why worry?”
‘n Feit is dat daar slegs EEN is wat wel in beheer van sake is. In hierdie Paastyd herdenk ons SY liefde en grootse opoffering om ons juis vry te maak van kommer en verganklikheid.
As ons fokus reg ingestel is op HOM, kan ons maar rustig (versigtig) voortleef en weet . . . Hy beskerm ons.
Mag jy ‘n geseënde Paastyd hê en weer onder die diep besef kom van SY genade en groot liefde vir jou!
©Driekie Grobler
630 woorde
April 2021 – Oordenkingsprojek
1.Oordenkingsaadjies
Hierdie tyd van die jaar is kosmos oral in blom, sommer so oornag steek hulle hulle skaam, broos koppies uit en dans baldadig en vrolik in die wind. So asof hulle ons wil herinner aan die grootste gebeurtenis in die mensdom se bestaan. Die grootste liefdesdaad ooit op aarde.
Die wonder hiervan is die seker wete dat selfs die natuur WEET dat daar ‘n dieper betekenis hierin lê en dat daar ‘n mag, groter as enigiets anders, is aan wie alleen die eer moet toekom.
Paasfees het verskillende betekenisse en waardes vir verskillende mense. My kinders onthou hoe ek kleintyd vir hulle paaseiers weggesteek het wat hulle moes gaan soek. Selfs noudat hulle al volwasse is en self kinders het, is dit ‘n jaarlikse instelling waaraan hulle maar al te gretig nog deelneem.
Nee, ons glo beslis nie aan die paashaas as plaasvervanger vir die Paaslam nie. Heg ook geen waarde aan al die paasversnapperinge wat in winkels aangebied word nie, geniet dit net as ‘eetgoed’, want ons weet wat die ware boodskap agter Paasfees is.
Ons ken die Paaslam wat vir die hele mensdom geslag is, sodat almal gered kan word. Ons gee aan Hom alleen die lof en eer vir soveel onbaatsugtige liefde.
Die punt wat ek wil maak, is dat mense so geneig is om etikette aan goed te hang. Mense oordeel so maklik as ander nie soos hulle dink of soos hulle optree nie.
Die Woord vermaan ons om baie versigtig te wees hoe ons oordeel. Moenie vinnig wees om gevoltrekkings te maak as dinge buite jou verwysingsraamwerk geskied nie.
Eendag gaan ons elkeen rekenskap moet gee oor ons eie lewe, nie vir wat ander gedoen het nie, so die veiligste opsie is en bly om na jou eie doen en late op te let en ander (sonder kritiek) te gun om hul eie keuses in die lewe te maak.
Alles gaan op die einde oor LIEFDE!
Dis liefde wat blomme laat groei!
Kom ons gebruik hierdie kosmostyd om ook saad van liefde te saai in ander se lewe en dankbaar boontoe te kyk.
Die lewe het meer as genoeg kommer en swaarkry. Kom ons probeer om die aarde ‘n beter plek te maak vir ander en onsself, en nie die las te vergroot nie. Dit kos mos niks!
©Driekie Grobler
Mei 2021 – OOP Projek
1.Lewensvreugde
Lewensvreugde kan gekoppel word aan baie dinge in die lewe – soos daardie eerste aromatiese koppie koffie in die oggend; daardie smelt-op-die-tong sjokolade wat jy op spesiale dae kry; daardie onverwagse drukkie van jou man of kinders wat sê: “Ek’s lief vir jou!”; daardie genotvolle uit-die-maag saamlag oor jou kleinkinders se manewales.
Maar vandag wil ek vir jou ‘n ryk, romerige melkkoffie met skuim of room bo-op skink, net wat jy verkies. Dan wil ek (vir ekstra lekker en mooi) honderd-en-duisend gekleurde, suikersoet kraletjies oor strooi, sommer so vir ‘n tikkie meer baldadigheid en vrolikheid.
My teetafel wil ek keurig dek en jou gulhartig nooi om saam met my te kom wit-snor drink aan hierdie heerlikheid. Ooh ja, en kyk gerus in jou piering, daar‘s ‘n brosbrood-hartjiekoekie, met sorg en liefde gebak. Hmmmmmmm … droomverlore, smaaklike bederf! Lewensvreugde in hoofletters!
Noudat jy in die regte stemming is, wil ek my hart aan jou ontbloot.
Nooit sal ek vergeet die dag toe my ervaring van liefde intens verdiep het nie. Daardie dag toe ware ‘lewensvreugde’ aan my menswees kom vasplak het.
Maar eers wil ek baie duidelik sê dat ek ontsettend lief is vir my man en kinders. Ook my familie en vriende, kennisse en kollegas, sommer die hele mensdom in die algemeen. Ek is deur en deur ‘n mense-mens.
Maar dààrdie dag, bietjie meer as tien jaar gelede, toe twee paar blou ogies diep in my oë kyk en ‘n klein tuitbekkie skeef trek in ‘n glimlag. Daardie dag het daar iets in my gebeur. Iets heerlik onverklaarbaar.
My ferm hart (waaroor ek nog altyd redelik goed beheer kon toepas) het op dààrdie oomblik totaal en al versmelt. Verpulp in romerige, soet, sjokolade-liefde, om nooit weer daarna met dieselfde ritme te klop nie.
Borrellende vreugde het soos ‘n fontein in my ontspring. Uit ‘n stroom van alles-oorboord-gaan-liefde, gemeng met kloppende teerheid. Verwonderd in ontsag en koestering. Totaal en al uitgeboul deur onvoorwaardelikheid.
Dààrdie dag het my minnaarshart, moederhart, vriendin- en omgeehart, verdiep tot Oumahart. ‘n Voorreg en seën geskenk uit my Vader se hand.
Om daardie sagte, warm, klein lyfie teen my vas te kon hou, was hemels. ‘n Droomverlore-op-die-wolke-loop ondervinding. Hoe groter sy geword het, hoe meer kon ek met haar speel, gesels en haar reaksies geniet. Sy is gek oor stories en ek lees en vertel dat die spoeg spat. Spandeer al my swaarverdiende geldjies op leersame speelgoed en boeke.
Op tweejarige ouderdom was sy gladdebek, pittig en vermaaklik. Gretig om te leer, en het oorgeborrel van vrae oor die werking van alles om haar.
Maar die lekkerste lekker was wanneer sy op my skoot klouter, haar armpies om my nek sit en met ‘n lispel-tongetjie sê “Oumietjie, Sussie is baie lief vir jou.”
Vir ‘n oomblik het ek my oë gesluit en toe ek dit weer oopmaak, het tien jaar soos mis voor die son verdwyn (of so voel dit altans).
Ek was geseën om nog ses keer, na daardie eerste hemelse ondervinding, dit te kon beleef en spog vandag met sewe kleinkinders, almal ewe spesiaal en kosbaar.
Maar daardie heel eerste asemrowende oomblik sal altyd in my hart gekoester word en lê veilig weggepak in my onthouboksie wat ek van tyd tot tyd uithaal, afstof en oorbeleef.
Lewensvreugde … is om elke oomblik van lewe te koester!
Dis ‘n voorreg wat soveel mense onbewustelik verby laat gaan omdat hulle so toegewikkel is in daaglikse kwellings en probleme.
Skuif gerus daardie probleme op die agtergrond en sit weer die bril van ware lewe op jou neus, sodat jy die vreugde in elke dag kan raaksien. Soms is dit nodig om weer die gisters af te stof, daardie onthouboksie oop te maak en te besef waaroor lewe werklik gaan, en hoe bevoorreg ons werklik is.
©Driekie Grobler
Junie 2021 – Inteksualiteits projek
1.Kattekwaad
‘Waar ‘n rokie trek, brand ‘n vuurtjie,’ het ek as ma ‘letterlik’ sommer vroeg geleer. Terwyl ek my kroos kan hoor lag en stry, was alles veilig en oukei. Ek kon maar net gaan keer voordat hulle mekaar ernstig beseer. Maar … sodra ‘n onheilspellende stilte neerdaal, het die rookseine begin S.O.S.
Hoekom onheil altyd in stilte plaasvind, (net soos skinder) sal nugter weet. So vang ek hulle eendag pens en pootjies bo-op Boeta se bed met ‘n boksie Lion vuurhoutjies. Die splinternuwe Noddy duvet vol swart gate gebrand. My harde ‘Wat maak julle!’ het hulle laat wip soos hul skrik, ‘skuldig’ oor elke gesiggie geskryf.
“Ons tjarts net die vuurhoutjies, Mamma,” het Boeta gesê. Die pak slae (ja, daardie jare is die blakers nog warm gemaak, sodat die was in die ore kon smelt) het hul nie gou vergeet nie.
Nie lank na hierdie insident nie, S.O.S die rookseine weer een Saterdagmiddag. Terwyl die kinders soet buite speel, ontspan ek en manlief voor die kykkassie. Midde in die stryd tussen die Bulle en die WP, kry ek ‘n rookreukie. Snuif-snuif staan ek op en stap kombuis toe om te kyk of halftyd se braaivleispap nie dalk brand nie. Die pap prut egter rookloos en ek verbreed my soektog verder deur die huis. Nêrens ‘n vuurtjie te vind nie en die kinders speel nog laggend en gillend buite.
Ek top manlief se Castle en my Tab op en strek my weer langbeen op die rusbank uit. “Kom, Bulle!” gil ek toe Naas Botha ‘n skop pale toe mik. Nog ‘n rooksein prikkel my reuksin. “Daar is beslis iets wat brand buite,” verklaar ek en staan op.
“Huh?” vra manlief terwyl hy steurend sy blik van die kykkassie af wegskeur.
“Ja, man, ruik jy dit nie? Iets brand en die rookreuk kom van buite. Dalk by die bure.”
Met gepunte neus stap manlief saam snuif-snuif na buite. Ons loer oor die heining, gewaar niks. Verken verder en gewaar gelyktydig rook die lug in warrel. Roepend en soekend na die kinders, hardloop ons om die huis.
In ‘n hoekie, neffens die agterdeur, brand ‘n vuurtjie met lekkende vlamme wat besig is om die plastiese afvoerpyp te smelt. Gelukkig was die tuinslang naby en kon manlief die vuur betyds blus voordat te veel skade aangerig is. Boeta wou ook soos Pappa ‘n vuurtjie maak om ‘n worsie te braai.
©Driekie Grobler
(Google – Afrikaanse Idiome en Spreekwoorde: V (vo – vy) – Gesegdes – dui aan dat dit eintlik oor skinder gaan. Daar is egter verskillende sienings en betekenisse oor “Waar ‘n rokie trek, brand daar ‘n vuurtjie”, en ek het dit letterlik ervaar.)
3.Wees ‘n oop boek
Matteus 10:26 “ . . . Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.”
Hierdie skrif maan ons om opreg en deursigtig te leef, om daagliks só op te tree dat ons nie môre spyt sal wees oor dit wat ons vandag doen of sê nie.
As kind het ek gou geleer dat wanneer ek onregmatig optree en dinge wil wegsteek, die vyand die oorhand begin kry en my gebonde hou en inperk met vrees. Vrees dat dit wat ek in die geheim gesê of gedoen het op die lappe sal kom en openbaar gemaak sal word. My in die moeilikheid of verleentheid sal bring of selfs ‘n pak slae op die hals haal. Ek moes op die harde manier leer dat geheimhouding soos ‘n hen is wat eiers lê, in afsondering daarop sit en broei, net om kort voor lank te sien hoe dit oopbars en talle piepende kuikens na vore kom wat luid uitbasuin, sodat almal kan kennis neem van hulle.
Baie keer hoor ons iemand sê (of dalk het jy dit al self gesê): ‘Dis ‘n geheim. Moet asseblief vir niemand daarvan vertel nie,’ net om na ‘n ruk uit te vind die hele wêreld weet reeds daarvan.
As mens rustig wil slaap snags moet jou doen en late (jou lewe) ‘n oop boek wees. Mense moet duidelik kan lees en verstaan wat jy sê en doen, en eerlikheid en opregtheid moet jou wapen teen die vyand wees.
Leuens en ondeurdagte dade is ook soos ‘n kurkprop, een of ander tyd pop dit op na die oppervlak, daarvoor sal die vyand beslis sorg, want sy doel is om jou vrede en vreugde in ‘n volheidslewe te steel. Moet hom dus nie voer met aas nie.
Kyk maar hoe sleg lyk dinge huidiglik op die politieke front. Talle ongeruimdhede word een vir een ontbloot. Daar is beslis ‘n hele paar rooigesigte daar buite en heelwat kaders wat snags sleg slaap.
As jy in ‘n oomblik van onkunde en onwaaksaamheid iets doen of sê wat jy WEET nie reg is nie, moenie dit probeer begrawe of onderduk en dink almal sal spoedig daarvan vergeet nie. Bely dit, bring dit aan die lig, sodat jy vry daarvan kan kom.
©Driekie Grobler
(Skrif aangehaal uit die Bybel Nuwe vertaling (met herfomulerings) ©Bybelgenoodskap van Suid-Afrika 1975, 1979, 1983)
Julie 2021 – OOP projek
2.Die keuses wat ons maak
Ons elkeen skoei ons lewe volgens ons eie keuses en gemak.
Sommige van ons probeer die hoogste sport in ons beroep bereik. Ontsien geen moeite om soveel moontlik te leer, soveel moontlik tyd te bestee, en alles in die stryd te werp om tree vir tree daardie korporatiewe leer te klim nie. Ons leer soveel en sover moontlik. Ons oog vas en ferm op die heel boonste trappie. Want, glo ons, daar sal ons rus en vrede vind. Vrede in die wete dat ons bereik het dit waarna ons so hard gestreef het.
Sommige van ons jaag weer ons drome na. Gaan tot die uiterste om daardie diep begeerte binne ons, om sekere goed te bekom of te vermag, baas te raak. Die hoogste berg in die kontinent te gaan klim, die beste rugbyspeler van die seisoen te wees, die vinnigste spoed om die resiesbaan te behaal, om die aarde te seil, ens. Want, glo ons, as ons met harde werk en baie uithouvermoë deurdruk en die eindpunt haal, gaan dit ons roem, satisfaksie en vrede in ons gemoed gee. Vrede in die wete dat ons die onmoontlike vermag het en ons droom verwesenlik het.
Sommige van ons stel nie sulke vreeslik hoë verwagtings nie, maar poog om elke dag voluit te leef. Ons maak seker dat verhoudings met ons gesinne, mans, vroue, kinders, familie en vriende gesond en goed is. Dit is vir ons belangrik om goeie vriendskappe te handhaaf en ons hou van samesyn en kuier. Solank ons ‘n goeie werk het wat genoegsaam voorsiening maak om in ons daaglikse behoeftes te voorsien, is ons maar tevrede om dieselfde roetine daagliks te herhaal. Want, glo ons, dit verseker sekuriteit en laat ons rustig en vredevol voel. Vrede in die wete dat ons lojaal is in dit wat ons doen en ‘n goeie, stabiele lewe daaruit kan put.
Dit maak nie regtig saak watter keuse ons uitoefen nie, solank ons voel dit wat ons kies en doen, voeg waarde by tot ons lewe.
Geen mens wil tog doelloos deur die lewe gaan nie?
Ja, soms dwing omstandighede buite ons beheer ons om alles te verloor waaraan ons so hard opgebou het. Word daardie sekuriteit, waarin ons so veilig gevoel het, van ons weggevat, soos nou tans die geval is met die pandemie. Land ons miskien op straat waar ons uitgelewer is aan die genade van ander. Werk dinge heeltemal anders uit as wat ons beplan, gedroom en hoop het.
Daarom moet ons ons drome, planne en ideale aan ‘n stewige anker vasmaak. Dit bou en beplan op ‘n vaste fondament.
Die waarde van lewe word nie gemeet aan dit wat ons vermag of bekom nie, maar aan die lewenskeuse wat ons maak en waarop ons lewe ingestel word.
Op wie se insig vertrou jy wanneer dit by die maak van keuses kom?
Wat is die waarde van jou lewe? Is jy seker dat dit aan die regte ewigheidswaarde vasgekoppel is?
Lewe jy vir suiwer goud of streef jy na klatergoud?
‘n Keuse wat elke mens vir homself moet maak.
©Driekie Grobler
3.Lewensreis
My lewensbootjie het bly stroomaf vaar, al probeer ek my lewe lank juis om stroomop te swem. Met die jare het ek rustiger geraak, die spane verloor waarmee ek my moeg roei om kop bo water te probeer hou. Saam met die vloei begin skommel, my nie meer laat ontstel wanneer versperrings of versnellings my vredige gang sloer of selfs tot stilstand ruk nie. Na vele verdrinkings het ek uiteindelik leer water trap en krag gekry van Bo om te rus op ‘n veilig plato.
Die genot van kleinkinders het my aandag opgeëis, my fokus verskuif van sintuiglik na droomtuiglik. Nou vaar ek daagliks saam met hulle na die mooiste en vrolikste droomplekke. Fantaseer, speel, plas en baljaar. Ons verken die heelal en die ganse skepping op verbeeldingsvlugte in ons daaglikse vreugdesvaart.
Maar voor my hang die onbewustelike bewusmaker wat een of ander tyd (gelukkig weet ek nie wanneer nie) my gang sal stuit. Wanneer hierdie gordyn finaal eendag oor my lewensvaart sak, sal daar applous wees, dalk uitroepe van encore wat met doodse stilte begroet sal word, dalk ‘n traan of twee. Daardie dag, wanneer ek deurgelaat word om my ewige tuiste met sielerus te betree.
©Driekie Grobler
Augustus 2021 – As die blare val projek
2.Draai van die seisoen
“As ek moeg word vir die lewe se gewoel …”
Soms het mens nodig om bietjie weg te breek. Om weer stil te kan word en die eenvoud en ongekunsteldheid van die barre natuur te voel en te beleef. Geen boom kan vir ewig bly voortbot en -groei nie. Daarom is daar seisoene, ‘n tyd vir groei en ‘n tyd vir rus en vernuwe.
Dit het ek weereens besef toe manlief uit die bloute voorstel dat ons vir ‘n week moet gaan uitspan op ‘n wildsplaas in die hartjie van die bosveld. Hy kon seker sien hoe my blare begin afval. Hoe ek kaalgestroop en verwese oral skuiling soek.
Hy het besef en het behoefte aan ‘n plek waar die stilte en rustigheid diep in my gemoed kom trap en fyn stofspoortjies agterlaat. ‘n Plek waar my blare in vrede kan afval, sonder dat iemand die kaal, gelittekende stam raaksien en bevraagteken.
‘n Plek waar ek die natuur kan hoor en toelaat dat dit my sintuie afstof en opnuut bekoor.
Wanneer mens diepstil word en selfs jou binnelawaai hokslaan, hoor jy die fladder van sielsmoeg-blare op maat van die lied van die natuur. Bome wat saggies fluister, hul takke swaaiend in die wind, met blare wat dansend applous op elke fluisterkraak.
Soggens, wanneer die son sy perskewang oor die rante stoot, hef verskillende voëlspesies hul loflied aan om die nuwe dag vrolik te verwelkom. Skarrel grondkruipers tussen die verweerde blaretapyt.
Hoor mens die proes van ‘n bok wat naby wei, die skwatter van eekhorinkies in die bome hier bo jou wat luidkeels oor een of ander iets gesels of stry.
En as mens gelukkig is, sien jy die lui, gemaklike gang van ‘n kameelperd wat stadig, statig verbystap, stil gaan staan en sy kop draai om jou vanuit die hoogte met sy groot langwimperoë stip aan te kyk terwyl sy tong krul om die laaste groen blaartjies wat nog verwoed vasklou.
Niks jaag mens nie, tyd is geen faktor nie. Geen dringende e-posse of telefoonoproepe wat wag of gemaak moet word nie. Geen tydrowers wat jou natuurlike gang kom stuit nie.
Met ‘n stomende beker koffie groet ek die dag en kan vir ure buite sit en net luister. Die vrede om my dorstig indrink en my siel verkwik met die lied van die natuur. Salf smeer aan my kaal stam, waar gister se blare reeds afgeval het om plek te maak vir ‘n nuwe seisoen.
Na ‘n salige dag van ontspan sit ek terug en staar na die dansende vlamme van ‘n knetterende vuur wat saamsmelt met die naggroet van die natuur, voordat ‘n swart wolkombers dig oor alles trek.
En wanneer alles uiteindelik tot ruste kom, die blarefluister minder word, hoor ek die veraf huil-roep van ‘n jakkals wat ontwaak. Sal hy my seisoensverandering merk of maak dit vir hom geen saak?
©Driekie Grobler
3.Afskeid
Diep ingedagte trap ek knarsend oor die bros blaretapyt wat wissel van geel, bruin tot oranje. My oë rustend op talle boomreuse wat kaalgestroop hul takke liggies wieg in die wind. My hart se verlang vind aanklank by die kaalheid, die doodsgevoel van verlies. Net ‘n paar maande gelede was alles nog oortrek in lowergroen, sonder ‘n beduidenis van dié naderende doodsheid.
Tog was die tekens daar. ‘n Seisoen se einde in aantog. Het ek dit doelbewus misgekyk? Doelbewus vasgeklou aan my somerdroom? Dalk te besig om die verandering waar te neem? Dalk te egoïsties in eie doen en late?
Hoe dit ookal sy, tyd laat nie op hom wag nie. Geen hand kan ‘n stroom se vloei keer nie. Blare wat afgeval het kan nooit weer fotosinteer nie. Nou is dit te laat. Te laat om nog dit of dat te wou doen. Meer oplettend te wees, meer aandag te wou gee.
Hartseer druk ek die kissie as koesterend teen my bors. Dis al wat oor is. Tussen hierdie kaalgestroopte boomreuse sal ek haar laat rus. ‘n Boom plant ter nagedagtenis van ‘n lewe eens welig en kleurvol, met die soet geur van Muskus. Die glans van adel, met sagtheid en liefde omstrik.
En wanneer die doodsheid weer plek maak vir nuwe lewe, sal ek die vrug van haar saad gradeer met waarde.
©Driekie Grobler
September 2021 – Positiwietis-projek
3.Lente-ontwaking
“Dis heerlike lente, die winter’s verby” bruis die woorde van die ou kinderliedjie ritmies deur my stram wese. Daar’s behoorlik ‘n huppel in my stap (al is dit net in my gedagtes) want gedurende die afgelope wintertyd (letterlik en figuurlik) het ek ‘n hegter verhouding met swaartekrag gevorm. Omdat my voete so stewig geanker is aan moederaarde, is huppel en spring tans ietwat ongemaklik-onmoontlik. Om die gewete te sus, skryf ek dit maar toe aan ouderdom, maar eintlik weet almal wat my ken, dis daai ekstra kilos wat die speek in die wiel is.
Hier waar ek staataf stap (huppel in verbeeldingsvlug) onder die koepel van Magnolias, Koraal en ander boomreuse in lentefleur, voel ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer vrolik en vry. Hoe dan anders, met soveel asemrowende skoonheid om my?
Die oggendlug is gelaai met die geur van verbleikblomme (Yesterday Today and Tomorrow), Katjiepiering, Jasmyn, Laventel, en wie weet wat nog, wat oral in versorgde tuine sierlik pronk in kleur en geur.
Die vrolike getjirp van voëls vind aanklank by my hartslied en ek verkyk my aan hulle vlytige bekvaardigheid om stringe gras en takkies aan te vlieg na oorhangtakke waar hul fladderend nessies bou. Dis ‘n lente-ontwaking wat belofte van nuwe lewe inhou.
‘n Dankbaarheid oorvloei my gemoed toe ek met eerbied opkyk na die wolklose blou hemel bo my en opnuut besef hoe kosbaar lewe is. Hoe bevoorreg ek is om juis in hiérdie vel, gedurende hiérdie tyd, op hiérdie plek en in hiérdie stad en land, soveel seën te kan beleef.
Hoe verder ek stap, hoe mooier en ligter word alles, hoe skoner die bril waardeur ek kyk.
Spontaan begin ek verbygangers groet. Eers kyk hulle my ontstig en half verbaas aan, glimlag dan spontaan terug as groet. Knoop selfs hier en daar ‘n geselsie aan. Met elke tree en vriendelike reaksie wat ek ontvang verbeter my sig en ontwaak iets hier binne my. ‘n Wete dat die krag van menswees lê in kettingvorming. As los skakels raak ons verlore, is kwesbaar en swak, maar wanneer ons aan mekaar vashaak, vorm ons ‘n sterk, onbreekbare ketting van waarde.
Toe my asem begin protesteer en smeek vir omdraai en rus, stap ek tydsaam terug na my eie beskutte nes. Met skoon lense aanskou ek die afgeleefde broeiplek en besef ek het hopeloos te lank hier genes. Met ywer begin ek skanse afbreek en oorgroei ontbos. Stoot gegrendelde vensters wydoop, sodat die aroma van lentefleur kan deurspoel en verfris.
‘n Nuwe nes sal ek bou. Een van laventeltakke, versier met Jasmyn. En saam met die ontwaking van nuwe lewe, my loflied aanhef as dankbare lentelied. “Dis heerlike lente, die winter’s verby!”
(457 woorde)
©Driekie Grobler
Oktober 2021 – Akrostiese projek
2.Gun ons hier en nou
Die jaar is vinnig besig om onder ons uit te gly. Terwyl ons nog die mooi en vrolikheid van Oktober, met al sy blommeprag, geniet, blink oral in winkelsentrums reeds tinsel en Kersfeesklokkies. Word geskenke oordadig uitgestal om jou daaraan te herinner dat jy finansieel sal moet sak skud, want die seisoen van gee en vrolik wees (volgens die koophandel) is aan’t kom.
Oor die jare het winkels die kuns vervolmaak om kooplus aan te wakker. Die geheim lê daarin om sintuie te prikkel. Vrolike Kersmusiek wat goeie herinneringe optower van knus familiesamesyn om gelaaide Kerstafels, kinders wat met groot, blink oë verwonderd na flikkerliggies aan groen plastiekbome staar en geesdriftig geskenke oopmaak. Daardie warm gevoel in jou hart wanneer iemand ‘n toegedraaide pakkie, met jou naam daarop, in jou hande plaas en jy opgewonde nie kan wag om te sien wat daarbinne is nie, net om dalk teleurgesteld te wees, maar tog vroom te glimlag saam met jou halfhartige “dankie”, nog ‘n item om bo in jou kas te gaan bêre. Dit skitter en blink oral waar jy kyk, terwyl Jingle Bells in jou kop refrein. Alles werk saam om ‘n bedwelmde feesatmosfeer te skep en lok jou uit om spontaan deel daarvan te wees.
Met inflasie wat so drasties toeneem en geld wat aansienlik krimp, voel mens half skuldig omdat jy al weer onkant gevang is, weer onvoorbereid en gedwonge slegs met die oë kan koop en voor wonderlike, mooi uitstalgeskenke net kan staan en droom en begeer (wat eintlik sonde is, maar dis ‘n storie vir anderdag).
Kan winkels nie maar ‘n maand langer wag voordat hulle Kersfees in ons gesig laat ontplof en ons hiermee bombardeer nie? Ons is dan nog besig om winter behoorlik af te skud, die winterslaap uit ons oë te vee en ons te verlustig in die kleur en geur van somerontwaking. Die varsheid na die eerste somerreën in te adem.
Asof dit nie genoeg is nie, stroom aansoeke vir donasies van instansies, vir die aanvul van hul Kersfonds, asook verskeie projekte wat elke Sannie en Jannie aanpak om Kersfees vir almal oordadig vrolik te wil maak, ook nog in. SUG! Hierdie rondomtalie mallemeule is besig om te groot en oorweldigend te word. Laat die kop en emosies spin soos ‘n opgewende tol.
Ek wil in Oktober die nuwe lewe wat oral uitspruit saam met die natuur besing. My aandag vestig op somerbeloftes wat deur winter se neweldenke dring. En in November wil ek vredevol onafgehandelde take voltooi, om eers aan die begin van Desember my aandag te vestig op die feesgety.
Winkeleienaars, gun ons asseblief die hier en nou, ‘n lewe in vandag, sonder om môre vooruit te loop en aan ons op te dring. Die lewenspas is snel genoeg. Gun ons ‘n stukkie somerontwaak sonder tinsel en klokkies wat skuld ophoop. Gun ons ‘n lewenstempo waar alles hoort waar dit moet. Dalk sal onnodige stres dan ook by die deur uitloop.
©Driekie Grobler
Januarie 2022 – DRAMA projek
1.’n Vlinder word gebore
n Haasbek glimlag wat die onsekerheid verbloem terwyl ‘n bewerige handjie al stywer aan myne vasklou.
“Jy was dan gister so opgewonde, skat,” het ek probeer moed inpraat.
Dit is die terugflits wat ek kry wanneer ek aan daardie eerste skooldag dink, jare gelede, toe my oudste die nes moes verlaat.
Vir maande het ons voorberei vir die groot dag. Skoolklere gaan koop, skryfbehoeftes bymekaargemaak, genoeg vir ‘n hele arsenaal, want die keuses was so oorweldigend en die een winkel s’n mooier en beter as die ander een s’n. My “papie” moes die beste kry, het ek onomwonde besluit, en nie geskroom om te oorspandeer nie. Dan praat ek nie eers van al die gespog by familie en vriende oor die groot stap in my botterblom se lewe nie. Mens sou sweer ek is koningin Elizabeth en sy die bekroonde prinses, soos wat ek tekere gegaan het. Dit is mos ‘n groot oomblik as jou eerste kind die skoolbanke betree en jy nou ook as ‘n “skoolmamma” gereken word. ‘n Titel wat ek baie gou agtergekom het eintlik net beteken “glansryke slaaf”.
Met die groetslag het sy braaf haar tassie, waarin ‘n spesiale bederfie ongesiens die oggend geplaas is, opgetel. Sy het my ‘n stywe drukkie gegee en kop omhoog oor die drumpel van grootword getree, nog ‘n laaste soentjie met haar hand vir my geblaas en toe buite sig verdwyn.
En daar staan ek, skielik so eensaam en verlore met ‘n knop wat al groter groei in my keel. Ek sluk, maar die hartseer druk hard op my blaas en voor ek myself kon kry, stroom die water oor my wange.
“Toemaar, mevroutjie, sy sal dit oorleef …” probeer ‘n onsimpatieke juffrou my spotenderwys troos. Ek sluk my trane en haas my na die veiligheid van my motor. Tuis maak ek vir my ‘n sterk koppie tee en gaan sit op die stoep om nabetragting te hou. Skaamte oorval my omdat ék toe die een was wat voor die nuutheid en druk geswig het en nie my prinses nie. Sy het vandag vir my onwetend ‘n waardevolle les geleer: Behou jou waardigheid en moenie toelaat dat jou emosies die oorhand kry nie.
Die res van die dag kon ek nie veel uitgerig kry nie. Het doelloos my dagtakies verrig en kort-kort na die horlosie gestaar, die ure afgetel na twaalfuur sodat ek haar kon gaan haal.
Tussen die wagtende groep mammas het sy my raakgesien en waar sy gister nog uitgelate na my toe sou hardloop sodat ek haar in my arms kan opraap en in die rondte draai, het sy bedaard en statig, met haar tassie swaaiend aan die hand, na my toe aangestap gekom. My oë het oor haar gesiggie gevee vir enige ongewone emosie, maar daar was niks, net ‘n selfversekerde, tevrede glimlag en glinster in haar ogies.
Van daardie dag af het ek aanskou hoe my “papie” stelselmatig ontwikkel en verander in ‘n pragtige vlinder. Skool toe gaan het haar laat ontwaak. Haar vlerkies laat uitstrek en sterk word. Haar laat vlieg in ‘n rigting waar ek skielik nie meer die hoofkarakter in die storie was nie.
Dalk het ek dit al daardie eerste dag besef toe ek haar op die drumpel van ontwaking gelos het, vandaar die hartseer en tranedal.
Mettertyd het my aanvanklike hartseer plek gemaak vir aanvaarding, want die lewe verloop volgens sy eie reëls en wette. Meeste van die skooldramas skep ons self. Die besef dat kinders net aan ons geleen word en die koester- en vashoutydperk eintlik bitter kort is, het my met waardering laat besef watter voorreg dit is om ‘n “skoolmamma” te kan wees. Alles suiwer genade van Bo.
©Driekie Grobler
(605 woorde)
Februarie 2022 – Liefdesprojek
1.Die resep vir ware geluk
Dit het my ‘n leeftyd se ervaring, wroeging en kopstamp geneem om uiteindelik tot die besef te kom dat liefde nie ‘n vra-opsie is nie, maar ‘n gee-opsie.
“Die lewe skuld jou niks,” het my wyse ouma telkens gesê wanneer ek op haar skouer huil oor ánder se “onregverdige” optrede teenoor my. Toe het ek dit nie regtig verstaan nie, maar na baie jare se kaalvoetstap deur dorre woestyne, met slegs hier en daar ‘n lappie groen oase, het ek mettertyd die waarheid agter haar woorde begin besef. Daarmee saam ook die skrif wat sê: “Gee en jy sal ontvang.”
My lewe lank het ek gesmag na liefde, na daardie vervulling van ‘n sterk stroom waaruit ek na hartelus kon drink tot versadigingspunt. Maar in my lewe het die stroompie meestal yl gevloei en soms opgedroog, sodat ek smagtend die druppels moes oplek.
In ‘n groot mate het ek vertroosting en versterking gevind in my geloof en kon ek my brandende dors voed met “lewegewende water” uit ‘n fontein wat nooit opdroog nie, want my Skepper, wat my in moederskoot gevorm het, het my deur en deur geken en verstaan, en met groot geduld gelei na die oase waar ek my vandag bevind. Daarsonder sou ek beslis lank gelede reeds soos ‘n droë Karoobossie verpoeier het in die wind.
Ek het alles en almal om my verwyt vir my dorslesstryd: my ouers, omdat hulle die fondament van ‘n gelukkige gesins- en kinderlewe onder my uitgeruk het deur hulle egskeiding voor my sewende verjaardag; my ma, omdat sy skielik, as werkende enkelouer van twee klein kindertjies, nie meer genoegsame tyd, liefde en aandag aan my kon produseer nie; my pa, omdat hy my waarde verlaag het deur ‘n ander gesin bo ons te kies; my omstandighede, omdat dit my verander het van ‘n vrolike, huppelende kind wat hoog kon vlieg en reënboë najaag, na ‘n ontvlerkte dogtertjie wat aardsgebonde moes spartel om oorlewing. Alles wat die res van my lewe verkeerd gegaan het, het ek vas geglo was die uitvloeisel daarvan. Die toedraai van ‘n liefdeskraan deur grootmensselfsug, sonder dat ek enigsins ‘n keuse daarin gehad het.
Maar nou, in my gryse wysheid, kyk ek terug op my lewensreis met meer begrip. Noudat ek al vir 42 jaar ‘n wonderlike, pligsgetroue man aan my sy het; geseënd is met drie uitstaankinders wat my lewe tot barstens toe volgetap het aan vreugde; en die kersie op die koek – sewe pragtige kleinkinders wat ‘n nuwe dimensie aan die woord liefde kom gee het.
Nou, na al die jare, verstaan ek uiteindelik dat liefde nie net ‘n ontvang-opsie is nie, maar eerstens ‘n gee-opsie. Êrens langs die weg het my oë begin oopgaan en ek tot die besef gekom dat ‘n toe-hart nie kan ontvang nie, en dat ‘n oop-hart se kapasiteit jou noodsaak om eers uit te vloei, sodat daar genoeg spasie is vir ontvanklike terugvloei.
Sonder dat ek tóé te veel daaroor gedink het, het my hart met die aanvanklike oopmaak, na jare se droogte, dorstig gedrink tot versadigingspunt. Met die geboorte van my eersteling het daardie oorvol hart se walle oorstroom en kon ek met deernis ‘n splinternuwe hartjie, wat dorstig teen my moederhart klop, deurlopend voed. Later was ek geseënd met ‘n tweede en derde hartjie wat ook dorstig kon voed uit my hartsfontein.
Mettertyd het hulle grootgeword en hul liefdestrome vertak na ander harte. Net toe ek weer die gevoel van droogte begin ervaar, ontspring ‘n splinternuwe fontein van nuutgevonde liefde deur kleinkindpret. ‘n Totaal nuwe ontdekking van oorvloedige gee en ontvang. Hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek terug.
Daardie opregte liefde wat niks vra nie, maar altyd so met oorvloed gegee word, laat my nederig onthou wat die ware doel van liefde op aarde is.
As jou hart dorstig is, skroef die geroeste klep oop sodat die liefde, wat deur ‘n liefdevolle Vader in ons almal se harte geplant is, kan begin uitvloei na buite. Hoe sterker die uitvloei na buite, hoe meer word die invloei na binne.
Dis die resep vir ware geluk: om eers te GEE, voordat jy kan ONTVANG.
©Driekie Grobler
(696 woorde)
Maart 2022 – OOP projek
2.Lewenslesse uit Ouma se spens (700 woorde)
Ouma se spens was ‘n heiligdom van smullekker versoekings wat my menigte maal in die moeilikheid laat beland het. ‘n Verbode terrein vir kinders, maar ‘n lushof vol geure en kleure waaruit ek selde kon wegbly.
Die melkkan vol gedroogte perskes was by verre my gunsteling. Ek kon my ook verkyk aan die rakke vol glasbottels met ingelegte, songeel perskehalwes in soetstroop. Die bottels vol tamatie-, druiwe- en kweperkonfyt het my mond laat water vir ‘n stukkie van Ouma se varsgebakte boerebrood. Soms was daar selfs stukkies gedroogte wildsbiltong (as spesiale bederfhappies) in ‘n erdeskotteltjie onder ‘n spierwit vadoek. En vir gaste, altyd ‘n varsgebakte melktert of twee wat die geur van kaneel swaar in die lug laat hang het.
Ek onthou die reuk van anys wanneer ek een van Ouma se lang, spierwit uitgedroogte beskuite met “vlooie” (soos ons dit as kinders genoem het) welbehaaglik in my beker koffie doop, net om te sien hoe dit die koffie gulsig opslurp. Dan praat ek nie eers van die koekblikke vol gemmer- en koffiekoekies waarmee ons vakansietye bederf is nie. Bottels en blikke wat altyd met trots en liefde voor ons oopgemaak is om saam te geniet. Soete herinnerings van oorvloed en dank.
Ouma se spens was soos die weduwee se kruik, altyd boepensvol interessante lekkernye waarmee sy ons met oorgawe kon bedien. “Seëninge, uit die Vader se hand” het sy dit genoem.
Welaf was sy beslis nie, maar haar oop hand en hart, waarmee sy met liefde uitgedeel het aan ander, het die waarheid van “gee en jy sal ontvang” aan ons gedemonstreer.
Soos die jare aangestap het, het Ouma se spens (en dit wat ek daaruit geleer het) mettertyd begin vervaag. Teleurstelling en seerkry het ‘n waslagie oor my menswees gevorm. Ek het toegelaat dat lugborreltjies van onvergifnis skade aanrig onder my toegeskroefde deksel. Alhoewel ek steeds mooi, aanloklike en gesonde vrugte aan die wêreld vertoon het, was daar ‘n “proe verbode” etiket dwarsoor my lewe geplak. Jare het verloop waarin ek myself onwetend verarm en uitgemis het op die seën van “gee en ontvang”.
Die gemors is, vrugte wat besmet raak en té lank toegeskroef bly, begin mettertyd gis. Op ‘n dag, toe ek dit die minste verwag het, het die drukking te veel geraak en die deksel afgeskiet. Al die soetstroop (wat intussen vrot en suur geword het) het oor alles uitgeloop. Dit het ‘n groot, taai gemors veroorsaak wat lank gevat het om op te ruim en skoon te maak.
Met genade van Bo kon ek Ouma se spensherinneringe herroep van “oopmaak en deel”. Besef dat dit gis en oopbarssessies voorkom. Kommunikasie is een van die belangrikste elemente wat ek as mens ontvang het om my binnekant skoon en vars te hou. Nie sommer net algemene verbale brabbelasies nie, maar die ware kuns om my hart (my emosies en hoe ek oor goed voel en dinge ervaar) met ander te kan deel. Vergifnis natuurlik die hoofelement.
Die smaak van my vrug se waarde kan eers bepaal word wanneer ek myself oopmaak en toelaat dat ander daaraan proe. Al my talente en mooiste bedoelings is waardeloos as dit toegeskroef bly.
Ouma bewandel lankal nie meer hierdie aarde nie, maar in haar eenvoud het sy vir ons waardevolle lewenslesse geleer, soos: Wanneer sy op ‘n Sondagmiddag ‘n bottel perskes uit die spens gaan haal en oopgeskroef het, het sy ons vermaan met “moet nooit ‘n moordkuil van jou hart maak nie”. Wanneer sy die beskuitblik oopgemaak het om met genot toe te kyk hoe ons dit in ons koffie doop, het sy versoek “wees altyd dors vir die regte dinge in die lewe, want dit vul jou menswees en bepaal jou waarde”. Wanneer sy ‘n sakkie gedroogte perskes oopgemaak en uitgedeel het, het sy ons daaraan herinner dat “die lewe skil en droog mens soms uit, sorg net dat jy nooit jou smaak en waarde verloor nie”. Wanneer sy die koekblikke oopgemaak het saam met middagtee, het sy ons vermaan met “hou matigheid voor oë, alles waaraan ‘n té is, is nie goed vir jou nie”.
Spensherinnerings wat my telkens laat introspeksie hou en laat waak oor die toestand van my eie “spens”.
©Driekie Grobler
April 2022 – En toe… projek
1.Skatte uit my onthoukissie (445 woorde)
Dit was ‘n sonnige Saterdag. ‘n Somersdag ideaal vir saamkuier en piekniek onder koeltebome. Reëlings is getref, kosmandjies vol versnapperings gepak, en die tyd vir ontmoeting by Wonderwaters se Waterpark afgespreek. Die ideale plek vir ons vroue om ‘n blaaskans te kry, bietjie op te vang oor wat in almal se lewens aangaan, en sommer net lekker te ontspan terwyl die manne ‘groot kinders’ toesig hou en saam met die kinders op die super tubes en in die swembaddens baljaar.
Sulke saamkuier-familietye sorg dat ons die familiebande stewig hou en gee niggies en nefies kans om mekaar beter te leer ken. In my onthoukissie is baie sulke aangename samekomste, maar een wat uitstaan en ek nooit sal vergeet nie, is juis hierdie spesifieke samekoms.
Soos dit maar gaan by sulke parke, waar volop water en pret is, is daar ‘n aanhoudende gegil en gejil van kinders wat hulself gate uit geniet, en so nou en dan hoor mens ‘n dieper ‘brul’ en skater deurkom vanaf die ‘groot kinders’.
Ons sien hulle net wanneer hulle kom pitstop vir verversings, iets om die dors te les en die energievlakke aan te vul. Die ‘groot kinders’ sorg gewoonlik vir so ietsie ekstra by hulle dorsles-sappies, wat die ‘brul’ mettertyd manhaftiger en waaghalsiger maak.
Met een so ‘n pitstopsessie, om behoorlik asem te skep en die honger te stil, waarsku manlief die kinders om liewer die grootste super tube te vermy. “Daar is iets skerp wat uitstaan op een plek en julle kan seermaak,” vermaan hy, “julle moet maar liewer net op die ander supter tubes ry.”
So gesels en kuier ons vroue rustig voort terwyl ons heerlik in die son verbruin. Hoor en sien vir lang tye geen kinders nie, en drink die vredige stilte sielsalig in. Toe ek vir ‘n slag omdraai om bietjie son van voor te kry, sien ek manlief haastig teen die grasbult opgestap kom. Die trek op sy gesig spreek boekdele. Almal sit regop en wag hom angstig in, bekommerd dat een van die kinders dalk iets oorgekom het.
Uitasem en bleek om die kiewe staan hy voor ons en sê vies/verleë: “Daardie skerp ding op die groot super tube het my swembroek gehaak,” en draai om sodat ons die skade kan bekyk.
En toe bars ons en die skare om ons uit van die lag! Dit lyk of ‘n haai hom beetgehad het. Waar lap agter was, hang nou net flenters en rafels. Al wat wys is twee wit vleeskussings met ‘n paar rooi skraapmerke op. Die trane het geloop soos ons skater en dubbelvou. Niks het darem seergekry in die proses nie, net manlief se ego.
©Driekie Grobler
Mei 2022 – OOP projek
2.Die nuwe normaal
Iets wat mens nogal deesdae gereeld hoor, is: “As alles weer normaal is …” of “Noudat alles weer normaal begin raak …” of “Die nuwe normaal is …”
Nou wonder ek, wat word beskou met “normaal”? Die HAT beskryf die woord “normaal” as “Volgens die (gestelde, aanvaarde) norm; reëlmatig, gewoon, volgens die reël.)
“Normaal” is ‘n kontroversiële woord. Nie almal kyk na die lewe uit dieselfde bril nie, en nie almal handhaaf dieselfde lewenstandaarde nie. Wat vir die een aanvaarbaar is, is vir die ander onaanvaarbaar.
Elkeen van ons leef binne ons eie “normaal”. Ons stel ons eie reëls van “moets” en “moenies” op (gewoonlik oorgeërf uit familietradisies). Tog is daar entiteite wat namens die samelewing sekere besluite neem wat almal op een of ander manier raak. Wat die alledaagse, dit waaraan ons gewoond geraak het, omverwerp. Soos bv. die koms van Covid-19 en die regering se besluit om die hele land aan bande te lê.
Besluite is namens ons geneem wat veral ons beweging gestriem het en ook ons daaglikse verhoudings en sosiale gewoontes beïnvloed het. En, soos met enige besluit, was daar voordele sowel as nadele aan verbonde.
Die voordele mag dalk wees dat ons van ‘n groter stertesyfer gespaar is, maar die nadele was en is nog steeds enorm. Gewoontes, soos ons dit gedoen en geken het, het oornag totaal verander.
Die land se ekonomie is ‘n geweldige knou toegedien wat baie families finansieel geruïneer het. Besighede het ondergegaan en baie mense het hulle werk daardeur verloor. Nou hink ons land op ‘n al groter-wordende probleem van werkloosheid wat ‘n al groter kriminele weiveld skep. ‘n Afvlerk duif wat spartel om weer balans te vind.
Tog het dit mense, wat deur die jare stagneer het, wakker geskud en planne laat maak. Hul kreatiwiteit is afgestof en op die proef gestel. Geykte gewoontes is gehalt. Vele mense het nuut begin dink en wonderlike nuwe geleenthede vir hulself kon skep, en is in ‘n mate nou beter af as voorheen.
Maar die ergste nadeel is/was die emosionele skade wat gely is. Mense het vereensaam, is afgesny van geliefdes, van daaglikse kontak met medelinge wat wetend en onwetend ‘n anker in ons lewe is/was. Wat wetend of onwetend die navigator van ons daaglikse roetine gevorm het. Wat rigtingwysers op ons pad was. Skielik was ons slegs op net onsself aangewese.
Nie almal is emosioneel sterk genoeg om iets positief uit die negatief te skep nie, en ons hoor van beide kante af hoe mense gedwing is om nuut te dink en nuut te skep, maar nie almal kon dit regkry nie. Emosionele skade is aangerig wat dalk nooit werklik weer sal genees of terugkeer na hoe dit voorheen was nie.
Dat ons egter nog hier is, is bewys dat ons elkeen ‘n ingebore oorlewingsmeganisme het. Dat ons nie sommer oorgee en gaan lê om te vergaan nie. Dat ons weet waar ons hulp vandaan kom, en dat genade van Bo ons daagliks deurdra.
Nou moet ons vir onsself ‘n nuwe “normaal” skep, want sekere dinge sal nooit weer kan wees soos voorheen nie. Maar eers moet ons uitpluis wat “normaal” vir elkeen van ons beteken. As individue sal ons nooit almal in dieselfde vorm gegiet kan word nie, want my “normaal” is nie jou “normaal” nie, en wat vir jou aanvaarbaar is, is dalk nie vir my nie. Maar êrens tussenin lê “aanvaarding” wat ‘n middeweg aandui en nuwe gewoontes vorm, want waar ‘n wil is, is altyd ‘n weg.
©Driekie Grobler
582 woorde
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
1.My taal – my trots
Dis die jaar 2022. Middel van die winter. Ek sit knus toegewikkel in my gehekelde poncho en wag dat die vergadering begin. Dis nou al geruime tyd dat die media oorheers word met taalteenstrydighede wat gemoedere hoog laat loop. Afrifrorum het dit goedgedink om hierdie vergadering te belê sodat almal wat ‘n sê het, hul sê kan kom sê.
Eenkant in die saal sit die broeders van ouds. Stywe nekke en groot bekke. Die knypbrilletjies op die punt van hul neuse weerspieël hul geleerdheid. Hulle is dan ook die eerstes wat ‘n spreekbeurt kry toe die geleentheid daarvoor aanbreek.
Na ‘n lang relaas oor die ontstaan van Afrikaans eindig prof Allesweet met die volgende stelling: “Ons kan dus nie toelaat dat Afrikaans afgewater word met allerhande vermengings en afplattings deur verskillende nasionaliteite nie. Ons taal is gevorm deur voorgeslagte wat in hul grafte sal omdraai as hulle moet hoor hoe dit besoedel word deur invloede van buite. As ons wil hê die taal moet bly voortbestaan, moet ons die onkruid uitroei.”
Die stoel begin brand onder my sitvlak en my hand skiet op in die lug. Die man met die mikrofoon stap nader en hou dit voor my mond.
“Laat die voorgeslagte rus in hul grafte,” begin ek braaf. “Vooruitgang het baie dinge laat verander en ‘n taal moet tred hou met vernuwing en verandering. Afrikaans is nie ‘n verouderde taal waarvan die rakleeftyd verstreke is nie.”
“Ja, maar …,” val een van die wysneuse my in die rede.
“Laat die dame asseblief klaar praat,” maak die mikrofoon-man hom stil.
“Afrikaans is ‘n lewendige, vernuwende taal wat groei en ontwikkel van geslag tot geslag. ‘n Taal wat sinkroniseer met elke hartklop en asemhaling van dié wat dit praat.”
“Juis, daarom moet ons waak daarteen dat daar nie skewe of volksvreemde woorde wortelskiet in ons taal nie,” val ‘n ander wysneus my in die rede.
Ek kyk direk na hom. “Meneer, ‘n taal is soos ‘n plant. Niemand het werklik beheer oor die groei daarvan nie en kan dit nie regtig aan bande lê nie. Hoe meer aandag en liefde dit kry, hoe weliger groei dit, in alle rigtings. Taalpuriste is geneig om telkens die snoeiskêr te wil uitpluk om die taal getemper en beheersd te probeer hou. Hoge woorde word op professionele wyse ingespan, veral in geleerde kringe, wat jongmense die verkeerde indruk daarvan gee. ‘n ‘Snob-taal’ noem hulle dit soms.”
“Ons moet tog ‘n voorbeeld stel, trots wees op ons taal …,” waag iemand uit die gehoor dit..
“Ja beslis, maar mens kan net trots wees op iets wat vir jou waarde het. Iets wat met jou hart praat op ‘n manier waarop jy dit verstaan.”
“Afrikaans is goed en verstaanbaar genoeg vir dié wat dit suiwer praat en wil hou, soos ons volk, sonder allerhande verdraaiings en beïnvloeding van buite,” kom dit uit die stywe nek-kamp.
Ek maak of ek hom nie hoor nie en gaan ongesteurd voort. “Afrikaans is ook lankal nie meer eksklusief ‘n blanke volkstaal nie. Dis ‘n taal wat aan almal behoort wat dit praat en lief is daarvoor. Dis nie ‘n taal wat aan bande gelê kan word nie. Almal wat dit praat het reg daarop en praat dit soos dit gemaklik op hul tong en in hul kultuur pas. Daarom is dit ‘n lewendige, vernuwende taal wat sal aanhou groei. Groei verby doemprofete se bewerings en gerugte dat Afrikaans ‘n bedreigde taal is wat kan uitsterf.”
‘n Dawerende applous breek los. Voordat ek gaan sit, kyk ek prof Allesweet vas in die oë en knipoog vir hom.
©Driekie Grobler
Augustus 2022 – My huis is my woning projek
1.Introspeksie
Noudat ek, na jare van swoeg en sweet, wroeg en waag, die kruin van my menslike bestaan bereik het, wil ek (net vir ‘n wyle) asem skep, tot stilstand kom, ‘n oomblik verpoos, omdraai en terugkyk – voordat ek die afdraande (wat voor my uitstrek) onwillig aanpak.
Hoekom dan onwillig, sou jy dit dalk vra. Daarvoor lê my antwoord gereed, maar voordat ek daarby kom, wil ek eers weer gaan kyk hoe ek tot hier gekom het.
My gemoed is stronkgevreet oor al die kanse (geleenthede) wat wetend en onwetend verspeel is. Van tye waar ek hardkoppig en dwars die verkeerde rigting ingevoeter het, al was die rigtingwyser helder en duidelik voor my.
Daardie koppigheid het ek van my oupa aan moederskant geërf. ‘n Nuk wat dwars in my wese ingeplant is nog voor geboorte, en gevoed is deur ongunstige omstandighede buite my beheer.
In my opgroeijare het ons baie huise gehad, maar min wonings. My ma moes, as enkelouer van twee dogters, stoei om die mas op te kom, na my ouers se egskeiding (toe ek sewe jaar oud was). Dit het van ons swerwers gemaak wat agter karige werkies aangetrek het. Ons nooit toegelaat het om weer ‘n gepaste tuiste te kon vind nie. Met die aanpassing van nege verskillende skole, is dit steeds ‘n wonder dat ek wel matriek kon haal. Verdere studie was ‘n onbereikbare droom.
Tog het genade my deurgedra en kan ek vandag terugkyk op ‘n vrugtevolle lewe waarin ek wel weer ‘n tuiste kon vind. Vastrapplek vir my voete kry … ‘n stukkie “myne” waar ek oor jare kon wortelskiet en drome laat waar word. Snoesig gekoester in my menswees, met ‘n ryke oes van ‘n wonderlike man, drie suksesvolle kinders en sewe reikhalsende kleinkinders.
En dis presies hier waar die onwilligheid nou inkom. Noudat ek die lewe se afdraande in die gesig staar en besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees, wil ek ‘n demper op die tikkende horlosie plaas. Ek wil die tyd net so bietjie stadiger laat draai om vir langer (as wat my dalk nog gegun word) die genot van ‘n ware tuiste te kan geniet, want uiteindelik het ek vrede gevind.
©Driekie Grobler
September 2022 – Snelheidsprojek
1.Van hanekraai tot briekaandraai – 765 woorde
As daar nou een ding is waaroor niemand van ons beheer het nie, dan is dit tyd. Soms wens ons dit om en soms wens ons dit moet bietjie stadiger gaan of selfs stilstaan. Alles wat ons aanpak en doen word beplan rondom tyd (onbewus beheer deur tyd). Tyd vir dié, tyd vir daai … soms te veel, soms te min … ‘n tikkende wyser van hanekraai tot briekaandraai.
Hoe goed onthou ons ons kinderdae. Elke dag het soos ‘n ewigheid gevoel, veral op die skoolbanke. Vakansies het ons gespeel van vroeg tot laat, soms ‘n hele empire kon bou in een dag. Gedroom, gewens … eers dat ons oud genoeg moet word om skool toe te kan gaan, want dáár gebeur wonderlike goed en leer mens om self te lees en skryf ‘iets wat die wêreld vir jou kan oopsluit’.
Sodra ons dit onder die knie het en gewoond daaraan is, begin ons wens dat ons al klaar is met laerskool, sodat ons hoërskool toe kan gaan, want dáár lê al die opwinding van tiener wees. Net om halfpad deur hoërskool te begin wens ons is al klaar met skool, sodat ons die wêreld kan gaan verken en ons “eie” ding kan doen.
Op wankelbene durf ons na skool die “grootmenswêreld” (met al sy eise en verpligtinge) aan en verlang soms terug na die ‘goeie en rustige tye’ toe ons sonder kommer en klagtes “vry” kon wees van soveel verantwoordelikheid en werksverpligtinge.
Maar tyd staan nie stil nie en tik weerbarstig voort. Met verlange staar ons na die verliefde paartjies wat hand-aan-hand deur strate wandel en styf teenmekaar op parkbankies sit en “koer”. Wens dan die tyd moet aanbreek dat ons ook dié een kan ontmoet wat vlinders op die maag en sterre in die oë kan bring.
Wanneer hy dan opdaag, snel die dae op “wolkies” verby, totdat ons voete weer die aarde se werklikheid tref. Dan begin ons wens ons kan trou, want as ons eers getroud is, dán sal ons vervuld en waarlik gelukkig wees. ‘n Troudatum word bepaal en reëlings getref. Party dae voel te kort, ander te lank. Uiteindelik breek die dag aan en ‘n sprokie word beleef waar ek die prinses van my kinderdrome in glorie kan uitspeel. Dit word opgevolg met ‘n sorgvrye vakansie, net ons twee op ons eie eiland van liefde.
Maar die wyser tik onverpoos voort en kort voor lank verval die lewe in ‘n eentonige roetine van werk, eet, slaap. Dalk is dit tyd om kinders te kry, die gesin uit te brei. Opgewonde word die groot nuus gedeel en vir nege maande word voorbereidings getref vir daardie groeiende wonderwerk wat aan’t kom is. Hier na die einde toe word die tyd behoorlik afgetel en omgewens, sodat die nuweling welkom geheet kan word en die “popspeel” kan begin.
Min slaap, saam met ‘n omvergewerpte roetine, laat jou soms terugverlang na rustiger tye, maar ‘tyd kan nie teruggedraai word nie’ en ons moet ‘die beste van elke slegte saak maak’, buig of bars.
“Ag, moeder, as hy net eers kan kruip, kan loop, kan praat, kan skool toe gaan, kan gaan werk, sy eie potjie krap, kan trou, met ‘n gesin begin, vir ons kleinkinders gee …” So word baba se lewe ook omgewens. As … as … as, tik die wyser onverpoos voort.
Dan skielik op ‘n dag skrik mens wakker. ‘n Dag waar jy gedwing word om regtig te gaan stilstaan of liewer stil te sit, want jou beweeg het verstok, jou treë gekrimp en jou oë verwater. Dan draai jy om en kyk terug op jou lewenspad en merk dat die pad agter jou driekwart gestap is, en die stukkie pad wat oorbly nou baie kort lyk en of dit afdraand loop. Dae sypel ongemerk verby en as jy sien dan is ‘n week verby. Weke verdrink in maande en jare kry vlerke. Vandag vier ons nuwejaar, en môre flikker Kersliggies in winkelsentrums.
Elke keer as ons die kleingoed sien, is hulle groter en wyser. Ons eie kinders vra ons nie meer vir raad nie, maar gee nou raad oor goed wat húlle dink ons ‘niks van weet’ nie. Nou is húlle in beheer en maak besluite oor ons, namens ons. ‘n Omgekeerde aardigheid, deur sommiges benaam as “volsirkel”, want ons tyd is besig om uit te loop.
Dan kyk mens dankbaar op en besef die volle betekenis van die woord “genade”, en besef opnuut … tyd gaan hopeloos té snel verby, en wonder … was alles maar net ‘n gejaag na wind?
©Driekie Grobler
Oktober 2022 – Liriese projek
1.Lente-mooi
480 woorde
Een van die doendinge op my wenslysie was nog altyd om eendag blomme te gaan kyk. Daardie blomme, doer ver in Namakwaland, waaroor almal so liries raak en ek nog net op foto’s kon sien.
Toe realiseer hierdie wens onverwags. Aan die begin van September (hierdie jaar) kry ons, dis nou manlief en ek, die voorreg om af te toer Kaap toe. Vir die eerste keer beleef ons die mooi van die Kaap in wintertyd. Wat ‘n oogfees!
Ons is op ‘n koue, Gautengse wintersoggend weg uit ‘n vaal, besoedelde omgewing, met amper 900 km se eentonige winterveld as omtrent enigste besienswaardigheid langs die pad. Het ‘n nag oorgeslaap in ‘n yskoue Carnavon, met die temperatuur onder vriespunt. Maar toe ons motortjie se wiele die volgende dag die Kaapse skoonheid tref, veral vanaf Calvinia, was my mond permanent oop van verbasing en my tone gekrul van lekkerkry.
Alles is groen en oral spog die veld met sy Josefskleed. My ge”oe” en “aa”; “kyk daar!”; “kyk hier!” het manlief later begin irriteer, maar mettertyd het ek hom net so liries gehad, soveel so dat ons kort-kort langs die pad stilgehou het om foto’s te neem. Ons was soos twee kinders wat op ‘n skatkis afgekom het. Hoe verder ons gery het, hoe mooier het dit geword.
Oral waar ons afgepak en gekuier het, Hopefield, Somerset Wes, Bredasdorp, Swellendam, en nog so ‘n paar ander plekke, is ons met trots rondgevat om ons versadig te kyk aan die mooi van die Kaap. Die plate en plate geel Canola-lande het uitgestaan tussen die kleurvolle blommeprag in die veld en teen die berge. Oor die berge kan ek natuurlik lofliedere sing. Ek was nog altyd gaande oor berge, en dis nêrens in die wêreld mooier as in die Kaap nie, veral hierdie tyd van die jaar.
‘n Hoogtepunt was ons besoek aan Vergelegen, by Somerset Wes. Die tuine is asemrowend mooi en ek het soos “Alice in Wonderland” gevoel. My siel is oorvoed met skoonheid, met ‘n diepe besef van hoe groot die Skepper van al hierdie mooi is.
Na ‘n heerlike vakansie, met ‘n arsenaal foto’s as bewys en herinnering van dit wat ons beleef het, het ons die terugtog aangepak. Deur die vaal, plat Karoo, met sy eie unieke bossie-skoonheid, tot by ons eie heimat.
Die raaksien van soveel ongekende skoonheid en blommeprag het weer iets in my wakker gemaak. Dit het beslis my “raaksien” verbreed, want nou kyk ek verby die alledaagse vaal en sien weer ons eie mooi raak.
Teen begin Oktober het die Jakarandas begin blom en hierdie jaar is dit besonder mooi. Verwonderd ry ek deur Pretoria se strate en verlustig my aan die blou-pers blommeprag. Ek neem foto’s en spog ook op Facebook oor óns eie lentemooi. Daar is groot waarheid in die Engelse spreekwoord wat sê: “The beauty is in the eye of the beholder.”
©Driekie Grobler
November 2022 – OOP Projek
2.Die prys van roem
Droom ons almal nie maar van kleins af om eendag beroemd of ryk te wees nie? Om geken te word as iemand wat uitmuntend presteer? Heelbo aan die suksesleer te kan staan. Die beste te kan wees in wat ons doen. Te kan doen wat ons wil, wanneer ons wil, en te gaan waar ons wil sonder bekommernis oor finansies of té harde werk nie.
Meeste van ons behaal nooit daardie sukses, status of gemak van kommerlose dae in ons lewe nie, maar tog is daar dié wat dit wel regkry.
Die media is die grootste bron wat begeerte wek by die mens. Ons koop tydskrifte, kyk na rolprente en sien op TV hoe glansryk die bekendes, vernames en rykes lewe. Ons sien dus net die eindresultaat (of buitekant) van iets wat dalk lank gelede begin het en ‘n groot prys en opoffering langs die pad gevra het.
Nou onlangs sien ek ‘n foto van twee paar voete. Die een paar lyk elegant in sagte, satyn balletskoene met satynlint om die enkels en kuite gevleg. Elke dogtertjie het ‘n groot bewondering en bekoring van en oor ‘n ballerina. Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie gedroom het om eendag so ligvoets oor die aarde te kan dans.
Maar wat my toe soos ‘n vuishou in die maag tref, is die tweede foto van paar voete dieselfde paar voete, maar nou sonder die balletskoene. Dis nie ‘n mooi prentjie nie. Knobbelrige, vernielde voete, vol eelte. Misvormde tone van te veel op die punte dans in gevormde, houtblok, hardepunt skoene. Dit vertoon wel sag en elegant van buite, maar is hard, ongemaklik en selfs pynigend aan die binnekant.
Dít is die prys wat ‘n ballerina moet betaal vir die glorie en glansryke bewegings en voorkoms. Agter daardie droombeeld lê baie ure se bloedsweet, opofferings, pyn en lyding. Seer voete wat mettertyd heeltemal misvorm word.
Nou wonder ek: Sal ons nog so gretig ander se sukses begeer as ons weet wat die prys daarvoor was?
Ek twyfel sterk. Want sien, baie van ons is nie bereid om sulke opofferings te maak nie. Ons is dalk waar ons is in die lewe omdat ons bang is om te waag. Bang om té veel moeite te doen. Bang om te misluk of teleurgestel te word. Ons bly dus maar aan die veilige kant, daar waar die lewe nie té veel van ons vra of verwag nie.
Vir dié wat wel waag om uit hul gemaksone te beweeg, hard te werk, vas te byt en deur te druk, ten spyte van – is die vrug van sukses soet en sappig, maar die littekens van die eise wat dit gestel het, lê diep gegraveer. Niks op hierdie aarde val sommer net in mens se skoot nie.
Om te kan presteer moet jou fokus op ‘n droom wees en moet jy besluit om alles in die stryd te werp om daardie droom te verwesenlik. Nie toe te laat dat teleurstellings jou ontspoor of van jou droom laat afsien nie. Met elke teleurstelling werk jy net harder. Aanhou probeer totdat jy die soet vrug van sukses kan pluk en geniet.
Dit sou beslis nie dieselfde waarde hê en soveel beteken as dit sommer in jou skoot val nie. Die feit dat die suksesvolles nie opgee nie, maar aanhou droom en probeer, maak van hulle die wenners wat hulle is. Dit straal uit hul hele wese. Waardige wenners! Menige kyk op en beny hulle, is dalk soms afgunstig oor hul prestasie en wil graag soos hulle wees. Besef jy wat dit hulle gekos het om te kom waar hulle vandag is?
As jy dus volgende keer weer “wens” jy was soos dié of daai of hul sukses begeer, probeer eers bepaal watter prys hulle vir daardie sukses betaal het. Gaan loop eers ‘n myl of twee in hulle skoene. Dalk verander jou begeerte dan in dankbaarheid dat jy sommer maar net is wie en wat jy is.
660 woorde
©Driekie Grobler
Desember 2022 – Samesyn projek
2.Totsiens aan 2022
En so het die jaar verwoed onder ons uitgegly. Ja, dit het vinnig gegaan en ek sukkel nog om “gebriek” te kry, veral na die laaste afdraande hier van Oktober/November af.
Dit was ‘n jaar vol … hoe sal mens dit nou stel … bitter en soet; goed en sleg; vreugde en hartseer; hoogte- en laagtepunte …
Maar ons het daardeur gekom, natuurlik met groot GENADE van Bo af.
Vanoggend toe ek ontwaak en uitkyk, hier vanuit my hoë toring (ons bly op die 5de vloer van ‘n woonstelgebou) oor die koppies en boomryke area waarin ons woon, het ‘n dankbaarheid oorvloedig, soos ‘n snoeskombers, om my koue gemoed kom vou.
Al die bitter, sleg, hartseer en laagtepunte van die jaar het soos die miswolkies, teen die hemelkoepel, verdwyn toe die helder strale van ‘n nuwe sonvervulde dag deurbreek.
Weereens besef ek dat DANKBAARHEID ligter weeg as ONVERGENOEGDHEID.
Tussen al die mat-onder-die-voete-uittrek gebeurtenisse van die jaar, staan ‘n stewige baken wat ons help om nie balans te verloor nie. Daardie baken verseker ons van HOOP en BEVRYDING, selfs gedurende SY lyding.
Sonder daardie BAKEN in my lewe sou ek dit beslis nie tot hier kon maak nie, en hierdie tyd van die jaar, wanneer ek rustig raak, diep asemskep, skoene uitskop en agteroorsit, borrel ‘n jaar se opgekropte dankbaarheid (wat soms verdof deur alledaagse lewenstryd) deur my wese.
Dankbaarheid teenoor my Skepper/Verlosser wat my daagliks (sonder dat ek bewus is daarvan) toevou met sy liefde en telkens weglei van verkeerde paaie; dankbaarheid teenoor my kinders en geliefdes vir hul daarwees en verstaan (al maak ek die verstaan soms moeilik vir hulle); dankbaarheid teenoor my familie/vriende/kennisse wat saam met my opgewonde raak, maar ook deel in my hartseer; dankbaarheid vir die voorreg van gesondheid, ‘n vol lewe, ‘n vol maag elke dag en ‘n beskutte dak oor my kop.
2022 was ‘n jaar vol uitdagings, maar ek is DANKBAAR vir elke lewensles geleer; vir elke gerf genade ervaar; en elke warm sonstraalsoentjie en -drukkie van my “bederfkinners” (kleinkindseën uit Vaderhand), wat ongewensde spinnerakke en stofgedagtes telkens met klokkielaggies en kinderpret kom wegvee.
DANKIE vir nog ‘n jaar op my lewenstokkie uitgekerf en vir die aandeel wat elkeen (wat ek die voorreg gehad het om mee kontak te kon hê) daarin gehad het. Mag die vrede, vreugde en samesyn van LIEFDE jul deel wees in hierdie Feesseisoen, en mag die boodskap van HOOP elke hart opnuut vol hoop maak vir 2023.
Met opregte liefde en omgee,
©Driekie Grobler (2022)
Januarie 2023 – Projek NUUT
2.Die betowering van eerstehands
Daar is ‘n magiese fassinering agter elke nuutbegin of nuwe ding. Hetsy dit ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe uitdaging, ‘n nuwe gebruiksartikel, ‘n nuwe uitrusting, ‘n nuwe lewe of nuutbeplande reisondervinding is. Daardie element van “NUUT” prikkel die psige en gis opgewondenheid oor die onsekerheid en uitdaging van herontdek.
Dis lekkerkry-ondervindings. Nuuskierigheid wat borrelend bruis oor die onaangeraakte, ongebruikte varsheid daarvan; die pasoopmaak en onbekende belofte wat dit inhou. Splinternuut en kraakvars, om jou die geleentheid te bied tot nuwe ontdekking en waardebepaling. ‘n Nuwe belewenis, met ‘n skoon varsheid tot benadering.
Vat byvoorbeeld die aanbreek van ‘n nuwe jaar. Fisies gebeur nie veel nie, dis net nog ‘n dag wat oorvloei na die volgende, MAAR … daar is ‘n nuwe datum en jaartal wat wys op ‘n splinternuwe, skoon kalender, met ‘n nuwe kleurvolle prentjie, vars gedruk, sonder enige inskrywings en aantekeninge of rooi omkringde datums wat jou lewensgang bepaal en bestuur. Nog geen verpligte afsprake, vergaderings, funksies, ensovoorts, wat jou tyd opslurp nie. Die skoonheid daarvan wel afwagting op vir ‘n oorbegin, dalk herbesin, en DIT bied rede tot feesvier. Nuwe dae en maande wat skoon voor jou uitgestrek lê en waarvan jy die keuse het wat jy daarmee wil vul (of altans, so dink jy totdat die werklikheid inskop).
Die ou jaar, met al sy lief en leed se kalender word van die muur afgestroop, opgefrommel en weggegooi (asof mens alles wat gebeur het sommer net eenkant toe kan stoot). Sekondes word afgetel en asem opgehou vir die tydwyser se eerste “dong” om die nuwe jaar aan te kondig, waarna sjampanjeproppe skiet en toejuigings tot vreugdekrete losbars … “happy new year … happy new year” weergalm deur die lugruim se gelaaide atmosfeer. Mense omhels mekaar met aansteeklike meelewing.
Ahhh…, en die bewondering en gekoer oor ‘n nuwe lewe. ‘n Pasgebore mensie of diertjie, ‘n nuwe plant of boom. Dit voorspel ontwikkeling en groei. ‘n Nuwe, skoon boek waarop vele hande (met verskillende idees) gaan skryf as aandeel tot leiding, hetsy goed of sleg.
Die onsekerheid en onderdrukte opgewondenheid van ‘n nuwe uitdaging of nuwe werk wat voor jou uitgestrek lê. ‘n Nuwe pad waar jy die kompas vashou en keuses maak oor watter rigting jy wil inslaan en wat jy daarmee gaan maak.
Dan praat ek nie eers van die geesdriftigheid oor die aanpak van ‘n nuwe reis, vakansie, ontdekking nie …
Daardie kinderlike ekstase om ‘n toegedraaide pakkie te ontvang. ‘n Belofte wat skuil agter gekleurde papier en lint.
Of ‘n nuwe uitrusting wat jy met keur uitkies, oorweeg, en later met trots dra.
Feit is, alles is genadegeskenke uit ‘n liefdevolle Vaderhand. Soms verwag, soms onverwag. Gelukspakkies wat met afwagting en vreugde ontvang en oopgemaak word. Met asem-ophou geluksaligheid bewonder en gekoester word. Jou die geleentheid bied tot groei en vooruitgang.
Mag ons elke geleentheid aangryp wat in hierdie nuwe jaar oor ons pad kom en tyd waardig ag om die nodige kwaliteit daaraan te heg, sodat ons aan die einde van 2023 sal terugkyk en tevrede glimlag oor dít wat ons vermag het.
Seën en voorspoed vir ‘n uitsonderlike jaar.
©Driekie Grobler (520 woorde)