Elmarie Nienaber Van Kampen
Septemeber 2021 – Positiwieitsprojek
2.droom
‘n Mens is nooit te oud om te leer nie. Op geen ander plek op aarde verstaan jy dit beter as in die ronding van ‘n plomp kinderarmpie om jou nek nie.
Wat sy vir my wou sê, was baie belangrik en die oogkontak was nie na wense nie. Wanneer die ogies met groot erns saam met die mondjie praat, doen jy alles om nie die kosbare oomblik verlore te laat gaan nie. Daarom het ek haar opgetel en op die rak langs my laat sit. Net daar kruip die armpie om my nek en ek moedig haar aan om met my te gesels.
Sy het vir my vertel hoedat sy eendag gaan dans en sing wanneer sy groot is. Ek het haar geglo, want sy sing gereeld vir my liedjies in die klas. Die danspassies en handbewegings wat daarmee gepaard gaan, is besonder soepel vir haar plomp vierjarige lyfie.
Sy het meteens, sonder aankondiging losgetrek en ‘n onbekende, self-opgemaakte liedjie met groot oorgawe vir my gesing.
Terwyl sy gesing het, het ek begin huil. Nie fisiese trane na buite nie, want dit sou haar ontstel. Ek het lang, druppende trane na binne gehuil. Jammer-vir-myself-trane, omdat ek té oud voel om te droom. Kwaad-vir-myself-trane, omdat ek nie my kleindogtertjiedrome gevang het nie, maar dit net eenvoudig in die niet laat verdwyn het. Dankbaar-teenoor-God-trane, vir die voorreg om ‘n dogtertjie te ken wat my kan leer droom.
Toe ek haar van die rak aftel, het sy haar kop agteroor gegooi en haar arms wyd gesprei. Ek kon sien dat sy besig was om te droom. Ek kon sien dat die winters van die lewe haar nie pla nie, maar dat haar drome geweef is om die Lente, wat immer op die kim lê en wag om die koue te verjaag. Die Lente wat nuwe beloftes laat wink en drome in oë laat blink.
My trane het nou oor my wange geloop, want haar les aan my was eenvoudig: Droom – en glo in jou drome, hoe jonk of oud jy ookal is.
Elmarie Nienaber Van Kampen
326 woorde