Jongste aktiwiteit:

Lynette McMillan (Kiekies)
vir

Lynette McMillan (Kiekies)

Lees meer oor Lynette McMillan (Kiekies)

Junie 2019 projek

1.Winter is nie Wankelmoedig se maat nie! (247 woorde)

Winter het knypers van yster. Hy blaas ysige misweer deur sy neusgate. Verf die hemelruim vinnig vol bloupers onweerswolke. Kort voor lank dop hy sy emmers om en val reën in vriesende vlae.

Breek ’n moedige sonnetjie dalk deur, is dit waterig, nes my neus. Gelukkig is my lippe gevoelloos van die koue. My vingers staan stokstyf. Ek druk die boonste en die onderste letters op my toetsbord, gelyktydig raak. Ek trek my nek al dieper in my jaskraag in, maar winter se ys-asem hang ewigdurend om my ore.

’n Besoek aan die toilet, dis waar Winter my martel. Die agt lae klere oormekaar om sy koue kloue af te weer, verseker dat ek vroegtydig gaan. Van al die op en af, op en af, om die klere weg te trek, raak ek pure seesiek. Met die sit slag knyp Winter my tere boudjies genadeloos en wellustig. Onwillekeurig verlang ek na Ouma Ann se gehekelde sitplek kappies, wat pas by die Barbie pop wat oor die ekstra toiletrol hang, sê rok. Na ek die stalaktiet met ’n veeg afgebreek het, moet ek weer op en af, op en af.
In die spieël sien ek die opgepofte Oros mannetjie. Selfs al waai die sterkste woesste swartste Noordwester my onderstebo, sal my lyf vanself weer regop spring.
Winter het selfs vir Bokka, wat sy eie ingeboude verwarmer het, mishandel. Hy tik vandag met sy vingerlose arbeidershandskoentjies. Winter is g’n maat vir ordentlike mense nie. Hy is koud-hartig en wreedaardig.

Kiekies

November 2019 – Laat lente projek

1.Liewer laat as nooit

Dis heerlike lente, die winter’s verby. Weer vrolik die velde, vir jou en vir my’ of
‘Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing; al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring’.
Lentetyd is Lasarus-tyd. Dis lewe-kry en opstaantyd. Dis tyd om die liefde op te warm, romanse af te stof, te lag en te skerts.

Dis tyd om jou loer-kappie of jou wyerand strooihoed van die kapstok af te haak, want dis lyf regkry tyd. Dis tyd om te begin oefen, stap, bergklim en draf. Ek doen nie die draf-ding nie, tensy iets my jaag, maar dis strand-loop en wandelpad tyd. Sand tussen die tone en voete in die water tyd. Dis spiere oppomp en beenhare skeertyd. Sodra die lyf begin saamspeel, is dit bene wys en kaal-arm tyd.

Die lente bring matriekafskeid tyd. Dis rok soek en hoop iemand vra my tog tyd. Dis rekord eksamen en stres en deurnag swot en wakker-bly pille tyd. Dis gryp na strooihalms en hoop ek onthou tyd.

Hier in die Kaap is dit tapisserie tyd. Die veld is veelkleurig borduur met varkore, vygies, madeliefies en gesiggies. Kappertjies en laventel. Appel bloeisels, peer bloeisels en lemmetjie groen blare aan wingerd en eikeboom. Dis skrop, regpak, wegpak en vensters was tyd. Dis beddings omspit, rante afsteek, gras sny en saad saaityd.

Dis weer tyd om die stoeptafel te dek en te eet in die flikkerlig van ’n dosyn langnek kerse en die sterre aan die hemelruim. Of piekniekkos uit te lê op ’n lawwe rooi en wit geruite tafeldoekie. Vonkelwyn te drink uit ’n lang delikate kristalglas of osbloed-rooi Merlo uit ’n wye-bek glas, terwyl jy oor die rand die liggies in jou geliefde se oë sien glinster.

Dis braai en slaai tyd en vrugteslaai vir nagereg. Ryp rooi aarbeie, blaargroen kiwi’s, sonskyn oranje papaja en goudgeel piesangs. Dis tyd om op baldadige bont kussings langs die vuur te sit en in die glimmende kole te tuur. Te onthou van lekker tye en te droom van vorentoe avonture.

Dis tyd om ’n pienk skuim-skommel by die straatkafee se bistro tafeltjie onder ’n vrolike sambreel, stadig deur ’n strooitjie te teug en elke koel soet straaltjie wat oor jou tong gly, regtig te proe. Of ’n draairoomys in die skadu van ’n melkhoutboom, baie stadig en smullend te lek. En lek…en lek.

Lente is die tyd om vroeg op te staan om die son se eerste strale te begroet, wanneer hulle stadig oor die ooste-horison kruip om die nuwe dag in te kleur. Of om laatmiddag op die strand te vertoef terwyl einste son die dag afsluit. Stadig van spierwit na goud… na koper… na oranje… en in ’n waas van appelkoos oor die blou-see-horison gly.

Dis tyd om die Here te loof vir al die glorie wat ons om ons sien. Met Sy eie pottebakkershande geskep en vir ons gegee om te geniet. Al is dit eers laat lente in die Kaap. Amptelik eers in Oktobermaand. En hierdie jaar kom dit toe eers in November.

Kiekies

Januarie 2020 – OOP Projek

1.Volkome vrou

Wat presies beteken vrouwees? Vrouwees is vêr meer as biologie of geslag. Sy is spesie soos geen ander. In my werklikheid is vrouwees soms presies dieselfde en soms, lynreg verskillend as manwees. Onverklaarbaar, onverstaanbaar, onversoenbaar, verskillend. Met so wye verskeidenheid in verteenwoordiging, wie het die reg om te besluit wat vrouwees nou eintlik beteken?
Mense, die ‘hulle’ wat altoos sê, hulle klassifiseer vroue as tradisioneel, of modern, liberaal of konserwatief, feminis of non-feminis. Rein of sletterig. Die lys is so lank soos my arm en ‘n been daarby.

Verskoon my, maar mag ek seblief sê wat vrouwees beteken? Vrouwees is menswees en erkentlik wees oor die kompleksiteit daarvan. Mense is gekompliseerde wesens. Vroumense is die oortreffende trap daarvan.

Om vrou te wees is om jou swakhede te erken in ’n imperfekte wêreld. Dis ook om jou krag en mag te erken. Jou hartskrag, jou breinkrag, jou liggaamskrag. Én dat hierdie kragte verskil van vrou tot vrou en kultuur tot kultuur. Vrouwees beteken sterk wees, want jy gaan krag nodig kry.

Vrouwees is seker wees van jou verantwoordelikheid en wat jy in die lewe wil hê. Vrouwees is ook soms bang wees, maar om vrees nie toe te laat om jou te definieer nie. En ook niemand of enige iets anders toe te laat om dit te doen nie.

Soms geniet ek my vrouwees en soms sou ek manwees verkies. Meeste van die tyd voel ek soos ’n vreemdeling op planeet aarde. Om vrouwees in ’n boks te druk, is gans onmoontlik. Daai is ’n feit soos ’n koei.

Ek is plesierig en sarkasties, ongenaakbaar en gelykertyd dierbaar. Meestal selfversekerd, maar soms, tog o so skaam en ongemaklik. Ek hou daarvan om mooi te lyk en gevlei te word. Net die volgende dag weier ek om moeite te doen met my voorkoms.

Ek wil rugby kyk en as dit oor is, Swanemeer se ballet. Ek wil een oomblik ’n intelligente akademiese gesprek voer en net die volgende oomblik, my verbeelding vrylik te laat galop na kabouters en feetjies en ’n leeu wat praat. Ek wil n wetenskaplike feit aan die lig bring en kort daarna wil ek weet of ek my bruin stewels by my swart broek moet dra. Ek vra jou om eerlik te wees as ek vra of hierdie broek my laat vet lyk, maar ek verkies dat jy nie die waarheid praat nie. Ek wil hê jy moet my opinie vra, maar moenie van my verskil nie. Ek wil hê mense moet raai wat ek dink en tog wil ek onvoorspelbaar wees.

Ek wil sakevrou, ma, standvastige eggenoot en verleidelik minnares wees. Ek wil getroue sussie en betroubare vriendin wees. Maar meesal wil ek met oorgawe, kind van God wees.
Al hierdie dinge in een wese. Hoe sal enige mens ooit vrouwees verstaan, tensy jy vrou is. En selfs dan ook nie eers nie.

Kiekies




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed