Jongste aktiwiteit:

Marlene Erasmus
vir

Marlene Erasmus

Lees meer oor Marlene Erasmus

Februarie 2020 – Limeriek projek

2.Humor in die kerk.

Kerk:  net ʼn gebou, maar ook die plek waar talle gelowiges Sondae vergader waar, onder andere Woordbediening plaasvind. Soms is dit in hierdie einste gebou waar doopbeloftes afgelê word en ook feestelike tye soos huweliksbetrekkings geskied. By ander geleenthede is dit vir die minder aangename tye wat almal in die kerk vergader om hulle laaste eerbetoon  aan ʼn geliefde te wys.

Hoe dit ook al sy, die kerk is die plek waar ons gewydheid adem.

Sondae se eredienste verloop dikwels minder formeel en is daar ʼn gevoel van samehorigheid onder die kerkgangers – of altans – meeste van hulle.  In die verligte era waarin ons nou woon is heelwat kerkgangers meer gemoedelik, maar die ouer garde hou baie van stille toewyding en geordendheid.

Die raad wat ons so dikwels in die lewe hoor, is: “Sien die humor raak”.

Wel na oorlewering laat een so ʼn humoristiese staaltjies my lekker giggel.

Jy sien – die heel beste plek vir ʼn kind in die kerk was natuurlik bo-op die galery. Van daar hoog bo die ander kerkgangers kon die klomp koshuiskinders mooi afkyk op die mense onder in die kerk.

Oom Bennie Bles soos hy bekend gestaan het, se gunsteling plek was dan ook reg onder in die middel van die kerk. Pieter, een van die rooikop tweeling broers kon nie ophou wonder hoe dit sou lyk as ʼn rou eier reg op die omie se pankop te lande sou kom nie.  Die onderwerp van bespreking het hulle vir so twee Sondae laat wonder en toe kry die versoeking sowaar die oorhand!  Sondagoggend is Pieter, gewapend met die eier in sy broeksak, gereed om sy bose planne tot uitvoer te bring. Met die sing van die tweede gesang hoor hy een nare kraakgeluid en tot sy groot ontsteltenis volg die verskyning van ʼn goudgeel kol op sy sitvlak. Voordat hy die kwaaijongstreek tot uitvoer kon bring was Pieter die een met die kol en oom Bennie Bles salig onbewus van die ramp wat hy vrygespring het.

Nodeloos om te sê het die streepsuiker wat gevolg het, Pieter en die ander in hulle spore gestuit vir enige verdere manewales in die kerk …

©Marlene Erasmus

Mei 2020 “Ek wens dat ek…” projek

1.Die lewe vir een pond sewe.

Hoe dikwels hoor mens nie die woorde: “Ek wens dat ek …” As jy op ʼn stadium in jou lewe met ʼn tikkie heimwee terugblik op jou lewenspad, duik daar soms sekere vrae by jou op. Vrae soos: “Het ek regtig voluit gelewe?” “Het ek alles gedoen wat ek kon?” “Het ek genoeg aandag geskenk aan die dinge in die lewe wat regtig saak maak?” “Het ek my mense lief genoeg gehad?”

Ons word dikwels groot met die idee dat alles in die lewe ʼn kompetisie is en dat ons ons versier moet stel op: WEN! Van kindsbeen af, reeds so vroeg soos kleuterskool is dit die norm om te kyk wie is die vinnigste, mooiste, slimste of oulikste kleuter.

Die woorde van Rabbi Harold Kushner som dit vir my so mooi op.
“Die hoogste doel van die lewe is nie om te wen nie, maar om te groei en te dien. As jy eendag terugkyk op alles wat jy in die loop van jou lewe gedoen het, sal jy meer plesier kry uit herinnering aan die vreugde wat jy in ander se lewe gebring het as om te onthou hoeveel mense jy uitoorlê en oortref het.” – Rabbi Harold Kushner.

As jy met mense op hulle sterfbed praat, hoor jy dikwels waaroor hulle spyt is in hulle lewe.
Nommer een hoor jy so dikwels: “Ek wens dat ek my lewe meer getrou aan myself geleef het en nie daarna gestreef het om te wees wat ander van my verwag het nie. Nou sien ek hoeveel van my drome verlore gegaan het in my pogings om ander gelukkig te maak.”
Nommer twee waaroor so baie spyt is: “Ek wens dat ek nie so hard gewerk het nie, daardeur het ek klein vreugdetjies soos my kinders se eerste tree en grootword mylpale gemis.
Nommer drie: “Ek wens dat ek die moed gehad het om my ware gevoelens te wys in sigbare optrede.”
Nommer vier op die lysie is dan: “Ek wens dat ek in verbinding gebly het met my vriende en ons vriendskappe gekoester het.”
Nommer vyf is: “Ek wens dat ek myself toegelaat het om regtig GELUKKIG te wees, dat ek my nie blind gestaar het teen klein dinge soos modderspore op my blink teëls of honde se hare op die tapyt nie.”

In die lewe het mens min om te verloor as jou drome oopmond vir jou lê en lag, ons moet leer om mekaar vas te gryp en nie te laat los.

Al haat ons dalk koue winterlug, moet ons dit inasem en ons longe vul, al verstik ons soms aan die hond se hare op die sofa, moet ons hulle hare deurmekaar vroetel en glimlag vir die lewe.
Ons lewe is kosbaar en ons leef dit in kompartemente – leef daarom voluit en treur nie oor herfsblare wat geluidloos grondwaarts tuimel. Draai jou gesig weg van die ellende en glimlag oopmond vir die son wat dans op jou vel … want: JY LEEF!

©Marlene Erasmus
30/05/2020

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

2.Musiek in my ore

As die stad se rumoer vir my te veel word, is ek eensklaps weer die standerdses dogter agter op ʼn sleepwa in Keetmanshoop se stofstrate. Soos elke jaar met die aanbreek van Lente is almal in vrolike klere al singende die strate in. Ieder en elk is gegroet en soos net kinders kan, het ons uit volle bors gesing dat die biesies bewe. Ons het blomme uitgedeel en vreugdevol die nuwe seisoen ingegaan.

Die Wandellied draai in my geheue rond:
“As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad …”

Ek besluit dat ek vir eers genoeg gehad het van die geharwar en beplan ʼn besoek aan ons familieplaas.

Wat sal die langpad wees sonder ʼn fles koffie en lekker-luister liedjies waarop ek uit volle bors kan saamsing. My motor ken die pad na die platteland en dit is kompleet of hy die pad vrolik kafdraf. Met die ruite af speel die wind deur my hare.

Ek kan nie vinnig genoeg uitpak en afstap na die rivier nie. My gunsteling plek op ons familieplaas is beslis die rivierstroom waar ek op die naat van my rug lê en luister na die plaasgeluide. Die rustigheid van die plaasgeluide laat my vergeet van alles. Reg bo my op die wilgerboom se tak sit die tortelduif en roep vrolik: koerrr-koer, koerrr-koer. My hart klop warm in my binneste en die rustigheid van die natuur stem my so gelukkig. Die tortelgeluide laat my na my mammie verlang. Sy was altyd so lief vir die geluid.

Die skril skree van sonbesies straf my ore en versteur die rustigheid van die loom laatmiddag-stilte. Aan die oorkant van die oewer nael ʼn kiewiet spelerig rond “Tjierrrkk, Tjierrrkk, Tjierrrkk” hou hy hom groot meneer. Die geelvinke skree en raas behoorlik asof hulle die dag afsluit in ʼn koor.

Vergete is die stadsgeluide.

As ek terugstap na die opstal hoor ek die naggeluide wat in sagte note opklink oor die werf. Die plaaswerf is nou geverf in sagte donkerblou.

Ek maak vuur in die kaggel en sink in die ou leunstoel neer. Die vuur kletter vrolik in die herd en vonkies dans in die donker skadu’s teen die muur. Hier in die stilte van die naggeluide kan my siel tot rus kom.

Hier is waar ek vry kan asemhaal.

©Marlene Erasmus
28/07/2020

(406 woorde)

September 2020 – Liefdesprojek

2.Die prys van liefde

As ek so sit en dink aan die liefde, wonder ek of outydse liefdesverhale nie net soetsappige snert was nie. Daardie soort verhale waar paartjies verlief geraak het, maar dan gebeur daar iets wat die verliefdes uitmekaar hou en dan voila! kom hulle weer bymekaar uit. Die uiteinde is dan dat hulle gewoonlik lank en gelukkig saamleef.

Gaan sit egter en probeer jy nou ʼn liefdesverhaal optower kom jy baie gou agter dat dit nie so maklik is om die “alles eksie perfeksie liefde” op te tower wat ons in Hollywood sien nie. Op sosiale media beleef ons amper daagliks “jy is die heel beste ding wat nog ooit met my gebeur het” verhoudinge.

Dit laat my wonder wat is liefde dan? As jy vir Google vra, is dit sommer ʼn hele verskeidenheid van komplekse emosies, optredes en opvattings wat direk hand-aan-hand loop met definitiewe sterk gevoelens van getrouheid, beskerming, warmte en respek teenoor iemand anders as jyself.

Ek dink egter dat liefde so ʼn geykte uitdrukking is in die tyd waarin ons vandag leef. Elkeen van ons het besliste vooropgestelde idees van hoe liefde behoort te wees – hoe ons dit moet ervaar en selfs hoe dit op die oog af ook moet lyk. Meeste van die skoner geslag is versot op goeie romantiese flieks, luister na die mooiste musiek, lees baie oor die onderwerp en lees soms ook gedigte. Dit word dan die grondslag wat ons in ons verhoudings soek.

Daar is geen beter samevatting oor die liefde as die wyse Salomo se woorde nie:
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.’ – 1 KORINTIËRS 13:4-8

Ons kyk egter uit die menslike oogpunt na die veelbesproke onderwerp oor die liefde: as mens iemand ontmoet – kyk jy hoe hy of sy lyk, sy familie, sy betrekking, sy opvoeding en helaas ook sy kwalifikasies, maar: sien ons die mens raak?

Alhoewel liefde nie aan ouderdom gekoppel kan word nie, dink ons dat die ouderdom ook ʼn deurslaggewende rol moet speel in die ervaring van liefde. Sommige mense is van nature net baie meer volwasse, daarom dink ek nie dat die ouderdom die mees belangrikste aspek is om na te kyk as jy op soek is na liefde nie. Soos Francois van Coke sing: dit raak beter as jy ouer raak maar soms sukkel ouer mense selfs nog meer om liefde te ontvang of selfs te betoon teenoor ander. Veral mans het opgegroei met die idee dat ʼn man nie liefde of emosies moet wys nie.

Ek dink ook aan ʼn spesifieke versie in Spreuke 30 wat sê: “Daar is drie dinge, nee, vier, wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe ʼn aasvoël in die lug bly, hoe ʼn slang teen ʼn rots op seil, hoe ʼn skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ʼn man en ʼn meisie werk”.

As die mees wysste man wat ooit op aarde gewandel het, Salomo, dit nie kon verstaan gaan ek nie verder probeer om te verstaan hoe die liefde werk nie.

Liefde lyk anders in vandag se tyd, soms kyk ons dit mis en sien nie as liefde reg voor ons oë is nie – dalk is dit tyd vir ʼn besoek aan ʼn oogarts.

©Marlene Erasmus
30/09/2020

(634 woorde)

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

3.Waar lê jou hoop?

Dikwels hoor jy: “Ek het ʼn verwagting dat my dogter ʼn bekende model sal word” of “Die resultate het nie aan my oorspronklike verwagting voldoen nie”.

Waar lê die oorsprong van die woord: verwagting? Die Latynse woord: exspectatum word vertaal as “beskou” of “gesien” – die hoop, illusie of droom wat bereik word as jy ʼn doelwit behaal.

Die menslike ras leef almal met verwagtinge. As iemand beplan om eiendom aan te skaf het hy verwagtinge dat dit vir hom ʼn belegging is.

As jy opkyk na die hemel en jy sien swaar reënwolke saampak, verwag jy dat dit binnekort gaan reën. Jy beplan dan om ʼn sambreel met jou saam te dra sodat jy nie sal natreën nie.

Almal van ons leef met verwagting. Jy verwag byvoorbeeld dat jy sal trou, kinders sal kry of dat jy ʼn suksesvolle sakepersoon sal wees. Ons kan voortgaan om ʼn lys van verwagtinge op te stel, die aantal verwagtinge is legio.

Die realiteit is dat ons lewenslank met verwagtinge in ons menswees sal leef en dikwels is ons verwagtinge die rigtingwyser in ons lewens. As ons verwagtinge nie realiseer nie, is dit ʼn groot bron van teleurstelling vir ons.

Alexander Graham Bell het gesê: “Soms staren we zo lang naar een deur die zich sluit dat we te laat zien dat er ook een open is.” Ons staar ons so blind teen die een verwagting wat nie realiseer, dat ons nie ander geleenthede raaksien nie.

Wanneer kan ons met sekerheid sê dat ons verwagtinge nie realiseer nie?
• Situasies is anders as wat ons dit wou hê.
• Situasies word beslis soos jy dit wou maar jy voel nogsteeds nie tevrede nie.
• Jyself kom nie jou gewenste verwagting na nie.
• Onbeplande gebeurtenis soos COVID-19 gebeur.

Die mislukte verwagtings kan opgedeel word in tipes kategorieë:
Situasionele verwagting mislukkings: as iets nie gebeur soos jy dit beplan.
Interpersoonlike verwagting mislukkings: as optrede van ander mense jou onkant betrap.
Self-geïnduseerde verwagting mislukkings: as ons eie optrede ons teleurstel.

Die oomblik as verwagtinge nie realiseer nie, kan die volgende simptome kop uitsteek;
• lusteloosheid
• angs of depressie
• spyt en selfoordeel
• irritasie of prikkelbaarheid
• self-oordeel of ontkenning
• twyfel of selfs geloof krisisse
• drang om te bly lê in die bed, wil nie die lewe in die oë staar nie.

Ons word so gou vasgevang in die spyt oor ons verlede dat ons nie weet wat om volgende te doen om die situasie te verander nie.

Die groot vraag is HOEKOM misluk ons verwagtinge?
Francis Bacon het gesê:
“As ‘n man met sekerheid begin, sal hy in twyfel eindig;
maar as hy tevrede sal wees om met twyfel te begin, sal hy met sekerheid eindig. “

Verwagtinge wat nie realiseer nie, kom leer vir ons paar waardevolle lesse:
1) Beheer is net ʼn idee:
Al span jy jou in met moeite , is al die moeite nie ʼn waarborg dat jou verwagtinge sal realiseer nie.

2) Jou gemaksone is soms jou ondergang:
Mense is nie gemaak om te bly waar jy altyd veilig is nie, moenie tevrede wees met tweede beste nie – streef jou verwagtinge na.

3) As dit of dat net kan gebeur, sal ek gelukkig wees:
Ons dink dikwels dat geluk afhang van eksterne dinge, dit is nie waar nie – jy sal altyd nog verwagtinge hê.

4) Mislukte verwagtinge is nie jou straf nie:
Mislukking is nie dat ons noodwendig iets verkeerd gedoen het nie – soms is verwagtinge net glad nie realisties nie.
As ons leer uit die lesse wat die lewe ons kom bied en toegewyd bly aan ons waardes, skep ons ʼn veel groter ruimte vir sukses as mislukking in ons verwagtinge van die lewe.

“As u dans, is u doel nie om by ‘n sekere plek op die vloer uit te kom nie.
Dit is om elke stap langs die pad te geniet.”
– Wayne Dyer

Leef met verwagtig, leef met hoop.

©Marlene Erasmus
31/01/2021

(651 woorde)

Februarie 2021 – Liefdes projek

1.My brief aan jou

In die tye waarin ons leef, kan ek jou vinnig kontak op e-pos of sommer ʼn soms na jou stuur. Dit is egter nie die manier hoe ek vandag met jou kontak wil maak nie. Nee, ek gaan vir jou skryf – ʼn regte brief met my kalligrafie-pen op my mooiste papier. Ek gaan dit geur in Jasmyn en toevou in pers lint.

Vandag het ek deur die groen grasse gedrentel en gaan kyk hoe die rivier in vloed afkom hier onder by die rondawel. Ek het so na jou verlang en het gewens ek kon in die kring van jou arms sit en kyk hoe die son gaan slaap. Dit was regtig prentjie-mooi, ek weet jy sou die oomblik saam met my geniet.

Ek dink aan jou met deernis want soos dag en nag van mekaar verskil, verskil ons twee. Alhoewel so verskillend, pas dag en nag bymekaar – hulle voltooi die sirkel van vier-en-twintig uur. Soos jy nie ek is, en ek nie jy, vorm ons tog ʼn eenheid. Jy wat my kom troos met jou woorde so soet soos heuning. Jy wat my regop hou het, as my voete wil gly. Jy wat my trane kom afdroog en my leer om lief te hê.

Na ure van harde werk, kan jy nog my hand vashou en my rug streel. Woorde van hoop en liefde is vir jou nooit te swaar om te uiter.
My lief, ek wil hê jy moet besef dat jy vir my die beeld is van ʼn ware man. Jy wat by tye die skanse laat val en jou kwesbaarheid met my deel. Jy wat saam met my na romantiese films kyk en saam my huil.

Soos ʼn hert smag na waterstrome, smag ek na jou. Jy maak dat ek vrolik vry kan huppel soos ʼn wildsbokkie na die reën. Jy laat my opkyk na die son en glo in môre.
Vandag – ja vandag skryf ek vir jou ʼn brief, my lief.

Ek wil stap na niemandsland en jou daar gaan soek, want jy is die man wat net in my drome leef.

©Marlene Erasmus
28/02/2021

(356 woorde)

Julie 2021 – OOP projek

1.Die tyd toe afskeid-neem verander het

In die pandemie-tyd het so baie dinge verander. Een van die groot veranderinge is hoe ons van geliefdes moet afskeid neem. Sedert die Covid-19 pandemie ʼn werklikheid geword het, hoor ek daagliks klagtes rondom die kilheid van begrafnisse wat nou onder nuwe regulasies moet geskied.

Weens verstaanbare redes is verskeie maatreëls ingestel rakende die plek en getal wat die intieme geleentheid mag bywoon. Op die manier word familie beroof van die samesyn en ondersteuning in saamwees met geliefdes. Ook die aantal mense wat genooi mag word, veroorsaak soveel hartseer in die reeds hartseertyd in ons lewens. Hoe kies jy ʼn handjie-vol wat mag bywoon?

Roudienste vir ons geliefdes het grootliks die nuwe norm geword, maar meestal ook met die afwesigheid van ʼn oop graf waar afskeid ʼn afsluiting geword het. In die verlede was begrafnisse ook die geleentheid waar vriende, familie en kennisse mekaar weer ontmoet het wat dikwels mekaar jare laas mekaar gesien het. Juis daarom dat ʼn stywe handdruk en ‘teen die boesem-vasdruk’ by ʼn begrafnis heel anders voel as ʼn doodgewone raakloop na jare van mekaar nie-sien nie.

Nuwe rituele is ingestel wat die psigologiese funksie moet vervul in die plek van ʼn kis wat stadig in ʼn oop graf afsak. Nou word daar dikwels ʼn kers aangesteek wat brand tydens die roudiens, wat teen die einde van die seremonie deur die familie uitgeblaas word as ʼn sigbare simbool van ʼn lewe op aarde wat verby is.

In so baie gevalle moet tegnologie noodwendig ingestel word om die afskeidneem op ʼn nuwe sinvolle manier te probeer voltrek. Hier kan families wat deur landsgrense van mekaar geskei is, deel uitmaak en betrek word by die roudiens. Soms word geleentheid geskep vir geliefdes om te kom groet deur verby ʼn plek te ry, te stop en simpatie te betoon (drive-by). Soms ook regstreekse uitsendings van die afskeidsdiens in die kerk. Hierdie tipes van afskeidneem bied dikwels ook uitdagings soos byvoorbeeld internet-opvangs of klanktoerusing wat nie wil saamwerk nie.
Hier teenoor is ook die gevoel van: jy is deel van die verrigtinge, maar ook nie regtig deel nie. Op die manier word jy eintlik ontneem van die geleentheid om in persoon saam met die familie te rou. Ons word beroof van die kans om mekaar in die oog te kyk en saam kosbare herinneringe op te roep om so sinvol afskeid te neem – SAAM.

Die feit wat vas bly staan by ʼn begrafnisdiens of roudiens, is dat ons opnuut bewus raak van ons sterflikheid, wat soms ook tot angs kan lei. Hoe moet ons dan die angs hanteer? Dalk kan ons Henri Nouwen se woorde hier ter harte neem: “I have a deep sense, hard to articulate, that if we could really befriend death we would be free people.”

Die verstaan van ʼn begrafnis het ook te doen met ons verstaan van God en ons siening oor lewe en dood. Hetsy by ou tradisionele begrafnisse of die nuwe norm van roudienste, is die belangrikste wete dat die gebeurtenis na God toe heenwys. Dit is immers in die uur waar ons gestroop staan van ons aardse voornemens, sonder pretensie.

Tydens die Covid-19 pandemie het die dood in baie gevalle sonder waarskuwing, ʼn groter werklikheid geword en het die roudiens vir ons die plek geword waarin ons die sterflikheid moet omhels. Die plek waar ons kan getuig van hoop wat ons omring. Die plek waar ons kan getuig van die skepping en dat die Vader die dood oorwin het – so word die angel uit die dood gehaal.

Dalk is dit tyd om onsself te troos dat die probleem: om daar te wees, maar ook nie werklik daar te wees nie, ʼn manier geword het om gedeelde rou so te beleef. Dan kan ons ook hierin troos vind: dat ons saam verlang na ons geliefdes; al sou ons op die ou bekende manier van hulle wou afskeid neem.

©Marlene Erasmus
31/07/2021

(654 woorde)

Augustus 2021 – As die blare val projek

1.Winter van 2021

Om en by in die middel van Maart verander iets in die natuur. Moeder Natuur is besig om haarself gereed te kry vir ʼn grootse skouspel – op haar verfbordjie is die mooiste kleure denkbaar: wynrooi, terracotta, mandaryn, vermiljoen en goud. Soos ʼn regte joolkoningin tooi sy haar in ʼn blare-rok en begin die skouspel met ʼn vinnige dans en tol haarself in die rondte voor sy begin regmaak vir ʼn lang slaap om uit te rus vir die volgende seisoen.

Ek stap deur die tuin waar ek die aroma van die aarde inasem met dooie droë blare wat klap en kraak onder my voete. Die oggend- en aandluggie het ʼn byt en die koeler weer stem my gelukkig. Selfs die lig skyn witter – die helder kleure wat jy in somermaande vind, begin stadigaan vervaal tot die kenmerkende skouspelagtige herfskleure. Daar is selfs ʼn tikkie melancholie op ʼn kilkoue wintersoggend, na die nag se swartrypaanval op jou tuin as alles versteend staan en vry verkrummel onder jou voetval.

Onwillekeurig wonder mens soms: hoekom is daar dan seisoene? Is dit die mensdom wat seisoene uitgedink het? En baie duidelik kry jy die antwoord in die Woord: “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” (GÉNESIS 8:22).

Elke seisoen speel ʼn besonderse rol, en so raak ons opnuut bewus van die veranderinge van seisoene.

Winter: alhoewel daar baie mense is wat nie hou van winter nie, spreek winter in ʼn mate tot ons oor kanse wat by ons verby gegaan het. Party keer is winter kouer en meer genadeloos as ander winters. In die winterseisoen is daar ook die beelde van swart gebrande gras en kil kaal bome. As winter met haar ysvingers kom skryf teen die ruite, voel jy soms om onder die komberse te bly. Gelukkig is winter ook die seisoen vir warm kaggelvuur-aande en samesyn met jou geliefdes.

Die winter van 2021 het vir my ʼn nuwe perspektief gebring op lewe. Die aaklige virus het behoorlik sy kloue ingeslaan onder geliefde bekendes, vriende en selfs familie. In ons klein gemeenskap het mense soos blare van ʼn boom geval. Ons is geruk deur hartseer verlies en trane het gevloei. Nooit weer sal ek ʼn winter binnegaan sonder ʼn oomblik van meegevoel met dié wat nie so gelukkig was soos ander nie.

Na die winter breek die Lente ongesiens stil aan en as jy die oggend voor jou venster staan en jy besef dit is nie vandag so koud soos gister nie en dat die tyd van dik truie en serpe verby is, is dit asof jy sommer nuwe lus vir die lewe vind. Binnekort verskyn die eerste Lente-bloeisels en die geur van nuwe lewe vul die lug.

In die plek van die blare wat geval het, verskyn jong, groen klein blaartjies en daarmee saam vlam groot opgewondenheid op.

Skielik word dit heelwat vroeër lig en mense op straat lyk asof hulle met ʼn nuwe huppel in die stap loop. Ook op die vooraand van ʼn nuwe seisoen sien ons alles binne ʼn groter plan gebeur: “En hulle het op my gewag soos op reën, en hulle mond wyd oopgemaak soos vir lentereëns. Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.” (JOB 29:23-24).

Dan kom klop Somer aan jou deur – ʼn splinternuwe seisoen! Die bome bot en sal aanstons oortrek wees met vruggies. Na die Winter van 2021 maak dit my opgewonde, want soos in die natuur is dit dalk ook nou tyd vir nuwe dinge soos: samesyn, liefde en respek vir mekaar en vir die lewe. Wanneer ons die nuwe seisoen betree is dit dalk bietjie makliker om ander mense en vriende te ondersteun en moed in te praat.

Daar is groot troos in die woorde: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking.” (FILIPPENSE 4:13-14).

Na die Somer, kom Herfs in sy volle glorie met talle kleure om sy koms aan te kondig. Jy sal vind dat Herfs nie net ʼn besonderse tyd in die natuur aankondig nie, maar dikwels het Herfs groot waarde in ons mense se bestaan.

Die tyd het aangebreek dat ons verandering begin omhels! Mag ons nooit vergeet dat ons Vader, wat alle dinge in die natuur verander en in beheer is, ook daar is in die tyd dat die blare van die bome val. Net so is daar ʼn tyd van nuwe lewe, nuwe begin en al verander die natuur om ons in kleure is ons nooit alleen.

So seker soos winde wat waai om ou blare af te gooi, sal daar nuwe bloeisels kom wat nuwe vrug dra in die nuwe seisoen van die lewe …

©Marlene Erasmus
31/08/2021
(817 woorde)

Oktober 2021 – Akrostiese projek

1.Oktobermaand – Is dit al tyd vir Kersfees?

Ek is versot op Kersfees en al die lekker dinge wat daarmee gepaardgaan. Ek kan gewoonlik nie wag dat die spesiale seisoen van die jaar aanbreek nie. Aan die anderkant vang die idee van Kersfees my hierdie jaar my amper bietjie onverwags. Hier in die tweede week van Oktober stap ek niksvermoedende in die winkelsentrum in, my gesprek van flussies nog vars in my geheue. Ek word in my spore tot stilstand geruk toe ek myself baie skielik in die middel van Kersfees bevind!

Terwyl ek nog staan en wonder of my oë my nie dalk bedrieg nie, weergalm “Mary’s boy child …” oor die luidsprekers om my te laat besef ek sien en hoor definitief reg.

Dit voel net vir my of die besighede en winkelsentrums al vroeër begin om Kersversierings af te stof en op te hang. Hier vroeg in Oktober word die meeste van die winkels omgetower met wit, rooi en groen linte en die liggies flikker vrolik orals waar jy kom.

Jy sal vind dat sommige mense nie die vroeë vertoon van Kersfees goedkeur nie en dan bestaan die gevoel dat winkels mense uitlok om meer geld uit te gee en dat die ware rede vir Kersfees heel verlore gaan.

Baie mense wag vir 25 Desember om Kerstyd te geniet. Alles wat dan voor die dag en tyd gebeur voel of dit te vroeg is. Daar is ook die mense wat mens ander wil laat verstaan dat dit verkeerd is om Kersfees te vier.

Die stigma aan die idee om Kersfees te vier, is eintlik hartseer. Ek glo Kersfees se boodskap moet eintlik reg deur die jaar gevier word. Die goeie tyding van Jesus se geboorte geld nie net vir Kersdag nie en is elke dag goeie nuus!

Ek staan vir ʼn oomblik doodstil in die winkel voor die rak met bevrore groente en ek voel ʼn groot vrede oor my spoel. Ek besef opnuut dat Jesus aarde toe gekom het in die gestalte van ʼn gewone mens sodat ons doodgewone lewens nuut gemaak kan word! Ek weet meteens dat die vrede en blydskap van die verlossing nie net vir die 25ste Desember bedoel is nie.

Dit vul my met ongelooflike opgewondenheid om te dink dat ons mag deel hê aan die goeie tyding van Kersfees.

Al is dit net die tweede week in Oktober, as jy voel die gejaagdheid vang jou, of dinge voel donker, brand jou Kersliggies en luister na Stille nag …

Soos ek deur die winkelsentrum stap en die blink liggies en Kersversierings aanskou, dink ek aan die Kersboodskap soos in die Bybel aan ons vertel. Ongeag of dit nou eers Oktober is, hou ek van Kersfees en geniet ek die versierings wat my vandag stilweg kom herinner aan die Goeie Tyding aan ons gebring.

Geseënde Kersfees in die tweede week van Oktober.

©Marlene Erasmus
31/01/2021

(481 woorde)

Januarie 2022 – DRAMA projek

2.Haal so die angel uit die eerste skooldag

Ek wonder wie onthou nog hulle eerste skooldag? Destyds is daar graag verwys dat jy “Grootskool” toe gaan. Ek is seker baie van ons onthou die opwinding van die uitstappie na die skoolklerewinkel. Daar is met groot sorg gekyk na die skool se uitrusting, van sokkies tot by die kleur haarrekkies wat vir die dogters voorgeskryf is. Dikwels is die skoolklere ook ʼn nommer groter gekoop – “sodat dit langer kon hou!”. Jy kon sommer sien wie se skooljurke sit baie los aan daardie klein ou lyfies.

Ek dink terug aan my eerste dag, 52 jaar gelede. Onthou dit nog so goed – ons moes eers by oupa Koos se huis stop dat hulle kon sien hoe lyk ek in my uniform. Die geur van sy tuin vol Petunias se soet aroma is vasgebrand in my geheue. Die opwinding dat ek saam my ouboet skool toe kon gaan en toe die vreeslike angs toe ons daardie onbekende skoolgrond binnegaan. Afgesien van die aanvanklike onsekerheid was daar ʼn mate van selfversekerdheid toe Juf. Soekie vir mamma sê dat sy maar kon gaan.

Paar jaar gelede was die eerste skooldag vir baie kinders ʼn splinternuwe ervaring, maar deesdae is die kleinspan meer gereed te danke aan voorskoolse onderrig. Vir meeste van die nuwe graad-eentjies is die nuwe skool glad nie so vreemd nie aangesien hulle en hulle maatjies alreeds “graad gevang” het aan die einde van hulle Pre-primêre skooljaar.

Alhoewel die meerderheid nuwe leerlinge met selfvertroue en breë glimlagte by hul nuwe skool opdaag, is daar tog van die kinders wat oorweldig voel deur hierdie nuwe tyd in hulle lewe. Daarom is dit nie so vreemd as mens sien hoe sommige ʼn traantjie afvee of selfs as die ouers half aangedaan raak nie.

Om skool toe te gaan kan egter vir sommige kinders dramaties wees, maar gelukkig is daar baie wat mens kan doen om die angel uit die eerste skooldag te haal.

Probeer gerus die volgende voorstelle:
• Skets vooraf die scenario om onnodige onsekerheid uit die weg te ruim.
• Wek ʼn gevoel van afwagting – maak ʼn visuele kalender vir die kind dat hy of sy weet wat om te verwag.
• Roetine, na die heerlike lang Desember-vakansie moet die kind in ʼn slaaproetine kom van vroeg gaan slaap en vroeg opstaan.
• Besoek die skool vooraf dat die kind sy klaskamer kan sien en die Juffrou kan ontmoet.
• Praat gereeld met die kind oor die nuwe skool dat jy as ouer kan agterkom wat hom dalk angstig kan maak.
• Koop betyds skoolklere aan asook tas, kosblik en skryfbenodighede sodat alles gemerk kan word. Gewoonlik stuur die skool voor die tyd ʼn lys aan die nuwe leerlinge. Dit is goeie idee om hom voor die tyd met die nuwe skoolskoene te laat loop dat die skoene nie druk die eerste paar dae nie.
• Leer goeie gewoontes aan soos gesonde ontbyt voor skool want ʼn honger kind kan nie oplet in die klas nie.
Probeer om die eerste dag van skool verlof te neem indien u ʼn werkende ouer is en verseker die kind dat jy daar is vir hom. Dit is baie goeie idee om die aand voor die tyd seker te maak dat die kind mooi versorg is en vra hom om die eerste skooldag se kosblik te help beplan.

ʼn Goue reël om te onthou is dat jul as ouers in vennootskap is met die skool en onderwysers, werk daarom saam en nie teen die skool nie.
Ek sluit af met ʼn aanhaling van ʼn ou Sjinese spreekwoord: “Leer is ‘n skat wat sy eienaar oral sal volg.”

©Marlene Erasmus
31/01/2022

(591 woorde)

Februarie 2022 – Liefdesprojek

3.Liefde: ‘n Gevoel wat jy nog nooit gevoel het nie

Die mens kan so baie emosies ervaar, waarvan liefde seker een van die mees intense emosies is. As ons maar net kyk na aanlyn-media en leesstof wat in boekwinkels beskikbaar is, sal jy baie gou agterkom dat daar talle boeke is wat jou meer oor die liefde wil vertel. Dikwels kom die boeke met ʼn hele rits voorskrifte en voorstelle oor die liefde. Elke individu ervaar egter liefde op sy eie manier.

Liefde is eintlik so bekend, maar ook so onbekend vir so baie van ons.

ʼn Groot hartseer is dat almal nie so gelukkig was om in ʼn liefdevolle milieu op te groei nie. Hierdie individue is ook dikwels die wat sukkel om liefde te betoon. Die sprokies waar die prinses haar eie prins ontmoet en hulle lank en gelukkig saamwoon, is baie kere die idee waarmee jy grootgeword het as kind. Die ontnugtering kom dan die dag wanneer jy besef jou prins is ook maar net ʼn mens met voete van klei, dikwels voel ons dan heel verlore in ons geloof van die liefde.

In die beginstadium van ʼn verhouding is alles rooskleurig. Verliefdheid is egter ʼn chemiese reaksie in jou brein wat na ʼn ruk verwelk. As hierdie aanvanklike stadium van verlief wees, verdwyn, kom daar dieper gevoelens in die verhouding: liefde! Alhoewel dit ʼn wonderlike tyd in jou lewe is, verg liefde ook harde werk in jou verhouding met jou geliefde.

Soos navorsers dit tereg het, is daar verskillende liefdestale tussen mense.

Aanraking vorm die bousteen van geluk in sommiges se liefdeslewe. Die mens wat op fisiese aanraking ingestel is, reageer liefdevol as hul maat aan hulle vat in die vorm van soentjies, drukkies en sommer net mekaar vashou. Heelwat mense sukkel hiermee en gewoonlik is dit die man wat meer ingestel is op koesterende aanraking.

Daar is persone wat kwaliteit tyd as liefde ervaar en hulle floreer behoorlik as hulle kwaliteit tyd met mekaar kan spandeer soos om dinge saam te doen, eenvoudige dinge soos om ʼn lekker lang skuimbad saam te neem. Dit is die klein gratis dinge in die lewe wat vir hulle baie tel, soos byvoorbeeld sit en gesels in die skemer of om prettige aktiwiteite saam te doen.

Vir sommige van ons is dit wanneer jou maat vir jou dinge doen, wanneer die liefdesvure hoog brand. Hier dink ek sommer aan die woorde “wys vir my hoe baie lief is jy vir my”. In die verhoudings waar twee geliefdes mekaar help met alledaagse take, laat die gebaar die mense beslis meer geliefd voel.

Vir my is “woorde” die taal van liefde. Daar is niks so lekker as om die woorde te hoor: “Ek is so lief vir jou, ek waardeer jou”, of  “Jy is vir my spesiaal.” As jy uit ʼn huis kom waar daar nie vir jou vertel is dat jy geliefd is nie, kan dit nogal ietwat van ʼn uitdaging wees om die liefdes taal te praat.

Daar is heelwat vrouens wat ingestel is op geskenke as ʼn bewys van liefde. Dit is nie noodwendig die groot duur geskenke wat hul hart steel nie, selfs ʼn veldblommetjie na die reën is vir hulle die bewys van hul maat se liefde.

Ek dink met ʼn sagte glimlag aan die dae wat ons so opgewonde oor die liefde geraak het. Daardie
frase: “Dis ‘n gevoel wat jy voel wat jy nog nooit gevoel het nie” het vir menigte met ʼn blos op die wange en sterre in die oë gelaat.

Hoe dit ook al sy, Februarie is die maand van die liefde en daarom is ons meer bewus van Cupido met sy pyle, rose, sjokolade en kerslig-etes.

Lank lewe die liefde!

©Marlene Erasmus
28/02/2022

(627 woorde)

Maart 2022 – OOP projek

1.Boek-loer toetse

As ek terugdink aan die skool- en universiteitsdae van my kinders, roep die woorde: “Ma, ek moet môre ʼn groot toets skryf”, sekere beelde in my herinnering op. Daar word deeglik beplan en ʼn rooster gemaak om doodseker te maak dat daar genoeg tyd is om die magdom inligting onder die knie te kry voor die tyd dat die toets geskryf moet word.

Op die dag van die toets is daar baie seker gemaak dat daar geen manier is om skelm verskuilde notatjie saam in die lokaal in te neem nie. Vir verdere sekerheid is alle persoonlike besittings buite die lokaal gelaat en so is jy in die lokaal in vir die aflegging van die toets.

Onder die wakende oog van die toesighouer is daar in absolute stilte geskryf, geen kop mag links of regs gedraai word tydens die toelaatbare tyd vir die toets nie.

My eerste reaksie toe ek hoor van oopboek-toetse, was om die minste te sê: groot verbasing!

Na ek oor my eerste skok was, het ek bietjie navorsing gedoen oor hierdie sogenaamde “nuwe” metode van toetse skryf.

Ek het die volgende wys geword: tydens die oopboek-toets mag die leerling hulle studiemateriaal byderhand hê. Daar word duidelike riglyne aan die leerders verskaf rakende watter materiaal; klasaantekeninge, studiemateriaal, handboeke of eie aantekening, ens. hulle by hulle mag hê tydens die skryf van die toets.

Dit het duidelik geword dat studente en leerlinge behoorlik ingelig moes word as daar van die oopboek-assesering metode gebruik gemaak word aangesien die idee ontstaan het dat daar nie vir die tipe van toetse studeer hoef te word nie.

Oopboek-toetse en eksamens is glad nie so maklik soos wat mens dink dit is nie. Jy moet nog altyd studeer en goed voorbereid wees vir hierdie metode van toetsing. Jy moet weet waar om die inligting te vind in die studiemateriaal, onder druk om klaar te skryf in beperkte tyd.

Oopboek-toetsvrae verskil ook van die tradisionele manier van hoe die vrae gestel is. Hier sal die vrae jou noop om sekere aspekte van die werk weer te gee met verduidelikings.

Wanneer jy jou oopboek-toetsvrae kry, moet jy nie dink dat jy net vlugtig die boek kan skandeer om die presiese antwoord te vind nie, nee – hierdie metode vereis goeie begrip en verduidelikings-vermoëns.

Daar is paar dinge wat jy moet in ag neem tydens voorbereiding:

Ø Die hoofstukke moet betyds deurgelees word. Moet ook nie dink dat jy sommer net gou die antwoorde gaan vind nie.
Ø Jy moet weet waar om inligting te vind – kyk veral na die hoof- en subopskrifte. Dit kan ook baie help om jou eie opsomming te maak.
Ø Maak gebruik van plaknotas vir die verskillende temas.
Ø Skryf belangrike klas-inligting wat jy ontvang het, neer soos byvoorbeeld: formules ens.

Onthou tydens die oopboek-toets om eerstens jou vrae te evalueer. Pak eerste die vrae aan wat vereis dat jy feite moet noem.

Die boek of nota kan aangehaal word ter ondersteuning van jou antwoord.
Wees egter altyd baie versigtig om nie woordeliks uit jou boek af te skryf nie want jy kan punte verloor vir direkte aanhalings.

So: as jy weer hoor van “Boek-loer” toetse, dink twee keer voor jy uit jou vel spring van opgewondenheid. Voorberei sal jy beslis nog moet voorberei!

©Marlene Erasmus
31/03/2022

Neologisme:
*”boek-loer” – geleentheid om in die boek na antwoorde te soek.

(560 woorde)

April 2022 – En toe… projek

2.Die beste medisyne!

Volgens navorsers is ʼn goeie lagbui nie net goed om die stres te verlig nie, maar kan dit jou immuniteit ʼn goeie hupstoot gee en jou pyne ligter maak. Dit laat my dink aan Salomo wat vreugde aanbeveel in die Bybel.

“Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg.” Prediker 8:15.

Elsabé Aldrich sê in haar boek, “Vonkelkyk op die lewe”: ‘Humor is soos ʼn gewilde, duur velroom. Jy vermoed dit doen nie alles wat dit belowe nie, maar jy voel beter as jy dit gereeld aanwend.”

Ek dink met ʼn giggel terug aan die ATKV se Pluimpie toekenningsaand waar daar so ʼn insident plaasgevind het wat die skare behoorlik laat skaterlag het.

Die betrokke aand was ʼn spesiale aand, want dit was ook die 21 ste bestaansjaar van die ATKV in Namibië. Hennie Smit het die skare behoorlik aan die lag gehad met sy grappe. Eers is die Donsies uitgedeel en toe die Pluimpies waarna dit tyd was vir die Veertjie-toekennings.

Estelle en Mias word uitgeroep na die verhoog om hulle prys in ontvangs te neem vir hulle digbundel: Opgeefsels. Estelle was fyn uitgevat in die allermooiste enkellengte gehekelde romp. Estelle voel dadelik iets is nie so heel pluis met haar treë wat sy gee nie. Sy hou vas aan Mias se arm waar hulle die trappies bereik wat na die verhoog lei. Dit voel vir haar of “iets” haar enkels vashou sodat sy nie lekker kan loop nie.

Sy hang aan Mias se arm en fluister benoud: “Wag vir my ek kan nie loop nie”!

Met ʼn ferm hand vat Mias haar en makeer die pas met ʼn vaste tred. By die eerste trappie kry sy nie die een voet voor die ander gelig nie. Sy kyk af na haar enkels en gewaar haar sygladde onderrok mooi om haar enkels gedrapeer. Teen die tyd is almal se oë vasgenael op haar voete met die lagie satyn.

Net vir ʼn split sekonde kyk sy verleë af. Met een galante beweging buig sy af, raap die sondebok op, hou hom in die lug en gooi hom met ʼn mooi swaaibeweging deur die lug.

Vir ʼn oomblik hou almal hulle asems op en volg die onderrok toe dit op die niksvermoedende Hennie se klawerbord beland. Haar vrolike lag verbreek die ysige stilte en toe bars daar ʼn vrolike skaterlag uit. Soos een man staan almal op en klap vir haar hande.

Die mens kan soms so ernstig deur die lewe gaan. Dit is hierdie spontane gebeurtenisse wat kleur en geur gee aan die lewe. Omarm die humor in jou lewe.

©Marlene Erasmus
28/04/2022

(442 woorde)

Mei 2022 – OOP Projek

1.Pa’s, waar is julle?

Ons hoor so baie van die nuwe normaal, die na-Covid tyd waarin ons nou lewe. As ek so na die wêreld om ons kyk, sien ek egter ʼn ander neiging: weinig pa’s wat hulle kinders ondersteun. Ons lewe nou maar eenmaal in ʼn gebroke wêreld en die afwesigheid kan baie vorme aanneem. Egskeidings, enkelouers en pa’s wat net besluit om eerder die pad te vat is maar paar van die voorbeelde van sulke gevalle. Sommige pa’s is wel nie weg nie, maar so verskriklik besig om te werk, dat hulle die tyd wat hul kinders hul die nodigste het, mis. Dit is so dat die lewe duur is en dat die pa in baie gevalle die broodwinner is, maar daar moet ʼn balans gehandhaaf word.

Pappa – as jy nie daar is as ʼn primêre rolmodel nie, na wie kyk jou kind op vir leiding? So baie kinders kyk dan na die lewens van beroemdes, sportsterre, politici of selfs in sommige gevalle is dit die bendeleier wat as voorbeeld gevolg word. Die invloed wat ʼn pa op ʼn kind se lewe het, is geweldig belangrik. Die ma is die versorger, maar die pa behoort daar te wees om die ma in haar rol by te staan en te ondersteun.

Die skoolgaande kind het dikwels onderwysers wat ʼn rolmodel vir hulle word. Deesdae is die tendens egter ook dat daar meer onderwyseresse as onderwysers is, so word die probleem net erger. Dit is veral seuns wat sonder pa’s grootword wat dikwels ook meer tekens van aggressie toon in hulle optrede. In baie gevalle sukkel hierdie kinders ook met depressie en angstigheid.

Die wonderlikste is dat ʼn pa nie regtig veel hoef te doen om hulle kinders se superheld te wees nie. Pa’s wat tyd maak om saam hulle kinders te wees, vind ook baat by hierdie verhouding. Dogters kyk altyd na hulle pa’s as hulle rolmodel en eendag as hulle op die uitkyk is vir ʼn maat, sal sy ook die goeie eienskappe van haar pa soek.

Pa’s moet nie wag om die rol te speel nie. Begin sommer al kleintyd in jou kind se lewe – wees betrokke en belê in jou kind se lewe.

Daar word vertel dat Charles Francis Adams, groot politikus van die 19de Eeu graag dagboek gehou het. Een betrokke dag het hy geskryf: “Went fishing with my son, a day wasted.” Sy seun, Brook het ook dieselfde gewoonte gehad om in sy dagboek te skryf. Sy inskrywing vir daardie selfde dag was: “Went fishing with my father today, the most glorious day of my life.”

Die tyd wat jy saam jou kinders deurbring, voel dalk nou vir jou of dit verlore tyd is, maar dit mag die grootste belegging wees wat jy kon maak. Wees betrokke.

©Marlene Erasmus
31/05/2022
(462 woorde)

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

2.Waar is jou ware tuiste?

Wanneer ons nuwe mense ontmoet, duik die vraag dikwels op: “Van waar is jy?” Dan word daar gewoonlik ʼn dorp se naam genoem en uitgebrei oor ʼn sekere buurt of huis waar die persoon bly.

Kom ek vertel vir jou: ek is ʼn Namibiër in murg en been. Ek is mal oor die feit dat ek na myself kan verwys as Namibiër. Ek het vriendinne wat van ander lande afkomstig is, soos my een vriendin wat van Nederland afkomstig is. Sy is ʼn trotste Nederlander wat vir jou vinnig sal inlig dat sy lief is vir haar land en nasie.

Hoe dit ook al sy, almal het ʼn land wat hulle as hulle tuiste beskou. Baie het hul eie huise, ander leef in huurhuise.

Ek is van mening dat so baie van ons in vandag se tyd baie moeite maak met die huis waar ons woon. So word ʼn huis dan ook jou tuiste.

Die spreekwoord lui: “Oos wes, tuis bes”, wat beteken: in jou eie huis is jy op jou gelukkigste.

Die woord: “Huis” is ʼn wat met baie emosie gepaardgaan. Baie van ons het herinneringe van die plek wat jy as jou huis onthou, gewoonlik daar waar ons veilig en beskermd voel. Daar is egter ook die ongelukkiges wat hul huis onthou as die plek waar hulle baie seerkry ervaar het.

Ek weet een ding, ongeag watter land jy as jou tuiste erken, daar bestaan nie so iets soos die perfekte land of tuiste nie. Daar is orals misdaad en as jy mooi kyk, sal jy bose gebeure kan waarneem.

As jy glo in Hom wat die hemel en aarde geskep het en Sy redding aanvaar het, is ons ware tuiste in die hemel. Dan is jy deel van die hemelburgers.

Jesus het beloof: “Ek gaan om vir julle plek te berei.” Joh. 14:3.

My huis is my woning, maar my tuiste is by Hom.

©Marlene Erasmus
30/08/2022

(325 woorde)

September 2022 – Snelheidsprojek

2.Kan tyd vinniger verby gaan?

As ek so in die gesels hoor hoe mense praat oor die jaar wat so vinnig verbygevlieg het, dink ek aan Hermes, die Griekse god met vlerke aan sy voete. Dit is of die jaar ook vlerke aan sy voete gekry het.

Dit is veral ook as jy met ouer geslag mense gesels dat jy agterkom dat dit veral vir hulle voel die jare gaan vinniger verby.

Ek skryf dit toe aan die feit dat mens veel meer het om te doen as jy jonger is, die rolle van skoolouers met al die bedrywighede kan jou nogal besig hou. Die lysies van alles wat gedoen moes word en funksies wat moes plaasvind het jou dae gevul.

Ek dink terug aan die tyd toe ons as skoolkinders uitgesien het na ʼn heerlike vakansie by die see. Die vreeslike gewag voor die tyd het soos ʼn ewigheid gevoel en as die vakansie uiteindelik aangebreek het, was die ongeveer ses weke ʼn heerlike lang sorgelose tyd.

Hoekom voel dit vir ons, soos die jare wat aanstap, dat die dae, weke en maande onder ons uitglip?

Ek dink dat die jonger geslag en bejaardes tyd anders waarneem. Jy hoor ook dikwels by die jonger geslag dieselfde klagtes dat tyd verbysnel.

Hier aan die einde van die jaar hoor jy so dikwels: “Sjoe! Die jaar lê op sy rug”, “Dit is sowaar oor ʼn maand al weer Kersfees!”, “Hierdie jaar het nou behoorlik vir jou gevlieg!”

Maar wat is “tyd”? Tyd is daar “ding” wat ons almal ken, maar dit is moeilik om te verduidelik wat dit is. Tyd is die iets wat jy kan sien, aanraak of proe nie, maar ons kan dit op ʼn manier meet. Een ding is ʼn vaste besef – tyd is so kosbaar, maar tyd kan ook soos water wat deur jou vingers syfer.

Soos ʼn jong kind voor ʼn stroompie water uithardloop sal jy vind dat die volwasse man of vrou langs die stroompie stap. Teen die skemering van die lewe loop die ouer persoon stadig langs die stroompie wat hom vooruitgaan voor hy op die oewer gaan sit om die vloei te bewonder en geniet. Die stroompie vloei nog teen dieselfde tempo van vroeër, dit is die pas van die mens wat verskil.

Die Prediker het al aan ons kom bekendmaak dat daar ʼn tyd vir alles is. As jy dan wonder oor die tyd wat so verbysnel, is dit dalk nou die tyd om jou prioriteite agtermekaar te kry en jou tyd effektief deur te bring.

Maak tyd vir die dinge wat belangrik is.

©Marlene Erasmus
30/09/2022
(436 woorde)

Oktober 2022 – Liriese projek

2.As die Jakarandas bloei

Jakarandas wat in volle swang hul purper-pers gewaad dra, laat my spontaan glimlag. Die skildery op die doek van Oktobermaand is so ongelooflik mooi.

Ek sukkel om my bewondering te verwoord.

Ek stop in die laan en klim stadig uit my motor. Ek stap oor die pers tapyt van Jakaranda blommetjies wat gestrooi is oor die aarde.

“Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies oral op die veld,
En orals, ai, so mooi!”

C.Louis Leipoldt se woorde sing in my kop as ek om my rondkyk en verdrink in die mooi. ʼn Jakaranda in volle blom voer my weg na die sprokieswêreld van kleur. Ek stap stadig en my hart klop warm as ek sien hoe baldadig die blommeprag baljaar. Ek kan my vas verbeel dat hier selfs ʼn feetjie iewers vir my loer.

Die Jakaranda swaai hulle grasieuse arms in die lug – kompleet of hulle lofliedere sing as wolke soos watte-bolle blom in die ligblou hemel. Pers-onthou kom by my op as ek terugdink aan die viooltjies in my ouma se dorpstuin. Die laan ruik na vrede en lente huiwer op die drumpel van die nuwe seisoen.

Onder die Jakaranda verwelkom die blarevloer vol pers blommetjies my asof hul my nader roep. Op my hurke teken ek ʼn patroontjie op die blommetapyt. Die jaar se metronoom tik-tik rustig aan.

Vrede het ʼn manier om jou te bekruip voor jy dit agterkom. Die vreugdegawes word mildelik aan ons uitgedeel in die natuur. Tyd en die tempo van ons lewe laat my met nuwe oë na die ongelooflike mooi natuur om ons.

Die skildery voor my laat my jubel en juig – ek ken die Kunstenaar wat met die allermooiste kleure op sy palet, hierdie wondermooi sprokie vir ons kom skilder.

©Marlene Erasmus
31/10/2022
(299 woorde)

November 2022 – OOP Projek

1.Skoolverlaters: vakansie is om te geniet

Dit is amper weer sulke tyd! Die jaar staan einde se kant toe. Na twaalf lang jare breek die eindeksamen uiteindelik aan vir die matrieks. Vir sommige is hierdie tydperk nie so ʼn groot nagmerrie soos vir ander nie, die tyd is min vir voorbereiding en die einde is in sig. Met die laaste hekkie in die peilvlak is die volgende vooruitsig: vakansie! Let wel: MATRIEK-vakansie. Jou heel eerste vakansie as jong grootmens en die vryheid waarvan jy al so lank droom. Die ouers deel nie noodwendig in die opgewondenheid van hierdie vooruitsig nie.

Met groot omsigtigheid word daar beplan,bespreek en uitgesien. Dit is immers die heel eerste vakansie as “grootmens” saam jou vriende.

Vroeër jare het die gebeurtenis gewoonlik afgespeel as vakansie by die see of sommer net gaan kamp iewers in die natuur. Deesdae se matriekvakansies lyk bietjie anders; ‘Matriekbaai in Mosselbaai’ of die ‘Plett Rage in Plettenbergbaai’ is maar twee van die gesogte vakansies om op te noem.

Matriekvakansies gaan dikwels gepaard met stigma van alkohol- of dwelmmisbruik. Dikwels rede tot kommer vir sommige ouers, maar mens moet ook jou opvoeding vertrou en jou kind die kans gee om sy keuses te maak.

Dit sal wys wees om vooraf met jou kind te gesels en net weer die gevare van groepsdruk uit te lig. Jongmense wil nie graag “uit wees” nie en kan maklik so verlei word.

Ouers moet die jongmense aanmoedig om ten alle tye die vrymoedigheid te hê om te skakel as daar probleme opduik.

Matriekvakansies is veronderstel om die tyd in die tiener se lewe te wees wat hulle vir altyd moet onthou. Ons as ouers kan seker maak dat die kind deeglik bewus is van die gevare van drink en bestuur en kan vooraf seker maak of daar dienste beskikbaar is vir vervoer na en van funksies af.

Maak seker dat jy weet waar hulle is al dring hulle aan op vryheid van keuse.

Laastens, onthou dat jy ook eenmaal jonk was en verstaan dat die matriekvakansie die groot vakansie is waarvan jou kind al so lank droom.

Viva la MATRIEKVAKANSIE!

©Marlene Erasmus
30/11/2022
(355 woorde)

Desember 2022 – Samesyn projek

1.My moskombersie

Ek sit en verlustig my aan die vrolike gelag en geskerts van my vriende. Vir my is dit ʼn groot voorreg om in die geselskap van my hartsmense te wees, mense wat hulle nie laat onderkry deur die klein uitdagings van die lewe nie.

Aan die ander kant is dit ook opvallend dat dit juis hierdie groep mense is wat van die gewone dinge in die lewe iets baie besonders kan maak. Die gevoel van gemeensaamheid in doodgewone dinge soos om saam kos maak of take af te handel, praat ʼn taal van samehorigheid. So tussen die saamkuiery deur vloei die gesprek so gemaklik dat dit my laat voel of die gordyn op ʼn verhoog oopgeskuif het en ek na ʼn toneelstuk sit en kyk.

In die veilige omgewing van samesyn verdwyn spanning oor sake van die dag soos byvoorbeeld die politiek of misdaadsyfers wat besig is om die hoogte in te skiet. Die inflasiekoers wat aan ons senuwee knaag is ook vir ʼn wyle op die agtergrond.

Samesyn met vriende vorm ʼn uiters noodsaaklike deel van die mens se bestaan, ongeag hul ouderdom. Hoewel jou persoonlike ervaring van vriendskappe en samesyn dalk vir jou onsigbaar kan voel, is dit vir die mens van groot ware. Die ontspanne gesprekke tussen vriende is nie om te ontsnap van die werklikheid nie, maar is eerder ʼn erkenning dat die wêreld met al sy sake belangrik genoeg is om oor te besin.

My gedagtes volg die spoor van onthou. Ek dink terug na die tye by Ouma Lilly in Upington. Die treinrit van Keetmanshoop af het die vakansie op hoë noot laat afskop! Die “tikke-tik, tikke-tik” van die ysterwiele op die spoorstawe wat soos deuntjie in my kop draai. Die lootjies trek om te bepaal wie slaap op die boonste bank in die kompartement. Dan die heerlike saamkuier met nefies en niggies wat ek lank laas gesien. Die stories in die sitkamer voor die kaggelvuur met stomende bekers Milo soos net ouma dit kon maak. Om deel te wees van die familie het my veilig laat voel as ons in ʼn streep gestap het om te gaan swem by die openbare swembad.

Nou as volwasse vrou laat samesyn my nog steeds geliefd voel. Asof ek hoort en waardeer word.

Ek kyk na my vriende en onwillekeurig kom die woorde van Laurika Rauch by my op:

“Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
– beskut teen die koue –
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie …”

Ek voel veilig in samesyn.

©Marlene Erasmus
27/12/2022

Krediet aan Laurika Rauch

(438 woorde)

Januarie 2023 – Projek NUUT

1.Op die nuwe jaar

Aan die begin van nog ʼn nuwe jaar is dit asof almal smag na ʼn vars, nuwe begin. Dit laat my wonder: is daar nog werklik so iets soos nuuts?

Die skrywer van Prediker verwoord sy soeke so:
“Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” – Prediker 1 : 9

As hy ook soekend was na sin van sy lewe, het hy gou tot die slotsom gekom dat daar NIKS nuuts in sy bestaan was nie! Dwarsdeur die wysheidsboek spreek die boodskap duidelik: Alles loop uit op niks!

So kan ons gaan kyk en soek na nuut in ons werksituasies, die geskiedenis oor die jare en die natuur om ons.

Die natuur oor die eeue: winde waai wanneer hulle moet waai, reën val wanneer dit so bestem is en die riviere loop, maar hulle kan nie die oseaan laat oorloop nie.

Kyk ons na die geskiedenis van die afgelope jare, vind jy selde iets werklik nuut wat nog nie voorheen gebeur het nie. Tye van konflik en oorlog het jare gelede al plaasgevind en die patroon herhaal homself nou in die hedendaagse tyd.

Mense werk hard, maak bymekaar en raak welgesteld. Ander werk, maar bly lewe onder die broodlyn. Alles tevergeefs.

Indien ons in 2023 soekend is na iets kraaknuut net in die wêreld, mag ons ons dalk spoedig in die maalstroom van ʼn sinnelose bestaan beland. Seisoene sal kom en gaan, soos in die verlede sal ons mor oor hitte en droogte tot die reën begin val en droogtes kom breek.

Gevalle van misdaad, finansiële nuus en wêreldgebeure verskyn in die koerante soos elke jaar. Net sodra misdaad onder beheer is, is daar weer nuwe golf van gevalle wat plaasvind.

Ons moet egter nie op moedverloor se vlakte bly nie, daar is beslis iets nuuts om te begeer. Die raad is oud: Prediker het lank gelede reeds die raad gegee: moenie net in jou bestaan jou soeke vestig nie! Soek allereers na Hom wat gesê het: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21 : 5.

Die Vader het gekom om die mens geestelik nuut te maak sodat daar groei kan wees in ons. Sy wens is dat ons sal besef wie Hy is en wat Hy vir ons kom doen.
Elke dag is daar vonkelnuwe wonders wat om ons plaasvind soos om paar voorbeelde op te noem: die geboorte van ʼn nuwe baba, groot swaar reëndruppels wat neerplof in die stof en plantjies wat ontkiem en groei tot groot sterk plante.

Ek sien uit na ʼn kraakvars nuwe jaar, want die belofte is duidelik:
“Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie”. (Jesaja 65:17).

©Marlene Erasmus
30/01/2023
(451 woorde)

 

Maart 2023 – OOP projek

2.Die onveranderlike sekerheid

Deesdae hoor mens so baie van Kunsmatige Intelligensie (KI) dat jy nie anders kan as om bietjie daaroor te lees nie. Hoe vreemd die begrip vir mense mag klink, het die meeste van ons daagliks met een of ander vorm van KI te doen. Hoeveel van ons vra nie so nou en dan vir Siri of Alexa op ons slimfoon ‘n vraag nie? Selfs as jy met ‘n stemboodskap vir jou slimfoon vra om iemand op jou kontaklys te skakel, het jy te doen met KI.

Nie daaroor nagedink nie?

Baie van ons het ook met groot belangstelling geluister toe Sophia, die heel eerste KI-humanoïed aan die wêreld bekendgestel is. Sy het die wêreld met haar baie sigbare menslike gelaatstrekke geskok. Daar is onderhoude gevoer, vrae gevra en lekker gelag.

Ek dink aan die voordele van die slim assistent soos Siri of Alexa wat vinnige klein take vir jou kan doen, soos oproepe maak, boodskappe stuur en selfs jou musieksmaak in ag kan neem. KI kan ook aangewend word as die dag olik voel. Byvoorbeeld, as jy vir X-strale gaan, kan die KI-stelsel gebruik word om uitslae te verduidelik. Hierby sluit Google en Bing aan, soekmasjiene wat ons daagliks gebruik om inligting op die internet te soek.

Ek hou daarvan om KI te gebruik om vinnig en akkurate vertalings tussen verskillende tale te maak. Ek droom, soos baie ander, om die dag in my Tesla-motor met sy “autopilot-modus” te ry, wat moontlik is as gevolg van idees van Kunsmatige Intelligensie (AI) en Tesla se gevorderde neurale netwerkargitektuur. Verbeel jou net: jy klim in jou motor, sleutel in waarheen jy wil gaan, sit agteroor en ontspan terwyl jy veilig van punt A na punt B geneem word. Hoe wonderlik dit ook al mag klink, vra ek myself af of ek regtig agteroor kan sit en ontspan.

Na my mening het KI gekom om te bly. Ek voorsien dat KI in die toekoms ‘n nog groter rol in ons daaglikse lewe sal speel, aangesien tegnologie steeds ontwikkel en verbeter. \

John F. Kennedy het gesê: “Die een onveranderlike sekerheid is dat niks nie seker of onveranderlik is nie.”

©Marlene Erasmus

 

April 2023 – KLUG projek

1.Skokkende nuus oor Vader Kersfees

Die hoogtepunt van enige kind se jaar is Kersfees. Kersfees en geskenke word in een asem genoem en dan kan jy nie anders as om aan die “oom in sy rooi pak en wit baard” te dink nie. So het ʼn storie in ʼn dagblad my oog gevang: “Polisie in VSA is ontbied om gerugte dat Kersvader nie regtig is nie, die hok te slaan.” Kan jy dit glo? Daar was talle mense wat so ontstoke was dat Kersfees vir hulle kinders bederf is.

Die winkels begin al amper twee maand voor Kersfees met hulle bemarkingsveldtog om geskenke aan mense te verkoop. Daar word jaarliks duisende op kersgeskenke spandeer.

My herinneringe van Kersfees is die sokkies wat ons kon ophang sodat daar vir ons geskenkies ingesit kon word. Ons is bederf met klein geskenkies, nie soos vandag se kinders nie wat duur, groot geskenke as vanselfsprekend aanvaar nie.

Ons is vertel van Kersvader wat die aand voor Kersfees sou kom besoek aflê. Net die soet kinders se naam is op sy lysie. Ek onthou hoe bekommerd ons was om te weet of ons name op daardie lysie is al dan nie.

Van my vroegste herinnering was hoe Kersvader in die straat oorkant ons huis verby gestap het in die verte. Ek onthou die figuur met die groot maag in sy bloedrooi pak en spierwit baard. Ek was so hartseer dat ek hom nie na ons huis sien stap het nie, inteendeel hy het al hoe verder gestap.

Ja, toe kinders klein was, was die koms van Kersvader ʼn groot opgewondenheid. So het Kersvader menigte kinders verras. Die aankoms was soms agter op ʼn oop wa, soms op ʼn bakkie of selfs ʼn vierwiel motorfiets. Ons was bevoorreg om in die platteland Kersfees te kon vier.

Maar, toe breek die aand aan wat oom Rooies opstaan en ons kinders stilmaak. “Stil! Nou luister julle almal na my! Laat ek julle kom vertel dat Kersvader nie regtig bestaan nie! Kersvader is die grootste klug!”

Daar het ʼn geskokte stilte oor die groepie kinders neergedaag, van die grootmense het op hom afgestorm. “Rooies! Kom, stop nou dadelik!”

Die oomblik wat baie ouers gevrees het, het aangebreek. Die oomblik waar jou kind die skokkende waarheid oor Kersvader moet hoor.

Hoe hanteer mens hierdie moeilike situasie? Veral as jou kind se geloof aan Kersvader meteens verpletter word. Stel jou kind gerus dat hy nie bedreig voel deur die waarheid nie.

Jy kan egter die beste van hierdie geleentheid gebruik maak om aan jou kind te verduidelik dat Kersvader ʼn simboliese betekenis het, en dat dit baie belangrik is dat hy die ware betekenis van Kersfees sal hoor.

Bly kalm en leer jou kind dat Kersfees oor veel dieper dinge gaan as Kersvader met sy sak geskenke.

©MarleneErasmus
29/04/2023

(469 woorde)

Junie 2023 – Winter projek

1.Winterdood en die mens

Winter laat my onwillekeurig dink aan die woorde van Eugène Marais: “O, koud is die windjie en skraal. O, treurig die wysie op die ooswind se maat …”

Winter word ervaar as ʼn seisoen van koue, stilte en dood in die planteryk. Die mens se lewe verloop ook in seisoene, waar sterflikheid ʼn voldonge feit is. Ek kyk graag na die parallelle tussen winterdood en die mens se lewe. Winter in die natuur kan gesien word as die dood van ʼn spesifieke seisoen, maar terselfdertyd  bied die begrip vir my ʼn veel dieper perspektief op die mens se sterflikheid.

In beide gevalle beleef jy verbygaande skoonheid. Voor die winter sy verskyning maak, vind jy bome getooi met blare, vol mooi blomme. In wintertyd vind jy dat daardie selfde bome kaal en weerloos staan. Winter het egter ook sy eie skoonheid. In sommige streke mag jy die wonder van vallende sneeuvlokkies beleef. Die mens se bestaan word ook gekenmerk deur verganklikheid. Soos blare aan ʼn struik, verskyn en verdwyn die mens met die tyd wat verbysnel. Daar is niks so mooi soos die geboorte van ʼn kind nie. Die broosheid van ouderdom ruk aan my hart. Aan die ander kant staan die hartseer en finaliteit van die dood. Die Woord herinner ons hieraan; ʼn tyd om te kom en ʼn tyd om te gaan, ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterf. Winterdood kom herinner ons ook aan die hierdie begrip.

Alhoewel die winter die einde van ʼn seisoen aankondig, hou dit ook vir ons die belofte van herlewing en nuwe lewe in. Winter is dit die tyd wanneer nuwe krag sluimerend skuil in weerlose kaal takke, net om later weer vol blomme te wees. Hier kan ons ook die vergelyking tref met die menslike gees wat ongelooflik veerkragtig is! Al gaan jy vandag deur die dal van die doodskaduwee, sal die son wel weer skyn. Winterdood herinner my aan die wonder van herstel, ongeag of jy tans in die donkerste seisoen van jou lewe is.

In die natuur vind ons dat winter ʼn tydperk van rus is. Dit is asof die winter die mens opnuut laat dink, ʼn tyd vir selfondersoek en besinning. As mens, ondervind almal die behoefte van stilte waarin jy kan asem skep en jou lewe evalueer. In stilte vind jy rus en besef opnuut die waarde van innerlike vrede. In hierdie koue seisoen herontdek jy warmte van ʼn kalm gees.

As jy dan in die koue van die winter bibber en beef, omarm die stilte en onthou die geleentheid tot groei wat aan jou gebied word. Mag winterdood met sy nederige wysheid ook vir jou die lewensles leer: daar is altyd herstel en vernuwing, selfs te midde van die koue om jou.

©MarleneErasmus

24/06/2023

(444 woorde, insetsel “O, koud is die windjie en skraal. O, treurig die wysie op die ooswind se maat …” nie getel nie.)

 

Oktober 2023 – KORT projek

2.Klein mensies, groot uitdagings

(Woordtelling : 396)

 

Sneeuwitjie en haar sewe dwergies was seker die eerste keer wat ek bewus geword het dat daar besonderse klein mensies iewers in die samelewing versteek is. Behalwe dat hulle besonders klein van statuur is, het nie almal ‘n opsigtelike gebrek nie en die oorgrote meerderheid is verstandelik heeltemal normal. Die rede waarom ons so min van hulle sien is omdat die meeste verkies om ‘n stil en afgesonderde lewe te lei, weg van die nuuskierige oë van die samelewing. Dit moet moeilik wees wanneer mense jou oop en bloot aanstaar, of graag aan jou wil vat, net omdat jy ’n miniatuur mensie is en anders as die gemiddelde persoon lyk.

Afshin Esmaeil Ghaderzadeh van Iran is as volwasse man kwalik groter as ‘n groterige pop, met ‘n lengte van ‘n tweejarige kind (65.25cm). Hy weeg ‘n skrale 6.5kg. Dit moet uiters frustrerend wees om ’n volwasse man te wees, maar soos ‘n baba lyk. Met sy intelligensie skort daar duidelik niks, al kan hy eintlik nie lees of skryf nie. Die uitdagings om saam met normale kinders skool toe te gaan was bloot net te groot en hy het eers onlangs geleer hoe om sy naam te skryf. Hy hou wel daarvan om met sy vriende op Facebook te kommunikeer.

Deernis en respek is iets wat nie noodwendig na hul kant kom nie en baie mense tree soms onnadenkend en baie onsensitief teenoor hulle op. Dit is ‘n growwe wanopvatting dat wanneer ‘n iemand anders as jy lyk, die persoon outomaties verstandelik gestremd is. Of dit nou gebore is uit swak maniere of net deur oningelig te wees, het die deursnee mens dikwels hopeloos te min begrip dat álmal graag met respek behandel wil word, ongeag wie en wat jy is.

Die uitdagings wat sulke klein mensies in die gesig staar is dat hulle moeilik aanpas in ‘n wêreld wat duidelik nie voorsiening maak vir buitengewone mense nie. Om onafhanklik te wees, op hul eie te woon, ’n motor te bestuur, of selfs net ’n passasier te wees in ’n gewone motor, is reuse uitdagings. Die gemiddelde mens sukkel om werk te kry, maar dit is bykans ’n onmoontlike saak vir hierdie klein mensies. Die meeste is dus afhanklik van ‘n staatspensioen (te min om van te leef) en openbare vervoer wat kwalik bestaan – in Suid-Afrika in elk geval en moet staatmaak op familie vir ondersteuning.

 

Ano




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed