Von Villon
September 2022 – Snelheidsprojek
3.Ons ken mekaar nie meer nie
Waar ookal jy jouself bevind, in die stad of op die platteland, is daar altyd nog baie wat in ‘n kort tyd gedoen moet word. Die lewe was nog nooit meer besig en vinniger as vandag is nie. Jy het skaars ‘n skoon blaadjie omgeslaan met Nuwejaar en dis alweer tyd vir ‘n dosyn rose wat vergesel word van ‘n valentynskaartjie; skielik is dit Paasfees en onverwags is die koue op jou. In ‘n oogwink vier jy ‘n warm Kersfees en die jaar het weer verby gevlieg.
Gedurende hierdie kort twaalf maande het verskeie omstandighede en gebeure ‘n invloed op jou lewensperspektief gehad. Ongeag of dit positief is of nie, ly dit geen twyfel dat wanneer die jaar se ervarings nie met geliefdes, veral ‘n eggenoot, gedeel word nie, is jy aan die einde van die jaar klein bietjie meer van ‘n vreemdeling. As dit agtereenvolgende jare gebeur word jy heel moontlik ‘n onbekende.
Dit is wys om jou dag te deel en wyser om belang te stel wanneer geliefdes dieselfde doen want die gejaagdheid raak vir elkeen uiteindelik stil en om dan jou tyd saam met “bekende” vreemdes te spandeer is ‘n eensame duur prys om te betaal vir gebrek aan belangstelling.
©VonVillon