Yvonne de Kock
September 2021 – Positiwiteits-projek
1.Die seisoene het gedraai … hello Lente!
Ja, daar is die ononderbroke en oneindige kringloop van siesoene elke jaar. Jaar in en jaar uit…
Elke Desember begin die somer in ‘n songeel rokkie rond te dartel en gooi as’tware vrolik ‘n strooihoed op die groene grassies neer. Om so, saam met Januarie wat luilekker in ‘n hangmat uitgestrek lê, die somer te verwelkom. Só ook Februarie, waartydens die natuur deur die voëltjies se vrolike getjirp gewek word. Hierdie heerlike warm somermaande met die net so heerlike vrugtefees.
Maar so gaandeweg breek die herfs aan. Die blare verkleur en val af en dit raak algaande ook kouer. Met hangskouertjies slof Maart dan rond met so ‘n ou bruin jassie aan wat verlate op die grond rondsleep, terwyl April maar padlangs oor ‘n vergeelde blaartapyt hou; totdat die soom verslyt, hou hy maar so onder die bome deur. En teen die einde van Mei met sy bruin-vaalheid, gaan lê dié maar moedig voor die aanslag van die winter.
Dan breek Juniemaand aan. . .brrrr! Wanneer die koue winter met sy kale boomtak-arms in die koue staan en rondgryp en óns, onsself haas na hout en flinter. Ja nee en in Julie bibber en beef ons almal maar met koue asem, terwyl Augustus met ysvingers in die vensterwasem teken. In die winter is dit sommer lekker koud, hoor ek iemand sê. Nou maar wat is so lekker daaraan? Ék sal jou sê… Dinge soos ‘n heerlike kaggelvuur, sop en pannekoekaande en aaaa! daardie lekker boek in die bed. Dankie toggie!
O en dan uiteindelik…die lente! Nou raak dit warmer en die blomme bars uit in uitspattige kleure. Daar kom nuwe blare aan die bome en die vrugte swel uit todat die heerlikheid en geur daarvan in jou mond ontplof! Jip, die lente kom in ál sy glorie aangehuppel in groen blare getooi. En dit is só aitsa, aitsa mooi in daai wit en pienk bloeiseltjies. Daarna September en dan… “Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand!” Dan November wat al tiekiedraaiende almal nader wink om dit te vier met geel lemoensap, geskink in swierige langsteelglasies.
352 woorde
(Kopiereg voorbehou)
Vonnie