Adri A
BRONS KLAS
Projek Liefde vir Afrikaans
1.Lentedag-ode aan Arno
Ek het iewers oor vele jare my gawe van woorde verloor. Dinsdagaand in ‘n swetende stadsaal in die Strand besef ek dit eers toe Jak de Priester se woorde so mooi sing en iewers in my siel weerklink.
Weliswaar wou my honger maag fikseer op die wit bakkie polistrieën-pannekoek in die hande van die vrou langs my (weens my kermende maagsappe wat ernstige onttrekkingsimptome ervaar op die tweede dag van my Herbalife-dieët), maar my woord-honger siel word stil en herken skielik hoe woorde ‘n lewenswaarheid in jou siel kan inets sonder letsel of seer. En ek vermoed dat die gekrap van my kontaklense nie bloot is oor ek reeds ‘n maand oorskry met lense wat lankal weggegooi moes wees nie, maar dat my trane vlak sit oor my woordgebrek waarmee ek nie die winter kan besweer nie.
Klank word woord word die ontroerende woordbeeld wat my stillewe boetseer – en ek boet so seer, ag Heer, dat ek nie anders kan as om snikkend te bid dat ek weer woorde kan hê nie.
As ek woorde gehad het, het ek teruggeglip tot weer meisie-wees op die aand van matriekafskeid. Effe onseker en ontstemd want ‘n grootmens-rok en smeersel rooi op jou lippe besweer nie die vreemdheid van grootwees voor jou tyd nie. Ek was nog onbekend met die liefde en geborge in my onwetendheid. Jy is my metgesel en ons flits onoortuigend elkeen ‘n glimlag na my ma se kamera op my ouma se rooi-gepolitoerde voorstoep voor die toegerankte hoek sodat ek twee en ‘n halwe dekades later steeds die geur van gekneusde takke, die kras-fletter van ‘n lente-tor in die tuin en die gekoer van Oupa se duiwe in die prieël-oprit kan onthou.
My vriend, as woorde jou kon terugbring tot daardie oomblik, is ek seker dat jy dit beter sou beskryf. Of die aand se verloop verder in die banketsale met ons maats in allerhande gewade en ons almal probeer grootmens speel terwyl ons eintlik nog kinder-gesprekke voer aan tafel. Ek kon nie dans nie en jy het uit bedagsaamheid my deurentyd geselskap gehou en gesorg dat geen ongemaklike oomblik aan tafel my laat onttrek in stilte nie. Maar iewers het ons wel stil geword en die dansende pare dopgehou en jy het my gevra of ek wil dans.
‘n Dans in woorde beskryf is die lei en volg van die lyf maar iewers in die innige ruimte van ons gefluisterde gesprek terwyl my lyf jou bewegings probeer lees, het ons woorde opgelos en met ‘n vreemde volwassenheid het ons net in die oomblik gewees. Asof ons sou weet dat jy nooit verder as jou veertigste verjaarsdag sou reis nie en soos ‘n skemeraand in kleure van ivoor en room en roos en pruim in eiesoortige skoonheid maar tog ook verwesenheid die dag tot ‘n einde sou bring.
Die lewe is te kort om met woorde te speel. Dit is more lentedag, Arno, en die dag het my tot woorde ontroer.
@Adri A