Jongste aktiwiteit:

Amanda Meyer De Meillon
vir

Amanda Meyer De Meillon

Lees meer oor Amanda Meyer De Meillon

Januarie 2019 Projek

3. Veilige hawe

Die jaar van die vark.

Kyk, op ‘n pitboel se lyf is daar geen bang haar nie. Hulle skrik vir niks. Of liewer, dit wil so voorkom. Sky is ‘n bul van ‘n pitboel. Sy gespierde lyf bult op plekke waar daar nie bulte kan wees nie. Sky is my waghond. My beste vriend.

Dis skuins voor middernag. Die nuwe jaar sal binnekort met luide basuin aangekondig word. Ek haat mense wat klappers skiet. Dis moeilikheid soek om ‘n pitboel in die huis te hou. Erger nog as daar twee van hulle is. Nog erger is die lewensgevaarlike klein worshond wat keffend sy misnoë aanteken. Hy is die opstoker.

Ek maak die honde op die agterstoep toe en gaan kruip onder die lakens in. Toe die eerste klapper met ‘n oorverdowende knal losbars, duik ek uit die bed. Magtag dis nog nie 12 uur nie. Ek gryp so in die hardloop na my japon. Tyd vir slippers is daar nie. Druk die sleutel behendig in die slot. Die staaldeur swaai oop net toe die volgende klapper ontplof. Ek voel hoe my voete onder my meegee. Gryp-gryp na spookhande en beland dan plat op my rug op die koue sement. Uit soos ‘n kers.

Die nat snoet teen my wang ruk my terug na die werklikheid. Klein fyn tjankgeluidjies kermend teen my oor. Die lug verkleur in reënboog ontploffings van geel, groen en rooi. Ek ruk regop. Swerkaters het my wragtig omgeduik. My klein worshond kyk smekend na my op. “Nou toe, waars die ander twee” mompel ek gemaak beduiweld. Stert tussen die bene hol hy voor uit.

Ek sien eerste die sterte onder die duvet uit steek. Bedremmeld verskyn die snoete en dan die smekende oë. “Jammer ounooi maar daardie klap was darm te naby aan onse sterte.” Ja nee, met ‘n pitboel sukkel jy nie. Groot gevaarlike honde met klein, klein hartjies van goud.

Amanda De Meillon
Mei 2019 projek

3.Nikkerboll herinneringe

Oupa-pa druk ‘n tien sent in my hand. Ek staar ongelowig daarna. ‘n Hele tien sent. Sjoe, en dit net omdat ek die tuin help skoonmaak het. Ek rol die silwer munstuk in my hand rond. Ek voel soos ‘n koning. Ek glip die stukkie goud vinnig in die sentesakkie van my langbroek. Dan drafstap ek na die badkamer. Ek skrop saggies al die grond onder my naels uit. Meisiekinders moet darm netjies wees.

Die fietsloods by die hoekkaffee is leeg. Ek stoot behendig my ou dikwiel daarin en ketting hom vas. My oë flits deur die rye lekkers. Daar is Sugus, bontgekleurde vrugte lekkers wat smelt op jou tong. Tiger toffies, Vicks kougom, die lekkerte van die pienk plesier prikkel my smaakkliere. My oë soek verder. Rakke vol sjokolade stafies, Life savers, fopspene, suikerblits en piesang lekkers. Ek staan op my tone om beter te kan sien. Ek weet wat ek wil hê.

Die klein ronde balletjies rooi en swart. Harde suikerlekkerte wat jou kieste laat bol. Niggerballs. Daar is geen ander naam wat so beskrywend is nie. Nicker Balls, niggerballs, kettieklippe, noem dit wat jy wil. Daardie klein ronde rooi klipkouers wat jou die gewildste kind in die skool maak. Teen ‘n half sent een kan ek ‘n hele kardoes vol koop.
Ek wys na die glasbottel op die toonbank. Oom Hekkie glimlag en vou die wakspapier in ‘n tregter vorm. Die onder punt word binnetoe gevou sodat die lekkers nie uitval nie. Hy tel die lekkers af. Tien swart en tien rooi. Dan gooi hy vinnig nog ‘n lekkertjie in die tregter voor hy dit met ‘n tandlose glimlag sekuur toevou. Die kardoes pas stewig in my fietsmandjie. Ek klap die dekseltjie toe en swaai my been oor die sitplek. Trotse eienaar van ‘n kardoes vol lekkerte.

Ek staar na die tiensent stuk in my hand. Jy kan vandag nie eens ‘n lekkergoed daarmee koop nie. Die klein geelkoper kleur lê dof in die palm van my hand. Ek stuur my Volksie in die rigting van die hoekkaffee. Die ou fietsloods is nog daar. Verroes en vuil. Ek sit vir ‘n wyle stil. Herrinneringe vul my leë hart. Die winkeldeur hang effe skeef na binne. Hartseer klim ek uit en stap traag na die ingang op die hoek.

Die rakke het effe kleiner geword. My oë dwaal oor die rye met lekkers. Nie juis veel om van te kies nie. Dan vang my oog die bottel op die toonbank. Vinnig stap ek daarheen. Oom Hekkie kyk op. Trane vul sy oë. Die verkreukelde gesig glimlag tandloos. Ek plaas die klein tien sent stuk op die toonbank neer. Hy skud sy kop. Tog haal hy versigtig een rooi balletjie uit die bottel. Hy vou die wakspapier versigtig daarom heen. Ek voel soos n koning toe ek in die volksie klim. Die klein kardoes lekkerte stewig in my kies geprop.

Amanda

Junie 2019 projek

2.Winter in my tuin 

Winter is ‘n slu ou man. Hy loop gebukkend saggies deur my tuin. Elke nuwe more lê sy witspoor witter as die dag tevore. Sy koue asem blaas hy teen die skoonblink van my ruit. Wanneer ek die blou gordyne oopgooi, lag hy skelm en swaai vinnig sy jas se punt oor die koper blare heen. Hulle warrel tregter in die lug en val dan moedeloos terug op die sterwende gras.

Dit is winter. Sommer skielik. Oornag. Gister nog het ek die son se soentjies op my vel voel speel. Vanmore sukkel die strale om die yslagie op die grasperk te smelt. Die honde sukkel moeisaam uit hul hokke. Winterman het sy koue asem geniepsig oor hulle geblaas. Hulle sluip elkeen na ‘n klein sonkolletjie toe. Krap krap in die droë gras en krul dan in klein bondeltjies binnehou warmte op. Mayo, die klein worshond, lê binnebeen teen Sky. Sky is ons oorgroot pitbul reun. Sy oortjies wip wip toe ek die agterdeur oopsluit.

Die honde is traag koud vanmore. Winterman het met sy ysige vingers die hitte uit hulle hokke gesteel. “Toemaar” troos ek, “ounooi gaan plan maak.” Ek kap die yslagie van die waterbak af. ‘n tortelduif sit eenkant opgepof en huil. Winter het hulle ook onkant gevang. Ek gooi ‘n handvol saad op die sement. Tortel draai haar koppie skeef. Skud haar veertjies reg en sluit haar oë. Nee wat, dis nog ‘n rukkie voordat die koue uit die diere lyfies verdwyn.

Ek volg winter se spoor deur my tuin. Die vetplante het erg deurgeloop. Plek plek is die blare swart gevries. Die kannas hang selfbejammerend, halfdood in die oggendson. Die eens volgroen bome staan kaal en kleurloos skaam. Hulle takke reikend na bo. Smagtend na ‘n bietjie somerson. Die laaste oorskiet blare swaai hulpsoekend in die wind. Desperaat klouend, maar word dan met een laaste koue asem warrellend grond toe gestuur. Die winter het oorwin.

Amanda Meyer De Mellion

Augustus 2019 – Wilde wind projek

3.Oupa se borrelwind blaps

Rayne is ons kleindogter. Die klein japsnoet begin nou oulik woordjies vorm. Vergeefs of sy wil oupa sê. Ons probeer alles. Sy is soos ‘n steeks donkie. Roep die honde, jaag hulle uit, vra vir kos, alles behalwe oupa. Dit is ons naweek met kleinding en Ouma en Oupa besluit om die kleintjies na die bokkiepark te neem. Almal weet, as jy bokkiepark toe gaan pak jy ‘n piekniek mandjie. Kombersies word oopgegooi en allerhande lekkernye verskyn. Die kinders baljaar op al wat ‘n klim en klouterraam is. Rayne blêr en moo vir ‘n vale. Sy geniet die diere en probeer almal naboots. Elke denkbare geluid kom uit die babbelbekkie uit, alles behalwe oupa.

Die lekker eetgoed en son is altyd ‘n resep vir moeilikheid. Veral op ons ouderdom. Jou maag speel nie meer so lekker saam nie. Enige geringe verandering in die biologiese struktuur van kosblik versnapperinge veroorsaak ‘n seismiese reaksie in jou ingewande. So dan ook die geval van ons bokkiepark uitstappie. Oupa lê lekker weg aan al die klein bolletjies vleisgoed, slaai en vingerhappies. Oupa kan maar. Hy het ‘n aptyt soos ‘n sirkus olifant. Hy staan 6 voet 4 in sy nommer 14 skoen. Dit neem ‘n stewige vraggie vesnapperings om sy maag te vul. Gelukkig het ouma oorgenoeg peuselhappies gemaak. Ons kuier heerlik onder die groot ou eikeboom.
Laatmiddag kla oupa van ‘n ongemaklike gevoelte op sy nersderm. Hy blaas klein borretjies opgeboude gas agter sy vuis. Vinnig pak ons alles terug in die mandjie. Waar is ‘n Rennie wanneer jy hom nodig kry? Die borretjies word harder en groter. Ons pak haastig alles in die bakkie. Rayne word stewig in haar karstoeltjie vasgemaak. Die ou koppie knik-knik van moegheid. Oupa sit die bakkie in tru-rat. Bwaaaaaaaarp.. borrel daar ‘n monster van ‘n buskruitwind uit oupa se binnegoed. Rayne se koppie ruk orent. “OUPA” gil sy en dan skatterlag sy van lekkerte. Oupa se borrelwind blaps word goed beloon.

Amanda Meyer De Meillon

Februarie 2020 – Limeriek projek

3.Mev Dominee en die ekstra kollekte

Prim en propper’ dit was nou onse Mevrou Dominee. Sy was ‘n statige dame. So duskant dertig en koringblond van haar. “Kom, kom sit hier by oupa se voete lat ek julle nou vertel van die konsternasie met die kollekte.”

Ons skuif almal vinnig nader. Oupa se stories het ons almal laatnag wakker gehou. Of dit weleens die waarheid was sou niemand ooit weet nie. Dat dit jou ore laat spits het was ‘n feit soos turksvydoring.

Haar naam was Hester Henning Heyns. Mevrou Dominee Hester Henning Heyns. Enigste dogter van Meraai en Kerneels Henning van die bo dorp. Hulle was gesiene mense. Elke sondag in die kerk. Voorste banke. Heel voor sodat hulle GESIEN kon word. Hulle dogter was dan amelewe die predikantsvrou. Alles het klopdisseboom geloop totdat dik Daan sy opwagting op die dorp gemaak het.

Dik Daan het ‘n nuwe onderneming op die dorp kom open. Hy het geld rondgestrooi asof dit konfetti was. Gou was die vriendskap tussen die Hennings en Dik Daan die grootste skindernuus op die dorp. Die voorste kerkbanke was nou menige Sondae oop wanneer die Hennings in hul awesigheid geskitter het. Dominee sak net verlee sy kop en preek asof Moses van ouds met ‘n rottang agter hom staan. Mev Dominee vermy onnodige gesprekke en verdwyn na Kerk vinnig in die rigting van die pastorie.

Daan se onderneming was baie verdag. Die vensters was met koerantpapier bedek en daar was ‘n allemintige slot aan die buite hek. ‘n Vuil kennisgewingbord was aan die hek vas gedraad. ‘Trespassers will be prosecuted’ . Die feit dat daar ‘n bul van ‘n rotweiler op die erf geloop het, het ook heelwat mense hardop agter hulle hande laat wonder. Saterdae het die groot ou hek se slot afgekom. Tafels vol tweedehandse goedere het die wêreld vol gestaan. Dik Daan het in sy diep stem die goedere opgeveil. Almal het die veiling kom bywoon, deels om te probeer om deur die koerantbeplakte vensters te loer en deels omdat hulle ‘n winskoop loop soek het.

Die gemeente was nie groot nie maar tog was die offergawes elke Sondag oorvloedig. Dominee het weldra begin agterkom dat die gemeente stadig maar seker besig was om te krimp. So ook die kollektegelde. Dit was juis die ouer garde van die gemeenskap wat nou Sondae in hulle afwesigheid geskitter het. Mevrou Dominee het haar voet neergesit. Tot hier toe en nie verder nie. Sy kon die vraende oë van die gemeente nie langer miskyk nie. Toe Dominee een Sondag nog stil stil na die preekstoel mik staan sy gereed. Sy vlieg voor Dominee in en betree die preekstoel.

“Gemeente vandag is ek nie Mevrou Dominee nie. Vandag is ek net Hester Henning. Soos julle opgemerk het raak ons ledetal al hoe kleiner. Vandag gaan ons by die duiwel haal wat hy van ons steel. Wie volg my?”

Sy laat ook nie op haar wag nie, en met ‘n “kom Hennerik” gryp sy Dominee se hand. Die gemeente strompel ewige nuuskierig in gelid agter Hester aan. Pad af reguit na dik Daan se veiling. Die slot is af en die Rotweiler eenkant op ketting. Hester gooi die hek oop en die gemeente volg gewillig, nuuskierig om te sien wat binne die gebou aan die gang is. Dan stoot sy die groot ou staaldeur oop, net toe Merraai “BINGO” skreeu. Die gemeente vorm ‘n skans. Hester, Hennerik en die twee diakens stormloop vir dik Daan en voor iemand weer kan sê “Bingo”, word al die onwettige dobbelgeld in die kollekte sakkies leeggemaak. Dik Daan vlug by die agterdeur uit met die skuldige gemeentelede kort op sy hakke.

Daaropvolgende Sondag is die kerk stampvol. Dominee preek uit sy hart uit oor vergrype aan wêreldse plesierighede. ‘n Hele paar gemeentelede sit kop onderstebo. Mevrou Dominee se gesig vlek net vir ‘n sekonde rooi maar dan stok sy weer haar rug regop. Niemand weet van die ekstra kollekte sakkie wat nou opgevou onder die skoendose in die stoorkamer lê nie. Hester Henning moes vergoed word vir haar edele daad verlede Sondag. Mevrou Dominee sou mos nooit as te nimmer so ‘n skandelike optog kon rëel nie.

Amanda Meyer De Meillon

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

2.Saartjie se loadshedding

Dit is vanmôre weer een van daardie dae. Basjan het sy gat behoorlik vir my opgeruk. Ek is mos alewig op ‘n Maandag laat vir werk. Die kantoordeur slaan met ‘n luide ‘kwarrrr’ agter hom toe. Hy doef-doef teen die staaltrappe op terwyl hy binnesmonds mompel. “Verdomde vroumense …” is al wat ek hoor voor hy genadiglik buite hoorafstand verdwyn.

Saartjie is aspris. Haar negentien voetsek engintjie sukkel om na ‘n naweek se staan op ‘n Maandag oggend vlam te vat. Sy spoeg en stotter, dan hyg sy drie keer voordat haar asma asempie genoeg brandstof opsuig om behoorlik te kan brul. Saartjie is my stokou Volkswagen kewer. As Basjan my dalk ‘n behoorlike salaris betaal het kon ek Saartjie verruil het vir ‘n Sarah. Tot tyd en wyl moet Basjan maar sy galblaas laat ontspan en sy bitterbek in toom hou. Sela, ek het gepraat.

Ek en Basjan het ‘n Eskom verhouding – meer af as aan. Ons klein besigheidsonderneming is vinnig besig om te groei. Ek besit natuurlik die minderheid aandele wat Basjan outomaties die reg gee om baas te speel, iets wat hy met graagte onder my neus vryf. Op die oomblik is ons Eskom verhouding weer op beurtkrag skedule 3. Die verwarmers is yskoud en die ligte af. Basjan het sy kombers en kussing in die stoorkamer aan die agterkant van die kantoor ingesleep. Die woonstel is in my naam. Ek is darem nie heeltemal blond nie.

Dit is net na half vier toe ek uiteindelik my skootrekenaar se skerm laat sak. Dit was ‘n mal dag op kantoor. Basjan het wonderbaarlik van sy erg onstoke konstitusie herstel en selfs vir my ‘n koppie koffie aangebied. Ek trek my rug reguit en gril toe ek die sagte knak geluid in die derde laaste rugwerwel voel en hoor. Dit was ‘n lang dag. My sitvlak is skoon lam gesit. Ek wil so gou moontlik by die woonstel uitkom. My lyf smag na ‘n warm stort. Basjan loer onderlangs na my toe ek die kantoordeur agter my toetrek. Hy sit op ‘n lae muurtjie wat ons kantoor van die ander skei. Ek vroetel in my handsak en trek Saartjie se sleutel uit die kantsakkie. Haar deur kreun en kla toe ek hom teen sy wil in hardhandig ooptrek.

Saartjie blaf. Nee, sy grom eers en toe blaf sy. ‘n Onaardse geluid stotter onder haar enjinkap uit. Toe sterf sy. Dood. Morsdood dood. Ek draai die sleutel vergeefs. ‘n Beweging in die tru spieëltjie trek my aandag. Basjan het haar enjin kap oop en hy vroetel met haar bedrading.

“Draai die sleutel.”

Basjan beduie met sy een hand terwyl hy laag oor Saartjie se ingewande buk. Ek het al genoem dat Saartjie aspris is. Sy is nou erg aspris. Sy hoes ‘n droë swart bol met mening uit haar keelgat uit. Dan luier sy soos ‘n kat wat ‘n piering room gekry het. Basjan verskyn in die weerkaatsing van die tru spieël. Sy kuif staan windskeef en twee spierwit oë gluur vanuit ‘n pikswart gesig na my. Ek giggel soos ‘n laerskool dogtertjie.

“Basjan, gaan kry jou sleutel, lyk of jy ‘n stort nodig het.”

Vergewe en vergeet.  Vergewe is maklik. Basjan kreukel sy neus en ‘n harde ‘tsjoe’ volg. Dan lag hy uit die diepte van sy maag.

“Karools, ons moet regtig vir jou ‘n Sarah gaan soek, Saartjie moet ouetehuis toe.”

Hy knipoog in my rigting terwyl hy haastig die trappies twee-twee op trippel. Vannaand sal Eskom se beurtkrag uiteindelik ter syde gestel word.

Amanda Meyer De Meillon

September 2020 – Liefdesprojek

3.Net die nag sal weet

Die druppels is koud. Nat spoortjies vorm teen Dawie se gesig waar hy skuiling onder die groot Jakaranda probeer soek. Hy skrik toe ‘n blits ‘n paar meter van hom af teen die grond vasslaan. Vannaand sal hy teen sy wil by Door of Hope moet gaan aanklop. Die wolke word donkerder en die wind sny deur sy gelapte baadjie. Hy trek die swart plastieksak stywer om sy ou khaki hoed en skuifel in die rigting van Karee Straat.

“Naand Dawie, ek het gewonder wanneer ons jou weer sal sien ou maat.”

Die wind ruk die deur uit Dawie se hande en klap hard agter hom toe. Hy mompel verskonend en gaan sit in die verste hoek van die klein eetvertrek. Dominee Viljee kom dadelik met ‘n stomende bordjie sop en vars brood nader. Die aroma vul die klein vetrekkie en Dawie steek sy hand gewillig uit. Sy maag grom al van vanmore af. Hy het gistraand net ‘n droë korsie vir aandete gehad. Sy laaste geld het hy vir die bergie en haar baba gegee. Hulle het dit meer nodig as hy.

“Ek sien Dawie is hier.”

Mevrou Viljee vee haar hande aan haar voorskoot af.

“Hy kan van die vars mosbolletjies met hom saamneem wanneer hy loop. Laar hy tog asseblief net wag tot die storm bedaar het ou man.”

Dawie sit met sy hande onder sy ken. Hy staar by die venster uit na die blitse wat in die donker tussen die bome speel. Hy glimlag toe ‘n klein seuntjiegesig voor sy geestesoog verskyn. Hy wonder hoe lyk die mannetjie nou. Is hy al in graad een? Is hy gelukkig by sy ouma? Hy skud sy kop heftig. Versigtig haal hy die klein skryfblok uit sy binnesak. Dit moet net nie nat word nie. Met driftige hale begin hy skryf.

Dominee Viljee neem die koevert met die sterk handskrif by Dawie.

“ Dis op my pad Johannesburg toe Dawie, ek lewer dit met graagte vir jou by haar af. Ek het nie geweet jy het familie so naby aan Pretoria nie. Hoekom ry jy nie saam nie dan kan ek jou na hulle toe neem, hulle behoort jou te kan help om op jou voete te kom.”

Dawie skud sy kop en druk Dominee Viljee se hand stywer vas. Dan draai hy om en vee met sy wysvinger onder sy oë voor hy die hawe se deur agter hom toetrek. Die donker sluk Dawie in. Dominee Viljee sien die ligte uit die donker opdoem. Dawie se naam stol op sy lippe toe hy die dowwe slag hoor.

“Bel die ambulans” skreeu hy oor sy skouer. Hy voel nie die koue water teen sy bene opspat vanaf die teer nie. Sy oë is gerig op die donker bondel wat voor die bus in die pad bly lê.

“Jinne Meneer, ek het hom nie gesien nie, ek belowe, die pad was skoon en net so, net so toe is hy daar in die pad, ek kon nie stop nie, ek belowe, ek kon nie stop nie.”

Nella skeur die koevert versigtig oop. Dominee Viljee het gesê Dawie het dit oorhandig net voor die noodlottige ongeluk. Hemel as sy net geweet het hy dwaal die strate. Dawie het verdwyn kort na hy en Tish se motorongeluk. ‘n Ongeluk wat haar dogter se lewe gekos het. Klein Erik was olik en sy het daardie aand na hom omgesien. Dawie was nooit weer dieselfde nie. Hy het na die begrafnis spoorloos verdwyn.

Liefste Ma Nella,
Ma, ek het gedink dit sou beter word. Dit het nie. Ek kon die ongeluk vermy het. Ek was weer haastig soos gewoontlik. Vergewe my ma asseblief. Kyk mooi na klein Erik. Ek het voorsorg getref ma. Ma sal weet wat om met die brief te doen. Die polis is opbetaal. Ma en klein Erik sal nooit weer sukkel nie. Sê vir hom sy mamma en pappa is nou weer saam. Ons sal altyd by hom wees.
Vergewe my.
Dawie.

Nella frommel die brief in ‘n bondel. Die vuurherd brand helder. Sy stap voordeur toe toe sy die blink motor in die oprit sien opry. ‘n Traan biggel oor die fyn plooitjies van haar wang.

Amanda Meyer De Meillon

Oktober 2020 – OOP Prjoek

1.Ouma Stienie en die lockdownbier

Ouma Stienie se bottel Apostelwyn het ook al bodem gedroog Niemand het voorraad nie. Wie het nou kon dink dat die kluisenaarsbestaan so lank gaan duur. Die drankkabinet het nog nooit so elendig gelyk nie. Dis toe net daar wat die appel en die suurdeeg ‘n besonderse verhouding aanknoop.

Ouma Stiene drink nie. Sy social. Elke middag wanneer die son die berge rooi vlek, sit Ouma Stienie op haar balkon met ‘n glasie in die hand en die bottel rooiwyn onder haar stoel. Dan gesels sy met die natuur en wie ook al wil luister. Toe raak haar wyn op. Ouma Stienie se stem raak stil. Haar brein werk oortyd.

“Wat wil ouma met die appels maak?”

Kleinjan hou die loopfoon teen sy oor om beter te kan hoor.

“Ouma weet ons mag nie kuier of rondry nie. Dis die nuwe normaal. Ek sal plan maak, maar ek los hulle net by die hek. Ek wil nie hoor dis my skuld dat ouma die virus het nie. Vee tog net die appels af voor ouma hulle gebruik. Lief ouma.”

Ouma Stienie bêre die loopfoon in haar voorskoot. Sy klap haar hande teen mekaar en fyn meelwolke dwarrel wanneer sy haar hande in die meelbak druk. Sy knie die deeg behendig af en vou dit in die broodpan in. Die kombuis ruik na suurdeeg en warm mosbolletjies. Ouma Stienie se oë blink. Wat is ‘n boervrou sonder haar suurdeeg?

Kleinjan druk die toeter net een keer. Dan sit hy die kissie appels by die hek neer en wuif ‘n soengroet na ouma Stienie wat op die balkon staan. Hy sien in sy truspieëltjie hoe sy vinnig die kissie optel en die hek agter haar sluit. Hy glimlag. Waarmee is ouma Stienie nou weer besig?

Stienie druk met haar palm op die deksel van die emmer. Dit is nou al net mooi tien dae sedert sy die klomp appels, suurdeeg en rosyne in die emmer geseël het. Vandag moet hy oop. Die deksel boeppens behoorlik. Ouma Stienie skud die emmmer ‘n laaste keer. Dan draai sy om om haar vatlappies uit die laai te gaan haal. Sy voel die ontploffing voordat sy dit hoor. Rosyntjies vlieg soos brommers die hele kombuis vol. Die appelbier hang ‘n sekonde in die lug voor dit die mure en kaste met ‘n laag soetsuur stroop bedek. Stienie gryp benoud na haar hart. Dan begin sy giggel. Sy lek die druppende stroop van haar vingers en smak haar lippe. Bier het nog nooit so lekker geproe nie.

Toe Kleinjan uiteindelik deur die kombuisdeur bars, vind hy ‘n jolige ouma Stienie al singende besig om mure te was.

“Ouma, wat gaan aan? Tannie Bets het huilend gebel en gesê hier was ‘n helse ontploffing. Sy kon dit tot in haar kamer hoor.”

Ouma Stienie wys na die enigste skoon stoel.

“Sit Kleinjan, jy kan mos sien Ouma skop nog. Kom, proe bietjie hier!”

Amanda De Meillon

3.Die wilde perde van Aus

“Amanda”.
Ek wip soos ek skrik. Die klein figuurtjie staan hand in die heup langs my tafel.
“Ek wil toesluit, jy sit al heeldag hier en dagdroom.”
Sy skud die sleutels om haar misnoë te wys. Dagdroom se dinges. Ek gaan wraggies nie die verlate vlaktes in sonder om navorsing te doen nie. Ek skakel vies die rekenaar af. Die monitor biep twee keer voordat die skerm swart na my staar. Ek pak sorgvuldig al die los velletjies papier in my tas. Klein stukkies goud wat van uiterste waarde vir hierdie opdrag is. Hierdie uitdaging het soos ‘n slap aartappelskyfie in my skoot geval. Ek kon dit nie weier nie. Vader alleen weet hoe ek by my kinders verby gaan kom.
Garub is ‘n streek tussen Aus en Lüderitz. Die wilde perde wat daar voorkom fasineer vele mense. Ek het die geleentheid gekry om hierdie pragdiere van nader te beskou. Die maatskappy vir wie ek werk het besluit om ‘n woestyn wegbreek projek in die Garub te begin. Die hoof doel van die projek is juis om mense meer bewus te maak van die wilde perde van Aus. Vyf jaar wat ek van familie en vriende geskei sal wees. Vyf jaar van sand, wind en wegbreek. Jy lewe net een maal. So ‘n geleentheid klop nie twee keer aan jou deur nie. Ek voel hoe my hande liggies bewe. Die kinders wonder seker waaroor ek hulle almal saamgeroep het. Ek stoot die kombuis deur saggies oop. Vraende gesigte kyk onseker op na my.
“Ma is mal.”
Ek het geweet dit sal die antwoord wees. Ek het klaar besluit. Dit gaan moeilik wees maar dit is mỳ lewe. Dit is my droom. Hoekom moet ons altyd na ander se pype dans? Ja, ek gaan my familie mis. Veral my kleinkinders. Dit was nie ‘n maklike besluit nie. Ek sit al weke en wroeg. My skaal is uitgeput. Ek moes my kinders opweeg teenoor my lewensdroom. Bly ek, sal ek seker nooit weer die geleentheid kry nie. Gaan ek, mis ek soveel wonderlike jare met my kleinkinders en familie. Wat as daar iets gebeur? As een van hulle iets oorkom? Sal ek met dit kan saamleef? Na weke van rondrol en selfkasteiding het ek my besluit gemaak. Die skaal het geval.
Na ure se beraadslaag het ons uiteindelik tot ‘n vergelyk gekom. Ek sou ten minste een keer per week na die naaste buitepos toe ry. Dan kan ons almal as gesin saam groepklets en nuus uitruil. In ‘n noodgeval sal ons sorg dat daar wel iemand is wat altyd presies weet waar ek my bevind. Daar is geen opvangs in die Garub gebied nie. Ek sal ‘n sender aan my rugsak hê wat ten alle tye aandui waar ek my bevind. Na baie trane en sielstort, volg die opwinding. Ons ruil idees uit en snuffel op webtuistes rond. Wat moet ek vat? wat moet ek los? Dit is die groot vraag. Die opwinding het nou in almal se harte kom lê.
Die grootskaalse inpak en uitsorteer het begin. Ek sprei die inhoud van my klerekas sogvuldig op die bed uit. Langbroeke, bloesies, truie. Rompe gaan defnitief oorbodig wees in daardie sandbedekte landstreek. Die grootste deel van my oorlewingstas bestaan uit denim en khaki. Wolkouse en ‘n ekstra paar woestynstewels sal handig te pas kom. Een van die drie belangrikste items is heel waarskynlik my skryfblokke en genoeg penne. Daar gaan nie aldag die luukse van ‘n kragopwekker of kragpunt wees nie. My skootrekenaar sal by die buitepos moet bly. Dus moet ek maar my mooiste sondagskrif oefen en hand op papier waag. Tweedens sorg ek dat my eerstehulp sakkie deeglik opgevul is. Ek het ‘n lysie gemaak van elke denkbare pil en poeier. Verbande, pleisters en antibiotika. Ontsmettingsmiddels en selfs ‘n klein houertjie en aanwysings vir tydelike steke. Gelukkig is daar ‘n rondgaande kliniek wat elke vier maande besoek doen. Ek kan dan al my voorraad opvul. Die laaste item steek ek sorgvuldig in ‘n waterdigte houer in. Briewe, boodskappe en fotos van familie en vriende. Dit moet my staande hou wanneer die eensaamheid te veel raak. Ek voel hoe ‘n knop in my keel opstoot.
In die opvolgende weke spandeer ek soveel tyd as moontlik met die familie. Ons kuier tot laat. Die kleinkinders kloek om ouma. Ons maak elke naweek beurte sodat elke kind sy regverdige ma porsie kan kry. Gedurende die week doen ek navorsing. Ek huil my hart leeg in die pastorie. Voor my kinders is ek die perfekte ma, sterk en vol bravade. In die pastorie deel ek my vrese. Vyf jaar is ‘n lang tyd. Ek kan hulle een keer ‘n week met behulp van moderne tegnologie kontak. Elke mens smag tog na daardie drukkie of fisiese kontak met die wat jy liefhet. In die woestyn is dit net ek, my tent en die perde. Ek ken nie ‘n dooie siel in Aus of Ludritz nie. My weeklikse ontmoeting met die beskawing is beperk tot die wag by die buitepos. Selfs hy is maar alleen en sien skaars ander vorms van lewe. Die rukkie wat ek daar sal spandeer sal meestal voor my skootrekenaar wees.
Die maatskappy verwag weeklikse terugvoer en uiteengesette verslae. Dit gaan nie alles maanskyn en rose wees nie. Gelukkig kan ek ook in die vyf jaar van my drie duiwels afsien. Die lang dun sigarette wat alomteenwoordig in my baadjiesak skuil. Die slukkie whiskey wat deel van my aandmaal geword het. Laastens ook my humeur. Die sigarette en whiskey gaan kastyding wees. Sonder beskawing naby sal ek nie my voorraad kan aanvul nie. Hopelik dwing die stilte en alleenheid my om te kalmeer. Daar gaan in elk geval niemand wees vir wie ek kan kwaad word nie.
Dan breek die groot dag aan. Dis ‘n geskarrel van die eerste waters. Almal hardloop rond. Die stadsliggies lê vêr en donker agter my. Hier en daar knipoog ‘n liggie vriendelik en vrek dan heeltemal. Die stilte om my is oorverdowend. My ligte baan n pad voor die voertuig. ‘n Nuwe lewe lê oop voor my. Met ‘n lied in my hart ry ek my toekoms tegemoet.

Amanda De Meillon

Februarie 2021 – Liefdes projek

1.Bottel in die branders

Mara laat sak haar skouers. Die seemeeue kla en kerm en swiep laag oor haar kop heen. Hulle duik weg en gaan aas maar weer by die dokke. Mara se sakke is leeg. Die laaste broodkorsie het sy vir Brakkenjan gegooi. Die roomwit basterbrak volg haar al die hele week. Die son vlek die horison rooi. Sy strek haar bene voor haar uit en voel hoe die golwe aan haar tone lek.
‘n Skerp tjankblaf ruk haar terug na die werklikheid. Brakkenjan se nekhare staan pen orent! Grommend duik hy in die branders en hardloop dan weer in Mara se rigting. Nuuskierig, dog versigtig, loop sy nader. Die groen glas blink in die laaste strale van die sterwende son. Mara gryp die bottel net betyds voordat dit weer deur die branders teruggetrek word.
“En dit Brakkenjan, watter skat het jy hier ontdek my honne? Kom, dis in elk geval tyd om huis toe te gaan.”

Brakkenjan draf opgewonde voor haar uit. Mara Skud die bottel liggies. Sy wonder wat staan op die opgerolde papier wat so kunstig met ‘n rooi lintjie vasgebind is. Gelukkig het die bottel nie op die rotse beland nie. Die tuinhekkie kraak en ‘n krap skarrel skeef-skeef die rotstuin in. Dit is al sterk skemer. Mara skakel die stoeplig aan en plaas die bottel op die hout tafel neer. Brakenjan kom lê by haar voete.
Die kurkprop is stewig in die nek van die bottel vasgegom. Mara sny versigtig stukkies kurk met ‘n skerp mes weg. Sy skud die briefie in haar hand uit. Die rooi lint glip gemaklik van die briefie af.
“Bitterbaai. Kalkhuis nommer 3. Waar die sandduine goud smelt in die somerson. Die ketel is aan. Ek wag.”
“Wat ‘n vreemde boodskap. Wat dink jy Brakkenjan, sal ons gaan ondersoek instel?”
Brakkenjan se stertjie klap klap teen die houtvloer. Hy is uitgeput na die middag se stap op die strand. Bitterbaai is ‘n goeie vyf kilometer van die strandhuisie af. Mara steek die rol papier terug in die bottel. Net more sal sy en Brakkenjan die pad vat. Hulle kan ‘n piekniekmandjie pak. Haar bergfiets het ‘n mandjie voor en agter. Brakkenjan kan gemaklik vor in ry wanneer hy moeg word om saam te draf. Mara strek haarself luilekker uit. More is nog ʼn dag.
Die son brand ongenadiglik op Mara se skouers neer. Fyn sweet spoortjies rol teen haar slape af. Gelukkig kan hulle van die fietspad langs die strand gebruik maak en sukkel die bergfiets nie met die steiltes nie. Brakkenjan lê met sy kop op die kant van die fietsmandjie. Sy ore gespits en sy neus wikkel kort-kort in die wind. Dan lig hy sy kop en los ‘n skerp blaf in die rigting van die strand. Mara stuur die fiets in die rigting van die rotse. Sy wip vinnig van die saal af en stoot die fiets oor die dik sand. Brakkenjan draf nou voor die fiets uit in die rigting van die vissershuisies wat wit teen die goue sandduine lê.
Kalkhuis is ‘n langvergete naam wat die ou vissers die klein witgepleisterde huisies teenaan die rotse op Bitterbaai gedoop het. Bitterbaai is so vernoem omdat daar vele visserskuite op die rotse beland het en vissersvroue aand na aand op die rotse vergeefs sit en wag het vir verlore geliefdes om uit die stormsee terug te keer. Nou is dit ʼn spookdorpie wat slegs van tyd tot tyd deur skrywers en rugsakwandelaars of strandlopers bewoon word. Juis die rede waarom Mara besluit het om te kom ondersoek instel. Die bottel het sy oorsprong hier op die verlate Kalkhuis strand gehad.
Die paadjie na nommer drie kronkel tussen gebreekte skulp en wit duinsand. Fynbos vlek hier en daar lappies groen tussen die rotspunte wat deur die sand breek. Mara moet haar fiets plek-plek oplig om vorentoe te vleg. Sy wonder waar Brakkenjan heen verdwyn het. Dan hoor sy die bekende blaf en die opgewonde stem van ‘n kind. Die lang hare blink in die son. Die koper stringe lok oor die bruingebrande ruggie.
“Nina. Kom kind, jy gaan swart verbrand in die son.”
“Ouma! Kyk wie het besluit om huis toe te kom.”
Mara kug liggies.
“Goeie middag. Ek sien Brakkenjan het sy huis gevind? Mara, aangename kennis. Ek woon daar teen die hang onder Spitskop. Die hondjie het sowat ‘n week gelede by my aangekom.”
Mara stut haar fiets teen die wit muur van die huisie.
“Ek het julle bottel in die branders gekry”
Versigtig haal Mara die bottel uit die mandjie en skud die briefie in haar hand uit.
“Hier.”
Nina neem die briefie by Mara.
“Ouma Lien?”
“Hallo Mara. Ek sien die bottel het sy doel gedien. Kom die ketel kook.”
Mara volg die ouer vrou in die huis in. ‘n Vreemde kruie reuk hang in die lug. Op die kombuis tafel staan ‘n koffiepot en twee blikbekers. Mara neem die beker wat haar aangebied word. Die koffie ruik na varsgemaalde bone. Mara voel hoe die soet nektar oor haar tong speel. Dan sak sy onwillig op die rusbank agter haar neer.
“Nina, gaan steek die vuur op die strand aan. Jy weet pappa gaan uitkyk vir ‘n baken wanneer hy die skuit huis toe bring.”
Nina hardloop in die rigting van die strand. Dit is presies ‘n jaar vandat haar pa met die skuit uit is. Ouma het belowe dat hy vannaand sal huis toe kom. Sy pak nog hout op die hoop en gaan sit op die sand. Vlooi kom lê met sy kop op haar skoot. Dis nog ‘n hele ruk voor skemer maar Nina weet sy moet luister as ouma praat. Ouma het gese sy moet hier bly en dan die vuur aansteek sodra dit donker begin word. Sy sal die lig van haar pa se skuit duidelik sien. Dan moet sy ‘n brandende stomp vat en ‘n baken vir pappa wees. Sy wonder wat gesels ouma en die tannie wat vanmiddag met die fiets hier aangekom het. Ouma het van haar spesiale kruie in die koffiepot gegooi. Sy wonder of die tannie dan siek is.
Dit is al sterk skemer. Lien lei Mara aan haar hand na die rotse. Sy voel skuldig oor die jong vrou maar haar liefde vir haar seun dwing haar om voort te gaan. Sy wag al n jaar vir hierdie dag. Die see aanvaar ‘n offer in ruil vir ‘n geskenk uit sy buik. Sy stoot die jong vrou vorentoe. Mara loop gewillig die see in, onbewus van die golwe wat al hoe hoër om haar bene slaan. Die maan lig sy kop en in die verte kan Lien die rooi gloed van die vuur op die strand uitmaak. Mara verdwyn in die golwe.
“Ouma, oumaaaaa kom help. Pappa se skuit sit op die sandbank vas. Jy was reg ouma, hy is terug. Kom help”
Lien gooi haar arms in die lug. Haar offer is aanvaar.

Amanda De Meillon

Januarie 2022 – DRAMA projek

1.Oupa en die Canabis (1598 woorde)

“Waar het Oupa hierdie gekry?”

Dawie hou die sakkie beskuldigend in die lug op. Die groen blare is onmiskenbaar sigbaar deur die gaas. Die soet reuk bly in die lug hang toe Dawie die sakkie skud.

“Oupa, wat wil jy met hierdie duiwelsblare maak? Moet net nie vir my sê oupa het nou die kluts kwyt geraak en die goed begin rook nie. Oupa weet mos van beter!”

Oupa skud sy kop.

“Nee Dawie seun. Jou oupa wil daarin bad. Die tannie hier oorkant in nommer sewe het die sakkie blare vir my gegee. Dit trek blykbaar soos ‘n teesakkie in die badwater. Sy het gesê dit sal help vir my ou rug wat so vreeslik pyn in die nag.”

Dawie dink terug aan die gesprek met sy oupa. Nog nie eens ‘n week in die aftree-oord nie en hy glo al klaar oumensraad. Hy skop sy skoene uit en sak in sy gemakstoel neer. Die skootrekenaar se skerm flits en die soekskerm verskyn. ‘Canabis bath’ tik hy vinnig in die soekblokkie in. ‘n Magdom van inligting verskyn. Daar is ‘n afdeling vir tee, medisinale salf, olie en selfs tuisgemaakte seep en lekkergoed. Dawie se sleutelbord klik-klik wanneer hy een vir een deur die artikels vleg. ‘Bath time leisure’, Dawie giggel toe die komiese skets van ‘n baie deurmekaar man, in ‘n oorvol bad water, die skerm vul. ‘Do not overstay your period of leisure’. Die artikel wys op al die gevare en voordele van die cannabis blarebad. Dawie is eers tevrede wanneer hy al die voor en nadele teen mekaar opgeweeg het. Hy oorweeg dit om nou sommer self so blaresakkie aan te skaf. Hy klap sy skerm toe en sak rustig agteroor. Hopelik help die blarebad vir oupa se rugpyn. ‘n Sagte misrëen sak neer en Dawie sluit sy oë. Hy luister na die strelende geluid van die druppels op die dak.

‘n Harde knal ruk Dawie uit sy droom wêreld uit. Dit is donker in die huis. Dan klap ‘n blits weer gevaarlik naby en verlig die vertrek. Hy vlieg vervaard uit die stoel uit op.
“Goeie genade, ek moes aan die slaap geraak het.”

Dawie raas hardop met homself. Sy blaas verseker hom daarvan dat hy wel al ‘n hele rukkie lê en vlieë vang. Hy soek in die donker na die ligskakelaar en klap vies na ‘n mot wat skielik vanaf die gordyn opvlieg – reguit na die lig van die kandelaar wat nou die vertrek helder verlig. Dit is al na tien in die aand. Die storm het nou behoorlik losgebars. Dit klink asof daar ‘n rieldans op die ou sinkdak plaasvind. Die weer brom, blitse klap hande en rëendruppels dans in ritme met die wolke orkes. Hy wip toe sy loopfoon skielik saam baljaar. Die groen liggie flits en Ouma Stien se gesig verskyn op die skerm. Die twee oumense moes mos al lankal in die bed gewees het. Bekommerd laat gly hy sy vinger oor die skerm. Hy strompel haastig, foon teen die oor badkamer toe.

“Ouma, wat is fout?”

“Dawie seun, dis jou oupa. Jy moet kom help asseblief. Hy…”

“Ouma? hallo, hallooooo, Ouma wat…?”

Die sagte suising wat in Dawie se oor opklink voorspel niks goeds nie. Hy druk die groen foontjie langs sy ouma se naam terwyl hy op een voet kamer toe hop. Sy broek haak om sy enkels vas en hy mis die deurkosyn met ‘n vloekskoot. Die landingslag sou enige springbokrugbyspeler na sy asem laat snak het. Dawie gooi sy skouer na bo en hik toe hy die vloer tref. Die foon nog steeds teen sy oor.

“You have reached the voicemail off…”

“Bliksem!”

Dawie snoer die blikstem en vryf oor sy lae rug. Hy het met die duikslag die hoek van die bed raakgeval. Hy gryp na sy plakkies wat langs die bed lê en ruk terselfdertyd die motor en huissleutels van die bedkassie af. ‘Multi-tasking’ was nog nooit so maklik nie. Skoene in die een hand, selfoon in die ander en sleutels wat van altwee sy pinkies afklingel, snol Dawie gang af. Hy druk eers die motorsleutels in die skuifdeur en swets toe hy sy vingers in die ruilslag tussen die hangende bossies vasknyp.

Die stoep is nat en Dawie glyval teen die trappies af. Hy mis die onderste trappie en trippel soos ‘n verwilderde bokkie op sy tone tot by die motor. Stukkies gruis klou aan sy stukkende toonvelle vas.

“Bliksem.”

Die Pastoor gaan Sondag twee keer oor my moet bid, dink Dawie terwyl hy die motordeur agter hom toeklap. Hy los weer ‘n swetswoord toe die hek te stadig na sy sin oopsleep. Die motor se bande fluit liggies en los ‘n stoomwolk in die oprit. Dawie wag totdat die hek weer stadiger as die luiste luidier toesleep en skop dan stof (of liewer stoom) in Micheal Schumacher se oë. Hy bid hardop dat daar vannaand geen bloulig brigade op die pad sal wees nie. Dit is al lank na spertyd. Hierdie simpel virus beneuk mos alles.

Dawie lê die afstand na ouma Stien se huis in die aftree-oord in ‘n rekord tyd af. Sy motorligte val op die hekke. Sy moed sak in skoene – nie dat hy kans gekry het om hulle aan te trek nie. Die lê nog net so op die sitplek langs hom. Die aftree-oord se hekke is gegrendel en die liggie in die sekuriteitshokkie belowe slegs ‘n dowwe aanduiding van lewe. Dawie flikker die ligte van sy motor in ‘n poging om die wag se aandag te trek. Hy durf nie sy toeter gebruik nie. Die ander slapende bejaardes sal hom nooit vergewe nie.

Uiteindelik strompel die wag deurmekaar na die hek toe. Hy vee met sy een hand oor sy oë terwyl hy die flitslig ondersoekend na Dawie rig. Dawie beduie wild dat hy moet oopmaak. Sy handgebare heel duidelik nie in die woordeboek van die dowes opgeskryf nie. Die hek lig in morse kode… een lange, twee kortes. Die wag (wat teen die tyd al ietwat ontwaak het) lig die hefboom en Dawie druk die motor in eerste. Hy loer in die tru spieëltjie na die hekwag wat handswaaiend beduie dat hy eers die boek moet teken en hy waai kamtig gemaak vriendelik terug. Nie vannaand nie ou pêl, dink Dawie terwyl hy die neus van sy motor in die rigting van nommer 6 Disa laan stuur. Hy kan van ver af sy ouma se klein postuur op die voorstoep uitmaak.

“Ouma?”

“Vir wat jaag jy so kind?”

Ouma Stien se neus kreukel toe sy Dawie se wit gesig sien. Dan lag sy hardop.

“Ai my kind, ek is so jammer ek het jou so laat skrik. My selfoon het sein verloor. Ek kon niks hoor wat jy sê nie en toe vrek die ding ook sommer. Kom, oupa het jou hulp nodig. Hy sit in die bad vas. Die sakkie tee het sy werk te goed gedoen. Ek kan hom nie uitgelig kry nie en oupa wil om de dood niemand anders as jy hier hê om hom so in sy adamsgewaad te kom help nie. Toe, toe vir wat staan jy nog daar en lugborrels hap. Oupa kry koud.”

Die soet reuk wat in die badkamer hang laat Dawie sy neus vies optrek. Hy is woedend. Hy het homself disnis teen die bed se kant geval. Sy vingers is bloedblase geknyp en so amper het hy sy tone in ‘n trippeldans oppad motor toe verloor. Sy voete is nat en gevries, sy tone is nerf af en sy rug pyn behoorlik.

“Oupa!”

Dawie vries in sy spore. Die handdoek bedek net die nodige dele van oupa se anatomie. Hy lê uitgestrek op die naat van sy rug. Die bad is nou dolleeg. Hy salueer wild toe Dawie nader staan.
“Sersant, ek is reg vir die geveg” giggel oupa terwyl hy met moeite regop beur.

‘Do not overstay your period of leisure’. Dawie grinnik. Oupa lyk vir hom darm nou al te veel na daardie internet prentjie op sy rekenaar. Oupa het duidelik hopeloos te lank in daardie cannabis bad vertoef. Hy skop die matjie tot teenaan die bad en klim met sy een voet agter sy oupa se rug in. Dan gewaar hy die lee koppie in oupa se hand.

“En wat is die? Oumaaaa!”

Ouma Stien loer versigtig om die hoek van die kosyn. Sy neem die teekoppie uit Dawie se hand en duik terug deur toe.

“Skuus Dawie seun. Jou oupa het gedink dit sou nie ‘n slegte idee wees om so ‘n skeutjie van die groenigheid in sy tee te gebruik nie. Ons het mos nou nie kon voorsien dat dit so sou skop nie.”
Sy giggel weer en verdwyn voor Dawie enige iets verder kan sê.

Dawie lig sy oupa gemaklik uit die bad uit en draai die handoek versigtig om die skraal onderlyf vas. Dan skuifelstap hulle saam voetjie vir voetjie deur toe. Dit gaan maar moelik want die handoek is net groot genoeg om die nodige te bedek en Dawie moet stut en vashou vir ‘n vale. Hulle bereik die voorhuis sonder enige probleme. Dan gly die handoek uit oupa se hand uit wanneer hy weer wild salueer. Dawie ruk sy kop in die rigting waarheen oupa beduie.

Die sekuriteitswag bereik uiteindelik die huisie waarheen die motor so haastig heen gejaag het. Uitasem leun hy teen die oop voordeur aan, net betyds om die handoek grond toe te sien val.

“Saluut” Skreeu Oupa giggelend.

“Hau” sê die sekuriteitswag en plaas sy hande oor sy oë.

“Bliksem” sê Dawie, en ‘n luide geskater klink op vanaf die kombuis waar ouma die hele spektakel op video vasvang.

Amanda De Meillon

 

April 2023 – KLUG projek

1.Huweliksverraad (Die grootste kulgspel)

Amalia skud haar voorskoot uit. ‘n Dosyn mossies sak onder die perskeboom neer. Dit word ‘n gekwetter wat jy tot anderkant die varkhokke hoor. Die wind bring belofte van vroeë lentereën. Sy trek haar asem in. Miskien sal hierdie lente nuwe lewe vir Hartspoort bring.

Die bordjie hang windskeef aan die paal. Hartspoort. Liana blaas ‘n krul deur haar kersierooi lippe. Sy skiet die sigaret diep die veld in. Nou of nooit. Sy sal haar spykerhakkies vir eers moet wegpak. Sy druk ‘n Airwave in haar kies en vee die grimering van haar gesig. Haar hare bondel sy in ‘n poniestert bo-op haar kop. Dan betree sy die grondpad na haar toekoms.

Werfbrakkies kef om die hoek van die huis. Liana grinnik. Mens sou eerder ‘n boerboel of twee op ‘n plaas verwag het. Sy vries en trek die deur vining toe. ‘n Massiewe Pitbul kom om die hoek van die stoep aangewaggel. Sy tande ontbloot in ‘n vriendelike groet. Op sy hakke ‘n ewe groot Amasone met ‘n dubbelloop haelgeweer.

“Is ek veronderstel om jou te ken?”

Liana wys na die pitboel.

“Is dit veilig om uit te klim?”

“Nee, sit jy maar net doodstil totdat ek weet wie jy is en wat jy soek!”

Amalia lig die loop ‘n aks hoër.

“Gerhardus het my genooi. Ek is Liana. Liana Breda. U moet Amalia wees. Is Gerhardus hier?”

“Perskebloeisel! Moeder dis Liana waarvan ek jou vertel het. Kom hier my blom. Skoert Brutus.”

Gerhardus skop in die rigting van die honde. Nat merkies lê teen die motorwiele. Liana spring oor ‘n kol en sien uit die hoek van haar oog hoe Amalia die pitboel prys. Sy gaan haar oë moet oophou.

Liana vou haar klere in hopies op die bed. Sy trek aan die vals bodem van die tas. Alles is nog in plek. Gelukkig is daar selfoon opvangs.  Sy kan haar boodskappe uitkry en vinnig weer verwyder. Sy wip toe Gerhardus agter haar praat.

“Kom perskeblom, ek wil jou die plaas gaan wys. Jy gaan binnekort die vrou van die huis wees. Jy moet weet hoe alles werk. Trek jou waterstewels aan. Dit sal help teen die bosluisies wat volop in die veld is.”

Amalia lig die gordyn. Sy wag totdat Gerhardus en Liana deur die heining klouter. Dan vleg haar vingers oor die skerm van haar loopfoon.

“Sy’s hier. Ek hou jou op hoogte. Gerhardus het hoek en sinker gesluk aan die een.”

Liana voel hoe die druppeltjies teen haar rug afkruip. Dit gaan ‘n stywe twee maande wees. Sy rol haar moue op en plaas die eiers in die mandjie. Die plaaswerk doen haar goed. Net een problem. Gerhardus kruip onder haar vel in. Sy skouers blink in die oggendson. Hy het van sy hemp ontslae geraak. Duisende vlinders tol in haar maag. Sy sal haarself moet regruk. Sy is hier om ‘n taak te voltooi. Nie om verlief te raak nie. Die troue kruip vinnig nader en sy kon nog geen bewyse opspoor nie. Gerhardus is so skoon soos ‘n koekie Sunlight na ‘n bondel plaaswasgoed. Miskien moet sy in Amalia se boekies begin rondkrap. Wie weet wat die skoonmoeder dalk geheim hou.

Die rooi kolletjie verklap die donker figuur se skuilplek tussen die bome. Liana strek haar uit en maak of sy dit nie opgemerk het nie. Sy wag ‘n paar minute voor sy gangaf sluip. Almal het al gaan slaap. Sy sool vinnig na die hoek van die huis. Die kooltjie brand helder en verdof dan weer. Liana hurk en rig die klein nagverkyker op die figuur. Amalia! Dan verstyf sy. Daniël! Dit kan nie wees nie. Daniël was die een wat haar gehuur het om Gerhardus te illumineer. Sy lig die verkyker. Amalia en Daniël is vasgevang in ‘n stoeisessie wat Hulk en Big Show soos kinders laat lyk. Sy sal genoeg tyd hê om te krap.

Amalia was nie juis versigtig met haar inligting nie. Liana se oë rek. Sy was net ‘n doel tot Amalia en Daniël se geldgierigheid. Sy lees die boodskap weer, dan plaas sy alles terug in die laaikassie.

‘n Klipdassie loer nuuskierig oor die rots. Liana se gedagtes dwaal. Sy het in die verlede takies vir Daniël verrig maar hierdie was buite haar veld. Haar werk by die speurafdeling noodsaak haar om soms ondergrond te gaan. Daniël het haar verseker Gerhardus is deel van ‘n groep dwelmsmokkelaars wat jong mense se lewens verwoes. Foto’s, briewe, alles. Opgetower deur hom en Amalia. Geen wonder sy kon geen bewyse vind nie. Dat Daniël haar na al die jare so kon mislei. Dit sou lyk na ‘n “wedding gone wrong”. ‘n Wilde skietery en ‘n dwaalkoeël. Daniël weet sy haat dwelmgespuis. Dit was waarom sy ingestem het om as bruid Hartspoort toe te kom.

“En nou. As jy hier in die son sit en bak?”

Gerhardus sak langs haar neer. Die koppie kyk uit oor Hartspoort. Amalia lyk soos ‘n dwergie waar sy langs die varkhokke staan.

“Jy weet sy is nie my ma nie? Sy het lewensreg op die plaas na my pa se dood. Die plaas is aan my bemaak. Hy was alleen by die huis toe die ongeluk plaasgevind het. Hy was besig om die dak reg te maak. Sy voete het gegly en hy het kop eerste op die sementblad beland. Amalia het nie juis ooghare vir my nie.” Liana plaas haar hand oor Gerhardus sin. Hy het so diep in haar hart gekruip. Hierdie maand en ‘n half het sy die regte Gerhardus ontmoet. ‘n Jaar gelede het hulle (gerëel deur Daniël) by die sokkiejol van die seunskool ontmoet. Sy moes haar kaarte mooi speel. Gerhardus het daarvoor geval. Nou is sy die een wat val. Hard en behoorlik.

Vroegoggend word daar gewerfskaf. Die tuin moet skoon. Amalia blaf bevele uit. Tafels word aangedra en tafeldoeke uitgeskud. Liana dring daarop aan om met die tafel versiering te help. Die stoele word met tafsy en strikke oorgetrek. Liana versteek die baretta onder haar stoel. Die knaldemper stewig aan die snoet vasgeskroef.

Die satyn vloei deur Liana se vingers. ‘n Rilling rol langs haar ruggraat af. Die rok pas soos ‘n handskoen. Daniël het besluit hy sal pa speel. Liana is ‘n weeskind. Sy kon nie juis weier nie. Sy wonder net waarom hy nou skielik betrokke wil raak. Hy het homself as haar oom kom voorstel, haar enigste familielid wat teenwoordig sal wees. Verder is dit net plaasmense en boere van die naby gelëe plase. Sy het haar planne mooi agtermekaar. Daniël is nou ‘n vlieg in die salf maar miskien is dit beter so. Sy sal nou twee koeëls mors in plaas van een. Amalia en Daniël sal vandag die plaas in ‘n lykswa verlaat. Die kamtige aanvallers sal ‘n paar van die gaste wond en dan die hasepad kies voor die polisie opdaag. Liana dink aan die nota in Amalia se laai. Hulle sou sorg dat daar bewysstukke teen haar is. Skermskote waar sy Gerhardus koelbloedig doodskiet. Amalia sou volle erfgename van Hartspoort word.  Sy wat Liana is… wel Daniël het sy kaarte mooi gespeel, sy sou lewenslank sit!

Daniël vou sy hand om Liana s’n. Hy lei haar paadjielangs. Gerhardus lig haar sluier. Hy groet Daniël met ‘n handdruk. Dan draai die bruidspaar na die Pastoor wat met ‘n glimlag die seremonie afhandel.

“Jy mag die bruid soen.”

Gerhardus en Liana neem hulle plekke aan die hooftafel. Liana voel na die baretta onder haar stoel. Sy sug toe sy die staal teen haar vingers voel. Dan gewaar sy die minibus wat met die grondpad afkruip. Haar vingers sluit om die pistool. Pandimonium bars los. Liana sien hoe haar koeël sekuur tussen Amalia se oë beland. Terselfdertyd voel sy haar arm verlam. Daniël grynslag toe sy hand in sy baadjie verdwyn. Daar is ‘n warm gloed op haar bors. Haar rok vlek bloedrooi. Sy sak grond toe terwyl voete om haar maal en kolk. Stofwolke skiet op toe die taxi vining weer verdwyn. Iewers kraai ‘n haan.

“Sit mnr Koen”

Dis ‘n maand na Liana en Amalia se dood. Die prokureer kug en gaan voort.

“U vader se testament was pertinent. U sou Hartspoort slegs erf indien U in die huwelik sou tree. U vader was van mening dat U… wel dat U nie juis in vroue belang stel nie. U het hom verkeerd bewys. Aangesien beide U stiefma en eggenote tragies van U weggeneem is laat dit ons met geen ander keuse as om sy laaste wense te eerbiedig nie. U is dus die wettige eienaar van Hartspoort en U vader se besigheid. Ons beste wense vergesel U.”

Gerhardus glimlag toe hy die voordeur oopsluit.

“Ons het dit gedoen! Maar sê my hoe het jy geweet Liana sou val vir die simpel nota in Amalia se bedkassie?”

Daniël druk Gerhardus teen hom vas.

“Want my liefste, Liana het gedink sy is baasspeurder maar sy het vergeet wie haar opgelei het. Kom hier my perskebloeisel, kom ons gaan vier ons nuwe rykdom!”

 

1499 woorde

Amanda De Meillon

 

MAART 2024 – oop PROJEK

1.My Oupa-pa

Oupa Potch. My pa se bynaam. Ek het nooit die voorreg gehad om ‘n ouma of oupa te ken nie. My pa was 61 jaar oud toe ek gebore is. Self alreeds ‘n Oupa en toe skielik pa van ‘n laatlam dogtertjie. Dus weef ek maar my verhaal om my Oupa-pa. Die bekende spookstorie verteller van Potchefstroom. Oupa van vele.

Wilhelm Frederick Meijer. Gebore 1907. Duitse Jood. Sy ouers moes vlug. Adolf was te bloedlustig. Bruin oë, donker hare en blas vel was uit. Tensy jy ‘n passie vir gas had moes jy maar op ‘n skippie klim en passaat vat na die onbekende. So verander ons van na Meyer en word Meijer saggies onder die agterdeur gevee. Begin die Meyers ‘n nuwe lewe in woeste Zuid Afrika. Die begin van oopbek aanhang stories uit Oupa-pa se omswerwinge.

Ma was doof. Soos ‘n kwartel. Stokdoof. Die radio was altyd teen haar oor geplak. Esmè en

Jan se “so maak mens” stemme kon jy ‘n blok ver hoor. Wanneer Oupa-pa van die werk af kom, het ons almal na die voorhuis gestorm. Dan het ons soos sardyntjies onder die ou staan radio gaan lê. Pa in die middel. Dit was een van daardie lang hout kaste met ‘n platespeler en radio. Ma moes dan eers kalmeer en haar radio afskakel. Ons luister stories. Vervolgverhale. Vlaktes duskant Hebron, Otterjasie, Staal Burger, rugby saam met Gerhard Viviers. Plat op ons rûe onder die radio. Oupa-pa deel piesanglekkers uit.

Vrydae was vis en skyfie dae. Dan abba Oupa-pa my op sy ou swart raleigh fiets met die kartelslang sticker. Kussing oor die dwarspyp, bestuur jy saam. Lui die klokkie vir al jou maats. Ek kon ‘n rooiworsie kry. Ek eet nie vis nie. Die ander kon maar kla. Hulle moes vis eet of honger ly. Ek was sy baba. Sy laatlam. Maandeind het ek saam met hom gaan inkopies doen. Oupa-pa trek sy silver aanklip bandjies oor sy langbroek. Dit keer dat die broek in die fiets se ketting beland. Tel my saggies op die kussing en swaai sy been rats oor die sitplek van die fiets. Ons het vrek ver gery. My boude was lam gesit wanneer ons by die Indiër winkel aankom. Dan word ek beloon met ‘n yskoue koeldrank. Ek mag ook saam met die Oom in sy motor terugry wanneer hy die inkopies vir pa gaan aflaai. Ek het op my kniëe deur die agterruit geloer tot sy fiets klein word.

Oupa-pa het groen vingers. Hy kon my leer van inent en engelse sout om jou bome. Sy oumens hande het altyd vir my soos die wingerdstokkies gelyk. Krom bruin vingers wat ‘n fyn pampoenfluit sekuur kon sny. Elke Saterdag het hy die ellelang tuinslang oopgerol. Op sy hurke elke vrugteboom sorgvuldig benat. Kalk gesmeer sodat die miere nie die vrugte kon beskadig nie. Dooie takkies afgesny en vrot vruggies afgeknyp. Sy wingerd was sy trots. Sy swartkorrel heuningsoet druppeldruifkorrels het soos hemel geproe. By hom het ek geleer van Sultana en Hanepoot, Glippertjie en Kristal. Hy het my geleer hoe om te ent. Toe ent ek sommer appel en vy, perske en pruim, boontjie en pampoen. Ek kon nie verstaan waarom hy so lekker gelag het nie. My pruimperske kombinasie was darm ‘n treffer.

Spookstorie tyd. Oupa-pa kon jou bang vertel. Rerig bang. Nie donker bang nie. Sommer helder oordag vrekbang. Sy spookstories het jou ‘n wye draai om die hoekhuis laat loop. Jou laat glo dat elke haartjie op jou liggaam regop staan as jy verby die skoolhek loop. Jou die spoorwegbrug soos pes laat vermy. Dan kon hy nog boonop soos ‘n wafferse Al Debbo sy oë uit hul kaste laat bult. Sy lippe omdop soos ‘n golliwogpop. Met sy swart hoedjie en stoppelbaard het hy dan die kinders op hol gejaag. Tog kon ons nie wag vir sy storieroep nie. Ons kon vir ure voor sy voete sit en stories luister.

Oupa-pa kon bekfluitjie speel. Saterdae aande was boereorkes tyd. Dan bondel ons almal na die huis langsaan. Sommer ‘n hekkie in die heining tussen die twee huise gemaak. Ons dra vetkoekies en Jan Smuts tertjies aan. Tannie Lettie deel gemmerbier en koeksisters uit. Oom Hennie speel huisorrel. Oom Hannes kielie die trekklavier en Oupa-pa koggel die bekfluitjie. Die saag skreeu heerlik en Vlekkie die foksteriëer jodel opera. Ons dans en sing tot laataand. Ma Joey het intussen ‘n gehoorstuk gekry en sing kliphard saam. Oupa-pa plaas my klein voetjies op syne en leer my die fynkuns van vasdans.

Oupa pa was ‘n Jood. Hy leer my hoe om ons van op die regte manier te spel. Waarsku my teen die gebruik daarvan. Hy leer my van Latke en Challe, botterkoek, jellie doughnuts en matzos. Hy leer my dat kersfees nie vir grootmense is nie. Dat kersfees eintlik nie in Desember is nie. Net die kinders kry geskene. Hy bid snaaks. Trek ‘n kruis vanaf sy voorhoof oor sy bors. Dra ‘n swart armbandjie om sy bo-arm toe sy broer die lewe verlaat. Hy was ‘n Joodse Christen. Hy maak soutvleis en baba aartappels wanneer die ouer kinders kom kuier. Ma maak Trifle. Dan kuier ons almal saam onder die groot ou peerboom op die erf.

Oupa-pa was klein van postuur. Groot van hart. Geliefd deur almal. Veral die kinders. Hy was ‘n visserman. Nie omdat hy wou nie. Omdat hy moes. Agt kinders was nie speletjies nie. Gelukkig was vier al uit die huis. My ma was huisvrou. Dowe mense kry nie sommer werk nie. Sy het truie gebrei en fyn hekellappies aan die buurt se mense verkoop. Wanneer Oupa-pa met ‘n vraggie geelvis of baber by die huis kom spring ons aan die werk. Hy krap skubbe. Ons sny koppe af en jaag mekaar met die visblasies en visoë rond. Ma maak viskoekies en braai viseiers wat jou mond laat water. Babersteaks word oornag in melk geweek om die moddersmaak uit te kry. Dan braai Oupa-pa dit in ‘n deegkombersie op die koolstoof. Koningskos vir ‘n klompie vuilvoet snotneus kinders.

Ek was mal oor sy sneewit hare. Met sy blas vel het ons menigte oë laat draai. Een keer ‘n maand sou ons twee die bus neem Johannesburg toe. Oom Lappies was die busdrywer. Ons twee het altyd voor by hom gesit. In die groot stad het ons altyd by sy streng Joodse familie gaan kuier. Ortodoks het pa hulle genoem. Hulle klein winkeltjie was ‘n lekkergoed hemel. Ek kon altyd lekkers uit die groot bottels kies. Dan het ons agter die winkel in die kombuisie gekuier. Ek kon my verkyk aan hulle wit baarde en swart hoedjies. Oupa-pa het dan so klein kadotjie op sy kop gedra. Vandag pryk my ramshoring en gebedsmantel trots bo-op my krompootkist. My kosbaarste besitting vanaf die heilige stad Jerusalem. Stille bewys van my Joodse bloed.

Oumagroot se skildery het bo die boog van die gang gehang. Haar oë het jou altyd gevolg. Sy het die mooiste koringblommetjieblou bolrok aan gehad. Vandaar my liefde vir blou. Die Bybel op haar skoot was Oupa-pa se kosbaarste besitting. Haar handpalm kon jy op die buiteblaai van die Bybel sien. Oupa-pa het altyd vertel dat die Bybel aan die brand geslaan en Oumagroot dit met haar hand geblus het. Ek kon sweer ek het daardie blaaie in die nanag hoor ritsel. Stilletjies was ek bly ek het haar nie geken nie. Haar stywe bolla en donker oë het my die ritteltits gegee. My vroëe grys kroon erf ek en pa by haar. My swartbruin oë en agterstewe ook. Adolf sou my dadelik kamp toe gestuur het. My hare, oë en vel was te donker vir sy blonde, blou oog passie.

Julie 1988. Oupa-pa lê in die “Jy Gaan Sterf Hospitaal” in Johannesburg. Hy is ‘n klein tenger ou mensie. Sy spierwit baard hang tot op sy bors. Hy roep my nader en fluister sy laaste wense in my oor. Ek kam sy yl sagte sneeuwit hare dwars oor sy kaal wordende hoof. Sny sy baard en hare netjies gelyk. Vou my hande sag oor sy ou wingerstok vingers. Ons oë ontmoet en stuur ‘n belofte boodskap na mekaar. Oupa-pa sluit sy oë. Ek neem afskeid van ‘n dierbare sielsmens. In die kerk kniel al Oupa-pa se Joodse familie. Kruise om die nek wat vinnig oor ‘n voorkop dan skouers en bors geswaai word. Swart bandjies om die arms. Die vrouens dra swart sluiertjies en rokkies. Die begrafnisstoet slinger lank en stadig na Wespark. Jode word begrawe nie veras nie.

Wanneer die verlange na Oupa-pa te groot word, skakel ek die Tv aan. Leon Shuster se “you must be joking” vul die skerm. Ek druk die vorentoe knoppie. Daar verskyn Boetebessie. Leon sing en dans. Dan kom daar ‘n kort ou omie met ‘n hoed kromrug aangestap. Leon lig die hoed en soen die omie op die yl silver hare. Die skaam laggie sal ek altyd onthou. Dankie Leon dat ek ‘n stukkie lewe van my Oupa-pa in my hart kan hou.

 

Amanda DM

 

3.Sending Verlangekraal

Die klein Volkswagen kewer spoeg ‘n paar keer voor hy sluk-sluk tot stilstand ruk. Rookwolke borrel by die uitlaatpyp uit en laat ‘n paar keffertjies vinnig terugduik onder die rooi palisades. Karlien ruk die handrem op toe die motor vanself agteruitbeweeg. Sy skrik toe ‘n skaduwee geruisloos oor haar gly.

Die opdrag was duidelik. Duistere dinge gebeur op Verlangekraal. Karlien moes haar koffertjie pak en haar rooi sportsmotor verruil vir die geel kewertjie wat Noag self aan haar besorg het. Haar pragtige goed versorgde naels moes af, kort en sonder politoer. Denim broeke, los hempies en moddertrappers maak nou die grootste deel uit van haar klerekas. Sy het dae lank in die stadsbiblioteek spandeer.  Tot laataand toe tamatie kultivars bestudeer. Pynigend begin droom van blatjang en koeksisters wat haar jaag. Die ergste van alles was; sy moes ophou rook. Die stokkies vertroosting was al wat haar van Tara gered het. Sy het dit verruil vir smaaklose blokkiesgom wat soos ou rubber, haar tande vanself laat herkou het.  Sy moes plaas toe.

Karlien voel hoe haar nekhare onwillekeurig op aandag staan. Sy swets liggies toe sy die enjinkap van die kewertjie met ‘n harde kraakgeluid oplig en weer toeklap. Tamaties ken sy, bak kan sy, maar kewerbinnegoed… nee hel, dis so Grieks soos ‘n Latynse woordeboek. Sy loer versigtig oor die dak van die kewer.  Behalwe vir ‘n paar hondjies is daar geen ander teken van lewe nie. Karlien maak seker die kewer is gesluit voordat sy in die rigting van die flitsende neon bord begin stap. “Forest Haven”. Karlien skud haar kop. Wie sou so naam kies? Een van Amerika se dodelikste inrigtings vir geestes versteurdes.  Die plek is in 1991 gesluit as gevolg van die wreedhede wat daar plaasgevind het. Sy skud haar skouers. ‘n Klein maltesie volg haar op ‘n veilige afstand. Sy vries in haar spore toe die hondjie skielik begin grom.

Karlien giggel toe sy die rede vir die grom geluide sien.  ‘n Wit pappegaai sit vermakerig op sy stok voor die deur van Forest Haven. Sy koppie is vooroor gebuig en hy knip sy oë in die rigting van die poedel. Sy steek haar hand uit.

“Ek sal dit nie doen as ek jy is nie”

Karlien se hand ruk terug. Voor haar in die deur staan ‘n potsierlike ou mannetjie. Sy swart hare klou yl en olierig op sy voorhoof vas.  Fronsplooitjies kompeteer vir spasie tussen sy ruie wenkbroue. Hy vryf sy pofferige hande terwyl hy haar van bo na onder beskou.  Onbewustelik trek Karlien haar dun hempie stywer om haar bo-arms.  Die mannetjie beduie na binne.

“Ek neem aan dis jou kewer wat voor Herman se huis staan.”

Karlien knik.  Sy weet nou nie wie Herman is nie, maar dis die enigste Kewer in die straat; die enigste motor in die straat.  Sy is die enigste lewende mens, behalwe nou Oliekop, in die straat.

“Dis siesta tyd, indien jy wonder oor die inwoners. Niemand hier waag dit buite die tyd van die middag nie. Jy kan hier wag vir Herman.  Gelukkig het jou motor voor sy huis gebreek. Hy diens almal se motors, of bygesê die paar wat wel hier is. Ons loop maar waar ons wil wees.”

Uit die hoek van haar oog sien Karlien weer die skaduwee oor die grondpad beweeg.  Sy loer deur die venster maar merk geen beweging in die lug nie. Sy wonder hoe oliekop geweet het haar kewer het gebreek.  Daar is geen vensters wat uitkyk op daardie deel van die pad nie. Die oorhoofse waaier swiep-swiep ritmies in die rondte. Die vertrek is koel teenoor die drukkende hitte van buite. Oliekop plaas ‘n yskoue botteltjie water voor haar neer.  “Dewdream” lees Karien.  Was dit nou per toeval of… Karien ril toe sy die grynslag op oliekop se gesig raaklees. Haar gunsteling fontein water.

Buite kondig ‘n kerkklok aan dat siesta tyd verby is.  Karlien plaas die leë botteltjie versigtig op die toonbank neer.  Oliekop is nêrens te sien nie. Sy los ‘n tienrand noot onder die klokkie op die toonbank en stap na buite. Die pappegaai is nie op sy stok nie. Die maltesie spring vinnig op toe Karlien verskyn.  Die dorp is besig om te ontwaak.  Karlien volg die hondjie wat nou opgewonde vooruit draf. Hy verdwyn onder die palisade deur na die agterkant van die huis.  Dan merk Karlien ‘n flenter papier onder haar rëenveer. Die nota is netjies opgevou en onder die staalarm ingesteek. “Hoop die water was koud genoeg.” Karlien voel hoe ‘n rilling teen haar rug afkruip toe sy die tienrand noot saam met die briefie in haar sak steek.

Daar is geen manier wat daardie briefie so vinnig daar kon verskyn nie. Sy skud haar skouers.  Die tuinhek skreeu toe sy dit in die glybaan stoot. Sy hoop dat Herman haar sal kan help.  Sy moet voor donker op Verlange Kraal wees. Sy stap met die tuinpaadjie af na die voordeur. Die plantegroei is welig en Karlien kyk met verbasing na die vreemde kleure wat tussen die lowergroen blare deurbreek.  Sy loop tromp op in ‘n stewige borskas vas. Herman.

“Middag Karlien”.

Herman se sterk stem trek hoenderspoor teen haar ruggraat af.  Sy heldergroen oë dwing hare tot oorgawe.  Hy is ‘n goeie ses voet sewe en kan maklik vir die Springbokke veld uit draf.

“Jy moet leer om jou petrolnaald dop te hou.  Ek het klaar volgemaak.  Dit is ‘n stywe entjie na Verlangekraal, jy wil nie in die donker vasgevang word nie.”

Herman wys die paar note van die hand. Karlien stry nie.  Sy wil so gou moontlik van hierdie dorp af wegkom.  Jy kan die onheil met ‘n stok aanvoel. Daar was niks fout met haar petrolvoorraad nie.  Die dekselse enjin het vuil rookwolke gespoeg toe sy hom probeer aansluit het.  Nou is daar nie eens ‘n teken van ‘n rokie nie.  Die petrolnaald lig bo die volmerk verby. Sy trek met ‘n vaart weg.  Die klein maltees keffend agterna. Hoe het Herman geweet wie sy is en waarheen sy oppad is? Haar kewer was gesluit. Tog kon Herman haar tenk volmaak. Karlien trap die petrol pedaal dieper in.

Verlangekraal. Die naambord hang trots aan die groot ou plaashek. Die hek swaai stadig oop net toe Karlien die klein kameralens aan die punt van die bord raaksien. Die opstal lê reg voor haar. Aan haar regterkant staan rye op rye tonnels. Links van die plaaspad is daar ‘n sekuriteitsdraad gespan.  Deur die bosse en bome kan Karlien die buitelyne van ‘n groterige skuur uitmaak. Skielik bars daar ‘n wit maltesie blaffend om die hoek van die opstal. Die man wat uit die opstal te voorskyn kom is groot en sterk gebou. Karlien vries.  Dis Herman.

“En nou Karlien? Dit lyk of jy ‘n spook gesien het? Jy is mos hier om ons te kom ondersoek of nie?”

Herman se lag laat Karlien lam terugsak in die kewer se sitplek.  Sy ruk die motor in trurat en trap die vergasser. Swart roetwolke borrel by die uilaatpyp uit voordat die kewertjie proesend die stryd gewonne gee. Herman hou die motordeur vir haar oop.

“Kom, ontspan, hou op baklei, jy het nie juis ‘n keuse nie, Phoenix hou elke beweging van jou dop.”

Karlien koes toe ʼn donker skaduwee oor haar swiep.  Die wit pappegaai kom behendig op Herman se skouer te lande. Sy oë gloei rooi in Karlien se rigting.  Sy tree versigtig terug met haar rug teen die kewer. Herman vou sy hand om Karlien se bo-arm.  Hy stoot haar in die rigting van die tonnels.

“Jy weet Karlien, voor Phoenix se aankoms het ons gemeenskap maar gesukkel om ‘n bestaan te voer. Kom, ek gaan wys jou hoe goed dit met ons gaan.  Ons eerste besending is gereed om mark toe te gaan.  Daarna,  wel wie weet…?”

Herman stoot die plastiek tonnel se deur oop.  Karlien voel die sagte misrëen oor haar vel kriewel. Dan steek sy vas. Duisende rooi vrugte hang vanaf stellasies in bondels tot byna op die grond. Daar is Roma tamaties, Fanny, Volcanic, Rock Star en ook Santa, ‘n klein soet langwerpige kersietamatie wat soos trosse druiwe volrond tot op die grond hang.  Almal kultivars wat spesifiek gekweek is vir hulle weerstand teen stamkanker, grysblaarvlek en aalwurm.  Ook die rede waarom Karlien moes ophou rook. Rokers dra die tabakmosaЇekvirus aan die tamatieplante oor.  Dit affekteer die blare, blomme en vrugte van die plant en belemmer ook die groei daarvan. Dit is die kleur van die tamaties wat Karlien tot stilstand dwing.

Die kleur laat haar aan laatoes rooiwyn dink.  Die burgondiese kleur word afgewissel met kersierooi wange wat byna deursigtig is. Karlien se mond water.  Die vruggies blink onder die sagte sproeireën wat vanuit die oorhoofse sproeistelsel neersif. Daar hang ‘n onmiskenbare soet reuk in die lug. Cannabis! Voor Karlien iets kan sê, begin Herman lag.

“Ja, Karlien. Ons het die vermenging van die twee vervolmaak.  So paar ekstra byvoegings en siedaar, ons kon ‘n plant produseer waarmee ons die wêreld aan ons voete gaan hê. Die hele dorpie behoort al aan ons.  Die wat nie wil saamwerk nie, word gou tot ander insigte gebring. Forest Haven doen sy naam gestand.”

Karlien ril.  Sy het geweet daardie plek voorspel niks goeds nie. Sy koes toe daar uit die niet ‘n swart skaduwee oor haar val. Die wit pappegaai land behendig voor haar voete.  Karlien knip haar oë. Die voël skud al sy vere in een swaaibeweging af. Oliekop strek hom uit en kom grinnikend voor Karlien staan.

“Weet jy wat is ‘n vormverwisselaar Karlien? Ek en Herman het per ongeluk ons gawe ontdek terwyl ons met die nuwe kultivars gespeel het. Niemand wou ons borg nie. Nou gaan ons maar ons eie klein paradys stig en jy Karlien, jy gaan ons help. Die nuwe kultivars moet bemark word. Jy is mos hier om te kom snuffel.”

Karlien tree vinnig agteruit. Sulke goed gebeur net in stories.  In een beweging draai sy om en hardloop vir die deur.  Dan sak sy in ‘n hopie op die grond neer terwyl ‘n groenerige walm vanuit ‘n tamatierank haar omvou. Herman se skel lag vul die tonnel.

“Karlien, Karlien” Oliekop se stem dwing Karlien uit haar slaap.  Haar arms is nat en klou klewerig vas aan die plastiek kleed op die tafel. Langs haar staan ‘n lëe botteltjie water.

“Waar is ek?”

“ Forest Haven,  jy het op jou arms aan die slaap geraak vanmiddag.  Ek wou jou nie steur nie.  Herman was nounet hier.  Jou kewer het blykbaar voor sy huis die gees gegee.  Herman het gou na die engin gekyk. Ek het sommer jou motorsleutels vir hom gegee. Jy kan vanmiddag saam met hom deurry Verlangekraal toe.  Dit is sy plaas, hy moet parte gaan haal vir jou motor.”

Karlien voel soos ‘n slaapwandelaar.  ‘n Dowwe hoofpyn klop agter haar oë en haar mond voel droog en bitter.  Sy kan nie onthou dat sy hier aan die slaap geraak het nie. Sy knik en prop ‘n tienrand noot in Oliekop se hand. Dan drentel sy straataf na waar haar motor staan.  Oral staan mense en gesels terwyl die kinders die strate vol hardloop. Die klein maltesie bly kort op haar hakke.

Herman waai al van ver af vir haar.  Sy skud haar kop om van die spinnerakke onstslae te raak.  Hoekom lyk alles so bekend? Sy steek haar hand uit om Herman te groet.  ‘n Vae onrus speel teen haar nek af.

“ Hello Karlien. Jy het so lekker gelê en slaap, ek wou jou nie wakker maak nie.  Klim in dan ry ons deur Verlangekraal toe. Ek het al die nodige parte vir jou motortjie daar. Dan wys ek jou sommer al die tamatie tonnels en ons vordering met die kultivar-inentingsprogram.”

 

Herman sit Karlien se tasse op die agtersitplek van sy motor. Hulle ry in stilte verder. Karlien verkyk haar aan al die welige plantegroei rondom haar. Die helder kleure verstom haar. Dan swaai Verlangekraal se hek voor hulle oop. Aan haar regterkant staan rye op rye tonnels tot teenaan die plaasopstal.  Links van Karlien is ‘n groot skuur. Herman maak vir haar die motordeur oop toe hulle voor die opstal stop.

“Ek sal vir Petrus vra om jou tasse na jou woonstelletjie toe te dra. Kom ek gaan wys jou gou die laboratorium.”

Die glasdeure skuif gemaklik oop en Karlien verstom haar aan al die rye botteltjies teen die mure. Tamatie blatjang, konfyt en ingelegde tamaties. Elke botteltjie afsonderlik gemerk.  Herman hou ‘n lepeltjie na haar toe uit.

“Proe hier.”

Sonder teenstribbeling neem Karlien die lepeltjie by Herman. Die soet smaak rol op haar tong. Karlien glimlag. Simpel van haar om so onrustig te voel. Die blatjang proe soos hemel. Sy kyk nou reguit in Herman se oë.

“En behalwe vir die instandhouding van die plante in die tonnels, wat is daar nog wat ek moet doen?”

Herman lag oorwinnend.

“Jy kan more oggend vir ons ‘n vrag tamatie produkte Johannesburg toe neem.  Ek gaan aan die kewer moet werk. Jy gaan ongelukkig ‘n passasier hê, hy ry maar altyd saam mark toe.”

Die klein maltesie spring teen Karlien op. Sy hou haar hande en hy spring gemaklik in haar arms.

“Hy is oulik, solank hy sy gordel dra het ek nie ‘n probleem nie, wat is sy naam?”

Herman se oë blink.

“Phoenix” sê hy met ‘n glimlag om sy mondhoeke.

 

Amanda DM

JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK

2.Die ou opstal se geheim

Drie minute voor middernag. Die ou staanhorlosie se eentonige tik-tok trek hoederspoor in my nek. Vanaand sal ek die waarheid uitvind.

Vererg stuur ek die besem oor die sandspore in die kombuis.  Dis nou al die derde dag wat hier elke oggend ‘n duidelike voetspoor voor die ou koolstoof lê. Ou Mina het gewaarsku dat dinge nie is wat dit moet wees nie.  Sy was skoon omgekrap toe ek besluit het om die werkershut in ‘n ateljee te omskep. Gewapen met skoon lappe, skottels water en ‘n lang verestoffer het ons gou die plekkie in ‘n lushof omskep.  Al die meubels was onder doeke toegegooi. Alhoewel die meublement uit die jare toet was, was dit bruikbaar en het dit ‘n uniekheid aan die ateljee verskaf. Die koolstoof het warmte en ‘n eiesoortige nostalgie uitgestraal. Tog het iets omtrent die stoof bly karring.

“Mina, pasop man.  Die stoof is vrek swaar.  Stoot jy die kant dan sal ek trek. Die dekselse ding kan mos nie aan die vloer vasgemaak wees nie.”

“Ek het jou gesê ons moenie hier krap nie. Oupa Peet het net een keer die stoof gebruik en die ding toe taboe verklaar. Los die ding. Jy kan mos sien daar is geen manier wat ons hom geskuif gaan kry nie.”

Mina swaai die stoffer oor die stoof.

“Die ding lyk nog splinternuut.  Jy kan sien hy was nooit vir kosmaak gebruik nie. Ek sê jou dis net ‘n ornament hierdie”

Dit was vier dae gelede.  Nou sit ek hier in die donker.  Die volgende dag het ek weer ‘n draai kom maak. Die sandspore het weer die vloer vol gelê. Rondom die huisie was daar eens op ‘n tyd ‘n blombedding. Die roosbome het snaaks genoeg oorleef.  Met geen hand om hulle te versorg of water te gee nie, staan hulle tog in volle blom.  Die mooiste suiwerwit rose. Vreemd dat hulle ook net aan die stoof se kant van die huis groei. Mina wou nie verder help nie.  Sy het gesê dat slapende honde moet rus en dat die onbekende nie vir gewone mense soos ons is nie. Dit is juis die rede waarom ek om drie minute voor middernag hoendervleis vir ‘n stoof sit en staar.

Ek skrik toe die staanhorlosie se dong-dong die stilte versplinter. Versigtig skuif ek verder die donkerte in. Daar val ‘n ligstreep oor die houtvloer.  Was dit daar? Ek is seker die gordyne was dig toegetrek. My bene kramp en ek trek my rug regop.  Dit is al ‘n volle vyf minute. Wat ook al hier rond sluip is defnitief nie tydgebonde nie. Twaalf uur is mos die onbekende uur. Die tyd van misterie. Ek stut myself en druk op die koue vloer op presies dieselfde tyd wat die agterdeur kraak. Vries!

Die maan val deur die deur. ‘n Donker figuur sluip na die stoof se kant toe, druk teen die muur en staan eenkant toe. Ek trek my asem in. Die stoof beweeg. Dit lig ‘n paar sentimeter voordat dit geluidloos oor die vloer skuif. Daar moet ‘n trap wees want my gas verdwyn agter die stoof in. Ek wag nie verder nie, vlieg soos ‘n vlakhaas uit my springblokke en trippel na die kant van die stoof.  Die trappe is duidelik sigbaar.  Klein liggies flikker in die donker diepte.  Versigtig loer ek, maar daar is geen teken van lewe nie. Voetjie vir voetjie waag ek dit na onder. Die hoender hardloop nou kaalpoot oor my rug. Tyd staan stil. My skoene kras oor sand en voor my verskyn ‘n helder konkavuur.  Dan trap ek skeef en proe die sand op my tong. ‘n Sterk hand trek my op.

“Waar is ek? Watter plek is die?”

‘n Skel laggie vul my ore voor die donker oor my toesak.

Die koue lap ruk my terug na die hede.  Mina se bekommerde gesig is teenaan myne.

“Vir wat lê jy hier op die vloer.  Jy sal my mos ‘n hartaanval gee.  Goeie genade mens voel hoe koud is jy. Het jy heel nag hier op die vloer loop slaap? A nee a”

Ek skud my kop.  ‘n Dowwe hoofpyn klop aan my slape.  Het ek dan gedroom? Ek stut my hand teen die vloer en druk myself regop. Die stoof staan nog presies waar hy was. Miena prop ‘n beker tee in my hande. “Jy moet jou ophou kwel oor die onbekende”. Dan skuifel sy by die agterdeur uit. Die sandspoor van haar tekkies duidelik sigbaar voor die stoof.

 

Amanda de Meillon

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed