Andries Fourie (Seirdna)
September 2019 – Verplasings projek
1.Koue Sweet
Hy druk die voordeurklokkie met ‘n opgewondenheid wat in sy binneste opwel en dit voel of dit hom vir ‘n oomblik gaan oorweldig. Die sagte voetstap aan die ander kant noop hom amper om van plan te verander en die hasepad te kies. Dis net kortstondig. Hy ruk homself reg en staan effe meer regop. So het hy nog nie oor iemand gevoel nie en hy gaan nie dat ‘n oomblik van swakheid ‘n leeftyd bederf nie!
Vandat hy haar die eerste keer by die stapklub gesien het, kon hy sy oë nie van haar afhou nie. Die manier hoe sy, met haar helder lui stem, met hom gepraat het; hoe sy oor haar skouer gekyk het, asof sy wou seker maak hy’s nog daar; die manier hoe sy haar beker met beide hande vasgehou het en haar bene gevou het op die stomp by die kampplek.
Die gedagtes maal deur sy kop en hy kan nie glo alles het so vining gebeur nie. Van die oomblik toe hy haar teen die steilte opgehelp het en vir die eerste keer aan haar hand geraak het, is sy gevoel vir haar op ‘n ander vlak.
“Hello Johan.”
Hy word teruggeruk tot die werklikheid. Hy het nie eens die deur hoor oopgaan nie.
“Susan!”
Hy kan vir ‘n oomblik nie ‘n woord uitkry nie. Die prentjie wat hy voor hom sien is hemels. Sy het ‘n ligblou denim en ‘n sagte pienk kortmou truitjie aan. Sy is kaalvoet en haar magie steek effe tussen die truitjie en die denim uit. Sy lig haar hande op en omhels hom. Haar skoon hare druk teen sy wang en die sagtheid van haar rondings teen sy bors. Sy ruik soos vars geplukte blomme en hy snak na sy asem. Sy trek haar kop effe terug en kyk met haar groot groen oe in syne. Hul lippe raak aanmekaar en vir ‘n oomblik voel dit vir Johan Naude of hy wegsmelt in haar wese …
Skielik verstyf haar liggam in sy omhelsing! Sy kyk oor sy skouer en hy kan die vrees in haar oe sien.
“Pasop Johan!!” “Jou bliksem, wat dink jy doen jy met my vrou!”
Die hou teen sy kop laat Johan in ‘n donker duisternis wegsink. Hy probeer praat maar kan nie ‘n woord uitkry nie; hy voel hoe die bloed teen sy nek afsypel en in sy kraag wegklad.
Hy skrik wakker; die pyn in sy nek is oorweldigend. Hy stik in iets maar kan nie agterkom wat dit is nie. Instinktief wil hy aan sy mond voel, maar sy arms kan skaars beweeg. Stadig maar seker kom hy by. Hierdie keer kry hy sy hand tot by sy mond. Sy lippe en tong is kurkdroog. Waar is hy?
Dis pikdonker. Hy lig sy kop om te kan sien en stamp teen iets. Dis reg voor hom. Hy wil aan die voorwerp vat, maar sy beweging is te beperk en hy ervaar dat sy hande teen die kante van ‘n kisagtige voorwerp vasdruk word.
Hy is nou by sy volle bewussyn. Hy ruik die reuk van vars grond en hoor opeenvolgende plofgeluide wat klink soos iets wat met reelmaat val. Die swaarheid van die grondreuk oorweldig sy longe. Die werklikheidheid tref hom soos ‘n bliksemstraal! Hy voel hoe ‘n koue sweet oor sy liggaam uitslaan. Iemand is besig om hom lewendig te begrawe! Hy skree om hulp, maar niemand kan hom hoor nie!
Hy hoor en voel hoe die drukking van die grond, die houtomhulsel waarin hy hom bevind, toets . As hy net kon sien! Die plank bo sy gesig kraak en stort half ineen. Die grond sypel deur die kraak en begin binne sy mond en neus ophoop. Hy probeer met sy laaste bietjie krag die plank, wat nou amper teen sy gesig druk, met sy hande terugforseer, maar die drukking is te groot en druk sy hande teen sy bors vas tot dit voel of sy skouers gaan afskeur.
Dis nie hoe hy sy einde voorgestel het nie. Sy lewe flits voor hom verby. Hy probeer aan Susan dink maar kan nie haar gesig onthou nie…hy voel hoe die lewe stadig uit hom uitgedruk word …
“Word wakker!” Sy vrou se hand druk ferm op sy voorkop . “ Jy snork alweer en wie is Susan nogal !??”
Seirdna
Julie 2021 – OOP projek
3.Die storie van Bonginkosi Khumalo
Dit is die jaar 2061. Dis Juliemaand. Bongi Khumalo sit op ‘n lendelam stoel in die son voor sy ma se huis.
Die blomme van haar begrafnis is verlep en haar foto is tussen twee bakstene gemaakstaan op die kombuistafel.
Hy leun op sy kierie en ‘n traan uit sy siende linkeroog drup met ‘n plofslag op die grond. Hy dink onwillekeurig terug aan daardie dag veertig jaar gelede.
Dit was kommervrye dae. Hulle het genoeg gehad om van te lewe. Hulle het hulle dae omgespeel op die sokkerveld en Saterdae baljoggie gespeel wanneer die grootmense hul wedstryde speel. Die skole was toe, want daar was ‘n virus … Bongi onthou, sy oom het daarvan doodgegaan.
Hy verwens daardie dag vir die soveelste keer.
Bheki het hulle kom roep op die sokkerveld. “Julle moet kom, gou kom! Die fietse in die winkels is verniet. Ons moet gou maak”
Sy regte naam was Bonginkosi, wat “geskenk van God” beteken. Sy ma het hom geleer om nooit engiets van enigeen te steel nie. Hy was ‘n skrander leerder in graad 8 en het op die junior leerlingraad gedien. Mev Bukesi het gesê hy het die gawe van leierskap ontvang. Sy het gesê hy gaan ‘n professor word.
Al wat hy aan kon dink, is ‘n nuwe sokkerbal. Dis al wat hy soek. Die ou opgestopte een is gehawend en hulle kry hom nie meer in die lug nie.
By die sentrum kan hy nie glo wat sy oë sien nie. Mense dra alles uit. Hulle oë is oopgesper soos honger diere. Bongi voel aan iets is nie reg nie. Hy wil omdraai, maar Bheki roep hom. “Kom, ons moet gou maak!”
Hulle hardloop reguit sportwinkel toe. Bheki gryp ‘n blinkrooi fiets. “Dis te groot vir hom” dink Bongi. Hy sien die sokkerballe. Splinternuwes. Hy kies die Adidas bal. Hy druk dit teen sy bors vas. Dis al wat hy wou hê.
Hulle hardloop terug om uit te kom. Die mense skree. Bongi weet nou instinktief wat hulle doen is verkeerd. Hy wil huistoe. Hy druk die bal stywer teen sy bors vas.
Bheki val as hy op die groot fiets probeer klim. Bongi draai om om sy vriend te help …
Hy onthou die slag soos gister. Die skare se geskree. Iets tref sy oog en ruk sy kop agteroor. Hy gryp sy oog met beide hande. Die sokkerbal rol langs die sypaadjie af en hy sien uit die hoek van sy onbeseerde oog hoe dit in die dreingat inrol. Hy wil agterna, maar die pyn is te veel. Hy moet wegkom.
Bheki roep hom. Hy hoor sy stem. Die pyn is oorverdowend en hy kan nie sien nie. Hulle hardloop oor die dubbelpad …
Toe Bongi wakker word, lê hy in ‘n hospitaalbed. Hy is alleen. Die verpleegster sê sy ma is buite en moet daar wag want daar is ‘n virus. Sy kop aan die regterkant is toegebind. Hy weet sy regteroog is ernstig beseer. Hy wil opstaan maar iets is verkeerd.
Waar sy linkerbeen moet wees, is daar ook ‘n leemte.
Hy het die volle storie later gehoor. ‘n Rubberkoeël het sy regteroog vergruis. Op pad terug is hy en Bheki deur ‘n voertuig aan die verkeerde kant van die dubbelpad getref. Bheki is opslag dood. Bongi se linkervoet is vergruis en hulle moes sy been onder die knie afsit.
Hy was vir twee maande in die hospitaal. Sy ma het hom kom haal. By die huis was daar ‘n doodse stilte oor die hele gebied. Al was Bongi nou gestrem, het hy besef alles het verander. Die wêreld het ‘n nuwe plek geword.
Hy onthou die stories. Mense het mekaar nog vir jare daarna beskuldig. Mense het kos kom aflewer. Daar was lang rye. Bongi moes met sy krukke in die rye staan.
Sy drie en vyftig jarige lyf is moeg.
Hy druk met sy kierie op die grond. Hy sê dankie vir die Here dat sy ma vir twee en tagtig jaar gespaar was. Hy weet nie wat hy sonder haar sou doen nie. Hy weet ook nie nou nie …
A Fourie
(Seirdna)